Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21994 articles
Browse latest View live

Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

$
0
0

Met jeugdige krag steek sy die graaf in die grond. Sy vroetel met haar hand in die grond en glimlag. Die saligheid op haar gesig laat haar soos ’n engel lyk. 

Ek kan sien sy's lief vir die grond. Ek stap nader en bekyk haar pragtige tuin. "Dis amaryllis en daardie is asaleas," beduie sy trots. Die sonlig op haar gesig laat die fyn plooie soos goue draadjies vertoon. Dis nou al ’n paar dae dat ek haar gewerskaf so bekyk. Vroegoggend is sy al besig en sy hou eers op wanneer die son al gaan sak het. Ek wonder of sy ooit moeg word – nege-en-sewentig is ook nie meer so jonk nie. Werklik ’n impossante vrou.

"Wag, laat ek gou  ’n teetjie gaan drink,” val dit haar by. Die draadloos word aangeskakel op RSG, en haar pen en boek word nader getrek. Haar ogies is op skrefies getrek en haar kop effe gekantel soos sy elke kriesseltjie inligting opslurp. Die pen in haar hand gly blitsvinnig oor die papier. As daar een iets is wat ek graag van haar wil erf, is dit daai boek! Jare en jare se inligting is daarin neergepen. Ek besef dat ek voor ’n professor staan wat nooit tot haar volle reg gekom het nie.

"Wag, laat ek gou die modelle se klere vir jou wys." Ek volg haar na haar kamer. Rye, rye kledingstukke hang teen die mure en kaste. Dis soos iets uit ’n movie. "Dis als uit die sixties," kondig Her Majesty aan. O, daai  hoede! Party lyk soos aeroplanes. Queen Elizabeth sou haar vergaap het aan die weelde.

"Ma, Ma moet dit rustiger vat.” Sy knik geheimsinnig en ek weet sy's besig om haar volgende projek te beplan.

The post Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou appeared first on LitNet.


Vrouedag-skryfkompetisie: Haar briewe

$
0
0

Toe sy die deur oopmaak, staan die rooiwang Kakie daar met haar twee blou koeverte in sy hand. Sy neem dit woordeloos. ’n Dik swart streep is oor die adresse op albei getrek. Woedende swart sirkel om die seëls. Sy het doelbewus King George II op die seëls onderstebo geplak. As Jan dit moes weet, het hy haar sekerlik "tot orde geroep", soos hy dit genoem het wanneer haar rebelsheid wys.

"Sybella, my vroutjie, hou bietjie terug," het hy haar liefdevol probeer reghelp. 

Sy laat haar nie maklik voorsê nie, dit weet Jan. Sy weet hy hou van haar reguit maniere. Dit is die wilde streep in haar, het hy altyd gesê, wat hom aanvuur.

Sy staar na die adresse. Nou sal General Jan Smuts en Miss Olive Schreiner nooit weet dat Lord Kitchener haar in huisarres kom sit het nie – in Pietermaritzburg, nogal. Hulle sal nie weet van haar seuntjie se dood of die verterende verlange na haar man en haar familie nie.

Waar is hulle? Die twyfel en vrees vir hulle veiligheid, die eenvoudig nie-weet-nie martel haar meer as enigiets hier ... die karige proviand daagliks, die verlies aan vryheid, minagting in die Kakies se oë as hulle na haar kyk, maak haar woedend opstandig.

Die koeverte bewe in haar hand. Stadig sit sy hulle op die tafetjie neer.

Liewer saam met die ander vroue in die kampe ly, het sy geskryf, as om in redelike gemak die skreiende isolasie te moet verduur.

"Soms gaan sit ek en Sus en Magrieta in die oorgroeide tuin hier agter. Ons mag die huis nie verlaat nie. Tensy ons  skriftelike toestemming kry en dan slegs onder begeleiding van die een of ander jong soldaat.”

Sy smag daarna om ’n kerkdiens by te woon. Sy smag na haar boeke en Jan se heerlike briewe. Sal sy ooit weer van hom hoor? Hulle het glad nie verwag die Engelse sou weer oorlog verklaar nie. Daaliks in haar gemoed is Jan se innige omhelsing voordat hy Pretoria toe is om by Louis Botha te gaan aansluit.

"Daar sal nie oorlog wees nie, my liefste Isie, ons sal gaan praat en probeer vrede sluit.”

Dit was twee jaar gelede. Intussen het Engeland met sy volle wreedheid toegeslaan. Die Boere wat nog wou veg, is teruggedryf, uitmekaar geskiet, weggevoer na wie weet waar. Die vroue – o, Here, die vroue en kinders, die oues van dae, die sieklikes, die volk, almal soos vee aangedryf en op die haai vlaktes in tente saamgebondel – uitgelewer aan die walglikste vernederings, hongerte, siektes, onmenslikheid … 

Kitchener het gesorg dat sy ’n radio het sodat sy na die BBC kan luister. Dit is vir seker sy siek idee van goedgunstigheid.

Sy staan op, trek haar skouers agteroor. Voor hom – Great Britain – sal sy, Sybella Margaretha Krige Smuts nooit die knie buig nie!

"Daarvoor is my ruggraat te sterk en brand my liefde vir hierdie verskroeide land onblusbaar," sê sy hardop.

The post Vrouedag-skryfkompetisie: Haar briewe appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

$
0
0

12 jaar is al verby
Dit gaan so vinnig, niemand kan stry.
12 jaar se leemte in my hart,
Omvou met goeie herinneringe en ’n klein bietjie smart.

Van etiket het sy my geleer,
Hoe om te sit en wanneer om beenhare te skeer.
Skoolvakansies was ons aan die bak,
Dadelbolletjies en oats-koekies vars op die rak.

Saam met die manne, uit op die boot,
Geen uitdaging was vir haar te groot.
Stormwaters was sy nie voor bang,
En met ’n groen baadjie, het sy trots visse gevang.

Ek weet nog steeds nie hoekom sy moes ly,
Maar so word die pad vir ons almal voorberei.
’n Vrou wat ek vir altyd sal onthou
En wie se lesse altyd aan my sal klou.

The post Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: My se ouma

$
0
0

Ek was in my Graad 7-jaar. Ek het nog die aand voor die tyd my Engelse mondeling geskryf en geleer.

Die juffrou het gesê sy sal my nog ’n kans gee sodat ek my mondeling voorbereid kon aflê. Ek was opgewonde toe ek die volgende oggend wakker word, maar my ma se lomp figuur in my deur het my laat skrik. Ek het eers die tyd gekyk en gesien dis al voor agt. Ek moes al begin loop het om betyds te wees vir skool.

Alles was verkeerd. Alles was donker, niemand was haastig nie, en niemand het gehuil nie. Almal was net stil.

Ek het die briefie langs my bed opgetel, ek sou dit daardie aand vir haar gee. Ek onthou alles wat ek geskryf het – dat sy sterker is as enige siekte, hoe baie ek haar mis, hoe jammer ek is dat ek net een keer by haar gaan kuier het. Ek het geskryf hoe bang ek is om haar te verloor.

Die ergste is dat ek nog steeds alles bedoel wat ek ses jaar tevore in die briefie geskryf het.

My hele lewe lank wou ek presies soos sy wees. Sy was die een perfekte persoon wat ek geken het. Sy het niemand gehaat nie, en niemand het haar gehaat nie. Sy het die oulikste glimlag gehad voordat dit verander het in ’n uitbarsende lag. Dis hoe almal haar onthou: altyd gelukkig.

Alles aan haar was perfek. Selfs haar dood was vir my mooi. Sy het nog met die verpleegsters gelag, haar tee klaar gedrink, die koppie neergesit en toe het sy haar laaste asem uitgeblaas.

Sy het vir ’n baie lang tyd gesê sy gaan vir my skoene koop. Ek het dit nooit regtig ernstig opgeneem nie. Ek het nie besef hoe belangrik dit vir haar was nie. Sy het alles behalwe ’n maklike lewe gehad. Sy het arm grootgeword en die feit dat sy half-wit was, het ook nie veel gehelp nie.

By die begrafnis het die priester stories oor haar kinderdae vertel. Hy het vertel hoe sy, haar broers en susters selfs deur winter moes kaalvoet loop om by die skool te kom. My hart het gebreek. My ouma het my nooit daardie storie vertel nie.

Ek het daar besluit dat ek nooit te arm gaan wees om skoene te bekostig nie.

The post Vrouedag-skryfkompetisie: My se ouma appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: Die veggees

$
0
0

– Huldeblyk aan ons liewe moeder
03 Desember 1932 tot 08 Julie 2019

Sy veg teen ’n vyand
wat nie sal skroom
om haar van
alle statigheid te roof nie

sy dra nie
geloof en hoop op haar mou nie
maar diep in haar hart
en haar smeekgebed is:
Heer laat ek wen
ek wil my gesonde arms
om my seuntjie wend

sy glimlag
terwyl sy die wêreld steeds
– te midde van haar pyn –
die versekering bied
God is goed;
Hy dra my dag vir dag
en verleen aan my die nodige krag

in haar oë
lees ek verskeie stories
van moegworddae
en lang aande sonder rus
maar ek lees ook
dat die vyand 
hierdie vuur nie gaan blus nie

ek ken haar nie
maar ek ken haar naam
en wanneer ek neersak
en my trane die Vader se voete was
dan bid ek: Heer
haar lewe strek voor haar uit
genees haar Vader
van U sal sy getuig

sy is ’n heldin
sy dra ’n mantel
van verwagting en liefde
dat die son môre weer sal skyn
en sy sal leef sonder pyn

 

The post Vrouedag-skryfkompetisie: Die veggees appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: Ystervrou

$
0
0

Sy griffel net woorde, met haar pen op papier,
soos graffiti op ’n witgeverfde muur.
Dagga rook kinders en agterstallige huur.

Tweedehandse klere, sonder ontwerpersname,
klop aan die deur van die welsynsdame.
Gekraakte vensters, gebreekte rame.

Snotneus kleintjies, met modderhande,
snaakse geluide, veral in die aande.
Selfgehekelde truitjies vir wintermaande.
Tienergiere, dieremaniere en probleme met die bure.
Genade en hoop, trane wat loop, geen geld om kos te koop.

Handgeverfde kabouters in die vetplanttuin,
sonlig wat deur krake in die mure skyn,
sorge weg, met ’n glasie wyn.

Vetgemaakte kalf vir ’n verlore seun,
geen gewillige pa om op te steun.
Verskriklike droogte, sonder reën.

Die wêreld se laste, kan haar nie skeel,
dit wat sy het, sal sy ook nog deel,
partykeer suiker of ’n koppie meel.

Partykeer ’n skouer om op te huil,
of ’n kamer vir ’n weerlose om in te skuil,
soms bly leeus in dieselfde kuil.

Verlang sy soms na beter?
Wel ja, vir seker!
Gelukkig is als ’n verbygaande beker …

 

The post Vrouedag-skryfkompetisie: Ystervrou appeared first on LitNet.

kykNET-Rapport-boekpryse: 2019-kortlyste is hier!

$
0
0

Dubbelbenoemings vir drie debuutskrywers

Die 2019-benoemdes vir die kykNET-Rapport-boekpryse, van die rykste boekpryse in Suid-Afrika, is pas bekend gemaak. Die pryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe werk insluit, word toegeken vir die beste Afrikaanse fiksie en niefiksie wat in 2018 verskyn het.

Met hulle eerste romans bevind die skrywers Lodewyk G. du Plessis (Die Dao van Daan van der Walt), Charl-Pierre Naudé (Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey) en Chase Rhys (Kinnes) hulle op die kortlys vir twee pryse. Lodewyk G. du Plessis (die skrywersnaam van oudregter Andries Buys) en Charl-Pierre Naudé is benoem vir sowel die kykNET-Rapportprys vir romans as die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede fiksiewerk, en Chase Rhys vir beide die filmprys en Jan Rabie-Rapportprys.

“Daar sal teruggekyk word na 2018 as die jaar van die groot debute,” sê die sameroeper van die kykNET-Rapportpryse, Hettie Scholtz. “Mog dit die begin inlei van ’n gans nuwe blomtyd vir ons letterkunde.”

Die sterk veld van debuutinskrywings het ook meegebring dat die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys vanjaar uitgebrei is tot vier titels.

Die kykNET-Rapport-boekpryse is ingestel as aansporing vir skrywers in Afrikaans om steeds vernuwend en verbeeldingryk gestalte te gee aan verhale wat erkenning verdien as bakens in die Afrikaanse letterkunde. Die prysgeld beloop R250 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R125 000 vir die kykNET-Rapport-filmprys, en R125 000 vir die Jan Rabie-Rapportprys.

Die kortlyste vir 2019 is, in alfabetiese volgorde volgens skrywer:

KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)
Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. du Plessis (Tafelberg)
Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé (Tafelberg)
Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach (Human & Roussseau)

Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé: ’n resensie

Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis: ’n resensie

KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE

Ingrid Jonker: ’n Biografie deur Petrovna Metelerkamp (Penguin)
Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Veary (Tafelberg)
Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd (Tafelberg)

Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey: ’n resensie

KYKNET-RAPPORTPRYS: FILM
Prooi deur Deon Meyer (Human & Rousseau)
Kinnes deur Chase Rhys (Kwela)
Stormkind deur Riana Scheepers (Tafelberg)

Prooi deur Deon Meyer: ’n resensie

Kinnes deur Chase Rhys: ’n resensie

JAN RABIE-RAPPORTPRYS: ROMANS, NOVELLES EN KORTVERHALE
Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. du Plessis (Tafelberg)
Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé (Tafelberg)
Kinnes deur Chase Rhys (Kwela)
Stof deur Alettie van den Heever (Queillerie)

Stof deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Die kortlyste vir die kykNET-Rapportpryse vir Afrikaanse resensies oor Afrikaanse fiksie en niefiksie, sowel as langer Afrikaanse resensies, word binnekort uitgereik.

Die pryswenners word op Saterdagaand 14 September 2019 in Kaapstad bekend gemaak.

KOMMENTAAR DEUR DIE KEURDERS
Die keurders was verras deur die verskeidenheid en diepgang wat na vore getree het in romans wat in die fiksiekategorie ingeskryf is sowel as die nuwe perspektiewe wat veral aan fiksiekant na vore gekom het. Dit is ook opvallend dat Afrikaans steeds besig is om ’n robuuste kultuur van misdaadromans te ontwikkel met heelwat aandag aan kontemporêre en samelewingsprobleme en ’n goed ontwikkelde sin vir relevante kontekstuele detail. ’n Sintuig vir die historiese kom ook na vore in besonder knap geskrewe historiese romans wat veral boei omdat hulle fokus op relatief onbekende of onontginde geskiedenisse val, of wat die hoofkarakters se huidige gemoedstoestande en geestelike kwellings verbind met gebeure in die verlede.

Nog ’n verrassende ontwikkeling is Alettie van den Heever se Stof wat in die genre van spekulatiewe fiksie met ’n ekokritiese fokus val. Veral die slim taalspel met ’n Afrikaans wat reeds tot ’n tipe hibried vervorm het teen 2081, beïndruk.

Die verruiming van gepubliseerde Afrikaans met ’n Kaapse register is ook verwelkom. Veral Chase Rhys se roman, Kinnes, bied ’n ontsenuende blik op omstandighede op die Kaapse Vlakte. Hiermeee bring hy ’n belangrike prosa-aanvulling by die werk van digters soos Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Shirmoney Rhode.

As verlede jaar die jaar van doodsbesinning was by Afrikaanse niefiksie, is vanjaar die jaar van terugskouing oor die lewe: die (outo)biografie.

Van die beste voorbeelde in hierdie genre slaag daarin om die geskiedenis tot lewe te bring en dra in die geheel by tot ons kaleidoskopiese begrip van die veelkantigheid van ons verlede. Opvallend is steeds wit Afrikaanssprekendes se soeke na identiteit en morele integriteit.

Alhoewel twee swaeltjies nie vir niefiksiekeurder Valda Jansen ’n somer maak nie, is sy bemoedig deur die inskrywings van Jeremy Veary (Jeremy vannie Elsies) en Nathan Trantraal (Wit issie ’n colour nie): “Ek dink as ’n mens sou wou soek na tekens van die swaai van ’n pendulum, na ’n aanduiding dat iets besig is om te gebeur, sou jy dit nou al kan waarneem in vanjaar se niefiksie-aanbod.”

Ook opvallend vanjaar is dat daar steeds meer joernalistieke boeke verskyn. Die teorie, volgens keurder Herman Wasserman, is dat soos joernalistiek al meer ’n happiegrootte-styl begin ontwikkel en nuus al vinniger oor al hoe meer platforms gelewer word, en koerante en tydskrifte al hoe dunner raak, daar al minder ruimte, geduld en aandag is vir langer vorme van joernalistiek. Die mark vir hierdie vorm verskuif na boeke toe.

Inskrywings oor die rol van die media – die impak wat dit op die oorgang na demokrasie gehad het, asook die impak van demokrasie en veranderende tegnologie op die media – het geprikkel. Ton Vosloo se bespreking van Naspers is seker die mees volledige hiervan, met Harald Pakendorf se bydrae in interessante spanning daarmee. Ook Gabriël Bothma se boek oor die aard van die openbare diskoers in die Afrikaanssprekende wêreld sluit daarby aan. 

By die filmprys was die keurders weer bederf met verhale wat visueel prikkelend geskryf is met interessante en geloofwaardige karakters. Temas het gewissel van die oorlewing van jongmense op die Kaapse Vlakte tot vergrype in Duits-Suidwes-Afrika in 1905, en genres van romantiese dramas tot periodedramas, en van ’n liriese sprokie tot naelbytmisdaadromans. Filmkeurders het hierdie jaar se veelheid benut om wyer te kyk en opwindende moontlikhede vir Duitse of Franse koproduksies te identifiseer.

KEURDERS

Die keurders vir die kykNET-Rapportprys vir fiksie was prof. Thys Human van NWU, prof. Louise Viljoen van die US, die rolprentvervaardiger Gerrit Schoonhoven en Darryl David van UWK. By niefiksie het die skrywer Valda Jansen, prof. Andries Bezuidenhout (Universiteit van Fort Hare), prof. Herman Wasserman (UK) en die rolprentvervaardiger Hermann Binge die stiplees gedoen en Tina Kruger van kykNET het die geledere van filmkeurders Gerrit Schoonhoven en Herman Binge versterk. Die keurders vir die Jan Rabie-Rapportprys was ouduitgewer Alida Potgieter, prof. Steward van Wyk (UWK) en die skrywer en joernalis Danie Marais.

Vir meer inligting oor die kykNET-Rapport Boekpryse kontak Hettie Scholtz by scholtz5@mweb.co.za / 084 583 0272 of besoek die webwerf by www.kyknetrapportpryse.co.za.

Vir meer inligting oor die Jan Rabie-Rapportprys kontak Anita van Zyl by anita@vanzylpr.co.za / 083 709 6677.

 

The post kykNET-Rapport-boekpryse: 2019-kortlyste is hier! appeared first on LitNet.

’n Pot goud?

$
0
0

Keer verlede maand terug nadat ons my jongste kleindogter werklike sneeuval in Hogsback gaan wys het. Sneeutjies op die grond is vervelig, dis die val wat jy moet sien!

En oppad terug, onweerlegbare bewys dat daar g’n pot goud aan die einde is nie. Kyk hoe word die  veilingheidsreling aan die linkerkant deur hom verlig – geen pot goud daar nie!

Al padlangs koggel hy ons,

en ’n entjie verder aan eindig hy  in die boomtop. Kyk mooi, die boonste takke en blare word verlig.

Ook is daar geen pot goud nie!

En wat van ons Rëenboognasie? Sal daar ooit ‘n pot goud – voorspoed iewers te sien wees?

Goue groete.

Raed-na-Gael

The post ’n Pot goud? appeared first on LitNet.


My vriend se bok en skaap

$
0
0

Dis altoos lekker om ’n vriend in die dorre Karoo te hê. As jy jag, kan jy loop Koedoes doodmaak (hulle vreet tog immers al die lusern op, reg?). As jy nie jag nie, sensitief is, kan jy lat hy vir jou een van sy skape keel afsny sodat jy kan roem op die tjoppie op die rooster. Effe vetterig en deksels smaaklik so ver van die slagting af. As jy vrinne is met ’n boer van die Karoo kan jy selfs ’n bakkievrag jakalsvelle verniet kry saam met jou opgesaagde lammertjie. 

So beduie ek my vriend innie Karoo dat ek velle soek. Klogoete kerm en kla want hulle soekie dooie diere innie huis nie en ek beduie my telg dat sy darem moet sorg dat die vuur hoog is want saam met J se velle kom daar darem ’n lam wat weliswaar in skywe opgesny is maar wat selfs die honne oor sal baklei. My vriend bring vir my ’n bakkievrag velle en ’n visbak vol lamvleis. Mooi opgesny sodat die broses nie nodig het om in die arme ding se gevreet te kyk nie. Die kop is heel want dis iets wat net iemand wat lewe respekteer kan geniet: skaapkop heel gebak in die oond. 

Ek sien tussen die velle is daar ’n snaakse vel wat ek herken maar wat nie innie Karoo hoort nie. Behoorlik ingesout en opgerol. Ek beduie hom dat daar moer baie jakkalse moes wees en hy beduie my hoe baie die jakkalse hom elke maand kos en ek vra hom waarom daar nie meer mensvelle is nie want daai soort jakkals steel sommer by die bakkievrag. 

"Moenie worry nie, ons meld daai jakkalse net nie aan nie. Bliksems besteel my kaal." Ek vra nie uit nie want ek ken my vriend as ’n roekelose rakker toe ons nog mense self kon straf sonder om die Boere in te roep. 

Hy beduie dat hy homself ’n roekelose ding op die hals gehaal het. Net nou die dag toe mense al wat ’n snaakse generiese variant vir miljoene gekoop het. Ek beduie hom dat daardie goue wildebees eintlik net ’n duur vel is en my vriend se gesig raak hartseer. 

"Die donnerse bok gekoop. Honderd duisend rand vir die ding betaal. Almal is mos nou in die ding in so toe koop ek maar. En weet jy wat? Toe ons die donnerse bok aflaai het hy nie eens ’n kilometer gehol nie toe pik ’n donnerse slang die ding. Duurste vel wat ek ooit gekoop het. Geniet die ding op jou vloer." 

Ek vra hom oor die skaap want ek onthou sy nuwe bruid het so met die eerste maand vir haarself ’n hanslam mak gemaak en met die hand en groot liefde tot in die huis grootgemaak. Mooi versorg en sy self het beduie hoe die lam selfs teen die deur skop as hy wil loop skyt. Soos ’n hond innie huis. Die ding moes net blaf dan't hy oppie kooi geslaap. 

"O, jy onthou van Krismis?" 

My vriend J het hom Krismis gedoop. 

"Hoe gaanit met Krismis?"

"Ek het jou mos gesê hoekom ek hom Krismis gedoop het. Hy was op die tafel met Krismis. Mammie was net kwaad vir so drie dae toe sy uitgeëet geraak het aan hoender en groente." 

oester

The post My vriend se bok en skaap appeared first on LitNet.

LitNet: Witwees in Afrika

Die dekonstruksie van Retta Blom: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout

$
0
0

Die dekonstruksie van Retta Blom
Zelda Bezuidenhout
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795708992

Jonathan Amid gesels met Zelda Bezuidenhout oor Zelda se Die dekonstruksie van Retta Blom.

Zelda, baie geluk met jou eerste roman vir volwassenes! Ek het heerlik gelees aan Die dekonstruksie van Retta Blom. Dis vars, intelligent, onderhoudend, deurgaans skreeusnaaks, dog ook diep menslik. Vertel ons ’n bietjie meer oor Zelda Bezuidenhout? Wat het sy gedoen voor skryf? Hoe gemaklik hang die etiket “skrywer” om haar nek?

Ek is verheug en verlig dat jy die boek geniet het! Dankie vir al jou ruimhartige woorde oor Retta.

Ek skryf eintlik nog al die jare reklamekopie om den brode. Nee wag, miskien is “om den brode” die verkeerde uitdrukking, want dit klink asof ek kopieskryf nie geniet het nie. Ek het! Hoewel die reklamebedryf ongenaakbaar kan wees en berug is vir sy onmoontlike spertye, is die werk dikwels skandalig opwindend. Die Amerikaanse reklameman Jerry Della Femina het nie verniet gesê “Advertising is the most fun you can have with your clothes on” nie. Hy’t natuurlik ook gesê: “Once you’re not number one, it doesn’t matter where you are.” En dis daardie meedoënlose strewe na “number one” wat ek glad nie mis nie. Die druk op jou om die Loerie te wen, die blue chip-rekening te behou, die slimmer idee op te tower. In wese is ek seker net te veel van ’n hippie – ek kon my nooit regtig met die verheerliking van kapitalisme assosieer nie.

Wat my wel soos ’n handskoen gepas het, was die kort rakleeftyd van daardie soort skryfwerk. Jy kry die opdrag, werk aan die konsep, dit word ’n keer of ses teruggestuur omdat die kliënt dink dit stink, maar die hele proses – van konsep tot finale produk – duur dikwels nie meer as ’n paar weke nie. Boekskryf is natuurlik ’n vetkoek met ’n heel ander vulsel. Ek raak stadigaan gewoond (met die klem op “stadigaan”) aan die slakkepas waarteen alles geskied. Dit voel seker nie so aan die uitgewerskant, waar soveel manuskripte en skrywersego’s bestuur moet word nie, maar vir die skrywer voel dit asof alles baie langsaam gebeur.

Oor die “skrywer”-ding. Ek het nou die dag vir die eerste keer die woord “skrywer” iewers op ’n vorm ingevul waar hulle vra wat my beroep is. Dit het ’n bietjie aansitterig gevoel.

In 2017 is jou jeugverhaal As mens geluk kon proe as naaswenner in Lapa se Jeugromankompetisie bekroon. Jy het self ʼn dogter, Mia, wat 18 is. Ervaar jy ʼn baie groot verskil in hoe jy ʼn roman vir volwassenes aangepak het teenoor wanneer jy vir ʼn jonger gehoor skryf? Is Mia ʼn klankbord?

Glo my, Mia is veel meer as net ’n klankbord. Met As mens geluk kon proe het sy byvoorbeeld vir my die idee van die skoolkonsert Haarsproei gegee. Ek moes iets uitdink wat by Arnelia se nuwe skool spesifiek uitgeknip was net vir háár karakter. Iets waarvoor sy spesiaal gekies word oor wie sy is of hoe sy lyk. Anders sou hierdie kinkel in die storielyn nie geloofwaardig gewees het nie. Omdat Arnelia ’n bietjie stewiger was as die meeste ander meisies in die skool, was die rol van Tracy Turnblad (Tilla Taljaard in die boek) pasgemaak vir haar.

Kyk, om vir tieners te skryf is nie kinderspeletjies nie. 😉 ’n Mens dink ag, dis ’n ou dun boekie wat ek tjop-tjop kan saamflans, maar jy trippel die hele tyd deur ’n mynveld van moontlike foute wat jou kan blootstel as die uncool volwassene wat jy eintlik is. Dit is beslis makliker om vir grootmense te skryf – dit help seker dat ek self een is. Of darem probeer om een te wees.

Retta se verhaal is inderdaad een van ontnugtering, maar beslis ook een van hoop. Waar kom jou inspirasie vir haar storie vandaan? Wanneer het Retta die eerste maal by jou kom aanklop, en was jy reg om haar in te nooi vir koek en tee? Het sy as die “volle pakket” by jou kom aanklop, of het sy stuk-stuk vorm aangeneem?

Ek het nie besef Retta gaan so ’n pyn in die gat wees toe sy die eerste keer by my kop ingewaai het nie. Al wat ek vooraf geweet het, is dat sy ’n vrou moes wees wat dink haar lewe is volmaak en dan hulpeloos toekyk hoe alles waarvan sy so seker was, skouspelagtig gedekonstrueer word. Ek het eers later besluit sy moet obsessief-kompulsief en pynlik netjies wees. Ek het eerstehandse kennis van so ’n mens, want my oorlede ma was ’n neat freak. Ek was egter ook vasbeslote om van Retta ’n baie aangename en dierbare mens te maak. Sy het ’n goeie hart. Vir die doel van hierdie roman het ek eintlik maar die ou cliché “Soms gebeur slegte goed met goeie mense” van die rak afgehaal en dit met een van Retta se verestoffers bygekom.

“As jy wil weet wat regtig in iemand se kop aangaan, luister na dit wat hy of sy nie sê nie. Kyk na dit wat hulle nie doen nie.” Wie moet Retta Blom lees? Het jy iets soos ʼn ideale leser? En dink jy die roman gaan sommige lesers onkant betrap? Wat is jou terugvoer sover, soos jy die boek oor die land bekendstel?

Ek het aanvanklik gereken Retta is ’n boek vir vroue van ’n sekere ouderdom, maar tot my vreugde kom ek nou agter mans lees dit ook en geniet dit. Daarom dink ek die boek is eintlik vir enigiemand wat belangstel in wat net-net onder die oppervlak van mense se lewens aangaan. Aangesien dit vir my nog altyd baie belangrik was dat ander van my hou, het ek dikwels my intuïsie oor mense en situasies geïgnoreer. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat klein tekens groot stories vertel. Ek dink tog ek is nou ’n bietjie wyser.

Daar was by my die vrees dat ek sekere lesers sal ontstel deur geloof – in hierdie boek spesifiek Christenskap – onder die vergrootglas te plaas. Die boek kritiseer nie geloof as sulks nie, maar kritiseer wel geloof wat as “erfgoed” net so aanvaar word en nie werklik eg is nie.

Tot dusver kry ek regtig positiewe terugvoer oor die boek. Lesers wil weet of daar ’n opvolg gaan wees, of waaraan ek nou skryf. Dis mos ’n goeie teken? Ek dink elke skrywer wonder of haar boekbaba die harde werklikheid van slim lesers en brutale resensente gaan oorleef. Dit geld veral vir nuwe skrywers soos ek.

Bemarking is deesdae ʼn onontbeerlike deel van die skrywer se wêreld. Haal dit jou uit jou gemaksone om in die openbare oog te wees, of is jy gemaklik met die aandag? Weet jy wat jou Myers-Briggs-persoonlikheidstipe is, en maak sterretekens enigsins vir jou saak? Geniet jy sosiale media?

Volgens die Myers-Briggs-toets val ek onder die “bemiddelaar”-persoonlikheidgroep en is ek spesifiek die INFP-T-tipe. Ek is ’n introvert wat as kind en tiener in die kas weggekruip het as mense kom kuier. Ek is steeds daardie kind wat in die kas wegkruip, maar het oor die jare vaardighede aangeleer om in sosiale omgewings te funksioneer wanneer ek moet. Ek doen dit blykbaar baie goed, want mense ervaar my nie as teruggetrokke of skaam nie. Maar dis alles toneelspel (dankie, Drama I – ’n onwaarskynlike universiteitsvak vir my). Die feit is dat ek regtig altyd verkies om alleen of met net een ander persoon te wees. Wanneer ek dus my jeugfiksie by skole bemark, moet ek ’n pil drink om nie te hiperventileer nie, en voel ek na die tyd soos Bradley Cooper se karakter in A star is born wanneer hy ná ’n konsert in die limousine klim en al die geroesemoes uitblok. Totaal uitgeput! En ja, ek het myself so pas met ’n rockster vergelyk én erken dat ek pille gebruik voordat ek met kinders gesels.

Ek wil graag sê dat ek nie in sterretekens glo nie (want ek is ’n Taurus en Bulle is sien-is-glo-mense – hoe’s daai vir ironie op verskeie vlakke). Tog ontmoet ek net te dikwels mense wat ek sommer self as ’n Bul eien nog voordat ek weet wanneer hulle verjaar. Soos jy, Jonathan. Hoe verklaar ’n mens dit? Ek dink ek glo tog ’n klein bietjie in alles. Ek is die soort draadsitter wat al strepe op my boude het van al die sittery.

My verhouding met sosiale media is liefde/haat. Ek is lief daarvoor omdat dit vir ’n introvert die ideale manier is om kontak met die buitewêreld te behou. Maar ek voel elke nou en dan asof ek daarvan moet “ontgif”. Dis die konstante egopoetsery wat my soms onderkry. Ons wys net vir ander wat ons wil hê hulle moet sien. En nêrens anders is dit méér opmerklik as op sosiale media nie. Soms wens ek daar was iets soos antisosiale media, waar mens net jou slegte kant mag wys. Ek vermoed ek sal baie meer aktief daarop wees.

Ek moet vra oor die titel: Ons het hier met iets effe anders as Jacques Derrida se dekonstruksie te make, nè? Retta neem haar lewe, haar eie lewensverhaal, in oënskou om tot verhaal te kom nadat haar man, Tobias, se ontrouheid op die lappe kom. Dis ook toevallig ʼn goeie vriendin wat haar daarvan vertel. Een van hul twee seuns, Dawid, is ook ʼn aanhanger van “deconstructed cuisine”, en daar is byvoorbeeld ʼn wonderlike toneel vroeg in die boek waar hy vir Retta en Tobias en hul gaste koek saam met sy vriendin, Amy, bedien. Dan is daar ook verskeie ander voorbeelde van dekonstruksie wat die verhoudings, gewoontes en gebruike en aannames in Retta se lewe betref. Het die idee van dekonstruksie dadelik met die deur in die huis geval, of moes jy swoeg en sweet om die perfekte titel en motief te vind?

https://sh.wikipedia.org/wiki/Jacques_Derrida#/media/Datoteka:Jacques_Derrida.jpg

Ek moes nou eers gaan Google wie Jacques Derrida is en wat hy oor dekonstruksie te sê gehad het. Ek het die voorbeeld van dekonstruksie in kookkuns, eerder as in letterkunde, gebruik as ’n metafoor vir Retta se “uitmekaarval”. Die eerste gedekonstrueerde gereg wat ek ooit geëet het, was melktert. Dit is as ’n blertsie melkpap, kaneelroomys en ’n bros deegwaaier wat parmantig op die bord gestaan het, voor my neergesit. Dit was heerlik! Geure wat altyd in harmonie saamwerk, kon ek afsonderlik proe en self besluit of ek hulle weer saam op my vurk wou laai. Ons almal word met intrinsieke eienskappe en talente gebore, maar ter wille van oorlewing en om “in te pas” ontwikkel ons dit nie altyd nie. Dis wat met Retta gebeur het. Sy het gekies om die ondergeskikte in haar verhouding met Tobias te wees. Sy het dit nie gekiés nie; dit is soort van van haar verwág. Eers toe al haar sekerhede begin wankel, het sy dieper gedelf en ’n ander, sterker en meer kreatiewe Retta ontdek.

Ek sukkel gewoonlik met die titels van boeke. Maar hierdie titel is wonder bo wonder die oorspronklike werkstitel van die manuskrip. Vir ’n rukkie het Kwela-boeke gedink dis dalk te akademies vir ’n ligte roman. Maar later het hulle besluit dat dit tog goed kan werk.

Die titel sinspeel ook op die dekonstruksie van die genre chick lit, of lettere wat vir die vroueleser geen word. Lees jy self chick lit? Kyk jy romkoms? Is dit vir jou lekker om met formules en verwagtinge te speel, en om binnepret te hê? Dink jy daar is ʼn mate van snobisme, veral plaaslik, steeds, wanneer genrefiksie ter sprake is? Indien wel, hoe verander ʼn mens daardie soort opvattings?

Daar is ongetwyfeld snobisme rondom die sogenaamde chick lit-genre. Elke keer as ek my manuskrip chick lit genoem het, het my uitgewer – die uiters bedrewe Carolyn Meads – vir my gesê ek moet dit liefs “’n ligte roman met ’n sterk vroulike hoofkarakter” noem. Ons het later daaroor gelag. Ek vermoed chick lit is baie soos sekere tydskrifte wat topverkopers is in die land, maar wat geen denkende mens blykbaar lees nie. Regtig? Ons is mos nie altyd lus om intellektueel gestimuleer te word nie. Soms wil ’n mens net ’n boek lees oor ander mense se probleme, sodat jy minder alleen voel.

Ek lees graag slim vrouefiksie en is nog al die jare ’n groot aanhanger van Marita van der Vyver se boeke. Sy het my heeltemal oorrompel met Griet skryf ’n sprokie, en ek is sedertdien ’n Marita-“groupie”. Ek is ook gek oor vroueskrywers wat met humor kan toor. Caitlin Moran is ’n groot gunsteling.

Jy skryf op indrukwekkende wyse oor verskillende vroue, hul motiverings, menswees, maar ook hul seerplekke en vertwyfelings. Daar is netwerke van ondersteuning, vriendskap en deernis, maar ook kompetisie, onenigheid en heelwat nydigheid onder die vroue in jou storie. Wil jy ’n bietjie vertel oor Retta se binnekring, en dalk veral iets se oor Leigh en Koba, wat belangrike karakters is? Dink jy daar is genoeg sisterhood tussen vroue tans, of is kompetisie tussen vroue self – vir mans, vir sukses – iets wat steeds baie swaar weeg? Hoe lyk dinge in Parys in die Vrystaat, waar jy tans woon?

Ek was nog altyd ’n “girl’s girl” en is beslis deel van die sisterhood. Maar dit beteken nie dat ek blind is vir die vroulike geslag se geite nie. Inteendeel, ek stem saam met die stelling “The female of the species is deadlier than the male.” Ek wou juis in die boek wys tot wat ’n oënskynlik “gedienstige” en “gematigde” vrou soos Retta Blom in staat is as sy onder te veel druk geplaas word. (Hier verwys ek spesifiek na haar wraakgedagtes rondom Tobias se tuiskoms nadat sy van sy verraad uitgevind het.)

Soos ek, het Retta egter mense in haar hoek. Koba is haar praktiese staatmakervriendin en ook die een wat die saadjie van wantroue by haar plant. Leigh is ’n maltrap – die een wat vir haar wys dat die lewe soms ongestruktureerd en lig moet wees. Hermien laat haar besef dat die uiterlike regtig nie so belangrik is nie – Hermien se kuberkêrel, Stoffel, speel ook ’n klein maar belangrike rol in Retta se lewe, omdat hy vir haar ’n onafhanklike, manlike perspektief op ontrouheid bied.

Ek glo die sisterhood is vir talle vroue ’n reddingsboei. Die meeste vroue wat ek ken, lei verstommend bedrywige lewens. Ek praat hier van veeleisende loopbane, lewensmaats en kinders. Daar word van hulle verwag om al hierdie balle met grasie en perfek-gemanikuurde hande in die lug te hou. Wanneer hulle bymekaarkom vir koek en wyn, of soos in Retta en Leigh se geval, gin en tonic, gaan dit veel dieper as net vroueklets. Dit is broodnoodsaaklike terapie. Ek het ’n dierbare vriendin met wie ek letterlik elke dag in WhatsApp-verbinding is. Hoewel sy ver van my af woon en ons mekaar nie dikwels sien nie, help ons mekaar om sin te maak van die lewe. Soms kerm ons oor mans en kinders en wat om vir aandete te maak. Maar meer dikwels praat ons oor diep, filosofiese goed. Hier in Parys het ek ’n wonderlike, uiteenlopende groep kosbare vriendinne.

Hoe gemaak met clichés? Met die vrou wat haarself “vind”? Met die ontroue eggenoot, die “road trip”, en die “handsome stranger”? Al drie elemente staan sterk in jou roman, en tog voel hulle nie afgeleef en opdringerig nie. Wat is jou geheim?

Dit is al so dikwels gesê, maar hier kom dit weer: Clichés word clichés juis omdat sekere situasies hulself aanmekaar herhaal. Die ontroue eggenoot is een van daardie herhalende temas. Dit kan tog nie beteken dat ons nie meer daaroor mag skryf nie? Maar ja, ek het probeer om die deurtrapte temas eg en met ’n vars aanslag te benader. Ek is bly as jy dink dit het gewerk.

Die grootste lekkerte en die grootste gesukkel met Retta? Waarin kon jy jou verlekker, en wat was vir jou die moeilikste of uitdagendste dele van die proses? Het jy ʼn vaste roetine? Skryf jy elke dag?

Dit was vir my eufories lekker toe Retta se verhaal begin momentum kry. In daardie tyd het ek vir myself ’n eenvoudige metode geprakseer om die storielyn met een oogopslag te kan sien ontvou: Ek het ’n hele klomp kleefnotas van allerhande kleure gebruik en dit in ’n ry op my lessenaar geplak. Die ry het later teen die tafelpoot af en al langs die vloer begin kronkel, maar die lekker ding van hierdie plan was dat ek die notas kon rondskuif of nuwes invoeg. As ek dus besef het ’n karakter moes in ’n vroeër stadium al iets gesê of gedink het, kon ek net ’n nuwe kleefnota inlas.

Die slegste deel was toe my uitgewer die manuskrip vir die eerste keer lees en ’n kort opsomming vir my stuur oor wat sy daarvan dink. Dit het daarop neergekom dat sy van die storielyn hou en dat Kwela graag die boek wil uitgee, maar dat daar twee belangrike veranderinge aangebring moes word. Ek het die roman uit vier of vyf perspektiewe geskryf. Haar voorwaarde vir publikasie was dat dit uit die perspektiewe van net die twee vroue in Tobias Blom se lewe geskryf mag word. My moed het in my skoene gesak, want dit het ’n klomp herskrywery beteken. Maar dit het nie lank geneem voordat ek besef het haar vereiste was die beste ding wat met my boek kon gebeur het nie.

Ek het geen vaste skryfroetine nie. Ek skryf in die bed, op die stoep, in koffiewinkels en soms selfs by my lessenaar. Enige tyd van die dag of nag. Soms skryf ek vir dae glad nie. Ander kere sit ek die hele dag lank in my slaapklere en skryf.

Naamgewing is ʼn belangrike kode in jou roman. Van Lauretta Blom, met die suggestie van lewensiklusse, lewe en dood, afskeid en verlies, maar ook groei en nuwe moontlikhede, tot Adam Krige, ʼn ware “eerste man” vir Retta in vele opsigte, ten spyte van haar huwelik. Hoe het jy op die name besluit? Speel jy gewoonlik lekker rond met name voor jy besluit? Hoeveel van Zelda is in Retta?

Retta was eers Reina, om klaarblyklike redes. Maar terwyl ek aan die boek geskryf het, is ’n ander Afrikaanse boek met “Reina” in die titel gepubliseer. Toe besluit ek om haar te herdoop. Ek moet erken, ek het ’n kort van gesoek eintlik maar net omdat die titel alreeds so lank was. Ek het eers later besef dat ek lekker met die simboliek van “Blom” kan rondspeel.

Ek kan eerlik sê dat die enigste ooreenkoms tussen my en Retta die feit is dat ons al twee vroue is.

Jy het ʼn besonderse prosastyl in hierdie roman, met ʼn bitter fyn aanvoeling vir raak beskrywings en die tekstuur en gevoel van ʼn gegewe oomblik. Waar dink jy kom dit vandaan? Is dit natuurlike empatie met mense, jare se “people watching”, liefde vir fliek en lees, en hard werk aan jou styl? Al die bogenoemde, dalk?

“People watching” is beslis ’n gunstelingtydverdryf. Dis vir my lekkerder om net buite ’n gonskring te staan en na die interaksie van mense te kyk as om daaraan deel te neem. Ek hou van alleen reis, alleen fliek en alleen in koffiewinkels sit. Ek weet dis ’n bietjie creepy, maar ek was nog altyd so. Want dan kan ek afkyk en afluister. Mense fassineer my: Hulle kan wys, weerloos en liefdevol wees, maar ook so onverstaanbaar onnosel en wreed.

Jy vind ʼn balans tussen die komiese en die tragiese, en tussen die alledaagse en banale en dit met ewigheidswaarde in Retta se verhaal. Wat is vir jou die mees kosbare dinge in die lewe? Is dit maar ʼn geval van met Lucebert saamstem dat alles wat weerloos is, waarde het, of hoe sien jy dit? Wanneer word iets vir Zelda Bezuidenhout waardevol? Wanneer het iets sy raklewe gehad, en beweeg mens aan?

Die heel kosbaarste ding in die lewe is tyd. Ons maak mos almal die fout om te dink ons tyd gaan nooit opraak nie. Noudat ek ouer is, wil ek nie meer te veel tyd spandeer aan aktiwiteite waaruit ek nie vreugde put of mense met wie ek nie ’n verbintenis voel nie. Ek het selfsugtig geword met die skaars kommoditeit tyd.

’n Groot deel van my gedagtewêreld draai daagliks om die vrae: “Hoekom is ek hier?” “Wat is my doel?” “Wat gebeur regtig as ’n mens doodgaan?” Dit klink miskien donker, maar vir my is dit eintlik die enigste belangrike vrae. Ek verwonder my aan mense wat hierdie dinge so mooi uitgesorteer en geliasseer het. Ek het nooit die geskenk van kinderlike geloof ontvang nie en vermoed ek sal met hierdie vrae worstel totdat ek doodgaan.

Jou vraag oor raklewe is interessant. Ek het met groot hartseer in my vroeë veertigs besef dat sekere vriendskappe ’n rakleeftyd het, net soos verhoudings. Hier wil ek nou spontaan Simon en Garfunkel se “A hazy shade of winter” begin sing (hoewel The Bangles se latere weergawe natuurlik beter was). “Seasons change with the scenery,” lui die lirieke. Ons omwêreld en omstandighede verander deurlopend. Ons moet noodwendig self ook tot ’n mate verander en aanpas, anders het ons moeilikheid. Soms bly daar goed in die slag – soos ’n huis waar jy geborge gevoel het, of ’n pel. C’est la vie.

Jy wend musiek, en veral lirieke, uiters funksioneel aan. Ek het byna gehoop dat daar nog meer daarvan in die teks sou kon wees. Wil jy iets sê oor veral die keuses van Dave Matthews Band se “The space between” en Tracy Chapman se “Telling stories”?

Musiek is ’n groot deel van my lewe en ek luister na alles van Hendrix tot Macklemore. Ek gebruik dit ook dikwels in my jeugverhale en my jeuglektuuruitgewer moet net keer of elke toneel kry ’n klankbaan. “The space between” se lirieke was perfek van toepassing op Retta Blom se verhaal. In my verbeelde fliekweergawe van Retta Blom hoor ek Tracy Chapman se “Telling stories” tydens die eindtoneel. Retta slaan haar karretjie se dakkap af en draai uit die stowwerige Nieu-Bethesda-pad teerpad toe. Ons sien hoe haar motor kleiner en kleiner in die winterlandskap van die Karoo word. Doof uit. Dan begin die titels op die swart agtergrond rol. En dis wanneer Dave Matthews se “The space between” speel.

Het jy ooit die reeks Desperate housewives gekyk? Op jou kort bio op Facebook noem jy dat jy ’n Netflix-verslaafde is. Wat kyk jy tans, of wat onlangs indruk gemaak het? Het visuele vertelkuns ʼn invloed op hoe jy skryf? Waar kom jou inspirasie vandaan? Het jy ʼn muse?

Ek was gek oor Desperate housewives! Dit het daai net-onder-die-oppervlak-donkerte van ’n voorstedelike lewe tot die ekstreem geneem – wat ’n wenresep. Ek het pas na die Big little lies-reeks gekyk en is besig om deur die jongste seisoen van Stranger things te werk. Ek skryf altyd my boeke soos flieks wat voor my afspeel. Dit help veral om dialoog natuurlik te laat vloei.

Ek dink my muse moonlight en werk dalk ook vir ’n paar ander skrywers, van wie sy meer hou.

Jou karakterisering is ʼn besliste sterk punt. Hoe neem jou karakters vorm aan? Wie het jou die meeste verras of onkant gevang? Het een of twee ter elfder ure ingeglip, of beplan jy alles haarfyn?

Ek doen die minimum beplanning rondom karakters. Ek het gewoonlik ’n vae idee van hul funksie om die storielyn te help uitspeel. Eers wanneer hulle begin praat, begin hul eienskappe gestalte kry. Koba is die een karakter wat my verbaas het. Sy het as rateltaai begin en was op die ou end besonder menslik en versorgend. Ek wil byna sê sy is my gunsteling.

Ek het baie van Adam gehou. Hy en Retta se man, Tobias, is interessante teenpole. Het jy ook ʼn sagte plekkie vir Adam?

Ek is gek oor Adam, ja. Maar dikwels dink vroue hulle wil ’n Adam hê – sensitief, kunssinnig, ingestel op hul behoeftes. Maar tog kies hulle ’n Tobias wat baie geld verdien en stabiliteit kan bied. Net soos wat mans dikwels ’n affair het met ’n sekere soort vrou maar ’n heel ander soort vrou trou, dink ek die meeste vroue sal dalk ’n affair met ’n Adam hê maar liewer met ’n Tobias trou. Want Tobias gaan vir haar die groot 4x4 kan gee en vir die kinders se ekstra wiskundeklasse kan betaal. My sisterhood-susters gaan my dalk vir hierdie een afskil en vir die wolwe voer.

Ek voorspel dat jy vele lesers sal verras met die ouer-kind-dinamika in die boek, en die diep menslikheid wat jy as skrywer openbaar soos wat die leser Tobias se “ander familie” leer ken. Sonder om te veel te verklap, hoeveel van ʼn uitdaging was dit om aan Klarabelle Manser lewe te gee, en om haar ma, Suria, die “ander vrou”, ook ʼn simpatieke karakter te maak?

Ons eie dogter het epilepsie en tot ’n groot mate is Klarabelle se verhaal Mia s’n. Dit was dus maklik om by Suria se kop in te klim. Dis die moeilikste ding waardeur ’n ouer kan gaan: om jou kind te sien ly en nié te kan help nie. Die swaard wat oor ’n mens se kop hang omdat jy altyd vir die volgende aanval wag, kan ek nie beskryf nie. Dit maak jou oud.

“Onder draai die duiwel rond” is ʼn gesegde hoogs toepaslik in konteks van Retta as karakter. Hoekom sal lesers met haar kan identifiseer? Het sy jou soms frustreer?

Niemand is so blind soos die een wat nie wil sien nie. Partykeer wou ek net vir Retta ’n sterk espresso maak en dit onder haar neus rondswaai. Ek dink ons kan almal identifiseer met daardie innerlike gesprekke wat ’n mens met jouself kan hê wanneer jy verskonings vir iemand uitdink of ’n situasie probeer regverdig. Wakker word, Sussie!

Ek het jou skrywe oor voorkoms, lyftaal, kosmetiek en liggaamlikheid baie geniet en insiggewend gevind. Wat is Zelda Bezuidenhout se eie siening van vroulike skoonheid, en skoonheid as konsep en ideaal? Hou skoonheid noodwendig verband met iets wat waarheid en outentisiteit beliggaam? Wanneer is iets vir jou mooi, en probeer jy dan iets daarvan vasvang? Watter tipe mens is vir jou mooi en laat jy in jou eie binnekring toe?

Skoonheid het altyd vir my te doen met gemaklik wees in jou vel. Ek ken mans en vroue wat glad nie aan die algemene standaard van “mooi” voldoen nie, maar wat hul voorkoms en lyflikheid met soveel selfvertroue besit en geniet dat hulle onweerstaanbaar aantreklik is. Daarteenoor het ek al modelmooi mense ontmoet wat so ongemaklik en onseker is dat hulle binne sekondes muurblommetjies vir my word. Retta het altyd baie op haar perfekte lyf en skoonheid staatgemaak. Noudat sy ouer word, is dit vir haar ’n krisis. Ek dink mense wat uiterlik “gemiddeld” is, het minder van ’n oudwordkrisis, omdat hulle nog altyd op ander aspekte van hul menswees moes reken, nie net op hoe hulle lyk nie.

Die reismotief is altyd iets genotvol om mee te speel – het jy inspirasie geput uit films soos Thelma and Louise, en ʼn roman soos die onlangse Selma en Louise deur Susan Coetzer? Het jy self al ʼn soortgelyke road trip aangepak met Walter die Wonderhond?

Ek het nog nie Susan Coetzer se boeke gelees nie, maar sal dit beslis op my leeslys sit. Die road trip is ’n gewilde tema omdat dit vir die skrywer soveel ruimte gee om karakters te ontgin. Ons is mos almal ’n bietjie meer avontuurlustig wanneer ons uit ons bekende milieu geruk word. Reis verbreed horisonne – en laat ons maar eerlik wees, Retta se horisonne het binne net ’n dag of twee van 2D na IMAX gegaan.

Seks, seksualiteit en sensualiteit figureer sterk in hierdie teks. Hoera! Kry jy die gevoel dat vroue in Suid-Afrika steeds in een van twee boksies, óf die Madonna óf die hoer, gedruk word? Wou jy ʼn slag slaan vir vroue wat as meer konserwatief identifiseer? Retta besef haar vrouwees is onlosmaaklik verweef met haar identiteit as sensuele en seksuele wese, en dat die “orgasmefabriek” darem nog werk. Beskou jy jouself as ’n feminis? Indien wel, is hierdie ʼn feministiese teks?

My oorlede ma het altyd gesê Duits is nie ’n “singtaal” soos Frans nie. Vir haar het liefdeswoorde bloot nie romanties in Duits geklink nie. Ek vermoed daar is mense wat dink dat Afrikaans nie ’n taal is waarin ’n mens oor seks praat of skryf nie. Dis natuurlik onwaar. Sogenaamde konserwatiewe Afrikaanse vroue is besonder sexy en sensueel. In Retta se geval moes sy net uit haar bekende wit-en-beige kou vrygelaat word om dit opnuut te besef. Die groot feminis in ons huis is my man, Izak. Hy glo dat ’n vrou byna alle werk beter kan doen as ’n man. Of dit nou koek bak of neurochirurgie is. Juis omdat vroue gewoonlik baie meer aandag aan besonderhede gee. Ek weet nie of ek dit ’n “feministiese” boek sou noem nie. My manuskrip was al maande by die uitgewer toe ek Sophia Kapp se Kantelpunt gelees het. Ek het die boek geweldig geniet, en my eerste reaksie was: “As Die dekonstruksie van Retta Blom eendag groot is, wil sy Kantelpunt wees.”

Vertel iets oor die druk op vroue om in verskeie sfere te presteer, ook veral in die huis, wat jy so raak vasvang in jou boek?

Ek beskou my eie huwelik as redelik modern. Maar die dag toe ek en Izak besluit het om vir Mia te hê, het ons nie planne gemaak oor hoeveel ons elkeen sou prysgee in terme van tyd en lewensideale om haar groot te maak nie. Ons het al twee eenvoudig aangeneem dat ék die een sou wees wat my loopbaan vir ’n hele klompie jare sou afskeep. Izak se lewe het byna glad nie verander nie. Hy het harder as ooit gewerk, steeds visgevang en fiets gery en alles gedoen wat vir hom lekker was. By sosiale funksies was ek pynlik bewus van die feit dat ek vir die eerste keer in my lewe eintlik deur ’n man onderhou word, en ek was baie skaam daaroor. Nie alle vroue het hierdie reaksie nie, maar my identiteit het nog altyd baie te doen gehad met wat ek doen vir ’n lewe.

Retta en Leigh se reis per motor neem hulle van die Goudstad na die Moederstad – dis vir my geen toeval dat dit ook hier in die Kaap, as ʼn tipe eindbestemming en die lokus van die klimaks, is dat die tema van moederskap so sterk na vore tree nie. Dit was vir my baie roerend hoe jy mense van verskillende gelowe, kulture en rasse op so ʼn outentieke wyse nader kon bring op die vlak van verstaan en omgee.

Ongeag wie ons is of waarin ons glo, liefde bly die universele taal wat tot almal spreek. Ek wou gehad het die liefde moet in hierdie boek seëvier. Daarom het ek met opset mense uit verskillende kulture saamgegooi in die nagevolge-brousel van ’n onbeplande swangerskap. Ek het skaamteloos gebruik gemaak van die onskuld van ’n kind om ’n spieël voor die volwassenes in die verhaal te hou en die speelveld gelyk te maak.

Zelda, jy het nou nie ʼn vervolg op John Miles se Op ’n dag ’n hond gaan staan en skryf nie, tog is honde baie belangrik in hierdie teks. Vertel ’n bietjie?

Ek was nog net een jaar van my lewe sonder ’n hond. En glo my, dit was ’n besonder slegte jaar vir my. Ek het in ’n kothuis agter in iemand anders se erf gewoon en die heeltyd praatjies gemaak met die buurvrou se bulhond. Retta en haar huis was so klinies en “stil” dat ek met Charlie ’n bietjie warmte wou inbring. Ek het egter seker gemaak dat hy by die meubels en gordyne pas. 😉 Wat die ander hond in die verhaal betref – Maverick – wil ek nie te veel sê nie. Ek gaan dalk ’n kinkel verklap.

Kommunikasie sonder woorde is iets waaroor Retta heelwat nadink.

Ja, Retta is baie goed daarmee om woordelose boodskappe te ontsyfer. Selfs Tobias se bedkassie vertel vir haar stories. Adam se karig-gemeubileerde huis en die nederige veldblomme op haar kopkussing het haar weer baie van hóm vertel. Selfs die name van plase op uitdraaiborde kry haar kop aan die werk en laat haar “back stories” vir die plaasmense uitdink.

Tobias se ander lewe is “iets wat die volmaakte tafereel versteur”. Dink jy dis moontlik om iemand ooit ten volle te ken, of te leer ken?

Nee, ek dink nie dis moontlik nie. Elke mens hou tog ’n stukkie van hom- of haarself heeltemal privaat. Al is dit net die kleinste brokkie. Ons wys nie eers vir ons lewensmaats alles nie. En ons hoef ook nie.

Humor is volop, en so vermaaklik, in jou skryfwerk. Wat is vir jou snaaks, en wat laat jou lag tot jy huil?

Ek kan vir die simpelste goed lag. Soms sal ek en Mia in die kar ry en sy sal iets ewe droogweg kwytraak wat my so aan die lag kry dat ek moet stilhou. Ek is gek oor die Britse komediant Ricky Gervais. En dan natuurlik ons plaaslike Snorseun, Schalk Bezuidenhout. Partykeer sê ek vir vreemdelinge wat langs my op vliegtuie sit dat ek sy ma is.

“Dit voel inderdaad of Retta ʼn kramp het. ʼn Kramp wat haar hart vasgryp en soos ʼn nat handdoek uitdraai om die lewe uit haar te wring.” Waar kom Zelda Bezuidenhout se mensekennis en wysheid vandaan?

As ’n mens diep in jou vyftigs is, het jy al ’n hele paar goed oorgekom. My hart is al hoeveel keer gebreek, en daarom weet ek presies hoe dit voel. Die temas en karaktertipes in Retta het ek almal op een of ander tydstip in my eie lewe beleef of raakgeloop. Ek het byvoorbeeld vir ’n Koba-tipe vrou gewerk toe ek in my twintigs was. Sy het my gereeld in trane gehad. Ek dink ’n mens delf maar in hierdie ervaringsdata van jou om karakters te skep. Ek dink nie ek is noodwendig vreeslik “wys” nie.

Retta begin naderhand soos ’n “dom muurblommetjie” voel; Leigh se “fieterjasielose eerlikheid” word ʼn reddingsboei.

Ja, Retta het vir Leigh nodig gehad om elke nou en dan vir haar ’n wake-up call te gee. Daardie wit-en-beige lewe moes ’n blerts rooi of blou kry van tyd tot tyd. Dit was darem net te onwerklik.

ʼn Besliste hoogtepunt is hoe jy “online dating” ondersoek deur die karakter van Hermien, wat nie ʼn klein vroutjie is nie, en Stoffel, haar langafstandkêrel met die John Lennon-brilletjie.

Het jy van dié tweetjies gehou? Ek ook! Hulle gee ’n mens so half moed vir online dating, nè? En ou Stoffel was darem maar van goed aanmekaargesit, al was alles aan hom so rond. Selfs sy brilletjie.

Hoe ons onsself sien, en hoe ander ons sien, staan sentraal. Hoe behou ʼn mens ʼn sin van eerlikheid en die outentieke soos wat alles om ons ʼn handelsmerk word, en verhoudings dreig om al hoe meer oppervlakkig te raak as gevolg van lewe agter skerms?

’n Kollega van my het altyd gepraat van jou eie “bubble of integrity” wat jy om jou moet skep, al raak die wêreld hoe mal. Soos ’n klavier nou en dan ingestem moet word, of meetinstrumente gekalibreer moet word, moet ’n mens jou van tyd tot tyd afvra: Doen ek nog wat ek wil doen? Is ek gelukkig? Leef ek volgens my eie waardestelsel, of volgens iemand anders s’n?

Marilyn French se The women’s room as interteks?

Ek het haar boek as ’n tipe “Paaseier” in die manuskrip geplant. Lesers wat The women’s room gelees het of wat bewus is van die feministiese inhoud van die boek, kan dit as beduidend sien. Maar as die leser dit nié gelees het nie, maak dit natuurlik nie saak nie.

Klarabelle Manser, elfjarige liefdeskind, swemkampioen en epilepsielyer, kruip sommer diep in mens se hart in.

Ja, Klarabelle is eintlik die een met “regte probleme”. Haar onskuld en chroniese siektetoestand gee vir ons iets waaraan ons die grootmense se (dikwels selfgemaakte) dramas kan meet. Sy veroordeel nie, sy het nie agendas nie. Sy is net ’n kind met sterre in haar oë vir wie die dobbelsteen sleg geval het. Dit is waarom ons haar liefkry.

Watter heilige koeie behoort ons meer van te slag in Suid-Afrika?

Ek dink Deon Maas het daardie onderwerp deeglik en baie slim aangespreek in sy boek Melk die heilige koeie. (’n Boek wat ek heel ironies in die Christelike afdeling van Potchefstroom se CNA raakgeloop het. Dit moes die woord “heilige” gewees het wat die rakpakker verwar het.) Ek kan sowaar aan niks dink wat hy nie reeds vlymskerp beskryf en met ’n goeie skeut wrang humor vir ons opgedis het nie.

Retta se ma as depressielyer, haar moeilike kinderdae, en die dood van haar suster, Irma, verklap belangrike agtergrond; so ook die grootword van Tobias sonder pa by sy oupa, en die stryd van Suria en Nura Oliphant as enkelmoeders. Karin Brynard het briljant oor die kwessie van vaderlose huishoudings geskryf in Onse vaders, en jy verruim ook subtiel die gesprek hier met jou eie skrywe. Was dit ʼn doelbewuste keuse om ook manlikheid en sosiale verwagtinge van mans aan te spreek?

Miskien tog ’n bietjie? Ek hoop dat ek mans nie deurgaans as teleurstellers, verneukers en verantwoordelikheidontduikers uitgebeeld het nie. Moet ’seblief nie van Adam en Stoffel vergeet nie. Hulle was lieflike, en sout-van-die-aarde-tipes, onthou?

Kan mans en vrouens ooit net vriende wees?

Beslis. Dit hang alles af van die betrokke man en vrou se persoonlikhede en verwagtinge. Ek het ’n paar goeie mansvriende wat onwetend as informante dien. Hulle gee my ’n kykie in die wonderwêreld van die manlike psige – en dis natuurlik baie belangrik as ’n mens ’n boek soos Die dekonstruksie van Retta Blom wil skryf.

Leigh stel die belangrike punt dat verhoudings deesdae nie meer so vinnig en gerieflik in netjiese boksies pas nie. Watter verhoudings in fiksie het jou as leser vasgenael gehou, tragies of andersins?

Ek dink dadelik aan Jules and Jim deur Henri Pierre Roch – ’n boek wat ek in my twintigs gelees het en sedertdien weer ’n keer. Die onkonvensionele verhouding in hierdie boek is twee beste vriende wat (vir die hoeveelste keer) op dieselfde vrou verlief raak. Die drie hoofkarakters (Jules, Jim en Kate) is verlief op mekaar en die lewe, en hul storie speel af in die stad van liefde, Parys. Die interessante ding is dat Henri Pierre Roche sewentig was toe hy die boek gepubliseer het en dat dit semi-outobiografies is. Dus is “onboksbare” verhoudings allermins ’n nuwe ding.

Retta word uiteindelik op haar eie manier ʼn tipe volksheldin, ʼn sprankelend skeppende en speelse “selfdoenkampioen” wat “die laaste stuiptrekkings van volwaardig vrouwees” ontgin. Dink jy die lewe begin eintlik eers na veertig?

Nie noodwendig nie. Ons twintigs en dertigs is darem maar net te aksiebelaai en opwindend om so iets te wil sê. Ek glo wel dat dit glad nie onmoontlik is om na veertig of selfs vyftig, sestig en sewentig nuwe dimensies van jouself te ontdek en uit te leef nie. Om die waarheid te sê, ek beveel dit sterk aan.

Wil jy iets verklap oor die metafoor van die Royal-bakpoeierblikkie?

Ek het altyd intens na daai Royal-blikkie gestaar wanneer my ma koek bak. ’n Mens kon so vyf blikkies raaksien as jy regtig diép kyk. Die konsep van ad infinitum het met my kleindogtertjiekop gesmokkel. In die boek moes die blikkie werk as ’n spesiale metafoor vir oneindigheid wat net Retta en Adam verstaan. Ek wou vir hulle ’n intieme oomblik gee wat nét hulle s’n was. Soos Retta sê, “’n intellektuele orgasme”.

Die lewe se onverwagse afdraaie is dikwels wat dit ook soveel betekenis gee. Wat is volgende vir Zelda Bezuidenhout?

Ek wonder. Dalk leer ek bekfluitjie speel, of om die tango te dans. Dalk gaan ek en Izak op ’n sabbatsreis deur die land met Myrtle, ons ou karavaan. Maar ongeag wat vir my voorlê of waar ek my gaan bevind, ek weet ek sal nie sommer ophou skryf nie.

The post <em>Die dekonstruksie van Retta Blom</em>: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout appeared first on LitNet.

LitNet Akademies (Opvoedkunde)-seminaar: Skoolhoofde en leierskap

$
0
0

In hierdie LitNet Akademies (Opvoedkunde-artikel), Morele leierskap: Die skoolhoof as agent vir die vestiging van morele waardes ter bevordering van skoolklimaat, het Branwen Challens, Leentjie van Jaarsveld, Charl Wolhuter oor morele leierskap met die fokus op die skoolhoof as agent vir die vestiging van morele waardes ter bevordering van skoolklimaat, ondersoek. Remona Voges het met 'n onderwyseres, Monet Nel, gesels om uit te vind wat effektiewe leierskap in Suid-Afrikaanse skole vir haar beteken. 

Monet, As jy terugdink na jou skooljare – hoe onthou jy jou skoolhoofde?

As laerskoolkind het ek gedink ons hoof was goed genoeg. Hy het telkemale op "Ou ryperd" op die verhoog gedans en dit het ons Afrikaanse, plattelandse kinders vermaak. Die skool het ook op verskeie vlakke goed gevaar en ek dink hy was grotendeels vir baie van die prestasies verantwoordelik. Hy was baie betrokke by die kinders en ouers. Later sou ek vinnig leer laerskoolhoofde (en –onderwysers) is baie spesifieke soorte mense.

My hoërkool-ervaring was anders: jy het die hoof net soggens met opening gesien, dalk meer as jy ’n moeilikheidmaker was, en langs die rugbyveld as die eerstespan rugby gespeel het. Ek onthou hom as ’n streng, konserwatiewe man wat ondebatteerbare reëls afgedwing het. As ek terugdink, wonder ek of sy lewe leeg voel sonder sy rugbyspan en die skoollied – ek is seker dit was vir lank die rede hoekom hy soggens opgestaan het.

Goeie leierskap gaan gepaard met sekere waardegedrewe beginsels soos respek, verantwoordelikheid en bedagsaamheid. Hoe belangrik dink jy is dit vir ’n skool se kultuur om ’n leier te hê wat hierdie beginsels aanhang en hoekom?

Dis van kardinale belang. Die personeel en vanselfsprekend die skool, is net so sterk soos hul skoolhoof. Personeel maak staat op die hoof vir leiding en ondersteuning; leerders se dissipline hang af van hul respek vir die hoof. Dit is daarom belangrik dat die hoof waardegedrewe beginsels uitleef en van ander betrokkenes verwag.

Dink jy dat skole wat meer tradisievas as ander is, oor die algemeen beter vaar in terme van die kweek van ’n sekere kultuur en gesindheid onder leerders?

Dit is moontlik; tradisies kan ’n eensgesindheid onder leerders kweek wat goeie verhoudinge en uiteindelik samehorigheid bring. Die soort tradisie is egter belangrik. Hoërskole sit met tieners wat maklik rebelleer, en waarteen beter om te rebelleer as ’n argaïese tradisie wat op jou afgedwing word? Tradisies moet aanpasbaar wees.

Watter rol speel effektiewe leierskap in die sukses van ’n skool?

Effektiewe leierskap bepaal die verloop van selfs ’n doodgewone, probleemvrye dag; dit is van uiterste belang. Dit hang egter nie af van ’n graad agt-leerder se leierskap nie – die leierskap moet van die skoolhoof kom, verder gevoer word deur die personeel en eers daarna kan dit sukses teweegbring. Dieselfde geld vir die afwesigheid van leierskap: die personeel verpersoonlik hierdie afwesigheid en uiteindelik raak dit die kinders en lei dit tot die afwesigheid van sukses.

Hoe belangrik is dit vir die onderwysers van ’n skool om in ’n omgewing te werk waar die hoof sekere waardes aanhang en wat sou jy sê is hierdie waardes?

Verhoudings tussen personeel en hul hoof is van uiterste belang. Personeel kort ’n leier om die toon aan te gee, maar dit geskied slegs wanneer die hoof deur die onderwysers gerespekteer word. Daarom moet ’n skoolhoof respekteerbare waardes uitleef en afdwing in die personeelkamer en op die skoolgrond. Stiptelikheid, opregte en eerlike kommunikasie en vertroubaarheid is waardes wat gerespekteer kan word in ’n skoolhoof en wat deur ’n personeel toegepas sal word indien die voorbeeld daarvan gestel word.

LitNet Akademies (Opvoedkunde)-seminaar: Skoolhoofde en leierskap

LitNet Akademies (Opvoedkunde)-seminaar: Skoolhoofde en leierskap

 

The post <em>LitNet Akademies</em> (Opvoedkunde)-seminaar: Skoolhoofde en leierskap appeared first on LitNet.

Kaap, kerrie en koesisters deur Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien: ’n resensie

$
0
0

Titel: Kaap, kerrie en koesisters
Outeurs: Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780798177726

Hierdie kookboek is 189 bladsye van tradisie en kultuur. Moeilike woorde daai – tradisie en kultuur. So abstrak. Jou kultuur, my kultuur, of ons kultuur?

’n Mens kan egter met veiligheid sê dat talle Suid-Afrikaners hulle met hierdie boek kan vereenselwig. Ek self het in die 189 bladsye baie bekende disse gevind – wie wil nou nie ’n goeie piekelvis-resep (ingelegde kerrievis) vir Paasfees byderhand hê nie (bl. 38)? Daar is ander resepte wat vir my nuus is, soos die Mavrou, sowel as talle terme en tradisies (dhaltjies – soms ook daltjies gespel – word met sop voorgesit wanneer die vas gebreek word in Moslemkultuur) wat vir my insiggewend en hoogs leersaam is.

Die boek bevat baie interessante brokkies kultuur; ek gaan dit nie oorvertel en so bederf nie. Die susters maak natuurlik ook op allerhande plekke hul resepte en kultuur bekend – TV en Facebook ook. Van hul disse val buite my verwysingsraamwerk, byvoorbeeld gebraaide masala-viskuite, maar ek het ’n familielid wat dit wel maak. Sardynkerries het ek ook nog nooit gemaak nie, maar ek het ’n vriendin wat dit doen. Dit is kerrie uit gewone geblikte sardyne (kyk byvoorbeeld na die resep Sardyn-Ahkni op bl 82). So ja, dis ons kultuur. Nie dalk in my eie kombuis nie, maar in die kombuis langsaan.

’n Tweeling wat saamspan is gewoonlik ’n interessante verskynsel. Die susters se individualiteit te midde van hul hegte spanwerk kom pragtig in die boek oor. Elkeen het ’n inleiding geskryf. Hul skryfwerk wat hul kinderjare aanraak het my diep getref en ek sal dit altyd onthou.

Ja, die Sydow-susters is ’n formidabele span. Hulle het twee jaar al hul eie televisie-program op DStv, kanaal 147, en in April het die boek met dieselfde naam, Kaap, Kerrie en Koesisters, sy verskyning gemaak. Die Susters het in die tydskrif Kuier ook baie van hul resepte uitgegee ... vir diegene wat die boek teen R330 dalk nie kan bekostig nie. Die tydskrif se resepte neig na die meer ekonomiese. ’n Lekker aankope. Daarin sê hulle dat Kaapse kos uniek is omdat dit ’n potvol verskillende kulture en stories is. Daar is egter ’n rede hoekom ’n mens die boek moet koop. Die foto's deur Michelle Parkin is honderd keer beter as die foto's in die tydskrif, maar dit is seker ’n geval van begroting. Die ontwerp in die boek is ook fantasties – mooi gedaan, Roann Louw. Aletta Lindtvelt se stilering is ook nommerpas. Skoon en vars en sonder fiemies uit die tagtigs, terwyl dit outentiek bly. So vars dat mens half vergeet dat sommige bestanddele, soos geblikte sardyne, nie vars in die ware sin van die woord is nie. ’n Mooi boek. Ek dink NB het dalk ’n berekende risiko van hoë verkope geneem met die relatief lae koste van hierdie boek; die boek raak dalk net so tuis soos Huisgenoot se resepteboeke.

Om terug te keer na geblikte items en ander standaarditems in die koskas. Alle besige mense weet – ’n blik moet jy hê. Die resepte het bestanddele wat jy heel moontlik reeds in jou kas of vrieskas het; jy hoef dus net hier en daar by te koop. Dit is eintlik wat die mens op straat in hierdie boekgaan geniet. Dit voel bekend en nie te duur nie. Vleis, garnale, klappermelk ensomeer is dalk duur, maar baie van die bestanddele en disse is bekostigbaar.

En die soetgoed? Sal reseptename soos peer- en kaneelkoek, piesangbrood en dadelbrood jou nie sus nie, nie eers te praat van die smake nie? Die susters maak ook erg dekadente nageregte soos pannekoek met melktertvulsel en sjokoladesous (’n uitmuntende pannekoekresep, terloops) – ek bekommer my oor poeding wat nie ’n vars bessie in sig het nie. Die boek se resepte voel vir my egter effens meer gesofistikeerd en minder swaar op die cholesterolvlakke.

Die koesisters (nie koeksisters nie) is natuurlik dié met klapper, nie die gevlegte “boere"-soort nie. Minder stroopsoet en vol kalmerende speserye; eintlik verkies ek ’n koesister bo ’n koeksuster. Albei egter diep in ons kultuur. Soos die storietjie by die resep meedeel: ’n mens onthou daardie eerste kinderlike genot van die doop van warm deeg in stroop. Ek onthou self nog presies waar ek dit die eerste keer beleef het. Dit was in Owen Warrenstraat in Bethlehem in die Vrystaat aan die huis van die Smit-familie; ek was seker tien jaar oud. My maatjie daar se mammie het my daardie eerste blik op emmersvol stroop gegun wat in haar kombuis in ’n ry yskoud regstaan. Daardie beeld bly my by – en die smaak van die gedoopte gebak! Ek onthou dit soos gister! Sulke herinneringe maak ’n mens se kultuur.

Ek het my vereenselwig met hoe die susters van jongs af by ander mense kulinêre geheime afgeloer het, tog het ek met ’n skok besef dat ek self nog nooit roti's gemaak het nie! En ek het al talle geleenthede gehad om te kyk hoe dit gemaak word. Ek koop dikwels die heerlikste tuisgemaakte roti's by my vriendinne in die gemeenskap van Groenheuwel in die Paarl, maar het nog nooit self die "velle" gemaak nie. (’n Mens moet sulke woorde gebruik: velle. En ’n roti word afgebak in die pan.) Dit is immers moeite (oftewel, tydrowend) om die velle te maak en baie mense wat ek ken sal dit eerder by ’n antie in die straat koop om by hul eie pot kerrie te eet.

Kerrie het ek wel al baie gemaak. My geliefkoosde lamskerrieresep kom uit ’n boek wat in 1989 uitgegee is, met resepte wat deur die bekende Isabel Jones uitgekies is vir Women's World Cookbook, wat deur Chameleon Press in samewerking met die SAUK en Woolworths uitgegee is. Dit bevat allerlei resepte van regoor die land. ’n Mens lees omtrent nooit ’n Suid-Afrikaanse kosboek sonder om ’n kerriedis raak te loop nie, maar kom ek gesels oor die roti's. Om ’n roti te maak is nou maar ’n ding wat jou laat voel dat dit wel ’n "Women's World" is. Pannekoek sal mans nog bak, maar ek self het nog nooit ’n man sien roti maak nie. Om myself op te lei, het ek ’n vriendin uit Groenheuwel in die Paarl gevra om my touwys te maak. Haar resep is anders as die susters s’n, maar ek wou sien hoe iemand dit in my eie kombuis doen. Hoe hulle te werk gaan. Die temperatuur van die botter en die kamer help (’n matige wintersdag is perfek vir rotis maak, sodat die botter nie te loperig en nie te hard is nie). My vriendin Gwen het my gewys dat ’n mens nie hoef skaam te wees om die deeg goed te bewerk nie. Dis ’n hele proses. Slaan daardie slange maar, sodat die botter lekker houvas tussen die deeg kry.

Foto: Elsibe Loubser McGuffog

Toe het ek op my eie die Sydow-susters se resep probeer, saam met hul lamskerrieresep. Hoor hier! Die familie het omtrent weggelê aan daai roti's! Lekkerste familiedag ooit. Dit was 18 Julie 2019. Hoe wonderlik dat ek op Madiba se verjaarsdag my eerste roti's gemaak het! Ek moet net noem dat ek werklik nie die volle 150 gram botter in die resep kon gebruik nie. Ek was bietjie bang dit peul uit die deeg uit en my 100 gram was genoeg. Maar ek is seker dat iemand met vernuf die volle 150 gram sal kan gebruik. Dit sal ook ’n ryker roti lewer. Die roti's is heerlik saam met die susters se lamsvleiskerrie (bl 66), wat baie kerrie lewer. Ek het die helfte daarvan sommer met rys as ’n ete bedien. (Effens meer water bygevoeg sodat dit nie droog kook nie, omdat ons AGA-stoof baie warm raak.) Ek dink tog ’n kerrie met rys soek ’n bietjie tamatie, naeltjies en oreganum. (Dis nou uit my geliefde resep wat Isabel Jones uit die destydse Transvaal gekry het.) Die Sydow-susters se kerrie is egter ideaal vir roti's; dit is nie so ’n komplekse smaak nie; dit pas by die roti's, omdat die roti's vanself so geurig is. ’n Mens hoef nie te veel geure in die kerrie te hê nie. Ons het elke laaste druppel van die sous met nog roti's opgevee. Ek moet bieg dat ek altyd bietjie vars rissie byderhand hou om bo-oor te gooi. Die Italianers noem die rissie la droga dei poveri – die dwelm van ’n arm man. Dit kikker ’n ding op!

Ek het ook ’n ander baie lekker resep deur die susters probeer (nie in die boek nie): botterskorsie, wortelgroente- en kokosneutkerrie. Soos baie van hul groentekerries is dit salig lekker en vullend. Ek het dit bedien met die maalvleis- en ertjiebredie (bl 96) – ’n ekonomiese dis. Die verskillende kerries so saam is ’n heerlike smaaksensasie van subtiele kontras. Ek hou daarvan om allerhande potte kerries saam te eet, soos in ’n Indiese restaurant.

Ek was ook bly om te sien daar is so baie knoffel by die disse. Vergelyk dit met, byvoorbeeld, Wenresepte 2 (in 1984 uitgegee), wat wel baie kerriedisse bevat, maar knoffel was toe nog nie ’n ding in standaard Suid-Afrikaanse kultuur nie. Dis moeilik om te glo, nè? As kind het ek nie knoffel geken nie. Uie wel, maar nie knoffel nie. ’n Nasie moet soms wag vir knoffel.

Hier moet ek eers herhaal wat Peter Veldsman in sy boek Wat die Hart van Vol is van knoffel vertel. Hy skryf hoe Elizabeth David in 1950 haar eerste kookboek gepubliseer het. Dit was net na die oorlog en daar was nog streng rantsoenering. Verbeel jou: geblikte snoek uit Suid-Afrika is die belangrikste proteïen en gedroogde eierpoeier. "Tydskrifte gee selfs advies oor hoe om kraai gaar te maak." David wou haar nasie hoop gee. Sy was kwaad dat die regering hul mense so kon afskeep. Dit was eintlik die jaar waarin Britte, wat nooit bekend was as kosmense nie, in kos begin belangstel het. Veldsman sluit af: "Om haar aan te haal waar sy op háár beurt die woorde van die Franse sjef Marcel Boulestin herhaal: 'Dis geen oordrywing om te sê vrede en geluk begin, geografies gesproke, waar met knoffel gekook word nie'."

Ek dink ook dat vrede en geluk begin met ’n haalbare begroting. Al is duur kos heerlik, is varsheid, soos Veldsman en elke ander goeie kok sal sê, eintlik maar die belangrikste. Daar is talle van die susters se resepte wat jou finansies gelukkig sal hou. Ek dink nou aan smullekker en eenvoudige disse soos aartappelkerrie.

Ja, hierdie kookboek laat my tuis en ook ’n bietjie "niks gewoond” voel, maar ek is een van die dae gewoond – sodra ek al die resepte probeer het.

Ek moet nog hul lamsbrijani probeer. My hart behoort aan Reza Mahammad se chicken and prune biryani wat hy self gemaak het toe hy op 27 Mei 2007 (dit was so lekker, dis in my dagboek) by die KIKS in Kaapstad uit sy boek Rice, Spice and All Things Nice (Simon & Schuster, Britanje, 2006) kom kook het. Dit beklemtoon juis wat die Sydow-susters glo – Kaapse kos is eintlik ’n pot vol verskillende kulture.

Foto: Elsibe Loubser McGuffog

Die dag toe ek hierdie resensie klaarskryf, ry ek by ’n begraafplaas verby soos kar na kar met brandende ligte daar vertrek. My eerste gedagte? Ek wonder wie al die potte brijani moes maak. Want kyk, daar behoort te alle tye, in alle families en in alle nasies, die smaak van troos te wees. Al hou ek dalk nie met dieselfde dis begrafnis nie en al het ek nie in Manenberg grootgeword nie, het ek op talle plekke op my lewensreis ’n ervaring gehad wat met die reis van die susters s’n klop. Die boek het my skoon nostalgies laat voel. Ek moes onwillekeurig terugdink aan my besluit om na matriek met my sakgeld (wat ek by Suikerbossierestaurant in Houtbaai as kelnerin gemaak het) oorsee te gaan reis. Ek en ’n skoolvriendin. Ons begroting het my pa duidelik bekommer, want hy het "ter veiligheid" vir my ’n kredietkaart saamgegee. Ek was egter vasberade om dit nie te gebruik nie, uit respek. So het ek en ’n vriendin op ons reise deur Europa ook dikwels vir middagete droë korsies brood met suiker geëet. Kaas en botter op brood was net gans te duur. Ek weet dus dit is waar wat Fatima Sydow vertel. As ’n mens gelukkig is, smaak so ’n middagete heel goed. En dit kweek ook ’n respek vir goeie kos, ’n hunkering na goeie kos, ’n behoefte om dit vir ander mense te bied. Ek en my vriendin wat saam gereis het, het op ’n dag die heuwels buite Zermatt in Switserland uitgeklim – en al waaroor ons gepraat het, op- en afdraend, was die driegangmaal wat ons graag vir ons families sou wou maak wanneer ons weer by ouerhuis in Suid-Afrika aankom. Ai, so ’n lekker herinnering. Dankie daarvoor, Sydow-susters.

Ek gee hierdie boek ’n 9 uit 10. Ek het foto's van familie gemis, omdat ek nuuskierig is en omdat die boek aan hul ouers opgedra is, maar ek weet die susters het besluit om hul familie uit die kollig te hou.

My raad is: koop een. Pos dan ’n tweede boek aan jou famile- en vriende in Kanada of waar ook al, sodat jy self aan hul tafel lekker warm kan eet wanneer jy eendag daar gaan kuier. Daar is selfs ’n Engelse uitgawe indien jou mense in die verte Afrikaans so ’n bietjie verleer het.

The post <em>Kaap, kerrie en koesisters</em> deur Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die groot koelte deur Leon de Villiers: ’n lesersindruk

$
0
0

Titel: Die groot koelte
Skrywer: Leon de Villiers

Illustreerder: David Griesel
Uitgewer: LAPA
ISBN: 978-0-7993-8925-8. 

Die groot koelte (2019) is voorwaar ʼn leesplesier en avontuur. Felix en sy leeumaat, Leo, het alleen agtergebly in Afrika nadat al die mense weggetrek het na Antarktika. Klimaatsverandering het die landskap radikaal verander en ʼn besonderse verhaal ontvou aan die punt van Afrika. Met ʼn eerste lees is dit ʼn lekker avontuurlustige boek, maar met die tweede lees kom daar verskeie belangrike aspekte en interessante verwysings na vore. Dit is net die tipe teks wat mens van Leon de Villiers kan verwag, met sy ervaring in die skryf van kinder- en jeugliteratuur.

De Villiers het al verskeie pryse ontvang en het gedebuteer met Aliens en engele (1996), ʼn verhaal oor ʼn seun wie se ouers skei en nuwe verhoudings aanknoop en hy nie noodwendig sy ouers se onderskeie romantiese keuses goedkeur nie. Die pro (1997) ontvang die Sanlam-debuutprys (1997), wat handel oor ʼn tienerseun wat sy beste vriend aan die dood afstaan weens ʼn branderplankongeluk. Daarbenewens ontvang hy die Scheepers-prys vir Jeugliteratuur (1998) en die MER-prys in 1998. Hy ontvang ook die CP Hoogenhout-prys in 2005 en die Alba Bouwer-prys in 2003 vir Droomoog Diepgrawer.

Leon de Villiers is bekend vir sy eerlike hantering van aktuele kwessies, tog is dit sensitief genoeg om nie aanstoot te gee nie. Sy boeke maak dit vir jong lesers moontlik om te verstaan waardeur ander tieners gaan en om ʼn kapasiteit vir empatie te ontwikkel. Hy skryf op so ʼn wyse dat die leser aanvanklik dink hy gaan saam met die hoofkarakter (in hierdie geval Felix) op ʼn avontuur, maar die leser kry baie meer as wat aanvanklik verwag word. Jy word deur ʼn ander se leefwêreld gelei en langs die pad, sou jy ʼn meer volwasse leser wees, ontdek jy ʼn dieper betekenis in die teks. 

In Die groot koelte (2019) word ons vertel van die nagevolge van klimaatsverandering. Die koeldrankadvertensiebord waarteen Felix klippies staan en skiet met sy kettie, maak ons met die eerste oogopslag bewus hiervan. Dit is ʼn Coca-Cola-bord, wat simbolies is van die korporatiewe reuse wat groot bydraers is tot die afval wat jaarliks deur verbruikers geproduseer word. Die seevlak het drasties gestyg en slegs die hoogste punte van geboue is sigbaar vanaf Felix se strand. Die ander nagevolge wat op die voorgrond gestel word, is dat daar geen bome meer is nie, dat daar ʼn droogte heers oor die landskap en dat die reën wegbly. Al die diere maak verskeie opmerkings daaroor. Die verhaal begin met die aankoms van ʼn groep ysbere wat uiteraard skreeu teen die hitte van Afrika.

Hierdie teks kan beskou word as ʼn eerste vir kinder- of jeugboeke wat die onderwerp van klimaatsverandering en aardverwarming nie aanpak as ʼn traumatiese of apokaliptiese gebeurtenis nie. Dit word so verweef met die storie dat dit enige leser van die teks behoort te pla, maar nie die aandag van die storie sal weglei nie.

Felix kom uiteindelik tot die redding van al die diere en die ysbere deur middel van ʼn droom waarin hy met sy ma praat oor hoekom hy alleen agtergebly het toe almal na Antarktika getrek het en dat hy dink sy pa hom agtergelaat het. Dit is ook in die droomgrot waar Felix helderheid kry oor waarom Leo nooit daar is as hy hom nodig het nie, en hoekom niemand behalwe Felix hom kan sien en met hom praat nie. Daar word aan hom vertel van die groot koelte en dat hy die uitverkorene is wat die groot koelte moet bring.

Die ysbere is natuurlik ook belangrike karakters in hierdie verhaal. Elke ysbeer het ʼn beskrywende naam. Veral Diepte en Ysbreker se name versteek baie meer as net bloot hul name. Dit is presies hier waar De Villiers se verhaal lesers aan Maurice Sendak se klassieke kinderboek Where the wild things are (1963) sou kon herinner. Spike Jonze se gelyknamige film van 2009 het veral die psigoanalitiese aspekte van Sendak se kinderboek ontgin en uitgebrei, waar Max se reis na waar die wilde dinge woon, as ʼn reis na sy binnelewe (die binne-leeu) en onbewuste gelees kan word. Die simboliese rol van die see in Where the wild things are (1963) kan direk met die onbewuste verbind word. Op soortgelyke wyse kom die “Witduiwels” oftewel ysbere oor die see, en Felix se lewe is ook regdeur die verhaal verbind met die see en wat of wie die see mag bring. 

Felix en Max mag moontlik dieselfde ouderdom wees en soortgelyke omstandighede beleef, alhoewel Felix nie moet reis na sy onbewuste nie, maar die daad van sy vader wat hom “verloor” het en nie goedsmoeds agtergelaat het nie, kan moontlik die oomblik van katarsis wees wat die oorslaan na die onderbewuste aankondig.

Daar is ook sterk parallelle tussen die karakters van Where the wild things are (1963) en Die groot koelte (2019). Dit is moontlik om te beweer dat Die groot koelte ʼn inspeling op Sendak se Where the wild things are is. Die tema van klimaatsverandering is ʼn kontemporêre aktuele onderwerp, maar word in die werklikheid van die verhaal ingeweef.

Die karakter van Diepte klink baie soos Carol wat in Where the wild things are gelees kan word as die binnebeeld van Max. Net so kan Diepte as die binnebeeld van Felix gelees word. Leo is natuurlik ook ʼn “binne-leeu”, wat tot ʼn mate ʼn verteenwoordiger van die Freudiaanse “superego” is omdat hy altyd sy opwagting maak wanneer morele sake opduik en besluite geneem moet word.                            

Sekere aspekte van Diepte het my aan Alexander in Sendak se verhaal herinner, veral in die filmweergawe. Alexander is die een wat werklik kan sien dat Max met sy eie drange, woede en probleme worstel. Max worstel eintlik met die proses van grootword. Felix gaan moontlik deur dieselfde proses, presies om die gebeure te verwerk wat afgespeel het voor die verhaal aan die leser bekendgestel word, naamlik dat Felix oortuig is sy pa het hom in Afrika vergeet of agtergelaat, alhoewel ons teen die einde van die verhaal verneem dat Felix se pa hom verloor het en aanhoudend na hom gesoek het.

Ysbreker kan tot ʼn mate beskou word as die gedeelte van die onbewuste wat reageer op die vreemde uit vrees, die primitiewe id volgens Freud. Dade van geweld en aggressie spruit gewoonlik uit ʼn ervaring of persepsie van gevaar en vrees vir die onbekende. Beide die karakters KW en Carol in Where the wild things are toon soortgelyke gedrag, veral wanneer Carol uitvind Max is nie regtig ʼn koning nie en dat hy oor vele dinge gelieg het. Felix het natuurlik ook gelieg oor waar die ys is.

Dit is moontlik om die karakters as spieëlbeelde of alter ego’s van mekaar te interpreteer. Dit voeg ʼn verdere psigoanalitiese laag by in ʼn vergelyking tussen Die groot koelte (2019), asook in Where the wild things are (1963). Felix en Ysbreker teenoor Max en Carol kan as mekaar se alter ego’s gelees word, omdat daar verskeie ooreenkomste in hul gedrag is, asook die verandering wat hulle in mekaar teweeg bring soos wat die onderskeie verhale ontwikkel.

Soos met enige metaforiese reis na die onbewuste ontstaan daar altyd die vraag of dit wat jy so pas gelees het, die werklikheid, waarheid was of slegs ʼn versinde of skynwaarheid is. Wat kinder- en jeugliteratuur so wonderlik maak, is dat die lesers daarvan nie omgee oor sulke vrae nie. Hulle koop juis in op daardie problematiek en speel lustig saam met daardie spanning, oftewel “suspension of disbelief”. Ek het dit ook terdeë geniet om saam met Felix sy reis mee te maak.

Dit is ʼn wonderlike boek vir jong lesers tussen die ouderdomme van agt en dertien jaar, maar dis slegs ʼn aanbeveling. Leon de Villiers oortref beslis enige verwagtinge ten opsigte van diepte en genot. Enige kind wat hou van ongewone avonture, waar diere kan praat en enigiets moontlik is, sal hierdie boek beslis geniet.

The post <em>Die groot koelte</em> deur Leon de Villiers: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

McGregor-gedigtefees: 23–25 Augustus 2019

$
0
0

Die McGregor Gedigtefees vind vanaf 23 tot 25 Augustus 2019 plaas . Vanjaar se tema is "Die hart van die Maan". 

Die McGregor Gedigtefees is hierdie jaar reeds sewe jaar oud. Dit is een van die gewildste literêre feeste in Afrika. McGregor se natuurskoonheid en gesellige atmosfeer verleen ’n unieke gevoel vir ’n intieme fees-ervaring en vanjaar sal ongeveer 150 digters hul woordkuns in hierdie lieflike dorpie kom deel.

Die tema vanjaar is "Die hart van die Maan". Feesdirekteur Jennifer Johnson verduidelik: “In die vormingsjare van die fees het ons gewerk met Son-energie: die direkte fokus om visie in werklikheid te omskep. Noudat die Gedigtefees op soveel vlakke gerealiseer het, kan ons ook tyd maak om ’n bietjie meer te droom en ook dieper te kyk. Die Maan as tema het daarom vir ons gepas gevoel.”

Die McGregor Gedigtefees gee dié wat bywoon die kans om na `n groot verskeidenheid digters se werke te luister, en ook mekaar se geselskap in’n gesellige atmosfeer te geniet. Daar sal ook oop mikrofoon- sessies wees en almal is welkom om ook hul poësie op hierdie spontane platforms voor te lees.

Vanjaar se program bied van ons land se mees bekende digters, sowel as nuwe jong dig-stemme aan. Kyk uit vir aanbiedinge deur: Joan Hambidge, Michelé Betty, Sally Ann Murray, Brian Walter, Malcolm Gooding, Quinne Brown, Douglas Reid Skinner, Christopher Culpo, John Maytham, Luna Paige, Willem Fransman Jr, Zane Dangor, Makhanda Senzagakhona, Kobus Moolman, Phillipa Namutebi, Toast Coetzer, Erns Grundling, Dan Wylie, Pieter Odendaal, Dominique Botha, Peter Fox, Thandi Sliepen, Lerato Sibanda, Hugh Hodge, Julia Kramer, Patricia Schonstein, Dorian Haarhoff, Marguerite Van der Merwe, Diana Ferrus, Andries Walter Olifant en vele meer. Die volle program is te sien by www.poetryinmcgregor.co.za.

Die stigter van die McGregor Gedigtefees, Billy Kennedy sê: "Poësie was nog altyd vir my baie waardevol. My Engelse juffrou op skool was baie passievol oor die geskrewe woord en van daardie tyd tot vandag toe as direkteur van Temenos, loop poësie soos `n goue draad deur my lewe. Dit kan ons nader bring aan oomblikke van ongeëwenaarde skoonheid en lei tot 'n buitengewone bewustheid wat verband hou met 'n magdom van dinge.”

Die McGregor Gedigtefees word aangebied deur The MAC Project. Die organiseerders wil graag die volgende 2019 borge bedank vir hulle aandeel aan vanjaar se fees: ClemenGold Gin, Zandvliet Wynlandgoed, Graham Beck, Hiemstra Trust en Leila Witkin.

Abraham van Rooyen, uitvoerende hoof van ANB Investments (ClemenGold Gin and Zandvliet Wine Estate), sê dat hulle graag die McGregor Gedigtefees ondersteun: "’n Nasie is so ryk soos sy kreatiewe uitsette. Die kunste, in al sy vorme, verskuif grense, verbreek horisonne, inspireer en bring skoonheid en vreugde vir die skeppers daarvan en die ontvangers. Ons maatskappye is bekend as ’n beskermheer vir die kunste en die McGregor Gedigtefees is een van die waardige inisiatiewe waaraan ons graag ons naam koppel.”

The MAC Project (The McGregor Arts and Community Project) is ’n nie- winsgewende maatskappy. Alle profyt word aangewend in kreatiewe gemeenskapsprojekte in die McGregor area.

Gedigteskryf Kompetisie 2019: Die wenners van vanjaar se gedigteskryf-kompetisie word op Vrydag 23 Augustus by die opening van die fees in die boeketent aangekondig.

Meer inligting beskikbaar by: info@poetryinmcgregor.co.za
Akkommodasie: https://poetryinmcgregor.co.za/2019-where-to-stay-and-eat/
Program: www.poetryinmcgregor.co.za

Kaartjies beskikbaar by Computicket.

The post McGregor-gedigtefees: 23–25 Augustus 2019 appeared first on LitNet.


Brexit: Toekoms onduidelik

$
0
0

Gaan Brexit plaasvind of nie – of gaan die Verenigde Koninkryk (VK) die Europese Unie (EU) met of sonder ʼn ooreenkoms op 31 Oktober verlaat?

Dit is ʼn geldige vraag (of vrae?) nadat die Konserwatiewe Party (Tories) van Boris Johnson, die nuwe premier van Brittanje, deur die Liberale Demokratiese Party (Lib-Dems) in ʼn tussenverkiesing verslaan is.

Dit beteken dat Johnson ʼn massiewe terugslag beleef het slegs ʼn week nadat hy by Theresa May oorgeneem het as premier omdat sy Tories met ʼn meerderheid van net een setel in die Britse parlement regeer.

Die Tories het as regerende party nie ʼn meerderheid nie en regeer gevolglik met die hulp van sy regeringsvennote van Noord-Ierland, die Demokratiese Unionisteparty (DUP).

Die party het hul meerderheid verloor nadat May haar misgis het in 2017 deur ʼn blitsverkiesing uit te roep om ʼn groter meerderheid te kry sodat sy in ʼn beter posisie kon wees om met die EU te onderhandel.

Hul vennootskap met die DUP kan ook problematies vir Johnson word omdat dié party tot op hede ʼn onbetroubare vennoot is. Hulle het May se ooreenkoms met die EU reeds drie keer verwerp.

Die uitslag van dié tussenverkiesing versterk die posisie van die Lib-Dems se duidelike posisie en boodskap dat hulle teen Brexit gekant is. Dié party stel dit duidelik dat die VK beter af is binne die gemeenskap van die EU, bestaande uit 28 lidlande, dat globalisering ʼn gegewe is en dat die VK sterker is binne die EU as buite.

Die kiesafdeling Brecon en Radnorshire in Wallis het tydens die 2016-EU-referendum oorweldigend gestem dat die VK die EU moet verlaat. Hul skielike ommeswaai ten gunste van die Lib-Dems se boodskap teen Brexit moet gesien word as dat dié party se anti-Brexit-boodskap by meniges begin resoneer.

Dit terwyl die twee hoofpartye in die parlement – die Tories en Arbeidersparty van Jeremy Corbyn – gemengde boodskappe na buite uitstuur. Dit verwar die kiesers omdat hulle nie meer seker is watter party se boodskap hulle moet glo nie.

Die dinamiek van die Britse politiek het beide die Tories en die Arbeiders as ‘t ware in die middel – in regs en links – geskeur.

Die Arbeiders se regtervleuel en die Tory-linkervleuel tesame met die Lib-Dems sou, as hulle saamstaan, Brexit kon stopsit, maar die Tory-regtervleuel onder leiding van Johnson en die Arbeider-linkervleuel met Corbyn as hoof sou liewer Brexit wou laat geskied. In Johnson se geval sonder ʼn ooreenkoms en in Corbyn se geval is dit ʼn geval van verwarring.

Histories gesproke is Corbyn teen die hele ding van ʼn Europese gemeenskap gekant, maar hy het glo onlangs bollemakiesie geslaan deur aan te kondig dat die Arbeiders in die parlement teen Brexit sonder ʼn ooreenkoms gaan stem.

Die Arbeiders is glo gekant teen ʼn geen-ooreenkoms-Brexit wat – soos die Bank van Engeland verlede week gewaarsku het – Brittanje ernstige ekonomiese skade kan berokken deur handelstariewe die hoogte in te laat skiet. Duisende werke en werksgeleenthede kan in dié proses gekelder word.

Sekere opposisieparlementslede en die media is glo skepties oor Corbyn se skielike ommeswaai dat hy en die Arbeiders Brexit met ʼn ooreenkoms gaan ondersteun omdat die linkse Arbeider-leierskap gedurig verwarrende boodskappe oor Brexit uitstuur.

Dié verwarring het ʼn gaping gelaat vir die verregse Nigel Farage, voormalige leier van Ukip, wat onlangs nog ʼn verregse party, die Brexit Party (BP) gestig het.

In die afgelope verkiesings vir die Europese parlement (EP) het die BP die Tories en Arbeiders geloop deur meer setels in die EP te wen omdat dit ten gunste is van ‘n geen-ooreenkoms-Brexit is.

Die afsienbare toekoms blyk onduidelik te wees omdat Johnson daarop aandring dat Brittanje die EU sonder ʼn ooreenkoms op 31 Oktober sal verlaat. Sy dreigemente volg omdat die EU by monde van Donald Task, president van die Europese Raad (regeringsleiers), en Michael Barnier, hoofonderhandelaar, gesê het hulle is nie bereid om May se ooreenkoms te heronderhandel nie.

Gevolglik het Johnson sy minister van finansies, Sajid Javid, opdrag gegee om sowat R36 000 miljard te begroot in geval van ʼn geen-ooreenkoms-Brexit.

Die slagordes is nou opgestel teen Johnson, want die Lib-Dems, die Tory-linkervleuel, die Arbeider-regtervleuel, die DUP en die meerderheid van die 650 parlementslede in die Britse Laerhuis kan moontlik saamstaan teen ʼn geen-ooreenkoms-Brexit.

Boonop is Brittanje ʼn parlementêre demokrasie en daarom moet die parlement die laaste sê hê. Omdat die parlement May se ooreenkoms met die EU al drie keer verwerp het, is dit onwaarskynlik dat dit nie ʼn geen-ooreenkoms-Brexit sal goedkeur nie. ? [Sê JL hier wat hy bedoel om te sê? Bots dit nie dalk met die laaste sin in die volgende para nie? Ek ken die VK-politiek eenvoudig nie goed genoeg om te kan oordeel nie.]

Die Britse parlement is tans in reses vir die Europese somervakansie. Dit hervat sy werksaamhede vroeg in September. Die moontlikheid dat die opposisie onder leiding van die Arbeiders ʼn mosie van wantroue in Johnson se regering kan stel, is groot. As ʼn geen-ooreenkoms-Brexit op die tafel is, is die moontlikheid groot dat ʼn wantroue-mosie sal slaag.

In so geval sal die land in ʼn grondwetlike krisis gedompel word. Van die opsies sou wees om weer ʼn referendum soos in 2016 te hou. ʼn Ander opsie sou wees om ʼn algemene verkiesing uit te roep, maar dit sal nie Brexit oplos nie. Dit beteken net dat ʼn nuwe regering gekies sal word wat weer met ʼn kopseer soos Brexit sal moet handel.

Gaan Brexit dus plaasvind of nie – gaan die VK die EU met of sonder ʼn ooreenkoms op 31 Oktober verlaat?

The post Brexit: Toekoms onduidelik appeared first on LitNet.

Video: Vrouedag 2019-gesprek met Diana Ferrus, Ntebaleng Morake en Bernedette Muthien by die Iziko Slave Lodge

$
0
0

Watter struikelblokke ervaar die verskeie generasies van Suid-Afrikaanse vroue? Wat was die rol van jong vroue in die Fallist-beweging?

Op Vrydag 9 Augustus 2019 het verskillende vroue by die Iziko Slave Lodge byeengekom om Vrouedag te vier en die bogenoemde vrae te bespreek.

Op 9 Augustus word die jaarlikse Internasionale Dag van die Wêreld se Inheemse Mense ook gevier.

Een van die sprekers, die digter Diana Ferrus, het die inheemse vroulike ikoon Saartjie Baartman geëer.

Die ander sprekers by die geleentheid was die politieke wetenskaplike en openbare beleidsontleder Ntebaleng Morake en Bernedette Muthien, deeltydse kommissaris van die grondwetlike kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele-, godsdienstige- en taalgemeenskappe in Suid-Afrika.

Cliffordene Norton het die geleentheid bygewoon en foto’s geneem.

Bongani Ndhlovu, uitvoerende direkteur van kernfunksies by Iziko verwelkom die gaste.

Wandile Kasibe, Iziko Museums se koördineerder van publieke programme, was die gasheer

Bernedette Muthien

Diana Ferrus dra haar gedig A poem for Sarah Baartman voor.

Ntebaleng Morake

Skrywer en vervaardiger Deidré Jantjies in die gehoor.

 

Lees ook 

Vrouedag 2019: Waarom al die protes?

Vrouedag 2019: Om tee te drink op Vrouedag is nie genoeg nie

The post Video: Vrouedag 2019-gesprek met Diana Ferrus, Ntebaleng Morake en Bernedette Muthien by die Iziko Slave Lodge appeared first on LitNet.

Afrikaans, die lingua franca van die Suide

$
0
0

Op pad Namibië toe stan ôs by die bustop soes ôs wag vi die Mainliner om op te trek. Ek stap toe weg van die groep mense af, wat oek wag om die bus te klim, om te gan roek. My geliefde praat toe met ʼn man wat langs haa staan. Ek hoo soes sy lag en saam met die man in Engels praat, die man, ʼn Namibiër soes ek later uitgevind het, praat trug, maa hy antwoort haa in Afrikaans. Soes ek daa staan dink ek toe, maa die taal, Afrikaans, met al haa plooie en ouderdomsvlekke is mos die lingua franca van die Suide. Ek dink toe an die pad wat sy moes gestap het om soe vêr Noord in die land of the brave te gan stof skop het.  Ek dink vêde an hoe die EFF se Josephine Mokwele laas maand in ʼn parlement sitting vetel het hoe dit haa demokratiese se reg is om Afrikaans nie te respekteerie.

Eish! Ek wietie hoe lies sy haa Konstitusie nie, wan om iemand anners se reg te vedruk is mossie deel van ôs Konstitusie nie. Om soe nee te praat op ʼn taal wat dit moonlik gemaakit vi ʼn hele twie lande se mense om saam mekaa te praat en mekaa te kan vestaan bedoel siekelik iets? Ek vestaan dat dit belangrik is vi elke mens in die land en oek elders om die liewe in hulle huistaal te kan liewe, maa wanne djy beginte trap en toyi-toyi op an mense se regte? Dan is dit mos my demokratiese reg om jou te vetel van jou ... Ek mien was dit rêrig nodig gewies vi haa om te lat wiet hoe sy nie vi Afrikaans respekteerie? Dit was die huis se skuld lat sy nie die translations in haa ore gekry hettie.

Ôs wiet hoe die "Apartheiders" vi Afrikaans gebruik het om die land te regeer op hulle manier, en om die pragtige taal met al haa plooie en ouderdomsvlekke soe deurie modder te trek. Ja, ôs wiet dit, maa die mense wat soe tien Afrikaans, die taal wat my voomense, moes liggie ommat hulle taal uitgeroei was staan, moet nou darm hulle sitplekke beginte inniem. Wan as daa moet rêrig gepraat wôt van disrespect, dan is dit wat gebee met Afrikaans.

Ek wil oek sê dat my eie vehouding met die veliede en Afrikaans is nog somme lekke rou, wan hoe maak djy sin van wat Kaaps is met haa reënboegbaadjie, en hoe "suiwer, skoon en die reine Afrikaans" dan nou is. Ek dwaal gou ʼn bietjie.  Maa is Afrikaans toggie deel van Kaapsie? Wan volgens my, as julle mooi chêk het die hoener voo’rie eier gekô. Maa daa is nog vi my ʼn klomp dink wêk wat moet ingan op dit. Ek mien maa, think about it. As julle dink hoe Kaaps begin het, en hoe dit gedwaal het deu die Suide, soes die onnergrondse rivier-aare. *Griekwa-kaans, en *Suiwer’kaans of *Hollan’kaans is ammal een taal wat uit die Kaap onstaan het, hence, Kaaps. Van dag een af toe daai slawe besluit het om daai taal te tjune lat hulle kan praat onne’mekaa, wat hulle tale het veskil, was dit wat Kaaps was. Dit was en is nog steeds ʼn taal wat mense oral gebruik om mekaa te vestaan. Kaaps was nog nooit ʼn wit-mans taalie, of ʼn Europeër se taalie, dis ʼn taal wat gesaai, geplant en gegroei was in die Suide van Afrika. Maa hoe rem djy an iemand se taal? Hoe môs djy met die kern van wat mense vestaan? Hoe hernoem djy ʼn taal? Soes ek sê, die’s maa net goed wat ek dink, en oo die hele storie is daa nog somme baie dink wêk wat moet plaasvind. En tog reg om te dink an die vehouding wat Kaaps met Afrikaans het, en die geskiedenis wat gedeel wôt, of die geskiedenis wat nie gevetel wôttie.

Maa, anyways, ôs sal daa uitkô. Een ding wat ek rêrig voel though is dat ek rêrig moeg is om te hoo hoe Afrikaans, van links tot regs sleg gesê wôt deurie rooibaadjies en annes wat voel die taal is net Apartheid. As mense die regte geskiedenis oo Afrikaans kan gelee wôt en nie net die storie van *Suiwerkaansie, dan miskien sal ʼn mense iewers kan beweeg. Die lingua franca gan tog nog nooit dootie, maak nou nie saak wat mense doen en hoe hulle skellie. Afrikaans is ʼn taal wat sal bly loep in generasies wat nog gan kô, en die taal issie wittie, nevemind wat mense gloe!

Skrik wakke, die Khoi-goed se roek trek!

Kô praat saam, en dankie vi julle onnersteuning.

The post Afrikaans, die lingua franca van die Suide appeared first on LitNet.

Blinded by the light captures the power of music, but not the power of film

$
0
0

1987. When music fanatic Javed discovers the illustrious back catalogue of The Boss, his world is turned upside down; already a creative soul, he finds his passion for music and writing set alight by the songs of the working-class poet, whose lyrics feel all too familiar to the aspirational teenager. Yearning to escape his run-down hometown and the rules of his traditional Pakistani household, Javed finds himself caught in between two worlds and must discover if he, too, is “born to run” ...

It is a dazzling concept, using Bruce Springsteen’s working-class Americana lyrics and music as a backdrop to life in Britain in 1987 for a working-class Pakistani family. Bruce’s jaw-dropping body of work, one that he has spent a lifetime writing, rewriting, editing, recording, performing on tour and managing with an iron fist, carries enough gravitas to propel any movie forward. Javed’s story is also an interesting and relevant one to tell – life as an immigrant, as a person of colour and as a son needing to break free from an oppressive father. Unfortunately, a brilliant concept remains only a concept unless you give it gravitas by putting in the work. Blinded by the light feels like a passion project, an indie film that is faring far better than expected. More about that later.

There are moments of utter beauty and heartache that left this reviewer winded or in tears. En route to Javed’s sister’s wedding, his family is confronted by right-wing fanatics who block the road. The police only manage the protest, instead of stopping it and letting the family pass. Javed’s father is beaten up. All of this happens with a Margaret Thatcher “Uniting Britain” billboard in the background and Springsteen’s “Jungleland” as the soundtrack. “In the tunnels uptown, the Rat’s own dream guns him down/ As shots echo down them hallways in the night/ No one watches when the ambulance pulls away.

In what can only be called a breathtaking sequence, director Gurinder Chadha (Bend it like Beckham) manages to capture perfectly the transformative power of music and the landslide of emotion it unleashes. Javed walks into a storm, his trusted Walkman clipped onto his belt. He is listening to Bruce for the first time. He is framed by the floating lyrics surrounding him, by a projection of imagery on the wall behind him and by the storm raging ahead. Of course, all this is set to Springsteen’s “Promised land”. “I’ve done my best to live the right way/ I get up every morning and go to work each day/ But your eyes go blind and your blood runs cold/ Sometimes I feel so weak I just want to explode/ Explode and tear this whole town apart/ Take a knife and cut this pain from my heart/ Find somebody itching for something to start.

Chadha further explores themes of patriarchy, and does so without demonising Javed’s father (or his policy of keeping your head down and working hard). When he loses his factory job after 16 years and can no longer provide for his family, a very proud man is at a complete loss. Even though he is controlling and the only one in the family allowed an opinion, he still means well. One could argue he, too, is a victim of the system.

Alas, the film feels flat and too long. At least half an hour should have ended up on the cutting floor. It’s not that there are unnecessary scenes. The scenes themselves merely drag on for way too long. Close to the end, I had to stop myself from saying out loud, “Cut!”

The cinematography is rather average, and so is the grading and the styling. (It’s 2019. There are good wigs around.) Does it matter? Absolutely, yes. Far shallower films (I am looking at you, Crazy rich Asians) benefited from incredible production values – perfect styling, beautiful shots and perfectly balanced colour. Gurinder Chadha should have put in more effort. She has, after all, been making films since 1995.

Blinded by the light, even though infused with heart and soul and a lovely sincerity, would have benefited from a tighter edit and much higher production values. Bruce Springsteen, known for keeping an album back for three years because he was not happy with a small detail, would have kept this film back for much longer.

The post <em>Blinded by the light</em> captures the power of music, but not the power of film appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: Ek hou van Helen Martins

$
0
0

Ek hou van Helen Martins
omdat sy my aan jou herinner
omdat jy my van haar vertel het
in Art History 101
en jou present vir my twenty-first
was ’n sementuil met blou glasoë
en jy het ’n gedig vir haar geskryf
          "… dis snaaks dat mense
          nou eers jou stil alleen
          lewe ontdek het"
en ek was daardie dag baie lief vir jou.

Ek hou van Helen Martins
omdat sy anders was        soos jy
van glas gehou het en van
meerminne en omdat die kamele
na Mekka staangemaak is
en omdat jou tuin in Bloemfontein
ook so vol goed was
wat jou hande gemaak het.

Ek hou van Helen Martins
omdat sy ’n kamer het met      groen
glasbesmeerde mure, heldergroen soos jou Fiat
waarmee jy vir my kom kuier het
een vakansie en toe gaan staan het
langs ’n verlate mielieland
en ons het gelag en wyn
gedrink en gefilosofeer
oor Helen en haar uile en ons was saam
bang vir die donker nag.

Ek hou van Helen Martins
omdat sy my aan jou laat dink
toe jy nog geleef het.

The post Vrouedag-skryfkompetisie: Ek hou van Helen Martins appeared first on LitNet.

Viewing all 21994 articles
Browse latest View live