Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21927 articles
Browse latest View live

Middeleeuse filosofie deur Johann Beukes: ’n resensie

$
0
0

Middeleeuse filosofie, deel I en deel II
Johann Beukes
Akademia
ISBN (deel I): 978-0-620-84355-3 en ISBN (deel II): 978-0-620-87894-4

Hierdie omvangryke (1 624 bladsye) gespesialiseerde werk deur Johann Beukes oor Middeleeuse filosofie is ’n vak-akademiese en breër Afrikaans-kulturele bydrae van die hoogste gehalte. Dit is ’n omvangryke en deeglike geheeloorsig, ensiklopedie, naslaanwerk, wat nie slegs ’n betekenisvolle toevoeging tot die korpus vakkundige literatuur oor Middeleeuse filosofie maak nie en nie slegs vir vakspesialiste en nog fyner-kykende nisspesialiste van belang is nie. Dit is ook verpligte leesstof vir elke Afrikaanse student in teologie en filosofie.

Dat hierdie werk juis in Afrikaans geskryf is, is betekenisvol. Daar is stellig nie ’n groot aantal Afrikaans-lesende spesialiste en studente op hierdie gebied nie – afgesien van Afrikaanssprekendes en -skrywendes, ook ’n aantal Nederlandse en Vlaamse kenners. Maar die boek is ook van groot relevansie vir die breër Afrikaanse kultuurgemeenskap. In hierdie resensie (’n persoonlike resepsie van Beukes se meesterwerk, word erken) wil ek juis veral die betekenis van die boek vir hierdie dieperdenkende maar nie noodwendig vakgespesialiseerde Afrikaanse lesersgemeenskap beklemtoon en dit sonder voorbehoud aanbeveel.

Om nie die grense van ’n bekendstellende resensie te veel te oorskry nie, beperk ek dit tot enkele dimensies van hierdie myn van inligting en nadenke.

 

  1. Probleem

Die terminaalsiek Suid-Afrikaanse res publica, die ganse mensheid, verkeer tans in ’n krisis van epogale omvang wat nie hier uitgespel hoef te word nie. Die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap in al sy diversiteit is deel daarvan. Die na-Middeleeuse, moderne era is aan die disintegreer, met insluiting van die tradisionele religieuse erfenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap, naamlik die Protestantse Reformasie. Is ’n nuwe sinryke epog, ’n nuwe saambindende visie, sintese, anderkant verbruikgedrewe globalisme, duidelik waarneembaar? Nog nie.

Nooit is enige menslike kultuurprestasie en tradisie finaal voltooid formata (gevormd) nie. Dit verkeer altyd êrens tussen begin en einde in ’n proses van verganklikheid. Dus ook nooit voltooid re-formata (finaal her-vormd, ge-re-formeerd), met slegs ’n verlede-herhalende of -herstellende of daarna terughunkerende houding nodig nie. En ’n wekroep semper reformanda in die verpligtende gerundivum-vorm (altyd te-re-formeer, te-her-vorm), altyd in ’n imperatiewe proses van immer terugkeer en herstel tot wat in ’n normatiewe verlede tyd begryplik, waardevol en goed was (hetsy Reformasie of Middeleeuse skolastisisme), is nie die hele antwoord nie. Hierdie oorweging het twee gerigthede: een op ’n verlede voor ’n gekose normatiewe moment, en een op die toekoms.

Wat die verlede betref, moet diegene vir wie die behoud van die Hervormde/Gereformeerde godsdiensverlede ’n saak van erns is, ook die vóór-verlede ken en verstaan. Vir sulkes is ’n ernstige kennisname van die Middeleeuse verlede baie nodig, en is Beukes se boek verpligte leesstof.

Wat die toekoms betref: Dit behoort gebou te word aan die hand van ’n kernspreuk soos semper amplius formanda (immer meer-[breër, dieper, subtieler]te-formeer). “Meer” wil hier insluit: meer omvattend in getal normatiewe mensheidstradisies wat in berekening gebring word; meer omvattend in insluitende, sintetiserende visie; meer ingrypend waarderend-krities, radikaliserend, verder-voerend, transformerend, transenderend; meer toekomsgerig en toekomsskeppend. Juis dan bly ’n studie van die verlede wesensbelangrik. Deeglike kennis van die verlede beteken nie om gesig na die verlede te leef of toe te laat dat dit ideologiese engte word nie. (Beukes self doen dit glad nie.) Die toekomstige, nuwe uitdagings sou vandag uitnooi tot ontmoeting en sintese met meer as die Middeleeuse Judaïsme en Islam, en wel ook met byvoorbeeld die groot geskrewe tradisies van Indiese Boeddhisme en Vedanta en Chinese Taoïsme en Confucianisme – maar, voeg ek met klem by, deeglik gevoed uit die Westerse Middeleeuse prestasie. Met die slottakkoorde van die Middeleeue en die aanbreek van ’n nuwe tydvak het Nikolaus van Kusa getas na ’n breë pax fidei. Sonder ’n grondige waarderend-kritiese kennis van en insig in die Middeleeue is ’n vernuwende (ook ’n Afrikaanse) trajek nie moontlik nie. Daarvoor verdien Beukes die grootste dank en erkenning.

Die millennium lange Europese Middeleeue met ’n begin, ’n hoogtepunt en ’n einde is stellig een van die kulturele hoogtepunte in die mensheidsgeskiedenis as geheel. Beukes se boek bied die leser ’n samehangende beeld van daardie trajek van die Europese kultuurgeskiedenis. Dit is onmisbaar vir elke denkende verlede-eerbiedigende, hedekritiese, toekomsskeppende Afrikaanse persoon, in ’n tyd waarin daardie kosbare verlede vergete raak, selfs geringgeskat word, asof met skuld bedek. Middeleeuse filosofie is dus van groot kultuurstrategiese belang. Die Middeleeue is deel van die agtergrond en wordingsgeskiedenis van die Afrikaanse kultuur, waarsonder ook die Reformasie nie verstaan kan word nie en waarsonder ’n toekoms nie geskep kan word nie.

Die skrywer se magistrale breedte- en dieptekennis van die Middeleeue het nie as korrelaat ’n onkritiese romantisering daarvan nie. Hy is historikus, kenner van wat was, nie restoureerder en renoveerder daarvan nie. Deurgaans blyk sy hoë waardering vir aspekte soos die intellektuele briljantheid en akademiese integriteit van die Middeleeuse piek- en sleutelfigure, maar aangeleenthede soos tipies-akademiese naywer en institusionele-kerk-verval word nie onder ’n maatemmer verberg nie. Hy is ook ’n gepubliseerde spesialiskenner van die Franse filosoof Michel Foucault (’n Foucault-monografie deur hom het in 2020 verskyn), en deel in Foucault se siening van diffuse alomteenwoordige mag, wat die Middeleeue betref, in ryk- en kerkstrukture. Beukes se meestal stil, implisiete kritiek kom egter duidelik na vore in sy ondubbelsinnige kritiek op die onderdrukte posisie van vroue in die Middeleeue: slegs ses van die 145 figure wat behandel (kon) word, is vroue, wat ’n literêre spoor nagelaat het, en dit as institusioneel uiters randstandige, buite-akademiese en buitefilosofiese figure. Laat hulle in ’n lomp laat poging tot restitusie ook hier genoem word: Héloïse d’Argenteuil (ca 1100–1164), Hildegard von Bingen (1098–1179), Mechthild von Magdeburg (ca 1207 – ca 1282), Hadewijch van Antwerpen (fl 1240), Marguerite Porete (ca 1250–1310) en Katharina van Siena (1347–1380).

Illustrasie van Hildegard von Bingen (bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Hildegard_of_Bingen#/media/File:Hildegard_von_Bingen.jpg)

Bogenoemde probleem was nie ’n periferiese etiese kwessie wat maklik reggestel kon word nie, maar het tragies, paradoksaal, struktureel saamgehang met die kernleerstuk van die klassieke Christendom wat in die Middeleeue in so ’n briljante poging tot sintese vorm aangeneem het: die trinitariese dogma van Vader, Seun en Heilige Gees. Wie sou gewaag het om as wesenlike, ononderhandelbaar verpligtende dogma-uitvloeisel van die groot Geheim te praat van die Een God as Moeder, Dogter en Gees, sou waarskynlik al by voorbaat staanplek op ’n brandstapel kon bespreek het. En indien dit die kernleerstuk sou gewees het, sou die institusionele opset van die kerk heel anders daar uitgesien het as wat in die Middeleeue wel die geval was. Gelyklopend met die aantoon van geloofsgewortelde diskriminasie teen vroue is die profilering van die Middeleeuse kultuur van sensuur aan die hand van Petrus Damianus (1007–1072) se hervormings in opdrag van pous Leo IX.

Die sentrale probleem waarmee die Middeleeuse denkers geworstel het, was om ’n versoening, selfs inhoudelike sintese, van twee fundamenteel verskillende uitgangspunte, denkstyle en denkinhoude te probeer bewerkstellig. Aan die een kant was daar (a) ’n  tradisionele Joodse (wat die Christendom betref, sowel in Ou as Nuwe Testament), antropomorfe, androsentriese, paternalistiese, patriargale, mitologiese, monoteïsties-religieuse, geopenbaarde, in dogma vasgelegde denkstyl en denkinhoud. Aan die ander kant was daar (b) die twee voorafgaande,  reeds gevestigde, redegebaseerde metafisikas van  Plato en Aristoteles en die denktradisies wat deur albei gevestig is. En tussendeur was daar ook betekenisvol die komponent van Neoplatonisme, op die voetspoor van Plotinus (gelyktydig met die Christendom ontwikkelend). Om laasgenoemde drie redelik te sintetiseer, en al drie met die Christelike geloof en dogma, het geblyk ’n ontsaglik uitdagende taak te wees. Voeg die bestanddele van Joodse en Muslim-gelowe daarby, en mens besef die uitdaging wat omvang sowel as kompleksiteit betref, en die verbluffende prestasie wat die Middeleeuse denkers tot stand gebring het.

Kunstenaarsvoorstelling van Katharina van Siena (bron: https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Giambattista_Tiepolo,_,_Kunsthistorisches_Museum_Wien.jpg)

Mens kan, naas bewonderende begrip vir intellektuele moed en prestasie, ook tot die gevolgtrekking kom dat die Middeleeuse projek, kulminerend in die skolastiek, uiteindelik, op die keper beskou, tog nie geslaag het nie. Die verlenging van formele logika na metafisiese ontologie en teologie, en die heen en weer verbindinge tussen laasgenoemde twee, was nie noodwendig onweerspreeklik dwingend, verpligtend, oortuigend nie. Om die betrek van Jodedom en Islam in ’n multireligieuse raam ’n stap verder te neem: Vroeë Boeddhisme, tydgenootlik aan Aristoteles, het ook oor ’n sterk ontwikkelde logika beskik, maar het ’n dergelike ekstrapolasie, met die metafisies-teologiese implikasies daarvan, van die hand gewys (vgl Jayatilleke, Early Buddhist theory of knowledge, 1963).

Beukes bied ’n genuanseerde  rekonstruksie van die subtiele historiese samehang van teoretiese faktore met ander kondisionele faktore wat ’n bydraende rol gespeel het in die uiteindelike disintegrasie van die Middeleeuse duisendjarige denkprojek, kulminerend in die hoogskolastiek – kragte soos die toenemende skeiding van kerk en staat en gepaardgaande sekularisme, en die toenemende skeiding van teologie en filosofie en gepaardgaande verselfstandiging van die natuurwetenskappe. Tog bevat die Middeleeue ook ’n ander, dieper les, mag mens vermoed: die metafisiese aanvaarding van ’n onafwendbare, selfs wesenlike verganklikheid, die verskyning en verdwyning van alle dinge, ook die briljantste denkprestasies, op ’n uiteindelike onoorskrybare gesigseinder. Die Middeleeuse denkers self, volgens hul eie siening onstuitbaar in die spoor van Augustinus op weg van civitas terrena na civitas Dei, sou hul stellig teen so ’n vertolking verset het.

 

  1. Struktuur

Middeleeuse denke kan aanvanklik voorkom as ’n verwarrende doolhof vol doodlooppaaie. Aan die hand van ’n gids soos Beukes word dit ’n unieke sinryke labirint, een met ’n filosofies-teologies baanbrekende toegang (Augustinus, 354–430), saambindende sentrum (Aquinas, 1225–1274), beginnende einde (Willem van Ockham, ca 1285–1349) en afsluitende uitgang (Nikolaus van Kusa, 1401–1464), een wat jy tot jou verryking oor en oor van begin tot einde en terug kan bewandel.

Augustinus (bron: https://sco.wikipedia.org/wiki/Augustinus#/media/File:Saint_Augustine_by_Philippe_de_Champaigne.jpg)

Die boek begin met ’n voorwoord en deeglike en besonder waardevolle  inleiding wat die plan en metode van die boek uiteensit en die leser ruim (30 bladsye) voorsien van die noodsaaklike Griekse agtergrond betreffende die hooffigure en strominge wat dwarsdeur die Middeleeue so ’n uitdagende en verrykende invloed uitgeoefen het: Plato, Aristoteles, Middel-Platonisme en Neoplatonisme.

Die substansie van die boek bestaan uit ’n kronologiese verdeling in ses periodes, met Augustinus (periode 1), Aquinas (periode 5), Ockham en Kusanus (albei periode 6), soos vermeld, die vier mees beslissende epogale skarnierfigure:

     (1) post-Romeinse periode (5de tot 7de eeu)

     (2) Karolingiese periode (8ste tot 9de eeu)

     (3) post-Karolingiese periode (10de tot 12de eeu)

     (4) vroegskolastiese periode (11de tot 13de eeu)

     (5) hoogskolastiese periode (13de tot 14de eeu)

     (6) postskolastiese periode (14de tot 15de eeu).

Die inhoud word nie as een aaneenlopende historiese verhaal of tematies-gesentreerde ontleding aangebied nie, maar as ’n reeks van altesaam 145 intellektuele portrette van prominente Middeleeuse filosofiese denkers, kronologies georden.

Volume I bevat 58 sulke gevallestudies: ses in periode (1), sewe in periode (2), 13 in (3) en 32 in (4).

Volume II bevat 87: soos te verwagte die groot getal van 50 in periode (5), die hoogbloei van die skolastiek; en nie te versmaai nie, 37 in periode (6), die afloop en einde van die skolastiek sowel as van die Middeleeue in sy geheel geheel.

Neem in ag dat die skolastiek ook ’n lang nawerking gehad het, byvoorbeeld ook in die Gereformeerde skolastiek van Gisbertus Voetius (1589–1672), dus tydgenoot van “Afrikaans”-stigtende Jan van Riebeeck, en belangrike rolspeler by die Sinode van Dordt (1618–1619).

Elk van hierdie portrette staan op eie bene as ’n essay-artikel, bevat gewoonlik ’n  biografiese skets sover inligting beskikbaar is, en word voorsien van verklarende eindnotas en in elke geval ’n indrukwekkende bibliografie van primêre en sekondêre bronne.

.........
Die boek is besonder volledig. Dit bevat inligting oor, en verraai juis ’n besondere belangstelling in, ’n groot aantal byna heel onbekende, ondergekommentarieerde, institusioneel randstandige figure.
..........

Die boek is besonder volledig. Dit bevat inligting oor, en verraai juis ’n besondere belangstelling in, ’n groot aantal byna heel onbekende, ondergekommentarieerde, institusioneel randstandige figure. In dieselfde gees ontvang die eerste drie bogenoemde periodes meer aandag as wat gewoonlik in oorsigwerke die geval is. Die aandag aan juis die marginale is een van die mees blywende positiewe indrukke van die boek. Die hoofklem val egter vanselfsprekend op substantief-invloedryke figure (deur die skrywer “gekanoniseerde” sleutelpersone genoem): denkers soos Augustinus, Boethius en Pseudo-Dionisius in periode (1); Alcuin en Johannes Skotus Eriugena in (2); Avicenna, Anselmus en Petrus Abelardus in (3); Bernardus van Clairvaux, Averroes, Moses Maimonides, Robert Grosseteste en Bonaventura in (4); Thomas Aquinas, Meister Eckhart, Johannes Duns Skotus en Willem van Ockham in (5); en Jan van Ruusbroec en natuurlik Nikolaus van Kusa in (6). In sulke  gevalle word die leser voorsien van uitgebreide ontledings en vertolkings van hul onderskeie aksente en bydraes.

’n Sterk punt van die boek, relevant in ons teenswoordige Afrikaanse situasie van waarskynlik steeds ’n sterk religieuse uitsluitendheid, is dat Joodse en Muslim-denkers met klem sonder enige onderskeid of diskriminasie as ewewaardig aan Christelike denkers en deelnemend aan een en dieselfde denkeksperiment en gesprek behandel word. Mettertyd het verhoudings tussen die drie, in elk geval wat die Christendom en Islam betref, erg versleg, met die kruistogte van die 13de tot 15de eeue die militêre uitinge daarvan, en met gevolge vandag steeds voortslepend.

Die individuele portrette word tot ’n eenheid verbind deur middel van ses ekskurse, op strategiese plekke ingevoeg, wat breër historiese en saaklike verbande uitlig. ’n Goeie manier van lees sou inderdaad wees om te begin met die voorwoord en inleiding, te vervolg met die konteksskeppende ekskurse, en mens dan te verdiep in die afsonderlike periodes met hul individuele portrette. Die ekskurse handel onderskeidelik oor:

(1) die oorgang van die Karolingiese na die post-Karolingiese periode, met ’n oorspronklike ontleding van die filosofiese en institusionele dimensies daarvan

(2) die opkoms van die universiteitswese

(3) die onderskeid tussen filosofie en teologie in die skolastiek

(4) die opkoms van tegniese Aristotelianisme in die vroeë skolastiek

(5) die berugte Paryse veroordelings van 1277

(6) die begrip postskolastiek.

Die invoer van wat Beukes die postskolastiese periode noem (6 hier bo) is sy vernuwende voorstel aan sy vakgenote. Dit is nie die enigste vernuwing nie – daar is onder andere ook die fyn onderskeidinge betreffende filosofiese en institusionele oorgange tussen die Karolingiese en post-Karolingiese periodes. Wat postskolastiek betref: In ’n oortuigend gemotiveerde ekskurs in volume II, ble 1175–82 argumenteer Beukes dat die historiografiese tendens was om die eeu tussen Ockham en Nikolaus van Kusa te onderwaardeer, terwyl dit in werklikheid as ’n era met ’n eie karakter aandag verdien. In werklikheid het hoogskolastiek geleidelik verval,  of verryp (afhangende van die waarnemer se perspektief), tot voldrae na-Middeleeuse denke, die begin van ’n nuwe epog. Die formulering “herfsttij der Middeleeuwen” (Huizinga) vir die 14de en 15de eeu het steeds ’n suggestiewe waarde. Ek lees Beukes se aanbod van hierdie periode as kenmerkend van sy unieke styl om juis die onderwaardeerde randstandige tye en figure tot hul reg te laat kom. Dit was ’n tyd gekenmerk deur onder andere die finale skeiding van teologie en filosofie, die verselfstandiging van die natuurwetenskappe, institusiekritiek en verskillende vorme van postskolastiese mistiek, byvoorbeeld van Ruusbroec en Kusa (sien ook punt 5 onder).

 

  1. Aanbod

Die boek is kennelik geskryf uit ’n diep affiniteit van die navorser met sy navorsingsveld. Die ideë-historiese passie van die skrywer is gekoppel aan onkreukbare saaklikheid en ensiklopediese kennis. As mens is hy natuurlik deel van die denkproses, maar hy stoot homself en sy eie religieuse voorkeure nie op die voorgrond nie, en swaai geen byl apologeties of polemies nie. Uit die aard van die saak is die skrywer volledig op hoogte met die teologie wat so intiem met die filosofie van die tydvak vervleg was, en word die onlosmaaklike verband tussen teologie en filosofie aangetoon, maar die boek bly by die filosofie.

Opvallend is die kollegiale, vriendskaplike omgang met plaaslike en internasionale vakgenote. Die skrywer is duidelik deel van ’n werksgroep kollegas en vriende, ’n werksgemeenskap van spesialiste wat oor dekades gegroei het (hy het die boek reeds in 2005 begin skryf), en hy gee deurlopend erkenning aan medenavorsers in ’n proses van betekenisvolle meningswisseling. Die boek begin trouens heel voor met lyste van sulke Suid-Afrikaanse magistri en vriende, en Nederlandse en Belgiese hoogleraars in filosofie word met groot waardering by naam genoem.

Wat my tref en aanspreek wat die aanbieding betref, is die deeglikheid daarvan, wat nie terugstaan vir dié van die skolastici self nie. So word die essayistiese artikels gevolg deur ’n alfabetiese lys van die tevore kronologies behandelde Middeleeuse filosowe, met die relevante trefwoorde, sleutelbegrippe en spesialisnavorsers in elke geval kernagtig voorsien.  Dit is besonder nuttig vir vinnige oriëntering op ’n wye veld. Dit word gevolg deur ’n alfabetiese lys van tegniese terme, in die vorm van oorsigtelike en samevattende verduidelikings. Die boek word afgesluit met ’n uitgebreide bibliografie van nie minder nie as 91 bladsye.

Die boek is besonder keurig uitgegee deur Akademia Uitgewery. Veral opvallend is die afdrukke van skilderye, in verskillende tydvakke geskep, wat visuele beelde van die Middeleeuse milieu en die visuele verwerking daarvan aan die intellektuele begrip koppel en besondere waarde toevoeg.

 

  1. Taal

Taal en wat daarmee saamhang is die mees sentrale tema in Beukes se boek, onthul in sy eie gebruik van taal sowel as in sy nadenke oor die Middeleeue. Afgesien daarvan dat hy vakkundig eerstehands omgaan met Hebreeus, Grieks, Latyn, Duits, Frans, Nederlands en Engels, werk hy skeppend met en in Afrikaans. Dit is nie slegs tot voordeel van niegespesialiseerde lesers nie, maar Afrikaans as vaktaal word ook deur die Afrikaanse weergawes van Griekse en Middeleeuse Latynse filosofiese terminologie verryk. In die proses word ’n deurdagte en konsekwente stelsel om klassieke en Middeleeuse eiename in Afrikaans weer te gee, aangebied. Hopelik word dit die norm. Die skrywer se bewuste betrokkenheid by Afrikaans en sy inset om die aard van Afrikaans as Dietse taal te handhaaf en te ontwikkel, val op en verdien hoë waardering. Hy self skryf ’n unieke, sterk Afrikaans met ’n duidelike Germaanse karakter.

Die akademiese leitmotief deur die boek is die verband tussen taal en logika, op voetspoor van die Middeleeuse verwerking van veral Aristoteles. Die kern van die ontwikkeling was dat Aristoteles se formele logika toenemend as ontologies wesenlik relevant verstaan is. Die aanvanklik suiwer logikagekoppelde begrip substansie is byvoorbeeld aangebied as toegerus met dwingende metafisiese en teologiese implikasies wat uitgedruk sou kon word in ’n taal-logies-teo-logiese gevolgtrekking soos onder andere: “Dus moet God bestaan.”

Aristoteles (bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Aristotle#/media/File:Aristotle_Altemps_Inv8575.jpg)

Die skrywer se noukeurige verkenning begin by Augustinus (bl 56 ev), wie se belangstelling in die verbande tussen logika, taal en werklikheid, met ingrypende implikasies vir die godsvraagstuk, daarna deur feitlik elke Middeleeuse filosoof met erns bejeën is. Beukes gee besondere aandag aan hierdie dimensie by die gekanoniseerde figure vroeër genoem, maar ook by ander, minder gekommentarieerde figure soos Sadiah Gaon, Albertus Magnus, Petrus Hispanus, Willem van Ware, Thomas van Erfurt, Martinus van Dacia, Sigerius van Brabant, Godfrey Fontibus en Johannes Wyclif.

 

  1. Mistiek
........
Vir my is die skrywer se duidelike waardering van die mistieke dimensie in die Middeleeue ’n betekenisvolle aksent.
..........

Vir my is die skrywer se duidelike waardering van die mistieke dimensie in die Middeleeue ’n betekenisvolle aksent.

“n Boeiende, waarskynlik nooit beantwoordbare vraag is: Wat presies het op die kruin van sy lewe en loopbaan in die prins van skolastici, Aquinas, gebeur op 6 Desember 1273, drie maande voor sy dood, toe hy ’n besondere ervaring (“openbaring”) gehad het wat hom genoop het om sy Summa onvoltooid neer te lê? Dalk was dit nie tragedie nie, ook nie ’n visioen van die hemelse glorie nie (waarom sou dit hom genoop om het op te hou skryf?), maar ’n kwalitatief ander, ontdekkende deurbraak? Hy sou volgens oorlewering aan sy metgesel die volgende gesê het van alles wat hy geskryf het: “Mihi videtur ut palea”, wat ek in Afrikaans sou wou weergee as: “Dit kom my voor as kaf.” Die vertaling impliseer: Sou Aquinas die woord palea juis in die ambivalente sin kon bedoel het wat “kaf” dra? Nie bloot iets veragtelik sleg (“onsin” ens) nie, maar waarderende agterlating? Sonder die aanvanklik beskermende omhulsel, nou afgestroop, sou daar immers nie koring gewees het nie? Sou die ervaring, die “openbaring”, weer nog ’n keer bonatuurlik ingegewe informasie, bewoording van Bo gewees het, soos in die Ou Testament? Sou dit nie dalk juis die radikale agterlating gewees het, nie alleenlik van alle skryf nie, maar van alle “logiese” dink/praat as verpligte basis vir uiteindelike insig (byvoorbeeld in die vorm van bewyse vir die bestaan van God)? Sou die groot gees ’n domein betree het anderkant die behoefte om uiteindelike waarheid met die logika van Aristoteles, hoe indrukwekkend ook al, nie slegs te bemiddel nie, maar selfs te fundeer? Sou hy albei komponente van die sintese (en dus ook die sintese self) oorweeg en te lig bevind het: Aristoteles se primum movens as onbewegende, onbewoë agent van alle beweging/verandering; en antropomorfe teïstiese mitologie? Sou hy oorweeg het, en dalk tot die besef gekom het, dat die normatiewe ekstrapolasie van logika tot ontologie en teologie ’n stap te ver, onnodig, ongeldig, was? Kort gestel: Was die skolastieke projek uitgeput? Tog, het dit juis so sy uiteindelike bestemming, naamlik swye, bereik? Aquinas was nie maar net fisiek of geestelik gedaan nie, sou ek spekulatief vermoed, maar het ’n ander dimensie betree of ten minste vermoed: radikale mistiek, die stilte as die wind uitgewoed is. Sou die swye, die ophou skryf, die afskeid, in sy volle diepte die uiteindelike saak self, die koring, wees, uit die omhulsels van die onvermydelike, selfs groei-noodsaaklike, “kaf” bevry? Dit was dorstyd, tyd om skutblare af te skud. Die mens – ook, en juis, ’n diepsinnige een soos Aquinas – sal en moet dink en daaroor praat en skryf. Praat, logika, voor en na stilte is onvermydelik en belangrik, maar dan sou dit  philosophia theologiaque ancillae silentii word.

Wat ’n indrukwekkende konstruksie was die Middeleeue en skolastiek nie, maar voorlopig voor die gesigseinder van absolute stilte. In hierdie rigting gelees sou figure soos die verketterde Eckhart, die aangeklaagde Ruusbroec, en die deur vuur verteerde, stil-sterwende Porete juis so ’n diepe, ongereflekteerde, onbedoelde, selfs onbewuste, nog onontwikkelde tendens van die skolastiek verteenwoordig het, die ontwikkelende blom en vrug van die Middeleeuse groeiproses wees.

So gesien, sou ten minste ’n vermoede van “postskolastiek” by Aquinas self aangemeld het, nie tydsgewys nie, maar saakgewys. Dan sou “metaskolastiek” ’n meer gepaste term wees. Ek bedoel dit nie as ’n historiese stelling wat die periodisering van Beukes bevraagteken nie, maar opper dit slegs as ’n moontlikheid, stof vir ’n spekulatiewe novelle eerder as vir soliede historiografie. My vrae is bedoel as ’n onderskrywing van Beukes se “rehabiliterende” lees (bl 57) van die Middeleeuse denkers, die Middeleeuse korpus as geheel: Aquinas, sy lewe afsluitend as swygende, postskolastiese, metaskolastiese mistikus: “agterlatend”, “transenderend”; nie ’n fratservaring nie, maar die onontwykbare toe-koms van ’n buitengewoon radikale denker, in die konteks van ’n eeue-durende kollektiewe briljante denkeksperiment. Indien Aquinas die weg van stilwording tot absolute gesigseinde anderkant univokale, ekwivokale en analogiese predikasie gevolg het, sou dit sy statuur nog verder verhoog, wil ek aan die hand doen. In elk geval het Ockham en die afloop van die skolastiek ook nie hierdie rigting gevolg nie. In die woorde van Beukes: “Die God van die Christendom is uiteindelik vrygestel van arbitrêre skolastiese spekulasies oor wie hierdie God is en wat hierdie God doen. Filosofie was in die postskolastiek, steeds met diepe agting vir daardie God van die Christelike Latynse Weste ... vry” (II, bl 1166).

Maar dan was dit blykbaar nie ook die weg na swye voor absolute gesigseinde nie. Met groot respek vir daardie tradisie: In postskolastiek (word duidelik in Beukes se fyn ontledings) is die weg na metakonseptuele, metateïstiese mistiek nie programmaties betree en enduit gevolg nie – nie in Ruusbroec se dieptemistiek met die apologeties-kategetiese en dogmatiese motiewe daarin, of in die spekulatiewe denke van Nikolaus van Kusa nie. Afgesien van wat Thomas werklik ervaar het, of sou kon ervaar het, is sodanige mistiek vir my die uitkoms, bestemming, van die Middeleeuse onderneming – uitgespreek nie teen of ten spyte van nie, maar danksy Beukes se grondige weergawe en ontleding daarvan.

As afsluiting van ’n reeds lang resensie: Hierdie land dryf ’n krisis binne waarin die toekoms van die Westers-gewortelde kulturele tradisie, en van Afrikaans as ’n draer daarvan, nie vanselfsprekend is nie. In hierdie situasie is Johann Beukes se Middeleeuse filosofie van die grootste relevansie, verlede-waarderend en -bevestigend, en so toekomsskeppend.  

 

  1. Beskikbaarheid

Die boek is primêr op Akademia se aanlyn winkel te koop. Skakel: https://winkel.akademia.ac.za/collections/frontpage/products/middeleeuse-filosofie

Dit is ook by die hooftak van Protea Boekwinkel beskikbaar. 

Lees ook:

Middeleeuse filosofie deur Johann Beukes: ’n lesersindruk

Middeleeuse filosofie: ’n onderhoud met Johann Beukes

The post <em>Middeleeuse filosofie</em> deur Johann Beukes: ’n resensie appeared first on LitNet.


Polisiëringsbestuurstrategiëe in intelligensiegedrewe ingrypings: vragmotorkapings as gevallestudie

$
0
0

Polisiëringsbestuurstrategiëe in intelligensiegedrewe ingrypings: vragmotorkapings as gevallestudie

Rudolph Zinn, Departement Polisiepraktyk, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel neem die redes vir die beduidende afname in vragmotorkapings tussen 1998/1999 en 2003/2004 onder die loep. Die sentrale navorsingsvraag is of die polisiëringsbestuurstrategiëe van intelligensiegedrewe polisiëringsinisiatiewe effektief was om vragmotorkapings in die tydperk 1998/1999 tot 2003/2004 te bekamp. Die vraag wat hieruit voortvloei, is: Watter polisiëringsbenaderings is destyds gevolg om die getal vragmotorkapings te laat daal, en was dít die rede vir die afname? ’n Verdere besprekingspunt is die konsep polisiëring, ’n konsep wat veel breër is as handelinge slegs deur die “polisie”. ’n Kwalitatiewe benadering is gevolg en onderhoude is gevoer met voormalige senior polisieoffisiere wat deel was van die inisiatiewe om vragmotorkapings te bekamp. ’n Onderhoud is ook gevoer met ’n senior verteenwoordiger van die vragmotorsekuriteitsbedryf. Die inligting uit die literatuur en onderhoude is aangevul met inligting wat bekom is uit onderhoude met gevonniste vragmotorkapers. Die oogmerk van die artikel is om die waarskynlikste redes vir die daling in die aantal vragmotorkapings en die polisiëringsbenadering te identifiseer sodat dit in die hede opnuut nagevolg kan word. Die aanbevelings wentel om spesialiseenhede in die bekamping van vragmotorkapings, die rol en waarde van vennootskappe, en die gesaghebbende bestuur wat nodig is om intelligensiegedrewe polisiëring suksesvol toe te pas. Hierdie bespreking gee oorweging aan die wetenskaplike beginsels van eietydse polisiëring.

Trefwoorde: gemeenskapspolisiëring; gesaghebbende bestuur; intelligensiegedrewe polisiëring; misdaadinligtinganalise; misdaadintelligensie; misdaadintelligensieanalise; polisiëring; probleemgerigte polisiëring; roof met verswarende omstandighede; vragmotorkapings

 

Abstract

Policing management strategies in intelligence-driven interventions: truck hijacking as a case study

The research design was determined primarily by the intellectual goal of understanding how the intelligence-driven policing management strategies were effective in combating truck hijacking during the period 1998/1999 to 2003/2004. The central underlying question is how management by intelligence-driven policing management strategies was causal in significantly reducing the number of reported truck hijackings.

The methodology used was based on one-on-one interviews with deliberately selected, knowledgeable former senior officers of the South African Police Service (SAPS) who were responsible for combating crime from 1998/1999 to 2003/2004. In addition, an interview with a senior representative of the private security industry who combats truck hijacking was conducted. 

Reported truck hijackings decreased by 85,31% from 1998/1999 to 2003/2004. This significant decrease was unique compared with the rest of the crimes reported by the SAPS in their annual statistics. The truck hijackings reported to the SAPS increased again from 901 to 1 182 cases in 2018/19. This is a percentage point increase of 31,18% (SAPS 2019). Despite the increase since 2003/2004, the number of reported incidents (1 182 cases in 2018/2019) is relatively low (19,27% compared with 1998/1999’s figure) compared with the 1998/1999 figure of 6 134 reported cases. 

Despite the principle of community policing already applied in the police’s new approach, the SAPS was not open to finding a partnership. Marks, Shearing and Wood (2009) believe that the SAPS clung to the notion that they had a monopoly on policing and were therefore unwilling to share the responsibility for security.

The sharp increase in, among others, truck hijackings in the late 1990s forced the SAPS to take extraordinary steps.

In about 1998 the then detective chief, Commissioner Johan de Beer, instructed Martin Naudé, then director (equivalent to the rank of a brigadier) to manage truck hijackings as a special project (De Beer 2018; Schutte 2018). The emphasis was on tactical crime intelligence that could be obtained from crime files and presented as evidence in court.

As the chair of the SAPS’s then National Crime Combating Forum (NCCF) Commissioner André Pruis, a deputy national commissioner of police, prioritised truck hijacking in an official instruction at national level. This, according to Schutte (2018), gave the necessary muscle power to the operations of the truck hijacking project. With that, the fight against truck hijacking was officially registered as Operation Road Runner by about 1998/1999 (the project continued until about 2003). Naudé (2018) argues that collaboration between the SAPS provincial offices and a national, holistic approach was the reason for the success of Operation Road Runner. He referred to it as the ability to “sell” the game plan to the provincial commissioners. 

The police role players in the forum were included in a project team and instructed to compile and analyse all crime information about the hijackings. From this, the project team was able to draw up a plan of action. 

The project team’s discussion and analysis of truck hijackings indicated that crime intelligence officers and those investigating truck hijacking cases in various areas and provinces had a great deal of crime intelligence (the offenders) and crime information (incidents) (Schutte 2018).

An analysis of the tactical crime intelligence and information showed that the detectives did not exchange the crime intelligence among themselves and also not with members of crime intelligence, and that information that had already been obtained was recorded incompletely in the dossier (Schutte 2018). 

The reluctance of detectives to exchange information with one another and with crime intelligence officers is often mentioned in the literature. Detectives and crime analysts have different views on crime, and sometimes detectives do not communicate with crime analysts about crime problems unless instructed to do so.

The analysis further indicated that numerous truck hijackings are likely to be committed by the same persons and syndicates (Schutte 2018; De Beer 2018). That the same persons repeatedly hijacked cars and trucks over a long period of time is consistent with the answers of sentenced offenders reported in scientific studies in South Africa. 

The SAPS and the private security industry started working together in 1998/1999 on Operation Road Runner, and according to all indications this contributed to a reduction in truck hijackings. 

The SAPS project team, as part of the collaboration in partnership with the private industry, discussed the crime information and intelligence with the Road Freight Association. The Road Freight Association undertook to counteract the collusion of employees with hijackers through their freight transport companies. Steps were taken by freight companies to vet staff, rotate routes and truck drivers to impede collusion, and to indicate safe or secure overnight or rest locations on long routes (De Beer 2018). 

A significant decline in the number of reported cases soon followed (Schutte 2018). This decrease in the 1998/1999 financial year to 2003/2004 amounts to 85,31%.

At the time of Operation Roadrunner, Advocate Jan Henning, then a senior manager at the National Prosecuting Authority, prioritised the prosecution of truck hijacking cases. Cases against truck hijackers were put on the roll as soon as possible. This paved the way for specialist prosecutors (advocates of the High Court) in the prosecution of truck hijackers.

De Beer (2018) is convinced that the multidisciplinary context in which the project team worked provided detectives and prosecutors with the opportunity to tell crime intelligence members to gather information on specific crimes and to search for outstanding evidence. De Beer (2018) believes that this approach should apply in everyday policing as well. 

The cooperation of the multidisciplinary project team resulted in conclusive intelligence and even evidence against the hijackers. The decisive factor was the authoritative management powers of Director Naudé (and later Assistant Commissioner Schutte) to join the role players in a multidisciplinary specialist investigation unit and to authorise and coordinate their intelligence-driven actions. Without it, problem-focused and intelligence-driven policing was impossible.

It was realised that many vehicle hijackings were related and that employees and truck hijackers work together. In addition, there was an integrated national truck hijacking database; a network of reporters; proper, continuous recording of all information; coordinated action; proper and regular feedback to the unit; and recognition of successes or contributions (Schutte 2018; De Beer 2018).

Money from the SAPS Intelligence Unit was used to fund covert and overtime activities and resources for the multidisciplinary specialist unit (Naudé 2018).

De Beer (2018) argues that exceptionally high crime rates cannot be countered by conventional police action. Special projects and task teams that work together and have extra resources are needed for this.

The conclusion is that the successful implementation of intelligence-driven policing is to a large extent dependent on authoritative management. Also, partnerships between the police, the prosecuting authority and the private sector are crucial for crime prevention in the long term.

However, it is difficult to determine scientifically whether there is a causal relationship or only a correlation between the establishment of the specialist truck hijacking project led by Director Naudé and Assistant Commissioner Schutte, the significant decline in truck hijackings since 1998/1999, and the increase in truck hijackings after this specialist unit was closed by 2002. There are, however, experts who believe that there is a causal link between intelligence-driven policing and crime change. Milne (2013:13), for example, argues that there was a correlation between a decline in crime and the implementation of intelligence-driven policing and the automated identification of fingerprints in the UK and San Francisco, and between the establishment of a national DNA database in the UK and Wales.

All experts cited in this article agree, to a greater or lesser extent, that there is a causal relationship between the change in the number of truck hijackings and the intervention of the specialist truck hijacking unit. According to them this is not an accidental correlation. The reason is the close relationship between the implementation and the ending, again, of the specialist project team and the corresponding change in the incidence of truck hijackings. Thus this corresponding decrease and increase are evidence that the change is causal rather than accidental. Further evidence is that this trend in truck hijackings measured over several years showed a significant change after 1998 and after 2004, and that the truck hijacking rate remained constant during the periods outside this time slot. The data indicates that truck hijacking decreased due to the problem-oriented and effective, authoritative management of crime intelligence-driven and coordinated initiatives by all stakeholders.

The reality is that causality in the fight against crime can hardly be determined by quantitative research alone, and that qualitative research must be relied on to a large extent. In this article, the evaluation of the success (or not) of truck hijacking is based mainly on qualitative considerations. 

Keywords: authoritative management; community policing; crime information analysis; crime intelligence analysis; crime intelligence; intelligence-led policing; policing; problem-orientated policing; robbery with aggravating circumstances; truck hijacking

 

1. Inleiding

Die Suid-Afrikaanse samelewing gaan reeds jare gebuk onder geweldsmisdaad. Geweldsmisdade word in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jaarlikse statistiek gedefinieer as kontak- of kontakverwante misdade soos roof en moord, wat teen persone gerig word. Huisinbrake en die diefstal van goedere, daarenteen, word as eiendomsgerigte misdade beskou (SAPD 2019). 

Kontak- en kontakverwante misdade verteenwoordig 43,9% van die 2 013 271 misdade wat in die 2018/2019-boekjaar by die SAPD aangemeld is (SAPD 2019). Die kategorie kontakverwante misdade sluit roof met verswarende omstandighede in. Roof met verswarende omstandighede, wat huisroof en die kaping van motorvoertuie en vragmotors insluit, is van die mees gevreesde misdade. Die benamings huisroof en kaping word gebruik om tussen die tipes roof met verswarende omstandighede te onderskei. Die redes waarom huisroof, motorvoertuig- en vragmotorkapings gevrees word, is die onvoorspelbaarheid daarvan, die geweld wat daarmee gepaardgaan, asook die weerloosheid van die slagoffer (Zinn 2008:16).

Die Suid-Afrikaanse gemeenskap, asook die veiligheidsdienste (insluitende die SAPD, gemeenskapspolisiëringsforums en privaat sekerheidsdienste) slaag nie daarin om hierdie misdade te bekamp nie. Dit blyk uit die beduidende toename in geweldsmisdade die afgelope 10 jaar, naamlik 23,7% (SAPD 2019). Hierdie artikel ondersoek die bekamping van vragmotorkapings in die tydperk 1998/1999 tot 2003/2004.

 

2. Metodiek 

Die navorsingsontwerp is hoofsaaklik bepaal deur die intellektuele mikpunt om te verstaan hoe die intelligensiegedrewe polisiëringsbestuurstrategieë effektief was in die bekamping van vragmotorkapings in die tydperk 1998/1999 tot 2003/2004. Die sentrale onderliggende vraag is hoe die bestuur deur intelligensiegedrewe polisiëringsbestuurstrategiëe oorsaaklik was om die aantal aangemelde vragmotorkapings beduidend te laat afneem. Die bepaling van hoe die intelligensiegedrewe polisiëringsbestuurstrategiëe oorsaaklik was en nie slegs die mate van korrelasie tussen die intelligensiegedrewe polisiëringsbestuurstrategiëe en die afname van vragmotorkapings nie, was deurslaggewend om ’n kwalitatiewe benadering as voorkeurbenadering vir die studie te vestig. Maxwell (2005:23) veronderstel dat om die prosesse en die meganika van veranderlikes te verstaan eerder as om slegs die verhouding tussen veranderlikes te bepaal, fundamenteel is in ’n realisbeskouing van oorsaaklikheid in kwalitatiewe studies. Die onderskeie senior polisieoffisiere en ander rolspelers se rol in die bekamping van vragmotorkapings in die tydperk onder bespreking was met die aanvang van die studie onbekend aan die navorser. 

Gevolglik is daar eerste met die voormalige divisiekommissaris van die speurdiens van die SAPD tydens 1998/1999 tot 2003/2004, luitenant-generaal (afgetree) Johan de Beer, ’n onderhoud gevoer. ’n Sneeubalsteekproeftrekking is daarna gebruik om die res van die senior polisieoffisiere en ’n senior verteenwoordiger van die privaat sekerheidsbedryf as deelnemers te identifiseer vir die studie. Die studie is uitgevoer ingevolge die etiese klarings CLAW2014/CE06 en P18/2018 wat onder andere klaring aan die skrywer verleen vir navorsing in die gemeenskap om polisiëring te bevorder. Al die deelnemers het vrywillig toegestem tot ’n onderhoud, wat op band opgeneem is. Die deelnemers het ook skriftelik toestemming verleen dat hulle identiteit in hierdie artikel openbaar mag word. Die literatuur waaroor verslag gedoen word in die studie, is vrylik in die openbare arena beskikbaar.

’n Kwalitatiewe benadering is gevolg om die data te bekom en te ontleed. Die data is ontleed deur die misdaadstatistieke te ontleed en tendense op grond daarvan te bepaal. Daarna is die optredes van die rolspelers omskryf en in kronologiese volgorde geplaas. Polisiëringstemas is só bepaal en vergelyk met die misdaadtendense wat uit die statistieke afgelei is. Die polisiëringstemas, optrede deur die deelnemers en statistieke is met mekaar vergelyk om die interafhanklike korrelasie te bevestig. ’n Induktiewe benadering is gebruik en het tot die gevolgtrekking van oorsaaklikheid gelei. 

Die metodologie wat gevolg is, is geskoei op een-tot-een-onderhoude met doelbewus gekose, kundige voormalige senior offisiere van die SAPD wat van 1998/1999 tot 2003/2004 verantwoordelik was vir die bekamping van misdaad. Hierbenewens is ’n onderhoud met ’n senior verteenwoordiger van die privaat sekerheidsbedryf belas met die bekamping van vragmotorkapings gevoer. Die data is verryk met inligting wat bekom is uit onderhoude wat van 2000 tot 2003 en in 2019 en 2020 met gevonniste vragmotorkapers gevoer is (Zinn 2003, 2019, 2020). Hierdie studie is ’n enkelgeval-gevallestudie (Gray 2014:275). 

Die sentrale navorsingsvraag is of die polisiëringsbestuurstrategiëe van intelligensiegedrewe polisiëringsinisiatiewe effektief was om vragmotorkapings in die tydperk 1998/1999 tot 2003/2004 te bekamp. Die vraag wat hieruit voortvloei, is: Watter polisiëringsbenaderings is destyds gevolg om die getal vragmotorkapings te laat daal, en was dít die rede vir die afname? Die oogmerk is om op die lesse hierin te wys en aan te toon hoe dit in die hede in die bekamping van misdaad toegepas kan word.

 

3. Waarom die toespitsing op vragmotorkapings?

Vrag is voorheen meestal per spoor vervoer. As gevolg van die deregulering van die vervoersektor en verminderde beleggings in die spoornetwerk het ’n wanbalans tussen spoor- en padvervoer ontstaan (Departement van Omgewingsake 2014:1). In teenstelling met vragvervoer in ontwikkelde lande word goedere oor veral lang afstande in Suid-Afrika oorwegend per pad vervoer (Departement van Omgewingsake 2014:1–2). Volgens Transnet se “freight demand model” is in 2014 bereken dat 643 miljoen ton vrag jaarliks in Suid-Afrika vervoer word. Sowat 87,5% hiervan word per pad en 12,5% per spoor vervoer. Na verwagting sal die tonnemaat per jaar toeneem (Departement van Omgewingsake 2014:24). Die ekonomie is dus afhanklik van die suksesvolle en veilige padvervoer van goedere. Enige ontwrigting van padvervoer hou dus ’n wesenlike bedreiging vir die bruto binnelandse produk (BBP) in (Departement van Omgewingsake 2014:1–27). Die Departemente van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming; en van Beplanning, Monitering en Evaluering (soos dit voorheen bekend gestaan het) benadruk die belangrikheid van ’n “goed onderhoude” nasionale pad- en spoornetwerk vir Suid-Afrika om deel te bly van die globale ekonomie (Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming & Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering 2019). Die uitgebreide netwerk van paaie stel uitdagings aan die polisiëring daarvan. Die netwerk van paaie in Suid-Afrika is ongeveer 535 000 km lank. Nagenoeg 168 000 km daarvan loop deur stedelike gebiede en 366 872 km deur niestedelike gebiede (Sanral 2020). 

Die Departement van Omgewingsake het in samewerking met die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ), die Wêreld-Natuurfonds (WWF) (Suid-Afrika), die Padvragvereniging, oftewel Road Freight Association (RFA), Transnet, die Departement van Vervoer en ander belanghebbendes in 2014 reeds aanbeveel dat Suid-Afrika van oorwegend padvervoer na oorwegend spoorvervoer oorskakel (Departement van Omgewingsake 2014:41–4). Die herstel van die spoorinfrastruktuur is egter ’n langtermynprojek en die vervoerbedryf sal vir die afsienbare toekoms op padvervoer aangewese wees (U.S. Embassies abroad 2019).

 

4. Verwikkelinge in die bekamping van vragmotorkapings

Die polisiëring van vragmotorkapings sedert die 1998/1999-boekjaar regverdig nadere ondersoek. Aangemelde vragmotorkapings het van 1998/1999 tot 2003/2004 met 85,31% afgeneem: van 6 134 tot 901 aangemelde sake (Instituut vir Sekerheidstudies [ISS] 2004).

Grafiek 1: Statistiek van vragmotorkapings 

Hierdie beduidende afname was uniek vergeleke met die res van die misdade waaroor die SAPD in hulle jaarlikse statistieke gerapporteer het. Die vragmotorkapings wat by die SAPD aangemeld word, het weer van 901 tot 1 182 sake in 2018/19 toegeneem. Dit is ’n persentasiepunttoename van 31,18% (SAPD 2019). Ondanks die toename sedert 2003/2004 is die aantal aangemelde insidente (1 182 sake in 2018/2019) betreklik laag (19,27% teenoor 1998/1999 se syfer) vergeleke met die 1998/1999-syfer van 6 134.

Die kaping van gewone motorvoertuie het van 1998/1999 tot 2003/2004 met slegs 12,55% afgeneem. Dit het van 15 773 tot 13 793 aangemelde gevalle gedaal (SAPD 2019). Die 16 026 aangemelde gevalle van motorvoertuigkapings in 2018/2019 is 1,6% hoër as 1998/1999 se 15 773 aangemelde gevalle. Die kaping van gewone motorvoertuie toon dus nie dieselfde tendens as vragmotorkapings nie, al word die twee misdade dikwels deur dieselfde oortreders op openbare paaie gepleeg (Zinn 2003:179). 

Die beduidende afname in vragmotorkapings tussen 1998/1999 en 2003/2004 en die volgehoue kleiner aantal aangemelde gevalle daarna is dus ’n buitengewone misdaadtendens wat verdere toeligting verg. Dit is moontlik om lesse hieruit te leer met die oog op die effektiewe en volgehoue bekamping van vragmotorkapings en miskien ook ander misdade. 

4.1 Die toename in vragmotorkapings sedert 1996 

Die toename in vragmotorvervoer het met die agteruitgang van die spoorvervoernetwerk, en ongelukkig ook met ’n toename in vragmotorkapings gepaardgegaan. ’n Ander moontlike bydraende rede vir die toename in vragmotorkapings in Suid-Afrika is die verskynsel dat misdaad in lande wat ’n oorgang of ’n tydperk ná konflik beleef, gewoonlik buitengewoon toeneem (Howarth 2014:262). Sedert 1994 het Suid-Afrika na ’n demokratiese bestel oorgegaan. Navorsers het bevind dat hierdie oorgang vir misdadigers geleentheid gebied het om die leemtes in die nuwe bestel uit te buit. Hierdie leemtes ontstaan as gevolg van veranderings in die samelewing en die instrumente van sosiale beheer (Schönteich en Louw, 2001:5; Wojciech en Plywaczewski 2000:167).

In die oorgangsperiode ná 1994 is misdaadbekamping verwaarloos. Die samesmelting van die voormalige tuislande se polisiedienste met die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP), en die hervorming daarvan tot die Suid-Afrikaanse Polisiediens het meer aandag geniet as dag-tot-dag-polisiëring (Burger 2019).1 Hierdie leemte was langdurig omrede meer klem op die oorgang en politieke stabiliteit gelê is as op effektiewe polisiëring (Burger 2019).

Nog ’n rede vir die toename in misdaad ná 1994 was verouderde polisiëringstegnieke en -metodes. Rauch (2000:1) is van mening dat die SAPD se verouderde polisiëringstegnieke in die begin van die 1990’s gedeeltelik toe te skryf is aan die internasionale isolasie van die apartheidsregering.

4.2 Die polisiëring van vragmotorkapings sedert 1996 

Polisiëring was in die verlede meestal reaktief en gebaseer op geskiedkundige data (statistiek) wat soms 18 maande oud was. Misdaadinsidente is tot ses maande ná ’n volledige boekjaar deur misdaadontleders verbonde aan die SAPD saamgevoeg en ontleed voordat die statistiek bekend gemaak is. Eers dán het ’n misdaadprobleem vir die publiek aan die lig gekom. Soos genoem, was polisiëring in die verlede reaktief – die polisie het eers nadat misdade aangemeld is, ondersoek ingestel. Moderne polisiëring, daarenteen, is proaktief – polisiëringsdienste word daagliks ingelig oor die nuutste misdaadtendense, misdaad word ontleed en voorkomende maatreëls en ondersoeke word ingestel om dit te voorkom of in die kiem te smoor. Sodanige inligtingsgedrewe polisiëring staan ook as intelligensiegedrewe of getuienisgebaseerde polisiëring bekend. Die SAPD rapporteer ongelukkig nie hoe gereeld misdaadintelligensie ten opsigte van vragmotorkapings tans aan speurders beskikbaar gestel word nie. Misdaadintelligensie word egter steeds slegs jaarliks (gewoonlik in September) aan die publiek beskikbaar gestel, insluitende die privaat polisiëringsdienste – met dieselfde nadelige uitwerking as in die verlede.

Daar is heelwat verwarring in die internasionale literatuur oor misdaadintelligensie-ontleding enersyds en misdaadinligting-ontleding andersyds. In verskeie bronne word glad nie tussen hierdie begrippe onderskei nie. Milne (2013:1–2) maak die meerduidigheid in “forensies” en “intelligensie” af as semantiese verskille. In die laaste tyd word misdaadintelligensie-ontleding beskryf as “ontleding met die klem op die misdadiger (persoon)”, en misdaadinligting-ontleding as “ontleding met die klem op die misdaad (insident)” (Santos 2017:97–102). Insgelyks is daar ook verskeie benamings vir misdaadintelligensie. Krause (2015:2) meld die verskillende benamings vir misdaadintelligensie en voer aan dat misdaadintelligensie die produk van bevestigde misdaadinligting is. 

Alhoewel misdaadinligting en misdaadintelligensie ook voor die 1990’s versamel is, was dit beperk tot spesifieke misdaadvoorvalle wat aangemeld en ondersoek is. Die rede was dat misdaadinligting en -intelligensie met die hand versamel en verwerk moes word. Dit het verander met die koms van rekenaars en sagteware (Milne 2013:9–12). Die Amerikaanse Departement van Justisie en die Amerikaanse Justisieburo, in samewerking met die Internasionale Vereniging vir Polisiehoofde, wys in hulle verslag met die titel “Intelligence-led policing: The new intelligence architecture” op die ironie dat alhoewel intelligensie reeds voor 2001 algemeen in die bekamping van misdaad beskikbaar was, polisiedienste dit eers ná die terreuraanvalle in Amerika op 11 September 2001 elke dag begin gebruik het (Peterson 2005:vii–viii).

Misdaadinligting- en misdaadintelligensie-ontleding ondersteun intelligensiegedrewe polisiëring, gefokuste polisiëring, “compstat” (computer statistics of comparative statistics), probleemgerigte polisiëring, die polisiëring van misdaadbrandpunte (hotspots), getuienisgerigte polisiëring (bewys van sukses en oorsaaklikheid wat deur navorsing bevestig word) (evidence-based policing) en voorspellende ontledings (predictive analytics). Al hierdie polisiëringsbenaderings is afhanklik van misdaadinligting en misdaadintelligensie, en ressorteer onder intelligensiegedrewe polisiëring. Die basis van intelligensiegedrewe polisiëring is onlangse misdaadinligting en misdaadintelligensie op grond waarvan optrede beplan kan word. Internasionaal word intelligensiegedrewe polisiëring beskou as ’n eietydse polisiebestuursmodel waarvolgens misdaadintelligensie of misdaadontleding gebruik word om misdaad te laat verminder of te voorkom. Dit behels strategieë wat op die oortreder konsentreer (Santos 2017:435).

Die eerste fase in die ontstaan van intelligensiegedrewe polisiëring was die ontwikkeling van Compstat deur die New York City Police Department in die vroeë 1990’s. Sedertdien vorm dit deel van die DNS2 van groot polisiedienste (Police Executive Research Forum 2013:vii; Milne 2013:12,19). Compstat is ’n rekenaargebaseerde inligtingstelsel wat polisiehoofde in staat stel om deur middel van misdaadinligtingontleding op hoogte te bly van die nuutste misdaadpatrone in polisiëringsgebiede met die oog op voorkomende polisiëring (Police Executive Research Forum 2013:2). 

Intelligensiegedrewe polisiëring en inligtingstelsels het sedert die gebruik van Compstat internasionaal posgevat. Navorsing het tot nuwe modelle vir intelligensiegedrewe polisiëring gelei. In die tydperk 2000 tot 2004 het die Verenigde Koninkryk (VK) volgens sy National Intelligence Model (NIM) misdaadintelligensiegedrewe ontledings van misdaadinligting gedoen en probleemgerigte polisiëring aan die hand van statistieke onderneem in ’n poging om misdaadintelligensiegedrewe polisiëring te bedryf (Milne 2013:12). Probleemgerigte polisiëring is ’n stelselmatige benadering van misdaad deur misdaadprobleme uit te wys, te ontleed en aan te pak, en die polisie se vordering daarmee te evalueer (Santos 2017:438).

Die SAPD het in 1995 begin om intelligensiegedrewe polisiëring te implementeer (Govender 2012:83). Die Suid-Afrikaanse regering en SAPD het in 1996 besef dat nuwe benaderings nodig is om veral geweldsmisdaad en gewapende rooftogte te bekamp. Verskeie inisiatiewe is geloods om dit te verwesenlik (Burger 2018). Hierdie benaderings is geïmplementeer en met verloop van tyd verfyn. Nuwe inisiatiewe is onder verskillende operasionele benamings van stapel gestuur (Burger 2018). Die SAPD het gesteun op strategieë wat op gefokuste polisiëring aan die hand van misdaadinligting en -intelligensie en hoëvlakbestuursingryping berus (Burger 2018). 

Die oorskakeling na nuwe polisiëringsmetodes is ’n geleidelike proses en polisiebeamptes het dit, soos dikwels met enige nuwe proses die geval is, teengestaan. Weerstand teen verandering kom betreklik algemeen in polisiedienste wêreldwyd voor. Flood (2004:40) beskryf die aanvanklike teësinnigheid van polisiemagte om inligting in te samel en te ontleed en as intelligensiegedrewe polisiëring toe te pas (en in 2004 – ’n jaartal wat deel vorm van die fokustydperk van hierdie artikel, nog ’n nuwe benadering [eie byvoeging]). Gevolglik was intelligensiegedrewe polisiëring teen 2010 in Suid-Afrika steeds nie ten volle in werking gestel nie (Zinn 2010:121; Mashiloane 2014:231–2).

 

5. Die belang van gemeenskapspolisiëring

Aanvanklik is polisiëring deur gemeenskappe self behartig, maar geleidelik is persone in die gemeenskappe formeel aangestel (“staatspolisie”) om polisiëring namens gemeenskappe uit te oefen. Die eerste aanstellings van staatspolisie in Engeland was waarskynlik in 1066 (Anon. 2020). In Afrika is polisiëring voor kolonisering ook deur plaaslike gemeenskappe uitgeoefen (Hills 1997:291–308; Chukwuma 2001; Baker 2008:5; Mwale 2017; Nwankwo 2010). (Zanzibar is in 1503 gekoloniseer, en die meerderheid ander lande in Afrika ná die 1800’s.) In Suid-Afrika is die Burgher Watch – ook bekend as die Burgher Wardmasters of Wijkmeesters – in ongeveer 1790 ingestel in wat vandag bekend staan as die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Lochner 2020:51).

In die laat 1980’s het die beskouing dat die gemeenskap vir misdaadvoorkoming van die polisie afhanklik is, begin verander. Volgens die nuwe (hernude) beskouing is die polisie en die gemeenskap vennote in misdaadvoorkoming (Oppler 1996:3). In die verre verlede (wisselend in verskillende wêrelddele soos hier bo bespreek) het vrywilligers immers die wêreld oor polisiëring bedryf, nie die staatspolisie nie (Wakefield en Button 2014:572). “Staatspolisie” in Suid-Afrika is ’n versamelnaam vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens, insluitende die Direktoraat vir Prioriteitmisdaadondersoeke asook munisipale en metropolisie aangestel kragtens die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Nr. 68 van 1995. Alhoewel die munisipale en metropolisie ook verantwoordelik is vir misdaadbekamping, beskik hulle nie oor die bevoegdheid om misdaad te ondersoek nie. 

Die vernuwende benadering om misdaad in samewerking met die gemeenskap te bekamp is genoodsaak deur die beperkte sukses van die polisie om misdaad op hulle eie te bekamp selfs met die beskikbare gevorderde tegnologie; die polisie se aandrang op meer hulp; die gemeenskap se aandrang op groter polisiesigbaarheid; kommer oor die gebrek aan objektiwiteit by die polisie tydens ondersoeke; en die polisie se vyandige gesindheid teenoor die publiek (Santos 2017:84–5). 

Burger (2018) is van mening dat suksesvolle polisiëringsbenaderings dikwels reeds dekades in gebruik is voordat dit deur wetenskaplikes ontleed word. Dit wek verkeerdelik die indruk dat dit nuwe polisiëringsbenaderings is. Edwards (2011:330) noem dat die basiese aspekte van polisiëring, afgesien van die gebruik van tegnologie, die afgelope 200 jaar weinig verander het. In aansluiting hierby het die Verenigde Nasies reeds in 1991 in ’n konvensie oor misdaadvoorkoming en die behandeling van misdaadslagoffers ’n resolusie aanvaar dat die gemeenskap, die openbare sektor, insluitend die polisie, en ander rolspelers hulle kragte moet saamsnoer om die oorsake van misdaad te pak (Verenigde Nasies 1991). Hierdie benadering kom neer op wat vandag as “gemeenskapspolisiëring” bekendstaan.

Gemeenskapspolisiëring word beskryf as ’n vennootskap tussen die polisie en die gemeenskap in die breë om veiligheidsverwante probleme in ’n polisiëringsgebied die hoof te bied (Pelser 1999:4; Mashiloane 2014:223; Bezuidenhout 2011:12–3; Santos 2017:66). 

Blair (2005), Bratton (2007:1) en die Verenigde Nasies se buro vir dwelms en misdaad (United Nations Office on Drugs and Crime 2013) beklemtoon die belangrikheid van vennootskappe tussen die gemeenskap en polisie in probleemgerigte polisiëring en misdaadvoorkoming. Dit sluit in vennootskappe tussen organisasies, owerhede, gemeenskapsorganisasies, nieregeringsorganisasies, die sakesektor en privaat persone. Randol en Gaffney (2014) wys op die toenemende besef dat die polisie sonder die gemeenskap se bydrae misdaad nie effektief kan beheer nie. 

Die SAPD het in die 1990’s ook begin om ’n gemeenskapsgeoriënteerde benadering te volg (Rauch 2000:8). Hoewel gemeenskapspolisiëring in 1993 kragtens die Tussentydse Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 200 van 1993, formeel deel van polisiëring gemaak is, het verskeie faktore die implementering daarvan bemoeilik (Pelser 2000). Die amptelike erkenning van gemeenskapspolisiëring het die weg gebaan vir vennootskappe tussen die polisie en die publiek of belangegroepe, byvoorbeeld organisasies wat die vervoerbedryf verteenwoordig. Die amptelike status wat aan gemeenskapspolisiëring verleen is, het die polisie gedwing om hierdie belangegroepe inspraak in polisiëring en die bekamping van misdaad te gee. Terselfdertyd het dit gemeenskappe bemagtig om aan die bekamping van misdaad deel te neem. Misdaadbekamping was nie meer die verantwoordelikheid of mandaat van alleen die polisie nie. Internasionale ondervinding het geleer dat gemeenskapspolisiëring en gesamentlike optrede teen misdaad slaag mits die polisie die leiding neem en die optrede van alle rolspelers koördineer (Edwards 2011:125).

Gemeenskapspolisiëring word sedert 1998/1999 ingespan om vragmotorkapings in Suid-Afrika te bekamp. Die rol van privaat organisasies en die SAPD in die bekamping van vragmotorkapings word hier onder elk in meer besonderhede belig.

5.1 Die rol van privaat organisasies in die bekamping van vragmotorkapings

Die Padvragvereniging van Suid-Afrika verteenwoordig sy lede se belange in verskeie aangeleenthede, insluitende sekerheid sedert 1975 (Padvragvereniging 2020). Aangesien probleme met polisiëring ná 1994 toegeneem het, het die privaat sekerheidsbedryf op eie houtjie begin om misdaad te voorkom en te ondersoek, misdaadinligting in te win en tot misdaadintelligensie te verwerk. Hierdie vermoë het in ’n betreklik kort tyd met rasse skrede gegroei. Die privaat sekerheidsbedryf is een van die burgerlike elemente van die konsep polisiëring.

Dat polisiëring (wat nie met die funksie van “staatspolisie” verwar moet word nie) ook deur burgerlikes bedryf word, word deur Baker (2008:5) voorgestaan. Hy noem dit “meerkeusepolisiëring”. Dit beteken dat gewone burgers in die daaglikse lewe in ruimtes beweeg wat deur byvoorbeeld sekuriteitswagte beveilig word. Burgers kan dus kies na wie hulle hul vir beskerming wend. Volgens Baker (2008:5) is polisiëring die georganiseerde aktiwiteit van staats- en openbare groepe wat die openbare orde deur misdaadvoorkoming, afskrikking en ondersoek handhaaf. Polisiëring behels dus misdaadbestryding deur enersyds die staat deur middel van ’n polisiediens en andersyds die burgerlike samelewing deur middel van privaat sekerheidsdienste. Dit kom neer op ’n oorvleueling van dienste deur verskillende diensverskaffers (Baker 2008:27). Die stig en bedryf van privaat sekerheidsdienste moet beskou word as die pogings van individue, gemeenskappe en organisasies of maatskappye om misdaad te bestry. 

Met die term sekerheidsbedryf word in die omgang gewoonlik slegs privaat sekerheidsmaatskappye bedoel. Berg (2007) wys daarop dat Suid-Afrika wat die omvang en invloed daarvan betref oor een van die snels groeiende privaat sekerheidsbedrywe ter wêreld beskik. Volgens Van Graan (2016) het die Suid-Afrikaanse privaat sekerheidsbedryf in 2016 uit 440 000 geregistreerde sekuriteitsbeamptes en 9 000 sekerheidsbesighede bestaan. In die Private Security Industry Regulatory Authority (PSIRA) se 2018/2019-jaarverslag rapporteer dié reguleringsliggaam dat 534 289 sekerheidsbeamptes in Suid Afrika in diens was in die betrokke rapporteringsjaar (PSIRA 2019). Die gevolg is dat Suid-Afrika vandag oor ’n uitgebreide, gevorderde privaat polisiëringsbedryf beskik (De Beer 2018).3

Spesialisering kom in die sekerheidsbedryf voor. Sommige privaat maatskappye spesialiseer in die ondersoek van misdaad of ander insidente. Hierdie afdeling van die privaat polisiëringsbedryf noem hulleself “forensiese ondersoekers” (Benson, Jones, Horne 2015:5). Dit is om hulle van sekuriteitsdienste deur wagte in uniform te onderskei, en om hulle van die slegte naam wat privaat speurders of onbekwame speurders in die SAPD het, te distansieer. Die privaat polisiëringsbedryf word egter deur dieselfde wetgewing, naamlik die Private Security Industry Regulation Act, Nr. 56 van 2001, gereguleer. 

Ofskoon die privaat polisiëringsbedryf in Suid-Afrika op intelligensiegedrewe polisiëring aangewese is, word die term intelligensie nie in die bedryf gebruik nie. Die rede is dat die Direktoraat vir Spesiale Ondersoeke (die Skerpioene) afgeskaf is omdat die Skerpioene die wet na bewering sou oortree het deur “intelligensie” in te samel (Kanyegirire 2008). Hiermee is die indruk gewek dat “intelligensie” data oor vyande in die spioenasiewêreld is wat op ’n onreëlmatige of omstrede wyse bekom is. Internasionaal heers die wanopvatting ook soms dat intelligensie na geheime inligting oor vyande in militêre intelligensie verwys (Santos 2017:4). Weens die misvatting dat die insameling van intelligensie die alleenmandaat van sekere staatsdepartemente is, is die gebruik van hierdie term in die privaat sekerheidsbedryf nie gewens nie. Die misplaaste veroordeling van die Skerpioene het die gebruik van die term intelligensie in Suid-Afrika ’n polities sensitiewe woord gemaak. Gevolglik word dit in die privaat sekerheidsbedryf eerder inligting genoem.

In werklikheid is misdaadintelligensie die wetenskaplike ontleding van misdaadinligting om polisiëring te ondersteun (Santos 2017:34–5). Die internasionale opvatting is dat misdaadintelligensie ontledings is wat op misdadigers konsentreer, en nie op misdaad in die algemeen nie. Daarby is dit ook nie op militêre intelligensie gerig nie (Santos 2017:4).

5.2 Spesialisering in die bekamping van vragmotorkapings 

Sekuriteit in die internasionale vervoerbedryf word gekenmerk deur spesialissekuriteitsdienste en diensverskaffers, gevorderde tegnologie en voortdurende vernuwing (Burns 2016:231–71). Die vragmotorvervoerbedryf in Suid-Afrika het ’n gespesialiseerde privaat sekerheidsbedryf met forensiese ondersoekers tot stand gebring om ’n spesialisdiens aan die vervoerbedryf te lewer. Hierdie sekerheids- en forensiese vermoë bestaan onder andere uit forensiese personeel verbonde aan vervoermaatskappye, privaat maatskappye wat spesialiseer in die lewering van sekerheidsdienste aan die vervoerbedryf, asook organisasies waaraan die forensiese ondersoekers en privaat sekerheidsmaatskappye behoort. Onder hierdie oorkoepelende organisasies tel die Transported Asset Protection Association (TAPA) (https://www.tapa-global.org), die National Road Transport Associations (NRTAs) (http://www.fesarta.com/page/national-road-transport-associations-nrtas) en die Padvervoervereniging (RFA) (http://www.rfa.co.za/RFA/index.php/en). Hulle bevorder die belange van die bedryf, reël kongresse, stel minimum operasionele standaarde en internasionale netwerke daar, bied lidmaatskap aan, en verskaf geakkrediteerde opleiding. Hierdie organisasies het ten doel om die vervoerbedryf asook die vervoersekerheidsdienste te professionaliseer en aan standaarde te laat voldoen.

Hierdie sekerheids- en forensiese vermoë het ná die skerp toename in vragmotorkapings in die begin van die 1990’s momentum gekry. Die vervoerbedryf was bereid om die nodige vermoë te skep, uit te brei en, belangriker nog, te finansier (Du Venage 2018). Die verskerpte privaat polisiëring het swaar gesteun op samewerkingsvennootskappe tussen vervoermaatskappye en die SAPD. Alle privaat polisiëringsinisiatiewe sedert 1998/1999 berus hoofsaaklik op intelligensiegedrewe polisiëring. Dit is danksy die volgende: ’n behoorlike databasis van vragmotorkapinginsidente; ’n wetenskaplike ontleding van vragmotorkapers, vragmotorkapinginsidente en risikofaktore; die bestuur van probleemgerigte polisiëring; die aantoon van vragmotorkapingbrandpunte; voorkomende, oftewel proaktiewe metodes en afskrikking (byvoorbeeld die gebruik van tegnologie om die roete van ’n vragmotor te monitor – enige afwyking van die roete of roetine kan op ’n kaping of ’n sameswering van personeel tot ’n kaping dui); en navorsing om die dinamika van vragmotorkapings beter te verstaan. 

In navorsing oor vragmotor- en ander motorvoertuigkapings wat in 2003 vrygestel is, en waarin die modus operandi van vragmotorkapers ontleed is, is bevind dat werknemers kapers dikwels ingelig het oor die roetes wat gevolg en die vrag wat vervoer sou word (Zinn 2003:240, 441). Alhoewel die verslag eers in 2003 gepubliseer is, is die bevindings reeds sedert 2000 met die onderskeie rolspelers en die SAPD bespreek. Hierdie bevestigde inligting het die privaat forensiese rolspelers in staat gestel om integriteitmetingsinstrumente te gebruik om hierdie medepligtiges grotendeels uit te skakel.

Die misdaadinligting- en misdaadintelligensievermoë van die sekerheids- en forensiese rolspelers is aangevul deur die byhou van akkurate databasisse en intelligensieprodukte soos sagtewarepakkette wat die ontleding van databasisse optimaliseer. Een voorbeeld is die produkte van Online Intelligence, ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat in 2001 tot stand gekom het en oor die hele Afrika-kontinent takke het (http://www.onlineintelligence.co.za). 

Die privaat forensiese ondersoekers het ’n gevorderde ondersoekvermoë ontwikkel deur meestal oudspeurders van die SAPD te werf. Hulle kon ondanks die wetlike beperkinge wat privaat persone opgelê word, in samewerking met die SAPD gevorderde ondersoeke doen. Hieruit het ’n bedryf voortgespruit wat tegnologies gevorderde toerusting vervaardig soos dié wat speurders internasionaal gebruik. Misdaadtonele kan met geoutomatiseerde 360°-kartering geprosesseer word om latente bewyse op te spoor. Danksy die nuutste verpakkingsmateriaal kan bewysstukke na behore verpak, verseël en geëtiketteer word om dit teen kontaminasie te beskerm. Die besitskontinuïteit kan sodoende getrou gehandhaaf word ter voldoening aan die toelaatbaarheidsvereistes vir bewysstukke vir ’n hofsaak. Voorbeelde van hierdie produkte is The Ethemba Forensic (https://www.ethemba.co.za/products), OCC | Plasto-Sac SA (https://occsa.co.za/plastics/site/about) en Mega Fortris (https://www.megafortris.co.za/about-us/overview). Die tegnologie van die privaat sekerheidsbedryf bly ook in pas met die nuutste tegnologiese vooruitgang en verandering in die modus operandi van vragmotorkapers. Voorbeelde van die nuutste tegnologie en vermoë van die privaat sekerheidsbedryf is die produkte en dienste van Pulsit Electronics (https://www.pulsit.co.za), die helikopters van die Bidvest Protea Coin Sekerheidsgroep wat toegerus is met die nuutste observasietoerusting, en hommels wat oor groot afstande kan vlieg. Die observasietoerusting en hommels maak dit moontlik om misdaadtonele of die beweging van verdagtes onopsigtelik te observeer, of om hoëresolusiefoto’s tydens observasie te neem (https://www.proteacoin.co.za/services/airwing-drones). Volgens Du Venage (2018), die voorsitter4 van die Transported Asset Protection Association-werksgroep in Suid Afrika, is die belangrikste redes vir die relatiewe beheer oor vragmotorkapings die tegnologie wat die privaat sekerheidsbedryf inspan, die kundigheid van die bedryf in misdaadvoorkoming, en die snelle reaksie van sekerheidseenhede ná ’n vragmotorkaping. 

Alhoewel die vragvervoerbedryf reeds vanaf die 1990’s oor van hierdie sekerheids- en forensiese kapasiteit beskik het, was die bedryf aanvanklik betreklik klein. Bowendien was die SAPD nie vir ’n vennootskap te vinde nie, ten spyte daarvan dat die beginsel van gemeenskapspolisiëring reeds in die polisie se nuwe benadering gegeld het. (Gemeenskapspolisiëring is trouens deur die Tussentydse Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Nr. 200 van 1993, voorgeskryf.) Marks, Shearing en Wood (2009) is van mening dat die SAPD aan die gedagte vasgeklou het dat hulle ’n monopolie oor polisiëring het en daarom onwillig was om die verantwoordelikheid vir veiligheid te deel. Aangesien misdaadvoorkoming deur slegs die privaat sekerheidsbedryf nie op lang termyn effektief was nie, het die privaat sekerheidsbedryf alleen nie ’n genoegsame en blywende voorkomingsuitwerking op vragmotorkapings gehad nie (voor 1998/1999). Die grootste oorsaak van die mislukking was die gebrek aan die polisie se magte in die bekamping en ondersoek van misdade wat deur die privaat sekerheidsbedryf onderneem is. Die privaat sekerheids-/forensiese bedryf kon nie verdagtes in hegtenis neem en/of ondervra nie (benewens die beperkte magte wat ’n privaat individu het om iemand in hegtenis te neem). Hulle was nie by magte om persele vir bewysstukke of gesteelde vrag te deursoek nie, en hulle het ook geen aandeel in die vervolging van verdagtes gehad nie. Slegs aan polisiebeamptes verleen die wet uitgebreide magte vir inhegtenisname met en sonder ’n lasbrief, deursoeking, aanhouding en ondervraging. Dat privaat sekerheidsdienste met polisiëring help, verminder nie die staat en polisie se pligte ten opsigte van inhegtenisname, aanhouding, ondersoeke en vervolging nie (Baker 2008:183).

Schutte5 (2018) voer aan dat misdaadintelligensie selfs in die polisie meestal oneffektief is as daar nie ’n (speur)eenheid is wat op misdaadintelligensie reageer en inhegtenisnemings uitvoer en vervolging moontlik maak nie. Die gevonniste kapers met wie onderhoude tussen 2000 en 2003 en daarna weer in 2019 en 2020 gevoer is, het te kenne gegee dat misdaadvoorkoming, inhegtenisname of dissiplinêre stappe weens medepligtigheid aan vragmotorkapings vir hulle min of geen afskrikwaarde het nie (Zinn 2003, 2019, 2020). Hulle het laat blyk dat slegs inhegtenisname gevolg deur skuldigbevindings en langtermynvonnisse afskrikwaarde het (Zinn 2003:396; Zinn 2020:veldnotas). Dit kom daarop neer dat die polisie, en veral speurders, onontbeerlik in misdaadbekamping is. 

Die SAPD en die privaat sekerheidsbedryf het egter sedert 1998/1999 begin saamwerk, en volgens alle aanduidings het dit tot ’n langtermyn afname in vragmotorkapings bygedra.

 

6. Die rol van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die bekamping van vragmotorkapings 

Met die promulgering van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Nr. 68 van 1995, en die totstandkoming van die SAPD op 4 Oktober 1995, het die polisie se speurdiens oor ’n spesialiseenheid vir kapings en ander voertuigverwante misdade beskik (Burger 2015:5). In 2000 was daar drie SAPD-spesialismotorkapingsondersoekeenhede (Burger 2015:7). Die SAPD het terselfdertyd oor ’n misdaadintelligensie-eenheid beskik wat veronderstel was om intelligensie oor vragmotorkapings te versamel.

In ’n onderhoud het afgetrede generaal-majoor Sharon Schutte (2018) uitgewei oor die rol en waarde van spesialisondersoekeenhede asook die geskiedenis van die spesialisvragmotorkapingseenheid van die SAPD wat deel was van die motorkapingsondersoekeenheid. Die onderhoud met Schutte was rigtinggewend; dit het die onderskeie deelnemers aan die studie help bepaal en het gestalte gegee aan die kronologiese volgorde van optrede deur die SAPD onder bespreking in die artikel.

Die skerp toename in onder andere vragmotorkapings in die laat 1990’s het die SAPD genoop om buitengewone stappe te doen.

Die destydse speurhoof, kommissaris Johan de Beer, het in ongeveer 1998 aan Martin Naudé,6 destyds direkteur (gelykstaande aan die rang van ’n brigadier) opdrag gegee om vragmotorkapings as ’n spesiale projek te bestuur (De Beer 2018; Schutte 2018). Die projek is uit ’n spesialisondersoekeenheidperspektief benader. Die klem was op taktiese misdaadintelligensie wat uit misdaaddossiere bekom kon word en as getuienis in ’n hof aangebied kon word. Dit is nie uit die oogpunt van misdaadintelligensie-eenhede wat op koverte (geheime) en overte optredes en slegs inligting gerig was, benader nie (Schutte 2018).

Naudé het hom onderskei as ’n strateeg wat met ’n skerp ontleding van misdaadinligting, nuttige misdaadintelligensie en praktiese optrede skitterend leiding gegee het (Schutte 2018). Ten tye van die stigting van die spesiale projek was Schutte ’n meer junior lid van die SAPD as Naudé en het sy onder sy bevel gedien in die vragmotorkapingprojek. Schutte het op 1 Maart 2002 met haar bevordering tot die rang van assistentkommissaris (gelykstaande aan die rang van ’n generaal-majoor) die hoof geword van die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid. Naudé het gevolglik as direkteur aan haar gerapporteer. Hy het aangebly as bevelhebber van die vragmotorkapingsprojek en onder die toesig van Schutte die bestuur van die projekspan se operasionele aksies behartig (Schutte 2018).

In opdrag van Naudé is al die provinsiale verteenwoordigers van die speurders wat vragmotorkapings ondersoek het, saamgeroep. ’n Vragmotorkapingsforum is met die oog op onderlinge raadpleging op nasionale vlak geskep. Indien ’n speurder ’n groot aantal vragmotorkapingsdossiere ondersoek het, is hy of sy van tyd tot tyd vir die vragmotorkapingsforum gekoöpteer. Lede van die SAPD-misdaadintelligensie-eenheid is ook vir die vragmotorkapingsforum aangewys. 

Uit ’n ontleding van die taktiese misdaadintelligensie en -inligting blyk dit volgens Schutte 2018 dat:

  • die speurders oor aansienlik meer misdaadintelligensie beskik het as wat in die dossiere aangeteken is, maar dat dit nie noodwendig op inhegtenisnames uitgeloop het nie
  • die speurders nie die misdaadintelligensie (“korporatiewe kennis”) waaroor hulle beskik het, onderling uitgeruil het nie (ook genoem as rede deur De Beer 2018)
  • speurders die sake wat hulle ondersoek het, self wou oplos; daarom het hulle inligting “teen die bors gehou”
  • speurders self deurbrake wou maak en die erkenning daarvoor wou kry (“wou nie dat iemand hulle jam steel nie”)
  • inligting wat reeds oor die misdaad bekom is, onvolledig in die dossier aangeteken is (die byhou van ’n ondersoekdagboek in die dossier word deur die SAPD vereis; die rede vir die gebrekkige boekstawing was die laksheid van speurders om fyn besonderhede aan te teken soos wat ’n ondersoek vorder). 

Die onwilligheid van speurders om inligting met mekaar en met misdaadintelligensiebeamptes uit te ruil word dikwels in die literatuur genoem (Eterno en Roberson 2015:14; Gehl en Plecas 2019; Derencinovic en Getos, 2007:79–112). Speurders en misdaadontleders huldig verskillende sienings oor misdaad, en soms kommunikeer speurders nie met misdaadontleders oor misdaadprobleme nie tensy hulle beveel word om dit te doen (Milne 2013:15–6). Daar is ook ’n persepsie dat beamptes mekaar se inligting gebruik om inhegtenisnames uit te voer en ten onregte die eer daarvoor te kry (De Beer 2018). Du Venage (2018) wys daarop dat talle Suid-Afrikaanse maatskappye wat misdaadinligting oor vragmotorkapings insamel, dit ongelukkig ook nie met mekaar of die polisie deel nie, en dat dit nie die gesindheid van TAPA se lede in Europa is nie. 

Alhoewel spesialis-motorvoertuigkapingondersoekeenhede bestaan het, was hulle oor verskillende provinsies verspreid. Daarom dat hulle grotendeels in afsondering van mekaar gefunksioneer het. Op die nasionale vragmotorkapingforum het geblyk dat provinsiale belange voorkeur geniet het (Schutte 2018; Naudé 2018; De Beer 2018). Die provinsiale kommissarisse was van oordeel dat hulle ingevolge die Grondwet en volgens ’n “federale benadering” aangestel is en gevolglik net na hulle eie provinsies se polisiëringsbehoeftes hoef om te sien. Bowendien het hulle in die waan verkeer dat hulle volgens die federale benadering outonomie geniet (Schutte 2018). Hieruit kan afgelei word dat die provinsiale kommissarisse geglo het dat vragmotorkapings in ’n ander provinsie of oor provinsiale grense heen hulle nie aangegaan het nie. Dit was “hoofkantoor se probleem”. Hulle het eerder aandag gegee aan die misdade in hulle eie provinsies “wat hulle sleg kon laat lyk” (Schutte 2018). Die opvatting dat op slegs sekere plaaslike prioriteitsmisdade konsentreer moet word (omdat dit in die plaaslike bestuur se belang is), hou gewoonlik negatiewe gevolge vir misdaadbekamping in (Milne 2013:7). De Beer (2018) beweer dat daar bo en behalwe die klem op plaaslike belange ook wedywering tussen die SAPD se speurdiens en die misdaadintelligensie-eenheid geheers het. Dit het tot minder samewerking gelei. Die bietjie misdaadinligting wat aangeteken is, was nie gesentraliseer nie, en min kon dit dus gebruik. Gevolglik is min aandag aan vragmotorkapings geskenk, en is min planne gemaak en hulpbronne ontwikkel om die probleem aan te pak.

Du Venage (2018) wys daarop dat misdadigers eenvoudig hulle bedrywighede na ’n ander provinsie of gebied verskuif as provinsiale misdaadintelligensie of ’n taakspan die wêreld vir hulle warm maak. Dit stem ooreen met die rasionelekeuseteorie waarvolgens misdadigers op grond van hulle beoordeling van die verwagte risiko’s en opbrengs besluit om ’n misdaad te pleeg of nie (Santos 2017:43).

Hierdie opvattings van provinsiale kommissarisse het tot gevolg gehad dat ’n hoër gesag vragmotorkapings tot ’n prioriteitsmisdaad moes verklaar en sodoende samewerking in die bekamping daarvan moes bewerkstellig (De Beer 2018; Schutte 2018). Naudé (2020) wys daarop dat die “onafhanklikheid” tussen provinsies “afgebreek” moes word om samewerking te bewerkstellig. Kommissaris7 André Pruis, ’n adjunk- nasionale kommissaris van die polisie, het as voorsitter van die SAPD se destydse Nasionale Misdaadbekampingsforum (National Crime Combating Forum) (NCCF) in ’n amptelike instruksie op nasionale vlak prioriteit aan vragmotorkapings verleen. Dit het volgens Schutte (2018) die nodige spierkrag aan die werksaamhede van die vragmotorkapingsprojek gegee. Pruis se toetrede en bestuurstyl het ruimte verleen vir kreatiwiteit in die polisiebeamptes se benadering om vragmotorkapings te bekamp (Naudé 2020). Daarmee is die bekamping van vragmotorkapings amptelik as Operation Road Runner teen ongeveer 1998/1999 geregistreer (die projek het tot ongeveer 2003 voortbestaan). Naudé (2018) voer aan dat samewerking tussen die SAPD se provinsiale kantore en ’n nasionale, holistiese benadering die rede vir die welslae van Operation Road Runner en ’n soortgelyke projek (Operation Greed) vir transitorooftogte was. Hy verwys daarna as die vermoë om die “game plan” aan die provinsiale kommissaris te kon “verkoop”.

Die polisierolspelers in die forum is in ’n projekspan opgeneem en gelas om alle misdaadinligting oor die kapings saam te voeg en te ontleed. Hieruit kon die projekspan ’n plan van aksie opstel.

Die projekspan se bespreking en ontleding van die vragmotorkapings het aangedui dat misdaadintelligensiebeamptes en diegene wat vragmotorkapingsake in verskillende gebiede ondersoek het, oor heelwat misdaadintelligensie (oor die oortreders) en misdaadinligting (oor insidente) beskik het (Schutte 2018). 

Die ontleding het voorts aangetoon dat tallose vragmotorkapings waarskynlik deur dieselfde persone en sindikate gepleeg word (Schutte 2018; De Beer 2018). Dat dieselfde persone herhaaldelik oor ’n lang tyd motors en vragmotors gekaap het, strook met die antwoorde van gevonniste oortreders wat in studies gerapporteer is. In twee studies in Suid-Afrika het motorvoertuig- en vragmotorkapers verklaar dat hulle gemiddeld vyf jaar lank misdadigers was en gemiddeld 105 misdade gepleeg het toe hulle die eerste keer in hegtenis geneem is (Zinn 2003:380–1; Zinn 2020, veldnotas). Dit het verskeie misdade, maar ook vragmotorkapings ingesluit.

Schutte (2018), Naudé (2018) en Burger (2018) beklemtoon dat die welslae in die bekamping van vragmotorkapings, transito- en bankrowe nie noodwendig met nuwe polisiëringstrategieë behaal is nie. Dit kan eerder daaraan toegeskryf word dat ’n doelgerigte plan opgestel en geïmplementeer is, dat die proses na behore bestuur is en dat hulpbronne op ’n behoorlik gedefinieerde misdaadprobleem toegespits was. Die oorskakeling na misdaadintelligensiegedrewe polisiëring vereis gewoonlik nie ’n ingewikkelde bedryfstelsel of onderneming (enterprise) nie (Milne 2013:184).

Die SAPD se projekspan het ook met die Padvragvereniging misdaadinligting en -intelligensie bespreek. Die Padvragvereniging het onderneem om deur hulle vragvervoermaatskappylede veral die samespanning van werknemers met kapers teen te werk. Stappe is ook deur vragvervoermaatskappye gedoen om personeel te keur, roetes en vragmotorbestuurders te roteer om samespanning te belemmer, en om veilige of beveiligde oornag- of rusplekke op lang roetes aan te dui (De Beer 2018). Gevonniste vragmotorkapers het die risiko as vragmotorbestuurders oornag parkeer of langs die pad passasiers oplaai, bevestig (Zinn 2003:177).

Die hoëvlaksamewerking tussen die SAPD (direkteur Naudé en assistentkommissaris Schutte) en die Padvragvereniging het die waarde van gemeenskapspolisiëring onderstreep. Dit het egter gevolg eers nadat gesaghebbende bestuursbevoegdhede daaraan verleen is. ’n Vereiste van intelligensiegedrewe polisiëring is gereelde (as dit nodig is, selfs daaglikse) vergaderings wat deur alle rolspelers bygewoon word. Volgens Milne (2013:59–60) bly alle rolspelers sodoende op die hoogte van die nuutste misdaadintelligensie en kan hulle uit hulle onderskeie spesialisgebiede insette gee om die misdaadintelligensie so effektief moontlik te laat werk. Naudé en Schutte het hierdie benadering van gereelde vergaderings met die projekspan toegepas (Schutte 2018). Praktiese polisiëringsplanne wat deur die projekspan en die privaat sekerheidsbedryf ontwerp en geïmplementeer is, het tot die suksesvolle polisiëring van vragmotorkapings gelei. Daar was ’n skerp afname in die aantal gerapporteerde sake (Schutte 2018). Hierdie afname in die 1998/1999-boekjaar tot 2003/2004 beloop 85,31%; met ander woorde, van 6 134 tot 901 aangemelde sake (ISS 2004).

’n Verdere vereiste vir die suksesvolle bekamping van vragmotorkapings was die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se aanwysing van senior staatsadvokate om leiding aan die ondersoekbeamptes te gee (Naudé 2018). Advokaat Jan Henning, indertyd ’n senior bestuurder by die NVG, het die vervolging van vragmotorkapingsake laat prioritiseer. Sake teen vragmotorkapers is vroeër op die rol geplaas. Dit het die weg gebaan vir spesialisaanklaers (advokate van die Hoër Hof) in die vervolging van vragmotorkapers. Hierdie advokate, en by name advokaat Andrea Johnson, het in die vervolging van vragmotorkapers gespesialiseer. Advokaat Johnson het ook leiding gegee in ondersoeke ná aanklagte van georganiseerde misdaad teen die vragmotorkapers, en in hoe sodanige aanklagte vir die verhoor bygevoeg moet word (Naudé 2018). De Beer (2018) is oortuig dat die multidissiplinêre konteks waarin die projekspan saamgewerk het, aan die speurders en aanklaers die geleentheid gebied het om die lede van misdaadintelligensie aan te sê om inligting oor spesifieke misdade te versamel en na uitstaande getuienis te help soek. De Beer (2018) is van mening dat hierdie werkwyse ook in alledaagse polisiëring behoort te geld. 

Die SAPD-projekspanlede het opdrag gekry om direk aan direkteur Naudé verslag te doen. Die vragmotorkapingprojekspan het op ’n gereelde basis werkswinkels en vergaderings gehou wat samewerking tussen die rolspelers bevorder het. Volgens Naudé (2020) het Godfrey Lebeya, die huidige hoof van die Valke, met die rang van luitenant-generaal, destyds deel gevorm van die projekspan en baie daartoe bygedra om samewerking tussen die rolspelers te bevorder. Die samewerking deur die multidissiplinêre projekspan het daarop uitgeloop dat afdoende intelligensie en selfs getuienis teen die kapers bekom kon word. Die deurslaggewende faktor was die gesaghebbende bestuursmagte wat nasionaal bindend was van direkteur Naudé (en later assistentkommissaris Schutte) (wat adjunk- nasionale kommissaris Pruis aan hulle oorgedra het) om die rolspelers in ’n multidissiplinêre spesialisondersoekeenheid saam te snoer en hulle intelligensiegedrewe optrede te magtig en te koördineer. Daarsonder was probleemgerigte en intelligensiegedrewe polisiëring onmoontlik. 

Die rolspelers wat reeds oor misdaadinligting, misdaadintelligensie of getuienis beskik het, het niks gedoen nie, omdat betreklik junior en operasionele beamptes nie oor die bevoegdheid beskik het om probleemgerigte polisiëring in ’n uitgestrekte gebied met etlike polisiëringswyke (precincts) toe te pas nie. Hierdie beamptes het nie die bevoegdheid gehad om die grootskaalse polisieoptredes te beplan en uit te voer nie. Veral het hulle nie die gesag gehad om gemeenskappe of privaat organisasies by gesamentlike optredes te betrek nie. Die betreklik junior polisiebeamptes het ook nie oor die bevoegdheid beskik om die NVG by die vragmotorkapingsondersoeke te betrek nie. Junior en middelvlakbestuurders wat nie na behore opgelei is nie, en nie met die nodige gesag beklee is nie, is ’n probleem wat ook in ander polisiedienste voorkom (Edwards 2011:304–7).

Die speurders, speurtakke, spesialisvragmotorkapingseenhede, provinsiale kantore en die SAPD-misdaadintelligensie-eenhede het ook nie as ’n eenheid saamgewerk nie. Daarby het die senior provinsiale bestuur nie die nodigheid ingesien om vragmotorkapings te prioritiseer nie (Schutte 2018; Naudé 2018). 

Die multidissiplinêre spesialisprojekspan is bestuur op ’n wyse wat samewerking sonder dwang bevorder het. Die oogmerk was om alle individue en eenhede te laat voel dat hulle ’n gemeenskaplike doel nastreef. Lede en eenhede landswyd is saamgesnoer. Verklarings is (opnuut) by slagoffers en getuies afgeneem om te verseker dat alle inligting oor ’n insident bekom word. Volledige misdaadinligting is ontleed en tot akkurate, taktiese misdaadintelligensie verwerk. Daar is besef dat baie voertuigkapings met mekaar verband hou, en dat werknemers en vragmotorkapers saamwerk. Hierbenewens was daar ’n geïntegreerde nasionale databasis oor vragmotorkapings; ’n netwerk van beriggewers; behoorlike, deurlopende boekstawing van alle inligting; gekoördineerde optrede; behoorlike en gereelde terugrapportering aan die eenheid; en die erkenning van suksesse of bydraes (Schutte 2018; De Beer 2018). Volgens Schutte (2018) was daar ’n gedeelde trots en dryfkrag by die spesialisprojekspan te bespeur. ’n Nuwigheid in daardie tyd was die ontleding van selfoondata, wat bygedra het tot die eenheid se sukses (Schutte 2018; Naudé 2018). Die monitering van vragmotors danksy GPS-tegnologie en kameras in vragmotors is ook al hoe meer in misdaadvoorkoming aangewend (De Beer 2018).

Geld uit die SAPD se intelligensie-eenheid is aangewend om koverte en overte optredes en hulpbronne vir die multidissiplinêre spesialiseenheid te befonds (Naudé 2018).

De Beer (2018) voer aan dat buitengewoon hoë misdaadvlakke nie met konvensionele polisieoptrede bekamp kan word nie. Spesiale projekte en taakspanne wat saamwerk en oor ekstra hulpbronne beskik, is hiervoor nodig. Fondse kan beskikbaar gestel word selfs deur privaat organisasies wat lid van die gesamentlike taakspan is (De Beer 2018). Die bestuur van misdaadprobleme verg ook die vermoë om genoegsame misdaadinligting te bekom sodat ’n ontluikende misdaadprobleem betyds uitgewys kan word (oorskryding van die normale drempel én die gepaste reaksie daarop). Vennote moet hulle persoonlike voorkeure ondergeskik stel aan die gemeenskaplike oogmerk en die optrede van die projekspan (De Beer 2018).

Die gevolgtrekking is dat die suksesvolle inwerkingstelling van intelligensiegedrewe polisiëring in ’n groot mate van gesaghebbende bestuur afhanklik is, en dat vennootskappe tussen die polisie, die vervolgingsgesag en die privaat sektor deurslaggewend is vir misdaadvoorkoming op lang termyn.

 

7. Die herstrukturering van die Suid-Afrikaanse Polisiediens

In 2001 is met die herstrukturering van die spesialismisdaadondersoekeenhede begin. Dit sou ongeveer 10 jaar duur. Die spesialiseenhede is verminder of afgeskaf as deel van polisiekommissaris Jackie Selebi se benadering tot polisiëring. In sommige gevalle was herstrukturering binne die polisiediens nodig aangesien spesialiseenhede se werksaamhede van tyd tot tyd hersien behoort te word om hulle relevansie en effektiwiteit te bepaal (Burger 2018; Schutte 2018).

Die herstrukturering het aanvanklik baie veranderings geverg, maar later gelei tot die sluiting van die meeste van die spesialis eenhede. Du Venage (2018) is van mening dat die vragmotorkapingspesialiseenheid (“trokkapingseenheid” volgens die polisiebeamptes) een van die heel eerste spesialiseenhede was wat (tussen 2000 en 2002) sonder opgaaf van ’n geloofwaardige rede gesluit is. Begin 2006 is al drie die spesialismotorkapingsondersoekeenhede gesluit. Die ondersoekeenheid vir ernstige geweld het daarna kapings ondersoek as ’n slagoffer geskiet is of as dit geblyk het dat die kaping onder moontlike misdaadbedreiging (crime threat) of georganiseerde misdaadbedreiging (organised crime threat) ressorteer (Burger 2015:9 en 17). Die orige vragmotorkapings is deur gewone speurtakke ondersoek.

Hierdie ontwrigting en latere sluiting van die spesialiseenhede het die vermoë van die SAPD ernstig ingekort, ook wat die bekamping van vragmotorkapings aanbetref (Du Venage 2018; Naudé 2018). Du Venage, ’n voormalige polisiebeampte, wys daarop dat die polisiëring van vragmotorkapingsindikate uiters moeilik is, omrede intelligensie oor die leiers van die sindikate nouliks bekombaar is. Intelligensie oor die middelvlakleiers en “veldwerkers” van sindikate is veel geredeliker bekombaar. Dit was volgens Du Venage (2018) ook die geval met die vragmotorkapings gedurende die ondersoektyperk van hierdie artikel, ten spyte daarvan dat polisiebeamptes in die intelligensie- en spesialiseenhede goed opgelei was. Een van die nadele van die afskaffing van die spesialiseenhede was dat beriggewernetwerke tot niet gegaan het. ’n Netwerk van beriggewers wat op ’n spesifieke misdaad konsentreer, moet gereeld betaal word. As ’n spesialiseenheid tot niet gaan, word hulle nie meer vergoed nie (Schutte 2018). Kundige ondersoekers het vanweë uitplasing na gewone speurtakke of ander algemene polisievertakkinge die polisiediens verlaat (Du Venage 2020).

Die nuwe benadering was dat taakspanne gevorm sou word wanneer misdaadprobleme in die afwesigheid van spesialisondersoekeenhede sou ontstaan (De Beer 2018). Polisiëring deur middel van taakspanne of projekte kan gesien word as ’n vorm van probleemgerigte polisiëring. Die nadeel van probleemgerigte polisiëring is dat daar eers nadat die misdaad gepleeg is, ingegryp word. Waar ’n taakspan slegs deur misdaadintelligensie-eenhede bedryf is, is dit “projekte” genoem. De Kock8 (2019) wys daarop dat misdaadintelligensie-eenhede wat as projekspanne operasies uitvoer, maklik die stelsel kan uitbuit en fondse kan wanaanwend as gevolg van die geheime aard en geslotenheid daarvan. Schutte (2018) staan krities teenoor hierdie misdaadintelligensieprojekte, en is van mening dat hulle van min waarde is vir speurders wat getuienis nodig het om sake in ’n hof te bewys. Dit is egter noodsaaklik om ’n onderskeid te tref tussen die tipes misdaadintelligensie, naamlik strategiese, operasionele en taktiese misdaadintelligensie, wat deur verskillende persone in misdaadintelligensie gelewer kan word.

Die rede vir die oorskakeling na taakspanne was dat ’n taakspan of projek sou ontbind sodra die spesifieke misdaad opgelos is (De Beer 2018). Die probleem was dat die taakspan se kundigheid en doeltreffendheid so verlore sou gaan (De Beer 2018; Schutte 2018; Burger 2018). ’n Spesialiseenheid is om verskeie ander redes effektief, byvoorbeeld die kameraderie onder, die samewerking tussen en die ondersteuning van die lede van so ’n eenheid; die opbou van spesialiskundigheid oor tyd; die instudering van tersaaklike wetgewing; die opdoen van kennis oor die werking van howe tydens verhore; die spesialiskennis waarmee misdaadtonele geprosesseer word; die persoonlike ontwikkeling wat funksionering op ’n gevorderde professionele vlak meebring; eienaarskap deur beheer oor die misdade wat deur die eenheid ondersoek word; respek vir en erkenning van individue se spesialiskennis en vaardighede; hoër standaarde in ondersoeke en die byhou van dossiere; die ontwikkeling van selftrots; minder dossiere en meer tyd vir ondersoek; die aanwending van spesialiskennis tydens onderhoude met klaers, getuies en verdagtes; kennis van die nuutste modus operandi en gepaardgaande misdaadondersoektegnieke in die betrokke veld; en gereelde skakeling tussen spesialiseenhede (Schutte 2018). 

Die inkorting van die SAPD se vermoë weens die afskaffing van die vragmotorkapingspesialiseenhede is waarskynlik die rede vir die toename in vragmotorkapings vanaf 2004/2005 (Burger 2018; Schutte 2018; Naudé 2018). Dat vragmotorkapings nie in dieselfde mate as voor 1998/1999 toegeneem het nie, is waarskynlik te danke aan die privaat sekerheidsbedryf wat vragmotorkapings met tegnologie en moderne polisiëring bekamp.

Dit is egter moeilik om wetenskaplik te bepaal of daar ’n oorsaaklikheid of slegs ’n korrelasie is tussen die stigting van die spesialisvragmotorkapingsprojek onder leiding van direkteur Naudé en assistentkommissaris Schutte, die beduidende afname in vragmotorkapings vanaf 1998/1999, en die toename in vragmotorkapings nadat hierdie spesialiseenheid teen 2002 gesluit is. Daar is wel deskundiges wat meen dat daar ’n oorsaaklike verband is tussen intelligensiegedrewe polisiëring en misdaadverandering. Milne (2013:13) byvoorbeeld redeneer dat daar ’n oorsaaklikheid was tussen ’n afname in misdaad en die implementering van intelligensiegedrewe polisiëring en die geoutomatiseerde identifikasie van vingerafdrukke in die VK en San Francisco, en tussen die totstandkoming van ’n nasionale DNS-databasis in Engeland en Wallis. Milne (2013:242) gee te kenne dat hy, ná 40 jaar in die metropolitaanse polisiediens in Londen, oortuig is dat daar inderdaad ’n oorsaaklike verband tussen intelligensiegedrewe polisiëring en ’n afname in misdaad is. 

De Kock (2019) voer aan dat die afname in die getal vragmotorkapings in die SAPD se statistiek deels toegeskryf kan word aan die aansuiwering van misdaadstatistiek oor kapings in die fokustydperk van 1998/1999 tot 2003/2004. Dit kom daarop neer dat ’n onderskeid getref is tussen ’n gekaapte bakkie en ’n gekaapte vragmotor. In die verlede is die kaap van ’n bakkie soms as ’n vragmotorkaping en nie as ’n motorvoertuigkaping nie aangeteken. Burger (2018) is van mening dat hoewel die hersiening van die definisie ’n invloed op die vragmotorkapingstatistiek in hierdie artikel kon gehad het, dit nie die enigste rede vir die beduidende afname in vragmotorkapingstatistiek was nie. Hy wys daarop dat ander rolspelers in die SAPD onder leiding van ’n prioriteitskomitee ’n soortgelyke geïntegreerde, multidissiplinêre benadering van transito- en bankrowe gevolg het in min of meer die tyd toe vragmotorkapings afgeneem het (1998/1999 tot 2003/2004). Die senior personeel in die prioriteitskomitee het waarskynlik gesag aan die inisiatief verleen. Burger is verder van mening dat die samewerking tussen misdaadintelligensie en speurders deels die rede vir die sukses van al hierdie inisiatiewe was.

 

8. Gevolgtrekking 

Alle deskundiges wat in hierdie artikel aangehaal is, is dit in mindere of meerdere mate eens dat daar ’n oorsaaklike verband is tussen die verandering in die getal vragmotorkapings en die ingryping van die spesialisvragmotorkapingseenheid onder leiding van direkteur Naudé en assistentkommissaris Schutte. Volgens hulle is dit nie ’n toevallige korrelasie nie. Die rede is die hegte verband tussen die inwerkingstelling en die uitwerkingstelling van die spesialisprojekspan en die ooreenstemmende verandering in die voorkoms van vragmotorkapings. Hierdie ooreenstemmende afname en toename is dus bewys dat die verandering eerder oorsaaklik as toevallig is. ’n Verdere bewys is dat hierdie tendens in vragmotorkapings wat oor etlike jare gemeet is, ’n beduidende verandering ná 1998 en ná 2004 toon, en dat die vragmotorkapingsyfer in die tydperke buite hierdie tydgleuf konstant gebly het. Verder sou ’n wysiging van die definisie van vragmotor waarskynlik in een jaar ’n variasie of ’n regstelling in vragmotorkapingstatistiek tot gevolg gehad het, maar nie oor vier jaar nie. Die data dui daarop dat vragmotorkapings van 1998/1999 tot 2003/2004 hoogs waarskynlik afgeneem het danksy die probleemgerigte en effektiewe, gesaghebbende bestuur van misdaadintelligensiegedrewe en gekoördineerde inisiatiewe deur alle belanghebbendes.

Die realiteit is dat oorsaaklikheid in misdaadbekamping moeilik deur kwantitatiewe navorsing alleen bepaal kan word, en dat daar in ’n groot mate op kwalitatiewe navorsing gesteun moet word. In hierdie artikel berus die evaluering van die sukses al dan nie van die vragmotorkapings meestal op kwalitatiewe oorwegings.

Dit is belangrik dat die SAPD intelligensiegedrewe polisiëring toepas en spesialismotorkapingsondersoekeenhede herinstel. Navorsing het immers die doeltreffendheid van hierdie benaderings bewys. Volgens die gegewens in hierdie artikel moet polisiëring geskied aan die hand van onlangse misdaadinligting en ontleding, die vroegtydige identifisering van toenemende misdaad, vennootskappe met alle relevante rolspelers, en die deurlopende, effektiewe, gesaghebbende bestuur van misdaadintelligensie en die inwerkingstelling daarvan. Dieselfde polisiëringsbenadering moet gevolg word om van die huidige hoë vlakke van motorkapings en ander rowe werk te maak.

Polisiëring bestaan uit die stappe wat die polisie en die gemeenskap saam doen. Die insluiting van die gemeenskap by polisiëring verg ’n veranderde gesindheid by die SAPD. Dit strook met Wakefield en Button (2014:582) se mening dat privaat polisiëring weer ’n kernrol in die bekamping van misdaad te speel het.

 

Bibliografie

Anon. 2020. Police: History. Early policing in England. https://law.jrank.org/pages/1638/Police-History-Early-policing-in-England.html#ixzz6QCuU8v2f (23 Junie 2020 geraadpleeg).

Baker, B. 2008. Multi-choice policing in Africa. Stockholm: Elanders Gotab AB.

Barak, G. (red.). 2000. Crime and crime control: A global view. Westport: Greenwood Press.

Benson, B., G. Jones en J. Horne. 2015. Forensic investigation of crime, irregularities and transgressions. In Zinn en Dintwe (reds.) 2015.

Berg, J. 2007. The accountability of South Africa’s private security industry: Mechanisms of control and challenges to effective oversight. Kaapstad: Criminal Justice Initiative of the Open Society Foundation for South Africa. https://www.researchgate.net/publication/258788433_The_Accountability_of_South_Africa's_Private_Security_Industry_Mechanisms_of_Control_and_Challenges_to_Effective_Oversight (30 Oktober 2019 geraadpleeg).

Bezuidenhout, C. 2011. Sector policing in South Africa: Case closed … or not? Pakistan Journal of Criminology, 3(2&3).

Blair, I. 2005. Transcript of Sir Ian Blair’s speech. http://news.bbc.co.uk/2/hi/uk_news/4443386.stm (21 September 2015 geraadpleeg). 

Bratton, W. 2007. The unintended consequences of September 11th. Policing, 1:21–4.

Burger, J. 2015. No-man’s-land. The uncertain existence of SAPS specialised investigative units. Institute for Security Studies ISS Paper 283.

Burns, M.G. 2016. Logistics and transportation security : A strategic, tactical, and operational guide to resilience. Boca Raton: CRC.

Chukwuma, I. 2001. Police transformation in Nigeria: Problems and prospects. Referaat gelewer by die Crime and Policing in Transitional Societies-konferensie, 30 Augustus – 1 September 2000, Suid-Afrika, http://www.kas.de/proj/home (23 Junie 2020 geraadpleeg).

Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming & Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering. Kyk Department of Rural Development and Land Reform & Department Planning, Monitoring and Evaluation.

Departement van Omgewingsake. Kyk Department of Environmental Affairs.

Department of Environmental Affairs. 2014. Freight shift from road to rail. https://www.environment.gov.za/sites/default/files/docs/publications/freightshift_roadtorail.pdf (14 Oktober 2019 geraadpleeg). 

Department of Rural Development and Land Reform & Department Planning, Monitoring and Evaluation. 2019. Draft national spatial development framework. https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/202002/draftnsdf20jan2020-compressed.pdf (23 Junie 2020 geraadpleeg).

Derencinovic, D. en A. Getos. 2007. Cooperation of law enforcement and intelligence agencies in prevention and suppression of terrorism: European perspective. Revue internationale de droit pénal, 78(1–2):79, 112. https://www.cairn.info/revue-internationale-de-droit-penal-2007-1-page-79.htm# (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Edwards, C. 2011. Changing policing theories for 21st century societies, 3de uitgawe. Leichhardt: Federation.

Eterno, J.A. en C. Roberson. 2015. The detective’s handbook. Boca Raton: CRC Press. 

Flood, B. 2004. Strategic aspects of the UK National Intelligence Model. In Ratcliffe (red.) 2004. 

Gehl, R. en D. Plecas. 2019. Introduction to criminal investigation: Processes, practices and thinking. https://pressbooks.bccampus.ca/criminalinvestigation/chapter/chapter-1 (21 Oktober 2019 geraadpleeg).

Govender, D. 2012. Information management strategies to combat crime and prevent losses. Acta Criminologica, 25(1):83.

Gray, D.E. 2014. Doing research in the real world. Londen: Sage.

Hills, A. 1997. Policing, enforcement and low intensity conflict. Policing and society, (7):291–308.

Howarth, K. 2014. Connecting the dots: Liberal peace and post-conflict violence and crime. Progress in Development Studies, 14(3):261–73.

Institute for Security Studies. 2004. National crime statistics by crime type: Truck hijacking (subcategory of aggravated robbery) – National. https://issafrica.org/crimehub/facts-and-figures/crimehub/crime-trends-1994-to-2004/crimehub/national-crime-statistics-by-crime-type#truckjacking (14 Oktober 2019 geraadpleeg).

Instituut vir Sekerheidstudies. Kyk Institute for Security Studies.

Kanyegirire, A. 2008. Investigating the investigators, A summary of the Khampepe Commission of Inquiry. Pretoria: Institute for Security Studies. https://issafrica.org/01-jun-2008-sacq-24/01-jun-2008-investigating-the-investigators-a-summary-of-the-khampepe-commission-of-inquiry-andrew-kanyegirire (17 Oktober 2019 geraadpleeg).

Krause, A. 2015. Forensic investigation II: Forensic crime intelligence. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika. 

Lochner, H.T., J.S. Horne en R.J. Zinn. 2020 (Ter perse). Investigation: A comprehensive guide to the basic principles, procedures and forensic processes. Kaapstad: Juta. 

Marks, M., C. Shearing en J. Wood. 2009. Who should the police be? Finding a new narrative for community policing in South Africa. Police Practice and Research, 10:145–55.

Mashiloane, N.P. 2014. The use of intelligence led policing in crime prevention by the South African Police Service. Doktorale tesis, Universiteit van Suid-Afrika. 

Maxwell, J.A. 2005. Qualitative research design. An interactive approach, 2de uitgawe. Thousand Oaks: Sage.

Milne, R. 2013. Forensic intelligence. Boca Raton: CRC. 

Mwale, E. 2017. Traditional policing superior to colonial style. https://www.thepatriot.co.zw/author/emergency-mwale/page/3/ (5 Augustus 2018 geraadpleeg).

Nwankwo, P.O. 2010. Criminal justice in the pre-colonial, colonial, and post-colonial eras. An application of the colonial model to changes in the severity of punishment in the Nigerian Law. Lanham: University Press of America.

Online Intelligence. 2019. Online intelligence at a glance. http://www.onlineintelligence.co.za (17 Oktober 2019 geraadpleeg).

Oppler, S. 1996. Best practice guide to local partnership policing. Pretoria: Institute for Security Studies. 

Padvragvereniging. Kyk Road Freight Association. 

Pelser, E. 1999. The challenges of community policing in South Africa. Occasional Paper No. 42. Pretoria: Institute for Security Studies.

—. 2000. An overview of community policing in South Africa, Annex C in policy guidance on support to policing in developing countries. Clegg, I. R. Hunt en J. Whetton, University of Wales, Swansea. https://gsdrc.org/document-library/an-overview-of-community-policing-in-south-africa (15 Oktober 2019 geraadpleeg).

Peterson, M. 2005. New realities, law enforcement: Intelligence-led policing: The new intelligence architecture. U.S. Department of Justice, Office of Justice Programs: Washington, DC.

Police Executive Research Forum. 2013. Compstat: its origins, evolution, and future in law enforcement agencies. Washington, DC: Police Executive Research Forum. https://www.bja.gov/publications/perf-compstat.pdf (15 Oktober 2019 geraadpleeg).

Private Security Industry Regulatory Authority. 2019. Jaarverslag: 2018/2019. https://www.psira.co.za/dmdocuments/PSiRA%20Annual%20Report%202019.pdf (29 September 2020 geraadpleeg).

PSIRA. Kyk Private Security Industry Regulatory Authority. 

Randol, B.M. en M. Gaffney. 2014. Are block watch volunteers different than volunteers in community-oriented policing programs? Findings from a mature COPS setting. Police Practice and Research, 15:234–48. 

Ratcliffe. J.H. (red.). 2004. Strategic thinking in criminal intelligence. Sydney: Federation Press.

Rauch, J. 2000. Police reform and South Africa’s transition. Referaat aangebied by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede. http://www.csvr.org.za/docs/policing/policereformandsouth.pdf (18 Oktober 2019 geraadpleeg).

Reisig, M.D. en R.J. Kane (reds.). 2014. The Oxford handbook of police and policing. New York: Oxford.

Republiek van Suid-Afrika. 1993. Die Tussentydse Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 200 van 1993. Pretoria: Staatsdrukker.

Road Freight Organisation. 2020. Looking after the road freight industry. http://www.rfa.co.za/RFA/index.php/en/ (24 Junie 2020 geraadpleeg).

Sanral. 2020. Statistics. https://www.nra.co.za/live/content.php?Category_ID=35 (25 Junie 2020 geraadpleeg).

Santos, R.B. 2017. Crime analysis with crime mapping, 4de uitgawe. Los Angeles, Londen, New Delhi, Singapoer, Melbourne, Washington, DC: Sage. 

SAPD (Suid-Afrikaanse Polisiediens). 2019. Crime Statistics 2018/2019. https://www.saps.gov.za/services/crimestats.php (30 Oktober 2019 geraadpleeg).

Schönteich, M. en A. Louw. 2001. Crime in South Africa: A country and cities profile. Occasional Paper No 49. Pretoria: Institute for Security Studies. https://issafrica.org/uploads/paper49.pdf (2 Augustus 2013 geraadpleeg).

United Nations Office on Drugs and Crime. 2013. Guidelines for the prevention of crime ECOSOC resolution 2002/13. Vienna: Economic and Social Council. https://www.unodc.org/documents/justice-and-prison-reform/crimeprevention/resolution_2002-13.pdf (30 Oktober 2019 geraadpleeg).

United Nations. Kyk Verenigde Nasies. 

U.S. Embassies abroad. 2019. South Africa rail infrastructure. https://www.export.gov/article?id=South-Africa-rail-infrastructure (23 Oktober 2019 geraadpleeg).

Van Graan, J. 2016. Multi-sector cooperation in preventing crime: The case of a South African Neighbourhood Watch as an effective crime prevention model. Police Practice and Research, 17(2):136–48. https://www.researchgate.net/publication/289570733_Multi-sector_cooperation_in_preventing_crime_the_case_of_a_South_African_Neighbourhood_Watch_as_an_effective_crime_prevention_model (30 Oktober 2019 geraadpleeg).

Verenigde Nasies. 1991. Proceedings of the 8th United Nations Congress on the Prevention of Crime and the Treatment of Offenders, 27 August 1991 – 7 September 1991, Havana. New York: United Nations Secretariat.

Wakefield, A. en M. Button. 2014. Private policing in public spaces. In Reisig en Kane (reds.) 2014. 

Wojciech, C. en E. Plywaczewski. 2000. Poland, developing nation-state. In Barak (red.) 2000. 

Zinn, R. en S. Dintwe (reds.). 2015. Forensic investigation: Legislative principles and investigative practice. Kaapstad: Juta.

Zinn, R.J. 2003. Sentenced motor vehicle hijackers imprisoned in Gauteng as a source of crime intelligence. M.Tech.-verhandeling, Technikon SA.

—. 2008. Incarcerated perpetrators of house robbery as a source of crime intelligence. Doktorale tesis, Universiteit van Suid-Afrika.

—. 2010. Home invasion: Robbers disclose what you should know. Kaapstad: Tafelberg. 

—. 2011. Inaugural address. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

—. 2020. Ongepubliseerde veldnotas geneem tydens onderhoude met 49 veroordeelde rowers in Vrystaatse Korrektiewe Sentrums.

 

Onderhoude

Burger, J. 2018. Onderhoud met die skrywer, 7 Augustus 2018.

—. 2019. Opvolgonderhoud met die skrywer, 22 Oktober 2019.

De Beer, J. 2018. Onderhoud met die skrywer, 6 Augustus 2018,

De Kock, J. 2019. Onderhoud met die skrywer, 22 Oktober 2019.

Du Venage, A. (Voorsitter van die Transported Asset Protection Association-werksgroep in Suid-Afrika). 2018. Onderhoud met die skrywer, 2 Augustus 2018.

—. 2020. Opvolgonderhoud met die skrywer, 29 Junie 2020.

Naudé, M.J. 2018. Onderhoud met die skrywer, 3 Augustus 2018

—. 2020. Opvolgonderhoud met die skrywer, 26 Junie 2020.

Schutte, S. 2018. Onderhoud met die skrywer, 1 Augustus 2018.

 

Eindnotas

1 Johan Burger is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Hy is ’n afgetrede generaal-majoor van die SAPD (hy het in 2004 afgetree), waar hy vir strategiese bestuur en leiding verantwoordelik was. Burger word gereeld in die media oor polisieaangeleenthede geraadpleeg. As konsultant is hy betrokke by die evaluering van polisiëring in Suid-Afrika en Namibië.

2 DNS is die afkorting vir deoksiribonukleïensuur.

3 Johan de Beer is ’n voormalige divisiekommissaris (nasionale hoof) van die speurdiens van die SAPD met die rang van luitenant-generaal. De Beer het ná sy aftrede by die SAPD in November 2007 as senior bestuurder by Tyco International plc (Suid-Afrika) gewerk.

4 Andre Du Venage is sedert 2012 die voorsitter van die Transported Asset Protection Association-werksgroep (chapter) in Suid-Afrika.

5 Sharon Schutte is in Maart 2002 bevorder tot assistentkommissaris (gelykstaande aan die rang van generaal-majoor, die huidige benaming) en aangestel as nasionale hoof van die Ernstige-en-Geweldsmisdaadeenheid. In November 2006 is sy aangestel as die hoof van die Hoëtegnologie-Projeksentrum van die SAPD-speurdiens wat in Augustus 2009 by die Direktoraat vir Spesiale Ondersoeke (die Skerpioene) ingelyf is. Van Februarie 2010 tot Februarie 2011 was sy hoof van die ondersoekeenhede vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe met die rang van generaal-majoor. Sy het in Februarie 2011 by die SAPD afgetree.

6 Martin Naudé het in 2009 as brigadier afgetree.

7 Gelykstaande aan die rang van luitenant-generaal in die SAPD.

8 Chris de Kock is in Augustus 1995 in die SAPD aangestel as assistentkommissaris (gelykstaande aan die rang van generaal-majoor) in die hoedanigheid van hoof van die Misdaadinligtingsanalisesentrum. Hy het in Mei 2013 by die SAPD afgetree.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Polisiëringsbestuurstrategiëe in intelligensiegedrewe ingrypings: vragmotorkapings as gevallestudie appeared first on LitNet.

Policing management strategies in intelligence-driven interventions: truck hijacking as a case study

$
0
0

Abstract

The research design was determined primarily by the intellectual goal of understanding how the intelligence-driven policing management strategies were effective in combating truck hijacking during the period 1998/1999 to 2003/2004. The central underlying question is how management by intelligence-driven policing management strategies was causal in significantly reducing the number of reported truck hijackings.

The methodology used was based on one-on-one interviews with deliberately selected, knowledgeable former senior officers of the South African Police Service (SAPS) who were responsible for combating crime from 1998/1999 to 2003/2004. In addition, an interview with a senior representative of the private security industry who combats truck hijacking was conducted. 

Reported truck hijackings decreased by 85,31% from 1998/1999 to 2003/2004. This significant decrease was unique compared with the rest of the crimes reported by the SAPS in their annual statistics. The truck hijackings reported to the SAPS increased again from 901 to 1 182 cases in 2018/19. This is a percentage point increase of 31,18% (SAPS 2019). Despite the increase since 2003/2004, the number of reported incidents (1 182 cases in 2018/2019) is relatively low (19,27% compared with 1998/1999’s figure) compared with the 1998/1999 figure of 6 134 reported cases. 

Despite the principle of community policing already applied in the police’s new approach, the SAPS was not open to finding a partnership. Marks, Shearing and Wood (2009) believe that the SAPS clung to the notion that they had a monopoly on policing and were therefore unwilling to share the responsibility for security.

The sharp increase in, among others, truck hijackings in the late 1990s forced the SAPS to take extraordinary steps.

In about 1998 the then detective chief, Commissioner Johan de Beer, instructed Martin Naudé, then director (equivalent to the rank of a brigadier) to manage truck hijackings as a special project (De Beer 2018; Schutte 2018). The emphasis was on tactical crime intelligence that could be obtained from crime files and presented as evidence in court.

As the chair of the SAPS’s then National Crime Combating Forum (NCCF) Commissioner André Pruis, a deputy national commissioner of police, prioritised truck hijacking in an official instruction at national level. This, according to Schutte (2018), gave the necessary muscle power to the operations of the truck hijacking project. With that, the fight against truck hijacking was officially registered as Operation Road Runner by about 1998/1999 (the project continued until about 2003). Naudé (2018) argues that collaboration between the SAPS provincial offices and a national, holistic approach was the reason for the success of Operation Road Runner. He referred to it as the ability to “sell” the game plan to the provincial commissioners. 

The police role players in the forum were included in a project team and instructed to compile and analyse all crime information about the hijackings. From this, the project team was able to draw up a plan of action. 

The project team’s discussion and analysis of truck hijackings indicated that crime intelligence officers and those investigating truck hijacking cases in various areas and provinces had a great deal of crime intelligence (the offenders) and crime information (incidents) (Schutte 2018).

An analysis of the tactical crime intelligence and information showed that the detectives did not exchange the crime intelligence among themselves and also not with members of crime intelligence, and that information that had already been obtained was recorded incompletely in the dossier (Schutte 2018). 

The reluctance of detectives to exchange information with one another and with crime intelligence officers is often mentioned in the literature. Detectives and crime analysts have different views on crime, and sometimes detectives do not communicate with crime analysts about crime problems unless instructed to do so.

The analysis further indicated that numerous truck hijackings are likely to be committed by the same persons and syndicates (Schutte 2018; De Beer 2018). That the same persons repeatedly hijacked cars and trucks over a long period of time is consistent with the answers of sentenced offenders reported in scientific studies in South Africa. 

The SAPS and the private security industry started working together in 1998/1999 on Operation Road Runner, and according to all indications this contributed to a reduction in truck hijackings. 

The SAPS project team, as part of the collaboration in partnership with the private industry, discussed the crime information and intelligence with the Road Freight Association. The Road Freight Association undertook to counteract the collusion of employees with hijackers through their freight transport companies. Steps were taken by freight companies to vet staff, rotate routes and truck drivers to impede collusion, and to indicate safe or secure overnight or rest locations on long routes (De Beer 2018). 

A significant decline in the number of reported cases soon followed (Schutte 2018). This decrease in the 1998/1999 financial year to 2003/2004 amounts to 85,31%.

At the time of Operation Roadrunner, Advocate Jan Henning, then a senior manager at the National Prosecuting Authority, prioritised the prosecution of truck hijacking cases. Cases against truck hijackers were put on the roll as soon as possible. This paved the way for specialist prosecutors (advocates of the High Court) in the prosecution of truck hijackers.

De Beer (2018) is convinced that the multidisciplinary context in which the project team worked provided detectives and prosecutors with the opportunity to tell crime intelligence members to gather information on specific crimes and to search for outstanding evidence. De Beer (2018) believes that this approach should apply in everyday policing as well. 

The cooperation of the multidisciplinary project team resulted in conclusive intelligence and even evidence against the hijackers. The decisive factor was the authoritative management powers of Director Naudé (and later Assistant Commissioner Schutte) to join the role players in a multidisciplinary specialist investigation unit and to authorise and coordinate their intelligence-driven actions. Without it, problem-focused and intelligence-driven policing was impossible.

It was realised that many vehicle hijackings were related and that employees and truck hijackers work together. In addition, there was an integrated national truck hijacking database; a network of reporters; proper, continuous recording of all information; coordinated action; proper and regular feedback to the unit; and recognition of successes or contributions (Schutte 2018; De Beer 2018).

Money from the SAPS Intelligence Unit was used to fund covert and overtime activities and resources for the multidisciplinary specialist unit (Naudé 2018).

De Beer (2018) argues that exceptionally high crime rates cannot be countered by conventional police action. Special projects and task teams that work together and have extra resources are needed for this.

The conclusion is that the successful implementation of intelligence-driven policing is to a large extent dependent on authoritative management. Also, partnerships between the police, the prosecuting authority and the private sector are crucial for crime prevention in the long term.

However, it is difficult to determine scientifically whether there is a causal relationship or only a correlation between the establishment of the specialist truck hijacking project led by Director Naudé and Assistant Commissioner Schutte, the significant decline in truck hijackings since 1998/1999, and the increase in truck hijackings after this specialist unit was closed by 2002. There are, however, experts who believe that there is a causal link between intelligence-driven policing and crime change. Milne (2013:13), for example, argues that there was a correlation between a decline in crime and the implementation of intelligence-driven policing and the automated identification of fingerprints in the UK and San Francisco, and between the establishment of a national DNA database in the UK and Wales.

All experts cited in this article agree, to a greater or lesser extent, that there is a causal relationship between the change in the number of truck hijackings and the intervention of the specialist truck hijacking unit. According to them this is not an accidental correlation. The reason is the close relationship between the implementation and the ending, again, of the specialist project team and the corresponding change in the incidence of truck hijackings. Thus this corresponding decrease and increase are evidence that the change is causal rather than accidental. Further evidence is that this trend in truck hijackings measured over several years showed a significant change after 1998 and after 2004, and that the truck hijacking rate remained constant during the periods outside this time slot. The data indicates that truck hijacking decreased due to the problem-oriented and effective, authoritative management of crime intelligence-driven and coordinated initiatives by all stakeholders.

The reality is that causality in the fight against crime can hardly be determined by quantitative research alone, and that qualitative research must be relied on to a large extent. In this article, the evaluation of the success (or not) of truck hijacking is based mainly on qualitative considerations. 

Keywords: authoritative management; community policing; crime information analysis; crime intelligence analysis; crime intelligence; intelligence-led policing; policing; problem-orientated policing; robbery with aggravating circumstances; truck hijacking

 

Lees die volledige artikel in Afrikaans

Polisiëringsbestuurstrategiëe in intelligensiegedrewe ingrypings: vragmotorkapings as gevallestudie

The post Policing management strategies in intelligence-driven interventions: truck hijacking as a case study appeared first on LitNet.

Graad 5: Afrikaans Huistaal – vraestelle en memorandums

$
0
0

Foto: Pixabay

 

"Dikwels beskryf mense ’n geselligheid met die woorde: 'Dit was nou vir jou ’n fees!' Min mense besef egter hoe ’n belangrike rol feeste in die mens se lewe en in die samelewing speel." Jou graad 5-Afrikaans Huistaal-hersiening kan ook sommer ’n fees wees. Laai gratis vraestelle en memo’s hier af.

Hier is ’n gratis oefenvraestel en memorandum vir Afrikaans Huistaal.

Klik op die onderstaande skakel om die PDF-dokument met die vraestel en memorandum te stoor.

Vraestel en memorandum

Lees ook:

Wiskundevraestel en memorandum (November, graad 5, intermediêre fase)

Wiskunde met LitNet: graad 5 – tweesyferheelgetalle

Graad 5-wiskundevraestel: derde kwartaal

Graad 5, Junie: Natuurwetenskappe en Tegnologie ‒ vraestel en memorandum

The post Graad 5: Afrikaans Huistaal – vraestelle en memorandums appeared first on LitNet.

Fresh off the press: Hidden Pretoria by Johan Swart and Alain Proust

$
0
0

Title: Hidden Pretoria
Authors: Johan Swart and Alain Proust
Publisher: Penguin Random House
ISBN: 9781432304652

Despite being South Africa’s capital city, Pretoria has often played a supporting role to bold and brash Johannesburg and Cape Town’s cosmopolitan charms. However, when it comes to architectural heritage, the Jacaranda City is well-endowed. From the skyline-dominating Union Buildings and Voortrekker Monument to the imposing edifices of its administrative precincts, Pretoria might be deserving of a second moniker: the city of sandstone, brick and granite. But when you look beyond the impressive façades, soaring columns and linear planes of buildings that were intended to convey power and authority, you’ll find light-filled interiors embellished with decorative touches that are only hinted at from the outside.

Murals, mosaics, domes, galleries, stained-glass windows, gleaming brass and impressive woodwork are often hidden from view behind doors that are closed to the public. And even those museums, buildings and places of worship that are open to all have architectural and design features that are easily overlooked. The history of the city, and of the country, has been played out in many of the buildings featured in Hidden Pretoria.

This book captures remnants of our diverse heritage so that a new generation might recognise the need to embrace the past in order to build our shared future.

The post Fresh off the press: <i>Hidden Pretoria</i> by Johan Swart and Alain Proust appeared first on LitNet.

Die Staat versus Oscar Pistorius: ’n herbesinning – deel 2

$
0
0

Die breë massa van ’n volk sal ’n groot leuen
meer geredelik glo as ’n kleintjie.
 – Adolf Hitler Mein Kampf 1925 vol 1, hoofstuk 10

In hierdie bydrae ontleed en bespreek ek sover moontlik in leketaal die uitsprake van die verhoorhof (regter Masipa en die assessore, me J Henzen-du Toit en mnr T Mazibuko), die Hoë Hof van Appèl (appèlregter Leach) en weer eens die Hoë Hof van Appèl (appèlregter Seriti), en daarna verskaf ek by wyse van nabetragting my menings oor: (i) regsekerheid en die beslissings van ’n finale hof van appèl; (ii) die kruisverhoor van Oscar Pistorius; en (iii) vrees en die invloed daarvan op die gebeure.

Waar kritiek op die uitsprake van die howe uitgespreek word, word dit, soos dit hoort, met die nodige respek gedoen.

"Ek is van mening dat die kruisverhoor van Pistorius op die Zombie-stopper-video ontoelaatbaar en onregverdig was." (Foto: kerttu van Pixabay)

Die uitspraak van die verhoorhof (regter Masipa en assessore)
I

Die advokate het hulle bes gedoen om lig op die morsige affêre wat die verhoor was te laat skyn, maar in die proses eerder ’n donker kombers oor die getuienis getrek.

In die staat se betoogshoofde (hierna BH) het die staat herhaaldelik verwys na Pistorius se saak wat dan, so het hulle aangevoer, soos ’n mosaïek was waarvan die teëltjies een vir een afgeval het. Die wapen-en-ammunisie-klagtes bewys dat Pistorius ’n blatante miskenning vir die reg en ander persone se lewens gehad het (BH par 13). Hy het sy getuienis aangepas (tailored) en het goedberekende en geoefende emosionele uitbarstings gebruik om die aandag te deflekteer en [sy plig] om te antwoord te vermy (BH par 19). Die objektiewe feite dui op ’n grusame mosaïek van gebeure (BH par 44). Hulle maak gewag van die Zombie-stopper-video (BH par 57), die waaier (par 58), die duvet en Reeva se denims (61), en die gordyne (62).

En so gaan dit aan, paragraaf na paragraaf. Die deskundiges wat namens die verdediging getuig het, is almal bevooroordeeld; twee van hulle is die swakste “deskundiges” wat nog ooit in die Hooggeregshof getuig het (BH par 94). (Die feit dat dieselfde deskundiges al dekades lank landwyd namens die staat getuig, word nie genoem nie.) Pistorius het nie geskree nadat hy die deur met die krieketkolf getakel het nie (100). (Dit bots lynreg met Michelle Burger en Charl Johnson se getuienis dat dieselfde persoon voor, gedurende en na die plofgeluide wat hulle as skote vertolk het, geskree het.) Die Stipps (Johan en Annette) het gesien die badkamerlig is aan onmiddellik na die skote (BH par 133). (Tydens die borgaansoek was die bewering dat Stipp gesien het die lig was aan voor hy die skote gehoor het.)

Pistorius se woorde is onder die vergrootglas geplaas, omgedop en van ’n ander hoek beskou, geproe, gebyt, gesluk en geherkou. Molshope is as berge voorgehou. ’n Woord wat gereeld voorgekom het, is die reeds genoemde tailoring. Die staat was nie ongeneë om sy eie tailoring te doen nie, met ’n vertolking van die getuienis wat nie mooi met die getuies se waarnemings inpas nie.

Die kruks van die staat se teorie word soos volg gestel: Daar was geen geskree voor die eerste geluide, wat beskryf is as vuurwapenskote nie, maar daar was ’n geskree voor die skote gevuur is om ongeveer 03:17. ’n Vrou se bevreesde en bloedstollende geskree is gehoor voor die skote (die tweede geluide volgens Stipp se getuienis). Dit was ’n vrou se skreeugeluide gemeng met dié van ’n man wat skree. Daar was geen geskree na die skote nie (die tweede reeks geluide). Die lig in die badkamer was aan tydens die eerste geluide. Die geskree het begin oomblikke na die eerste geluide ... Die Johnson- en Stipp-paartjies het die skote wat gevuur is, in die omgewing van 03:17 gehoor en dit was daardie skote wat die oorledene gedood het (BH par 137).

 Die verloop van die gebeure wat die staat hier voorgehou het, was nie alleen in kontras met wat die staatsgetuies (Johan Stipp, Michelle Burger en Charl Johnson) getuig het nie, maar ook onsinnig, want dit verskaf nie ’n verklaring van enige aard vir die eerste stel plofgeluide wat die Stipps reeds minute vóór 03:17 gehoor het nie. Dit klop nie eens met wat die staat tydens die borgaansoek voorgehou het nie, naamlik:

Ons het ook ’n verklaring van ’n persoon wat gesê het dat die huis se ligte aan was.
Hy het die skote gehoor en na sy balkon gegaan.
Hy het gesê dat hy ’n vrou hoor skree het, en toe nog ’n paar skote.

So daar was toe dié skote en toe weer nóg ’n paar skote, maar nie in die staat se betoogshoofde nie.

Peter Baba se getuienis dat hy om 02:20 vlak langs Pistorius se huis was en niks ongewoons opgemerk het nie, word nie in die hoofde behandel nie. Ook nie die bure se getuienis dat hulle net ’n man hoor skree het nie, in ’n hoë, vibrato-stemtoon. Kolonel Vermeulen se getuienis dat die skote gevuur is vóór die deur met die krieketkolf geslaan is, word ook nie genoem nie.

Die teëls wat nie die staat se mosaïek pas nie, word so eenkant toe geskuif en omgedop, so asof daardie teëls by die verkeerde mosaïek opgeduik het en nie aandag verg nie.

Die verdediging het met behulp van die selfoonrekords ’n kronologie van die gebeure opgestel wat aan die hof voorgelê is. Die staat het, op uitnodiging van die hof, geweier om daardie kronologie te erken maar kon geen argument aanbied om dit te ondermyn of te betwis nie. Die kronologie dui daarop dat Reeva reeds tussen 03:12 en 03:14 geskiet is en reeds dood was toe die getuies die geskree gehoor het.

Die staat het in hulle hoofde, in navolging van die strategie wat in sy kruisverhoor gevolg is, Pistorius se geloofwaardigheid sterk aangeval, en 13 aspekte van die getuienis uitgelig om die argument te ondersteun dat Pistorius nie geglo kan word nie. Dit was, volgens die staat, ’n baker’s dozen (BH par 57) van aanduidings dat Pistorius ’n leuenagtige getuie was. Sy antwoorde op die Zombie-stopper-ondervraging kom eerste aan die beurt. Daarna volg een na die ander beuselagtige en niksbeduidende argument oor die duvet, die loodsliggie, Reeva se denimbroek, en so meer. Nie een van die punte van kritiek was van genoegsame waarde om deur die verhoorhof genoem te word nie, en selfs later, op appèl, sou die appèlhof geen ag op die gewraakte baker’s dozen slaan nie.

Die verdediging het ook die geloofwaardigheid van die staat se hoofgetuies (die Stipps, Michelle Burger en Charl Johnson) aangeval, maar met ’n yl, onoortuigende argument, en blykbaar sonder om te besef dat daardie getuies die verdediging se saak bevorder het omdat dit klop met Pistorius se weergawe van die gebeure.

As daar enige lig op die getuienis geskyn het, dan was dit die kronologie wat die verdediging voorgelê het. Dit sou ’n deurslaggewende invloed op die verhoorhof se uitspraak uitoefen, en tereg, want met kruisverhoor kan selfs die beste advokaat nie die objektiewe getuienis vervat in die opnames van die selfoonmaatskappye betwis of afwater nie.

II

Die verhoorhof het bestaan uit regter Thokozile Masipa en twee assessore, wat albei advokate was, naamlik me J Henzen-du Toit en mnr T Mazibuko. Die staat se teorie was dat Pistorius vir Reeva na ’n bakleiery gedreig en met opset vermoor het. Die verdediging se teorie was dat Pistorius vir Reeva geskiet het in die waan dat sy ’n inbreker was. Aan die een kant, die staat se kant, was dit ’n saak van direkte opset, oftewel dolus directus. Aan die verdediging se kant was dit ’n geval van putatiewe noodweer, waar onregmatigheidsbewussyn ontbreek en die opset (dolus) wat vir moord vereis word, ontbreek.

Twee oorwegings moet van meet af aan in gedagte gehou word. Die eerste is dat die staat met die bewyslas opgesaal was, wat beteken dat die staat die feite sowel as die afleidings wat hulle teorie ondersteun, bo redelike twyfel moes bewys. Indien Pistorius se weergawe redelik moontlik waar was, sou hy seëvier. Die tweede oorweging wat ter sake was, is dat die staat op omstandigheidsgetuienis moes staatmaak, terwyl Pistorius se getuienis die direkte getuienis was van ’n ooggetuie en deelnemer aan die gebeure.

Na oorweging van die getuienis en die teenstrydige teorieë en ook die advokate se betoë, het die hof nie alleen die staat se teorie van moord met voorbedagte rade verwerp nie, maar die feitelike bewerings waarop die staat staatgemaak het, een na die ander afgetakel, en met goeie rede.

Op die moordklag was Pistorius volgens sy eie weergawe skuldig aan strafbare manslag. Dit was op hierdie klag, moord met voorbedagte rade, dat die staat se saak van meet af aan onhoudbaar was, soos in die vorige bydrae uitgewys is. Die hof het een vir een die hoekstene van die staat se teorie oorweeg en verwerp.

Die uitspraak stel dit so (vertalings uit die Engels is my eie; bladsynommers is soos in die saakrekord):

Na my mening kan daar ’n aantal redes wees waarom die oorledene dit nodig geag het om haar selfoon saam te neem na die toilet toe. Een van die moontlike redes mag wees dat sy dit nodig gehad het om die selfoon te gebruik vir beligting aangesien die lig in die toilet buite werking was. (3304)

 Na my mening bewys niks in hierdie getuienis [oor die WhatsApp-boodskappe] van die staat of die verdediging enigiets nie. Normale verhoudings is meestal dinamies en onvoorspelbaar, terwyl mense wispelturig is. Nóg die getuienis van ’n liefdevolle verhouding, nóg die getuienis van ’n verhouding wat versuur het, kan die hof help om te bepaal of die beskuldigde die vereiste opset gehad het om die oorledene dood te maak. (3305)

 Daar is ook die teenwoordigheid van onverteerde voedsel wat professor Saayman in die oorledene se maag gevind het ... Die deskundiges het saamgestem dat maagontruiming nie ’n eksakte wetenskap is nie ... Sy [Reeva] mag dalk die kamer verlaat het om iets te kry om te eet terwyl die beskuldigde geslaap het. (3305)

 ... Mev Van der Merwe het geen idee gehad van waar die stem gekom het nie, watter taal gepraat is nie, of wat gesê is nie. Daar is dus niks in die getuienis van mev Van der Merwe wat dit wat soos ’n argument geklink het, koppel aan die insident by die beskuldigde se huis nie. Wat betekenisvol is, is dat mnr Peter Baba, die veiligheidswag, naby die beskuldigde se huis op patrollie was om 02:20. Daar is geen getuienis dat mnr Baba op daardie tydstip enigiets ongewens by die beskuldigde se huis gehoor of gesien het nie. (3305–6)

 Dit het gedurende die verhoor duidelik geword dat sekere geluide wat die getuies vertolk het as geweerskote, in werklikheid nie geweerskote nie was, maar die klank van ’n krieketkolf teen die deur van die toilet. Dit is ook nie betwis dat die skote eerste gevuur is en dat die houe teen die deur, met ’n krieketkolf, daarna gevolg het nie. (3290–1)

 Ek dink nie dat mnr Johnson en me Burger oneerlik was nie ... Hulle het eenvoudig oorgedra wat hulle gedink het hulle gehoor het. Hulle het hulle, nietemin, eerlik misgis met betrekking tot wat hulle gehoor het, soos die kronologie van die gebeure sal aandui. (3292)

 In sy beskrywing van die hoofbesering het professor Saayman getuig dat dit ’n “onmiddellike onbevoegmakende besering” [immediately incapacitating injury] was. ’n Persoon wat ’n wond van daardie aard opdoen, sal feitlik onmiddellik onbevoeg wees om ’n vrywillige handeling van enige aard uit te voer. Hy of sy sal waarskynlik ook onmiddellik bewusteloos wees. (3295)

 Die skote was kort na mekaar gevuur. Na my mening beteken dit dat die oorledene nie in staat sou wees om uit te roep of te skree nie, ten minste nie op die wyse beskryf deur die getuies wat oortuig was dat hulle ’n vrou herhaaldelik hoor skree het nie. Die enigste ander persoon wat kon skree is die beskuldigde. (3295)

Die hof het daarna die gebeure in kronologiese volgorde uiteengesit. In die oorgrote meerderheid gevalle was die tye bepaalbaar aan die hand van selfoonrekords. Die staat, verknog aan hulle onhoudbare teorie, het geweier om die kronologie te erken, maar het nie die hof daaroor toegespreek toe hulle uitgenooi was om dit te doen nie (3298). Die kronologie staan dus onbetwis. Dit was in elk geval onaanvegbaar.

    1. Om 02:20 het die veiligheidswag die wagkontrole langs die beskuldigde se huis geaktiveer.
    2. Tussen ongeveer 03:12 en 03:14 is die eerste geluide gehoor. Dit was skote.
    3. Om ongeveer 03:14–15 is gehoor hoe die beskuldigde om hulp roep.
    4. Tussen ongeveer 03:12 en 03:17 is ’n geskree gehoor, of skreeue.
    5. Om ongeveer 03:15 is die beskuldigde gesien waar hy in die badkamer loop.
    6. 03:15:51 (die duur was 16 sekondes) het dr Stipp Silver Lakes se sekuriteit gebel.
    7. 03:16 (die duur was 58 sekondes) het mnr Johnson gebel en met Strubenkop-sekuriteit gepraat.
    8. 03:16:13 het mnr Michael Nhlengethwa sy eerste oproep na sekuriteit toe gemaak. Hierdie oproep het nie deurgegaan nie.
    9. 03:16:36 (die duur was 44 sekondes) het mnr Nhlengethwa sy tweede oproep na sekuriteit gemaak.
    10. 03:17 het dr Stipp probeer om 10111 te skakel.
    11. 03:17 tweede geluide is gehoor. Dit was die krieketkolf teen die deur.
    12. 03:19:03 (die duur was 24 sekondes) het die beskuldigde vir Johan Stander geskakel.
    13. 03:20:05 (die duur was 66 sekondes) het die beskuldigde 911 geskakel.
    14. 03:21:33 (die duur was 9 sekondes) het die beskuldigde sekuriteit geskakel.
    15. 03:22:05 (duur 12 sekondes) het Peter Baba, die sekuriteit, die beskuldigde geskakel.
    16. 03:22 kom Baba, die sekuriteit, by die beskuldigde se huis aan.
    17. Om ongeveer 03:22 het Johan Stander en Carise Viljoen by die beskuldigde se huis aangekom.
    18. Ongeveer 03:23:24 het dr Stipp by die beskuldigde se huis aangekom.
    19. 03:27:06, Johan Stander se oproep na 911 in die teenwoordigheid van dr Stipp.
    20. 03:27:14 het dr Stipp probeer om sekuriteit te skakel. Hierdie oproep het nie deurgegaan nie.
    21. 03:41:57 het ’n ambulans by die sekuriteitshek van Silverwoods Landgoed aangekom.
    22. Ongeveer 03:50 het die paramediese beamptes die oorledene dood verklaar.
    23. Ongeveer 03:55 het die polisie by die beskuldigde se huis aangekom. (3299–3300).

Die hof het daarvolgens verduidelik hoe die kronologie gebruik kan word om die getuienis te beoordeel.

Die kronologie hier bo gee ’n aanduiding van waar die verskillende getuies mekaar se getuienis korroboreer en waar hulle mekaar weerspreek. ’n Ontleding van die getuienis met gebruik van die kronologie as basis sal die hof ook help om te beslis of die staat bo redelike twyfel bewys het dat die beskuldigde die direkte opset en voorafgaande beraming gehad het om die oorledene te dood. (3300)

Dit blyk dus dat die gebeure, van die eerste skoot tot die laaste slag van die krieketkolf teen die deur, op die langste slegs vyf minute geduur het, van so 03:12 tot 03:17.

Dit blyk ook uit die voorgaande dat die kernvraag wat aan die verhoorhof voorgelê is deur die staat, was of die staat bo redelike twyfel bewys het dat die beskuldigde die direkte opset en voorafgaande beraming gehad het om die oorledene te dood. Aangesien die hof elk van die bene waarop die staat se teorie gerus het, verwerp het, moes die kernvraag voor die hof op Pistorius se weergawe beslis word. Die hof het dit só uiteengesit in sy uitspraak:

Die tye uiteengesit in die kronologie van die gebeure tip die skaal in die guns van die beskuldigde se weergawe in die algemeen. Die totaliteit van die getuienis het nie bewys dat die beskuldigde die nodige opset gehad het om die oorledene te dood nie, nog minder met voorbedagte rade.

 Die staat het duidelik nie bo redelike twyfel bewys dat die beskuldigde skuldig is aan voorafbeplande moord nie. Daar is eenvoudig nie voldoende feite om so ’n bevinding te steun nie. (3322)

 Dit beteken dat die hof die teorie wat die staat van die dag van Pistorius se arres 18 maande tevore aangeblaas het, verwerp het weens ’n gebrek aan feite wat dit kon ondersteun. Dit beteken verder dat speuradjudantoffisier Hilton Botha reg was toe hy onder eed tydens die borgaansoek getuig het dat die polisie nie oor getuienis beskik het om Pistorius se weergawe te weerspreek nie.

(Soos gerapporteer deur die Daily Maverick op 19 Februarie 2013.)

III

 Die staat het egter ’n alternatiewe argument voorgedra.

 Die advokaat vir die staat het aangevoer dat selfs al sou die hof bevind dat die beskuldigde die oorledene geskiet het onder die indruk dat hy op ’n indringer gevuur het, dit hom nie sou help nie want hy het bedoel om ’n mens te dood. Dit was so want al die elemente van die misdaad van moord was teenwoordig, so is aangevoer. (3322)

Die staat se alternatiewe argument het die deur geopen vir die verweer wat bekend staan as putatiewe (gewaande) noodweer. Hierop het die regter Masipa so gereageer:

Die advokaat vir die staat het na my mening korrek aangevoer dat as die beskuldigde nooit bedoel het om enige iemand te skiet nie, hy nie op putatiewe noodweer kan staatmaak nie. (3316)

As regter Masipa hiermee te kenne wou gee dat die beskuldigde nie aan moord skuldig bevind kan word as hy inderdaad nie die opset gehad het om enigiemand te skiet nie, dan is haar stelling logies gesproke korrek. Dit is ook blykbaar wat regter Masipa bedoel het, want die verhoorhof het tog die getuienis ontleed om vas te stel of Pistorius inderdaad op putatiewe noodweer kon staatmaak:

... hy het die verweer van putatiewe selfverweer geopper.

 ... ’n onderskeid word gemaak tussen selfverweer [noodweer] as ’n verweer, wat onregmatigheid uitsluit, en wat objektief beoordeel word, en putatiewe selfverweer, wat betrekking het op die geestestoestand van die beskuldigde. (3325)

In die onderhawige saak, op sy eie weergawe, het die beskuldigde vermoed dat ’n indringer sy huis binnegekom het deur die badkamervenster. Sy weergawe was dat hy eerlik, alhoewel foutief, geglo het dat sy lewe en dié van die oorledene in gevaar was.

 Daar is niks in die getuienis wat suggereer dat hierdie geloof nie eerlik gehou was nie. (3326–7)

Die vraag is: Het die beskuldigde die moontlikheid van die gevolglike dood voorsien, maar roekeloos volgehou of dood nou sou intree of nie? In die omstandighede van hierdie saak moet die antwoord nee wees.

 Hoe kon die beskuldigde redelikerwys voorsien dat die skote die oorledene sou dood? Hy het dit duidelik nie subjektief voorsien dat hy die persoon agter die deur sou dood nie, laat staan nog die oorledene, want hy het gedink sy was op daardie tydstip in die slaapkamer. (3328)

Dr Stipp, ’n onafhanklike getuie wat by die beskuldigde se huis was minute na die voorval plaasgevind het, het getuig dat die beskuldigde werklik buite homself [distraught] voorgekom het, terwyl hy vir God gebid het en by Hom gepleit het om te help om die oorledene te red.

 Daar was niks om daardie waarneming te betwis nie en die hof is geen rede gegee om dit te verwerp nie en ons aanvaar dit as waar en betroubaar. Dit volg dat die beskuldigde se foutiewe geloof dat sy lewe in gevaar was dolus uitsluit. Die beskuldigde kan gevolglik nie skuldig bevind word aan moord nie. (3329)

 Regter Masipa het na drie leidende bronne van gesag verwys:

Die hof het reeds beslis dat hy nie van moord skuldig bevind word dolus directus nie. Die hof het reeds bevind dat die beskuldigde ook nie skuldig bevind kan word aan moord dolus eventualis nie, op die basis van sy geloof en sy optrede, en dat dit nie gesê kan word dat hy voorsien het dat óf die oorledene, óf enige iemand anders, in die verbygaan mag gedood word toe hy die skote na die toilet se deur gevuur het nie. Dit kan ook nie gesê word dat hy daardie moontlikheid aanvaar het nie. (3347–8)

Ek mag net byvoeg dat ten opsigte van die eerste been van die toets vir dolus eventualis Burchell en Hunt: General principles of criminal law, die volgende op bladsy 371 verkondig: “Die howe het gewaarsku teen enige tendens om die afleiding van subjektiewe vooruitskouing [subjective foresight] te geredelik te maak.”

 In S v Bradshaw 1977 (1) PH 860 (A) byvoorbeeld het Wessels AR gesê: “Die hof moet daarteen waak om te geredelik te beweeg van ‘behoort te voorsien het’ na ‘moes voorsien het’ en van daar na ‘by noodsaaklike implikasie inderdaad voorsien het’.

 In S v Sigwatla 1967 (4) SA 566 (A) het Holmes AR die vraag van bewys in die volgende terme uitgedruk: “Subjektiewe vooruitskouing soos enige ander feitelike vraag, mag bewys word by wyse van afleiding om bewys bo redelike twyfel daar te stel. Die afleiding moet die enigste een wees wat redelikerwys gemaak kan word. Dit kan nie so gemaak word as daar ’n redelike moontlikheid bestaan dat die beskuldigde dit subjektief nie voorsien het nie, selfs al behoort hy dit redelikerwys te gedoen het en selfs al het hy dit waarskynlik gedoen.

Die hof het wel bevind dat Pistorius onder kruisverhoor nie goed vertoon het nie. Sy getuienis oor wat hy gedink het toe hy voor die toilet se deur staan is in die uitspraak in die fynste besonderhede ontleed:

Voor ek dit besef het, het ek vier skote na die deur gevuur. (3307)

 Ek het gevuur voordat ek kon dink, voor ek ’n oomblik gehad het om te oorweeg wat aan die gebeur was [what was happening]... Voor ek dink, uit vrees, het ek die skote gevuur. Ek het geskiet [shot] want ek was, op daardie punt, met daardie breukdeel van ’n sekonde, het ek geglo iemand was besig om uit te kom om my aan te val. Dit is wat my gemaak het om te vuur, uit vrees uit. Ek het nie tyd gehad om te dink nie. Ek het my wapen gevuur. (3309)

 Die ongeluk was dat ek my vuurwapen gevuur het in die geloof dat ’n inbreker besig was om uit te kom om my aan te val ... Die vuur was ’n ongeluk [accidental] ... Ek het geglo dat iemand besig was om uit te kom. Ek het geglo dat die geluid wat ek gehoor het, was iemand wat besig was om uit te kom om my aan te val of my lewe te neem. (3309–10)

 Ek het nie gedink oor die sneller trek nie. So gou as wat ek die geluid gehoor het, voor ek kon dink, het ek die sneller getrek. (3310)

 Ek het gevuur omdat ek gedink het dat iemand besig was om uit te kom om my aan te val ... Ek het nooit bedoel om enige iemand te skiet nie. Ek het geskrik as gevolg van die geluid.

 Jy het nooit doelgerig na die deur gevuur nie? – Nee, U Edele, ek het nie. (3315)

Die verhoorhof het Pistorius se verweer só vertolk: Hy het nie die opset gehad om na enige iemand te vuur nie, maar indien die hof sou bevind dat hy so ’n opset gehad het, dan was dit die opset om na ’n inbreker te skiet wat besig was om uit die toilet uit te kom om hom aan te val (3315). Daardie opset, om na ’n inbreker te skiet wat besig is om uit te kom om hom aan te val, het die tafel gedek vir putatiewe noodweer.

Die verhoorhof het toe, soos dit getaak was om te doen, die verweer oorweeg in die volle samehang van die getuienis wat gelewer is en met verwysing na die tersaaklike regsbeginsels en gesag en sy beslissing bekend gemaak:

Dit volg dat die beskuldigde se foutiewe geloof dat sy lewe in gevaar was dolus uitsluit. Die beskuldigde kan gevolglik nie skuldig bevind word aan moord nie. (3329)

By wyse van hierdie stellings en bevindings het die verhoorhof Pistorius gevolglik onskuldig bevind aan moord, maar hom skuldig bevind aan strafbare manslag en dienooreenkomstig gestraf. Die straf het neergekom op ses jaar gevangenisstraf wat in korrektiewe toesig omskep kon word nadat ’n voorgeskrewe gedeelte van die vonnis uitgedien is.

IV

 Daar was egter ’n blaps in die verhoorhof se uiteensetting van die toepassing van dolus eventualis (en nie die elemente daarvan nie). Regter Masipa het die vraag ten opsigte van die toepassing van dolus eventualis so gestel:

Die vraag is: Het die beskuldigde die moontlikheid van die dood wat gevolg het voorsien, maar steeds volgehou met sy daad, roekeloos of die dood sou volg of nie? In die omstandighede van hierdie saak moet die antwoord nee wees.

 Hoe kon die beskuldigde redelikerwys voorsien dat die skote wat hy gevuur het die oorledene sou dood? Hy het dit duidelik subjektief nie as ’n moontlikheid voorsien dat hy die persoon agter die deur, nog minder die oorledene, sou doodmaak nie, want hy het gedink sy was op daardie tydstip in die slaapkamer. (3328)

 Die feit dat Pistorius gedink het Reeva is in die slaapkamer agter hom beteken nie noodwendig dat hy nie die opset kon gehad het om die persoon wat hy geglo het agter die deur was, te dood nie, en hierdie aspek sou op appèl uitgebuit word.

’n Tweede aspek wat op appèl uitgebuit sou word, het te doen met die verhoorhof se houding teenoor die deskundiges wat getuig het. Deskundiges moet onpartydig wees en elk moet binne die perke van sy of haar dissipline hou. Soos uitgewys in A M and S M v MEC for Health, Western Cape (1258/2018) [2010] ZASCA 79 (31 July 2010), is ’n deskundige se opinie vir die hof van geen waarde nie tensy dit op die bewese en erkende feite gebaseer is. Die deskundige se mening moet ook redelikerwys uit daardie feite afgelei kan word, wat op sy beurt beteken dat ’n opinie wat yl, verregaande en spekulatief is, die hof nie tot hulp kan wees nie. Die verhoorhof het in die ellelange getuienis van die deskundige getuies van die staat en die verdediging min waarde gevind, en waar dit het, het die hof dit in die uitspraak gemeld, soos met die menings van prof Saayman en kolonel Vermeulen.

Die staat het ’n aantal deskundige getuies geroep na wie se getuienis regter Masipa, met uitsondering van prof Saayman, nie in die verhoorhof se uitspraak verwys het nie. Die verdediging het eweneens ’n aantal deskundige getuies geroep wie se getuienis net so min verskil gemaak het: prof Botha, mnr Dixon, dr Lundgren, me Van Schalkwyk, mnr Wolmarans, dr Foster, dr Versveld, mnr Lin, mnr van Zyl en prof Derman. Botha het grootliks met Saayman saamgestem, en net so het die verdediging se forensiese spesialiste met Vermeulen se mening oor die volgorde waarin die skote en die krieketkolf onderskeidelik die deur getref het, saamgestem.

Die feit dat die verhoorhof nie die deskundige getuies se proefnemings, bespiegelings en opinies uitdruklik in die uitspraak vermeld nie, sou egter ook op appèl uitgebuit word.

Prof Alan Dershowitz van Harvard Universiteit-faam het die uitspraak as regtens onsamehangend beskryf. (Kyk Rashmee Rohan Lall, Alan Dershowitz and the Oscar Pistorius sentence: Judgment v judgment, www.rashmee.com, 22 Oktober 2014.) Dershowitz se opmerking was ’n groteske oordrywing: Die verhoorhof se uitspraak getuig van weldeurdagte oorweging van die getuienis en die regsbeginsels wat daarop van toepassing was, met ’n blaps of twee wat nie ongewoon is in ’n saak van hierdie omvang nie.

Die belangrikste taak van ’n verhoorhof is om die getuienis aan te hoor en die feite vas te stel. Dit het die verhoorhof by uitstek gedoen. As daar mistastings of wanvoorligtings oor regsbeginsels voorgekom het, dan is dit die taak van ’n hof van appèl om daardie foute reg te stel.

Of dit in Pistorius se saak sou gebeur, is ’n ander saak.

Die Hoë Hof van Appèl: Appèlregter Leach

 Om onnosel te wees is nie ’n misdaad nie.
Om presies te wees, dit is ’n verweer.
Kwade opset word in die strafreg vereis.

– Lloyd Blankfein, Financial Times, NZ Herald
24 Februarie 2020

V

Regter Masipa het aan die staat verlof verleen om te appelleer teen die bevinding op die meriete dat Pistorius onskuldig was aan moord. So ’n appèl deur die staat word onder artikel 319 van die Strafproseswet 51 van 1977 toegelaat binne die perke wat daardie artikel en die uitleg daarvan in vorige hofsake bepaal. Die uitspraak van die Appèlhof is in die hofverslae opgeneem as Director of Public Prosecutions, Gauteng v Oscar Leonard Carl Pistorius 2016 (2) SA 317 (SCA). Die uitspraak is deur appèlregter Leach geskryf.

My eerste reaksie toe ek die uitspraak lees, was dat appèlregter Leach fouteer het deur met die verhoorhof se beslissings oor die feite in te meng, en dat die geleerde appèlregter verder fouteer het deur te versuim om die onregmatigheidsbewussyn-vereiste vir opset (dolus in sal sy vorme) op die bewese feite toe te pas. Verskeie van die land se voorste strafregkenners het ook die uitspraak ontleed en elkeen op sy of haar eie wyse tot die gevolgtrekking geraak dat die verhoorhof se uitspraak korrek was en dat Pistorius nie op die feite en die tersaaklike regsbeginsels skuldig was aan moord nie. Hieroor later meer. Intussen: Appèlregter Leach het beslis dat die Appèlhof die bevoegdheid onder artikel 319 het om in te meng met ’n verhoorhof se beslissing indien die verhoorhof ’n regsdwaling begaan het en daarna die verhoorhof se skuldigbevinding aan strafbare manslag verander na skuldig aan moord.

Die aweregse uiteensetting deur regter Masipa van die toepassing van dolus eventualis op die feite van die saak het nie die Appèlhof die bevoegdheid gegee om met die verhoorhof se feitebevindings oor die getuies en getuienis in te meng nie. Anders gestel: Die Appèlhof was verplig om dolus eventualis korrek toe te pas, maar op die feitestel soos deur die verhoorhof bepaal.

Dit is geykte reg dat ’n hof van appèl nie in ’n appèl mag inmeng met die verhoorhof se bevindings op die feite nie, behalwe in buitengewone gevalle, soos waar die verhoorhof homself waningelig het of ’n regsdwaling begaan het. Die Appèlhof se vorige beslissings in Rex v Dhlumayo and Another 1948 (2) SA 677 (A) en Fourie v First National Bank Ltd and Another 2013 (1) SA 204 (SCA) is uitdruklik tot daardie effek. Die redes vir wat onder regslui bekend staan as die Dhlumayo-benadering is onlangs weer eens in die Appèlhof deur appèlregter Wallis uiteengesit in A M and S M v MEC for Health, Western Cape, supra:

Dit is [’n juridiese] gemeenplaas dat ’n hof van appèl traag is om bevindings van daardie aard [geloofwaardigheid en feite] te versteur ... Sulke bevindings word versteur slegs indien daar ’n duidelike wanvoorligting is of die verhoorhof se bevindings duidelik foutief is. Dit was koersvas die benadering van hierdie hof en die Konstitusionele Hof soos onlangs weergegee is in die volgende passaat in ST v CT:

 In Makate v Vodacom (Pty) Ltd het die Konstitusionele Hof, terwyl dit die beginsels in Dhlumayo herbevestig het, die volgende uitlating van Lord Wright in Powell & Wife v Streatham Nursing Home aangehaal:

Om nie die getuies te gesien het nie plaas die appèlregters permanent in ’n nadelige posisie teenoor verhoorregters, en tensy dit gewys kan word dat hy gefaal het, of kennelik daardie voordeel misbruik het, behoort die hoër hof nie die verantwoordelikheid op te neem om gevolgtrekkings wat so gemaak is tersyde te stel nie, bloot op die basis van hulle eie vergelyking en kritiek van die getuies en hulle eie siening van die waarskynlikhede van die saak nie. [8] [verwysings uitgelaat]

Die Dhlumayo-benadering is van toepassing op alle appèlle op die feite van ’n laer na ’n hoër hof en sluit in beide siviele en kriminele appèlle. Daar is egter in strafappèlle waar die staat die appellant is, ’n addisionele verbod teen inmenging met die verhoorhof se bevindings op die feite. Daardie verbod het sy oorsprong in artikel 319 van die Strafproseswet 51 van 1977, wat die staat se reg op appèl beperk tot regspunte.

Met hierdie beginsels en vermanings in gedagte behoort die Appèlhof traag te gewees het om met regter Masipa se bevindings op die feite in te meng. Desnieteenstaande het appèlregter Leach ’n reeks bevindings gemaak wat hom sou toelaat om in te meng met die verhoorhof se bevindings op die feite.

Appèlregter Leach het soos volg redeneer:

  1. Die verhoorhof het nie kaptein Chris Mangena se getuienis oor die Black Talon-ammunisie behoorlik in ag geneem nie. [40]
  2. Die versuim van die verhoorhof om dit te doen kom neer op ’n regsdwaling. [40]
  3. ’n Hof van Appèl mag ingevolge artikel 319 van die Strafproseswet 51 van 1977 inmeng met ’n verhoorhof se beslissing op die feite indien dit gebaseer is op ’n regsdwaling. [37]
  4. Kaptein Mangena het getuig dat Black Talon-patrone in die liggaam uitmekaar bars en sodoende dodelike gevolge het. [39]
  5. As daardie feit in ag geneem word, beteken dit dat Pistorius moes voorsien het, en dat hy inderdaad voorsien het, dat die persoon wat hy geglo het agter die deur staan, gedood mag word en dat hy hom met daardie gevolg versoen het. [51]
  6. Die feit dat dit Reeva Steenkamp was wat agter die deur was en nie ’n indringer soos Pistorius geglo het nie, is irrelevant. [31–32]
  7. Hy is dus skuldig aan moord.

Appèlregter Leach het egter aan die begin van hierdie argumentsketting reeds by punt (ii) fouteer. Die verhoorhof se houding met betrekking tot Mangena se getuienis was ’n feitevraag en nie ’n regsvraag nie.

VI

Dit het die Appèlhof self nie lank geneem om op appèlregter Leach se fout in hierdie opsig te wys en vir die doeleindes van appèlle wat later sou voorkom reg te stel nie. Die geleentheid het hom voorgedoen in Director of Public Prosecutions, Western Cape v Schoeman and Another (904/2017) [2019] ZASCA 158 (28 November 2019), waar die Appèlhof by monde van appèlregters Cachalia en Plasket soos volg geredeneer het:

[55] Gevolglik is die afleiding wat gemaak word met betrekking tot die beskuldigde se gemoedstoestand, hetsy in die vorm van dolus, dolus eventualis of culpa, een wat gewoonweg uit hoofde van die primêre feite getrek word en dit is ’n feitevraag, nie ’n regsvraag nie.

 [73] Dit blyk dus dat hierdie hof fouteer het in Pistorius, met respek, deur te bevind, alhoewel obiter na ons mening, dat waar ’n verhoorhof getuienis ignoreer of ’n gebrek aan waardering van die tersaaklikheid daarvan vertoon, dat dit neerkom op ’n regsdwaling. Soos ons verduidelik het, is hierdie gevolgtrekking teenstrydig met ’n lang reeks gesag in hierdie hof, bekragtig deur die Konstitusionele Hof.

 Ons stem nie saam dat die toets vir die toepassing van artikel 319 vra of die regsproses nadelig geraak is deur die fout wat die verhoorhof gemaak het nie. Daardie toets sal die gevolg hê dat dit byna elke wesenlike feitedwaling omskep in ’n regsdwaling.

 Dit is nie wat artikel 319 beoog nie. Soos Corbett HR in Magmoed uitgewys het, selfs waar daar “sterk aanduidings” in die getuienis is dat daar afdoende redes was om die beskuldigde skuldig te bevind, moet [h]ierdie oorwegings nie ... toegelaat word om mens se begrip van die regs- en beleidskwessies betrokke by die gebruik van artikel 319 toe te laat op die manier waarop die staat dit in hierdie saak wil doen; of om ’n mens se voorneme om wat voorkom as gesonde regspraktyk af te water nie.

 [74] Eenvoudig gestel, die blote feit dat die regsproses aangetas is deur die wyse waarop die verhoorhof die getuienis voor die hof beoordeel het, regverdig nie die gebruik van artikel 319 deur die staat om ’n regspunt te reserveer vir wat in werklikheid ’n wanvoorligting op die feite is nie.

 Daardie ontoelaatbaarheid ondermyn die duidelike taal van die artikel en die doelgerigte keuse van die wetgewer om appèlle te beperk in terme van die artikel tot regsvrae. Die reg soos uiteengesit in die Kanadese sake wat in Pistorius aangehaal is, weerspieël nie die posisie in ons reg nie.

Die verhoorhof se bevinding dat Pistorius nie subjektief voorsien het dat hy die persoon agter die deur sou dood nie, was ’n beslissing op die feite, wat volgens appèlregters Cachalia en Plasket se uitspraak in Schoeman se saak nie deur appèlregter Leach aangeveg kon word nie.

Die verwerping van appèlregter Leach se foutiewe houding ten opsigte van artikel 319 kan regtens nie terugwerkend op Pistorius se geval van toepassing gemaak word nie. Die Appèlhof se foute bly lê waar hulle val omdat daardie hof se uitsprake finaal is, tensy (i) daar ’n konstitusionele beginsel ter sprake is, of (ii) die Staatspresident sy prerogatief van grasie en kwytskelding uitoefen. Daar sal in elk geval later verwys word na ander gevalle waar die Appèlhof sy eie foute moes regstel, en telkens sonder dat dit die bevoegdheid gehad het om sodanige foute terugwerkend reg te stel.

VII

Afgesien van appèlregter Leach se wanopvattings wat dolus eventualis betref, wat later behandel sal word, het die geleerde appèlregter hom ook skuldig gemaak aan presies dieselfde soort regsdwaling waarvan hy regter Masipa beskuldig het. Hy het deurslaggewende getuienis van kaptein Mangena nie in ag geneem nie. Mangena se rekonstruksie by die toneel het aangedui dat Pistorius nie op sy kunsbene was toe hy die skote afwaarts op ’n hoogte van net so by een meter afgevuur het nie. Dit wil sê, dit sou ’n volwassene agter die deur op heuphoogte of laer tref. Hierdie feite is nie versoenbaar met die opset om iemand dood te skiet nie – nie wanneer bewys bo redelike twyfel vereis word nie. Die gebruik van Black Talon-ammunisie is ook nie deurslaggewend nie. Dit word volgens Mangena se getuienis juis vir selfverdediging gebruik. Een van die redes daarvoor is dat dit nie, soos skerppunt-ammunisie, ander persone agter die teikenpersoon sal beseer nie. Dit is om daardie rede presies die soort ammunisie wat ’n huiseienaar en selfs die polisie sou gebruik.

Wanneer dit kom by die oorweging van omstandigheidsgetuienis is twee kardinale beginsels ter sprake. Wanneer die beskuldigde se geestestoestand ter sake is, is die hof in die eerste plek aangewese op die primêre feite, wat die direkte getuienis van die beskuldigde insluit, sowel as ander getuienis wat op daardie aspek ter sake is. Dit bring die tweede kardinale beginsel na vore. Die beslissing in R v Blom 1944 AA kan so opgesom word:

 (i) Die afleiding wat gemaak staan te word moet in ooreenstemming met al die bewese feite wees ...

(ii) Die bewese feite moet sodanig wees dat dit elke ander redelike afleiding uitsluit behalwe die een wat gemaak staan te word.

Met ander woorde, die afleiding wat die hof maak, moet al die getuienis in berekening bring. Geen getuienis mag oor die hoof gesien word nie.

 Appèlregter Leach het nie alleen die volle bestek van Mangena se getuienis buite rekening gelaat nie, maar ook Pistorius se getuienis. Wat betref die inagneming van al die getuienis wat Blom se saak en ’n ellelange lys van gesag daarna vereis, het appèlregter Leach dus in hierdie opsig ook ’n regsdwaling begaan.

VIII

Soos reeds verduidelik, het appèlregter Leach nie Pistorius se getuienis in ag geneem oor sy opset toe hy gevuur het nie. Wat die geleerde regter wel gedoen het, was om Pistorius se getuienis te verwerp omdat sy optrede dan nie rasioneel sou wees nie. Pistorius se getuienis oor waarom hy die skote gevuur het, is dus nie na waarde geskat nie:

Nel: Wat toe? Toe jy daar gevuur het, wat het jy gedink?

Pistorius: Soos ek gesê het, ek het nie gedink nie. My vuurwapen was op daardie stadium op die deur gerig, U Edele.

 Nel: Maar is dit soos die Glock? Het dit net afgegaan? Of het jy die sneller getrek?

 Pistorius: Ek het die sneller getrek, U Edele.

 Nel: In die ... in ... hoekom?

Pistorius: Omdat ek gedink het daar was gevaar wat uitkom om my aan te val, U Edele. (1870–1)

In plaas daarvan sê appèlregter Leach:

... sy getuienis was so weersprekend dat mens nie weet wat sy ware verduideliking is waarom hy sy wapen gevuur het nie ... [53]

Met watter rede sou Pistorius dan gevuur het? Die enigste getuienis voor die hof was die getuienis wat Pistorius gelewer het toe die staatsadvokaat hom daaroor uitgevra het. Reeds op die toneel het Pistorius vir verskeie persone, onder andere dr Stipp, gesê dat hy vir Reeva geskiet het in die waan dat sy ’n inbreker was. Sy verduideliking verskaf ’n logiese, rasionele rede vir sy optrede. Appèlregter Leach het nie die inhoud en waarde van Pistorius se getuienis opgeweeg teen die bewyslas wat op die staat gerus het nie. Die geleerde appèlregter maak staat op die cliché, die geykte formule van die Engelse reg:

 ... die natuurlike afleiding dat ’n persoon die waarskynlike gevolge van sy handeling bedoel. [54]

Daardie formule van die Engelse reg is nie versoenbaar met ons reg nie. In ons reg is daar nie ’n vermoede dat ’n beskuldigde die waarskynlike gevolge van sy daad bedoel het nie. Dit is vir die staat om te bewys dat die beskuldigde inderdaad daardie gevolge bedoel het.

 Die geleerde appèlregter gaan dan verder deur by te voeg:

 ... die beskuldigde moes ten minste ’n feitelike basis neerlê vir die eerlike geloof van ’n dreigende aanval op hom. Dit het die beskuldigde nie gedoen nie. [54]

Appèlregter Leach het nie verduidelik waarom Pistorius se getuienis wat hier bo aangehaal is – en wat hy vir die Standers en dr Stipp en selfs die polisie op die toneel gesê het – nie voldoende was om daardie feitelike basis daar te stel nie.

Die uitspraak dui ook op ’n gebrek aan oorweging van die inherente waarskynlikhede van die saak en die effek daarop deur die objektiewe getuienis – veral Magena se getuienis oor (i) die groepering van die skote deur die deur; (ii) die hoogte daarvan bo die vloer; (iii) die afwaartse hoek van die skote deur die deur; en (iv) die afstand tussen die pistool en die deur (so 60 cm) toe die skote afgevuur is. ’n Objektiewe oorweging van hierdie feite – wat gemene saak was – sou daarop dui dat Pistorius se getuienis dat hy gevuur het in die rigting wat die pistool gewys het ten minste redelik moontlik waar was – die toets in ’n strafsaak – en dat die opset om ’n inbreker agter die deur dood te skiet nie bo redelike twyfel bewys kon word nie.

Vir ’n voorbeeld van hoe ’n appèlregter die getuienis ontleed om die feite vas te stel hoef die leser nie verder te gaan as die uitspraak van appèlregter Wallis in A M and Another v MEC for Health, Western Cape, supra, nie. In sy uitspraak van 108 paragrawe het appèlregter Wallis die getuienis van die mediese dokter wat ’n kind behandel het, in paragrawe [27] tot [106] in die fynste besonderhede ontleed – met talle aanhalings van die getuienis soos dit uit die saakrekord blyk – om die bewerings dat sy nalatig was te ondersoek, en in die proses in ewe veel besonderhede die opinies van die deskundiges wat die dokter blameer het vir die kind se serebrale verlamming.

Waar die feite in geskil is, is appèlregter Wallis se benadering met betrekking tot die getuienis onontbeerlik. Die verhoorhof het ook daardie benadering gevolg deur die getuienis van beide Pistorius en die belangrikste staatsgetuies, soos Estelle van der Merwe, Johan Stipp, Michelle Burger en Charl Johnson, deeglik onder die vergrootglas te plaas en in die uitspraak te verduidelik, en hoe die hof tot sy bevindings op die feite gekom het.

So ’n benadering is egter afwesig in appèlregter Leach se uitspraak.

IX

Die Appèlhof by monde van appèlregter Leach het ook ’n fatale oorbruggingsfout in sy redenering gemaak wat veroorsaak het dat die hof nie by die sentrale vraagstuk in die saak uitgekom het nie. Dit het so gebeur: Appèlregter Leach het bevind dat aangesien Pistorius getuig het dat hy nie bedoel het om enige persoon te skiet nie, hy nie op putatiewe noodweer kon staatmaak nie. [53] Appèlregter Leach het egter beslis dat hy:

 ... geen twyfel het dat deur die fatale skote te vuur die beskuldigde moes voorsien het, en dus inderdaad voorsien het, dat wie ook al agter die deur was, mag sterf ... [51]

Daar is twee probleme met hierdie redenasie.

Die eerste is dat dit nie ’n vereiste vir putatiewe noodweer is om ná die persoon wat beseer of gedood is te mik of te skiet nie. Selfs ’n sogenaamde waarskuwingskoot wat iemand tref word deur die verweer gedek. Die vereistes vir putatiewe noodweer is drievoudig: Eerstens moes die handeling onregmatig wees, maw nie geregverdig nie. Tweedens moes die handeling opsetlik wees. Derdens moes die opsetlike handeling gepleeg gewees het terwyl die beskuldigde onbewus was van die onregmatigheid van sy handeling. Sodra die hof bevind dat die handeling onregmatig was, en dat die beskuldigde met opset gehandel het (soos om opsetlik op die inbreker te vuur), dan is aan die eerste twee vereistes voldoen. Al wat dan oorbly, is vir die hof om te beslis of die beskuldigde, as ’n redelike moontlikheid, geglo het sy handeling was nie onregmatig nie. En daardie geloof is een wat subjektief beoordeel word: Anders gestel: Wat het hierdie beskuldigde geglo? Nie: Wat sou ’n redelike, rasionele persoon geglo het? nie.

Dit ontbloot die probleem met appèlregter Leach se redenasie. Sy eie bevinding was dat Pistorius wel die nodige opset gehad het om die persoon agter die deur te skiet. So het Pistorius op appèlregter Leach se bevinding tog voldoen aan die tweede vereiste vir putatiewe noodweer. Dit is die een of die ander. Óf Pistorius het nie die opset gehad om die persoon agter die deur te skiet nie, en dan is hy onskuldig aan moord, óf hy het, in welke geval die verweer van putatiewe noodweer beskikbaar was.

Deur putatiewe noodweer opsy te skuif, het appèlregter Leach nie by die toepassing van onregmatigheidsbewussyn op die bewese feite uitgekom nie, en dit gevolglik nie bespreek of toegepas nie. Sonder hierdie oorbruggingsfout sou die appèlhof Pistorius nie kon skuldig bevind aan moord nie, gegewe die verhoorhof se bevindings dat:

Sy [Pistorius se] weergawe was dat hy eerlik, alhoewel foutief, geglo het dat sy lewe en dié van die oorledene in gevaar was.

 Daar niks in die getuienis is wat suggereer dat hierdie geloof nie eerlik gehou was nie. (3326–7)

X

 Appèlregter Leach het ook fouteer in sy definisie van dolus eventualis:

 ... ’n persoon se opset in die vorm van dolus eventualis is teenwoordig wanneer die dader die risiko dat dood sal intree voorsien, maar desnietemin voortgaan en optree met bewustheid dat dood wel mag intree ... Dit bestaan dus uit twee dele:

 (1) vooruitsiening dat die dood mag intree, en
(2) versoening met daardie voorsiende moontlikheid. [26]

 Met respek, hierdie benadering is duidelik verkeerd. Dolus eventualis, soos ook dolus directus, het ’n derde onderdeel of element. Die staat moet ook bewys dat die beskuldigde geweet het (besef het) dat sy optrede ongeoorloof is. Daardie wete of besef staan bekend as onregmatigheidsbewussyn oftewel, knowledge of unlawfulness. Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen die opset om dood te maak en die opset om te vermoor. Wat vereis word, is kwade opset, in Engels, evil intent, nie blote kleurlose opset om die gewraakte gevolg teweeg te bring nie.

’n Tweede blik op appèlregter Leach se definisie van dolus eventualis bring na vore die kontras tussen die geleerde regter se definisie en die appèlhof se definisie in S v Brown 2015 (1) SACR 211 (SCA):

Dit is noodsaaklik, te midde van die oefening waarna in die vorige paragraaf verwys word, naamlik die opweeg van die getuienis wat strook met Brown se pleit, om onsself te herinner aan die definisie van dolus eventualis. In CR Snyman Criminal Law 5ed (2008) by 184 word dit so gedefinieer:

 ’n Persoon tree met opset in die vorm van dolus eventualis op in die verrigting van die onregmatige handeling wanneer die veroorsaking van die onregmatige gevolg nie sy hoofoogmerk is nie, maar, (a) hy subjektief die moontlikheid voorsien dat, in die strewe na sy hoofoogmerk, die onregmatige handeling gepleeg mag word, of die onregmatige gevolg mag veroorsaak word, en, (b) hy hom met daardie moontlikheid versoen.

Let veral op hoe prof Snyman, en dan so ook die appèlhof self in S v Brown, dit duidelik stel dat die beskuldigde subjektief die moontlikheid moet voorsien dat die onregmatige handeling gepleeg mag word, of die onregmatige gevolg veroorsaak mag word ... en hom met daardie moontlikheid versoen. In S v Brown en by Snyman is onregmatigheidsbewussyn dus ’n element van dolus eventualis (wat die staat moet bewys), maar vir appèlregter Leach was dit klaarblyklik nie so nie.

Onregmatigheidsbewussyn word al sedert Romeinse tye in die strafreg erken en toegepas en is deur die Appèlhof bevestig in S v De Blom 1977 (3) SA 513 (A). Wat presies word bedoel met onregmatigheidsbewussyn? Dit beteken kwade opset, die evil intent waarna hier bo verwys is.

JC de Wet, De Wet en Swanepoel Strafreg, Butterworths (1985) verskaf op 152 die antwoord:

 ’n Mens handel dolo malo [met kwade opset] slegs wanneer hy hom willens en wetens in stryd met die regsorde stel ... dat hy bewus daarvan moet wees dat wat hy wil doen regtens ongeoorloof is.

 De Wet het die beginsel nagevors deur verskeie regstelsels, onder andere Duitse, Oostenrykse, Switserse, Hollandse en Engelse reg, met net Engelse reg wat eers teenstrydig daaroor was. (Maar dit was in 1985; Engelse reg het kort daarna ook die subjektiewe benadering tot opset gevolg – sien R v Gladstone Williams [1987] 3 All ER 411 en R v Beckford [1988] AC 130.]) De Wet het die beginsel in die Romeinse reg van Justinianus gevind (Digesta 5.3.25.6 en ander tekste) asook in die Hollandse reg (Hollandsche Consultatiën – Advysen 5.62) en verder en in die geskrifte van De Groot, Johannes Voet, Van Leeuwen en Van der Linden, maw die skrywers oor die Romeins-Hollandse gemenereg wat Suid-Afrika van Holland geërf het. S v De Blom is dus nie ’n uitloper nie. Dit het net die beginsel bevestig.

Selfs in howe op ’n vlak laer as die appèlhof word die beginsel duidelik raakgesien en toegepas, soos in S v TNS 2015 (1) All SA 223 (WCC) by [31], waar regter Rogers sê:

Tensy ’n persoon ook besef dat hy onregmatig optree, is ’n noodsaaklike komponent van dolus afwesig ...

Die bydrae van die akademikus en senior advokaat Manfred Nathan KC kan hier bygebring word (Sien S v Dougherty 2003 (3) SACR 56 (W)). Nathan KC het reeds in 1902 geskryf:

[D]aar sal sake wees waar, ondanks die feit dat daar ’n onregmatige, opsetlike doodmaak van ’n ander persoon was, die korrekte beslissing desnieteenstaande strafbare manslag is. Dit sal die seldsame gevalle wees waar die opset nie kwaadaardig [evil] was nie, maw waar die bewustheid van die onregmatigheid van die handeling deur die dader afwesig was.

Om op te som: Onregmatigheidsbewussyn was by twee geleenthede op die Appèlhof se pad: Eerstens toe putatiewe noodweer ter sprake kom, en tweedens toe die hof die elemente van dolus eventualis moes oorweeg. Op beide van hierdie geleenthede is onregmatigheidsbewussyn oor die hoof gesien.

XI

 Suid-Afrika se voorste professore en lektore in die strafreg stem ook nie saam met die Appèlhof se uitspraak nie, alhoewel hulle dit in streng akademiese taal uitdruk. Dit sluit in: Jonathan Burchell, Principles of Criminal Law, 5de uitgawe, Juta (2016); Chris Snyman, Strafreg, 5de uitgawe, LexisNexis (2012) en Criminal Law, 6de uitgawe, LexisNexis (2014); Rinda Botha, “Putatiewe noodweer as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg: ’n Kritiese oorsig van die onseker pad tot by Pistorius en daarná”, LitNet Akademies, 14(2), 2017; Roché Steyn, “Oscar Pistorius: The two heavyweight champions of South African Criminal Law weigh in” (Part 1), eNCA News, 11 Julie 2016; Gustaf Pienaar, “Oscar Pistorius – vir laas. Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak”, Regsalmanak op LitNet, 16 Julie 2016; Kelly Phelps, “The role of error in objecto in South African criminal law: An opportunity for re-evaluation presented by S v Pistorius”, Journal of Criminal Law, 80(1):45–63, 2016.

Rinda Botha wys onder andere daarop dat appèlregter Leach se verwerping van Pistorius se weergawe omdat dit dan nie rasioneel sou wees nie, in stryd is met verskeie vroeër beslissings, onder andere S v Naidoo 1997 (1) SACR 62 (T); S v Sataardien 1998 (1) SASV 637 (KH); S v Joshua 2003 (1) SACR 1 (HHA) en S v Dougherty, supra, en dat dit nie versoenbaar is met die subjektiewe benadering tot dolus nie. Die versuim om rasioneel op te tree is relevant wanneer die hof moet beslis of ’n beskuldigde nalatig was, dus by strafbare manslag in Pistorius se geval. Daardie toets is objektief, en meet die beskuldigde se optrede teen dié van ’n rasionele, redelike persoon. Die toets vir opset – dolus – is subjektief, en meet slegs of die beskuldigde eerlik geglo het sy optrede is geregverdig. In hierdie tweede geval word geen vergelyking getrek tussen wat die beskuldigde geglo het en wat ’n rasionele, redelike persoon in dieselfde omstandighede sou dink nie.

Kelly Phelps voeg ander sake by die lys van sake waarin putatiewe noodweer van toepassing was: Netshilingulu v S [2003] JOL 11856 (W); Gumba v S [2007] JOL 19014 (T). Sy noem ook die gevalle van Siyabonga Mdunge wat sy vrou geskiet het en ’n opgeskorte vonnis ontvang het; Collin Masilela, wat sy dogter geskiet het, en Rudi Visagie, wat sy dogter geskiet het in die waan dat sy ’n skelm was wat die dogter se motor probeer steel het (hy is nie vervolg nie). Phelps kritiseer die uitspraak omdat dit afwyk van die subjektiewe benadering wat gesaghebbend in S v De Blom neergelê en toegepas is.

Pienaar voeg daarby die geval van ene Boshoff van Centurion wat sy eie dogter in soortgelyke omstandighede geskiet het. (Dit is onbekend of hy vervolg is.) Daar was voorheen reeds talle soortgelyke gevalle, en ook sedert 14 Februarie 2013.

Dit is dus nie asof die land onbekend was met die verskynsel waar ’n man in sy huis op ’n gewaande inbreker vuur en ’n geliefde familielid tref en doodskiet nie. Die regsbeginsels wat dan betrokke is, is eweneens nie onbekend aan die land se regslui nie.

 Dit is nie nodig om die inhoud en redenasie van die geleerde skrywers se onderskeie werke en artikels hier in besonderhede te ontleed nie. Dit behoort vir die leser voldoende te wees om te weet dat die land se beste strafregkenners van mening is dat Pistorius slegs aan strafbare manslag skuldig was, en dat die nuuskierige of agterdogtige leser sy of haar eie navorsing aan die hand van die skrywes van die genoemde professore en skrywers kan doen.

Ten slotte: Regter Goldberg van die VSA se hooggeregshof het daardie hof se gesag so beskryf (Goldberg, Arthur J, Equal Justice: The Supreme Court in the Warren Era, (1971):

 The Supreme Court’s legal authority is based on its judgment being final. Its moral authority is based on its judgment also being right.

In die geval van die uitspraak in Director of Public Prosecutions, Gauteng v Oscar Leonard Carl Pistorius 2016 (2) SA 317 (SCA) is dit dan ook so. Die hof se uitspraak kan nie verder op appèl geneem word nie en het dus die gesag van ’n beslissing wat regtens finaal is. Wat egter ontbreek, is die morele gesag van ’n uitspraak wat ook reg was.

Die Hoë Hof van Appèl: Appèlregter Seriti
XII

Dit volg dat as appèlregter Leach fouteer het deur vir Pistorius skuldig te bevind aan moord, dan moes hy nooit op daardie klagte gevonnis gewees het nie. Wat gebeur het, is dat die Appèlhof ná sy bevinding die saak terugverwys het na regter Masipa om Pistorius ’n toepaslike vonnis vir moord op te lê. Regter Masipa het toe, na oorweging van die feite en met die oog op gegronde en oortuigende gronde wat die hof sou toelaat om ’n vonnis anders as die voorgeskrewe 15 jaar gevangenisstraf op te lê, ’n vonnis van ses jaar gevangenisstraf opgelê. Regter Masipa, wat elke getuie, en in die besonder vir Pistorius, in die getuiebank gesien het – in sý geval vir langer as ’n week – het bevind dat daar wel sulke omstandighede bestaan, onder andere, die berou wat Pistorius getoon het vir wat hy gedoen het.

Die belangrikste feit wat vonnis betref, was nie of Pistorius berou getoon het nie, maar dat hy skuldig bevind is aan moord met dolus eventualis as opsetvorm en op die basis dat hy vir Reeva Steenkamp doodgeskiet het in die waan dat dit ’n indringer was wat agter die deur was. Appèlregter Seriti het dit egter nie so gesien nie en het regter Masipa se vonnis van ses jaar gevangenisstraf tersyde gestel en met die Appèlhof se eie 15 jaar gevangenisstraf vervang.

Appèlregter Seriti se uitspraak bestaan uit 26 genommerde paragrawe, waarvan die eerste 12 net die prosedurele geskiedenis van die saak herhaal. Paragraaf [13] van die uitspraak herhaal appèlregter Leach se woorde sonder om die feite van die saak te ontleed, en die redenasie is dus verkeerd om dieselfde redes as appèlregter Leach s’n.

... sy getuienis was so weersprekend dat mens nie weet wat sy ware verduideliking is waarom hy sy wapen gevuur het nie ... hy het by die ingang tot die badkamer geaarsel en toe hy agterkom daar is ’n persoon in die toilethokkie, het hy vier skote deur die deur gevuur en hy het nooit ’n aanvaarbare verduideliking daarvoor aangebied nie. [53]

Hierdie houding is opsigtelik verkeerd, soos selfs ’n oppervlakkige deurlees van die saakrekord aandui, en soos in die bespreking van appèlregter Leach se uitspraak uitgewys is. Pistorius is spesifiek uitgevra daaroor:

Nel: Maar is dit soos die Glock? Het dit net afgegaan? Of het jy die sneller getrek?

Pistorius: Ek het die sneller getrek, U Edele.

Nel: In die ... in ... hoekom?

Pistorius: Omdat ek gedink het daar was gevaar wat uitkom om my aan te val, U Edele.

Nel: Maar het jy nie ... toe jy sê jy het nie op die gevaar gevuur nie, het jy na die gevaar gevuur?

Pistorius: Ek het gevuur waar die vuurwapen gewys het, waar ek gedink het die gevaar was. (1870–1)

Nel: Het jy gemik om daar te vuur?

Pistorius: Nee, ek het nie na enige punt gemik nie, U Edele. (1870–1)

In paragraaf [14] van die uitspraak behandel appèlregter Seriti niksseggende feite wat in elk geval net op die skuldigbevinding betrekking het, soos dat Pistorius geweet het sy vuurwapen is gelaai met ammunisie en dat hy nie ’n waarskuwingskoot gevuur het nie.

In paragraaf [15] noem appèlregter Seriti die feit dat Pistorius nie getuienis afgelê het tydens die vonnisverrigtinge nie. Dít, reken appèlregter Seriti, beteken dat Pistorius

... versuim het om die hof in sy vertroue te neem ... [21]

Geen redes is vir hierdie bevinding gegee nie en Pistorius se week lange getuienis voor die verhoorhof word so eenkant toe geskuif. Pistorius mag in elk geval besluit het dat hy reeds so goed as wat hy kon, sy weergawe in die ope hof en voor ’n wêreldwye gehoor gegee het dat sy berou daar op rekord was, en selfs dat hy hom nie weer vir ’n week aan die tipe kruisverhoor wou blootstel wat hy alreeds ondervind het nie.

Verder tel Pistorius se apologie aan die Steenkamp familie blykbaar ook nie:

Na my mening dui die beskuldigde se poging om ’n apologie aan die Steenkamp-familie aan te bied nie enige ware berou aan sy kant nie. [21]

Die daadwerklike apologie wat Pistorius in die ope hof voor ’n wêreldwye gehoor aangebied het, was nou, volgens appèlregter Seriti, blykbaar slegs ’n “poging om ’n apologie aan die Steenkamp-familie aan te bied”.

Appèlregter Seriti bevind dan summier in paragraaf [21] dat Pistorius geen ware berou getoon het nie en dat regter Masipa verkeerd was deur te beslis dat die volgende omstandighede wel gegronde en oortuigende redes was om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis: (a) Pistorius se geloof dat daar ’n indringer in sy huis was. (b) Dat hy nie sy kunsbene aangehad het nie en kwesbaar gevoel het. (c) Sy gedrag onmiddellik daarna en toe hy Reeva se lewe probeer red het. (d) Sy versoek om Reeva se ouers te ontmoet om vir vergifnis te vra.

XIII

Deur in te gryp met die verhoorhof se beslissing op die feite – veral oor die teenwoordigheid van egte berou – het appèlregter Seriti presies dieselfde houding ingeneem as appèlregter Leach. Die beginsel is tog eenvoudig: Die verhoorhof se bevindings op die feite bly staan tensy die appèlhof binne die Dhlumayo-benadering ’n geldige rede kan vind om in te meng.

Die verhoor het oor verskeie weke gestrek. Die staat het 18 getuies geroep, en die verdediging 16, wat Pistorius insluit. Die verhoorhof, dws regter Masipa en die twee advokate wat saam met haar gesit het as assessore, het vir Oscar Pistorius daar, direk voor hulle, onder oë gehad en kon hom dus goed dophou. Daarbenewens was hy vir sewe dae in die getuiebank waar hulle hom nie alleen kon sien nie, maar kon hoor, en daarom sy gemoedstoestand ten opsigte van wat hy gedoen het, kon beoordeel. Appèlregter Seriti het nooit vir Pistorius as getuie kon evalueer nie. Hy was, in die woorde van lord Wright in Powell & Wife v Streatham Nursing Home wat hier bo aangehaal is, permanent in ’n nadelige posisie.

XIV

Wat opregte berou betref, het appèlregter Seriti die uitspraak in S v Matyityi 2011 (1) SACR 40 (SCA) by par [47] aangehaal waar die Appèlhof die hof se benadering so uitgedruk het:

... voor ’n hof kan bevind dat ’n beskuldigde werklik berouvol is, moet dit ’n behoorlike waardering hê van, onder andere, wat die beskuldigde gemotiveer het om die daad te pleeg; wat sedertdien ’n verandering in houding teweeggebring het; en of hy of sy inderdaad ’n opregte waardering het van die gevolge daardie handelinge. [21]

Wat Pistorius beweeg het om die daad te pleeg was natuurlik sy eerlike maar foutiewe waan dat daar ’n inbreker was wat vir hom en Reeva ’n bedreiging ingehou het, en die verhoorhof het ook so bevind, as ’n beslissing op die feite en op die getuienis.

Appèlregter Leach se uitspraak is ook tot daardie effek.

Verder: Wat appèlregter Seriti in die gesig gestaar het, is die volgende omstandighede wat kumulatief regter Masipa se bevindings en vonnis ondersteun:

  1. Pistorius se gedrag tydens die verhoor het getuig van berou.
  2. Sy gedrag toe Johan en Carise Stander en dr Stipp op die toneel aangekom het, getuig van die diepste berou.
  3. Pistorius het wel verskoning aangeteken by die Steenkamps en hy het dit in die ope hof voor ’n wêreldwye gehoor gedoen. Hy het dit ook voor die verhoor probeer doen.
  4. Volgens die deskundige getuies wat Pistorius op aandrang van die staat ondersoek het, was hy en Reeva in ’n liefdevolle verhouding (die buurman het getuig dat Pistorius vir Reeva aan hom voorgestel het en dat die paartjie beplan het om ’n huis in Johannesburg te koop) en was hy nie psigopaties of narsissisties nie.
  5. Die skuldigbevinding aan moord was gebaseer op die opset om ’n indringer te vermoor, en nie vir Reeva nie.
  6. Die opset – so het appèlregter Leach bevind – was die laagste vorm van opset, naamlik dolus eventualis.
  7. Daar was ook geen kwaadwillige of kwelsugtige motief nie.
  8. Die voorval het binne sekondes afgespeel in ’n scenario wat vir Suid-Afrikaners alte bekend is.
  9. Pistorius se gebrek was, alhoewel nie ’n verskoning vir moord nie, ’n faktor wat sy vrees vir indringers verstaanbaar maak, en sy optrede moreel minder laakbaar.

Daar is geen bespreking van hierdie oorwegings in appèlregter Seriti se uitspraak nie.

XV

Appèlregter Seriti se vonnis is ook nie in ooreenstemming met die vonnisse wat in soortgelyke sake opgelê is nie. Siyabonga Mdunge het sy vrou deur ’n toilet se deur geskiet en in die waan dat sy ’n inbreker was en is ’n opgeskorte vonnis van agt jaar gevangenisstraf opgelê. Collin Masilela het sy dogter in soortgelyke omstandighede geskiet. Rudi Visagie het sy dogter geskiet in die waan dat hy ’n persoon skiet wat haar motor probeer steel het. Hy is nie vervolg nie. Die klagtes is teruggetrek teen ’n Vrystaatse apteker wat haar man, Frik Fouché, doodgeskiet het terwyl hy met ’n blaasvlam probeer het om hulle huis se veiligheidshek oop te maak. Ene Naidoo het sy pa doodgeskiet, ook deur ’n deur. Dougherty het ’n ongewapende man in die straat doodgeskiet en is drie jaar korrektiewe toesig opgelê vir strafbare manslag. In die laat 1970’s in Durban het Spanner Hartman se vrou hom aangesien vir ’n inbreker en hom doodgeskiet. Sy is skuldig bevind aan strafbare manslag en is aangehou tot die hof verdaag het.

Wat hierdie gevalle gemeen het, is nie net dat dit algemeen voorkom in ’n land waar landsburgers, ryk en arm, in vrees vir sogenaamde huisrowers lewe nie, maar dat: (i) die beskuldigde telkens ’n geliefde persoon (man, vrou, kind of ouer) doodgeskiet het; (ii) hulle sake soortgelyk is aan dié van Pistorius wat eweneens ’n geliefde geskiet het in die waan dat sy ’n huisrower was; en (iii) dat hulle óf glad nie vervolg is nie, óf slegs ’n opgeskorte vonnis gekry het – maw hulle het nie tronkstraf gekry nie. Hoe dan dat Pistorius 15 jaar tronkstraf moet uitdien?

Meet die saak van Mabefu Mbundwana teen dié van Oscar Pistorius (gerapporteer op news24.com 26 Augustus 2016). Mbundwana is skuldig bevind aan moord deurdat hy sy vrou met ’n stok doodgeslaan het – dit het verskeie houe gevat – omdat hy ontevrede was met die maaltyd wat hy haar beveel het om vir hom voor te berei. Sy vonnis was agt jaar gevangenisstraf, afgeskaal van die 15 jaar voorgeskrewe minimum. Dit lyk dus of ’n man wat sy vrou vermoor deur haar met ’n stok dood te slaan, agt jaar kry, maar ’n man wat poog om sy beminde vriendin te beskerm en haar per ongeluk doodskiet, moet 15 jaar uitdien – aan die een kant, verskeie doelgerigte houe om ’n eggenote met ’n stok dood te slaan, en aan die ander kant vier onbesonne skote met ’n pistool om ’n gewaande huisrower te skiet.

En wat van Sibusiso Tshabalala? Hy het sy 14-jarige seun Luyanda doodgeskiet voor die seun se skool in Ennerdale. Hy het in sy motor vir sy seun gewag en aan die slaap geraak. Toe die seun teen die motor se venster klop, het hy geskrik en in die waan dat die seun ’n kaper was, op hom gevuur. Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het sy pleit van skuldig aan strafbare manslag aanvaar en by wyse van ’n pleitooreenkoms toegestem tot ’n vonnis van 10 jaar gevangenisstraf wat in sy geheel opgeskort is (SABCNewsOnline 4 Junie 2019).

Hoe verskil Tshabalala se saak van Pistorius s’n?

Die Appèlhof self erken dat die verskynsel van ’n moord wat onder ’n misplaaste waan gepleeg word, ’n ligter vonnis as die voorgeskrewe regverdig, hoe irrasioneel die misplaaste waan ook al mag wees. In Director of Public Prosecutions v Kholofelo Charmaine Moloto (1007/18) [2019] ZASCA 83 (31 May 2019) het Moloto in die waan dat haar slagoffer, ’n onskuldige ouma, ’n heks was, die ouma en haar vyfjarige kleinkind met direkte opset vermoor. Moloto se irrasionele geloof in heksery was volgens die Appèlhof voldoende om die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar af te skaal na 10 jaar. Dus: ’n Dubbele moord met dolus directus ontvang 10 jaar gevangenisstraf, maar moord met indirekte opset, dolus eventualis, ontvang 15 jaar gevangenisstraf, selfs al was die slagoffer nie die teiken nie.

Indien Pistorius met dolus directus vir Reeva geteiken en vermoor het – soos gebeur het in Mabefu Mbundwana en in Kholofelo Moloto se gevalle – sou die voorgeskrewe vonnis 15 jaar gevangenisstraf gewees het waarvan net in spesiale omstandighede afgewyk kon word. Niemand sou kon kla as dit die geval met Pistorius was nie, selfs nie eers Pistorius self nie.

Maar dit was nié die geval nie.

In die lig van die feit dat die verhoorhof by monde van regter Masipa en haar assessore bevind het dat Pistorius nie die opset gehad het om vir Reeva te skiet nie, en gegewe dat appèlregter Leach dit in sy uitspraak duidelik maak dat Pistorius skuldig bevind word op grond van sy opset om ’n inbreker te skiet, moes appèlregter Seriti ten minste ’n vonnis anders as die voorgeskrewe 15 jaar gevangenisstraf oorweeg het.

Om op te som: Die vonnis wat Pistorius nou uitdien, kan nie met die feite soos bevind deur die verhoorhof en die Appèlhof versoen word nie, en ook nie met die vonnisse in wat in soortgelyke sake opgelê is nie.

Nabetragting
XVI

Daar kan nou gekyk word na ’n paar omstandighede wat hierdie saak uniek maak. Dit sluit in:

(i) Regsekerheid en die beslissings van ’n finale hof van appèl.
(ii) Pistorius se grondwetlike reg op ’n regverdige verhoor.
(iii) Vrees, en die gevolge daarvan, en onder andere Pistorius se paranoia met sekuriteit en sy beheptheid met vuurwapens.

Daar was ook ander omstandighede wat die verhoor en appèlle so buitengewoon gemaak het, soos die invloed van politici en drukgroepe soos die ANC se Vroueliga, die polemiek rondom die NVG se topstrukture en hulle besluite, en die rol wat die media en sosiale media in die vorming van openbare mening gespeel het. Aangesien hierdie bydrae konsentreer op die getuienis, die feite en die regs- en etiese aspekte van die saak, word nie verder op daardie onderwerpe ingegaan nie.

(i) Regsekerheid en die beslissings van ’n finale hof van appèl

Die regskrag van ’n beslissing van ’n finale hof van appèl is gebaseer op die feit dat daardie hof se beslissings finaal is. So is dit dan met die Hoë Hof van Appèl (die Appèlhof) se uitsprake, tensy daar ’n konstitusionele beginsel ter sprake is. Die beginsel dat die Appèlhof se uitsprake finaal is, berus op ’n regsfiksie, ’n verklaring vir die feit dat die uitspraak nie verder appelleerbaar is nie. Dit is egter niks meer as ’n fiksie nie, want ’n latere beslissing van die Appèlhof kan regsbeginsels wat in ’n vorige Appèlhofuitspraak foutiewelik neergelê en toegepas is, korrigeer. Dit gebeur gereeld.

Daar is vroeër op gewys dat die Appèlhof met ’n ander stel appèlregters by monde van appèlregters Cachalia en Plasket in Schoeman se saak beslis het dat appèlregter Leach se bevinding dat hy daarop geregtig was om met die verhoorhof se bevindings op die feite in te meng, gebaseer was op ’n foutiewe uitleg van artikel 319 van die Strafproseswet, 51 van 1977, en op Kanadese gewysdes wat nie op Suid-Afrika van toepassing was nie. Appèlregter Leach se wanvoorligting op hierdie aspek van wat ons reg is, het dus nie lank gehou nie.

Verskeie soortgelyke regstellings het reeds voorheen plaasgevind, dws regstellings wat die Appèlhof ten opsigte van sy eie uitsprake moes aanbring.

Neem die geval van R v Matsepe 1931 AD 150, waar Matsepe skuldig bevind is aan strafbare manslag nadat hy nalatig bestuur het en teen ’n boom gebots het. ’n Seun wat agter op die bak van Matsepe se lorrie gery het, is gedood. Die seun het hom op die bak versteek en Matsepe was onbewus van sy teenwoordigheid. Matsepe is skuldig bevind, nie omdat die seun se dood voorsienbaar was nie – ’n vereiste vir nalatigheid – maar omdat Matsepe se nalatige bestuur van die lorrie onregmatig was. Die Appèlhof se uitspraak was gebaseer op die Engelsregtelike beginsel bekend as versari in re illicita, wat daarop neerkom dat as jy met ’n onwettige aktiwiteit besig is, jy al die gevolge van jou dade dra, of jy dit nou bedoel het (opset) of nie, en of jy die gevolge moes voorsien het (nalatigheid) of nie. Appèlregter Leach se steun op “die natuurlike afleiding dat ’n persoon die waarskynlike gevolge van sy handeling bedoel” [54] is juis ’n uitvloeisel van die versari-leer.

In 1954 is twee jong mans tereggestel op sterkte van die versari-reël nadat die destydse hoofregter hulle skuldigbevinding in R v Du Randt and Another 1954 (1) SA 313 (A) bekragtig het, maar in S v Van der Mescht 1962 (1) SA 521 (A) en S v Bernardus 1965 (4) 573 (A) het die Appèlhof beslis dat die versari-reël nooit deel van ons reg was nie. Dit was natuurlik te laat om vir Matsepe van enige waarde te wees, en Du Randt en sy makker kon nie uit die dode gewek word nie.

Met R v Chipo 1953 (4) SA 537 (A) het ’n soortgelyke ding gebeur, maar andersom. Chipo is onskuldig bevind op ’n klag van regsverydeling op die basis dat die lê van ’n vals klag (die falsitas van die Romeinse reg) nie deel van die Romeins-Hollandse reg was nie. In S v Sauerman 1978 (1) SA 1073 (N) het ’n landdros anders beslis en ’n verkeerskonstabel wat ’n vals klagte teen ’n motoris uitgebring het, skuldig bevind. In Sauerman se appèl het ’n waarnemende regter ’n uitspraak geskryf waarin hy die landdros gelyk gegee het. Die Appèlhof in Bloemfontein het egter nie saamgestem nie en die beginsel in Chipo se saak in S v Sauerman 1978 (3) 761 (A) bevestig. Sauerman is vrygespreek. In S v Mene [1988] 2 SACR 482 (A) het die Appèlhof egter sy eie beslissing in die saak heroorweeg en bevind dat die landdros en die waarnemende regter tog reg was. Mene, ’n polisieman, is skuldig bevind.

Soos wetenskaplike teorieë, hou gewaande regsbeginsels dus net so lank as wat dit neem om dit verkeerd te bewys. Wat onregmatigheidsbewussyn betref, is S v Pistorius gedoem om aan te sluit by die lys van sake waar die Appèlhof sy vorige beslissings op ’n regsbeginsel moes regstel.

Vir Oscar Pistorius is daar geen troos in hierdie gevolgtrekking nie.

XVII
(ii) Die kruisverhoor van Oscar Pistorius

Kruisverhoor dien drie oogmerke, naamlik: (i) om gunstige feite aan die lig te bring; (ii) om ongunstige feite af te water; en (iii) om die getuie se geloofwaardigheid te ondermyn, en daardeur, gesamentlik, om die hof in staat te stel om die ware feite vas te stel.

Kruisverhoor wat subtiel en met onderbeklemtoning uitgevoer word, is meer oortuigend as ’n bombastiese en aggressiewe frontale aanval. Richard H Underwood stel dit met tipies Amerikaanse pittigheid so in “The limits of cross-examination 21”, American Journal of Trial Advocacy, 113 (1997) by 119 en voetnoot 33:

Talle advokate, selfs ervare verhooradvokate, het nie die basiese beginsels van kruisverhoor bemeester nie. Die kruisondervraer laat die getuie toe om hoofgetuienis te herhaal en te versterk. Die meer aggressiewe advokaat is dikwels meer beledigend as effektief, en kruip oor die getuie soos ’n kakkerlak, op soek na afval – betekenislose, onbenullige happies en krieseltjies.

 Aan die ander kant is een eeue oue strategie eenvoudig om almal uit te put. “As jy daarin kan slaag om die getuie uit te put of hom te dryf tot die punt van norsheid, dan het jy die effek van leuenagtigheid geskep.”

 (Die aanhaling kom uit Wellman, The art of cross-examination (1903), 81.)

Vir my was die kruisverhoor van Oscar Pistorius van die aard wat Underwood beskryf – ’n uitputtende gesoek na betekenislose, onbenullige happies en krieseltjies wat die skyn van leuenagtigheid in Pistorius se getuienis geskep het.

Nietemin: Die kommentaar van die Kanadese advokaat Scott K Fenton op die kruisverhoor verg ook aandag. As Fenton se kritiek op die aard en inhoud van Pistorius se kruisverhoor geregverdig is, dan kon ’n appèl voor die Konstitusionele Hof gebring word dat Pistorius nie ’n regverdige verhoor gehad het nie, om die redes wat voorheen uiteengesit is en so sterk deur Fenton verwoord is. Dit is nooit gedoen nie, maar dit is nie die einde van daardie gesprek nie, want die Appèlhof self het die inherente bevoegdheid (mag of jurisdiksie) om die regverdigheid van ’n verhoor aan te spreek en die ongeregtigheid wat uit ’n onregverdige verhoor spruit, reg te stel.

Regter Arthur Goldberg van die Amerikaanse Hooggeregshof het die beginpunt vir elke saak wat voor daardie hof dien, so gestel:

 Die basiese waarborge van ons Grondwet is opdragte vir die hier en nou, en tensy daar ’n oorweldigende gebiedende rede is, moet hulle onmiddellik uitgevoer word. (Arthur J Goldberg, Equal justice: The Supreme Court in the Warren Era, North-Western Press, 1971)

Toe Pistorius se saak voor die Appèlhof gedien het, was die eerste aspek van die verhoor wat die appèlregters moes oorweeg, gevolglik of Pistorius ’n regverdige verhoor gehad het, of die partye dit nou te berde gebring het of nie. Die hier en nou vir Pistorius se reg op ’n regverdige verhoor was nie net in regter Masipa se hof nie, maar ook in die Appèlhof in Bloemfontein.

Die staat se versuim om die Zombie-stopper-video tydig bloot te lê en die kruisverhoor wat op die vertoning van die video gevolg het, kan wel, soos Fenton aanvoer, die gevolgtrekking regverdig dat Pistorius se reg op ’n regverdige verhoor onherroeplik geskend is. Die Konstitusionele Hof sowel as die Appèlhof se eie uitsprake ondersteun daardie argument.

In Van der Walt v S (CCT) 180/19) [2020] ZACC 19 (21 Julie 2010) het die hof Van der Walt se skuldigbevinding tersyde gestel omdat die verhoorhof op die toelaatbaarheid van sekere getuienis beslis het eers nadat die beskuldigde sy saak gesluit het. Regter Madlanga, wat die eenparige uitspraak geskryf het, het die basiese beginsel soos volg uiteengesit in S v Ndhlovu 2002 (6) SA 305 (SCA) en S v Molimi 2008 (3) SA 608 (CC) bevestig en uit daardie uitsprake aangehaal. In Ndhlovu se saak het regter Cameron in die Appèlhof gesê:

’n Beskuldigde mag nie verras word deur die laat of onbesonge toelating van hoorsê getuienis nie ... Die staat moet voor hy sy saak sluit, sy bedoeling duidelik aandui dat dit op die bepalings van die Wet [op hoorsê] staatmaak ... sodat die beskuldigde die volle omvang van die getuienis wat hy of sy in die gesig staar, kan verstaan. [25]

 In Molimi se saak het regter Nkabinde in die Konstitusionele Hof gesê:

 Om te kan sê dat die applikant ’n regverdige verhoor gehad het, moet hy eers geweet het wat die saak teen hom was. [43]

 In Van der Walt se saak word die redes vir hierdie beginsel uiteengesit:

Dit stel ’n beskuldigde in staat om ’n ingeligte besluit te neem om sy of haar saak te sluit sonder om getuienis aan te bied of, waar hy of sy getuig of getuienis aanbied, om verdere getuienis aan te bied om spesifieke aspekte van die bewysmateriaal te weerlê. [25]

Volgens die uitsprake in Van der Walt, Ndlovu en Molimi se sake was die staat se versuim om die Zombie-stopper-video tydig aan die verdediging bloot te lê voldoende om, op daardie basis alleen, presies soos Fenton voorgestel het, die verhoor as ’n wanverhoor (mistrial) te beskryf. Deur nie die Zombie-stopper-video aan te bied voordat die staat se saak gesluit is nie, het die staat Pistorius die geleentheid ontneem om die video met sy regspan te bespreek, om advies in te win oor die toelaatbaarheid van die video, om sy taktiek daaromtrent te oorweeg, en selfs om te besluit of hy getuienis wil aflê of nie, soos regter Madlanga in Van der Walt se saak inderdaad verduidelik. Die saak van S v Gidi and Another 1984 (4) SA 537 kan ter opheldering aangehaal word. Regter Rose-Innes het na oorweging van die kruisverhoor van die eerste beskuldigde in die saak, en met verwysing na verskeie vorige beslissings (Omar, Booi, Azov en Van Lill) so beslis:

Die verrigtinge was onreëlmatig weens die aard van die kruisverhoor van die eerste beskuldigde, deurdat die perke van regverdige kruisverhoor erg oorskry is. (543B–C)

In verskeie ander sake van regoor die land het die howe skuldigbevindings tersyde gestel omdat die skuldigbevindings van die betrokke beskuldigdes nie in ooreenstemming met geregtigheid kon wees indien die ongerymdhede wat tydens die kruisverhoor van ’n beskuldigde (of sy getuie) voorgekom het, weggedink word nie. Die beginsel is in Gidi se saak so uitgespel:

’n Toets wat met gerief toegepas mag word om vas te stel of, al dan nie, so ’n onreëlmatigheid die effek het dat dit die verrigtinge tydens die verhoor ongeldig maak, is of die skuld van die beskuldigde bo redelike twyfel bewys is ten spyte van die onreëlmatigheid, deur getuienis wat nie aangetas is deur die onreëlmatigheid nie.

 Sou die beskuldigde onvermydelik skuldig bevind moes word selfs al was daar nie op onregverdige kruisverhoor staatgemaak nie? Kortweg, die ondersoek is of die onreëlmatigheid ’n mislukking van geregtigheid binne die bestek van artikel 322(1) van die Strafproseswet 51 van 1977 tot gevolg gehad het.

 Dit hang, op sy beurt, af van of die onreëlmatigheid die beskuldigde benadeel het, of moontlik waar die hof se ingryping deur openbare beleid vereis word. (543C–F)

 Dit is dus onteenseglik so dat as ’n beskuldigde se getuienis verwerp word as gevolg van onregverdige kruisverhoor en die uitspraak juis op die verwerping van sy getuienis gebaseer is, dan het ’n mislukking van geregtigheid plaasgevind. Dit is natuurlik presies wat met Pistorius gebeur het, en dit stem ooreen met die opinie van Scott Fenton.

Tweedens stel die passasie wat hier bo uit Gidi se saak aangehaal is, dit duidelik dat die skuldigbevinding nieteenstaande die onregverdige kruisverhoor onvermydelik moet wees. Dít kan ook nie in Pistorius se geval gesê word nie. As Pistorius se getuienis oor wat hy gedink en bedoel het, in ag geneem word, dan moet regter Masipa se uitspraak staan.

Dit behoort Suid-Afrikaanse regslui en die publiek te ontstel en ontsenu dat apartheid-era-regters in sake soos S v van Lill 1962 (2) PH H219 (T); S v Booi 1964 (1) SA 224 (E); S v Omar 1982 (2) SA 357 (N); S v Azov 1984 (1) SA808 (T), S v Nisani 1987 (2) SA 671 (O); S v Nkibane 1989 (2) SA 421 (NKA) en S v Gidi and Another ’n wakende oog oor die kruisverhoor van ’n beskuldigde in ’n strafsaak gehou het terwyl die howe in Pistorius se saak dit klaarblyklik nie gedoen het nie.

Hoe kon iets wat vir ’n buitelander soos Scott K Fenton so ooglopend en skokkend was, hier te lande so onder ons neuse gebeur sonder dat iemand dit kon raaksien of kommentaar daarop lewer?

Dit hoort nie so nie.

Op 28 Maart 2018 het die Konstitusionele Hof verlof na daardie hof geweier omdat die voorgenome appèl na daardie hof nie ’n grondwetlike punt geopper het nie.

XVIII
(iii) Vrees en die invloed daarvan op die gebeure

Volgens Pistorius se eedsverklaring wat sy advokate opgestel het en by die borgaansoek voor die hof geplaas het, was hy bevrees:

Ek het ’n geluid [noise] in die badkamer gehoor. Ek het ’n gevoel van vrees [terror] deur my voel trek [rush]. Omdat ek nie my kunsbene aangehad het nie, het ek kwesbaar gevoel.

(Soos op News24 se lewende uitsending gerapporteer.)

Vrees is ’n emosie waarmee Suid-Afrikaners nie onbekend is nie. Inteendeel. Die amptelike misdaadsyfers beaam dat ons vrees vir misdadigers in ons huise, op die pad en by die werk nie ongegrond is nie. Oral verskans ons onsself teen aanvallers met allerlei sekuriteitsmaatreëls en -apparate. Diegene wat dit kan bekostig, woon in woonbuurte met hoë mure daarom, met elektriese drade op die mure, met beheerde ingang waar mens soms net met ’n vingerafdruk kan inkom en waar foto’s van elke besoeker en sy of haar ID-boekie, rybewys en motor geneem word en op ’n rekenaar gestoor word. Steeds kom die skelms egter in, en huiseienaars voel genoop om nog ’n laag sekuriteit by hulle huise aan te bring met diefwering (waar dit toegelaat word), en alarmstelsels met noodknoppies wat gewapende veiligheidsbeamptes oproep. Diegene wat dit kan bekostig, organiseer hulle daaglikse lewens in kokonne. Daar is ’n veiligheidskokon om en in die huis. Van daar ry hulle in kokonkonvooie op pad werk toe, met die motor se vensters verdonker en die deure gesluit, dikwels met ’n vuurwapen byderhand. Elke dan en wan is daar ’n waarskuwingsbord wat lees: Hijacking Hotspot By die werk is daar weer ’n veiligheidskokon met sekuriteitsbeamptes by die hoofingang, soms met metaalverklikkers in gebruik. Skole en koopsentrums het soortgelyke stelsels. Selfs die koopsentrum is in ’n kokon van sy eie veiligheidstelsel geweef. Advokate en prokureurs praktiseer in ivoorkastele van waar hulle die hoi polloi daar doer onder sonder empatie kan aanskou. Om nie eens van regters te praat nie: Daar is minstens drie lae sekuriteit tussen die hofgebou se ingang en die regter se kamers daaragter. En tuis het hulle sekuriteit wat op die belastingbetaler se onkoste gelewer word.

In Pistorius se huis het hy nog twee lae sekuriteit gehad, afgesien van die pistool wat hy snags langs sy bed gereed gehou het. Sy slaapkamer op die boonste verdieping het ’n deur gehad wat die slaapkamer van die res van die huis afgesper het. Die deur was met ’n alarm bewapen met sy eie kode. Dit was vir Pistorius nog nie bevredigend nie, en hy het ’n krieketkolf so geplaas dat die deur nie van die ander kant af oopgestoot kon word nie.

Hoe het dit gekom dat hy, en baie ander, so bevrees geraak het?

In haar ontleding van appèlregter Leach se uitspraak haal Rinda Botha Neethling en Potgieter se artikel “Section 49 of the Criminal Procedure Act 51 of 1977, private defence and putative defence”, Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 3 op 607 so aan by 849:

Presies as gevolg van die dikwels volkome disrespek vir lewe, liggaam, waardigheid en eiendom, is dit nie meer realisties om van die “redelike versigtige persoon” te verwag om nie ’n senuweeagtige, bedremmelde papbroek, dikwels ontsteld uit vrees dat hy of ander ’n besering mag opdoen, te wees nie, en om dienooreenkomstig op te tree.

Die misdaadsyfers verskaf nie die volle waarheid nie. Daar was wel 15 609 moorde en 16 363 pogings tot moord in die 2012/13-verslagjaar. (Die huidige syfer, 2019/20, is oor die 22 000, oftewel 61 moorde per dag.) Daar was 60 262 gevalle van roof in die straat of openbare plekke en 17 950 “huisrowe”, ’n misdaad wat so gereeld voorgekom het dat ’n spesiale kategorie daarvoor geskep is, bo en behalwe 262 113 huisbrake. Huisroof is ’n huisbraak gekoppel met roof wat uitgevoer word teen die mense in ’n privaatwoning. Die graad van geweld – “die volkome disrespek vir lewe, liggaam”is meestal skrikwekkend en elke dag se koerante en aandnuus vertel nog ’n storie van ’n moord of ’n verkragting of nog ’n huisroof. Die atmosfeer van vrees word aangeblaas deur berigte in die media, gesprekke op sosiale media, en geselsies om die braaivuur of by ’n sportveld by die skool. In Eben Venter se Horrelpoot (Tafelberg 2006) sê die karakter Jaap: “Almal wat min of meer middelklas of daarbo gereken is, raak paniekerig.”

Pistorius se gebrek het min verskil gemaak op die atletiekbaan, waar hy sy man kon staan teen die wêreld se beste atlete, maar in sy slaapkamer in ’n handgeveg met ’n indringer, ’n huisrower volgens die polisie se omskrywing, een met volkome disrespek vir lewe, liggaam, waardigheid en eiendom, sou hy nie teen die aanvaller op gelyke voet kon meeding nie. Pistorius se angs was dus nie onverstaanbaar of irrasioneel nie.

Vrees genereer aksie wat nie noodwendig rasioneel sal wees nie. Dit is nie vrees op sigself wat die probleem is nie. Dit is hoe vrees ons optredes beïnvloed. Sommige reaksies op vrees is berekend, maar in ’n krisis is daar nie tyd vir ernstige, oopkop oorweging nie. Soos die skrywer Daniel Gardner dit in hoofstuk 4 van The science of fear: How the culture of fear manipulates your brain (Penguin 2009) stel: “Vrees kan mense blind maak vir waarskynlikhede, want die gevoel [van vrees] oorrompel die invloed van die werklike waarskynlikhede wat betrokke is.”

 Gardner verduidelik dat ons gevare en bedreigings vrees wat hoogs onwaarskynlik is, want ons is geprogrammeer om met emosie te reageer eerder as met rede. Die eerste reaksie op ’n potensiële bedreiging is emosioneel, instinktief, meen hy. Logiese denke volg eers later.

As daar ’n redelike verklaring vir Pistorius se vrese en sy optrede voor die toilet se deur kan wees, dan moet dit binne die raamwerk wat Gardner skets, gesoek word. Al die belangrikste getuies in die verhoor het, soos Pistorius, in veiligheidskomplekse gewoon, en behalwe Michelle Burger en Charl Johnson het hulle almal in dieselfde kompleks gewoon. Pistorius het sy pistool orals met hom saamgedra, selfs wanneer hy ’n restaurant besoek het of ’n uitstappie op ’n boot op die rivier saam met sy vriende geniet het. So behep as wat hy was met sekuriteit en vuurwapens, so onverskillig was hy met vuurwapens en ammunisie, soos die voorval in die restaurant toe hy ’n gelaaide pistool onder die tafel van sy vriend Darren ontvang het en ’n skoot daar tussen die mense afgevuur is, getuig.

Die teenwoordigheid van sy gelaaide pistool langs sy bed eerder as agter slot en grendel in sy kluis het die tragiese verloop van die gebeure moontlik gemaak. Dit was ’n conditio sine qua non (’n onontbeerlike voorwaarde) in die lyn van gebeure wat tot Reeva se dood gelei het.

Pistorius se getuienis oor die onderliggende volgorde van gebeure is nie deur die kruisverhoor aangetas nie en in verskeie opsigte was dit gemene saak. Daardie gebeure, met verskeie conditiones sine qua non, het so verloop:

Reeva het by Oscar kom oorslaap die nag van 13–14 Februarie 2013 [1445–7].
Hulle het saam aandete geniet [1456–60].
Oscar het Reeva gehelp met ’n kontrak [1460].
Daar was bouwerk aan die huis en ’n leer het buite gestaan [1475].
Oscar het twee waaiers in die oop skuifdeur tussen die slaapkamer en stoep geplaas en die alarm geaktiveer [1461].
Oscar het die kamerdeur gesluit en die krieketkolf in posisie geplaas [1462–3].
Hy het Reeva gevra om die waaiers in te bring, die deur toe te sluit en die gordyn toe te trek voor sy kom slaap [1465].
(*) (Omstreeks middernag het Reeva opgestaan en in die kombuis iets gaan eet.)
Net na 03:00 het Oscar wakker geword – Reeva was in die bed en ook wakker [1468].
Die waaiers was nog aan en die skuifdeur was nog oop (1468].
Hy het opgestaan en die waaiers ingebring, die deur gesluit en die gordyne toegetrek [1468–9].
(*) (Agter hom het Reeva toilet toe gegaan. Sy het eers die badkamer se venster oopgeskuif.)
Oscar het die venster hoor oopskuif en vermoed ’n inbreker het daar ingekom [1469].
Hy gryp toe sy pistool en vra vir Reeva om die polisie te skakel [1469–70]. (Sy was egter in die toilet – wat hy nie besef het nie.)
Oscar het toe die badkamer genader met die pistool voor hom gerig terwyl hy op die gewaande inbreker skree [1470–2].
Hy hoor toe die toilet se deur toegaan [1472].
Toe hy niemand in die badkamer sien nie, het Oscar afgelei dat die persoon of persone wat hy geglo het by die venster ingekom het, op die leer of in die toilet was [1472–4].
Hy skree toe vir Reeva om die polisie te bel [1474].
(*) (Reeva het op ’n stadium die toilet se deur van die binnekant gesluit.)
(*) (Sy het agter die deur gaan staan en teen ’n tydskrifrakkie gestamp.)
Oscar het op die geluid gereageer deur af te lei dat die persoon in die toilet wou uitkom en hy het toe vier skote in die deur gevuur – soos hy dit gestel het, before I knew it I had fired four shots [1475].
(*) (Twee of drie van die skote het Reeva getref en haar dood veroorsaak.)
Oscar het in die kamer rondgeskarrel en toe besef dat Reeva in die toilet was [1475–6].
Hy het deurentyd geskree en maak toe die balkon se deur oop en roep om hulp na buite [1475].
Hy het toe sy prostese aangesit, die badkamer se lig aangeskakel en die toilet se deur met die krieketkolf sodanig beskadig dat hy die deur van die buitekant af kon oopsluit [1477].
Hy vind toe vir Reeva daar op die vloer – sy was reeds dood (She was not breathing!) [1477].
Oscar bel toe vir Johan Stander, die noodnommer 911, en die veiligheidsbeampte (Peter Baba) [1480–1].
Tydens die oproep met Stander het hy het vir Stander gesê dat hy Reeva geskiet het denkende dat sy ’n inbreker was [2142–7].
Johan en Carise Stander het toe opgedaag, en ook dr Stipp en paramediese beamptes [1482–3].
Oscar het vir Stipp ook gesê dat hy Reeva geskiet het in die waan dat sy ’n inbreker was [318].
Later die oggend het hy dit ook op die toneel vir die eerste ondersoekbeampte, A/O Botha, gesê (News24 se lewende uitsending; sien ook [755])
(*) Feite wat tussen hakies aangedui word, is deur omstandigheidsgetuienis bewys.

Wat daar gebeur het, is dus volkome in ooreenstemming met Daniel Gardner se tese: ’n instinktiewe en emosionele handeling wat die gevolg was van Pistorius se diepgesetelde vrees vir indringers in sy huis tesame met sy totale blindheid vir die onwaarskynlikheid dat daar ’n inbreker agter die deur was. Dat Pistorius se handeling neerkom op strafbare manslag kan nie betwis word nie. Dit kan selfs aangevoer word dat hy roekeloos was.

Wat oorbly, is die verhoorhof se belangrikste bevindings:

In die huidige saak, op sy eie weergawe, het die beskuldigde vermoed dat ’n inbreker sy huis deur die badkamervenster binnegekom het. Sy weergawe was dat hy eerlik maar verkeerdelik geglo het dat sy lewe en die oorledene se lewe in gevaar was. Daar is niks in die getuienis om te suggereer dat hierdie geloof nie eerlik gehou was nie. [3327]

Dit volg dat die beskuldigde se foutiewe geloof dat sy lewe in gevaar was dolus uitsluit. Die beskuldigde kan daarom nie skuldig bevind word aan moord [met] dolus eventualis nie. [3329]

Ek is van mening dat die beskuldigde oorhaastig opgetree het en buitensporige geweld gebruik het. Onder die omstandighede is dit duidelik dat sy optrede nalatig was. [3334]

Daar kan kwalik met die onskuldigbevinding aan moord en die skuldigbevinding aan strafbare manslag gekibbel word.

Opsommenderwys, wat die regsproses betref

Ek is van mening:

(i) Dat die staat nie redelike gronde gehad het om Pistorius van moord met voorbedagte rade op Reeva Steenkamp aan te kla en te vervolg nie, aangesien die beskikbare getuienis van Estelle van der Merwe, Johan Stipp en Michelle Burger (onder andere), objektief beoordeel, onvoldoende was om ’n vervolging op so ’n klag te regverdig.

(ii) Dat die kruisverhoor van Pistorius op die Zombie-stopper-video ontoelaatbaar en onregverdig was; dermate dat sy reg op ’n regverdige verhoor fataal misken is, met die gevolg dat ’n mislukking van geregtigheid gevolg het, soos verduidelik in die sake van, onder andere, Gidi, Van der Walt, Ndhlovu en Molimi, en soos verder uiteengesit in die opinie van Scott K Fenton.

(iii) Dat die uitspraak van verhoorhof (regter Masipa en haar assessore, me J Henzen-Du Toit en mnr T Mazibuko) in sy hooftrekke korrek was op die getuienis, op die feite wat deur die betroubare en geloofwaardige getuienis bewys is, en op die regsbeginsels wat op die saak van toepassing was, met die uitsondering van die verhoorhof se toepassing van dolus eventualis met betrekking tot ’n gewaande inbreker.

(iv) Dat die Appèlhof by monde van appèlregter Leach fouteer het, eerstens deur op die verhoorhof se bevindings op die feite in te meng; tweedens deur daarna nie die volle bestek van kaptein Mangena se getuienis in ag te neem nie; derdens deur Oscar Pistorius se getuienis nie in ag te neem nie; vierdens deur nie die verweer van putatiewe noodweer in berekening te bring nie; en laastens deur die vereiste van onregmatigheidsbewussyn vir dolus nie in ag te neem en op die bewese feite (soos bevind deur die verhoorhof) toe te pas nie.

(v) Dat die Appèlhof by monde van appèlregter Seriti fouteer het deur teenstrydig met die Dhlumayo-benadering met die verhoorhof se beslissing op die feite in te meng en daaropvolgend te bevind dat daar onvoldoende gronde was om van die voorgeskrewe vonnis af te wyk, en verder dat hy waarskynlik uit die oog verloor het dat Pistorius skuldig bevind is aan moord op die basis dat hy met dolus eventualis, die laagste vorm van opset, bedoel het om ’n inbreker in sy huis dood te skiet, en nie vir Reeva Steenkamp nie.

Lees ook:

Die Staat versus Oscar Pistorius: ’n herbesinning – deel 1

The post Die Staat versus Oscar Pistorius: ’n herbesinning – deel 2 appeared first on LitNet.

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met JP Landman

$
0
0

Thabo Mbeki het in die laat 1980’s gewaarsku: Bevryding in Suid-Afrika sal gepaard gaan met groot korrupsie. Tans word daar word heelwat gedoen om staatskapasiteit te versterk, maar die ANC moet nog sy kant bring. Dit gaan nie ’n maklike geveg wees nie. Die politiek-ekonomiese ontleder JP Landman vertel meer.

The post Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met JP Landman appeared first on LitNet.

LitNet: Jou angstige tiener


Somtotaal deur Anchien Troskie – die somtotaal van ’n lewe uitgebeeld

$
0
0

Somtotaal
Anchien Troskie
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798180856

Somtotaal, die nuutste roman van Anchien Troskie, het onlangs by Human & Rousseau verskyn.

Die roman vertel die verhaal van Ester en Nonthando wat saam op ’n plaas in die Oos-Kaap grootgeword het. Maar dit is ook die verhaal van Nomsa Majola, Nonthando se ma, en Milagro Majola, Nanthando se dogter. Dit is ’n verhaal van verraad, van geheime, van jaloesie, maar ook van boetedoening en vergifnis.

Die roman handel oor die temas van verraad en vergifnis. Ester en Nonthando is van kleins af boesemvriendinne op die Oos-Kaapse plaas waar hulle grootword – hulle is byna soos susters en Nomsa is Ester se "Mama". Niks kan tussen hulle kom nie – of so het hulle gedink totdat Ester aan die einde van haar matriekjaar Jeffreysbaai toe gaan vir die somervakansie en in die liefde vasgeloop het. ’n Tipiese vakansieromanse ontstaan tussen Ester en Mateo. Sy neem hom op Nuwejaarsdag plaas toe, maar iets vreesliks gebeur daardie dag. Dit is waar Mateo en Nonthando mekaar ontmoet en die verraad begin (of het dit al vroeër begin?). Dit is grotendeels Nonthando se dogter, Mila, wat die verraad en die haat die skerpste voel – veral wanneer sy verlief raak op Dewald, Ester se seun. Maar van almal is dit Ester wat die swaarste las aan die verlede dra, en uiteindelik raak die las vir haar te groot. Sy probeer ’n einde aan haar lewe en die verraad maak, maar moet nog daarmee saamleef totdat sy die waarheid teenoor Mila bieg om vergifnis te kry: "Ek is jammer. Ek weet jammer beteken niks. Maar dit is al wat ek het. Ek wens elke dag dat ek die horlosie kan terugdraai, dat ek jou ma se brief aan jou pa gepos het, dat ek syne aan haar gegee het. Dat ek haar lughawe toe geneem het. Maar ek kan nie. Ek het myself probeer oortuig dat dit tot Nonthando se beswil was om hier te bly. Dis waarmee ek my jare lank probeer verontskuldig het."

Troskie maak gebruik van twee vertellyne in die roman, al is die roman in sewe vertelsegmente verdeel, naamlik "Vrees", "Verlies", "Verandering", "Vernedering", "Verdriet", "Vrede" en "Vreugde". Daaruit kom die titel van die roman: die somtotaal van ’n lewe. Aan die einde van die roman het Ester "vrede gemaak met haar verlede, met haar verliese, met haar vrese, met haar vernederings". En Mila is "tuis in haar vel" en "Sy het die somtotaal van haar lewe leer verstaan: Vrees, verlies, verandering, vernedering, verdriet, vrede en vreugde."

Ester en Milagro se verhale word afwisselend deur ’n derdepersoonsverteller in hierdie segmente vertel. In beide se vertelgeleenthede kom die leser agter wie die ander karakters in die roman is, maar veral wie hierdie twee karakters is. Uit die twee se vertellings leer ken die leser die geskiedenis van die Marees, die Labuschagne’s en die Majolas. Saam met hierdie vertellings kry die leser ook ’n blik op die geskiedenis van Suid-Afrika: van die apartheidsjare en rassediskriminasie "met die donkergroen bordjie waarop BLANKES staan met ’n pyltjie na links, en nog een met NIE-BLANKES en ’n pyltjie na regs"; ook van die nuwe Suid-Afrika: "Haar eie generasie is baie minder daarvan bewus. En die jongeres, die kinders, by hulle is daar bykans geen bewustheid nie. Bewustheid is ook nie die regte woord nie. Almal sien kleur raak, dis ’n gegewe, maar die meeste respekteer mekaar se verskille en behandel mekaar as gelykes."

’n Ander tema wat uiters sensitief hanteer word, is selfdood. Die rede hiervoor, die gesprekke wat Ester daarna met haarself en die (denkbeeldige) sielkundige voer, en veral Dewald en Elanie se reaksies daarop, word simpatiek maar ook baie realisties uitgebeeld. Wanneer Dewald by haar wil weet hoekom sy dit gedoen het, hou Ester "haar blik op die motor in die hospitaal se parkeerarea. Sy wil nie die magtelose woede sien wat sy weet in sy blik en lyf is nie." Elanie sê: "Daar is min erger dinge as om ’n ouer aan die dood af te staan. Ek het reeds my pa verloor, ek kan Ma nie ook verloor nie." En Ester verwoord dit soos volg: "Sy verstaan dan self nie wat in haar kop aangaan nie. Nie daardie nag nie, nie in die dae vooraf nie, nie nou nie. Op ’n manier was dit ’n impulsiewe besluit. En ook nie."

Die leser hiervan kan Slotsom gerus lees. Die verhaal van Ester se wroeging en Mila se haat is boeiend en die tipiese pragtige woordgebruik van Troskie dra by tot die treffende uitbeelding hiervan. Dit is ’n verhaal wat die leser tot die einde sal boei, want ‘n mens wil weet wat die verraad is. En die bieg van Ester bring ook vir die leser verligting. Miskien kom die slotgedeelte te skielik en byna te gejaagd voor; asook die voorspelbare mooi en goeie einde, wat die minder geslaagde aspek van die roman is.

Uiteindelik is Slotsom die verhaal oor liefde: liefde tussen vriendinne, vakansieliefde, liefde tussen man en vrou, liefde tussen ’n ma en haar kinders, liefde vir jou instaan-ma wanneer jou ma sterf, liefde oor die kleurgrens. Die verhaal sê ten slotte vir die leser dat die liefde altyd oorwin.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Anchien Troskie oor Somtotaal

 

 

The post <em>Somtotaal</em> deur Anchien Troskie – die somtotaal van ’n lewe uitgebeeld appeared first on LitNet.

Hans gee Herklaas horings deur Rudie van Rensburg

$
0
0

Titel: Hans gee Herklaas horings
Skrywer: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie, 2020
ISBN: 9780795802324

Rudie van Rensburg het al agt gewilde spanningsverhale geskryf: Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana, Kamikaze (die 2018-wenner van die ATKV Woordveertjie vir spanningsfiksie), Ys, Medusa en Vloek, en die komiese roman Hans steek die Rubicon oor.

In sy nuutste komiese roman, Hans gee vir Herklaas horings, is Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, terug. Sy vriend, Vasie, nooi hom vir ’n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Die uitnodiging kom op die regte tyd, want dinge by Huis Madeliefie dreig om handuit te ruk en ’n wegbreek is dalk net wat Hans nodig het.

Daar gekom, vind hulle Herklaas is in ’n benarde situasie: Die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel in ’n luukse hotel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers tot aksie oorgaan, besluit Hans dat Herklaas ’n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.

Rudie skryf op sy webwerf oor die vorige Hans-avontuur: "Op 90 is Hans nog hups en springlewendig. Sy orige kinders maneuvreer hom egter vanuit hul tuistes oorsee uit sy lekker ou huis in die Kaap en in Huis Madeliefie in. Maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder ...

"Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme."

En dis juis waar ek my resensie oor die tweede Hans-avontuur wil aanhaak. Daardie "oudword op eie terme". Mag ek ook kan oudword soos Hans van Kraaienburg – sonder die safaripak en Crocs natuurlik – maar met dieselfde onblusbare lus vir die lewe; vir lekker uiteet, ’n whisky drink en nie gaan lê nie, selfs nie eers as almal om jou kla en kerm nie. My terme.

Ek het die voorreg gehad om twee maal die gespreksleier te wees by Rudie se misdaadromanbekendstellings. Ek kan dus nie sy boeke lees sonder om sy rustigheid te herroep, maar ook daardie vonkel in sy oog as hy iets komies gaan kwytraak nie. In my geestesoog is Hans van Kraaienburg dalk ’n baie ouer Rudie, en dit maak die boeke vir my nog lekkerder om te lees.

As ek reg onthou, was Hans se eerste avonture aanvanklik ’n kortverhaal. Die vollengteroman was ’n topverkoper en ek vermoed die nuwe een gaan in sy voetspore volg. Met alles en almal wat so neerslagtig is oor inperking en die politiek, is dié humor beslis wat die dokter voorgeskryf het.

Ek het ’n paar ouer vriende in tehuise vir bejaardes of bloot veiligheidskomplekse met beheerrade. Hul klagtes van mede-inwoners is baie gereeld net so belaglik of bisar soos dié waarmee Hans te make het in Huis Madeliefie. En hoe skreeusnaaks is sommige hiervan nie. En Hans se uitdrukkings en beskrywings laat jou ook gereeld trane afvee, soos die plakkaat in die mansbadkamers: "Staan nader as jy korrel. Onthou, jy het ’n kortsnoet-pistooltjie in jou hande, nie ’n langloopgeweer nie."

Of Vaaltuin Marais se baberbek en sy sketterstem; Voëltjie Trollip met sy jakkalsdraffie en enkele haar op sy kop wat "heen en weer wieg soos ’n lugdraad"; of Klaas Beandie se broekspype wat weer minstens ’n voet bo sy skoene sit – lyk of hy altyd te diep in sy broek spring.

Dan is daar ander kwinkslae, soos die beskrywing van die tattoo parlour: "Sy arms lyk vir Hans soos ’n kaart in ’n skoolatlas." Of die kleinkind wat voortydig swanger geword het met "die bal geskop het voor die fluitjie geblaas het" en "hy en dié kêrel breek nie brandhout van dieselfde tak nie". Sommige is so oorspronklik, jy lees twee maal om te verseker jou oë bedrieg jou nie.

Hans se stres oor die tehuis laat jou ook lag, al is dit net oor die manier waarop hy dinge verwoord.

Die skurk, Grond, en sy vrou, Bernadette, is weer eens bewys daarvan dat geld nie klas koop nie. Hul goue sweetpakke, pruike en liefde vir oordadigheid maak hulle eintlik meer lagwekkend as skrikwekkend.

En beskrywings soos "die onooglike moeisie op haar wang wat deur de jare al hoe meer soos ’n vrugtetor begin lyk" en "haar swaar grimering wat soos Spaanse pleisterwerk ouderdomskrake moet verdoesel" skep baie duidelik die prentjie van dié twee.

Vir die kritiese leser is daar natuurlik hopeloos te veel dinge wat te goed is om waar te wees of toevallighede wat die storie beter laat vlot, maar vir hulle wil ek byna woorde in Hans se mond lê en sê: "Sluk ’n chill pill."

Skink ’n glas wyn, krul op in jou gunstelingstoel en laat die trane lekker loop vir Hans-hulle se eskapades. Ek hoop daar is nog vele Hans-boeke vorentoe.

The post <em>Hans gee Herklaas horings</em> deur Rudie van Rensburg appeared first on LitNet.

Om mekaar in die hare te vlieg

$
0
0

Jason Lloyd

Die rasseherrie oor die TRESemmé-advertensie wat op Clicks se webwerf geplaas is waarin foto’s van ’n swart vrou en ’n wit vrou langs mekaar verskyn, het my laat dink aan die boek Afrikaners: Kroes, kras, kordaat van die skrywer en oudredakteur van Rapport, wyle Willem de Klerk, wat ook oudpresident FW de Klerk se broer was. In die Clicks-advertensie word die hare van die swart vrou onder meer as "dry and damaged" en "frizzy and dull" beskryf en die wit vrou s’n as "fine and flat" en "normal".

Kom ek gaan haal egter die storie by De Klerk se boek.

Al was dit nie De Klerk se bedoeling nie, het sy boek die nou ontslape radiojoernalis Chris Louw ’n paar jaar gelede die bliksem in gemaak. Louw was so kwaad vir De Klerk dat hy ’n opspraakwekkende ope brief aan hom geskryf het wat later tot die sogenaamde Boetman-debat gelei het.

Al het die twee mekaar lelik in die hare gevlieg, het die woord "kroes" in die titel van dié boek niks met kroeshare te doen nie.

Die gevoelige kwessie van gladde (of reguit) hare versus kroeshare is egter beslis ’n kwessie wat groter sal bly as die Boetman-debat. Om die sensitiwiteit van die reguit hare versus kroeshare uit te wys, wil ek op ‘n paar voorvalle wys wat die afgelope klompie jare in Suid-Afrika gebeur het.

In 2016 was daar ’n rasinsident in dié verband met die hare van swart meisies by San Souci Girls’ High School in Kaapstad. Hulle hare is as slordig en onbetaamlik volgens die skoolreëls beskou.

In 2019 was daar ’n soortgelyke insident by Malibu High School, ook in Kaapstad, toe daar na swart meisies se hare verwys is as "outrageous", dat hul hare soos bome lyk, en dat "net ape en leeus met Afro’s gebore word".

Nege meisies is oor hul hare geskors en dit het tot protes by die skool gelei – tot so ’n mate dat die Wes-Kaapse Departement van Onderwys moes ingryp.

In 2012 was daar ’n bohaai oor ’n (wit) haarkapper van Melkbosstrand wat geweier het om swart mense se hare te sny. Rapport het oor dié storie berig nadat dit bekend geword het dat talle swartes deur Tanya Louw, eienaar van dié manshaarkapper, The Barber Shop, die deur gewys word. Vir dié ongewilde stap, wat glo deur Helen Zille, voormalige Wes-Kaapse premier ondersoek was, het Louw die volgende redes aangevoer: "Ek is (ook) net opgelei om wit mense se hare te doen."

Terwyl Louw ten minste eerlik (?) was oor haar (onregverdige) optrede, kan die (wit) werkgewer van een van die swartes wat deur Louw weggewys is, Susan van Aswegen, "nie haar ore glo nie toe (Victor) Katekwa haar van die voorval vertel nie".

Wel, Van Aswegen moes kennis geneem het dat verskillende haartipes – dit wil sê gladde hare vs kroeshare – nogal ’n sensitiewe saak is, veral in bruin en swart gemeenskappe.

’n Kollega vertel op ’n dag dat ’n sekere dame – ’n lid van ’n bekende bruin familie wat vroeër prominent in die bruin politiek was – ’n bruin kêrel die deur gewys het omdat hy kroeshare gehad het. Dié kêrel sou met sy kroeshare nooit in die dame se familie gepas het nie, het die kollega vertel. Al sou die kêrel destyds ’n universiteitsgraad verwerf het en ook hoog op in die bruin politiek was, sou hy nog nie aanvaarbaar vir die dame se familie wees nie.

Die uiteinde van alles was dat die dame alleen oud geword het; ook eensaam gesterf het. Die kêrel het toe wel ’n vrou (met kroeshare) gekry.

Ongetwyfeld herinner die "reguit hare versus kroeshare"-issue ’n mens aan die potloodtoets – hoe dit deur die apartheidsregering gebruik – of misbruik – was om ’n persoon se ras te bepaal. Dit is reeds hierdie letsels wat nog vandag voortleef dat mense aan hul hare geken word.

Al sou die gladdebek karakters Joe Barber (Oscar Peterson) en Boeta Gamat (David Isaacs) in die destydse Joe Barber and Boeta Gamat 2 voortgaan met geniepsige herkouing aan die gevoelige kwessie, bring hul soms satiriese kommentaar geen genesing nie. Want steeds vandag vind jy nog ’n hele klomp (veral bruin) mense met soolkouse en "roulers" om kroeshare "glad" te probeer kry.

Ek vertolk dit as ’n strewe na gladde "Westerse" hare as die norm. Dit is ’n illustrasie van Suid-Afrikaners se beheptheid met hare.

Dink aan die nuuskierigheid destyds toe Allan Boesak en sy wit vrou, Elna, se eerste dogter, Sarah-Len, gebore is. So duur die nuuskierigheid voort as die babas van gemengde ouerpare gebore word.

In 2004 het Jonathan Jansen, later rektor van die Universiteit van die Vrystaat, geskryf oor sy gesukkel om sy "etniese" hare in Pretoria gesny te kry.

Jansen skryf: "Die probleem met hare is dat dit nie slegs die toetssteen vir wit oppergesag geword het nie, maar ook die stempel van swart patologie.

"[O]ndanks al die bravade aangaande swart trots en swart onafhanklikheid, skuil daar diep binne-in ’n aaklige monster wat sosiale aanvaarbaarheid gelykgestel aan gladde hare."

Daarvan was die gebeure in 2005 met Jody Kollapen, destydse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, ’n voorbeeld.

’n Manshaarkapper iewers in Pretoria het erken dat hy op grond van hare gediskrimineer het teen Kollapen deur te weier om sy hare te sny omdat hy nie wit is nie.

In EKM Dido se roman Stringetjie blou krale beklemtoon sy die hoofkarakter Nancy Karelse (Nomsa Hlabati) se identiteitskrisis wat met twee wêrelde verband hou – die een is bruin; die ander swart of Xhosa.

Deesdae (of is dit destyds?) gee ons (bruin en swart) uiting daaraan met warm kamme om kroeshare glad te stryk of deur kopdoeke te dra om kroeshare weg te steek.

The post Om mekaar in die hare te vlieg appeared first on LitNet.

Dis toe eintlik Schrödinger se virus

$
0
0

As ons nie getoets word nie, kan ons nie weet of ons dit het of nie. Ons moet maak asof ons die virus het, sodat ons nie ander kan aansteek nie. Ons moet maak asof nie die virus het nie, want as ons dit nie gehad het nie, dan is ons nie bestand daarteen nie. 

Daarom het ons die virus, en ons het nie die virus nie.
 
As jy nie die grappie verstaan nie, moet jy nie weer met my kom redekawel oor bonatuurlike gemors nie.

The post Dis toe eintlik Schrödinger se virus appeared first on LitNet.

Swerm

$
0
0

Foto: Canva.com

Swerm

Woorde       sprei      nie     maklik  
in die      kwarantyn Van         skedels          
                  steek In     dIe       dorstige         kele    
Maar as         Die maskers        val        dan      tuimel 
    Hulle        Uit        die       speekselneste    
        wYd die hemel     in   
            om spreeus te word wat aanhou 
       wentel na mekaar en
         wolkebeelde  maak
               en  duik en swenk
       en terugkeer  eensklaps
      As   Oogknippende       uile          skuilend 
op    die     geStrekte         arms   
        Van      afstandelike      bome        
            om       toe  te        kyk      deur      die  vensters
                  hoe       tikvingers 
                  Van  voor af  dwarrel om die letters
                           en  hoe  die frommels                                  
                              fladder oor die vloer                                       
                                 soos Dons

:die       wit          spore

vaN            die          murmurerings       

diep   
in Die hart   
van  woorde

The post Swerm appeared first on LitNet.

Dapper vrou

$
0
0

Foto: Canva.com

Dapper vrou   

Skerp en warm en jakkalsslu 
sluip jy weer vandag deur my eens parate lyf 
jou ruiltransaksie eis my lyf se pond vleis – drupsgewys 
lam en gelate aanvaar ek die vasgestelde prys

Jy is my onwelkome vertroueling – 
jy ken my stil-skree as ek verlam 
maar dapper, my broodnodige deel ontvang.

Tog, deur alles onthou ek die Lam en die Brood …

Steeds fluister Sy stem in my brose oor 
koester die Lam my vodde vlees 
omarm my Vader my honger, hunkerende hart

Tot ek weereens vreugdevol 
my hart ooprol 
voor Sy deurspykerde voete.                                                                                                                                   

The post Dapper vrou appeared first on LitNet.

Wolk se Hannes Barnard nou ook internasionaal

$
0
0

Hannes Barnard se eerste roman, Halley se komeet, is pas deur ’n Amerikaanse uitgewer gekoop om dit wêreldwyd in Engels te versprei. Sy tweede roman, Wolk, maak tans opspraak. Izak de Vries het met hom gesels.

Hannes Barnard

Wolk gaan oor vriendskap, maar dan ook oor twee vriende wat besluit om saam daardie eerste keer van jongvolwassene-wees te beleef. Dit is ’n gewaagde tema, maar jy doen dit baie goed. Was jy nie bang onnies gaan die boek afskiet voor hulle dit lees nie?

Dit ís moontlik ’n gewaagde tema, maar ek het gevoel dis ’n nodige en baie belangrike tema om aan te raak. Wat dit vir my ook interessant gemaak het, is dat hierdie vraag nie eraspesifiek is of beperk is tot een kultuurgroep nie; dit is universeel. Dit was, is en sal moontlik altyd ’n baie belangrike en pertinente vraag wees onder jong- én oumense. Ek het die voorreg gehad om vir baie jare met tieners te werk en hierdie vraag is een wat altyd opduik. Moderne jeugfiksie spreek soveel komplekse temas aan, soos geweld, mishandeling, seksuele oriëntasie, en meer, dat ek gedink het die tyd is ryp om een van die wêreld se oudste vrae te ondersoek: dié rakende jou eerste keer. Moet jy? Moet jy nie? Moet jy wag? Beteken dit nog enigsins iets? Is dit net ’n ding om uit die pad te kry? Is dit kosbaar? Hoe weet jy wanneer jy reg is? Ens ens. Daar is so baie vrae hieroor voor mens hoegenaamd eers aspekte soos geloof, kultuur en families in ag neem. En die hantering hiervan in die meeste flieks of TV-reekse word glad nie uit die oogpunt van regte tieners vertel nie, maar eerder uit die oogpunt van studio execs wat soveel as moontlik kaartjies wil verkoop of geld probeer maak. Dis nie rêrig nie. Daarom wou ek juis die twee karakters toelaat om self te besluit, sonder druk van buite. Ek wou hierdie vrae aan hulle stel in ’n veilige omgewing, dié van beste vriende wat mekaar liefhet en respekteer. Ek hoop dus dat onnies (of enigiemand) die boek lees voor hulle oordeel. Ek is oortuig daarvan dat hulle nie die boek (of vir my!) op die brandstapel sal gooi as hulle dit gelees het nie. Sekere dinge moet oor gepraat word, en dalk moet ons meer vertroue in ons tieners / jong volwassenes plaas en glo dat hulle bevoeg is om self moeilike besluite te kan neem.

Net weer iets oor vriendskap. Dis ’n pragtige tema en ’n wonderlike verhouding wat jy daar geskets het. Hoe het dié twee karakters in jou kop geklim?

Toe ek begin dink het aan die boek en die idee “wat sal gebeur as jy die apokalips misloop?” het dit dadelik vir my soos ’n tienerverhaal gevoel. Daarna volg die vraag wie die hoofkarakters gaan wees. Ek is dankbaar dat Rufus en Xandr opgedaag het. Ek is mal oor hulle!

Vriendskap is die sentrale tema. Dit is interessant hoe karakters, soos jy dit stel, in jou kop inklim. Ek wou graag oor beste vriende praat, en dan ook oor ’n tipe dubbele apokalips, die een wat die wolk (dalk) bring, en die dreigende apokalips van hulle vriendskap wat deur afstand moontlik vernietig gaan word (Rufus se pa besluit hulle gaan emigreer). Uit hierdie idee het Rufus en Xandr ontwaak. Ek skryf redelik organies, veral as dit by karakters kom, en begin gewoonlik met ’n idee, en dan leer ek die karakters ken soos ek skryf. Beide Rufus en Xandr het baie vinnig en baie sterk hulle stemme dik gemaak en dit was daarna heerlik om hulle as karakters te ontdek deur hulle te skryf. Hulle is nie geskoei op spesifieke mense nie, maar is moontlik kombinasies van mense wat ek al ontmoet of teëgekom het. Die vraag oor platoniese vriendskap tussen ou en meisie het goed gepas in hulle dinamika, veral omdat hulle vriende is van kleins af. Hul vriendskap is konstant besig om te ontwikkel, maar die dreigende einde (die emigrasie) dwing hulle om ’n paar stappe vooruit te dink, veral aangesien al die eerstes wat hulle gewoond is om te deel nie meer sal gebeur as hulle eers deur kontinente geskei word nie.

Jy gee ook aan albei hulle eie spreekbeurte. Dit is slim, want so leer ons meer van elkeen deur die ander se oë.

Ek hou van die idee van die dubbele perspektief, en dit het vir my baie goed gewerk met Rufus en Xandr. Ek wou graag weet hoe beide van hulle hierdie avontuur, die vrese en die res ervaar; ek wou dit uit hulle oë sien en hoor wat in hulle harte aangaan. Dit was ’n baie lekker manier vir my om hulle te leer ken, om beide kans te gee om te ontwikkel en hulle stemme te vind.

Dan, veral oor die temas wat ondersoek word, wil mens tog weet wat in beide se koppe aangaan. Dit het net nie vir my reg gevoel dat mens daardie tipe goed net uit een se perspektief hoor of sien nie.

’n Baie lekker byproduk van hierdie aanslag, en die kort hoofstukke, is dat dit heerlik spanning bou. Ek moet bysê, die Lapa-span se uitleg van die boek is so goed gedoen dat dit definitief ook bydra tot ’n pretleeservaring. Ek het nou al by ’n paar mense (wat beweer dat hulle nie lesers is nie) gehoor dat hulle hierdie styl baie geniet het.

’n Wolk van vuur

Dan, die wolk. Hierdie wolk is oranje en verskriklik. Nou die ander dag was daar foto’s van die veldbrande in Kalifornië. Dit het gelyk of iemand besig is om jou boek te verfilm. Ons weet dus daardie oranje wolk van jou het ’n plekkie in ’n werklikheid, maar jy kies om die apokalips nogal anders te hanteer as wat iemand soos Deon Meyer byvoorbeeld met Koors gedoen het. Hoekom het jy hierdie vorm van apokalips uitgedink?

Daar is verskeie opinies oor wat die apokalips sal teweegbring. Alles van rekenaars wat die wêreld oorneem tot ’n supervirus. Natuurlik is ons as mense ons grootste vyande – die gevaar kom nie altyd uit die buitenste ruimte nie! Ek wou regtig kyk na iets wat moontlik is, maar ook werklik absoluut verwoestend. Iets wat alles wegvee wat ons ken, beide letterlik en figuurlik. Ek wil nie te veel verklap nie, maar kom ek sê net dat ek ’n baie spesifieke idee gehad het van wat hierdie wolk bring, en dit was belangrik dat lesers hulle dit kan indink, dat hulle daardie wolk kan sien. Soos jy tereg sê, nes die rookwolke tans in Kalifornië, is dit nie moeilik om dit in te dink nie, maar dit is moeilik om te weet hoe jy daarvan gaan ontsnap, veral as die bedreiging die hele horison volmaak en naderkom.

Daar is baie boeke wat die ná-apokaliptiese wêreld beskryf, waar die apokalips reeds plaasgevind het. Daarom was dit belangrik vir my om te fokus op die vóórapokaliptiese wêreld, en dan die onsekerheid oor wat die wolk bring, en wat die wolk vir hulle mag beteken. Die idee van alles wat om jou gebeur en jy weet nie wat aangaan nie, was een van die hoofidees waaruit die boek ontstaan het.

Ek is besonder lief vir die Oos-Vrystaat. Clarens, die berge aldaar en die een vakansie-oord word byna ’n karakter in hierdie storie. Tog, ’n mens sou dit ook elders kon laat afspeel. Waarom het jy so ’n bekende omgewing gekies om te verwoes?

Ek is ook baie lief vir die Oos-Vrystaat en is mal oor ons land se berge. Ek neem aan die feit dat ek naby die Drakensberge grootgeword het, speel ’n rol hierin. Jy is egter reg –  tot ’n mate sou hierdie verhaal in enige afgeleë plek kon afspeel. Daar was verskeie redes waarom die Oos-Vrystaat, en spesifiek die Clarens- en Golden Gate-area die ideale agtergrond geskep het om hierdie storie te vertel. Jy vat raak as jy praat oor “so ’n bekende omgewing”. Die meeste mense was al by, ken, of is ten minste bewus van die Clarens-omgewing. Hierdie bekendheid is baie belangrik vir my, omdat ek graag wou hê dat lesers heeltemal moet kan inkoop op die idee dat iets so bekend eenvoudig verwoes kan word. Dit maak dit ’n werklikheid.

Hierdie winkel in Clarence word belangrik aan die einde van die roman.

Dit help ook uit die aard van die saak dat die Clarens- en Golden Gate-area so ongelooflik mooi is – dit is ’n wonderlike plek vir enige storie om af te speel, maar ook om die kontras met die dreigende verwoesting duidelik te maak.

Is dit die vakansie-oord waar die karakters heen vlug? Dit lê stapafstand van Golden Gate af.

Toe jy Wolk geskryf het, was Covid nog nie ’n werklikheid nie. Maar op ’n vreemde manier was ons inperking in ’n tyd van krisis nogal baie soos wat die karakters in die grot beleef het, en jou boek het mooi tydens die erge inperking geland! Hoe laat dit jou voel?

Dit is interessant hoe dinge gebeur. Toe ek Wolk geskryf het, was ’n wêreldpandemie bloot ’n storielyn in boeke of iets uit die geskiedenis, nou is dit ’n werklikheid – ’n baie harde een daarby.

Ek dink Rufus en Xandr worstel met baie van die vrae waaroor ons gewonder het (en steeds wonder) tydens en ná inperking. Om afgesny te wees van die wêreld, om nie te weet wat aangaan nie, is dinge wat ons almal nou baie goed ken. Ek dink dus lesers sal selfs meer as voor die inperking, voor Covid, regtig kan voel wat Rufus en Xandr voel. Ek dink ook dat dit moontlik vir lesers goeie ontvlugting sal wees van die werklikheid deur hierdie proses saam met die twee mee te maak – om te sien wat hulle dink, hoe hulle dinge hanteer en dan ook spesifiek die hoop wat voorlê.

Is dit die grot waar Rufus en Xandr skuil? Die foto is ’n paar uur te voet van Golden Gate af geneem.

Daar is een vreeslik ongure karakter wat erg seksisties is met die vroulike hoofkarakter. Hy bly ’n groot rolspeler, tot aan die einde. Is dit metafories? Ons president praat van geweld teen vroue as ’n pandemie in Suid-Afrika.

Net omdat Rufus en Xandr wegglip van die huis af en op hierdie groot avontuur gaan, beteken dit nie dat hulle heeltemal verwyder is van die wêreld nie. Jeremy verteenwoordig die sleg van die wêreld, en dit daag ook die karakters uit, veral Rufus. Daarom, om jou vraag te beantwoord: Jeremy is definitief metafories vir baie van die probleme wat ons in die samelewing ervaar (onder andere die gruwel van geweld teen vroue en kinders). Betreffende die tema van bedreigings en apokalipse wat ek in Wolk gebruik: Hy word nog so ’n bedreiging, een wat moontlik net soveel skade kan aanrig as die wolk self.

Dalk moet ek hier net noem dat Rufus ’n baie sterk karakter is. Maar Jeremy toets haar, en vir my sou die storie dalk te ver verwyder gewees het van die werklikheid as ek nie hierdie element van die slegte deel van die bestaande wêreld (wat die wolk natuurlik bedreig) ingebring het nie.

Wolk is jou tweede boek. Dit is ’n jeugroman wat besonder goeie resensies kry, ook van jonger lesers. Jou eerste werk was Halley se komeet. Dit was dikker en het ook op jongmense gefokus, maar tog was die aanslag anders. Hoe het dit gebeur dat twee redelik verskillende boeke uit jou pen verskyn, albei gefokus op jongmense?

Ek is heeltemal oorbluf deur die goeie terugvoer oor Wolk, veral dié van tieners. Baie het gesê hulle kon hulself heeltemal in die karakters inleef. Dit is wonderlik om te hoor.

Ek geniet dit om oor tienerkarakters te skryf. Tieners is in so ’n interessante fase van hulle lewens. Nie meer kind nie en op die vooraand van die volwasse lewe, onafhanklikheid en alles wat daarmee gepaard gaan. Dis ’n tyd van veranderinge, vrae, soeke, ontdekking, onsekerheid, groot hoogtepunte en laagtepunte. Dit is dus ’n fase wat propvol geleenthede is vir ’n skrywer om karakters uit te daag met vrae wat volwassenes ook mee sukkel. In Halley se komeet het ek onder andere vir Pete uitgedaag om te kyk hoe hy sal reageer as hy gekonfronteer word met die realiteite van sy tyd as die borrel waarin hy geleef het, bars. In Wolk daag ek Rufus en Xandr om die dinamika van hulle vriendskap te ondersoek, vrae oor eerstes, en natuurlik die bedreiging op die horison, om ’n paar te noem.

Ek dink die beste manier om jou vraag te beantwoord is deur te sê dat ek van verskeidenheid hou. Ek lees nie net een genre nie, en professioneel werk ek nie net in een sektor nie, en daarom is die aanslag van hierdie twee boeke verskillend. Ek hou van verskeidenheid, ek wonder oor ’n magdom verskillende dinge, is geïnteresseerd in baie verskillende goed, en daarom is die stories wat in my kop inklim, verskillend. Halley se komeet het ontstaan omdat ek op daardie stadium nog in die buiteland gewoon het en sin wou maak van wie ek is en wat my plek as Suid-Afrikaner en wêreldburger is. Ek het gewonder oor die land wat ons nou het en waar dit vandaan kom, veral die onlangse verlede. Wolk het ’n “ligter” aanslag met meer humor, veral omdat die karakters mekaar so goed ken. Dit is ’n storie wat net gekom het, en toe ek eers begin skryf kon ek dit nie keer nie. Dit was ’n heerlike boek om te skryf. Ek vermoed ek sal in die toekoms aanhou om ’n verskeidenheid stories te skryf; dit daag my uit, hou die idees vars, en ek geniet dit baie om wyer te dink en te skryf.

Laastens: Halley se komeet is deur ’n Amerikaanse firma gekoop. Baie geluk. Vertel meer?

Baie dankie. Ek is ontsettend opgewonde en dankbaar! Ek het verlede jaar Halley se komeet in Engels vertaal en onlangs gehoor dat Catalyst Press die wêreldwye regte vir my Engelse weergawe gekoop het. Dit is ’n lang proses om die boek uit te kry, maar ek is tans besig met ’n klompie veranderinge en verbeteringe en hoop dat die boek teen 2022 op die rakke sal wees. Dit is ’n heerlike en anderse ervaring om met die Amerikaners te werk, en ek glo dit gaan my baie baat in my skryfloopbaan. Wat wonderlik is van Catalyst Press, is dat hulle werklik ’n passie het vir Afrika en Afrika-stories, daarom dink ek die Engelse Halley se komeet het sy regte tuiste gevind.

Die vertaling van Halley se komeet was ook op sigself ’n wonderlike skryfervaring. Veral om die nuanses van die verskillende kultuurgroepe en die gevoel van die tyd en plek vas te vang was ’n besonder lekker uitdaging. Ek sien uit na die terugvoer van Engelse lesers.

Lees ook:

Lesersindruk: Wolk deur Hannes Barnard

Skrywersonderhoud: Hannes Barnard oor Halley se komeet

Wolk: ’n onderhoud met Hannes Barnard

Fotografie: Izak de Vries

The post <em>Wolk</em> se Hannes Barnard nou ook internasionaal appeared first on LitNet.


Persverklaring: Oktober 2020 by die Bôrdienghuis

$
0
0

Somer laat nie op haar wag nie en ons is reg om in te val by die Plan Van Aksie.

Donderdag, 8 Oktober, hou ons boekpartytjie. Die dokter-skilder-digter, Piérre Botes se debuut-digbundel, Vertrek, het sopas verskyn en hy en dokter Amanda Swart sal ons siele verryk met hulle gesprek wat om 19h00 plaasvind. Deure maak reeds om 16h30 oop vir pizzas en wyn. Toegang is R30. Digbundels kos R150 en kan by dié geleentheid gekoop word.

9 Oktober se vertoning vir Valiant Swart is uitverkoop, maar dié wat hom gemis het vir Vrydagaand kry weer ’n kans om met Rocktober seker te maak hulle vang hom vir ’n live show. Dit is uiteindelik tyd om die someraandlug in te vaar met ’n glas wyn in die een hand, ’n sny pizza in die ander en rock & roll vir sielskos.

Die line-up vir 10 Oktober lyk só:

  •  Kom val so 15h30 in by die Bôrdienghuis in Wellington en bestel solank alles wat jou hart begeer.
  • 16h30 skop Jackson Hyde and the Jeffrey’s Witnesses die aand af met ’n elektrise kitaar en ’n rocker-stem wat vir niemand terugstaan nie.
  • 18h00 bring Valiant sy alombekende gees na die verhoog toe.
  • 19h00 kan almal regskuif in hul stoele vir Die Van Der Mentals.
  • Kaartjies is R120 pp. Ons almal het ’n bietjie van ’n rocker in ons wat wag om vrygelaat te word 🎸
15 Oktober kom vermaak Deon Meiring ons. Na afloop van hierdie naweek se sukses waar hy saam met Koos Kombuis grense verskuif het, kan ons met oortuiging sê dat díe vertoning iets gaan wees om oor huis toe te skryf. Kaartjiekoste beloop R130 pp.

16 Oktober klim Pierre van Schalkwyk op die verhoog. Hierdie sanger, akteur en regisseur se groot doel is om die gehoor te inspireer. Sy album "Studentejare" word ook vanjaar vrygestel. Vir beide 15 en 16 Oktober maak die deure 17h00 oop vir lippe natmaak en die vertonings begin 19h00. Kaartjiekoste vir 16 Oktober is R100. 

17 Oktober open die Suidooster-fees in samewerking met die Breytenbach Sentrum. Bywoning geskied voorlopig op uitnodiging.

30 Oktober sluit ons die maand op ’n hoogtepunt af met die een, die enigste: Bottomless Coffee. "Husband & Wife Multi-Instrumentalist Folk Rock Duo, Lourens and Esté Rabé making songs about life, love, blues and breakfast."
Die vertoning begin 19h00, maar soos altyd; val 17h00 in om die atmosfeer van die Bôrdienghuis en die fabelagtigheid van die Tuin van Digters te geniet.

Ongelukkig word geen toegang sonder ’n bespreking toegelaat nie. Alle besprekings kan per whatsapp by Alma Nel gemaak word, op 082 964 9352. Jou plek is bespreek as Alma die hoeveelheid kaartjies bevestig het.

Maak hierdie Oktober onvergeetlik! Kom sondaars, kom!

The post Persverklaring: Oktober 2020 by die Bôrdienghuis appeared first on LitNet.

Lus vir ’n aandjie uit? Bespreek nou jou Suidoosterfees-inryteaterkaartjie

$
0
0

Foto: Markus Distelrath van Pixabay

Die Suidoosterfees en Atlantic Studio’s laat die klassieke inryteater herleef. Van 4 tot 15 November 2020 word feesproduksies in ’n splinternuwe baadjie geklee, en kan groter gehore vanuit die gemak en veiligheid van hul motors na feesaanbiedings op die silwerskerm kyk.

Produksies wat op die silwerdoek geprojekteer word, word direk opgeneem terwyl die kunstenaars op ’n buitelugverhoog optree. Inryteatergangers skakel in op ’n FM-radiofrekwensie om in hulle motors na die klankbaan van produksies te luister. Die geleentheid voldoen volledig aan vereistes ingevolge die COVID-19- nasionale gesondheids- en veiligheidsregulasies.

Volgens professor Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees-direksie, is gehore uitgehonger vir teater- en musiekproduksies. Die fees se inryteater bied ’n veilige uitlaatklep, danksy die ondersteuning van borge en die samewerking met Atlantic Studios. Jaco Loubser sê dat dié inisiatief 'n alternatiewe opsie vir optredes en inkomste aan kunstenaars voorsien. Inryteatergangers kan ook uitsien na heerlike ‘roadhouse’-etes wat vanuit die Kokkedoorstoor voorberei word.

Produksies om na uit te sien: Klopse Jol, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks, Lottering in Lockdown, Francois van Coke en Early B, Koortjies met Jonathan Rubain en Lag my kla. Die vier topverkopers vir Suidoosterfees 2020, wat vroeër vanjaar as gevolg van die pandemie uitgestel moes word, was Kaapkreools, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks en Marc Lottering. Gehore het nou die geleentheid om die produksies by die inryteater te geniet.

Die Adams-broers saam met ’n eg Kaapse Maleierkoor, Klopsegroep en ’n tienstuk-orkes wat die voete sal laat jeuk in die produksie, Klopse Jol! Die legendariese PJ Powers snoer talente met die Tygerberg-kinderkoor saam om ’n onvergeetlike musiek-extravaganza na die inryverhoog te bring. Feesgangers kan uitsien na treffers soos ‘Welcome to Africa’, ‘The right to learn’, ‘Jabulani’, ‘The world in union’ en ’n massauitvoering van ‘Shosholoza’.

Gehore kan ook uitsien na ’n gesamentlike optrede van Francois van Coke en Early B – Suid-Afrika se grootste rocker en rymkletser op een verhoog!

Gary Naidoo tree op in Die Variety Show that skriks vir niks, ’n vertoning wat die verhoog in ligte laaie laat opgaan met skreeusnaakse komedie en ’n jol soos net die Kaap kan gooi. In Marc Lottering se produksie vertel die supergewilde grapjas van sy avonture gedurende die grendelstaat. Kom skaterlag saam vir sy weergawe van aanlynvergadering en tuisonderrig.

 Lag my kla is die uitvloeisel van ’n aanlyn kompetisie wat van stapel gestuur is om nuwe komedie-talent te identifiseer vir verdere ontwikkeling. Met dié projek van Son, kykNET en die Suidoosterfees het Shimmy Isaacs, Rezah Forbes en Solomon Cupido nuwelinge se talent geslyp. Die wenners van 2020 se Lag my kla-kompetisie tree saam met hulle op.

Die eerste Afrikaanse gospel-televisiereeks, Koortjies met Jonathan Rubain, is een van die gewildste reekse ooit op kykNET en Kie. Gaste wat in die reeks te sien was, kom byeen vir ’n aanskoulike verskeidenheidsvertoning by die inryteater.

Kaartjies kos vanaf R250 per motor, en kan by Computicket bespreek word. Besoek die Suidoosterfees se webwerf (www.suidoosterfees.co.za) vir meer inligting. Verblyfpakkette by City Lodge is beskikbaar teen R1600 vir twee persone, en sluit bed en ontbyt, ’n inryteaterkaartjie en inry-ete in.

Hierdie inisiatief van die Suidoosterfees is moontlik gemaak deur die Departement van Kuns, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, kykNET, NATi, Die Burger, Media24, Smile FM en Atlantic Studios.

So lyk die program

Francois van Coke en Early B
Ondersteun deur Netwerk24
Met Francois van Coke, Jedd Kossew, Richard Onraet en Early B
Venue: Atlantic Film Studios
Datum en tyd: 04 November 20:00
Tydsduur: 70 min
Prys: R250 per voertuig (maksimum 2 persone), R300 per voertuig (maksimum 4 persone)
Suid-Afrika se grootste rocker en rymkletser saam op een verhoog! Francois van Coke, sinoniem met Afrikaanse rock, is welbekend as solokunstenaar en die dryfkrag agter Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel. Saam met hom op die verhoog: Early B, die gewilde rymkletser wat soos ’n masjiengeweer ryme met ongeëwenaarde klarigheid uitspoeg! ’n Musikale kragtoer deur twee formidabele talente wat jy nie durf misloop nie.

Klopse Jol!
Ondersteun deur SON
Met Loukmaan Adams, Emo Adams, ’n Maleierkoor en Klopsegroep, ondersteun deur ’n Big Band met 10 lede
Venue: Atlantic Film Studios
Vervaardiger: Vicky Davis, met CTMA
Skepper en regisseur: Loukmaan Adams
Musikale regisseur: Schalk Joubert
Datum en tyd: 11 en 12 November 20:00
Tydsduur: 70 min
Prys: R250 per voertuig (maksimum 2 persone), R300 per voertuig (maksimum 4 persone)
’n Unieke inryteater-feesproduksie met Kaapstad se voorste kunstenaars wat die stad se ryke kultuurtradisies laat leef. Die Adams-broers saam met ’n eg Kaapse Maleierkoor, Klopsegroep en ’n tienstuk-orkes wat die voete sal laat jeuk. ’n Ervaring wat musiekliefhebbers nie sommer sal vergeet nie.

Koortjies met Jonathan Rubain en vriende
Ondersteun deur kykNET
Met Jonathan Rubain en die koortjies-orkes, Seuns van Sion, Micheala Andrews, David Jantjies, Marco Spaumer (Tim) en Theresa Sedras (Mrs J) van Suidooster
Venue: Atlantic Film Studios
Datum en tyd: 08 November 20:00
Tydsduur: 100 min
Prys: R250 per voertuig (maksimum 2 persone), R300 per voertuig (maksimum 4 persone)
Die gewilde Afrikaanse gospel-TV-reeks, Koortjies met Jonathan Rubain, is nou ’n Suidoosterfees-inryteaterproduksie! Jonathan Rubain, wat al die wêreld vol opgetree het met kunstenaars soos Kirk Whalum, betower feesgangers met bekende plaaslike musiekvriende soos Seuns van Sion, Micheala Andrews, Marco Spaumer (Tim) en Theresa Sedras (Mrs J) van kykNET se supergewilde sepie, Suidooster.

Lag my kla’
Ondersteun deur SON en kykNET
Met Solomon Cupido, Rezah Forbes, Shimmy Isaacs, Schalk Bezuidenhout, Wayne McKay, Melt Sieberhagen, Alfred Adriaan en wenners van die Lag my kla-kompetisie
Vervaardiger: Erns Grundling
Venue: Atlantic Film Studios
Datum en tyd: 05 November 20:00
Tydsduur: 100 min
Prys: R250 per voertuig (maksimum 2 persone), R300 per voertuig (maksimum 4 persone)
Bekende grapjasse Solomon Cupido, Rezah Forbes en Shimmy Isaacs het as mentors vir die Lag my kla’-kompetisie opgetree. Nou verskyn hulle op die verhoog met blinknuwe wenner-komediante. Schalk Bezuidenhout, Alfred Adriaan en Melt Sieberhagen maak ook hul verskyning. Feesgangers gaan poegaai wees van al die lag vir dié skreeusnaakse span by die Suidoosterfees @ Atlantic-inryteater. Kom geniet dié vrolike viering van die fees se suksesvolle sinergieprojek met Son en kykNET.

Lottering on lockdown
Ondersteun deur SON
Met Marc Lottering
Regisseur: Anwar McKay
Venue: Atlantic Film Studios
Datum en tyd: 13 November 20:00
Tydsduur: 70 min
Prys: R250 per voertuig (maksimum 2 persone), R300 per voertuig (maksimum 4 persone)
Vir hierdie vertoning bring Suid-Afrika se supergewilde komediant sy snaaksste stories uit twee aanlynvertonings, My fellow South Africans en Another One, byeen. En geen onderwerp bly onaangeraak nie. Maak jou gereed vir ’n skreeusnaakse blik op dinge soos Zoom-vergaderings en pa’s en ma’s wat hulle bloedjies skielik self by die huis moet onderrig.

PJ Powers in Konsert met die Tygerberg Kinderkoor
Ondersteun deur Die Burger
Met PJ Powers en die Tygerberg Kinderkoor o.l.v. Karina Erasmus, ondersteun deur die PJ Powers band: Tigger Reunert (kitaar), Schalk Joubert (baskitaar), Rollins Mankge (klawers) en Kevin Gibson (dromme)
Musikale regisseur: Tigger Reunert
Koorverwerking: JP de Villiers
Vervaardiger: Vicky Davis, met CTMA
Venue: Atlantic Film Studios
Datum en tyd: 14 November, 15 November 20:00
Tydsduur: 75 min
Prys: R250 per voertuig (maksimum 2 persone), R300 per voertuig (maksimum 4 persone)
PJ Powers, ’n Suid-Afrikaanse legende, snoer talente saam met die Tygerberg-kinderkoor om hierdie musiek-extravaganza na die feesverhoog te bring. PJ se onblusbare energie, tesame met die mooiste koorklanke en haar uitmuntende orkes, saamgestel uit van die land se top rock-musikante, gaan ’n onvergeetlike ervaring wees. Feesgangers kan uitsien na treffers soos Welcome to Africa, The right to learn, Jabulani, Sanbonani, Destiny, The world in union en Shosholoza.

The Variety Show that Skriks vir Niks
Ondersteun deur DKES
Met Gary Naidoo, Riyaan Cornelius, Janine Cornelius en Cindy Gibbons
Regisseur: Rafiek Mammon
Venue: Atlantic Film Studios
Datum en tyd: 06 November, 07 November 20:00
Tydsduur: 90 min
Prys: R300 per voertuig
Vermaak uit die boonste rakke! ’n Show wat die verhoog in ligte laaie laat opgaan met skreeusnaakse komedie en ’n jol soos net die Kaap kan gooi. Stel jou voor: verskeie kunstenaars en al jou gunstelingliedjies vanaf die 1960s tot nou. Met Gary Naidoo in die hoofrol en Rafiek Mammon in die regisseurstoel.

The post Lus vir ’n aandjie uit? Bespreek nou jou Suidoosterfees-inryteaterkaartjie appeared first on LitNet.

COVID-19, die klas van 2020 en loopbaankeuses

$
0
0

Foto: Pixabay

Impak van COVID-19-regulasies en afwaartse ekonomie

Skoolverlaters sal heel waarskynlik loopbaankeuses nou met groter omsigtigheid moet maak weens die impak van die COVID-19-grendelstaat en ’n afwaartse ekonomie.

Toekomsdrome in ooreenstemming met uitdagende situasie

Kundiges meen jongmense kan steeds hul toekomsdrome nastreef, mits dit strook met dié uitdagende situasie, wat gekenmerk word aan onsekerheid, inkrimpings en werkloosheid.

Prof Zak Nel aan die woord

Zak Nel, ’n loopbaanvoorligter in Linden, Johannesburg sê in die 40 jaar wat hy as professionele loopbaanvoorligter praktiseer, hy nog nooit ’n enkele gebeurtenis ervaar het wat so ’n dramatiese uitwerking op jongmense se loopbaankeuses gehad het, soos die COVID-19-grendelstaatimpak nie.

"Die impak van COVID-19-inperkings het ook ouers, onderwysers en voorligters sonder raad gelaat omdat hulle nooit deur so ’n krisis gewerk het nie. Die onvoorspelbaarheid van die situasie, die onderbreking van die skooljaar, die voortdurende vrees om aangesteek te word en die onverwagte isolasie het dié jaar se matriekgroep omver gegooi."

Angstigheid word ontketen

Die ekonomiese insinking, die werkloosheid van ouers en politieke woelinge het angstigheid ontketen wat ’n vorige geslag nog nie in so ’n intense formaat belewe het nie.

Onsekerheid word aangeblaas

Nel sê buiten die ervaring van verlies, is daar ’n onsekerheid wat aangeblaas word deur waninligting oor beroepsvooruitsigte, verwarrende menings oor veranderinge in die beroepsmark en watter soort werk nog in aanvraag gaan wees.

"’n Mens moet onderskeid tref tussen kort- en langtermynvooruitsigte. Op kort termyn is daar voor die hand liggende beperkinge op indiensneming in die toerisme-, gasvryheid- en reissektore.

"Net so is beroepe gekortwiek in die sport- en ontspanningsbedrywe. Dit wil voorkom asof maatskappye hul begrotings gesny het in die advertensie-, bemarkings- en gebeurtenisbestuursektore. ’n Mens kies nie ’n loopbaan in die kort termyn nie en hopelik sal daar weer ’n oplewing op die forums plaasvind."

Neem langtermynvooruitsigte in ag

Met die maak van loopbaankeuses is dit wys om langtermynvooruitsige in ag te neem. Dit wil voorkom asof daar tans ’n ontploffing van kennis en geleenthede in die gesondheids-, mediese en farmaseutiese bedrywe plaasvind.

"Die tendens het al begin posvat lank voordat COVID-19 begin byt het. Só byvoorbeeld is daar wonderlike studierigtings wat te doen het met medisinale chemie, bio-informatika, immunologie, genetika, mediese patologie asook stralings- en gesondheidsfisika," sê Nel.

Beroepe as goeie beleggings

Die keuse van ’n beroep soos genetiese voorligter, neurosielkundige, chiropraktisyn, arbeidsterapeut en fisioterapeut word ook tans as goeie beleggings beskou. Talle voorspellings dui daarop dat ’n behoefte aan tuisverpleegkundiges en tuisversorgers toeneem.

Volgens Nel moet skoolverlaters kennis neem van die uiteenlopende loopbaankeuses wat spruit uit die vierde industriële revolusie – ’n beroepswêreld waarin mense wat deur die COVID-19-ingrendeling beïnvloed is, meer tuis sal voel.

Elektronika en vierde-industriële-revolusie-beroepe (Foto: Pixabay)

"Die vierde-industriële-revolusie-beroepe wat te doen het met werk soos rekenaarwetenskap, kodering, rekenaarsekuriteitsisteme, data-analise, satellietkommunikasie, en elektroniese en inligtingsingenieurswese kan opwindende vooruitsigte inhou. Hierby kan gevoeg word studierigtings soos app-ontwikkeling, wolkbestuur, 'internet of things'-spesialisering en inligtingsisteembestuur."

Nel sê daar is ’n herontdekking van die waarde van wiskundige beroepe soos aktuariële wetenskappe, statistiese en biowiskunde.

"Vir ’n jong geslag met ’n kop vir wiskunde lyk dié vooruitsig inderdaad belowend."

Statistieke Suid-Afrika (SSA) maak aankondiging

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die ekonomie in die tweede kwartaal met 51% verklein op ’n geannualiseerde grondslag. Kundiges meen die werklikheid kan veral nou korttermyn-loopbaankeuses vir skoolverlaters beïnvloed.

Dr Christie Viljoen oor invloed van BBP-data

Christie Viljoen, ’n ekonoom by PwC Afrika, sê die onlangse data oor die bruto binnelandse produk (BBP) sal ’n korttermyninvloed op loopbaankeuses uitoefen.

"Dié skok sal beslis ’n uitwerking hê op loopbaankeuses. Skoolverlaters sal nou baie bewus wees van die beroepe wat die afgelope ses maande onder druk was.

"Ons verwys hier onder andere na toerisme en persoonlike dienste soos skoonheidsterapie en gimnasiuminstruksie. Dié opsies is nou meer riskant aangesien ons bewus is van hoe vinnig sulke ondernemings se deure gesluit kan word tydens ’n pandemie," sê hy.

Pandemie een keer in ’n eeu

Viljoen meen die situasie sal moontlik minder jongmense motiveer om tans sulke beroepe te volg ná skool. Aangesien dié soort pandemie een keer in ’n eeu voorkom, beteken dit egter nie dat niemand sulke loopbane moet oorweeg nie.

"Die onlangse inperkings gaan vir ’n hele paar jaar ’n negatiewe impak hê op die arbeidsvraag in sekere areas soos toerisme."

Die ekonomie benodig tans verskeie hupstote om uit die resessie te beweeg. Dit sluit onder andere in sekerheid van elektrisiteitsverskaffing, meer sekerheid oor ekonomiese beleid en makliker prosesse om in- en uitvoere te fasiliteer.

Entrepreneurskap in die kollig

Deur te besluit om entrepreneurs te word en werk te skep, kan jongmense help om die ekonomie te herstel. Dit is belangrik dat meer mense bestuurders word sodat geleenthede geskep kan word vir dié wat weens die COVID-19-regulasies hul werk verloor het.

"As werk- en inkomsteskeppers is entrepreneurs nou belangriker as ooit tevore. Nuwe geleenthede sluit in die vinnig-groeiende mark vir besigheid-tot-huis-aflewerings. Suid-Afrikaners het vinnig hul aanlyn aankope van byvoorbeeld voedsel verhoog tydens die grendelstaat en gaan heel moontlik volhou hiermee in die toekoms," sê Viljoen.

Stadsgeboue en groot maatskappye (foto: Pixabay)

Jongmense en groot maatskappye

Jongmense kan dalk neig na beroepe wat vir hul werk en ’n vaste inkomste kan verseker by groot maatskappye.

"Die aantal klein- en eenmansake wat die afgelope paar maande gesluit het, is oorweldigend. Dit kan maak dat jongmense eerder kyk na korporatiewe werk met ’n vaste maandelikse inkomste in plaas van entrepreneurskap waar inkomste meer wisselvallig kan wees," sê hy.

Resessie krimp werkgeleenthede

Met die ekonomiese resessie en afleggings het werksgeleenthede vir jongmense aansienlik gekrimp.

"Die afname in die BBP het veroorsaak dat baie mense hul werk verloor. Dié individue sal dus volgende jaar, wanneer die nuwe groep skoolverlaters begin werk soek, ook in die arbeidsmark wees.

"Diegene wat nou afgelê is, het alreeds vaardighede en werkservaring opgedoen. Dit sal tot hul voordeel strek teenoor nuwe skoolverlaters. Suid-Afrika het reeds voor COVID-19 een van die hoogste jeugwerkloosheidkoers ter wêreld gehad," sê hy.

Volgens Viljoen is rekenaarprogrammeerders, vakmanne en ingenieurs tans in groot aanvraag.

Prof Danie Meyer oor impak van die COVID-19-regulasies

Danie Meyer, ’n ontwikkelingsekonoom en direkteur van die TRADE-navorsingsfokusarea aan die Noordwes-Universiteit (NWU) sê die impak van die grendelstaat beïnvloed alle komponente van die samelewing en sal skoolverlaters se loopbaankeuses raak.

"COVID-19 sal heelwaarskynlik tot einde volgende jaar by ons wees. Werkloosheid skat ons sal bó 50% wees en geleenthede sal maar yl gesaai wees. Graad 12-leerders se loopbaanbesluite moet ongetwyfeld hierdeur beïnvloed word.

"Daar gaan nie werk- of loopbaangeleenthede by die staat of groot besighede in die volgende paar jaar wees nie. Feitlik alle ekonomiese sektore is nou gedruk om werkers af te lê. Jongmense sal ook moet besluit om óf die skooljaar oor te doen, óf oorsese geleenthede te gaan ontgin."

Hy meen die probleem is tydelik van aard en onsekerheid is aan die orde van die dag.

"Wie weet watter tipes werk sal wegval en deur die vierde industriële revolusie vernietig of verander word. Jongmense moet seker maak hulle leer ook soft skills aan en nie net werkgedrewe vaardighede nie."

Kies graadkursusse met sorg en eie sakeonderneming

’n Graadkursus moet versigtig en met sorg gekies word. Skoolverlaters moet ook poog om geleenthede te identifiseer met die doel om ’n eie sake-onderneming te begin.

"Alle BA-grade is tans riskant, maar indien ’n student dit aanvul met soft skills kan dit tot ander geleenthede lei. Studente moet universiteit toe gaan om soveel as moontlik te leer en daar begin dink aan besigheidsmoontlikhede. Laasgenoemde moet geoefen word terwyl hulle studeer," sê hy.

Meyer meen dis nie ’n slegte idee om nie dadelik universiteit toe te gaan nie. Sy raad vir skoolverlaters is: "Gaan verken eers die wêreld, kyk wat jy regtig in belangstel en werk as intern by verskillende besighede. Universiteitstudie gaan nie net oor wat jy in die klas leer nie, maar dis ook jou interaksie met ander studente op sport- en sosiale vlak wat jou lewenslesse leer."

Pandemie sal verbygaan

Die pandemie sal verbygaan en dan sal die ekonomie weer kop optel en geleenthede bied. Vir nou moet jongmense net die beste van ’n slegte saak maak.

Universiteite is ook negatief deur die regulasies geraak en kan nie vinnig genoeg aanpas deur byvoorbeeld inhoud van grade te hersien nie.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za

Mike Schüssler sê die uitgebreide werkloosheidsyfer in Suid-Afrika kan teen Maart 2021 tot so hoog as 53,2% styg, teenoor 38% in Maart vanjaar. Hy is van mening dat sekere loopbaanrigtings soos lugvaart, mynbou, vervaardiging en konstruksie tans in die weegskaal is.

Nel sê sonder ’n naskoolse kwalifikasie lyk die vooruitsigte beroerd.

"Die beste oorweging is dan om ’n taxibestuurder te word of om die moontlikheid van au pair-werk te ontgin. Insette by restaurante as kelners en skottelgoedwassers is ook ’n moontlikheid."

Sommige skoolverlaters is gelukkig genoeg om saam met hul ouers te boer, of miskien om verkoops- of administratiewe werk in ’n familiebesigheid te verrig.

Mense met grit-faktor aan wenkant

Navorsing het bewys dat mense met die sogenaamde grit-faktor, of vasbytvermoë, tog anderkant uitkom.

"Met die grit-faktor word bedoel dat ’n mens eenvoudig jou kop moet laat sake en dag vir dag vorentoe moet beur. Dit is hoe ’n mens terugslae hanteer en teleurstellings oorkom. In die tydgleuf van bedreiging deur COVID-19 is dit ook ’n tyd om jou geloofswortels in die grond te anker en ’n mens se toekoms ’n geloofsaak te maak," sê Nel.

The post COVID-19, die klas van 2020 en loopbaankeuses appeared first on LitNet.

Skoon wasgoed: Die X-faktor van Ena Murray

$
0
0

Foto: https://www.litnet.co.za/huldeblyk-ena-murray/

Ek was opgewonde toe ek in 1989 ’n aanstelling as redakteur by Tafelberg-Uitgewers kry. Ek was toe elders in die land ’n assistentuitgewer van akademiese boeke, en dit was ’n stappie ondertoe in rang. Maar die vooruitsig om naby die vuur te staan van Tafelberg se luisterryke fiksieskrywers en digters, weg van die steriele veld (vir my, altans) van droë akademiese boeke, het my die kans laat aangryp. En dit alles in die skadu van Tafelberg, in daardie betowerende stad Kaapstad, soveel kultuurryker as die staatsamptenaarlike Pretoria.

Ek praat hier met die tong in die kies, en wel wetende dat die geskiedenis dié soort nostalgiese praatjies nie gedoog nie. Maar nou is nou en toe was toe. Ek het uitgesien na die lig wat straal uit Hennie Aucamp, Anna M Louw, Petra Müller, Elsa Joubert, Klaas Steytler, Chris Barnard en hoeveel ander wie se boeke ek verslind het.

Aangekom in Kaapstad, word ek deur die maatskappy in ’n hotel net langs die Kompanjiestuin gesit terwyl ek na ’n plek soek om in te woon. Daarvandaan was dit ’n flink stappie van tien minute kantoor toe langs historiese witgekalkte mure en geboue en onder eikebome deur tot by die art deco-elegansie van die Waalburggebou wat ons kantore gehuisves het. Alles – die omgewing, die mense, die manier, die soort boeke – was net soveel anders as wat ek geken het. Ek het soos provinsiale royalty gevoel wat dit tot in die hoofstad gebring het.

Selfs my kantoor het my bekoor: afgeskort met dun droë mure en gemeubileer met ’n stokou lessenaar, ’n tiksterstoel, tamaai meganiese tikmasjien en ’n greinhoutboekrak wat eenmaal nuut was. Ek dag ek gaan nou daar agter my tikmasjien sit en wag vir die volgende meesterstuk in die pos. Ek sou op ’n elegante brief vir die skrywer uittik waarvan my letterkundige insigte die boek in ’n nog hoër wentelbaan sou lanseer.

Wat Charles Fryer, die hoof van fiksie, op my tafel kom sit het, was ’n manuskrip van Ena Murray. Toenmalig was sy die koningin van romantiese fiksie. Ek moes in die nering ingewy word, en dit was hoe ek moes begin.

In my adolessensie het ek gehou van die uiterste romantiek van Elmar Steyn se ou-Kaapse stories, die ene skeepkapteins met swaarde en swymelende vroue van kop tot tone in valletjies. Maar dit was van korte duur, en so ook die bestek van my ervaring in romantiese fiksie.

Let wel, ek maak Ena – nou reeds vyf jaar ter siele – nie as ’n mindere skrywer af nie. Dalk was die belangrikste ding wat ek deur hierdie opdrag geleer het, dat mens dit moet weerstaan om in hiërargieë van hogere tot lagere letterkunde te dink. Vir uitgewers veral is so ’n benadering ydel. Ena Murray was vir Tafelberg ’n baie, baie belangrike skrywer.

Ek weet jy sal wil sê ja, dis net omdat sy die geldkoffers gevul het. Dit is nie onwaar nie, maar die groter saak was dat talle duisende mense danksy haar boeke gekoop en passievol gelees het. En waar daar eenmaal boeke in ’n huis is waar kinders grootword, is die fondament gelê vir lees en lees agter jou interesse aan, en eendag lees jy Herman Hesse. Of relatiwiteitsteorie, as Einstein reg was. En ek dink hy was.

Deur Ena Murray was daar dus ’n ongeëwenaarde venster oop op die literêre skatte van huis Tafelberg. Ek weet ook vir seker dat Ena met dieselfde deernis en agting as al ons ander skrywers behandel is, van wie baie intellektuele en artistieke reuse was.

Die hantering van Ena se boeke was egter ’n eiesoortige prosedure, anders as die meeste ander. Terwyl dit ’n heilige reël is dat niks in druk mag verskyn wat ’n skrywer nie afgeteken het nie, het Ena glad nie omgegee wat met haar manuskripte gebeur na sy die laaste vel uit die tikmasjien gerits het nie.

’n Foto van die jongste van Tafelberg se Keur-reeks

Sy was ’n harde werker en ’n fenomenaal produktiewe skrywer. Sy het elke kwartaal ’n boek geskryf. Met háár vlak van verkope kon die klein Afrikaanse mark hierdie frekwensie van nuwe titels met gemak absorbeer. Maar sulke produksie vra ’n haas industriële produksielyn.

Aan die skeppende kant was dit Ena. Die meeste van haar stories het op bekende Suid-Afrikaanse grond afgespeel, hoewel sy soms avontuurlik gevoel het. Dan spin sy die aardbol en waar sy haar vinger blindweg druk, plaas sy haar volgende storie. Ek jok nie. My eerste boek van haar was juis ’n verhaal waarin wilde vrouevegters in ’n Suid-Amerikaanse oerwoud rondhardloop. Ek vermoed dit was deur die Amasones van die Trojaanse oorlog geïnspireer.

Sy het die temas van haar verhale uit die lewe om haar, stories in die koerante gehaal. Stories wat haar ontroer het. En sy het huiswerk gedoen, veelal met die hulp van haar man, Jacques. Sy het inligting versamel en ’n raamwerk aangeteken. Dan het sy by die tikmasjien gaan sit en die storie uitgetik, sonder hersiening. Wanneer sy klaar is, is daar 60 000 woorde en ’n gawe struktuur met begin, middel en einde.

Dan kry ek die manuskrip, lees dit deur en pos dit aan Denise Ohlson in Prince Albert. Denise het ’n vry hand gehad. Sy het stukke doodgetrek wat herhalend of oorbodig was. Sy het stukke verskuif waar dit beter pas. Ander stukke het sy self ingeskryf om haperings en kontinuïteitsfoute reg te stel. Dit alles nog buiten die nasien van taal en spelling. Wanneer ’n manuskrip in die pos van Denise af terugkom, was dit ’n bad rooi ink.

Dermate, terloops, kon jy destyds die poswese vertrou. Niks het weggeraak nie.

Dan moes die geredigeerde manuskrip gaan na ’n tikster wat die redigeermerke verstaan en die duisternis strepe en pyle en omruilings kan ontsyfer en die manuskrip in sy geheel oortik. (Ek is seker daar moet by Naln voorbeelde van haar manuskripte wees.) Dan moes dit weer geproeflees word, en pas dan kon die manuskrip na die setter gaan, wat sekerlik nog in die hardloop tikfoute reggestel het. Ek kan my nie herinner dat Ena drukproewe gesien of gelees het nie.

Die boek moes deur die produksiemeule gaan om betyds beskikbaar te wees vir Leserskring, ons groot vennoot in die verkope van haar boeke, saam met CNA en die klein Christelike boek-en-skryfbehoefte-winkeltjies wat jy nog wydverspreid oor die land gekry het.

Laasgenoemde was belangrik, omdat dit in effek naas Leserskring die grootste verspreidingsnetwerk vir boeke was, mits hulle stigtelik was. Ena se boeke, hoewel altyd met ’n liefdesverhaal daarby ingeweef, was nooit eroties nie. Die laaste woord in ’n toneel sou miskien “laken” wees, dan sny dit weg na iets anders. “Ek hou van vry,” het sy op haar kenmerkend reguit manier in ’n onderhoud gesê. “As dinge begin warm raak tussen my held en heldin, tik ek kolletjies.”

Die Christelike toon in haar boeke was een rede vir hulle sukses, maar daar was meer aan. George Louw was verhaleredakteur van Huisgenoot voor hy na Tafelberg gekom en Ena vir dié uitgewery gewerf het. Hy het gesê hy kon nooit sy vinger sit op die geheim waarom haar verhale so gewild was nie. Baie het haar dit probeer nadoen, maar nooit met haar soort sukses nie.

Nie dat daar nie ’n patroon, of noem dit nou maar ’n resep, aan haar boeke is nie. Iemand – ek vergeet wie, en kon dit nie opspoor nie – het in die jare tagtig, meen ek, ’n magisterverhandeling oor haar werk geskryf. Ek het dit gelees. Die navorser het twee strategieë in haar boeke uitgewys.

Die eerste was die sigsagpatroon. Afgesien van tema en lokaliteit was daar altyd ’n manlike held, stil en sterk en onafhanklik. Dan kom die heldin van elders daar aan. Sy is ’n verpleegster vir die held se verlamde broer (wat tipies “aan ’n rolstoel vasgekluister is”), of goewernante vir sy moederlose kinders, of die nuwe skooljuffrou op die dorp, of iets dergeliks. Hulle ontmoet mekaar en daar is dadelik ’n vonk tussen hulle.

Die heldin is egter ook ’n hardkoppige entjie mens, en kort voor lank bots hulle twee. Dié botsing gebeur tipies weens die toetrede van die wulpse rooihaarmerrie van die buurplaas. Sy raak mos alte eie met die held. Dan beweeg die held en heldin weer nader aan mekaar weens, sê, ’n onbaatsugtige daad van die held. Maar dit is nie lank voor hulle weer stry kry nie. So verloop die verhaal in ’n naby-ver-naby-patroon tot die twee uiteindelik verloof is of trou of ten minste alle verskille opsy skuif en die liefde met ’n kus verseël.

Hierdie verloop is die perfekte materiaal vir naelbytintrige. Die wete dat jy nog meer daarvan in Ena se volgende boek gaan kry, het grootliks tot die lojaliteit van haar lesers bygedra.

Die ander strategie wat die navorser beskryf het, kom naby aan daardie onpeilbare X-faktor. Ena het ’n manier gehad om intiem in die binneoor van die leser te praat. Asof die verteller in haar boeke ’n groot geheim met net jou, die leser, deel. Dikwels het dit ’n skindertoon aangeneem, wanneer sy van die skandalige optrede van die een of ander karakter vertel.

Ons praat van strategieë, maar as jy sou dink Ena het alles gesit en bereken, is dit ’n fout. Haar enorme en konstante opbrengs – daar moet in die omgewing van  120 romans wees – doen wat my betref aan die hand dat die boeke natuurlikerwys uit haar gevloei het. Daarom ook dat die stem in die boeke so trou gebly het. Ena was in haar boeke niks anders as haar eie romantiese, besorgde self nie.

As ek ooit ’n pretensielose mens geken het, was dit sy, Karookind van Loxton se distrik, Mosselbaaier in haar latere lewe. Kinderloos ná twee huwelike en twee miskrame, opreg en uit eie ervaring empaties met mense in pyn. In Jacques het sy egter haar ware maat gevind.

Wanneer sy en hy die Kaap besoek het, was dit in hulle woonwa. Hotelle het hulle nie geval nie. Die woonwa is dan in die Hardekraaltjiewoonwapark in die heuwels bokant Parow getrek, daar onder die hoë bloekombome. Daar het ek hulle saam met Charles gaan opsoek.

Ons skuif by die nou sitplekke weerskant die opslaantafeltjie in. Ek aan die muur se kant, Charles langs my. Jacques sit die bottel brandewyn in die middel van die tafel neer, en vier glase. Daar word nie gevra wie is in en wie is uit nie. Ek wat nie ’n groot drinker is nie, veral nie van hardehout nie, bewe in my broek, want ek weet hier gaan gekuier word. Die mense is joviaal en gemeensaam en sonder seremonie. Mens wil nie ’n sedepreker in die sirkus wees nie.

Teen die tyd dat ek die vraag: “En het jy dan nie ’n meisie nie?” moes kolf, was my swaai geolie. Daardie karavaan onder die bloekombome, het ek geweet, was nie die plek en tyd om uit die kas te val nie. Ek was gelukkig genoeg geskool in Ena se romantiese idioom om die terugbal so te spin dat g’n mens my sou kon uitvang nie. En ek was teen daardie tyd boonop vol jenewermoed.

Anderkant die lang middag uit moes ons die slingerende paadjie bergaf vat in die werk se Corolla. Dié was op sigself nie die stabielste van karre nie. Ek het myself eendag op die De Waalpad byna afgeskryf met daardie einste voertuig. Toe ons deur die tweede draai is, waar daar by my venster uit niks te sien was tussen my en Bellville doer ver onder nie, sê ek vir my baas agter die stuur: “Stop! Klim uit!”

Charles het gedwee gestop en uitgeklim en ek het die wiel gevat, net-net merkbaar vaster op die pad. Dit was nie die laaste keer dat ek geswael van ’n skrywer af sou vertrek nie. Dit neig om so te gaan. Ek weet nie hoe maak uitgewers deesdae nie.

Liewe Charles, liewe Jacques en Ena, almal nou onder die langbome. Maar Ena se werk leef voort. Van die 40 omnibusse, elk met ’n driestuks boeke in, is daar meer as ’n dekade gelede al iets soos 350 000 verkoop. Nou is daar ’n nuwe Keur-reeks, elke volume met drie boeke. Dié trek al weer by nommer 19. Die vraag na haar boeke is so onversadigbaar soos dié na die Maasdorp- en Keurboslaan-boeke, hoeseer ons tydsgees hulle al agtergelaat het.

Daar is ’n X-faktor aan sekere boeke. Harry Potter. Spud. ’n Man genaamd Ove. Ena Murray. Niemand kan jou sê presies wat dit is nie. En ek vermoed dis beter so. As ons geweet het, was die betowering dalk gebreek.

Lees ook:

Ena Murray (1936–2015)

The post Skoon wasgoed: Die X-faktor van Ena Murray appeared first on LitNet.

Disciplinary literacy and the development of reading comprehension

$
0
0

Abstract

This article discusses the role of two approaches to the teaching of reading comprehension strategies that may be conducive to the development of reading comprehension in South African schools.

The two approaches are the teaching of generic reading comprehension strategies (reading across the curriculum) and disciplinary literacy. The relevance of this discussion is supported by the background of the reading crisis in South African schools as shown by the Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS), results from the National Department of Basic Education and various academic studies undertaken in South Africa.

The 2016 PIRLS found that 78% of grade 4 learners in South Africa are unable to read with the necessary comprehension. According to the results in their study Howie, Combrinck, Roux, Tshele, Mokoena and Palane (2017) concluded that most learners in the intermediate and senior phase do not read well enough to understand the language of content subjects with which they are confronted at school. South African studies by inter alia Basson and Le Cordeur (2017), Klopper (2012) and Pretorius and Lephalala (2011) reached the same conclusion. These studies, and others, correspondingly indicate the critical importance of the professional development of teachers in the explicit teaching of reading comprehension skills. The same training is necessary in the initial training of student teachers and should result in changes in the curricula of faculties of education at tertiary institutions. Basson and Le Cordeur (2017) and Pretorius and Lephalala (2011) similarly argued that the same comprehension strategies should be taught to learners who are not taught in their home language, to enable them to reach sufficient competence in their use of academic language within the content subjects at school and thereafter.

The article describes the need for and development of academic literacy at school by referring to the work of Snow and Uccelli (2009), Patterson and Weideman (2013) and Goldman, Snow and Vaughn (2016). They define academic literacy as the capability to understand the disciplinary knowledge of specific subjects. This literacy includes comprehension of the discourse structure, subject-specific vocabulary, complex grammar and reasoning within the subject.

Reading for meaning entails that meaning is constructed by the reader from the text after developing sufficient decoding skills and fluency in the reading process (Vacca and Vacca 2009). A number of studies have conclusively shown that the scope of reading acquisition in the foundation phase is not big enough to prepare learners for the challenges of higher level academic texts in the intermediary and senior phases (Brozo 2017). In these phases learners need literacy skills on a higher level that enable them to comprehend the subject-specific vocabulary and concepts, interpret text features, make deductions, synthesize, and understand content knowledge and patterns of reasoning in academic texts.

The two approaches of reading across the curriculum and disciplinary literacy include the explicit teaching of reading comprehension strategies. The explicit teaching of reading comprehension strategies started in the 1970s and included strategies used by good readers and the explicit teaching of a range of reading strategies according to the transactional model. This model includes the development of metacognition and scaffolding of gradual mastering of the different competencies underpinning those strategies.

Later developments in teaching or reading comprehension strategies across the curriculum emphasised a more dialogic approach with class discussions and reasoning about the text while using evidence from the text. More attention was also given to the integration of several strategies in one text, such as reciprocal teaching (Wilkinson and Son 2011).

Research over the last decade has shown that the approach of using generic reading comprehension strategies across the curriculum was not always functional and effective enough to read in a specific disciplinary context. Studies by various researchers, for example Moje (2008), Shanahan and Shanahan (2012), and Goldman and Snow et al. (2016), showed that more attention should be given to an approach of disciplinary literacy. This approach places focus on the discipline itself and the use of reading strategies that mirror the reading of the subject specialist. Moje (2008:99) stated that “Disciplinary Literacy is a matter of teaching students how the disciplines are different from one another, how acts of inquiry, produce of knowledge and multiple representations form […] as well as [that] those disciplinary differences are socially constructed”.

The literacy and reading comprehension needed to understand a specific subject includes knowledge about the content, how that knowledge is constructed and generated, as well as how it is communicated and represented. It is essential that the content and process of how to study for that subject should be taught simultaneously (Brozo 2017).

The International Literacy Association (ILA 2017) declared in a mission statement that the two approaches, reading across the curriculum and disciplinary literacy, can both be used to teach academic literacy in different subject domains. The integration of the two approaches by use of specific strategies, for example activating prior knowledge in a subject and using text features, can combine insights of reading specialists and experts of the subject domain. This integrated approach is also supported by researchers in disciplinary literacy such as Snow and Uccelli (2009), Lent (2016) and Goldman and Snow et al. (2016).

Disciplinary literacy is an approach that recognises the unique way of reading, writing, reasoning and representing content knowledge in every subject or discipline. Every disciplinary domain developed into a subject-specific language or codification in its own way. This approach is more acceptable to subject specialists because it is developed through subject-specific research, focusing on reading and thinking strategies for specific understanding of the subject with the objective of reading and understanding subject material within the context of that subject (Shanahan and Shanahan 2012). In this way, the teaching of reading strategies to acquire academic literacy remains the purpose, but with awareness of the differences between subjects. The emphasis is on mastering the abstract concepts, vocabulary and grammar, text features, symbols and graphics of the subject (Shanahan, Shanahan and Misischia 2011).

Furthermore, various research projects and their conclusions regarding the nature of disciplinary literacy within different subjects are discussed. The projects included close cooperation of experts in disciplines, subject teachers and lecturers, reading specialists and learners in different grades. During the research all the role players were engaged in discussions, read-aloud procedures, monitoring of explicit teaching, reasoning within the subject and the use of different reading comprehension strategies. The results showed a remarkable difference between the nature of disciplines regarding structures, grammar and reading by experts. It simultaneously demonstrated a generic use of certain reading comprehension strategies, yet it emphasised how the nature of use of those strategies differ within various disciplines. Close reading, the activation of background knowledge, and reading of visual representation and strategies to understand vocabulary differed from subject to subject (Shanahan et al. 2011, Goldman and Snow et al. 2016, Shanahan 2015). In a study regarding the differences between reading mathematics and geography texts it was observed that in both cases the texts made use of numbers, symbols and graphic representations. However, the specific representation, meaning and purpose of the text features differed to a great extent.

The conclusion is that the explicit teaching of subject-specific reading comprehension strategies is essential in disciplinary literacy. It is not enough only to teach general reading strategies across the curriculum. Teachers should know the discourse structure of their discipline and domain, what concepts and vocabulary are essential as well as what text structures and reasoning should be explicitly taught for understanding of that specific subject (Shanahan 2015).

Several studies in South Africa have revealed the lack of theoretical and pedagogical knowledge regarding the teaching of reading comprehension strategies, across the curriculum and within specific disciplines. It is essential to prioritise professional development of teachers in this regard. Urgent consideration should be given to explicit teaching of reading strategies, and the corresponding methodology, during the initial training of teachers.

Keywords: academic literacy; disciplinary literacy; reading across the curriculum; reading comprehension; reading comprehension strategies; teaching of reading comprehension

 

Lees die volledige artikel in Afrikaans

Vakgerigte geletterdheid en leesbegripstrategie-ontwikkeling

The post Disciplinary literacy and the development of reading comprehension appeared first on LitNet.

Viewing all 21927 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>