Hierdie is ’n tweede weergawe van ’n artikel wat reeds op LitNet verskyn het. Die artikel verskyn nou nadat noodsaaklike bywerkings bygevoeg is.
Die Afrikaanse woord meem (in hierdie artikel word die Engelse woord meme ter wille van verstaanbaarheid gebruik) is afkomstig van die Grieks mimeme, wat “iets nageboots” beteken. Ons kan ’n meme omskryf as ’n kultuurelement of gedragsisteem, oorgedra van een individu na ’n ander, gewoonlik deur nabootsing. Memes word gedupliseer, en blitsvinnig versprei, en verskyn in kleiner of groter variasies, afhangende van konteks. As deel van roetinekommunikasie, vernaam op sosiale media soos Facebook, Instagram, Twitter en WhatsApp en WhatsApp-groepies, lei mutasies, reaksies en teenreaksies weer tot nuwe memes. Soos genetiese selle deur evolusie sou ontwikkel en meer gesofistikeerd raak, verander meme konstant – selfs daagliks. Nes jy dink jy kan nie snaakser, aardiger, meer absurde memes teëkom nie – kaboem! Die wiele van die mememasjien draai, draai, draai.
Die woord meme is ’n afkorting van die Griekse mimeme, wat “iets nageboots” beteken. Ons kan ’n meme definieer as ’n kultuurelement of gedragsisteem, oorgedra van een individu na ’n ander, gewoonlik deur nabootsing. Memes word gedupliseer, blitsvinnig versprei, en verskyn in kleiner of groter variasies, afhangende van konteks. As deel van roetinekommunikasie, vernaam op sosiale media soos Facebook, Instagram, Twitter en WhatsApp, lei mutasies, reaksies en teenreaksies weer tot nuwe memes. Soos genetiese selle deur evolusie sou ontwikkel en meer gesofistikeerd raak, verander memes konstant– selfs daagliks. Nes jy dink jy kan nie snaakser, aardiger, meer absurde memes teëkom nie – boem! Die wiele van die mememasjien draai, draai, draai.
Memes laat Suid-Afrikaners nie net toe om ongelooflik skerp sosiopolitieke kommentaar op die stand van sake te lewer nie, maar vervul dalk ’n nog belangriker funksie: om die angel uit die daaglikse lewe en saam-sin-maak van hierdie trosbom van ’n land te haal. Die fok weet, ons is ’n passievolle nasie. Ons het dit nodig!
Plaaslik is daar ’n oorvloed uitstekende, uitspattige memes: Dink net aan dié met betrekking tot Derek Watts, Sewende Laan, die EFF en Juluis Malema, Faf de Klerk, Thabo Mbeki, Jacob Zuma en die ANC, en beurtkrag. En nou korona!
Carte Blanche is vir baie Suid-Afrikaners sinoniem met die naweek wat tot ’n einde kom; Maandag se blou net om die draai. Sewende Laan se Vanessa, Xander, Jan-Hendrik, Tiaan en Madel Terblanche was al die spilpunt van tientalle skreeusnaakse memes. Ek weet werklik nie of jy beter of slegter daaraan toe is as jy die memes van Xander en Vanessa wat praat van “slaai braai” en “as die apie se neus bloei moet die sirkus aangaan” gesien het nie, maar min memes van oorsee kan kers vashou by een van onse Julius in sy rooi oorpak wat een of ander ontsaglike wysheid kwytraak. Die kontraste tussen die (gevaarlike) hofnar en sêgoed met ’n diep ironiese ondertoon is om tegelyk van te lag en te huil.
Wie sal gou kan vergeet van die memes van ons woelwaterskrumskakel Faf de Klerk, oftewel die Springbokke se David Hasselhoff, in sy budgie smuggler met die landsvlag daarop? Verskoon die nare woordspel, maar oudpresident Thabo Mbeki het waaragtig vir homself ’n graf gegrawe met die aanstelling van die destydse minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang. Die memes met haar en die oudpresident oor die perfekte dieet om MIV-negatief te bly, en hoe om die gestel mooi skoon te hou, staan steeds as monumente vir die Suid-Afrikaanse kreatiwiteit en skeppende samesyn in die postapartheid sfeer.
Oor Jacob Zuma en memes hoef ek bitter min te sê. Elke jaar se staatsrede, veral die infame geleentheid waar die “Nkandla-nool” op sy vingers moes tel om ’n basiese som af te lees, het goud opgelewer. Memers het telkens gejuig. As jy ooit die dag verveeld is – dalk selfs oor die volgende drie weke se sosiale afstandhouding in jou huis – gaan google Jacob Zuma Nkandla-memes. Jy’s welkom! Om nie eers van die ANC se verskeie ministers en die Eskom-beurtkrag-fiasko te begin praat nie.
Bottom line: Die memes in Suid-Afrika is uit die boonste gestoeltes! Suid-Afrikaners het ’n absolute field day gehad met die onlangse beurtkragmemes en nou ook die koronavirus en “grendelstaat”- oftewel lockdown-memes. Ek verstout my om te dink aan al die memes wat hul verskyning gaan maak sodra die volgende drie weke se alkohol begin opraak. Geen groot braais of gaan kuier nie. Cue memes van Susan wat voor die spieël poseer met haar drie kiste chardonnay of sauvignon blanc. Hashtag lockdown! Hashtag wyntrein!
Die moderne meme as gebruiksterm is voorgestel deur niemand anders nie as Richard Dawkins. In sy The selfish gene (1976) het hy NK Humphrey se voorstel verwelkom: “Memes moet as lewende strukture beskou word, nie net metafories gesproke nie, en hulle lewe fisies in die brein.” Dawkins het aangevoer dat evolusie nie afhanklik is van ’n spesifieke chemiese basis van genetika nie, maar eerder van die bestaan van ’n “self-replicating” eenheid van oordraagbaarheid – met biologiese evolusie, die geen self. Vir Dawkins is die meme ’n voorbeeld van die “self-replicating unit” met belang om menslike gedrag en kulturele evolusie te help verklaar. Memes kan met reg beskou word as ’n soort aflaaibare kulturele sagteware – ware wat ’n groot verskeidenheid (sosiale) funksies vervul, allesbehalwe iets om voor die voet af te maak.
Die internetmeme as konsep is voorgestel in die Junie 1993-uitgawe van Wired, deur ene Mike Godwin. Vroeg-vroeg was memes versprei oor e-posse en boodskapborde. Hierdie memes het inderdaad bitter min gemeen met die memes wat jy in 2020 sal teëkom. Die eerste internetmeme was eintlik die “sideways smiley” – : - ) – in 1982 geskep deur die Amerikaanse rekenaarwetenskaplike Scott E Fahlman. Die gebruik om interpunksiemerkers in te span om emosie vas te vang en weer te gee is vinnig deur internetgebruikers regoor die wêreld opgeneem. Ander uitdrukkings het vinnig bygekom. Die internetmeme kan enigiets wees van ’n beeld tot ’n e-pos tot ’n videolêer. Letterlik enige beeld onder die son kan met behulp van programme soos Photoshop gedokter word, vergesel deur ’n pittige of pikante frase of sêding.
Die mees gebruiklike meme is dan ook ’n beeld van persoon of dier of ’n groep met ’n snaakse sêding. Die meme kan beskou word as moderne graffiti, reeds populêr teen die 1940’s. Hier dink ek spesifiek aan die graffiti “Kilroy was here”, onder verskeie name populêr reg oor die wêreld. Die voorbeeld illustreer hoe ’n meme aangepas word deur nabootsing en aanpas namate die sosiopolitieke en kulturele konteks verskil.
Die gedrukte media is tradisioneel meer passief van aard. Dis inderdaad moeilik om na te dink oor memes en media sonder om terug te keer na Benedict Anderson se Imagined communities: Reflections on the origin and spread of nationalism (1983), spesisifiek dat die “nasie” iets is wat sosiaal gekonstrueer word, verbeel word, met die media wat ’n sentrale rol hier vertolk.
Die media help op hulle beurt om hierdie “verbeelde gemeenskappe” te skep deur ’n massagehoor toe te spreek of om te veralgemeen en ’n groep individue as die “publiek” aan te spreek. Veral die inspan van sekere beelde en segswyses kan “in” groepe en “uit” groepe uitbou, en stereotipes word baie maklike deel van die alledaagse bestaan as dit nie voortdurend met ’n kritiese ingesteldheid ibenader word nie. Hoewel sosiale media meer geskoei is op aktiewe deelname en bydraes, en meer dinamies en veranderlik is, is daar oorgenoeg geleentheid vir implisiete en eksplisiete besinning oor die samelewing: Memes kan op eiesoortige wyse as ’n belangrike deel van hierdie proses geag word.
Dit is interessant hoe filosowe en denkers, van Sokrates tot Nietzsche tot Foucault en Camus, hulle eie memes het. In 2013 het Dawkins die internetmeme onderskei as een wat direk en doelbewus aangepas is deur menslike kreatiwiteit. Tradisionele memes kan bedrieglik eenvoudig wees; daar is deesdae ’n toenemende kompleksiteit, afhangende van die spesifieke (sub)kultuur, wat memes rig. Sou ’n mens kon praat van ’n meme-industriële kompleks? Vroeë memes soos die videomemes “Turn down for what” en die “Harlem Shake” was vir etlike maande populêr, in teenstelling met die veel korter raklewe van moderne memes.
Een van die belangrikste memeterme is die dank meme. Dit verwys na memes wat “edgy” of “alternatief” is. Die formaat is gewoonlik uit gewilde televisieprogramme, flieks, of videospeletjies, waar gebruikers humoristiese teks en beelde verplaas en verwerk. ’n Interessante voorbeeld is die “mot-meme”: Die mot soek ’n lamp, en dit beeld eintlik niks meer as die mens se fassinasie met motte uit nie. Ironiese memes, soortgelyk aan postmodernistiese kuns, bied weer vir die kyker laag op laag op laag ironie; hierdie memes word deep-fried memes genoem. Heelwat lesers sal bekend wees met die onlangse OK Boomer-memes, as iets tussen die dank en deep-fried meme.
Die sogenaamde Pepe-memes is van belang. Matt Furie se strokiesprentkarakter Pepe the Frog, het ’n internetmeme geword in 2008 – toe die meme se gewildheid snel toegeneem het op Myspace, Gaia Online en 4chan. Teen 2015 was dit een van die mees gewilde memes op 4chan, Reddit en Tumblr. Verskillende Pepe-memes sluit in die Sad Frog, die Smug Frog en die Angry Pepe. Gedurende die 2016-presidentsverkiesing in die VSA is Pepe gekoppel aan rassisme, die sogenaamde Incels, die alt-regse beweging en as ’n simbool vir Donald Trump beskou. Heel gou is die meme as ’n haatsimbool uitgekryt deur die Amerikaanse Anti-Defamation League, hoewel nie elke Pepe-meme so beskou word nie.
Die meme kan dus as ’n soort politieke speelbal beskou word, een wat konteks-spesifiek en vol subteks is. Dat ’n padda nou ’n politieke simbool kan word, klink dalk verspot, maar ek het al memes van ons eie Groot Krokodil (PW Botha) gesien!
Kortformaatvideo’s soos Vine en Tik Tok is betreklik nuut. So onlangs soos 2013 het Vines die mark getref, en dit het so spoedig as 2017 deure gesluit, maar bygedra en relevant gebly op Twitter en YouTube. Tik Tok het as ’t ware by Vine oorgeneem. Nou kan enigiemand, en veral jou hormonale tieners, jou mal maak met kort video’s van tot ’n minuut lank, eerder as net die “oogwink” oorspronklike ses sekondes van Vine. As jy dit kan verhelp wil jy beslis nie sien wat die koronavirus op Tik Tok inspireer het nie.
2019, en die eerste maand of so van 2020, het ’n enorme aantal prikkelende, verspotte, skreeusnaakse en absurde memes opgelewer. Wat reekse betref was daar veral: Stranger things, The witcher, Game of thrones, Marie Kondo, Spongebob Squarepants. Baby Yoda uit The Mandalorian, Futurama, The Simpsoms, Bojack Horseman, Bob’s Burgers en Rick and Morty.
Voorbeelde van filmmemes is dié met The Avengers en veral Thanos, Joker, Pirates of the Caribbean, Star Wars, Gene Wilder en Willy Wonka and the Chocolate Factory, die sogenaamde “condescending Wonka”-memes, Nicolas Cage-memes, memes met Ryan Reynolds en Ryan Gosling, en dié met Keanu Reeves, veral in verband met John Wick.
Buiten films en reeks is daar bekende memes soos “woman yelling at a cat, aka Karen and Smudge”, “Grumpy Cat”, die klein seuntjie oftewel “the success kid”, die advertensie vir Dos Equis-bier, met Johnathon Goldsmith, eerder bekend as “the most interesting man in the world”. Sy “I don’t always, but when I do” is al jare ’n internetgunsteling.
Moet ook nie van die volgende memes vergeet nie: Kanye West-gesigsuitdrukkingsmemes; die Edvard Munch The Scream-memes, en memes oor die Mona Lisa, met die spottende Jon Snow en (Jason) Momoa.
In die politiek oorsee het ons Donald Trump, Hillary Clinton, Barack Obama, Bernie Sanders, Theresa May en Boris Johnson; ook die Sussex Royals.
Wat is die relevansie en betekenis van memes vir ons, nou en in die nabye toekoms?
Memes help ons, broodnodig in hierdie onseker tye, om te vra: Waaraan heg ons waarde? Hoe bepaal ons wat belangrik is?
Tans is daar nie veel in die lyn van kopiereg oor memes nie. Soos die meeste dinge op die internet is dit uiters moeilik om te polisieer. Soos ander visuele mediums soos kuns en films help memes om iets te openbaar oor waar ons ons bevind as ’n globale en plaaslike samelewing. Memes sê iets betekenisvol – deur speels, aweregs, ironies en veelduidig te wees, soms met middelvinger, soms met vuis – oor wat nou vir ons saak maak, hoe ons besluit wat begeerlik, mooi en lelik is, en wat ons in publieke figure van waarde skat.
Memes illustreer hoe inligting, ook vals inligting en fopnuus, versprei, en toon hoe nuwe vorme van (meer onmiddellike) kennis ontstaan. Memekultuur het so ’n beduidende deel van ons manier van kommunikeer en ons alledaagse wêreld geword presies omdat dit so naatloos inpas by die “bite-size” vorme van verbruik wat die botoon voer. Hoe vinniger ons iets kan verbruik, inneem, geniet, verorber, verwerk, versend, hoe beter. Die meme-aptyt is onversadigbaar. Vra my, ek weet!
Dink gou aan hoe vinnig ’n meme versprei word op ’n platform soos Facebook en WhatsApp, en die memes wat gemaak is van die “Margharet”- en “Het Chris al gery?”-insident, die onlangse Kyalami Ninjas, en ander. Moeilik om ’n wêreld in te dink sonder hierdie tegnologie. Het ons almal nie vriende wat vir ons memes stuur en sê dié een of daardie een het hulle aan ons laat dink nie, of ’n meme stuur om iets te sê wanneer ons geen woorde kan vind nie?
Memes is deel van ’n soort skoorsoek, ’n soort anargisme, ’n koddigheid en ’n antagonisme. Akademici stel veral sedert 2013 in memes as kulturele tegnologie belang. Kyk byvoorbeeld na Limor Shifman se boek Memes in digital culture, uitgegee deur niemand anders nie as MIT Press in Cambridge, Massachusetts (2013). In 2011 reeds het die Northwestern University in Illinois in die VSA Meme Studies, ’n akademiese kursus oor memes, bekendgestel. Dit word die afgelope jare gereeld na verwys as ’n merker of aanduiding van presies hoe groot die internet se impak is op die samelewing, deur die vorming en veranderings rakende taal, kultuur, selfs opvattings en sosiale norme.
Is dit bloot verveelde, oorgewig tieners wat sit en tyd verwyl? Allermins. Deesdae kan enigiemand op Google Play en met ’n sterk wi-fi-verbinding verskeie meme-maak-toepassings in onder ’n minuut aflaai, en bykans enige foto onder die son in ’n meme omskep. Prettig? Natuurlik. Gevaarlik? Besluit self.
Dit gaan fundamenteel oor die uitdrukking van menings en emosies, nie altyd volledig gevorm nie, onontwikkeld (in Engels “inchoate”). Rou, plofbaar, vloeibaar. Bestaan daar iets soos plagiaat of steel en plunder wanneer dit kom by memes? Op hierdie stadium nee, benewens honderde verskillende memes wat die spot dryf met die idee van memes as intellektuele eiendom wat gesteel en versprei word.
Memes speel op ’n oppervlak van die eindelose lus (“endless loop”), soms binne konteks, soms totaal absurd. Die unieke kulturele logika van die meme bepaal dat dit nie altyd maklik, of wenslik, is om die trefkrag of waarde van ’n meme of memesiklus te bepaal nie. Dikwels word die effektiwiteit van die meme gekoppel aan die regte ding, op die regte oomblik, op die presiese regte plek, waar dit dan daarna ’n “remix” of herrangskikking ondergaan en verder versprei.
Die meme kan die hele spektrum van emosies dek. Vir die aandagafleibare is dit onmiddellik verteerbaar. Daagliks is daar nuwe inhoud. Een meme reageer op ’n ander, en so gaan dit aan en aan en aan. Gedane sake het geen keer nie. Memes is nou verwant aan gifs en emoji’s. Dis debatteerbaar of die gebruik van memes, gifs en emoji’s ons kommunikasie skade berokken, vervlak, en verdom, en of dit dalk ’n ander, maar uniek-gesofistikeerde vorm van (meta)kommunikasie tot stand bring. Die wisselwerking tussen implisiet en eksplisiet, en wat bedoel of gesuggereer word, en wat die ontvanger van die boodskap uiteindelik daarin lees, is ’n fassinerende sosiolinguistiese vraagstuk, waarvan memes ’n deel uitmaak.
Memes dra daartoe by dat ons dieper insig kan verkry in die waardes van die moderne samelewing, met die klem op voortdurende, indringende soeke en strewe na betekenis en relevansie. Al hoe meer bestaan die druk op die jonger generasies om iets vir hulself te doen. Die strewe na selfdefinisie is al hoe meer drukkend. (Is millenniërs werklik net goed vir depressie, avo toast en skuld maak?) Om vir hulself werk te skep. Om aan te pas, en om ander, nuwe denkrigtings te omarm wat oplossings vir die planeet se euwels kan bied.
Memes bewys as absoluut verkeerd die stelling dat daar niks nuuts onder die son is nie. “The more things change, the more they stay the same” as aksioom kan ook anders gestel word: “The more things seem to stay the same, they more they are, in fact, undergoing change.”
Memes is uiteraard visueel, iets wat inspeel op die globale obsessie met skerms, met loer en beloer, met lees en inlees, en projekteer. Hoe minder metanarratiewe staande bly, hoe meer maak memes – waar ons die skep van betekenis elke liewe keer opnuut meemaak – saak. Hoe meer word daar, op klein dog ook groot skaal, tot verhaal gekom. Nuwe narratiewe geskep. Ou gemaksones verlaat. Heilige koeie geslag. Kanse gewaag, gesag uitgedaag, sentrale vorme van mag gedestabiliseer.
Die donker teenpool van die demokratisering van woord en beeld is die openings vir propaganda wat geskep word. Net ’n dwaas sou blind en stom staan teenoor die grootskaalse manipulasie van inligting en verspreiding van boodskappe, soos plaasgevind het met die verkiesings in die VSA ’n paar jaar gelede. Die voortdurende ontwikkeling van nuwe tegnologie, die skep van die sogenaamde bots, en die stryd om mag en invloed oor bevolkings en ekonomiese potensiaal en hulpbronne gaan net toeneem.
Everything is interconnected, my sons and daughters. Die moderne wêreldburger is ’n kubernout, ’n kubervaarder, een wat die internet voortdurend gebruik en ’n meetbare, merkbare aanlyn teenwoordigheid het. Dis moeilik om die inherente rassisme en anti-Asiatiese sentiment mis te kyk in die memes wat tans oor die koronavirus na elke uithoek versprei. Memes is nooit verwyderd van ideologie nie.
Vir veral die generasie bekend as millenniërs is die “virale” meme deel van die alledaagse. Hoewel sommige dit regkry om van sosiale media af weg te bly, is dit byna onmoontlik om vandag sonder ’n selfoon, TV of skootrekenaar te oorleef en te werk. Iewers tussen satire, politiek, die komiese en die absurde vind die meme sy neerslag, en word dit al hoe moeiliker om af te maak as blote humor.
Memes word al hoe meer vir bemarking- en verkoopsdoeleindes aangewend. Wie was eerlikwaar nog nie ge-Rickroll nie? Jy klik op ’n skakel, niksvermoedend, en word dan die volgende oomblik herlei na ’n video van die popster Rick Astley se “Never gonna give you up”. Presies hoe memes “relatable” raak, deur verskillende taalgrense breek, en hoe hulle in verskillende kontekste populariteit verkry en hulself “vertaal”, is vrae vir die toekoms. Een ding is seker: Die memes is hier om te bly. Die “geldeenheid” van die digitale wêreld is invloed; niemand besit ’n meme in die openbare domein nie.
Inligting weerspieël die gedrag van menslike gene en idees kan vermenigvuldig, verander en aanpas. Idees is deel van ’n soort abstrakte koninkryk; verskeie memes weerspieël ’n belangstelling in depressie, iets wat toeneem onder tieners wêreldwyd.
Memes is daar wanneer jy nie lus is vir iets meer ernstig of tydrowend, of iets ontstellend, soos die nuus nie. Al wat jy nodig het is data, of ’n betroubare WiFi-verbinding.
Memes speel af in die era van die post-ironie, met verskeie lae betekenis wat verstaan moet word. Wie het nog nooit van “Netflix and chill” en nou “incubate and mate” en ander gesegdes gehoor nie? Daar is nou “co-vidiots” en “coro-nole”.
Memes is onlosmaaklik deel van die moderne kommunikasierevolusie en is, soos musiek en films en goeie kuns, universeel. Dit kommunikeer in ’n eie taal wat oor grense strek, en mense bymekaar kan bring, dog ook kan verwyder. Gemeenskap en antigemeenskap. Ingroep en uitgroep. Hoop en wanhoop, lag en huil. Wie weet wat volgende aan die deur klop?
Memes laat my dink aan Gil Scott Heron se uitspraak: “The revolution will not be televised.” Ons lewe in absurde tye, en memes weerspieël die onstuimigheid waarin ons leef. Wat sou Theodore Adorno en die Frankfurt- skool se reaksie wees op memes as deel van “massakultuur”?
Die meme is ’n riverklip op die water gekaats.
Eindnotas
- Ek haal Dawkins self aan uit twee van sy eie tekste, naamlik The extended phenotype en The selfish gene.
- Die verwysing na die “sideways smiley” kom uit die artikel deur Erhan Aslan.
- Wikipedia het ruimskoots gehelp met die omskrywing van die meme en sy verskillende vertakkings.
- Plaaslike en internasionale voorbeelde en bespreking is my eie; artikels deur Arianna Chatzidakis, Tahera Siddiqi en Netanya het aanvanklike denke rondom die meme as sosiale objek met ’n funksie help aanwakker.
Bronne geraadpleeg
Aslan, Erhan. 2018. The surprising academic origins of memes. 13 Februarie. https://phys.org/news/2018-02-academic-memes.html.
Chatzidakis, Arianna. 2017. Why memes are more than just entertainment – they’re a form of cultural expression. 30 Junie. https://graziadaily.co.uk/life/opinion/memes-just-entertainment.
Dawkins, Richard. 1982. The extended phenotype. Oxford University Press.
—. 1989. The selfish gene (2de uitgawe). Oxford University Press.
Gleick, James. 2011. What defines a meme. Mei. https://www.smithsonianmag.com/arts-culture/what-defines-a-meme-1904778.
Netanya, geen van verskaf. 2019. The danger of memes, 22 Julie. https://medium.com/@netanyataitague/the-dangers-of-memes-b1bb67e10083
https://en.m.wikipedia.org/wiki/Meme.
Rogers, Kara. 2020. Meme. 5 Maart 2020. https://www.britannica.com/topic/meme.
Siddiqi, Tahera. 2017. Why memes matter. 7 Januarie. http://howtoflyahorse.com/why-memes-matter.
Solon, Olivia. 2013. Richard Dawkins on the internet’s hijacking of the word “meme”, 20 Junie. Wired UK.
Verdere bronne om te lees
https://www.theatlantic.com/technology/archive/2017/12/a-unified-theory-of-meme-death/546866
https://www.vox.com/2019/11/19/20963757/what-is-ok-boomer-meme-about-meaning-gen-z-millennials
https://www.nytimes.com/2012/11/25/magazine/who-made-that-emoticon.html
https://thetartan.org/2017/10/9/forum/meme
https://www.wired.com/story/pepe-meme-evolution
https://www.latimes.com/politics/la-na-pol-pepe-the-frog-hate-symbol-20161011-snap-htmlstory.html
https://www.nytimes.com/2020/02/11/learning/do-memes-make-the-internet-a-better-place.html
The post Memes: deel van die moderne kommunikasierevolusie appeared first on LitNet.