Die eerste Jan H Maraisprys vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal word toegeken aan HB (Hermann) Giliomee. Die prys ter waarde van R500 000 is op 30 Mei, die verjaarsdag van wyle Jannie Marais, tydens ʼn funksie op Stellenbosch aan hom oorhandig.
Hermann Giliomee geniet internasionale aansien as historikus en kenner van die Suid-Afrikaanse politiek. Sy wye kennis en belangstellings het baie gedoen om by Suid-Afrikaners – en in die besonder by die Afrikaanssprekende gemeenskap – ʼn kritiese ingesteldheid te kweek. Hy het ook ʼn uiters belangrike rol in die bevordering van ʼn verantwoordelike diskoers oor lewensbelangrike kwessies in ons land gespeel, sowel onder apartheid as in die huidige bestel.
Sy werke toon die relevansie van die verlede vir ons hede en die moontlikhede vir ʼn rasionele omgang met daardie verlede. Sy lewenslange verbintenis tot onafhanklike denke en sy uitnemende akademiese uitsette in Afrikaans maak van hom ʼn waardige ontvanger van hierdie eerste Jan H Marais-toekenning.
Hy is ʼn uiters vrugbare navorser en skrywer, maar sy groot werk was ongetwyfeld Die Afrikaners: ʼn Biografie in 2003.
Die Jan H Maraisprys is in 2015 ingestel deur drie van die belangrikste instansies wat hulle bestaan te danke het aan die erflating van Johannes Henoch Marais (1850-1915), vooraanstaande Stellenbosser en voormalige inwoner van Kimberley waar hy sy welvaart opgebou het. Hulle is Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers (Media 24) en die Universiteit Stellenbosch.
Die prys word jaarliks toegeken as erkenning vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoё vlak en van hoё gehalte in Afrikaans.
Die keurkomitee het bestaan uit Andreas van Wyk, oud-rektor van die Universiteit Stellenbosch, as voorsitter; Christoff Heyns, regsgeleerde van Pretoria; Piet Steyn, voormalige navorsingsdirekteur van die Universiteit Stellenbosch; Arnold van Zyl, universiteitsrektor van Stuttgart, Duitsland; en Johan van Zyl, oud-rektor van Universiteit Pretoria en voormalige hoof van Sanlam. Debra Meyer, hoogleraar in biochemie aan die Universiteit van Johannesburg, se moeder is verlede week oorlede en sy kon die vergadering dus nie bywoon nie.
Die prys van R500 000 sal weer in 2017 toegeken word. Die aanwending van die prysgeld is in die hande van die ontvanger.
The post Toekenning van die Jan H Maraisprys 2016 appeared first on LitNet.