Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21544 articles
Browse latest View live

"'n Gladde klippie in 'n suiwer stroom": Corlia Fourie se digdebuut

$
0
0

Die goeie vrou en ander mites
Corlia Fourie
ISBN: 9781485309710
Protea Boekhuis

In September 2018 verskyn Corlia Fourie se bundel Die goeie vrou en ander mites – die digdebuut van 'n skrywer wat reeds meer as 20 kinderboeke, dramas, romans en kortverhale gepubliseer het. Dit is bykans onafwendbaar dat 'n bekende en bekroonde skrywer se eerste digbundel gelees word teen die doek van verwagtinge wat reeds deur haar oeuvre en haar reputasie as skrywer en joernalis onder lesers gevestig is. Met Die goeie vrou het Fourie nou in al die tradisionele genres gepubliseer en die titel van die bundel val in die tematiese patroon van ander titels waarvoor sy bekend is en waarin vroue sentraal staan: Moeders en dogters, Die meisie wat soos 'n bottervoël sing en ook die versamelbundel onder haar leiding, Vrou: mens.

Die titel van die digbundel word bewustelik beklemtoon deurdat dit ook die titel van die eerste afdeling is en dat die titelgedig nie net die eerste gedig in die bundel is nie, maar ook op die agterste skutblad gedruk is.

Hierdie vooropstelling van "die goeie vrou" en dat sy ʼn mite is, deel van die "ander mites" wat die titel in die vooruitsig stel, werk beslis bepaalde leesverwagtings in die hand. Soos byvoorbeeld dat die ontmaskering van mites, en spesifiek waar dit vroue aangaan, botoon in die bundel gaan voer. In die eerste strofe van die titelgedig word dan ook gesuggereer dat "Die goeie vrou" (p 7) nie waardeer is nie. Dit bring mee dat sy in die laaste deel van die gedig ophou om nie haarself eerste te stel nie, en optree: "Toe ... het sy haar moed / opgeneem, / die agterdeur oopgegooi, / die onweer / tegemoet geloop". Maar 'n leesverwagting wat (op grond van die titel en die titelgedig) daarop reken dat die bundel die klem daarop gaan laat val om mites omtrent vroue aan die kaak te stel, word deur die loop van die bundel enigsins teleurgestel. Vroue en hul lewens en belewinge is inderdaad die belangrikste tematiese gegewe in die boek. Dit is egter opvallend dat in die eerste afdeling se gedigte oor merkwaardige vroue en hulle tragiese of triomfantelike lewens, die minimum inligting gegee word oor hierdie vroue of oor mites, of selfs stereotipes rondom (hierdie) vroue. Die gedigte gaan meestal oor tipiese sake of kenmerke van die spesifieke vrou waaroor die gedig handel en waarmee die leser reeds vertroud is. Wie "mites" wat met betrekking tot vroue in stand gehou het wil eien en ontmasker, moet self en interpreterend hierna op soek gaan.

Kan dit wees dat dit die keuse van genre is wat Fourie in hierdie bundel terughou? Die tema is dit nie. Die manier waarop die temas en stof in en deur die poësie ontgin en aangebied word, dalk wel. Of skryf sy bewustelik verse wat hoofsaaklik fokus op mededeling – en dikwels bykans nie-emosioneel? Dit is hoe die uitgewer die bundel aanbied, naamlik dat dit "verse met ʼn anekdotiese inslag" (Anon, 2018) is. Die indruk wat die gedigte laat, kan inderdaad ondervang word deur ʼn eerste beskrywing van die anekdote, naamlik dat dit "kort ... interessante vertelling(s)" is "gewoonlik om 'n bekende historiese figuur ... geweef" word (Le Roux, 2017). As die anekdotiese as uitgangspunt geneem is, kon die bundel myns insiens daarby gebaat het. Ook die uitgewer se aanspraak dat die bundel oorwegend "satiriese verse" (Anon, 2018) bevat, stel enigsins teleur. Waar ter sake word die satiriese in hierdie gedigte myns insiens onderspeel – satire met die byt van ʼn Toerien of ʼn Walters is dit nie. 

So word daar in die gedig "As dit nag word” (p10) inligting oor die manier van selfdood van twee Amerikaanse vroueskrywers en twee Afrikaanse vrouedigters gegee – met die eerste vier strofes wat inligting op 'n feitlik opsommende manier gee, en selfs 'n soort afstandelike indruk laat sodat die gedig soos ʼn berig lees. Die blik van ʼn verslaggewer? Die agternaperspektief van ʼn optekenaar wat by die geskiedenis hou?

Vir Virginia Woolf
met ʼn kamer van haar eie
was skryf
soos om ʼn vreedsame swaan
in ʼn stil stroom te volg.
Met haar jassak vol klippe
het sy haar waterdood
tegemoet gestap.               

...

Ingrid Jonker
se lyk is in wier en gras
uitgespoel nog voor sy
een winternag
die see in is.

Rika Cilliers het een herfsdag
met die Hoëveldse lug
vol wit vlinders
ʼn dooie een
langs die pad opgetel,
dit in gedigte benoem.
Met ʼn hand vol pille
is sy die ewigheid in.

Die emosionele impak wat die gedig wel op die leser maak, word opgewek uit die opstapeling van die beroemde (ikoniese) skrywers en digters – wat vroue is, wat selfdood gekies het – en uit die gestroopte "beriggewing" hieroor. Die "anekdotiese inslag" (ibid) waarvoor die bundel bemark is, blyk hier. Vergelyk hoe sterk in teenstelling hiermee 'n gedig soos "16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders" aandoen. Dié gedig (en ook 'n handvol ander) is reeds in 2014 op LitNet gepubliseer (Fourie, 2014) en die impak daarvan maak vuis – en roep die Fourie op van byvoorbeeld Liefde en geweld.

Daar is egter aspekte van die poëtiese aanbod in die bundel wat die impak van die gedigte ondermyn. Een hiervan is die steurende titels wat soms gebruik word – asof sommer uitgedink of opgeplak. Dit is veral wanneer die titel as deel van die gedig gelees word, as 'n aankondiging, 'n inleiding, 'n plasing van die gedig, dat heelwat van die titels die gedigte in die steek laat. Vergelyk byvoorbeeld: "Johies" (p 33), "Dankie" (p 58), "Van baie lag" (p 60), "Grootmens", (p 63), "Verkleinwoorde" (p 71), "Koop" (p 73). Van die gedigte word ook gekniehalter deur die neiging (gewoonte?) om beeldende samestellings as nuutskeppings te gebruik. Dit is selfs moontlik om te vermoed dat die bundel gekniehalter word deur die insluiting van gedigte wat aan hierdie oordaad toegee. Sodanige woorde en frases (sommige met doelbewuste intertekstuele toespeling) doen die seggingskrag van die gedigte meer skade as wat dit daarin slaag om die idiolek van ʼn debuutdigter te vestig. Vergelyk byvoorbeeld: "bloedwarm begeer", "Was hy daarna tjankjammer?" (p 24), "gie-gie-gegiggel" (p 32), "om te byt in franksoet sproei, / en pitwit te sluk aan die geur" (p 32), "tussen groentjie-/ blare waardeur / die son kwispel" (p.34), "glipgly oor sinkdakke" en "rommelende tromme" (p 43), "tas jy in jou / krinkelkronkels / en grasieuse golwe" (p 45), "Bedags sleepvoet ek / ... Snags draf ek / voetseker" (p.51). Om die waarheid te sê, wonder ek oor advies aan die digter in hierdie verband van die uitgewersredakteur se kant. Is dit as ʼn wins beskou?

In die gedig met die ongelukkige titel "Nie, nie" (p 65-66) lyk dit aanvanklik asof hierdie soort formulering gebruik word om kontras te bewerk tussen aan die een kant internasionaal bekende besienswaardighede wat as oordadig en "ornaat" beskryf word en aan die ander kant die voorkeur wat aan die (meer sobere?) eie hier plaaslik gegee word. Só beskou, sou formulerings soos "witgeklitste Alpe, / Wallis se bottelgroen heuwels, / of die borstige blou berge / by Port Louis" en "skulppienk Marakesj" funksioneel in die gedig kon wees – was dit nie dat ook die teenstellings toe swaar dra aan dieselfde soort beskrywings nie. Vergelyk: "die Swartberge met ʼn sneeukraag", "sandsteenvolstruispaleise" en "afdraai-stofpaadjies".

Afgesien van die gedigte oor vroue, bevat Die goeie vrou ook ʼn gedig of wat oor tuine (p 30), die natuur (pp 33-35) en reise (pp 43-45), maar dit is die eerste drie gedigte in die afdeling "Bloeityd" wat na my lees, die sensitiefste (omdat eerlikste?) geskryf is. Dit sluit aan by die outobiografiese stroom wat deur die bundel vloei en wat uitmond in gedigte oor die afstand tussen 'n vrou en haar expat-dogters.

Die ars poetica wat die bundel onderlê, word verwoord in die gedig "Spoelklip" (p 49). In hierdie bundel verkies hierdie digter om nie klip te breek nie, maar om self glad gemaak te word:

 ... as kunstenaar
wil ek net wees:
'n gladde klippie
in ʼn suiwer stroom.
Nie die stowwerige
splint van ʼn steen.

Bronne

Anon, 2018. Die goeie vrou en ander mites. Protea Boekhuis.

http://www.proteaboekhuis.com/site.php/die-goeie-vrou-en-ander-mites.html 08 November 2018.

Fourie, C. 2014. Corlia Fourie.  https://www.litnet.co.za/author/corlia-fourie/ 2 November 2018.

Le Roux, A. 2017. Anekdote. In: Viljoen, H. (red.) Literêre terme en teorieë.

http://www.litterm.co.za/index.php/keuselys/8-a/11-anekdote 1 November 2018.

The post "'n Gladde klippie in 'n suiwer stroom": Corlia Fourie se digdebuut appeared first on LitNet.


Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch

$
0
0

Wanneer die Konstitusionele Hof binnekort uitspraak lewer in die saak tussen Gelyke Kanse (breedweg) en die Universiteit van Stellenbosch (breedweg), sal dit die eerste keer wees dat Suid-Afrika se hoogste hof besluit oor hoe taalregte uitspeel op die vlak van universiteitsonderrig.1

Almal wat sou belangstel, weet reeds waaroor dit gaan. Die Raad van die Universiteit het ongeveer vyf jaar gelede begin om sy beleid rondom die taal waarin daar klas gegee word, te verander. Die aard van hierdie verandering het met verloop van tyd ander en nuwe gedaantes aangeneem wat diegene wat 'n premie geplaas het op die Afrikaanse karakter van die universiteit verontrus het. Om dit sagkens te stel.

Daar is uiteraard nie hier ruimte om op die verloop van hierdie proses in te gaan nie. Dit kom egter breedweg daarop neer dat steeds meer redes gevind word waarom lesings, ook voorgraads, nie meer in Afrikaans sou aangebied word nie, dat navorsing hoofsaaklik in Engels gepubliseer sou word en dat die personeelprofiel sou verander. So het ek, terloops, self onlangs uitgevind dat daar biblioteekpersoneel is wat 'n mens nie meer in Afrikaans kan help nie.

Onderliggend was die druk van 'n groeiende Engelssprekende studentegemeenskap (nie sonder meer "swart" nie), die opvatting dat die instelling nie internasionaal sou kon meeding sonder 'n Engelse (waarskynlik Amerikaanse Engelse) profiel nie en dat dit onrealisties sou wees om van akademici wat nie Afrikaans magtig is nie te verwag om by 'n Afrikaanse taalomgewing in te pas.

Hierop was die verweer dat daar reeds twee Engelsmedium-universiteite binne 'n uur se ry vanaf Stellenbosch is en dat die alumni van Stellenbosch dekades lank bewys het dat hulle internasionaal meeding en presteer. Die belangrikste argument was dat die grootste moedertaalgroep in die universiteit se omstreke Afrikaans is en dat tienduisende ander Afrikaanssprekendes dwarsoor die land aanspraak kan maak op Afrikaanse onderrig, dat die bepalings van die grootste oprigtingsborg spesifiek die Afrikaanse aard van Stellenbosch as voorwaarde gestel het en, natuurlik, dat die rassekaart geen enkele rol hier te speel het nie.

Die meningsverskille tussen die voor- en teenstanders van die sogenaamde herposisionering van die Universiteit van Stellenbosch het soms onverkwiklike wendings geneem en dikwels persoonlik geword. Ad hominem, net om ons daaraan te herinner dat Latyn vir eeue die onderrigtaal van Europese universiteite was.

Die persone wat ongelukkig was oor die taalverskuiwings het hulle mettertyd georganiseer in 'n groepering met die naam "Gelyke kanse". Hulle was van mening dat die besluite van die Raad sedert 2015 onbillik was en dat die implementering daarvan teen Afrikaanssprekendes diskrimineer.

Miskien sou dit nuttig wees om daarop te wys dat met die aanbreek van die derde Suid-Afrika, daar ses volwaardige Afrikaansmedium-universiteite was. Die Universiteit van Port Elizabeth was toe nog, soos van sy instelling af, 'n "tweetalige" universiteit. Daar was geen sprake daarvan dat so 'n bedeling kon bly bestaan nie.

Professor Jakes Gerwel, voormalige rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland en toe minister in die presidensie van president Nelson Mandela, het hierdie bul by die horings gepak. In 'n verslag wat 'n komitee onder sy leiding aan die destydse minister van onderwys, professor Kader Asmal, deurgestuur het, besluit hulle:

The predictable danger for the long-term continuance of Afrikaans at these institutions is that the force of demographic changes in the student population will "naturally" erode the use of Afrikaans as academic medium. There is in our view the need for an agreement, in terms of the scheme suggested in the previous section, on one or more universities that shall have the specific obligation to cater for the (continued) development of Afrikaans as a language of high status functions, including particularly those of science and scholarship.

The University of Stellenbosch and Potchefstroom University are the two that the Committee would recommend for being tasked with having as one of their main responsibilities attending to the sustained development of Afrikaans as academic and scientific medium [and] will have a primary obligation to nurture, develop and promote the knowledge production functions of Afrikaans.

What is at issue here following the line of argument the Committee advanced in the preceding sections is the need to ensure that at these two institutions the right of access to Afrikaans-medium studies be guaranteed and dynamically promoted, particularly at undergraduate level. [...] The pertinent obligation, though, is to ensure that within these developments Afrikaans is systematically and consciously attended to as medium of scholarship and institutional life. This obligation should be a binding agreement reached with the Ministry of Education (and possibly the Ministry of Arts, Culture, Science and Technology).2

Van so 'n bindende ooreenkoms het daar niks tereggekom nie en die bestuur van die US het van hulle kant af geen aanduiding gegee dat hulle hiervan bewus was of gedink het dat dit 'n belangrike standpunt is nie. Uit 'n ander stoel skryf Albie Sachs as regter van die Konstitusionele Hof in 'n uitspraak uit 1996 soos volg:

The fourth assumption is that the Afrikaans language is one of the cultural treasures of South African national life, widely spoken and deeply implanted, the vehicle of outstanding literature, the bearer of a rich scientific and legal vocabulary and possibly the most creole or "rainbow" of all South African tongues. Its protection and development is therefore the concern not only of its speakers but of the whole South African nation. In approaching the question of the future of the Afrikaans language, then, the issue should not be regarded as simply one of satisfying the self-centred wishes, legitimate or otherwise, of a particular group, but as a question of promoting the rich development of an integral part of the variegated South African national character contemplated by the Constitution. Stripped of its association with race and political dominance, cultural diversity becomes an enriching force which merits constitutional protection, thereby enabling the specific contribution of each to become part of the patrimony of the whole.3

Onderliggend aan die hele debat (vanselfsprekend by Sachs en ook sowel Gerwel as Gelyke Kanse) is die taalklousule (Artikel 6) wat taalregte in die Grondwet verskans4 en dan die onderwys-klousule, Artikel 29:

29. (1) Elkeen het die reg (b) op verdere onderwys wat die staat deur middel van redelike maatreëls in toenemende mate beskikbaar en toeganklik moet maak.

(2) Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg, met inagneming van – (a) billikheid; (b) doenlikheid; en (c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.

Die uitgangspunt van die Gelyke Kanse-span was dat die onderliggende waardes van die Grondwet en die regte van spesifiek Afrikaanssprekendes ondermyn word; die Universiteit (ook 'n groep respondente) betoog dat hy geen spesifieke primêre verantwoordelikheid teenoor Afrikaans het nie en dat hy die middele waaroor hy beskik redelik administreer binne 'n groter Suid-Afrikaanse konteks van bemagtiging.

Die saak is in 2017 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor en Gelyke Kanse se aansoek is van die hand gewys [Hofverslae 2018(1)]. Daardie hof het in die eerste plek aangevoer dat Afrikaanssprekers deur apartheid in die binnebaan geplaas is en 'n groep is wat ekonomies en opvoedkundig bevoordeel is. Die Universiteit sou dus 'n regstellende verpligting hê. Die rassekaart, dus.

Ook die tweede rede wat die Hooggeregshof aanvoer, berus (myns insiens verkeerdelik) op rassediskriminasie: Die 2014-beleid van die US (waarmee Gelyke Kanse nie soseer 'n probleem gehad het nie), "was not equitable as it denied black students access to the University", terwyl daar geen sprake daarvan was nie.

Die derde uitgangspunt was die vertolking van artikel 29[2] van die Grondwet. Die Hof besluit dat die verpligting van die Universiteit om Afrikaanse opvoeding te verskaf beperk is tot wat redelik "practicable" is en deur middel van redelike opvoedkundige alternatiewe.

Omdat daar heel duidelik grondwetlike kwessies ter sprake is, het Gelyke Kanse die ongewone kans gekry om die saak direk na die Konstitusionele Hof te neem in plaas daarvan om eers by die Appèlhof in Bloemfontein hulle saak te gaan stel.

Die Appèlhof het wel nog op 'n manier iets te sê. In 2017 het hierdie hof in die saak tussen die Universiteit van die Vrystaat en AfriForum (en andere) ook na universitêre taalbeleid gekyk. Nadat die Hooggeregshof ten gunste van AfriForum besluit het, het die Appèlhof dit tersyde gestel.5

Die belangrikste rede hoekom die UFS geregtig daarop was om hulle taalbeleid te verander, sê die Appèlhof, was omdat die parallelmedium-benadering (ook die US se 2014-beleid) "unintended consequences" gehad het deurdat dit wit Afrikaanssprekende studente van swart studente gesegregeer het en tot ander klagtes aanleiding gegee het.

As 'n mens al die persoonlike verskille en geskille opsy skuif, is die uitspraak van die Konstitusionele Hof baie belangrik vir alle partye. Dit sal bevestig in watter opsig die rasbeheptheid rondom Afrikaans plek begin maak vir 'n redelike gesprek en hoe seker mense kan wees dat verskanste grondwetlike regte beskerm sal word al is dit nie noodwendig so polities korrek of gerieflik nie. En op 'n praktiese vlak sal dit aandui watter probleme daar dalk in die nabye toekoms vir die Pukke wag.

As Stellenbosch as 'n Afrikaanse universiteit verdwyn, gaan dit waarskynlik groot implikasies hê rondom die toekoms van Afrikaanse skole, tensy die ideaal van 'n groot selfstandige Afrikaanse universiteit baie gou werklikheid word.

Bykans twintig jaar gelede het Stellenbosch self daardie geleentheid gehad om nie deel te word van die "nasionalisering" van tersiêre onderwys nie, maar politieke dienstigheid het hierdie moontlikheid gekelder. Toe was dit heelwat makliker.

Nou sal dit dalk nodig wees vir 'n nuwe Jannie Marais om die bal aan die rol te sit, maar met die troos dat die internasionale steun en ondersteuning vir die selfstandigheid en akademiese oorlewing van kleiner tale groter is as op enige ander tydstip in die geskiedenis.

En o, ja. Hier's 'n stukkie pret om jou mee besig te hou terwyl ons wag. Daar is 'n webwerf waar 'n mens kan voorspel wat die uitkoms van die saak gaan wees. Hier kry jy die biografiese inligting van elke regter wat na die betoë geluister het en dan kan jy voorspel wat elkeen se besluit gaan wees. Gaan gooi jou dice hier.

Iewers, as jy net weet waar, is daar seker ook 'n beroepswedder waar jy jou paar rand skoolgeld kan gaan waag!

___________________________________________________________________

1. Gelyke Kanse and Others v Chairman of the Senate of the Stellenbosch University and Others. Die saak is vroeër in die Wes-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof aangehoor (17501/2016) 2018 (1) All SA 46 (WCC) en op 8 Augustus 2019 in die Konstitusionele Hof. Uitspraak is voorbehou. Diegene wat belangstel in die al die hofstukke, kan dit by die volgende skakel bekyk: https://collections.concourt.org.za/handle/20.500.12144/34621?show=full

2. Gerwel, G.J. 2002: Report on the position of Afrikaans in the university system, pp 16 en 17.
http://www.dhet.gov.za/Management%20Support/Gerwel%E2%80%99s%20Language%20Policy%20Framework%20for%20Higher%20Education%20in%20South%20Africa.pdf Besoek op 12 Augustus 2019.

3. Sachs, Albie: Uitspraak in Ex parte Gauteng Provincial Legislature: In re Dispute Concerning the Constitutionality of Certain Provisions of the Gauteng School Education Bill of 1995 1996 (3) SA 165 (CC), paragraaf 49

4. Die betrokke gedeeltes van Artikel 6 wat ter sprake sou kon wees, is die volgende:

6.2 Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons
mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te
verhoog en hul gebruik te bevorder. [Dit raak egter nie die keuse tussen Afrikaans en
Engels as onderrigmedium nie – FO]
6.3 b. Munisipaliteite moet die taalgebruike en -voorkeure van hul inwoners in aanmerking neem.
[Natuurlik nie bindend nie, maar universiteite sou hulle lokaliteit ook kon oorweeg – FO]
6.4 Die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatreëls
hul gebruik van amptelike tale reël en monitor. Sonder afbreuk aan die bepalings van
subartikel (2) moet alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word. [Aangesien universiteite se funksionering deur nasionale wetgewing bepaal word, sou 'n
mens kon verwag dat iemand van owerheidsweë bekommerd na die besluite op Stellenbosch
sou kyk – FO]
6.5 ʼn Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad deur nasionale wetgewing ingestel, moet–
[a] die ontwikkeling en gebruik bevorder en omstandighede skep vir die ontwikkeling en gebruik van–
[i] alle amptelike tale
[Hierdie Taalraad het reeds sy duidelike kommer uitgespreek oor die feit dat die besluit beslis nie hiertoe bydra nie – FO]

LitNetters wat belangstel in die probleme rondom artikel 6, kan gerus na die volgende drie bydraes gaan loer:
Malan, Koos. 2011 The discretionary nature of the official language clause of the Constitution,
in: Southern African Public L.a.w., 26:2, Jan 2011, p. 381 – 407.
2012 'n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse
grondwet. LitNet Akademies Jaargang 9 (1) https://www.litnet.co.za/n-oorweging-van-die-sosiopolitieke-kragte-wat-inwerk-op-die-betekenis-en-toepassing-van-di/
Plessis, Theo du. 2012 Vir wie is 'n taalwet belangrik? Enkele kritiese opmerkings oor die
noodsaak van 'n nasionale taalwet vir die sogenaamde inheemse tale
https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-n-nasionale-taalwet-vir-suid-afrika- noodsaaklik-vir-die-behoud-van-inhe/

5. 2018 [2] AfriForum and Another v University of the Free State 2018 (2) SA 185 (CC)

Gelyke Kanse-inisiatief bou momentum: Breyten Breytenbach rig ope brief aan US-rektor

'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid

Gelyke Kanse ontvang internasionale steun: JM Coetzee en Robin Renwick steun die inisiatief

Marlene van Niekerk on the Stellenbosch University language debate

Afrikaans is a major African asset – Dele Olojede The more we eliminate this diversity, the lesser we become, says Africa’s first Pulitzer Prize winner

 

The post Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: Liewe Ma

$
0
0

Vir agtien jaar het sy alles gegee.
Vir agtien jaar het sy haar bes probeer.
’n dogter op haar eie grootgemaak
en ’n lewe gebou sonder om te kla.

Deur die pyn en die swaarkry het sy aanhou baklei om bo uit te kom
Soos ’n klein saadjie het sy deur die grond geblom.

Haar trane is skaars en haar hande vol eelte.
In haar hart ken sy slegs vrede.
Haar hart behoort aan die Here 
en in Hom vind sy haar vreugde.

Sy werk dag en nag om kos op die tafel te sit
En tog is haar kinders al waarvoor sy bid.
Sy soek nooit meer as wat sy kry nie en blameer nooit die wêreld vir haar probleme nie.

Sy is ’n sterk vrou en ’n enkelma
Haar liefde is al waarvoor ek kan vra.

So…

Liewe ystervrou,
liewe superwoman,
liewe lig-in-die-donker,
Liewe Ma,
Hierdie gediggie word aan jou opgedra.

The post Vrouedag-skryfkompetisie: Liewe Ma appeared first on LitNet.

Koop-’n-Afrikaanse-boekdag, 14 Augustus 2019: ’n onderhoud

$
0
0

Chareldine van der Merwe (foto: Izak de Vries)

Chareldine van der Merwe van die VVA vertel vir Naomi Meyer van Koop-’n-Afrikaanse-boekdag, wat nou al jare lank suksesvol plaasvind.

Chareldine, waar kom die idee van Koop-'n-Afrikaanse-boekdag vandaan? Hoe lank is dit al aan die gang? 

Die Koop-’n-Afrikaanse-boekdag het in 2004 ontstaan toe ’n destydse lid van ons (VVA) spitsraad, Nolte Smit die blink gedagte gehad het van ’n dag waarop mense gevra word om ’n Afrikaanse boek te koop. Hierdie jaar is dus ons vyftiende Koop-’n-Afrikaanse-boekdag, en ons is baie trots op hierdie projek.

Waarom so 'n dag aanbied? 

Ons wil graag mense aanmoedig wat Afrikaanse praat en ’n liefde vir die taal het op dié vra om die boekbedryf te ondersteun. Deur die projek kan ons ook verseker dat skrywers en uitgewers nog Afrikaanse werke skep as ons hulle ondersteun.  

Boeke is duur, veral in 'n land waar dit voel asof alles duurder word. Is daar enige winskopies ter sprake? En waar kan mense gaan inloer? Ook: wat van mense wat werklik nie kos of boeke kan bekostig nie, wat kan hierdie dag vir hulle beteken? 

Die lys is aangeheg wat die promosies van deelnemende winkels aandui (rol ondertoe om deelnemende winkels te sien). Ons wil verder mense aanmoedig wat dit kan bekostig om boeke te koop, boeke aan mense of instansies skenk wat dit nie noodwendig kan bekostig nie. Verder hoop ons deur die verskillende promosies mense op 14 Augustus dalk die boek kan koop wat hulle al lank reeds ingedagte het, maar nie kon bekostig teen gewone pryse nie.

Deesdae is daar soveel ander vermaak wat aan kinders gebied word: Netflix, YouTube, noem maar op. Dink jy kinders lees nog genoeg? En maak dit saak? 

Dit is baie belangrik dat kinders so vroeg as moontlik aan boeke blootgestel moet word om ’n leeskultuur te skep. Kinders moet in ’n woordryke omgewing grootword sodat hulle toekomsgereed kan wees. Ouers speel hier ’n baie belangrike rol, en moet self ’n voorbeeld stel deur self te lees. Lees is aangeleerde gedrag net soos enige sport waarin kinders wil presteer, moet oefen om die beste te word, so moet mens ook lees om ’n goeie leser te word.   Hoe meer ’n mens lees hoe beter lees jy. Die belangrike ding is om die regte boek by die regte kind te kry, jy moet weet wat die kind se belangstelling is. Ons sien elke dag hoe opgewonde kinders word wanneer ons deur middel van boektrommelprojek boeke aan skole skenk. Ja, kinders lees en wil lees.

Behalwe vir inisiatiewe soos hierdie Koop-'n-Afrikaanse-boekdag, wat dink jy is volhoubare maniere om te help om kinders meer te laat lees?

Maak lees lekker en deel van jou daaglikse roetine. Kinders moet die belangrinkheid van lees verstaan en sien. Indien hulle sien dat jy (pappa, mamma, ouma, oupa, boetie of sussies)  tyd maak vir lees sal hulle besef dat lees belangrik is. Dit is ook ’n feit dat kinders wat lees beter vaar op skool en die wêreld beter verstaan.


Verryk jou wêreld met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag

Hoeveel keer het jy nie al in ’n boekwinkel gestaan met die nuutste Deon Meyer of Ingrid Winterbach boek en gewik en geweeg of jy hom moet koop nie? Wanneer jy die groot sprong maak en jou weg vind na die kassier, begin jou gewete aan jou knaag. Moet jy nie maar wag tot die boek op uitverkoping is nie? Betaaldag is nog vêr en jou finansies lyk maar beroerd.

Op 14 Augustus met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag kan jy gerus daai lastige stemmetjie sus en daai speurverhaal of kinderboek vir die rakkers koop.

Dié dag is toegewy aan die Afrikaanse geskrewe woord. Die projek is deur Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV, van stapel gestuur.

“Ons wil op hierdie dag die publiek aanmoedig om ’n Afrikaanse boek te koop,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA.

“Dit is ook die ideale tyd om ’n boek te koop, want baie boekwinkels gaan op die dag afslag op hulle boeke aanbied.

“Ons moedig almal wat Afrikaans praat en ’n liefde vir die taal het om op die dag vir hulself ’n boek te koop. En diegene wat dit enigsins kan bekostig, word ook gevra om ook ’n Afrikaanse boek te skenk aan iemand wat dit nie self kan bekostig nie.”

Volgens haar wil hulle ook op hierdie dag skrywers en die Afrikaanse boekbedryf ondersteun. 

“Op hierdie dag moet ons, ons ondersteuning aan die boekbedryf wys. Skrywers en uitgewers kan slegs nog literêre werke skep as die publiek hulle ondersteun.”

Verder meen sy dit is ook belangrik dat die liefde vir lees van vroeg af by kinders gekweek word

“Vir dit om moontlik te wees, moet ouers self ook lees. Jy as ouer moet self ’n liefde vir boeke en lees hê om dit aan jou kind oor te dra.

“Deur kinders in ’n woordryke omgewing groot te maak, word hulle toekomsgereed gemaak.”

Die volgende boekwinkels bied op 14 Augustus afslag aan:

CUM BOEKE: 15%-afslag (Alle takke landwyd)

PNA: Strand Square, Somerset Mall, Somerset Square, Eikestad Mall, The Sanctuary, Whale Coast & Gordons Bay Mall: 25%-afslag

Protea Boekwinkels: 20%-afslag (Alle takke landwyd)

Exclusive Books: 20%-afslag (Alle takke landwyd)

Aneljo Boekwinkel: Mariental, Namibiё  20%   

 

The post Koop-’n-Afrikaanse-boekdag, 14 Augustus 2019: ’n onderhoud appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: My ma

$
0
0

As ek geweet het dat ma's ook huil was ek dalk meer simpatiek … As ek geweet het dat ma's ook moeg of siek kon word, het ek dalk beter verstaan.

Ma was vir my "Vir Altyd". In my dogtertjiehart het ek gedink dat tussen oggendnaarheid en verterende kraampyne daar ook immortaliteit aan Ma toegeken was, want ma's raak nie op.

As ek maar geweet het dat Ma in tien maande ’n totale metamorfose sou ondergaan van kleurryke vlinder tot weerlose wese tussen blou-en-wit hospitaallakens, vasgekeer in ’n liggaam wat nie meer kon … Het ek maar geweet die monster wat Ma kom steel het, het ’n naam. Maar ek het nie.

Met kennis sou ek beter verstaan het van Prediker 12:1-7  – van die son wat donker word omdat ou oë nie meer wil sien nie. Sou ek beter begrip gehad het vir die wagters van die huis wat bewe, omdat dementia ou bene moeg maak.

As ek meer geweet het oor die malers wat nie meer maal nie, sou ek die borde onaangeraakte kos beter begryp het en vervang het met Ma se soet gunstelinge, sou ek beter verstaan het wanneer ek alles soms ongeduldig moes herhaal, want dementia is ’n monster wat die stemme van buite uitdoof en ou mense vaskeer in ’n wêreld vol vreemdelinge.

As ek meer geweet het, sou ek verstaan het hoekom my vreeslose ma skielik bang was. Ma se laaste maande deurgebring in ’n geslote huis, met tralies beskerm, vreesagtig vir die niks wat van buite kan inloer … Gordyne dig toe, onbewus van die groter gevaar van die dementia-monster wat binne die mure van veiligheid Ma se menswees kom verslind. 

As ek geweet het wat beteken dit as die silwerdraad afbreek, die een wat ma en kind ’n leeftyd bind, selfs na die knip van die naelstring en die eerste lewenskreet.  Later kind en ma maar steeds verbind met ’n ewige lint. Ma het verhuis na ’n ewige tuiste, die spoor van die dementia-monster weggevee deur ’n groter Hand, die wonde van sy pik net ’n traan in Ma se stof.

As ek meer geweet het van dementia en Alzheimers wat in sewe fases iets van Ma se immortaliteit kom wegbeitel het, stukkie vir stukkie, hier voor my oë. En ek in ontkenning, want Ma word net oud, nooit siek of kwesbaar of bang of benoud of in die laaste en sewende rondte van die geveg teen die toue met die monster nie. ’n Uitklophou – die monster wen …

As ek meer geweet het maar ek het nie, en nou pak ek Ma se huis op. Deel die bangoed in kartonbokse, huil so ’n bietjie, lag en onthou so ’n bietjie, pak weer. Stuk vir stuk pak ons Ma weg – een vir jou, een vir my – regverdig, gelykop soos Ma ons geleer het.

Ek stap uit. Wil nie terugkyk maar doen tog … Lot se vrou. Die sitkamer kaal. My gedagtes eggo in die leegheid – geen lappies, geen blomme, geen portrette of onthoutyd se kiekies, geen Ma op die bank – leeg soos my hart. Ek stap uit en sluit die regverdig-verdeelde bangoed en my eie leë hart veilig binne toe. Dementia is nie meer daar om bang te maak nie, net die niks wat spook en met elke draai van die sleutel in die koue staaldeur se slot my inwag en "boooooe" skree as die houtdeur my inlei na die niks waar Ma se kombuis was …

The post Vrouedag-skryfkompetisie: My ma appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: Die vrou met waagmoed

$
0
0

"Kom ons eet eers voor ek die foto wys … " sê ek, terwyl my hart bons en my handpalms sweet. My ma … hulle ma … wie se ma is dit regtig? Praat ons ooit van dieselfde vrou? Onthou ons die regte vrou en ma?

Anne het gebel en gesê sy hoor ons ma is dieselfde mens wat haar gesin jare gelede verlaat en nooit weer teruggekeer het nie. "Ons" afgestorwe broer het kort voor sy dood vir hulle die nuus gebring. Hulle het nog broers en ’n suster uit hul ma se tweede huwelik.

Tussendeur ongemaklike stiltes probeer ons op "ons" ma se spore terugstap, toe sy eens op ’n tyd ’n baie moeilike besluit in haar lewe moes maak. Sy was ’n mooi vrou. Voortreflik in haar huis, netjies, alewig besig om die kinders te dissiplineer. Hul pa het op die skepe gewerk. So elke dan en wan huis toe gekom.

Klink my "ons" ma was lief vir sosiale dinge, mooi aantrek, lekker etes kook – ’n regte gesins- en familiemens, vrou, ma. Bekend in haar gemeenskapkringe.

Dit was skielik, sonder enige aankondiging, dat hulle die oggend wakker geword het en hul ma was weg … Skoonveld weg – geen briefie, verduideliking of leidraad nie. Net skoonveld verdwyn. So moes die twee susters en hul twee tienerbroers hul adolessensiejare betree. Pa konstant aan die werk, hom net nou en dan gesien wanneer hy vanaf sy skeepswerk teruggekom het en ’n ma wat net verdwyn het. Gelukkig het hul ma hul jongste bababoetie saam met haar geneem. God weet waarheen. En, dank Vader, hulle was veilig by familielede.

Bababoetie en ma het ’n nomadiese bestaan gevoer en uiteindelik ’n nuwe gesin gebou met my pa en my twee broers. Volgens my misplaaste begrip het sy rondom 40-jarige ouderdom skielik gesterf. Volgens my nuutgevonde susters was sy rondom 70 met haar sterfte. My fobie van ook sterf op 40 sou toe nie waar word nie, want selfs haar ouderdom was  ’n versinsel.

Die hordes vrae waardeur ons drie "susters" elkeen binne ons eie gedagtes geworstel, herkou, herdink, probeer uitpluis en probeer sin maak het met ons ontmoeting, was uitputtend, ontstellend, verwarrend, ontnugterend, om die minste te sê! Want hoe in God's naam kry ’n ma dit reg om haar kroos, waaraan sy swaar geboorte gegee het, net so te los en net te verdwyn? Hoe kry ’n vrou dit reg om vir jare met ’n tweede man getroud te wees, ’n gesin te hê en niks van haar verlede te laat val nie?

Hoe? Flip weet, hóé?

Na vele diepdelwende gesprekke, en in haar spore en skoene rondwandel, was dit duidelik dat haar eerste huwelik se emosionele mishandeling en verwaarlosing sy tol geëis het op "ons" ma. Die slotsom was dat sy eintlik ’n dapper, merkwaardige vrou was. Dat sy te midde van hartverskeurende moeilike besluite weggestap het van seer, kwaad, bitterheid en ’n nuwe toekoms vir haar gaan soek het.

Daarom sal sy altyd wees: die vrou met waagmoed.

The post Vrouedag-skryfkompetisie: Die vrou met waagmoed appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: Mutti Malherbe

$
0
0

Winter 1947. Stellenbosch. Na haar man se dood het Mutti Malherbe die groentebeddings in grafte omskep. Sy het elke dag vyf emmers grond uitgegrawe; drie meter lank, twee meter breed en so diep soos die volgende perd wat na aan sy einde lyk.

Die 12-sitplek bal-en-klou-eetkamerstel is uitgeskuif stoep toe om plek te maak vir die perde. "Dis makliker om hulle te versorg hier naby my. Boonop hou die hitte van die Aga hulle warm. Niemand het vir jare by daai eetkamertafel gesit nie. ’n Spierwit olifant," was Mutti se verduideliking.

Moddernaels, graspatrone op haar knieë, die spore van jare se son op haar decolletage, ’n handgemaakte voorskootrok. Grys bokstert wat onder haar strooihoed uithang. Grondstreep op haar voorkop. Dis hoe sy jou verwelkom as jy ongenooid opdaag. Met ’n glas Moët in die hand terwyl sy die tuinhekkie oopstoot.

Dié nag het ’n onophoudelike gerunnik haar wakker gemaak. Sy het haar blou kamerjas bo-oor haar lang nagrok gegooi en gaan kyk wat skort. Kaalvoet. "Dan vra die mense hoekom die perde in die eetkamer slaap," mompel sy vies.

Ou Appeltjie se oë albasters in sy kop. Hy en die res van die perde het op en af getrippel tussen die blou en die rooi eetkamermure. Elke keer as ’n dakplaat lig en weer val, trap hul voorpote in die lug asof hulle stroomop in ’n rivier swem. ’n Angstige gerunnik vul die werf toe ’n dakplaat losruk en die nag in tuimel. Kort daarna het die plafon ingeval, die Oregon-vloer nou die bodem van ’n rivier wat deur die huis stroom. Die perde histeries.

"Mutti sal gaan regmaak. Julle oumensies sal nie die oggend haal in die koue nie," het sy haar perde belowe terwyl sy kombuis toe hol om ’n flitslig, hamer en ’n handvol spykers te kry. Met gereedskap veilig in haar kamerjassakke het sy die leer teen die huis se muur staan gemaak en opgeklim dak toe. Slierte grys hare klewend in haar mond en oor haar oë. Flits in die mond, handeviervoet op die dak. Haar blou kamerjas in ’n oogwink deurnat gereën. Sy het die band om haar lyf losgekarring en die swaar jas oor haar skouers afgestoot. Die wind het vinnig klaargespeel met die kamerjas – handvol spykers nog in die sak.

Sonder spykers en dakplate kon sy niks doen nie. Plat op haar maag met haar kop in die gat na die eetkamer het sy begin sing: "Mutti se pe-e-erdjies, julle moet rus. Mutti hou  do-o-op, niks sal julle seermaak. Rus my pe-e-erdjies. Mutti sal sorg."

’n Paar dae later is drie ou perde in voorbereide grafte op Mutti se plaas begrawe. Mutti in die vierde graf. Ellende, honger en verlange het die perde se einde beteken toe Mutti drie dae later steeds tussen hulle op die nat eetkamervloer lê.

Minus Mutti se skuiling. Nou net ’n gat in ’n eetkamerdak.

The post Vrouedag-skryfkompetisie: Mutti Malherbe appeared first on LitNet.

Vrouedag-skryfkompetisie: Die vootreflike vrou va Spreke 31

$
0
0

Wie sal nou ’n goeie vrou kry? 
Sy's kosbaa, precious viby!
Ha se man is gesiend – left, right en sente.
Sy sôrre vi hom en sal vi iewag
sy se partner bly.
Ha se hanne ken va harre wêk.

Sy try niewe resepte en ha ietes is ydie boonste rakke.
Sy pak skaftins voo sonop en skep stew in virrie wêkis.
Late loep browse sy oppie intenet en koep ’n plasie:
vannie winste koep sy ’n winged –
Ja, sy's ’n shap vrou;
ha se boeke balance en sy's annie gang tot middenag.

Did I mention dat sy kan jikkel en brei?
Al iewag ’n ou trytjie virrie welsyn

of ’n kombêsie virrie SPCA.
En assie koue kom, dra ha se tjinners warmrooi woljasse.
Sy sew ha se eie tuniek en duvet va ytsoek lap.
Ha se man sit oppie council en amal ken vi hom

want hille koep sy vrou se taile-made linne hemde.

Sy bangierie toekomsie, want sy's ierlik en oprêg.
Wanne sy raad gie, ka jy ma lyster: sysie judgementalie!
Sy's ywerag en kyk agter die sake va ha se hys.

Niks escape ha nie.
Ha se tjinners noem ha gesiend en ha se man prys ha:
“Baie dames het ytgeblink, ma jysie champion!”

Beauty's ’n lieg en charm vigaan, 
marie vrou wat innie Lig vannie Jirre loep
vidienie spotlight – soe, brag met ha!

The post Vrouedag-skryfkompetisie: Die vootreflike vrou va Spreke 31 appeared first on LitNet.


Vrouedag-skryfkompetisie: Die vrou wat ek onthou

$
0
0

Jy't my bejy toe jy my afskil
deur sagkens in my oor te fluister,
my laat verstaan ek is jou alles.

Met gebroke glas van blouvlamhart
het jy my hier op die aarde gelos,
met net asyn om die seer te blus.

Ek sit sonder jou hier,
ek sit kaal,
ek sit leeg.

Jy was my middernagson,
my warm koffie.
Jy het my toegedraai,
weggesteek,
onder jou hartkombers.

Ek versmoor terwyl ek wegdroom -
wegdroom na jou.
Ek beskryf jou woordloos
omdat my woorde wegsink,
verdwyn,
in my geheue van jou wat kwyn.

Dis elke dag se verlang
bang ek sal vergeet.
Ek moes een laaste keer jou in die oë gekyk het,
lank genoeg sodat jy in my geheue kon leef,
ek moes totsiens gesê het.
Ek moes.
En nou, is jy net
Die vrou wat ek onthou.

The post Vrouedag-skryfkompetisie: Die vrou wat ek onthou appeared first on LitNet.

Elgin Grabouw-krimifees 2019: waar kom al die misdaadverhale vandaan?

$
0
0

Jonathan Amid, Bettina Wyngaard, Rudie van Rensburg, Karin Brynard en Deon Meyer (foto: Naomi Bruwer)

En wat sou gebeur as my motor hier, by die krimifees, gesteel word? Want binne die terrein staan die motors buffer teen buffer geparkeer. Vir oulaas druk ek die knoppie op die afstandbeheer. My motor, ’n ent verder aan langs die pad, is gesluit.

Interkom. Die hek skuif oop.

Nog meer motors hier binne as wat ek gedink het. Die opkoms by dié fees is groot.

Diegene wat die siele van die misdadigers so goed ken dat hulle in hul velle inklim en daarin kan rondloop en hul stories vertel, is reeds in die saal. Die baie lesers van hulle boeke is ook daar. Ek kom betyds aan vir net een gesprek.

Tema: “Boek of bars: Hoe hanteer misdaadskrywers die druk om te moet aanhou produseer?”

Ek gaan sit agter. Voor is die paneel van skrywers: Deon Meyer, Rudie van Rensburg, Bettina Wyngaard, Karin Brynard.

Jonathan Amid, krimikenner, lei die gesprek behendig. Hier onder volg ’n poging tot ’n opsomming van sekere gedeeltes van die gesprek.

Waar Deon Meyer begin het

“Ek het begin met kortverhale. My filosofie is: Leer die vaardigheid van skryf aan deur te skryf. Stuur vir tydskrifte, en leer daaruit.

“My eerste boek se storie was Ikarus. Dit was die eerste Afrikaanse spanningsliteratuur aan die begin van die Nuwe Suid-Afrika. Tafelberg het nie ’n spanningsliteratuuruitgewer gehad nie. En hulle het gesê ’nie een-woord-titels nie’. Toe kies hulle Wie met vuur speel.

“Die eerste boek is soos om ’n broer in die tronk te hê. Jy kan dit nie ontken nie, maar jy wil nie daaroor praat nie.”

Karin Brynard oor die skuif van die joernalistiek na die misdaadroman

“Joernalistiek was inperkend, want dan moet ek kort skryf.

“Maar papier is geduldig, ek kan aangaan so lank soos wat ek wil. Maar ek was baie gelukkig in my veld as joernalis. Dis opwindend, en as mens ’n baie kort aandagspan het soos ek, maak dit nie saak hoe jou dag begin nie, dit eindig anders. Dis die een ding na die ander. Dis hoe geskiedenis gemaak word – soos Winston Churchill gesê het, “one damn thing after another”. Ek wou dieper skryf, en terwyl ek navorsing daarvoor gedoen het (vir joernalistiek), het Plaasmoord gevolg. En namate ek my navorsing gedoen het, het die raaisel al hoe sterker geword. Op die ou end kan ek dit blameer op Deon. Ek het met hom ’n onderhoud gevoer vir Rapport. Aan die einde van die onderhoud het hy gevra: ‘Wanneer skryf jy iets?’ Sy uitgewer het my agterna gebel.”

(Deon maak ’n opmerking: “Ek het nog nie ’n sent daaruit verdien nie.” Karin: “Jy het my vriendskap daaruit verdien.”)

Rudie oor sy eerste roman na jare in die versekeringsbedryf

“Ek wil net eers noem: Besef julle van die mees geslepe misdaadbreine is vir die eerste keer onder die dekmantel van ’n fees hier bymekaar?

“Ek het altyd die droom gehad om te skryf, maar ek het nie die begeerte gehad om vieruur in die oggend op te staan nie. Toe ek weg is by Sanlam in 2009, het ek Slagyster geskryf.”

Bettina, hoekom misdaadfiksie?

“Karin het vir Deon die skuld gegee, ek gee vir Karin die skuld. My eerste boek was ’n roman en dis hoe ek en Karin mekaar ontmoet het. Toe sê sy vir my: ‘Hoor hier, ons het meer vroue nodig.’

“Omdat ek in ’n vorige lewe ’n litigasieprokureur was, het ek belanggestel in die skryf van misdaad.”

Deon Meyer se raad

“Vir my gaan dit oor die storie. Jy moet skrywer en leser terselfdertyd wees.

“As mense raad vra, is die beste raad: Lees, lees, lees. Hoe meer jy die bestes in die wêreld lees, hoe meer kan jy oordeel of jy daardie stories kan lewer. Hoe hef mens dus jou eie subjektiwiteit op? Jy meet jou stories aan die stories van ander.

“Ons leef in ’n onregverdige wêreld. Jy kry geregtigheid in misdaadfiksie. Met ’n goeie musiekstuk is daar altyd ook eers ’n mate van diskordansie. Daar is ’n loslaat van die spanning. In ’n boek ook. Dis jou plig om daardie diskordansie te skep en dit op te los. Met ’n gevoel van geregtigheid.”

Karin Brynard oor temas

“Ek lees baie niefiksie. En ek is verskriklik nuuskierig. Dis dié land van ons. Mens kan nie in dié land lewe sonder om aangegryp te word, sonder om aan die hart gegryp te word nie.

“As jy Die Burger se voorblad sien, kan jy sien hoe ’n kind siek is en in die hospitaal is, en die kind sterf daar. En dan, as ek dit lees, wil ek meer te wete kom. Ek wil begryp. Ek wil verstaan wat ons maak soos wat ons is.

“Almal van ons is besig daarmee: die aard van boosheid. Ons almal het ’n geneigdheid om boosheid buite onsself te soek. Die vraag is: Waar is die boosheid binne myself? As ek daardie bose soort persoon in myself kan herken, het ek ’n diepere begrip vir die broosheid van mense. Want dis waar mense faal, en dis waar misdaad begin.

“Maar dit gaan oor die verhaal. Die agtergrond van die land, dit is net een ding.

“Sodra as ek begin met navorsing, of gewoon net lees, dan raak die verhaal los. Die verhaal het my so warm gebloei en ek wil net ontslae raak daarvan. Die lekker daarvan is dan hoe die karakter die storie uitleef. En dis hoe ek lief raak vir hulle. Ek weet ’n karakter het geslaag as die karakter my laat huil.”

Rudie van Rensburg oor betrokke literatuur

“Goeie misdaadfiksie is betrokke literatuur. Deur die jare word dit ’n verhalelaboratorium van maatskaplike kwessies. Jy skryf oor betrokke aangeleenthede.

“Die metafoor van die leesproses is dis soos ’n skildery. Jy lees, lees weer. Kyk en kyk weer.

“Ek het begin belangstel in die donker kant van mense se psige. Dis verskriklik ontstellend om onderwerpe aan te raak wat buite my gemaksone is. Jy is bang jy gaan die grense van fatsoenlikheid oorskry.”

Bettina oor haar skryfwerk en wat in die bedryf aan die gebeur is

“Ek is ’n feminis, ek skryf oor gender-issues. Dis vir my baie belangrik om oor genderkwessies te skryf. Dis vir my baie belangrik dat die vrou nie noodwendig die “damsel in distress” is nie. Sy moet haarself kan red. In vele gevalle red sy die mans rondom haar. Ek dink nie dis ’n feministiese agenda nie, maar in my verhale reflekteer ek die vroue wat ek rondom my sien. Die vroue wat ek rondom my wil sien. Ek sien ook dat daar meer stories en dramas deur swart en bruin skrywers gepubliseer word. Dit wat verskyn, word ’n meer getroue weerspieëling van hoe die land is.”

Agterna is my motor nog daar en ek ry weg, tussen die vullissakke van die dorp se hoofstraat deur. Rondom my skarrel die mense wat op ’n Saterdag inkopies met die taxi kom doen het. Ek weet daar gaan video’s van die gesprekke geplaas word; ek weet daar kom ’n oorsig op LitNet. Ek het nie nodig om hieroor te skryf nie, en kon kon boonop nie eens bybly om alles neer te skryf wat tydens die gesprek gesê is nie. Die skrywers is nie net bedrewe op papier nie, maar is ook vernuftige en intelligente sprekers. Die res van die langnaweek lê voor. Ek eet beskuit en speel “30 Seconds” saam met my gesin; ek stap in Kogelberg en kyk na die nuwe tekens van lewe na die brand.

Maar heelnaweek prut dit en broei dit, soos ’n lyk onder die grond. Dit bemes stil-stil, en die erdwurms en die goggas kom vreet en word vol.

Ek kan nie voorgee om oor die hele fees te berig nie, want ek het slegs een geleentheid bygewoon. Tog bly dit my by, terwyl die res van die lewe voortgaan.

Ek dink aan Karin Brynard se stories, die voorbladnuus. Nog ’n kind wat sterf in die voorportaal van ’n hospitaal.

Ek dink aan Rudie van Rensburg se opmerking dat dit nie net onbeholpe polisielede is wat dossiere foutief voltooi en sodoende veroorsaak dat ’n saak nie in die hof draai nie. ’n Ander baie groot rede is dat die gemeenskap waar die misdaad plaasgevind het, die bewysstukke verwyder. Uit vrees vir vergelding.

Wat maak mens met al die misdaad in hierdie land? Al die doellose, eindelose bloedvergieting en verdriet?

Hulle het begin deur dit neer te skryf. Die land self beantwoord die vraag op die gespreksleier se lippe: hoe kry mens dit reg om aan te hou lewer en boek ná boek te produseer?

Hulle het hulle oë oopgemaak en rondom hulle rondgekyk. Hulle het die talent gehad om neer te skryf wat hulle gesien het. Want daar is oneindig baie stories om te vertel.

Elgin-Grabouw Krimifees | Elgin Grabouw CrimeFest

Bettina Wyngaard oor die Elgin-Grabouw Krimifees | Elgin Grabouw CrimeFest

Krimifees ’n Suid-Afrikaanse eerste

The post Elgin Grabouw-krimifees 2019: waar kom al die misdaadverhale vandaan? appeared first on LitNet.

Tuin van Digters 2019: Programbekendstelling

$
0
0

                 "Ons is nie skuldig nie, ons is (aan)dadig"

Die tema van 2019 se Tuin van Digters is (aan)dadig – ’n skerpskepping van Breyten Breytenbach, wat vanjaar die digter is wat by die Tuin van Digters gehuldig word.

Wees nie skuldig om uitdagend en skeppend te wees nie. Wees juis aandadig daaraan – en uiteindelik dadig. In Afrikaans, en saam met ander tale en taalsprekers in Afrikaans.                

VRYDAG 13 SEPTEMBER

VOEG DIE DAAD BY DIE WOORD
16:00 tot laat | Digterstuin
Kom dink (en dig) diep en voeg die dade by die woorde en klanke en beelde in ’n tuin en ’n skepplek vol digskeppings.

KINDERDADIG
17:00 tot moegwordtyd | Agter die geel deur
Kinders, soek die geel deur. As jy by hierdie deur instap, kan jy jou ma of pa maar alleen los. Daar is genoeg boeke om te lees. Selfs iemand wat vir jou voorlees.

GOLWE VOL WOORDE EN KLANKE
17:30 – 18:30 | Akkoordtent en Tuin

Met: Andrea van Tonder, Tayne Ruddock en Justin Jefthas
Die talentvolle jong Akimba-musiekgroep bestaan uit Andrea (stem, ukulele, kitaar) van Bellville, Tayne (stem, klassieke kitaar, voetdrom) van Stellenbosch en Justin (elektriese kitaar, akoestiese kitaar, baskitaar, mandolien, viool, perkussie) van Stings of Justice in Pniël. Goeie oorspronklike musiek, diep betekenis van mooi woorde in Engels en Afrikaans is hulle sielskos.

(AAN)DADIGE KUNSUITSTALLING OPEN
18:00 – 18:30 | Breytenbach Galery

Openingspreker: Ashraf Jamal, kulturele analis by die Fakulteit van Ontwerp en Informatika aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, skrywer van ‘Predicaments of Culture in South Africa’ en medeskrywer van ‘Art in South Africa: the Future-Present’
Byna twintig genooide kunstenaars poog om aktief met hulle kuns (aan)dadig te wees aan die bou van ’n beter en mooier plek vir almal.

WARMER VOOR DIE TUIMELDROËR
19:00 – 19:45 | Akkoordtent
Met: Danie du Toit, voorsanger en skrywer van Spoegwolf, en sy kitaar
Reënwolf sing pikswart rympies oor die lewe as ’n seerower. Tussenin praat hy oor sy digkuns, sy musiek en sy pad van Ysterkoei na Spoegwolf.

BREYTEN BREYTENBACH: DIE MAN MET DIE GROEN TRUI VAN BURGERSTRAAT  
20:00 – 20:45 | Akkoordtent
Met: Andries Bezuidenhout, Yves T’Sjoen, Kerneels Breytenbach, Ampie Coetzee (en ander)
Die digter, skrywer en kunstenaar Breyten Breytenbach, ’n oud-Wellingtonner wat in die huis waar die Breytenbach-sentrum gevestig is, saam met sy ouers gewoon het, is die digter wat vanjaar by Tuin van Digters gehuldig word. Andries Bezuidenhout, akademikus, sanger en ook digter en kunstenaar in eie reg, sal die huldigingsboodskap lewer. Die oud-uitgewer Kerneels Breytenbach en prof. Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent sal ook hulde bring terwyl prof. Ampie Coetzee op ’n spesiale manier dadigheid by Breyten se woorde sal voeg.

OM BREYTEN TE TOONSET
21:00 – 21:30 | Akkoordtent

Met: Laurinda Hofmeyr en Schalk Joubert
Die sangeres en toonsetter Laurinda Hofmeyr vertel hoe dit gebeur het dat sy Breyten Breytenbach se gedigte begin toonset het. Sy sing van haar bekendste toonsettings van sy gedigte, bygestaan deur baskitaarspeler Schalk Joubert.

LAATAAND SAAM MET NUWE VRESE
21:30 – 22:30 | Akkoordtent
Met: Willem S. van der Merwe, Craig Vee en Daniel Hugo
Laataand. Die speelse tyd vir digters en digdinkendes om glasies dadig te klink en aandagtig te luister na mekaar. Willem S. van der Merwe verwoord in sy tweede digbundel, Nuwe Vrese, die ontnugtering en nostalgie van die middeljare in alle erns met humor en slim woordspeling. Die digter en vertaler Daniel Hugo sorg saam met Willem en kitaarmaestro Craig Vee vir ’n bekendstelling anders as die gewone. Dalk rafel die digtersfees uit . . .    

 

SATERDAG, 14 SEPTEMBER

DADIGE TUIN
08:00 tot laat | Digterstuin
Soek bundels en boeke en gedigte, plante en bome, fonteine en water, tente en muurwoorde, mense en voëls, beelde en klanke, koppe en . . . pampoene.

KINDERDADIG
08:00 tot moegwordtyd | Agter die geel deur
Kinders, iewers is ’n geel deur. Los jou ma en pa en stap in. Binne is boeke om te lees, papier om ’n eie gedig op te skryf, ’n leser van verse en rympies en  groot sagte kussings om op te slaap.

DIGTERS VAN HOOP
08:20 – 08:50 | Akkoordtent
Met: Ashlene Ayford en Marlize Fortuin
Leerders van Weltevrede Sekondêr in Wellington en hulle twee Afrikaanse onderwysers is sonder ophou besig om in samewerking met die Breytenbach-sentrum hoop vir hulself en mekaar te skep met hul lewensgedigte in Afrikaans. Luister hoe lees, sing en rymklets die jong digters hul skeppings.

’N FYN, FYN LYN … TUSSEN ’N FAIRYTAIL EN ’N JOKE
09:00 – 09:25 | Akkoordtent
Met: Alma Nel (regisseur en samesteller), Janette van Rensburg (assistent-regisseur) en akteurs Amke Grootboom, Shane Witbooi, Meagan Fortuin, Shar-nell Swarts, Franco Muller en Carin Swarts
Poësieteater deur die Breytenbach-sentrum se dramagroep. ’n Opwindende samestelling van verskeie materiaal rondom ’n sentrale tema: Die stormagtige aard van die liefde. ’n Reis van klank, dans, die woord, maar bo en behalwe alles: ’n eerlike storie – soos die agterkant van ’n mixtape wat daai een groot liefde lank terug vir jou gegee het. Poësie op steroids met verwerkings en samestellings van skrywers soos Early B, Ronelda S Kamfer, Nathan Trantaal, Jaco Jacobs, Banna Spammer – om net ’n paar te noem.

INDRUKWEKKENDE CHRISALIS
09:30 – 10:00 | Woordtent
Met: Christo van der Westhuizen en Daniel Hugo
Chrisalis is Christo van der Westhuizen se indrukwekkende debuut digbundel, uitgegee deur Naledi, wat deur die digters Daniel Hugo en Johann de Lange op die omslag aanbeveel word. Dit is verse waarin realiteit self op sy kop gekeer word en waar die alledaagse vreemd gemaak word. Die digter en vertaler Daniel Hugo gesels met Christo.

WOORDENAAR WOORDNAR
10:15 – 11:15 | Akkoordtent
Met: Andries Visagie, Francis Galloway en bydraers tot die publikasies
Die Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsbundel oor Breyten Breytenbach, breyten breytenbach, woordenaar woordnar, word bekendgestel. Die bundel is saamgestel deur dr. Francis Galloway – die outeur van onder meer die monografie Breyten Breytenbach as openbare figuur – met die hulp van verskeie bydraers. Prof. Andries Visagie van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch gesels met haar en ander (aan)dadiges oor dié huldigingsbundel.

UNIVERSITEIT VAN GENT VIER BREYTEN
11:30
– 12:00 | Woordtent
Met: Yves T’Sjoen
Prof. Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent praat “over de activiteiten die we in Oktober in Gent op het getouw zetten ter gelegenheid van de tachtigste verjaardag van Breyten Breytenbach, ook vijf jaar eredoctor (2014)”.

VERSE OOR HUIS EN TAAL (in Afrikaans, Xhosa en Engels)
12:10 – 12:50 | Akkoordtent
Aangebied deur PEN Afrikaans
Met: Frieda van den Heever, Danie Marais, Jolyn Phillips, Lwanda Sindaphi, Diana Ferrus en Daniel Hugo
Frieda van den Heever, aanbieder van RSG se gewilde poësieprogram Vers en klank, deel die verhoog met verskeie digters wat hul werk sal voorlees en besin oor die temas van huis en taal. Kom luister na verse in Afrikaans, Xhosa en Engels en dink saam oor wat ons deur vertaling wen en verloor.

PEN AFRIKAANS – JAARVERGADERING
13:00 – 14:00 | Wellington-biblioteek (oorkant die Breytenbach-sentrum)

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kan die Tuin van Digters gratis bywoon en op PEN se jaarvergadering hul insette lewer oor hoe skrywers en digters (aan)dadig moet wees. Die nuwe bestuur word ook verkies.

WOORDE OP AKKOORDE
13:00 – 14:00 | Akkoordtent

Met: Onder andere Jolyn Phillips, Diana Ferrus, Churchil Naude, Deniel Barry, Hermien de Vos en Frazer Barry
’n Magiese musikale reis van woordkuns, sang, digkuns, dreunsang en rymklets. Net die antwoord om sin te maak van die lewe se kakofonie van klank. By die KKNK genomineer vir Kannas-toekennings in drie kategorieë.

‘A CELEBRATION’ – DIANA FERRUS EN DIE MENGELMOESDIGTERS
14:00 – 14:45 | Woordtent

Met: Diana Ferrus, Merle Heather Danhouse en Gaireyah Fredericks en hul nuwe bundels
Hierdie jaar vier die Mengelmoesdigters sy ontstaan in 2012 by die Breytenbach-sentrum onder leiding van die digter Diana Ferrus met die bekendstelling van drie Mengelmoesers se digbundels – Diana se nuutste digbundel, DIE VREDE KOM LATER, Merle Heather Danhauser se DIE BROODJIE en Gaireyah Fredericks se meTTie mAAn gePLa, ’n bloemlesing saam met Jadrick Pedro-Koopman en Duane Miller.

PANEELBESPREKING: IS BREYTEN SE GEDIGTE VERTAALBAAR?
14:50 – 16:00 | Akkoordtent
Met: Catherine du Toit, Breyten Breytenbach, Yves T’Sjoen, Ampie Coetzee en André van der Hoven 
Breyten Breytenbach word uitgevra oor hoe hy voel oor die vertaling van gedigte en spesifiek sy eie gedigte. Prof. Catherine du Toit, hoof van die Departement Moderne Vreemde Tale aan die Universiteit Stellenbosch, is die gesprekleier. Deelnemers is prof. Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent, prof. Ampie Coetzee, vertaler van Breyten se gedigte, en André van der Hoven, student by die Departement Moderne Vreemde Tale. Deelname uit die gehoor is welkom.

ONS KLYNTJI 2019 – AMPTELIKE BEKENDSTELLING
16:15
– 17:00 |Woordtent
Met: Toast Coetzer (aanbieder), Erns Grundlingh en die rymkletsgroep ‘Getuies’ 
Ons Klyntji is ’n alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en comics publiseer. Van die digters en skrywers gaan hulle gedigte en verhale voorlees. Getuies se werk verskyn ook in Ons Klyntji en die trio, bestaan uit Romano Mentoor (Getuie Blikskottel), Anwill Valentine (Jamex) en Curtley Jones (P.I.K), sal dit voordra. Hulle is van tussen Wellington en die Paarl en het in 2009 ontstaan. Hulle is tekenend van die ondergrondse rymkletskultuur met die boomkapklank wat die sterk lirieke dra en dryf.

‘BEGINNE EN EINDES’
17:15 – 18:00 | Akkoordtent

Met: Willemien/Philomène & :amaFranx
Die liedjieskrywer Willemien/Philomène ondersoek die tema van begin- en eindpunte in die konteks van die lewe, die liefde en die spasies tussenin. Sy het ses jaar lank klas in Frans aan die Universiteit van Pretoria gegee voordat sy in 2017 haar musiekprojekte na die voorgrond geskuif het en nou betrokke is by verskeie musiekprojekte. :amaFranx is 'n gevestigde musikant in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie en het sy bekendheid gedeeltelik verwerf as oorspronklike lid van die prog-rock groep Isochronus. Hy het onlangs sy derde solo EP, Unmask the Unknown, bekendgestel.

RASENDE RYME
18:15 – 18:45 | Akkoordtent
Met: Elsabé Daneel
Die aktrise en woordkunstenaar Elsabé Daneel ees treffend en roerend Afrikaanse gedigte voor, insluitende van Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker.

TOEKENNING VAN DIE INGRID JONKER-PRYS
19:00
– 19:30 |Akkoordtent
Met: Ronel Foster (voorsitter van die Ingrid Jonker-pryskomitee), Kabous Meiring (programleier) en Simone Garcia Marques (Ingrid Jonker se dogter)
Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks beurtelings toegeken aan die skrywer van ’n debuutbundel in Afrikaans en Engels, die twee tale waarin Jonker geskryf het. Die prysgeld is geskenk deur die Dagbreek Trust. Simone Garcia Marques sal die beeldjie, geskenk deur die Breytenbach-sentrum, oorhandig aan die wenner, Pieter Odendaal, vir sy bundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie. Pieter sal ná die oorhandiging van sy gedigte voordra met eie klavierbegeleiding.

(AAN)DADIG SAAM MET BREYTEN
19:30
– 20:15 |Akkoordtent
Met: Breyten Breytenbach, Schalk Joubert
Breyten Breytenbach lees van sy gedigte voor met die baskitaarspeler Schalk Joubert wat vir die musiekbegeleiding sorg.

LIEKE JOOSEN: EEN RIJZENDE STER – IN AFRIKAANS
20:45 – 21:45
| Akkoordtent
Met: Lieke Joosen (stem, kitaar), Sven Kunenborg (kitaar) en Mark Teeuwen (perkussie)
Die Nederlander Lieke Joosen neem met haar Afrikaanse liedjies in Afrikaans die gehoor op ’n musikale soektog. Bestaande Afrikaanse liedjies is vermeng met eie toonsettings in Afrikaans van gedigte van onder andere Antjie Krog. Hoewel sy Nederlands is, ‘het sy haar stem in Afrikaans gevind’. Saam met haar twee musikante skep hulle ’n droomlandskap van Afrika waarin sy antwoorde probeer vind. Na wie of wat soek sy? En is ons nie uiteindelik almal soekend nie? Dit is hulle eerste besoek en optrede in Suid-Afrika.

NOU IS ONS AANDADIG
22:00 – 23:00
| Akkoordtent
’n Groep digters en musikante van die nag en onbekende en bekende aandadiges sluit Tuin van Digters af met voorlesings, sang en klank.

  XXXXXXXXXXXXXXXXXX

Hier word plegtig afgespreek dat dit gaan om die sluiting van vennootskappe op absoluut deursigtige en gelyke grond – waar iedereen haar of sy bydrae sal kan lewer, uit hoofde van vaardigheid of vermoë of potensiaal.                                                                                       – Breyten Breytenbach (2008)

 

(AAN)DADIGE GROEPUITSTALLING

“Ons is nie skuldig nie, ons is (aan)dadig”

skuldig       - b.nm. en bw. 1. Verskuldig, wat nog betaal moet word.
                    2. Wat ’n verkeerde daad gedoen het of medepligtig was

aandadig   -  b.nw. Saam met ’n ander skuldig: medepligtig
aan             - 1. waarmee was die handelende persoon besig of in aanraking
                      2. dui die begin of die voortsetting van ’n handeling aan.
dadig          - s.nw. Doen, handeling: iets wat gedoen is (word), deurgevoer is
                      Met goeie advies, planne, maar ook praktiese wyse.                   

  • HAT, Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal
    Vyfde Uitgawe, F.F. Odendal & R.H.Gouws

Met hierdie groepuitstalling in die Breytenbach-galery poog die kunstenaar om, deur sy/haar kuns, (aan)dadig te wees deur aktief deel te neem en ‘dadig’, aan die daad te wees aan die opbou van ’n beter en mooier plek vir almal, waar selfs die bewusmaking/weerspieëling van die werklikheid die kyker sal dwing om te KYK en deel te neem. Breyten Breytenbach, Hardy Botha, Jacques Dhont, Ruhan Jansen van Vuuren, Bastiaan van Stenis, Liekie Fouche, Nhlanla Nhlapo, Ruan Huisamen, Mishelle Nigrini, Henk Serfontein, Christiaan Diedericks, Sharlé Matthews, Jan Blohm, Estelle Marais, Joubert Stander, Susan Bloemhof, Selwin Pekeur, Jo Roets en ander.

FOTO-UITSTALLING: CLOETE BREYTENBACH
Cloete Breytenbach (85), stigterslid van die Breytenbach-kultuursentrum en broer van Jan, Breyten, Rachel en wyle Sebastiaan is op 31 Mei 2019 in die Panorama-hospitaal in Kaapstad na ’n hartomleidingsoperasie oorlede. Cloete was ’n bekende nuus- en oorlogsfotograaf wie se foto’s oor onregte van die mensdom regoor die wêreld vertoon is. Verskeie boeke van sy foto’s het ook verskyn. Sy vrou Brenda het van sy foto’s beskikbaar gestel vir ’n uitstalling in die gemeenskapsgalery op die grondvloer van die Breytenbach-sentrum. Die foto-uitstalling sal tot 30 September besigtig kan word.

"DORA EN EK" - KUNSPROJEK IN DIE BÔRDIENGHUIS
Die kunswerk op die verhoog van Die Bôrdienghuis-teater, ‘Dora en Ek’, is geinspireer deur Penny Siopis se “Dora and the other woman”. Die modemaker en kunsstudent by die Kaapse Skiereland Universiteit in Wellington, Dinah Maria Visagie (30), het die rok gemaak uit gedigte. Die betekenis van die kunswerk is ’n universele storie: Vroue kan in ’n boks geplaas word as ‘histeries’ in verhoudings met mans wat manipulatief, onverantwoordelik of emosioneel onbewus is. In hierdie tipe tragedie sal die man selfsugtig sy eie manlike emosies uitleef, maar die vrou van haar innerlike waarheid en emosionele uitdrukking stroop. In so ’n situasie word die emosionele lewe van die vrou ’n tipe verbanning van self en die vrou se eensaamheid en isolasie neem toe. Sommige vroue maak dit deur hierdie hel, soms omdat hul uitdrukking vind in ’n sosiaal “aanvaarbare” vorm van emosies, soos die digkuns. Later ontmoet hul dalk ’n verantwoordelike, volwasse en gebalanseerde man. Ons weet egter uit die geskiedenis dat sommige vroue dit nooit maak nie, soos Ingrid Jonker en die eerste vrou van die Engelse digter Percy Bysshe Shelley, naamlik Harriet Westbrook.

VOLTOOI BREYTEN SE KUNSWERK
Net die regterkantste helfte van ’n skildery van Breyten Breytenbach verskyn vanjaar op die bemarkingsplakkaat van Tuin van Digters 2019. Gaan kyk gerus in die gemeenskapsgalery op die grondvloer van die hoofgebou. Daar is van die ‘halwe’ kunswerke met ’n ‘oop’ helfte aan die linkerkant. Besoekers word genooi om hierdie helfte te voltooi met hulle eie kunswerk soos wat hulle dit sien en ervaar. ’n Keuse van die volledige ‘nuwe’ gekombineerde kunswerk (regs Breyten se helfte en links joune) sal later as ’n uitstalling in die gemeenskapsgalery gehang word. 

GEHEUE VAN WIND – ’N MOMENT VAN NOU
Skryf woorde en gedagtes oor die oomblik en wat nou hier gebeur op die groot doek teen die muur in Die Bôrdienghuis. ’n Dadigheid om te bewaar vir die dadiges van die toekoms.

PEN AFRIKAANS SE LEDE GRATIS
Lede van PEN Afrikaans, wat hom onder meer beywer vir die bevordering van Afrikaanse woordkuns en die letterkunde in die algemeen, sowel as vir uitdrukkingsvryheid en taalregte, se lede wie se ledegeld opbetaal is, kan die Tuin van Digters gratis bywoon. Vir vereistes vir lidmaatskap van PEN Afrikaans, besoek www.litnet.co.za/pen-afrikaans-aansoekvorm/. PEN Afrikaans is deur sy lidmaatskap van PEN International die verteenwoordiger van sy lede en die Afrikaanse skrywersgemeenskap in ’n internasionale verband. PEN Afrikaans se jaarvergadering word op Saterdag 14 September om 13:00 by die Tuin van Digters gehou.

WAT JY MOET WEET
Daar is twee ingange tot die Tuin van Digters: In Burgerstraat langs die hoofgebou by die hek na die tuin en by die parkeerterrein regs agter die sentrum deur die groot hek.
Alle vertonings, behalwe as dit anders aangedui word, sal in die Woordtent en die Akkoordtent agter die hoofgebou aangebied word.
Digters se bundels sowel as ander bundels en boeke sal by Protea Boekwinkel in Stellenbosch se stalletjie in die Akkoordtent te koop wees. Besoek ook The Book Traders, die tweedehandse boekwinkel op die grondvloer van die hoofgebou.
Verversings sal in en buite Die Bôrdienghuis-teater te koop wees.
Soek jy ’n kunstige geskenk? Besoek die Kardoes-winkel langs die Breytenbach-galery vir kunsgeskenke.

AGTER DIE GEEL DEUR – NET VIR KINDERS
Net langs die Akkoordtent agter die geel deur is ’n interaktiewe lokaal waar kinders besig gehou word of hulleself op skeppende maniere kan vermaak. Daar sal genoeg boeke wees om te lees en, daar sal selfs vir jou voorgelees word as jy wil en jy kan ook jou eie gedig skryf.

SÓ HELP ONS
Francois L
ötter
Bestuurder en hooforganiseerder
083 408 1902; fees@tuinvandigters.co.za

Jessica Ruiters
Administrasie en noodhulp
063 525 9636; info@tuinvandigtersco.za

Jeanne-Mari Gerber
Kaartjies en besprekings
073 435 1022; besprekings@breytenbachsentrum.co.za

Anne-Ghrett Erasmus
Breytenbach Galery
083 415 0002; galery@breytenbachsentrum.co.za

Esther Kotzé
The Book Traders boekwinkel
072 997 4813; thebooktraders@gmail.com

Anja van Wyk
Feesterrein, logistiek  
072 509 4343

Kabous Meiring
Programleier

WELLINGTON TOERISME
Skakel met die Wellington Toerisme-kantoor by info@wellington.co.za om jou te help met jou verblyfbesprekings en om ander inligting oor Wellington en die omgewing te kry.

VERDERE NAVRAE
Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14, Wellington. Kontak ons by 021 873 2786 of per e-pos by info@breytenbachsentrum.co.za.

KAARTJIEPRYSE
Toegang vir Vrydag 13 September: R150 per persoon (sluit alle aanbiedings op die program in vir 13 September)
Toegang vir Saterdag 14 September: R250 per persoon (sluit alle aanbiedings op die program in vir 14 September)
Tweedagpakket: R350 per persoon (Sluit alle aanbiedings in op 13 en 14 September)
Studente-afslag: R50 per persoon per dag (met geldige studentekaart)
Opbetaalde lede van PEN Afrikaans: Gratis toegang

BESPREKINGS EN NAVRAE
Jeanne-Mari Gerber 021 873 2786 / 073 435 1022
besprekings@breytenbachsentrum.co.za
H/v Burger- en Malherbestraat, Wellington

BORGE
Dagbreek Trust, Naspers, ATKV, LW Hiemstra Trust, Wes-Kaapse Departement van Kuns en Sport, NLDTF (Nasionale Lotery), Rupert-musiekstigting, Drakenstein Munisipaliteit, Jannie Mouton Stigting, Prosperity Management Africa, Wellington Wynroete.

VENNOTE
NB Uitgewers, Naledi, Protea Boekwinkel (Stellenbosch), Ons Klyntji Internasionaal, PEN Afrikaans, Toyota US Woordfees, Wellington Toerisme, Print.

VERBLYFBORG
Dankie aan Cummings Gastehuis. Kontak hulle gerus by 021 873 3474 of stuur ’n e-pos na mattievisser@wellington.accommodation.com en kom kuier sommer die hele naweek saam met ons.

PROGRAM ONDERHEWIG AAN VERANDERING
Volg Breytenbachsentrum op Facebook en @breytenbachsent op Twitter en hou ons webwerf, www.breytenbachsentrum.co.za, dop vir die nuutste inligting oor die Tuin van Digters 2019.                         

The post Tuin van Digters 2019: Programbekendstelling appeared first on LitNet.

Harry Kalmer (1956–2019)

$
0
0

Gebore en getoë

Harry Kalmer is op 21 November 1956 in die Hansa-kliniek in Bellville gebore, die vierde kind van Kenneth Laurence Kalmer, ’n elektrotegniese ingenieur, en Johanna Christina Steyn. Drie jaar later vertrek die gesin na Johannesburg en in 1963 begin Harry sy skoolloopbaan aan die Florida Laerskool. In 1970 is hy na Florida Hoërskool, waar hy in 1974 matrikuleer. In sy hoërskooljare “blink (hy) uit as slapgat en skelm roker, ontdek teater en wen redenaarsbeker”, om hom self aan te haal. In 1973 skryf hy sy eerste toneelstuk.

Verdere studies en werk

Na skool gaan Harry na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1979 sy BA-graad verwerf met Afrikaans en Dramakunde as hoofvakke. Gedurende hierdie tyd gaan hy na Amerika, waar hy die land per bus deurreis. Na sy studies in 1980 meld hy hom aan by die Weermag en spandeer hy dertien maande op die grens as luitenant.

Harry werk onder meer as treindrywersassistent, spoorwegklerk, vertaler/leksikograaf, kopieskrywer, arbeider in Griekeland, skottelgoedwasser in Londen, blommeplukker in Cornwall, ’n relatief suksesvolle dramaturg en ’n teaterregisseur wannabe.

In 1981 ontmoet Harry vir Sanpat Hattingh, ’n mode-ontwerper, en in 1983 trou hulle. Hulle het twee kinders, Daniel (14) en Jana (10).

In 1982 word sy eerste kortverhaal, "Man wat deur ’n opblaasmatras vermoor is", in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer en in dieselfde jaar begin hy skryf aan X-Ray Visagie en die Vingers van God. Niemand is egter bereid om dit te publiseer nie.

Harry begin dan in alle erns skryf aan sy dramas. In 1984 word Bloed in die strate (176 interviews for television) deur Jacqui Singer vir TRUK opgevoer. Hierdie stuk veroorsaak die eerste en enigste ernstige geveg met sy ouers, omdat die karakters te veel f** gesê het. In 1985 word die stuk ook in die Markteater in Johannesburg opgevoer. Ook in 1984 skryf Harry Piet Joubert en die Boer War Show en Die val van Pretoria. Eersgenoemde is die naaswenner van die Amstel Awards en laasgenoemde ’n finalis in die Sakruktoekennings. In 1986 word die drama Hartland in die Baxterteater in Kaapstad opgevoer onder regie van Marcel van Heerden.

In 1984 maak Harry vir die eerste keer kennis met die reklamewêreld. Aanvanklik skryf hy die bewoording op hondekossakke, maar in 1987, nadat hy en Sanpat van Europa af terugkeer, begin hy werklik ernstig as kopieskrywer werk.

In 1988 word nog ’n drama, Die wit van hulle oë, deur TRUK opgevoer, weer onder regie van Jaqui Singer, en in 1989 ook Antjie Somers and I, wat in 1990 bekroon word met die Dawie Malan-Dalro-toekenning vir die beste nuwe Suid-Afrikaanse toneelstuk.

In 1989 verskyn Harry se eerste bundel kortverhale, Die waarheid en ander stories, by Taurus. In hierdie debuutbundel vind die leser betrokke kortverhale waar die politieke situasie die agtergrond vorm en die karakters persone is wat nie altyd oral inpas nie. Enkelinge se swaarkry word verbeeld in verhoudings wat misluk, verminkings en selfmoord en dood. Party van die verhale het die Grensoorlog as agtergrond en die trauma wat daarmee saamhang.

Harry en Jaqui Singer se samewerking duur voort met die opvoering van Watercolour days in 1991 deur TRUK. Hierdie stuk is ook voorgelê vir uitsending op televisie, maar die projek is later laat vaar.

Intussen word Harry se kortverhale gereeld in versamelbundels opgeneem, soos in Vuurslag, Forces’ favourites, Eeu en Vonkfiksie. Sy toneelstuk They say heaven is like TV word onder regie van Craig Freimond deur TRUK opgevoer en wen in 1992 die Vita Potpourri-prys. Dit word ook in die Universiteit van Texas se Afrika-manuskripversameling opgeneem. In 1992 skryf en regisseer Harry die kabaret The secret of my excess vir Lynn Joffe.

Na vele pogings en vele draaie by vele uitgewers word X-Ray Visagie en die Vingers van God uiteindelik in 1993 by Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Dit is ook in Engels vertaal onder die titel Killing Afrikaners, maar die oorsese mark vind die boek "te Suid-Afrikaans".

Hierdie postmodernistiese roman speel af in 1982 in Suid-Afrika. Die land word gekenmerk deur ’n gemilitariseerde lewenshouding. Dit is in die dae toe apartheid hoogty gevier het. X-Ray Visagie is ’n vasvrakampioen op televisie. Suzette en Daan, sy vriende, word lede van Die Vingers van God en as sulks meen hulle dat hulle hul reg op demokrasie met wapen in die hand kan uitoefen. X-Ray word gedurende ’n vasvrawedstryd voor bykans ’n halfmiljoen kykers ontvoer. Dit wat tydens hierdie aksie gebeur, lei tot die sterfte van die meeste lede van Die Vingers van God, wat daartoe lei dat ’n tweede groep, Vriende van Die Vingers van God, op die been gebring word.

Barries Barnard, ’n speurder, word ingeroep om orde uit hierdie chaos te skep. "Die bonte verskeidenheid karakters en die absurde geweldsituasies waarby hulle betrokke raak, maak die boek soos ’n tekenprent in woorde en is daarop gemik om die sensasionele aard van die samelewing te parodieer" (Eduan Swanepoel, De Kat, Februarie 1994).

Harry se stuk Frida Kahlo’s eyes beleef in 1995 onder regie van Sandra Prinsloo meer as 100 opvoerings in nege Suid-Afrikaanse dorpe en in 1996 tref Harry die Kunstefeeste met Sleeping with Alice, wat onder regie van Gerrit Schoonhoven by die KKNK opgevoer word. Hy verwerk Marita van der Vyver se roman Die dinge van ’n kind wat in 1998 met groot sukses by die KKNK, die Grahamstadse Nasionale Kunstefees en by die Klein Teater in Pretoria opgevoer word.

Sy romans Die man met dertien kinders en Kniediep word beide in 1998 uitgegee en hy verwerk eersgenoemde na ’n voorlesing in twee stemme wat in 1999 sy première by die KKNK het en ook op ’n landswye toer geneem word. Hierdie produksie is in 2000 vir vier ENB-Vita-pryse in Bloemfontein benoem. Harry het die roman self vir die radio verwerk en dit is in 2014 oor RSG uitgesaai.

Die man met die dertien kinders is ’n novelle wat as ’n moderne sprokie beskryf kan word. Dit begin wanneer Jos Goosens vir Mathilda ’n sjokolade koop terwyl hul op ’n Griekse eiland is. Terwyl hy vir Mathilda die sjokolade gee, dryf dertien bootjies in die volmaan op die Middellandse See. Aan die einde van die storie kry die leser vir Jos en Mathilda met hul dertien kinders waar hul op ’n plaas in die Bosveld woon. Hier kan Jos weer begin droom – al lê daar ’n lewe vol mislukkings, verbeurde geleenthede en dronkenskap agter hom. "Om vir sy (veelrassige) gesin te kan sorg, moet Jos diep in eie boesem delf en sodoende met sy Afrikaner agtergrond en die geweld en paranoia daarin afreken. Die problematiese verhouding tussen Jos en Mathilda sorg ook vir vermaaklike kommentaar op familie en gemeenskap." (Rapport, 26 Julie 1998, Marina le Roux)

Barries Barnard is weer die speurder in Kniediep. Strijdom Benadé is ’n baie suksesvolle sakeman uit ’n stoere Afrikaner-familie. Hy het ’n meisie, Tash, help grootmaak en toe sy vermoor word, probeer hy uitvind wie haar moordenaar is. Die titel van die verhaal sinspeel op hoe groot die moeilikheid in die verhaal is.

Die gebeure in die verhaal speel in een week af en om die karakters en die gemeenskap beter te verduidelik, maak die skrywer van terugflitse gebruik. Daar is heelwat wendinge in die verhaal wat die leser nie verwag nie en die afloop is ook nie wat die hoofkarakter sou wou hê nie. (Fanie Olivier, Beeld 26 April 1999)

By 2001 se Aardklopfees in Potchefstroom word twee van Harry se produksies op die planke gebring, naamlik The Bitterbek Blues of Ben (die breker) Bartman en Briewe aan ’n rooi dak. Laasgenoemde stuk, wat sentreer om die eensaamheid van die ouderdom, is die wenner van die AngloGold Smeltkroesprys vir die beste nuwe inheemse drama by die fees. Paul Boekkooi, die voorsitter van die beoordelaarspaneel vir die prys, skryf in sy motivering dat Briewe aan ’n rooi dak “’n empatiewekkende teks is byna in die styl van kamermusiek. Dit is sielskommunikerend, maar op ’n werklikheidsvlak totaal geloofwaardig. Dit breek deur bestaande grense.” (Rapport, 7 Oktober 2001)

Harry wen ook in 2001 die Pendoring vir sy radioadvertensie vir ’n Bic-aansteker. Dit is nie die eerste keer dat hy ’n Pendoring wen nie – in 1995 het hy ook as die wenner uitgetree as kopieskrywer in die tydskrifte- en kleinhandelafdelings, en so ook in 1996. In 2004, om die Pendoring-reklamewedstryd se tiende verjaardag te vier, word Harry gevra om ’n spesiale toneelstuk vir die geleentheid te skryf. Die resultaat is sy agtiende toneelstuk onder die titel Wie is Spek Harmse en waarom skryf hy Afrikaanse advertensies? Hierdie stuk, tesame met Briewe aan ’n rooi dak en 25 vrouens, is in 2006 vir televisie verwerk en verfilm en op kykNET uitgesaai. Briewe is ook op DVD vrygestel.

Harry se drama Briewe aan ’n rooi dak word in 2005 deur Harry self gepubliseer in ’n bibliofiele uitgawe, met handgeskrewe briewe in koeverte. Dit vertel die storie van Magdaleen Otto, ’n vrou wat, soos sy ouer en meer eensaam word, briewe aan die bure se rooi dak skryf. Só leer die leser meer van Magdaleen se lewe ken en word die eensaamheid van bejaardes met net herinneringe en onvervulde verlanges waartoe om jou toevlug te neem, op ’n baie aangrypende manier uitgebeeld. ( Rachelle Greeff, Rapport, 15 Januarie 2006)

In 2006 skryf Harry die eenmanstuk Meneer de Beer, waarin die bekende akteur Frank Opperman speel. Dit word in 2007 verfilm.

In 2006 verskyn ook Harry se kortverhaalbundel, Groceries: 56 stories oor huishoudelike produkte, by LAPA-Uitgewers. In hierdie bundel kortverhale kan Suid-Afrikaners hulleself eien in die temas wat die skrywer aanraak. Die verhale se agtergronde wissel van ’n sendingstasie vroeg in die 20ste eeu tot in die woonstel van ’n Afrikaner in die 21ste eeu in die koue oorsee. Die stories het almal illustrasies by en by elke verhaal word iets uit ’n inkopiesak aangewend om die leser "te betower en weg te voer na hierdie realiteite." (Rapport, 3 Desember 2006 en Beeld, 4 Desember 2006)

In 2007 word Harry se roman, En die lekkerste deel van dood wees, bekroon met die tweede plek in die Sanlam Groot Romanwedstryd en verskyn dit by Tafelberg-Uitgewers.

Harry vertel aan Naomi Bruwer op LitNet dat En die lekkerste deel van dood wees ’n moordstorie met vyf kante is. "Dit gaan egter/dalk/miskien ook oor vyf verskillende soorte alleenheid. Magdalena Otto is so eensaam dat sy briewe aan die bure se rooi dak skryf. Haar seun Kobus is so alleen dat hy die hele tyd stoned is. Sy dogter Camilla is so eensaam dat sy crack rook. Die petty criminal Basil Apolis se alleenheid het fatale gevolge vir Magdalena, en haar man Isak is so eensaam dat hy weier om op te tree soos ’n ordentlike dooie behoort op te tree. Kortliks gestel, dis ’n familiesage waarop Springbokradio trots sou wees en enige sepiekyker sal geniet. ’n Verhaal wat elke moederhart sal roer en die verloop van die wêreldgeskiedenis gaan verander. Enige leser wat meer van ’n boek wil hê behoort hom/haar te skaam."

Op LitNet skryf Andries Bezuidenhout oor En die lekkerste deel van dood wees: "Die storie word vanuit verskillende oogpunte vertel, insluitende dié van ’n moordenaar en ’n vermoorde. Die skrywer verander as’t ware in vyf uiteenlopende persone.

"Daar is ’n bejaarde vrou wat briewe aan die huis langs haar se dak skryf, omdat sy niemand anders het om voor te skryf nie – Magdalena Otto.

"Daar is hierdie vrou se kleindogter – ’n popster in die VSA wat herstel van haar verslawing aan crack. Ons vind uit dat haar ouma in Suid-Afrika vermoor is – Camilla (Wolke) Otto. Hierdie gedeelte verwerk Harry Kalmer later in ’n volwaardige toneelstuk.

”Ons lees die transkripsie van kassette met die stem van die moordenaar – Basil Apolis.

"Ons lees die briewe wat die popster se vader aan haar geskryf het, maar nooit gepos het nie. Toe sy klein was, het hy haar verlaat om terug te keer Suid-Afrika toe – Jak Otto.

"Aan die einde van die boek kom selfs die oorlede man van die vermoorde vrou aan die woord. Hy dryf tussen siprestakke rond en wonder oor sy lewe en sy dood – Isak Otto.

"Dis ’n vreemde boek – amper soos ’n spookstorie – maar ek dink Harry Kalmer klim op ’n oortuigende wyse onder sy karakters se velle in. Die stories kom vir my heeltemal geloofwaardig oor. Met die lees daarvan het ek gevoel ek is besig om iets te lees wat geheel en al outentiek is. Daar is ’n paar redes hiervoor.

"In die eerste plek skryf Kalmer oor die Johannesburg wat ek ken. Dis nie die beskermde voorstede van Saartjie Baumann nie. Dis die kant van die stad waar Afrikaners maar net nog ’n groep immigrante is, waar ons op ’n manier in ’n kosmopolitiese mengelmoes verdwyn.

"’n Deel van die stad se onheilspellende ondertone kom uit as Camilla Otto wakker lê in die rehabilitasiesentrum in die VSA. Sy hoor honde in die verte blaf en dit herinner haar aan Johannesburg: 'Honde wat blaf. Haar pa wat die gordyne versigtig eenkant toe trek en buitentoe tuur om die oorsaak van die honde se onrustigheid probeer sien' (p 64).

"Dan is daar die moordenaar, wat ná ’n traumatiese bekendstelling aan Johannesburg deur die skuim van die aarde met ’n bebloede gesig op die sypaadjie gaan sit en sien die straat se naam is Mooistraat. Hy begin 'lag en lag en lag' (p 146).

“In die laaste gedeelte van die boek, oor die lewe van Isak Otto, word Johannesburg weer uit die verlede opgegrawe. Dis die herinneringe se detail en tekstuur wat dit so geloofwaardig maak. Isak se vriend Abdie se pa ry groente van die Newtown Mark af aan na sy groentewinkel in Troyville. Abdie se pa sê vir Isak se pa, 'Naand, baas Otto' (p 216).

"Hierdie is maar enkele voorbeelde om die punt te illustreer. Dis die tekstuur en die detail in En die lekkerste deel van dood wees wat ’n mens ’n ander blik op die stad gee. Ons kry ’n weergawe van Johannesburg wat dieper kyk as die oppervlakkige weergawes van 'suburb' en 'township'. Dis ’n stad waar regte mense woon. Hulle leef die geskiedenis deur hulle liefdes, teleurstellings en trauma. Hulle is mense wat nie instaan vir een of ander groot idee nie.

"’n Tweede rede vir die boek se geloofwaardigheid is die manier waarop daar oor musiek geskryf word. Een van die mees treffende tonele is waar Camilla Otto praat oor hoe sy voor sy op die verhoog gaan, met haar kop teen die muur gaan staan en toelaat dat die klanke van die bastrom en die baskitaar deur haar lyf gaan. 'Dan stoot sy haarself van die muur af weg en stap die kollig in wat haar aan die kant van die verhoog inwag. Al skree en gil die gehoor wanneer hulle haar sien, weet sy dat die beste deel van die vertoning reeds verby is ...' (p 109). (...)

"’n Laaste rede vir En die lekkerste deel van dood wees se geloofwaardigheid is die wyse waaroor [sic] daar oor buitestanders geskryf word, die mense wat nog nooit in die kassies van die groot ideologieë ingepas het nie – hetsy die nasionalisme van die Afrikaners of die Marxisme van die bevrydingsbeweging. Mense is kompleks en kan nie tot wette van die geskiedenis of stereotipes gereduseer word nie. Ek wil graag die boeke van skrywers lees wat die vervelige ou gesprekke oor misdaad en verval op ’n interessante manier aanpak en ’n mens op nuwe maniere daaroor laat dink. Maar sonder om maklike antwoorde te gee.

"Etienne van Heerden, Mark Gevisser en Harry Kalmer skryf op verskillende maniere oor hoe moeilik dit is om onder ’n ander mens se vel in te kruip, om op sy skouer te gaan sit, of om in haar skoene te staan. Ek dink nie juis ek gee om oor of dit in die vorm van ’n roman, oor die skryf van ’n roman, ’n roman, of ’n biografie is nie. Dis sulke eksperimente wat dit vir my die moeite werd maak om aan te hou bly in hierdie land waar dit meestal onmoontlik is om in tuis te voel."

Harry skryf tussendeur al sy ander bedrywighede ook vir die My tyd-bylae in Rapport die gereelde rubriek oor Vlieger. Dit is gesitueer in die 1970's en vertel van Vlieger wat tot sy ma en pa se ontsteltenis verlief raak op ’n Portugese meisie. Hy gaan weermag toe en bly wonder oor die moeilike tyd tussen kind- en manwees. Harry se skryfsels oor Vlieger is só gewild dat Harry dit in 2011 op versoek van die Woordfees as verhoogstuk verwerk met Ben Kruger in die rol van Vlieger. Die stuk is getiteld Vlieger unplugged, Die produksie vervleg voorlesings en voordrag en om die gebeure verder toe te lig, is daar ’n volledige klankbaan en videomateriaal.

In 2012 word Vlieger en die gevare van close dance by Queillerie uitgegee. Vlieger kry sy naam wanneer sy bal op die treinspoor beland waar die Bloutrein se buffer hom so op sy agterwêreld tref dat hy met 'n wye boog deur die lug trek, sonder om ernstige beserings op te doen.

In Beeld van 5 November 2012 skryf Dineke Volschenk: "Hierdie bekoorlike verhale oor die lewe in Suid-Afrika in die sewentigerjare word gepubliseer in Vlieger en die gevare van die close dance. Die skrywer het die vermoë om fyn detail te verskaf en hierdie verhale word terselfdertyd die verhaal van die grootwordjare en geestestoestand van die jong wit mense van daardie tyd."

Harry se volgende drama, Die Bram Fischer-wals, debuteer in 2012 in Bloemfontein. Die stuk speel af in die Pretoria Sentraal-gevangenis, waar Bram Fischer lewenslange tronkstraf uitdien nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy die kommunisme bevorder het en saamgesweer het om die regering omver te werp. (Beeld, 15 September 2014)

Die drama beeld Bram Fischer se lewe op geskakeerde manier uit, sodat nie net sy politieke ideale en sienswyses nie, maar ook sy menslikheid en Afrikanerskap belig word (Tydskrif vir Letterkunde, Lente 2015). Die Engelse weergawe van hierdie drama, The Bram Fischer Waltz, word in 2013 by die Grahamstad Nasionale Kunstefees opgevoer, waar dit 'n Silver Ovation-toekenning ontvang, en in 2014 word dit bekroon met 'n Adelaide Tambo-prys vir menseregte in die kunste. Die Bram Fischer-wals is in 2016 deur Wits University Press in boekvorm gepubliseer.

Die Bram Fischer-wals het ook ’n speelvak gehad by die Woordfees in 2013. Kalmer het met Stephanie Nieuwoudt gesels oor sy motivering om die stuk aan te pak: "Ek het dit seker maar gedoen in die vae hoop dat dit my geld in die sak gaan bring en ontsettend beroemd gaan maak. Ek dink liewers nie te hard oor my eie motivering nie. Bram Fischer is een van daai mense van wie ek dink ek iets weet maar eintlik niks van weet nie. My lewe is vol sulke figure – soos Freud, Jung, Marx en Mao. Soort van ’n kulturele ikoon. Ek het lank met die idee rondgeloop nadat ek Slangman se biografie as geskenk gekry het. Ek het meer oor Fischer gelees en probeer om uit te puzzle waarom hy sekere keuses gemaak het. Toe ek eers begin lees toe was ek verstom hoe min sy biograwe oor Afrikaners verstaan. Dit was dalk die motivering om die stuk aan te pak. Die sneller was toe ek dit aan Adri Herbert, programhoof van die Vryfees, genoem het en sy die geld bymekaar gemaak het wat die produksie moontlik gemaak het. En toe ek eers met mense begin praat wat saam met Bram in die tronk was – het ek besef ek het ’n wenner." (https://blogs.litnet.co.za/feeswoord/tag/bram-fischer)  

Harry erken teenoor Nieuwoudt dat hy nie met Fischer identifiseer nie, maar eerder ’n bewondering vir hom het. "Hy verteenwoordig ’n ander tyd, met ander waardes. ’n Tyd toe selfs politici nog integriteit gehad het. Hy het interessante keuses gemaak. Verstommende keuses (sommiges sal sê domastrante keuses), maar na die beste van my wete het hy meestal met integriteit opgetree. Hy voel ook bekend. Soos die ‘ooms’ waarmee ons groot geword het. Miskien net ’n bietjie jollier – Bram het van mense gehou en graag partytjie gehou. En dalk is hy ook effe meer medemenslik. Baie dinge van Bram was/is vir beide my en David (Butler wat die rol van Bram Fischer vertolk) geweldig bekend. Hy was uit dieselfde hout gesny as die mans wat my Afrikaanse, en David se Engelse kinderjare bevolk het."

Oor sy keuse van David Butler vir die rol van Fischer vertel Harry dat nadat hy een aand vir Butler gesien het, hy besef het dat hy nogal effe na Fischer lyk. En hulle het al voorheen saamgewerk: "Hy is wyd belese en het ’n literêre benadering wat my as skrywer aanstaan. Hy het ook ’n tegniese register en ’n verstommende stage presence danksy sy werk rondom Herman Charles Bosman. Hy en Nicky Rebelo is meesters van die one-hander. Hy het die rol aanvaar nog voordat ’n woord geskryf of ’n pennie in die bank was."

Die manuskrip van Harry se volgende boek, ’n Duisend stories oor Johannesburg, is in 2012 op die kortlys vir die Groot Romanwedstryd en in 2015 is dit op die kortlys vir die toekenning van die Universiteit van Johannesburg-prys, die WA Hofmeyr-prys, die ATKV-Prosaprys en die kykNET-Rapportpryse vir fiksie en in die rolprentafdeling. Dit is in Engels vertaal en in 2018 word dit met die Barry Ronge-prys vir fiksie bekroon.

Op LitNet is Johannes Bertus de Villiers die resensent. Hy skryf as volg oor ’n Duisend Stories oor Johannesburg: "Wanneer Harry Kalmer in sy aangrypende ’n Duisend stories oor Johannesburg die verhaal van die Goudstad vertel, gaan dit oor mense wat kom en gaan. Selfs by diegene wat in Johannesburg gebore [is] of grootgeword het, spook die stories van hul ouers en grootouers wat as ontwortelde Boere of Chinese trekarbeiders na die stad gekom het.

"Mense sou dalk kon verskil oor wie die hoofkarakter van dié gefragmenteerde roman, bestaande uit ’n aantal verweefde narratiewe, werklik is, maar die storie neem uiteindelik vorm aan rondom Zweig van Niekerk, ’n Suid-Afrikaner wat dekades reeds in Londen woon nadat hy en sy Indiërvrou voor die Ontugwet moes vlug. Zweig keer terug na sy Johannesburg om sy suster te besoek, maar selfs hy, wat hier gebore is, beleef die stad soos ’n vreemdeling en inkomeling. En vir inkomelinge brand die stad. Dis 2008 en 'makwerekwere' in die townships vlug vir hul lewens.

"Terwyl Alexandria brand, bly Zweig in ’n boetiekhotel in Belgravia, omring van die karakters wie se verhale (en familieverhale) die roman vorm. Hulle sluit in ’n Afrikaanse digter en die buite-egtelike dogter wat hy eers as volwasse vrou leer ken het. ’n Fotograaf wie se voorouers uit China Johannesburg toe getrek het. ’n Tsjeggiese immigrant. Die interessantste van dié karakters (en een wie se storie mens wens verder ontwikkel was) is ’n vrou uit Franssprekende Afrika wat in die gastehuis teen die vreemdelingehaat kom skuil. Mens verwag aanvanklik dié vrou gaan ’n belangrike narratiewe spil word waarom die roman uiteindelik grotendeels wentel. Parallelle word in die teks selfs getrek tussen Suid-Afrika se xenofobiese geweld en Kristalnacht, ’n gebeurtenis wat op ’n karakter uit ’n vroeëre generasie ’n bepalende invloed gehad het. Maar gaandeweg verdrink die tema van vreemdelingehaat so bietjie tussen die ander verhaallyne totdat mens teen die einde die indruk kry die skrywer het effens daarvan vergeet.

"Die struktuur van die verhaal beteken dat daar nog ’n paar voorbeelde is van storielyne wat onderbreek word sonder dat dit voel of hulle hul volledige verloop gehad het. Maar vernaamlik vorm die magdom stories egter ’n boeiende geheel.

"In die teks word herhaaldelik melding gemaak van ’n Duisend en Een Arabiese Nagte. Heelwat van wat al oor Kalmer se roman geskryf is, vergelyk die boek met dié klassieke Arabiese werk in die opsig dat mens dit (soos sommige werke van Italo Calvino en Felipe Alfau) op enige plek sou kon begin lees en steeds ’n samehangende storie sou aantref. Ek stem nie heeltemal hiermee saam nie. Ek het in ’n Duisend stories oor Johannesburg ’n besliste narratiewe boog gevind, gebou om die verloop van Zweig se besoek en die geleidelike onthulling van sy familiegeskiedenis (sy grootouers wat die Anglo-Boereoorlog, oftewel Suid-Afrikaanse Oorlog, oorleef het; sy pa ’n verloopte predikant wat in die 1950’s by die struggle teen apartheid betrokke raak).

"’n Interessanter vraag na aanleiding van die titel is eerder waar mens die 'duisend stories' van die titel sou aantref. Want op die oog af lewer Zweig en die ander hoofkarakters net ’n handvol verhaallyne op.

"Die krag van die roman – en ek moet benadruk dat dit ’n boeiende roman is wat ek, ondanks die meer as 300 bladsye, moeiteloos in een dag deurgelees het – lê daarin dat dit binne ’n stad geplaas word waar elke gebou ’n magdom stories vertel. Soms kry Kalmer dit reg om in een beskrywing van ’n straattoneel ’n hele wêreld van stories te suggereer; ’n duisend geskiedenisse van ’n stad wat vinnig opgeskiet het, uitspattig gebloei het, en nou in die nagloed van dié goue dae teen ’n vorm van selfverwoesting veg. (...)

"Baie selde is daar al in Afrikaans met so ’n ‘spirit of place’ oor Johannesburg geskryf. Geen leser wat al sy of haar hart vir Johannesburg gegee het, sal daardeur onaangeraak bly nie."

Ook Deon Maas (Netwerk24, 11 Augustus 2014) is beïndruk met ’n Duisend stories: "Die kort sketse dien slegs as ’n agtergrond terwyl Harry sy storie stadig ontbloot soos ’n ontkleedanser wat langer as net een Guns ’N Roses-liedjie vat om van haar klere ontslae te raak. Harry vertel die storie soos iemand wat baie ervaring het van stories vertel, seker nie ’n moeilike situasie as ’n mens 23 toneelstukke agter die blad het nie.

"Met elke scenario en nuwe karakter bring hy nog elemente na die storie om die donkerte waarin jy ronddwaal, ligter te maak. Hy verweef hierdie stories sonder om iemand af te skeep en dwing jou om bladsy op bladsy te lees al is dit al verbly slaaptyd.

“Sy karakterontwikkeling gebeur teen die agtergrond van goed nagevorste geskiedenis oor Johannesburg. Soveel so, dat jy op die einde besef dat Johannesburg vandag steeds dieselfde plek is as wat dit gedurende die tyd van die goudstormloop was – ’n plek waarheen mense kom met die hoop om ’n beter, nuwe toekoms te vind."

Vir Maas is die storie só suksesvol as gevolg van die manier waarop dit vertel word. "Dit is die teken van ’n skrywer wat sy selfvertroue en voete op dieselfde tyd gevind het. ’n Duisend stories oor Johannesburg is ’n ode aan die stad én die mense én hul stories. Ons kon vir niemand beter gevra het om dit te skryf nie."

Harry Kalmer se laaste boek voor sy voortydige afsterwe aan die einde van Julie 2019 is In die land van die voëls.

Johan Myburg vertel die storie van In ’n land sonder voëls op Maroela Media. Adam Burger is die hoofkarakter van hierdie verhaal wat iewers in die middel van die 21ste eeu afspeel. Na die chaos na die demokratiese verkiesing is ’n referendum uitgeroep. Die mensdom het gestem ten gunste van ’n ekonokrasie – in hierdie ‘utopie’ sou alle korrupsie, geweld en oorloë nie bestaan nie en die Korporasie sou aan die hoof van alles staan.

Ook die klimaat vorm deel van hierdie agteruitgang. Daar is ’n wolklaag tussen die aarde en die son, en wanneer die son wel deur die wolke skyn, blaas ’n sonfluit en moet almal hulle skutbrille opsit.

Die roman word in drie dele verdeel, naamlik "Fladdering", "Vlug" en "Land". Op Netwerk24 (23 Junie 2019) skryf Jean Meiring dat hierdie "dubbelsinnige binnetitels die verhaal se boog gelykstel aan die trajek van ’n voël.

"In die openingsdeel stapel Adam Burger se ek-vertelling in die hede in korterige flitse op. Hulle word deur ewe beknopte aflewerings afgewissel waarin Adam sy ontslape vrou, Sybille, uit die toekoms uit direk aanspreek. (...)

"In die tweede deel, ‘Vlug’, stu die verhaal terugblikloos vinnig in die hede voort, die hinterland se bloedbelope boskasie deur. En dan, in ‘Land’, word die hede-vertelling weer eens met die terugskouende gesprek met Sybille afgewissel.

"Uiteindelik besef ’n mens terdeë dat wat telkens as die waarheid voorgehou word, dalk iets volledig anders is. Só val die skille keer op keer van ’n mens se oë af totdat jy in die finale instansie nie mooi wys is wat wat is en wie se woorde geglo kan word nie."

Johan Myburg skryf as volg in sy resensie op Netwerk24 (24 Junie 2019): "Die 'beter lewe' wat aangebreek het, is die soort toekomsbestaan wat Aldous Huxley beskryf het in sy Brave new world van 1932, ’n boek waarvan hy die aard self bevraagteken het: Is dit satire, ’n profesie of ’n bloudruk? Kalmer se jongste roman laat ’n mens fladder tussen dié moontlikhede en laat jou heimlik hoop op satire. Wat jou laat twyfel, is ’n opmerking soos: 'Dalk is dit in die aard van beskawings om onbeskaafd te wees.'

"Aan die woord is Adam Burger, soos Huxley se hoofkarakter ’n soort alfa-man met inherente gebreke, wat as hy vir hom ’n nom de guerre moet kies, terugval op die naam Siener van Rensburg (hy kon net sowel X-Ray Visagie gekies het). Hoewel Burger nie meer vandag se kind is nie – hy het sy kwota mankemente, onder meer swak oë – het hy die visage van James Bond, Mick Jagger en straks Peter Pan.

"'Ek praat dalk die taal van onthou, maar ek het my leesbril vergeet,' sê Burger vroeg in die boek en kom later mank en met ’n kierie oor die weg. Dat hy verliese gely het, soos die Bybels Job, blyk uit die naam van sy dogter, Jemima (wat terloops tortelduif beteken).

"Hy is alleen – sy mense het hy verloor, nee, hulle is van hom weggeneem – en hy raak betrokke in ’n newelwêreld, ’n nagmerriewêreld waartoe hy toegang kry soos Alice na haar Wonderland deur ’n tonnel, kompleet met ’n sakkie 'drink my'-poeier, in sy geval gemerk 'vir die ouer ultrasportman'.

"Maar dan is hy ook Faustus en les bes, gered deur ’n man met die naam Moses, sélf Moses in sy hangmatbedjie. Name en die betekeniswêreld van name in dié roman rakel ’n parallelle bestaan van sy eie op, maar so ook die magdom multi-betekenisse wat dikwels gewoon tersluiks genoem word.

"Hoewel die verhaal in die toekoms afspeel, is die roman geanker in ’n herkenbare (Suid-Afrikaanse) landskap met ruim beskrywings van ’n hinterland met fauna en flora en hedendaagse produkte, wat nogal dikwels as 'outyds' beskryf word. Daarmee saam betree jy tegelyk die onbekende, wat jou versigtiger laat lees en twee maal laat dink voor jy aanvaar jy snap volledig.

"In wese is die boek veel lywiger as wat ’n mens kry tussen voor- en agterblad. Reken jy die wêrelde van die verwysings in, veral na musiek (moontlik ook as ’n soort klankbaan) én godsdiensbeskouings en godsdienstige dokumente, kom jy onder die indruk van die verwikkelde aard van dié roman, van die gelaagdheid en die onderbeklemtoonde maar sekure hand waarmee Kalmer skryf. Ná hoeveel boeke weet hy nie net wie sy lesers is nie, maar ook waar sy meesterskap lê.

"Kalmer bied ’n rykdom dis- of eerder anti-utopie waarin die leser nuuskierig haar of hom kan verlustig. Bo en behalwe die goeie storie wat Kalmer vertel. Die boek het immers die opdrag: 'Vir my lesers'."

Tydens die Woordfees in 2019 op Stellenbosch gee Harry saam met die visuele kunstenaar, Hannelie Coetzee, die lapboek Die agtste plaag uit. Dit is saam met ’n vrouehandwerkkring in Hillbrow gemaak en is onder andere geïnspireer deur ’n rooi lapboek uit Harry se kinderdae.

Dit vertel die storie van ’n Hollandse skoolmeester wat gedurende die Anglo-Boereoorlog aan die kant van die Boere geveg het en deur die berugte krygshof van Wolmaransstad gefusilleer is.

Hy was dus ’n verraaier, maar, vertel Harry op die Woordfees, "eerder van sy eie idealisme as van ’n nasionalisme”. Hy het aan die Boeresaak geglo, maar tydens sy vrou (Esperance, wat Frans vir “hoop”) se derde swangerskap besef hy oorlog is nie vir hom nie.

"Die boek is ’n liefdesverhaal van twee outsiders – Martruid ('Die kindermeid' en 'bywonersweeskind’) en die Hollandse skoolmeester wat sprinkane in bottels aanhou.

"Ek was mal oor Hannelie se landskapkuns 'Locust & Grasshopper' in 2017 toe sy reusagtige swart prente in die wintergeel gras in die koppies rondom Nirox se beeldpark gebrand het. Toe sy die storie lees en afkom op die sprinkaanversameling van die Hollandse skoolmeester het dit tot haar gespreek.

"Ekself verwys in Die Bram Fischer Wals na die Britse soldate wat Bloemfontein inneem as sprinkane. Die sprinkaan bied ons ’n geleentheid om ’n menslike storie te vertel met die oorlog as agtergrond. Metaforiese reportage eerder as ’n visuele 'show and tell'. Oorlog; die sprinkaan wat ’n verwoeste aarde agterlaat in sy wake.

"Hannelie en ek deel ’n belangstelling in 'verborge geskiedenisse'. Daarom is ons bly dat Ingrid Winterbach, [wat] dikwels self ’n sonderlinge blik op die geskiedenis bied, met ons gesels by die woordfees. Ons was ook gelukkig om ons pel Glenda Venn, die aweregse grafiese en boekskepper en hoof van Istago! Communications aan boord te kry om met die uitleg en drukproses te help.

"Hannelie se vrou, die skrywer en kunstenaar Reney Warrington, het ’n kort film geïnspireer deur die boek met ’n voice over deur Mariëtta Kruger (TBC) [te skiet].

"Die boek self is ’n labour intensive job en Hannelie sit elke dag saam met lede van die Boithumelo Sewing Projek in Hillbrow daaraan en werk.

"Sy en ek is altwee Gereformeerd groot gemaak dus is die 'Psalmboek formaat' nie toevallig nie. Net soos 'die kantwerk' wat die boek omsoom ’n verwysing is na Emily Hobhouse se kantwerkprojekte saam met die boerevroue na die oorlog."

Ná Harry se afsterwe sê Hannelie aan AJ Opperman (Die Burger, 27 Julie 2019) dat Die agtste plaag Harry se idee was, "maar hy het respek gehad vir wat ek doen. Dit was regtig deel van sy persona om saam met iemand iets te skep en oop vir voorstelle te wees. Hy was ’n baie spesiale kunstenaar. Dit was sy Nuwejaars-brainwave in 2018 en verlede jaar het ons in die winter bier gaan drink en daaroor begin praat."

In 2018 is kanker by Harry Kalmer gediagnoseer. Op 26 Julie 2019 is hy in Johannesburg aan keelkanker oorlede. Hy laat sy vrou Sanpat en twee kinders agter.

Huldeblyke

  • Jeanette Ferreira: "’n Briljante skrywer en ’n mensch. Altyd die lewe lig aangepak – oënskynlik. Waarskynlik omdat hy ’n ware filosoof was. Voorspoedige reis, Harry." (Facebook)
  • Marcel van Heerden: "Dit is vir my ’n groot kompliment dat Harry altyd gesê het ek het hom gehelp om in teater te kom. Maar ek voel ’n baie persoonlike verlies. Ons was huisvriende en ons seuns was saam in die klas. Dit was vir my ’n groot kompliment dat hy die stuk Weg in 2017 vir my geskryf het. Ek het geweldig baie respek vir hom gehad as skrywer. Ek is bly dat toe hy siek geword het, daar ’n dringendheid by hom ingeskop het om aan te hou werk." (Die Burger, 27 Julie 2019)
  • David Butler: "Dit was ’n reis saam met Harry. Ons is ook bevriend en in 2011 het hy my vertel van ’n idee wat hy het. Daar was nie ’n teks nie, maar omdat dit Harry is, het ek dadelik ja gesê en ’n paar maande later was daar ’n teks. Ons het by my huis gerepeteer. Ek het hom as ’n skrywer vertrou. Daar was 'n short hand tussen ons." (Die Burger, 27 Julie 2019)
  • Hans Pienaar: "Harry was my sielsgenoot, my broer, my kameraad. As skrywer het Harry onvergeetlike karakters geskep en hy was een van die beste humoriste in enige taal in Suid-Afrika. Vir sy vele vriende het hy lojaliteit bo alles gestel; hy was ’n ware mensch met ’n diep insig in ons lewens. My kinders sê hulle onthou die warmte van ons aande saam. Hy het ons male sonder tal vermaak met sy unieke humorsin; daar het nooit ’n onoorspronklike woord oor sy lippe gekom nie. Sy heengaan laat ’n groot gat in my lewe." (Die Burger, 30 Julie 2019)
  • Corné Coetzee, Hans Pienaar se vrou: "Ek wil skaars glo dat ons vriend van meer as drie dekades nooit weer met ’n bottel wyn by ons stoeptrappe sal opstap nie. Hy kon lekker kuier omdat hy in byna alles, en bowenal mense, belang gestel het. En hy kon luister. Sy geesdrif oor dinge was wonderlik. Oor ’n boek wat hy gelees het, ’n toneelstuk, ’n plek, ’n song, ’n spesiale gereg wat Sanpet gemaak het. Harry het dikwels verwonderd gesé: 'Die beautiful!' Een van die heel mooiste goed was sy liefde vir sy kinders en sy vrou. Ek dink dis in een van sy kortverhale dat ’n karakter na sy vrou van baie jare sit en kyk, en hy dink: 'EK besef ek is nog steeds verlief op haar.' En almal wat vir Harry en Sanpat geken het, weet dit is geen persona nie, dit is Harry wat self hier praat, uit sy groot, liefdevolle hart uit." (Die Burger, 30 Julie 2019)
  • Schalk Schoombee: "In 1991 was my eerste onderhoud vir De Kat met Harry, die kopieskrywer, vir ’n artikel oor Afrikaanse taalmense in die reklamebedryf. Toe al was hy behep met die woord, slagreëls, klingels, hoe woorde vlytig ingespan word om enige produk te verpak. Maar Harry wou ook wyer gesels, oor skrywers, filosowe en boeke waarvan ek niks geweet het nie, oor politiek, idees, denkrigtings. Hy het oorgeloop met konsspte en gebroei oor projekte. Een beroep kon hom kwalik definieer. Later sou hy in ’n radioveldtog vir dié glanstydskrif met die ongeveinsde slagreël vir Nataniël vorendag kom: 'Maar koop net die bleddie ding!' (...)

"Harry was altyd aan die lees, herlees en navors, onversadigbaar en byna obsessief, maar hy was geensins koesterend oor boeke. Hy wou nie boeke opgaar nie, het hy my meegedeel, eerder weggee. Plek maak vir die volgende ontdekking en leesavontuur. Sy nugter kyk op sake blyk uit elke sin en paragraaf van sy werk. Oogklappe is daar nie. In een onderhoud het hy gebieg dat hy altyd geboei was deur 'verskuilde geskiedenisse', stories wat onvertel gebly het. Sy verkennende gees en dikwels eksperimentele aanslag was trompop, onthutsend en gestroop.

"Hy was deeglik bewus van neigings in die letterkunde, maar kon sy eie koers onbeteueld inslaan. Stories was belangriker as postmodernistiese speletjies; resensente moes dans om by te bly met die veelheid van narratiewe drade, karakters met kruiskulturele identiteite, die wye belangstelling van ’n outodidak, aanhalings en fragmente wat hy om ’n tema geweef het." (Die Burger, 30 Julie 2019)

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Keur van artikels oor en deur Harry Kalmer beskikbaar op die internet

 

Bygewerk: 2019-08-14
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

The post Harry Kalmer (1956–2019) appeared first on LitNet.

Decolonise medisyne

$
0
0

Hospitale en die hele mediese biesagheid is net gemaak vi ryk mense. As djy nie kan betaal lat jou gesondheid kan gesien wôt as iets wat belangrik issie, dan moet djy maa sit in ʼn lyn en wag. En soms moet djy sommer in daai stoel sit terwyl djy getreat wôt, wan daa issie ʼn bed vi jou nie. En djy hoefie te kla nie wan djy’s in daai stoel op skuld. Hoeveel mense moet nog onodig suffer en onodig dood gan soedat die Big Pharmas en die dokters met dik sakke vol geld staan?

Dis soes die hele storie van die drugs en illegal guns wat in Suid Afrika lê, iemand baat hievan, wan is net hulle wat kan agteoo sit en smile deu dit.

In Australia is hulle nou biesag om vêdere navorsing te doen oo hoe dagga mense kan help, van kinners af tot grootmense. Dis ooral op Facebook hoe dagga al is wat djy nodig het om kanker en soeveel anner siektes te behandel. En reg genoeg, dis Facebook, en mens kan oekie alles gloe wat Facebook vi ʼn mens vetelie. Daa is ʼn groep mense in Australia wat Dagga groei en die olie wat hulle van Dagga maak veniet veskaf an mense. Maa sien die wet, en wette van die wêreld wil nog steeds hê dat mens moet jou eie liewe in anner mense se hanne sit, net ommat hulle Minister Dit, of Dokter Dit genoem wôt.

Wat my die kwaadste maak van allie wette en die sugte wat tien dagga is, is die feit dat dagga soe swat gesmeer is deu die gawements van die wêreld lat die mense op die grond, die wattie mediese fondse kan bekostigie moet skarrel, en hulle liewe in gevaar sit om by die medisyne uit te kô, dis nou narrat hulle ees moet baklei tien die stigma wat hulle in hulle self dra oo dagga.

Ek dink myself in, wat as ek moet die groot K moet kry, en die ienigste ding is dagga wat my sal kan help. Ja, om jou sisteem vol gif, soes dit wat hulle gebruik vi kankerpasiënte, is siekerlik bieter dan om die dagga bos se olie te drink. Wan dis wat die wette sê. Djy moet betaal om jou sieker te maak, en hoep djy wôt bieter, dan om die goed te gebruik wat die natuur, wat Got an ôs veskaf?

Wat ek nie kan vestaanie is die feit dat in Afrika in, dat die gawements van Afrika nog steeds die wette ophou. Wette wat hie gebring was mettie skepe wat die koloniseerders gebring het. Soe die wette wat die Baas hie gebring het is goed genoeg en dis reg volgens hulle. En soe kan ʼn mens opgesluit wôt vi langer as wat moordenare en vekragters opgesluit wôt net ommat ʼn mens ʼn plant wil groei wat ʼn mens se gesondheid kan vebieter? Kyk nou in Suid-Afrika, hoe daai paartjie, Julian Stobbs and Myrtle Clarke, wat in hegtenis geniem was ommat hulle dagga gegroei het, moes baklei net lat hulle die reg kan hê om hulle gesondheid keuses op hulle eie kan maak. In Namibia wee, was daa an die begin van die jaa ʼn antie, Cheryl Green, wee in hegtenis geniem ommat sy dagga gegroei het om haa man wat lei an ʼn terminal siekte te help om sy leiwe bieter te kan liewe.

In Amerika, waa die hele storie, volgens my, van die onwettigheid van dagga begin het, het 33 van die Amerikaanse state dagga wettig gemaak vi mediese gebruik, 33 state. Nou kan ôs gawements dan nie ʼn bietjie dinkie? Kyk vi Kanada en hoe hulle nie net hulle mense ʼn kans gegie het om keuses oo hulle eie gesondheid te maakie, maa die biljoene en biljoene rande wat gemaak wôt deu die vekoep van dagga en daggaprodukte.

Maa al wat ôs gawements kan an dink is oo die wette wat vi hulle voogeskryf was, en die leuens van hoe Dagga die kleinhekkie is na die grotere drugs toe. Wat van drank? Wat van suiker? Wat van plek soes KFC en MacDonalds? Alles goed wat hoogs addictive is, maa dis wettig. Goed wat jou gesondheid lat val is wettig, maa dagga wat jou gesondheid kan lug issie?

Dit stink! Die hele ding stink!

Ja, ek wiet, volgens die Con Court is Dagga ampe free, maa watter T&C’s gan by gegooi wôt vi elke dag se mense om dit te kan gebruik, groei en vekoep? Die land lyk al klaa soes dit lyk volgens unemployment, dink jou net in hoeveel wêkke kan geskep wôt?

Ek roep nie net vi die legalisation van die daggaplant en al haa goeie goed nie, maa oek dat mense kan die vryheid het om die plant te groei, en vesprei soes hulle wil. Hoekô moet daa nou net ʼn paa mense wies wat kan maak en doen? Decolonise dagga, nie net in Suid-Afrika nie, maa in Afrika. Ôs het mossie net nodig om staat te maak op wat die Weste dink is bes nie, wat van die Ooste, en wat van ôs eie kennisse?

Legalise it!” het Peter Tosh gesê.

Dankie vi julle onnersteuning. Sal likes om te hoo wat julle dink oo dit.

The post Decolonise medisyne appeared first on LitNet.

Die oorkantste oewer deur Abel Pienaar en Flip Schutte: ’n resensie

$
0
0

Die oorkantste oewer
Abel Pienaar & Flip Schutte
ISBN: 978-1-928426-44-8
Naledi

Die oorkantste oewer – spiritualiteit anderkant godsdiens is ’n redelik sensitiewe onderwerp wat Pienaar en Schutte waag om saam te vat in ’n baie interessante en inssiggewende (en omtrede) boek. Dit sal sekerlik nie in almal se kraal val weens die godsdienstige aard en ons Suid-Afrikaanse konserwatiewe uitkyk nie. Die punte wat uitgewys en aangehaal word uit die Bybel is geskoei op besliste feite. In vandag se dag en datum kan dit nie gerieflikheidshalwe net meer misgekyk word nie: die Bybel is geskryf deur mense. Dit is menslike waarnemings, vertolkings en oorvertellings, wat baie spasie toelaat vir miskonsepsies. Hoofstuk vir hoofstuk neem die skrywers die leser deur die veranderende tye en hoe die Christelike geloof (moontlik kan) aanpas by hedendaagse tye.

Deel 1 fokus op "Gister se oewer" en opvattings van ouds in die onderskeie testamente. Deel 2 handel oor "Die oorkantste oewer en veranderende tye". Let wel dat die skywers albei lidmate van die Renaissance-gemeenskap is en die boek vanuit dié gemeenskap se vertrekpunte geskryf is. Daarom meer oor die skywers onderaan.

Beide skrywers is dit eens dat ons in ons denke oor God en lewe die blik op die kosmos moet integreer. Ons moet besef dat ons binne ’n verweefdheid met alles om ons leef; dit sal meebring dat ons die lewe hier en nou sal sien as heilig en daarvolgens wíl leef. 

Beslis ’n baie interessante en insiggewende lees en ek glo dat dit elke leser aan die dink sal sit en hou.


Abel Pienaar is direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit en hoofleraar van Renaissance, ’n spirituele gemeenskap in Pretoria. Hy het twee grade in Teologie en ’n doktorsgraad in Filosofie van Godsdiens. Hy het vir elf jaar gewerk as voltydse leraar in die Ned Geref Kerk in ’n makrogemeente in Pretoria en tot die Sinode se direkteur: Sentrum vir Spiritualiteit, verkies tot hy in 2006 uit die NG Kerk bedank het. Hy het al in verskeie tydskrifte verskyn, artikels geskryf, aan boekpublikasies as mede-skrywer gewerk en in radio en TV programme opgetree. Sy eerste boek, Saam op soek na God: Soeke na ’n eietydse spiritualiteit, is in 2010 gepubliseer. Hy publiseer ook God se Oë is Blou. Sy derde boek, Die Dans met God, is in 2015 by die Stellenbosch Woordfees as die beste leefstylboek van die jaar bekroon. Sy nuutste boek, Tao Te Ching, Boek van die Weg verskyn in 2016. In 2017 Power of Calm en einde 2018 ’n medewerking met Flip Schutte, Die Oorkantste oewer. Abel is getroud met Zelda en het vier kinders en ’n kleinkind.

Flip Schutte het Teologie aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en grade BA en BD behaal. Hy het 'n Honneurs in Semitiese Tale gedoen. Hy het ’n D Th in Praktiese Teologie aan UNISA behaal en sy derde doktoraal, ’n Ph D in Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria.

 Hy was vir 17 jaar predikant van die Hervormde Kerk voordat hy in 2003 as predikant bedank het.

Sy eerste boek, Diaspora van die nuwe Christene het in 2010 verskyn en Spiritualiteit, modewoord van ons tyd is sy tweede boek. Hy is ’n spirituele begeleier by die Renaissance-gemeente in Pretoria. Hy gee ook deeltyds klas by Damelin Business College waar hy Projekbestuur en Besigheidsleierskap doseer. Hy is getroud met Carina Schutte en het vier kinders.

The post <em>Die oorkantste oewer</em> deur Abel Pienaar en Flip Schutte: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die reënroeper bring hoop

$
0
0

vandag loop die springbokooi kop omlaag
snuiwend na opgedroogde vog en
onder die kameeldoringboom
herkou die gemsbok moeg
met stofdeurdrenkte speeksel 
die verdwaalde omkrulpeule 
in hoop vir nuwe krag

daar waar die duine 
se rooibruin stof dwarrels draai
sterf die dag van hitte-uitputting en
tot die gekko verdwaal op sy spoor

iewers tuur ’n Godsman na bowe
fletsend soek en speur sy oë
oor die kim se rooi
na ’n vuisvolwolk
wat in genade sal lek
windlangs sweef
vertroostend die
reënroeper se klanke

dan as die eerste druppels 
in die dorheid plof
vlam die mens en dier
se harte vol hoop

Ook deur Anzé Bezuidenhout:

Revolusie

Alcatraz

The post Die reënroeper bring hoop appeared first on LitNet.


Harry Kalmer, ’n persoonlike huldiging

$
0
0

(’n Klein persoonlike huldiging gelewer by die Mabel Malherbe Leeskring, Pretoria op 1 Augustus 2019)

My hart is seer oor die dood van Harry. Soos almal wat hom geken het, voel ek persoonlik beroof. Iemand op Facebook se reaksie op die nuus van sy dood het net soos myne uit een woord bestaan: “neeeeeee!!”

Party goeie kennisse en vriende kry jy ook lief. Al bestryk iemand se lewe net ’n deeltjie van joune. Dit gebeur dit wanneer iets in daardie mens met jou resoneer. ’n Groot deel van Harry se grinterige leef- en verwysingswêreld was naamlik vreemd aan myne. Maar nie sy menswees nie. Hy was 15 jaar jonger as ek. Hy het eendag gevra: “Hoe voel dit om so oud te wees?” Ek het nogal gesteurd geantwoord ek voel nie deur ouderdom gedefinieer nie. Maar ten dele definieer ouderdom jou wel. Hierdie was ook ’n vriendskap tussen ’n Christen-gelowige Pretoria-ouma en ’n Johannes-burger, agnosties, alternatief, in sekere opsigte rebels, rusteloos, bevraagtekenend. Stimulerend.

Harry was ’n briljante mens met ’n enorme verwysings- en belangstellingswêreld: kuns, argitektuur, die geskiedenis van Johannesburg, jazz, populêre en ernstige musiek en musikante, maar veral boeke. Van die lekkerste boeke wat ek nog gelees het, het hy vir my aanbeveel. Met die skryf van 1000 stories oor Johannesburg het hy vir my gesê hy’s altyd bang mense dink hy wil met sy belesenheid te koop loop, hy doen gewoonweg groot moeite om dit nie te laat wys nie. Maar met dié boek het hy besluit, ag wat, hy gaan dit ’n keer net geniet en erken en laat waai.

Ons het gekonnekteer tydens ’n skryfpad wat ons saam gestap het, en daarna vriende gebly. Hy het my vertrou om die manuskrip van sy Johannesburg boek te lees en daarop kommentaar te gee. Toe ek sukkel met ’n toneelstukkie vir ’n skoolhandboek, het hy as deurwinterde dramaturg my wonderlik en gul gehelp en ’n hele nuwe perspektief vir my oopgemaak.

By skrywerokkasies het ons mekaar telkens gou opgesoek en in ’n absorberende gesprek geduik. Ek dink ons het albei die woorde verstaan wat die ander een sê. Ons het nie net oor skryf gepraat nie. Ons het ook oor lewe en menswees en verhoudings en gesinsgoed gepraat.

Baie mense verwys na Harry as ’n ware Mensch. Hulle praat van sy sagtheid, sy entoesiasme en sy liefde vir kuier. Van sy deernis en emosionele sensitiwiteit. Van sy liefheid. Van sy omhelsende liefde vir sy twee kinders en veral sy vrou Sanpat.

Harry het oor indrukwekkende werksywer en dissipline beskik. Kopieskryf het sy woordvaardighede geslyp. (Hy was die outeur van Nataniël se woorde in daardie klassieke De Kat-advertensie wat amper ’n volksêding geword het: “Koop net die bleddie ding.”) Hy het koerantrubrieke, minstens agt boeke, en amper 20 toneelstukke geskryf. Hy was baie nederig oor sy skryfwerk, soms onseker daaroor, want hy was ongetwyfeld lank as skrywer onder-erken, onder-waardeer. Nogtans het hy al met X-ray Visagie en die vinger van God ’n amper-kultus aanhang by ’n bietjie anti-establishment jonger lesers gehad. Sy volgelinge het daarna stadig maar seker gegroei. Tot hy skielik as hoofstroom beskou is! Ek is verheug dat hy dit kon ervaar om uiteindelik erkenning en toekennings te kry, veral oor die groot ophef wat oor die Engelse vertaling van 1000 Stories gemaak is. (Terwyl die Afrikaanse oorspronklike wat ek as ’n wonderlike boek beskou en wat uitmuntende resensies gekry het, eenvoudig nie herdruk is nie.) Sy skryfwerk was gestroop en minimalisties, gekenmerk deur bondige, amper aforistiese sinne, kort-kort paragrawe, hoofstukke en verhale. Party stories skaars ’n halwe bladsy lank. Onderbeklemtoon en subtiel, telkens met ’n onverwags-treffende punchline. Daarin was humor en tragiek ineengestrengel. Hy was soms verskriklik snaaks.

My destydse buurvrou het magteloos oor die dood van haar kind gesê: “Dis ’n skade.”

Harry se dood is ’n skade.

Toe hy siek geword het, so vertel sy skrywersvriende, het hy verwoed begin werk. Ek het gisteraand op sy Facebook-profiel ingegaan. Op 17 Mei, ’n dag voordat hy die eerste skrywerskopië van ’n Land sonder voëls gekry het, het hy die volgende geplaas:

“Nog nooit so hard gewerk om 'n boek klaar te maak. A deadline that can't be moved.”

 

The post Harry Kalmer, ’n persoonlike huldiging appeared first on LitNet.

Bybel in Kaaps: Job 2

$
0
0

Satan Praat Wee Met Die Jirre

1 Die seuns van Got het eendag wee voo die Jirre veskyn, en Satan was oek wee daa voodie Jirre. 2 En die JIrre het vi Satan gevra, “Waa kô djy vedaan?”

Satan het vi die Jirre geantwoort en gesê, “Ek was ooral oorie wêreld, ek het hien-en-wee oorie wêreld gan, en van die een hoek naarie anner oorie wêreld geloep.”

3 Toe sê die Jirre vi Satan, “Het djy my dienaar Job gesien? Daa is niemand op die Aare wat soes hy issie. Hy’s ʼn man wat niks vekeet doenie, ʼn opregte man, ʼn man wat bang is vi Got en, en wat tien alles staan wat godeloos is. En nog steeds is hy die selle man wat hy gewies het, al het djy my gesê om hom te lat swaa kry het hy as man nie veannerie. Hy doen nog steeds wat reg is.”

4 Satan antwoort toe die Jirre en sê, “Maa kyk vi Job, hy’s nog stêk en gesond. Ja, ienige mens sal alles gie wat hy het net om te liewe. 5 Maa as U moet U hand oo Job nou moet uitstiek en sy liggaam anraak  dan sal hy vesieker vi U vevloek.”

6 En die Jirre sê vi Satan, “Djy mag met Job doen wat djy wil, maa djy mag hom nettie dood maakie.”

Job Raak Siek

7 Soe het Satan weg van die Jirre afgegan, en hy het vi Job gat siek maak. Job se hele liggaam het vol slegte sere geraak, van die sole van sy voet af tot boe op sy kop. 8 Job het ʼn stuk van ʼn kleipot afgevat, en hy’t homself daamien gekrap tewyl hy op ʼn ashoep gesit het.

9 Sy vrou sê toe vi hom, “Hoekô hou djy nog an om ʼn goeie man te wies? Vevloek vi Got en dan kan djy sterf!”

10 Maa Job sê toe vi haa, “Djy praat nou soes ʼn vrou wattie vestand hettie. Soes ôs die goeie dinge van Got af anvaar, moet ôs dannie oek die slegte dinge anvaarie? Terwyl al die goed gebeerit, het Job nie eenkee gesondig met sy montie.

Job se Drie Vrinne

11 Drie van Job se vrinne het gehoo van allie slegte dinge wat hy oogekommit, en elke-een het van sy huis af gekô, Elifas het uit die land van Temen gekô, Bildad het uit die land van Suag gekô, en Sofar het uit die land Naäma gekô. Hulle het saam besluit om tot by Job te kô, en saam vi Job te wys dat hulle jammer is vi die goed wat met Job gebeerit, hulle wou daa wies vi hom.  12 Toe hulle nog oppad was na Job toe, toe sien hulle hom van vê af, maa hulle het hommie geken nie, van Job het heel annes gelyk. Job se drie vrinne hen amal klip hard beginte huil. Hulle het hulle klere van hulle self afgeskeu en elkeen het stof op hulle eie kop gegooi. Job se vrinne het vi siewe dae en siewe nagte lank by hom op die grond gesit. Hulle het niks met hom gepraatie, wan hulle kon sien dat Job se droef baie swaa was.

The post Bybel in Kaaps: Job 2 appeared first on LitNet.

Die aap op jou rug – ’n idioomboeket

$
0
0

Laat ek vandag maar bieg
sonder ylpraatjies of om te lieg
oor hoe jakkals ’n honger hart
met mooi broodjies kan bedrieg;
soos daai aap op die rug
wat jou hinkepink laat swig
jou kognisie katswink laat
met vier stewels in die lug

– té laat vir jou –
om ’n vurk in die hef te steek
glip hy sy aap uit die mou
– te gou –
het liefde deur die mure
van Jerigo gebreek
met jakkalsdraai beloftes
wat met leuens vetgestop is
en ’n slapriem
wat die hart op horings neem –
wyl jy jouself horende doof
oor ’n dooie rot verheug
skop hy nes agter die kraalmuur
waar hy owerspel kan pleeg

en – as spyt jou ooit ’n snotklap
met die stiegriem toedien
onthou hoe jy die mistrap
deur die vingers kon sien …

***

Nota van die digter: ’n Idioomboeket is ’n digvorm wat hoofsaaklik, soos die naam aandui, uit ’n versameling of rangskikking van idiome en slagspreuke bestaan. Dié digvorm word gebruik om ’n probleem indirek aan te spreek en sodoende ook ’n lewensles te openbaar. ’n Feit, hartsaak of ware gebeurtenis kom deur middel van ’n mengelmoes van slagspreuke (wat saam sin maak) op ’n komiese wyse op die lappe.

Ook deur Loretta Szikra:

Le quattro stagioni

The post Die aap op jou rug – ’n idioomboeket appeared first on LitNet.

To that young woman eating watermelon

$
0
0

(for the poet Harry Owen)

The egoist, the narcissus, well, she’s in bloom.
She’s Witness. She’s young and beautiful, just
like my typewriter. When she talks, the men
draw near to her. They want her bad. Her coral
lips. Her mother bird is drowsy. I’m in need of
an explanation. Why just love one daughter and
not the other? The Witness has icicles for eyes.
She really has it in for me this time. Check the
worry in my eye. Check my pulse. Is my heart
still beating? I am in need of a blood transfusion.
Her moonlit tongue lectures me. Her hair is
made out of lust, November. You don’t really
care about my poems. Your mind is made out-
out of summer leaves. I make threadbare notes
on her skin. She’s leafy. Her arms are tragic
branches. She would turn it around on me. Tell
me I’m a tragic one. Tell me that she lives well.
Show-off! You shove daylight out of sight. Flames
lick desire, lick flock, dark-bitter chocolate. She’s
capable of listening to the stars’ balancing act.
The image of camouflage resides there, too, in that
act that she clings like an actor to. The campaign
that she’s been strutting, I’ve had my share. Enough,
you little show-off! You heathen, or if it is by your choice,
atheist, then, if it pleases you. Are you happy? It
must make you happy to make me sad. I smile and
pray and recover and relapse. Off with me to the
lunatic asylum. The day’s scarlet multiplies in this
tranquil cocoon. I tell myself, here, I can be me. Here,
I’m as safe as brick houses. I don’t hope that this
reaches you. It’s too late. Never mind. You’re late,
my girl, my sonnet, my apparition, my Witnessing
prophet. Here is the wedding of leaf and darkness.
You’re the footballer’s sweetheart. I’m hungry for
her crooked little heart. To be honest, for me, it is like
wearing my heart on my sleeve. It’s like water off a
duck’s back. I sup alone. I want to know what the
meaning of having a supernatural life means. To the Witness,
well, she doesn’t acknowledge God in her life.
The world down low is a green triumph. I want
to say to her face, “Hello, love, long time no
see, my sweet Cleopatra. Do you know who I am?”

Also by Abigail George:

Never going back

Wherever the soul comes from

Yes, you heal the ground I walk on

 

The post To that young woman eating watermelon appeared first on LitNet.

Nuwe geskiedenis

$
0
0

Hierdie rubriek is 'n huldeblyk aan Neville Alexander (1936-2012)

Aweh. Ons is twee dekades diep in Demokratiese Suid-Afrika en rasklassifikasies is nog steeds die orde vannie dag met die implementaties vrylik ten toon gestel deur die verspreiding van natuurlike hulpbronne na verskeie marginalised gemeenskappe regoor die land. As 'n gevolg spawn radikale uitgroeisels soos Black First Land First (BLF) en G@tvol Capetonians, wat groot ripples op die sosio-politieke terrein veroorsaak het en as 'n spieël die ontstellende waarheid weerkaats het van die wêreld se huidige "ekonomies, mees ongelyke land" (Wêreldbank, 2019).

Die letsels van onenigheid brand tot in Westbury, Jo'burg, waar een van haar gemeentelede lostrek gedurende 'n BBC interview gelei deur Vauldi Carelse:

If you have an identity crisis, you don't know who you are. The problem we have in our area here is that people don't know who they are. And history has been distorted. So much so that even the coloured believes he's a coloured. This identity was forced upon us firstly, by the colonialist, then the nationalist government and now the democratic dispensation.

Check die link uit vir meer: https://www.youtube.com/watch?v=OQpt7B3xCn8

Rassistiese identiteite dra die potensiaal vir volksmoorde as ons kyk na historiese Rwanda, Nazi-Duitsland en ander lande. So, waantoe dan nou met die constant segregation and regstellende aksie wat nog steeds operate volgens racial fault lines? Daar is steeds baie wat hoop dat die post-apartheid dispensasie die pad sal vind na 'n klaslose en nie-rassige werklikheid.

Onthou om te Vergeet

Opgekookte konsepte en persepsies van rassisme het die Kaap soos 'n virus getref en vergif vir driehonderd jaar sedert Nederlandse kolonialisme via die VOC, gevolg deur Britse imperialisme en die Boere-republiek met die inhuldiging van die apartheidregering. Die argitekte kon feitlik net die karaktereienskappe volgens ras kategoriseer as blote konstrukte en nie beskrywings van die wese nie. So, daarmee gesê is elke sogenaamde ras nie 'n "biologiese feit" nie en kan dit geherorganiseer word.

Die Pil

Nie-rassigheid en nie-seksisme was deel van die ANC se anti-apartheidsbeleid toe hulle aan bewind gekom het. Ten minste was dit die refleksies van die kernaktiviste onder die national congress se movement in die 1980's. Toekomsgerigte Suid-Afrikaners het uitgesien na die erosie van ras-identiteite en dat dit as irrelevant verklaar sou word. Minwetend dat die nuwe bedeling 'n rasbevlekte porsie van die vorige regering geërf het. Daarin lê die fundamentele dimensies van ons identiteitkonstruksie se drievoud: polities, histories en sosiaal.

Wie kan nog oudpresident Thabo Mbeki se "I am an African …" speech onthou tydens die adoption vannie 1996-konstitusie? Kaantie, dis toe wanneer ons oopbek witness hoe die edel en nie-rassige sentimente verpletter word met die beskrywing van 'n dual economy en van twee nasies, naamlik die minderheid wittes wat in oorvloed leef en die oormeerderheid swartes wat in armoede moet oorleef. Aweh, die vet is toe innie vuur masekind! Hierdie legislative cyclops was 'n calculated move om alle werksplekke en staatsinstitusies verteenwoordigers te maak van alle "demografieke" en om rasproporsionaliteite te verseker volgens dieselfde verskanste rasgroepe van die apartheid-regering, naamlik African, Coloured, Indian en Wit.

Identity

Kom ons vra onsself:
Wat issie waarde van ons vel?
Die taal waarin ons gesels?
Die culture wat ons omhels?
'n Figment van iemand anders se vision?
Ek confront dit met 'n nuwe definition
Met 'n knowledge of self
In opstand met die tong van 'n bom
Plant dit innie core van stereotipiese images
Verdomp!
Die vlam issie spirit ennie pride vermom in society se norms
Verstop met violence
Ek wip innie pilot seat
Live met die guidance
Leaps en bounds beyond defeat
Coloured anomaly?
Bra hier kommit sonder die slawestatus deur
Koloniale government policies beskadig
Nog innie nuus oor wapen
Of issit iets oor drugs?
Comic relief vir clowns sonder material met substance?
Verdiep jou gedagtes
Stiekyt jou bang ding, jou view is corrupted!
Divide en rule issie culprit
Indigenous beteken oek is my land but
Wie ek is word vervang met
Coloured … soe wat van my San roots?
Vermeng innie bloed, die level is hoeg
Progress issie next step
Nou, stiekyt oppie vloer, raak wys
Nou battle ekkie bourgeoisie
Rattle in jou boots kaptein
Slapende reus, ontwaak
Jou dag het gekom
Stiekit op! 

Song link:https://www.youtube.com/watch?v=gIdD0El2nO8

Terug van die toekoms

'n Diskoers is moontlik. Hoe?

Eers moet alle rassekategorieë geproblematiseer word en die prioritisering van klas as nadelig gestel word. Die wêreld moet aanskou word as ever changing en ons ook as gevolg daarvan. Nie as universeel stabiel en staties soos die heersende klasse dit verkies nie. Post-apartheid Suid-Afrika is 'n sosiale laboratorium wat daagliks vasgevang word in die web van rassistiese diskriminasie en vooroordeel. Transformasie sloer ekonomies en polities voort soos vertraagde Metrorail-treine op die ritme van pre-recorded retoriek op verlate Amandla-platforms…

Identiteit is multi-layered veral onder die Kaapse sogenaamde coloured hip hop community. Dis niks nuuts nie! Sedert die laat 1990's het nuwe bewegings die lig gesien as terugvoering aan die beperkte natuur van die oorgang van apartheid.

Met die gunstige kulturele klimaat aan die Kaap tussen ingevoerde slawe en inheemse Khoekhoe tydens die 1800's het hierdie groep, wat later saamgesmelt het en bekend sou staan as coloureds, baie blootstelling geniet aan matrose en skeepsvaarders van die Afrika-diaspora – onder andere Orpheus McAdoo, leier van die groep Virginia Jubilee Singers of Hampton, Virginia. Feitlik is die African-American musiekstyl en invloed meer as 'n eeu oud in Suid-Afrika so dis geen toeval dat Suid-Afrikaanse hip hop deur hip hop van die Verenigde State beïnvloed sou word nie.

Die hip hop-fenomeen was en is steeds vir baie deelnemers 'n kulturele organisasie, 'n force vir identiteit, solidariteit en emosionele versterking. In baie aspekte dien hip hop as 'n tipe transformerende pedagogie waarmee ons kennis en informasie politiseer en iets konstruktief vervaardig. Gedurende 'n baie noodsaaklike tydperk in Kaapstad was dit terapeuties veral in die geval van trauma, sistemiese misbruik en om onsself te express. Om ons 'n stem te gee en 'n nuwe identiteit en kanaal vir kreatiewe vervreemding te gee. In verskeie opsigte laat Suid-Afrikaanse hip hop haar jeug toe om die verlede en die hede, oud en nuut, global en local, te remix. 

 

Lees ook:

Weermag beurtkrag

 

The post Nuwe geskiedenis appeared first on LitNet.

Viewing all 21544 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>