Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 22019 articles
Browse latest View live

Oor Pearly Beach (’n brief aan Shirley van Engeland)

$
0
0

Beste Shirley

Ek loop vanoggend met ’n voetpad langs
deur skouerhoogte strandveldbos
oor gladgeskuurde klippies
(deur die eeue hier gelos)
tot op die wye ope strand.

Ek sou ewig hier wou bly, as ek kon.
Op hierdie plek waar branders
sonder ophou
oor die aarde breek
(dié plig hul opgelê, wil hul mos teen rotse wreek)
en waar krappies in vlak poele
struikelloop en sand omwoel.

Kan oseane dan so groenblou wees;
die kleur daarvan kan ek nooit beskryf nie.
En nog nooit was seë so onkoud oor
my voete en my lyf nie.

Ek wens ek kon dit met jou deel:

Die skulpgruis wat my sole skraap.
Die wind wat oor die landskap streel.
Die seebamboes wat bruin en roes
patrone oor die wit sand skryf.
Die meeue wat op golwe dryf
en ragfyn tuintjies 
– stukkies skulp en alg –
onwillekeurig gerangskik,
deurmekaar gestrik 
in groen en pienk en pers.

Elke mens moet ongeskoen
oor só ’n strand kan wandel
terwyl wolke (byna purpergrys)
net so bo die water hang.
Sulke vistas sal my altyd laat verlang;
ek sou dit graag vir jou wou wys.

Shirley, ek stuur groete.

En dalk,
as ek ’n duisend foto's stuur,
sal jy ook hierdie somersoggend
op Pearly Beach onthou.
Maar jou huis is nou so ver van hier
... en dit is winter daar by jou.

Lees ook

Heilige ibis

Soos een wat op verlossing wag

The post Oor Pearly Beach (’n brief aan Shirley van Engeland) appeared first on LitNet.


Kollekte

$
0
0

Jare gelede woon ek die middernag-Kersdiens van die Rooms Katolieke-sendingstasie op my plattelandse tuisdorp by. Dis somer en muskiete vier ook Kersfees. Die wit-gekalkte kerkie hurk teen die voete van die berge. Binne is dit klein en blou geverf. Dit ruik na die lywe van gemeentelede en goedkoop alkohol waarmee die Kerstyd ingewag word. Dis bedompig, maar Maria staan stil-stil biddend in ’n donkerige hoek. Die beeld is kleiner as die ander op die terrein, maar haar kop buig ook gedienstig soos die ander. Knap voor die Kers-uur lewer die priester ’n votum. Treksang en heimwee vul sy Kersboodskap aan; selfs ook preweltrane. Geestelik gevoed en uitasem van te min suurstof, versprei ’n kollektebord deur die kerkbanke. Die bord beweeg hand-tot-hand, soms oorgeslaan en soms ’n aarselende bydrae. Die bord word gewyd aan my gegee: sente en ’n paar vergeelde natgesweete Monopoly-note.

Lees ook

Huis, woning, tuiste: Jo-Ansie van Wyk se inskrywings

The post Kollekte appeared first on LitNet.

Baksteenmure

$
0
0

in dae toe drome
nog kleinmensspore
kon los,
naïef kon dans
op die melodie
van ’n wegholwind
was beelde reeds
deel van my verhaal;

het deur die stomspasies
van my pen
die stilte geëggo
teen rooi baksteenmure
en my woorde
was gebrande ink
op opgefrommelde papiere

Lees ook

Meer as nét vlam

Alcatraz

The post Baksteenmure appeared first on LitNet.

Ongetiteld

$
0
0

ek verwonder my vanaand
hoe doekvoetig ons bly talm
onner die skugtermaan

ek verwonder my vanaand
hoe ons karmosyn-ingewande
altoos bly invou
onner die silwermaan

ek verwonder my vanaand
hoe ons met ʼn skamel karmenaat
kan pendel
ommi hele maan

hoe verwonder ek my vanaand
op ʼn jasmyn-deurtrekte
septimmeraand
en dit sonner ʼn enkele maan

Lees ook

Katedraal

onse jessye (’n antifoon vir ’n gestorwe prima donna)

The post Ongetiteld appeared first on LitNet.

Giacomo Leopardi

$
0
0

I am Emily Dickinson’s winter revisited in Amherst-land. I am so much
more aware of age and getting older than I have ever been. Czech
hair as bright as the invincible sun. State of volcano inferno in his eyes.
Homer, Goethe, Dante, Petrarch sing in tune about being the sapling.
Being so patient when it comes to unfulfilled love, and misfortune.
You have been patient with me, mother, all this time. You kiss her
on the lips. You kiss her on the beach. You kiss her on the cheek.
To me, sibling, I have become disciple. You have become follower.
Spoilt baby, you have no fear of sexual intimacy. You’re not afraid of
sharp objects. I think of your evolution, sibling. You’re obsessed,
a poser, quartet of postures, you’re Switzerland, your heart is ice, your
psyche made out of paper, and you’re watching the first snow in
Czechoslovakia. I am the writer in the fog cage. You’re the light. You
are everywhere. You exhale a pose with your boyfriend. I am not his
mother, they say, they say, they say. Columns of light. Columns of
light. You, sibling, are the pillars there. I think like a man. I think like
a woman. I am the scholarship girl on the ash heap, full of anguish.

I think of the beauty of language. I want you to be my friend and
mentor again. This location is red. Somebody is loving you in all the
ways that I couldn’t. I am slipping into darkness again. Sibling, you are
the prodigal daughter, the origins of smoke and mirrors, the two-
faced dilemma facing the supernatural instinct. Remember, wherever
you find yourself in Europe, the rain of our childhood, the sea of
our childhood, little atlas with your comforting progress. The big
city where I live lapping at my watery subconscious. Every foot has a
wrong note. You spell out the feast of romantic love wherever you are.
So, I manage the loss of you brick by brick, seawall by seawall, and
watch you walk away as if I never existed in your life, and you never
existed in my life. Water swelling all around me like a giant taproot.
Gingerly, then increasing in spotlight. I think of my own suffering,
and then I think of my loneliness. The people in my life who were spared.
The people in my life who are gone. On their own journey. They are
not here anymore to tell me of their stellar marriages, their children
that breeze over mountains, hike to the clouds, eating the butter of
the sun. I thought that happiness would last forever, but it doesn’t. It
is like famine, like a dry riverbed, like a drought.

Also read

Clarissa

Where they can’t hurt me and Sylvia Plath

The post Giacomo Leopardi appeared first on LitNet.

White butterflies

Kattekwaad

$
0
0

Iets ruk haar uit haar slaap. ’n Geluid, amper soos ’n deur wat toegeklap word. Meteens is sy wawyd wakker.

Sy frons. Het sy die voordeur gesluit voor sy in die bed geklim het? Sy kan nie onthou nie. Wat is dit met haar? Hoekom is sy deesdae so vergeetagtig? Sy is mos nog nie so oud nie.

Sy sug. Haar middagslapie is bederf en sy kan netsowel opstaan en met aandete begin. Hoe lank het sy geslaap? Sy lig haar voete van die bed af.

Dan tref dit haar. Haar katte. Waar is haar katte? Hulle het rustig op die mat voor haar bed gelê toe sy kom inkruip het. Al sewe van hulle. Nou is hulle net weg. Skoonveld, soos mis voor die oggendson.

Sy spring op en gaan benoud voor die venster staan. Haar oë dwaal van die een hoek na die ander. Toe sy niks gewaar nie raak sy byna van haar kop af. Tevergeefs keer sy die huis en die werf om. Daar is geen teken van haar troeteldiere nie.

Wat kon van hulle geword het?

Sy drafstap van huis tot huis om te verneem of enigiemand haar katte gesien het. Almal haal hul skouers op. "Jammer, Liezbet, ons weet nie waar jou katte is nie."

Terug by haar eie woning gaan sy uitasem by die tafel sit. Die enigste logiese verduideliking is dat iemand ongesiens by haar woning ingesluip en die katte met die een of ander verdowingsmiddel ingespuit het.

Dit moes iemand gewees het wat weet sy knip elke middag ’n uiltjie. Maar wie sou so wreed wees?

Sy is nie juis bevriend met Damsonderwal se inwoners nie – veral nie met die norse ou Frieda van langsaan nie. Daar is nou vir jou ’n vrou wat met álles en álmal fout vind.

Sy kla oor die geringste dingetjie. Volgens Frieda loop die katte laat in die nag op haar dak en jaag haar gereeld die skrik op die lyf.

Dis die grootste klomp snert! Die katte het maniere en slaap elke aand in hul eie bed.

Die mense dink seker sy wat Liezbet is, weet nie hoe hulle agter haar rug skinder nie. Wat het dit met hulle te doen as sy op 57-jarige leeftyd ongetroud en sonder kinders is?

Sy soek nie ’n man nie. Haar vertroue in die liefde het jare gelede al ’n knou weg. En haar katte is haar kinders, want hulle is meer as net troeteldiere. Sy behandel hulle soos vlees en bloed. Sonder haar katte is sy verlore.

Sy roep die polisie se hulp in, maar hul poging lewer nie veel op nie. Aan hul lyftaal kan afgelei word dat hulle nie hierdie klag as ernstig beskou nie.

"Ons sal ons bes probeer om jou katte op te spoor," belowe ’n konstabel. "En ons sal jou laat weet hoe die ondersoek vorder."

’n Dag of wat later is daar gerugte dat ’n buurman die katte agterop sy bakkie gelaai het toe hy die lang pad Durban toe aangedurf het.

Niemand kan egter bevestig of dit wel die waarheid is of sommer net ’n storie wat uit die duim gesuig is nie.

Ná daardie Woensdag is Liezbet ’n ander mens.

Haar gesondheid gaan agteruit. Van vroegdag tot laatnag sit en treur sy voor haar kamervenster.

Diep in haar binneste glo sy haar katte lewe en dat hulle eendag op ’n reëndag huis toe sal kom.

Stadig maar seker begin die verlange soos ’n ongeneeslike siekte aan haar binneste knaag.

Liezbet sterf een nag in haar slaap sonder dat sy weet wat van haar katte geword het. Die verlange het sy tol geëis. Sy was liewer vir hulle as wat enigeen ooit sal besef.

Nagte lank het sy wakker gelê en wonder of hulle darem genoeg kos en water het en of hulle haar ook mis soos sy vir hulle.

Net ’n handjievol mense woon haar begrafnis by.

Niemand het geweet waar om haar naasbestaandes op te spoor nie. Sy was mos maar al die tyd ’n eenkantmens wat nie veel met die ander gemeng het nie.

Om die waarheid te sê, die inwoners van die plattelandse dorpie waar sy op ’n dag aangekom het, het niks van haar geweet nie.

Ná Liezbet se dood staan die huis ’n geruime tyd leeg.

Voornemende kopers kom kyk na die plek, maar niemand stel werklik belang nie. Niemand, behalwe Donald Cloete, ’n afgetrede skoolhoof.

Hy is ’n wewenaar wat op ’n dag die stadslewe verruil het om ’n boek op die platteland te kom skryf. Hy het so baie idees en weet nog nie presies waaroor sy boek sal handel nie.

Toe hy Liezbet se huis die eerste keer sien, weet hy sommer dit is net die regte plek vir hom.

Donald het van jongs af ’n swakheid vir vroue gehad. Hy was lief om die kat in die donker te knyp.

Gevolglik het nie net sy eerste huwelik nie, maar ook die tweede, derde en vierde in die skeihof geëindig.

Aanvanklik steur hy hom nie veel aan die storie van Liezbet nie, maar namate almal oor haar begin praat, prikkel dit sy belangstelling.

Toe besluit hy sy moet die hoofkarakter in sy boek wees.

Hy sal graag agter die kap van die byl wil kom en die raaisel rondom die katte wil oplos. Hy begin dadelik navorsing doen. By die polisiestasie, die biblioteek, die pastorie, oral waar hy inligting oor haar kan versamel.

Laat een aand – terwyl Donald in sy studeerkamer aan sy boek sit en werk – is daar ’n klop aan sy deur.

Hy staan onmiddellik op om te gaan kyk wie dit kan wees.

In die verbygaan skakel hy solank die ketel aan, ingeval dit iemand is wat kom skuiling soek teen die koue.

Só ’n persoon sal hy nooit kan wegwys nie.

Hy maak die voordeur oop, gereed om sy besoeker welkom te heet. In die flou buitelig kyk hy onseker rond.

Hoe is dit dan dat hier meteens niemand op die stoep is nie?

Dit kan onmoontlik sy verbeelding wees. Hy is doodseker hy het ’n oomblik gelede iemand hoor klop. Hy frons, skud sy kop en loop weer die huis in. Seker maar die ouderdom wat hom geluide laat hoor.

Daardie nag is daar ’n storm soos selde tevore. Donald lê in sy bed en luister na die weer. Hy raak onder die gekerm van die wind aan die slaap.

Die volgende oggend is die reën weg. Die wind is stil en die lug ruik skoon.

Donald is vroeg uit die vere. Hy gaan staan in die voordeur en rek hom uit.

Hy loop na buite en kyk of die storm enige skade aangerig het.

Nuuskierig loer hy oor ou Frieda se heining. Die gordyne is nog toe, so hy neem aan die ou suurknol slaap nog. Iets tref sy oog.

Treetjie vir treetjie beweeg hy nader om beter te kan sien.

Hy steek vas. ’n Knop vorm in sy keel. Kan dit wees? Is ou Frieda al die tyd die skuldige? Het sy die katte van kant gemaak en sommer in haar agterplaas begrawe?

Natuurlik. Watter ander verduideliking is daar? Die vorige nag se storm het haar geheim verklap. Die katte se beendere lê die hele wêreld vol.

Lees ook

Die koevert op die tafel

 

The post Kattekwaad appeared first on LitNet.

Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad

$
0
0

Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad

Susan Cilliers en Thalyta Swanepoel, Skool vir Kommunikasiestudies: Joernalistiek, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming 

Die digitale omwenteling het gelei tot die ontstaan van ’n kuberwêreld waarbinne veral mense in ryker lande toegang tot nuus op elke vasteland in die wêreld het. Sosiale-media-platforms soos Facebook en Twitter, asook interaktiewe nuuswebwerwe, maak dit nou vir Jan Publiek moontlik om ’n mening te lug én self nuus te genereer. Dalende sirkulasiesyfers by koerante lei tot kleiner nuuskantore waar ’n handjievol joernaliste dikwels nuus ál vinniger vir aanlyn nuuswebwerwe moet produseer, terwyl hulle terselfdertyd aan die verwagtinge van ’n toenemend meer betrokke lesers moet voldoen. In hierdie verkennende studie is gefokus op die uitdagings wat joernaliste in buitekantore in die gesig staar terwyl hulle ’n tegnologies veeleisende omgewing moet bestuur. Buitekantoorjoernaliste is ’n uitstekende onderwerp van navorsing hieroor, omdat hulle grootliks onafhanklik van die hoofkantoor werk en as’t ware hul eie nuusredakteurs is. Hul take is gevolglik uiters omvattend, omdat dit bykans elke aspek van nuusbestuur insluit – anders as in die geval van joernaliste in die hoofkantoor, waar die nuusredakteur hoofsaaklik verantwoordelik is vir die daaglikse nuusbestuur. Buitekantoorjoernaliste moet dus nie net oor nuusbestuursvaardighede beskik om gehalteberiggewing te verseker nie, maar ook uitnemend wees in die praktiese toepassing van joernalistieke take. In hierdie studie is gefokus op dié kombinasie van vaardighede en take. Dit is gedoen deur die bestuurseise en take van joernaliste in buitekantore te ontleed en uiteen te sit deur ’n stelsel-en-proses-gegronde benadering te volg, asook deur vraelyste en opvolgonderhoude. Die doelwit was om praktiese riglyne te identifiseer en te formuleer wat joernaliste in buitekantore kan help om hul kantore doeltreffend te bestuur sonder om gehalte in te boet. Dié riglyne word ook in hierdie artikel uiteengesit. Dit is ook nuttige werkswenke vir joernaliste in die algemeen, omdat dit so ’n wye veld van joernalistieke vaardighede en take dek.

Trefwoorde: bestuur; buitekantoor; dagblad; gehalte; joernalistiek; prosesse; stelselbenadering; Suid-Afrika

 

Abstract 

Quality reporting in the satellite office of a South African daily newspaper 

The digital revolution created a cyberworld in which especially people in more affluent countries on all continents have access to news. Through interactive news websites and social media platforms such as Facebook and Twitter the general public can now voice their opinions and generate news. Newspapers’ declining circulation figures have led to smaller newsrooms where a handful of journalists often, at greater speeds, have to produce news for online platforms while catering to the expectations of increasingly involved audiences and maintaining high-quality output.

This qualitative exploratory study focused on the challenges journalists in satellite offices of mainstream dailies in South Africa face while managing a technologically strenuous environment. Satellite journalists offer an excellent research opportunity because they mostly work independently from head office and often act as their own news editors. Their tasks are comprehensive, including as they do every aspect of news management, unlike the situation at head office, where the news editor is mainly responsible for managing the daily news budget. Satellite journalists therefore do not only have to have news management skills to ensure quality reporting, but also have to be excellent in the practical application of journalistic tasks. 

The research question relevant in this article was: How should satellite journalists manage their environments to ensure quality journalistic outputs?

To answer this question the researchers aimed to determine which processes the satellite journalists of selected South African daily newspapers should implement to manage the quality of news output within the daily challenges in their organisations as well as the broader environment in which they work. The study further endeavoured to identify patterns in the subjective work methods of individual journalists to formulate practical guidelines for the process-based management of a satellite office that could promote effective and efficient management without compromising quality. Note that the aim was not to evaluate the quality of journalistic output. The researchers worked on the assumption that quality should be an outcome if certain processes and guidelines are followed.

The combination of skills and tasks was investigated within the framework of systems theory by analysing the management challenges and functional tasks of journalists in satellite offices following a systems-and-process-based approach. A systems-and-process-based approach is particularly suitable to investigate media management. The approach recognises the relationship between the news organisation and the external environments, and identifies and investigates all the components that influence one another in the process of generating the outcome (i.e. quality news). The systems theory was therefore also relevant in this study about the processes in a satellite office. These offices function in the bigger system of their respective news organisations, as well as in the bigger societal context in which the newspapers and their websites operate. Diverse aspects linked to the daily working methods of satellite journalists within the context of the systems theory were identified by means of an intensive literature study. Further investigation involved using questionnaires and follow-up telephonic/e-mail interviews with participants to identify the relevant processes followed in managing a satellite office. 

Two semi-structured, qualitative questionnaires with a total of 84 questions were compiled to gather data about the complex working methods of satellite journalists. The aim was to test/verify the theory about the elements and components necessary to ensure quality reporting and to identify similarities and differences between theory and practice. The researchers first identified five core tasks from the general literature, the key performance areas applicable to satellite journalists at the media conglomerate Media24, as well as preliminary interviews with selected participants. These core tasks (used as concepts and constructs in the data analysis) are self-management, creating a contact list, news generation, writing news, and sustained communication with the news editor. Guided by the theoretical assumption that processes are conducted within a system to reach specific goals, and that the processes consist of inputs transformed into specific outputs, the researchers subsequently identified the processes and sub-processes of the core tasks. The inputs were identified in the literature study and include resources, the individual and the environment. The questionnaire thus included questions about determining and reaching goals, planning, productivity, perspective and personality. Concerning the work environment, questions concentrated on demographic information, the economy, politics and the environment. The data was analysed using the concepts and constructs (tasks) identified and formulated. The researchers verified the theory in general, but added several processes/principles that the satellite journalists implement in practice.

In general, the researchers found that participants seem to pay attention to all aspects necessary for efficient management, but often fail to execute these effectively.

Under self-management, the researchers explored the processes satellite journalists should follow to deliver quality outputs (i.e. the news product). Aspects such as prioritising, planning, productivity, perspective and personality were investigated. The findings show that personal and professional goals are often intertwined, which could lead to burnout. Participants do reach news deadlines, but lack time-management capabilities and have trouble prioritising. Planning, which is part of the transformation phase in the self-management process, involves the amount of time spent on planning, method of prioritising (according to news values); allotting time to tasks. Participants tend to write about news where information is more readily available, e.g. on social media platforms. Most time is spent on news gathering (as a core task of a satellite journalist). Deficiencies identified include a lack of consultation with the news editor to help with planning and prioritising, and little pre-planning. This increases work stress and the ability to manage time effectively.

The management of production aspects forms part of the transformation phase in the process of self-management. Responses show that interruptions frustrate participants, but in general they are able to manage this through reprioritising, postponing or delegating. Participants are able to distinguish between relevant methods of communication and apply these effectively. Deficiencies include effective office administration due to time and work pressures. Participants feel overwhelmed due to the volume of work resulting from the often large geographic areas they are expected to cover. They do know what standard of work is expected and when they do or don’t reach the standards, but most were vague in their responses about how to improve. Findings show that participants can control planning and prioritising, and the extent to which they are informed about what is happening in the environment. They rely on previous experience, but seldom ask for advice from the news editor. Although participants are assertive to a lesser or greater extent, they struggle with saying no, and look for validation from others.

Where compiling a contact list is concerned, all participants recognise the importance of this core task, and have extensive contact lists and keep these up to date. Most use cell phones and computers to store the information. The researchers found that participants rely heavily on traditional official news sources, but supplement by, e.g., using social media. News gathering takes place reactively, meaning that participants rely on what other media report on, and search for stories on social media platforms. Less than half the participants find unique stories by observing what is happening in their environment and paying attention to what people are talking about. Few also attend functions with the aim of finding unique stories. This indicates that exclusivity has become less important when it comes to news generation.

News gathering starts where the process of news selection ends. Other inputs necessary for news gathering include physical resources such as a vehicle, computer and camera, and video equipment. The researchers found that participants have adequate equipment, and still use traditional methods to gather news, supplemented by new methods such as social media. All participants use technology, especially to gather visual material for stories. When writing stories, participants use different methods to structure information, and apply various story formats to the story type and platform. However, time constraints due to the 24/7 news cycle influence the extent to which stories are rewritten and polished, which has an influence on the quality of news output.

Communication, especially with line managers, was identified as a problem area. Sustained communication with the news editor helps journalists to set goals, plan and re-evaluate the news process. Questions related to the frequency and nature of communication. Most participants indicated that they talk to news editors about the news budget, prioritising and developments regarding stories. Most make independent decisions about visual elements and which stories will be offered for which platforms. Stumbling blocks include a lack of time to discuss content and story angles, which could also influence quality.

Another concern is a lack of solid knowledge/understanding regarding the geographical environment within which satellite journalists function. This includes demographic, political, economic and social knowledge and understanding. Most participants are well-informed about race and language in their communities, have reasonable knowledge of economic aspects such as income level and unemployment, but only superficial knowledge of aspects such as age and access to services. None of the participants had constructed an environmental profile of their regions and wider audience. They do, however, agree with the literature that audience needs and expectations have to be taken into account when taking news decisions. However, scant knowledge of the environment will have a negative influence on journalists’ ability to meet the needs and expectations effectively.

Keywords: audience needs and expectations; news gathering; news management; news writing; process approach; quality journalism; satellite journalist; self-management; systems theory

 

1. Inleiding

Die joernalistieke landskap het die laaste dekades ’n omwenteling beleef soos nog nooit tevore nie, hoofsaaklik weens onbeperkte toegang tot inligting danksy die internet, en gevolglik aanlyn nuus (Brants 2013:18–20; Quinn 2002:11). Dit het sowel die mediamark as joernaliste se benadering tot nuus drasties verander.

Joernaliste ervaar tydsdruk soos nooit tevore nie en moet nuus nou binne minute skep soos dit gebeur, terwyl hulle op verskillende platforms vaardig moet wees (Porlezza en Russ-Mohl 2013:45). Heinrich (2013:89–91) sê tereg die pas en skaal van verspreiding van beskikbare inligting is nou enorm binne ’n toenemend grenslose omgewing. Te midde van dié groeiende druk op joernaliste word redaksies ironies genoeg verder verklein weens ekonomiese faktore (Stovall 2005:131;122–3; Cole en Harcup 2010:11). Dít alles skep ook nuwe uitdagings wat gehaltejoernalistiek betref (Cole en Harcup 2010:11; Porlezza en Russ-Mohl 2013:45; McNair 2013:78; Witschge 2013:162; Schoenbach en Van der Wuff 2014a:435–6). 

Akkuraatheidsnavorsing oor meer as 70 jaar in die VSA wys dat feite- en taalfoute toeneem (Porlezza en Russ-Mohl 2013:45). Die tradisionele filters om foute betyds te identifiseer, bestaan dikwels nie wanneer nuusinhoud vir die internet geskep word nie, omdat redigering aanlyn nie so ’n groot prioriteit blyk te wees nie. Trouens, Giddings (2017:6) sê die neiging om subredakteurs uit te faseer, blyk duidelik uit die aantal aanlyn artikels met wenke oor selfredigering vir joernaliste. Dít beklemtoon juis die belangrikheid van organisatoriese en professionele strukture om gehaltenuus te bly skep, ondanks ’n omgewing waarin elke Jan Rap en sy maat nuusverspreiders op veral sosiale platforms word. Hierdie sogenaamde burgerlike joernalistiek verhoog juis die behoefte aan opgeleide joernaliste om nuus wat uit alle platforms instroom, te kan beoordeel, verifieer en verpak (Stovall 2005:139; McNair 2013:77–81; Hanitzsch 2013:200).

Om ’n magdom inligting en nuus te kan bestuur, is dus ’n sleutelvaardigheid om uiteindelik ’n produk van goeie gehalte te kan lewer (Quinn 2002:1). Die kompeterende voordeel van koerante is juis hul vermoë om nuus te skep en te versprei op ’n manier wat, anders as in die geval van die internet, vertroue inboesem deur oor ’n tydperk ’n reputasie van integriteit en gehalte op te bou (Quinn 2002:18). Dié integriteit is ewe belangrik op digitale platforms, omdat dit waarskynlik toekomstige generasies se primêre, indien nie enigste nie, nuusbron sal wees.

Die vraag is gevolglik hoe nuuskantore bestuur behoort te word om gehalte-uitsette te bewerkstellig. Swanepoel (2012:19) beklemtoon die belangrikheid hiervan: Die begrip gehaltebestuur vind neerslag op bykans alle terreine van die korporatiewe wêreld. Daar word voorts dus eers stilgestaan by die ontwikkeling van gehaltebestuur in die bestuurswese in die algemeen, voordat dit binne die konteks van joernalistieke bestuur bespreek word.

 

2. Bestuur en nuusbestuur

Cronjé, Du Toit en Motlatla (reds.) (2000:24) beskryf die bestuurswese as die wetenskaplike studie van hoe ’n onderneming of ’n organisasie die hoogste moontlike opbrengs (uitset) kan verkry deur die laagste moontlike besteding van produksiemiddele (insette). Hierdie skrywers wys in ooreenstemming met die stelselteorie (kyk 4.1 verder af) daarop dat alle verskynsels binne of buite die onderneming ’n invloed op die bogenoemde verlaging van koste of die verhoging van wins kan uitoefen, en dat die bestuurswese hom juis met dié vraagstukke besig hou (2000:32). Bestuur is dus die proses waardeur mense-, geld-, fisiese en inligtingshulpbronne gebruik word om ’n organisasie se doelwitte te bereik (Du Toit, Mol, Van Reenen en Motlatla soos aangehaal deur Swanepoel 2012:50; Cronjé e.a. 2000:104). Die bestuurswese ondersoek gevolglik praktyke wat help om ’n organisasie se doelwitte ten beste te verwesenlik – dis ook die fokus van dié studie.

Cronjé e.a. (2000:32) verduidelik dat bestuur sentraal staan tot dié praktyke of aktiwiteite omdat juis die bestuursproses dit op dreef kry en doelgerigte optrede moontlik maak. Die kerndoel van bestuur is dus om gehalte en sukses te verseker. Dis ’n inherente, eeue oue sakebeginsel. Evans en Lindsay (2014:10–7) wys in hul oorsig oor die geskiedenis van gehaltebestuur daarop dat gehalte in die produksieproses deur die eeue heen belangrik was.

Daar is bewyse gevind dat Egiptiese muurskilderye al omstreeks 1450 v.C. gemeet en geïnspekteer is. Stene waarmee piramides gebou is, is so presies gesny dat dit selfs vandag nog onmoontlik is om ’n mes se lem tussen die blokke in te druk. Dis duidelik: Die Egiptenare se sukses was te danke aan goeie ontwerp, die deurlopende gebruik van goedontwikkelde boumetodes en prosedures, en presiese meetinstrumente (Evans en Lindsay 2014:10–7). Statistiese gehaltebeheermetodes is vroeg in die 20ste eeu ontwikkel. In die 1980’s het ’n groeiende bewustheid van gehalte onder verbruikers begin ontstaan. Gehaltestandaarde het begin uitbrei na die dienssektor soos skole en hospitale. Uit die groeiende bewustheid van die belang van gehaltestandaarde is gehaltebestuursmodelle ontwikkel. 

Volgens Cronjé e.a. (2000:118) en Garvin (soos aangehaal deur Swanepoel 2012:20) is die Total Quality Management-model, oftewel allesomvattende gehaltebestuursmodel (AGB) een van talle eietydse benaderings tot bestuur wat in die 1980’s en 1990’s ontstaan het in die soeke na redes hoekom Duitse en Japannese bestuurders soveel sukses in die VSA behaal het. Die bevinding was dat hulle behep is met gehalte op alle vlakke van die organisatoriese aktiwiteite.

AGB het hieruit ontwikkel en behels ’n verskeidenheid benaderings en prosesse om gehaltedienste en -produkte binne ’n organisasie te lewer (Swanepoel 2012:20–1). Dis in wese ’n mensgefokuste bestuurstelsel wat gemik is op die voortdurende toename in verbruikerstevredenheid waarby alle werknemers op verskillende vlakke betrek word (Evans en Lindsay 2014:17). Hier word, tipies in die tradisie van die stelselteorie, van die veronderstelling uitgegaan dat gehalteprodukte en -dienste gelewer kan word net indien die hele organisasie op elke vlak van die werksmag saamwerk om dié doelwit te bereik (Swanepoel 2012:21, 56). 

Volgens Swanepoel (2012) is daar baie literatuur oor gehaltebestuur in veral die korporatiewe wêreld, maar weinig oor spesifiek die mediabedryf, en is studies oor gehaltebestuur in die media gefragmenteerd. Dít ondanks die feit dat bestuur in die mediabedryf al hoe belangriker word in ’n toenemend mededingende omgewing en ’n gebrek aan doeltreffende mediabestuur een van die faktore is wat gehalte in joernalistiek beïnvloed (Swanepoel 2012:iii).

Swanepoel (2012:21) meen ’n benadering soos AGB kan baie nuttig vir gemeenskapskoerante wees deurdat dit veral vir minder ervare nuuskantoorbestuurders duidelike en logiese prosesgegronde riglyne kan gee om in hul daaglikse aktiwiteite in werking te stel. In ’n buitekantooropset kan dit ook baie nuttig wees, omdat joernaliste in sulke kantore grootliks op hulself aangewese is.

Hier sal dus binne die konteks van die AGB-model gekyk word na spesifiek al die prosesse wat sulke joernaliste volg om gehalte-uitsette te verseker. AGB veronderstel dat elke werknemer moet streef na gehalte op elke vlak van aktiwiteit en proses wat gevolg word. Dit beteken dat buitekantoorjoernaliste van die begin van die nuusgenereringsproses, met ander woorde reeds wanneer insette vir latere verwerking verkry word, moet sorg dat dié insette van ’n goeie gehalte is.

 

3. Wat is gehalte?

Met die koms van die tegnologiese era in die 20ste eeu het gehalte toenemend ’n belangrike kwessie geword, terwyl al hoe meer mense toegang tot produkte en dienste begin kry het wat voorheen net die rykes beskore was (Swanepoel 2012:34). Die dilemma met die begrip gehalte is egter dat dit uiters verwarrend kan wees, deels omdat dit ’n subjektiewe oordeel op grond van baie verskillende kriteria kan wees (Evans en Lindsay 2014:6). Konsultante en professionele sakelui slaag gevolglik selde daarin om ’n universele omskrywing van gehalte te gee, terwyl die betekenis van die begrip voortdurend verander soos wat die gehalteprofessie groei (Evans en Lindsay 2014:6). 

Binne die konteks van joernalistiek is gehalte ’n hoogs aanvegbare onderwerp, want daar is uiteenlopende standpunte oor hoe gehalte beoordeel behoort te word (Anderson, Ogola en Williams (reds.) 2014:9). Ook Swanepoel (2012:34) wys daarop dat die begrip moeilik is om te definieer. Daar is egter in die breë konsensus dat gehalte op uitnemendheid dui. Die kriteria vir uitnemendheid hang egter af van die perspektief of benadering waaruit dit beskryf word (Swanepoel 2012:34). Verskeie benaderings word in die literatuur beskryf (Garvin in Swanepoel 2012:35–7; Evans en Lindsay 2014:6–9).

Dié benaderings is konteksgebonde: Gehalte oftewel uitnemendheid word dus aan die hand van sekere kriteria bepaal wat binne ’n spesifieke konteks geld (Swanepoel 2012:19, 49). ’n Definisie van gehalte behoort gevolglik gekoppel te wees aan sekere vereistes en eienskappe van gehalte binne daardie konteks.

Twee benaderings wat tersaaklik is vir hierdie studie binne die konteks van die buitekantoor as stelsel, is geïdentifiseer uit Swanepoel (2012:35–7) se opsomming van Garvin (1988:40–6) se vyf benaderings tot gehalte, asook uit Evans en Lindsay (2014:6–9) se ses benaderings, wat grootliks met dié van Garvin (1988) ooreenstem. Hierdie benaderings is ’n vervaardigings- of tegniese benadering en ’n benadering gegrond op verbruik. 

3.1 Vervaardigingsgegronde/tegniese benadering tot gehalte

Hier gaan dit oor interne organisatoriese prosesse. Gehalte word bepaal deur die mate waartoe aan sekere vereistes voldoen word. ’n Diens of produk moet dus konsekwent van dieselfde gehalte wees, en spesifieke standaarde of spesifikasies vir produkte of dienste help om dit te bereik. Dit verskaf ook ’n ondubbelsinnige meetinstrument vir gehalte. By koerante verskaf dit riglyne waaraan tydens die produksieproses voldoen moet word, byvoorbeeld wanneer die nuus ingesamel en geskryf word, asook die redigering, uitleg, ontwerp en verspreiding daarvan. 

3.2 Verbruikersgegronde benadering

Hier is die riglyn die mate van tevredenheid wat die gebruiker met die produk het – in hoe ’n mate dit dus aan hul behoefte voldoen. Dis ’n persoonlike, subjektiewe oordeel, omdat mense se behoeftes verskil. Kennis van die teikenmark is hier die sleutel tot sukses. Hoewel gebruikers soms ontevrede met ’n produk kan wees om redes wat niks met die werklike gehalte van die produk te make het nie, bly dit belangrik om te weet wat die verbruiker se verwagtinge ten opsigte van ’n produk is. By ’n koerant help dit om inhoud te skep waarvan mense wil en moet kennis neem.

Die verbruikersgegronde benadering is gepas wanneer gehalte binne die konteks van dienslewering beoordeel word. Rosen, Karwan en Schribner (2003:3) maak die stelling dat diens ’n belangrike mededingende wapen geword het – by implikasie ondersteun hulle dus die verbruikersgegronde benadering tot gehalte, omdat diens dui op die mate van tevredenheid met die produk of diens wat die gebruiker daarvan ervaar. 

Hoewel nuusorganisasies meestal kommersiële entiteite is wat wins moet maak soos enige ander onderneming, staan joernaliste tog ook in ’n “diensberoep”, omdat een van hul kerntake is om inligting aan mense te verskaf sodat hulle sinvol aan ’n demokratiese samelewing kan deelneem (Kovach en Rosenstiel 2007:5). Tweissi, Suleiman en Al-Garallah (2015:61) maak die stelling dat die media iets tussen ’n produk en diens is: Dit lê tussen die verbintenis tot professionele etiek en om aan die verbruiker se verwagtinge te voldoen. Gehalte is per slot van rekening gemoeid met die voldoening aan bepaalde verwagtinge: Hoe meer die eienskappe van ’n produk of diens aan die verbruiker se verwagtinge voldoen, hoe beter die gehalte van die produk of diens (Tweissi e.a. 2015:61).

Dié verwagtinge is gekoppel aan die inherente eienskappe van ’n produk of diens. Die Praxiom Research Group Limited sê dié inherente karaktertrekke van ’n produk of diens is ’n sentrale vertrekpunt om gehalte te beoordeel (soos aangehaal deur Swanepoel 2012:49): 

The quality of something can be determined by comparing a set of inherent characteristics with a set of requirements. If those inherent characteristics meet all requirements, high or excellent quality is achieved. If those characteristics do not meet all the requirements, a low or poor level of quality is achieved. Quality is, therefore, a question of degree. As a result, the central quality question is: How well does this set of inherent characteristics comply with this set of requirements? In short, the quality of something depends on a set of inherent characteristics and a set of requirements and how well the former complies with the latter ... Quality is always relative to a set of requirements.

In die lig hiervan kan nou gevra word wat die definisie van gehalte binne die konteks van hierdie studie behoort te wees. Gesien in die lig van die belangrike rol wat leserstevredenheid volgens Evans en Lindsay (2014), Garvin (in Swanepoel 2012), Rosen e.a. (2003), Kovach en Rosenstiel (2007) en Tweissi e.a. (2015) dikwels in die beoordeling van gehalte speel, behoort dit ook in ag geneem te word met die opstel van ’n werksdefinisie vir gehalte in hierdie studie. 

Teen die agtergrond hier bo uiteengesit, kombineer die navorsers die vervaardigings- en verbruikers-/diensgegronde benaderings in die opstel van die volgende werksdefinisie:

Gehalteberiggewing in die konteks van ’n buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad is die mate waarin die joernalis daarin slaag om deur die toepassing van bepaalde prosesse berigte te lewer wat grootliks sowel aan die teikenmark (verbruikers) as aan die beroep se verwagtinge oor gehalte voldoen.

Met die digitale oorgang is die beproefde sakemodel om onder druk gehaltejoernalistiek te verskaf. Nuwe denke is dus nodig in ’n joernalistieke era waar die beroep toenemend deelnemend word (Abrahamson 2010). Om sin te kan maak uit nuus in die digitale era is veral belangrik vir die joernalis in ’n buitekantoor wat dikwels alleen verantwoordelik is vir nuusdekking in ’n groot gebied.

Die mikpunt van hierdie studie was om vanuit die teoretiese onderbou van die stelselteorie te kyk hoe buitekantoorjoernaliste die proses van nuusgenerering kan bestuur om gehalteberiggewing te bevorder. Riglyne is ook saamgestel vir doeltreffende nuusbestuur in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad. Die doel met die studie was nie om die gehalte van berigte te beoordeel nie. Die veronderstelling is dat gehalte ’n uitkoms behoort te wees indien bepaalde prosesse en riglyne gevolg word.

3.3 Gehalte in die media

Gehalte bly ’n sentrale vraagstuk in die joernalistiek en behoort op alle platforms gehandhaaf te word (sien Meyer 2010:223; Abrahamson 2010).

Die antwoord op die vraag wat gehalte werklik is, is egter dikwels subjektief en konteksgebonde. Uit literatuur oor die onderwerp blyk dit dat sekere kernelemente algemeen aanvaar word as noodsaaklik vir gehaltejoernalistiek. Nikunen (2014:869–72) beskryf dit as “kollektiewe kulturele kennis” – ’n soort beroepsideologie waar daar konsensus is oor die “ideale” joernalis, en ’n ritualistiese proses waar ’n versameling waardes en kodes oor ’n tydperk gevorm word. Kortweg is gehaltejoernalistiek die manier waarop joernaliste hul werk verstaan en waarde daaraan heg. Heelwat studies wys ook dat daar in die joernalistiek ’n gedeelde professionele ideologie en tipiese waardestelsels bestaan, al is daar op sommige vlakke variasie (sien Deuze 2005:442–6; Pihl-Thingvad 2015:393).

Volgens Kovach en Rosenstiel (2007:4–5) is in ’n reusestudie van 1997 tot 1999 in die VSA bevind dat daar sekere kernbeginsels in die joernalistiek is waaroor joernaliste saamstem én wat landsburgers na regte kan verwag. Uit dié navorsing het ook geblyk dat joernaliste hul werkswyses op byvoorbeeld verskillende platforms aanpas om dié beginsels en waardes te handhaaf. 

Die algemeen-aanvaarde eienskappe vir gehaltejoernalistiek kan soos in onderstaande hofies opgesom word (sien Scanlan 2000:6–12; Deuze 2005:447; Kovach en Rosenstiel 2007; Swanepoel 2012:1, 69, 88, 89–96,178; Ojetimi 2012; Anderson, Ogola en Williams 2014:21–3; Batsible 2014:37–41; Nikunen 2014:869–72; Schweiger en Urban 2014:823; Tweissi e.a. 2015:55–78; Manda 2015:156–7; Pihl-Thingvad 2015:394–411; Press Council 2016): 

3.3.1 Akkuraatheid

Akkuraatheid vereis dat daar geen doelbewuste of nalatige afwyking van feite is nie, hetsy deur middel van die skeeftrekking, oordrywing, wanvoorstelling, belangrike uitlatings of die onvoldoende opsomming daarvan. Feite moet geverifieer word. Onakkuraathede veroorsaak dat die lesers vertroue in ’n nuusproduk verloor. Goeie bronne en verifiëring is nodig om akkuraatheid te bewerkstellig.

3.3.2 Tydigheid, nuutheid

Onmiddellikheid, aktualiteit en spoed is inherente eienskappe van nuus. 

3.3.3 Verstaanbaarheid

’n Logiese struktuur en duidelikheid is nodig om nuuskopie verstaanbaar te maak.

3.3.4 Objektiwiteit 

Soos akkuraatheid word ook objektiwiteit allerweë as ’n kernelement van gehalte in joernalistiek beskou. Dis ’n ingewikkelde begrip wat elemente insluit soos emosionele neutraliteit, dat persoonlike oortuigings beriggewing nie behoort te beïnvloed nie, onpartydigheid, verifiëring en neutraliteit. Hierdie eienskappe dra by tot geloofwaardigheid. Dit beteken ook dat wanneer ’n berig nie op feite nie, maar op ’n mening of gerug gegrond is, dit duidelik so aangedui moet word. 

3.3.5 Geloofwaardigheid

Hier gaan dit oor die inboeseming van vertroue. Geloofwaardigheid word gekenmerk deur ’n strewe na die waarheid, vermyding van onnodige skade (in die sin dat niemand onregverdiglik benadeel word nie, byvoorbeeld weens laster), die weerspieëling van ’n verskeidenheid stemme in die dekking van nuusgebeure, spesiale versigtigheid waar dit gaan oor kinders en kwesbare groepe, en onafhanklikheid.

3.3.6 Billikheid

Nuus moet in konteks en ewewigtig aangebied word. Geen belangrike feite moet uitgelaat word nie. Die onderwerp van kritiese beriggewing moet genader word vir kommentaar vóór publikasie. Kommentaar oor enige gebeure van openbare belang is toelaatbaar, mits dit duidelik as kommentaar aangebied word, billik en op feite gegrond is. Kommentaar moet vry wees van kwaadwilligheid of oneerlike motiewe en moet alle beskikbare feite wat noodsaaklik is vir die saak ter sprake billik weerspieël.

3.3.7 Etiek

Hier gaan dit onder meer oor hoe inligting ingesamel en aangebied word. Dit sluit aan by die beginsels van eerlikheid, akkuraatheid, verantwoordelikheid en billikheid. Dit sluit in respek vir die reg, persoonlike regte, godsdienstige en morele oortuigings, om vry te wees van diskriminasie en om jeugdiges en bronne te beskerm. Twyfelagtige metodes van verslaggewing moet vermy word, al beteken dit die storie kan dalk nooit geskryf word nie. 

3.3.8 Verantwoordelikheid

Dit gee balans in ’n vrye mediastelsel. Daarom sluit vryheid van spraak dinge uit soos propaganda met die oog op oorlogvoering, asook die aanhitsing van dreigende geweld of die verkondiging van haat gegrond op ras, etnisiteit, geslag of geloof. Versigtigheid moet aan die dag gelê word om kwesbare groepe soos kinders en verkragtingslagoffers se identiteit te beskerm. Tersaaklike wetgewing hieroor moet gehoorsaam word. Daar moet versigtig en verantwoordelik omgegaan word met die aanbieding van berigte oor wreedheid, geweld en swaarkry.

3.3.9 Openbare belang

Die inhoud van berigte moet ’n geldige belang en belangrikheid vir landsburgers hê. Die reg op privaatheid mag in sommige gevalle ondergeskik wees aan wettige openbare belang. Die pers moet redelike stappe doen om seker te maak persoonlike inligting onder sy beheer word beskerm teen misbruik, verlies of ongemagtigde toegang.

3.3.10 Betekenisvolle, tersaaklike, volledige en onderhoudende inhoud

Dit word bewerkstellig deur lesers te gee wat hulle wil hê (stories), wat hulle nodig het (inligting, vertolking, opvoeding en oorreding), asook dekking van nuusgebeure in die gemeenskap in die geheel en nie net die demografiese groep wat die aantreklikste vir die adverteerders is nie. Om dit te bereik moet die joernalis weet vir wie hy skryf en wat vir die leser belangrik is. Daar moet dus geskryf word oor dinge wat vir mense interessant is en waarvoor hulle omgee: dít wat hulle graag vir ander wil vertel. Dit wat belangrik is vir lesers om te weet, moet dus interessant vertel word. Die meeste stories is ’n mengsel van dit wat interessant en belangrik is.

3.3.11 Konteks en kousaliteit

Daar moet voldoende konteks wees in die berig self of in ’n reeks verwante berigte sodat lesers die groter konteks kan verstaan. Die leser moet ook kan sien watter faktore alles meewerk in die gebeure of kwessies waaroor berig word.

3.3.12 Vergelykbaarheid 

Berigte moet verskillende ideologiese perspektiewe bevat. Al die tersaaklike uitgangspunte in ’n bepaalde konteks moet dus genoem en verstaanbaar verduidelik word. Wanneer byvoorbeeld oor ’n onderwerp soos groot doop geskryf word, moet verwys word na die standpunte daarvoor en daarteen, soos eerstehands verkry van voorstanders vir of teen die bepaalde kwessie.

3.3.13 Omvattendheid

Al die sleutelvraagstukke wat met ’n nuusonderwerp verband hou, moet in ’n berig of reeks berigte belig word.

3.3.14 Vertolkende, diepgaande en ondersoekende werk om gebeure te interpreteer

Hierdie dimensies van joernalistiek help die leser verstaan hoekom sekere gebeure belangrik is en hoe om dit te verstaan. Só verkry nuusgebeure ook tersaaklikheid en belang. Dis volgens sommige bronne ’n poging om die waarheid bloot te lê. Terwyl akkuraatheid gaan oor die weergee van iets wat werklik gebeur het, word verborge feite belig wanneer die waarheid blootgelê word – dis ’n proses waardeur die verwantskap tussen feite aangetoon word om ’n ware beeld van die realiteit te skep.

3.3.15 Diensingesteldheid en waghondfunksie

Die pers is ook daar om die samelewing te dien, hetsy as aktiewe versamelaars van inligting of as waghonde. Deel hiervan is onafhanklike ondersoeke na die magte wat die samelewing vorm. Dis noodsaaklik vir die demokrasie deurdat dit burgers in staat stel om ’n ingeligte oordeel te vel oor die sake van die dag. Deel van dié verbruikersgeoriënteerdheid is om die lesers van gehaltenuus te voorsien wat hul behoeftes bevredig. ’n Goeie verhouding met en voortdurende ingesteldheid op die gemeenskap wat bedien word, is hier noodsaaklik. Die individuele landsburger se perspektief is dus belangrik in nuusproduksie en aandag word daarom gegee aan veral meer plaaslike en alledaagse inligting – die buitekantoorjoernalis vervul veral in hierdie opsig ’n belangrike rol, omdat hy by uitstek gemoeid is met die verskaffing van plaaslike nuus in ’n bepaalde streek.

3.3.16 Onafhanklike, vry media 

Kommersiële, politieke, persoonlike en ander nieprofessionele oorwegings mag beriggewing nie beïnvloed nie. Adverteerders en die staat mag nie inmeng in joernalistieke inhoud nie. ’n Onafhanklike, vry media beskerm joernaliste teen politieke en ekonomiese belange sodat dit nie die nuuskriteria en joernalistieke inhoud bepaal nie. 

Die intens mededingende hedendaagse media-omgewing waar die verhouding tussen ’n joernalis en sy lesers toenemend belangriker word, skep egter uitdagings om ’n fyn balans te handhaaf tussen die bogenoemde waardes en eise van die publiek (Schoenbach en Van der Wuff 2014a:433). Die mededingendheid van die mediamark is trouens volgens Brants (2013:21) die grootste oorsaak van swak prestasie onder baie joernaliste. Schweiger en Urban (2014) sluit hierby aan: Die vinnige pas waarteen nuus vir webwerwe vervaardig moet word, laat groter ruimte vir feitefoute asook onvolledige en bevooroordeelde nuus.

 

4. Teoretiese raamwerk

4.1 Stelselteorie

Stelselteorie is as metateoretiese raamwerk vir die studie gebruik. Die Oostenrykse wetenskaplike Ludwig von Bertalanffy het die algemene stelselteorie in 1940 ontwikkel as ’n teorie oor die organisme as ’n oop stelsel (Hendrickson en Tankard 1997, soos aangehaal deur Swanepoel 2012:58). Von Bertalanffy het die ingewikkeldheid van ’n lewende (biologiese) stelsel beklemtoon, asook die verbondenheid van dele daarvan. Hy het geredeneer dat indien ’n mens die aard van die dele verstaan, dit ook sal help om die aard van die objek of gebeurtenis as ’n geheel (die stelsel) te verstaan.

Die stelselteorie is later na ander velde uitgebrei, onder meer politiek (Swanepoel 2012:58). Die stelselbenadering tot bestuur het in die 1950’s posgevat in weerwil van bestaande praktyke waar net op sekere aspekte van maatskappyfunksies in isolasie gefokus is (Cronjé e.a. 2000:117; Swanepoel 2012:58). Vanuit ’n stelseloogpunt kan bestuur nou ’n ewewig tussen die verskillende onderdele van die onderneming en sy omgewing bewerkstellig (Cronjé e.a. 2000:117). Dit het veral in die 1980’s gewild geword om bestuur vanuit dié oogpunt te beskou.

Volgens Luhman (2013:26–7) is die kern van die stelselbenadering om te kyk na die handhawing van ’n sekere balans of bestendigheid binne ’n stelsel en hoe en waardeur dit versteur kan word. Dit bekyk ook hoe ’n stelsel steeds bestendig kan wees, al word dit erg deur versteurings in die onmiddellike en wyer omgewing beïnvloed.

4.1.1 Stelsels en omgewings

’n Belangrike aspek van die stelselbenadering is hoe die verskillende soorte omgewings binne en buite die stelsel dit kan beïnvloed, onder meer die kompetisie, geografiese werklikhede en die kliënte se goedgesindheid (Swanepoel 2012:59). Dit kan wissel van faktore in die stelsel se onmiddellike taakomgewing soos hulpbronne om take te verrig, tot die makro-omgewing daarbuite wat faktore soos die politiek of ekonomie insluit (Cronjé e.a. 2000:65–6; Swanepoel 2012:59, 114).

Stelsels word ook beskryf ten opsigte van die mate waarin dit in wisselwerking met die omgewing is. ’n Geslote stelsel het baie min interaksie met sy omgewing – byvoorbeeld ’n kopieermasjien. In die geval van ’n oop stelsel is die grense deurdringbaar en moeilik om presies te definieer (Swanepoel 2012:60). In sulke stelsels is daar ’n groter mate van wisselwerking met die eksterne omgewing, wat dikwels veranderinge en onbestendigheid tot gevolg het. Die buitekantoor van ’n dagblad is tipies ’n onbestendige omgewing weens eerstens die onvoorspelbare aard van nuus, en tweedens die groot invloed wat die omgewing op die nuusbestuursproses kan hê. Die buitekantoor van ’n dagblad vorm binne die konteks van die stelselteorie dus ’n oop stelsel wat deel vorm van en skakel met onder meer die groter maatskappystelsel (die hoofkantoor), asook die groter samelewing (Parsons 1991:5–6; Swanepoel 2012:64; Luhman 2013:43).

Hier onder verskyn ’n skematiese voorstelling van die verskillende omgewings binne en buite ’n organisatoriese stelsel wat dit kan beïnvloed (Figuur 1).

Figuur 1. Omgewings binne en buite ’n organisatoriese stelsel wat die stelsel beïnvloed

’n Belangrike dryfkrag agter die funksionering van ’n stelsel is om sekere doelwitte te bereik. 

4.1.2 Doelwitte en prosesse binne stelsels

Doelwitte binne ’n stelsel word bereik deur die volg van bepaalde prosesse. Die drie grondliggende prosesse in ’n stelsel is soos volg (Swanepoel 2012:61; Cronjé e.a. 2000:37):

  • Insette (“inputs”), wat die verkryging van hulpbronne uit die omgewing, soos geld, fisiese fasiliteite, grondstowwe en mense (arbeid), behels.
  • Verwerking (“throughput”/“transformation”), wat verwys na die gebruik en verfyning van insette. Dié transformasieproses behels nie net die produksieproses (die omskepping van insette tot produkte of dienste) nie, maar ook die bestuursproses (Cronjé e.a. 2000:37). Die verwerking van uitsette betrek dus werknemers se werksaktiwiteite, bestuursaktiwiteite, asook tegnologiese en operasionele metodes. Dit is dus al die aktiwiteite wat die insette uit die omgewing omskep tot produkte en dienste aan die omgewing (Cronjé e.a. 2000:38).
  • Uitsette (“outputs”), die eindresultaat (produk/diens) wat na die omgewing (die gemeenskap) deurgevoer word (Cronjé e.a. 2000:37; Swanepoel 2012:61). 

Swanepoel (2012:21) meen ’n stelsel-en-proses-gegronde benadering is uiters geskik om mediabestuur te ondersoek: Dit erken die verhouding tussen die nuusorganisasie en die eksterne omgewing, en identifiseer en bekyk al die komponente wat mekaar tydens die proses van nuusskepping beïnvloed om die eindproduk/uitset te skep. Die stelselteorie as teoretiese vertrekpunt is dus ook gepas in hierdie studie oor die bestuur van prosesse in ’n buitekantoor. ’n Buitekantoor is immers deel van die groter stelsel van die nuusorganisasie, asook die breër samelewingskonteks waarbinne die koerant en sy webwerf funksioneer.

4.1.3 Nielineêre stelselbenadering vs. lineêre stelselbenadering

In hierdie studie is spesifiek gefokus op prosesse as deel van die nielineêre stelselbenadering. Dié benadering is gevolg omdat dit so geskik is vir die ondersoek van onvoorspelbare en ingewikkelde verskynsels (Capra 2005:33–5; Walby 2007:454–5). Die term nielineêre stelsels is ontwikkel om die teendeel te beskryf van wat in wiskundige terme bekend staan as ’n lineêre verhouding. ’n Lineêre verhouding is tipies een waar die uitset altyd die som van twee of meer insette sal wees. Die hele stelsel is dus gelyk aan die som van sy dele (Hardesty 2010). So ’n stelsel word in Figuur 2 hier onder voorgestel.

’n Nielineêre stelsel/verhouding is in teenstelling hiermee volgens businessdictionary.com en dictionary.com se definisies ’n “stelsel waar die uitwerking van eksterne faktore (insette) nie presies bereken kan word nie” (eie vertaling). Volgens dié definisie is die geheel juis nié die presiese som van die dele nie, is veranderinge nie direk in verhouding tot insette nie, en kan wiskundige ontledings dit nie beskryf nie (Walby 2007:459).

Die volgende kenmerke van nielineêre stelsels kan in die lig van bostaande geïdentifiseer word (Nowotny 2005:16; Capra 2005:34–5; Walby 2007:456; Cham en Johnson 2007; Reference for Business 2017):

  • Eenheid: Verskillende interafhanklike elemente en stelsels wat in wisselwerking met mekaar is en as ’n eenheid funksioneer.
  • Selforganiserend: Die verskillende elemente en stelsels werk dikwels onbepland en onwetend volgens inherente reëls saam om ’n bepaalde orde te skep. Dié reëlmaat is dikwels verborge, maar dit kan deur wetenskaplike studie beskryf word.
  • Onvoorspelbaarheid en voortdurende verandering: Die elemente en stelsels pas by mekaar aan en wysig mekaar in reaksie op hul omgewing. Klein gebeure/insette kan groot gevolge hê. Toekomstige gedrag kan nie met sekerheid voorspel word nie. 

Dié beskrywing toon verskeie raakpunte met die kompleksiteitsteorie (Cilliers 2000:24–6). Die eienskappe van ’n komplekse stelsel kan soos volg opgesom word:

  • Dit bestaan uit ’n groot aantal elemente wat elk op sigself eenvoudig kan wees.
  • Dié elemente is in dinamiese wisselwerking met mekaar. Selfs al is sekere elemente net met party ander in wisselwerking, kan dit ’n rimpeleffek hê wat deur die hele organisasie uitkring. Die nielineêre karakter van die wisselwerking kan dus veroorsaak dat klein oorsake groot gevolge het, en omgekeerd. ’n Skynbaar onbenullige gebeurtenis of faktor het dus die potensiaal om alles te verander. Dit is deels omdat die geskiedenis, oftewel geheue van ’n komplekse stelsel bepalend is vir die funksionering daarvan: Die omvang van uitkomste word nie alleen deur oorsake binne die hier en nou bepaal nie, maar ook deur die groter/eksterne konteks en geskiedenis van die stelsel.
  • Dis ’n oop stelsel wat inligting of energie met sy omgewing uitruil. Die grense met die omgewing is gevolglik vaag en die stelsel is selde bestendig. ’n Oop-stelsel-organisasie (soos ’n nuuskantoor) kan dus nie onafhanklik van die konteks/omgewing waarbinne dit funksioneer, verstaan word nie.
  • Weens die ryk, dinamiese en nielineêre wisselwerking tussen elemente kan die stelsel se gedrag nie voorspel word deur die afsonderlike komponente te bestudeer nie. Dis ’n stelsel waarin die onverwagse verwag moet word.
  • Sulke stelsels is aanpasbaar. Hulle kan hulself intern herorganiseer sonder die ingrepe van ’n agent/faktore van buite.

Botma (2016:102) wys op die toepaslikheid van kritiese kompleksiteitsteorie in joernalistieke opleiding: Die hedendaagse Suid-Afrikaanse media en gemeenskap is so ingewikkeld/kompleks dat die tradisionele benadering tot joernalistiek nie altyd meer toepaslik in postkoloniale Suid-Afrika is nie. Binne die raamwerk van kompleksiteitsteorie behoort joernaliste dus opgelei te word om beter binne ’n onseker samelewing te funksioneer en die arm, swart meerderheid se belange beter te dien. ’n Groter ontvanklikheid vir die verskeidenheid van en verskille tussen mense in Suid-Afrika is nodig om ongelykhede tussen mense en ongelyke toegang tot inligting te probeer herstel. Hierdie punt sluit aan by die argument in hierdie artikel dat die saamstel van ’n omgewingsprofiel ’n belangrike hulpmiddel vir joernaliste kan wees om die verskeidenheid mense en kragte in hul omgewing beter te verstaan en in ag te neem (vgl. 5.4.4). Sien Figuur 3 vir ’n skematiese voorstelling van ’n nielineêre/komplekse stelsel.

Die uitdaging is om patrone in bepaalde prosesse binne die nuusorganisasie te vind, in wisselwerking met ander stelsels wat oorvleuel met dié van die nuusorganisasie. Dié studie was ’n poging om binne die konteks van ’n komplekse, nielineêre stelsel reëlmatigheid te vind in die uitvoering en bestuur van spesifieke prosesse in die buitekantoor van ’n dagblad wat eindelik meewerk om berigte van ’n goeie gehalte as uitset te verkry. Die bestuursproses maak doelgerigte optrede om gehalte en sukses te verseker, moontlik (Cronjé e.a. 2000:32).

Figuur 2. Lineêre stelsel

Figuur 3. Nielineêre stelsel

 

5. Metodologie

Volgens Bogdan en Taylor (1988:3) is metodologie die manier waarop probleme benader en antwoorde gevind word. Een manier waarop dit in sosiale wetenskappe gedoen kan word, is deur die positivistiese benadering, wat ooreenstem met natuurwetenskaplike navorsingsbenaderings: Die feite en oorsake van samelewingsverskynsels word bepaal sonder inagneming van persepsies. Kwantitatiewe metodes soos statistiese ontleding word tipies gebruik wanneer ’n positivistiese benadering gevolg word. 

Die doel van hierdie studie was egter om te bepaal watter prosesse die joernalis in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad binne die konteks van ’n stelselteorie-en-prosesbenadering kan volg om gehalteberiggewing te bestuur te midde van daaglikse uitdagings binne sy organisasie én in die groter omgewing waarbinne hy werk. Die studie was ook ’n poging om in die subjektiewe werkswyse van individuele joernaliste in buitekantore patrone te vind wat gebruik kan word om riglyne daar te stel vir die prosesmatige bestuur van ’n buitekantoor.

Hiervoor is ’n kwalitatiewe benadering uiters geskik, omdat dié benadering daarop gemik is om samelewingsverskynsels te ondersoek vanuit die deelnemers se perspektief en subjektiewe ervaring van hul leefwêreld (Bogdan en Taylor 1998:3–4). Die hoofstrewe hier, in teenstelling met die kwantitatiewe benadering, is om die beweegredes te verstaan agter dit wat mense doen. Volgens Bogdan en Taylor (1998:8) genereer kwalitatiewe metodes tipies beskrywende data in mense se eie geskrewe of gesproke woorde en waarneembare gedrag op grond van hoe hulle in die alledaagse lewe dink en optree. Dis ook ’n uitkoms van hierdie studie.

’n Kwalitatiewe studie kan betroubaar en geldig wees net indien dit aan bepaalde vereistes voldoen. Die kernbeginsel van betroubaarheid is dat dieselfde navorsingsmetode herhaal moet kan word om dieselfde resultate op te lewer (Flick 2014:481–3). Geldigheid weer het te doen met die mate waarin die navorser se uitbeelding of konstruksie van die werklikheid empiries gegrond is (Flick 2014:483). Die aanname hier is dat die realiteit onafhanklik van persepsies, interpretasies of die aanbieding daarvan bestaan.

Denzin en Lincoln (2000:582), Willis (2007:165–7; 216–20), Swanepoel (2012:25) en Flick (2014:483–6) identifiseer die volgende kenmerke wat die betroubaarheid en geldigheid van kwalitatiewe studies verhoog:

  • Die ontwikkeling van temas, konsepte en teorieë moet gedokumenteer word. In kwalitatiewe studies is die belangrikste onderbou vir geldigheid en betroubaarheid dat dit wat die navorser gesien en gehoor het, feitelik korrek gedokumenteer word omdat dit die grondslag vorm waarop die betekenis van die ingesamelde data en waarnemings ontwikkel, gebruik en aangebied word. Die afwesigheid van spesifieke statistieke om gevolgtrekkings en kommentaar te staaf, moet vervang word met stawing deur die gebruik van verskillende bronne en navorsingsmetodes (bekend as triangulasie). Kommentaar en gevolgtrekkings wat uit al hierdie bronne en metodes verkry word, moet sin maak en ’n samehangende geheel vorm. Die navorser oortuig dus nie deur statistieke nie, maar met ’n argumentasielyn wat geskep is deur die gebruik van verskillende bronne en metodes. In die meestersgraadstudie waarop hierdie artikel gegrond is (Cilliers 2018), is dit verkry deur ’n omvattende konseptualiseringshoofstuk, ’n literatuurstudie en uiteensetting van metodes, wat as ’n grondige vertrekpunt gebruik is vir bevindinge en gevolgtrekkings.
  • Dit moet met bestaande bevindings oor die onderwerp ooreenstem en deur ’n bepaalde navorsingsgemeenskap aanvaar word. Daar moet dus grootliks konsensus wees tussen die navorser, ander navorsers en vakkundiges oor die onderwerp. Hierdie sogenaamde eksterne bewyse, soos bestaande kwalitatiewe en kwantitatiewe studies om die gevolgtrekkings te staaf, het deel gevorm van die empiriese ontleding, slot en gevolgtrekking van die studie.
  • Die navorsingsinstrumente moet meet wat dit veronderstel is om te meet. In die oorspronklike studie is breedvoerig hieraan aandag gegee (Cilliers 2018:64–75).
  • Dit moet die werklikheid weerspieël. Veral in die geval van interpreterende kwalitatiewe studies is die mikpunt egter nie om een ware realiteit te vind nie. Die rol van triangulasie is hier nie net om feite te verifieer nie, maar ook om groter begrip uit verskillende perspektiewe op die realiteit te kry. Aansluitend hierby moet die studie bruikbaar wees deurdat dit beter begrip bewerkstellig oor ’n situasie of vorige ervarings wat moeilik verstaanbaar is, of deurdat die studie die ontwikkeling van toekomstige situasies voorspel. Die studie moet dus nuttige toepassingsriglyne kan verskaf. In hierdie studie is ook aan al dié aspekte voldoen, onder meer in die manier waarop data uit die praktyk versamel is en bestudeer en gebruik is om praktiese riglyne op te stel.
  • Betroubare metodes moet gebruik word. Binne die konteks van kwalitatiewe navorsing beteken dit die metodes moet geloofwaardig wees, hoewel ’n voorvereiste hier nie noodwendig is dat dit herhaal moet kan word nie. Die manier waarop data ingesamel word, is baie belangrik om interne geldigheid te verseker: Data wat ingesamel word, moet baie ooreenstem, al word dit op verskillende tye en plekke gedoen. Die betroubaarheid hiervan kan verhoog word deur beproefde metodes te gebruik om data in te samel en die proses van insameling in die fynste besonderhede te dokumenteer. Dit is wel in hierdie studie gedoen.
  • ’n Behoorlike proses van data-ontleding. Hier moet duidelik onderskei word tussen wat die deelnemers gesê het en waar die navorser se interpretasie daarvan begin. Ook hierdie aspek het in die oorspronklike studie aandag geniet deur ’n breedvoerige ontleding van die data wat uit vraelyste en opvolgonderhoude verkry is.

Die fokus in hierdie studie het geval op buitekantoorjoernaliste, teenoor vryskutjoernaliste en gemeenskapskorrespondente (hoofsaaklik niejoernaliste wat sporadies nuusbydraes voorsien). Die kernverskil tussen buitekantoorjoernaliste enersyds en vryskutjoernaliste en gemeenskapskorrespondente andersyds is dat laasgenoemde twee nie permanente/vaste aanstellings by koerante of publikasies het nie. Hulle het ook nie noodwendig toepaslike kwalifikasies of ervaring in joernalistiek nie.

Om die studie af te baken, moes gedefinieer word wat presies ’n buitekantoorjoernalis binne die konteks van die navorsing is. Geen spesifieke definisie vir ’n buitekantoorjoernalis kon in die literatuur gevind word nie. Onder meer handboeke, akademiese tydskrif- en internetartikels, asook tersaaklike proefskrifte en verhandelings is in die literatuurstudie geraadpleeg, soos verkry van onder meer die volgende databasisse: GoogleScholar, Noordwes-Universiteitsbibliotekekatalogus, LibGuides, SAePublications, Web of Science, A tot Z-Tydskriflys, ScienceDirect, EBSCOhost en LexisNexis. ’n Nexus-soektog kon geen studie opspoor wat die vraagstuk van die bestuur van nuusprosesse in die buitekantooropset van ’n dagblad ondersoek nie.

Die soekwoorde streekskorrespondente en streekskantoor op GoogleScholar het ’n wye verskeidenheid resultate opgelewer wat meestal nie gepas was vir die fokus van hierdie studie nie. Dié terme het byvoorbeeld studies oor korrespondente in ander velde as die media en ook in verskillende soorte mediavelde opgelewer. Binne die joernalistieke konteks word die woord korrespondent dikwels gebruik om ook na mense te verwys wat nie vas aangestel is nie, in die buiteland of vir plaaslike koerante in streke werk. Nie een van hierdie kategorieë het die spesifieke groep joernaliste wat in hierdie studie ondersoek is, ingesluit nie, hoewel daar natuurlik raakpunte is in die werkswyses van buitekantoorjoernaliste aan die een kant en aan die ander kant streekskorrespondente wat nie vas aangestel is nie, asook joernaliste by plaaslike koerante. Geen spesifieke studie oor joernaliste soos in die werksdefinisie hier onder gedefinieer, kon egter gevind word nie.

Dit was gevolglik nie moontlik om ’n definisie van buitekantoorjoernaliste uit die bestaande literatuur saam te stel nie. Daarom is daar self ’n definisie hiervan saamgestel met die hulp van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). 

Hiervolgens verwys die woord buite na iets wat “nie binne” is nie (Odendal en Gouws 2010:127). Die woord buitekantoor is nie in die HAT gelys nie. Aangesien dikwels ook na buitekantore verwys word as satellietkantore, is die betekenis van die woord satelliet nageslaan. In die HAT word dit beskryf as “iets wat van ’n ander afhanklik is” (Odendal en Gouws 2010:977). Hoewel die woord satellietkantoor ook nie in die HAT voorkom nie, kom satellietkampus wel daarin voor en dit word soos volg omskryf: “Tweede of volgende kampus wat in sommige opsigte afhanklik is van die hoofkampus waar die sentrale administrasie gevestig is” (Odendal en Gouws 2010:977). 

Gegewe dié omskrywings kan ’n buitekantoor gedefinieer word as ’n kantoor weg van (buite) die hoofkantoor, wat steeds in ’n mate afhanklik is van die hoofkantoor waar die sentrale administrasie geleë is. Die HAT (Odendal en Gouws 2010:500) definieer ’n joernalis as iemand wat redaksiewerk doen en bydraes vir ’n publikasie lewer, veral ’n koerant. ’n Dagblad is volgens die HAT ’n koerant of ’n nuusblad wat elke weekdag verskyn (Odendal en Gouws 2010:141).

Werksdefinisie: Uit bostaande word die groep mense (buitekantoorjoernaliste) wat in hierdie studie bestudeer is, soos volg gedefinieer: Een persoon wat permanent/vas aangestel is om bydraes (berigte) te skryf vir ’n koerant wat elke weeksdag in Suid-Afrika verskyn, vanuit ’n bepaalde streek of provinsie weg van die koerant se hoofkantoor waar die sentrale administrasie geleë is, selfstandig vanuit ’n eenmankantoor en sonder die hulp van ander joernaliste.

Buitekantoorjoernaliste is dus as ’t ware hul eie nuusredakteurs, omdat hulle op hulself aangewese is, afsonderlik funksioneer en daagliks nuusbesluite neem wat tradisioneel eerder deur die nuusredakteur geneem word.

’n Nie-ewekansige, doelbewuste steekproef is gedoen om buitekantoorjoernaliste in Suid-Afrika te identifiseer wat voldoen aan die werksdefinisie hier bo. In dié verband wys Du Plooy (2009:108) daarop dat ’n verteenwoordigende steekproef van die groter populasie (om byvoorbeeld vraelyste in te vul) ’n vereiste is wanneer kwantitatiewe navorsing gedoen word. Dit is veral nodig om die resultate te kan veralgemeen na die groter populasie. Hoe nouer die definisie van die beskikbare populasie egter is, hoe moeiliker sal dit wees om te veralgemeen. Hoe meer homogeen die populasie is wat ondersoek word, hoe kleiner hoef die steekproef te wees (Du Plooy 2009:110). Sulke studies is dikwels meer kwalitatief, soos hierdie studie. Dit is dus aanvaarbaar om ’n nie-ewekansige steekproef saam te stel waar almal in die populasie nie ’n gelyke kans het om as ’n respondent/deelnemer gekies te word nie.

Een manier om ’n nie-ewekansige steekproef te trek, is die doelbewuste steekproef (Du Plooy 2009:122–3). Bailey (1994:96) sê in sulke gevalle gebruik die navorser sy eie oordeel om deelnemers vir die steekproef te kies op grond van hoe hy die doelwitte van die studie ten beste sal kan verwesenlik. Du Plooy (2009:122–3) sê voorts hierdie werkswyse is geskik wanneer inligting oor ’n klein teikengroep ingesamel word, wat die geval in hierdie studie is.

Met die aanvang van die studie in 2015 het 13 buitekantoorjoernaliste in Suid-Afrika aan die reeds genoemde definisie vir die doel van hierdie studie voldoen. Een van hulle was die hoofnavorser, Susan Cilliers, wat nie aan die studie kon deelneem nie. Altesame 8 uit die 13 het aanvanklik ingestem om aan die studie deel te neem, wat 61,5% van die totale populasie verteenwoordig. Een van hulle het egter ná die eerste fase van die studie nie meer sy samewerking gegee nie, wat veroorsaak het dat die eerste vraelys deur al agt die deelnemers ingevul is, maar die tweede vraelys deur sewe deelnemers. 

Al die deelnemers het, nadat hulle per e-pos of telefonies ingestem het om deel van die studie te wees, ook ’n formele toestemmingsvorm geteken. In dié vorm is die doelwitte van die studie, verwagtinge van die deelnemers en die voorwaardes vir deelname daaraan in besonderhede uiteengesit. Die deelnemers het sodoende formeel ingestem om aan die studie deel te neem. Die deelnemers is ook verseker dat hul identiteit nie in die studie bekend gemaak sou word nie. Hiermee is dus aan die etiese vereistes voldoen, deurdat die deelnemers vooraf voldoende ingelig is oor die doelwitte, verwagtinge en voorwaardes vir die studie. Hulle is ook ingelig dat hul deelname vrywillig moet wees en anoniem is en hulle in enige stadium aan die studie kon onttrek.

Vir die doel van hierdie studie is slegs Engelse en Afrikaanse algemene-nuus-dagblaaie in Suid-Afrika ingesluit wat nasionaal of in ’n streek versprei word. Die volgende Suid-Afrikaanse dagblaaie het met die aanvang van die studie in 2015 aan dié definisie voldoen: Daily Sun, Sowetan, Die Son, The Star, Beeld, Die Burger, Volksblad, The Times, The Citizen en The New Age. Die gekose dagblaaie sluit nie dié in wat net in groot stede soos Durban, Kaapstad en Pretoria versprei word nie. Spesialis-dagblaaie wat byvoorbeeld sakenuus dra (soos Business Day) is ook uitgesluit. Redakteurs of nuusredakteurs by die publikasies wat wel aan die definisie vir hierdie studie voldoen het, het met die aanvang van die studie in 2015 die volgende inligting oor buitekantoorjoernaliste verskaf:

  • Daily Sun: Dié publikasie het satellietkantore regoor die land met kantoorhoofde aan die stuur van elkeen. Hulle maak gebruik van vryskutjoernaliste. Dié koerant het dus nie geskikte deelnemers vir die studie nie.
  • Sowetan: Hier is net een buitekantoorjoernalis in diens in Noordwes Sy en haar redakteur het aanvanklik ingestem om aan die studie deel te neem, maar die joernalis het later via WhatsApp laat weet sy kan weens “onvoorsiene omstandighede” nie meer daaraan deelneem nie. Pogings om haar daarna te kontak en vas te stel of sy nie tog steeds aan die studie sal deelneem nie, was onsuksesvol.
  • Die Son: Hierdie koerant het een buitekantoorjoernalis. Hy en sy afdelingshoof het toestemming gegee dat hy ’n respondent kon wees. Hy het egter net die eerste vraelys beantwoord.
  • The Star: Dié koerant het geen satellietkantore of buitekantoorjoernaliste nie.
  • Beeld: Hier is vier buitekantoorjoernaliste, van wie een die navorsers een is, wat nie self aan die studie kon deelneem nie. Die redakteur en die ander drie joernaliste het ingestem om aan die studie deel te neem. Een van die deelnemers het intussen (ná die aanvang van die studie) afgetree, maar het steeds aan die studie deelgeneem. Hy kon baie waardevolle insette lewer, omdat hy voor sy aftrede meer as 30 jaar ervaring as ’n joernalis gehad het, waarvan meer as 10 jaar aan die stuur van ’n buitekantoor was.
  • Die Burger: Hier is nie buitekantoorjoernaliste wat aan die definisie voldoen nie. Daar is wel satellietkantore in o.a. George en Stellenbosch waar meer as een joernalis werk.
  • Volksblad: Hier is twee buitekantoorjoernaliste en een voormalige buitekantoorjoernalis wie se toesighouers/redakteurs toestemming gegee het dat hulle aan die studie mag deelneem. Die joernaliste self het ook ingestem. Die voormalige buitekantoorjoernalis is by die studie ingesluit omdat sy tot kort voor die aanvang van die studie baie jare lank in ’n buitekantoor van dié dagblad gewerk het. Ons het dus gemeen dat die voormalige joernalis ’n sinvolle bydrae sou kon lewer.
  • The Times: Hierdie koerant het meestal satellietkantore met ’n volledige opset en verskeie joernaliste wat nie aan die definisie van hierdie studie voldoen nie. Een joernalis voldoen egter wel aan die definisie. Hy beman ’n eenmankantoor in Pretoria en dek nuus in dié stad asook in dele van Limpopo, Mpumalanga en Noordwes. Hy en sy nuusredakteur het albei toestemming gegee dat hy ’n respondent in die studie kon wees.
  • The Citizen: Hier is geen satelliet- of buitekantore nie.
  • The New Age: Hier word van sowel vryskutjoernaliste as buitekantoorjoernaliste gebruik gemaak. Die koerant het drie buitekantoorjoernaliste in onderskeidelik die Oos-Kaap, Mpumalanga en Limpopo gehad wat geskikte deelnemers vir die studie kon wees. Nie een van hulle wou aan die studie deelneem of redes verskaf vir hoekom hulle nie wil deelneem nie.

Van die ses koerante wat voldoen aan die definisie van dagblaaie wat deel van die studie uitmaak, het vyf dus aan dié studie deelgeneem.

5.1 Literatuurstudie

Die metateoretiese raamwerk is deur middel van ’n omvattende literatuurstudie uiteengesit, en verskeie aspekte wat betrekking het op die dagtaak van ’n buitekantoorjoernalis binne die konteks van die stelselteorie, is uit die literatuur geïdentifiseer. Vraelyste, dokumente en opvolgonderhoude met die deelnemers is aanvullend tot die literatuurstudie gebruik om die tersaaklike prosesse in die bestuur van ’n buitekantoor te identifiseer.

5.2 Kwalitatiewe vraelys

Twee semigestruktureerde, kwalitatiewe vraelyste is opgestel met voorafgeformuleerde vrae waaroor die deelnemers vryelik kon praat en uitwei (Denzin en Lincoln 2000:649–53; Du Plooy 2009:198–9). Die metode is geskik om begrip te verkry van ’n individuele of groepsperspektief, byvoorbeeld om te beskryf hoe mense te werk gaan (Denzin en Lincoln 2000:646; Du Plooy 2009:108; 198–9). Só kon binne die konteks van hierdie studie begrip verkry word oor ingewikkelde gedrag van buitekantoorjoernaliste sonder voorafbepaalde kategorieë wat die ondersoek kon inperk (Denzin en Lincoln 2000:649–53).

Die volgende stappe is gevolg om die twee vraelyste met altesame 84 vrae op te stel: 

  • Stap 1. Buitekantoorjoernaliste se vyf kerntake is eerstens uit literatuur oor die kerntake van joernaliste in die algemeen geïdentifiseer. Geen soortgelyke studie is tevore oor buitekantoorjoernaliste gedoen nie – ’n Nexus-soektog kon geen studie opspoor wat die vraagstuk van die bestuur van nuusprosesse in die buitekantooropset van ’n dagblad ondersoek nie. Ander bronne moes dus geraadpleeg word om die literatuur oor joernaliste se kerntake eerstens te verifieer en verder aan te vul met dié take wat spesifiek van toepassing is op buitekantoorjoernaliste. Twee aanvullende bronne is vir dié doel gebruik: Media24 se Kritieke-Prestasie-Area-vorm vir buitekantoorjoernaliste, asook voorlopige onderhoude met van die deelnemers. Die vyf kerntake is selfbestuur, die saamstel van ’n kontaklys, nuusgenerering, die skryf van nuus/berigte, en voortdurende kommunikasie met die nuusredakteur.
  • Stap 2. Die verskillende prosesse en, waar toepaslik, subprosesse betrokke by elk van die vyf geïdentifiseerde kerntake is uit verskillende literatuurbronne geïdentifiseer. Die uitgangspunt hier was deurgaans die teoretiese onderbou van die stelselteorie, naamlik dat prosesse in ’n stelsel uitgevoer word om sekere doelwitte te bereik en dat dié prosesse bestaan uit insette wat tot bepaalde uitsette verwerk word.
  • Stap 3. Insette wat nodig is vir die uitvoer van die prosesse wat in stap 2 geïdentifiseer is, is voorts deur middel van ’n omvattende literatuurstudie geïdentifiseer. Dit sluit in hulpmiddele, die individu en die omgewing. Hier is gefokus op hulpmiddelle soos diensvoorwaardes en infrastruktuur. By die individu is geen vrae opgestel om gehalte van berigte as sulks te meet nie, maar wel met betrekking tot aspekte van selfbestuur, soos die bepaling en bereiking van doelwitte, beplanning, produktiwiteit, perspektief en persoonlikheid. Wat die omgewing betref, is vrae geformuleer rondom aspekte in die omgewing waarop joernaliste ag behoort te slaan, soos demografiese inligting, die ekonomie, politiek en omgewing.
  • Stap 4. Die verskillende aspekte waaruit die geïdentifiseerde kerntake, prosesse en hulpmiddele bestaan, is gebruik om ’n semigestruktureerde vraelys op te stel. Die wye omvang van dié elemente en komponente het daartoe gelei dat altesame 84 vrae geformuleer is. Die vrae is tussen twee vraelyste verdeel, een met 48 vrae en een met 36 vrae. Die doel met die vraelyste was om vas te stel of die teorie oor watter elemente en komponente nodig is om gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n dagblad te bewerkstellig, strook met dit wat sulke joernaliste in die praktyk doen. Die vraelyste was dus daarop gemik om die teorie te toets en te verifieer en so ooreenkomste en verskille tussen teorie en praktyk te identifiseer.

5.3 Opvolgonderhoude

Semigestruktureerde, een-tot-een-onderhoude is telefonies of per e-pos met van die deelnemers gevoer nadat hulle die vraelyste ingevul het, om waar nodig onduidelikhede uit te klaar of gebrekkige antwoorde meer sinvol beantwoord te kry. Die terugvoer was ook bevredigend.

5.4 Data-ontleding

’n Kwalitatiewe ontleding van die deelnemers se terugvoering is gedoen aan die hand van die geïdentifiseerde kerntake, prosesse en insette wat in die vraelyste getoets is. By elk van hierdie aspekte is telkens geëvalueer waar die terugvoering van die deelnemers ooreenstem of nié ooreenstem nie met dit wat die literatuur oor die geïdentifiseerde aspekte sê. Die literatuur is grootliks bevestig, maar in die antwoorde wat die deelnemers verskaf het, het bykomende prosesse of beginsels wat die joernaliste toepas, na vore gekom. Uit die antwoorde op die vrae kon ook tekortkominge geïdentifiseer word waar buitekantoorjoernaliste veral weens werk- en tydsdruk nie optimaal kan funksioneer nie.

Die data-ontleding was baie omvattend. Dit word vervolgens in verkorte formaat uiteengesit, aan die hand van konsepte en konstrukte (take) wat geformuleer is.

5.4.1 Konsep 1: Die nuusproduk

Vrae is geformuleer om die prosesse te ondersoek wat buitekantoorjoernaliste behoort te volg om berigte van goeie gehalte (die nuusproduk) te lewer. Hierdie prosesse is as bepaalde take geformuleer. Dié take is die konstrukte wat gebruik is om vrae op te stel.

5.4.1.1 Konstruk 1: Selfbestuur

Vrae is geformuleer op grond van die verskillende geïdentifiseerde elemente (uit die literatuur) van selfbestuur. Die volgende bronne is gebruik om dié elemente te identifiseer: Timm (1998:16–75); Cronjé e.a.(2000:105, 122); Evans en Lindsay (2014); Raffoni (2005:17); Michelman (2005:29, 121); Billington (2005:39, 43); Von Hoffman (2005:50–1, 47); McFarland (2005:82–3); Stauffer (2005:127–8, 134–7); Croft (1996:2, 5, 7, 10–2, 32–3, 41, 43, 45, 49–53, 98–9, 171); Lewis (1995:36–7, 69, 72, 117, 158–9, 186–91); Steyn (2006:340–55); Coulter en Robbins (2005:458–60); Swanepoel (2012:55–7) en Drucker (2006:3–4).

Tabel 1. Elemente van selfbestuur

Elemente

Beskrywing

Bepaal en behaal doelwitte

  • Dit bepaal wat belangrik is en waarop gefokus moet word. Dis rigtinggewend vir beplanning.
  • Doelwitte word bepaal op grond van waardes wat vir jouself en die maatskappy belangrik is.
  • Maak seker doelwitte is konkreet en spesifiek, realisties, meetbaar, bereikbaar (die nodige hulpbronne is beskikbaar) en dat ’n sperdatum daaraan gekoppel is.
  • Vind ’n balans tussen jou eie doelwitte en dié van die maatskappy.

Beplanning

  • Wat word gedoen?
  • Wanneer word dit gedoen (prioritiseer)?
  • Dringende take word gouer gedoen.
  • Meer tyd word aan belangriker take bestee.
  • Moenie tyd bestee aan take wat nie belangrik of dringend is nie.

Produktiwiteit

  • Maak voorsiening vir tye wanneer jy onderbrekings sal toelaat, maar wees ferm om dit nie buite dié tye toe te laat nie.
  • Bêre dokumente wat jy weer gaan gebruik, raak ontslae van die res.
  • Onderskei wanneer onderskeidelik e-pos-, persoonlike of telefoniese kommunikasie die doeltreffendste sal wees.
  • Moenie onnodig uitstel nie.
  • Oorwin besluiteloosheid met sistematiese beplanning en prioritisering.
  • Voorkom selfoorlading deur te bly fokus op prioriteite, te delegeer en selfhandhawend op te tree.

Beheer (om seker te maak take word wel uitgevoer en dat aanpassings gemaak word indien nodig)

  • Meet prestasie.
  • Vergelyk dit met die verwagte standaard.
  • Doen stappe om onbevredigende prestasie reg te stel.
  • Gebruik die AGB-benadering om gehalte/prestasie te bestuur (sien afd. 2): Hoe kan prosesse in die buitekantoor van ’n dagblad beter bestuur word om die verwagte prestasie/gehalte te verkry? Voortdurende opleiding en die gebruik van die nuutste beskikbare tegnologie kan hiermee help.

Perspektief

  • Ontwikkel ’n ingesteldheid dat daar sommige aspekte van jou werk / die werklikheid is waaroor jy self beheer het (interne lokus van kontrole), maar dat daar ook magte van buite is waaroor ons nie beheer het nie. Verander en beïnvloed dit wat jy kan ten beste. Bestuur dit wat jy nié kan verander nie na die beste van jou vermoë.

Persoonlikheid

  • Tree positief selfhandhawend op.
  • Wees ontvanklik vir terugvoering en kritiek vanaf jou portuurgroep, lesers en toesighouers.
  • Beheer en hanteer spanning binne die perke van jou persoonlikheid: Identifiseer situasies en individue wat spanning aanwakker. Vermy dit of ontwikkel meganismes om dit te hanteer, kry berading indien nodig, ruim tyd in vir ontspanning.
  • Vermy perfeksieverlamming: Aanvaar jy sal soms foute maak en gebruik dit as ’n geleentheid vir verbetering.

 

Element 1. Die bepaling en behaling van doelwitte

Dié aspekte sluit onder meer in wat die deelnemers se persoonlike en professionele doelwitte is, hoe hulle dit bepaal en watter struikelblokke hulle ondervind om dit te bereik. Met vrae hieroor is ook probeer om vas te stel hoe hulle ’n balans handhaaf tussen die bereiking van hul persoonlike en professionele doelwitte. Vrae is ook hier gevra om te bepaal aan watter eienskappe onderskeidelik werk- en persoonlike doelwitte voldoen: of dit konkreet, spesifiek en realisties is, of die deelnemers die nodige hulpbronne het om dit te bereik, of die resultaat gemeet kan word en of die deelnemers ’n sperdatum het vir die bereiking van hul doelwitte.

Ontleding en bevindings

Uit die ontleding van die data wat in die vorm van antwoorde op dié vrae verkry is, is die volgende gevolgtrekkings gemaak:

  • Persoonlikheid en inherente waardes speel ’n wesenlike rol in die proses om sowel persoonlike as werkdoelwitte te bepaal, ongeag die voorskrifte wat in ’n werkplek mag geld.
  • Persoonlike en professionele doelwitte is dikwels vervleg. Dit dui op toewyding, maar kan ook tot uitbranding lei.
  • Die deelnemers se professionele doelwitte blyk in ’n groter mate te voldoen aan die gestelde vereistes wat in die literatuur geïdentifiseer word as wat die geval is met hul persoonlike doelwitte. Die grootste tekortkoming betreffende persoonlike doelwitte is dat daar nie altyd ’n sperdatum aan gekoppel is nie en die resultaat dikwels nie meetbaar is nie. Professionele doelwitte, daarenteen, is grootliks aan ’n sperdatum gekoppel en meetbaar.
  • Hoewel die deelnemers praktiese stappe doen in die proses om hul persoonlike doelwitte te bereik, belemmer werksdruk die bereiking daarvan omdat dit hulle van tyd en energie beroof.
  • ’n Beter balans tussen persoonlike en werkdoelwitte is nodig. Moontlike oplossings is doeltreffender tydsbestuur, prioritisering, delegering, kursusse, selfhelpboeke en berading.

Die deelnemers se antwoorde op al die vrae oor die verskillende aspekte van doelwitte staaf die feit dat al hierdie aspekte wat in die literatuur geïdentifiseer word, geldig is omdat die deelnemers aandag daaraan gee, hoewel doelwitte weens veral werk- en tydsdruk nie altyd behaal word nie. Die deelnemers voldoen dus nie altyd hier aan die vereistes vir die proses van goeie bestuur van persoonlike en werkdoelwitte nie.

Van die deelnemers beskryf die ineenstrengeling van hul persoonlike en werkdoelwitte soos volg:

Ek wil graag verder studeer in politieke wetenskap en kriminologie. Of dalk net die een of die ander. Dit was van my hoofvakke op universiteit en ek wou nog altyd verder studeer het. Ek dink ook dit kan my loopbaan help bevorder. Ek het dit bepaal omdat ek nog altyd in die twee vakgebiede belanggestel het en dit kan ’n aanwins vir my loopbaan as joernalis wees. (Deelnemer 1 (D1))

Om mense sover te kry om die koerant te koop, lees en eienaarskap van hul dorp of gebied te neem. Ek het dit bepaal omdat baie van ons lesers sedert 1994 vervreem begin voel het. Dis daarom nou veral nodig om mense rigting en leiding te probeer gee en hulle saam te snoer. Werk vir ’n behoorlike demokratiese bestel. My werk- en persoonlike doelwitte is baie dieselfde. (D3)

’n Ander deelnemer beskryf só hoe sy haar persoonlike doelwitte bereik:

Ek maak tyd vir dinge wat vir my belangrik en lekker is. Ek is nie te hard op myself nie en besef dat ’n mens jouself moet eerste stel. Werk is belangrik, maar ’n mens moet eerste na jouself omsien. Ek maak lysies van sekere persoonlike doelwitte en maak tyd daarvoor. Ná naweekwerk kry ek bv. tyd af by die werk en op dié dae doen ek goed waarvoor ek nie andersins tyd kry nie. Lees boeke wat ek wil lees, lees op die internet oor allerhande goed waaroor ek wonder, gaan stap met my hond, vind uit oor kursusse wat ek kan volg, werk in die tuin, ek spandeer tyd op my eie om te ontlaai – ek sal op my eie gaan koffie drink of vir myself braai. (D4)

Dieselfde deelnemer verwoord baie van die struikelblokke wat die deelnemers ervaar:

Soms is daar nie genoeg ure in die dag vir alles wat ’n mens wil doen nie. Ek dink dikwels is ’n mens te bang om kanse te waag en verval mens in ’n gemaksone in die pos waarin jy is. Op ’n dag tot dag-basis is iets wat eenvoudig klink – soos tegnologie – ’n reuse probleem. Jou 3G-kaart wat in ’n klein dorpie nie seinontvangs het nie, kan in ’n reuse probleem ontaard. Ander dae, veral in ’n buitekantoor breek meer as een groot storie op ’n dag – dan moet jy beplan en besluit wat die volgorde van belangrikheid is en daarvolgens werk. ’n Mens voel dikwels jy wil by alles gelyk uitkom, maar jy is net een mens en moet leer prioritiseer. (D4) 

Element 2. Beplanning

Beplanning is deel van die verwerkingsfase in die selfbestuursproses. Vrae is geformuleer om te toets of die deelnemers wel die geïdentifiseerde riglyne vir goeie beplanning volg en spesifiek hoe hulle dit doen. Die vrae het onder meer ingesluit wanneer en hoe die werkdag beplan word; hoeveel tyd elke dag aan beplanning bestee word; watter riglyne gevolg word om te besluit watter take eerste gedoen gaan word; watter na ’n latere stadium uitgestel kan word en watter heeltemal gelos kan word; asook hoeveel tyd aan watter take bestee sal word.

Ontleding en bevindings

Uit die antwoorde op die vrae oor beplanning blyk prioritisering op grond van ’n skerp nuussin danksy ervaring ’n kernvaardigheid te wees wat ’n buitekantoorjoernalis moet hê om alle aspekte van beplanning te bestuur. Die deelnemers se terugvoering in geheel op al die vrae hier bo bevestig die belangrikheid van die verskillende stappe betrokke by beplanning, soos uit die literatuur geïdentifiseer is.

Nuuswaardes speel die grootste rol in besluitneming en beplanning oor watter stories in ’n buitekantoor gedoen gaan word, en hoe vinnig en wanneer dit gedoen gaan word. Dieselfde faktore word ook oorweeg wanneer besluit word watter stories heeltemal gelos gaan word. Hierdie kriteria sluit in:

  • Nuuswaarde.
  • Aktualiteit.
  • Tydgebondenheid.
  • Emosionele trefkrag van die gebeure.
  • Interessantheid van die gebeure.

Hoewel minder deelnemers faktore soos impak en openbare belang spesifiek noem, beteken dit nie die ander neem dit nie ook in ag nie.

Behalwe die bostaande nuuswaardes speel die maklike bekombaarheid van inligting ook ’n rol in beplanningsbesluite: Hoe makliker bekombaar inligting is (oor gebeure wat sterk nuuswaarde het), hoe vinniger kan dit gedoen word. Dit sluit aan by navorsingsbevindings in tersaaklike literatuur dat joernaliste meer geneig is om te skryf oor gebeure wanneer inligting daaroor geredelik beskikbaar is, byvoorbeeld op sosiale platforms.

Die deelnemers gebruik die volgende hulpmiddels of vaardighede om te beplan:

  • Hou van ’n dagboek vir kort- en langtermynbeplanning.
  • Buigsaamheid.
  • Soms vra hulle raad by die nuusredakteur.

Deelnemers bestee die meeste tyd aan:

Alle aspekte van die nuusinsamelingsproses, veral die insameling van inligting en verifiëring van feite, asook die aflaai van foto’s wat geneem is. Dit is positief, omdat die insameling van nuus een van die kerntake van ’n buitekantoorjoernalis is.

Tekortkominge

  • Gebrekkige konsultasie met nuusredakteurs om te help met beplanning en prioritisering. Gereelde kommunikasie met die nuusredakteur om te help prioritiseer kan help om werksdruk te verlig en uitbranding te voorkom. Hoewel buitekantoorjoernaliste meestal ervare genoeg is om self te beplan en te prioritiseer, kan aanvaar word dat die nuusredakteur steeds ’n nuttige bydrae lewer om objektief te help prioritiseer. 
  • Sommige deelnemers bestee te min tyd aan veral voorafbeplanning en die byhou van dagboeke. Dit kan moontlik werkstres verhoog en produktiwiteit laat afneem, wat die gehalte van die produk (nuusberigte) moontlik kan benadeel. Gebrekkige beplanning kan ook byvoorbeeld daartoe lei dat werk onnodig gedoen word. Behoorlike beplanning bespaar tyd, byvoorbeeld deur te bel en vooraf ’n afspraak te maak eerder as om net iewers op te daag en dan is daar niemand nie, of op die verkeerde tyd en plek op te daag wanneer die besonderhede van ’n gebeurtenis nie vooraf bevestig is nie.

Element 3. Produktiwiteit

Die bestuur van produksie-aspekte is deel van die verwerkingsfase in die proses van selfbestuur. Vrae hieroor was daarop gemik om te toets hoe deelnemers die geïdentifiseerde aspekte van produktiwiteit bestuur. Dié vrae het onder meer ingesluit hoe onderbrekings bestuur word; hoe bestaande en inkomende dokumente bewaar word; watter kommunikasiemetodes (byvoorbeeld telefone of e-pos) onder watter omstandighede gebruik word; onder watter omstandighede take uitgestel word; en faktore wat veroorsaak dat die deelnemers oorlaai voel.

Ontleding en bevindings

Die antwoorde wat die deelnemers verskaf het, bevestig dat al die aspekte in die bestuur van produktiwiteit wat uit die literatuur geïdentifiseer is, tersaaklik en belangrik is: Hulle gee aandag aan al hierdie aspekte, hoewel hul hanteringsmeganismes soms gebrekkig is. Hulle voldoen dus nie altyd aan die ideaal wat in die literatuur voorgehou word oor hoe om ten beste te produseer deur die genoemde aspekte goed te bestuur nie.

Die deelnemers bestuur die volgende aspekte in die proses van produktiwiteit goed:

  • Onderbrekings: Hoewel dit die meeste van die deelnemers frustreer, het hulle unieke en doeltreffende meganismes om dit te bestuur, hoofsaaklik deur te herprioritiseer, uit te stel of te delegeer.
  • Metodes van kommunikasie: Hulle kon goed onderskei wanneer watter metodes van kommunikasie die toepaslikste onder watter omstandighede is en wissel vaardig tussen persoonlike, telefoniese en e-pos-kommunikasie.

Dié aspekte van produktiwiteit word minder doeltreffend bestuur:

  • Liassering van dokumente: Dis gebrekkig, waarskynlik weens tyd- en werksdruk in ’n buitekantoor. Omdat een persoon alles moet doen, is dit logies dat administratiewe werk agterweë gaan bly. ’n Kursus in vinnige en maklike liasseervaardighede kan dalk hier ’n oplossing wees, of bloot net om elke dag ’n bietjie tyd net aan liassering te bestee.
  • Uitstel van take: Dit kan dalk beter bestuur word deur sowel die emosionele as die praktiese redes daarvoor uit die weg te probeer ruim óf dit beter te leer hanteer. Beter tydsbestuur, ’n besoek aan ’n sielkundige of ’n persoonlike besoek aan lakse amptenare wat nie kommentaar stuur nie, mag dalk oplossings bied. Meer gereelde gesprekke met ’n toesighouer kan ook met prioritisering help.
  • Gevoelens van oorlading, oorweldiging: Die hoofrede hoekom joernaliste in buitekantore oorlaai voel, is dat dit gewoonlik een mens in ’n groot gebied is wat alle nuus moet dek. Dit veroorsaak dat die beskikbare nuus en werk dus altyd te veel is vir die beperkte tyd waarin dit gedoen moet word.

Uit die bostaande ontleding is dit duidelik dat produktiwiteit in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad bedreig word deur voortdurende onderbrekings, gebrekkige liassering, die uitstel van take en gevoelens van oorlading. Hoewel persoonlike omstandighede en persoonlikheidseienskappe ’n rol in al dié faktore kan speel, is die kernrede daarvoor die spesifieke omstandighede waarin ’n buitekantoorjoernalis hom of haar bevind.

So ’n joernalis is alleen verantwoordelik vir nuusdekking in ’n groot gebied vanuit ’n eenmankantoor waar geen administratiewe hulp bestaan om onderbrekings soos telefoonoproepe te kanaliseer of dokumente te liasseer nie. Weens die geweldige werklading omdat een persoon alles moet doen, word veral minder-belangrike take dikwels uitgestel. Die joernalis bly egter oorlaai voel, omdat hierdie take nie verdwyn nie. Die noodsaak om nuus ál vinniger aanlyn te produseer vir nuuswebwerwe te midde van personeelverminderings dra by tot die gevoel van oorlading in ’n reeds besige buitekantoor.

Daarom dan word die vermoë onder veral buitekantoorjoernaliste om te prioritiseer en te organiseer des te belangriker om dié gevoelens van oorlading te temper. Van die deelnemers het hul hantering van onderbrekings soos volg verwoord:

Ek praat maar met die mense wat my onderbreek as ek skryf, maar hou gesprekke kort. Soms sê ek vir mense ek kan nie praat nie, ek moet gaan. Ek leer om nee te sê. (D5)

Met instapkliënte of telefoonoproepe bepaal ek so gou moontlik die rede vir die oproep/besoek en verwys dit na die gepaste mense. As ek agterkom dit is iets wat ’n redelike tyd gaan neem, vra ek of ek die mense later kan terugskakel of vra dat hulle die storie kortliks e-pos. Ek sê dan wanneer ek sal kan terugskakel. (D4)

Die deelnemers het hul versuim om dokumente behoorlik op datum te hou en te liasseer soos volg verwoord: 

Daai is ’n taai vraag. Ek is nie baie pligsgetrou daarmee nie. Ek bêre wel my notaboeke waarin ek die nuus van die dag aanteken. Met groter stories, soos ondersoeke, moord ens. wat in die toekoms in die hof kan beland, maak ek ’n lêer oop vir elkeen. Ek sit tans met lêers van stories wat ek tot sover as 1984 aan gewerk het. (D2)

Liassering is ’n swak punt. Ek het ’n inmandjie, waarin ek dokumente sit wat langer gaan neem om op te volg. Dan maak ek elke dag stapels op my lessenaar. Die belangrikste dokumente lê reg langs my sleutelbord. (D4)

As ek te veel werk het en nie kan besluit watter storie die belangrikste is nie. As ek moeg en geïrriteerd is, as ek ongelukkig oor werksomstandighede is. (D5)

Van die deelnemers verwoord hul struikelblokke of gebrek daaraan soos volg:

Ek steur my nie juis aan struikelblokke nie. Ek kan op die ingewing van die oomblik ’n besluit neem oor wat om te doen en wat nie. (D2)

Die struikelblokke is dat daar nie meer die luukse bestaan om slegs op een storie te fokus nie omdat die webtuiste voortdurend “gevoer” moet word. Die redaksie het ook verklein en daarom raak die druk op elke joernalis meer. (D1)

Element 4. Beheer

Hierdie element gaan oor beheer binne die konteks van prestasie. Vrae hieroor was dus daarop gemik om vas te stel watter stappe die deelnemers doen om hul prestasie te bestuur. Dit vorm deel van die verwerkingsfase in die proses van selfbestuur. Die verskillende aspekte betrokke by beheer binne dié konteks is ook uit toepaslike literatuur geïdentifiseer.

Die vrae was daarop gemik om te bepaal:

  • Of die deelnemers weet wat die verwagte standaard van werk is wat hulle moet lewer en hoe hulle weet indien hulle nie daaraan voldoen nie.
  • Wat hulle doen om hul prestasie te verbeter indien hulle nie aan die verwagte standaard voldoen nie.
  • Watter geleenthede vir opleiding en die verkryging van beter tegnologie daar in hulle onderskeie maatskappye is om te help om hul prestasie te verbeter.

Ontleding en bevindings

Al die deelnemers weet baie goed watter standaard werk van hulle verwag word en erken nie maklik dat hulle nie daaraan voldoen nie. Hul hanteringsmeganismes indien hulle wel miskien nie aan die verwagte standaard voldoen nie, is gevolglik beperk en behels nie doelgerigte aksieplanne nie. Hul enigste plan van aksie is vaag: om ’n volgende keer nie dieselfde fout te herhaal nie en “beter te probeer doen”.

Hieruit kan afgelei word dat buitekantoorjoernaliste (waarskynlik weens hul vlak en jare van ervaring) oor die algemeen aan die verwagte standaarde voldoen. Dis moontlik wel ’n tekortkoming dat hulle weens hul traagheid om te erken dat hulle moontlik soms nie aan die standaarde voldoen nie, nie werklik goeie meganismes het om die gehalte daarvan te verbeter nie. Dit kan die gehalte van hul werk uiteindelik nadelig beïnvloed.

Die gebrekkige geleenthede vir opleiding vir spesifiek buitekantoorjoernaliste is ’n verdere tekortkoming, veral ten opsigte van opskerping oor die nuutste tegnologie wat dikwels in die joernalistieke omgewing, veral met betrekking tot aanlyn eise, benut word. 

Die deelnemers se antwoorde op die vrae oor beheer met betrekking tot standaarde bevestig die aangehaalde literatuur dat dit belangrik is om eerstens te weet wat die standaard is wat verwag word. In die literatuur word egter ook klem gelê op die noodsaaklikheid om te verbeter waar die verwagte standaard nie bereik word nie. Die deelnemers voldoen nie aan hierdie vereiste in die aangehaalde literatuur nie. Dit beteken egter nie dis onbelangrik nie; dit beteken juis buitekantoorjoernaliste behoort meer aandag daaraan te gee om te identifiseer waar hulle moontlik te kort skiet en dan doelgerigte stappe te doen om die gehalte van hul werk te verbeter.

Die deelnemers het vrae oor hul prestasie tipies soos volg beantwoord: 

Jip, ek weet wat van my verwag word en ek behaal daai standaard 98% van die tyd. (D2)

Dit word gewoonlik deurgegee tydens merietegesprekke. In my geval gebeur dit bitter selde (bykans nooit) dat ek nie aan verwagte standaard voldoen nie. (D1)

Element 5. Perspektief

Die definisie van perspektief binne die konteks van selfbestuur is spesifiek in watter mate individue voel hulle het beheer oor hul omgewing en dit wat met hulle gebeur. Perspektief is ’n belangrike inset in die proses van selfbestuur. Vrae is hieroor opgestel om te toets watter stappe joernaliste volg om hul perspektief doeltreffend te bestuur. Van die vrae was daarop gemik om vas te stel oor watter aspekte hulle voel hulle beheer het en hoe hulle hierdie aspekte bestuur. Deelnemers is ook gevra hoe take bestuur word indien hulle voel hulle het weinig of geen beheer oor hul omgewing nie.

Ontleding en bevindings

Al die deelnemers het aangedui dat daar aspekte in hul omgewing is waaroor hulle in ’n mindere of meerdere mate beheer het, maar ook aspekte waaroor hulle geen beheer het nie. 

Vyf deelnemers meen hulle het beheer oor die beplanning van stories: wat, wanneer en hoe hulle dit gaan doen. Hulle laat egter ruimte vir herbeplanning en herprioritisering waar nodig.

Die deelnemers bestuur aspekte in hul omgewing waaroor hulle meen hulle het wel beheer, soos volg:

  • Beplanning.
  • Wees ingelig oor wat in die omgewing gebeur.
  • Bestuur dit wat gebeur.
  • Prioritisering.
  • Steun op vorige ervaring.
  • Vra raad by nuusredakteur (selde).

Van die deelnemers verwoord hul perspektief op ’n veranderende omgewing soos volg:

Jy probeer maar wat jy kan. Jy doen alles moontlik en as dinge steeds nie uitwerk nie, haal jy diep asem, rook ’n sigaret en probeer jou nie te veel kwel oor dinge waaroor jy nie beheer het nie. (D4)

Ek voel darem meestal ek het beheer. Die aard van die beroep is dat jy heeltyd wag vir goed wat gebeur en mens leer om daarby aan te pas. (D7)

Ek sukkel maar aan, ek gee nie op nie. Soms neem dit meer tyd in beslag om ’n storie te skryf, soms besef ek dis beter dat ek nie alles kan beheer nie. Daar is ’n doel daarmee. Ek probeer die goeie in ’n situasie raaksien. (D5)

Ek doen net wat ek kan. (D3)

Die patroon hier is dat die meeste deelnemers deur beplanning (meestal in dagboeke) beheer van hul omgewing neem sover dit moontlik is. Net een meen hy is altyd in beheer van alles. Prioritisering en om ingelig te bly is nog meganismes om ’n onvoorspelbare omgewing te hanteer. Ervaring help ook, maar buitekantoorjoernaliste kan meer steun op nuusredakteurs vir raad om aspekte waaroor hulle nie beheer het nie, te bestuur. Net een het aangedui dat hy dit doen.

Die deelnemers se antwoorde oor hul perspektief op verandering staaf die literatuur dat dit ’n belangrike aspek van selfbestuur is: Al die deelnemers bestuur hul veranderende omgewing doelgerig en is deeglik bewus van aspekte waaroor hulle beheer het en dit waaroor hulle nie beheer het nie.

Element 6. Persoonlikheid

Persoonlikheid is een van die insette in die proses van selfbestuur. Persoonlikheid is uiteraard ’n komplekse konsep.

Ontleding en bevindings

Die meeste deelnemers pas die volgende ooreenstemmende metodes toe om selfhandhawend op te tree:

  • Hou feite en inligting gereed om hulself te kan verdedig.
  • Tree in ooreenstemming met hul beginsels op.
  • Probeer om hul emosies uit ’n situasie te verwyder.

Die deelnemers ondervind almal meestal die volgende struikelblokke om selfhandhawend op te tree:

  • Sukkel om nee te sê.
  • Oordrewe pligsbesef.
  • Soeke na goedkeuring.
  • Vrese om ander teleur te stel.

Een van die deelnemers vat struikelblokke wat die meeste van hulle ondervind, soos volg saam:

Ek sukkel om nee te sê, vir lesers of base, omdat ek nie daarvan hou om iemand teleur te stel nie. Ek sal myself dus eerder onder druk plaas en so hoop dat almal aan die anderkant met ’n glimlag uitstap. ’n Leser moet omdraai en seg, dit was nou lekker om so goed deur die publikasie gehelp te word. (D2)

Die meeste deelnemers neem grondige kritiek ter harte en probeer verbeter, maar steur hulle meestal nie aan onregverdige kritiek nie. Die hantering van kritiek blyk ook sterk gekoppel te wees aan persoonlike karaktertrekke, omdat die deelnemers uiteenlopende reaksies en hanteringsmeganismes aandui. Vir sommige is kritiek altyd swaar, omdat hulle lesers tevrede wil hou en nie onregverdig behandel wil word nie.

Een deelnemer verwoord sy reaksie op en hantering van kritiek soos volg:

Dit hang af van wie die kritiek kom. Voorstelle oor hoe om ’n moeilike storie aan te pak, word altyd verwelkom. Gegronde kritiek gebruik ek om ’n taak ’n volgende keer beter uit te voer. Kommentare van die lesers neem ek in ag as dit geldig is. Ongegronde kritiek ignoreer ek en beweeg aan. Ek is te besig om my te veel daaroor te kwel. (D4)

Hoewel die deelnemers hier individuele metodes het om situasies of persone te hanteer wat spanning aanwakker, is die vernaamste hanteringsmeganisme om hulle te ignoreer of kontak te beperk (vermyding). Indien kontak wel noodsaaklik is, word dit so kort moontlik gehou. Kursusse, berading of gonsgroepe om doeltreffende metodes te vind om spanningsvolle situasies of mense te hanteer wanneer dit moet, kan voordelig wees.

Van die deelnemers verwoord dit so:

Ek vermy daardie persone en tree nie in lang gesprekke nie. Ek sal toegee sodat hulle my kan uitlos. (D5)

Ek dink nie as joernalis kan mens situasies en persone vermy wat spanning aanwakker nie. Mens leer om daarmee te cope. (D1)

Dit blyk dat deelnemers sukkel om tyd vir ontspanning te vind weens werksdruk wat verhoog word deur toewyding en huiwering om te delegeer. Buitekantoorjoernaliste is jaloers op hul gebiede en plaas dikwels ekstra druk op hulself omdat hulle nie stories in hul gebied wil afstaan nie. Die meeste van die deelnemers maak egter wel op verskillende maniere planne om te ontspan. Kursusse of boeke oor lewensvaardighede en hoe om ’n balans tussen jou werk- en persoonlike lewe te vind, asook hulp om beter te leer organiseer en beplan, kan buitekantoorjoernaliste dalk help om meer tyd te vind vir ontspanning en om “af te skakel”. 

Van die deelnemers verwoord die balans (of gebrek daaraan) tussen werk en ontspanning soos volg:

Liewe donner! Wat’s dit? Ek is lief vir uitkamp en gelukkig bly ek naby aan die Krugerwildtuin. Dit is dus soms baie lekker om sommer op ’n Vrydagoggend die karavaan te pak, kamp op te slaan in die wildtuin en sommer van daar af te werk. My kantoor is mos waar my skootrekenaar is. (D2)

Dis iets waarmee ek nie goed is nie. Danksy my verloofde kan ek oor naweke soms besluit om my foon af te skakel. (D4)

Vier van die agt deelnemers vermy glad nie stories omdat hulle bang is hulle kan dit nie perfek doen nie. Die ander helfte doen dit wel, maar wanneer hulle tog iets moet doen oor moeilike onderwerpe of onderwerpe waarvan hulle geen kennis het nie, sal hulle kenners raadpleeg of die taak in kleiner take opdeel. Dit beaam dus die stelling in die literatuur dat mense take dikwels vermy omdat hulle vrees hulle maak foute, maar dit lyk wel of buitekantoorjoernaliste weens eise en noodwendighede van hul werk maniere vind om dit te oorkom. Hulle voldoen dus aan die vereiste in die literatuur om hierdie aspek van selfbestuur goed te bemeester.

Van die deelnemers verwoord hul ervaring met perfeksieverlamming soos volg: 

Soms (stel ek uit), vir ’n paar uur of wat. Maar uiteindelik sal ek ’n moeilike taak in dele probeer opdeel en een aspek op ’n slag takel. Goed waarmee ek nie goed is nie, soos om wiskundige berekeninge te doen, sou ek graag wou vermy, maar kan ek uiteraard nie. Ek het altyd ’n raadslid/iemand wat wiskunde kan doen vir wie ek kan vra om te help om bv. persentasies van groot bedrae uit te werk of om vir my te verduidelik hoe iets werk. (D4)

Ja, ek sal nie oor sport en kerksake skryf nie. Ek het geen kennis of belangstelling nie en ek weet ek sal foute maak. (D5)

Die deelnemers se terugvoering oor die verskillende persoonlikheidsaspekte betrokke by selfbestuur beaam die literatuur dat dié aspekte ’n belangrike rol in selfbestuur speel. Die deelnemers voldoen egter nie in alle opsigte aan die standaarde wat in die teorie gestel word ten opsigte van die doeltreffende bestuur van die persoonlikheidsaspekte wat deel van hierdie studie vorm nie.

Die nodigheid van professionele hulp soos berading of sessies by ’n sielkundige om aspekte van die persoonlikheid te bestuur, is duidelik by al die deelnemers omdat hulle soms worstel om hulself binne ’n uitdagende omgewing te bestuur. Die feit dat nog net twee van die deelnemers dit gedoen het, is ’n tekortkoming. Buitekantoorjoernaliste behoort meer gereeld gebruik te maak van professionele hulp om hulself beter te bestuur en die gehalte van hul werk sodoende te verbeter.

Figuur 4. Selfbestuur as ’n proses

5.4.1.2 Konstruk 2: Saamstel van ’n kontaklys

Vrae hieroor was daarop gemik om vas te stel watter stappe die deelnemers volg in die proses om ’n kontaklys saam te stel, met ander woorde watter insette hulle benut en hoe hulle dit verwerk. Die vrae was ook, meer spesifiek, daarop gemik om vas te stel of die deelnemers ’n kontaklys het, hoe omvattend dit is, hoe dit opgebou is en hoe dit bygehou en gestoor word.

Ontleding en bevindings

Al die deelnemers het uitgebreide kontaklyste (as uitset) wat oor jare opgestel is. Dit bevat duisende nommers van verskillende mense en instansies.

Die deelnemers is deeglik bewus van die belangrikheid van ’n kontaklys en hou dit so volledig en op datum soos moontlik. Hulle doen dit deur kontakbesonderhede te versamel uit ’n wye verskeidenheid situasies en geleenthede waarmee hulle in hul dagtake te doen kry. Weens tydsbeperkinge raak hulle egter soms agter. ’n Goeie gewoonte hier kan wees om elke dag doelbewus vyf minute opsy te sit net om nuwe kontaknommers te dokumenteer.

Selfone is naas rekenaars die gewildste metode om kontaknommers te stoor. Net twee van die deelnemers stoor kontaknommers in hardekopie. Hier is ’n tekortkoming: Meer behoort dit ook in hardekopie by te hou, want tegnologie kan faal en toerusting kan gesteel word, dan is alles verlore. Veral in afgeleë gebiede op die platteland is kragtoevoer boonop onbetroubaar en ’n rekenaar se battery het net ’n beperkte leeftyd voordat dit weer (met elektrisiteit) gelaai moet word. 

Hiermee word die aanname in die literatuurstudie dat die saamstel van ’n kontaklys een van die kerntake van ’n buitekantoorjoernalis se dagtaak is, bevestig. Die meeste deelnemers doen ook moeite om hierdie taak goed te verrig. Hoewel hier nie ernstige tekortkominge is nie, is daar ruimte vir verbetering, naamlik om maniere te vind om kontakbesonderhede nog beter te dokumenteer en dalk ook in ’n formaat waar dit nie deur tegnologiese haakplekke verlore kan raak nie.

Figuur 5. Saamstel van ’n kontaklys as proses

5.4.1.3 Konstruk 3: Nuusgenerering

Dié kerntaak/proses behels verskeie aktiwiteite wat uitgevoer word om inligting/insette te verkry wat uiteindelik verwerk word om ’n nuusberig te skryf. Dit bestaan uit twee subprosesse, naamlik nuusseleksie en nuusinsameling. Nuusseleksie is die keuse waaroor geskryf gaan word en nuusinsameling is die versameling van inligting om oor die gekose gebeure te kan berig.

Element 1. Nuusseleksie

Uit Strömbäck, Karlsson en Hopmann (2012:718) se studie onder 1 187 Sweedse joernaliste blyk verskillende insette nodig te wees voordat besluit word waaroor berig gaan word:

  • Nuuswenke van verskillende bronne.
  • Mediaverklarings.
  • Nuus waaroor reeds in ander media berig is.
  • Onderwerpe wat op sosiale platforms (aanlyn) bespreek word.
  • Beskikbare foto’s.
  • Video’s en grafika oor nuusgebeure of die waarskynlikheid dat dit verkry kan word.
  • Beskikbare vervoer en toerusting om die nuus in te samel.
  • Toegang tot bronne wat noodsaaklike inligting vir berigte kan verskaf.

Strömbäck e.a. (2012:718) identifiseer ook verskeie faktore wat oorweeg word in die besluitnemingsproses oor watter van die beskikbare gebeure (insette) eindelik in ’n nuusberig verwerk gaan word.

Dié faktore wat deel van die verwerkingsfase in die proses van nuusseleksie (vgl. Figuur 6) vorm, sluit in:

  • Hoe meer eksklusief ’n berig is, hoe groter die kans dat dit gepak gaan word. 
  • Hoe makliker en geriefliker dit is om inligting oor ’n berig te kry, deur middel van byvoorbeeld mediaverklarings of -konferensies, hoe groter die kans dat daaroor geskryf gaan word.
  • Hoe meer aansien of bekendheid die nuusonderwerp geniet, hoe groter die kans dat dit voorkeur sal geniet.
  • Hoe meer geredelik nuus beskikbaar is en op sosiale platforms (aanlyn) bespreek word, hoe groter die kans dat daaroor geskryf gaan word.

Vrae was daarop gemik om te toets of die aspekte hier bo ook ’n rol speel by buitekantoorjoernaliste se nuusseleksieproses, en waar moontlike tekortkominge bestaan.

Ontleding en bevindings

Buitekantoorjoernaliste se vernaamste nuusbronne is in die digitale era steeds baie tradisioneel (polisie, gemeenskap, politici).

Een deelnemer verwoord dit so:

Die beste wenke kom van kontakte met wie ek al jare ’n pad stap. Dan is regeringsdepartemente ook ’n bron van nuuswenke. Politieke partye en belanghebbendes in die landboubedryf. Ek kry ook baie nuuswenke van mense wat op werkselfoon en landlyn bel. (D1)

Dit bevestig dat tradisionele nuuswaardes en nuusbeginsels steeds van toepassing is, al het die platforms waarop die nuus versprei, verander.

Die feit dat baie nuus uit die gemeenskap self ontvang word, dui ook daarop dat gemeenskappe nuus soek oor kwessies wat hulle raak. Hulle is betrokke en verskaf daarom wenke aan die joernaliste. Dit bevestig die gehaltebeginsel dat van joernaliste verwag word om ook te reageer op die behoeftes van hul gemeenskappe en ’n diens as waghonde oor die gemeenskap te lewer. Die feit dat die deelnemers in hierdie studie steeds sterk op tradisionele nuusbronne fokus, staaf ook die bevindings van Van Leuven, Deprez en Raeymaeckers (2014:552) se studie waarin vasgestel is dat Belgiese joernaliste steeds hoofsaaklik op amptelike bronne steun om nuus bekend te maak hoewel niehoofstroombronne en sosiale media gereeld as bykomende bronne en kontakpunte gebruik word. Wanneer deelnemers self nuus insamel/soek, doen hulle dit meestal reaktief. Hulle hou dop waaroor ander media berig en soek op sosiale media vir stories. Dit staaf Strömbäck e.a. (2012:718) se bevindings in hul studie onder duisende Sweedse joernaliste dat sosiale media ’n belangrike bron van nuus is.

Dit skep egter ook tekortkominge, want in hierdie studie noem minder as die helfte van die deelnemers dat hulle unieke stories uitsnuffel deur bloot oplettend te wees oor wat in hul omgewing gebeur en waaroor mense praat. Nog ’n tekortkoming hier is dat so min van hulle noem dat hulle geleenthede of funksies bywoon met die doel om dalk daar unieke stories te vind.

Een van die deelnemers beskryf dit so:

Nuus is oral rondom ’n mens. Daar is so baie nuus, ek kom nie by als uit nie en moet gedurig besluit wat die belangrikste is. Sosiale media soos Twitter, Facebook en WhatsApp-groepe. Ook plaaslike polisiëringforum en plaaslike koerante. (D3)

Hieruit kan afgelei word dat die groot aanbod van nuus wat reeds in ander media en die sosiale media beskikbaar is, die nadeel het dat dit joernaliste “lui” maak om unieke stories te vind. Andersyds is daar dikwels druk van nuusbestuurders dat buitekantoorjoernaliste ook moet berig oor dinge waaroor ander media berig. ’n Goeie middeweg sou dalk wees om belangrike en groot gebeure te dek waaroor ander media ook berig, maar ook meer moeite te doen om unieke stories te skryf wat spesifiek tot die lesers van die buitekantoorjoernalis sal spreek. Dis om hierdie rede ook belangrik om jou lesers te ken en te weet watter unieke stories tot hulle sal spreek.

Dit blyk dat die sterkste oorweging onder deelnemers wanneer hulle besluit waaroor hulle gaan berig, dié dinge is wat hulle meen vir hul lesers interessant en belangrik is om te weet. Die impak wat gebeure op veral die lesers het, is dus die belangrikste oorweging. Dit bevestig weer eens die belangrikheid van ’n goeie kennis van die lesers. Nuus is immers ’n diens wat in mense se behoeftes moet voorsien, maar aan die ander kant is dit soms ook die taak van die joernalis om mense op te voed en in te lig oor belangrike ander kwessies wat hulle nie noodwendig direk raak nie.

Die volgende faktore speel wel ’n rol wanneer die deelnemers besluit oor watter van die nuusgebeure geskryf gaan word: eksklusiwiteit, gemak en gerief om die inligting te kry, aansien of bekendheid van die nuusonderwerp, asook die beskikbaarheid en bespreking van gebeure op sosiale platforms. Eksklusiwiteit word egter ’n toenemend minder haalbare ideaal weens die onmiddellike aard van digitale media. Dis gevolglik nou minder bepalend in nuusbesluite as vroeër.

Die deelnemers staaf in hierdie opsig dus ook die bevindings van Strömbäck e.a. (2012:718), behalwe dat eksklusiwiteit nie meer so ’n belangrike rol as tevore speel nie weens die onmiddellikheid en alomteenwoordigheid van aanlyn nuus en platforms. Die voorafbeskikbaarheid van visuele elemente het ook nie ’n groot invloed op die deelnemers se besluit waaroor geskryf gaan word soos die literatuur dit stel nie. Dit mag die besluit wel in sommige gevalle in ’n mate beïnvloed, maar die nuuswaarde self is belangriker – visuele elemente kan wel agterna gekry word.

Uit die ontleding hier bo blyk dit dat die deelnemers die meeste van die beginsels oor nuusseleksie soos in die literatuur geïdentifiseer, handhaaf, met die uitsondering dat eksklusiwiteit nie meer so ’n belangrike rol speel nie en die voorafbeskikbaarheid van visuele materiaal soos foto’s en grafika ook nie bepalend is nie. 

Figuur 6. Proses van nuusseleksie as eerste subproses van nuusgenerering

Element 2. Nuusinsameling

Die nuusinsamelingsproses begin waar die proses van nuusseleksie geëindig het, met die gekose gebeure waaroor geskryf gaan word as eerste inset. Die ander insette is alles wat nodig is om die nuus in te samel: voertuig, rekenaar, kamera, video-apparaat, skryftoerusting en notaboeke of ’n diktafoon en die joernalis se kommunikasie- en taalvaardighede. Al hierdie komponente word gebruik in die verwerkingsproses deur na die bron van nuus te ry of hom/hulle te bel, onderhoude met hulle te voer en die genoemde toerusting te gebruik om die onderhoud te dokumenteer. Die resultaat of uitset van hierdie proses is al die ingesamelde inligting soos verkry deur die onderhoudvoering en visuele komponente.

Vrae hieroor was daarop gemik om vas te stel watter van die (fisiese) hulpmiddels hier bo en ander waaroor dalk nie gevra is nie, asook joernalistieke vaardighede, deelnemers gebruik as insette in die proses van nuusinsameling. Hierdie vaardighede, soos deelnemers se oorredingsvermoë, kommunikasievaardighede, onderhoudvoering, aandagtige luister en die akkurate dokumentering van inligting, speel ook ’n belangrike rol in die verwerking van die insette om eindelik genoeg inligting en visuele elemente te hê vir die berig wat geskryf moet word. 

Ontleding en bevindings 

Die bevindings van Van Leuven e.a. (2014:552) dat joernaliste steeds tradisionele metodes gebruik om nuus in te samel en dit met nuwer metodes soos sosiale media aanvul, word gestaaf in die deelnemers in hierdie studie se antwoorde dat hulle selfone, kameras, soms diktafone, voertuie, notaboeke en ander skryfbehoeftes, maar ook die internet en video-apparaat, gebruik om nuus in te samel.

Die deelnemers gebruik dus ’n wye verskeidenheid tradisionele én digitaalgedrewe toerusting om nuus in te samel. Hieruit blyk dit dat hulle goed toegerus is en meestal alles gebruik: Al die deelnemers gebruik selfone, die internet, rekenaars, kameras, voertuie, notaboeke en skryfbehoeftes. Net drie gebruik egter ’n diktafoon om gesprekke op te neem en ses uit die sewe neem video’s.

Die deelnemers staaf ook die nodigheid van die geïdentifiseerde vaardighede deur te bevestig hulle gebruik dít en ander vaardighede om inligting in te samel. 

’n Tekortkoming hier is dat die deelnemers dalk meer aktief kan fokus op emosionele vaardighede om daardie elemente uit stories te kan haal, want dit sal die impak op lesers verhoog. Soos vroeër uitgewys, is impak op lesers ’n uiters belangrike faktor in die besluit oor watter nuus gepak gaan word.

Figuur 7. Proses van nuusinsameling as tweede subproses van nuusgenerering 

5.4.1.4 Konstruk 4: Skryf van nuus

Die proses om nuus te skryf, behels die volgende, in hierdie volgorde (Scanlan 2000:60–103): 

Hierdie aktiwiteite word in die volgende volgorde voorgestel (in die aangehaalde literatuur hier bo):

  • Skryf ’n eerste weergawe uit die ingesamelde inligting en verifieer dan feite waaroor nog twyfel bestaan.
  • Herskryf die berig sodat dit die regte voorgeskrewe lengte is.
  • Lees die berig nog ’n keer deur om seker te maak dit vloei logies en dat dit ’n volledige, billike en duidelike weergawe van die nuusgebeurtenis is.
  • Kontroleer spelling, punktuasie, grammatika en styl weer vir oulaas. 

Maak seker al die bogenoemde aktiwiteite word binne ’n tydraamwerk voltooi wat aan die vereiste spertyd voldoen.

Vrae hieroor is geformuleer om te probeer vasstel of die deelnemers wel ’n spesifieke, stapsgewyse metode volg wanneer hulle berigte skryf, en of dit ooreenstem met Scanlan (2000) se voorgestelde stappe hier bo.

Ontleding en bevindings 

Die deelnemers se terugvoering bevestig die beginsels oor die skryf van nuus soos uiteengesit in die literatuur waarna hier bo verwys word. 

Al die deelnemers weet daar is ten minste ’n plan nodig voordat ’n berig geskryf word; die meeste van hulle weet hoe die struktuur van ’n nuusberig behoort te lyk en gehoorsaam dit origens. Hoewel die deelnemers elk hul eie maniere gevind het om berigte te struktureer en belangrike komponente en inleidingsparagrawe te identifiseer, bly die gewildste steeds om te begin met die belangrikste of interessantste deel van ’n storie en dan af te werk na minder belangrike aspekte. Dit lyk dus of die beproefde omgekeerde driehoek dus meestal steeds van toepassing is, en staaf weer eens die stelling deurdat dieselfde beginsels vir gehalte in joernalistiek nog geld, ongeag nuwe platforms wat verskyn (Schoenbach en Van der Wuff 2014a:445). Nog ’n metode wat hulle toepas, is om die berig chronologies te orden.

Die deelnemers is egter ook buigsaam ten opsigte van die struktuur van berigte. Dié buigsaamheid word toegepas wanneer verskillende soorte stories (harde nuus vs. menslike nuus) geskryf word. Dit is egter ook duidelik dat beroepservaring van skryf in die joernalistiek aangevul word met individuele voorkeure en planne om eindelik ’n goedgeskrewe berig te lewer. Hoewel die deelnemers Scanlan (2000) se geïdentifiseerde proses vir die skryf van berigte volg, doen hulle die stappe nie noodwendig in die voorgestelde volgorde nie.

’n Nadeel van die spoed waarteen nuus deesdae vir verskillende platforms aanlyn geproduseer moet word, is egter dat Scanlan (2000) se voorgestelde herskryf van die eie berig dikwels nie realiseer nie, omdat daar nie genoeg tyd is nie. Dit strook met aannames in die teorie dat die omvang en spoed van nuus in die sogenaamde nuwe media uitdagings vir gehalte skep. 

Daar kan dus tot die gevolgtrekking gekom word dat goeie beginsels vir die produksie van gehalteskryfwerk wat in die literatuur voorgeskryf word, steeds geld en steeds toegepas word, maar dat tydsbeperkinge weens druk om aanlyn te produseer die proses kan verhaas en moontlik tot meer foute en gevolglik werk van ’n laer gehalte kan lei.

Die deelnemers gebruik egter ook baie kreatiewe en interessante metodes wat nie in die literatuur beskryf word nie, maar wat as nuttige opleidingswenke vir alle joernaliste gebruik kan word. Een deelnemer het byvoorbeeld ’n baie interessante metode, naamlik die sogenaamde duisendpootmetode, beskryf. Hiervolgens is die kop van die duisendpoot die inleidingsparagraaf, in die nekgedeelte word die inleidingsparagraaf verduidelik en net onder die nek word dié verduideliking verder uitgebou. Hierna, in die duisendpoot se middellyf, word die belangrikste segmente van die storie uitgelig, in die “bene” word hierdie elemente vereenvoudig en in die voete eindig die storie met iets wat skakel met die inleidingsparagraaf.

Indien gekyk word na die prosesse wat hulle volg om berigte te skryf, kan tot die gevolgtrekking gekom word dat dit deeglike, voldoende prosesse is om berigte van goeie gehalte te verseker. Die beginsels in die tersaaklike literatuur word dus bevestig en dit voldoen ook grootliks aan die standaarde of vereistes wat in die literatuur gestel word.

Figuur 8. Proses van skryf van nuus

5.4.1.5 Konstruk 5: Voortdurende kommunikasie met die nuusredakteur

Voortdurende kommunikasie met die toesighouer van ’n buitekantoorjoernalis help met die stel van doelwitte, beplanning en herevaluering van die nuusproses. Die fokus hier val veral op die verwerkingsfase van die proses. Dit behels tipies bespreking en beplanning rondom die geselekteerde/geïdentifiseerde gebeure (die inset) waaroor geskryf gaan word. Hier is die uitset dan die nuuslys waarop spertye vir spesifieke platforms aangedui word en die joernalis se finale kennisgewing aan die nuusredakteur wanneer ’n berig voltooi en op die stelsel gelaai is. 

Vrae hieroor was spesifiek daarop gemik om te toets of daar goeie samewerking en kommunikasie tussen deelnemers en hul direkte toesighouers is, waaroor hulle kommunikeer en hoe gereeld hierdie kommunikasie plaasvind.

Ontleding en bevindings

Die meeste van die deelnemers praat gereeld oor die volgende aspekte met hul nuusredakteurs:

  • Soggens vroeg oor watter stories gedoen gaan word en die inhoud daarvan.
  • Waaraan voorkeur gegee gaan word.
  • Al die deelnemers laat weet wanneer ’n nuusberig nie meer gaan realiseer nie.
  • Wanneer daar groot, nuwe verwikkelinge met bestaande stories is of belangrike nuwe stories inkom.
  • Sodra ’n nuusberig klaar geskryf en deurgestuur is. Oor die algemeen laat weet buitekantoorjoernaliste hul nuusredakteur direk dat ’n berig gestuur is, maar in die minderheid gevalle waar hulle dit nie doen nie, is daar stelsels wat dit moontlik maak vir die nuusredakteur om self dop te hou wanneer berigte gestuur word. Dis egter wenslik om die nuusredakteur steeds te laat weet, selfs al is daar stelsels. Dit bespaar tyd en maak ook voorsiening vir wanneer die stelsel faal en ’n berig dalk verlore raak. Indien die nuusredakteur weet dis wel gestuur, kan die verlore storie dan gevind word pleks daarvan dat niemand besef ’n storie wat gestuur is, het nooit sy bestemming bereik nie.
  • Soms wanneer bystand verkry moet word vir die neem van foto’s en video’s.

Die deelnemers neem meestal self besluite oor die volgende:

  • Watter visuele elemente by berigte aangebied gaan word, soos foto’s, grafika en videomateriaal.
  • Watter berigte wanneer vir watter platforms aangebied word. Hoewel alle buitekantoorjoernaliste daagliks hieroor moet besluit, neem vier uit die sewe deelnemers self besluite hieroor sonder om die nuusredakteur te raadpleeg.

Tekortkominge in kommunikasie met die deelnemers se toesighouers is dat daar nie altyd tyd vir kommunikasie is nie namate nuuskantore kleiner word en die druk om digitaal/aanlyn meer te produseer al hoe groter word. So kan gehalte verlore gaan, omdat daar nie altyd deeglik besin word oor inhoud en invalshoeke van stories nie. Juis die onafhanklike aard van buitekantore skep die gevaar dat die ervare deelnemers wat hulself meestal bestuur, nie altyd genoeg met die nuusredakteur kommunikeer nie en dan vervreem raak van die eise, kultuur en behoeftes van die hoofkantoor. 

Origens bevestig die deelnemers die beginsel in die literatuur dat kommunikasie met die nuushoof ’n belangrike proses is om gehalteberiggewing te verseker – dis dan ook waarom hulle oor alle belangrike aspekte met die nuusredakteur praat. Hul onafhanklikheid kan egter ’n gevaar inhou deurdat hulle so selfstandig kan word dat hulle later selfs nalaat om oor belangrike aspekte met die nuusredakteur te kommunikeer. ’n Wenk hier mag wees dat nuusredakteurs en buitekantoorjoernaliste wel ’n vaste reëling tref om daagliks minstens een keer te kommunikeer, dat die nuusredakteur van tyd tot tyd ook buitekantore besoek en buitekantoorjoernaliste ook sporadies besoek gaan aflê by die hoofkantoor. 

Een van die deelnemers beskryf kommunikasie met die nuusredakteur soos volg:

Ja, ek en my nuusredakteur praat daagliks. Ek verkies om ten minste een keer per dag telefonies met hom te praat – ’n telefoongesprek is dikwels vinniger en duideliker as twee of drie e-posse. Soggens sal ons praat oor wat ek vir die dag het en of hy iets het wat ek moet opvolg. As minder belangrike stories deur die dag gebeur, sal ek dit bloot op die nuuslys gaan byvoeg en hom nie noodwendig daaroor bel nie, maar met groot gebeure, of iets wat ’n moontlike hoofstorie kan wees, bel ek hom dadelik. As ’n reël sou ek hom bel wanneer ek op pad is na ’n misdaad- of hardenuusstorie, en ek sal hom weer van die toneel af bel om die kruks van die storie vir hom te gee, sodat hy dit solank op die nuuslys kan byvoeg of die storie na voor skuif. Hy sal dikwels raad gee oor inligting wat ek moet kry of die soort foto’s wat ons by die storie wil hê. Ek werk dan daarvolgens. (D4)

Figuur 9. Voortdurende kommunikasie met die nuusredakteur as ’n proses

5.4.2 Konsep 2: Hulpmiddele

Hulpmiddele (insette) afkomstig uit die mikro- of taakomgewing, asook die intermediêre omgewing, wat joernaliste nodig het om hul werk behoorlik te kan doen, is uit tersaaklike literatuur geïdentifiseer (Deuze 2005:447; Scanlan 2006:6–12; Kovach en Rosenstiel 2007; Swanepoel 2012:1, 69, 88, 89–96,178; Ojetimi 2012; Batsible 2014:37–41; Nikuken 2014:869–72; Schweiger en Urban 2014:823; Tweissi e.a. 2015:55–78; Manda 2015:156–7; Pihl-Thingvad 2015:394–411 en Press Council 2016): 

  • Diensvoorwaardes (mikro-omgewing). Diensvoorwaardes behoort op skrif beskikbaar te wees in die vorm van dokumente soos aanstellingskontrakte en kritieke-prestasie-areas (KPA’s).
  • Voldoende infrastruktuur (mikro- en markomgewing). Dit sluit hulpbronne in soos ’n rekenaar, telefoon, kamera, skryfbehoeftes soos notaboeke en penne, ’n kantoor en toegang tot die internet.
  • Goeie samewerking, kommunikasie en terugvoering tussen verskillende vlakke van bestuur en met personeel (mikro-omgewing). Vir die buitekantoorjoernalis beteken dit daar moet ’n goeie werkverhouding en kommunikasie wees met kollegas by die hoofkantoor – sy lynhoof (nuusredakteur), die redakteur, nagnuusredakteur, nagredakteur en redigeerders. Kommunikasie met administratiewe personeel soos dié van die rekenaar- en voertuigafdelings moet ook deurgaans moontlik wees om infrastruktuurprobleme te kan uitstryk. Hierdie inset sluit aan by die konstruk/kerntaak, naamlik voortdurende kommunikasie met die nuusredakteur.

Met vrae oor hierdie aspekte is probeer om vas te stel of buitekantoorjoernaliste wel genoeg van dié insette het om werk van goeie gehalte te lewer. Die resultate uit antwoorde wat die agt (aanvanklike) deelnemers verskaf het, word hier onder in in tabelvorm uiteengesit.

Tabel 2. Hulpmiddele wat joernaliste nodig het

Elemente/insette

Ja

Nee

Probleme

Diensvoorwaardes

7

1

Tekortkoming: Een deelnemer het geen diensvoorwaardes nie.

Infrastruktuur

8

1

Tekortkoming: Een deelnemer werk uit sy kar, het geen kantoor nie, ook nie by die huis nie. Hy het egter al die ander infrastruktuur soos ’n rekenaar, selfoon, internettoegang en ’n voertuig om sy werk te kan doen.

Voldoende kommunikasie met toesighouer/ nuusredakteur

3

5

Tekortkoming: Hoewel al die deelnemers voldoende toerusting het om met hul toesighouers en ondersteunende personeel te kommunikeer, is daar ander struikelblokke hierin, soos ’n ingewikkelde rapporteringstruktuur en tydsbeperkings.

 

Ontleding en bevindings 

Hoewel al die deelnemers voldoende toerusting vir kommunikasie het, ondervind hulle etlike struikelblokke in hul kommunikasie met veral toesighouers. Dit sluit in ’n ingewikkelde redaksiestruktuur met te veel toesighouers, wat veroorsaak dat die joernalis nie altyd seker is met watter toesighouer op ’n bepaalde tydstip gekommunikeer behoort te word nie. Die vinnige omset van toesighouers, onervarenheid onder hulle en verskillende maniere van werk is ook ’n struikelblok. Werksdruk en tegnologie wat soms nie in veral afgeleë gebiede funksioneer nie, belemmer kommunikasie ook.

Een deelnemer verwoord dit so:

Wat wel soms ’n struikelblok is, is dat ons baie verskillende base het. Sommige lynbestuurders is onervare, verstaan nie altyd die geografie van die gebiede waarin ons werk nie en het ook nie altyd begrip oor hoe ’n buitekantoor werk nie. Sommige van hulle is minder ervare as ’n buitekantoorjoernalis. Vinnige omset van lynbestuurders is nog ’n struikelblok omdat elkeen ’n ander manier van werk en prioriteite het. Dit en herstrukturering veroorsaak voortdurende veranderinge in rapporteringslyne, wat ’n struikelblok vir kommunikasie is. Baie vergaderings, veral tydens die herstruktureringsproses, veroorsaak ook dat lynbestuurders dikwels nie beskikbaar is vir kommunikasie nie. (D3)

Die deelnemers se antwoorde bevestig die literatuur dat die genoemde hulpmiddele nodig is, omdat daar duidelik moeite gedoen is dat hulle die meeste van hierdie hulpmiddele moet hê. Betreffende die struikelblokke in kommunikasie met veral toesighouers word die teoretiese nodigheid hiervan bevestig deurdat die deelnemers die struikelblokke as ’n tekortkoming beskou.

Moontlike oplossings vir hierdie struikelblokke is om rapporteringslyne te vereenvoudig indien dit nie moontlik is om die redaksionele struktuur te vereenvoudig nie. Tegnologie/toepassings soos WhatsApp, SMS’e of selfs Facebook kan ook by geleentheid ingespan word om vinniger kontak met toesighouers te maak. 

5.4.3 Konsep 3: Individu

Kernverwagtinge en vaardighede waaroor joernaliste behoort te beskik, word nie as sulks in hierdie studie ontleed of beoordeel nie, hoewel dit die gewenste uitset behoort te wees indien die proses van selfbestuur doeltreffend uitgevoer word (vgl. 5.4.1). Een aspek/konstruk rondom die verwagtinge waaraan joernaliste moet voldoen, naamlik oor watter opleiding en kwalifikasies hulle beskik, is egter wel getoets in sommige vrae wat gestel is, omdat hul opleiding en kwalifikasies ’n belangrike inset vir die proses van nuusbestuur is. 

Ontleding en bevindings

Net drie van die agt (aanvanklike) deelnemers het ’n toepaslike graad of diploma in joernalistiek. Ses het egter indiensopleiding gekry en/of kursusse gedoen. Al die deelnemers het meer as 10 jaar joernalistieke ervaring, van wie die meeste (ses) meer as 14 jaar ervaring het. Die helfte het meer as 20 jaar ervaring en een meer as 30 jaar ervaring. 

Die helfte (4) van die buitekantoorjoernaliste het wye ervaring by sowel plaaslike as nasionale publikasies, terwyl die meeste (5) by ten minste vier verskillende publikasies gewerk het. Die meeste (5) het ook bestuurservaring deurdat hulle al as nuusredakteur of as kantoorhoofde gewerk het, en een was al ’n redakteur. 

Wye en jare lange ervaring (ook in bestuur) by verskeie publikasies op plaaslike en nasionale vlak is dus ’n sterk ooreenstemmende eienskap by die oorgrote meerderheid van die deelnemers, en mag moontlik die belangrikste insette wees wat die buitekantoorjoernalis as individu na die proses van nuusgenerering bring. Hieruit kan die afleiding gemaak word dat indiensopleiding en praktiese ervaring die belangrikste faktore is wat ’n joernalis in staat stel om ’n buitekantoor te bestuur.

Die aanname in die teorie dat joernalistieke opleiding een van die kernverwagtinge van goeie joernaliste is, word dus hier weerlê. Praktiese en wye ervaring blyk dus in ten minste die geval van buitekantoorjoernaliste belangriker te wees as formele opleiding. 

5.4.4 Konsep 4: Die omgewing

’n Goeie kennis en oorsig van die omgewing is ’n belangrike inset vir die skep van nuusberigte van ’n goeie gehalte as gewenste uitset. Zaaiman (2001:243–6) se magselemente wat toepaslik is vir hierdie studie, asook inligting oor demografiese elemente verkry van webwerwe soos dié van Stats SA en Brand South Africa, is gebruik as riglyn om deelnemers se kennis oor die gebied waar hulle werk, te toets.

Tabel 3. Zaaiman se magselemente

Ekonomiese ordeninge. Dit gaan in wese oor die ontginning van hulpbronne om menslike behoeftes op verskeie vlakke te bevredig en is ’n kernfaktor in enige provinsie of streek waarin ’n buitekantoorjoernalis werk. Dit beïnvloed elke aspek van die lesers se lewe: hoe en of hulle werk, wat hulle verdien, waar hulle woon, hul vervoermiddele, misdaad, ongelykhede, armoede, rykdom, korrupsie, wanbesteding, behuising, toegang tot onderrig, ens. Vanselfsprekend is al hierdie faktore onderwerpe waaroor daagliks geskryf word, omdat dit mense direk raak. ’n Buitekantoorjoernalis moet weet hoe die ekonomiese profiel van sy lesers lyk, sodat hulle ingelig kan wees oor kwessies wat hulle raak. Die leser kan dié inligting gebruik om aan demokratiese prosesse deel te neem sodat positiewe veranderinge kan kom ten opsigte van ekonomiese ongelykhede en ander probleme.

Politieke strukture en prosesse. Dis die strukture en prosesse vir die bestuur en beheer van openbare sake. Die politieke mag in ’n bepaalde streek of provinsie het ’n beduidende invloed op die uitvoer van beleid op nasionale en provinsiale vlak. Sulke beleide en die uitvoer daarvan raak elke inwoner direk. Die buitekantoorjoernalis moet dus weet wie die politieke septer in sy gebied swaai, watter ander politieke magte ter sprake is en hoe hul doen en late op so ’n manier aan die lesers gekommunikeer kan word dat die lesers hul demokratiese reg kan gebruik om die politieke magsbasis te verander indien nodig en kan help met die formulering van beleid.

Natuurlike ruimtelike omgewing. Seisoenale en klimatologiese toestande het ’n groot invloed op alle mense in ’n bepaalde provinsie of streek. Die buitekantoorjoernalis moet weet watter faktore hier belangrik is om lesers oor in te lig, byvoorbeeld die voorkoms van droogte in ’n streek waar boerderybedrywighede ’n belangrike deel van die streeksekonomie is.

Mense. Hulle het ’n behoefte aan onder meer sekuriteit, orde, sosiale samehang, huisvesting, kleding en voeding. Mense het egter baie verskillende behoeftes. Vir die buitekantoorjoernalis is dit belangrik om die behoeftes van mense in sy omgewing te bepaal sodat geskryf kan word oor die dinge wat hulle raak en waarin hulle belang stel.

Sosiale patrone en produkte. Dit sluit in hoe mense in ’n bepaalde streek dink, wat hulle doen en hoe hulle dit uitleef in die vorm van tradisies, ideologieë, modes, gebruike, gelowe, norme, waardes, etiese beskouings, geloofsoortuigings, denkbeelde oor die verlede en taal. Die beskikbare media in ’n bepaalde gebied weerspieël al dié aspekte.

 

Tabel 4. Demografiese inligting oor die lesers

Sluit streeksdata in oor onder meer:

  • Hoeveel mense daar woon.
  • Ras- en geslagsamestelling.
  • Voorkoms van verskillende moedertale.
  • Statistieke oor inkomste, werkloosheid, armoede, behuising, hongersnood en toegang tot water en elektrisiteit.
  • Statistieke oor ouderdomsgroepe, geboortes, sterftes en die voorkoms van gestremdhede.
  • Landbougemeenskappe en vervoer.

Nut: Inligting soos hierdie kan met groot vrug gebruik word om te bepaal hoe ’n buitekantoorjoernalis se lesers op verskillende samelewingsvlakke lyk, leef en praat. Dis ’n belangrike riglyn oor wat vir hulle belangrik is om te weet, waarin hulle belangstel en ook watter soort inligting van hulle verkry kan word.

 

5.4.4.1 Konstruk 1: Demografiese inligting oor lesers/mense in bedieningsgebied

Ontleding en bevindings 

Deelnemers het wat sowel hul eie lesers as die groter bevolking in hul bedieningsgebied betref, eintlik net ’n goeie kennis van die mense se ras- en taalgroep en ’n redelike kennis van ekonomiese aspekte soos hul inkomstevlak, metodes van vervoer en of hulle meestal werk het of nie. Wat die res van die demografiese inligting betref, het hulle hier en daar ’n vermoede, maar geen vaste idee nie. Hul kennis oor aspekte soos toegang tot basiese dienste, inkomste en ouderdom is dus vaag.

Die deelnemers maak grootliks staat op hul eie ervaring van mense in hul gebied en dié se probleme om ’n profiel van hul omgewing te vorm. Sommige steun ook soms op navorsing wat hul maatskappye doen en navorsingsresultate op webwerwe soos Stats SA. Dis duidelik hulle het nog nooit formeel ’n omgewingsprofiel van die gebied waar hulle werk, saamgestel nie. Die profiel is eerder oor ’n tydperk gevorm as ’n soort begrip van wie hul lesers en die breë publiek is. Dis meestal gevorm op grond van persoonlike ervaringe wat oor ’n tydperk met die skryf van stories opgedoen is, wat soms genoodsaak het dat hulle navorsing oor sekere aspekte van die demografiese eienskappe moes doen.

Hul begrip van die demografie van hul omgewing is gevolglik in die meeste opsigte gebrekkig en vaag omdat dit subjektief opgebou is.

Ondanks dié tekortkoming meen ses van die agt deelnemers demografiese faktore is ’n belangrike aanduider van wat vir lesers belangrik is en wat die impak van nuusgebeure op hulle sal wees. Hulle neem die (gebrekkige) kennis daaroor dus in ag wanneer hulle besluit waaroor om te skryf en wat die invalshoek sal wees. 

Hiermee staaf deelnemers stellings in die literatuur dat die lesers se behoeftes en verwagtinge belangrike faktore is wat in ag geneem behoort te word wanneer nuusbesluite geneem word (sien Schoenbach en Van der Wuff 2014b:121). Kovach en Rosenstiel (2007:209–12) staaf aansluitend hierby die deelnemers se mening dat ook kwessies in die groter bevolking in ag geneem moet word wanneer nuusbesluite geneem word. Een van die kernbeginsels van goeie joernalistiek is om omvattende, volledige nuus aan ’n diverse gemeenskap te bied. Dit moet ’n “kaart” vir landsburgers skep wat hulle deur die samelewing help navigeer en geografies oriënteer.

Hier is dus groot ruimte vir verbetering. Elke buitekantoorjoernalis behoort met sy of haar aanstelling só ’n demografiese profiel saam te stel om reeds van die begin af beter te kan fokus op kwessies wat belangrik is vir die lesers en, waar toepaslik, vir die breër publiek. Buitekantoorjoernaliste behoort meer moeite te doen om vas te stel hoe presies hul lesers lyk, sodat nuusbesluite ook met inagneming daarvan geneem kan word. Dit kan beskou word as een van die kernbates wat buitekantoorjoernaliste behoort te hê wat hulle ook onderskei van stadsjoernaliste. Hulle het ’n goeie kennis van mense in hul gebied weens jare lange ervaring en die meer intieme verhouding wat hulle met hul lesers het. Hierdie soort kennis is ’n swaar-verkreë bate wat nie maklik vervang kan word nie. Dit behoort ook ’n motiveerder vir nuusbesture by dagblaaie te wees om buitekantoorjoernaliste te hou waar hulle is en nie te probeer om streeknuus uit die stad te lewer nie. Die gehalte van stories wat geskryf word deur iemand in die stad met geen kennis van die demografiese eienskappe van lesers in ’n sekere gebied nie, sal beslis nie so goed wees soos dié van ’n buitekantoorjoernalis met ’n goeie kennis van die behoeftes en eienskappe van lesers in ’n bepaalde gebied nie.

Buitekantoorjoernaliste moet ook daarteen waak om te min klem op die demografiese eienskappe van die breër bevolking te lê, want hulle besef tereg ook hul lesers behoort hiervan kennis te neem – dis deel van die koerant se opvoedingstaak en taak om in te lig.

Hier volg ’n voorbeeld van hoe so ’n omgewingsprofiel van Noordwes kan lyk.

 

Figuur 10. Omgewingsprofiel – Noordwes 

5.4.4.2 Konstrukte 2 tot 4: Ekonomie, politiek en die natuurlike omgewing

Ontleding en bevindings 

Al die deelnemers behalwe een het ’n baie goeie kennis van die ekonomiese, politieke en natuurlike ruimtelike aspekte wat ’n rol in hul omgewing speel. Dis goed, want dit raak lesers en die ekonomie. Hulle behoort dus kennis hiervan te dra en ook ingelig te word oor wat hulle kan doen in byvoorbeeld droogtetye om water te bespaar of hoe besoedeling bekamp kan word.

Die feit dat die deelnemers eerstens ’n goeie kennis van die ekonomiese, politieke en natuurlike ruimtelike rolspelers in hul omgewing het en dit ook sterk in nuusbesluite oorweeg, staaf Coulter en Robbins (2005:206) se stelling dat een van die belangrikste aspekte van beplanning is om die omgewing waarbinne jy leef en werk, te assesseer. Dit behels onder meer om groot hoeveelhede inligting uit die omgewing te verkry sodat die omgewing beter geïnterpreteer kan word en toekomstige tendense voorspel kan word (Coulter en Robbins 2005:206–8). 

By die een joernalis wat natuurlike ruimtelike faktore nie in ag neem nie, is dit ’n ernstige tekortkoming omdat dit ’n belangrike aspek van elke leser se leefwêreld is en ’n direkte invloed op hul lewens kan hê. Origens is die meeste buitekantoorjoernaliste se kennis hieroor kernbelangrik, omdat almal van hulle ook besef hierdie komponente/konstrukte speel ’n belangrike rol in nuusbesluitneming. 

Deelnemers kon dié magte in hul omgewings in die fynste besonderhede beskryf:

Landbou speel ’n reuse ekonomiese rol in die verspreidingsgebied. Die grootste deel van die ekonomie word deur landboubedrywighede en mynbou aangevuur. Die land se mielieproduksie is hoofsaaklik afkomstig uit die Vrystaat. Sowat twee derdes van die provinsie se landbou-inkomste word gemaak uit mielies. Die grootste gedeelte van die land se kersie-produksie is byvoorbeeld afkomstig uit Ficksburg in die Oos-Vrystaat. Gewasse soos soja, sorghum en sonneblomme is ook gewilde gewasse in die gebied. Veeboerdery (skape, beeste, hoenders) is algemeen in die Vrystaat en wildboerdery neem al meer toe. Wildboerdery, waaronder springbokke, koedoes, swartwitpense, raak toenemend gewild onder boere. (D4)

Politiek: uiteraard baie belangrik. Ekonomiese kragte: baie belangrik omdat hierdie gebied baie werk verskaf aan blouboordjiewerkers. Die natuurlike omgewing is uiters belangrik want die gebied is baie afhanklik van die Vaalrivier. Trouens die Vaalrivier verskaf water aan die grootste deel van Gauteng, dele van Noordwes, Mpumalanga en die Noord-Vrystaat. (D3)

5.4.4.3 Konstruk 5: Mense se behoeftes

Ontleding en bevindings

Die meeste van die deelnemers weet uit die aard van hul werk en jare lange ervaring met lesers wat hul lesers se behoeftes is. In hierdie opsig voldoen die deelnemers dus aan een van die vereistes vir gehalteberiggewing wat in die teorie gestel word, naamlik dat die eindproduk aan bepaalde verwagtinge of behoeftes van die lesers moet voldoen.

Buitekantoorjoernaliste het egter ook kennis nodig van die groter bevolking se behoeftes om hul diensfunksie volledig te kan vervul, maar uit hul antwoorde blyk dit hulle het gebrekkige kennis hiervan. Almal wat in ’n gebied woon, is onderling verweef en probleme in een gemeenskap spoel noodwendig oor na ’n ander gemeenskap. Lesers kan nie in isolasie woon nie en moet ook weet watter kwessies in die groter bevolking hulle raak. Daarom behoort buitekantoorjoernaliste ook op die hoogte te wees van die behoeftes en leefwêreld van die groter bevolking wanneer nuusbesluite geneem moet word oor watter van hierdie kwessies ’n uitwerking op die lesers het.

Een deelnemer beskryf haar lesers en die breër bevolking se behoeftes soos volg:

Ons lesers wil weet van diensleweringsprobleme wat hulle raak, korrupsie in munisipaliteite en provinsiale regering en beslis misdaad. Daar is ook groot belangstelling in “vreemde” stories soos mense wat deur ’n krokodil gevreet word of ’n leeu. Ek het dit bepaal deur reaksies op berigte wat ek deur die jare geskryf het. Die groter populasie wil meestal werk hê en dink media kan hulle daarmee help. Verder weet ek nie. (D1)

5.4.4.4 Konstruk 6: Sosiale patrone en produkte

Ontleding en bevindings

Die feit dat die deelnemers aandui dat hulle dié faktore in ag neem wanneer nuusbesluite geneem word, bevestig dat hierdie aspekte as deel van die omgewingsprofiel van die gebied waarin die joernalis werk, belangrike rigtingwysers is in nuusbesluite. Hier is egter ’n tekortkoming in kennis en geen doelbewuste poging om meer te wete te kom oor sosiale patrone en produkte nie.

Die deelnemers het vrae hieroor meestal vaag en onvolledig beantwoord:

Lesers is tradisioneel wit en stem DA. Ek bemoei my nie op die gebied van geloof nie (elke man soen sy vrou op sy eie manier!). (D2)

Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Die samelewing is baie divers. Hier is baie, baie welgestelde mense wat hier woon, maar ook mense in plakkerskampe. Ek ry gereeld in die omgewing rond en sien die gemeenskappe. (D3)

Ek weet my lesers is meestal wit en Afrikaanssprekend omdat dit tradisioneel Volksblad se lesers is. Hulle is Christene, konserwatief en plattelands. (D7)

Buitekantoorjoernaliste behoort aktief moeite te doen om meer oor hierdie aspekte uit te vind, omdat dit lesers se behoeftes direk raak.

Dis wel miskien moeilik om hierdie aspekte te bepaal, omdat veral die wyer bevolking so divers is, maar ook omdat geloof byvoorbeeld vir sommige ’n private of sensitiewe kwessie is waaroor nie baie uitgepraat word nie. ’n Moontlike gevaar hier is dat indien buitekantoorjoernaliste te sterk fokus op net die gelowe en sentimente van hul lesers, die lesers nie ingelig sal word oor ander groepe se waardes of behoeftes nie. Daar moet dus ’n balans wees tussen om lesers tevrede te hou en hulle op te voed oor kwessies in hul wyer omgewing. 

Die oplossing hier is om doelbewus ’n deeglike profiel saam te stel van enersyds lesers en andersyds die groter bevolking in ’n bepaalde gebied. So kan meer doelgerig besluit word watter van hierdie faktore belangrik is om binne verskillende scenario’s van nuusbesluite te oorweeg, na gelang van spesifieke situasies en gebeure. 

Die deelnemers se kennis van hierdie aspekte van sowel hul lesers as die groter bevolking is meestal gebrekkig. Net drie van die deelnemers het werklik ’n sinvolle begrip hiervan; die res raai of het hier en daar kennis van een aspek, soos geloof. Dit wat hulle wel weet, weet hulle uit ervaring.

 

6. Navorsingsbeperkings

Die volgende beperkings is van toepassing:

  • In hierdie studie is slegs die prosesse wat buitekantoorjoernaliste volg om nuus te bestuur, bestudeer. Die bevindings is dus net op hierdie subgroep van joernaliste van toepassing. 
  • Gehalte as sulks is nie in hierdie studie gemeet nie, maar wel die prosesse wat nodig is om gehalte te bereik.

Die volgende aanbevelings word gemaak vir studies wat uit hierdie studie kan voortspruit:

  • Die vraagstuk of daar ’n verskil is in die gehalte van die werk van joernaliste met toepaslike formele joernalistieke opleiding en dié wat suiwer deur ervaring geleer het.
  • Soortgelyke studies om die werkswyse van ander groepe joernaliste te bestudeer. Sulke groepe kan onder andere insluit joernaliste by streekkoerante, spesialiskoerante (byvoorbeeld sakeblaaie), tydskrifjoernaliste, joernaliste wat net aanlyn werk, ondersoekende joernaliste, radiojoernaliste en televisiejoernaliste. Die werkswyse van verskillende soorte joernaliste kan selfs met mekaar vergelyk word om verskille en ooreenkomste te identifiseer.
  • Die bepaling van die gehalte van buitekantoorjoernaliste se berigte. Dit kan ook vergelyk word met die gehalte van die werk van joernaliste in die hoofkantoor.

 

7. Bevindinge en gevolgtrekking 

Die ontleding van die empiriese data soos hier bo uiteengesit, asook die literatuurstudie, het ons in staat gestel om praktiese riglyne daar te stel vir watter prosesse die buitekantoorjoernalis kan volg om berigte van ’n goeie gehalte te lewer. Die riglyne behoort ook te help om bepaalde geïdentifiseerde tekortkominge in die bestuur van buitekantore uit die weg te ruim. Sien die bylae vir die riglyne in tabelvorm.

 

Bibliografie

Abrahamson, J. 2010. Sustaining quality journalism. Daedalus, 139(2):39–44.

Anderson, P.J., G. Ogola en M. Williams (reds.). 2014. The future of quality news journalism. New York, NY: Routledge.

Annenberg Learner. 2017. Linear vs. nonlinear systems. https://www.learner.org/courses/mathilluminated/units/13/textbook/02.php (21 Oktober 2017 geraadpleeg). 

Bailey, K.D. 1994. Methods of social research. 4de uitgawe. New York, NY: The Free Press.

Batsible, B. 2014. The copy editor can save the day. Journalism Education Today, 47(4):35–41.

Billington, J. 2005. Timeless insights on how to manage your time. Boston, MA: Harvard Business School. 

Bogdan, S.J. en B. Taylor. 1998. Introduction to qualitative research methods. 3de uitgawe. New York, NY: John Wiley & Sons.

Botma, G.J. 2016: Cultural citizenship in the digital future(s): In search of a new code of praxis for South African journalism education and training. Critical Arts, 30(1):102–6.

Brants, K. 2013. Trust, cynicism and responsiveness: An uneasy situation of journalism in democracy. In Broersma en Peters (reds.) 2013. 

Broersma, M. en C. Peters (reds.). 2013. Rethinking journalism: Trust and participation in a transformed news landscape. Londen en New York: Sage.

Capra, F. 2005. Complexity and life. Theory, Culture & Society, 22(5):33–44.

Cham, K. en J. Johnson. 2007. Complexity theory: A science of cultural systems? Media Culture Journal, 10(3). http://journal.media-culture.org.au/0706/08-cham-johnson.php (4 Februarie 2017 geraadpleeg). 

Cilliers, P. 2000. What can we learn from a theory of complexity? Emergence, 2(1):23–33.

Cilliers, S.H. 2018. Gehalte-beriggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

Cole, P. en T. Harcup. 2010. Newspaper journalism. Los Angeles, CA: Sage.

Complexity theory. s.j. Dictionary.com. http://www.dictionary.com/browse/complexity-theory (4 Februarie 2017 geraadpleeg).

Coulter, M. en S.P. Robbins. 2005. Management. 8ste uitgawe. Boston, MA: Prentice-Hall.

Croft, C. 1996. Time management. Londen: International Thomson Business Press.

Cronjé, G.J., G.S. du Toit en M.D.C. Motlatla (reds.). 2000. Inleiding tot die bestuurswese. 5de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press. 

Denzin, N.K. en Y.S. Lincoln. 2000. Handbook of qualitative research. 2de uitgawe. Londen: Sage Publications. 

Deuze, M. 2005. What is journalism? Professional identity and ideology of journalists reconsidered. Journalism, 6(4):442–64.

Drucker, P.F. 2006. Classic Drucker: Essential wisdom from Peter Drucker from the pages of Harvard Business Review. Boston, MA: Harvard Business School Publishing.

Du Plooy, G.M. 2009. Communication research: Techniques, methods and applications. 2de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Evans, J.R. en W.M. Lindsay. 2014. Managing for quality and performance excellence. 9de uitgawe. Mason: South-Western Cengage Learning.

Flick, U. 2014. An introduction to qualitative research. 5de uitgawe. Londen: Sage.

Garvin, A. 1988. Managing quality. New York, NY: Macmillan.

Giddings, M. 2007. Editing: The value of quality content in an online-first industry. https://scholarworks.umt.edu/utpp/168 (31 Oktober 2018 geraadpleeg).

Hanitzsch, T. 2013. Journalism, participative media and trust in a comparative context. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Hardesty, L. 2010. Explained: Linear and nonlinear systems. Massachusetts Institute of Technology. http://news.mit.edu/2010/explained-linear-0226 (3 Februarie 2017 geraadpleeg).

Harvard Business School. 2005. Taking control of your time. Boston, MA: Harvard Business School Press.

Heinrich, A. 2013. News making as an interactive practice: Global news exchange and network journalism. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Kovach, B. en T. Rosenstiel. 2007. The elements of journalism. New York, NY: Random House. 

Lewis, D. 1995. 10-Minute time and stress management. Londen: Judy Piatkus Publishers.

Luhman, N. 2013. Introduction to systems theory. Cambridge: Polity Press.

Manda, L.Z. 2015. Factors affecting the quality of Malawian journalism. African Journalism Studies, 36(1):156–62.

McFarland, J. 2005. Is multitasking overrated? Boston, MA: Harvard Business School.

McNair, B. 2013. Trust, truth and objectivity: Sustaining quality journalism in the era of the content generating user. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Meyer, I.C. 2010. Waardevolle joernalistiek: Op zoek naar kwaliteit vanuit het gezichspunt van de gebruiker. Tijdschrift voor Communicatiewetenschap, 38(3):223–31. 

Michelman, P. 2005. Strategies for the shorthanded. Boston, MA: Harvard Business School.

Nikunen, K. 2014. Losing my profession: Age, experience and expertise in the changing newsrooms. Journalism, 15(7):868–88.

Nowotny, H. 2005. The increase of complexity and its reduction: Emergent interfaces between the natural sciences, humanities and social sciences. Theory, Culture & Society, 22(5):15–31.

Odendal, F.F. en R.H. Gouws. 2010. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 5de uitgawe. Pinelands: Pearson.

Ojetimi, S.A. 2012. The South African press code and investigative journalism: An in-depth study of the Sunday Times. MA-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand.

Parsons, T. 1991. The social system. Londen: Routledge.

Pihl-Thingvad, S. 2015. Professional ideals and daily practice in journalism. Journalism, 16(3):392–411.

Porlezza, C. en S. Russ-Mohl. 2013. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Press Council. The code of ethics and conduct for South African print and online media. 2016. https://accountablejournalism.org/ethics-codes/code-of-ethics-and-conduct-for-south-african-print-and-online-media (21 Oktober 2017 geraadpleeg).

Quinn, S. 2002. Knowledge management in the digital newsroom. Oxford: Focal Press.

Raffoni, M. 2005. Fundamental strategies for managing your time. Be sure you're spending your time in the right places. Harvard Business School. 

Reference for Business. s.j. Complexity theory. http://www.referenceforbusiness.com/management/Bun-Comp/Complexity-Theory.html (4 Februarie 2017 geraadpleeg). 

Rosen, L.D., K.R. Karwan en L.L. Schribner. 2003. Service quality measurement and the disconfirmation model: Taking care in interpretation. Total Quality Management & Business Excellence, 14(1):3–14. 

Scanlan, C. 2000. Reporting and writing: Basics for the 21st century. Orlando, FL: Harcourt College Publishers.

Schoenbach, K. en R. Van der Wuff. 2014a. Civic and citizen demands of news media and journalists: What does the audience expect from good journalism? Journalism & Mass Communication Quarterly, 91(3):433–51.

—. 2014b. Audience expectations of media accountability in the Netherlands. Journalism Studies, 15(2):121–37.

Schweiger, W. en J. Urban. 2014. News quality from the recipients’ perspective: Investigating recipients’ ability to judge the normative quality of news. Journalism Studies, 15(6):821–40. 

Stauffer, D. 2005. Pump up your volume! A dozen ideas for boosting personal productivity. Harvard Business School.

Steyn, E.F. 2006. Managerial competencies amongst first-line managers in South Africa's main stream media: A newsroom management framework. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit. 

Stovall, J.G. 2005. Journalism: Who, what, when, where, why, and how. Boston, MA: Pearson. 

Strömbäck, J., M. Karlsson en D. Hopmann. 2012. Determinants of news content: Comparing journalists’ perceptions of the normative and actual impact of different event properties when deciding what’s news. Journalism Studies, 13(5/6):718–28.

Swanepoel, T. 2012. Comprehensive quality management model for community newspapers. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Timm, P.R. 1998. Building personal effectiveness for professional success. Seattle, WA: Crisp Publications. 

Tweissi, B.M., R.J. Suleiman en A.S. Al-Garallah. 2015. Jordanian journalists’ awareness of the concepts of standards of journalistic quality within Jordanian media institutions. Journal of Arab & Muslim Media Research, 8(1):55–78.

Van Leuven, S., A. Deprez en K. Raeymaeckers. 2014. Networking or not working? Journalism Practice, 8(5):552–62.

Von Hoffman, C. 2005. Getting organized. Harvard Business School.

Wahl-Jorgensen, K., A. Williams, R. Sambrook, J. Harris, I. Garcia-Blanco, L. Dencik, S. Cushion, C. Carter en S. Allan. 2016. The future of journalism. Digital Journalism, 4(7):809–15, DOI: 10.1080/21670811.2016.1199469.

Walby, S. 2007. Complexity theory, systems theory, and multiple intersecting social inequalities. Philosophy of the Social Sciences, 37(4):449–70.

Willis, J.W. 2007. Foundations of qualitative research: Interpretive and critical approaches. Thousand Oaks, CA: Sage. 

Witschge, T. 2013. Transforming journalistic practice: A profession caught between change and tradition. In Broersma en Peters (reds.) 2013.

Zaaiman, S.J. 2001. Plaaslike magsopset teoretisering: [sic] ’n Sintetiese bydrae as gids vir die ontleding van Suid-Afrikaanse plaaslike magsopsette. D.Phil-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

 

BYLAE

Tabel 1

Riglyne vir selfbestuur (Kerntaak/proses 1)

Bepaal en behaal doelwitte

  • Onderskei tussen werk- en persoonlike doelwitte. Kry balans tussen die twee.
  • Doen praktiese stappe om doelwitte te bereik en maak seker dit voldoen hieraan:
    • Spesifiek en konkreet.
    • Realisties
    • Beskikbare hulpbronne om dit te bereik.
    • Meetbare uitkoms: konkreet of gevoel van genoegdoening.
    • Sperdatum
    • Bestuur werksdruk; kry professionele hulp indien nodig.
    • Bestuur persoonlike omstandighede; kry professionele hulp indien nodig. 

Beplan

  • Beplan daagliks vooruit vir alle stories, ook dieptestories; hou dagboek.
  • Beplan saam met nuusredakteur.
  • Prioritiseer op grond van nuussin en ervaring.
  • Besluit wat jy gaan doen op grond van nuuswaarde, tydgebondenheid, interessantheid, trefkrag van gebeure, openbare belang.
  • Wees aanpasbaar.
  • Bestee die meeste tyd aan nuusinsamelingsproses; beplan vir reistyd, redigering van foto’s.

Wees produktief

  • Liasseer dokumente gereeld; bêre ten minste drie jaar lank.
  • Moenie take uitstel tensy groot, dringende werk opduik nie.
  • Herprioritiseer of delegeer wanneer take onderbreek word.
  • Kommunikeer amptelik of wanneer rekordhouding nodig is, per e-pos.
  • Voer persoonlike onderhoude vir stories met hoë emosionele impak.
  • Kommunikeer telefonies wanneer inligting dadelik verlang word en dit te ver is om te ry.

Beheer standaard van werk

  • Weet wat die verwagte standaard is, erken wanneer jy nie daaraan voldoen nie en doen stappe vir verbetering (deur kontrak, pligstaat, merietegesprekke).
  • Skep en benut opleidingsgeleenthede.
  • Kry voldoende toegang tot tersaaklike tegnologie.

Behou perspektief oor dit wat jy kan beheer en dit wat jy nie kan beheer nie

  • Raadpleeg nuusredakteur vir hulp/raad met moeilik beheerbare aspekte.
  • Beplan en prioritiseer om dinge te bestuur waaroor jy beheer het. 

Bestuur jou persoonlikheid

  • Ruim tyd in vir ontspanning; kry professionele hulp indien nodig.
  • Wees selfhandhawend.
  • Neem grondige kritiek ter harte; gebruik ervaring/raad van ander as riglyn.
  • Vermy, ignoreer of beperk kontak met mense of situasies wat spanning aanwakker.
  • Moenie wegskram van moeilike onderwerpe nie: raadpleeg kenners vir hulp.
  • Kry professionele hulp met struikelblokke.

 

Tabel 2

Riglyne vir die saamstel van ’n kontaklys (Kerntaak/proses 2)

  • Stoor kontakbesonderhede van alles instansies, individue en kenners met wie jy te doen kry by geleenthede en met die skryf van berigte.
  • Hou kontakbesonderhede bygewerk: Staan daagliks tyd af om nuwe besonderhede te stoor.
  • Berg kontakbesonderhede op jou rekenaar in ’n spesiale dokument; druk elke maand ’n bygewerkte weergawe van die kontaklys in hardekopie uit.

 

Tabel 3

Riglyne vir nuusgenerering (Kerntaak/proses 3)

Subproses 1: Nuusseleksie

  • Fokus sterk op tradisionele nuusbronne soos die polisie, howe, mediaverklarings en bywoning van gebeure.
  • Gebruik informele bronne soos sosiale aanlyn platforms aanvullend.
  • Skryf oor wat interessant en belangrik is vir die lesersgehoor, groot impak op hulle het en in openbare belang is.
  • Soek aktief na unieke stories, pleks van net te reageer op ander media.
  • Berig steeds oor belangrike nuus, al is dit nie eksklusief nie en al is daar nie dadelik visuele elemente soos foto’s en video’s beskikbaar nie.

Subproses 2: Nuusinsameling

  • Gebruik alle beskikbare toerusting (selfone, diktafone, notaboeke, voertuie, kameras).
  • Span oorredingsvermoë, kommunikasievaardighede, onderhoudvoeringstegnieke, aandagtige luister en medelye in.
  • Toon meelewing en empatie.

 

Tabel 4

Riglyne vir die skryf van nuus (Kerntaak/proses 4)

Volg die volgende stappe:

  • Skryf ’n eerste weergawe uit die ingesamelde inligting; verifieer dan feite waaroor twyfel nog bestaan.
  • Herskryf die berig sodat dit die regte voorgeskrewe lengte is.
  • Lees die berig nog ’n keer deur om seker te maak dit vloei logies en dat dit ’n volledige, billike en duidelike weergawe van die nuusgebeurtenis is.
  • Kontroleer spelling, punktuasie, grammatika en styl weer vir oulaas.
  • Hou by die spertyd. 

Begin eerste aan die belangrikste aspekte skryf.

Pas die struktuur van berigte aan na gelang van die onderwerp en aard van die nuus (harde vs. sagte nuus).

 

Tabel 5

Riglyne vir kommunikasie met die nuusredakteur (Kerntaak/proses 5)

Bespreek die volgende aspekte gereeld met die nuusredakteur:

  • Groot nuwe verwikkelinge met nuusberigte.
  • Berigte wat nie gaan realiseer nie.
  • Sodra berigte klaar geskryf en gestoor is.
  • Indien bystand benodig word met die neem van foto’s of videomateriaal.

 

Tabel 6

Hulpmiddele benodig (Inset 1)

Dokument met diensvoorwaardes.

Infrastruktuur: toegeruste kantoor, voertuig, rekenaartoerusting, kamera, toegang tot internet, skryfbehoeftes.

Ruim struikelblokke vir kommunikasie met nuusbestuur en administratiewe personeel uit die weg:

  • Verskaf voldoende toerusting daarvoor.
  • Vereenvoudig rapporteringslyne.

 

Tabel 7

Wat word benodig van die individu/joernalis? (Inset 2)

Ten minste tien jaar joernalistieke ervaring by verskillende publikasies.

Sterk aanbevole: ervaring in nuusbestuur.

Verkieslik, maar nie noodsaaklik nie: toepaslike graad, diploma of ander formele opleiding in joernalistiek.

 

Tabel 8

Wat word benodig van die omgewing? (Inset 3)

Volledige omgewingsprofiel met inligting oor die volgende aspekte:

  • Lesers en breër bevolking se demografiese eienskappe ten opsigte van ras, taal, behuising, werkstatus, ouderdom, inkomste ens.
  • Lesers en breër bevolking se behoeftes in die algemeen en ten opsigte van wat hulle van die media verwag.
  • Die belangrikste ekonomiese en politieke magte in jou streek.
  • Die belangrikste faktore in die natuurlike omgewing in jou streek wat ’n impak op jou lesers en die breër gemeenskap het.
  • Geloof, ideologieë en kultuurverskynsels in jou streek.
  • Stel die profiel saam met die hulp van kenners, statistieke en toepaslike dokumente. Wees oplettend in daaglikse omgang met lesers en die breër gemeenskap.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad appeared first on LitNet.


Quality reporting in the satellite office of a South African daily newspaper 

$
0
0

Abstract 

The digital revolution created a cyberworld in which especially people in more affluent countries on all continents have access to news. Through interactive news websites and social media platforms such as Facebook and Twitter the general public can now voice their opinions and generate news. Newspapers’ declining circulation figures have led to smaller newsrooms where a handful of journalists often, at greater speeds, have to produce news for online platforms while catering to the expectations of increasingly involved audiences and maintaining high-quality output.

This qualitative exploratory study focused on the challenges journalists in satellite offices of mainstream dailies in South Africa face while managing a technologically strenuous environment. Satellite journalists offer an excellent research opportunity because they mostly work independently from head office and often act as their own news editors. Their tasks are comprehensive, including as they do every aspect of news management, unlike the situation at head office, where the news editor is mainly responsible for managing the daily news budget. Satellite journalists therefore do not only have to have news management skills to ensure quality reporting, but also have to be excellent in the practical application of journalistic tasks. 

The research question relevant in this article was: How should satellite journalists manage their environments to ensure quality journalistic outputs?

To answer this question the researchers aimed to determine which processes the satellite journalists of selected South African daily newspapers should implement to manage the quality of news output within the daily challenges in their organisations as well as the broader environment in which they work. The study further endeavoured to identify patterns in the subjective work methods of individual journalists to formulate practical guidelines for the process-based management of a satellite office that could promote effective and efficient management without compromising quality. Note that the aim was not to evaluate the quality of journalistic output. The researchers worked on the assumption that quality should be an outcome if certain processes and guidelines are followed.

The combination of skills and tasks was investigated within the framework of systems theory by analysing the management challenges and functional tasks of journalists in satellite offices following a systems-and-process-based approach. A systems-and-process-based approach is particularly suitable to investigate media management. The approach recognises the relationship between the news organisation and the external environments, and identifies and investigates all the components that influence one another in the process of generating the outcome (i.e. quality news). The systems theory was therefore also relevant in this study about the processes in a satellite office. These offices function in the bigger system of their respective news organisations, as well as in the bigger societal context in which the newspapers and their websites operate. Diverse aspects linked to the daily working methods of satellite journalists within the context of the systems theory were identified by means of an intensive literature study. Further investigation involved using questionnaires and follow-up telephonic/e-mail interviews with participants to identify the relevant processes followed in managing a satellite office. 

Two semi-structured, qualitative questionnaires with a total of 84 questions were compiled to gather data about the complex working methods of satellite journalists. The aim was to test/verify the theory about the elements and components necessary to ensure quality reporting and to identify similarities and differences between theory and practice. The researchers first identified five core tasks from the general literature, the key performance areas applicable to satellite journalists at the media conglomerate Media24, as well as preliminary interviews with selected participants. These core tasks (used as concepts and constructs in the data analysis) are self-management, creating a contact list, news generation, writing news, and sustained communication with the news editor. Guided by the theoretical assumption that processes are conducted within a system to reach specific goals, and that the processes consist of inputs transformed into specific outputs, the researchers subsequently identified the processes and sub-processes of the core tasks. The inputs were identified in the literature study and include resources, the individual and the environment. The questionnaire thus included questions about determining and reaching goals, planning, productivity, perspective and personality. Concerning the work environment, questions concentrated on demographic information, the economy, politics and the environment. The data was analysed using the concepts and constructs (tasks) identified and formulated. The researchers verified the theory in general, but added several processes/principles that the satellite journalists implement in practice.

In general, the researchers found that participants seem to pay attention to all aspects necessary for efficient management, but often fail to execute these effectively.

Under self-management, the researchers explored the processes satellite journalists should follow to deliver quality outputs (i.e. the news product). Aspects such as prioritising, planning, productivity, perspective and personality were investigated. The findings show that personal and professional goals are often intertwined, which could lead to burnout. Participants do reach news deadlines, but lack time-management capabilities and have trouble prioritising. Planning, which is part of the transformation phase in the self-management process, involves the amount of time spent on planning, method of prioritising (according to news values); allotting time to tasks. Participants tend to write about news where information is more readily available, e.g. on social media platforms. Most time is spent on news gathering (as a core task of a satellite journalist). Deficiencies identified include a lack of consultation with the news editor to help with planning and prioritising, and little pre-planning. This increases work stress and the ability to manage time effectively.

The management of production aspects forms part of the transformation phase in the process of self-management. Responses show that interruptions frustrate participants, but in general they are able to manage this through reprioritising, postponing or delegating. Participants are able to distinguish between relevant methods of communication and apply these effectively. Deficiencies include effective office administration due to time and work pressures. Participants feel overwhelmed due to the volume of work resulting from the often large geographic areas they are expected to cover. They do know what standard of work is expected and when they do or don’t reach the standards, but most were vague in their responses about how to improve. Findings show that participants can control planning and prioritising, and the extent to which they are informed about what is happening in the environment. They rely on previous experience, but seldom ask for advice from the news editor. Although participants are assertive to a lesser or greater extent, they struggle with saying no, and look for validation from others.

Where compiling a contact list is concerned, all participants recognise the importance of this core task, and have extensive contact lists and keep these up to date. Most use cell phones and computers to store the information. The researchers found that participants rely heavily on traditional official news sources, but supplement by, e.g., using social media. News gathering takes place reactively, meaning that participants rely on what other media report on, and search for stories on social media platforms. Less than half the participants find unique stories by observing what is happening in their environment and paying attention to what people are talking about. Few also attend functions with the aim of finding unique stories. This indicates that exclusivity has become less important when it comes to news generation.

News gathering starts where the process of news selection ends. Other inputs necessary for news gathering include physical resources such as a vehicle, computer and camera, and video equipment. The researchers found that participants have adequate equipment, and still use traditional methods to gather news, supplemented by new methods such as social media. All participants use technology, especially to gather visual material for stories. When writing stories, participants use different methods to structure information, and apply various story formats to the story type and platform. However, time constraints due to the 24/7 news cycle influence the extent to which stories are rewritten and polished, which has an influence on the quality of news output.

Communication, especially with line managers, was identified as a problem area. Sustained communication with the news editor helps journalists to set goals, plan and re-evaluate the news process. Questions related to the frequency and nature of communication. Most participants indicated that they talk to news editors about the news budget, prioritising and developments regarding stories. Most make independent decisions about visual elements and which stories will be offered for which platforms. Stumbling blocks include a lack of time to discuss content and story angles, which could also influence quality.

Another concern is a lack of solid knowledge/understanding regarding the geographical environment within which satellite journalists function. This includes demographic, political, economic and social knowledge and understanding. Most participants are well-informed about race and language in their communities, have reasonable knowledge of economic aspects such as income level and unemployment, but only superficial knowledge of aspects such as age and access to services. None of the participants had constructed an environmental profile of their regions and wider audience. They do, however, agree with the literature that audience needs and expectations have to be taken into account when taking news decisions. However, scant knowledge of the environment will have a negative influence on journalists’ ability to meet the needs and expectations effectively.

Keywords: audience needs and expectations; news gathering; news management; news writing; process approach; quality journalism; satellite journalist; self-management; systems theory

 

Lees die volledige artikel in Afrikaans

Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad

The post Quality reporting in the satellite office of a South African daily newspaper  appeared first on LitNet.

Die impeachment-sirkus

$
0
0

Die doel van ’n sirkus is om mense te vermaak met asemrowende toertjies en liggaamlike vaardighede wat hulle nie aldag sien nie. Die uitsendings van die impeachment1 van Donald Trump was inderdaad ’n sirkus, met die een asemrowende swaai van die woordartieste na die ander en toertjies wat ’n gewone mens na sy asem laat snak. Ek was vasgenael. Ek kon myself nie wegskeur nie en moes my slaappatrone aanpas sodat ek nie ’n enkele toertjie mis nie.

Die VS se Raad van Verteenwoordigers stem vir Donald Trump se impeachment (Foto: Openbare domein, Wikipedia)

Die gestileerde skyngeveg (nog ’n sirkusvaardigheid van veral narre) word vir ure onderhou met ’n meesleurende geveinsdheid van elke deelnemer sodat jy jou asem ophou en wag om te kyk wie ’n sweempie van realisme gaan bring en sodoende op die vangnet sal val. Maar die aanhoudende fasade van verontregting deur die Trump-span en die aanhoudende kammageveg vir eerlikheid deur die Raad van Verteenwoordigers hou so lank aan dat jy begin vergeet dat dit enigiets met die werklikheid te doen het. En jy begin elke swaai en elke poets van die sirkusartieste meeleef. Jy besef dan: Hierdie is die realiteit, maar in ’n unieke, magical vorm. So magical dat dit enige fiksie sal oorskadu. Facts are stranger than fiction.

Met ’n gewone sirkus weet jy dat die sirkustent een of ander tyd afgeslaan gaan word en die unieke artieste in hulle karavane na die volgende plek gaan reis, met mak leeus en olifante in tou. Maar dié realisme, magies soos dit aangebied is, gaan ongelukkig nie verdwyn nie; dit gaan net meer klandestien word, soos Amerikaanse politiek regtig bedryf word – agter die skerms.

Wat was dus so fassinerend van hierdie sirkus? Anders as, byvoorbeeld, ons eie voormalige president wie se manewales suiwer tragies was en sy poging om ’n alternatiewe narratief van verontregting daar te stel eintlik blote sprokies was? Die eerste fassinerende aspek was die gapings tussen die twee narratiewe van elke span. Terwyl ons ons eie gaping tussen die tragiese en die sprokie met afgryse aanskou het, was die spasie in die impeachment baie nouer – maar tog wesenlik. Met ons vooroordeel ten gunste van Westerse beskawing verwag jy dat daar gou tot die essensie van die saak gekom gaan word. Dit is tog die wêreld se grootste demokrasie, met die beste breine, ensovoorts ensovoorts, wat hier swaarde kruis. Enige belaglikheid sal spoedig te berde gebring word en op die vangnet gewerp word. Maar nee, behalwe vir die woorde Trump, impeachment, constitution en the American people wat vrylik deur beide spanne rondgeslinger word, is dit duidelik dat hierdie twee spanne twee heeltemal verskillende goed, in woord en in konsep, beskryf en bespreek.

Indien die proses op die Sokratiese manier beskryf sou word, sou dit soos volg kon lyk:

Raadslede: Daar is oorweldigende getuienis oor die korrupsie en die ondermyning van die kongres.

Trump-span: Julle weerhou getuienis van die senaat.

Raadslede: Ons moet getuies dagvaar om te kom getuig om by die waarheid uit te kom.

Trump-span: Julle het genoeg getuies; hoekom soek julle nog?

Raadslede: Die grondwet vereis ’n verhoor met getuies en dokumente.

Trump-span: Die grondwet vereis ’n regverdige proses, maar ons kon nie getuies voor die kongres ondervra nie.

Raadslede: Ons kan nie toelaat dat ’n president sy mag misbruik en politieke teenstanders laat ondersoek nie.

Trump-span: Die president was bekommerd oor korrupsie in ’n ander land waarvoor Amerika geld gee.

As die Raadslede se dialoog op sy eie gelees word, maak dit sin – so ook die Trump-span s’n. As hulle egter teenoor mekaar gelees word, is die gaping duidelik. En so het dit vir twee weke aangegaan en daardie gaping het hardnekkig bly bestaan – asof dit deur die een of ander magiese krag daar gehou word.

Die tweede aspek wat asemrowend was, was die pers se mening oor wat gebeur. Die pers was eweneens onbewus van die gaping, en joernaliste het bloot hulle politieke drom geslaan, sonder ’n sweempie van objektiwiteit oor byvoorbeeld wat Biden in die Oekraïne gedoen het wat vir Trump so aantreklik was om te ontbloot, of hoekom Trump vir Giuliani soontoe gestuur het.

Maar nog belangriker is dat almal hierdie gaping, wat deur hierdie sirkus ontbloot is, ignoreer. Hoe kan die wêreld se grootste demokrasie regeer word deur ’n mens wat nie die meeste stemme van die mense op hom verenig het nie? En hoekom is die magtigste politieke besluitnemer, naamlik die Amerikaanse Senaat – nie verteenwoordigend van die wil van die meerderheid mense in die land nie?2 As dit so was, het hierdie sirkus nie eers plaasgevind nie. Trump sou eenvoudig nie die verkiesing gewen het nie.3 Die antwoord hierop kan alleenlik beteken dat die Amerikaners sal moet erken dat hulle nie ’n werklike demokrasie is nie. En daarvoor is hulle nog nie reg nie; nie die politici, die pers of die mense nie. Daai spookasemstorie het hulle al te lank vir die wêreld gevoer om nou ’n ommekeer te maak. Maar solank dit so bly, sal hierdie tipe van sirkus van tyd tot tyd voorkom en ongelukkig meer en meer skade aan die konsep van demokrasie doen – soos ons hier plaaslik tans alreeds weet.

So hoekom dan hierdie sirkus? Dis bloot omdat die demokrate nie ’n kandidaat het wat Trump sal kan wen in ’n verkiesing nie en omdat die republikeine nie ’n ander kandidaat as Trump het wat ’n verkiesing teen die demokrate kan wen nie. So wat maak hulle? Hulle hou ’n sirkus waar die demokrate probeer om Trump swart te smeer en die republikeine hom as ’n held voorhou. Dit is al manier wat hulle het om die gebreke in hulle demokrasie te verbloem en hulle eie unieke vorm van staatskaping te ignoreer.

Daarenteen is ons eie sirkus, waar Zondo se eierdans om nie die hele boel se vingers in die geldlaai vas te knyp nie, besig om nimmereindigend en koersloos aan te donder.

1 Volgens die woordeboek beteken die woord impeach om iemand in ’n staat van beskuldiging te plaas. Daar is nie ’n enkelwoordvertaling vir impeach nie.

2 Volledigheidshalwe: Die senaat bestaan uit twee lede per staat, maw Kalifornië, met 40 miljoen inwoners, se twee stemme tel dieselfde as Montana, met 1 miljoen inwoners, se twee stemme. Daarenteen is die Raad van Verteenwoordigers (waarvan Pelosi die speaker is) meer verteenwoordigend met rofweg een kandidaat per 35 000 mense, maar is magteloos, soos die impeachment-sirkus uitgewys het.

3 Trump het gewen omdat die meeste state, en nie die meeste mense nie, vir hom gestem het. Die meeste mense het vir Hillary Clinton gestem.

The post Die impeachment-sirkus appeared first on LitNet.

LitNet Akademies Weerdink: Brexit

$
0
0

......

“Die grootste enkele faktor wat daartoe bygedra het dat die Britse kieserspubliek hulle in 2016 tot Brexit verbind het, was die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die moderne internasionale stelsel.”

......

Chris Nelson het in sy LitNet Akademies-artikels “Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel – Deel 1” (en “Deel 2”) (Julie 2019) kortliks na die stand van Brexit verwys. Hiermee ’n meer breedvoerige, hedendaagse ontleding van die Britse onttrekking aan die Europese Unie.

Die Britse onttrekking aan die Europese Unie (EU): Wat het daartoe bygedra en wat is die gevolge vir die VK, die EU en ander state? 

1. Inleiding

Op 31 Januarie 2020 om 23:00 het die Verenigde Koninkryk (VK) sy lidmaatskap van die Europese Unie (EU) na 47 jaar beëindig. Met hierdie stap is die stempel geplaas op die uitslag van ’n nasionale referendum wat op 23 Junie 2016 gehou is. In hierdie referendum, wat deur die voormalige Britse eerste minister, David Cameron, uitgeroep is, het 17 410 742 (51,89%) Britse kiesers ten gunste van onttrekking (Brexit) gestem terwyl 16 141 241 (48,11%) daarteen gekant was (BBC 2016).

Wat veronderstel was om ’n eenvoudige en relatief snelle onttrekkingsproses te wees het egter nie gebeur nie. Dit het langer as drie jaar geduur om ’n onttrekkingsooreenkoms met die EU te beding en het tot die bedanking van twee eerste ministers gelei. Verder is hierdie onttrekkingsooreenkoms by nie minder nie as drie geleenthede deur die Britse parlement verwerp. Dit was eers op 12 Desember 2019 dat die Konserwatiewe Party, onder die leiding van die huidige eerste minister, Boris Johnson, die nodige meerderheid tydens ’n algemene verkiesing kon bekom om die ooreenkoms met die EU te finaliseer en in wetgewing te omskep.

Die groot ironie is dat die onttrekkingsproses nog nie afgehandel is nie. Ingevolge die onttrekkingsooreenkoms wat deur Johnson beding is, sal die finale besonderhede gedurende die res van hierdie jaar onderhandel word. Wat die finale uitslag van hierdie onderhandelings sal wees, is onbekend. Wat wel bekend is, is dat dit beloof om ’n uitgerekte en ingewikkelde proses te wees. Die moontlikheid bestaan selfs dat die VK aan die einde van 2020 sonder ’n onderhandelde ooreenkoms (“no-deal Brexit”) die EU kan verlaat.

......

“Dit het langer as drie jaar geduur om ’n onttrekkingsooreenkoms met die EU te beding en het tot die bedanking van twee eerste ministers gelei. Verder is hierdie onttrekkingsooreenkoms by nie minder nie as drie geleenthede deur die Britse parlement verwerp.”

......

Eerste minister Johnson is nietemin optimisties dat ’n nuwe handelsooreenkoms met die EU wel moontlik is. Tydens die Brexit-feesvieringe in Londen op 31 Januarie 2020 het hy verder beklemtoon dat Brexit die begin is van ’n nuwe daeraad wat vir die VK aangebreek het. In die nuwe era sal nie alleen ware nasionale vernuwing geskied nie, maar sal dit ook tot die herlewing van die VK se mag tot onafhanklike denke en optrede lei. Dit herinner sterk aan die slagspreuk van Donald Trump: “Make America great again.”

In hierdie meningsartikel sal eerstens ondersoek ingestel word na daardie enkele faktor wat op beslissende wyse daartoe bygedra het dat die meerderheid van die Britse bevolking hulself in 2016 verbind het tot die beëindiging van die VK se lidmaatskap van die EU van bykans 50 jaar. Tweedens sal ondersoek ingestel word na die gevolge wat die beëindiging van die VK se lidmaatskap vir die VK self, vir die EU en vir ander state en staatgroeperings inhou.

2. Die grootste enkele faktor wat Brexit tot gevolg gehad het

Die grootste enkele faktor wat daartoe bygedra het dat die Britse kieserspubliek hulle in 2016 tot Brexit verbind het, was die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die moderne internasionale stelsel. Meer rakende hierdie kragtige oplewing kan gelees word in ’n artikel wat ek in 2019 in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) in twee dele gepubliseer het onder die titel “Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel: voorkoms, oorsake en gevolge”.

Kortliks verwys “populistiese mobilisering” na daardie politieke strategie wat deur personalistiese politieke leiers, politieke partye en politieke bewegings regoor die politieke spektrum aangewend word en wat gekenmerk word deur ’n anti-elitistiese en nasionalistiese retoriek wat daarop ingestel is om by wyse van direkte kommunikasie ’n spesifieke bevolkings- of ondersteunersgroep op te hemel as die suiwer, ware, goeie, legitieme, outentieke, soewereine en ten volle verenigde lede van die samelewing (“the true people”) ten einde hulle sodoende te motiveer en te mobiliseer om tot prominente, sigbare en kontroversiële politieke optrede oor te gaan ter verkryging van politieke mag en daarna die bekamping van ’n bepaalde sosio-ekonomiese of kulturele krisis wat hulle in die gesig staar.

In die VK is populistiese mobilisering tydens die referendum in 2016 deur faksies in beide die regerende Konserwatiewe Party en die amptelike opposisie, die Arbeidersparty, as politieke strategie aangewend. Hierdie faksies, bekend as die Brexiteers, het deur veral die gebruik van nasionalistiese retoriek die gewone burgery in Brittanje oortuig dat voortgesette lidmaatskap van die EU, soos voorgestaan deur die “Remainers”, met skeptisisme bejeën moet word omdat dit nie Britse ekonomiese belange bevorder nie en inderdaad ’n maatskaplike en kulturele krisis vir die samelewing daarstel. Die aanwending van hierdie besondere strategie is op beduidende wyse vergemaklik deurdat groot gedeeltes van die Britse burgery reeds vir etlike dekades ’n diepgewortelde antipatie jeens die EU gekoester het. Die algemene term wat gebruik is om hierdie ingesteldheid te beskryf is Euroskeptisisme. Euroskeptici propageer nie alleen onttrekking van lidstate aan die EU nie, maar bepleit ook strenger beheer oor immigrasie, en die aftakeling of vaartbelyning van die EU se burokratiese strukture (EAVI 2018).

......

“Die groot ironie is dat die onttrekkingsproses nog nie afgehandel is nie.”

......

Waarskynlik die beste verduideliking van die krag van Euroskeptisisme in die VK is te vinde in die argumente wat deur David Blake (2018) aangevoer word vir waarom die meerderheid van die Britse kieserspubliek besluit het dat dit in hulle staat se belang is om van die EU te onttrek. Die volgende is ’n opsomming van sy argumente:

  • Die EU is nie alleen ’n “aggressiewe bullebak” nie, maar ook ’n proteksionistiese handelsblok. Die EU bepaal 100% van handelsregulasies vir VK-ondernemings ofskoon slegs 8% van hierdie ondernemings met die EU handel dryf; die uitvoer van goedere deur die VK na die 11 stigterslede van die EU het tussen 1993 en 2015 met slegs 1% toegeneem terwyl die uitvoere deur die VK na 111 ander state ingevolge die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie oor dieselfde tydperk met 2,8% toegeneem het; uitvoere van die VK na die EU het sedert 1993 van 60% tot 44% afgeneem.
  • Die EU is skuldig aan die wantoedeling van bronne. Ongeveer 40% van die EU se begroting word ingevolge die Gemeenskaplike Landboubeleid (CAP) aan landbou toegewys, ofskoon hierdie sektor slegs 1% van die EU se BBP vorm.
  • Die EU is as politieke projek in wese ondemokraties. Terwyl die EU veronderstel is om ’n “dubbele demokrasie” te wees vanweë die bestaan van instellings soos die Europese Raad en die Europese Parlement, word die EU deur die onverkose burokrate van die Europese Kommissie bestuur.
  • Die wetgewing van die EU is doelgerig van aard (“purposive”). Binne die EU word die Europese Geregshof gemagtig om wetgewing te interpreteer en te herinterpreteer om in ooreenstemming te wees met die bedoelings van die Europese Kommissie. Hierdie praktyk vorm ’n skrille kontras met die presiese en duidelike aard van Britse wetgewing en regspraak.
  • Die dwaasheid (“folly”) wat gepaard gaan met die aanvaarding van die euro as geldeenheid. Die skepping van hierdie geldeenheid vir ’n groep state in die EU wie se ekonomieë hemelsbreed van mekaar verskil, sou noodwendig daartoe lei dat ’n enkele monetêre beleid en rentekoers die ekonomies dominante state sou bevoordeel en die ekonomies swakker state sou benadeel. (Dit is interessant om te meld dat die Blair-regering in 1997 besluit het om nie die euro in die VK te gebruik nie maar voortgegaan het om die pond van die Bank van Engeland as nasionale geldeenheid te gebruik.)

......

“Ook Amadeo (2020) wys op die negatiewe uitwerking wat Brexit reeds op die VK gehad het en in die toekoms sal hê, byvoorbeeld ’n daling in ekonomiese groei.”

......

  • Die demografiese veroudering van die EU se bevolking. Vanweë ’n kombinasie van ’n stygende lewensverwagting en dalende bevolkingsgetalle sal die EU se bevolking as deel van die globale bevolking daal van 7% tans tot 4% aan die einde van die eeu en sal 90% van globale ekonomiese groei oor hierdie tydperk buite die EU plaasvind.
  • Die EU bevorder die ontstaan van regionale separatistiese groepe deurdat ’n “sitplek” vir hulle aan die “hooftafel” in die vooruitsig gestel word. In hierdie verband kan verwys word na die separatistiese strewes van Katalonië, Skotland en Korsika.
  • Die toename in Euroskeptisisme binne die EU. Tipiese voorbeelde is die anti-EU-uitlatings van etlike prominente leiersfigure in EU-lidstate. Die uitlatings van die Hongaarse president, Viktor Orbàn, dien as voorbeeld.
  • Die EU is is deels verantwoordelik vir die heersende spanning tussen Rusland en die Oekraïne.
  • Die EU versuim om massiewe korrupsie hok te slaan. Uitgawes ten bedrae van 100 miljard euro deur EU-burokrate oor die afgelope 20 jaar is nie verklaar nie.

Aangevuur deur hierdie beskouings en sterk beklemtoon deur prominente leiersfigure in Britse politieke partye was dit ’n voldonge feit dat die meerderheid van die Britse kieserspubliek hulle in die referendum van 2016 ten gunste van Brexit sou uitspreek.

3. Gevolge wat Brexit inhou vir die VK, die EU en ander state

3.1 Gevolge vir die VK 

Die feit dat die VK sy lidmaatskap van die EU op 31 Januarie 2020 amptelik beëindig het, beteken nie dat alle verbintenisse finaal beëindig is nie. Dit dui slegs op die einde van een hoofstuk in die verhaal. Die volgende, en belangriker, hoofstukke moet binne die volgende 11 maande geskryf word, tensy daar oor ’n verdere finale datum onderhandel word. Volgens die onttrekkingsooreenkoms wat deur Johnson onderhandel is en noue ooreenkoms toon met die ooreenkoms wat deur sy voorganger, Theresa May, beding is, sal die status quo vir die volgende 11 maande behou word.

Enkele van die uitsonderings in die onderhandelde ooreenkoms behels volgens Amadeo (2020) die volgende:

  • Die VK sal nie meer deel wees van die doeane-unie nie. Dit sluit die Britse gebied Noord-Ierland in, maar laasgemelde sal toegelaat word om ’n “sagte grens” met die Republiek van Ierland, wat ’n lid van die EU is, te skep.
  • Die VK en die EU sal ’n handelsooreenkoms sluit wat voorsiening sal maak vir die heffing van tariewe op mekaar se invoere.

......

“Die drie miljoen Europese burgers wat reeds in die VK woon, sal toegelaat word om sonder werksvisums in die VK te bly woon en werk. Die 1,3 miljoen burgers van die VK wat in die EU woon en werk, sal soortgelyk behandel word.”

......

  • Die drie miljoen Europese burgers wat reeds in die VK woon, sal toegelaat word om sonder werksvisums in die VK te bly woon en werk. Die 1,3 miljoen burgers van die VK wat in die EU woon en werk, sal soortgelyk behandel word. Wat die toekoms aanbetref, het die VK reeds ’n immigrasiestelsel voorgestel wat op die vaardighede van werkers gebaseer sal wees.
  • Die VK sal ’n “skeidingspakket” van 33 miljard Britse pond betaal om enige oorblywende finansiële verpligtinge na te kom.

Sou die VK en die EU aan die einde van 2020 nie daarin slaag om ’n nuwe handelsooreenkoms te beding nie en die VK die EU sonder ’n ooreenkoms verlaat, kan die VK meer nadelige gevolge ervaar as dié wat dit reeds moes verduur sedert die uitslag van die referendum in 2016 bekend gemaak is. Die prys wat die VK reeds moes betaal vanweë die onsekerheid wat ná die Brexit-referendum ingetree het, word deur Pippa Norris (2020) aangetoon. Sy wys daarop dat die onsekerheid en ontwrigting wat deur Brexit geskep is, die Britse ekonomie reeds 170 miljard VSA-dollar gekos het. Die bedrag sal teen die einde van 2020 tot 260 miljard VSA-dollar styg, wat meer is as die totale ledegeld wat die VK die afgelope 47 jaar aan die EU betaal het. Voeg hierby die verdeeldheid in die Britse samelewing wat deur Brexit tussen die Brexiteers en die Remainers geskep is en selfs tot die afskeiding van Skotland en die hereniging van Noord-Ierland en die Republiek van Ierland kan lei, en ’n uiters somber prentjie kom na vore.

Ook Amadeo (2020) wys op die negatiewe uitwerking wat Brexit reeds op die VK gehad het en in die toekoms sal hê:

  • ’n Daling in ekonomiese groei van 2,4% in 2015 tot 1,5% in 2018.
  • ’n Daling in ekonomiese groei in die stad Londen van 1,4% in 2018 tot nul in 2019. Investering deur sakeondernemings in die stad het met 11% afgeneem.
  • Die erkenning deur die regering dat Brexit ekonomiese groei oor die volgende 15 jaar met 6,7% sal verlaag selfs al word ’n nuwe handelsooreenkoms met die EU bereik.

......

“Voeg hierby die verdeeldheid in die Britse samelewing wat deur Brexit tussen die Brexiteers en die Remainers geskep is en selfs tot die afskeiding van Skotland en die hereniging van Noord-Ierland en die Republiek van Ierland kan lei, en ’n uiters somber prentjie kom na vore.”

......

Die ernstige ontwrigting wat die VK in die gesig staar sou ’n “geen-ooreenkoms-Brexit” ’n werklikheid word, is deur die BBC (2019) uitgelig. Die volgende is pertinent vermeld:

  • 30% van die voedsel wat in die VK verbruik word, is van die EU afkomstig.
  • 45% van die gas wat in die VK verbruik word, bereik die VK deur die Europese pyplynstelsel.
  • 54 miljoen reise “(travels”) is in 2018 vanaf die VK na EU state onderneem.
  • 12 000 tipes medikasie word in die VK gebruik waarvan 7 000 deur EU-lidstate voorsien word.
  • Migrasie vanuit EU-lidstate na die VK het afgeneem van ongeveer 250 000 in 2017 na ongeveer 50 000 in 2019.
  • In 2017 het die getal Europees-gebore werkers wat om werksgeleenthede in die VK aansoek gedoen het, met 95% gedaal. Dit is veral die laaggeskoolde en mediumgeskoolde beroepe wat die nadeligste getref is.

3.2 Gevolge vir die EU

Die gevolge wat Brexit vir die EU inhou, is van minder ernstige aard. Die besluit deur Britse kiesers het weliswaar gelei tot die versterking van Europese politieke partye wat populistiese mobilisering as politieke strategie aanwend, maar dit is onwaarskynlik dat hierdie partye in leidende state soos Duitsland en Frankryk sodanige steun sal kan verkry om uiteindelik die voortbestaan van die EU te bedreig. Amadeo (2020) wys daarop dat die meeste EU-burgers volgens onlangse meningspeilings sterk ondersteuners van die EU en sy instellings is.

Betreffende die ekonomiese gevolge wat Brexit vir die EU mag inhou is die prentjie ook nie baie donker nie. Indien die VK en die EU op ’n standaard vryehandelsooreenkoms sou besluit, sal die uitset van die oorblywende 27 state volgens Chen ea (2018) verbonde aan die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) met 0,8% daal en indiensneming met 0,3%. Indien ’n ooreenkoms nie bereik word nie en die Wêreldhandelsorganisasie se reëls toegepas word, sal die oorblywende EU-state se uitset met 1,5% daal en indiensneming met 0,7%. Sou die partye op die Noorweegse model ooreenkom (toegang tot die Europese Handelsblok (European Single Market), maar nie deel van die doeane-unie nie) sal die afname in uitset en indiensneming vir die oorblywende 27 EU-state onbeduidend wees.

3.3 Gevolge vir die VSA

Dit is bekend dat die politieke leiers in die VK en die VSA tradisioneel uiters noue betrekkinge en verhoudings gehandhaaf het. Van die mees uitstaande voorbeelde in hierdie verband is die verhoudings tussen Franklin Roosevelt en Winston Churchill, Ronald Reagan en Margaret Thatcher en Bill Clinton en Tony Blair. Sodanig was die samewerking tussen Britse en Amerikaanse leiers in die verlede dat navorsers soos Sloat (2019) na die bestaan van ’n “spesiale verhouding” tussen hierdie twee state verwys.

......

“Sou die VK en die EU aan die einde van 2020 nie daarin slaag om ’n nuwe handelsooreenkoms te beding nie en die VK die EU sonder ’n ooreenkoms verlaat, kan die VK meer nadelige gevolge ervaar as dié wat dit reeds moes verduur sedert die uitslag van die referendum in 2016 bekend gemaak is.”

......

Gegewe die feit dat beide Boris Johnson en Donald Trump hulle regeerposisies grootliks te danke het aan die effektiewe wyse waarop hulle populistiese mobilisering in hulle verkiesingsveldtogte aangewend het; dat beide as Euroskeptici getipeer kan word; en dat beide hulle pertinent verbind het tot die sluiting van ’n spesiale handelsooreenkoms dui daarop dat hierdie spesiale verhouding na afhandeling van die Brexit-proses verder uitgebou sal word. Trump het reeds in Junie 2019 aangebied om na afhandeling van die Brexit-proses ’n “fenomenale” handelsooreenkoms met die VK te sluit.

3.4 Gevolge vir ander state, insluitende state in Afrika

Die visie van Boris Johnson vir die vestiging van ’n “Globale Brittanje” kan na die voltooiing van die Brexit-proses ook tot die voordeel van state in ander wêrelddele strek. Met spesifieke verwysing na Afrika het Paduano (2020) reeds so ver gegaan om na Boris Johnson se nuwe “scramble for Africa” te verwys. ’n Aanduiding dat hierdie nuwe “geskarrel vir Afrika” besig is om gestalte te kry is die VK-Afrika-beleggingsberaad wat op 20 Januarie 2020 in Londen onder die voorsitterskap van Boris Johnson plaasgevind het. Die beraad is bygewoon deur verteenwoordigers van 21 state in Afrika. Tydens die beraad het die VK onderneem om teen 2022 met beleggings van twee miljard Britse pond in Afrika vorendag te kom (Worley 2020). Vir Suid-Afrika kom hierdie Britse inisiatief op ’n geleë tyd, aangesien die regering reeds met ’n veldtog begin het om, ten einde die ekonomie te stimuleer, buitelandse beleggings van R1,2 triljoen oor die volgende vyf jaar te lok.

4. Slot

Die besluit deur die Britse kiesers in 2016 om die VK se lidmaatskap van die EU ná 47 jaar te beëindig kan grootliks toegeskryf word aan die aanwending van populistiese mobilisering as politieke strategie deur die dominante politieke partye in daardie samelewing. Hierdie instellings se taak is aansienlik vergemaklik deurdat die Britse kieserspubliek, bekend vir hulle onblusbare gees van onafhanklikheid, hulself nie kon vereenselwig met die dominasie en voorskriftelikheid van ’n supranasionale instelling soos die EU nie. Dat die Britse kieserspubliek bereid was, en steeds bereid is, om ’n prys te betaal en ’n nuwe koers in te slaan blyk uit die groot meerderheid waarmee die Konserwatiewe Party onder die leiding van Boris Johnson op 12 Desember 2019 verkies is. Met die belofte “(to) get Brexit done” het hy nie minder nie as 365 van die 650 setels in die Laerhuis verower.

Bibliografie

Amadeo, K. 2020. Brexit Consequences for the UK, the EU, and the United States. The Balance. 1 Februarie 2020. https://www.thebalance.com/brexit-consequences-4062999 (1 Februarie 2020 geraadpleeg).

BBC. 2016. EU Referendum. Results. https://www.bbc.com/news/politics/eu_referendum/results (2 Februarie 2020 geraadpleeg).

—. 2019. No-deal Brexit: 10 ways it could affect you. 11 Oktober 2019. https://www.bbc.com/news/uk-politics-47470864 (2 Februarie 2020 geraadpleeg).

Blake, D. 2018. Ten reasons that justify the UK’s decision to leave the European Union. Briefings for Britain. 26 Oktober 2018. https://briefingsforbritain.co.uk/ten-reasons-that-justify-the-uks-decision-to-leave-the-european-union (2 Februarie 2020 geraadpleeg).

Chen, J, C Ebeke, L Lin, H Qu en J Siminitz. 2018. The long-term impact of Brexit on the European Union. IMFBlog, 10 Augustus 2018. https://blogs.imf.org/2018/08/10/the-long-term-impact-of-brexit-on-the-european-union (2 Februarie 2020 geraadpleeg).

EAVI. 2018. What is Euroscepticism? https://eavi.eu/what-is-euroscepticism (2 Februarie 2020 geraadpleeg).

Norris, P. 2020. Brexit is just the beginning. The United Kingdom heads into the storm after the storm. Foreign Affairs, 31 Januarie 2020. https://www.foreignaffairs.com/articles/united-kingdom/2020-01-31/brexit-just-beginning (2 Februarie geraadpleeg).

Paduano, S. 2020. Boris Johnson’s new scramble for Africa. Foreign Policy. 29 Januarie 2020. https://foreignpolicy.com/2020/01/29/boris-johnsons-new-scramble-for-africa (2 Februarie 2020 geraadpleeg).

Sloat, A. 2019. What Boris Johnson means for US-UK relations. Brookings, 31 Julie 2019. https://www.brookings.edu/blog/order-from-chaos/2019/07/31/what-boris-johnson-means-for-us-uk-relations (2 Februarie 2020 geraadpleeg).

Worley, W. 2020. All the news from the UK-Africa Investment Summit. Devex. 21 Januarie 2020. https://www.devex.com/news/all-the-news-from-the-uk-africa-investment-summit-96394 (2 Februarie 2020 geraadpleeg).

The post <i>LitNet Akademies</i> Weerdink: Brexit appeared first on LitNet.

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Nellie Alberts

$
0
0

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Foto van Nellie Alberts: https://lapa.co.za/Skrywer/nellie-alberts.html

Nellie Alberts vertel vir Naomi Meyer van haar kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word.

Nellie, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

​Die storie gaan oor twee Noord-Kaapse bruin kinders wat alleen per taxi van Calvinia na Vanrhynsdorp reis om vir hulle ouma te gaan kuier, maar dan word hulle nie afgelaai nie en beland na ’n paar avonture in die Kaap, waar hulle onder skolliekapers deurloop. Ek het jare gelede ’n kinderboekkursus bygewoon waartydens die aanbieder verwys het na plekke waar skrywers inspirasie vir hul stories kan kry. Sy het toe vertel van ’n koerantberig oor ’n kind wat per taxi gereis het iewers heen; op Beaufort-Wes klim sy toe op ’n verkeerde taxi en beland  in die Oos-Kaap. Die storie het baie jare in my agterkop gehang. Ek behoort tot ’n Kaapse groep, die Fynbosskrywers. ’n Paar bundels kortverhale van hierdie groep is al gepubliseer. Op ’n keer het ons aan ’n projek oor avontuurverhale vir kinders gewerk. Ongelukkig is die produk nooit gepubliseer nie. Een van my stories was in die vorm van ’n dagboekingskrywing van Cherry-Lee Marthinus. Vriende van my het gedink die storie is baie goed en elke keer wanneer hulle gaste vir ete gekry het, het hulle gevra dat ek dit moet aanstuur, en dis dan vir die vermaak van die gaste voorgelees. Dis as gevolg van hulle vertroue in die storie dat ek dit uiteindelik vir die Woordfees ingeskryf het.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses daarvan? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

Soos hier bo genoem, was die inspirasie gebaseer op ’n koerantberig, maar die eindresultaat verskil baie van die oorspronklike storie. Cherry-Lee se storie het sommer self sy loop geneem. Ek het die reis in my kop meegemaak en dit het ’n heel ander einde gehad as die koerantberig (wat ek nooit eens onder oë gehad het nie). Byvoorbeeld: Omdat daar destyds aan die N7 gewerk is, het die tientalle padstoppe sommer ook ’n rol gekry. Ek het ook die storie in ’n Noord-Kaapse dialek probeer skryf – nes onse mense praat.

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon, en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items waarna jy op die program uitsien?

Ek kan ongelukkig nie hierdie jaar gaan nie.

The post Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Nellie Alberts appeared first on LitNet.

Die Alfadokument: ’n onderhoud met René van Zyl

$
0
0

..........

“Net toe my karakters dink hulle leef nou ‘happily ever after’ ... toe spring daar ’n ding uit die bos uit ...”

..........

Die skrywer René van Zyl tree by die 2020 Toyota US Woordfees op wat 6–15 Maart 2020 in Stellenbosch plaasvind. Sy gesels met Cliffordene Norton oor haar eerste spanningsverhaal, Die Alfadokument.

“Aan die einde van Die Alfadokument is ’n los draad of twee waaraan ek nou lekker torring.” – René van Zyl (Foto: verskaf)

René, baie geluk met jou jongste boek, Die Alfadokument. Hoe sou jy die spanningsverhaal opsom in jou eie woorde en van waar die titel?

Die Alfadokument is ’n nuwe genre in die Afrikaanse mark: Dit is ’n samesweringsroman, basies ’n verhaal waarin daar heelwat geheime agendas en versteekte motiewe is, waar iemand, in hierdie geval, Michaela Cohen en Josh Young, probeer om die geheime te ontrafel sodat die ware kleure van die onderduimse groep openbaar gemaak word.

Die verhaal handel oor Michaela Cohen (’n twintigjarige, loskop sosiale vlinder) wat na haar pa se skynbare selfmoord die internasionale Orde erf wat hy begin het. Die Nikolaïete Orde is ’n suksesvolle en skatryk Christen-organisasie, maar Michaela besef daar is groot fout toe sy sommer op bladsy een van die boek in die tronk beland omdat sy onwetend dwelms na Thailand toe gesmokkel het.

Sy kom gou agter dat die dwelms aan haar geplant is deur die Groot Ses, die oorblywende direkteure wat van haar ontslae wil raak. Hulle wil self in beheer bly van hulle miljoene.

..........

“’n Mens moet altyd alles bevraagteken en jou verstand gebruik. Selfs in jou eie geloof. Ondersoek alles en behou die goeie!”

..........

Die magtige Orde, waarvan die hoofkantoor in Kaapstad gesetel is, se direkteure stuit vir niks om te sorg dat hulle koninkryk veilig in hul hande bly nie – ook nie vir moord nie.

Dit gaan ’n ekstaakmaglid kos om die rykmansdogter te help om die Orde se geheime oop te vlek. Josh Young het sy eie redes waarom hy die onaantasbare maatskappy se onderduimshede wil ontmasker. Saam moet hulle die Orde se geheime Alfadokument opspoor. Dis hulle enigste kans om te wys watse onheilighede werklik agter die sukses van die Groot Ses skuil.

Die soektog neem hulle op ’n gevaarlike ekspedisie regoor Europa met twee moordenaars kort op hul hakke. Min weet hulle hoeveel bose geheime hulle gaan ontmasker.

Geloof en mag sorg dus vir ’n dodelike kat-en-muis-speletjie ... Beide Michaela en Josh sit met groot geraamtes in die kas en dit dra by tot die spanning en wantroue wat ook tussen hulle heers.

Een van die Orde se werktuigkundiges in Kaapstad, die paranoïese Krisjan Coetzee, beland sonder dat hy wou saam met hulle in die malle jaagtog en hy blyk toe tog van groot hulp te wees. Hy is by verre my gunstelingkarakter.  

Die titel van die boek is afgelei van die vermiste Alfadokument, die ontstaansdokument van die organisasie wat die Orde se boosheid en al sy geheime gaan ontmasker. Dit het vermis geraak en die een wat dit eerste opspoor, het die hef in die hand ... ensovoorts!

Godsdiens kan ’n baie sensitiewe tema wees. Het jy enige terughoudendheid ervaar om die tema aan te pak?

Nee, as die vrou van ’n oopkop predikant (’n verligte een boonop, met ses grade agter sy naam – dus is hy meneer Google self) het ek sowaar al alles gesien en gehoor wat met geloof, sektes en misleiding in die godsdiensarena te doen het. Ek is ook baie geïnteresseerd in boeke en rolprente met dieselfde temas, veral waar onderduimse sektes ontmasker word (in fiksie en in die werklikheid).

Sommige mense kan soos skape gelei word om ’n charismatiese leier of ’n ideologie te glo wat teen die meeste mense se gesonde intellek indruis. Dit fassineer my. Ek het met Die Alfadokument ’n fiktiewe geloofstelsel versin met vreemde reëls en regulasies en ’n wêreldwye gevolg geskep, maar tog kan dit sin maak vir sommige mense, op ’n vreemde manier.

..........

“Uiteindelik het ek ’n te lang boek geskryf en nadat dit aanvaar was, moes ek dit drasties verkort om verskeie redes, maar dit was die beste ding wat met die boek kon gebeur het. Ek het so baie geleer in die proses.”

..........

En daar is regoor die wêreld mense wat vreemder sektes aanhang. Ek glo mense moet ingelig word van hoe maklik enige mens op ’n dwaalspoor gelei kan word. ’n Mens moet altyd alles bevraagteken en jou verstand gebruik. Selfs in jou eie geloof. Ondersoek alles en behou die goeie!

Ek is boonop ’n oudjoernalis en my motto bly steeds: Lig in, voed op, en vermaak. Ek glo ek dat ek inspireer. Dis belangrik.

Ek kan bysê dat ek jare gelede met die skryf van my eerste boek, Wee Monk’s Tale, the secret of immortality, alreeds in die geskiedenis van die Christengeloof gediep het.

Die boek speel af in die Middeleeue in Skotland en Ierland, waar daar vreeslike bygelowe en vrese oor godsdiens bestaan het. Ek glo ek het die leser hier reeds aan konsepte blootgestel waarvan min gewone mense geweet het, soos dat Vikings en Druïdes, na alles tog ver-Christen het as gevolg van gewone Christene se deursettingsvermoë en vreesloosheid.

Ek wil graag mense inlig en opvoed om hulle eie geloofspad beter te verstaan, asook dié van ander. Of dalk net om hulle verder te laat dink oor die saak!  

Hoeveel navorsing het die boek geverg? Hoeveel van die werklikheid vind neerslag in die boek?

Ek het die boek in 2012 begin skryf. Die navorsing was nogal ’n groot deel van die hele proses. Ek het ’n paar idees gehad wat ek uit koerantberigte of tydskrifartikels gekry het en wat in my kop rondgedraai het.

Uiteindelik het al die idees bymekaargekom en ’n dinamiese storie van sy eie ontwikkel. Dit was ingewikkeld en uitdagend om te skryf, aangesien ek boonop nog drie tieners in die huis gehad het, van wie een ernstig breingestremd is.

Daarby was ons besig om ’n skool vir breingestremdes te ontwikkel, en ’n onafhanklike kerk te bedryf, en dit alles het sy pond vleis geëis. Soms kon ek vir weke nie aan die boek vat nie, net om weer van voor af myself te vergewis van waar staan ek en wat gaan nou weer aan in die storie. Dit was ’n enorme proses om al die balle in die lug te hou.

Uiteindelik het ek ’n te lang boek geskryf en nadat dit aanvaar was, moes ek dit drasties verkort om verskeie redes, maar dit was die beste ding wat met die boek kon gebeur het. Ek het so baie geleer in die proses. Dit was ’n reusagtige werk op sigself, want daar is soveel geheime en misverstande en karakters en lesers wat in die duister gehou moet word. Naderhand weet jy self nie meer wie mag wat weet nie en wanneer vind wie wat uit! Ek moes kophou soos ’n dronk weeluis.

Werklikheid? Alles was, is en bly uiteindelik bloot fiksie, behalwe in my kop – daar is alles realiteit. Ek verlang na my karakters (my verbeeldingsvriende) en daarom is ek reeds besig met die opvolgboek.

Hoe verhoed jy dat die navorsing nie jou storie oorweldig nie?

O, dis moeilik vir my opgeklitste regterbrein. Wanneer ek van die inligting google, raak en so geïnteresseerd in die verskillende feite en stories dat ek myself moet dwing om na my eie verhaal terug te keer.

Ek dink egter dat my verbeelding en die navorsing ’n goeie span vorm en my op die regte koers hou. Dis die lekker van skryf. Jy kan jou eie wêreld skep. En sonder sterk koffie regdeur die dag is niks hiervan moontlik nie!  

Speel die verwagtinge van lesers ooit ’n rol in jou skryfwerk?

Ja, beslis. Ek dink ek skryf in die eerste plek vir myself, want ek sukkel dikwels om boeke te kry wat my verbeelding en anderster leesbehoeftes werklik aangryp. Ek glo ook dat daar mense soos ek is wat iets anders soek as die meer bekende misdaadroman, en daarom skryf ek. Dus om my eie nuuskierigheid te bevredig en dié van die leser wat soos ek is. In die proses hoop ek om lesers iets te gee wat nie andersins in Afrikaans beskikbaar is nie en om hulle belangstellingsveld te verbreed.

Die Alfadokument is jou eerste spanningsverhaal. Wat is volgende? Is jy besig met ’n opvolgverhaal? Wil jy as skrywer in hierdie genre groei?

Ja, ek is besig met die opvolg en geniet die navorsing nou al klaar te veel, want daar is soveel interessante stories, gelowe en misterieuse organisasies in die wêreld.

Ek het al ’n lekker stuk geskryf, maar ek weet daar lê nog baie werk voor voordat ek tevrede gaan wees. Aan die einde van Die Alfadokument is ’n los draad of twee waaraan ek nou lekker torring.

René van Zyl

Hierdie genre was eintlik die eerste een waarmee ek in Afrikaans begin het na my genoemde Engelse jeugboek, Wee Monk’s Tale, wat ’n stukkie van die Bybelgeskiedenis in die Middeleeue weergee tesame met ’n spul onheilige Vikings, Druïdes en drie dapper tieners wat met ’n Altaarbybel moet vlug.

Ek wou iets anders in Afrikaans uitgee en al was dit ’n risiko, is ek bly ek het deurgedruk. Al die harde werk was die moeite werd. Ek moet bysê dat ek Desember 2019 die hele maand gerus het.

Die Alfadokument het veral hier na die einde se kant toe, net voor die drukproses in Oktober, met al die proeflees en veranderinge wat steeds moes sin maak, sy tol geëis. My brein was opgebruik. Nou is ek reg om voluit aan die opvolg te werk.

Net toe my karakters dink hulle leef nou “happily ever after” ... toe spring daar ’n ding uit die bos uit ...

Na watter items sien jy uit by vanjaar se Woordfees?

Ek verstaan die fees is 21 jaar oud? Dit is al klaar iets om na uit te sien, want dit gaan dus besonders wees hierdie jaar. En die tema, Die liefde is aanhou beweeg en geraas maak, is een van my gunstelingaanhalings in die Afrikaanse letterkunde (van skooldae af).

Ek gebruik daardie sinnetjie dikwels in my boeke en in my woelige alledaagse lewe. Ek was nog nooit so gelukkig om ’n Woordfees by te woon nie, dus is ek opgewonde oor net mooi alles. Ek gaan my gate uit geniet en al die pad beweeg en geraas maak!

Ek sien vreeslik uit na my boekpraatjie op 6 Maart om 15:30 saam met Anel Heydenrych en Lize Spit in die boektent. Die befaamde Jono Amid gaan ons bombardeer met vrae en ek is mal oor hom. Hy het ’n besonderse insig in die skrywer se brein en hy is skerp soos ’n skeermeslemmetjie! Dit is vir my ’n groot voorreg om genooi te wees en ek hoop om sommer baie skrywers te leer ken.

The post <i>Die Alfadokument</i>: ’n onderhoud met René van Zyl appeared first on LitNet.

Video: Launch of Yellow and confused by Ming-Cheau Lin

$
0
0

Yellow and confused – Born in Taiwan, raised in South Africa and making sense of it all by Ming-Cheau Lin was launched on Wednesday, 18 September 2019 at The Book Lounge, Cape Town. Ming-Cheau was interviewed by author and journalist Sara-Jayne King.

Ming-Cheau Lin (Photo: Menán van Heerden)

Photo: Menán van Heerden

About the book

Title: Yellow and confused – Born in Taiwan, raised in South Africa and making sense of it all
Author: Ming-Cheau Lin
Publisher: Kwela
ISBN: 9780795709203

Ming-Cheau Lin’s family emigrated from Taiwan to South Africa when she was three.

Growing up in the largely Afrikaans Bloemfontein, in a small East Asian community, she was always the outsider. Too ‘yellow’ for the whites, but ‘not Asian enough’ when she didn’t conform to the rules.

Lin shares her personal journey as she tries to understand and rise above the hurdles she has experienced. Yellow and confused provides a colourful and engaging look into an authentic and uniquely South African life.  

The post Video: Launch of <i>Yellow and confused</i> by Ming-Cheau Lin appeared first on LitNet.

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Anri Botha

$
0
0

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Anri Botha (foto verskaf)

Anri Botha vertel vir Naomi Meyer van haar kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word.

Anri, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

My kortverhaal, “Tjailatyd vir klonge”, handel oor ’n plaaswerker wat as transgender identifiseer. Sy seksualiteit word egter glad nie verstaan binne die kortsigtige plaasgemeenskap waar hy hom bevind nie. Die verhaal fokus op die konflik wat hy/sy in die werk en by die huis ervaar, asook die manier hoe hy/sy die verwerping en afknouery hanteer.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses daarvan? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

Dit gebeur selde dat ek verhale moet beplan of uitdink. Ek is altyd op soek na ’n verhaal en as mens jouself toelaat om anders na die wêreld te kyk, sal daar altyd verhale wees. Ek is ’n wynmaker van beroep en het op die plaas te doen gekry met ’n seisoenwerker waarop ek my karakter gebaseer het. Dié kortverhaal is egter die moeilikste een wat ek tot dusver aangepak het – die verhaal self is wêrelde verwyder van my lewenservaring en ek moes daarom baie navorsing doen om reg te laat geskied aan die karakter. Dit het baie wyndrink ook gekos – en in die proses het daar ’n glas rooiwyn op my skootrekenaar uitgeval. Die wetenskaplike deel van myself het my toe liederlik in die steek gelaat toe ek in die hitte van die oomblik besluit het om sout oor die rekenaar te gooi. Ek kon gelukkig die verhaal weer op Dropbox vind, maar moes dit van daar af met die hand benader. Ek het dit drie keer oorgeskryf en toe eers op my sussie se rekenaar getik. Letterlik een vir die boeke!

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon, en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items waarna jy op die program uitsien?

Ek woon dit reeds sedert 2012 elke jaar getrou by en ek het reeds kaartjies gekoop vir die Karen Zoid-vertoning, asook vir Bibi & Loftus: Sewe sondes & sjerrie. Ek kan ongelukkig nie te veel goed bywoon nie – dit is in die middel van parstyd en ek moet goeie wyn maak om al die kunstenaars daarbuite geïnspireer te hou!

The post Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Anri Botha appeared first on LitNet.


Pasverskyn: Halala Suid-Afrika deur Michael le Cordeur

$
0
0

Titel: Halala Suid-Afrika
Skrywer: Michael le Cordeur
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928518051

Menige keer wou hy die skryf van meningsartikels laat vaar, maar dan onthou hy Burke se woorde: die enigste ding wat nodig is vir boosheid om te seevier, is goeie mense wat stilbly ....

Halala (Ewig vir jou) Suid-Afrika bevat ’n keur van Le Cordeur se artikels die afgelope 25 jaar en is ’n besinning van Suid-Afrika as jong demokrasie. Dit bestryk ’n breë spektrum: van onderwys, taal, kultuur, werkloosheid, nasiebou, die jeug tot die versugting na leierskap.

Soos die inwoners van die Bo-Kaap (op die voorblad) met al sy kleure en kulture al vir eeue in vrede saam bestaan, so glo die skrywer dat Suid-Afrika ’n tuiste bied vir al sy mense; dat Suid-Afrikaners in harmonie met mekaar wil en kan lewe; ons is immers een groot familie.

Lees ook 

"Halala Suid-Afrika": ’n onderhoud met Michael le Cordeur

The post Pasverskyn: <i>Halala Suid-Afrika</i> deur Michael le Cordeur appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Nuwe fotokuns in Kaapstad bied ’n speelse, geheimsinnige verkenning van populêre kultuur se binnekamers

$
0
0

In Huis+Hou+Ding, ’n nuwe uitstalling van gehalte-fotokuns, bekyk twee Kaapse kunstenaars die wisselwerking en vervreemding tussen mens en omgewing.

Anna Verloren van Themaat en Alet Viljoen bied in hierdie werke ’n ryk visuele en kontemporêre ondersoek na implikasies van dit wat menslik en dit wat produkmatig is in huislike ruimtes. 

Die werke is groot, geheimsinnig, speels en meesterlik gestileer om fasette te verken van hoe populêre kultuur en gevestigde idees ons leefwêreld, ons wonings en beskouings van onsself en ander mense binnesypel en inprent. 

Die opening van die Huis+Hou+Ding vind plaas op Dinsdag 11 Februarie om 19:00 in die Robert Sherwood Design-lokaal in Breestraat 173, Kaapstad. Die uitstalling is tot einde Maart 2020 in die Robert Sherwood Design-lokaal te sien.

The post Persvrystelling: Nuwe fotokuns in Kaapstad bied ’n speelse, geheimsinnige verkenning van populêre kultuur se binnekamers appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Bevorder geletterdheid stap-stap in pragtige omgewing

$
0
0
Taalmonument se 45ste ’n fees van aktiwiteite, musiek en kindervermaak

Die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se naweeklange 45ste feesvieringe spring op 29 Februarie 2020, skrikkeldag, om 08:00 weg met ’n “45 Minute vir Afrikaans”-pretstap oor 5km waartydens deelnemers stap-stap die pragtige fynbosbedekte berghange en onbekende paadjies kan verken. Die inskrywingsgelde vir hierdie aktiwiteit is alles ten behoewe van die ATM se geletterdheidsprojek, “Laat ons Lees!”, en deelnemers sal in stede van ’n nommer, ’n oorspronklike Afrikaanse “deelneem-woord” ontvang.

Diegene wat dit binne 45 minute voltooi, sal medaljes ontvang, maar talle geluktrekkings is op die spel vir álmal. Hierdie trekking vind om 09:50 plaas (slegs teenwoordiges sal pryse kan opeis), kort voordat die fees om 10:00 begin – ’n hele dag van musiek, stories, kindervermaak en ’n mark op die wonderskone Paarlberg.

Daar is boonop ’n joga, jazz en digkunsklas om te verseker álmal het ’n prettige manier om een van Afrika se jongste tale te vier. Die veeltalige, multikulturele program met onder andere Jak de Priester, Lungi, V.I.T.O en Jaloersbokkies sal Afrikaans in al haar pragtige gedaantes laat pronk om sprekers en nie-sprekers met ’n unieke, gesellige gees te omarm.

  • Kaartjies vir die Pretstap kos R30 vir volwassenes en R10 vir kinders onder 13. 
  • Deelnemers kan vooraf by die Taalmonument of Taalmuseum inskryf, of op die dag self vanaf 07:00 tot 07:50 by die hek. 
  • Dagkaartjies kos R80 vir volwassenes en R40 vir kinders onder 13 – dit sluit alle aktiwiteite en vertonings vanaf 10:00 in. Dit is vooraf te koop by die Taalmonument op Paarlberg, by die Taalmuseum in Paarl (021 872 3441/863 0543) en aanlyn via Computicket

Saterdag se feesdag volg op Vrydagaand, die 28ste, se rock-troniese musiek van Akkedis Band – Afrikaanse rock met ’n stewige skeut Afrika-, reggae en blues-invloede – asook Die Heuwels Fantasties se futuristiese elektronika ineengevleg met subtiele kitaarelemente en intelligente lirieke. Drank- en kosstalletjies beskikbaar; onthou warm klere en komberse. 

Die Taalmonument bestuur onder meer ’n geletterdheidsprojek, het ’n skool “aangeneem” ten bate van Nelson Mandela en borg gratis vervoer na die monument. Deur bloot die feesgeleenthede by te woon, ondersteun gaste die uitreikprogramme, so by voorbaat “Baie Dankie!” Gaste word ook aangemoedig om ’n nuwe of tweedehandse kinderboek aan die Besoekersentrum te skenk ter ondersteuning van die “Laat ons Lees!”-projek. 

Vir meer oor al die ander opwindende geleenthede, buiten die 2020-vieringe, by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. 

...........

Advance literacy by talking a walk in this beautiful park 
Taalmonument’s 45th a festival of activities, music and children’s entertainment 

The iconic Afrikaans Language Museum and Monument’s (ATM’s) weekend-long 45th celebrations kick off on 29 February 2020, leap day, at 08:00 with a “45 Minutes for Afrikaans” fun walk over 5km during which participants can explore the beautiful fynbos-covered mountain slopes and lesser-known paths. The entry fees for this activity are all in aid of the ATM’s literacy project, “Let’s read!”, and participants will receive an original Afrikaans “event word” instead of a number.  

Those who complete it within 45 minutes will receive medals, but many lucky draws are at stake for everyone. This draw takes place at 09:50 (only those present will be able to claim prizes), shortly before the festival starts at 10:00 - a whole day of music, stories, children’s entertainment and a market on the beautiful Paarl Mountain.

There is also yoga, jazz and poetry class to ensure everyone enjoys celebrating one of Africa’s youngest languages. The multilingual, multicultural program with amongst others Jak de Priester, Lungi, Jaloersbokkies and V.I.T.O will showcase Afrikaans in all its beautiful forms, reminding speakers and non-speakers of the unique, welcoming spirit of this plucky language. 

  • Tickets for the Fun Walk cost R30 for adults and R10 for children under 13. 
  • Participants can pre-register at the Taalmonument or Taalmuseum, or on the day itself from 07:00 to 07:50 at the gate. 
  • Day tickets cost R80 for adults and R40 for children under 13 – this includes all activities and performances from 10:00. It is available for purchase at the Taalmonument on Paarl Mountain, at the Taalmuseum in Paarl (021 872 3441/863 0543) and online via Computicket

Saturday’s festival day follows on Friday night’s, the 28th, rock-tronic music of Akkedis Band – Afrikaans rock with a strong blend of African, reggae and blues influences – as well as Die Heuwels Fantasties’ futuristic electronics intertwined with subtle guitar elements and intelligent lyrics. Beverages and food stalls available; remember warm clothes and blankets. 

The Taalmonument manages, among other things, a literacy project, “adopted” a school in honour of Nelson Mandela and sponsors free transport to the monument. By simply attending the festival events, guests support the outreach programmes, so a big “Baie dankie!” in advance. Guests are also encouraged to donate a new or second hand children’s book to the Visitor Centre in support of the “Let’s Read!” project.

For more information on all the other events, apart from the 2020 celebrations, at the Taalmonument, call 021 863 0543/4809, visit www.taalmonument.co.za or follow them on Facebook. Annual permits are available at R120 for individuals or R220 per family, which includes access to all Full Moon Picnics.

The post Persvrystelling: Bevorder geletterdheid stap-stap in pragtige omgewing appeared first on LitNet.

“Last grave at Dimbaza” deur Fanie Olivier: ’n matrikulant se ontleding

$
0
0

Hierdie opsommingsaantekeninge is uit eie beweging deur Suné Williams, ’n graad 12-leerder, aan LitNet gestuur. Hierdie aantekeninge dien as breë riglyne en die LitNet-redaksie beveel aan dat leerders alle werk wat in die klas behandel word, selfstandig nagaan en self opsom. Ons beveel verder aan dat leerders met hulle eie onderwysers nagaan hoe elke betrokke skool en onderwyser die vak bestudeer en assesseer. Weens talle navrae rondom opsommings, bied LitNet hierdie inhoud aan ons lesers. 

 

Klik hier om Suné Williams se ontleding van “Last grave at Dimbaza” deur Fanie Olivier af te laai.

The post “Last grave at Dimbaza” deur Fanie Olivier: ’n matrikulant se ontleding appeared first on LitNet.

"Sonsverduistering" deur Rayno Mostert: ’n matrikulant se ontleding

$
0
0

Hierdie opsommingsaantekeninge is uit eie beweging deur Suné Williams, ’n graad 12-leerder, aan LitNet gestuur. Hierdie aantekeninge dien as breë riglyne en die LitNet-redaksie beveel aan dat leerders alle werk wat in die klas behandel word, selfstandig nagaan en self opsom. Ons beveel verder aan dat leerders met hulle eie onderwysers nagaan hoe elke betrokke skool en onderwyser die vak bestudeer en assesseer. Weens talle navrae rondom opsommings, bied LitNet hierdie inhoud aan ons lesers. 

 

Klik hier om Suné Williams se ontleding van "Sonsverduistering" af te laai.

The post "Sonsverduistering" deur Rayno Mostert: ’n matrikulant se ontleding appeared first on LitNet.

Viewing all 22019 articles
Browse latest View live