Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21544 articles
Browse latest View live

Leeskringe in Suid-Afrika: 2018-jaarprogramme en -inligting

$
0
0

Behoort jy aan ’n leeskring in Suid-Afrika?
Stuur jou leeskring-besonderhede of navrae aan leeskring@litnet.co.za of besoek https://www.litnet.co.za/uitnodiging-leeskringe-suid-afrika/.

Alfabeties volgens dorp of stad

A - B - C - D - E - F
G - H - I - J - K - L
M - N - O - P - Q - R
S - T - U - V - W - X - Y - Z

Barrydale

 

Barrydale Leeskring

Kontak Cobie Cilliers by barrydale.leeskring@litnet.co.za.

# Die Leeskring is in 1981 gestig en lidmaattal wissel van 10 – 20. Een keer per maand word lewendige besprekings gehou. Boeke word meestal deur biblioteek verskaf en wissel van romans; digbundels; biografieë; jeugboeke; nie-fiksie ... tussenin ’n Engelse roman. Daar is ’n paar lede wat van die stigting tot die hede lid is. Verblydende aspek is dat jongmense ook aansluit en baie keer ’n ander perspektief bring. Verder probeer ons ook om gassprekers te nooi. Vanjaar was dit Bibi Slippers; verlede jaar Abraham H de Vries. Christine Barkhuizen le Roux is ook lid en haar romans en digbundels is met spesiale geleenthede bekend gestel.
# Ons het tans 16 lede en nuwe lede word verwelkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die tweede Maandag van die maand

Maand Boek Skrywer
Februarie Huisies van papier Dalena Theron
Maart Fotostaatmasjien Bibi Slippers (gasspreker)
April Nou, hier Corné Coetzee
Mei Never Let Me Go Kazuo Ishiguro
Junie Kamikaze Rudie van Rensburg
Augustus Shéri: nes ek is Shéri Brynard en Colleen Naudé
September Emily Hobhouse, geliefde verraaier Elsabé Brits
Oktober Onderwêreld Fanie Viljoen
November Margie van die Seminary Winnie Rust

 

Bela-Bela

 

Bela-Bela Leeskring

Kontak Elma van den Berg by bela-bela.leeskring@litnet.co.za.

# Die Warmbad-leeskring is in 2000 begin met vyf lede. Die ledetal wissel so tussen agt en tien en nuwe lede is baie welkom.
# Boekbespreking is informeel en word deur een van die lede gelei.
# Besoekers is welkom. Kontak asb bela-bela.leeskring@litnet.co.za om aan te meld en dra R5 by vir koffie/tee.

 

Bethlehem

 

Bethlehem Leeskring

Kontak Thersia Craven by bethlehem.leeskring@litnet.co.za.

# Gestig op 21 Maart 1972. Geen stigterslede meer lid nie; wel enkele lede wat sedert die 80's lid is.
# Ons het tans 28 lede. Nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die eerste of tweede Maandag van die jaar, behalwe tydens skoolvakansies

Datum Boek/onderwerp Skrywer
5/2 Huilboek Ryk Hattingh
5/3 Die lewe van Dot Serfontein  
7/5 Huldiging: Karel Schoeman  
4/6 Huldiging: PG du Plessis  
6/8 All the Light We Cannot See Anthony Doerr
3/9 Debora-tweeluik Helena de Kock
8/10 Huldiging: Chris Barnard  
5/11 Sink Brett Michael Innes, vertaal deur Elna van der Merwe

 

Bloemfontein

 

Floreat Leeskring

Kontak Mariehetta Matthee by floreat.leeskring@litnet.co.za.

# Mariehetta Matthee het terwyl sy op Bethlehem skoolgehou het aan ’n baie lewendige leeskring behoort. Die leemte het groter geword nadat sy in Bloemfontein kom woon het om haar nagraadse studies te voltooi. In 1986 het sy ’n paar vriendinne genooi en toe is die leeskring gestig.
# Daar is sowat 22 lede, waarvan 15 elke maand opdaag. Nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 19:00 op die laaste Woensdag van die maand

Datum Boek Skrywer
24/1 Groen soos die hemel daarbo Eben Venter
21/2 Alles begin met Anna Annemari Coetser
25/4 The Buried Giant Kazuo Ishiguro
30/5 Not Without My Daughter Betty Mahmoody
25/7 Hy kom met die skoenlappers Valda Jansen
29/8 Mymeringe van ’n bleek Afrikaan Max du Preez
26/9 Donker stroom Carel van der Merwe
31/10 Huilboek Ryk Hattingh
28/11 Where My Heart Used to Beat Sebastian Faulks

 

Langenhovenpark Leeskring

Kontak Riana de Beer by langenhovenpark.leeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring is ongeveer 34 jaar gelede gestig toe Langenhovenpark ’n baie jong woonbuurt was met ’n piepklein biblioteek. Die eerste voorsitter was Ria Strauss wat intussen oorlede is. Ek is nou al die afgelope ongeveer 20 jaar die voorsitter met verskillende lede wat as tesourier optree. Ons het ons leeskring se program van die begin af ingerig volgens die voorstelle deur Audrey Blignault in haar boek Van leser tot leser. Deur die jare het ons gehou by die patroon van 11 boeke per jaar in ’n program wat by wyse van voorstelle teen die einde van die jaar en dan op grond van ’n stemming en dan ook beskikbaarheid van die boeke vasgestel word. Die lede behartig self nege van die gespreksgeleenthede en ons nooi by twee geleenthede per jaar sprekers. Ons lees min of meer een klassieke werk uit die wêreldliteratuur, een moderne werk uit die wêreldliteratuur, ’n moderne Afrikaanse roman, ’n verskeidenheid verder uit poësie, kortkuns, jeugliteratuur, biografiese werk en dan gewoonlik romans wat op kortlyste was van bv die Rapportprys, Hertzogprys, Bookerprys, ens. Lede stel ywerig voor en dus is die samestelling van die program altyd ’n feestelike en vrolike geleentheid tydens die laaste vergadering van die jaar. Hierdie leeskring bestaan uit persone wat uiteenlopende belangstellings en beroepsrigtings het, ouderdomme wissel van middel 30's tot middel 80's. Almal lees die boeke en die besprekings is baie lewendig en prikkelend, dus nie net ’n voordrag deur die verantwoordelike persoon nie.
# Ons is tans 17 lede en nuwe lede is altyd welkom. 
# Gaste is beslis welkom en word gereeld ingesluit, met vooraf kennisgewing aan die voorsitter wat hulle dan kontak en nooi.

Jaarprogram 2018/19
Byeenkomste om 08:30 op die derde Donderdag van die maand by Bainsvlei Biblioteek

Datum Boek Skrywer
25/1 Die taal van been Heilna du Plooy
15/2 1795 Dan Sleigh
22/3 Baudolino Umberto Eco
12/4 Wonder RJ Palacio
24/5 Op ’n dag, ’n hond John Miles
14/6 Spertyd Elsa Joubert
19/7 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden
23/8 Great Expectations Charles Dickens
20/9 The Buried Giant Kazuo Ishiguro
18/10 Lincoln in the Bardo George Saunders
22/11 Uittogboek Johan Myburg
24/1 Huilboek Ryk Hattingh
21/2 Cancer Ward Alexander Solzhenitsyn
21/3 Die dood en die sin van die lewe Anton van Niekerk

 

Potpourri Leeskring

Kontak Ingrid Steyn by potpourri.leeskring@litnet.co.za.

# Ons leeskring bestaan al 22 jaar en ons lees fiksie en nie-fiksie in Afrikaans en Engels. Ons lees 22 boeke per jaar.
# Ons het tans 12 lede en aanvaar nuwe lede.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Kwartaalprogram
Byeenkomste op die eerste Dinsdag van die maand

  • Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis
  • Tuisland deur Karin Brynard
  • The President's Keepers deur Jacques Pauw

 

Bultfontein

 

Bultfontein Leeskring

Kontak Herculina van Wyk by bultfontein.leeskring@litnet.co.za.

# Bestaan ononderbroke sedert 1995
# Tans 14 lede, nuwe lede welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 09:30 op die tweede Dinsdag van die maand in ’n plaaslike eetplek

Datum Boek/onderwerp Skrywer
13/2 Spertyd Elsa Joubert
13/3 Hy kom met die skoenlappers Valda Jansen
10/4 Uitstappie na NALN  
8/5 Alles begin met Anna Annemari Coetser
12/6 Emily Hobhouse, geliefde verraaier Elsabé Brits
Julie Vryfees  
14/8 PG du Plessis  
11/9 Slot van die dag Karel Schoeman
9/10 Potpourri: sameraapsel en beplanning vir 2019  
13/11 Afsluiting  

 

Franschhoek

 

Franschhoek-leeskring

Kontak Elkarien Fourie of Ingrid Maritz by franschhoek.leeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring is in 1973 gestig. Dit is ’n fantastiese groep mense (Engels en Afrikaans) wat wyd lees, baie lief is vir boeke (!) en getrou die maandelikse byeenkomste bywoon. Sommer in die mooi Kerksaal hier in die hoofstraat.
# Ons jaarlikse lidmaatskap is R120 en dan probeer ons boeke in ons biblioteek kry om te lees of sommige lede koop die boeke wat ons voorstel vir die jaar, en dié word dan deur die kring gesirkuleer.
# Ons het op die oomblik 24 lede en nuwe lede is altyd welkom.
# Gaste is baie welkom by ons byeenkomste. Meestal nooi ons ’n spreker (of die skrywer van ons boek vir die maand) en vra van gaste net ’n donasie vir verversings. Ons benut dikwels ons nabyheid aan die Universiteit van Stellenbosch om akademici te vra om ’n boek te bespreek, maar het jaarliks ook ’n paar skrywers wat oor hul eie werk kom praat. Dit is baie lekker om boekliefhebbers van buite te kry om die uittog vir die spreker die moeite werd te maak en die boek wyer bekend te stel.

Program 2018
Byeenkomste om 15:00 op die eerste Donderdag van die maand

Datum Boek Skrywer Spreker
15/2 Elders Erns Grundling Erns Grundling
8/3 Tolbos Irma Joubert Irma Joubert
5/4 Herinneringe aan Parys, A Moveable Feast, A Little Paris Bookshop en Misverstand (Tema: Parys) André P Brink, Ernest Hemingway, Nina George en Marita van der Vyver Groep
3/5 Web Naomi Meyer Naomi Meyer
7/6 Die derde spoel SJ Naudé Carine Janse van Rensburg
2/8 Maestro Marié Heese Amanda Lourens
6/9 Never Let Me Go Kazuo Ishiguro Karin Roux
4/10 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden Franci Vosloo
1/11 Op ’n dag, ’n hond John Miles Pieter en Estelle Haasbroek
6/12 Afsluiting    

 

George

 

George Leeskring

Kontak Elbie Schoeman by george.leeskring@litnet.co.za.

# George Leeskring bestaan reeds sedert 1994 en is dus nou 24 jaar oud. Ons het ’n beskeie begin gehad, heel informeel, met byeenkomste beurtelings by lede se huise. Met die jare het dit gegroei en vandag is die tuiste van die Leeskring ’n klein saaltjie van die ACVV.
# Ons het formele huisreëls, ’n bestuur wat bestaan uit ’n voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris (ook verantwoordelik vir die finansies en twee addisionele lede). Ons betaal jaarliks ledegeld.
# Die doel van ons leeskring is om persone wat graag lees gesellig bymekaar te bring en bloot te stel aan verskillende genres. Ons voertaal is Afrikaans maar Afrikaanse sowel as Engelse publikasies, fiksie sowel as nie-fiksie word bespreek. Die taak om ’n spesifieke boek vir elke byeenkoms vooraf in diepte te bekyk word aan individuele lede opgedra sodat die persoon die leiding kan neem tydens besprekings. Dit word deur die bank baie deeglik gedoen, alhoewel daar geen voorskrifte is nie en elke persoon die aanbieding op haar eie unieke manier doen. Soms besoek ’n skrywer of buite-persoon ook die leeskring.
# ’n Addisionele leeslys word ook elke jaar aan die lede verskaf.
# Elke lid ontvang jaarliks ’n gedrukte program met al die tersake inligting daarop. Lede koop dikwels van die boeke aan en sirkuleer dit dan onder mekaar, maar ons maak ook op die plaaslike biblioteek staat om sover moontlik boeke vir lede beskikbaar te stel. Ons het groot waardering vir die moeite wat die personeel doen om die boeke op die leeslys in die hande te kry en vir die lede beskikbaar te stel. Om voldoende boeke beskikbaar te hê is wel ’n probleem. Die meeste van die lede is pensionarisse en finansies en veral PLEK is ’n groot probleem!
# Tee en verversings word by elke vergadering deur die ACVV voorsien waarvoor ’n klein bedraggie betaal word.
# Ons is 34 lede. Gemiddeld 25 lede woon maandeliks die byeenkoms by.
# Nuwe lede sowel as besoekers is altyd welkom. Die publiek word maandeliks in die plaaslike koerant uitgenooi om die byeenkoms by te woon en daar is gereeld ook ’n artikel en foto's in die koerant na ’n byeenkoms.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 09:30 op die tweede Donderdag van die maand, behalwe in Januarie, Julie en Desember

Maand Boek/onderwerp Skrywer Spreker
Februarie Vital Remains - the Story of the Coloured Boy behind the Wardrobe en ander werke Amos van der Merwe Amos van der Merwe
Maart PG du Plessis: huldeblyk   Jeannette Swanepoel (lid)
April Stormkind en die skryfmuse Riana Scheepers Riana Scheepers
Mei Die Dorslandtrek 1874–1881 en Afrikaners in Angola Nicol Stassen Linda Zöllner (genealogiese navorser)
Junie Al wat ek weet Marita van der Vyver Hanna Barkhuysen (lid)
Augustus Hy kom met die skoenlappers Valda Jansen Kippie van Straten (lid)
September A Horse Walks Into a Bar David Grossman Elise Calitz (lid)
Oktober Fotostaatmasjien Bibi Slippers Anna Coertze (lid)
November Rooi haring Schalk Schoombie Elizabeth Retief (lid)

 

Groot Brakrivier

 

Grootbrak Leeskring

Kontak Etty Bosman by grootbrak.leeskring@litnet.co.za.

# Ons het omtrent agt jaar terug begin met ongeveer 12 lede. Van tóé tot nou is ons motto "Anders en informeel". Die jaarprogramme het ’n mengsel van boeke (Afrikaans of Engels), gedigte, prosa, kunsfilms wat van boeke af kom of ATKV se Filmverse 1 en 2 en ons bespreek graag die hele oggend ’n spesifieke skrywer of digter en nooi sover moontlik die skrywer/digter self na ons. So het ons al van ons land se groot name by ons gehad.
# Ons kom nie by huise bymekaar nie, maar by een van ons plaaslike kunsgalerye. Soms wissel ons die plek af met ander beautiful koffiewinkels om ons. ’n Karaktervolle plekkie saam met boeke en sterk koffie en soms sjerrie is ’n wenresep.
# Op die oomblik is ons ongeveer 42 lede, alhoewel dit dan uitwerk dat ons so 30 tot 32 moet akkommodeer elke keer. Dit is baie en ons het al baie gedreig om nou die skoot te laat klap dat niemand meer oor die lyn kan kom nie, maar kry dit nog nie reg nie. Die Leeskring is so ’n verrykende diens aan die gemeenskap en soveel energie is in die leesgroep, dat ’n mens dit vir nog mense wil gun wat vol afwagting vra of hulle asb ook kan kom.
# Ons het ’n ledefooi van R120 per jaar waarmee ons skrywers en kenners kan nooi en bietjie meer op die tafel sit as net ’n lid wat ’n boek bespreek (wat ook heerlik is en ons nog steeds ook doen). Die lede is mans en vroue.
# Gaste is baie welkom en wil altyd dan weer en weer kom. Ons het vakansiegangers wat altyd kom as hulle in die omgewing is.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 10:00 op die tweede Woensdag van die maand

Maand Boek/onderwerp Skrywer
Februarie The Story of Great Brak River Margaret Franklin
Maart Brave New World Aldous Huxley
April Spertyd Elsa Joubert
Mei Verhoudings onder druk Ronel du Toit (ook die spreker)
Junie Huldeblyk aan Karel Schoeman  
Augustus Raaiselkind Annelie Botes
September Huldeblyk aan PG du Plessis deur Kristie Herbst  
Oktober Wendy Maartens (spreker)  
November Gedigte van John Murray en musiek deur Petronelle Baard  

 

Hartbeespoort

 

Hartbeespoort Leeskring

Kontak Anli Wilsenach by hartbeespoort.leeskring@litnet.co.za.

# Ons bestaan reeds 34 jaar en het afgestig van die Schoemansville Leeskring.
# Op die oomblik het ons 12 lede plus ’n aantal rustende lede wat so dan en wan kom inloer.
# Nuwe lede is altyd welkom.
# Boekkeuses behels gewoonlik ewe veel Afrikaanse as Engelse titels. Ons bespreek elke jaar ’n Afrikaanse digbundel en ook ’n biografie (Afrikaans of Engels). ’n Lid is gewoonlik die voorganger tydens bespreking.
# Ons vergader by mekaar se huise met wyn en koek.

Jaarprogram 2018
Vergader aan huis van ’n lid

Datum Boek Skrywer
1/2 Huilboek Ryk Neethling
28/2 Die taal van been Heilna du Plooy
22/3 The Uncommon Reader Alan Bennett
19/4 A Thousand Paper Birds Tor Udall
31/5 Spertyd Elsa Joubert
26/7 Ware mense Bart de Graaff
23/8 Queen of the Free State Jennifer Friedman
20/9 Gedigte Ingrid Jonker
25/10 Mentje, kind van Pas-Opkamp Irma Joubert
29/11 Short stories Roald Dahl

 

Hoopstad

 

Hoopstad Boekklub

Kontak Reinette Rautenbach by hoopstad.boekklub@litnet.co.za.

# Die boekklub bestaan nou vir ses jaar.
# Nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Vergader ses tot agt keer per jaar.

Jaarprogram 2018

Maand Boek Skrywer
Maart Shéri: Nes ek is Shéri Brynard en Colleen Naude
Mei I am Malala Christina Lamb and Malala Yousafzai
Junie Mentje, kind van Pas-Opkamp Irma Joubert
Augustus Die vrou in die blou mantel Deon Meyer
September Anderkant uit: stories oor trauma en hoop Hanlie Retief
Oktober Pride and Prejudice Jane Austen

 

 

Johannesburg

 

Babbel en Blaai

Kontak Elvira Nel by babbel-en-blaai.leeskring@litnet.co.za.

# Die boekklub bestaan in 2018 al 20 jaar. Van die lede is nog van die stigterslede.
# Ons ledetal wissel tussen 8 en 12 lede.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Ons vergader 8 tot 10 keer per jaar.
# Ons kuier om die beurt in die aande by mekaar se huise en eet dan ook lekker saam. Die leeslys word saam gekies en kan pryswenners insluit of onderwerpe wat interessant is om oor te lees. Ons besluit saam oor die leeslys en geskikte datums wat die meeste lede pas.

Jaarprogram 2018

  • 1795 deur Dan Sleigh
  • Spertyd deur Elsa Joubert
  • Duisend stories oor Johannesburg deur Harry Kalmer
  • Wit issie ’n kleur nie deur Nathan Trantraal
  • Huilboek deur Ryk Hattingh

 

Bibliosiele

Kontak Annemarie Ross-Vivier by bibliosiele@litnet.co.za.

# Die Bibliosiele is ’n heerlike groep mense wat ’n liefde deel vir boeke, mense, kos en ’n lus vir die lewe uitstraal.
# Die leeskring is in Junie 2013 gestig, en bestaan uit 22 diverse en dinamiese bibliofiele – wat sonder uitsondering lei tot interessante besprekings van die boeke wat ons lees.
# Aan die begin van elke jaar maak lede ’n boekvoorstel, waarna die jaar se boekbesprekings aan twaalf lede toegewys word. Lede wat nie ’n beurt kry nie, staan oor na die volgende jaar. Elke lid koop die jaar se boeke aan in e-formaat of ’n harde kopie, en dan ontmoet die Bibliosiele een keer per maand vir ’n boekbespreking en ’n feesmaal by die aangewese lid.
# Die tema van die maaltye word dikwels met groot sorg beplan rondom die tema van die boek, wat die gesprekke selfs meer kleurvol maak. Die groep se besprekings word gekenmerk deur onbeskroomde eerlike menings en is daarom altyd stimulerend – vir ons almal ’n absolute maandelikse hoogtepunt.
# Skrywers wie se boeke bespreek word en wat in die omgewing woon of dit daar waag, word dikwels as sprekers na die byeenkomste genooi, boekbekendstellings word bygewoon, en selfs van tyd tot tyd by lede se huise aangebied. Interessante kuiergeleenthede word so geskep waar ons vriende maak met ander boekliefhebbers en ons kring verder uitbrei!
# Die boeke wat deur ons hande gaan, sluit in ’n ryke verskeidenheid van Afrikaanse en Engelse romans, jeugliteratuur, poësie, fiksie en nie-fiksie.
# Waarvoor ons ook groot waardering het, is dat ons leeskring nie ekslusief uit of vroue of mans bestaan nie. Die Bibliosiele is ’n gemengde groep waar die insette van beide geslagte lesers lei tot ’n dieper insig van die onderwerp ter sprake vanweë die gediversifiseerde menings van beide kante.
# Ons het 22 lede en nuwe lede word deur huidige lede voorgestel.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die tweede Woensdag van die maand

Maand Boek Skrywer
Februarie Recipes for Love and Murder Sally Andrew
Maart Our Souls at Night Kent Haruf
April Lugkasteel Annelie Botes
Mei Hammie Ronelda Kamfer
Junie Brave New World Aldous Huxley
Julie Left to Tell Immaculée Ilibagiza
Augustus When Breath Becomes Air Paul Kalanithi
September A Thousand Paper Birds Tor Udall
Oktober The Book of Laughter and Forgetting Milan Kundera
November The Year of Living Dangerously Christopher Koch

 

Lindense Leeskring

Kontak Laurette van Zijl by lindense.leeskring@litnet.co.za.

# Die Lindense leeskring het notules wat van 1980 dateer. Die leeskring is in 1961 deur Annie Schumann op die been gebring. In die briefwisseling tussen haar en Audrey Blignault in daardie jare bespreek hulle gereeld boeke wat deur hulle onderskeie leeskringe bespreek kan word.
# Ons lees beide Engelse en Afrikaanse boeke met die voorbehoud dat hulle ’n literêre waarde moet hê.
# Ons het tans 23 lede en nuwe lede word nie op die oomblik ingeneem nie.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 18:00 op die tweede Maandag van die maand

Datum Boek Skrywer Aanbieder
14/2 Fotostaatmasjien Bibi Slippers Bibi Slippers
12/3 Die uur van die engel, Slot van die dag en Skepelinge Karel Schoeman Willie Burger
9/4 Die skaalmodel Anneli Groenewald Magda Mostert
14/5 Tuisland Karin Brynard Sunette de Vos
11/6 Bob Dylan   Sean Brokenshaw
13/8 The Return Hisham Matar Mandy van der Spuy
10/9 A Man Called Ove Frederik Backman Rita van Coppenhagen
8/10 The Buried Giant Kazuo Ishiguro Dorothy Venter
12/11 Beplanning vir 2019    

 

Kaapstad

 

Bellville Leeskring

Kontak Loraine Maritz by bellville.leeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring bestaan reeds sedert vroeë 1950's en die ou notules is in die Bellville Biblioteek. Dit is destyds deur sakevroue gestig wat net in die aand kon vergader. Ons vergader steeds in die aand. Ons glo ons is die oudste leeskring in die Kaap.
# Ons het tans 12 lede en nuwe lede is baie welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die eerste Dinsdag van die maand, behalwe tydens skoolvakansies.

Datum Boek Skrywer
6/2 The Conductor Sarah Quigley
6/3 How to be both Ali Smith
8/5 Die taal van been Heilna du Plooy
5/6 Recessional for Grace Marguerite Poland
7/8 Genre Frederik Backman
4/9 Torch Cheryl Strayed
6/11 The Ministry of Utmost Happiness Arundhati Roy

 

Goodwood Leeskring

Kontak Estelle Maritz by goodwood.leeskring@litnet.co.za.

# Ons leeskring is in 1989 gestig. Ons kry ons boeke by Goodwood Biblioteek.
# Ons het tans 19 lede en nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die tweede Dinsdag van die maand

  • Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis
  • God praat Afrikaans deur HemelBesem
  • Vlerke vir almal deur Marion Erskine
  • Elders deur Erns Grundling
  • Op ’n dag, ’n hond deur John Miles
  • ’n Oomblik in die wind deur André P Brink
  • Verlorenkop deur Celesté Fritze

 

Rondebosch Lees- en studiekring

Kontak Renee Douglas by rondebosch-lees-studiekring@litnet.co.za.

# Die leeskring is byna 60 jaar oud en het op ’n tennisbaan ontstaan waar jong geleerde moeders gevoel het hulle het iets stimulerend nodig. Dit is een van die oudste Afrikaanse leeskringe in die suidelike voorstede van Kaapstad.
# Ons behandel meestal Afrikaanse boeke met 2 Engelse boeke per jaar. Ons kom een keer per maand byeen (Februarie tot November) en nooi altyd ’n spreker of skrywer uit om ’n boek of ’n interessante onderwerp te kom bespreek.
# Ons het 35 lede en aanvaar beslis nuwe lede.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 10:00 op die derde Donderdag van die maand by die Kelvin Grove-klub

Maand Boek/onderwerp Skrywer Spreker
Februarie Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden Chris van der Merwe
Maart Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste André le Roux André le Roux
April A History of Loneliness John Boyne Gail Wallace
Mei The Fifth Mrs Brink Karina Szczurek Karina Szczurek
Junie Huldeblyk aan Karel Schoeman   Chris van der Merwe
Julie Vroue na aan my hart Hannes van Wyk Hannes van Wyk
Augustus Paaiboelie Chanette Paul Chanette Paul in gesprek met Madri Victor
September Mede-wete Antjie Krog Martie van Heusden
Oktober Die belangrikheid van kinderboeke   Ingrid Mennen
November Die taal van been Heilna du Plooy Hennie van Coller

 

 

Tafelbaai-leeskring

Kontak Gretha Aalbers by tafelbaai-leeskring@litnet.co.za.

# Tafelbaai-leeskring is al mondig. ’n Groepie ywerige lesers in Kaapstad se stadskom het meer as 20 jaar gelede begin om een keer per maand bymekaar te kom en oor boeke te gesels. Daar is nie vaste reëls nie, maar met die jare het ons tradisies opgebou. Aan die einde van die jaar kuier ons saam om ’n lang tafel by een van ons lede se huis en kies ’n lys vir die volgende jaar uit lede se voorstelle. Ons lees Afrikaans, Engels, soms Nederlands, fiksie en nie-fiksie. Soms nooi ons sprekers en soms bespreek een van die lede self die boek.
# Ons het 18 lede, met plek vir nog ’n paar, maar nie meer as wat in ’n sitkamer kan inpas nie.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste een keer per maand op ’n Woensdagaand

Boek Skrywer
The Noise of Time Julian Barnes
Huilboek Ryk Hattingh
Always Another Country Sisonke Msimang
Days Without End Sebastian Barry
Slot van die dag Karel Schoeman
Joseph Anton Salman Rushdie
Grief is the Thing with Feathers Max Porter
Life After Life Kate Atkinson
Ship of Fools Katherine Anne Porter
Sapiens Yuval Noah Harari

 

Kemptonpark

 

Kemptonpark Leeskring

Kontak Susan Wilsenach by kemptonpark.leeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring bestaan al ongeveer 40 jaar.
# Ons het tans 28 lede, en nuwe lede word voorwaardelik aanvaar.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die tweede Woensdag van die maand

Datum Boek Skrywer
14/3 Sister Rosamund Lupton
9/5 Die aanspraak van lewende wesens Ingrid Winterbach
13/6 Cry the Beloved Country Alan Paton
8/8 Broedertwis Albert Blake
12/9 Moer toe die vreemde in Johan Bakkes
10/10 Fame Daniel Kehlmann
14/11 Toorberg Etienne van Heerden
19/1 2019 Valsrivier Dominique Botha
13/2 2019 Born a Crime Trevor Noah

 

Kleinmond

 

Kleinmond Leeskring

Kontak Kota van der Mescht of Saryna van As by kleinmond.leeskring@litnet.co.za.

# Die Leeskring is in 1992 deur Joan Marnewick gestig. Sy was die bestuurder van die Fynbos Dienssentrum vir Senior Burgers op Kleinmond. Sy wou ’n geleendheid skep om lede van die Dienssentrum aan ’n verskeidenheid boeke bekend te stel.
# Die aanvanklike ledetal was 6. Ina Cloete was die eerste voorsitter en Elsa Lombard die sekretaresse. Hulle het aanvanklik maandeliks in die NG Kerksaal vergader en later in die lede se huise. Gedurende 1998 het hulle na die biblioteek se saal verskuif vir die maandelikse vergaderings. Die ledetal het gegroei na 13. Trudie van der Westhuizen het as sekretaresse oorgeneem by Elsa Lombard. Trudie is tans nog ’n lid van die Leeskring (een van twee oorblywende stigterslede).
# Die biblioteek het boeke aan hulle uitgeleen en die lede het ook self boeke aangekoop Een van die eerste boeke wat bespreek is, is Triomf deur Marlene van Niekerk wat sy self kom bespreek het. Johan Burger wat voorheen verbonde was aan die Onderwyskollege in Graaff-Reinet het in 1996 begin om die Leeskring by te staan met sy kennis rondom die bespreking van boeke.
# Die leeskring het tans 70 lede. Nuwe lede kan nog aansluit. Ledegeld is R100 per jaar.
# Besoekers is welkom om byeenkomste by te woon teen R20 per keer.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste een keer per maand om 14:30 in die Gereformeerde Kerkgebou

Maand Boek Skrywer
Januarie Spertyd Elsa Joubert
Februarie Drieklawerblaar Christine Barkhuizen-le Roux
Maart Raaiselkind Annelie Botes
April Half of a Yellow Sun Chimamanda Adichie
Mei The Secret Diary of Hendrik Groen en Slot van die dag Hendrik Groen en Karel Schoeman
Junie The Remains of the Day Kazuo Ishiguro
Julie Hy kom met die skoenlappers Valda Jansen
Augustus Don Quixote Miguel de Cervantes
September Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden
Oktober Embers Sandor Marai

 

Klerksdorp

 

Boek Bederf Boekklub

Kontak Lindi de Jager by boek-bederf@litnet.co.za.

# Gestig Julie 2017. Ons lees en bespreek elke maand dieselfde boek en gee geleentheid vir lede om ander boeke wat hulle gelees het te bespreek. Ons lees alle genres in Afrikaans en Engels om ons leeshorisonne te verbreed en boeke te lees wat ons nooit uit ons eie sou nie.
# Ons het tans 10 lede waarvan 7 aktief betrokke is by byeenkomste. Ons aanvaar nuwe lede.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Byeenkomste vind op die laaste Donderdag van die maand plaas.
# Beplanning van die boeke wat bespreek gaan word, word elke drie maande gedoen.

 

Klerksdorp Leeskring

Kontak Marianne Fourie by klerksdorp.leeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring is reeds 64 jaar oud en kom so agt keer ’n jaar bymekaar. Lede kry elkeen ’n beurt om ’n boek te bespreek.
# Ons het tans 10 lede en nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Program 2018
Byeenkomste om 10:00 op die derde of vierde Woensdagoggend van die maand

Datum Boek Skrywer
25/7 The Little Paris Bookshop Nina George
22/8 Die koning se wingerd FA Venter
26/9 Mentje, kind van Pas-Opkamp Irma Joubert
24/10 Spertyd Elsa Joubert

 

Knysna

 

Die Boekklub

Kontak Monica Venter by boekklub.knysna@litnet.co.za.

# Ons het twee jaar gelede met drie lede begin. Hier is ’n leeskring vir Engelssprekendes, maar ons wou ook een vir Afrikaanssprekendes stig.
# Ons is op die oomblik 10 lede en sal nie graag meer as 12 lede wil wees nie, aangesien ons in die lede se huise vergader en daar nie altyd plek is vir meer lede nie.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Byeenkomste is om 14:30 op die derde Donderdag van die maand.
# Ons werk ’n bietjie anders as die gewone leeskring. Elke lid kry ’n beurt om die byeenkoms te hanteer. Aangesien ons 10 is, kry elke lid een beurt in die jaar. Sy stel die ander lede in kennis van die datum en plek. Sy bring ’n boek saam – een wat vir haar interessant is en bespreek dit met die ander lede sonder om die verhaal weg te gee. Alhoewel almal nog nie die boek gelees het nie, lok dit altyd besprekings uit, bv oor die Tweede Wêreldoorlog indien daar so iets in die boek voorkom. Die boek gaan dan in die kas in en lede kan die boek lees indien hulle belangstel. Ons is ’n groep met uiteenlopende belangstellings en vul mekaar op hierdie wyse aan. Ons het lede wie se belangstelling van nie-fiksie, bv geskiedenis, die heelal of kosmos, plante tot fiksie, bv dramas en speurverhale wissel.

 

Koster

 

Koster Leeskring

Kontak Soanet Booyens by koster.leeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring is in 2000 gestig.
# Ons het tans 11 lede en nuwe lede word aanvaar, maar gewoonlik slegs per uitnodiging.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die eerste Maandag van die maand

Datum Boek/onderwerp Skrywer
5/2 Me Before You Jojo Moyes
5/3 Hans steek die Rubicon oor Rudie van Rensburg
10/4 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden
7/5 Rooikoos Willemse is soek Abraham H de Vries
4/6 Die taal van been Heilna du Plooy
6/8 Tussen stasies Irma Joubert
3/9 Kleur – my lewe, my lied: Randall Wicomb Amos van der Merwe
8/10 Emily Hobhouse, geliefde verraaier Elsabé Brits
5/11 Digkuns Verskeie

 

 

Langebaan

 

Langebaan Leeskring

Kontak Dawie du Toit of Cecile Immelman by langebaan.leeskring@litnet.co.za.

# Langebaan Leeskring bestaan reeds sedert die negentigerjare.
# Ons ledetal wissel tussen 20 en 24 lede. Ons het jonger lede, en ons oudste lid is 80 jaar oud.
# Nuwe lede is baie welkom.
# Ons nooi gereeld skrywers na ons byeenkomste.
# Ons is ’n groot groep individue en elkeen lewer sy besondere bydrae om alles interessant en lewendig te hou.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die tweede Woensdag van die maand

Datum Boek/onderwerp Skrywer
17/1 Lede gee terugvoer oor ’n boek wat hulle onlangs gelees het  
14/2 Meeulanders Esta Steyn
14/3 The Little Old Lady Who Struck Lucky Again! Catharina Ingelman-Sundberg
11/4 Syferfontein Cas Wepener
9/5 Amraal met Marinda van Zyl Marinda van Zyl
13/6 The Fifth Mrs Brink Karina Szczurek
11/7 Wilhelmina: Kampkind op Java Mariël le Roux
8/8 Klimtol Etienne van Heerden
12/9 Die dood en die sin van die lewe Anton van Niekerk
10/10 Spertyd Elsa Joubert
14/11 ’n Oorsig van die werk van Lina Spies Lina Spies

 

 

Lichtenburg

 

Page turners

Kontak Lesley van Zyl by page.turners@litnet.co.za.

# Ons leeskring het begin as ’n boekklub vir die mense wat in die woonbuurt 5km van die fabriek af, sowat 25 km van Lichtenburg af, woon. Ons het begin omdat ons ’n klein biblioteek op die woonbuurt het en wou die woonbuurt se inwoners en werkers betrek.
# Ons het tans agt lede en aanvaar nuwe lede, alhoewel die lede meestal van die plaasgemeenskap is en nie saans laat uitgaan nie.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Ons vergader en keer per maand opverskillende datums. Gewoonlik is daar ’n gasvrou en ons het bietjie kos en gesels vir die aand rondom ’n tema. Ons sluit boekbesprekings in; prosa of ’n sêding word voorgelees. Daar is ook ’n woordspel en daar word ’n skrywer bespreek.
# Almal het verkillende smaak. Ons verwelkom die diversiteit van iemand wat versot is op hygromans tot iemand wat hou van nie-fiksie. Ons lees nie almal dieselfde boeke nie. Inteendeel, met die verskillende leesstof, leer ons graag by ons mede "boekenaars" en lees ons boeke wat ons nie voorheen sou verken het nie.

 

Paarl

 

Daljosafat Leeskring

Kontak Alta Cloete by daljosafat.leeskring@litnet.co.za.

# Op 11 Maart 1980 gestig
# Daar is tans 16 lede, nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die tweede Dinsdagoggend van die maand.

Datum Boek Skrywer
14/2 Alles begin met Anna Annemari Coetser
13/3 Oorkant jou Juliana Coetzer
10/4 Donker spoor, Skuldig, Swartval Martin Steyn
8/5 Huilboek Ryk Hattingh
12/6 Emily Hobhouse, geliefde verraaier Elsabé Brits
14/8 Die bergengel Carina Stander
11/9 The Catcher in the Rye JD Salinger
9/10 Spertyd Elsa Joubert
13/11 Afsluiting  

 

Groenleegte Leeskring

Kontak Marianna Theron by groenleegte.leeskring@litnet.co.za.

# Ons bestaan vanjaar reeds 10 jaar en bestaan op die oomblik uit 13 lede.
# Ons woon in Groenleegte-aftreeoord. Ons vergader by die lede se huise, dus is ons ruimte beperk.
# Nuwe lede in ons oord is welkom.
# Gaste van lede is welkom.

Jaarprogram 2018

Maand Boek/onderwerp Skrywer
Februarie Gedigte  
April Spertyd Elsa Joubert
Mei ’n Blik op die lewe van JD Salinger  
Junie/Julie WA de Klerk-huldeblyk  
Augustus Die vrou in die blou mantel Deon Meyer
September A Foreign Affair Valerie Barnes
Oktober Outisme, met verwysing na Raaiselkind, The Horse Boy en The Long Ride Home  
November Afsluiting  

 

Klein-Drakenstein Leeskring

Kontak Helena Botha by klein-drakenstein.leeskring@litnet.co.za.

# Ena de Klerk, die eggenote van WA de Klerk, het die leeskring gestig. Dit is een van die oudste leeskringe in Suid-Afrika.
# Ons het tans 13 lede en is inklusief.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die laaste Dinsdag van die maand

Datum Boek/onderwerp Skrywer
27/2 Poësie-wonings Verskeie
27/3 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden
24/4 Veronika Decides to Die Paulo Coelho
29/5 Huilboek Ryk Hattingh
31/7 Spertyd Elsa Joubert
28/8 Net ’n lewe Fransi Phillips
25/9 Die pes Albert Camus
20/10 Poësie Verskeie
27/11 Afsluitingsfunksie  

 

Libri Ad Lib

Kontak Amanda Albertyn by libri-ad-lib@litnet.co.za

# Die leeskring, destyds bestaande uit nege jong professionele dames in die begin van hulle dertigerjare, is op 7 Augustus 1997 gestig. Ons vier dus vanjaar ons mondigwording. Drie van die oorspronklike stigterslede is steeds deel van die leeskring. Ons lees beide Engels en Afrikaans. Elke lid kry ’n beurt om ’n boek aan te bied en gasvrou te speel.
# Ons het 10 lede en nuwe lede word aanvaar, alhoewel die kring beperk is tot 12 lede.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Byeenkomste vind op die eerste Donderdag van die maand plaas, behalwe tydens skoolvakansies.

 

Port Alfred

 

Afrikaanse Boekklub

Kontak Ria Greaves by boekklub.portalfred@litnet.co.za.

# Die boekklub is in 2015 gestig deur twee Afrikaanssprekende onderwyseresse by die plaaslike hoërskool. Dit is steeds ’n uiters informele klub, met slegs agt lede. Ons vergader een keer per maand by een van die lede se huis en deel wat ons gelees het. Besprekings is kort en meer opsommend as krities, maar dit is genoeg om belangstelling te stimuleer en lede leen boeke oor en weer. Af en toe sal ons ook ’n Engelse boek insluit. Daar is geen koste verbonde aan die boekklub nie. Lede koop self boeke.
# Ons het agt lede en aanvaar nuwe lede.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Byeenkomste vind een keer ’n maand plaas.

 

Port Elizabeth

 

Somerstrand Leeskring

Kontak Dirk Fokker by somerstrand.leeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring bestaan al sedert die 1980’s.
# Daar is tans 10 lede en nuwe lede is welkom.
# Gaste en sprekers is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die laaste Dinsdagaand van die maand

Datum Boek Skrywer
27/2 Die bewaker / The Keeper Marguerite Poland
27/3 The Wave Morton Rhue /  Todd Strasser
24/4 ’n Stringetjie blou krale EKM Dido
29/5 Tussen stasies Irma Joubert
19/6 Good Morning, Mr Mandela Zelda la Grange
31/7 A Man Called Ove Fredrik Backman
28/8 The Language of Flowers Vanessa Diffenbaugh
25/9 A Fine Balance Rohinton Mistry
30/10 The Love Song of Miss Queenie Hennessy Rachel Joyce

 

Potchefstroom

 

Potchefstroomse Afrikaanse Vroueleeskring

Kontak Renie Laage by potchefstroom.vroueleeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring is vanjaar reeds 54 jaar oud. Die lede is meesal Afrikaanssprekend en die die keuse van boeke word steeds volgens die kategorieë soos deur Audrey Blignault aanbeveel, gekies.
# Danksy die Universiteit in die dorp het ons genoeg kenners om boeke te bespreek waarvan enkeles self lede van die Leeskring is. Ons hou twee keer per jaar ’n kleiner en een groter gasteaand met ’n spreker van buite soos bv die skrywer self. Kaartjies word hiervoor verkoop aan die lede sowel as gaste om die koste te dek wat ook ’n ligte ete insluit.
# Ledegeld is op die oomblik R80 per jaar omdat die ander sprekers ook vergoeding/geskenkies ontvang.
# Daar is op die oomblik 48 lede en nuwe lede word verwelkom, aangesien baie lede reeds oor sestig is en jonger dames aangemoedig word om aan te sluit.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 19:00 op die tweede Maandag van die maand in die konferensiekamer van die Dienssentrum

Datum Boek/onderwerp Skrywer Aanbieder
12/2 Hartlam Gerda Taljaard en Deborah Steinmair (samest.) Gerda Taljaard
112/3 Fotostaatmasjien Bibi Slippers Bibi Slippers
14/5 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden Heilna du Plooy
11/6 Elders Erns Grundling Ansie Coetzee
13/8 Blou is nie ’n kleur nie Carin Krahtz Elize Vos
10/9 The Grapes of Wrath John Steinbeck Mandie Uys
8/10 Op ’n dag, ’n hond John Miles Moet nog vasgestel word
12/11 Spertyd Elsa Joubert Susan Meyer

 

Pretoria

 

Akasia Leeskring

Kontak Sophie Beyers by akasia.leeskring@litnet.co.za.

# Ons leeskring van 12 lede bestaan al 10 jaar en het eers by die Akasia Bilioteek bymekaargekom, vandaar die naam.
# Die bespreking is informeel, ons maak beurte om leiding te neem.
# Besoekers of nuwe lede is welkom. Kontak Sophie Beyers by akasia.leeskring@litnet.co.za.

 

Athos Boekklub

Kontak Elmarie Kock by athos.boekklub@litnet.co.za.

# Athos Boekklub is nege jaar oud met 12 lede wat in die Lynnwood/Brooklyn omgewing woon.
# Byeenkomste op die eerste Donderdag van die maand om 11:00 by wisselende venues, meestal aan huis van lede.
# Gaste is welkom in spesiale gevalle wat geadverteer sal word.
# Synde ’n boekklub het ons nie ’n voorafbeplande jaarprogram nie.

 

Bettie-se-leeskring

Kontak Selma du Preez of Marie Weidemann by bettie-se-leeskring@litnet.co.za.

# Die formidabele Bettie van der Spuy het in 1978 vyf goeie vriendinne oorgehaal om saam met haar boeke te lees en te bespreek. Bettie-se-leeskring het daaruit ontstaan. Bettie is vier jaar gelede op 93 oorlede.
# Nuwe lede wat sal deelneem aan bespreking en besprekings lei, is baie welkom.
# Besoekers is altyd welkom. Skakel asseblief vooraf vir Marie Weidemann (072 226 8090).

Jaarprogram 2018
Byeekomste om 10:00 aan huis van ’n lid tensy anders vermeld

Datum Boek/Onderwerp Skrywer
31/1 Vat jou hele hart Elkarien Fourie
28/2 The Remains of the Day, en ander werke van die Nobelpryswenner Kazuo Ishiguro
25/4 Period Piece: a Cambridge Childhood Gwen Raverat
30/5 Afrika-skrywers  
25/7 Gespreksgenoot: ’n brieweboek Heilna du Plooy (samest.)
29/8 Spertyd Elsa Joubert
31/10 Jan Smuts: Afrikaner sonder grense Richard Steyn
28/11 Oorlog en terpentyn Stefan Hertmans

 

Brooklyn Leeskring

Kontak vir Dalena Beyers by brooklyn.leeskring@litnet.co.za.

# Ons is ’n geslote leeskring wat saans vergader saam met ’n lekker ete. Gaste word by geleentheid uitgenooi.
# Lede lei die bespreking van hulle boekkeuse.

 

Centurion Leeskring

Kontak Elmarie van der Walt of Paul Beezhold by centurion.leeskring@litnet.co.za.

# Centurion Leeskring is 31 jaar oud.
# Besoekers is altyd welkom. Skakel asb vooraf met Amie van der Merwe (012 664 4802) of Lesanda Meyer (084 690 3144).

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 14:30 in die Centurion Biblioteek, h/v Cantonmentsweg en Unielaan

Datum Boek Skrywer of fasiliteerder
16/1 Recipes for Love and Murder Sally Andrews
16/2 Fliek: Italian for Beginners  
20/2 Italian for beginners  
13/3 Die skaalmodel Anneli Groenewald
17/4 The Handmaid's Tale Margaret Atwood
15/5 Vlam in die sneeu Frances Galloway (samest.)
19/6 1795 Dan Sleigh
5/7 Fliek: The Island  
9/7 The Island Victoria Hislop
21/8 Bare Ground Peter Harris
9/10 Programbespreking vir 2019  
16/10 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden
20/11 The Life We Bury Allen Eskens

 

Elize Botha Leeskring

Kontak Rentia Bonthuys of Ritha Louw by elizebotha.leeskring@litnet.co.za.

# Elize Botha Leeskring bestaan reeds 35 jaar hoofsaaklik in die ooste van Pretoria. 
# Tans is ons 20 lede wat die laaste Vrydag van die maand bymekaarkom.     

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 10:00
by ’n lid se huis

Datum Boek Skrywer
2/2 Oorkant jou Juliana Coetzer
2/3 Die bergengel Carina Stander
6/4 Elders Erns Grundling
4/5 A Tale of Two Cities Charles Dickens
1/6 Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte Cas Vos
6/7 Tuisland Karin Brynard
3/8 Jan Smuts: Afrikaner sonder grense Richard Steyn
7/9 The Music Shop Rachel Joyce
5/10 The Boys in the Boat DJ Brown
2/11 Gespreksgenoot: ’n brieweboek Heilna du Plooy (samest.)
7/12 Afsluiting  

 

Glenstantia Leeskring

Kontak Mariaan Ueckermann of Sugnét Kannemeyer by glenstantia.leeskring@litnet.co.za.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 17:00 op die laaste Dinsdag van die maand by Glenstantia Gemeenskapsbiblioteek, Chopinstraat 510

Datum Boek Skrywer
30/1 Beplanning  
17/2 Fliek: Raaiselkind  
27/2 Lugkasteel Annelie Botes
27/3 Hy kom met die skoenlappers Valda Jansen
24/4 Alles begin met Anna Annemari Coetser
29/5 A Man Called Ove Frederik Backman
26/6 Nederland as tema in Karel Schoeman se werk, met verwysing na Riviereland, Stamland en Noorderlig Karel Schoeman
31/7 Op ’n dag, ’n hond John Miles
28/8 The Brief Wondrous Life of Oscar Wao Junot Diaz
25/9 Huilboek Ryk Hattingh
30/10 Die bergengel Carina Stander
Nov Afsluiting: ete of uitstappie  

 

Jakaranda Leeskring

Kontak Marie Meintjes of Lalamarie Human by jakaranda.leeskring@litnet.co.za.

# Op 28 Januarie 2018 is Jakaranda 32 jaar oud. Oorspronklik in Pretoria-Noord gestig maar deesdae woon lede oraloor.
# Ons het tans 26 lede en neem slegs nuwe lede in wanneer iemand bedank of weggaan.
# Gaste welkom indien daar plek is. Kontak asb vir Lalamarie Human (084 760 7199).

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die tweede Woensdag van die maand aan huis van ’n lid

Datum Boek / Onderwerp Skrywer
8/2 Die wêreld van die storie (saam met Mabel Malherbe Leeskring) Willie Burger
14/3 Recipes for Love and Murder Sally Andrew
11/4 Verse wat my bybly  
9/5 The Printmaker Bronwyn Law-Viljoen
13/6 Fliekaand  
11/7 A Gentleman in Moscow Amor Towles
12/9 Chasing the Tails of My Father’s Cattle Sindiwe Magona
10/10 Op ’n dag, ’n hond John Miles
14/11 Afsluiting

 

Lekkerleeskring

Kontak Elsa du Plessis by lekkerleeskring@litnet.co.za.

# Die Lekkerleeskring is sedert die begin van 2010 aan die gang. 
# Byeenkomste vind plaas aan huis van lede en neem die vorm aan van ’n gesprek waarvoor almal voorberei. Daar word nie lesings aangebied nie.
# Byeenkomste is beperk tot lede.

Jaarprogram 2018
Alle byeenkomste om 14:00 aan huis van ’n lid

Datum Boek Skrywer
12/2 Persian Fire Tom Holland
12/3 Spertyd Elsa Joubert
9/4 The Secret Lbife of Bees Sue Monk Kidd
14/5 The City of Falling Angels John Berendt
11/6 A Tale of Two Cities Charles Dickens
9/7 Op ’n dag, ’n hond John Miles
13/8 H is for Hawk Helen MacDonald
10/9 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden
8/10 Eilande Dan Sleigh
5/11 A Prayer for Owen Meany John Irving
3/12 My Father’s Glory and My Mother’s Castle Marcel Pagnol

 

Mabel Malherbe Leeskring

Kontak Elmarie van der Walt of Gina Malherbe by mabelmalherbe.leeskring@litnet.co.za.

# Die Mabel Malherbe Leeskring is vanjaar 78 jaar oud – Pretoria se oudste leeskring. Mabel Malherbe was in baie opsigte ’n pionier. Een faset van haar nalatenskap is die Mabel Malherbe Leeskring. In 1912 stig sy die Afrikaans-Hollandse Leesunie met die doel om Afrikaanse vroue aan te moedig om te lees. Dit was aanvanklik maar moeilik en baie dames het die boekbesprekings eers in Engels geskryf en daarna vertaal! Toe die ledetal 100 bereik het en daar ’n lang waglys was, is ’n tweede leesunie  wat haar naam dra, in 1940 gestig.
# Nederlandse boeke is ’n fokus. Die Stichting Bevordering Culturele Betrekkingen Nld-ZA gee jaarliks ’n ruim skenking vir die aankoop van Nederlandse boeke.
# Nuwe lede (ook mans) is welkom. Kontak ’n bestuurslid of vra ’n vriendin in die leeskring om jou voor te stel.
# Gaste is welkom. Kontak asb vooraf vir Gina Malherbe (084 745 6413).

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 14:00 in die Alkantrant-biblioteek, h/v Daventrystraat en Lynburnweg

Datum Boek / Onderwerp Skrywer
18/1 De trousse Leo Pleysier
8/2 Die wêreld van die storie (saam met Jakaranda Leeskring) Willie Burger
15/3 Huilboek Ryk Hattingh
12/4 Op ’n dag, ’n hond John Miles
10/5 The Remains of the Day Kazuo Ishiguro
14/6 We Need New Names NoViolet Bulawayo
16/8 1795 Dan Sleigh
13/9 One Hundred Years of Solitude Gabriel García Márquez
11/10 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden
8/11 Spertyd Elsa Joubert

 

Menlopark Leeskring

Kontak Petro Blaettler by menlopark.leeskring@litnet.co.za.

# Menlopark Leeskring het in 1967 afgestig van Mabel Malherbe Leeskring en word vanjaar dus 52 jaar oud.
# Van ons 25 lede woon nie een meer in Menlopark nie! Nuwe lede is welkom.
# Besoekers is baie welkom by ons byeenkomste. Skakel vooraf vir Daleen Fourie by 012 991 5262 of 082 926 8129.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 09:30 op die tweede Donderdag van die maand aan huis van ’n lid

Datum Boek/Tema Skrywer
15/2 Die skep van ruimte in in ’n roman  
12/4 Die laaste wals Hennie Aucamp
10/5 We Need New Names NoViolet Bulawayo
14/6 Huilboek Ryk Hattingh
16/8 All the Light We Cannot See Anthony Doerr
13/9 Die slot van die dag Karel Schoeman
11/10 Beplanning  
8/11 Maestro Marié Heese
17/1 die bome reusagtig soos ons was Hilda Smuts

 

Moreleta Leeskring

Kontak Tillie Potgieter of Hester Labuschagne by moreleta.leeskring@litnet.co.za.

# Ons bestaan reeds meer as 20 jaar en vier stigterslede is nog al die tyd by.
# Tans 11 lede:  die meeste woon in die Val de Grace/Lynnwoodrif omgewing maar Rietondale, Waterkloof en Mooikloof is ook verteenwoordig.
# Nuwe lede, veral jonger mense, is baie welkom.
# Besoekers is welkom.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 19:00 aan huis van ’n lid

Datum Boek/Onderwerp Skrywer
18/1 Die naaimasjien en ander stories Rachelle Greeff
15/2 Hy kom met die skoenlappers Valda Jansen
15/3 Oorkant jou: ’n verhaal uit die binnekamer Juliana Coetzer
19/4 Queen of the Free State Jennifer Friedman
24/5 Op ’n dag, ’n hond John Miles
19/7 Sosiale aand: DVD: Filmverse  
20/9 Huilboek Ryk Hattingh
18/10 Judas Amos Oz
15/11 Koms van die motman Chris Karsten

 

Pretoria-Oos Leeskring

Kontak Sannie Meiring by pretoria-oos.leeskring@litnet.co.za.

# Pretoria-Oos is die jongste van die Pretoriase leeskringe en is pas in 2018 gestig.
# Ons funksioneer in die Pretoria-Oos Aftreeoord in Equestria.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 16:00 in die aftreeoord se saal

Datum Boek/Onderwerp Skrywer
3/2 Koms van die hyreёn Dolf van Niekerk
13/3 Vrypas Dot Serfontein
3/4 All the Light We Cannot See Anthony Doerr
7/5 Recipes for Love and Murder Sally Andrew
4/6 Fliek: The Remains of the Day, gebaseer op die boek Kazuo Ishiguro
6/8 Hadassah: One Night With the King Tommy Tenney
3/9 Skepelinge Karel Schoeman
1/10 Emily Hobhouse, geliefde verraaier Elsabe Britz
5/11 Mentje, kind van Pas-Opkamp Irma Joubert

 

Prisma Leeskring

Kontak vir Anneli Kuhn by prisma.leeskring@litnet.co.za.

# Prisma bestaan sedert 1969.
# Die 11 lede kom meestal uit die Lynnwood-omgewing.
# Ons fokus nie net op letterkunde nie, maar lees ook wyer of kry kundiges om ons te kom toespreek – vandaar die naam Prisma.
# Besoekers is altyd welkom.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 14:30 meestal aan huis van ’n lid

Datum Boek/Onderwerp Skrywer
26/1 "Geskiedenis van Epidemies in SA" Prismalede woon simposium gereël deur SA Akademie vir Wetenskap en Kuns by.
8/2 Frans David Oerder se Anglo-Boereoorlogtekeninge en skilderye Prof Alex Duffy
21/3 Wat lees jy? Prisma-leeslys vir 2018
18/4 Tuisland Karin Brynard
16/5 The Remains of the Day Kazuo Ishiguro
20/6 Fliekaand met Lynette  
18/7 Sielkunde-praatjie oor verwerking van trauma  
15/8 Vat jou hele hart Elkarien Fourie
19/9 Koms van die motman Chris Karsten
18/10 Camera Obscura en Etensuurkonsert by UP  
23/10 Gesamentlike leeskringbyeenkoms Deon Meyer
17/11 Afsluiting vir 2018  

 

Sunrise View Leeskring

Kontak Elize Momsen by sunriseview.leeskring@litnet.co.za.

# Ons bestaan nou sowat 15 jaar.
# Tans 20 lede. Nuwe lede is baie welkom.

 

Tygerpoort Leeskring

Kontak Johan Talma of Gerda Kriek by tygerpoort.leeskring@litnet.co.za.

# In 1995 deur Lulu Harley gestig vir Silver Lakes-inwoners. Nou woon die 25 lede in verskeie woongebiede in die ooste van Pretoria.
# Nuwe lede is welkom.
# Besoekers is welkom by alle byeenkomste. Skakel asseblief vooraf met Gerda Kriek (083 296 1113) as jy wil bywoon.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 09:30 in die NG Kerk Lynnwoodrif se Life Style Café

Datum Boek / Tema Skrywer
18/1 Maestro Marié Heese
15/2 Mede-wete Antjie Krog
15/3 Groen soos die hemel daarbo Eben Venter
19/4 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne v Heerden
17/5 Fees van die ongenooides PG du Plessis
21/6 Fotostaatmasjien Bibi Slippers
16/8 Die derde spoel SJ Naude
20/9 God praat Afrikaans Hemelbesem
18/10 ’n Lug vol helder wolke Karel Schoeman
15/11 Jeugverhale: Ink, Jou Romeo, Snitch Ingrid Mennen, Fanie Viljoen, Edyth Bulbring

 

Waterkloof Leesgroep

Kontak Lillibeth Moolman of Marita Op't Hof by waterkloof.leeskring@litnet.co.za.

Jaarprogram 2018

Datum Boek/Onderwerp Skrywer
20/2 Jan Smuts: van boerseun tot wêreldverhoog Kobus du Pisani (samest.)
20/3 Eugene Marais en Leipoldt, onwaarskynlike vriende Carel Mieny
15/3 Elize Botha: Gespreksgenoot Heilna du Plooy (samest.)
21/8 Aspekte van Calvyn se lewe  
18/9 Spertyd Elsa Joubert
20/11 Afsluiting  

 

Waverley Leeskring

Kontak Trui van Wyk of Elfrieda Marais by waverley.leeskring@litnet.co.za.

# In 1972 gestig. Elize Botha was ’n stigterslid en tot haar dood ere-voorsitter.
# Nuwe lede is welkom.
# Besoekers is welkom. Kontak asb Trui van Wyk (082 506 5779) of Elfrieda Marais (072 179 5847) vooraf en maak ’n bydrae van R20.
# Ons werk baie goed saam met die biblioteek: die leeskring koop jaarliks drie kopieë van elk van die boeke en skenk dit aan die biblioteek. Tot tyd en wyl dit bespreek word, word die boeke vir lede uitgehou.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 09:30 in die Waverley Biblioteek, Cunninghamlaan 1355, Waverley

Datum Boek / Tema Skrywer
23/1 Ons maak kennis met die nuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls  
6/2 Die laksman se dogter Gerda Taljaard
6/3 Fotostaatmasjien Bibi Slippers
10/4 Die laaste wals: Hennie Aucamp                                     Johann se Lange (samest.)
8/5 Oor berge en dale Jackie Grobler                 
5/6 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden
7/8 Afskeid van Europa Karel Schoeman
4/9 Lugkasteel Annelie Botes
9/10 Die mooiste Afrikaanse gedigte Cas Vos (samest.)
6/11 Gespreksgenoot: ’n brieweboek Heilna du Plooy (samest.)

 

Wilgers Leeskring

Kontak vir Maryna Brunt of Joey van Zyl by wilgers.leeskring@litnet.co.za.

# Die Wilgers Leeskring is op 25 September 2014 begin met ’n ledetal van agt lede. Die ledetal wissel tans tussen 12 en 15 en nuwe lede is welkom.
# Ledegeld beloop R100 per jaar.
# Boekbesprekings is informeel en word deur een van die lede gelei.
# Besoekers is welkom. Skakel asb 079 898 1112 om aan te meld.

 

Prins Albert

 

Mirtehof Leeskring

Kontak Sebastian Matroos by mirtehof.leeskring@litnet.co.za.

# Hierdie leeskring is nuut gestig en beoog om inwoners van en besoekers aan Prins Albert te betrek by interessante gesprek oor die boeke wat ons lees en die gemeenskap waarbinne ons leef. Die leeskring is progresief en het ten doel om ons horisonne te verbreed en lede bloot te stel aan goeie skryfkuns.
# Nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 16:00 op die laaste Sondag van die maand

Maand Boek/onderwerp Skrywer
Augustus 2018 ’n Ander tongval Antjie Krog
September 2018 Pieternella van die Kaap Dalene Matthee
Oktober 2018 The Reader Bernhard Schlink
November 2018 Vrypas Dot Serfontein
Desember 2018 Voorlesing van reisstories van André P Brink uit Herrinneringe van Parys  
Januarie 2019 Voorlesing van reisstories van André P Brink uit Mediterreense Herrinneringe  

 

 

Rustenburg

 

Rustenburg Leeskring

Kontak vir Micky Badenhorst by rustenburg.leeskring@litnet.co.za.

# Ons bestaan sedert 1974 toe die destydse burgemeestersvrou, Bets Hattingh, Audrey Blignault genooi het om raad te gee met die stigting van ’n leeskring.
# Tans 10 lede. Gaste is altyd baie welkom. Kontak asb Micky Badenhorst by 072 223 6841.
# Ons plaas maandeliks ’n berig in die plaaslike koerant.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 15:00 gewoonlik aan huis van Micky Badenhorst tensy anders geadverteer

Datum Boek Skrywer
23/1 Vir die voëls François Bloemhof
24/2 Net ’n mens Alta Cloete
27/3 Pelgrimshoop Ronel Nel
24/4 Op ’n dag, ’n hond John Miles
22/5 Drieklawerblaar Christine Barkhuizen-le Roux
26/6 Bo is dit stil Gerbrand Bakker
28/8 Drie vroue en ’n meisie Hans du Plessis
25/9 Die leliemoordenaar Lerina Erasmus
23/10 1795 Dan Sleigh
27/11 Queen of the Free State Jennifer Friedman

 

 

Sasolburg

 

Sasolburg-biblioteek Leeskring

Kontak Estelle Boers by sasolburg-biblioteek.leeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring het in 1979 ontstaan toe die nuwe biblioteek in gebruik geneem is. Dit het verander van ’n formele aksie met ’n spesifieke spreker na ’n meer informele gespreksituasie waar almal die boek moet lees en aktief  deelneem.
# Ons ledetal wissel tussen 12 tot 15 lede en nuwe lede is altyd welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die derde Woensdag van die maand

Maand Boek/onderwerp Skrywer
Januarie Gedigte – eie keuse  
Februarie The Snow Goose Paul Gallico
Maart Krotoa-Eva (vergelyk met Dalene Matthee se Pieternella van die Kaap) Trudie Bloem
April Mentje: Kind van Pas-Opkamp Irma Joubert
Mei The House on Carnival Street Deborah Rodriquez
Junie Hy kom met die skoenlappers Valda Jansen
Julie Salt to the Sea Ruta Sepetys
Augustus Geknelde land FA Venter
September The Miniaturist J Burton
Oktober Hans steek die Rubicon oor Rudie van Rensburg
November Beplanning vir 2019  

 

Sedgefield

 

Sedgefield Leeskring

Kontak Elsje Gräbe by sedgefield.leeskring@litnet.co.za.

# Jeanetta Steyn het ’n leeskring op Somerset-Wes gestig en toe tree sy en haar man af op Sedgefield. In 2013 stig sy toe ’n leeskring op Sedgefield.
# Ons het tans 15 lede en nuwe lede is baie welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 10:00 op die laaste Vrydag van die maand in die ou Raadsaal

Datum Boek/onderwerp Skrywer
Februarie A Walk Across the Sun Corban Addison
Maart When Breath Becomes Air Paul Kalanithi
April Spertyd Elsa Joubert
Mei The Help Kathryn Stockett
Junie Twenty Chickens for a Saddle Robyn Scott
Julie Ikarus Deon Meyer
Augustus Spreker: Joan Louwrens, ’n avonturier van Knysna  
September Die hart van ons huis Marita van der Vyver
Oktober A Man Called Ove Fredrik Backman
November Elders Erns Grundling

 

Somerset-Wes

 

Helderberg Leeskring

Kontak Gideon Strydom by helderberg.leeskring@litnet.co.za.

# Die formidabele Helderberg Leeskring bestaan reeds vir meer as 40 jaar. Daar is tans aktiewe lede wat sedert 1978 lid is van die leeskring.
# Ons lees ’n wye verskeidenheid genres en onderwerpe en poog om die boekelys elke jaar so interessant en uitdagend as moontlik te maak. Lede stel self boeke voor en ons besluit saam watter boeke vir die bepaalde jaar bespreek sal word.
# Ons is bevoorreg om toegang tot wonderlike sprekers te hê en het deur die jare reeds ’n noue band met baie van hulle ontwikkel. Ons sprekers is meestal skrywers, resensente, akademici en lede.
# Daar is tans 35 lede. Voornemende lede is welkom om ons te kontak. Ons vergader tans aan huis van lede, so die ledetal word dus beperk om logistieke redes.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die derde Dinsdag van die maand

Datum Boek Skrywer Spreker
23/1 Wat die hart van vol is Peter Veldsman Peter Veldsman
20/2 Letters of Stone Steven Robins Jonathan Amid
20/3 Elize Botha: Gespreksgenoot Heilna du Plooy (samest.) Lizette Rabe
17/4 The Sculptors of Mapungubwe Zakes Mda Grace Musila
15/5 Fotostaatmasjien Bibi Slippers Rita Gilfillan
19/6 Die wêreld van Charlie Oeng Etienne van Heerden Chris van der Merwe
17/7 The Ministry of Utmost Happiness Arundhati Roy Kayang Gagiano
21/8 Slot van die dag Karel Schoeman Gunther Pakendorf
18/9 My Brilliant Friend Elena Ferrante Hester Mostert
16/10 Huilboek Ryk Hattingh Elmari Rautenbach
20/11 Beware of Pity Stefan Zweig Nog nie vasgestel nie

 

U3A Helderberg Afrikaanse Leeskring

Kontak Rina Swart by u3a.helderberg.leeskring@litnet.co.za.

# U3A Helderberg het ’n Engelse leeskring wat net Engelse boeke lees en bespreek. Ons het toe besluit om ’n Afrikaanse leeskring te begin.
# Ons het tans 26 lede en nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Program 2018
Byeenkomste om 14:30 op die 3de Maandag van die maand

Datum Boek/onderwerp Skrywer
20/8 Jan Smuts: Afrikaner sonder grense Richard Steyn
17/9 The Lady and the Unicorn Tracy Chevalier
15/10 Martin Steyn bespreek sy boeke  

 

Stellenbosch

 

Poësiekring Stellenbosch

Kontak Petrusa by kring.stellenbosch@litnet.co.za.

# Die poësiekring bestaan sedert 1993 en bespreek een keer ’n maand gepubliseerde bundels.
# Sowat 35 lede woon die byeenkomste by en belangstellendes is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 10:00 op elke eerste Maandag van die maand

Datum Bundel/onderwerp Digter
5/2 Fotostaatmasjien Bibi Slippers
5/3 Woordfees-verrassing  
16/4 Mede-wete Antjie Krog
7/5 Knapsekêrels Pieter Fourie
4/6 Uittogboek Johan Myburgh
6/8 Radbraak Jolyn Phillips
3/9 Musiek en die poësie  
15/10 Vreemde liefde: van ID du Plessis tot Fourie Botha  
5/11 Afsluitingsfunksie  

 

Stilbaai

 

Stilbaai Leeskring

Kontak Hanina Loubser by stilbaai.leeskring@litnet.co.za.

# Eerste vergadering op 15 Maart 1984 gehou met Becky Ferreira as voorsitster.
# Enigeen is welkom om aan te sluit.
# Gaste is baie welkom om geleenthede by te woon (’n bydrae van R10 vir eet- en drinkgoed word gevra).
# Vergaderings word elke eerste Donderdag van die maand om 14:30 in Die Waenhuis, Jagersbosch gehou – ’n kennisgewing word ’n week tevore op die inligtingsmuur in Hoofstraat-Wes aangebring.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste om 14:30 op die eerste Donderdag van die maand

Datum Boek/onderwerp Skrywer
1/2 Alg jaarvergadering en ontbyt  
1/3 Lost in Translation Eva Hoffmann
5/4 Die bewaker Marguerite Poland
3/5 The High Mountains of Portugal Yann Martel
7/6 Huldeblyk aan PG du Plessis  
5/7 Spertyd Elsa Joubert
2/8 Verskeidenheid van John Steinbeck John Steinbeck
6/9 The Essex Serpent Sarah Perry
4/10 Hierdie lewe Karel Schoeman
1/11 Boekemiddag  

 

Struisbaai

 

2 Oseane Leeskring

Kontak Jakkie Badenhorst by 2-oseane.leeskring@litnet.co.za.

# Die leeskring bestaan uit 30 lede en nuwe lede word aanvaar.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Vergader een keer ’n maand

Program 2018

Boek/onderwerp Skrywer
Slot van die dag Karel Schoeman
Split Debbie Loots
Die karretjiemense Carol Campbell
Koors Deon Meyer
All the Light We Cannot See Anthony Doerr
Margie van die seminary Winnie Rust
Slumdog Millionaire Vikas Swarup
Isabella Mariël le Roux

 

Upington

 

Boekbende

Kontak CM van der Walt by boekbende.upington@litnet.co.za.

# Ons koop vir die afgelope ses jaar gesamentlik boeke aan en ruil dit onder mekaar uit.
# Ons het op die oomblik 12 lede, en neem nie tans nuwe lede in nie.
# Ons vergader een keer per maand.

 

Vanderbijlpark

 

Vanderbijlpark Leeskring

Kontak Gerda Grové by vanderbijlpark.leeskring@litnet.co.za.

# Ons leeskring is al 32 jaar aan die gang.
# Ons poog om die pryswenners van die jaar te lees. Al ons lede lees dieselfde boek per maand en dan kry ons kundige sprekers om te bespreek. Soms berei een lid voor en fasiliteer ’n groepsbespreking.
# Ons het tans 35 lede en nuwe lede is baie welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die derde Donderdag van die maand

Datum Boek/onderwerp Skrywer Aanbieder
17/5 Emily Hobhouse, geliefde verraaier Elsabé Brits Annatjie Strijdom
21/6 Die soenoffer Isa Karsten Nog nie vasgestel nie
16/8 Huilboek Ryk Hattingh Thys Human
20/9 Die taal van been Heilna du Plooy Phil van Schalkwyk
18/10 Die laksman se dogter Gerda Taljaard Nog nie vasgestel nie
15/11 Ingrid Jonker se werk   Nog nie vasgestel nie

 

Ventersburg

 

Ventersburg Leeskring

Kontak Esther Delport by ventersburg.leeskring@litnet.co.za.

# Ons leeskring is omtrent 35 jaar oud en is die uitvloeisel van ’n inisiatief deur Doks Briers van die Vrystaat Biblioteekdiens om leeskringe op die Vrystaatse platteland te stig.
# Ons het tans 15 lede en nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Jaarprogram 2018
Byeenkomste op die laaste Maandag van die maand

Datum Boek/onderwerp Skrywer
26/2 Origin en Dan Brown ander se werke Dan Brown
26/3 Genade! EdeLAGbare: Humor in die hof Ian Wessels (samest)
23/4 Musiek  
28/5 Elders Erns Grundling
23/7 Misverstand Marita van der Vyver
27/8 Van Kaspaas tot Kaas: Die lewe en werk van TO Honiball FP Verster
17/9 Die werke van Dot Serfontein  
29/10 Kuns  
19/11 Kersfeestema  

 

Villiers

 

Village Leeskring

Kontak Elize Schoombee by village.leeskring@litnet.co.za.

# Ons het so min of meer 2 jaar gelede begin. Daar was eers ’n ander leeskring maar het mettertyd doodgeloop. Ek het toe besluit om die gaping te neem en ’n nuwe een te begin. Die enigste twee lede wat nog oor was by die vorige leeskring het toe ook by ons aangesluit.
# Ons het tans 10 lede en nuwe lede is welkom.
# Gaste is welkom by geleenthede.

Program 2018
Byeenkomste op die laaste Dinsdagmiddag van die maand

  • Bruin geeste deur Elsabe Steenberg
  • Susters van Eva deur Dalene Matthee
  • Die ander Martha deur Eleanor Baker
  • Emily Hobhouse, geliefde verraaier deur Elsabé Brits

 

Wellington

 

Boekklub 2 vir 5

Kontak Engela Duvenage by boekklub.wellington@litnet.co.za

# Die boekklub is in 2017 gestig.
# Daar is tans 5 lede.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Byeenkomste vind twee keer per kwartaal plaas.

 

Witrivier

 

Boekbimbo's

Kontak Liezel Lünenburg by boekbimbos.witrivier@litnet.co.za.

# Die Boekbimbo’s van Witrivier kuier die laaste sewe of agt jaar een maal per maand saam. Niemand kan onthou presies waar die komiese naam vandaan kom nie, maar almal is dit eens dat die tong-in-die-kies-alliterasie lekker op die oor val.
# Elkeen dra maandeliks R50 by tot ’n “boekfonds” en elke lid kry eenmaal per jaar ’n beurt om nuwe boeke aan te koop. Die boekklub funksioneer as ’n biblioteek waar lede boeke kan uitneem – die klub het nou reeds bykans 600 boeke op hul lys. ’n Boek wat deur almal gelees is, word die eiendom van die lid wat dit gekoop het, maar alle boeke bly op die lys en kan later weer by die eienaar geleen word.
# Die Boekbimbo’s se byeenkomste is ontspanne en daar word gesellig gekuier rondom lekker kos en goeie wyn. Elkeen kry ook die geleentheid om te vertel wat sy in die laaste maand gelees het en wat sy daarvan dink.
# Ons is 12 lede en daar is ’n waglys van persone wat graag wil aansluit as ’n lid sou bedank.
# Gaste is welkom by geleenthede.
# Byeenkomste op die derde Donderdag van die maand.

 

Worcester

 

Lekkerlees Leeskring

Kontak Retha Alberts by lekkerlees.leeskring@litnet.co.za.

# Ons leeskring is in 2002 gestig, en ons het tans 16 aktiewe lede.
# Ons hou maandelikse boekbesprekings, en nooi gereeld skrywers om hulle boeke aan ons bekend te stel en te verkoop.
#Ons moedig mekaar aan om ook grensverskuiwende boeke aan te pak en het heerlike, stimulerende gesprekke oor nuwe skrywers en nuwe titels.
# Ons aanvaar nuwe lede, maar die getal is beperk tot 20 lede.
# Ons ontvang graag gaste wat belangstel in die spesifieke titel of skrywer wat ons bespreek.
# Lede kry ’n beurt om as gasvrou vir die maandelikse leeskringbyeenkoms op te tree. Sy besluit self oor die titel of skrywer wat sy graag wil bekendstel of bespreek. Alle ander lede word dan ten minste twee weke voor die datum daarvolgens in kennis gestel, vir voorbereiding en/of bespreking. Ons het slegs ’n maandelikse datumskedule en nie vooraf-bepaalde boeke of skrywers nie.

LitNet wil graag aan leeskringe ondersteuning gee.
Stuur jou leeskring-besonderhede of navrae aan leeskring@litnet.co.za of besoek https://www.litnet.co.za/uitnodiging-leeskringe-suid-afrika/.

The post Leeskringe in Suid-Afrika: 2018-jaarprogramme en -inligting appeared first on LitNet.


LitNet: Jou kurrikulum

Die Oudgriekse musiek en musieklewe (deel 2)

$
0
0

Apollo met ’n lier | Foto: Wikimedia Commons

“Musiek is die snelskrif van die mens se gevoelens en emosies.” – Leo Tolstoi, 1828–1910

Bewaargeblewe Oudgriekse musiekfragmente

Enkele fragmente van Oudgriekse musieknotasies het tog vir ons bewaar gely. Ons vind dit op klip uitgebeitel, op papirusbrokkies uit die droë sand van Egipte, en in enkele manuskripte. Ek noteer hier ’n paar.

1. Drie himnes toegeskryf aan Mesomedes uit Kreta van die 2de eeu nC, onderskeidelik die Muses, Helios (die Son), en aan Nemesis (die Wraakgodin). Om op die skoonheid en eenvoud van die Oudgriekse musiek te wys, is hierdie drie himnes vir die eerste keer afgedruk deur Vincenzo Galilei (vader van die groot wetenskaplike Galileo) in 1581 onder die titel Dialogo della musica antica e della moderna. Dit was alleen maar jammer dat hy die teks nie kon ontsyfer nie. Mesomedes was ’n tydgenoot van die Romeinse keiser Hadrianus, die Spanjaard. Die waarskynlike doel daarvan was, soos ons kan aflei, om verskillende musikale ritmes mee aan te dui.

2. Die melodie van die eerste Puthiese Ode van Pindaros (gebore in Thebe ong 522 of 518 vC). Dit is die openingstrofe van die Ode. Dit is vir die eerste keer in 1650 deur Athanasius Kircher in sy Musurgia Universalis Dit staan egter onder die moontlike suspisie van vervalsing, moet bygesê word (vgl Classical Philospohy, 1936, ble 120 vervolgens).

3. Enige fragmente vir die kíthera (snaarinstrument soos die siter, harp of luit) wat in 1841 deur F Bellermann gepubliseer is onder die titel Anonymus de musica.

4. ’n Paián (paiaan, oftewel plegtige loflied as oorwinningslied, ter ere van die god Apollo, uit die 2de eeu vC (of vroeër), in 1918 uitgegee as die sogenaamde Berliner Papyrus. Die twaalf reëls van hierdie paiaan vertolk dus Hellenistiese (naklassieke) musiek.

5. Twee paiane op klip uitgebeitel vir Apollo, ook uit die 2de eeu vC. Dit is in 1893 deur Franse argeoloë by Delphi ontdek. Dit vorm vandag die mees ekstensiewe stuk Oudgriekse musiek wat ons besit.

6. ’n Lied oor die selfmoord van (Homerus se) Ajas; dit is op ’n stuk papirus in Egipte gevind. Dit is ook in 1918 uitgegee, onder die titel Berliner Papyrus.

7. Die fraai liedjie van Seikilos, uit die 1ste of 2de eeu vC, wat ’n man gekomponeer het as ’n epitáphios lógos (grafskrif) vir die gestorwe vrou, in 1883 in Klein-Asië gevind. In vertaling lui dit: “So lank as wat jy leef, laat jou lig skyn. Jy moet nooit bedroef wees nie. Om te lewe is net vir ’n kort tydjie, want tyd eis altyd sy eie einde op.”

8. ’n Fragment op papirus van die Eerste Stasimon (koorsang) van Euripides se Orestes, reëls 338–44, in 1892 ontdek. Dit is stellig die oudste musiekbrok uit die Griekse Oudheid wat ons vandag besit. ’n Afdruk, met ontsyfering deur Theodore Reinach, het in 1955 te Amsterdam verskyn in Verlucht relaas van dertig eeuwen muziek door Caspar Höweler, bl 17.

9. ’n Oud-Christelike himne wat in Oxyrhynchus in Midde-Egipte gevind is wat uit die 3de eeu nC dateer en in 1922 uitgegee is. Hierdie himne is weer die oudste stukkie Christelike musiek wat ons vandag besit.

10. Papyrus Cairo 59533 uit die sogenaamde Zenon Argief van omstreeks 250 vC. Dit is slegs ’n kort musikale fragment, waarskynlik uit ’n (Griekse) tragedie: sien Journal of Hellenic Studies, 1931.

Oudgriekse skrywers self oor musiek en die musiekteorie

Ons besit vandag ’n aansienlike, maar uiters fragmentariese, korpus van geskrifte oor die Oudgriekse musiek en musiekteorie wat in die Oudheid deur Griekse skrywers self opgestel is.

Die grondlegger van die antieke musiekwetenskap was sekerlik Aristoxenos van Terentum in Magna Graecia, Suid-Italië. Hy is tussen 375 en 360 vC gebore. Sy vader Spintharos was sy eerste musiekonderwyser, later bygestaan deur ’n sekere Lampros uit Euruthrai in Ioniese Klein-Asië. Nadat hy vir ’n kort tydjie in die historiese Mantinea in Arkadië op die Peloponnees, asook Korinthe by die Istmos (die landengte tussen die Peloponnees en Attika), vertoef het, het hy na Athene verhuis vir sy hoër opvoeding. Hier het hy toe, as uitstaande student, aan Aristoteles se Peripatetiese filosoweskool, die Lyceum, studeer, asook vir ’n kort rukkie onder Xenophilos die Puthagoreïstiese wysgeer in die stad. So begaafd was hy dat almal verwag het dat hy Aristoteles as hoof van sy skool sou opvolg. Maar Theophrastos is toe verkies. Die Suda (’n Griekse leksikon van die 10de eeu nC) rapporteer dat Aristoxenos daarna ’n hele paar skinderstories oor die Atheense wyses van die dag versprei het. Hy sou Aristoteles self aangeval het, Sokrates beskinder het, en beweer het dat Plato suiwer plagiaat gepleeg het uit Puthagoriese bronne met die opstel van sy beroemde Staat in tien boekdele.

Aristoxenos het ontsettend veel geskryf. Die Suda sê dat hy 453 boekdele nagelaat het. Dit het gehandel oor filosofiese en historiese onderwerpe (biografieë, sy Bíoi Andrôn, ingesluit). Maar hy was veral beroemd om sy geskrifte oor die Oudgriekse musiek en musiekteorie. Hy het oor al die bekende musiekinstrumente van die dag geskryf asook oor die vervaardigingsprosesse daarvan. Feitlik al hierdie werk het jammerlik genoeg vir ons verlore gegaan. Ons besit egter nog sy Archaí (“Beginsels”) en Stocheîa (“Elemente”) wat oor die Oudgriekse musiek handel. Hoewel erg geskonde is dit vandag vir ons van onskatbare waarde.

Aristoxenos het die hele scopus van musiek as wetenskap bespreek: die noteleer, musikale intervalle, tetrakoorde, toonhoogtes, toonlere, stemtone (tónoi), stembuiging, die komponering van melodieë (melopoiía) en 27 teoremata oor musikale konstruksies. Hy het veral belanggestel in die manipulering en selfbeweging van die menslike stem.

Ritme in musiek het Aristoxenos gedefinieer as “die geordende opstelling van afgebakende tye” (táxis aphôrismênê chrónôn), as die aantoning van klankbeweging wat in maat geplaas word. Hy het die versvoet (poûs) as die primêre eenheid van ritme (ho prôtos chrónos) beskou wat tussen die ársis (heffing van die stem by die eerste sillabe) en thésis, dws die daling daarvan, lê.

Aristoxenos het afgewyk van die kanoniese beginsel in musiek soos Puthagoras dit gesien het (waar tone matematiese deur die getal en sy verhoudinge vasgelê word soos dat die lengte van ’n snaar en sy spanning daardie toon bepaal). Hy het eerder die harmoniese beginsel beklemtoon, dws die fisiese effek van klank op die oor. Daarmee het hy die beginsel van “subjektiewe fantasie” by die aanluister van musiek ingebring, en só was hy ’n pionier van die musikale estetiek.

Volgens Cicero (Tusculanae Disputationes 1.19) het Aristoxenos die siel van die mens as die harmonía van die ganse liggaam beskou. Soos die musiekinstrument reg ingestel moet word om nie vals te speel nie, so stel musiek ook die menslike liggaam in om vlot en korrek te fungeer. Juis daarom is musiek so ’n allerbelangrike komponent by die opvoeding van die mens en die vorming van sy éthos (karakter). Sonder musiek bly die menslike gees barbaars onopgevoed.

Aristoxenos het ook ’n handleiding geskryf oor hoe om na musiek te luister (Perì mousikês akroáseôs). Ploutarchos (ongeveer 46–120 nC) sou later dieselfde doen.

Die standaard Griekse teks van Aristoxenos se bewaargeblewe fragmente oor musiek is byeengebring deur Rudolph Westphal en Franz Saran onder die titel Aristoxenos von Tarent: Melik und Rythmik des klassischen Hellenismus, Vol 2, Leipzig, 1893. Charles Williams van Cambridge se The Aristoxenian theory of musical rhythm het in 1911 verskyn. Louis Laloy het hom ook lank besig gehou met die studie van Aristoxenos: vgl sy Aristoxène de Tarente van 1904 en sy Aristoxène de Tarente et la musique de l’antiquité van 1924, beide werke wat in Parys verskyn het. Vir meer onlangse literatuur rondom Aristoxenos, sien Bruno Centrone, Aristoxène de Tarente (in Richard Goulet se Dictionaire des philosophes antiques, Band I, Paris, 1989); Oliver Busch, Logos syntheseos (George Olms, Hildesheim, 2004); Wilfried Neumaier, Was ist ein Tonystem? (Lang, Frankfurt-am-Main, 1986); idem, Antike Rhythymustheorien (Grüner, Amsterdam, 1989).

Naas Aristoxenos se geskrifte wat oorgebly het, kan ook die volgende Oudgriekse skrywers en bronne oor die antieke Griekse musiek geraadpleeg word:

1. Eukleides van Alexandrië (300 vC) se Stoicheîa. Eukleides was ’n uitstaande grammatikus in sy behandeling van die teorie van getalle in die meetkunde wat in Europa nog gevolg is tot in die 19de eeu, toe Charles Ludwige Dodgson van Oxford (die Lewis Carroll wat ook Alice’s Adventures in Wonderland geskryf het) in 1879 Eukleides se teorieë begin bevraagteken het. Proclus vertel in sy Kommentaar op Eukleides (Prol G 20) dat Eukleides die “kettingmelodie” in sy onderdele matematies opgedeel het.

2. Claudius Ptolemaios van Alexandrië (2de eeu nC), die groot sterrekundige uit Egipte wat ’n plat aarde verkondig het met die son wat daaromheen draai (maw ’n geosentriese ipv ’n heliosentriese heelal), het dit in sy Harmoniká (in drie boekdele) ook gehad oor die wiskundige aard van musiek, wat hy as die enigste internasionale taal beskou het. Hy was die skepper van die Arabiese Almagest, oftewel “wese van ons sterrehemel”.

3. Alypius (3de/4de eeu nC) het ook ’n uitgebreide “Inleiding tot Musiek” (Eisagôgê mousikê) geskryf wat behoue gebly het. Dit vorm vandag ons hoofbron oor die Oudgriekse musieknotasie. Vgl hier Carl von Jan se Misici Scriptores Graeci, 1895, ble 357–406.

4. Ploutarchos, 46–120 nC, die bekende biograaf en moralis, het ook, pseudoniem, ’n boek oor die musiek geskryf onder die titel Perì mousikês, en ons oa ook vertel hoe om na musiek te luister.

5. Theon van Smurna (floreat 115–40 nC), ’n vurige Platonis, het ’n behoue werk geskryf onder die lang titel Tà katà tò mathêtikòn chrêsima eis tên Plàtôn anágôsin waarin hy ’n inleiding tot Plato skryf met insluiting van getalletipes, die sterrekunde en die teorie van musikale harmonie.

6. Kleonides van die begin van die 2de eeu nC het ook ’n “Inleiding tot harmonie” (Eisagôgê harmonikê) geskryf wat bewaar gebly het waarin hy ons die beste verduideliking gee van Aristoxenos se harmonieteorie.

7. Nikomachos van Gerasa, ’n Puthagoreër en wiskundige, wat tussen 50 en 150 nC geskryf het, het ook ’n handboek oor die harmonieleer geskryf onder die titel Harmonikòn eincheíridion, waarin hy musiek binne die teorie van getalle bespreek. Apuleius het dit later in Latyn vertaal.

8. Aristides Quitilianus van die 3de/4de eeu nC het ook ’n boek, Oor die musiek (Perì mousikês), geskryf waarin hy harmonie, ritme en metriek behandel en Aristoxenos nougeset navolg.

9. Bakcheios van Geron, ’n tydgenoot van keiser Alexander die Grote (274–337 nC), het ook in vraag-en-antwoord-vorm ’n inleiding oor musiek opgestel onder die titel Eisagôgeê téchnês mousikês, waar dit suiwer gaan om musikale tegniek: vgl weer eens Carl von Jan, Musici Scriptores Graeci, 1895, ble 283–316.

10. Martianus Capella van Noord-Afrika van die 5de eeu nC gee in die 9de boek van sy De nuptiis Philologiae ’n fantasie-extravaganza, heel allegories, van die “hemelvaart” van Philologia saam met haar diensmeisies, die sewe Artes Liberales, wat natuurlik die beoefening van musiek insluit. Daar bestaan vele manuskripte van hierdie werk wat weer heel ernstig opgeneem is in die tyd van die Karolingiese Renaissance (die eerste belangrike herlewing van die humanitas van die klassieke Oudheid teen 750–900 nC). Hierdie werk is inderwaarheid didakties geskryf, in prosa en verse, deur ’n vader ter opvoeding van sy seun. En die opvoeding in musiek staan voorop – soos dit van oudsher behoort het.

11. Anicius Manlius Severinus Boethius, ook van die 5de eeu nC (480–524), het in sy bekende Consolatio Philosophiae een van die mooiste werke ooit in Latyn geskryf. Sonder dat hy die Christelike Nuwe Testament ’n enkele keer aanhaal, het hy vir sy naderende dood deur teregstelling volkome vertroosting en berusting gevind in die wyshede van die profane klassieke filosofie, want die enigste goed moet God wees. Daar bestaan vandag meer as 400 manuskripte van hierdie juweel van ’n werk. Dieselfde Boethius het ook net so ’n fraai werkie oor die beoefening van musiek geskryf, naamlik De Musica, en gesê alleen musiek kan rus en ekwilibrium aan ’n gekwelde en getormenteerde gees gee. Dit was hierdie Boethius wat Alighieri Dante se beroemde dictum by sy Inferno 5.121 geïnspireer het: “Nessun maggior dolore che ricordarsi del tempo felice nella miseria” (“Daar is geen groter pyn as om in die bitterheid weer die tyd van geluk opnuut terug te roep nie”). En ’n skone melodie is een daarvan.

Lees ook:

Die Oudgriekse musiek en musieklewe (deel 1)

The post Die Oudgriekse musiek en musieklewe (deel 2) appeared first on LitNet.

Stroomop deur Adeline Radloff: boekbekendstelling

Blinde sambok en Meerkat Maantuig: Die aanpassing van boek na fliek

$
0
0

Blinde sambok
Riana Scheepers

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624039808

Blinde sambok, ’n jeugverhaal deur Riana Scheepers, het in 2001 verskyn, en vroeër vanjaar was Meerkat Maantuig deur Hanneke Schutte, wat die draaiboek sowel as regie gedoen het, op ons fliekkringloop te sien. Die film vaar uitstekend – teen April 2018 was dit al gekies vir veertien filmfeeste wêreldwyd én het dit al ’n hand vol pryse ingepalm.

Mense kan oneindig stry oor boeke wat aangepas word vir film, met die grootste argument oor watter een beter was: die boek of die fliek. Die tweede gewildste argument gaan gewoonlik oor of die boek getrou nagevolg is, en of die storie verander is. Dié kan strek van “’n bietjie aangepas” tot “onherkenbaar verander” – laasgenoemde gewoonlik met groot verontwaardiging begroet deur teleurgestelde lesers.

Wat mense dikwels uit onkunde nie in ag neem nie, is dat die filmgegewe noodwendig aangepas moet word omdat die twee mediums, boek en fliek, so baie van mekaar verskil. ’n Skrywer het geen beperking wat betref dit wat hy wil uitbeeld nie – geen gevegstoneel of skare is te groot nie, geen wêreld is onmoontlik of geen monster te fantasties nie – terwyl koste gewoonlik die eerste beperking is waarteen filmmakers hulle vasloop (veral in ons piepklein plaaslike mark). ’n Ander belangrike beperking vir filmmakers is verteltyd: terwyl ’n boek se verteltyd (hoe lank dit neem om die boek te lees) baie ure kan wees, is dit vir ’n film skaars twee ure. Daarteenoor het die filmmaker die letterlike voordeel van “a picture is worth a thousand words”.

Vir my berus die sukses van die aanpassing op ’n verdere aspek: Hoe getrou het die film gebly aan die gees, eerder as die letter, van die boek? "In order to deliver the emotional truth in the story, you have to include some [my beklemtoning] of the literal truth," is ’n stelling van die gevierde Skotse jeugboekskrywer Theresa Breslin wat ’n mens met vrug kan toepas op die boek vs fliek-vraagstuk.

Hoe het Hanneke Schutte dit in Meerkat Maantuig hanteer?

Eerstens is daar die aanpassing van ruimte – ’n tipiese afwyking van ’n boek se “literal truth” wat geen afbreuk hoef te doen aan die “emotional truth” nie, maar wat groot winste vir die filmmaker kan bring. Scheepers se verhaal speel af op ’n plaas in die Sandspruit-omgewing in KwaZulu-Natal; daar is ysterkliprante, ’n rietbos by ’n dam, grasveld waar springhase gejag word en ’n windpomp (wat in die fliek transformeer tot die maantuigkonstruksie). Schutte plaas haar film in Magoebaskloof in Limpopo; ’n klam, digte woudomgewing wat sorg vir ’n magiese atmosfeer – en hier moet ’n mens veral die kinematografie deur Willie Nel noem, wat welverdiend in 2017 by die kykNET Silwerskermfees bekroon is.

Die volgende opvallende aanpassing is die ouderdom van die hoofkarakter, Gideonette de la Rey. Scheepers het ’n bekkige ek-verteller geskep wat pas ná haar geboorte begin kommentaar lewer op die stand van sake, en die storie eindig wanneer sy nege is. Schutte se Gideonette is dertien (puik vertolk deur die veertienjarige Anchen du Plessis, wat vroeër al beïndruk het as die jong Killer in Vaselinetjie) en die film speel af oor ’n klompie maande. Dis geldige en verstaanbare aanpassings, gegewe die enorme uitdaging wat kinderakteurs verteenwoordig, sowel as die kompleksiteit van ’n filmvertelling wat oor ’n lang tydperk strek.

’n Interessante uitvloeisel van bogenoemde is hoe Schutte die sentrale tema aangepas en eintlik ingekort het. Die boek-Gideonette word aanvanklik gedryf deur woede: "My volgende baklei sal teen my pa wees, het ek toe geweet ... Ek sal alles wees wat ’n seun kan wees, Pa, het ek besluit. Alles, én meer." Sy is ’n vreeslose karakter wat wild en gevaarlik saam met haar beste maat Bhubesi speel, en eers op agt, ná haar pa se dood en nadat sy van die vloek gehoor het, raak sy vir die eerste keer bang.

Die ouer fliek-Gideonette is heeltyd bang, soos aan die begin uitgebeeld word by die dorpskonsert met die monster waarteen haar pa haar moet beskerm (met dié Maurice Sendak-agtige figuur benut Schutte die visuele voordeel van film uitstekend). Ná haar pa se dood raak Gideonette toenemend obsessief en dra beenskutte en ’n valhelm om haar teen enige fratsongeluk te beskerm. Sy maak ook ’n lang lys van maniere waarop sy kan sterf wanneer die vloek van die Gideon de la Reys haar tref – ’n wrang-komiese toneel wat nogmaals Schutte se vaardigheid as draaiboekskrywer wys.

Waar sy radikaal afwyk van die boek, het spesifiek te doen met Bhubesi: Gideonette ontmoet hom vir die eerste keer as sy by haar grootouers gaan kuier, hy is doof en het terminale kanker (waarvan sy nie bewus is nie). Haar oupa bou vir Bhubesi die Meerkat Maantuig van die filmtitel – ’n kontrepsie waarin die bang Gideonette weier om te klim. Franklin D Roosevelt het gesê: “The only thing we have to fear is fear itself”, en dis rondom dié kern dat Schutte haar film bou.

Onder meer danksy die feit dat haar hoofkarakter ouer is, kan Schutte nog ’n bepalende aanpassing maak: Gideonette se predikant-pa dood homself weens sy stryd met depressie, terwyl hy in die boek ’n boer is wat weens weerlig sterf. Wanneer Bhubesi in die film doodgaan, herleef Gideonette die trauma en verlies van haar pa se dood, maar juis dit bring ook katarsis sodat sy haar vrees vir die lewe kan oorkom. Die boek lewer eweneens ’n bevredigende oplossing, maar op ’n heel ander manier, deurdat die hoofkarakter besef: "Ek is nie Gideon nie. Ek is Gideonette ... My ma is reg. Ons plaas het ’n vrou nodig." Gevolglik verloor sy haar vrees vir die vloek en maak sy ook vrede met die feit dat sy ’n meisie is, en só sluit die slot netjies aan by die begin.

Scheepers gebruik van die openingsin af die tegniek van magiese realisme en Schutte doen dieselfde, maar sy voer dit veel verder met die slottoneel – die lansering van die maantuig – wat suiwer magiese realisme is. Daardeur benut sy op briljante wyse die visuele voordeel van film en bewys sy haarself as ’n filmmaker wat kan waag én wen.

Lank lewe skrywers en hul verbeelding, en lank lewe filmmakers wat ons sinne betower!

The post <i>Blinde sambok</i> en <i>Meerkat Maantuig</i>: Die aanpassing van boek na fliek appeared first on LitNet.

Press release: Winners of the 2018 Sunday Times Literary Awards announced

$
0
0

Johannesburg, 24 June 2018: The winners of the prestigious Sunday Times Literary Awards were announced at a gala dinner held at The Venue, Melrose Arch, on Saturday 23 June. Bongani Ngqulunga received the Alan Paton award for non-fiction for his book, The Man Who Founded the ANC: A Biography of Pixley ka Isaka Seme, while Harry Kalmer was named the recipient of the Barry Ronge Fiction Prize for his book, A Thousand Tales of Johannesburg. Both titles are published by Penguin Books.

The Sunday Times Literary Awards are considered the most prestigious literary accolade in South Africa.

“This year's judging was tough but what was evident was the recognition of the art of writing. South Africa's rich history and diverse stories are being rigorously explored, examined and celebrated,” says Jennifer Platt, Sunday Times Books Editor.

Now in its 29th year, the Alan Paton Award recognises exceptional non-fiction writing as displayed by Bongani Ngqulunga’s story The Man Who Founded the ANC: A Biography of Pixley ka Isaka Seme.

The Alan Paton judging panel consisted of Constitutional Court judge Edwin Cameron; journalist Paddi Clay; and award-winning writer, journalist and filmmaker, Sylvia Vollenhoven.  They said Ngqulunga’s book was “a revelatory, inspiring study of a man and a movement that reverberates right up to today. It is a scholarly, well-researched book that illuminates our flawed roots and our flawed nationhood, presented through the complex and mercurial character of Seme."

Bongani Siqoko (editor, Sunday Times), Bongani Ngqulunga, Olivia-Jay Pretorius (Porcupine Ridge)


The Barry Ronge Fiction Prize panel was chaired by popular radio personality, Africa Melane, alongside Love Books owner Kate Rogan and award-winning writer Ken Barris.

"Johannesburg emerges as a fascinating beast of a city, and this is a novel way of celebrating it. The outstanding writing and innovative structure - along with memorable characters - make this an instant classic," said the fiction prize panel of Harry Kalmer’s A Thousand Tales of Johannesburg.

Kalmer is the 18th recipient of the Sunday Times fiction prize, named for Barry Ronge, arts commentator and one of the founders of the Sunday Times Literary Awards.

Bongani Siqoko (editor, Sunday Times), Harry Kalmer, Olivia-Jay Pretorius (Porcupine Ridge)

Recipients of the 2018 Alan Paton Award and Barry Ronge Fiction Prize each receive R100 000.

The post Press release: Winners of the 2018 <i>Sunday Times</i> Literary Awards announced appeared first on LitNet.

Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg: Struisbaai 1722 deur Jan Malan: ’n resensie

$
0
0

Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg: Struisbaai 1722
Jan Malan
Uitgewer: Africana Uitgewers
Prys: R225
ISBN: 9780639911113
Bestellings: africanapublishers@mwebbiz.co.za

“Dwalings, verdigsels en raaisels”. Só heet een van die hoofstukke in Jan Malan se pas verskene Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg: Struisbaai 1722. Die kuslyn en waters wat bestryk word deur die lig van die Kaap Agulhas Vuurtoring is inderdaad een van die geheimsinnigste gebiede in Suid-Afrika. ’n Oseaan wat die een dag nog in onskuldige reëlmaat in die helderste skakerings van groen en blou teen mosbegroeide rotse en skitterende sand aanspoel, maar net daarna totaal kan verander. 

’n Misbank kan alles vervaag of ’n woedende Suidoos en Westewind kan die see omkeer tot ’n wrede monster, honger na slagoffers. Onder die oppervlak bestaan ’n paradys van kleurryke seelewe, maar rus ook die reste van eens trotse vaartuie, van groot tye uit die wêreldgeskiedenis, verlore skatte en verpletterde ideale.

Malan probeer in sy boek agter die kap van die byl kom van die mees romantiese van al die verdigsels wat oor die jare uit hierdie kontrei ontstaan het. Dit is die storie van die stranding van die VOC-skip die Schoonenberg in 1722 in uitstekende weersomstandighede in die baaitjie naby die huidige Northumberlandpunt. Die eienaars van Vergelegen in die Hottentots-Holland sou met kaptein Albertus van Soest saamgesweer het om die skip doelbewus te laat strand sodat hulle die vrag en veral die kratte met goud, silwer en edelgesteentes kon buit. Vergelegen is trouens die plaas wat kort daarvoor nog deel uitgemaak het van goewerneur Willem Adriaan van der Stel se korrupte praktyke.

Van Soest het sy bemanning weggestuur om kuswaarts Kaap toe te stap. Kort daarna het die boere met hul waens oor die duine verskyn om die vrag te kom laai. Die goewerneur het egter uiteindelik snuf in die neus gekry. Van Soest en twee van die medepligtige boere, Jacob Malan en Jacob van der Heiden, is in hegtenis geneem en die waarheid is uit hulle gemartel.

Hendrik Klopper wat die skat op Vergelegen begrawe het, was egter die enigste wat geweet het waar dit is, maar hy is kort te vore deur ’n onbekende sluipskutter doodgeskiet. Van Soest sou vervolgens die doodstraf gekry het en geradbraak word terwyl Malan en Van der Heijden na Batavia verban is. Die skat sou tot vandag êrens op Vergelegen lê en wag op ’n gelukkige ontdekker.

Die feit dat Jacob Malan, vrome Hugenoot en stamvader van die Malans in Suid-Afrika, so ’n geslepe rol in die verhaal speel, was een van die redes waarom die skrywer hom tot die argief gewend het. Uiteindelik kon hy nie slegs die feite nie, maar ook die bron opspoor van die verdigsels wat jare lank in die een publikasie na die ander herhaal is.

Dit is Eric Rosenthal se The hinges creaked: True stories of South African treasures lost and found (1951). Die omslag maak daarop aanspraak dat die  feite “have carefully been investigated by the author who has spent years in collecting his material from old records, etc.”! Dit bevat ook ’n stuk oor “The Treasure of Vergelegen”. Hierin kom die name en uitgebreid verdraaide weergawe voor. Rosenthal het weer, volgens Malan, sy opstel waarskynlik gebaseer op ’n stuk van Roy Jenkins in die Cape Times van 23 Desember 1939, bekende komkommertyd vir koerante.

Malan vermoed dat daar nog ’n ouer bron bestaan, maar dit is volgens hom eweneens “een van die Schoonenberg se raaisels”. Hoe hardnekkig die verdigsels bly voortleef, blyk daaruit dat dit selfs nog deel uitmaak van The Cape Odyssey 105 – Wrecked at the Cape, Part 2, wat in Mei 2015 verskyn het! Dit sal dus interessant wees om dop te hou of Malan se boek nou wel ’n einde gaan bring aan die Rosenthal-verdigsels.       

Soos Malan se navorsing toon, is daar by elke ramp van hierdie aard is ’n magdom kwessies betrokke. Bowendien het voorvalle soos die Schoonenberg-ongeluk plaasgevind in ’n tyd toe die gebied yl bevolk was. Kommunikasie wasmoeilik en die owerheid kon slegs met groot moeite 'n ondersoek uitvoer. Anders as sy voorgangers, het Malan hom tot die beskikbare argiefmateriaal gewend en so gesorg het vir ’n deeglike, gegronde weergawe van hierdie klein onderdeel van die Kaapse geskiedenis. Die verhaal wat hom so ontvou, is steeds boeiend. Die weergawe van die prosesse daaromheen is eweneens ’n verhelderende bydrae.

Malan sorg hiermee vir ’n knap sistematiese verslag: Allereers van die konteks en toestande waarin hierdie vaart plaasgevind het, insluitend goeie tegniese inligting oor die vaartuig (’n “spiegelretourschip” uit 1717) en bevelstruktuur. Vervolgens word die gegewens uit die skip se logboek oor die noodlottige vaart self weergegee en beredeneer.

Daarna kom gegewens oor die voorvalle aan land, die verskillende amptelike sendings uit Kaapstad, besluite oor ’n moontlike berging van die vrag, die verbranding van die wrak en die geregtelike proses. Die aard en onstaan van legendes word behandel en ten slotte ook die ontdekking van die wrak in 1985 en die artefakte wat opgediep is. Elke onderdeel word goed ondersteun deur voetnote en bronaanwysings. Dit lyk of die skrywer werklik geen steen onaangeroer gelaat het om inligting te bekom en seker te maak dat dit so korrek moontlik is nie.

Hy maak korte mette met die samesweringsteorie, ten minste in die vorm wat dit in die Rosenthal-storie aanneem. Die oorsaak van die stranding word deur sobere beredenering nagegaan. Dit sluit ’n beskrywing in van die instrumente en wyse waarop die posisie op see vasgestel is. Op grond van inskrywings in die skip se logboek, wat in die Kaapse Argief bewaar word, word foutiewe navigasie uitgewys. 

Die bemanning is nie deur die kaptein weggestuur Kaap toe nie, hoewel die meerderheid ’n dag later kuslangs begin stap het. Op die strand het volgens skipper Van Soest se skeepsjoernaal ’n muitery en ’n drinkery ontstaan wat ook uitgeloop het op die plundering van vrag deur die agtergeblewe matrose. Van Soest is volgens sy inskrywing persoonlik beroof. Latere verslae en getuienis van sy offisiere bevat inligting wat teenstrydig is met syne, selfs dat hy eweneens diep in die bottel gekyk het. Dit staan egter vas dat Jacob Malan se wa, opgekommandeer deur die owerheid, pas meer as twee weke later opgedaag het.

Van Soest is, soos van sy medeoffisiere, skuldig bevind aan nalatigheid en onthef van amp, rang en salaris. Uiteindelik is ook probeer om sy besittings te konfiskeer. Van fisieke straf is daar geen sprake nie. Hy het daarin geslaag om met ’n Engelse skip uit die Kaap weg te glip terug Nederland toe. Hy en die Vergelegense boer Jacob van der Heijde, omstrede vleisleweransier, was inderdaad “op besonder goeie voet”. Dat daar tussen die twee suurlemoensop deurgeloop het, lyk baie waarskynlik uit wat die skrywer omtrent die plaaslike VOC-amptenare se ondersoeksproses gevind het.

Uiteindelik, ná sy terugkeer, het die VOC-owerhede in Nederland – heel waarskynlik ontereg – die vermoede geformuleer dat Van Soest die skip doelbewus laat strand het sodat hy homself kon verryk. Teen die tyd dat hul laaste opdrag vir ’n streng ondervraging van Van der Heijde die Kaap bereik het, was dié egter al oorlede.

Dit staan vas dat stamvader Jacob Malangeen strandrower was nie.

Die boek bevat ook interessante illustrasies. Dit is ’n publikasie van dieselfde kwaliteit as Dan Sleigh en Piet Westra se Die aanslag op die slaweskip Meermin 1766 (2012) wat by dieselfde uitgewer verskyn het. Albei boeke toon dat goed nagevorste weergawes geen afbreuk hoef te doen aan die pakkende weergawe van historiese gebeurtenisse nie. Daar bly nog meer as honderd strandings in hierdie area oor wat roep om deeglike ondersoekers.

The post <i>Die stranding van die VOC-skip </i>Schoonenberg<i>: Struisbaai 1722</i> deur Jan Malan: ’n resensie appeared first on LitNet.

Polemieke – Bekgevegte in Afrikaans deur Gabriël J Botma: ’n lesersindruk

$
0
0

Polemieke: Bekgevegte in Afrikaans
Gabriël J Botma

Uitgewer: Struik
ISBN: 9781776092314

Hierdie lesersindruk is uit eie bewewging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Elke jaar word daar baie boeke gepubliseer. Dis ’n goeie ding, want die behoefte aan leesstof is groter as wat mens ooit sal besef. Maar dit maak jou keuses moeilik, en ek is gewoonlik bitter selektief in wat ek sal koop en lees. Dit beteken nie ek lees net dit waarvan ek hou nie. Inteendeel. Ek hou byvoorbeeld van die "groot" boek. Daardie soort boeke waarvan mense getuig. Boeke wat mense beweer hulle lewens verander het. Wat hulle perspektiewe geskuif het. Dikwels dié wat blitsverkopers was. Sulke boeke het gewoonlik ’n belangrike boodskap. Iets daarin sal ook waarskynlik vir jou waarde hê, ongeag wie jy is. Maar ander oorweginge lok my ook by die koop van ’n boek. Die kort en die lank is egter dat ek gewoonlik goeie navorsing doen voor ek ’n boek koop en lees. En ek is net by uitsondering impulsief. En selfs dan loop mens nie jouself altyd vas nie. Maar daar is ook uitsonderinge, groot uitsonderinge, hierop …

Ek het myself totaal misgis met Gabriël J Botma se boek Polemieke: Bekgevegte in Afrikaans. Laat ek bieg, ek het die boek beslis te impulsief gekoop. My vermoede was dat hierdie boek sal handel oor al die kontemporêre vraagstukke waarmee Afrikaanse mense vandag in 2018 worstel. Dit is die indruk wat ek uit die voorblad en die titel van die boek gekry het. Dit het gelyk soos een van daai: “Waarheen nou, Suid-Afrika?” of “Wat volgende, Suid-Afrika?”-tipe boeke. Maar dit is nie wat hierdie boek is nie. Hierdie boek is ’n historiese studie van die grootste polemieke wat in Afrikaans gevoer was oor honderde jare, en dit fokus dus nie net op kontemporêre debatte nie.

Dis nie dat die boek onkeurig geskryf is nie. Dis nie dat die boek vol foute is nie. Dis nie dat dit in elke opsig ’n teleurstellende boek is nie. Inteendeel, met Botma se skryfstyl is daar geen fout te vind nie. Maar soos wat ek voort gelees het, het ek begin voel dat hierdie boek ’n onderwerp wat eenvoudig te omvangryk en geskakeerd is te neem en in een bundel te probeer inprop. Polemieke dokumenteer eintlik maar net sommige van die groot debatte wat deur “Afrikaners” oor baie eeue gevoer was. Dit is ’n geskiedenisboek. Dit maak ’n ondersoek na die geskiedenis van polemiek in Afrikaans, maar die onderwerp is, na my beskeie mening, eenvoudig te wyd vir een volume.

Bothma se boek is in agt hoofstukke verdeel en dek onderwerpe soos sport, politiek, kerksake, misdaad en taal. Hierdie verdelings onderbreek net die kronologie, want elke hoofstuk moet weer van vooraf teruggaan in tyd. Soms oorvleuel die onderwerpe, want kuns en sport en politiek en kerk krap mos maar uiteraard altyd in mekaar se slaai. Die inleiding van die boek is so goed, dit sou ’n beter slot gemaak het as die bestaande slot. Dit is asof die skrywer belangriker gevolgtrekkinge oor Afrikanerpolemiek maak in die inleiding as in die slot, en die slot lees meer soos ’n opsomming uit ’n geskiedenisboek. Die slot van hierdie boek sê meer oor die geskiedenis van die “Afrikaners” as wat dit oor die aard van hulle polemieke sê, maar ten minste is daar ’n baie knap inleidende bespreking.

Bowenal is daar egter die reusegapings in die teks. Die oomblik wanneer mens wegval en begin lees, dan val dit jou op: Daar is so baie sake en onderwerpe van polemiek wat nie in hierdie bundel gedek word nie, dat dit my met ’n bietjie van ’n wrang smaak gelaat het. Daar is byvoorbeeld onderafdelings oor Steve Hofmeyr, Joost van der Westhuizen en Koos Kombuis, maar wat van ’n deeglike bespreking oor iemand soos Siener van Rensburg en die nag van die lang messe? Die histerie oor Siener van Rensburg was nogal ’n gewigtige saak in die verlede. In meeste gevalle maak Botma ’n studie van wat die bekende Afrikaanse koerante van die tyd oor ’n bepaalde saak geskryf het, maar sommige sake word so vlugtig in die boek bespreek dat daar eintlik min weergegee word oor die polemiek rondom die saak, en al waarmee mens gelaat word is ’n opsomming van die feite, waarmee jy gewoonlik reeds vertroud is.

Onder die afdeling oor Adriaan Nieuwoudt is daar ’n bespreking van Nieuwoudt se kubusskema en sy latere kaolienmynery, maar daar is geen bespreking van Nieuwoudt se meer onlangse aktiwiteite met betrekking tot die pogings van die stigting van ’n nuwe eksklusiewe wit dorpie  aan die Weskus nie. Die hele hoofstuk oor misdaad, wat begin met ’n bespreking van Daisy de Melker, is trouens maar net ’n beperkte voëlvlug van Afrikaanse misdaad. Daar is so baie ander misdaadsake wat oor die jare polemiek ontlok het dat mens oor die onderwerp van Afrikaanse misdaadpolemieke alleen waarskynlik tientalle boeke sou kon skryf. Mens dink byvoorbeeld aan die eenheid van okkultiese misdaad, wat in Suid-Afrika op die been gebring was onder die  leiding van doktor Kobus “Donker” Jonker, en Suid-Afrika se weergawe van die “Satanic panic”, wat sterk onder Afrikanergemeenskappe gewoed het. Trouens, daar is al sulke boeke geskryf, en mens dink byvoorbeeld aan Nicky Falkof se boek: Imagining the End of Whiteness: Satanism and Family Murder in Late Apartheid South Africa (Jacanda, 2016).

Met ’n onderwerp soos hierdie, is ek nou oortuig, sou selfs die heel beste skrywer (as daar so iets soos die beste skrywer kon wees) in Afrikaans gesukkel het om die boek vir my oortuigend te maak. Dit is so omdat daar te veel gesê moet word om alles in een bundel behoorlik saam te kan vat. Die spasie is eenvoudig te min, en die onderwerp te wyd. Dit is selde dat ek ’n boek koop en sê ek is maar bietjie teleurgesteld, maar hierdie is so geval. Dit is seker maar mens se straf as jy nie jou navorsing oor die boek wat jy koop behoorlik vooraf gedoen het nie.

The post <i>Polemieke – Bekgevegte in Afrikaans</i> deur Gabriël J Botma: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Pluck: ’n filmresensie

$
0
0

Pluck

Vervaardiger: Joëlle Chesselet

Regisseur: Lloyd Ross

Die regte woord op die regte plek is altyd ’n plesier, soos die gepaste titel vir hierdie dokumentêr oor Nando’s, Suid-Afrika se gesonder antwoord op die magtige KFC (nie dat die K-woord óóit genoem word nie). “Pluck” word vertaal as “waagmoed”, terwyl dit ook ’n spel is op die hoendergeluid “cluck”.

Nando’s, wat in 1987 begin het as ’n enkele restaurant in Rosettenville, is vandag ’n internasionale kitskosreus wat onlangs die Amerikaanse mark suksesvol betree het – nogal met ’n #-bemarkingsveldtog om Donald Trump te weerspreek. Robbie Brozin, medestigter, had van meet af die visie om groot te gaan met wat hy die lekkerste Portugese hoender nóg genoem het, en daarvoor was die regte bemarking nodig. Hierdie film dokumenteer hoe die Nando’s-handelsmerk destyds gevestig en deur die jare uitgebou is, en dien as teksboekvoorbeeld vir die reklamebedryf: as jy nie die luukse van ’n reusagtige begroting het nie, moet jy slim en ekstra kreatief wees om aandag te trek. 

Met astrant en kordaat as Nando’s se wagwoorde, is Pluck soos ’n herinneringsreis deur ons wye en droewe land – en hoe om die humor daaruit te haal. Soos Cheryl Carolus, een van die kommentators, sê: Dis heel moontlik Suid-Afrikaners se vermoë om vir hulleself te lag wat die land ten spyte van alles nog steeds laat werk. Nog ’n kommentator is die spotprenttekenaar Zapiro, en dis insiggewend hoeveel sy werkwyse as satirikus ooreenstem met Nando’s se benadering: volg die samelewing se reaksie op die nuus van die dag.

Ons leef in ’n tyd van broodnodige maatskaplike verandering, maar die keersy daarvan kan ’n humorlose politieke hiperkorrektheid wees – daarom waardeer ’n mens hierdie soort gepluk aan die kollektiewe stertvere des te meer.

Sterre: 4

The post <em>Pluck</em>: ’n filmresensie appeared first on LitNet.

Wit issie ’n colour nie deur Nathan Trantraal: ’n resensie

$
0
0

Wit issie ’n colour nie
Nathan Trantaal
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795707988

Nathan Trantaal se Wit issie ’n colour nie, behoort verpligte leesstof te wees. Vir wie? Wel, alle politici, alle kerkgangers en almal wat in die onderwys belangstel. Gooi sommer mediese mense en regsmense ook hierby in.

Waarom? Want, dit is bitter min dat armoede van binne beskryf word. Hierdie resensent was onlangs in gesprek met ’n baie senior bestuurder van een van ons groot boekwinkelgroepe en dié sê toe: “Lesers is middelklas, daarom is skrywers ook middelklas.” Sy is natuurlik korrek, en daarom is die probleme wat tans in ons boeke aangespreek word, middeklasprobleme. Dit is maklik om oor armoede te sê: “Ek het nie geweet nie.”

Suid-Afrika het ras baie vinnig met klas vervang. In my woonbuurt woon mense van alle rasse. Hulle is hoogs professioneel. Met sommige, van alle rasse, kom ons goed genoeg oor die weg, daarom kuier ons oor en weer. Hier woon egter nie ’n enkele arm persoon in ons buurt nie. Huispryse skakel selfs die gemiddelde inkomstegroepe uit. Dit is dus maklik om te sê: “Ek weet nie. Ek betaal wel my bediende meer as die minimumloon.”

Dis maklik. En dit geld vir alle rasse in my buurt.

Die Afrikaanse letterkunde het ’n baie trotse en deeglike rol gespeel in die stryd teen apartheid. Die lys boeke en skrywers wat aktief die staat se wanstaltigheid uitgedaag het, is lank en indrukwekkend. Maar wat nou?

Een van die redes waarom middelklasprobleme aangespreek móét word, is presies omdat daar universele kwessies is wat ons almal raak: seks, gender, die (skyn)heiligheid van ’n verbrokkelende huwelik, vroueregte in ’n manswêreld... so kan ons aangaan.

Sophia Kapp is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat namens haar portuur skryf, maar neem haar na die Kaapse Vlakte, dan ken die lesers haar karakters asof hulle ou vriende is. Die werkersklasvroue, veral, kan identifiseer met vroue wat mishandel word. Dit maak nie saak van watter stand of klas jy is nie, geweld in die huwelik vind orals plaas.

Maar wat van armoede? Hans du Plessis se Drie vroue en ’n meisie (LAPA Uitgewers), is ’n onlangse boek wat hierdie kwessie aanspreek – maar dan in ’n historiese konteks.

’n Mens sou verder in die Afrikaanse letterkunde kon gaan delf in Boerneef se sketse en beslis sommige van daardie bergies se honger kan ervaar, maar... hoe weet ek tans in my wit huis (-watdit is) versteek agter ’n sesvoetmuur met viervoet-elektriese-heining, wat aangaan in iemand se huisie op die Kaapse Vlakte?

Sommige van ons ry wel “daarheen” om te gaan help. My geliefde werk in ’n buurt waar geen ambulans sonder polisiebegeleiding mag ingaan nie. Sy ry vrou alleen daar in en uit. Elke weeksdag.

En tog: Tog kan ons terugkeer, die outomatiese hek oopmaak nadat ADT die straat veilig verklaar het, en weer die hek outomaties toemaak om te kan skuil agter die elektriese heining, diefwering en alarm.

Dis die punt. Selfs ons wat daagliks in ons middelklashuise worstel met ander se armoede, doen dit met ’n daaglikse bord kos om te geniet.

Nathan Trantraal (Foto: Naomi Bruwer)

Enter Nathan Trantaal, stage left

Nathan mag dalk vandag al opbeweeg het. Ons weet waar hy studeer (feit) en hoe die Nederlanders vliegkaartjies borg (so skinder die jaloerses graag). Is Nathan al middelklas? Wie weet? Maak dit saak? Hy is steeds na genoeg aan die honger en die skaam wees oor armoede om daaroor te kan skryf. Van binne.

Interessant genoeg verwys hy na ’n gedig van sy broer, André, toe hy by geleentheid gevra word om oor sy komvandaan te vertel: “Skaam oo alles / Skaam oo kakpapie / Koerante in plaas van toiletpapie”.

Maar, al is Nathan deesdae meer bevoorreg, is die honger naby genoeg aan hom dat hy vanuit sy eie maag kan skryf daaroor. Een van die treffendste stukke is juis die verhaal “Departures” waarin hy praat oor hoe hy wegvlieg van die Kaapse armoede af. Lees dit.

Het hierdie resensent pas geskryf “een van die treffendste stukke”? Hoe kies ’n mens? Dit is waar dat sommige verhale dalk minder seer in die maag skop as ander, maar daar is min van hulle wat nie skop nie. Keer op keer het Nathan se gestroopte verhale, gemeng met die allerslimste aanhalings uit die wêreldletterkunde, hierdie leser na sy asem laat snak.

Ek kan nie anders nie as om te sê: Lees Wit issie ’n colour nie.

Nathan Trantaal is dalk nie uniek nie. HemelBesem se biografiese werk God praat Afrikaans (LAPA Uitgewers) vertel ook verhale van swaarkry en sou as tweelingteks interessante vergelykings met die van Trantaal oplewer. Ek sou beslis ook Jeremy vannie Elsies, deur Jeremy Veary (Tafelberg) aanbeveel. Laasgenoemde is ’n fantastiese teks. Ook sou ’n mens Skollie – One man’s struggle to survive by telling stories, die boek deur John W. Fredericks (Penguin), waarop die film Noem my Skollie gebaseer is, moet noem.

Eintlik is die eerste sin in die vorige paragraaf louter snert. Nathan se stem is juis nie uniek nie. Daar is duisende ander op die Kaapse vlakte wat stories het soos syne, en wat praat soos hy. Maar hoeveel van hulle sit in ons huise en vertel daardie stories?

Dis waarom Wit issie ’n colour nie so ’n wonderlike boek is. Ten spyte van die overte rasverwysing in die teks, is daar bitter min geskryf oor rassituasies. Hierdie boek spreek armoede aan op ’n manier waarop niemand kan sê “ek het nie geweet nie”. Mag die diknekke in die parlement elkeen so ’n boek kry vir Kersfees.

Wit issie ’n colour nie is geskryf in Trantaal se dialek van Kaaps. Ek lees dit baie maklik met slegs enkele woorde wat my gepootjie het.

Daar is al gewag gemaak van Trantaal se aanvallende houding oor Adam Small se taal, maar net soos “Standaardafrikaans” geen standaard is nie, so is daar ook geen standaard vir Kaaps nie.

Nathan Trantaal is dalk nie uniek nie, ook nie noodwendig altyd reg nie. Dit is egter sy storie en sy stem hierdie en hy vertel ’n storie waarvan ons moet weet – juis omdat Nathan nie uniek is nie.

The post <em>Wit issie ’n colour nie</em> deur Nathan Trantraal: ’n resensie appeared first on LitNet.

Pioneers of the Dorsland deur PJ van der Merwe: ’n resensie

$
0
0

Pioneers of the Dorsland
PJ van der Merwe

Uitgewer: African Sun Media
ISBN: 9781928314387

Die bekende historikus, wyle Piet van der Merwe (1912–1979), se werke het danksy sy dogter, Margaretha Schäfer, en African Sun Media (onder die druknaam Rapid Access Publishers) ’n tweede asem gekry.

Gedurende die tagtigerjare toe ek as student aan die Geskiedenisdepartement van Stellenbosch verbonde was, het ek staaltjies oor hom gehoor – die professor was ’n goeie voorbeeld van die soort lektor wat voorheen soos ’n ware diktator opgetree het, maar mense het nie gehuiwer om by te voeg dat hy dieselfde hoë standaarde wat hy van ander verwag het, self gehandhaaf het nie.

Iemand het ook gesê dat hy veel meer kon gepubliseer het indien hy nie so puntenerig or sy werk was nie. In die Leopold von Ranke-tradisie moes elke stelling onomstootlik bewysbaar wees en elke bron, indien moontlik, teenoor ander getoets word. Primêre bronne was inderdaad prima, en dié tipe deeglikheid is uiteraard uiters tydrowend.

Nou sorg Schäfer egter dat sy noukeurige navorsingswerk steeds beskikbaar is. Sy het etlike boeke by Sun Media laat heruitgee, soos Pioniers van die Dorsland in 2016 (dit het oorspronklik in 1941 by Nasionale Boekhandel verskyn). Ander titels is die tweeluik Berigte uit die Dorsland en Meer oor PJ van der Merwe (albei in 2017). Van sy werke is ook in Engels vertaal, soos Pioneers of the Dorsland (2017), en nog is op pad. In 2015 het Trek: Studies oor die mobiliteit van die pioniersbevolking aan die Kaap (1770–1842) in druk- of PDF-formaat verskyn, individueel of as ’n stel van drie. Laasgenoemde het oorspronklik in 1945 verskyn.

Van der Merwe het sedert 1937 (Die Noordwaartse beweging van die Boere voor die Groot Trek) tot 1972 met Die bronnelys en voetnote (ook in Engels vertaal) ses werke gepubliseer, terwyl Die Matabeles en die Voortrekkers ook in 1986 in beide tale verskyn het.

Schäfer belê werklik baie tyd, energie en geld in hierdie projek en verdien erkenning juis vir die manier waarop sy erkenning aan haar vader gee. Sodoende doen sy egter meer – sy sorg dat die geskiedenis van die mense waaroor haar vader navorsing gedoen het, onthou word. Die relase van dosyne deelnemers aan die professor se projekte word nou weer in een gesamentlike projek saamgevoeg en in ’n reeks Africana-werke aangebied.

Vir my persoonlik het die bewaring van elke stukkie van ons landgenote se stories besondere betekenis, want ek is bekommerd dat ons hulle gaan vergeet. Toe ek in 1999 van Geskiedenis na Kultuurgeskiedenis oorgegaan het (ek het in 1992 ’n meestersgraad in Geskiedenis en in 2003 in DPhil in Kultuurgeskiedenis verwerf), was ek verbyster oor hoe min ek van my eie kultuur weet – iemand wat altyd in Geskiedenis belanggestel en wyd daarin gelees het, was eintlik onbewus van soveel geestelike én stoflike kultuurgoedere wat reeds aan die moderne Afrikaner onbekend is.

Daarom is dit vir my ’n hartseer saak dat die vak Kultuurgeskiedenis intussen as’t ware self in die vergetelheid verdwyn het, en sommer vinnig ook. Vandag word gevra: Wie was die Feniciërs?

Ons weet hulle was groot seevaarders, maar wie was hulle Langehovens, MER’s en Van Wyk Louws en wie was hulle Smutse en De Wets? Wie was hulle Jan Spiese en Tolla van der Merwes selfs? En hulle Renier de Winnaars? Presies – hoeveel mense weet vandag nog dat hy ’n beroemde grootliegverteller in die klas van Baron von Münchhausen was? Gaan ons kultuur dieselfde pad as dié van die Feniciërs volg? Of van die talle vergete volke, die inwoners van stede wat in die Midde-Ooste opgegrawe word?

Volgens die demograwe kwyn die Afrikaner se getalle steeds en teen 2050 sal ons ’n digitale komma van die landsbevolking verteenwoordig. My vraag is wie gaan dan nog Afrikaans lees, of sal mense Afrikaans later soos Latyn of Sanskrit in ’n laboratorium in die VSA, of dalk Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, gaan bestudeer?

Miskien wel, niks is vir ewig nie, nie eens ons planeet nie. Maar dit bly hartseer as die bewaarders van ons kultuurgoedere, insluitend taal, hulle voorgeslagte verloën en in die proses hulself kultuurloos verklaar, die verteenwoordigers van geen bydrae tot die globale menslike kreatiwiteitsproduk nie.

Pioneers of the Dorsland

Ja, dis ’n bekvol, en hoe meer jy sê hoe meer kos dit om te verteer, sodat die gemiddelde leser eerder sal sê: “Laat ek verbyhou.” Ons word immers so gebombardeer met inligting vanaf soveel toestelle en platforms dat ons sat en lui word om self nog te dink en te verbeel. Dis makliker om liewer agteroor te sit met eetgoed vir die lyf pleks van vir die verstand, en onbetrokke na ’n rekenaar of televisieskerm te staar.

Dit is die werklikheid, uit en gedaan. Kultureel gesproke is ons van moedermelk gespeen en suip ons snoep saam aan formulemelk, voorberei vir die gemene deler.

Daarom skryf ek hier oor die Van der Merwe erfgoed, wat ook ons s’n is. Ek verwag nie dat honderde mense die moeite gaan doen om die vermelde boeke te bekom nie, maar ek hoop wel dat daar altyd ’n kerngroep van intellektueel soepeles en kultureel verantwoordbares sal wees wat sal belangstel. Ter wille van hulle dan beveel ek die lees van ook Pioneers of the Dorsland aan, die nuutste produk van Schäfer.

Hierdie boek handel oor inligting wat Van der Merwe tydens sy reise deur die Noordweste versamel het. Die Noordweste sluit in Boesmanland, Namakwaland en die Kalahari, asook ’n minder bekende deel soos die Mierland, met beskrywings van die grense daarvan, wat op sigself interessant is, al die omstredenheid daaroor in ag genome.

Wat my egter die meeste getref het, is die beskrywings van die mense. Dit is met soveel respek en deernis beskryf, maar nooit sentimenteel nie. PJ van der Merwe was immers altyd ’n nugtere akademikus, maar ook ’n geesteswetenskaplike wat onderhoudend kon skryf in sy talle artikels vir Huisgenoot en Landbouweekblad.

Die teks is toeganklik en die navorser of aspirantnavorser word ook meegedeel hoe die professor te werk gegaan het, al is hierdie boek, soos die ander, vir die gewone publiek bedoel. Van der Merwe het duidelik destyds reeds geweet dat Geskiedenis gehumaniseer (nie noodwendig gepopulariseer nie) moet word en dat akademiaanse taal of aanbiedingswyses nie sou werk nie: Dit deug nie om vir die gemeente alleen te preek nie.

Die hele oeuvre

Schäfer sit haar vader se werk dus voort, ek glo soos hy dit sou wou hê, en bowenal moet hierdie versameling boeke as ’n geheel beskou word om die werklike waarde daarvan na behore te delg.

Van der Merwe se boeke ontsluit sekere kulturele landskappe en is daarom sterk emotief. Dit ontlaai op ’n manier emosies wat op die huidige Suid-Afrikaanse landskap, geografies en kultureel, reflekteer. Hierdie boeke stimuleer bowenal ’n reiservaring wat beide na binne (emosioneel) en in tyd (histories) beweeg, sodat dit waarlik kultuurhistories van aard is. Hoe meer ek oor Van der Merwe se werk dink, hoe meer voel dit vir my dat hy nie bloot ’n nasionalis was nie, maar ’n patriot, aangesien nasionalisme uiters eenogig is, terwyl patriotisme ware vaderlandsliefde behels – moesies, plooie en al, en van politiek gestroop.

Pioneers of the Dorsland (papieruitgawe: ISBN 9781928314387) beslaan 168 bladsye, net twee minder as die Afrikaanse weergawe, en albei bevat kaarte en foto’s wat die professor, ’n bedrewe fotograaf, self geneem het. Die boek is ook as e-boek verkrygbaar, of by die uitgewers se kantore – Kantoor 12 van The Woodmill op die Vredenburg-pad in Devonvallei aan die westekant van Stellenbosch, of dit kan via die e-posadres orders@africansunmedia.co.za bestel word. Sien ook www.sun-e-shop.co.za.

The post <i>Pioneers of the Dorsland</i> deur PJ van der Merwe: ’n resensie appeared first on LitNet.

Wenners van die nasionale skryfwedstryd van Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) bekend

$
0
0

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse nasionale skryfwedstryd is vir die tiende agtereenvolgende jaar met R18 000 geborg deur die hoofborg, die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat, vanjaar ook met ’n bydrae deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Die BSV en die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) is al vir dekades vennote en die BSV-skryfwedstryd word jaarliks gedeeltelik geadministreer deur NALN, wat die pos ontvang. Vanjaar was daar weer ’n goeie oes van kort onder 1 000 inskrywings. Dis die grootste skryfwedstryd van sy soort sedert sy ontstaan in 1979 met inskrywings uit alle provinsies van Suid-Afrika, lande in Afrika en oorsee. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die BSV, getuig die uitslae vanjaar van ’n stryd tussen gedugte oud-wenners, met ’n paar splinternuwe “buiteperde” tussenin. Dit is vanjaar ook opvallend dat veral die Junior- en Senior skole-afdeling in Prosa, asook die Skole-Poësie getalsgewys ’n sterk groeikurwe op die grafiek vertoon — ’n bewys dat jongmense graag kreatief skryf in Afrikaans.

Hier ontvang Corlietha Swart (Voorsitter: Bloemfonteinse Skrywersvereniging) ’n dag se wedstrydpos vanaf Annelien Diedericks [Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)]. Let op Hoërskool DF Malan se boks vol inskrywings vanjaar!

Die BSV kan met trots terugkyk na ’n hele lys gerekende en bekroonde skrywers, wie se sluimerende skryftalent aanvanklik deur die BSV-skryfwedstryd uitgewys en in baie gevalle daarna met ’n slypskool ontwikkel is — Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Carina Diedericks, Piet Steyn, Japie Bogaards, Sonja Loots, Ruan Fourie en die gereelde BSV-wenner, Hilda Smits (van Nashville, VSA). Hilda Smits het in 2016 as digter by Protea Boekhuis gedebuteer en haar bundel by die BSV in NALN kom bekendstel en is in 2017 daarvoor vereer met die Ingrid Jonkerprys. Ons weet ook van een van ons gereelde wenners wat binnekort debuteer. Alle eer aan die vier onafhanklike en kundige beoordelaars, wat jaarliks met anonieme beoordeling een na die ander skrywer met potensiaal om te debuteer, trefseker uit honderde BSV-inskrywings identifiseer.

Altesaam R18 000 se pryse is vanjaar uitgeloof en vyf BSV-wisseltrofeë vir skole (en drie ope-trofeë) was op die spel. Hoërskool DF Malan het vanjaar twee kategoriewisseltrofeë, die Gerhard Beukes-wisseltrofee vir die skool van die algehele skolewenner, asook die prys vir die skool met die meeste inskrywings, ingepalm. Die Skole Poësie-wisseltrofee is verower deur ’n leerder van Hoërskool Menlopark.

Vanjaar se inskrywings

Al die bekroonde inskrywings en ook die beoordelaarsverslae sal in Inkvars 2018 gebundel word en op 25 Augustus 2018 uitgereik word wanneer die pryse op die BSV se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers, vanjaar met die nimlike Dana Snyman, by die Noorderbloemsaal in Bloemfontein oorhandig word. Benewens die prysgeld, sertifikate, publikasies en trofeë, kan die skryfwedstrydwenners die daglange Dana Snyman-slypskool as deel van hul prys gratis bywoon. Beskikbare plekke vir die publiek is alreeds besig om vinnig minder te word. Belangstellendes wat die daglange slypskool teen R420 wil bywoon (BSV-lede betaal R270), of Inkvars 2018 teen R100 per eksemplaar wil bestel, kan die BSV by bloemsv@gmail.com kontak, of ’n privaatboodskap op die BSV se Facebookblad laat.

Wenners van die BSV se Skrywers 2018:

Skole-afdeling (A):

Junior afdeling (grade 8 en 9)

1ste (R1 500) en trofee: Ninah Müller, gr 8 Hoërskool DF Malan, Bellville
2de (R800): Suné van der Walt gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville
3de (R500): Solomon van der Westhuizen, gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville
Eervol vermeld: Alexander  Smith, gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville        

Senior afdeling (grade 10 — 12)

1ste (R1 500) en trofee: Luceel Beukes, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville
2de (R800): Le Roux van der Merwe, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville
3de (R500): Marli Rautenbach, gr 12, Oranje Meisieskool, Bloemfontein
Eervol vermeld: Anja van Heerden, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville

Algehele skole-prosawenner: Gerhard Beukes-wisseltrofee

Luceel Beukes, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville

Ope afdeling DS (Poësie Skole):

1ste (R1 500) en trofee: Karmen Wiid, gr 11, Hoërskool Menlopark, Menlopark
2de (R800): Dyllan Niehaus, gr 11, Hoërskool Menlopark, Menlopark
3de (R500): Carla van Wyk, gr 12, La Rochelle Hoër Meisieskool, Paarl
Eervol vermeld: Zané Steyn, gr 11, Hoërskool Menlopark, Menlopark

Ope afdeling B (Nog nie voorheen gepubliseer teen vergoeding nie):

1ste (R1 500) en trofee: Rina Bester, Rustenburg
2 de (R900): Estelle Nagel, Brackenfell
3 de  (R500): Ben le Roux, Despatch
Eervol vermeld: Vickey de Jager, Ohrigstad

Ope afdeling C (Voorheen gepubliseer teen vergoeding):

1ste (R1 500) en trofee: Evert Louw, Oatlands
2de (R900): Leunis van Rooyen, Brixton
Eervol vermeld: Leunis van Rooyen, Brixton

Ope afdeling D (Poësie):

1ste (R1 500) en trofee: Hannes Visser, Oudtshoorn       
2de (R800): Eleanor Bernard, Bethlehem
3de (R500): Carma Shaw, Brackenfell
Eervol vermeld: Simóne Vorster, Langenhovenpark, Bloemfontein

Nie-moedertaalprys —Xhosasprekend: Thandolwethu Gulwa, Grahamstad

Trofeë:

HAUM-Literêr-trofee vir die skool van die wenner in Junior Afdeling: Hoërskool DF Malan, Bellville;
Olivier-wisseltrofee vir die skool van die wenner in Senior Afdeling: Hoërskool DF Malan, Bellville;
Gerhard Beukes-wisseltrofee vir die skool van die algehele skolewenner: Hoërskool DF Malan, Bellville;
Vrystaat-wisseltrofee vir die skool met die meeste inskrywings (plus R1 000): Hoërskool DF Malan, Bellville;
Poësie-Skoletrofee vir die skool van die wenner in poësie: Hoërskool Menlopark, Menlopark.
Wisseltrofeë vir die drie Ope-afdelings word ook aan die individuele eerstepryswenners van Rustenburg, Oatlands en Oudtshoorn toegeken.

Baie geluk aan al die wenners!

The post Wenners van die nasionale skryfwedstryd van Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) bekend appeared first on LitNet.

Die Namafees vir ons, vir almal

$
0
0

So ’n paar maande gelede hoor ek toe by een van die organiseerders van die Nama cultural fees, Ethelretha Isaacks, dat daar beplan word om fees te vier, die eerste van sy soort in Namibië. Die fees het die naweek van 24 tot 27 Mei in Keetmanshoop, Namibië, plaasgevind. Die doel was om die verskillende Khoegemeenskappe regoor Suider-Afrika te verenig.

Janetta Tseitseimo en Farah Diba Stuurman (my suster)

Namafees veldskoen-hemp

Ek was toe baie excited, want hier in Suid-Afrika is ons tog baie hard besig om terug te vat or te reclaim dit wat ons as Khoe verloor het: ons tale, identiteit, cultural practices, heritage, tradisies, rituele, dit wat ons uniek maak, want ons sê dat ons tog deel is van die plek genoemd Afrika, dat ons niemand se weggooikinders is, verstom en dom oor wie en wat ons is nie. Tradisies, rituele was so wreed van ons weggeneem, en vervang met die vreemde, meestal afbrekende beliefs soos Christianity en homophobia.

So die Namafees was dus hierdie amazing geleentheid om te kyk watter van die elemente nog bestaan, maar ook om te kyk dit wat ons tog ken, maar nooit geweet het waarvandaan dit kom nie.

Soos iemand eenkeer gesê het: dat iets soos taal en kultuur kan nooit dood terwyl die afstammelinge van dié wie dit gedoen het, dan nog steeds bly lewe nie. Dat dit wat eie is aan jou en jou mense nooit sterf nie, maar voortleef as die mense nog steeds lewe. Wat dan wel gebeur, is dat die tradisies, kultuur en taal weggesteek word en dan net iets benodig om dit weer wakker te maak.

Namafees-bewusmakingsoptog deur die strate

Soos ’n dooie karbattery moet dit “gespark” word en dai spark moet tog êrens vandaan kom en vir my was die fees  een van dai sparks.

Ons ry toe 14 ure in die bus en terwyl ons nou so ry, wonder ek tog hoeveel van ons Khoevroue en -mans wie vasgevang is in plekke soos Manenberg, Lavender Hill, Valhalla Park en Delft, wie dikwels sulke wrede dode sterf in die Kaapse courts van koloniale trauma, dit wat gebou was as weggooiplek vir Khoe- en slaaf-afstammelinge, weet dat ons voorouers se voetspore soos vingerafdrukke by “Home Affairs”, die land wat die bus nou ry, bedek.

Sal so ’n trip dan nie ’n verskil maak in hoe hulle hulself en ons mense sien nie?

Gekom in Keetmanshoop wat, soos baie Khoedorpies regoor Suid-Afrika, eienaardig vernoem is na mense wat nooit regtig die plekke besoek het nie, maar wel geld gegee het vir missionary werk om Christianity aan die Namas te gee, in hierdie geval die Duitse missionary Johann Keetman. En tog in die naam van die dorpie is “hoop” vir my toe die belangrikste deel van die naam.

Die oggend staan ek op en sowaar, deel van my voel asof ek nog nooit Suid-Afrika verlaat het nie - die mense klink soos my mense, die mense lyk soos my mense, die plek lyk soos ’n klein plattelandse of Bolandse dorpie. Ek kom by die stadion waar die fees gehou sal word, net om te voel ek is weer in Suid-Afrika. En ek het al gehoor dat ’n besoek aan Namibië laat jou voel jy is terug in Suid-Afrika, en hoe waar is dit tog nie? En tog kon ek nie die gevoel van huiswees deny nie. Mens kan dit eintlik nie beskryf nie.

Uitstalling van Khoe tradisionele medisyne

Die feit dat daar vir die eerste keer in 2018 so ’n sametrek plaasgevind het, is iets wat tog long overdue was.

Soos Gospert Kaffer met die video interview ook gesê het: dat dit was eintlik iets wat die voorouers al die tyd wou hê - kaptein Hendrik Witbooi en so aan - en hier is ons toe nou. En Namagroepe van regoor Suider-Afrika, van Botswana, Namibië en Suid-Afrika, vier fees met purpose.

Feeste is dikwels net vir fun, ’n lekker kuier met ander wat soos jy dink en wie common interests het, en ja, die fees wás dit, maar ook in die woorde van die feeswoordvoerder, Antonio Stuurman, was dit juis om Khoegroepe regoor Suider-Afrika te verenig deur die hernuwing van samewerking en vennootskap tussen Khoe in Namibië, Suid-Afrika en Botswana.

Jaydeen Jansen in traditional Namaklere

Ouma Katjito voor ’n Khoe matjieshuis

En tog hoe hartseer dat ’n paar dae voor die fees was daar gepraat oor die political motives van die fees, en die organisers het nogals baie flack gekry van ander groepe in Namibië. Iets wat ek nie kon verstaan nie. Want hier is tog ’n groep wie se stemme vir baie lank stil was en wie nou sê, kyk, ons is ook hier, ons was nog al die tyd hier. Ons het nêrens heen verdwyn nie en al wat ons julle nou vra, is om na ons te luister. En hoe similar is dit nie nou hier aan Suid-Afrika waar ons as Khoe dieselfde vra: net om na geluister te wil word.

Van links: Mercia Thomas, Antonio Stuurman (woordvoerder van die Namafees) en Greg Slatek

Aangekom by die stadium word ek gegroet deur die fees van verskillende kleure, want vir dié wat nou nie weet nie, die Nama communities het die ou Victoriaanse styl van rokke geneem en dit sowaar hul eie gemaak deur verskillende stukkies gekleurde lappies te vat en dit vas te werk in iets. En beide die vroue en die mans was geklee in hul beste Nama-rokke en -hemde spesiaal vir die geleentheid.

Want dié is tog nie net lappe nie. Dit vertel die storie van wie ons tog is. Soos iemand sou sê, dit is ook ons wapenuitrusting teen die wêreld en remind ons dat ons kom van sekerlik die mees kreatiewe mense op die aarde. Want dis slegs die Namamense in die wêreld wat hierdie klein stukkies lappies bymekaar sou sit en dinge so mooi sou maak.

En tog sou ek later besef dat dit nie net Namamense se lappies is nie, maar dat eintlik behoort die lappies aan al ons Khoemense. Dat ons almal kan praat van ouma wat lappieskombers gemaak het of lappieskombers gehekel of gebrei het.

Maar wat jou eerste vang, is die reuk van al die amazing kosse in die lug. Nou ek is mos ’n vleisman, so ek sal immers straight gaan na waar dit gebraai word. En nie net vleis was te koop nie, maar daar was ook soveel ander stalletjies, soos waar mens jou naam op ’n T-shirt kan sit wat sê jy’s trots Nama, waar jy Namaklere vir kinders kan koop, gemmerbier op tradisonele manier kan kry, maar ook donkievleis kan eet.

Nou as daar een iets is wat ek nog nooit geëet het nie, was dit donkievleis, en ek het nou al gelees van die donkie-en-rooiwyn pairing events wat baie popular is in Namibië en hierdie sou nou die eerste keer wees wat ek die donkie sou eet. En as niemand my sou gesê het nie, sou ek self nie geweet het dat dit donkie was nie.

Een van die mees interessante dinge was beslis die different panel discussions. Ek het self op ’n panel gesit en dit was genoem “Cross-boundary Khoe language reclamation”, ’n sessie wat gepraat het van wat ons in Namibië, Suid-Afrika en Botswana kan doen om vir ons Khoetale te baklei.

Wat interessant was, was hoe ’n Khoe-oom van die Richtersveld in Suid-Afrika, wat vlot is in die Khoekhoetaal, gesê het hoe kan dié wie nie die taal kan praat nie, wel sit op sulke platforms en praat oor die taal.

Daar was ook gesprekke oor reclamation van KhoeSan identity asook oor die genocide van Namas en die Herero’s en reparasie-eise teenoor die Duitse regering.

Ongelukkig is dit iets wat ek gemis het, maar dit sou beslis interessant gewees het om te hoor van die Nama en Herero genocide, want om nooit te vergeet dat die genocide van Khoegroepe eerste hier in die Kaapkolonie begin het en tog vandag is almal doodstil van die genocide van die Khoegemeenskappe? Wat ook interessant was, was dat iemand gesê het dat ons nie mense se bydrae tot dié moet uitskryf nie, veral iemand soos Ida Hoffman, wat van die eerste mense was wat die genocide en reparations na vore gebring het.

Daar was ook sessies oor culture in die 21st century, asook hoe om indigenous intellectual property te beskerm.

Wat ook baie amazing was, was die cultural village met die ǀhari-oms of matjieshuise en hoe mense in sirkels daar gesit het, terwyl teater of sing of poetry gedoen was. Dit was sekerlik een van die hoogtepunte van die fees om so baie van ons Khoe te sien hulself geniet terwyl stories vertel word in ons Khoetaal. Sowaar asof ons terug in tyd gaan en sien hoe ons mense hulself geniet.

Daar was sowaar net ’n wonderlike gevoel van saamwees by die fees, en vir my was van die uitstaanpunte beslis om te hoor hoe families, jonk en oud, met mekaar praat in die Khoekhoetaal wat ek sukkel om te leer hier innie Kaap, veral omdat daar so min speakers is, maar ook dat elemente van ons Khoekulture sowaar voortgeleef het in Namibië, en wat ons nou kan doen om dit terug te bring Suid-Afrika toe, hoe kan ons op kleiner skaal sulke feeste het in Khoe communities regoor Suid Afrika.

Weer eens ǃGâi Gaeb of baie geluk aan die organisers. Julle kan sowaar trots wees op wonderlike werk wat julle gedoen het. Dit het vir my soveel hoop gegee en ek sien uit na nog meer amazing Nama cultural feeste in 2018, sowaar ’n fees vir almal wat ons Khoetaal, -kultuur en identity wil celebrate.

Lees ook

Khoekhoegowab, ti ǂnīsasib

Wie is ons sonder ons tale?

Ont-taling

Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis

!Xun Bible translation: an interview with Masenyani Baloyi

Die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans

The post Die Namafees vir ons, vir almal appeared first on LitNet.

Cecile Cilliers (1933–2018)

$
0
0

Gebore en getoë

Cecile Cilliers is as ’n nooi Pretorius in Mei 1933 op Franschhoek gebore, veertiende-geslag Suid-Afrikaner van Nederlandse en Franse afkoms.

Haar pa, Abraham Johannes Pretorius (Braam), gebore op 10 Mei 1900 op Rustenburg, was ’n klerk in die landdroskantoor. Hy was later senator en die persoon wat die langste as landdros in Suid-Afrika gewerk het. Haar ma, Madeleine, was ’n onderwyseres op die delwerye.

Haar pa het ses kinders gehad – die eerste vier kinders is gebore uit sy huwelik met Madeleine Roux, wat in 1952 oorlede is. Braam se tweede vrou was Kate, ’n klein en fyn vrou met rooi hare. Twee kinders is uit hulle huwelik gebore.

Madeleine was die oudste van die eerste vier kinders en haar pa het haar Ous genoem. Na haar het die enigste seun, Nicolaas, gekom wat uit die aard van die saak Boeta genoem is. Cecile was die derde en was Pa se Wolkop, met Polla die jongste. Sy is Rouxline gedoop en Pa het haar Donster genoem, omdat sy donshaartjies gehad toe sy klein was.

Vanweë Braam se werk as ’n landdros het die gesin die land vol getrek. Hulle ma was ’n pragtige vrou, maar ook bekwaam en streng. Haar standaarde wat sy aan die gesin gestel het, was hoog, maar sy kon van elke huis waar hulle gewoon het, gou-gou ’n tuiste maak. Haar oog het fyn gekyk en met haar flukse hande het sy gesorg dat haar dogters altyd goed en keurig aangetrek was. Sy het hulle ook geleer om die mooi dinge in die lewe te waardeer –soos goeie musiek, boeke en skilderye. "En om respek vir kos te hê. Sy was ’n uithalerkok wat die eenvoudigste dis met die grootste sorg sou opdien. Sy, en ook my pa, het ons ook leer Engels praat, góéd leer praat, want ‘you will speak the language better than the conqueror’,” vertel Cecile aan Willa de Vos in Die Voorligter van Maart 1996.

Cecile vertel verder van haar ma aan Elmari Rautenbach (Insig, Januarie 2001): “Ma het die gesteldheid en die beneuktheid gehad van die Rouxs. Sy het selde geprys. Ek onthou een slag toe ek as jong getroude vrou gekook het en Ma sê: ‘Daar’s nie genoeg sout in die wortels nie.’ Ek het opgespring en my kamerdeur agter my toegeslaan. Nou sit ek mokkig en wrokkig in die kamer en Pappa kom in en sê: ‘My kind, jy en jou ma is soos twee diamante wat mekaar probeer sny. Maar as jy nie jou humeur onder beheer kan kry nie, sal jy nooit iets anders onder beheer kan kry nie.’”

Sy vertel ook van haar pa se liefde vir tuinmaak en hoe dit deurgevloei het na sy invloed op haar as persoon en op haar lewe: “Ek sien Pappa staan, hande gevou om die lang steel van die skoffel, die gesig boontoe gedraai, oë oop na die wit lig van die droë lente, en hy praat hardop met sy Skepper: ‘Die werk van my hande, bevestig U dit!’ (...)

“Pa was selde stil in die tuin. Hy’t gefluit saam met die voëls, lang gesprekke met God gevoer en sy plante hardop aangemoedig om hul bes te doen. In die bedding aan die oostekant van die huis het sy krisante gestaan. Smôrens, voordat hy kantoor toe of hof toe moes gaan, het hy die vier voet hoë stele nog stewiger opgebind, elke onnodige blaar en knoppie uitgebreek en die reuse-veerkoppe aangemoedig om nóg groter, nóg mooier te word. (...)

“So geduldig soos hy was met sy krisante, so geduldig was hy met my, sy inherente kortgebakerdheid getemper deur die dissipline van die tuin en deur sy onkeerbare sin vir humor. Darling child as hy liefderik verwyt, was Wolkop in die wandel. Met die een het hy my woeste humeur getem, met die ander die ewe woeste krulhare in perspektief gestel.

“Pa het my in my bedding staan gemaak, my leer aard, my tot blom aangemoedig. Ek kan nie tuinmaak nie. Die gawe om te groei ontwyk my. Maar bid kan ek, want Pa kon maak groei. Ook sy Darling child se geloof.”

Cecile kon Engels lees voordat sy Afrikaans kon lees, het sy aan AJ Opperman vertel (Die Burger, 19 Mei 2018): "Ek was vyf jaar oud en kon al lees. Ons het eendag om die ontbyttafel gesit en die stoof ... op een plaat sit jy die ketel. En ek lees 'k-e-ttlie, k-e-ttlie'. Nee, sê my ma, wat ’n onderwyseres was, as daar ’n dubbele letter met ’n -l direk daarna is, word die laaste -e nie uitgespreek nie."

Sy was ook op ’n stadium in haar jeug in die Laerskool Jan Celliers in Johannesburg. "Ek het eendag daar gaan praat. Ek sê toe vir die hoof ek was ook in dié skool. Hy sê kom ons gaan kyk. En hy trek die groot registers uit. En daar staan my naam. Dit was so ’n gevoel van tuiskoms, jy weet. Iewers is jy beskryf ..."

Cecile vertel in Beeld (21 Junie 1986): “Pappa was staatsamptenaar en is gedurig van staning na staning verplaas. Ek het in die Paarl begin skoolgaan – op Girls’ High – daarna is die gesin Johannesburg toe en ek na Jan Celliers. Uit blou kommetjies het ons winters kakao gedrink.

“Toe is Pappa Bethal toe, waar ek net op die laerskool was, want voordat ek kon hoërskool toe, is Pa Montagu toe verplaas, en daar het ek oplaas matriek geskryf. Daarom beskou ek Montagu as my tuisdorp, want daar het ek grootgeword. As mense vra: Waar het jy grootgeword, Cecile? Dan antwoord ek: Op Montagu.”

Cecile vertel dat dit alles by die tiekie op die tafel begin het. Haar pa het die manier gehad om party aande met ete ’n tiekie uit sy sak te haal en op die tafel neer te sit. “Dié tiekie,” het hy dan gesê, “behoort aan die kind wat vanaand sy of haar woord die beste doen. Ons huis was nie ’n plek waar kinders gesien maar nie gehoor mog word nie. Van kleintyd af is ons geleer om te dink en ons menings vreesloos te verwoord."

Sy het onthou dat toe sy ongeveer 12 of 13 jaar oud was, het ’n manlike besoeker ’n saak met haar pa bespreek. Sy het dit gewaag om haar mening te lug en die oom was effe gesteurd oor hierdie "voorwaartse" kind. Haar pa se reaksie: “As jy nie luister na wat sy sê nie, hoe sal jy weet wat sy dink?”

Lank voordat populêre boeke oor jou kind en sy selfbeeld blitsverkopers geword het, het haar pa met liefde en leiding doelbewus selfvertroue by sy drie dogters en seun gekweek. ’n Vrou, het hy gesê, hoef nie agteruit te staan vir ’n man nie. Vir sy dogters se intellektuele vermoëns het hy groot agting getoon, hulle menings het net soveel gewig gedra as dié van enige man. Jy kán, het hy hulle geleer.

Hulle is geleer om hulself te handhaaf, maar nie ten koste van ander nie. Respek vir ander mense – enige mens, ongeag ras of taal – was vanselfsprekend in hulle huis. Die enigste keer dat Cecile se mond met seep uitgewas is, was toe sy ’n neerhalende opmerking oor ’n Joodse inwoner van die dorp gemaak het. Vir vloek is die seep nie uitgehaal nie, maar, het haar pa telkens betig, jy moet jou woorde so goed kan kies dat jy nie vloekwoorde nodig het nie.

Albei hulle ouers het wyd gelees. Dit was ’n huis vol boeke, van The black tulip van Alexandre Dumas tot Moord op Eendekuil deur Mikro. En Ma was lief vir voordra en dramaties aanhaal uit geliefkoosde gedigte.

“Ons het van kleintyd af als verslind waarop ons ons oë kon lê. Ma het trouens gevrees die leeskennis gaan van my ’n hoereerder maak voor ek veertien is,” vertel Cecile. “Van my vroegste herinneringe is wanneer ouma Roux kom kuier het. Ek sou popelend van opwinding staan en kyk hoe sy eers plegtig die swart hoedjie afhaal voor die tas oopgemaak word. Daarna word die mussie uitgehaal en op die grys hare gesit (die kop mag nie koud kry nie). En dan steek sy haar hand onder in die tas in om byvoorbeeld Beatrix Potter se Tales of Peter Rabbit uit te haal. As ek mik om dit te vat, keer sy: ‘Nee, eers handjies was!’ en daarna kon ons uiteindelik gaan sit dat sy vir my voorlees.

“Ek onthou ook hoe ek op besoek aan familie op ’n sofa gelê en lees het. Iewers op die agtergrond het ek my pa hoor sê: ‘Kom ons kyk of sy sal ophou lees as ek vir haar ’n tiekie gee.’ Maar dit was of ek nie fisiek in staat was om my oë van daardie boek los te skeur nie.”

Die wêreld van die letterkunde het vir Cecile oopgegaan op Montagu waar sy matriek geskryf het en met haar Duitse onderwyser, mnr Kellerman, kennis gemaak het. Sy het vertel hoe hy vir haar ingetree het toe sy ’n nul gekry het vir ’n Afrikaanse opstel oor "Ek kyk terug – deur ’n historiese figuur". Cecile se historiese verteller was Christus en die Afrikaanse onderwyser het dit geskok as heiligskennis beskryf en vir haar ’n groot rooi 0 gegee. Mnr Kellerman se kommentaar: "Die béste nog!"

Sy het aan AJ Opperman (Die Burger, 19 Mei 2018) van haar belangstelling in toneel vertel. Sy het op skool al daarin begin belangstel en was op ’n stadium seker dat sy toneelspel haar loopbaan wou maak. Maar toe haar ma die hoof van toneel gebel het, het hy gesê, nadat hy gehoor het sy is 16 jaar oud, hy soek nie babas nie. "Wag tot sy ’n bietjie ouer is."

Sy het egter in 1950 (op 17) die hoofrol vertolk in Onse dorp, ’n Afrikaanse vertaling van  Our town deur Thornton Wilder.

Verdere studie en werk
Net na Cecile se matriekjaar is haar pa na Johannesburg verplaas. Daar was nie geld om haar universiteit toe te stuur nie, en sy het vir ’n sekretariële kursus aan die destydse Tegniese Kollege ingeskryf. “Maar,” vertel sy aan Willa de Vos, “ek het gou uitgevind dis nie vir my nie en toe het ek vir my ma gesê ek wil ’n jaar lank huishou en ek hét, wat kosbare ondervinding was.” Want vandag kán sy afval krap, en broodbak is haar forté.

Die volgende jaar is sy na die Universiteit van Pretoria, waar sy ingeskryf het vir ’n BA-graad met Afrikaans, Engels, Duits, Frans en kunsgeskiedenis as vakke. In haar eerste jaar het sy die geologiestudent John Cilliers ontmoet wat dadelik besluit het die krulkopmeisie met die flink brein en raak woord is syne. John en Cecile het aan Martie Swanepoel vertel dat hulle enigste gesamentlike belang hulleself was. “Ons was so in mekaar vasgevang dat niks anders saak gemaak het nie.” Maar hulle moes ’n ruk lank wag voordat hulle kon trou. John is die jaar nadat hy graad gekry het, na Tanganjika (Tanzanië) om daar nagraads te gaan studeer.

Op 2 Februarie 1954, nadat Cecile haar graad gekry het, is hulle getroud. John en sy bruid vertrek op ’n romantiese wittebrood: per trein van Pretoria na Durban, daarvandaan per boot na Kaapstad. In Kaapstad is hulle met ’n groen Ford-bakkie Weskus toe waar John oor ’n diamantprospekteerdery moes toesig hou. Dáár het sy en John ’n sink-opstal sonder binnemure "opgesit"; die eerste van baie. Die sink is aan die binnekant geïsoleer met goiingsak wat in kalk gedoop was. Daarna het John se werk hulle na Koegasbrug, naby Prieska geneem waar hulle in ’n woonwa gebly het. Toe na Penge, waar die woonwa ’n aangeboude kamer van "Kimberley brick" gehad het. Gelukkig het hulle darem ’n woonstel in Johannesburg gehad waar hulle so elke dan en wan in die "beskawing" kon gaan ontspan.

In hierdie tyd het Cecile twee miskrame gehad en het sy geleer "van medemenslikheid," het sy aan Willa de Vos vertel, "van om op mekaar aangewese te wees in ’n eensame wêreld, van om die lelike te filter en die mooie te behou."

Met haar volgende swangerskap en het sy by haar suster, Madeleine, in Pretoria gaan bly totdat hulle oudste kind, Amalie, gebore is.

In die Kalahari tydens hulle verblyf op Pomfret het die mynbestuur haar genader om ’n skooltjie te begin, anders moes die mense hulle kinders na ’n koshuis stuur. Sy het met slegs elf kinders van graad een tot standerd vyf (graad sewe) die skooltjie begin. Van haar kant af het sy geen opleiding of ondervinding in die onderwys gehad nie, ook geen handboeke of hulpmiddels nie, maar daar was oorgenoeg ywer en toewyding. Só is die basis gelê vir ’n skooltjie wat later meer leerlinge sou hê. Sy het onthou dat sy die Reader's Digest gebruik het om die kinders aardrykskunde te leer. Jare later het hierdie tydskrif van haar aanhalings uit haar werk in hulle rubriek "Quotable quotes" gebruik.

"Die jare op die myne het vir my geleer dat mense belangrik is. Sekuriteit lê nie in besittings, jou huis of jou omgewing nie, maar in jouself en in ander mense. In die Noordweste veral, waar ek en John net na hul troue gewoon het, is daar niks anders as mense nie. Jy is heeltemal op hulle aangewese."

In 1961 is John in die maatskappyhoofkantoor in Johannesburg aangestel en het die gesin hulle gevestig in die leiklipstoep-huis met die reuse-eikeboom in die ruim tuin wat 32 jaar lank hulle “vier mure teen die suidewind” sou wees.

Toe die jongste van hulle drie kinders (’n dogter en twee seuns) skool toe is, is Cecile terug universiteit toe – na die Universiteit van die Witwatersrand toe, agter NP Van Wyk Louw aan, waar sy ’n honneursgraad in Afrikaans behaal het. Uiteindelik het sy ervaar wat studie wérklik beteken: “die lekker om jou brein behoorlik te gebruik” – en het sy ook haar MA cum laude (oor ’n gedig van NP Van Wyk Louw) in Afrikaans en daarna die D Litt et Phil aan die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg), behaal, beide onder FIJ van Rensburg. Die titel van haar doktorsgraad was “Verhouding bron: kunswerk”.

Sy het onder meer twee jaar Afrikaans gegee by die Witssentrum vir voortgesette studie en by die Parktown Convent, asook Afrikaanse klasse by die Argus-groep se joernalistieke skool vir kadetverslaggewers.

Cecile het taamlik baie radiowerk vir Springbokradio gedoen en het in vervolgverhale saam met Sann de Lange, Gert van den Bergh en Vincent Hesse gespeel. Sy was ook later by RSG betrokke saam met Alewyn Lee en Nic de Jager. Ook het sy in Kampus, ’n reeks van Franz Marx, gespeel.

In 1976, ná die onluste by die Soweto-skole, het Bridget Oppenheimer Cecile gevra om met die stigting van die organisasie Vrede vir Vroue te help, met die doel om, deur beter kontak tussen vroue van alle bevolkingsgroepe, begrip vir mekaar te kweek, kommunikasie te bevorder en vir vroue ontwikkelingsmoontlikhede te skep. Miskien, sê Cecile, is sy aanvanklik as die “token Afrikaner” beskou, maar baie gou het sy met haar eerlike, warm persoonlikheid, haar integriteit en onverskrokkenheid, sowel as haar slag as openbare spreker vir haar ’n plek in talle harte verower en ’n onmisbare skakel in die organisasie geword.

Oor haar betrokkenheid by Vroue vir Vrede het sy gesê: “Vir my was dit ’n geloofsdaad. Ek het besef ek lewe nie die tweede gebod uit nie en moet iets daaraan doen. Dit was ’n total commitment. Alles wat ek sedertdien gedoen het, staan in die lig van my betrokkenheid by Vroue vir Vrede. Só kon ek naasteliefde letterlik uitleef.”

Vroue vir Vrede het haar geleer om sonder vooroordele te leef. “Of ’n mens nou ryk of arm, bruin of swart is, jy moet elkeen as ’n mens benader. Ek het baie goeie vriende oor alle skeidslyne gemaak en ek erken nie meer ’n kleurverskil nie. Ek het ook geleer om verdraagsamer te wees, veral as ’n mens ’n groot vergadering lei, moet jy dit met geduld doen en die mense ’n geleentheid gee om uit te praat. ”

Haar pa se tiekie op die tafel het voorwaar dividende opgelewer. Cecile het landwyd bekend geword as ’n vrou wat haar woord kán doen. In die volgepakte Superbowl in Sun City het sy selfs ’n staande ovasie gekry ná ’n toespraak. Sy het egter nie net gepraat nie, maar haar daadwerklik beywer vir versoening en begrip. Om gaste van ander bevolkingsgroepe in haar huis te onthaal, was vir haar nie net ’n modegebaar nie, maar die voorreg van die samesyn van vriende, skryf Willa de Vos.

Haar verbintenis met Vroue vir Vrede het haar wel die argwaan van sommige van haar eie mense op die hals gehaal, maar Cecile was oortuig daarvan dat sy as Christen geroep was om alles in haar vermoë te doen om vrede en versoening in ons land te bevorder. Sy is saam met Bridget Oppenheimer gekies as lewenslange erepresidente van dié organisasie.

Een van die moeilikste besluite wat sy ooit moes neem, was toe sy gevra is om in die hoogverraadsaak teen Breyten Breytenbach vanuit ’n literêre oogpunt ter versagting van vonnis te getuig. “Dit was die eerste keer dat iemand uit ’n literêre oogpunt ter versagting van vonnis sou moes praat. Ek was ook nie die eerste wat deur die advokaat gevra is nie; vele het geweier. Toe die advokaat my vra, sê ek ek sal daaroor nadink.”

Cecile het haar landdros-pa gevra wat sy moet doen. “En hy vra my toe of ek dit kan doen? En ek sê ja, ek kan. Toe sê hy dan moet ek. Want wanneer ’n mens voor die hof staan, het hy een gesig. Maar ’n mens het verskeie gesigte en die hof kan nie daarvan kennis neem as hy nie daarvan vertel word nie. Ek sê toe dankie, en weet ek het my antwoord gekry.”

Cecile het een voorwaarde gehad: sy sou nie getuig nie, maar slegs Breyten se gedigte voorlees. Haar keuse het op sy liefdespoësie geval. Gedigte oor sy land, sy ouers en sy vrou.

“Mense het my verguis, hoor, laat daar geen twyfel wees nie,” vertel sy aan Elise-Marie Tancred (Rooi Rose, 23 Desember 1998). “Maar ek het dit gedoen omdat ek moes. Om geen ander rede nie. Ek het geweet daar is ander aspekte aan Breyten waarvan die hof bewus moes wees en daarin het die moed van my oortuiging gelê. Dit is wat mense nie kon verstaan nie.”

Cecile is in 1986 aangewys as die eerste nasionale direkteur van Studietrust, wat twaalf jaar vantevore deur Jan Hofmeyr begin is as ’n organisasie wat onderwyshulp aan behoeftige leerlinge van alle rasse, maar veral swart kinders, verskaf. Toe dit begin is, het die trustees R2 000 gehad en in 1986 was die begroting op R250 000, wat alles skenkings was. Cecile sou verantwoordelik wees vir die bestuur van die Studietrust met die klem op geldinsameling en skakelwerk. As sodanig het sy nie net met onderwysinstansies nie, maar ook met die handel en nywerheid en groot organisasie, in Suid-Afrika en die buiteland, geskakel om geld in die hande te kry.

In ’n onderhoud met Piet Gouws (Beeld, 21 Junie 1986) het Cecile gesê dat die Studietrust hom hoofsaaklik daarop toegespits het om beurse beskikbaar te stel vir kinders om matriek te slaag, ’n onderwyskwalifikasie te behaal, of aan ’n technikon te gaan studeer.

Haar visie was egter dat die Studietrust een groot magtige nasionale projek moet word waarby almal ingeskakel word wat met opleiding te make het. Daarom wou sy graag ook met die handel en nywerheid skakel, aangesien dit nie help net om die kinders op te lei nie: hulle moet ook in betrekkings geplaas word. Sy wou skole besoek om die kinders te motiveer om hul potensiaal uit te leef in ’n rigting waarin hulle ’n bydrae kan lewer.

Wat haar destyds [1986] baie gepla het, was die verdeelde beheer oor onderwys in Suid-Afrika. “Ek kan geld insamel en is bly om te help, maar ek glo alle onderwysinstansies moet onder een sambreel saamkom. Onderwys in Suid-Afrika moet in sy geheel hersien word. Dis my droom dat ons ’n hele nuwe onderwysstelsel sal kry waarin alle lae en groepe van die onderwys bevredig sal word.” As dit dan gemengde skole beteken, moet ons in onsself sterk genoeg wees om alles wat kom, te kan aanvaar en daarvolgens te leef. “Een van Vroue vir Vrede se deurlopende projekte was om swart en wit kinders aan mekaar bloot te stel. Sou dit nie die ideaal wees vir ’n toekomstige Suid-Afrika dat wit en swart mekaar van kleins af leer ken, saam skoolgaan en saam bou aan ’n gedeelde toekoms nie?”

In 1981 het Beeld Cecile gevra om ’n weeklikse rubriek te skryf. Vir jare het haar Donderdag-Beeld-rubriek ’n wye leserskring opgebou en het sy met haar skerp insig en woordseker styl ’n erkende meningsvormer geword. Twee versamelings uit dié rubriek het by Lux Verbi verskyn onder die titels Kokkewiet op Donderdag (1992 en Reënboogmense, reënboogland (1995) onderskeidelik, beide saamgestel deur FIJ van Rensburg.

Oor Kokkewiet op Donderdag skryf Daan Rossouw (Volksblad, 22 Februarie 1993) dat dit ’n verrykende ervaring bly om die wêreld om jou ’n slag deur iemand anders se oë te sien, al stem jy nie altyd daarmee saam nie, want daardie oë kyk soms skerper as jou eie, let na ander dinge op en sien meer dinge. Cecile Cilliers is miskien nie oral ewe gewild nie. Dalk omdat haar blik soms te nugter en onromanties is vir diegene wat mooi soetsappighede verkies. Vir andere is dit juis hierdie saaklike benadering en die onvermydelike eerlikheid wat daarmee saamval wat verfrissend is. Feit bly dat sy as mens uit eie reg na vore tree, en dit sal ’n totaal uitsonderlike leser wees wat nie heelwat sal vind om die bundeltjie suiwer leesplesier te maak nie.

Maureen Joubert skryf (Die Burger, 29 Desember 1992) dat die kokkewiet van die titel ’n mens herinner aan die helder en vrolike geluid van die skrywer se skryfstyl. "Uit hierdie rubriekstukke leer die leser Cilliers ken as ’n mens met ’n liefde vir die natuur, vir haar geboorteland en vir haar medemens, en dit sal baie smake bevredig.

"Reënboogmense, reënboogland verwys direk na die nuwe benaming wat sedert 1994 vir Suid-Afrika posgevat het. Van Rensburg skryf in sy inleiding dat die aktualiteit van die jare 1992 tot 1994 duidelik in die stukke weerspieël word en dat die versameling kort stukkies '’n klein kaleidoskoop geword (het) van ’n land en sy mense wat hoofsaaklik met vreugde, maar soms ook met huiwering en deernis beleef word'."

Oor Reënboogmense, reënboogland meen Erla-Mari Diedericks (Die Burger, 31 Januarie 1996) dat Cilliers nog altyd die gawe gehad het om mense en dié dinge wat haar na aan die hart lê, met deernis en geesdrif te beskryf. "Haar skryfwerk het ’n meesterlike houvas op die taal, en dié vrou ken van ’n ding só stel dat jy een sinnetjie oor en oor lees net vir die blote lekkerte, en om te proe hoe die woorde van jou tong afrol ... Soos in 'Oor Familie, Vriende en Vis' oor ’n onwelkome familielid wat met kroos en al by vriend Willem kom kuier:

"'Willem het duidelik die afgelope weke gely onder familie, en die lyding het ’n hoogtepunt bereik met Paasnaweek. Sy sê moet hy sê. En toe bly hulle ’n week, ’n volle week, sê Willem, en daar’s nooit warm water om in te bad nie, en ek moet gedurig ryroetes bedink en verduidelik, en saamgaan, ewiglik saamgaan: berg-op en hawe toe, en op die wynroete ...

'Faan het darem vir jou ’n kas Sauvignon Blanc gekoop, kom Saar se diskant. Die solo mis nie ’n noot nie: En praat! Hulle hou nooit op met praat nie. Hoekom het mense so baie vir mekaar te sê? Saar bly só stil, ons kan hoor hoe sy stilbly.

'Familie, eindig Willem triomfantelik sy tirade, is soos vis: Albei stink ná drie dae!'

"Die boek is vol kort vertellinge vir die lag en vir die pyn. Almal sal ’n ietsie hierin vind wat hulle sal kan lees en sê: Haai, dis presies hoe ek ook voel! "

In Reënboogmense, reënboogland kan die leser weer eens kennis maak met Cecile Cilliers se vermoë om met die minste woorde die mees besonderse gedagtes oor te dra. "Sy skets die veelkleurigheid van die Suid-Afrikaners op ’n tydstip wat in ons geskiedenis altyd as ’n keerpunt bekend sal staan, en druk die emosies van mense raak en pittig uit. Sy ontlok die broodnodige glimlag, maar dan is sy weer ernstig en vermanend. Deur alles loop die draad van geloof egter in en van die reënboogmense in hierdie reënboogland en sy Skepper. Dit verskaf die nodige positiewe benadering vir die leser en gee moed en geloof vir die toekoms."

Selfs met die dood van haar man na ’n siekbed in 1995 het sy bly skryf, en so, in die verwoording van haar eie verlies, vir ander ’n meeleefplek geskep. In Sarie (26 Februarie 1997) het Cecile byvoorbeeld geskryf: “Verlies en wins. Ja, dit was verlies sowel as wins. Op twee vlakke. Net na John se dood is ek gedra deur die liefde van my kinders, familie en medemense, bekendes en onbekendes, mense wat waarlik vir my Christus op aarde was. Mense wat aan die liefde van God fisieke gestalte gegee het. Die Woord het deur hulle woorde by my ingetrek.

“Ferdinand Deist het geskryf: Ware geloof is om déúr die teëspoed te kan lewe omdat jou geborgenheid in die lewe nie aan voorspoed gekoppel is nie, maar aan God, wat méér is as die oomblik. ’n Volwasse geloof kan ook in teëspoed aan God bly vasklou. Om dit te ontdek, om daagliks inniger bewus te word van sy teenwoordigheid, sy sorg, sy allesoorkoepelende liefde, dit was waarlik wins. Wonderwerke is vir my voltrek in hierdie bitter tyd.”

Ná die dood van John het Cecile hulle huis met die groot akkerboom in Sesdestraat, Linden verkoop en vir haar ’n wooneenheid op ’n landgoed naby Johannesburg gekoop. Sy het in ongeveer 2003 Kaapstad toe verhuis, want haar mense (nie haar kinders nie, maar haar ander familiemense) is in die Kaap. En sy is gelukkig daar en elke drie jaar gaan sy vir haar drie kinders op drie vastelande kuier.

’n Keur van Cecile se essays wat in De Kat verskyn het, is in 1994 deur Tafelberg uitgegee onder die titel Katswink. "Met haar 'priemende blik' en haar raaksêwoord saai sy die lekker proeslag, die ongemaklike rondskuif, die herkenning van die waarheid by haar lesers. Maar ook die hoop, omdat die Kind eenmaal gekom het. In haar geloof vind sy haar krag, haar koers en haar geborgenheid." (Die Burger, 10 November 1994)

Oor Cecile se essays in De Kat wat in Katswink saamgestel is, sê Hennie Aucamp op Skrywers en boeke: "Die 'ek' in Cilliers se essays is haar bewus van die feit dat sy ’n oorgangsmens is – soms pynlik, verward en ontredderd bewus. ’n Essaybundel het nie noodwendig ’n oorkoepelende tema nodig nie, maar dis miskien die opvallendste geheelindruk wat Katswink laat: dat dit ’n besinning is oor die oortog van ’n ou Suid-Afrika na ’n nuwe Suid-Afrika. In die gees van haar essay 'Hoe hang my hart aan dit wat ek besit' skyn Cecile Cilliers deurentyd voorraadopnames te maak van dié waardes wat essensiële besit is vir haar as Afrikaner."

Aucamp het verder geskryf: "Haar ontmaskering van Bolandse pretensies in 'Vonk uit ’n mieliestronk' en ook die essay '’n Musieklike dood' die satiriese essay op sy beste verteenwoordig en toon dat die essayis kán lag. As ’n mens na die strategieë kyk wat Cilliers volg, val dit op hoe sy die narratiewe element in party essays byhaal. Die Duitse essaykundige Douglas Hesse tref ’n onderskeid tussen essays wat stories bevat en essays wat stories is: Cecile Cilliers skryf beide soorte. 'Arme Soes' bevat ’n storie; 'Feestelike ervaring', hierteenoor, is ’n storie, en ’n sterke op die koop toe. Ek vermoed dat daar ’n kortverhaalskrywer in Cilliers skuil wat pleit om vrygestel te word."

"Cecile het, behalwe die gawe om te vertel, ook die sintuiglike toerusting wat aan stories onmiddellikheid verleen. Haar mees bellettristiese essay, '’n Wêreld breek oop', is ’n ode aan die Bybelse vrug, die granaat. Francois Krige en Wim Blom het die granaat herhaaldelik geskilder, en Audrey Blignault het dit in ’n verhalende essay betrek, maar niemand het nog die wese van die granaat so presies in woorde agterhaal soos Cecile Cilliers nie," meen Aucamp.

Vir Willem Pretorius (Beeld, 3 Julie 1995) is daar een essay in Katswink wat daar is om geraam te word, naamlik “Arme Soes”. "Dit is een van daardie wat die koue tussen mense, geslagte en vreemdelinge verdryf en die medemens weer op jou hart druk soos min ander skryfsels."

Daar was ’n tyd toe hulle as gesin bitter ongelukkig was oor die NG Kerk se swye oor brandende vraagstukke en die traagheid in die daadwerklike uitlewing van die liefdesgebod. In die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg het hulle egter ’n geestelike tuiste gevind, en omdat sy besef het dat sy sélf ’n verantwoordelikheid binne die kerk het, het sy dadelik “ja” gesê toe die Vrouediens van Suid-Transvaal haar vra om redaktrise van hulle kwartaalblad te word. In Suidsender het sy haar aansienlike joernalistieke vermoëns benut om vroue te laat dink, te stimuleer, uit te daag tot méér as koeksisters en melktertjies en strikkies om die teekoppie se oor.

Sy sê onomwonde aan Elise-Mari Tancred dat die kerk op baie verkeerde paaie geloop het, maar dat ’n mens nie kan sê die hele NG Kerk is só of só nie. “Ek is daar, en ek is nie só nie. En as ek die uitsondering op die reël is, dan kan die uitsondering die reël verkeerd bewys. Ek kom nie reg in ander kerke nie. Die NG Kerk is vir my ’n tuiste en die teologie wat die kerk verkondig, is wonderlik.”

Sy is later tot die uitvoerende komitee van die Vrouediens verkies met Leer en Aktuele Sake as haar opdrag en was die eerste nie-predikantsvrou wat tot visevoorsitter van die sinodale komitee verkies is. Sy het Suid-Transvaal verskeie kere in die algemene komitee van die Vrouediens verteenwoordig en het ook ’n stewige bydrae gelewer tot die vrouekursusse wat deur SEVTO (Sentrum vir Voortgesette Teologiese Opleiding) aan die Universiteit van Pretoria aangebied word.

In 1997 is sy as leier-ouderling verkies in die Andrew Murray-gemeente en in 1998 is sy as lid van die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk verkies. Sy en Anna van der Westhuizen was die enigste twee vroue wat tot lede van die ASK verkies is.

Cecile se reaksie hierop was: “My asem is uit my lyf uit.” Verder het sy gevoel dat die mans te baie praat: “As ek die vergadering gelei het, sou ek maklik gesê het ’n punt is klaar gemaak. Hulle sê dieselfde ding honderd keer oor.” (Beeld, 17 Oktober 1998)

Oor die belydenis van Belhar (1998), wat Cecile aanvaar het as belydenisskrif in ’n nuwe kerkverband, was sy lus om op te staan en te sê: “Broer moderator, ons het soveel probleme met Belhar en met die belydenis. Hoekom sê ons nie net vir die vroue hulle moet uitgaan en dit gaan doen nie?”

In Mei 1998 het Madeleine van Biljon, Cecile se ewe bekende en ewe formidabele suster, in die tydskrif Finesse geskryf dat sy ’n agnostikus is. En, het Madeleine later erken, “my suster het my nog nooit, nie eens met die debakel rondom daardie tydskrifartikel nie, verwyt vir my gebrek aan geloof nie. Of gesê sy bid vir my nie.”

In 1999 het Cecile saam met Madeleine die boekeprogram, Boeksusters, op kykNET aangebied. Dit was ’n besonder suksesvolle program, wat veral te danke was aan die twee susters se rapport met mekaar. Soos Elmari Rautenbach in ’n onderhoud geskryf het: “Sinne word vir mekaar klaargemaak – in Afrikaans of Engels na gelang van die emosionaliteit of die uur van die aand en komplimente word kwistig uitgedeel.”

Oor hierdie samewerking tussen Cecile en Madeleine het sy aan AJ Opperman in Die Burger van 19 Mei 2018 vertel dat Madeleine in haar oë die mees belese vrou was wat sy wat Cecile was, ooit geken het. Sy kon ook baie goed onthou. "Ek, aan die ander kant, het meer gerig gelees omdat ek in die letterkunde gestudeer het. Om daai rede was ons oordeel en benadering tot boeke verskillend en ek dink dís hoekom Boeksusters so suksesvol was: twee verskillende persoonlikhede wat albei lesers was. Waarvan een nog is."

Vroue en die ondergeskikte plek wat hulle in ons samelewing speel en die slegte dinge wat as gevolg daarvan met hulle gebeur, druk swaar op Cecile se hart. In 2001 is Begenadigde vroue by CUM gepubliseer. Dit het gegaan oor die ses begenadigde vroue van die Ou Testament. In hierdie boek skets Cecile die lewensverhaal van vroue wat ’n verskil gemaak het. Hulle was onder andere Abigail, ’n vrou wat genade ontvang het om vredemaker te wees, Mikal, wie se kinderloosheid binne ’n groter genade lê, en Tamar, wat die genade ontvang het om die reg in eie hande te neem. Dan is daar ook Rispa, Ragab en Ester, almal moedige en verstandige vroue wat nie geskroom het om hul situasie in eie hande te neem en te vat wat hulle toegekom het nie. Die verhale word vertel op ’n manier wat elkeen wat dit lees, sal lei tot beter begrip van vroue en hul omstandighede, beter begrip vir die dinge wat hulle doen en wat hul dryfveer daaragter was.

In 2003 word Jy’s veelkantig, vrou: geïntegreerd en God-gesentreerd: ’n ander kyk na die drie Spreuke-vroue (CUM) uitgegee. Die drie vroue van Spreuke het nog altyd vir Cecile geboei, maar as sy hulle saam met ander in een boek gesit het, sou dit te swaar geword het. Sy het hulle dus vir hierdie werk gebêre.

Spreuke se drie vroue is die Wyse Vrou van Spreuke 1, die Bose Vrou van Spreuke 7 en die alombekende, maar dikwels onbeminde, Ideale Vrou van Spreuke 31.

Die boek se titel het ook ’n storie: “Ek het eenmaal in Longward Gardens in Amerika ’n uitsonderlike palmboom gesien. Hy kom uit Madagaskar, en het ’n driehoekige stam. As jy hom van die kant af kyk, lyk hy plat. Maar as jy om hom stap, sien jy hy is driekantig. Dit het aanleiding gegee tot die boek se titel, Jy’s veelkantig, vrou!” (Lig, Mei 2003)

Aan die einde van 1995 het haar dogter Amalie met haar gesin na Amerika verhuis. Die middelste kind, Boetjan, is in Engeland. Die jongste, Abraham, woon met sy gesin in Australië.

Oor haar kinders wat so ver is, vertel Cecile aan Lig in die Desember 2009/Januarie 2010-uitgawe dat haar kleinkinders nou Engels grootword: “Onthou, ek het nie ’n druppel Engelse bloed in my are nie. Dié goed wat ek as my hartensgoed beskou, dít moes ek laat gaan. Dit haal die hart uit jou uit. Dit het te make met die yslike ‘skatkis’ wat ons met ons saambring. My kleinkind kan nog sê: Ouma, ek is lief vir jou ... maar hulle gaan nooit weet wat Waenhuiskrans en swartwitpens beteken nie.”

In die boek As almal ver is, skryf Cecile: “(O)p my eie boekrak staan ingeryg Helena Lochner, Liewe Heksie, Alba Bouwer, Rona Rupert, WO Kühne, Honiball se Jakkals en Wolf, ingeryg en nutteloos, want my kleinkinders ken nie meer Afrikaans nie. Om die waarheid te sê, die meeste het dit nooit geken nie. En daarom ook nie die kultuur, die grappies, die ou-ou herinneringe nie. Mý rympies, mý sprokies, ken hulle nie. En hulle sal dit waarskynlik nooit leer ken nie. Ek skenk die boeke aan die biblioteek en gaan huil in die stort, blaas my neus slordig.”

Dit help egter nie om jou kleinkinders te dwing om deel te hê aan jou wêreld nie, waarsku Cecile. “Dit sal nie gebeur nie. As jy bepaalde dinge van jou kinders en kleinkinders verwag of eis, wat hulle dan net met moeite kan bybring, dryf jy hulle net verder van jou af weg.”

’n Laaste woord oor haar kinders: “My en John se kinders het iets van ons met hulle saamgeneem. Hulle het ’n vriendskapsgawe, ’n bereidheid om te help, hulle werk hard, wat alles positiewe bydraes is wat hulle in hulle nuwe omgewings kan lewe. Dit troos my.”

’n Joernalis het Cecile by geleentheid beskryf as “opinionated” – “eiewys, eiesinnig, eiewillig,” vertaal die woordeboek sonder om die besondere nuanse van dié Engelse woord vas te vang. Teen dié siening teken Cecile beswaar aan – met sterk eie menings, ja, met selfvertroue, ja – maar eiewillig?

“Nou wil ek meer as ooit tevore God se wil vir my lewe soek. Ek wil óóp wees vir hom, ek wil oorgegee aan Hom lewe. Ek wil vir Hom sê, ek is net Cecile, U kind.”

Cecile Cilliers is ’n vrou wat nie huiwer om haarself weerloos te stel ter wille van Christus nie – en in haar weerloosheid haar skild gevind het, aldus Willa de Vos.

In 2018, nie lank voor haar 85ste verjaardag nie, is Cecile se debuutbundel kortverhale gepubliseer onder die titel Die ou vrou en die priester. Sy vertel aan AJ Opperman (Die Burger, 3 Maart 2018) dat Hennie Aucamp en Joan Hambidge van die mense was wie se opmerkings daartoe gelei het dat sy begin kortverhale skryf het. Een van haar rubrieke is opgeneem in een van Hennie Aucamp se versamelings en sy kommentaar daarop was "hier is ’n kortverhaal wat beur om uit te kom".

Joan Hambidge het haar kortverhaal "Brood" gelees en háár kommentaar was: "Cecile, hierdie is ’n veelgeslaagde verhaal. EK hoor jy het nog van hierdie by die huis."

Die titelverhaal in die bundel handel oor Cecile se suster, Madeleine. Sy verduidelik aan AJ Opperman (Die Burger, 19 Mei 2018): "Robert Hodgins was ’n baie goeie vriend van haar (Madeleine). Ek het gedink dit sal darem lekker wees as daai buiteblad ’n Hodgins-werk kan wees. Nèlleke (de Jager van NB Uitgewers) sê toe vir my die sterkste storie is '’n Ou vrou en die priester'. Ons maak dit die titel en jy soek vir my ’n Robert Hodgins-buiteblad.”

Dit was nie maklik nie, maar tog nie onmoontlik nie. Madeleine het baie Robert Hodgins-skilderye gehad en aan haar kinders nagelaat. En Willem, haar jongste, het die grootste deel daarvan geërf. Daarby was hy Robert se peetkind. Toe het die liewe Willem vir my foto's van ál daai skilderye gestuur.

"Ek het dinge in die verhaal oor Madeleine en die priester bygewerk en die slot verskil van die werklike gegewe. Die einde was vir my ontroerend, want daardie priester het altyd vir Madeleine boeke geleen. En ’n hele paar jaar ná haar dood (2010) bring haar dogter vir my ’n klomp boeke. Toe gaan ek daardeur en besef van die boeke is die priester s'n. Toe gaan ek na die aftreeoord en vra mag ek asseblief die boeke vir die priester gee. Hulle sê maar het ek nie geweet nie? Ek sê wat? Hy is vier dae ná Madeleine dood.

"Toe skryf ek dit in die verhaal in, toe sê hulle nee, dis onnatuurlik, wat eintlik waar is. Dis hoekom ... life is stranger than fiction. En toe het ek die verhaal anders laat eindig."

Op Netwerk24 (26 Februarie 2018) skryf Joan Hambidge as volg oor Die ou vrou en die priester: "Die verhale handel oor tussenposisies of die skemer plekke van die gees: ’n meisie se jeugdige obsessie met ’n ouer man; ’n vrou wat verlang na haar oorlede man; ’n huwelik van stiltes en verwyte na die kinders die huis verlaat het; onvervulde begeertes en drifte; ’n gesteelde ring wat ’n teken moet word vir ’n herbesoek van ’n verhouding; bloedskande; Alzheimer se siekte; die dood ...

"Hierom verhale van ’n ouer, lewenswyse mens. Hierom is elke woord op sy plek. Elke insig ryp en beleë. Fredric Jameson se politieke onbewuste en Hélène Cixous se vroulike onbewuste word in verhaal ná verhaal gekarteer. Een punt van kritiek: die blakerteks se aanhaling uit ’n verhaal gee nie die werklike omvang van die bundel weer nie.

"’n Sjarmante, gevoelige debuut. Daar is ’n handvol stories wat hierdie leser áltyd sal bybly."

Op LitNet skryf Martie Retief-Meiring: "Cilliers het nie die skerpheid van ’n Annie Proulx nie, maar wel die amper tasbare beskrywing van mens, dier en omgewing. Die eenvoud van woord wat Proulx het, het Cilliers ook, daarom laat haar werk met sy heel ander toonaard as Proulx s'n my tog die twee vergelyk.

"Soms wil-wil die leser te veel woorde, te veel verduideliking lees, maar soos die goeie kortverhaal eis, besweer die slot van elke storie die soms omslagtige aanloop daarna. (...) Die omslag is treffend – ’n skildery deur Robert Hodgins: A woman of the twenties. Pers, sag, versluierd, onverwags.

"Nogal ’n debuut vir ’n 84-jarige, hierdie 14 verhale oor die lewe van meestal die enkeling."

En dit het toe geblyk dat hierdie bundel kortverhale van Cecile Cilliers haar "swanesang" was soos sy dit in Maart 2018 aan AJ Opperman beskryf het, want op Saterdag 16 Junie 2018 is Cecile Cilliers oorlede. Sy is met ’n hartkwaal gediagnoseer waaraan niks gedoen kon word nie, het ’n vriend, Mike Botha, aan AJ Opperman (Die Burger, 18 Junie 2018) vertel. "Ek het Vrydag telefonies met haar gepraat en sy het weer soos haar ou self geklink. Ek het gedink sy sou oukei wees," het Botha gesê. "Ons het in Mei haar 85ste verjaardag met ’n partytjie gevier. Haar twee seuns was albei hier – een uit Londen en een uit Perth. Sy het daarna saam met hulle wildtuin toe gegaan, wat vir haar so lekker was."

Huldeblyke:

  • Joan Hambidge: "Ek en Fanie Olivier het onlangs op ’n letterkundepartytjie met Cilliers gesels. So ’n wonderlike aand langs hierdie lewenswyse vrou. Ek is so bly dat ek destyds toe sy ’n verhaal vir ’n versamelbundel geskryf het, haar gebel het en aangemoedig het om ’n bundel saam te stel. Ek bewaar ná al die jare met vreugde resensies van Cecile Cilliers – onder andere tot in die kern oor my debuut. Haar pragtige stem en haar werk om versoening tussen vroue van alle rasse te bewerkstellig sal ek onthou. Soos haar eerlikheid as resensent." (Die Burger, 19 Junie 2018)
  • Ton Vosloo: "Sy was min of meer nuuskierig oor alles. Sy het mos lank ook in die veld gewoon toe haar man met sy navorsing besig was. En ek onthou hoe goed die program Boeksusters was. Kyk net hoe sy later ook geblom het met die kortverhaalbundel wat verskyn het. Sy het uitgereik na vele gemeenskappe." (Die Burger, 19 Junie 2018)
  • Laurie Gaum: "Sy was ’n ontdekking as ’n vriendin en ’n mensch met ’n groot hart vir mense, vir God en die lewe. Haar lewe getuig ook van 'intergenerational' konneksies." (Die Burger, 19 Junie 2018)
  • Hettie Scholtz: " Cecile Cilliers was die wyse, uitgesproke soort vrou by wie ’n mens immer iets geleer het, hetsy oor boeke of menswees. Wat my sal bybly, is haar vitaliteit en die spontane hartlikheid waarmee sy vriend en vreemdeling in die poort behandel het. ’n Mens is gelaat met ’n gevoel van enorme verlies, maar ook dankbaarheid dat sy die geboorte en ontvangs van haar eerste kortverhaalbundel kon beleef." (Die Burger, 19 Junie 2018)
  • Mike Botha: "Ek sal ons Maandag-etes mis. Ek sal die stories, vermaak en vermanings veral mis." (Die Burger, 18 Junie 2018)

Publikasies:

Publikasie

Ek wonder!: rympies

Publikasiedatum

1957

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kinderversies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kokkewiet op Donderdag

Publikasiedatum

1992

ISBN

0869974149 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Katswink

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624033155 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Reënboogmense reënboogland

Publikasiedatum

1995

ISBN

0869975080 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ma’s het engelvlerke

Publikasiedatum

1998

ISBN

1868294501 (hb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dagboek vir die vrou 2000: 366 dagstukke van opwinding, hoop en verwagting

Publikasiedatum

1999

ISBN

1868295826 (hb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Godsdienstige dagstukke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Begenadigde vroue

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2006

ISBN

1868297446 (hb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Godsdienstige stukke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Jy’s veelkantig, vrou: geïntegreerd en God-gesentreerd: ’n ander kyk na die drie Spreuke-vroue

Publikasiedatum

2003

ISBN

1868298949 (sb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Godsdienstige stukke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Dagboek vir die vrou wat hunker na die bron van hoop en vrede

Publikasiedatum

2004

ISBN

9781770001060 (hb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Godsdienstige dagstukke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Magspel

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781770003408 (sb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Uit sy oorvloed: 365 dagstukke oor God se oorvloedige sorg

Publikasiedatum

2008

ISBN

 

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Godsdienstige dagstukke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ou vrou en die priester en ander verhale

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780798176996 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Cecile Cilliers op die internet

Artikels deur Cecile Cilliers op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Cecile Cilliers (1933–2018) appeared first on LitNet.

’n Tuiskoms: Glencoe, Skotland

$
0
0

Ek is diep in die veertig toe ek eers my eintlike huis, my wêreldse woning, vind. Dit is die winter van 2007 en ek is in Glencoe in die Skotse Hoogland.

Ek ry direk ná die lang vlug vanaf Dubai na Glasgow op na Glencoe toe. Dit is stil en reeds sterk skemer op die A82, die nasionale pad noord na Inverness. Naby Rannoch Moor hardloop ’n bok voor my motor in en ek slaan remme aan. Ek mis haar, maar skrik groot. Sy het van die sneeubedekte berge afgekom om nader aan die pad te kom kos soek. Hierna ry ek stadiger, my sintuie skerper. Hoe nader ek aan Glencoe kom hoe hoër word die gebeitelde bergpieke wat aan weerskante van die pad troon. Dit is ’n onheilspellende gesig.

Vir Charles Dickens was Glencoe ’n besonder mistroostige plek: “... anything so bleak and wild and mighty in it’s loneliness, as the whole country, it is impossible to conceive. Glencoe itself is perfectly terrible.” Hy voeg by, “... there are scores of glens, high up, which form such haunts as you might imagine yourself wandering in, in the very height and madness of a fever.”

Die Drie Susterspieke

Onheilspellend in die donker, ja, maar “terrible”? Inteendeel. Toe ek verby die Groot Herderberg en die Drie Susterspieke aan die suidelike ingang van die dal ry, voel dit asof ek tuiskom. Ek word stil, ek verstaan nie wat ek voel nie. Is dit my vrugbare verbeelding wat my hierdie ongewone gevoel van tuiskoms laat beleef? Skynbaar nie, want later vind ek uit dat die dal 500 miljoen jaar oud is en dat baie mense hier ’n besliste gevoel van verbondenheid aan ’n prehistoriese verlede ervaar.

Tydens my verblyf lok die snerpende koue my keer op keer na buite, waar die vallei se droewe geskiedenis byna tasbaar is. Ek sien dit in elke klip, elke kaal boom, elke mosbegroeide muurtjie en in die fyn slierte mis wat voortdurend tussen loch en berg sweef. Ek hoor dit in die skerp gekras van swart kraaie wat voor my uitvlieg wanneer ek met die nou paadjie langs in die rigting van die verlate hospitaal stap en na die sneeubedekte bergtoppe om my kyk. Wanneer ek fyn luister, hoor ek die Coerivier veraf kabbel, onder my stewels shliep die klam blaretapyt en kraak gevriesde graspolle.

Die verlate hospitaal

Op ’n dag ry ek verby Loch Leven en ’n  kruis tussen die bome op ’n eiland in die loch vang vlugtig my oog. ’n Dun, deursigtige wolkie hang laag oor die eiland. Ek kan nie stilhou nie, maar my gedagtes bly by die half-versteekte kruise op die geheimsinnige eilandjie. Terug in Glencoe doen ek navraag. Die eiland se naam is Eilean Munde en dit huisves ’n begraafplaas en kerkie wat in die sewende eeu deur Sint Fintan Mundus gebou is. Die kerk het in die vyftiende eeu afgebrand en is in die sestiende eeu herbou. Die laaste diens in die kerk is in Julie 1653 gehou. Clans met grafte op Eilean Munde is die Stewarts, die MacDonalds van Glencoe en die Camerons. Die drie clans het die eiland gedeel en die grafte is gesamentlik in stand gehou, selfs in tye van bloedige konflik. ’n Beeld van mans wat in die nag oor die loch roei steek in my kop vas. Tussen hulle op die boot is ’n liggaam toegedraai in ’n wit kleed. Die roeiers se spane gly sag deur die swart water en ek wonder of daar ’n priester by is wat prewelend vir die afgestorwene se siel bid.

Later gaan ek na Fort William, dertig kilometer noord, om kos te koop. Die pad is nou en slingerend. Loch Linnhe lê links, na aan die pad, sy water diep en duister, vol geheime. Die landskap is swart, wit en grys. Dit is wild en strak en onweerstaanbaar vir avonturiers, dwalendes en soekers. Die Glencoe Youth Hostel waar ek bly, is vol van hulle. Die skrywer in my is in haar element. Ek luister want hier is baie stories.

Oukersaand ontmoet ek een van die eienaardigste mense wat ek nog teëgekom het. Hy kom ná donker daar aan; wilde grys hare losweg in ’n poniestert gebind en ’n koddige figuurtjie wat hom na ’n verdwaalde Ierse leprechaun laat lyk. Terwyl hy ’n verskeidenheid plastieksakke met koekies en soppoeier in die kombuis uitpak, praat hy sonder ophou. Hy het die vyftig kilometer van Oban af hierheen gestap, baie van die tyd in die donker.

Later die aand gaan sit ons in die Quiet Room en hy vertel my sy storie, hoekom hy jare gelede die pad gevat en nie ophou loop het nie. Hy vertel van die heide wat hy vir sy ma bymekaar maak en van ’n ontrou vrou wat alles begin het. Hy sê dat hy in die nuwe jaar na Kent toe gaan stap waar hy aan ’n amateurproduksie van die pantomime “Jan en die Boontjierank” gaan deelneem. Hy gaan vir drie minute lank klopdans. “Wys my,” vra ek. Hy is nie links nie, spring op en voer met entoesiasme sy danspassies uit. Sy stewels is gaar.

Op ’n ander aand gaan ek en ’n stil bergklimmer met sagte oë na die Clachaig Inn vir tradisionele musiek en ’n “pint”. Ons stap die een-en-’n halwe kilometer van die Youth Hostel af in vlae reën in die donker, ’n flou flitslig ons enigste lig. Ons kan nie soontoe ry nie, die polisie is permanent buite die Inn geparkeer om mense met meer as die toegelate 0% alkohol in hul bloed vas te vat. Dít in die middel van nêrens.

In die jare ná hierdie eerste besoek keer ek so gereeld as wat moontlik is terug na Glencoe. In die somer is dit ’n ander wêreld. Die lig wat voortdurend verander is bekoorlik; sag, as gevolg van al die vog en die weerkaatsing van die water van die lochs. Die vallei se kleure is jonggroen in die lente, lowergroen in die somer en dit word deurentyd met skakerings van mistige blou en pers berge en heidevelde omring. Hartroerend mooi.

Maar Glencoe kan selfs in die somer somber raak. Die mis kom in en die berge word versluier. Wanneer die mis stadig lig, verskyn berge soos enorme, geluidlose spookskepe teenaan die pad, en wanneer die misgordyn begin sak, verdwyn die reuseskepe so stil as wat hul gekom het.

Die grootste deel van die Glencoevallei behoort aan die National Trust for Scotland, wat dit as geskenk van bergklimmer en filantroop, Percy Unna, ontvang het. Die geskenk het egter met ’n voorwaarde gekom: Die ongerepte aard van die area moes behoue bly. Geen gholflandgoede of groot hotelle word dus hier toegelaat nie, iets waarop ’n mens met diep dankbaarheid ’n glasie rokerige enkelmout op Unna kan drink.

Die ekovriendelike en moderne Glencoe Erfenissentrum is een van my gunsteling plekke om te besoek. Dit is hier waar ek lees hoe oud die dal is en dat daar 420 miljoen jaar gelede ten minste agt groot vulkaniese uitbarstings hier was. Voor hierdie tyd, 500 miljoen jaar gelede, was Skotland deel van die kontinent Laurentia wat Noord-Amerika, Groenland en Noord-Ierland ingesluit het. Die Iapetus-oseaan het Laurentia van Avalonia (Engeland, Wallis en Suid-Ierland) geskei. 430 miljoen jaar gelede het Laurentia en Avalonia teen mekaar gebots. Waar die Iapetus-oseaan eens was, het die massiewe Kaledoniese berge gevorm, die oeroue hart van die hedendaagse Glencoe. Die joernalis HV Morton stel dit aangrypend in “In Search of Scotland”: “So far as Glencoe is concerned the first germ of life has never struggled from the warm slime. It is still dreaming of geological convulsions.”

Ek sal altyd na Glencoe terugkeer, al is daar soveel ander plekke in die wêreld om te sien. Wanneer ek terug is in Suid-Afrika dink ek aan die vallei en onthou ek wat J Norman Collie, klimmer, chemikus en avonturier oor die berge gesê het: "Many are the memories one can bring back from the mountains, some of the peace and some of the stern fights with the elements, but they are all memories of freedom."  Dit is hoe ek dit ook beleef: inkering, troos en vryheid.

Ons eie Karel Schoeman vra in “Koninkryk in die Noorde”: “Wat kan jy doen met die oorweldigende skoonheid wat jou konfronteer? Probeer om dit vas te lê op papier, doek of film, of dit vaslê in jou geheue – herinnerings waarop jy kan teer in die donker en honger tyd, heuning vir die lang winter wat voorlê, wanneer jy alleen sal wees in jou eie stilte.”

Dis al wat ek nou kán doen, en ek doen dit goed. In my verbeelding ry ek met die A82 langs, ruik ek die helder en koue lug, doem die berge kort voor lank langs die pad op, soos wagters oor die vallei. Ek weet wat alles daaragter wag, en my hart klop warm.

Foto's: Nadia de Kock

The post ’n Tuiskoms: Glencoe, Skotland appeared first on LitNet.


Press release: The Jakes Gerwel Fellowship: Applications open for 2019

Die eenpersoondrama as (steeds ontluikende) subgenre: ’n skets van sy ontwikkelingsgang en kenmerke

$
0
0

Die eenpersoondrama as (steeds ontluikende) subgenre: ’n skets van sy ontwikkelingsgang en kenmerke

Marcel Spaumer en Bernard Odendaal, vakgroep Afrikaans en Nederlands, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 15(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die eietydse teaterlandskap, hetsy plaaslik of internasionaal, bevind sig tans in ’n kommerwekkende posisie weens beperkende ekonomiese toestande en mededingende vorme van vermaak (televisie, internet en so meer). Daarom wend baie dramaturge, produksiespanne en akteurs hulle tot ekonomies meer haalbare formate van teaterskepping, byvoorbeeld die eenpersoondrama. Hoe kleiner die ensemble, hoe groter die winsmoontlikhede. Nog betreklik min is gedoen wat teorievorming oor die eenpersoondrama as subgenre betref, maar die voorkoms van die eenpersoondrama in die teaterwêreld is opvallend. ’n Groeiende getal Afrikaanse eenpersoondramas word jaarliks suksesvol by feeste en in teaters aangebied, maar die eenpersoondrama se oorsprong, geskiedenis en kenmerke is nog nie genoegsaam in die Suid-Afrikaanse dramateorie-omgewing bespreek nie. Die doel van die navorsing waaroor hier verslag gelewer word, was om hierdie leemte te vul – om onder meer by wyse van die benutting van sekondêre bronne die oorsprong, geskiedenis en daaruit voortspruitende kenmerke van die eenpersoondrama in die internasionale, maar veral Afrikaanse, teaterverband te bestudeer en te beskryf. Hieruit word onder meer duidelik dat die subgenre ontwikkel het uit die 19de-eeuse openbare voorlesings van gedigte en die voordragtelike interpretasie van literêre werke, en tot sy hedendaagse gestalte as ’n verfynde teatervorm gegroei het. Die opbloei daarvan kan onder andere aan die genoemde ekonomiese toestande en ’n breër kulturele gerigtheid op die "self" toegeskryf word. Dit is die (betreklik) eiesoortige benutting van hoofsaaklik drie drama-kernelemente, te wete die rolle van die woordteks, die akteur en die gehoor, wat dié subgenre as teatervorm kenmerk. Hierdie drie kernaspekte vind, soos in die artikel beredeneer en aangetoon word, neerslag in kenmerkende aanwendings van vyf toneelstukskeppingsmiddele, te wete karakteruitbeelding, die (deelnemende rol van die) gehoor, storievertelling (as dialoogkomponent), (gedagtespraakagtige) taalgebruik en (gestroopte) stelinkleding.

Trefwoorde: Afrikaanse teaterlandskap; dramateorie; drama-teoretiese ontleding; dramatiek; eenpersoondrama; genremodusse; kabaret; liriek; monoloog; narratiwiteit; storievertelling

 

Abstract

The one-person play as a (still emerging) sub-genre: an outline of its development and characteristics

The contemporary theatre landscape finds itself, both locally and internationally, in a troubled position on account of restricting economic circumstances and competing forms of entertainment (television, internet, etc.). Accordingly, many dramatists, theatre production teams and actors turn to financially more viable formats of theatre creation – the one-person drama, for example. The smaller the ensemble, the better the chances of profit-gaining.

The flourishing condition of the subgenre may, however, also be ascribed to other factors. The broad, contemporary cultural focus on the "self", for example, has also played a part in this regard. According to Jo Bonney – in her anthology Extreme exposure: an anthology of solo performance texts from the twentieth century – actors, directors and playwrights have become products of "a hundred years of shifting from the nineteenth-century emphasis on the community to the late twentieth-century elevation and examination of the individual" (2000:xiv).

Mark Berninger (in Wallace 2006:3) correctly states that "one of the difficulties that dogs any discussion of theatre monologues is the very looseness of the term". The term een-persoondrama (one-person drama) is not mentioned in any of the various Afrikaans explanatory dictionaries, but eenman (one-person) is defined as follows in the multivolume WAT (Woordeboek van die Afrikaanse taal) (Dictionary of the Afrikaans Language): "van een man of een persoon; uit een man of een persoon bestaande; met slegs een man of een persoon daaraan verbonde" (of one man or one person; consisting of one man or one person; with only one man or one person involved in it) (Schoonees 1972). The term monodrama is explained in the Oxford English Dictionary (OED 2015b) as a "dramatic piece for a single performer, originally with spoken text and musical accompaniment. […] Also: the genre of drama of this type."

What further complicates the matter is that the term one-man drama is used alternately with synonyms such as one-man piece, one-woman piece, one-person performance, one-man show, one-person show, one-woman show, monologue drama, monodrama, solo piece, solo performance – and more descriptions can be added to the list. Although these terms are employed varyingly, the implied meaning always boils down to the following: that in such theatre pieces an audience is watching and listening to a single actor and narrator.

In the past, studies of one-person dramas have included rather little focus on theorising about the genre, even though the way it has flourished within the theatre industry has been notable. The aim of the research reported on in this article has been to fill this gap – to study and describe the origins, the developmental history and the thus arising features of the one-person drama as a genre in the international theatre context, with specific reference to its manifestation in a number of Afrikaans plays. A growing number of financially and artistically successful Afrikaans one-person dramas are annually presented at various festivals and theatres, a fact which attests to the relevance of such a research undertaking.

For instance, in 2011 Nicola Hanekom appeared in her one-woman show, HOL, which was presented as a dramatised version of the stream of consciousness of a single character. In the following year Wessel Pretorius acted in his own one-man show, titled ONT-, which is about a young man and his coming-of-age experiences. Sandra Prinsloo, also in 2012, tackled a one-woman show called Oskar en die pienk tannie, originally a drama created by Éric-Emmanuel Schmitt and 7subsequently converted into a short novel by him, which was then translated from the original French into Afrikaans by Naòmi Morgan, who then also translated the drama version into Afrikaans.

The very favourable reception of the three one-person dramas mentioned emphasises the relevance of our study. The said productions together won more than 12 awards in 2012 and 2013. For HOL, Hanekom received, among other prizes, a Standard Bank Ovation award as best actress in 2012. Pretorius’s ONT- (2012) was nominated for eight KykNET Fiesta awards in 2013, of which it won four: for best actor, best performance in a solo play, best new Afrikaans play and best upcoming artist. In 2013, Oskar en die pienk tannie received, in addition to prizes from other institutions, three kykNET Fiesta awards: for best actress (Sandra Prinsloo), best director (Lara Bye) and best production (see De Beer 2013).

Drawing from a variety of international secondary sources on the subject, the course of the development of the subgenre and its characteristics are described in relative detail in our article. From this it becomes apparent that, like some other public performance types, the one-person drama stems, in the international context, from 19th-century public poetry readings and performative interpretations of literary works, gradually developing into its manifestation as a refined theatre form.

Regarding the development of the one-person drama in the South African context it was found that the oral tradition that existed among the indigenous population groups can serve as a good starting point for discussion of the topic. Aspects of the nature of the earlier oral storytelling traditions are often similar to features of the contemporary one-person drama. This becomes apparent, for instance, when manifestations of the latter are compared with the iintomsi tradition, where the observance of a fourth-wall convention has not existed, or to other forms of oral literature that have been practised within various indigenous cultures. The poetry genre of the dramatic monologue as it was practised in different periods of 20th-century Afrikaans literature may also be regarded as a source of inspiration for the contemporary one-person drama genre in South Africa.

All this does not mean that the origin or progress of the Afrikaans one-person drama genre can be attributed exclusively to the legacy of the dramatic monologue or of the oral traditions of indigenous population groups. Afrikaans drama has also been continuously influenced by international, especially European, theatre trends. In our paper we argue that the influence that European cabaret practices, for example, have exerted on the development of the Afrikaans one-person drama genre, is of greater importance in this regard than the legacy of the indigenous oral traditions or the dramatic monologue as a poetic form. Other local factors enhancing the growth of the one-person drama genre in Afrikaans have been the staging of a string of South African English one-person dramas during the 1980s and the changing socio-political circumstances in the country during the past quarter-century.

We do not only track the original sources and the course of development of the subgenre, but also pay attention to its (emergent) distinctive theatrical features. From our analyses of various Afrikaans one-person dramas, it becomes apparent that the basic literary modes of the narrative, lyrical and dramatic are utilised interchangeably by playwrights when writing for this subgenre. It is, however, the (relatively) distinctive utilisation of (mainly) three core dramatic mode elements which characterises the one-person play as a theatrical form, viz. the roles assigned to the verbal text, the actor and the audience in a production. These three core aspects, it is argued and demonstrated in the article, are made manifest in characteristic applications of five means of theatre play creation: characterisation, the (participative role of the) audience, storytelling (as a dialogue component), (stream-of-consciousness-like and, therefore, often lyrical) language usage, and (stripped) stage decoration.

Keywords: Afrikaans theatre landscape; cabaret; drama; drama theory; drama-theoretical analysis; genre modes; lyrical genre; monologue; narrativity; one-person drama; storytelling

 

1. Van waar hierdie ondersoek?

Sedert die opbloei van kabaretuitvoerings in Afrikaans in die 1980’s (Nel 2011) het die voorkoms van eenpersoonstukke op die Afrikaanse teaterverhoog steeds opvallender geword – sodanig dat dit tans as ’n baie gewilde en suksesvolle teatervorm in die Suid-Afrikaanse kunste-omgewing bestempel word.

Wat teorievorming oor die eenpersoondrama as subgenre betref, is (soos verderaan sal blyk) tot dusver egter betreklik min verrig. In die besonder binne die plaaslike verband is daar ’n gemis hieraan. Die doel met die navorsing wat hierdie artikel onderlê, was derhalwe om hierdie leemte te help vul; om dus die oorsprong, geskiedenis en daaruit voortspruitende kenmerke van die eenpersoondrama in die internasionale, maar in die besonder die Afrikaanse teaterverband te bestudeer en samevattend te dokumenteer.

Dit geskied in hierdie artikel by wyse van veral die benutting van sekondêre bronne, wat betreklik breedvoerig bespreek en ontleed word, maar ook met verrekening van eenpersoondramakenmerke soos dit in enkele Afrikaanse toneeltekste gestalte aangeneem het.

 

2. Die ontwikkelingsgang van die eenpersoondrama in internasionale en plaaslike verbande

2.1 Inleiding

Storievertelling is ’n onlosmaaklike deel van die Afrika-kultuur. Onder meer Suid-Afrika beskik oor sterk tradisies van mondelinge literatuur soos dit deur die verskillende inheemse bevolkingsgroepe beoefen is en word. Ook vanuit ander vakdissiplines as die literatuurstudie word egter na die wondere van storievertelling gekyk, byvoorbeeld met die oog op die genesende krag wat dit kan hê (soos veral Müller 1996 en Jordaan 2008 getuig). Storievertelling is, soos in die onderhawige studie geredeneer sal word, ook die wesenlike taak en kunsuitdaging van die enkelingakteur.

Om ’n gehoor manalleen, of vroualleen, as akteur te wil boei, is ’n uitdagende onderneming. Nicola Hanekom sê byvoorbeeld in ’n onderhoud op YouTube (gevoer deur Karvellas 2013) die volgende oor haar eenvrouvertoning HOL:

I think I'm completely insane … This is extreme theatre for me, I'm so scared … Not just because of the 8 km [wat op ’n trapmeul afgelê word tydens die vertoning] and the sort of physical theatre, but the combination of that with the intellect having to work overtime with this rapid fire dialogue and I'm all by myself.

Handeling is een van die kernelemente van enige drama, maar ’n verdere uitdaging met die skryf en opvoer van ’n eenpersoondrama is byvoorbeeld die kwessie van waar karakterteenkanting en -konflik vandaan behoort te kom. ’n Drama is bedoel om opgevoer te word en in die veelkarakterdrama is daar minstens een persoon wat iets in wisselwerking met minstens een ander karakter doen of sê. Die akteur van die eenpersoondrama het nie ’n tasbare antagonis saam met hom of haar op die verhoog nie. Die handeling en konflik moet uit ’n ander bron spruit – of moet dit in eenpersoondramas dan liefs om innerlike konflik gaan? Is alle eenpersoondramas só gelyksoortig dat dieselfde resep telkens gevolg moet word?

In ’n eerste poging om antwoorde op bostaande vrae te kry, is ’n soektog na plaaslike eenpersoondramas op Dalro (Dramatic, Artistic and Literary Rights Organisation) se webwerf uitgevoer, wat ’n skamele 11 trefslae opgelewer het, waarvan slegs vier op Afrikaanse tekste betrekking gehad het (twee hiervan is deur Marion Holm geskryf). Hierdie uitslag onderskraag die volgende stelling van Nel (2011:13): "Die navorsingsmateriaal met betrekking tot skerpskertskomedie, eenmanvertonings en sketskomedie in Suid-Afrika is baie skaars." ’n Uitdaging vir dramaturge en akteurs van die eenpersoondrama is dat daar taamlik min genreteorie bestaan; selfs die argivering van hierdie soort tekste is, uit die studie waarvan gidsaanduidings met betrekking tot die subgenre afgelei sou kon word, karig.

Dit is derhalwe belangrik om die eenpersoondrama as genre van nader te beskou met die oog op die moontlike aanvulling van ’n kennelike leemte op die terrein van die dramateorie.

2.2 Die vroeë wortels van die eenpersoondrama in globale verband

Dit is moeilik om die presiese ontstaanstyd of -oorsake van die eenpersoondrama as dramatieksubgenre vas te pen of te peil. As ons aanneem dat die eerste vorm van ’n eenpersoondrama die stories was wat individue aan hul gemeenskappe of medestamlede vertel het, dan het dié toneelsoort primitiewe wortels en is dit een van die oudste vorme van teater. Geis (1993:15) meen dat die monoloog na die antieke Griekse tragedie terugdateer, wat die vroegste vorme van alleenspraak – of soos sy dit noem: "monologic speech" – bevat. Hierdie monoloë of alleensprake is óf eksplisiet óf implisiet aan lewende gehore gerig. Catron (2009:5) meen selfs "the solo performer predates recorded history"; alleensprake verteenwoordig, volgens Young (2012), die "genesis of theatre", naamlik op grond van die wyses waarop enkelinge gestreef het om stories aan groepe mense te vertel. Bonney (2000:xiii) en Gentile (1989:23) huldig dergelike sienings in hierdie verband.

Die geskiedenis van die Griekse toneel en tragedie lewer eweneens insigte op rondom die voorgeskiedenis van die eenpersoondrama. Die woord monoloog is (afgeleid) saamgestel uit twee Griekse woorde: monos, wat "alleen" beteken; en legein, oftewel "om te praat". Die woord monoloog beteken dus "om alleen te praat", dit wil sê ’n alleenspraak. Luidens geskiedskrywing was die Griekse akteur en digter Thespis die eerste enkelingakteur, "innovating a new style in which a solo actor performed the speeches of the characters in the narrative (using masks to distinguish between the different characters). […] Thespis is therefore considered the first Greek 'actor', and his style of drama became known as tragedy" (Anoniem 2015a). Vóór Aischulos die tweede akteur as speler in ’n drama ingevoer en die tragedie op ’n vaste grondslag geplaas het vir sy moderne verskyningsvorm om te ontwikkel, is slegs ’n enkelingakteur gebruik (Kuritz 1988:24).

In sy boek The power of one (2009) noem Louis E. Catron dat daar in antieke Griekeland enkelingkunstenaars (rhapsodists, of "oral readers") was wat geskiedenisstaaltjies en stories oor legendariese figure aangebied het, lank voor die aanvang van toneel soos dit in die Westerse tradisie bekend geword het (Catron 2009:5). Hy meen dat hierdie vroeë enkelingkunstenaars die basis van eenpersoonvertonings, wat later deur bekende dramaturge soos Aristophanus, Sophokles en Euripides ontwikkel is, gelê het. Rosenmeyer (1981:147) voer iets dergeliks aan oor die ontwikkeling van die alleenspraakvorm en oor Euripides as dramaturg ("a dramatic mechanism which Euripides is the first to explore"). Hy vertel dan verder van die Romeinse histriones, ook enkelingkunstenaars wat verskillende karakterrolle gespeel het, en dat hierdie enkelingkunstenaars se werk later belangstelling gewek het in formele toneelwerk (Catron 2009:5). Hy verwys na hierdie enkelingkunstenaars as "chroniclers of their times, impersonating significant leaders and events of the past to captivate audiences in the present" (2009:5).

Op sy beurt skryf Smith (2010:207) die volgende oor die ontstaan van die mono- of eenpersoondrama:

Although the interest in monodrama might be interpreted as an exploration of modern subjectivity and psychoanalysis, the genre of monodrama was not invented by modernists. Its origin is associated with Jean-Jacques Rousseau's 1766 music drama, Pygmalion. While the popularity of the form initiated by Pygmalion had decreased by 1815, monodrama was imported to England through the work of Robert Southey, among others, and shaped many dramatic works of the major English Romantics, including Wordsworth's The Borderers and Byron's Manfred.

In hulle boek Theatre histories: an introduction laat Zarrilli, McConachie, Williams en Sorgenfrei (2006) hul fokus op "primary oral cultures" val. Hulle wys daarop dat toneelhistorici in die algemeen meer klem lê op dramas in die vorm van geskrewe tekste; die mondelinge kultuur bly dus ’n uitdaging vir navorsers (Zarrilli e.a. 2006:3). Onlangse navorsing oor tradisionele storievertellers en "oral performance" toon egter die skeppendheid en verwikkeldheid van laasgenoemde soort stukke aan (2006:21).

Zarrilli e.a. (2006:21) gaan dan voort om die wesenlik mondelinge kultuur van teateraanbiedings soos volg te kenskets:

[They] are “episodic” locations of listening, hearing, and voicing where "mythic" worlds are created. The hearer does not attempt to analyze, understand, or interpret what is heard, but experiences and absorbs the musicality of the voice – its timbre, tone, amplitude, pitch, resonance, vibration, and shape as the voice moves between sounding and silence(s) – the pauses of varying lengths that help mark, set off, and/or accentuate what is voiced. Reception is perception, not "meaning".

Hulle noem dat hierdie vroeë tradisies van storievertelling vereis het dat aanhoring (en die luisteraar) sentraal staan; dus was die gehoor se rol die belangrikste. "Om te sien" was egter ook belangrik: "[T]he oral elaboration of a story by an excellent teller makes the story a 'spectacle' in that 'it is visible through the storyteller's dramatization, and the spectator visualizes it further in his mind's eye’" (2006:21).

Verderaan in die onderhawige studie word albei hierdie teatrale aspekte (om aan te hoor en om te sien) by die bespreking van die kenmerke van die eenpersoondrama as genre betrek.

2.3 Die eenpersoondrama in internasionale verband gedurende die 1800's en 1900's

Gedurende die Victoriaanse tydperk (1837–1901) geniet die eenpersoondrama – “platform performances", soos dit destyds bekend gestaan het – ongeëwenaarde kommersiële en artistieke sukses (Gentile 1989:23). Hierdie "platform performances" het die vorm van literêre voorlesings aangeneem, waarvan Charles Dickens s’n die gewildste was. Gentile (1989:24) noem Dickens die "exemplary solo performer of his century", en wel op grond van sy literêre voorlesings in Amerikaanse stede in 1867 en 1868.

Oor die sukses van hierdie voorlesings haal Gentile vir Raymund Fitzsimons (1970:15) aan wat van mening was dat die sukses daarvan berus het op die feite dat dit goed afgerond en eenvoudig was en tot alle ouderdom- en literatuurvoorkeurgroepe kon spreek (1989:24). Die Victoriaanse teatergangers het eenpersoondramas egter nie as toneelstukke beskou nie. "A solo performance, which used no costumes, no seats, a lectern and readings from favorite literature did not to their minds constitute theatre" (1989:24).

Mark Twain het in Dickens se voetspore gevolg, asook Charlotte Cushman (Gentile 1989:24). Dit is ook in hierdie tyd, rondom die vorige eeuwending, dat die sogenaamde Lyceum- en Chautauqua-bewegings van stapel geloop het. Beide is belangrik in die ontwikkelingsgeskiedenis van die eenpersoondrama as genre in Amerika. Soos Gentile (1989:25) opmerk: "The solo performers of the late 19th century benefited greatly from the development of the Lyceum and Chautauqua."

2.3.1 Die Lyceum- en Chautauqua-bewegings

Die Lyceum- en Chautauqua-organisasies het gepoog om aan Amerikaners kulturele en sedelike opvoeding te bied. Hoogaangeskrewe akademici, politieke figure en geestelikes het die land deur getoer en opvoedkundige en aansporende toesprake tydens tentvertonings gelewer. Kort hierna het enkelingkunstenaars hul "platform readings" in dieselfde kringe begin voordra (Catron 2009:6).

2.3.1.1 Die Lyceum-beweging

Die woord lyceum verwys oorspronklik na die plek in antieke Griekeland waar Aristoteles sy filosofiese gesprekke met studente gevoer het; sedertdien na enige sodanige plek van studie: "the proper name of certain places of study or instruction" (OED 2015a). Die Lyceum-beweging in Amerika was ’n vroeë vorm van georganiseerde volwassene-opleiding. Dit is deur vrywilligers en plaaslike verenigings gelei, met as oogmerk die skep van geleenthede vir mense om na debatte en lesings te luister (Gentile 1989:25).

Teen 1840 het sulke verenigings tot professionele instellings gegroei wat sprekers van buite die gemeenskappe, onder wie bekendes soos Ralph Waldo Emerson, Frederick Douglass, Henry David Thoreau, Daniel Webster en Nathaniel Hawthorne gelok het. Sodanige lesingsaalbedrywighede het tot aan die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog floreer, waarna dit ruimtes vir die optredes van die Chautauqua-beweging (wat teen die 1870's reeds op dreef sou kom) geword het.

2.3.1.2 Die Chautauqua-beweging

Hierdie beweging was gedurende die laat 19de eeu en die vroeë 20ste eeu baie gewild. Dit het as ’n religieuse opleidingsprogram vir Sondagskoolonderwysers en kerkpersoneel afgeskop, maar gou uitgebrei om ook die aanbieding van algemene opvoeding, ontspanning en gewilde vermaak in te sluit. Ná 1924 is bedrywighede egter afgeskaal, sodat net nog ’n paar programme wat simfoniekonserte, operas, dramas en lesings ingesluit het, aangebied is.

Omdat dié Amerikaanse bewegings ’n streng opvoedkundige filosofie as grondslag van hulle aanbiedings wou handhaaf, is die enkelingkunstenaars se optredes tot literêre voorlesings beperk. Dit is veral die Chautauqua-beweging wat in hulle aanbiedings die ruimte geskep het vir die eenpersoondrama om te ontwikkel (Gentile 1989:25). Die beweging het sy wortels in protestantse gemeente-aksies gehad en daarom is enige item wat op "teater" gelyk het, van die program verbied. Die éénpersoondrama/-vertoning het daarom op die Chautauqua-platforms kon gedy, "feeding the dramatic appetite of a public forbidden to attend 'real theatre', i.e. play productions" (1989:25). Suksesvolle enkelingkunstenaars, soos Helen Potter en Leland Powers, se optredes op die Chautauqua-platforms is as pionierswerk gesien en ander enkelingkunstenaars het hulle begin naboots (1989:26).

Sodoende, sê Gentile (1989:26), het die enkelingvertoning, oftewel eenpersoondrama, ’n positief eroderende invloed op die Victoriaanse onverdraagsaamheid jeens teaterwerk gehad en selfs in die Amerikaanse platteland aan gewildheid begin wen.

2.3.2 Enkele vroeg-20ste-eeuse baanbrekers van die eenpersoondrama

Teen 1920 moes die enkelingkunstenaarskap egter herontwerp/herposisioneer word; enigiets Victoriaans is as outyds en alte konvensioneel bestempel. Om hul plek in die teaterlewe te vind, moes die enkelingkunstenaars aanvaarding soek by ’n samelewing wat play production as die standaardvorm van teatervermaak aanvaar het (Gentile 1989:27). Twee belangrike enkelingkunstenaars wat hierdie brug van "platform performance" na "solo theater" begin slaan het, was Ruth Draper and Cornelia Otis Skinner. "They brought the one person show form from the Chautauqua platform into the Broadway theatre." (1989:27)

Gentile (1989:25) spreek hom soos volg uit oor Draper en Skinner se bydrae tot die ontwikkeling van die eenpersoondrama as toneelvorm:

Draper's great contribution in the history of solo performance in the United States was her ability to revive a form of public entertainment and raise it to new levels of artistry and prestige […]. Cornelia Otis Skinner began her career as a solo performer following closely in Draper's path; she soon developed original, more elaborate, complex, and dramatically-unified texts than those of her great fellow monologist. Skinner wrote of her desire to see the one-person show form accepted as a legitimate form of theatre […].

’n Ander belangrike persoon wat vanaf die 1920’s die eenpersoondrama-genre help ontwikkel het, was die Russiese dramaturg en teaterteoretikus Nikolai Evreinov. In die teatertydskrif New Theatre Quarterly skryf Alexandra Smith ’n artikel getiteld "Nikolai Evreinov and Edith Craig as mediums of modernist sensibility"(2010) waarin sy, onder andere, die rol van Evreinov in die oplewing van die monodrama (voortaan: enkelingdrama, in betreklike onderskeiding van die eenpersoondrama) bespreek. Volgens Smith (2010:203) was hy ’n meester van die enkelingdrama, het hy ’n toonaangewende rol in die "modernist movement of Russian theatre" gespeel en was hy een van die mees prominente teatervernuwers van die modernisme. Sy enkelingdramas, of "cabaret performances" soos Smith (2010:206) ook daarna verwys, is ’n vergestalting van wat hy self beskryf het as "the human being as a combination of several entities". Die enkelingdrama, soos dit beslag gekry het in Evreinov se 1911-toneelstuk The theatre of the soul (’n eerste keer in Engels opgevoer in Londen, 1915), is ’n dramatiese voorstelling van wat in die enkeling se brein plaasvind. Alles op die verhoog wat aanskou word, word uitgebeeld as weerspieëling van die protagonis se geestestoestand.

Smith (2010:206) noem Evreinov se herlewendmaking van en herbesoek aan die enkelingdrama ’n kunstenaarsreaksie ("artistic response") op die onstuimige tydperk in Rusland (die 1905-revolusie en die oorlog met Japan) waardeur ekstreme individualisme aldaar geprikkel is. Evreinov se The theatre of the soul plaas byvoorbeeld die gehoor se aandag op die innerlike drama van ’n moderne subjek (2010:214). Sy verwys na ’n artikel waarin Valerian Chudovsky in 1912 soos volg oor die Russiese kabaretklub Krivoe zerkalo1 geskryf het: "Crooked mirror (Krivoe zerkalo), which actively promoted Evreinov's plays, [is] the most representative of contemporary aesthetic trends expressing modern subjectivity and the subliminal self" (2010:206). Die moderne subjektiwiteit en die konsep van die subliminale self is twee belangrike aspekte van die eenpersoondrama en word verderaan in hierdie artikel in meer besonderhede onder die loep geneem.

Aleksandr Kugel' meen, volgens Smith (2010:206), dat die herlewendmaking van die enkelingdrama soos deur Evreinov onderneem, eintlik uit ’n hoogs pessimistiese moderne wêreldsiening voortgespruit het; een wat die ontbinding van moraliteit tot gevolg gehad en na ’n aanvaarding van die veelvuldigheid van subjektiewe waardes gelei het. Kugel' stel verder dat die oplewing van die enkelingdrama toegeskryf kan word aan ’n skielike belangstelling in die akteur se vermoë om ’n soort religieuse figuur te vertolk, "capable of sharing his/her emotional experience with the audience" (2010:206).

Vervolgens ’n blik op die invloed en impak wat die modernisme as kulturele stroming op die ontwikkeling van eenpersoondramagenre gehad het.

2.4 Die eenpersoondrama en die modernisme

Wanneer die eienskappe van die modernisme en die werk van die dramaturge wat tot die ontwikkeling van die eenpersoondrama gedurende die modernistiese tydperk bygedra het in ag geneem word, blyk dit dat die eenpersoondrama ook as ’n kenmerkende produk van die modernisme beskou kan word. Geis (1993:17) bespreek byvoorbeeld die moderne alleenspraak aan die hand van werke van dramaturge soos Henrik Ibsen, August Strindberg, Eugene O’neill en Tennessee Williams, met uiteindelike verwysing na Bertolt Brecht en Samuel Beckett se onderskeie rolle in die ontwikkeling van die eenpersoondrama. Geis (1993:21) meen dat alleensprake in hierdie dramaturge se werke die weg gebaan het vir vollengte-monoloë, oftewel eenpersoondramas.

Die begrip modernisme word, volgens Liebenberg (2013), van toepassing gemaak op enige beweging wat gedurende die eerste dekades van die 20ste eeu in Wes-Europa en Noord-Amerika in die teken van vernuwing in die literatuur gestaan het. Dié vernuwing(s) in literatuur het ’n klemverskuiwing vanaf die beskrywing van uiterlike gegewens – waarop die realisme toegespits was – na die weergee van die innerlike ervaring van die karakters self behels, dit wil sê "vanaf ’n belangstelling in die wêreld van objekte na die bewussyn wat hulle waarneem en die reaksies wat hulle ontlok" (Liebenberg 2013). Belangrik hier is die bewussynstroomtegniek (stream of consciousness-tegniek) wat by uitstek ’n modernistiese wending verteenwoordig (Liebenberg 2013). Die bewussynstroomtegniek word later in hierdie artikel in meer besonderhede bespreek, naamlik met spesifieke betrekking op die eenpersoondrama.

Geis (1993:17) meen dat daar ’n aanvanklike verwerping van die monoloogvorm in teatergeledere was, omdat tradisioneel ’n meer natuurlike dialoogvorm (as spraak tussen meer as een karakter) nagestreef is. In die latere werke van Strindberg, O’neill en Williams is egter begin om die alleenspraak ekspressionisties te benut – tipies van die modernisme, waar die geïsoleerde stem na geleentheid tot dialooguitdrukking gesoek het, maar dit selde kon vind. Volgens Geis (1993:21) weerspieël die vroeë alleensprake in Ibsen en andere se dramas ’n "modern sense of human isolation […] [of] individuals' alienation from themselves and from one another". Sy sê ook byvoorbeeld dat Ibsen se latere werke al meer op taal se vermoë om tot dramavorming en -volhouding benut te word, gegrondves was. "[T]hey rely less on physical action and more on the power of words to take over time and space. Not surprisingly, then, [Ibsen's] characters move a bit further in the direction of monologue […]" (1993:19). Andrew Kennedy, soos aangehaal deur Geis (1993:21), beskryf hierdie ontwikkeling in die genre van die eenpersoondrama as "an example of the increasing solipsism that […] accompanies the development of expressionism in modern drama".

Wallace (2006:3) voer, in soortgelyke verband, die volgende aan: "It is not until Beckett begins to explore the form in the late 1950s that its experimental potential is seriously developed." In verwante terme skryf Geis (1993:23) oor Beckett en Brecht se invloed op die eenpersoondrama, naamlik dat hulle ’n verandering gebring het in die wyse waarop ons teatermonoloog beskou – "to a greater degree than any other twentieth century dramatists". Die rede wat Geis aanvoer, is dat hierdie twee dramaturge die grondslae daargestel het vir nuwe benaderings tot die opbou van narratiewe en teaterruimtes, asook van die akteur se verhouding met die gehoor. Hierdie aspekte speel ’n bepalende rol in die skep en opvoer van eietydse eenpersoondramas.

2.5 Die faktor van ekonomiese toestande in internasionale toneelontwikkelings in die laat 1900's

In The Oxford companion to American theatre wei Bordman en Hischak (2004:581) uit oor die opbloei van teatermatig bevredigende eenpersoondramas aan die begin van die 1970's, naamlik soos beïnvloed deur ’n swak teaterekonomie en deur talentvolle akteurs se begeerte om ’n hele verhoogaand op hulle eie aan te durf. In die meeste van hierdie eenpersoondramas het, volgens Bordman en Hischak (2004:581), dramaturge hulle met die teatermatige herskepping van geskiedkundige en literêre persoonlikhede bemoei, soos die geval waar Henry Fonda in die TV-drama IBM presents Clarence Darrow Clarence Darrow as figuur vertolk het (1974), of waar Julie Harris in The belle of Amhurst (1976) die digteres Emily Dickinson speel. Sulke eenpersoondramas is deur ander persone as die genoemde toneelspelers geskryf en geregisseer, sodat die akteurs hul slegs op hul karakterrolle kon toespits.

Die skeppingsproses ten grondslag van eenpersoondramas het egter teen die 1990's begin verander. "The performer became the author and sometimes even the subject," skryf Bordman en Hischak (2004:581). Dramaturge het hul ook al meer dikwels tot die skryf van eenpersoondramas gewend, terwyl produksiehuise dit gehuisves het omdat dit geldelik voordelig en dus volhoubaar was (2004:581). Anna Deavere Smith, sterk aangeprys vir haar talle eenpersoondramas, het byvoorbeeld haar eie sodanige teaterwerke (Fires in the mirror, 1992 en Twilight: Los Angeles, 1992/1994) geskryf en opgevoer. Hierdie dramas van haar was gegrond op onderhoude wat sy met mense in die werklike lewe gevoer het, waarna sy hulle as karakters in haar vertonings vertolk het. Eric Bogosian is nog ’n voorbeeld van iemand wat ’n verskeidenheid persoonlikhede vertolk in die eenpersoondramas wat hy vir homself geskep het.

Ander enkelingakteurs, soos John Leguizamo en Charlayne Woodard, het hulself (asook familielede, bure, vriende en vyande) in outobiografiese eenpersoondramas vertolk; gebeure uit die lewens van sodanige karakters was die mees algemene onderwerp daarvan (Bordman en Hischak 2004:581). Rob Becker, Sandra Bernhard, Eve Ensler, Amy Freed, Sherry Glaser, Spalding Gray, Danny Hoch, Barry Humphries, Priscilla Lopez, Jackie Mason, Christopher Plummer, Mark Setlock, Claudia Shear, Frank Gorshin en Patrick Stewart is van die akteurs wat sukses gesmaak het as eenpersoondramatici (Bordman en Hischak 2004).

Marvin Carlson voer aan, in sy Performance: a critical introduction (1996) waarin hy poog om die begrip performance in "performance studies" te definieer, dat solo performance art en die eenpersoondrama van die 1980's en vroeë 1990's met feministiese en homofiele spelers (soos Holly Hughes, Karen Finley en Tim Miller) geassosieer kan word (Carlson 1996:127). Bonney (2000:xiv) verduidelik dat die maatskaplik-politieke bestel van die 1990's uiteindelik ruimte geskep het "for the previously marginalized, diverse voices of [...] society, and the solo [dramatic] form has tracked these developments". Die alleenspraak van die laat-20ste-eeuse teater het met ander woorde in die konteks van ’n veranderende diskoers rondom die self vorm aangeneem, meer spesifiek rondom die vraagstuk van hoe om hierdie innerlike, sielkundige toestande dan teatermatig voor te stel (Wallace 2006).

Carlson (1996:125) sê voorts van die vroeë performance art-spelers dat hulle nie soseer ’n samehangende verhaalkarakter wou skep nie, maar dat hulle strewe eerder was om ’n treffende, sigbare handelingsvoorstelling daar te stel. Hulle sou hierdie platform byvoorbeeld ook gebruik om ’n bekende geskiedkundige of politieke figuur te vergestalt, met die doel om maatskaplike kommentaar te lewer of om ’n satiriese blik op sodanige persoonlikheid te werp.

2.6 Geskiedkundige vergestaltings van die eenpersoondrama in Suid-Afrika

Die ontwikkelingsgeskiedenis van die eenpersoondrama in Afrikaans is, weens ’n gebrek aan volhoubare teater- en toneelargivering, ietwat onduidelik. In hulle artikel “South African drama and theatre heritage (part I): a map of where we find ourselves” skryf Marisa Keuris en Lida Krüger (2014) oor die ontoeganklikheid van dokumente oor Suid-Afrikaanse teaterproduksies en die uitdagings wat dié situasie vir teaternavorsing en teateropvoeding bied. Hulle spreek hulle uit oor die belangrikheid van, en die omstredenhede rondom, teaterwese-argivering: dat dokumentasie oor Suid-Afrikaanse teater tussen die laat 1980's en in meer onlangse tye nie maklik bekombaar is nie en dat daar nie ’n stelsel ingerig is om die eietydse teaterwese te argiveer nie. Om ’n kronologiese blik op die ontwikkelingsgeskiedenis van die eenpersoondrama in Suid-Afrika gewerp te kry, is derhalwe ’n uitdaging op sigself.

Miskien moet ’n mens, soos met die blik op die geskiedkundige ontwikkeling van die eenpersoondrama in internasionale verband boontoe, by die mondelinge verteltradisie begin. Die ryk verteltradisie van Suid-Afrika se inheemse bevolkingsgroepe kan as ’n goeie basis vir ’n beskouing van die ontwikkeling van die eenpersoondrama dien. Cope (1978:183) verwys immers na sodanige storievertelling as ’n "solo dramatic act". In sy artikel oor die Xhosa-verteltradisie, getiteld "Theatrical possibilities of the traditional Xhosa iintomsi: what do they offer here and now?", skryf Gay Morris (1989:98):

It has no knowledge of the fourth wall: that metaphor for the separation of communication and art which renders art meaningless and useless. It has no knowledge of a play set, a script or a pre-ordained performance; rather it reminds us to recreate the theatrical act because we enjoy it and believe in it, and to re-create meaning afresh each time.

Ook die eenpersoondrama steur sig selde aan die konvensie van die vierde muur, en bekommer sig nie oor die bestaan van ’n volledige stel of ’n daargestelde teks nie – kenmerke van die genre wat verderaan in die artikel aan verdere ondersoek onderwerp sal word. Die aard van die vroeë, mondelinge storievertelling vertoon dus raakpunte met eienskappe van die eietydse eenpersoondrama; vandaar dat ons meen dat sekere toepaslike insigte verwerf kan word wanneer hierdie manier van storievertelling ontleed word. In haar verhandeling “Storie en sprokie: ’n ondersoek na die sprokiesmotief in enkele populêre Afrikaanse romans” (1995) haal Malie Brink die skrywer van Comparative literature and African literature (Gérard 1993:1) aan: "[W]e should never forget that in the beginning was the Word. I firmly believe that the verbal art is coeval with man."

Na die mondelinge kuns van die vroeë inheemse stamme kan ook verwys word as die tradisionele mondelinge literatuur in Suid-Afrika (Oliphant 2013). Dit behels liriese, narratiewe (vertellings-) en dramatiese genres wat algemeen beoefen is deur die verskillende inheemse stamme voor die vestiging van skryf- en leesvaardighede alhier (Oliphant 2013).

Brink (1995) ondersoek onder andere die inheemse Suid-Afrikaanse sprokie binne die mondelinge tradisie van Suid-Afrika. Sy voer aan dat die wetenskaplike bestudering van mondelinge kunsvorme in Afrika met die koms van die Europese sendelinge ’n aanvang geneem het en dat storievertelling ’n inherente en bindende faktor in die kultuur van die inheemse bevolkingsgroepe van Suid-Afrika is (1995:34). Die probleem – of eerder: uitdaging – is dat baie van die vertellings buite hulle oorspronklike konteks versamel is en dat inligting oor die dramatiese uitvoerings daarvan verlore is (1995:37).

Sy skryf byvoorbeeld dat die Boesmanvertellings "formeel gestruktureerd is" en dat die "netjiese verwerking van sekere algemene episodes in sommige vertellings" opval (1995:35). Daar word ook melding gemaak van die Boesmans se skerp waarnemingsvermoë en hulle uitstekende aanvoeling vir nabootsing (1995:37). In die eietydse eenpersoondrama is dit juis hierdie waarnemingsvermoë en aanvoeling vir nabootsing wat van die akteur ’n betroubare, oortuigende storieverteller maak.

In die Sotho-gemeenskap is die sprokie gewoonlik saans rondom die vuur deur oumas aan kinders vertel. In hierdie vertellings, soos by die eenpersoondrama, is dialoog tot die minimum beperk (1995:45). Die verteller van hierdie stories was dan die skrywer én akteur – soos in die geval van baie van die eietydse Afrikaanse en internasionale eenpersoondramas.

Die geskiedenis en die benutting van die dramatiese alleenspraak bring ook insig aangaande die aard van die eenpersoondrama. Dit kan derhalwe voordelig wees om na die dramatiese alleenspraak in Afrikaans te kyk om te bepaal in watter mate vergestaltings daarvan sekere kenmerke van die eietydse eenpersoondrama beïnvloed het, al dan nie. Van Deventer (1974) se MA-verhandeling, getiteld “Die dramatiese monoloog in Afrikaans”, word hier geraadpleeg met betrekking tot die geskiedenis en die gebruik van die dramatiese alleenspraak.

Van Deventer se studie is gemoeid met die aard van die dramatiese alleenspraak teen die agtergrond van die Engelse dramatiese-alleenspraak-tradisie en kenmerke daarvan wat deur buitelandse kritici aan die dramatiese alleenspraak toegesê is; voorts geskied die tipering aan die hand van kenmerke van ’n aantal ontlede Afrikaanse dramatiese alleensprake (1974:2). Van Deventer bevind dat ongeveer driekwart deur die 20ste eeu die dramatiese alleenspraak ’n vorm is wat deur veral digters beoefen is, met C. Louis Leipoldt as een van die eerste groot beoefenaars van hierdie vorm in Afrikaans (1974:3). Dié digter se “Oom Gert vertel” is byvoorbeeld deur N.P. Van Wyk Louw as die magtigste alleenspraak in Afrikaans beskou (1974:2). Uit hierdie gegewens sou ’n mens kon aflei dat die eenpersoondrama in Afrikaans teen die laat 1960’s nog nie tot sy volle wasdom ontwikkel het nie en dat dit allermins beskou sou word as ’n vorm van dramatiese alleenspraak.

Van Deventer (1974:3) self is egter van mening dat die grootste beoefenaar van die dramatiese monoloog in Afrikaans N.P. Van Wyk Louw self was. Van Wyk Louw is volgens haar verantwoordelik vir die twee bekendste en mees grootse alleensprake in Afrikaans, te wete "Die hond van God" (1942) en "Die swart luiperd" (1942). Heelparty van die digterlike alleensprake wat deur Van Wyk Louw geskryf is, behels gesprekke met God wat, volgens Van Deventer (1974:4), in werklikheid as dramatiese alleensprake gesien behoort te word. Hierdie stelling deur Van Deventer onderstreep die geldigheid van die keuse om die eenpersoondrama Oskar en die pienk tannie in te sluit by die onderhawige studie oor dié subgenre, aangesien dit ’n drama is wat die (eensydige, oftewel apostrofiese) gesprek tussen Oskar en God uitbeeld.

Van Deventer (1974:4) maak melding van ’n hele paar Van Wyk Louw se alleensprake, asook van sy ballades, wat sy as dramatiese alleensprake sien. Volgens haar is sulke ballades almal dramatiese alleensprake omdat daar "een spreker aan die woord is wat vertel van sy gevoelens in sy huidige situasie en hoe hy tot hier gekom het". Onlangse teoretici soos Maguire (2015) en Catron (2009) se uitlatings aangaande die eenpersoondrama laat weerklink laasgenoemde stelling, en dié aspek sal in ’n volgende onderafdeling onder die loep geneem word.

In haar bespreking van die oorsprong van die dramatiese alleenspraak verwys Van Deventer (1974:5) na Irving Ribner en Harry Morris se Poetry: a critical and historical introduction (1962). Ribner en Morris (1962:331) meen dat die dramatiese alleenspraak se oorsprong by die Elizabethaanse dramaturge lê, wat die alleenspraak as hulpmiddel ontwikkel het om aan die gehoor sekere dinge bekend te maak wat nie deur handeling uitgebeeld kan word nie. Verskeie kenmerke word met die dramatiese alleenspraak verbind, maar tradisioneel is daar vier wat uitstaan: die teenwoordigheid van ’n spreker; die teenwoordigheid van ’n toehoorder; ’n voorval; en wisselwerking tussen toehoorder en spreker (1974:6). Die eenpersoondrama deel hierdie vier eienskappe met die dramatiese alleenspraak.

’n Belangrike opmerking ten opsigte van die dramatiese alleenspraak is dat elk van die vermelde monoloë ’n spesifieke punt van belang in die geskiedenis tot tema het, momente wat H. Buxton Forman as bestekopnemingsoomblikke van die “human soul” beskryf (1974:7). Dit is ’n eenvoudige benadering wat behels dat ruimte geskep word vir die menslike siel om namens sigself te praat en dat alles gesê moet kan word, byvoorbeeld betreffende die omstandighede wat bygedra het tot die uiteindelike ontwikkeling van die siel (1974:7). Ander kritici het ’n meer wetenskaplike benadering tot die indeling van die dramatiese alleenspraak as genre gehad (1974:7).

Laasgenoemde indeling behels die vasstelling van meer besondere kenmerke, soos dat elke dramatiese alleenspraak die volgende elemente betrek: die spreker, die gehoor, die gebeurtenis, die wisselwerking tussen die spreker en die gehoor, die openbaring van die karakter, die dramatiese handeling en handeling wat in die hede afspeel (1974:7). Drie verdere kenmerkende eienskappe van die tradisionele alleenspraak word deur Abrams (1971:43) vermeld: ’n enkele persoon is aan die woord binne ’n besondere situasie en op ’n kritieke oomblik;2 die persoon spreek ’n ander persoon of persone aan, maar ons weet slegs via die diskoers van die dramatiese spreker van die tweede persoon se teenwoordigheid en wat hy/sy sê of doen; die dramatiese alleenspraak word só georganiseer dat die klem op die temperament en karakter van die dramatiese spreker val en dat hy sy karakter, onbewustelik, self in sy woorde openbaar.

Hierdie kenmerke van die dramatiese alleenspraak is eweneens in die eenpersoondrama terug te vind.

’n Laaste aspek van die dramatiese-alleenspraak-vorm wat veral betrekking het op die onderhawige studie, is dit wat die kritikus Hair bevind het rondom die dramatiese alleenspraak. Hair (soos aangehaal deur Van Deventer 1974:10) meen dat daar eienskappe van sowel die verhalende en dramatiese as die liriese modusse binne die dramatiese alleenspraak gekombineer word. Hy verduidelik dat die narratief die gegewens van die storie weergee, terwyl die vertelmodus self dramaties van aard is – hierdeur word die storiefeite tot lewe geroep en word simpatie by die leser gewek. Die liriese aspek, daarenteen, betref die oordrag van "something of mine" soos deur die digter: ’n inslag wat die gehoor in staat stel om te verstaan wat aan die gang is, asook om ’n oordeel oor die karakter(s) te vel.

Hair se navorsing (soos deur Van Deventer weergegee) is nie net gerig op die vorm van die dramatiese alleenspraak nie, maar ook op die spreker van die dramatiese alleenspraak (Van Deventer 1974:14). Daar is sekere kenmerke wat algemeen by laasgenoemde in die dramatiese-alleenspraak-verband voorkom. Die spreker verwys byvoorbeeld deurentyd na hom- of haarself as "ek", en in die besitlike vorm dus na "myne" of "my". Ander kenmerke is die betrokkenheid van die spreker by die verhaal wat hy of sy vertel; dat die spreker dikwels alleen en eensaam is; ’n sekere lewensmoegheid wat by die spreker te bespeur is; buitengewone emosies wat beleef word; ’n onmoontlike saak wat deur die dramatiese spreker voorgestaan word; hy of sy wat skuld en ’n morele aandeel aan die eie toestand het; simpatie wat gewek word en ’n uitstel van morele oordeel wat geskied; bewondering vir die spreker en kennis van die dramatiese spreker wat gewek word (1974:16–26).

Volgens Van Deventer (1974:28) word kenmerke van die verhaalgenre in die dramatiese alleenspraak aangetref, en sy bespreek kortliks die verhaalverloop van alleensprake wat deur C. Louis Leipoldt en D.J. Opperman geskryf is. Sy noem dat die besondere kenmerke nie genrevereistes is nie, maar bloot ooreenstem met wat dikwels in dramatiese alleensprake aangetref word.

Die verhaalkenmerke wat volgens Van Deventer (1974:28–36) in die dramatiese alleenspraak aangetref word, behels

i. ’n geskiedkundige gebeurtenis (byvoorbeeld ’n belangrike moment in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, soos die Tweede Vryheidsoorlog)

ii. kontraswerking tussen twee tydperke (twee geskiedkundige tydperke of twee botsende beskawinggesigspunte wat teenoor mekaar gestel word), met ’n spreker wat dikwels ’n "oorgangsfiguur […] [is] wat die onrus van ’n hele tyd in [hom] dra" (1974:30)

iii. gewelddadigheid as motief

iv. ’n emosionele betoog (die spreker deel nie net feitlikhede mee nie, maar probeer ook die gehoor emosioneel tot ’n bepaalde stellinginname oorhaal)

v. ’n aanskoulike aanbod (die herbelewing van ’n ervaring wat dikwels op ’n baie sigbare manier aangebied word en die verteller wat poog om die karakters waarvan hy vertel, voor die leser se oog tot lewe te roep)

vi. ’n heftige aanhef

vii. ’n sikliese verloop (by talle dramatiese alleensprake ervaar die leser aan die einde van die spreker se betoog dat hulle weer aan die begin daarvan staan).

Dit is dus duidelik dat eienskappe van die verhalende, dramatiese en liriese modusse binne die dramatiese alleenspraak gekombineer word – een van die vernaamste ooreenkomste tussen die dramatiese alleenspraak en die eenpersoondrama.

Dit alles beteken egter nie dat die Afrikaanse eenpersoondrama sy ontstaan óf ontwikkeling uitsluitlik aan die nalatenskap van die dramatiese alleenspraak of van die mondelinge verteltradisies van inheemse bevolkingsgroepe te danke het nie. Die Afrikaanse teaterwese is oor die jare heen deur veral Europese teatertendense beïnvloed. ’n Sterker argument sou uitgemaak kon word dat die invloed wat die kabaretbeoefening op die ontwikkeling van die Afrikaanse eenpersoondrama gehad het, belangriker is as dié van die inheemse verteltradisies of die dramatiese alleenspraak; eweso die aanbieding van ’n hele rits Engelse eenpersoondramas in Suid-Afrika in die 1980's – soos hierna aangevoer sal word.

2.7 Die Afrikaanse eenpersoondrama van die 1980's en die invloed van kabaret en die Suid-Afrikaanse Engelstalige eenpersoondrama daarop

Dit is bekend dat die onstuimige politieke omstandighede in Suid-Afrika in die 1980's tot verskeie vorme van protesteater aanleiding gegee het. Volgens Nel (2011:32) is ook kabaret as protesmeganisme teen die destydse regering ingespan. Dit verteenwoordig ’n situasie soortgelyk aan toe Evreinov die herlewing en herbesoek van die enkelingdrama as artistieke reaksie op die voorheen vermelde onstuimige tydperk in die Russiese geskiedenis aangemoedig het. Daarby herinner dit aan hoe Suid-Afrikaanse Engelstalige dramaturge die eenpersoondrama as platform vir die beoefening van vryheid van spraak en kreatiewe uitdrukking gebruik het. Die Afrikaanse kabaret én die Suid-Afrikaanse Engelse eenpersoondrama het die feministiese slagspreuk van die 1970's, naamlik dat "the personal is political", in die 1980’s laat weerklink.

Nel (2011:54) noem dat die eenpersoondrama ’n teatervorm verwant aan die kabaretgenre is en dat daar, net soos met die ontwikkelingsgeskiedenis van die eenpersoondrama, nie ’n definitiewe oomblik, plek of persoon aan te dui is as oorsprong van die oplewing in kabaretuitvoerings in Suid-Afrika nie (sien ook Van der Merwe 2010:48). Daar word wel beweer dat Hennie Aucamp, wat as die vader van kabaret in Afrikaans beskou word, se Met permissie gesê van 1980 moontlik die eerste Suid-Afrikaans-geskepte kabaretstuk was (Nel 2011:36).

Die bekendste Afrikaanse kabarettiste van die 1980's was onder andere Nataniël, Casper de Vries, André Letoit, Amanda Strydom, Johannes Kerkorrel, Pieter Dirk-Uys en Marion Holm. Daar het egter terselfdertyd onsekerheid in die beroepsteaterlewe geheers en kunstenaars wat by kabaretuitvoerings betrokke was, moes hul brood en botter elders as binne die strukture van die provinsiale kunsterade van destyds verdien. Onder meer Holm, Nataniël en De Vries het dus eenpersoonvertonings of sketskomedies as loopbaanuitings ingespan (Nel 2011:46).

Volgens Nel (2011:65) is die onderskeidende kenmerke van die eenpersoonkomedie as genre moeilik om vas te pen, selfs in groter mate as dié van kabaret- en skerpskertsvertonings. Sy bespreek die eenpersoonkomedie byvoorbeeld as ’n uitingsvorm van sosiale kommentaar en noem dat sodanige uiting moontlik ook die gewildste inslag van die kabaretgenre is (2011:56). Sy sê verder dat die aanwending van satire, tesame met ironie en parodie, van die mees wesenlike fasette van laasgenoemde genre is (2011:57). Dit stem ooreen met wat as die aard van die internasionale eenpersoondrama van die 1980's en vroeë 1990's bestempel word, naamlik die opvallendheid daarin van sosiale kommentaar gerig op bekende geskiedkundige of politieke figure, met as doelwit ’n satiriese blik op die bepaalde persoonlikheid (Carlson 1996:125).

Heidi Edeling, Casper de Vries en Bill Flynn (ook Paul Slabolepszy en Pieter-Dirk Uys) is voorbeelde van kunstenaars wat dikwels die platform van die eenpersoonkomedie gebruik het om kommentaar te lewer op kwessies wat hulle gekwel het. Hierdie kwessies het dikwels ’n universele reikwydte gehad, sodat ? met die gevolg dat? [“sodat” druk doel/voor uit; die ander frase gevolg)gehore daarmee kon identifiseer. Uit die pen van Edeling het in 1992 die tweetalige So warm soos sneeu/Pure as the driven slush verskyn, ’n kabaretwerk waarin sy ’n soort geslagsoorlogvoering vertolk het. Haar eenvrouvertoning is ’n aanklag teen die uitbuiting van vroue in die media en elders, asook teen die enkelingskap wat dikwels vroue se lot is. Casper de Vries het in sy vertoning Small talks eweneens op ’n satiriese en spottende manier na mense en dinge gekyk (Anoniem1993:2), terwyl Bill Flynn aan die einde van die 1980's met The Colossus of Brooklyn (1989) "die menslike gees" en die liefde as temas in die kollig geplaas het (Joubert 1989:16).

Die kabaretoplewing het dus aan baie kunstenaars die geleentheid gebied om eenpersoonvertonings op te voer; die Afrikaanse eenpersoondrama was egter nog glad nie gewild nie. Suid-Afrikaanse Engelstalige eenpersoondrama-opvoerings was, daarenteen, taamlik suksesvol en gewild. Van die vernaamste dramaturge wat hulle in die laat 1980's en vroeë 1990's met hierdie teatervorm besig gehou het, is Irene Stephanou en Ismail Mahomed.

Mahomed (1999:55) beskryf sy teaterpraktyk as "issue theatre" waarin met sosiale kwessies soos ras, seksualiteit en geslags(on)gelykheid bemoeienis gemaak word en wat gemaklik in enige soort ruimte opgevoer kan word. In 1987 begin hy sy eie teateropleidingsentrum, Creative Arts Workshop (CAW), en in hierdie tyd ontdek hy die eenpersoondramagenre (met lae produksiekoste en die voordeel dat benodigdhede maklik is om te vervoer) as ’n ideale manier om groot getalle mense te bereik (1999:54). Hy het in 1995 die Just Solo-toneelfees in Johannesburg geloods – ’n fees ter bevordering van sy vooruitsig vir eenpersoondrama (1999:55).

Irene Stephanou het drie gewilde eenpersoondramas geskryf en vertolk, naamlik Stukkie jols (1984), Is every sperm sacred? (1991) en Meze, Mira and makeup (1997).

Mahomed (2015) skryf soos volg oor Stephanou se terugkeer na die verhoog in haar jongste eenpersoondrama, Searching for somebody:

During the state of emergency years in the early '80s, and at a time when the right to freedom of expression and the right of creative expression were not a core part of the South African value system, Stephanou's work at the National Arts Festival gave the Fringe a political gravitas that was fearless, uncompromising and challenging [...].

Daar is talle fasette van die eietydse Afrikaanse eenpersoondrama wat herinner aan dié van die kabaret- en die Suid-Afrikaanse Engelstalige eenpersoondramawerk van die 1980's. Hierdie fasette word verderaan in die artikel meer uitgebreid bespreek; belangrik is om eers die uitwerking wat die veranderende maatskaplik-politieke omstandighede in Suid-Afrika op die eenpersoondrama gehad het, te verreken.

2.8 Die eenpersoondrama en die veranderende maatskaplik-politieke omstandighede van die afgelope kwarteeu

[P]ost-apartheid plays address a broad variety of social realities and employ a wider range of theatrical styles. (Graver 1999)

Een van die redes wat Bonney (2001:xiv) vir die wêreldwye opbloei sedert die 1990's in die skep en opvoer van eenpersoondramas onderskei, is die "shifting from the nineteenth-century emphasis on the community to the late twentieth-century elevation and examination of the individual". In Suid-Afrika was dit veral die maatskaplik-politieke ommeswaai alhier, ná die demokratiese verkiesing in 1994, asook die algemene verandering in finansiële dinamiek rondom die kunste en in die kultuursektor, wat ’n invloed op die opbloei van die eenpersoondrama gehad het. Daar kan twee redes aangevoer word vir waarom die Afrikaanse eenpersoondrama in hierdie tydperk gewild geraak het: dit was ’n uitlaatklep vir die soeke na ’n postapartheid identiteit, en die transformasie van die staatsgesubsidieerde uitvoerendekunsterade het teaterlui gedwing om finansieel meer beskeie teatervorme te oorweeg.

In sy proefskrif, “Theatre in a new democracy: Some major trends in South African theatre from 1994 to 2003”, bied Van Heerden (2008) ’n omvattende oorsig van die Suid-Afrikaanse teaterwese van 1994 tot 2003 – of, soos hy dit stel, "a selected inventory and documentation of theatrical events and performances in South Africa in the first decade of democracy" (Van Heerden 2008:12). Die teks is derhalwe ’n bruikbare bron in die soeke na die oorspronge en ontwikkeling van die kontemporêre eenpersoondrama op nasionale vlak. Hoewel sy hoofaandag nie die Afrikaanse teater is nie, nog minder die Afrikaanse eenpersoondrama, is daar tog verwysings na die verwikkelings rondom die Suid-Afrikaanse teaterwese wat vir ons artikel ter sake is. Die vernaamste hiervan word in ’n hoofstuk oor "post-anti-apartheid theatre" in Van Heerden se proefskrif vervat.

In dié hoofstuk bespreek hy ’n tendens/genre wat hy met die frase "Let me tell you my story ..." aandui. Hy lei die bespreking in (2008:125) deur te sê dat die kuns van storievertel eeue lank al ’n belangrike deel uitmaak van die Afrika-kultuur en die inheemse sosiale tradisies. Hy meen dat hierdie tradisie van storievertel in die 20ste eeu in die dramas van prominente teatermakers soos Barney Simon en Mbongeni Ngema neerslag gevind het, wat dikwels die drama rondom ’n groep individue gebou het, "each finding and developing a character and his/her story from the everyday environment surrounding them".

Hy skryf verder dat elke Suid-Afrikaanse individu, of groepvormende individue, ná 1994 met ’n nuwe, ongedefinieerde maatskaplik-politieke omgewing gekonfronteer is – ’n omgewing waarbinne hulle hulself, hulle plek en hulle rol opnuut moes vind. Hierdie uitdaging, meen hy, is aanvanklik deur teatermakers aangepak by wyse van "telling their story or the story of the group they were a member of: 'This is who I am and this is my story', or 'This is who we are, and this is our story'" (2008:125).

Die meeste van hierdie produksies het ’n biografiese of outobiografiese inslag gehad, terwyl ’n minderheid daarvan fiksionele narratiewe behels het wat wel op feite gebaseer is, of wat geheel fiksioneel was. Van Heerden (2008:125) noem dat hierdie storievertellings tematiese elemente van selfondersoek bevat het, asook van selfbeskikking en -bevestiging; ’n tematiek van identiteit en identiteitsvorming is oorheersend in al hierdie storievertellings. Sommige resensente was egter nie lowend oor die tendense in hierdie eenpersoondramas nie: "Some reviewers [...] started questioning the theatrical value of all this personal storytelling on theatre stages [...]" (2008:127).

In die hieropvolgende afdeling sal in meer besonderhede gekyk word na identiteitsvorming as uitvloeisel van storievertelling in die eenpersoondrama.

Van Heerden (2008:129, 130) gaan egter voort deur te redeneer dat nie alle outobiografiese eenpersoondramas in hierdie tyd hulle met Suid-Afrika se "donker kant" bemoei het nie. Hy maak in die besonder melding van Irene Stephanou se werk, waarin van haar grootwordjare in Roodepoort as deel van ’n Griekse huishouding vertel word. Haar dramatiese karakter, ’n Suid-Afrikaanse Griekse vrou, moes nie net met haar eie kulturele identiteit binne ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap vrede maak nie, maar ook binne ’n nuwe Suid-Afrika (2008:130). Die eenpersoondrama was dus ’n platform waarop iemand vanuit ’n minderheidsgroep, soos dié waartoe Stephanou behoort het, ’n stem kon gee aan ander uit hierdie groep om sodoende ’n kollektiewe identiteit te help bou – ’n definitiewe tematiese kenmerk van die eenpersoondrama, soos waaroor daar in die hieropvolgende afdeling uitgewei word.

Die Suid-Afrikaanse eenpersoondramas van die 1990's het in die eerste tien jaar van demokrasie dieselfde tematiekneiging geopenbaar as wat twee dekades vroeër in internasionale verband te bespeur was, naamlik die verhoogherskepping van geskiedkundige en literêre persoonlikhede. Van Heerden (2008:13) verduidelik die wesenlike dryfveer van dié tendens van biografiese-eenpersoondramatiek as synde ’n strewe na "self-identification and self-determination through focus on well-known actual individuals from the past, each personifying a specific social or cultural group". Die Suid-Afrikaanse gehore het persoonlikhede nodig gehad om namens hulle te praat, úit te praat, en die onus het hier op die akteur-as-storieverteller geval.

Wat die opbloei van die Afrikaanse eenpersoondramakuns betref, was dit veral die breë verandering in die finansiële dinamiek rondom die kunste en ’n "fear amongst many Afrikaners that their cultural identity and even their language was in danger of becoming extinct" (2008:55) wat ten grondslag daarvan (soos óók van die skepping en heropvoering van Afrikaanse veelkarakterdramas) gelê het. Hierdie vrees om die Afrikaner-identiteit het ook gelei tot die stigting/organisering van verskeie Afrikaanse kunstefeeste, onder andere die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en die Aardklop Nasionale Kunstefees (Aardklop). Dit is veral by hierdie feeste dat onafhanklike produksiehuise, akteurs en dramaturge hulle eenpersoondramas die teaterlig laat sien het. Martie Retief-Meiring, destydse joernalis by Die Burger, spreek haar (in Anoniem 2009) hierby uit oor die toenemende finansiële druk waaraan in die besonder kunstefeeste onderhewig is. Sy noem ook dat dié toedrag van sake die toekoms van tradisionele veelkarakterdramas in die gedrang kan bring.

Ook Van Heerden (2008:67) maak gewag van die "[e]volution of the 'festival play'" – ’n afdeling in sy proefskrif wat deur ’n bespreking van die Suid-Afrikaanse kunstefeesverskynsel voorafgegaan word. In hierdie afdeling sê die skrywer die volgende oor ’n tipiese kunstefeesdrama:

The vast majority, however, of theatre productions and performances on offer, mostly at the Fringe Festival, but also on the Main Festival, would be on a much smaller scale, very often one-person shows or two-handers. These productions were typically staged by independent theatre-makers, often individuals or small companies, and clearly the scale of such productions was primarily dictated by available funding and allocated performance venues.

Die laat 1990's gaan derhalwe met ’n groei in die produksie van biografiese en outobiografiese Afrikaanse eenpersoondramas gepaard; in hierdie verband word onder andere Deon Opperman, Saartjie Botha en Charles J. Fourie as dramaturge deur Van Heerden (2008:131) in sy bespreking uitgelig. Hy meen voorts dat sulke eenpersoondramas eerder verhoogsketse van prominente individue uit die verlede was – ’n verlede wat baie gou met ’n nuwe hede vervang is.

2.9 Die eietydse eenpersoondrama in Suid-Afrika

Die eenpersoondramagenre in Suid-Afrika het van kabaret- en skerpskertsvertoning- tot vollengtedramaformaat ontwikkel en is deesdae ’n baie gewilde en suksesvolle teatervorm. Die KKNK, Aardklop, die US Woordfees (Woordfees), die Nasionale Kunstefees (Grahamstadfees) en Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees (Innibos) bied jaarliks elk ’n aantal eenpersoondramas aan. Innibos 2015 het byvoorbeeld drie eenpersoondramas op sy program gehad, terwyl die KKNK se 2015-feesprogram sewe eenpersoondramas ingesluit het. Aardklop, Woordfees en die Grahamstadfees het in 2015 gesamentlik meer as 30 eenpersoondramas opgelewer.

Die Grahamstadfees het in 2013 die eerste Season of solo theatre van stapel gestuur. Hierdie afdeling van die fees is op die 2015-feeswebblad beskryf as die tuiste van produksies wat kulturele waardes, rassepolitiek en geslagsidentiteite ondersoek, maar wat ook daarop gerig kan wees om stories vertel te kry wat gegrond is op die persoonlike en politieke werklikhede van Suid-Afrikaners. Die produksies wat tydens die 2015-fees aangebied is, het byvoorbeeld ten doel gehad om die gehore en vertellers te beweeg om oor hul eietydse gemeenskap te herbesin, met die klem op die uniekheid van die enkelingkunstenaar en die persoonlike verhaal (Davies 2015:88).

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het in 2014 die eerste So Solo-toneelfees van stapel gestuur. Die teaterdirekteur van Wits meen dat dié fees die waardige rol van die enkelingkunstenaar as vaardige storieverteller help bevestig, maar ook dat die keuse vir die genre van die eenpersoondrama al meer op grond van geldelike oorwegings geskied, eerder as dat dit ’n skeppingsbesluit verteenwoordig. Volgens dié universiteit se webblad het die 2014-fees 11 eenpersoondramas die lig help sien; die dramas is juis geskep om gehore se aandag op die kunstenaar as storieverteller te rig. Die webblad brei soos volg daarop uit (Anoniem 2015b):

All 10 shows leverage the single voice in a variety of ways that include drama, performance art, autobiography, confessional poetry, stand-up comedy and old fashioned narrative. Whatever the artistic choice, the solo performer demonstrates the power of theatre at its most intimate, moving and daring; hinting at the vulnerability of the separations between playwright, actor, character and audience.

In ’n volgende afdeling word daar onder meer na hierdie verhoudingskompleks tussen skrywer, akteur, karakter en gehoor gekyk – vier komponente waarvan die besondere hantering as belangrike hoekstene in die skepping en opvoering van die genre dien.

2.10 Samevattend oor die ontwikkelingsgeskiedenis van die eenpersoondrama

Dit is kennelik moeilik om die ontstaanstyd of -oorsake van die eenpersoondrama as subgenre vas te pen of te peil. Die gebrekkige argivering van Suid-Afrikaanse dramatekste maak die taak vir ’n plaaslike navorser des te meer uitdagend. Daar is egter genoeg geskiedkundige gegewens beskikbaar wat daarop dui dat hierdie teatervorm al ’n geruime tyd beoefen word.

Dit het sedert die 1800's en 1900's vanaf enkelvoudige literêre voorlesings ontwikkel tot ’n enkelakteurteatergenre wat gebaseer is op "original, more elaborate, complex, and dramatically-unified texts" (Gentile 1989:25). As toneelverskynsel is dit sterk deur die modernisme beïnvloed, uit die konteks waarvan belangrike bydraes gelewer is deur o.a. die dramaturge Ibsen, Strindberg, O’neill, Williams, Brecht en Beckett. Die belangrikste nalatenskap van die modernisme in die 20ste-eeuse ontwikkeling van die eenpersoondrama is die verskuiwing van die dramatiserende klem vanaf tussenpersoonlike konflik en uiterlike handeling na uiting van die innerlike ervaring van uitgebeelde karakters wat plaasgevind het – met die benutting van die bewussynstroomtegniek as modernistiese teaterwending by uitstek.

Nuwe benaderings tot die opbou van verhale en tot die inrig/benutting van die teaterruimte, asook tot die akteur se verhouding met die gehoor, het hiermee gepaard gegaan. Dit was egter nie net skeppingsoorwegings deur dramaturge en beoefenaars van die subgenre wat neerslag in die ontwikkeling daarvan gevind het nie. Faktore soos (internasionale) ekonomiese toestande het die teaterbedryf geraak, asook veranderende maatskaplik-politieke omstandighede (byvoorbeeld die soeke na ’n postapartheid identiteit en die transformasie van die staatsgesubsidieerde uitvoerendekunsterade in Suid-Afrika); sulke omgewingsverskynsels het as die belangrikste prikkels vir die wending na die eenpersoondrama as teatervorm gedien.

Daar was ook verwikkelings in terme van die aard en inslag van die eenpersoondramateks, naamlik daardeur dat die enkelpersoonlikheid die onderwerp van die drama geword en die akteur as skrywer begin optree het. Die alleenspraak het met ander woorde, binne die konteks van ’n veranderende diskoers rondom die self, sentraal begin staan, en daar is gesoek na wyses om hierdie innerlike, sielkundige toestande voor te stel.

Wat betref die ontwikkeling van die eenpersoondrama in veral die Suid-Afrikaanse konteks, is opgemerk dat die mondelinge verteltradisie wat by inheemse bevolkingsgroepe bestaan, tot ’n goeie aanknopingspunt by die bespreking daarvan dien. Aspekte van die aard van die vroeë, mondelinge storievertelling stem meermale ooreen met eienskappe van die eietydse eenpersoondrama, soos blyk uit ’n vergelyking van laasgenoemde met die iintomsi-tradisie waarbinne inagneming van ’n vierde-muur-konvensie ontbreek, of met die mondelinge literatuur wat algemeen binne die verskillende inheemse kulture beoefen is en waar vermenging van die liriese, narratiewe en dramatiese modusse algemeen is. Ook die dramatiese alleenspraak as digsoort soos dit in die Afrikaanse poësiegeskiedenis neerslag gevind het, kan gesien word as ’n bron waaruit die eietydse eenpersoondrama gevoed is.

Daar was in werklikheid eers vanaf die 1980's van ’n opbloei in die Suid-Afrikaanse eenpersoondramatradisie sprake – hoofsaaklik te danke aan kabaretbeoefening wat op die voorgrond begin tree het, en van ’n ten tonele voering van Engelse eenpersoondramas. Sedertdien geniet die eenpersoondrama as genre (of vorm) ’n groeiende voorkeur by teaterlui, veral omdat dit geldelik makliker haalbaar en volhoubaar is. Ons is dit met die Wits-teaterdireksie (soos hier bo aangehaal) eens dat die eenpersoondrama-oplewing steeds sterker op ekonomiese besluite berus, eerder as op kunsoorwegings.

Die verwikkeldheid van dié teatervorm moet egter nie onderskat word nie. Dit blyk uit die besondere kenmerke daarvan, wat in die volgende onderafdelings in die kollig gestel word.

 

3. Onderskeidende kenmerke van die eenpersoondrama as subgenre

3.1 Terminologie aangaande en definisies van die subgenre

Mark Berninger (in Wallace 2006:3) maak tereg die stelling dat "one of the difficulties that dogs any discussion of theatre monologues is the very looseness of the term". Die woord eenpersoondrama verskyn byvoorbeeld nie in die WAT of enige ander Afrikaanse verklarende woordeboek nie, maar eenman word in die WAT wel soos volg omskryf: "van een man of een persoon; uit een man of een persoon bestaande; met slegs een man of een persoon daaraan verbonde" (Schoonees 1972). Die woord monodrama word in die Oxford English Dictionary (OED 2015b) verklaar as ’n "dramatic piece for a single performer, originally with spoken text and musical accompaniment. […] Also: the genre of drama of this type."

Wat die saak voorts bemoeilik, is dat die term eenpersoondrama afwisselend gebruik word met sinonieme soos eenmanstuk, eenvroustuk, eenpersoon(s)opvoering, eenpersoonvertoning, eenmanvertoning, eenvrouvertoning, monoloogdrama, monodrama, solostuk, solo-opvoering – en so kan die lys aangevul word. Hoewel hierdie terme afwisselend gebruik word, kom die betekenisimplikasie telkens hierop neer: daar is ’n (enkele) persoon wat vertel (en toneelspeel) en ’n gehoor wat (kyk en) luister.

In die vorige afdeling is daar reeds na die (Griekse) oorsprong van die woord monoloog (oftewel: alleenspraak) verwys. Conradie (2013) beskryf dit as ’n rede van ’n sekere lengte wat deur een persoon uitgespreek word. Hy verwys egter hier na die alleenspraak in die veelkarakterdrama en nie na ’n vollengte-eenpersoondrama nie. Hierdie veelkarakterdramas se gebruik van alleensprake berus op die konvensie dat karakters in ’n drama hardop dink, anders as mense in die werklike lewe (Conradie 2013).

Die alleenspraakdrama word deur Wallace (2006:4) getipeer as ’n reeks toesprake deur ’n enkelspreker waardeur óf ’n aanwesige gehoor óf ’n afwesige karakter/hoorder aangespreek word. Young (2012) verwys weer na die eenpersoondrama as "monodrama" of "platform performances"; Julie Harris (in Young 2012) noem dit op ontwykende wyse bloot ’n vorm van drama en Teachout (2012), op soortgelyke wyse, ’n dramagenre. Howell (1979:152) maak weer gewag van die "solo drama of interior talk" en Geis (1993:12) van ’n "dramatic expression of interiority" in hierdie verband. Ons lei uit dit alles af dat die eenpersoondrama primêr gekenmerk word deur die innerlike relaas van een persoon, voor ’n toehoorder(groep), wat daarin sentraal staan. Dit is in terme hiervan dat al die subgenrekenmerke wat hierna onder bespreking kom, beskou moet word.

3.2 Algemene kenmerke van die eenpersoondrama

Solo performers must be good actors and they should be great storytellers. More often than not, they are neither. (Young 2012)

’n Kritiese verkenning van bestaande sekondêre literatuur oor die eenpersoondrama is deur ons onderneem in ’n poging om die onderskeidende kenmerke van die eenpersoondrama as dramasubgenre vas te stel. Oor subgenre-onderskeidende kenmerke van die eenpersoondrama is, na ons kon vasstel, nog niks in Afrikaans opgeteken nie. Buitelandse navorsers, daarenteen, het al heelwat daaroor geskryf. Daar word onder andere gereeld verwys na die bepalende rol van die gehoor, die optrede van die kunstenaar as storieverteller, die (afwesigheid van die) vierde-muur-konvensie en na taalgebruiksaspekte (veral die vergestalting van laasgenoemde in die benutting van bewussynstroomtegniek).

Die bestaande definisies van die eenpersoondrama, soos verder op bondig uiteengesit, laat nie reg geskied aan die kleurryke aard van dié subgenre nie. Soos in hierdie afdeling aangetoon sal word, is die eenpersoondramaverskynsel ingewikkeld en fasetryk; daarom is dit van waarde om dieper te delf in die aard en voorkoms daarvan. Belangrik is die werk van teaterkritici wat hulle al oor die eenpersoondrama uitgelaat het, want hulle waarnemings en uitsprake verskaf ’n gevarieerde beeld van wat as eenpersoondramas beskou word.

Soos Smith (2010:206) aangaande die denke van Nikolai Evreinov aangedui het (kyk 2.3.2 hier bo), het dié Russiese dramaturg sy enkelingdramastukke as "a dramatic representation of what passes in an individual mind" beskryf. Die eenpersoondrama is in terme hiervan meer as net ’n vertelling deur ’n enkelverteller op die verhoog – dit is ook ’n voorstelling van die deur ’n enkele akteur vertolkte karakter(s) se geestestoestand. Geis (1993:27) meen die eenpersoondrama wil die terrein van alleen- of privaatspraak ("private speech") verken, ter wille van die uiteindelike (oor-)vertelling en dramatisering daarvan in teaterverband.

Die eenpersoondrama is ’n subjektiewe en persoonlike uitdrukking van die lewensituasie waarvoor die uitgebeelde karakter te staan gekom het, en van wat hy/sy met sy/haar lewe wil doen. Howell (1979:153) praat van "personalism" in hierdie verband. Volgens Conradie (2013) is die vernaamste funksie van die alleenspraak die wyse waarop dit tot karakteruitbeelding bydra, naamlik deurdat die karakter sy/haar diepste gevoelens, dit wat hy/sy andersins nie altyd aan ander blootlê nie, openbaar. Pauw (1994:139) huldig ’n soortgelyke siening en verduidelik dat die alleenspraak – volgens hom ’n soort Allwissenschaft – op ’n dramatiese wyse die konflik en wroeging binne die gemoed van ’n persoon openbaar. Van daar dat Pauw (1994:139) in hierdie verband praat van die weergawe van ’n persoon se "verborge gedagtes".

In sy bespreking van alleensprake in veelkarakterdramas vermeld Conradie (2013) twee verdere belangrike dinge: dat hierdie alleensprake kensketsend is van die selfbelydende karakters, wat nie die wil of die vermoë het om met ander mense te kommunikeer nie; en dat die taal van hierdie alleensprake anders as “gewone” dialoog is, deurdat "die gedagtes [...] nie mooi logies gerangskik [is] nie, maar volg op mekaar soos hulle spontaan deur assosiasies opgeroep word". Catron (2009:14) meen dat ’n dramaturg van eenpersoondramas veral drie dinge diepgaande aanleer: hoe om ’n dinamiese karakter te skep; hoe om taal in tekste vir die verhoog aan te wend; en hoe om ’n storie met ’n begin, middel en einde op te bou. Vir Catron (2009:14) raak eenpersoondramas aan die hart van teater, "boiled down to its three most vital essentials – script, actor, audience".

Dit is opvallend hoe dikwels daar in die internasionale literatuur in verband met die eenpersoondrama (en die alleenspraak) van "script, actor, audience" gewag gemaak word. Die skeppingselement wat die sterkste uitgelig word, dus die belangrikste hiervan, is die taalhantering in die eenpersoondrama; daar word egter ook op storievertelling, die akteur (as karaktervergestalter en as spreekbuis vir identiteitsuiting), die gehoor en die stelinkleding klem gelê.

Vervolgens word die subgenre-spesifieke vergestalting van hierdie vyf elemente in meer besonderhede ondersoek en gaan ’n aantal suksesvolle Afrikaanse eenpersoondramas aan hierdie kenmerkomskrywings getoets word.

3.2.1 Karakter(uit)beelding in die eenpersoondrama

[T]he inner truth of the character should be illuminated. (Catron 2009:25)

Volgens Catron (2009:25) is karakter en karakterisering die wesenlike van die eenpersoondrama as subgenre en is die betrokke karakter iemand wat ’n ernstige en belangrike emosionele situasie in die gesig staar (2009:27) – iets so belangrik dat die karakter of verteller nie anders kan as om die situasie in die gesig te moet staar en dit te moet openbaar nie. Die karaktervertolker van die eenpersoondrama beeld gevoels- en geesteswaarhede uit, wat gewoonlik diep, persoonlike geheime en oortuigings behels (2009:24).

In Wessel Pretorius se ONT- (2009) betref die verteller se belangrike en ernstige gevoelstoestand byvoorbeeld die ontnugtering van grootword en volwassenewording én sy oorweldigende emosionele reaksie daarop. Die karakter se reaksie behels dat hy hom (van homself) wil "ont-neem, ont-snap, ont-boei, ont-pa, ont-jou"; hy verwys na sy nuutgevonde vryheid as ’n soort "parool"-toestand (2009:14). In HOL van Nicole Hanekom (2014) gaan dit om die uitgebeelde Liesbet-figuur se liggaamlike en geestelike voorbereiding op ’n langverwagte herontmoeting met ’n oudpolisieman wat tronkstraf moes uitdien weens ’n misdaad wat Liesbet begaan het. Die Oskar-kindfiguur in Eric-Emmanuel Schmitt se Oskar en die pienk tannie (2013, soos vertaal deur Naòmi Morgan) maak weer ’n ernstige emosionele krisis deur weens die nuus dat hy slegs twaalf dae oor het om te lewe.

In die eenpersoondrama vind ons wat Conradie (1998:74–5) as "implisiete karakterisering" bestempel, dit wil sê karakterisering deur wat die karakter self sê en doen. Howell (1979) praat – soos al aangetoon – in Solo in Soho: the performer alone van “personalism” in hierdie verband: ’n verskynsel wat Wojtyła (1993:214) omskryf as "everything in the human being that is internal, whereby each human being is an eyewitness of its own self". Soos reeds genoem, bied die eenpersoondrama ’n unieke platform om die innerlike ervaringe van ’n karakter bloot te lê; en so ’n karakter is die ooggetuie én verteller van hierdie ervaringe. Vir Catron (2009:98) is die eenpersoondrama-karakter vry om private waarhede uit te druk, omdat daar "niemand" anders in sy of haar wêreld voorkom nie.

So ’n dubbelslagkarakter is egter dikwels ’n versplinterde self. Geis (1993:50) beskryf dié meervoudig geaarde karakter van die eenpersoondrama as beliggamend van ’n reeks identiteite eerder as van ’n enkelvoudige sodanige konstruksie. Dit blyk waar te wees van byvoorbeeld Pretorius se genoemde drama. Die verteller-rolspeler daarin vertolk vier karakters, naamlik sy ma, pa, ouer broer en homself (as karakter). In HOL (Hanekom 2014) neem die verteller ook die rol aan van Anna, "die stem van anorexia" (2014:36); dan is dit nie meer net Liesbet wat praat nie, maar al die anoreksiese "Annas" van die wêreld.

Wallace (2006:8) beweer dat hedendaagse eenpersoondramas met die (post)moderne toestand van die "self" worstel. Die eenpersoondrama toon selde die self as ’n voltooide wese. In haar eenpersoondrama voer Hanekom (2014) byvoorbeeld ’n vrou ten tonele wat nóg nie maer of leeg genoeg is nie. Die karakter se diepste gevoelens, wat sy nie hardop aan haar medemens openbaar nie, maar aan die gehoor meedeel deur middel van haar gedagtestroom, laat blyk dat sy nog nooit slordig was nie (2014:44); dat haar gemoed ’n soort onveilige plek is, ’n "ground zero" waar die ontploffing gebeur en mense inmekaartuimel (2014:46); en dat sy haar nog nooit as iemand goed genoeg geag het nie (2014:49). Oor dié karakter se private waarhede skryf Retief-Meiring (2014) soos volg in haar resensie oor ’n opvoering van die stuk: "Hanekom is meesterlik in die ontwikkeling van die oppervlakkige skyn tot die kernwaarheid [...]." Ons leer ook meer oor die karakter wanneer sy soos volg na haarself in die derde persoon verwys: "Wat sê dit oor my? Ydel, ydel Liesbet, kyk al weer te veel in die spieël. Wens sy kan haar beendere sien" (Hanekom 2014:12).

Bostaande kom ooreen met Wallace (2006:16) se verduideliking dat die eenpersoondrama daarop gemik is om die subjek se self in die middelpunt van die vertoning te plaas. Hierdie self is ook nie enkelvoudig nie, maar eerder "self-alienated, multifaceted, unfinished, split, political, gendered" (2006:16) en, bowenal, proaktief en uitdagend. Belangrik hier is die verwysing na die self as polities bepaald, omdat dit ’n aspek is wat in die internasionale literatuur in verband met die eenpersoondrama beklemtoon word.

Dat die "personal as political" gesien moet word, is ’n aandrang wat sterk uit veral die feministiese geledere van die 1970's gespreek het, ook in die teaterwêreld. Dié slagspreuk is veral van toepassing op Hanekom se eenpersoondrama. Volgens Sandahl (2003:29) wil die karakter in die eenpersoondrama die gehoorlede van sy/haar persoonlike ervarings bewus maak, om hulle moontlik uiteindelik tot politieke of maatskaplike optrede te laat oorgaan. Die maatskaplike kritiek in HOL, oftewel kritiek op ’n samelewing waaraan die karakter help bou (die Suid-Afrikaanse as weerspieëling van die oppervlakkig materialistiese, eietydse internasionale wêreld), word in uitsprake soos die volgende geïmpliseer: "Dinge moet op die oppervlak normaal lyk. Dit laat almal ’n bietjie beter voel"; asook: "Wie sien ek gereelder as familie? Lady Gaga?" (Hanekom 2014:20). Die karakter spreek haar uit oor ’n samelewing wat verslaaf geraak het aan oppervlakkige vermaak en selfbeheptheid.

Die karakter, of die self, in die eenpersoondrama is juis dikwels verteenwoordigend van ’n sekere groep, gemeenskap of kultuur – so word geredeneer. Sodoende word die enkelkarakter as verteenwoordigend van ’n kollektiewe identiteit uitgebou, iemand wat die sedelike, wysgerige, tegnologiese, geestelike, mitologiese, geskiedkundige en natuurwetenskaplike kennis van sy of haar groep vergestalt (Gérard 1971:51). Die eenpersoondrama se verteller-karakter wil namens hierdie groep, gewoonlik ’n voorheen benadeelde of opsygestote een, praat; wil die storie van ’n "ons" vertel. Sulke vertellende karakters word sodoende die "authentic representatives" van die gemeenskapsgroepe waartoe hulle behoort (Sandahl 2003:29).

Dié subgenre daag die gehoor uit om na te dink oor wie hulle binne of buite ’n gegewe groep of gemeenskap bevind; eenpersoondramakarakters "not only define their own identities […] but define and critique their communities" (Sandahl 2003:29).

3.2.2 Taalgebruik in die eenpersoondrama

[L]anguage becomes more important in a play that is stripped of other theatrical qualities. (Catron 2009:32)

Volgens Catron (2009:25) word geslaagde eenpersoondramas gekenmerk deur die feit dat hulle eintlik "dramas of language" is; dikwels staan beeldspraak en ander wyses van poëtiese taalgebruik daarin op die voorgrond. Hy beweer selfs dat die eenpersoondrama die teaterekwivalent van die poësie is (2009:32). Die taalaanwending in eenpersoondramas is daarom digterlik van aard en herinner dikwels aan die werk van die vroeë rapsodiste, die klassieke-Griekse epiese digters. Die skryf van die eenpersoondrama is, luidens byvoorbeeld die essays in Wallace (2006:14) se Monologues, ’n prototipiese "rhapsodic form of playwriting which combines the dramatic, the epic and the lyrical mode".

Dit blyk dat die eenpersoondrama eienskappe van al drie laasgenoemde modusse, wat ook die grondslae van die drie basiese literatuurgenres vorm, kombineer. Die dramatiese modus, die onmiddellikste literatuursoort, verteenwoordig ’n verslag terwyl iets gebeur – asof dit voor ’n mens se oë afspeel in ’n ahistoriese liminale belewenis (Du Plooy 2010). Die narratiewe modus is verhalend van inslag, maar op ’n meer verwyderde manier as in die dramatiese. Laastens is daar die liriese modus, ietwat meer subjektief van inslag, waarin ’n persoonlike stemming of belewing, dikwels op belydende trant, tot uitdrukking gebring word (Grové 2013; Du Plooy 2010; Odendaal 2013). Die liriese woordkuns word derhalwe dikwels vanuit ’n ek-standpunt beoefen, dit wil sê met die uitgespelde of implisiete skepping van ’n ek-figuur (Grové 2013).

Die eenpersoondrama kan dus nie uitsluitlik onder die dramatiek as modus geplaas word nie, juis aangesien dit ook opvallende eienskappe van die epiek én liriek vertoon. Volgens Du Plooy (2010:10) het die mens dit klaarblyklik van oudsher af nodig om uiting te soek in taal: in uitinge soos vergestalt in die vorm van vertelling, of van dromende bespiegeling of uitbeelding, of van nabootsing, opvoering en dramatisering waarin ook talige uitdrukking ’n primêre rol speel – en dikwels kombineer hierdie (talige) uitingswyses in bepaalde tekste. Du Plooy (2010:12) slaan met laasgenoemde kwalifisering by implikasie ’n spyker op die kop wat betref spesifiek die aard van die eenpersoondrama (dit wil sê sonder dat sy haar oor hierdie spesifieke teatervorm uitspreek). In hierdie subgenre kombineer die volgende menslike kommunikatiewe behoeftes op opmerklike wyse:

[Dit is] skynbaar ’n menslike eienskap om op bepaalde tye of in bepaalde omstandighede te wil vertel, of te wil bespiegel en besin, dieper in ’n enkele moment te wil insink sodat temporaliteit opgehef word ten bate van ’n momentele liriese ervaring, ter wille van ’n holistiese en gelyktydige ruimtelike belewenis of situasie wat durend buite tyd kan wees. Dit is ook eie aan die mens om handeling te wil naboots, dit te wil nadoen en oordoen, om menslike handeling te herhaal en daardeur gebeurtenisse weer teenwoordig te stel as ’n a-historiese liminale belewenis.

Dramatiese, narratiewe én liriese taalgebruik kom dus in die eenpersoondrama voor. In Pretorius se ONT- word die ek-verteller se eerste bestuursles by sy pa ’n onmiddellike verslag van wat gebeur (het) wanneer die verteller die rol van seun én pa aanneem. Die taalgebruik is nie meer net vertellend van aard nie, maar ook toneelmatig, omdat wat met die karakter gebeur as 't ware voor die oë en ore van die gehoor afspeel. Vergelyk: "Sit jou groottoon op die petrol, rus [sic] jou hak op die vloer. Gee liggies gas" (Pretorius 2009:6). In Philip Rademeyer (2015) se eenpersoonstuk Adam twee word die genremodusse byvoorbeeld afgewissel omwille van effekverskeidenheid: daar is ’n karakter wat die verhaal van die geskapene soos dit in Die Bybel staan, vertellend weergee; ’n ander uitgebeelde karakter lees poësie-as-briewe aan ’n onbekende toehoorder voor; en die ek-verteller lê belydenisse af oor ’n verhouding wat skielik beëindig is. Die eersgenoemde karakteroptrede is tipies van die narratiewe modus, hoewel daar ook elemente van die dramatiese in voorkom; die tweede en derde voorbeelde is kennelik liries van inslag.

Omdat die Afrikaanse dramaweergawe van Oskar en die pienk tannie (Schmitt 2013) uit die oorspronklike briefromanweergawe verwerk is, kan die leser/toeskouer byvoorbeeld ’n stuk op ’n soort persoonlike belydenistrant verwag (liries). Die gedagtes van ’n tienjarige kankerlyer word uitgespreek, maar die taal is opmerklik ongewoon vir iemand van Oskar se ouderdom. Morgan, wat die Franse romanweergawe in Afrikaans vertaal het en toe tot drama verwerk het, erken self (aan Malan 2013) dat sy byna twee jaar lank gespook het om Oskar en sy verhaal eg Afrikaans te maak en te laat klink. "Kaaps en Engels het ingeglip, Ouma Rosa se stoeinaam, 'Wurger van Welkom', het 'Wurger van die Weskus' geword, die karakter Popcorn sê 'djy' pleks van 'jy' en Oskar sukkel om sy ma-hulle te 'face'."

’n Mens sou Oskar se ongewone taalgebruik kon toeskryf aan ’n paar faktore: dat ’n gewone, volle lewe na iets wonderliks lyk as jy in die aangesig van die dood verkeer – van daar die verbeeldingryke en deerniswekkende blik deur die oë van ’n jong sterwende wat weergegee word; die teenwoordigheid van die wyse ouer vrou (ouma Rosa) wat Oskar se verbeeldingryke, deernisvolle blik inspireer en sélf verbeeldingryk is; daarby suggereer die dramaslot, waartydens ouma Rosa as die spreker-tot-God agterbly, dat sy moontlik as ’n soort redakteur van Oskar se vertelling kon opgetree het.

Eenpersoondramas toon ook ooreenkomste met die insigbiedende karakteralleensprake wat ons dikwels in die roman of kortverhaal aantref. Sulke karakteralleensprake bevat kragtige taal wat bedoel is om die betrokke karakter deur ’n geestelike en emosionele proses te dra (Catron 2009:27). Die manier waarop die verteller praat, hoe die verteller sy taal gebruik om uiting aan emosie en belewenisse te gee, is dus ’n direkte en eerlike weerspieëling van sy of haar karakter (2009:25). In die veelkarakterdrama leer ons dikwels ’n karakter ken deur wat ’n ander karakter oor hom of haar sê – ons praat dan van eksplisiete karakterisering. In die eenpersoondrama, daarenteen, ontbreek die moontlikhede van hierdie manier van karaktertekening en moet die dramaturg die karakter op ander maniere aan die gehoor blootlê. Conradie (1998:76) kom tot die slotsom dat ’n karakter se eie woorde die vernaamste middel is om hom of haar te teken – ’n metode wat as implisiete karakterisering bestempel kan word.

Die verteller van/in die eenpersoondrama is alleen op die verhoog, en deel sy of haar gedagtes met ’n gehoor. Die konvensie van die vierde muur is afwesig – of die gehoor direk aangespreek word, of nie. Met die wegdoen van hierdie konvensie word die verteller – en hoe hy of sy sigself uitdruk – die fokuspunt. Die taalregister en -gebruik, die geuiterde narratief en die benutte talige elemente in die proses word sleutelaspekte in ’n bestudering van dié subgenre (Wallace 2006:6). Dit is dus nie om dowe neute nie dat Young (2012) beweer: "So much of solo work is the text."

Vir Geis (1993:25), wat die alleensprake in Beckett se dramas ontledend bespreek, is die taal van ’n alleenspraak die beherende faktor én deel van die dramatiese handeling van die eenpersoondrama. Dit is as 't ware deur benutting van die moontlikhede van taalgebruik-in-aksie dat die drama van die enkelkarakter gevorm en volgehou word. Die Italiaanse dramaturg Luigi Pirandello se begrip azione parlata, oftewel gesproke handeling, herinner hieraan: "living words that move, immediate expressions inseparable from action, unique phrases that cannot be changed to any other, and belong to a definite character" (Kennedy 1975:18).

Soos genoem, is die eenpersoondrama onder andere ’n dramatiese voorstelling van wat in die karakter se gemoed en gees aangaan, ’n verkenning van die karakter se "private speech" – ’n subjektiewe en persoonlike uitdrukking. Die taal van die eenpersoondrama is dus, soos Geis (1993:12) dit ook stel, ’n taal van "constantly shifting impulses and perceptions of an active thought process". Ons tref sodanige taalgebruik aan by veral die hoofkarakter in HOL. Die teks bestaan hoofsaaklik uit sinne van kort en soms elliptiese bestek, wat ’n teksvergestalting is van die feit dat daar in bewussynstrome nie te lank aan ’n onderwerp/gedagte herkou word nie. Daar word van die gehoor verwag om die gedagtespronge deur middel van inprenting self te oorbrug.

Liesbet se vertelling is ’n ononderbroke gedagtestroom, soos byvoorbeeld duidelik word wanneer sy water sluk en dit haar laat dink aan hoeveel koppies koffie en blikkies Coke Zero sy deur die dag gedrink het. Dié vertellende karakter se retoriese vrae lei dikwels tot ander retoriese vrae, van die een assosiasie tot die ander. Vergelyk:

Hoekom speel hulle altyd sulke kak musiek in die plek? Miskien moet ek in daai kliënte-posboks gaan kla. "Dis alles oukei, meneer Branson, maar jou musiek suck." Hoeveel kos Branson se highlights hom? Dis peperduur [...]." (Hanekom 2014:15)

En:

Tamatievelde op stadsdakke. Mielies op rugbyvelde. Patats in swembaddens. Wens ek kon van hier die swembad beter sien. Bebrilde mensvissies, plastiekkaalkoppe, dobber op en af in die lane. (Hanekom 2014:40, 41)

’n Taalsituasieverskynsel wat veral deur sodanige private speech-begrip opgeroep word, is die bewussynstroomtegniek. Scholtz (2013) verwys na hierdie tegniek as die taalweergawe van die binnelewe van die mens, sy innerlike alleenspraak, en beskryf dit soos volg: "Met behulp van tegnieke soos die vrye indirekte rede en die innerlike monoloog word gepoog om die illusie te skep van die direkte weergawe van die 'verbystromende' gebeure in die bewussyn van die karakter(s) soos wat dit van oomblik tot oomblik geregistreer word." Die 19de-eeuse Amerikaanse sielkundige William James (1890:239), wat die term gemunt en die begrip bekendgestel het, verduidelik dit soos volg:

It is nothing jointed, it flows. A "river" or a "stream" are the metaphors by which it is most naturally described. In talking of it hereafter, let us call it the stream of thought, of consciousness, of subjective life.

Wallace (2006:11) meen weer die innerlike alleenspraak is ’n sambreelbegrip vir die verskeie metodes wat aangewend word om die binnelewe van fiksionele karakters uit te beeld. Die alleenspraak (soliloquy) is een van die metodes wat as voorbeeld uitgelig word, terwyl die bewussynstroomtegniek, volgens Wallace (2006:11), een van die mees invloedryke ontwikkelings van die innerlike alleenspraak is. Die bewussynstroomtegniek was ’n oplossing vir baie romanskrywers se sentrale probleem, naamlik dat diskursiewe taal onvoldoende is ter uitdrukking van karakters se identiteit en subjektiwiteit. Taal-in-oorvertelling laat met ander woorde nie reg aan die innerlike toestand van die karakters geskied nie, en van daar juis die bewussynstroomtegniek: ’n ontwrigting van konvensionele sinsbou om taalgestalte aan die innerlike toestand van die karakter te gee (2006:12).

’n Belangrike onderskeid wat deur Wallace (2006:12) getref word, is dié tussen die dramatiese alleenspraak van die poësie aan die een kant, waar die "ek" tussen innerlike en uiterlike kragte geplaas word, en die bewussynstroomtegniek aan die ander kant, waardeur die karakter se innerlike ervarings en die terrein van subjektiewe persepsie op die voorgrond geplaas wil word – soortgelyk aan wat in die liriese poësie gebeur. Vir Geis (1993:12) is die bewussynstroomtegniek ook ’n poging om fragmente van idees, tangensiële verbindings en assosiasies, verwante herinnerings en ’n ingewikkelde netwerk van emosies taalgestalte te laat kry.

Die bewussynstroom, wat uit ’n versnit van poëtiese en narratiewe woorduitings bestaan, word as 't ware die verteller in ONT- se voertuig van belydenis oor sy grootwordjare. Een van die mooiste voorbeelde van die benutting van die bewussynstroomtegniek in die drama kom voor wanneer die verteller ’n lys verskaf van nuwe dinge soos hy dit in die groot stad aangetref het (Pretorius 2009:22–3):

couscous, humus, filter koffie, eco-friendly, subtitels, yoga, pornografie, sonbrille dra, binne (vraagteken), skinny jeans, all stars, nipple piercings, tatoeermerke [sic] van jimi hendrix, jimi jendrix, air guitar (vraagteken), retro, metro, electro, gegeurde kondome, dildo's, cockrings, buttplugs, lubrication, posters van james dean teen elke koffiewinkel se muur, posters van marilyn monroe teen elke meisie se muur, sofia coppola – lost in translation, sofia coppola – marie antoinette (vraagteken), sofia coppola – godfather part 3 (uitroepteken), fellini, pasolini, rossellini, bergman – ingmar en ingrid, truffaut, godard, catherine deneuve, kubrick, hitchcock, brando, tracey en hepburn, breakfast at tiffany's, grace kelly in rear window, elizabeth taylor in butterfield 8, uma thurman in pulp fiction, michelle pfeiffer op ’n klavier, robert mitchum in the night of the hunter, john wayne in the man who shot liberty valance, gregory peck in to kill a mockingbird, harper lee, truman capote, james baldwin, ginsberg, breytenbach en die sestigers, joodse vakansiedae, hare krishna, vodka met lemmetjiesap, vodka met tamatiesap, skoon vodka, tequila, klipdrift, southern comfort, castle, black label, lucky strike lights, lucky strikes silver, popper, weed, kokaine [sic] en pynpille as daar niks fout is met jou nie. gay clubs, dicoteqhue, pub crawl, god bestaan nie, liefde bestaan nie, god is liefde, liefde is chemies, liefde (vraagteken).

Wanneer hy byvoorbeeld na "breakfast at tiffany's" verwys, lei dit na die volgende (verwante) herinneringsgrepe: "grace kelly in rear window, elizabeth taylor in butterfield 8, uma thurman in pulp fiction, michelle pfeiffer op ’n klavier" (Pretorius 2009:22–3) – almal herinnerings aan aktrises in bekende Hollywood-rolprente. Maar ook die ingewikkelde netwerk van emosies word bely, soos ’n mens kan aflei uit die laaste gedeelte van die verteller se gedagtestroom: "god bestaan nie, liefde bestaan nie, god is liefde, liefde is chemies, liefde (vraagteken)" (2009:23).

Die taal as narratief, of verhalende taalgebruik, staan wars van wat in die innerlike alleenspraak vergestalt word; laasgenoemde verteenwoordig ’n soort teen-verhaalmatige teatervergestalting van die versplinterde self (Wallace 2006:13, 14). Wallace (2006:14) erken egter ook dat die eenpersoondrama na albei kante kan swaai, naamlik in die rigting van die teen-verhaalmatige teatervergestalting of van die drama van storievertelling. Geis (1993:43) praat by voorkeur van die taal van die alleenspraak as "narrative language", iets wat veral in postmoderne tekste aangetref word.

Verhalende taalgebruik behels die wyse van die benutting van taal in die vertel van ’n verhaal, waartydens die konsepsionele kategorieë van storievertelling – soos gebeure-opeenvolging, karakterisering, tydsaanduiding, plekaanduiding en funksionele aanwending van vertellersinstansie – ingespan word. Die ek-verteller in ONT- stel sy te vertolkte karakters daadwerklik aan die gehoor voor, te wete die ek-verteller as die "held", asook die held se pa, ma en ouer broer. Die gebeurekompleks betref die ek-verteller se grootwordjare, wat van die pa se begrafnis (Pretorius 2009:5) tot die kostuumpartytjie-ervaring in Kaapstad (2009:11) strek.

Die ek-verteller, wat plek-plek sy vertellersrol vir dié van die akteursrol verruil, behou steeds sy identiteit as storieverteller: "Ek dink ek sal my storie beter kan vertel in die form [sic] van ’n fabel … Storietyd!" (2009:9). Sulke taalgebruik het duidelik ’n verhalende funksie – net soos wanneer die storie van die pikkewyn vertel word, ingelei deur die oorbekende tydaanduidende beginfrase "Eendag lank lank [sic] gelede was daar …" (2009:10), en dan gevolg deur duidelike aanduidings van die konsepsionele kategorieë van storievertelling:

1. karakter: "’n klein pikkewyntjie"

2. plek: "wat onder [sic] die yskoue Arktiese see gebly het"

3. vertellersinstansie, naamlik ’n derdepersoonverteller: "Sy mamma was…"

4. gebeure: "Toe, op ’n dag, daag die ooste wind [sic] op in die masker van ’n jellyvis [sic] en slaan met ’n brandende haal oor die Mamma Pikkewyn se ingewande."

3.2.3 Storievertelling in die eenpersoondrama

The monodrama is theatrical storytelling at its best, both to and with the audience. (Catron 2009:10)

In Beeld van 7 April 1997 word Antoinette Pienaar soos volg aangehaal oor haar rol in die eenpersoonkabaret Krotoä (1995): "Krotoä het na my gekom as ’n storie. Ek is primêr ’n storieverteller. Ek dra dit nie oor as ’n geskiedenisles om mense mee te straf nie [...]" (Engelbrecht 1997).

Die eenpersoondrama kan eweneens eenvoudig as storievertellingsmiddel gesien word. Catron (2009:111) meen derhalwe dat die storieverteller van die eenpersoondrama soos die prehistoriese sjamaan te werk gaan, naamlik deur stories te vertel wat tot die gehoor se belangstellings en behoeftes spreek.

Ook volgens Wallace (2006:6) behels die eenpersoondrama wesenlik storievertelling – "a stripping away of dramatic illusion" – en is die akteur van die eenpersoondrama inherent ’n storieverteller (kyk ook Young 2012). Dat oortuigende toneelspel én goeie storievertelling belangrike voorwaardes is vir die eenpersoondrama om te slaag, blyk dus onweerlegbaar te wees – en Young (2012) beweer dat dít ongelukkig alte selde in die praktyk van hierdie teatervorm genoegsaam neerslag vind.

Storievertelling sluit aan by die narratiefkonvensie wat, soos dit ook die dramatiese alleenspraak betref, ’n onlosmaaklike kenmerk van die eenpersoondrama is. Die teks van die eenpersoondrama het verhaalmatige funksies wat belangrik is vir die storie wat vertel word. In sy studie The function of narrative: toward a narrative psychology of meaning skryf Brian Schiff (2012:35) soos volg oor die narratief-begrip:

To narrate calls forth the conceptual similarities with the related forms "to tell", "to show", and "to make present". Narrating discloses experience. Importantly, we move from understanding narrative as a static entity and begin to view it, more accurately, as a process. Narrative is a doing, a happening, an eruption. Or, as I like to think about narrating, it is an expressive action, unfolding in space and time.

Die eenpersoondrama wil uiteindelik van ervarings vertel én wil dit wat gebeur het, in die hede plaas. Catron (2009:14) is van mening dat dramaturge van veral die eenpersoondrama kennis behoort te dra van hoe ’n mens ’n storie, met ’n begin, intrige-opbou en -afloop, struktureer. Schiff (2012:42) spreek hom ook uit oor die belangrikheid van sodanige vertelstruktuur: "Narrative structure is helpful in dealing with the messiness of human experience in order to infer the meaning of actions, motivations, cause and effect, connections." Waar taal byna ontoereikend is vir die oordrag van die "messiness of human experience", neem die verhaalmatige struktuur en tekstuur die rol van die betekenisdraers aan; die taal kan nie sonder ’n verhaalopbou betekenis aan mensegedrag verleen nie.

Die Oskar-karakter se briewe in Morgan se verwerking van Schmitt se vertelling tot drama stel die gehoor in staat om saam met dié karaktertjie sy laaste paar dae in die hospitaal te beleef. Die verteller-karakter in die stuk se diepste gevoelens en verborge gedagtes word hoorbaar gemaak, byvoorbeeld sy uitspraak oor skryfwerk: "Maar ek haat dit om te skryf. Ek doen dit net as ek nie anders kan nie. Skryf is ’n simpel ding. Dis ’n wit leuen. Dis ’n grootmens-ding" (Schmitt 2013:1). Asook: "Ek het nog nie vroeër met jou gepraat nie, want ek glo nie jy bestaan rêrig nie" (2013:1).

In die Oskar-figuur se 12 opeenvolgende briewe vertel hy wat (werklik én verbeeld) met hom gebeur. Oskar vertel byvoorbeeld hoe hy in die besemkas beland het die dag toe sy ouers die slegte nuus vanaf die dokter ontvang het (2013:5):

Vanoggend was ek besig om skaak te speel teen Einstein toe Popcorn my kom sê my ma en pa is hier … Toe het ek terug gegaan [sic] na my kamer toe om vir my ma-hulle te wag, maar toe kom hulle nie. Toe weet ek hulle is by Dokter … En ek was reg. Ek kon hul stemme deur die toe deur hoor. Maar toe hoor ek wat ek nie moes nie. My ma het gehuil [...].

Oskar vertel ook van sy eerste soen, met ’n meisie wat leukemie het (2013:12); van die eerste keer dat hy en Blou Bettie mekaar gesoen het (2013:15) en van toe hulle getrou het (2013:16). Hy vertel ook van die suksesvolle operasie op Blou Bettie, en van die dag toe hy van die hospitaal af weggeloop het (2013:20). Soms vertel Oskar dinge aan God, afgewissel met dramatiese dialoogweergawes van wisselwerkings tussen hom en ander karakters. Afgesien van die vertellingdele is daar egter ook die “daadwerklike” gesprek tussen Oskar en God, wanneer Oskar God direk in ’n brief aanspreek. Die manier waarop Oskar God aanspreek en vrae aan Hom stel, is van ’n meer volwasse aard as wat ’n mens van ’n seun van sy ouderdom sou kon verwag. Ons leer ken die karakter dus as ’n seun wie se siekte hom tot volwassenheid gedwing het.

Die Oskar-figuur as verteller vervleg ook die verhaal oor sy ouma Rosa as die stoeier, as die "Wurger van die Weskus", met die vertelling van sy eie ervarings in die hospitaal. Só klink ’n paragraaf oor sy ouma in hierdie rol:

Die Wurger van die Weskus teen die Slagter van Somerset-Wes, twintig jaar se fights teen die Duiwelin van Delft, sy was ’n Hollander met twee borste so groot soos kanonkoeëls, en van haar geveg vir die wêreldbeker teen Grote Griet, wat hulle die Teef van Talana genoem het. Niemand kon Grote Griet ooit wen nie, nie eers Ouma Rosa se groot rolmodel, Diamantdye, nie. (2013:3)

Herman (2009) redeneer dat ook "hoe dit is" vir iemand, of vir ’n iets, om ’n spesifieke ervaring te beleef, aan die hart van die narratiefbegrip lê. Storievertelling behels die blootlê van sodanige ervarings, die weergee van subjektiewe gegewens uit die vertelde (karakter) se lewe; wanneer die verteller vertel, word die vertelde se ervaring en interpretasie van die lewe as 't ware, in die hede van die leser of aanhoorder, teenwoordig geplaas; begrippe eie aan ’n spesifieke taal-, geskiedkundige en kultuurgemeenskap word ingespan om sodanige vertelgebeurtenis te laat geskied (Schiff 2012:37).

Die vertellende karakter in Hanekom se HOL praat byvoorbeeld namens ’n gemeenskap van "kwynende mensvleis" (Hanekom 2014:12) wat met ’n bepaalde obsessie stoei (paartjies wat in gimnasiums boer) – ’n gemeenskap vasgevang in ’n kultuur van oorverbruik én die begeerte om slank en uiterlik aantreklik te bly: "Teen eenduisend maaltye per jaar kry die maag gemiddeld een ton kos … Oor ’n rukkie gaan niemand meer tennis kan speel nie, omdat elke oppervlak van die aarde vir die kweek van kos gebruik sal moet word" (2014:40). Sy verwys na die persone in die gimnasium – waardeur ook sý geïmpliseer is – as "losers wat die tyd van die aand nog rondhang" (2014:12).

Sy verwys ook na talle randfiguursoorte – soos mense wat nie kinders kan kry nie, tronkvoëls, plaaswerkers, "die onbekendes", die "unsung heroes van People Magazine" (2014:20); of "ou tannies, tienerseuns, swanger meisies en bles moffies", asook die "omgekraptes" (2014:44) – wat kenmerkend die voorkeurkarakters vir uitbeelding in eenpersoondramas is. Die drama van Hanekom bevat heelparty verwysings na die begeerte om aanloklik, aantreklik en bogemiddeld te wees. Daardeur word die drang van die Liesbet-figuur om te “vergoed” en vergewe te word vir haar misstappe van die verlede, maar ook om die gevoelens van minderwaardigheid in haar te oorstyg (letterlik die holte in haarself te vul, waarvan die eetversteuring waaraan sy ly, simbolies is), in die kader geplaas van die beheptheid met uiterlike begeerlikheid wat die geledere van die eietydse modewêreld kenmerk.

’n Belangrike bron van vars insigte aangaande die verbondenheid van die eenpersoondramagenre met storievertelling is Tom Maguire se Performing story on the contemporary stage (2015). Maguire (2015:2) betrek sienings van Paul Ricœur oor identiteit as die produk van narratiwiteit, naamlik daardeur dat ons onsself as 't ware in die wêreld plaas deur stories daarrondom te vertel; terselfdertyd word ons in die wêreld geplaas deur stories wat oor óns gaan.

Maguire (2015:16–7) som die sleutelkomponente van storievertelling op die verhoog en voor ’n gehoor op as synde die vertellende stem (m.a.w. wie aan die praat is; die pratende “ek” soos geskep deur die outobiografiese opvoering); die temporele en ruimtelike aspekte en hoe dit gestruktureer en voorgestel word; daarby die dialogiese aard van die eenpersoondrama en hoe die verhouding tussen die verteller, die verhaal en die gehoor daar uitsien; en laastens: die sosiale impak wat storievertelling op die samelewing kan hê.

In die eerste hoofstuk van sy boek ondersoek en bespreek hy dan die rol van die verteller in sulke verhoogstukke. Daar is volgens hom (2015:19) drie fundamentele elemente by storievertelling betrokke, naamlik ’n verteller wat vertel (of die vertelling opvoer), die verhaal (wat vertel of opgevoer word) en laastens die persoon (of gehoor) aan wie die verhaal oorgedra word. Die vertellersrol in die eenpersoondrama is kompleks, omdat daar volgens Maguire (2015:19) ’n onderhandeling plaasvind tussen die identiteit van die spreker (die akteur), die rol van die verteller en die figure wat binne die storiewêreld voorgestel word; elkeen kan, namate die vertelde gebeure verhaalmatig ontvou, die rol van die “ek” aanneem.

Die uitdaging lê daarin om die spreker, naamlik die persoon wat praat, van die verteller (die stem as produk van die persoon wat praat) te onderskei; die gehoorlid moet uiteindelik sin kan maak van die gebeurtenis waaraan hy/sy deelneem (2015:19). Onses insiens berus die geslaagdheid van ’n eenpersoondrama op die vermoë om ’n reeks narratiewe (of verteller-) stemme te skep waarvan elkeen ’n eiesoortige subjek verteenwoordig. Daar is trouens juis boeikrag en vermaak te put uit die belewing van die onstabiele verhouding tussen hierdie identiteite (van die spreker, die verteller en die karakters van die storiewêreld wat voorgestel word).

Betreffende karakter is Maguire (2015:38) van mening dat daar op sekere karaktereienskappe wat aan spesifieke sosiale groepe gekoppel is, staatgemaak word in die uitbeelding van storiefigure; hierdeur word kwessies rondom identiteit en magsuitoefening ten tonele gevoer. Die gebruik van verskeie karakters in storievertelling, maar veral in die spesifieke konteks van die eenpersoondrama, demonstreer die buigsaamheid van identiteite en stel die gehoorlede in staat om hul eie vooroordele oor hulself en ander in heroorweging te neem. Identiteit is, volgens Maguire (2015:43), immers eerder ’n steeds wordende skepping as iets wesenliks. Karakteruitbeelding is syns insiens ’n wyse van metonimiese verteenwoordiging (2015:44) – ’n siening van hom verwant aan Brecht se teorie dat die akteur van die epiese drama ’n ooggetuie van ’n gebeurtenis behoort te wees. Soortgelyk hoef die akteur van die eenpersoondrama net genoegsame besonderhede van die karakter(s) voor te stel om herkenbare fasette van ’n toepaslike persoonsbeeld in die gehoor se verbeelding op te roep. Sodanige metonimiese verteenwoordiging is belangrik, want daarvolgens word van die gehoorlede van die eenpersoondrama verwag om die beeld in ooreenstemming met hulle eie geesteserfenisse en verwagtingshorisonne te voltooi. Die gehoorlid word dienooreenkomstig ’n aktiewe rolspeler in betekenisskepping in die verloop van die eenpersoondrama-opvoering.

Maguire (2015:44) brei soos volg hierop uit: “It invokes the application of the spectator's theory of mind, relating knowledge of perceiver behaviour and positing identities in relation to already-arranged mental categories and types.”

Hy verduidelik voorts (2015:46, 47) dat beide benoeming en beskrywing metonimiese funksies in die vertelomstandigheid verrig; die verteller kies hoe hy/sy die karakter(s) gaan beskryf of benoem en of dit voldoende is (al dan nie) om die gehoorlede in staat te stel om die prentjie in hul verbeelding aan te vul. Ook word aanhaling (van die woorde van ’n geskepte of aangeduide karakter) aangewend om ’n metonimiese funksie te verrig; die manier waarop iets gesê word, kan op implisiete wyse bykomende inligting oor die spreker se agtergrond, persoonlikheid of bedoeling verklap (2015:49).

’n Volgende instrument wat die funksie van metonimiese verteenwoordiging kan vervul, is suggestie: die handeling van die spreker suggereer die teenwoordigheid van ander karakters wat nie op die verhoog te sien is nie. Die gevolgtrekking wat Maguire (2015:58) maak, is dat geslaagde karakter(uit)beelding gebaseer word op wat die karakter doen, eerder as op beskrywing of benoeming van wie die karakter is.

Verdere bespreking van aspekte van karakterisering in die eenpersoondrama word verderaan in hierdie artikel aan die hand van sienings in ander sekondêre bronne bespreek.

Om egter by Maguire se redenasie oor die rol van storievertelling daarin te bly, word die klem eers van die begrip narratiewe identiteit na dié van die pratende "ek" in outobiografiese eenpersoondramas verskuif.

Outobiografiese eenpersoondramas behels die vertel van eie lewensverhale. Volgens Maguire (2015:59) bied die deel van ’n (oënskynlike of klaarblyklike) persoonlike ervaring die geleentheid vir intimiteitskepping tussen die akteur en die gehoor. Hierdie geleentheid word tot stand gebring slegs deurdat die private self sig op ’n outentiek aangevoelde wyse aan "die ander" openbaar. Wanneer die persoon op die verhoog dieselfde persoon is van die storiewêreld waarvan vertel word, verwys Maguire (2015:60) daarna as "corporeal continuity"; iets wat uiteindelik bydra tot die indruk van egtheid aangaande die vertelde en gespeelde selfopenbaring.

ONT- van Pretorius byvoorbeeld handel onder meer oor sy eie grootwordjare. In ’n onderhoud vertel hy (kyk Pople 2013) dat die skryf van dié stuk ’n persoonlike katarsisbelewing oor sy eie grootwordjare en volwassenewording teweeggebring het. Hy het die drama juis begin skryf in reaksie op die oorweldigende emosies wat hy hieraangaande ervaar het. Pretorius meen dit het hom gepla dat volwasse mense so kalm en bedaard oor emosionele sake is; hy wou skryf oor die gevolge van ’n tipe gesindheid van gelatenheid in hierdie verband.

Die outobiografiese eenpersoondrama vra van die gehoorlede – Maguire (2015:71) praat van ’n "explicit invitation" in hierdie verband – om hulle eie ervaringswêrelde met dié van die verteller te laat versmelt om sodoende te kan deelneem aan ’n vorm van selfoorstygende identifikasie. Storievertelling vereis deelname van die gehoor, maar hierdie deelname word bemiddel na die mate waarin die intimiteitsbelewenis tussen die akteur en die gehoor toeneem.

In sy openingmonoloog van ONT- spreek die verteller die gehoor openlik aan ("Ek speel graag vir julle uit opdrag van die nostalgie" – Pretorius 2009:4), maar daarna word ander toegesprokenes as die gehoor gesuggereer. Die karakters rig hulle, elk op hul beurt, tot die ek-verteller in verskillende stadia van sy lewe. Hoewel die gehoor nie weer direk aangespreek word nie, het ons hier te make met wat Geis (1993:14) ’n "privileged or pseudoprivileged status as the character's confidants" noem. Die gehoorlede word die verteller se vertrouelinge en daardeur word ’n mate van intimiteit in die akteur-gehoor-verhouding bewerkstellig.

Temporaliteit en ruimtelikheid is ander sleutelaspekte van storievertelling wat deur Maguire (2015) bespreek word. In sy hoofstuk oor temporaliteit en ruimtelikheid bemoei hy hom met wat hy "narrational scenography" noem, bedoelende die verteller se vermoë om die tyd en plek waarop en waarbinne ’n storie vertel word, te omskep in die tyd (tye) en plek(ke) waarvan daar in die storiewêreld vertel word (2015:80). Hy verduidelik dus dat wanneer ’n storie vertel word, daar altyd minstens twee verskillende tyd-ruimtes is wat deur die gehoor ervaar word: eerstens die tyd en plek waar die storie vertel word en tweedens die tye en plekke op of van die verhoog af wat voorgestel, verteenwoordig of opgeroep word (2015:78–9).

Die verteller se vermoë om die tyd-ruimte waarbinne die storie vertel word te omskep in die tyd-ruimtes waarvan daar in die storiewêreld vertel word, vorm volgens Maguire (2015:96) die gehoor se beskouingshoek en bepaal uiteindelik hul begrip van die storiewêreld. Die gehoor word verder medepligtig gemaak om die storiewêreld op te roep; Maguire (2015:115) noem dit ’n aktiewe proses van uitlening van die self ten einde in verhouding te tree met die verteller en die verhaal.

Op hierdie wyse verduidelik die verteller in Harry Kalmer se biografiese eenpersoondrama Die Bram Fischer-wals (2012) sy dag-tot-dag doen en late aan ’n afwesige Molly (sy vrou), waardeur die gehoor se perspektief op Fischer se tronkbestaan gevorm word: "Liewe Molly om 6 uur [sic] gaan die deure oop … ons tree aan vir roll call. Na roll call is dit brekfis, mieliepap en lekker volgraan brood [sic] gebak deur ons medebandiete … Dan maak ons possakke of werk in die tuin … Die reuke herinner my aan Beaumontstraat en aan die plaas … Om vier uur [sic] sluit hulle ons toe … eers die hek en dan die deur … 14 ure is ek alleen …" (Kalmer 2012:11). Daar is ook ’n gedeelte in die stuk waar die verhoogruimte soos volg as 't ware in die gehoor se verbeelding omskep word tot die sokkerveld in Kliptown (20):

Sjoe, dis ’n stywe klim teen hierdie koppie uit …. (Kyk deur verkyker.) Kyk net hoe netjies is daai verhoog … Kyk net bietjie na al die mense … Die polisie het probeer keer … Maar dit was tevergeefs … Kyk net bietjie na al die mense! Hoeveel mense dink jy is daar, Molly? Kyk die stalletjies, die ANC vlae [sic] … Kyk kinders … Die plakkate: "Equal rights for all". Dis soos ’n kerkbasaar. Julle kyk nie vandag net na ’n sokkerveld in Kliptown nie, maar na die geskiedenis.

Die stelinkleding is egter minimalisties en word deur Stones (2014) beskryf as ’n voorstelling van ’n "simple cell with a few props". Die dramaturg self omskryf dit as volg (Kalmer 2012:1):

Die stel is ’n sel. 3,5 x 2,5 meter in die middel van die verhoog […]. Binne in [sic] die sel is daar ’n bed. (OP). ’n Stoel (middel van verhoog). A lectern. Die verhoog is ’n swart ruimte … Die hele toneelstuk speel af binne in [sic] die sel. Kostuums en rekwisiete word onder bed versteek.

In die hoofstuk "The spectator in storytelling performance" in sy genoemde boek verduidelik Maguire (2015:115) dat storievertelling ’n vorm van handeling is waardeur die verteller poog om "something" aan die gehoorlid te doen; dat dit ’n wyse verteenwoordig waardeur die “other” beïnvloed word. Die gehoorlede word dikwels tydens die vertelling met sekere vraagstukke of stelle ervarings gekonfronteer waarvan hulle vooraf geen kennis gehad het nie; tog word terselfdertyd van hulle vereis om met hierdie nuwe kennis om te gaan en betrokke te raak by wat voorgestel word (2015:129). Laasgenoemde aspek word in die hoofstuk "Storytelling and society" in meer besonderhede beredeneer; sy bevindings kom daarop neer dat maatskaplik-betrokke storievertelling ("socially-engaged storytelling") se hoofdoel is om die gehoor bloot te stel aan ’n lewenservaring wat andersins geïgnoreer óf onderdruk is / sou wees (2015:146).

In sy gevolgtrekking argumenteer Maguire dat daar ’n eiesoortige wederkerigheid tussen die gehoor en die verteller is en dat hierdie wederkerigheid die verhouding tussen die verteller, die gehoor en die verhaal onderskraag.

3.2.4 Die gehoor in die eenpersoondrama-opvoering

The monodrama has the special ability to communicate with the audience because it is the essence of theatre: script, performer, and audience. […] [T]here is an intimate communication, a one-to-one relationship of character and audience. (Catron 2009:21-2)

Die voorlaaste kenmerk van die eenpersoondrama wat hier onder bespreking gebring word, is die besondere rol van die gehoor daarin. Daar word algemeen aanvaar dat die konvensie van die vierde muur by hierdie subgenre wegval. Dié kenmerk lewer volgens Young (2012) egter terselfdertyd een van die grootste toneelverwante kwelpunte op: Met wie praat die protagonis in die eenpersoondrama, en waarom? Catron (2009:43) deel hierdie kwelling: "Audience suspension of disbelief is severely tested when the character is not deeply motivated to speak and when that motivation is not vital and clear."

Om ’n moontlike antwoord op die probleemvraag te vind, verwys Catron (2009:134) na uitsprake van die regisseur Jon Jory, wat die spelleiding in menige eenpersoondrama-uitvoering waargeneem het. Volgens Jory behoort die karaktervertolker, om ’n geslaagde eenpersoondrama daar te stel, deur ’n dringende emosie of toestand in die gesig gestaar te wees om die noodsaak om te praat of gedagtespraak te voer, geloofwaardig te maak (2009:134). Die alleenspraak neem ’n aanvang die oomblik wanneer die karakter nie meer stil kán bly nie; wanneer dit onmoontlik raak om die gevoelens langer te onderdruk. Volgens Maguire (2015:119) het die dramaturg van so ’n stuk egter die keuse om dit as ’n innerlike alleenspraak te wil aanbied, om ’n aangesprokene te impliseer, of om aan die gehoor die fiksionele rol van byspeler toe te sê (andersins word die gehoor as sigself aangespreek).

Catron (2009:109) meen die eenpersoondrama-opvoering behoort daarop gemik te wees om ’n persoonlike verhouding met elk van die gehoorlede te vestig, "involving them in the events, seeking to tell the story with the audience rather than at them". Die gehoorlede word die verteller se (kollektiewe) vertrouelinge; hulle beklee "a privileged or pseudopriviliged status as the character's confidants" (om weer vir Geis 1993:14 aan te haal). Volgens Smith (2010:206) voer Evreinov in sy An introduction to monodrama (1909) byvoorbeeld aan dat die gepaste verhouding tussen die gehoor en die rolvertolker ’n verhouding moet wees wat op simpatie gebaseer is – dat alles wat op die verhoog gebeur as subjektiewe belewing van een hoofkarakter, ’n meelewingservaring by sowél gehoor as karakter teweeg sal bring.

Die gehoor vertolk ’n belangrike rol in die eenpersoondrama(-opvoering): die rol van luisteraar, van vertroueling, soms selfs van byspeler of antagonis. Dit gebeur gereeld in die opvoering van eenpersoondramas dat die gehoor direk aangespreek word – ’n postmoderne literêre neiging, waar die leser of gehoor teatermatig vooropgeplaas en deel van die storiewêreld gemaak word (Geis 1993:39).

Hierdie opvatting dat die gehoor deel van die storievertellingsgebeurtenis is, herinner aan Grotowski se sienings oor die sogenaamde arm-teater (wat in die volgende afdeling in verdere besonderhede bespreek sal word). Grotowski het aangedring op ’n meer aggressiewe oorsteek van die akteur-gehoor-grens, maar ook die kollig geplaas op die sleutelspelers in die teateropset, naamlik die akteur en die gehoor (Catron 2009:33). Eenpersoondramas maak veral staat op die gehoorlid se belewing dat jy jou as 't ware in die teenwoordigheid van die vertolkte karakter of voorgestelde verteller bevind (Young 2012).

3.2.5 Die stelinkleding van eenpersoondramas

In theatre less is more means tightly restrained productions, discarding nonessentials to focus attention on the character and story. (Catron 2009:33)

Catron (2009:33) merk op dat die meeste eenpersoondramas gestroopte en minimalistiese dramaproduksies is. Hy wys daarop (2009:33) dat Jerzy Grotowski in sy Towards a poor theatre (1968) gemeen het dat sommige teaterproduksiestelle oordrewe aangepak word en dat die gehoor se aandag sodoende van storie en karakter afgetrek word; daardeur raak teaterwerk se vermoë om effektief tot die gehoor te spreek, ondergrawe. Volgens Grotowski, verduidelik Catron (2009:33), behoort uitspattige stelinkledings vermy te word, sodat die verteller en die gehoor die beklemtoonde elemente is. Die eenpersoondrama as subgenre wil iets soortgelyks aan wat Grotowski voorgestaan het, bereik.

Die gestroopte ruimte-inkleding wat die eenpersoondrama kenmerk, is ’n terugkeer na die situasie in vroeë storievertelling, na die opset waar die volgende geld:

the power of the actor to create just with words, and with his ability as an actor. Without costumes or sets […] he can take you anywhere in the world. This is really the essence of theatre – the power of the actor to stimulate the imagination of an audience. (Young 2012)

So ’n aanbieding stem ook ooreen met die kenmerke van die dramatiese alleenspraak, soos voorheen bespreek, naamlik dat dit gaan om die verteller van die dramatiese alleenspraak wat poog om dit waarvan hy/sy vertel, voor die gehoor se geestesoog tot lewe te skilder.

Die sleutel tot die sukses van die eenpersoondrama is die opwekking van ’n gevoelselement (Young 2012). Die skryf van ’n eenpersoondrama behoort op emosieprojeksie gerig te wees. Die dramaturg rig as 't ware alles wat die karakter wil sê en alles wat die karakter wil doen, op gevoelsweerspieëling. En wanneer die karakter en die karakter se gevoelservaring voorop geplaas word, is dit maklik om te argumenteer dat die dekor en rekwisiete ’n minder belangrike rol in die teaterbelewenis speel (Young 2012).

Appleton (2014) skryf in sy resensie oor die stel van Oskar en die pienk tannie die volgende: "The only item on stage is a table roughly the size of a hospital bed and Prinsloo is dressed in a nondescript pair of jeans and a shirt." ’n Mens het dus hier te doen met ’n eenvoudige stel en ’n onopvallende kostuum, sodat die gehoor se aandag op die storie en karakter gerig bly, en waardeur die verteller in staat gestel word om geslaagd met die gehoor te kommunikeer. Appleton (2014) skryf met lof verder oor die effektiwiteit van die gestroopte stel en suggestiewe vertelling: "You see a hospital with all its corridors and characters, feel the sterility of it, and rejoice in the vibrant life that is its counterpoint. Suspension of disbelief has never seemed so powerful."

Die Oskar-figuurtjie beskryf die hospitaal as ’n lekker plek waar daar baie grootmense, baie speletjies, tannies met pienk baadjies én vriende van hom is (Schmitt 2013:1). Die hospitaal beskik ook oor ’n park, waarin hy en ouma Rosa gaan stap (2013:2); hy vertel van sy ouers se "rooi Jeep in die parking lot" (2013:5); daar is ’n besemkas waarin hy gaan wegkruip het (2013:6); en daar is Blou Bettie se kamer, byna aan die einde van die gang geleë (2013:10). Hy beskryf ook hoe die linoleum in die gang dof blink wanneer die maan daarop skyn (2013:14), asook van ouma Rosa se dubbelverdiepinghuis met die groot Kersboom waarvan die ligte vir hom wat Oskar is, oogknip (2013:20).

Dit is ook in die eenpersoondrama se aard om gestroop van uitspattige stelle, rekwisiete, kostuums en tegniekbenuttings aangebied te word, omdat dit kommunikatief meer spaarsamig wil wees. Die eenpersoondrama is, soos Catron (2009:10) opmerk, "markedly less expensive to produce than its multicharacter relatives, increasing its attractiveness to producers and – playwrights, directors, and actors, please note – thereby opening new opportunities for performance." Die huidige ekonomiese toestand van die Suid-Afrikaanse teaterwese in ag genome, is dit klaarblyklik sinvoller en meer winsgewend om die ten tonele voering van eenpersoondramas te oorweeg.

3.3 Vormontwikkelings van die eietydse eenpersoondrama in internasionale verband

Volgens Catron (2009:34) neem die eietydse eenpersoondrama talle vorme aan en word die vormkeuses bepaal deur faktore soos die oogmerke waarmee die eenpersoondrama geskryf is, die struktuur van die intrige, die onderwerp waaroor dit gaan en die lengte van die drama. Die verskillende eenpersoondramavorme toon natuurlik onderlinge, en derhalwe genre-onderskeidende, ooreenkomste: ’n sterk storiebasis; ’n duidelike begin-middel-einde-opbou; en meerkantige karakteruitbeelding (2009:35).

Ter afsluiting van die onderhawige oorsig oor die ontwikkelingsgeskiedenis en die genrespesifieke kenmerke daarvan, verdien soortlike onderskeidings wat Catron wel aangaande eietydse vergestaltings van die eenpersoondrama bemerk, bondige aandag.

Die eerste twee vorme wat hy onderskei, is eenpersoondramas wat vir bepaalde spelers geskryf word en eenpersoondramas wat deur bepaalde dramaturge geskryf word. Eersgenoemde verwys na dramas wat met ’n spesifieke akteur of aktrise in gedagte geskryf is, omdat daardie akteur of aktrise oor ’n bepaalde en kenmerkende spelstyl beskik (2009:34). So het Samuel Beckett drie eenpersoondramas vir die aktrise Billie Whitelaw geskryf, en Jane Wagner stukke vir die komediant Lily Tomlin.3 Dan is daar akteurs of aktrises wat bepaalde dramaturge in gedagte het om vir hulle ’n eenpersoondrama te skryf.

’n Volgende vorm van die eenpersoondrama wat Catron onderskei, is die biografiese eenpersoondrama. Volgens hom het dié soort sy oorspronge in die werk van die antieke-Griekse rapsodiste, die Romeinse histriones en Middeleeuse scôps en gleemen. Gentile (1989:29) verwys ook na Cornelia Otis Skinner se meer onlangse werk as ’n voorloper van hierdie vorm op internasionale gebied: "[Cornelia Otis Skinner's] use of biography in creating her solo performances paved the way for the surge in 'biographical' one-person shows to come later in the [twentieth] century."

In die afgelope kwarteeu is ’n opbloei van eenpersoondramas in hierdie vorm beleef – waarskynlik toe te skryf aan dramaturge se belangstelling daarin om die persoonlike lewens en beroepsprestasies van eietydse mans en vroue, mense wat ’n impak op ander mense se lewens gehad het, in die kalklig te plaas (Catron 2009:34). Volgens Gentile (1989:31) bestaan daar verrassende variasie binne hierdie vorm van die eenpersoondrama, maar wys op die akteur of aktrise se nabootsing van ’n geskiedkundige figuur as dié wesenlik onderskeidende kenmerk daarvan. Hy haal in hierdie verband soos volg aan uit ’n artikel wat in die New York Post verskyn het:

Shows of this sort are attempts at living biographies. The performer impersonates the historical figure (sometimes very closely, sometimes just impressionistically) and, using letters and documents and other historical (or quasi-historical) material, offers the audience a slice of the figure's life.

Die tipiese figure wat in sulke verhoogwerke voorgestel word, is volgens Catron (2009:35) kunstenaars, akteurs en politici. Oorsese biografiese eenpersoondramas is byvoorbeeld al geskryf oor die digter Emily Dickinson en die skrywer Charlotte Brontë, asook oor John Barrymore (familielid van die beroemde Barrymore-dinastie) en politici soos die Amerikaanse oudpresidente Harry S. Truman en Richard Nixon.

In sy proefskrif, “Playing at lives: life writing and contemporary feminist drama”, verwys die skrywer (Claycomb 2003:6) na die biografiese eenpersoondrama as "life writing" en verduidelik dat dit gaan om "narrative writing based on the life of a historically verifiable person or people, living or dead". Hy verdeel dan hierdie "life writing" in die volgende kategorieë: ’n outobiografie, dit wil sê ’n eerstepersoonsvertelling van ’n persoon se eie lewe en lewenservaringe; ’n biografie, met ander woorde die vertelling van iemand anders se lewensverhaal; en, laastens, ’n mondelinge geskiedenis, dit wil sê ’n versameling vertellings uit verskillende perspektiewe wat tesame ’n storie daarstel (2003:6, 7).

’n Volgende subgenrevorm wat Catron (2009:36) bespreek, is die outobiografiese eenpersoondrama. Hy verwys daarna as ’n vergestalting van ’n strewe na "blending [of] theatre and self" en bestempel dit as soortgelyk aan die tradisionele volksverhaal – maar dan in moderne gedaante. Die volksverhaal wil, net soos die outobiografiese eenpersoondrama, die menslike gedrag kodifiseer en etiese norme daarvoor omskryf (Steenberg 2013). Die verteller van dié soort eenpersoondrama is "the personal voice of autobiography, the first-person narration of the self as protagonist" (Claycomb 2003:25).

Catron (2009:36) nuanseer die aard van dié vorm van eenpersoondrama as ’n legendeskepping4 gebaseer op persoonlike ervaring, maar wat uitgebrei word om onregstreeks kommentaar op moderne vraagstukke te kan lewer. Hierdie vorm word dan oorwegend aangewend om persoonlike ervarings aan die gehoor te openbaar, asook om die identiteit van die self daar te stel (Claycomb 2003:26). Dit word veral ’n platform vir lede van randgroepe om hulle stories te vertel, byvoorbeeld vroue, wat maatskaplik lank onderdruk was:

Autobiographical narratives grant women the power to write their own stories. And by bringing the self to the stage, autobiographical performers assert themselves as politically viable speaking subjects. (Claycomb 2003:23)

Catron (2009:36) verwys laastens na die subgenrevorme waar literêre werke tot eenpersoondramas verwerk word; ook na, wat hy noem, die dramaturg-akteur-eenpersoondrama. ’n Goeie plaaslike voorbeeld van eersgenoemde is Santa Gamka, ’n eenpersoondrama gegrond op Eben Venter se roman van 2009 met dieselfde titel, wat deur die akteur Marlo Minnaar self tot eenpersoondrama verwerk is.5 Laasgenoemde vorm, naamlik die dramaturg-akteur-eenpersoondrama, behels egter meestal dat akteurs hulle eie eenpersoondramas skryf en self daarin speel. ’n Goeie voorbeeld hiervan is Wessel Pretorius se reeds herhaaldelik vermelde ONT- (2010).

Catron (2009:30) bespreek nog ’n verdere vorm van die eenpersoondrama as subgenre, een wat hy egter nie onder sy "variety of monodramas" genoem het nie. Hy skryf in hierdie verband oor ’n soort eenpersoondrama waarin die akteur of aktrise meer as een karakter vertolk. "Protean performers" noem hy hierdie vertellers – met verwysing na die mitologiese Proteus, die seegod wat verskeie verskyningsvorme kon aanneem. Wallace (2006:7) noem sulke vertellertipes "personality vehicles", aangesien die vertellers telkens die spreekbuise vir ’n verskeidenheid persoonlikhede word. Die Oxford English dictionary bestempel dié eenpersoondramavorm as ’n "monopolylogue" – ’n vorm van vermaak waar een akteur/aktrise baie karakters vertolk (OED 2015c).

’n Mens kan derhalwe subonderskeidings maak tussen eenpersoondramas wat enkelkarakterdramas is, en eenpersoondramas wat veelkarakterdramas is (of daartoe neig).

 

4. Gevolgtrekkings

Oor subgenre-onderskeidende kenmerke van die eenpersoondrama is, na ons wete, tot nou toe nog niks in Afrikaans opgeteken nie. Die eenpersoondrama behels in wese storievertelling, ’n verhoogopvoering waartydens een persoon se innerlike relaas deur toehoorders aangehoor word. Howell (1979:158) verwoord die aard daarvan die raakste, naamlik as ’n middel tot "speaking to others by talking to ourselves". Nie net benoem hierdie verwoording die eenpersoondrama as innerlike alleenspraak nie, maar dit betrek ook die rol van die individu as verteller namens sy/haar maatskaplikegroepverband of gemeenskap – almal kernaspekte van die eenpersoondrama-opset.

Internasionale literatuur rondom die eenpersoondrama verwys na hoofsaaklik drie kernboustene van dié subgenre, naamlik (die rolle van) die teks, die akteur en die gehoor. Hierdie drie kernelemente gee onses insiens aanleiding tot vyf verdere kenmerke van die subgenre.

Die eerste kenmerk betref karaktertekening, wat volgens Catron (2009:25) sentraal staan in die eenpersoondrama. Die karakter word in isolasie van enige teen- of newespelers aan die gehoor bekendgestel. Laasgenoemde leer die karakter in die loop van die toneelstukopvoering ken, naamlik as iemand wat dikwels worstel met die (post)modernistiese stand van die “self”, en tipies hoofsaaklik deur middel van implisiete karakter(uit)beelding. Die gehoor vertolk daarom, as tweede subgenrekenmerk, ’n belangrike rol in die eenpersoondrama-opvoering. Die gehoorlede word as 't ware ingenooi om die ware “self” van die vertolkte karakter te ontmoet, maar om terselfdertyd iets van hul eie “self” in hom/haar te herken. Die gehoor kry daarom dikwels die rol van aangesprokene, van vertroueling, soms selfs die rol van byspeler of antagonis toebedeel.

Derdens is liries-poëtiese taalgebruik meestal kenmerkend van die eenpersoondrama. Daar word in die subgenre digterlik met woorde omgegaan – met ’n geneigdheid om eienskappe van al drie die basiese literêre modusse (liries, dramaties, verhalend) in te span.

Daar word vierdens baie klem gelê op storievertelling, met gevolglike inwerkingstelling van verhaalskeppingselemente in die opbou van die eenpersoondrama – wat tipies die benutting van kenmerkend narratiewe taalgebruikselemente in die hand werk.

Die laaste kenmerkende eienskap van die eenpersoondrama-subgenre is dat daar ’n voorkeur na gestroopte stelinkleding uitgaan, sodat dit in dié opsig ’n verwantskap vertoon met wat Grotowski as "arm toneel" gekenskets het. Inherent hieraan is die neiging tot minimalistiese teater, ’n tendens wat aanloklike uitdagings stel én tans, weens die finansiële lewensvatbaarheid van sulke produksies, die skep en benutting daarvan bevoordeel (Catron 2009:33).

’n Bewustheid van die komplekse samehang van bogenoemde kenmerke van die eenpersoondrama, asook van die verskillende vorme wat dit as subgenre (kan) aanneem, onderlê ons gevolgtrekking dat dié ingewikkelde subgenreverskynsel ’n selfs meer omvattende studie verdien as die een waarvan ons hier verslag gelewer het. Dit sou kon geskied by wyse van ’n meer omvattende en kritiese toetsing en fynere omskrywing van hoe die besondere kenmerke van die subgenre wat in hierdie artikel onderskei is, gestalte aangeneem het in ’n aantal primêre bronne, waaronder die Afrikaanse eenpersoondramas wat ons reeds te berde gebring het.

 

Bibliografie

Abrams, N.H. 1971. Natural supernaturalism: tradition and revolution in romantic literature. New York: W.W. Norton.

Anoniem. 1993. Ritsgids. Beeld, 30 Junie. http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1993/09/11/999/2.html (14 Augustus 2015 geraadpleeg).

—. 2009. Afrikaanse kunstefeeste “trek noustrop”, hoor Akademie. Die Burger, 30 Junie. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2009/06/30/SK/9/gcakamar_1756.html (23 Julie 2014 geraadpleeg).

—. 2015a. Thespis. The inventor of tragedy. https://rinintaayu.weebly.com/uploads/1/2/7/3/12733966/history_of_thespis.docx (18 Junie 2015 geraadpleeg).

—. 2015b. Wits webblad. http://www.wits.ac.za/witstheatre/24782 (14 Junie 2018 geraadpleeg).

Appleton, R. 2014. Review: Oscar and the pink lady. http://www.whatsonincapetown.com/post/reveiw-oscar-pink-lady (23 Junie 2015 geraadpleeg).

Argyle, J. en E. Preston-Whyte (reds.). 1978. Social system and tradition in Southern Africa. New York: Oxford University Press.

Bisschoff, A. 2013. Legende. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/19-l/106-legende (3 Mei 2016 geraadpleeg).

Bonney, J. 2000. Extreme exposure: an anthology of solo performance texts from the twentieth century. New York: Theatre Communication Group.

Bordman, G. en T.S. Hischak. 2004. Solo performances. In Bordman en Hischak (reds.) 2004.

Bordman, G. en T.S. Hischak (reds.) 2004. The Oxford companion to American theatre. http://www.oxfordreference.com/view/10.1093/acref/9780195169867.001.0001/acref-9780195169867-e-2878 (20 Julie 2014 geraadpleeg).

Brink, M.J. 1995. Storie en sprokie: ’n ondersoek na die sprokiesmotief in enkele populêre Afrikaanse romans. MA-verhandeling, Unisa.

Carlson, M. 1996. Performance: a critical introduction. Londen, New York: Routledge.

Catron, L.E. 2009. The power of one: the solo play for playwrights, actors, and directors. Illinois: Waveland Press, Inc.

Claycomb, R.M. 2003. Playing at lives: life writing and contemporary feminist drama. PhD-proefskrif, University of Maryland.

Conradie, P.J. 1998. Die drama: ’n inleidende studie. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. Monoloog. 2013. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php?option=com_content&view=article&id=136&catid=20 (13 April 2015 geraadpleeg).

Cope, T. 1978. Towards an appreciation of Zulu folktales as literary art. In Argyle en Preston-Whyte (reds.) 1978.

Davies, K. 2015. The 3rd Solo Theatre Festival. The 2015 National Arts Festival programme.

Du Plooy, H. 2010. Narratiwiteit in liriese verse: teoretiese aspekte van die bestudering van narratiewe inhoude, strukture en tegnieke in liriese poësie. Stilet, 22(2):36–62.

Engelbrecht, T. 1997. Sangeres Pienaar gaan in Europa optree. Beeld, 7 April. http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1997/04/7/10/1.html (20 Junie 2014 geraadpleeg).

Fitzsimons, R. 1970. Garish lights: the public reading tours of Charles Dickens. Philadelphia: Lippincott.

Geis, D. 1993. Postmodern theatric(k)s: monologue in contemporary American drama. Michigan: University of Michigan Press.

Gentile, J.S. 1989. Cast of one: one-person shows from the Chautauqua platform to the Broadway stage. Illinois: University of Illinois Press.

Gérard, A.S. 1971. Four African literatures: Xhosa, Sotho, Zulu, Amharic. Berkeley: University of California press.

Graver, D. (red.). 1999. Drama for a new South Africa: seven plays. Bloomington: Indiana University Press.

Grotowski, J. 1968. Towards a poor theatre. New York: Routledge.

Grové, A.P. 2013. Liriek. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/19-l/317-liriek (24 November 2014 geraadpleeg).

Hanekom, N. 2014. HOL. In Hanekom (red.) 2014.

Hanekom, N. (red.). Die pad byster. Pretoria: Protea Boekhuis.

Harvey, S. 2014. Crooked mirrors. http://virtuallinguist.typepad.com/the_virtual_linguist/2014/08/crooked-mirrors.html (18 Junie 2015 geraadpleeg).

Herman, D. 2009. Basic elements of narrative. Chichester: Wiley Blackwell.

Howell, J. 1979. Solo in Soho: the performer alone. Performing Arts Journal, 4(1):152–8. http://www.jstor.org/stable/4623771 (23 September 2014 geraadpleeg).

James, W. 1890. The principles of psychology, vol. 1. Londen: Dover Publications.

Jordaan, A. 2008. Stories wat die waarheid lieg, en stories wat leuens verdoesel – ’n blik op die "stories" in Indische Duinen (Adriaan van Dis, 1994), Sleuteloog (Hella Haasse, 2002) en Agaat (Marlene van Niekerk, 2004). Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 1(1). http://www.repository.up.ac.za/dspace/bitstream/handle/2263/14416/Jordaan_Stories(2008).pdf?sequence=1 (16 Junie 2015 geraadpleeg).

Joubert, E. 1989. Verhoog bly Bill Flynn se beste maat. Die Burger, 7 Desember. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1989/12/07/16/7.html (14 Augustus 2015 geraadpleeg).

Kalmer, H. 2012. Die Bram Fischer-wals. (Ongepubliseer).

Karvellas, G. 2013. Running on empty promo. Internet video. https://www.youtube.com/watch?v=fI1rvTqzi1g (23 Maart 2016 geraadpleeg).

Kennedy, A.K. 1975. Six dramatists in search of a language: studies in dramatic language. Cambridge: Cambridge University Press.

Keuris, M. en L. Krüger. 2014. South African drama and theatre heritage (part I): a map of where we find ourselves. South African Theatre Journal, 27(1):19–31.

Kuritz, P. 1988. The making of theatre history. Englewood Cliffs, NJ: Prentice Hall.

Liebenberg, W. 2013. Modernisme. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/keuselys/20-m/134-modernisme (18 Junie 2015 geraadpleeg).

Maguire, T. 2015. Performing story on the contemporary stage. Basingstoke: Palgrave Macmillan.

Mahomed, I. 1999. Cheaper than roses. In Perkins (red.) 1999.

—. 2015. Irene Stephanou keeps the satirist flag flying. The Herald, 1 Julie. http://www.pressreader.com/south-africa/the-herald-south-africa/20150701/281986081211929/TextView (5 Jun 2015 geraadpleeg).

Malan, M. 2013. Oskar … en die vertaler. Rapport, 30 Maart. http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2013/03/30/RH/6/31Maart-boek.html (23 Junie 2015 geraadpleeg).

Morris, G. 1989. Theatrical possibilities of the traditional Xhosa iintomsi: what do they offer here and now? South African Theatre Journal, 3(2):91–9.

Müller, J. 1996. Om tot verhaal te kom: pastorale gesinsterapie. Pretoria: RGN.

Nel, M. 2011. Die aard en funksie van die Afrikaanse kabaret en enkele aanverwante terme. MDRAM-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Odendaal, B.J. 2013. Raak- en verskilpunte tussen gedigte en liedtekste. Literator, 34(2). http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/viewFile/422/1372 (10 September 2017 geraadpleeg).

OED (Oxford English Dictionary Online). 2015a. Lyceum. http://www.oed.com.nwulib.nwu.ac.za/view/Entry/111541?redirectedFrom=Lyceum#eid (28 Junie 2015 geraadpleeg).

—. 2015b. Monodrama. http://www.oed.com.nwulib.nwu.ac.za/view/Entry/121376?redirectedFrom=monodrama#eid (28 Junie 2015 geraadpleeg).

—. 2015c. Monopolylogue. http://www.oed.com.nwulib.nwu.ac.za/view/Entry/121571?redirectedFrom=monopolylogue#eid (28 Junie 2015 geraadpleeg).

Oliphant, A.W. 2013. Swart literatuur in Suid-Afrika. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/25-s/242-swart-literatuur-in-suid-afrika (15 Junie 2015 geraadpleeg).

Pauw, D.A. 1994. Die term “dramaties”: terug na Aristoteles. Literator, 15(1):125–44. http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/viewFile/655/825 (24 November 2014 geraadpleeg).

Perkins, K.A. (red.). 1999. Black South African women: an anthology of plays. Kaapstad: Cape Town University Press.

Pople, L. 2013. Akteur minder belangrik as die storie. http://www.netwerk24.com/Nuus/Akteur-minder-belangrik-as-die-storie-20130331 (14 Augustus 2015 geraadpleeg).

Pretorius, W. 2009. ONT-. (Ongepubliseer).

Rademeyer, P. 2015. Adam twee. (Ongepubliseer).

Retief-Meiring, M. 2014. Biebouw-resensie: Die pad byster deur Nicola Hanekom. http://www.litnet.co.za/biebouw-resensie-die-pad-byster-deur-nicola-hanekom (17 Julie 2015 geraadpleeg).

Ribner, I. en H. Morris. 1962. Poetry: a critical and historical introduction. Chicago: Scott Foresman.

Rosenmeyer, T.G. 1981. Aristotelian ethos and character in modern drama. Proceedings of the IXth congress of the International Comparative Literature Association, 1:119–25.

Sandahl, C. 2003. Queering the crip or cripping the queer?: Intersections of queer and crip identities in solo autobiographical performance. GLQ: A Journal of Lesbian and Gay Studies, 9(1/2):25–56. https://www.ces.uc.pt/projectos/intimidade/media/Queering%20the%20crip_sandahl.pdf (24 Oktober 2014 geraadpleeg).

Sandok, T. (red.). 1993. Person and community. Selected essays. New York: Peter Lang.

Schiff, B. 2012. The function of narrative: toward a narrative psychology of meaning. Narrative works: Issues, Investigations & Interventions, 2(1):33–47. https://journals.lib.unb.ca/index.php/NW/article/viewFile/19497/21063 (15 November 2014 geraadpleeg).

Schmitt, E. 2013. Oskar en die pienk tannie. N. Morgan se Afrikaanse vertaling van Oscar and the lady in pink. Kaapstad: Human & Rousseau.

Scholtz, M.G. 2013. Bewussynstroomverhaal. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/9-b/22-bewussynstroomverhaal (23 November 2014 geraadpleeg).

Schoonees, P.C. (hoofred.). 1972. Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT). Pretoria: Die Staatsdrukker.

Smith, A. 2010. Nikolai Evreinov and Edith Craig as mediums of modernist sensibility. New Theatre Quarterly, 26(103):203–16. http://journals.cambridge.org/action/displayAbstract?fromPage=online&aid=7871176&fileId=S0266464X10000412 (16 Junie 2015 geraadpleeg).

Steenberg, E. 2013. Volksverhaal. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/28-v/269-volksverhaal (16 Junie 2015 geraadpleeg).

Stephanou, I. 2015. Irene Stephanou – actor, dramatist, educator: bio. http://irenestephanou.weebly.com/bio.html (5 Junie 2015 geraadpleeg).

Stones, L. 2014. The Bram Fischer Waltz: Brilliant, heartrending, a piece of history. http://www.dailymaverick.co.za/article/2014-09-22-the-bram-fischer-waltz-brilliant-heartrending-a-piece-of-history/#.Vwi8CIS8zFJ (4 Februarie 2016 geraadpleeg).

Teachout, T. 2012. I am my own playwright. https://www.commentarymagazine.com/articles/i-am-my-own-playwright (18 November 2014 geraadpleeg).

Van der Merwe, G. 2010. Kabaret in Suid-Afrika: kabarett of cabaret? MDRAM-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Van Deventer, M.S. 1974.Die dramatiese monoloog in Afrikaans. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Van Heerden, J. 2008. Theatre in a new democracy: some major trends in South African theatre from 1994–2003. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Venter, E. 2009. Santa Gamka. Kaapstad: Tafelberg.

Wallace, C. 2006. Monologues: theatre, performance, subjectivity. Praag: Litteraria Pragensia.

Wojtyła, K. 1993. Subjectivity and the irreducible in the human being. In Sandok (red.) 1993.

Young, J.R. 2012. Acting solo: the art and craft of solo performance. Kindle-uitgawe. http://www.amazon.com.

Zarrilli, P.B., B. McConachie‪, G.J. Williams en C.F. Sorgenfrei. 2006. Theatre histories: an introduction. Abingdon: Taylor and Francis.

 

Eindnotas

1 Die Krivoe zerkalo- (“Crooked mirror”-) kabaretgeselskap is in 1908 in Sint Petersburg gestig as ’n teaterklub wat in parodie spesialiseer. Die naam van die teater is blykbaar van die epigraaf van Gogol se bekende satiriese drama The Government Inspector (1830) afgelei. Die epigraaf lui (in Engelse vertaling): "If your face is crooked, don't blame the mirror" (Harvey 2014). Die produksies van Evreinov wat hier op die planke gebring is, het meesal na parodie geneig en volgens Chudovsky was dit bloot bedoel om oor "modern forms of extreme subjectivism" te besin (Smith 2010:206).

2 Catron (2009:27) skryf iets soortgelyks oor die eenpersoondrama: "[T]he character in the monodrama faces a major emotional situation, so important that he or she simply has no choice but to encounter and reveal those significant intimate secrets and truths."

3 Beckett skryf Not I in 1972, wat in 1973 vir die eerste keer, met Billie Whitelaw in die enkelrol, opgevoer is. Footfalls word in 1975 geskryf en vir die eerste keer in 1976 opgevoer. Rockaby, ’n 15-minuut-eenvrouvertoning, is in 1980 geskryf en maak in 1981 sy debuut. Jane Wagner het die bekroonde The search for intelligent life in the universe in 1985 geskryf, waarvoor Lily Tomlin in 1986 die Tony-toekenning as beste aktrise in ’n dramawerk ontvang het. Kyk Catron (2009:34).

4 Volgens Bisschoff (2013) ’n lewensbeskrywing van ’n heilige wat ’n verwantskap met die mite vertoon, aangesien dit oor ’n voorbeeldkarakter handel. Die mite verskil van die legende in dié opsig dat ’n mite om gode en helde wentel, terwyl ’n legende oor die lewe van ’n heilige handel. ’n Legende bevat verder ’n groter element van waarheid as ’n mite.

5 Santa Gamka, verwerk en vertolk deur Marlo Minnaar, het by die 2015-KKNK sy debuutopvoering beleef.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die eenpersoondrama as (steeds ontluikende) subgenre: ’n skets van sy ontwikkelingsgang en kenmerke appeared first on LitNet.

Press release: Nigerian-German writer Efua Traoré named regional winner for Africa in 2018 Commonwealth Short Story Prize

$
0
0

The Nigerian-German writer Efua Traoré was announced the regional winner for Africa in the world’s most global literary prize. Traoré, who grew up in a little town in the south of Nigeria, wins with a first person narrative that sees a 13-year-old boy wrestle with the question of what it means to find "True Happiness".

The Commonwealth Short Story Prize is awarded for the best piece of unpublished short fiction from the Commonwealth. It is the only prize in the world where entries can be submitted in Bengali, Chinese, English, Malay, Portuguese, Samoan, Swahili, and Tamil.

The international judging panel, chaired by the novelist and poet Sarah Hall, has chosen the five regional winners – tackling issues from abortion to transgender identity, from religion to mental illness – from a shortlist of 24, with 5 182 stories submitted from 48 Commonwealth countries.

The Commonwealth Short Story Prize is run by Commonwealth Writers, which develops and connects writers across the world and tackles the challenges they face in different regions. Commonwealth Writers is the cultural initiative of the Commonwealth Foundation, whose Director-General, Vijay Krishnarayan, said of this year’s winners: “ These remarkable stories are testament to the vitality and range of writing from around the Commonwealth, to the importance of a truly international prize: one that works across linguistic and cultural boundaries.”

Sarah Hall

Sarah Hall said: “Each of the winning regional stories speaks strongly for itself in extraordinary prose, and speaks for and beyond its region, often challenging notions of identity, place and society. Individually, the stories exhibit marvellous imaginative and stylistic diversity; together, they remind us that our deeper human concerns and conundrums are shared, and that the short story form is uniquely adept at offering the reader a world in which she or he might feel a sense both of belonging and un-belonging, might question his or her understanding of the world.”

Efua Traoré

Efua Traoré said: “Africa – and in particular Nigeria – has the most amazing story-tellers. This prize gives me the humbling feeling of being part of something great. I am truly honoured.”

Representing linguistic diversity and the richness of varied literary traditions, the five winning stories are a showcase of some of the best talent at work across the Commonwealth right now.

The prize is judged by an international panel of writers, representing each of the five regions of the Commonwealth. The 2018 judges are Damon Galgut (Africa), Sunila Galappatti (Asia), Kateri Akiwenzie-Damm (Canada and Europe), Mark McWatt (Caribbean), and Paula Morris (Pacific).

The prize partners with the British literary magazine Granta, which will publish all regional winner stories online, starting today, featuring one story a week on a Wednesday.

Luke Neima, Granta’s Online Editor, said: “Granta magazine is delighted to be introducing the storytellers and writers who have been awarded the 2018 Commonwealth Short Story Prize to our readers. This year ’s selection introduces exciting emerging talents from around the world, writers who bring to their readers a thrilling and essential glimpse of the tradition, culture and vibrancy of life across the Commonwealth. Here is a rich new seam of voices, ideas, and talent from around the world.”

The five regional winners are:

  • The Nigerian-German writer Efua Traoré, who grew up in a little town in the south of Nigeria, wins in Africa with a first person narrative that sees a 13-year-old boy wrestle with the question of what it means to find "True Happiness".
  • Jenny Bennet-Tuionetoa, a human rights advocate and LGBTQIA activist from Samoa, is being awarded in the Pacific region for "Matalasi", a story that covers the lifetime of a young transgender man, set on the day of his agreed wedding – as a woman.
  • In "Passage", Kevin Jared Hosein, who also won the Caribbean regional prize in 2015, sends his midlife crisis-ridden protagonist into the wilderness in search for a mystery woman – with unforeseen consequences for others, and for himself.
  • The British writer and former videogame producer Lynda Clark is being awarded in Europe for "Ghillie’s Mum" – a surrealist take on a mother and son relationship that explores mental illness in a fresh and unusual way.
  • In Asia, the regional prize goes to Sagnik Datta, a writer from Siliguri, India, for "The Divine Pregnancy in a Twelve Year Old Woman", which sees a small village confronted with the mother ’s decision not to bear the child of God.

The overall winner of the 2018 prize will be announced at a ceremony in Cyprus on 25 July 2018.

Also read:

Press release: 2018 Commonwealth Short Story Prize shortlist announced

The post Press release: Nigerian-German writer Efua Traoré named regional winner for Africa in 2018 Commonwealth Short Story Prize appeared first on LitNet.

Dalk is dit nuus

$
0
0

Êrens in die wye Kaap slaap daar vanaand ’n motortjie of dalk ’n mens of ’n dier onder ’n seil wat nie aan hom, dit of haar behoort nie.

My openingsreël hou nou nie juis besondere nuuswaardigheid in nie, maar dit was tog die wekroep wat my sluimerende kwelling oor vrae met én sonder antwoorde vandag nodig gehad het …

Die werklikheid waarin ons lewe, is dat daar ontelbaar baie nuuswaardige dinge elke oomblik van elke dag in ons lewensruimte ingepomp word. Laasgenoemde is op sigself nie aardverwarmende nuus nie. 

Die ander werklikheid is dat daar nie een oggend of ’n aand is wat ek en die geliefde nie ’n meestal nuttelose nuusopskrif met mekaar deel en soos vername ontleders, sonder antwoorde, strompel om kommentaar oor  “21 mynwerkers het hierdie jaar al gesterf; drie plaasmoorde binne 26-uur; Zetler se moord; ‘n vermiste tienersokkerspan in Thailand; Ashwin Willems ... Roger Federer … Julius ....” en die kuberkrakers en die geldwa-rowers en … ons kind se kar se seil wat vannag gesteel is, te lewer nie!

Vir ’n aantal maande is dit asof ek net nie die gedagtes wat normaalweg redelik gemaklik en gereeld in my gemoed rondwip, kan vastrek en neerpen nie.

Ek het soms getwyfel of dit werklik ék was wat die lawwe opstelletjies en ander goedjies die afgelope sewe, agt jaar geskryf het en of dit nie maar net ’n stowwerige herinnering aan ’n tydelik beheptheid met gevoelens en sulke goeters was nie.

Ek het soms net na my gedagtes gesit en staar en probeer sin maak uit die absolute gebrek aan skryflus, om selfs nie eens van die afwesigheid van ordelike denke te praat nie!

Ek het meer as telkemale die afgelope maande kriewelrig voor my eie oordeel geswig en sake-, mense- en geestesgoeters laat verby seil sonder om ’n stap nader aan my eie ervaring daaroor en daarvan te gee.

Dit is en was ’n toestand wat my gefrustreerd en hartseer en befoeterd laat; ’n toestand wat my herinner aan die dae toe ek die krake toegestop het, eerder as om dit oop te krap en te wys; ’n toestand wat sekerlik nie sonder rede ontwikkel het nie en waaraan iets gedoen kan word.

’n Ruk gelede het ’n ander kerkmens se beskouing, dat skrywers soms die mag van die pen misbruik om agter te skuil, my nogal onkant betrap, amper soos ’n nommer 10 wat beide die  flanke en die bal gelyktydig teen sy bors moet vang!

Onderstebo sê ek jou.

’n Keerpunt in my soeke na skriftelike lus was egter toe ’n sosiale blad se vriend die afgelope naweek Martin Luther aangehaal en met ’n onbeplande insetsel en so die struweling in my gedagtes na ’n slotsom help vervoer het met:  “As jy die wêreld wil verander, tel jou pen op en skryf.”

Dít is wat joernaliste die wêreld en internet vol doen. Elkeen wat ’n rubriek of ’n artikel oor die een of ander leeswaardige gedagte/gebeurtenis/persoon/land/span of planeet kan skryf, doen so en elke uitgewer op elke nuusplatform en publikasie gryp dit, betaal dit en versprei dit.

Die een wat die nuus vinniger en verder kan versprei wen die resies vir ’n oomblik, tot die volgende oomblik wanneer die volgende nuusberig die wêreld tref asof dit die tol van die bol wil tilt!

24 uur van elke dag en elke keer wanneer ek my slim-foon optel, die rekenaar oopmaak; tydig en ontydig, genooid en selfs ongevraagd.

Die nuus is voor my aangesig, ek sien dit, lees dit, glo dit … daar tussen my gemoed en my gedagtes dring die nuus hom in en soos die einste nommer 10, skop die nuus die wil vir iets meer en beter die pawiljoen in.

Weg was my behoefte om ’n “wêreld te wil verander” en weg was my oortuiging om bo die swaartekrag van ons omstandighede uit te beur en my selfverloëning te keer, om die “pen” op te neem, om die gedagtes wat tussen my “hart” en “verstand” vasgevang sit uit te kry, al is dit net vir myself.

Vriend Jannie het baie jare gelede vertel hoe hy die nuusdraers van daardie dae, dit is: koerante en die draadloos en die insypelaar van die gesinstyd, daardie  telekommunikasiestelsel vir uitsaai en ontvangs van bewegende prente, oorwegend uit- en afgeskakel het. Hoe hy sy tyd en gedagtes eerder op die dag se beter prioriteite en sy mense leer bestee het; en Jannie is reg.       

Die beswaarmaker-saamlesers sal beslis nou te velde kan trek en standpunte rondslinger dat “’n mens moet weet wat in die wêreld aangaan” en  dat “net ’n volstruis sy kop in die sand druk” en hoop dat die gevaar sommer self sal weggaan. 

Elke denker en volgeling van die nuus sal uiteraard suiwere waarheid in hierdie argument vind, behalwe ek.

Ek wíl weet wat in die wêreld aangaan, wanneer ek verkies om te weet; ek wil ingelig en bekommerd raak oor die nuusopskrifte en moorde en dit en dat, sonder dat dit my besonderse denke daagliks verswelg. Ek wil my gedagtes daaroor brei en giet in ’n vorm wat my pas, sonder voorskrif of ’n ander se beheer.  

Op neef Philip se koffietafel het daar altyd ’n beeld-afdruk van “Die Denker” gestaan – miskien staan dit steeds daar, ek weet nie.

Die krom kaal manlike figuur sit peinsend oor sy hand en staar; diepdenkend en vir my ’n versinnebeelding van hoe kwesbaar ’n mens onder die kwelling van vrae met én sonder antwoorde kan wees; hoe kwesbaar ’n gemoed teen die aanslag van die nuus kan wees.

Dalk is dít tóg nuus.

 

The post Dalk is dit nuus appeared first on LitNet.

Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey: ’n resensie

$
0
0

Jeremy vannie Elsies
Jeremy Vearey
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084105
Prys: R270

Lank nadat hierdie leser Jeremy vannie Elsies deur generaal-majoor Jeremy Vearey van die Suid-Afrikaanse Polisiediens neergesit het, is dít wat haar bybly: die skrywer-verteller-hoofkarakter (of is hy die hoofkarakter, dié verteller?) se onverskrokke, vasberade, selfs onwrikbare, dog deernisvolle en empatiese manier van wees (“being”), ingegee en gevorm deur die mense, ruimtes en tye met wie en waarmee sy “lewensloop” verbind is.

In Jeremy vannie Elsies gee Vearey allereers rekenskap van sy politieke ontwaking, eers as sesjarige wie se gees van verset teen onreg ingeboesem is deur sy ma en deur die “groot gidse van Elsiesrivier se loopstories wat my deur my komvandaan gelei het”. Hy vertel hoe sy politieke bewussyn later onder meer geslyp is in geheime politieke leeskringe en kerkjeugkampe, oor die (Afrikaanse) Kommunistiese Manifes, Afrikaans as struggle- en bevrydingstaal, ondergrondse werk vir MK en sy tyd op Robbeneiland.

Maar sy politieke “grootloop”, om ’n uitdrukking uit Jeremy vannie Elsies te leen, kan nie losgedink word van sy plek in hierdie land en haar geskiedenis en die mense en ruimtes wat hom op sy grootloop tot menswees begelei (het) nie. So kom loop in sy spore deur landskappe wat tot nou kwalik, indien ooit, in die Afrikaanse literatuur tot lewe gebring is: Elsiesrivier (Elsies) en “ons djaart in Balvenielaan [...] noordoos deur die sinkbedekte sandveld van Malawikamp verby meneer Matunsi se huis”, verder “oor die sandvelde deur sinkkrale tot by dokter Arnold se steenhuisspreekkamer in Connaughtweg”, verby “die nuwe munisipale bloksteenhuise van Uitsig met hulle blikdeure waar elke plek sy eie djaart het”, verder aan tot by die “skipbouers van Eureka-landgoed” voordat jy langs “die weë van ons gemeenskaplikheid” in Tiervlei beland.

Vergis jou nie, dié Tiervlei is nie die Tiervlei in byvoorbeeld Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie. Nee, dié Tiervlei is die een duskant Fransie van Zijl-rylaan, agter jou as jy hier gesigkant Tygerberg-hospitaal toe staan, die Tiervlei wat later tot Ravensmead herdoop is. Die ander Tiervlei het Parowvallei loop word.          

Anastasia de Vries (dosent by die departement Afrikaans en Nederlands, UWK)

Anastasia de Vries was die gesprekvoerder by die bekendstelling van Jeremy Veary se boek op 31 Mei 2018 by The Book Lounge in Kaapstad.

Maar soos in Goosen se boek, is Vearey se Tiervlei, en omstreke, ook nie bloot agtergrond vir die gebeure nie, maar is dit ’n lewende werklikheid. Op sy “kuierstaptogte” tot in alle uithoeke van Elsies, Uitsig en Tiervlei/Ravensmead hoor jy uit die “loopstories” van verskillende vertellers oor die uitwerking van apartheid en veral die Groepsgebiedwet, die versplintering en ontworteling van families en gemeenskappe wat op dié sandvlaktes hul “djaart en huise probeer herbou het nadat hulle onderskeidelik deur die Boere uit Goodwood en Constantia gegooi is”.

Uit hierdie sober, byna kliniese vertellings ‒ gestroop van sentimentaliteit, nostalgie, melancholie  of  “ag, sjym” ‒ leer jy iets verstaan van ontworteling, van mense wat nie “eintlik uit eie wil” trek nie; “ons swerf altyd tot ons weer uitgegooi word”. Jy leer meneer Matunsi ken wat op dieselfde gestroopte wyse vertel dat hy en sy vrou van hul Elsies-tuisgrond na Gugulethu moet verskuif. Dit gryp jou aan die keel, dié onderspeelde pyn van behoort-mense uit verskillende kulture wat in dié tyd van mekaar vervreem is.  

Jy hoor van die mensontering van die sogenaamde potloodtoets wat families uitmekaar geskeur en “vervalste” wit mense (familielede wat die toets geslaag het) geskep het. Daar is die verhaal van ene Broer van As wat vertel hoe hy kort na hul uitsetting sy bloedbroer,’n “vervalste wit man”, in hul geboortehuis in Goodwood gaan besoek het en toe gevra is om by die agterdeur in te kom. Sy koffie is later in ’n konfytblikbeker in die agterplaas bedien.    

Dis inderdaad ’n grootloop dié, in die eerste plek ’n grootloop na die belewenis van ons verlede in leefwêrelde wat menige Suid-Afrikaner dalk ooit slegs in en deur die literatuur sal leer ken. Maar dis ook die grootloop van “almal se antie Annette” se “klong”, van laaitie tot versetstryder, politieke gevangene tot spioen, lyfwag vir wyle pres. Nelson Mandela en later polisiehoof, steeds getrou aan die grondbeginsels van sy “dieper reg”, om dit “in belang van ander te leef en nie net stilletjies in jou bewussyn te koester nie”.

Want bowenal is hy “Jeremy vannie Elsies” ‒ vannie nie uit Elsies nie ‒ en in dié besitsvorm lê sy verweefdheid met hierdie plek en sy mense opgesluit,  ’n verweefdheid wat daarvoor sorg dat sy lewensgeskiedenis vertel word as die storie van ’n mens wat tot nou nooit sy waarheid oor sy plek in hierdie ruimte, en ’n groter Suid-Afrikaanse ruimte, vergeet het nie. Daarom skroom hy nie om in sy boek die geweld en bendebedrywighede, die onkruid wat “my kweekgrond onvrugbaar maak, die Elsiesrivier, Uitsig en die Kaapse Vlakte van my komvandaan”, nes die gruwels en vergrype van apartheid aan ’n skandpaal te spyker nie.

Die vraag is: Hoe onthou hy en hoe (en deur wie) word daar in Jeremy vannie Elsies oor die verlede vertel (geskryf)? Die fokus van hierdie bespreking is vervolgens op die manier waarop die boek met die verlede omgaan, die verskillende vertelstrategieë wat gebruik word om die belewenis van historiese gebeure uit te beeld en die taal waarin hierdie geskiedenis opgeberg word.

’n Mens se geheue kan jou parte speel, en ’n waarheid wat uit onthou gekonstrueer word, kan maklik afgemaak word as “aangedik”, weet die skrywer klaarblyklik baie goed. In sy bedankings noem hy dan byvoorbeeld sy “antie Rosie wie se waardevolle en soms onbewustelike redaksionele insette gesorg het dat ek so getrou as moontlik aan die gemoedstemming van die verlede en hede, gevoelswaardig oor ons komvandaan skryf”.

Sy boek sit vol van die name van lewende getuies (google hulle gerus) van sy lewensgeskiedenis, terwyl belangrike intertekste soos foto’s, briewe en ander dokumente sy storie konkreet uitdra. (Hoewel dit nie die fokus van hierdie bespreking is nie, kan die intertekstuele samespel in die boek, waaronder die werk van N.P. van Wyk Louw en selfs ’n resep, interessante interpretasies oplewer.)        

Vearey se narratief is grotendeels outobiografies, in die eerstepersoon, maar begin heel interessant in die tweedepersoon waarna “groot Jeremy” van die tweede sin tot ongeveer die helfte van bladsy 2 oor “klein Jeremy” in die derdepersoon vertel. Reken hierby ’n veelheid van stemme wat tussen sy vertellings en oorvertellings meestal in die direkte rede en stukke dialoog saam met hom sy storie vertel, saam met hom skryf aan sy lewensreis wat strek van sy kleintyd tot die mens wat hy nou is.

In terme van laasgenoemde is Jeremy vannie Elsies ’n Bildungsroman, maar Vearey verskriftelik ook ’n orale tradisie wat leef in gemeenskappe soos Elsies, Uitsig en Ravensmead, naamlik die sny van ’n stuk. Hiermee word bedoel ’n soort gemeenskaplike storievertellery (verkieslik op ’n jaart om ’n ghellie of ’n damstafel – sien Vearey se boek), geweef uit ’n stukkie onthou van dié een en ’n brokkie van daai een en nog een en nog een. Kompleet ’n tapisserie, ’n beeld wat prominent in sy boek figureer.

Belangrik by die sny van ’n stuk is dat alle vertellers gelyk is, dat elke stem tel en elke invulling van of aanvulling tot die stuk waarde het. Sommige smeer (vertel lekker vetterig met byvoorbeeld klankeffekte of stemnabootsings) of sny dalk interessanter as ’n ander en die een onthou meer en helderder as ’n ander, maar niemand het alleenaanspraak op die waarheid nie. Vearey se boek, waarin die stem van die verteller afgewissel word met dié van ander, is ’n knap illustrasie van hierdie orale verteltradisie.

Met sy boek se wisselende perspektiewe op die verlede vermy die skrywer-verteller juis alleengesag oor (die) waarheid, is die ander vertellers so gesaghebbend soos hy en is hulle die hoofkarakters in hul eie weergawe van gebeure, gelykes, mense met inherente waarde. Hulle is die stemme wat kleur en krag aan sy woorde gee. Hy ís, want hulle was (is).

Kyk gerus hoe hulle die draad van sy vertelling en oorvertelling optel en in hul eie stem verder vertel, soos onder andere sy ma Annette, sy wat in woord en daad “allemagtig” is, amper nes sy ouma se “God Jehova”, wat “die hele wêreld” laat stilstaan “as sy sê stop”. Soos die dag by Parowstasie in die donker bek van die Whites Only-duikweg toe sy en haar “krygsvroue” ’n spul mannehekwagters van apartheid bestorm het of toe sy met ’n “Missus Vearey to you” menswaardigheid van ’n “baas” geëis het ... Patriargie, enigiemand?

Laat ek nou maar kleur beken: dié boek het my, wat uit ’n sterk matriargiale gemeenskap kom, meer as een maal laat uitroep: Womandla! ’n Mens mag mos saam praat, saam onthou,  laat blyk die openingsin van Vearey se narratief in die tweedepersoon immers. Met hierdie tegniek skep hy ’n aangesprokene wat ingesuig word by die onthou van wie ons was, wie ons is. Dit is veelbetekend dat sy narratief ook in die tweedepersoon eindig, asof hy sy leser vir oulaas ook tot nadenke wil stem oor hoe ons geword het wat ons is: “Maar by the way, soe in die verby, kaantie, wies djy?” Dis in die verby se onthou, so leer sy boek, dat mens tot jou dieper reg kom en “daardeur welwillend in gemeenskaplike belang van die groter ons”.

Ten slotte: so lustig soos wat die rumtes in Jeremy vannie Elsies saampraat, so ook die taal. Sy taalbewussyn, veral van die rykheid van Afrikaans se verskillende skakerings, word soos sy menswees deur verskillende mense gevorm, onder wie sy oudste neef, Louis, wat praat van “Ôs Afrikaans is original. Djulle moet wys raak dat hulle force allie tyd hulle valse Afrikaans byrie skool”. Sy ma het “ons manier van Afrikaans en Engels praat as ’n vorm van rebellie teen hierdie apartheidsafrikaans beskou”.  

Maar dis wyle Jakes Gerwel wat hom aangespoor het om “hierdie boek in die Kaaps/Afrikaans van my lewenswêreld te verbeeld”. Toe loop haal hy dit eers daar diep, by sy mense in sy komvandaan, daai Afrikaans “soes ôssit maa altyd gepraat het”, sê hy by die bekendstelling van sy boek op 31 Mei. “Memory lies in language” mos, het die Keniaanse skrywer, Ngũgĩ wa Thiong'o, in 2003 tydens ’n Steve Biko-lesing gesê. En bygevoeg dat ’n man wat sy geskiedenis (“memories”) en denke in ’n ander man se taalvorm giet, is soos iemand wat sy graan in ’n ander man se skuur opgaar.

Aikôna. In Jeremy vannie Elsies is Vearey se denke en onthoue opgeberg in sy eie skuur, in ’n Afrikaans wat van oral kom, daar waar daar misdaad is, van die manne en vroue in blou wat saam met hom veg vir ’n land waar die kinders kan lag en speel, die Afrikaans van die veles met wie hy daagliks te doen kry. Wat hy vervolgens in sy boek met al die Afrikaanse doen, is presies dit wat al in menige akademiese geskrif geskryf is oor die saambestaan van Afrikaans se verskillende manifestasies: hy maak Kaaps en die verskillende variasies van die algemene omgangstaal staan langs en tussen gestandaardiseerde Afrikaans deur.

Die resultaat is ’n Afrikaans waarin Kaapse verbuigingsvorme, wat trekke van Nederlands vertoon, soos “ouere man”, saam met die gebruik van selfstandige naamwoorde soos “slaaf” en “bandiet” as werkwoorde teruggevind word. Waarskuwing: ’n Konstruksie wat al hoe meer in die omgangstaal gehoor word, naamlik  “die man, vrou of kind wie”, pleks van wat kan dié van ons wat in taalreëls dink, in ons spore laat vassteek. Dalk is dit die idee: ’n Afrikaans met ’n stadiger ritme, asof ook die taal moet meewerk om die leser “soe in die verby” te laat besin oor “kaantie, wies djy”?

  • Foto's verskaf deur René Arendse (Afrikaans.com)

Lees ook

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey

The post <i>Jeremy vannie Elsies</i> deur Jeremy Vearey: ’n resensie appeared first on LitNet.

Viewing all 21544 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>