Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21534 articles
Browse latest View live

Persvrystelling: Skryf nou in vir 2018 kykNET-Rapport Boekpryse

$
0
0

Uitgewers word hartlik uitgenooi om boeke voor te lê vir die 2018 kykNET-Rapport Boekpryse ter waarde van altesaam R500 000.

Die pryse word toegeken in die volgende kategorieë:

  • Beste Afrikaanse volwasse roman (R200 000)
  • Beste Afrikaanse niefiksie-boek (R200 000)
  • Afrikaanse roman of niefiksie-boek met die meeste filmiese potensiaal (R100 000)

Dit is ’n letterkundetoekenning. Deelname word nie beperk nie, maar uitgewers word vriendelik versoek om goeie oordeel aan die dag te lê met die voorlegging van boeke in die verskillende kategorieë.

  • Slegs gepubliseerde boeke wat tussen 1 Januarie 2017 en 31 Desember 2017 verskyn het, kom in aanmerking vir die kykNET-Rapport Boekpryse. Let asseblief streng op die reëls vir deelname. Die sameroeper is nie verantwoordelik vir boeke wat verkeerdelik voorgelê is nie.
  • Skrywers se toestemming moet in alle gevalle vooraf verkry word.
  • Geen selfpublikasies word oorweeg nie.
  • Boeke moet oorspronklik in Afrikaans geskryf wees. Indien boeke gelyktydig in Afrikaans en Engels verskyn het, kom die Afrikaanse uitgawe in aanmerking vir die prys mits dit deur die skrywer self vertaal is.
  • Biografieë val onder niefiksie en mag nie in albei kategorieë ingeskryf word nie.
  • Voltooide inskrywingsvorms sowel as 11 eksemplare van elke boek moet die sameroeper bereik voor of op die sperdatum: 10 November 2017. Indien boeke ná hierdie datum verskyn, moet die sameroeper in kennis gestel word en dit apart gekoerier word.

Adres waarheen boeke versend moet word per koerier:

kykNET-Rapport Boekpryse
p/a Hettie Scholtz
Longmerestraat 18
Schonenberg Estate
Somerset-Wes 7130

Navrae kan gerig word aan die sameroeper Hettie Scholtz by scholtz5@mweb.co.za of 021 851 7860 / 084 583 0272. Besoek ook www.kyknetrapportpryse.co.za vir meer inligting.

The post Persvrystelling: Skryf nou in vir 2018 kykNET-Rapport Boekpryse appeared first on LitNet.


Press release: Bookings open for the Fugard Bioscope National Theatre Encore Season

$
0
0

The popular Fugard Bioscope has announced an exciting encore line up for the holidays with the National Theatre Encore Season. 

The National Theatre Encore Season is a chance to re-experience some of the most popular recorded live theatre titles of the 2017 bioscope season, featuring the best of British theatre screenings as well as some new titles from the comfort of a Fugard Theatre seat, with its full size high definition cinema screen and 7.1 Dolby Digital surround sound system. The productions are filmed live, transporting you directly into the heart of the action on stage. 

“Theatres such as the National Theatre, Bristol Old Vic and the Barbican Theatre are world leaders in the creation of theatre,” says Greg Karvellas, Resident Director and General Manager of the Fugard Theatre. “We are delighted to be able to bring this magic to Cape Town audiences with the National Theatre Encore Season. We have also included some Monday night slots for additional viewing in addition to our Sunday morning screenings. Look out for further announcements soon about the programme for the 2018 Cinema Season.” 

The line-up:

  • Sunday 17 December 2017 – 11 am – Twelfth Night
  • Sunday 23 December 2017 – 11 am –  Peter Pan
  • Sunday 7 January 2018 – 11 am – Who's Afraid of Virginia Woolf?
  • Sunday 14 January – 11 am – Rosencrantz and Guildenstern are Dead
  • Monday 15 January – 7pm – Angels in America pt 1
  • Sunday 21 January – 11am – Obsession
  • Monday 22 January – 7pm – Angels in America pt 2
  • Sunday 28 January – 11 am – Amadeus

Tamsin Greig is Malvolia in a new twist on Shakespeare's classic comedy of mistaken identity, Twelfth Night. Where music is the food of love, and nobody is quite what they seem, anything is possible. Simon Godwin (NT Live: Man and Superman; NT Live: The Beaux' Stratagem) directs this joyous new production. “Fabulously funny, dazzling and finely tuned.” – Radio Times

Peter pan is a delight for all the family.  JM Barrie's much-loved tale of Peter Pan and the Lost Boys, Wendy Tinker Bell, Tiger Lily and the vengeful Captain Hook in a riot of magic, music and make-believe. 
Sally Cookson (NT Live: Jane Eyre) directs this wondrously inventive production, a co-production with Bristol Old Vic theatre. “Delightful. Magic. Unforgettable.” The Guardian

Who's Afraid of Virginia Woolf? Sonia Friedman Productions present Imelda Staunton (Gypsy; Vera Drake; the Harry Potter films), Conleth Hill (Game Of ThronesThe Producers), Luke Treadaway (A Street Cat Named Bob, The Curious Incident of the Dog in the Night-Time, The Hollow Crown) and Imogen Poots (A Long Way Down, Jane Eyre) in James Macdonald's critically acclaimed, multiple five-star production of Edward Albee's landmark play, broadcast from the Harold Pinter Theatre in London.

Rosencrantz and Guildenstern are Dead: David Leveaux's new production marks the 50th anniversary of the play that made a young Tom Stoppard's name overnight. Daniel Radcliffe (Harry Potter; The Woman in Black), Joshua McGuire (The Hour) and David Haig (Four Weddings and a Funeral; The Witness for the Prosecution) star in this brilliantly funny situation comedy, broadcast from The Old Vic Theatre in London.

The new staging of Tony Kushner's multi-award winning two-part play Angels in America is directed by Olivier and Tony Award-winning director Marianne Elliott (The Curious Incident of the Dog in the Night-Time and War Horse). America in the mid-1980s. In the midst of the AIDS crisis and a conservative Reagan administration, New Yorkers grapple with life and death, love and sex, heaven and hell. Andrew Garfield (Silence; Hacksaw Ridge) plays Prior Walter along with a cast including Denise Gough (People, Places and Things), Nathan Lane (The Producers), James McArdle (Star Wars: The Force Awakens) and Russell Tovey (The Pass). “A start-to-finish sensation.” – Daily Telegraph

In Obsession Jude Law (The Young Pope; Closer; The Talented Mr Ripley) stars in this new stage adaptation of Luchino Visconti's 1943 film, broadcast from the Barbican Theatre. Ivo van Hove (NT Live: A View from the Bridge; Hedda Gabler) directs. Gino is a drifter, down-at-heel and magnetically handsome. At a roadside restaurant he encounters husband and wife, Giuseppe and Giovanna. Irresistibly attracted to each other, Gino and Giovanna begin a fiery affair and plot to murder her husband. But in this chilling tale of passion and destruction, the crime only serves to tear them apart.

Music. Power. Jealousy.  Lucian Msamati (Luther; Game of Thrones; NT Live: The Comedy of Errors) plays Salieri in Peter Shaffer's iconic play, Amadeus filmed at the National Theatre, and with live orchestral accompaniment by Southbank Sinfonia. Wolfgang Amadeus Mozart, a rowdy young prodigy, arrives in Vienna, the music capital of the world - and he's determined to make a splash. Awestruck by his genius, court composer Antonio Salieri has the power to promote his talent or destroy his name. Seized by obsessive jealousy he begins a war with Mozart, with music, and ultimately, with God. Five stars from the Sunday Times, Daily Telegraph, Time Out, Independent and The Stage.  

Tickets for the Bioscope are limited and sell out quickly, so don’t delay to book your seat. 

Tickets cost R100 and can be booked through Computicket on 0861 915 8000, online at www.computicket.com or at any Shoprite Checkers outlet. Bookings can also be made at the Fugard Theatre box office on 021 461 4554.

The Fugard foyer bar is open from 10am on Sundays and 6pm on Mondays, serving a range of delicious light snacks as well as the finest coffee, wine and drinks.

The Fugard Theatre is situated in the heart of District Six, on the corner of Harrington and Caledon Streets, Cape Town. Harrington Street car park is located at the corner of Caledon and Harrington streets and is available for the use of Fugard Bioscope patrons.

For further information about the National Theatre Encore Season and future announcements regarding the 2018 Cinema Season, visit www.thefugard.com

The post Press release: Bookings open for the Fugard Bioscope National Theatre Encore Season appeared first on LitNet.

In ’n Tanzaniese tronk

$
0
0

Sibongile Ndashe, ’n bekende Suid-Afrikaanse menseregteprokureur, is onlangs saam met nog ’n regsverteenwoordiger en hul kliënte in Dar es Salaam in hegtenis geneem.1

Hul misdryf? Volgens die polisie het hulle homoseksualiteit promoveer. Volgens ISLA, Institute for Strategic Litigation in Africa, waarvan Ndashe die uitvoerende direkteur is, was sy besig om te konsulteer ter voorbereiding van ’n hofgeding om die Tanzaniese regering te verhoed om gesondheidsorg, onder andere vir MIV-positiewe persone, te beëindig. Die enigste afleiding is dat die Tanzaniese owerhede nog steeds glo dat MIV en Vigs homoseksuele siektes is, iets wat in die res van die wêreld, en selfs in ander dele van Afrika, lankal as ’n gevaarlike mite ontmasker is.

Volgens ISLA is daar nie ’n misdryf soos promovering van homoseksualiteit op die Tanzaniese wetboeke nie, en hulle voer dus aan dat Ndashe onwettig in aanhouding is. Die feit dat sy, en die ander, teenstrydig met die Tanzaniese grondwet nie binne 24 uur voor ’n hof gebring is nie, versterk ISLA se argument. Dit help Ndashe egter maar min. Ten einde ’n regsargument te kan bring moet sy voor ’n hof gebring word, en dit gebeur nie.

Om in ’n vreemde land in aanhouding te wees moet seer sekerlik enigeen se ergste nagmerrie wees. Die oomblik as ’n mens immers voet in ’n ander land sit, onderwerp jy jouself aan die regstelsel en die norme van daardie land. Daar is vroeër vandeesweek juis berig oor ’n Britse burger wat in die Midde-Ooste tot gevangenisstraf gevonnis is nadat hy aan ’n ander man se heup gevat het. Ter verdediging het hy aangevoer dat hy wou keer dat hy nie sy bier stort nie. Toe word hy op sy eie weergawe ook daarvan aangekla dat hy alkohol misbruik het.

Dis dan wanneer mens regtig steun op jou land se ambassade. Ek wonder of die Tanzaniese polisie daaraan gedink het, of daarvoor omgegee het, dat hulle ’n internasionale insident veroorsaak met die volgehoue aanhouding.

In terme van aanvaarde diplomatieke praktyke moes Tanzanië dadelik die Suid-Afrikaanse ambassade in kennis gestel het dat twee van hul burgers in aanhouding is. Hulle moes verder die ambassade toegelaat het om met die burgers in aanhouding in verbinding te tree.

Volgens berigte is die ambassade wel in kontak met Ndashe.

Die Suid-Afrikaanse regering was nog altyd baie versigtig daarvoor om nie in te meng in ’n ander land se regsprosesse, of om voorskriftelik of onnodig krities skyn te wees in die wyse waarop hulle optree nie. Veral in die konteks van die Afrika-Unie, en die feit dat daar uitstekende verhoudinge tussen Suid-Afrika en Tanzanië is, verwag ek dat hulle ekstra-versigtig sal wees om nie in te meng nie. Die goeie verhoudinge is natuurlik ook ons beste hoop op goeie diplomatieke uitkomste in hierdie saak. Dit verstom my egter dat Tanzanië skynbaar nie dieselfde omsigtigheid aan die dag lê nie.

Ons kan net hoop dat die ambassade besig is om hard agter die skerms te werk om ’n diplomatieke oplossing te vind.

Daar is ook ’n ander kant om in ag te neem. Ndashe is in hegtenis geneem terwyl sy kliënte oor hul regsposisie geadviseer het. Om haar, en haar kliënte, in die tronk te stop, is die grofste vorm van intimidasie wat daar kan wees. Die boodskap wat die Tanzaniese regering nou uitstuur, is baie duidelik: kritiseer ons of tree teen ons op tot jul eie nadeel. Regsverteenwoordigers sal nou twee keer dink voordat hulle regsaksie teen die regering begin. Burgers sal lank en hard nadink voordat hulle hul regering kritiseer.

Dis hoe demokrasie treetjie vir treetjie in tirannie omskep word.

Dink byvoorbeeld wat sou gebeur indien ons regering die EFF of die DA of enige van die ander opposisiepartye wat regsaksie teen die regering begin, met regsverteenwoordigers en al, sou toesluit. Dink wat sou gebeur indien daar nie die vryheid was om op wettige wyse, deur die howe, aksie teen die regerende party in te stel nie. Dink wat sou gebeur as nie een van die regsoorwinnings wat die afgelope tyd in ons howe behaal was, gebeur het nie omdat prokureurs te bang was om die sake voor die hof te bring.

Dis hoekom daar soveel protes teen Ndashe se arrestasie was. Dis hoekom daar hierdie week protesaksie by die Tanzaniese ambassade in Tshwane gehou word. Dis hoekom #FreeSibongile oral op sosiale media te sien is. Dis hoekom ek, en vele ander, ’n petisie geteken het wat vra dat sy en die ander aangehoudenes vrygelaat moet word.

Die oomblik as regsverteenwoordigers nie meer met vrymoedigheid sake kan aanneem nie, dan is intimidasie van regters ook nie ver agter nie. Die oomblik as regters nie “without fear or favour” kan regspraak lewer nie, is demokrasie in sy kanon in.

Ons kan nie bekostig dat een enkele land in Afrika hulle demokratiese beginsels prysgee en hul burgers onderdruk nie. Ons kan nie een oomblik rus en ophou druk toepas op ons eie regering om diplomatieke oplossings te vind en ons burgers in ander lande te beskerm nie.

As ons op ons louere rus en toelaat dat wat hierdie week in Tanzanië gebeur, die nuwe normaal word, dan is dit nie lank voordat ons ook in Suid-Afrika pogings sal sien om ons regstelsel te intimideer en manipuleer nie.

1 Ndashe is op 26 Oktober op borg vrygelaat en op 27 Oktober gedeporteer.

The post In ’n Tanzaniese tronk appeared first on LitNet.

Munisipale verkiesing in Metsimaholo

$
0
0

Soos almal alreeds weet vind die munisipale herverkiesing in Metsimaholo op 29 November plaas. Metsimaholo is n munisipale gebied in die Vrystaat wat dorpe insluit soos Sasolburg, Deneysville en Oranjeville. Die vraag is natuurlik vir wie moet daar gestem word? ’n Baie eenvoudige antwoord sal wees om te kyk watter party se waardes die naaste aan jou eie waardes is en dan vir daardie party te stem.

Dis egter belangrik om ’n  ingeligte besluit te maak, want die hand wat die kruisie maak, is die hand wat die toekoms skryf en die inwoners van Metsimaholo verdien ’n beter toekoms. Gaan stem dus op stemdag en dra so by om Metsimaholo vooruitstrewend te maak waarop elke inwoner trots kan wees. Staan dus op, en gaan stem met trots op 29 November in hierdie uiters belangrike herverkiesing in Metsimaholo.

The post Munisipale verkiesing in Metsimaholo appeared first on LitNet.

Paul Kruger. Toesprake en Korrespondensie van 1881–1900 deur Johan Bergh: ’n resensie

$
0
0

Paul Kruger. Toesprake en Korrespondensie van 1881–1900
Johan Bergh

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485305743

Die geskrewe of gesproke woorde van belangrike rolspelers in die verlede is iets wat historici graag bewaar. Soms is die woorde in korrespondensie vasgevang, ander kere was dit in toesprake voor regeringsliggame, voor kommissies van ondersoek of by geleenthede van nasionale of internasionale belang, of waar inwydingsgeleenthede of herdenkings van historiese gebeurtenisse plaasgevind het. Uitsprake wat by sulke geleenthede gemaak is, word die moeite werd geag om te onthou en aan die vergetelheid te ontruk deur dit te publiseer.

In Suid-Afrikaanse verband is daar etlike voorbeelde waar sulke woorde in publikasies byeengebring is. Een van die mees ambisieuse pogings om die woorde van ’n staatsman vir die nageslag te bewaar is WK Hancock en Jean van der Poel se Selections from the Smuts papers wat nie minder nie as sewe dele beloop. Daarby kom AN Pelzer se toesprake van HF Verwoerd getitel Verwoerd speaks: speeches, 1948–1962 (1966), en dan is daar JS du Plessis se versameling President Kruger aan die woord: verkiesingsmanifeste, intreeredes en toesprake van president SJP Kruger (1952) en SP Engelbrecht se Paul Kruger’s amptelike briewe (1925).

Al hierdie versamelpogings spruit voort uit die oortuiging dat sulke woorde vir die latere lesers daarvan nuttig en leersaam kan wees en terselfdertyd belangrike politieke opvattings van die betrokke persone weerspieël wat die leser daarvan kan help om die gebeure van die verlede te begryp. Smuts was immers ’n Suid-Afrikaanse politikus wat ook op die internasionale verhoog ’n rol gespeel het, terwyl Verwoerd gedurende ’n beslissende tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ’n hoogs invloedryke figuur was. Dieselfde kan ook van Paul Kruger in die laaste paar dekades van die 19de eeu van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se geskiedenis gesê word, om nie eers van die gevolge van sy beleid en optrede vir Suid-Afrika in die 20ste eeu te praat nie. Dis nie verniet dat Smuts en Kruger se biografieë in die Afrikaanse weergawe van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek onderskeidelik 23 en 12 bladsye beslaan nie, twee van die langstes daarin.

Dat Kruger beskou word as ’n hoogs invloedryke historiese figuur blyk daaruit dat daar byna 60 jaar na sy dood ’n tweedelige wetenskaplik nagevorste biografie uit die pen van DW Kruger oor hom verskyn het (1961 en 1963). Kruger se aansien onder Afrikaners en as staatsman in die algemeen berus grootliks op twee faktore. Die eerste is sy verbete teenstand teen Britse imperialisme, veral in die laaste dekade van die 19de eeu toe die gety teen sy klein onafhanklike volkie gedraai het veral nadat Joseph Chamberlain in die middel van 1895 die Britse minister van buitelandse sake geword het. Chamberlain se valse aanspraak dat die Britse susereiniteit oor die ZAR waarvoor die Pretoria-konvensie van 1881 voorsiening gemaak het, nooit deur die Konvensie van Londen van 1884 opgehef is nie, het gepaard gegaan met sy neiging om toenemend die Britse Uitlanders in die Republiek se aandrang op redelike voorwaardes vir die verwerwing van die stemreg te steun. Kruger se ongenaakbare verwerping van hierdie stemreg-eise het die laaste dekade van die 19de eeu oorheers en uiteindelik tot oorlog met Brittanje gelei. In hierdie sin het aggressiewe Britse imperialisme dus van Kruger ’n bekende historiese figuur gemaak.

Tweedens het Kruger se vasberadenheid en uiteindelike sukses om deur middel van sy spoorwegbeleid die Republiek ekonomies onafhanklik van ’n Britsbeheerde hawe te maak tot sy status as staatsman bygedra. Ongetwyfeld het die martelaarsrol wat Kruger te beurt geval het deurdat hy in die vreemde ver van sy geliefde land as’t ware as banneling gesterf het, ’n tragiese dimensie tot sy rol in die geskiedenis toegevoeg en ook grootliks bygedra tot die bewondering vir hom in Afrikanergeledere.

Dit bring ons by die jongste versameling dokumente oor Paul Kruger wat onlangs verskyn het getitel Paul Kruger. Toesprake en Korrespondensie van 1881–1900, versamel en toegelig deur JS Bergh (Protea Boekhuis, 2017). Dit is ’n gedugte werk van by die 600 bladsye en bied die grootste versameling dokumente oor Kruger wat nog verskyn het. Dit is in vyf hoofstukke ondergebring: (1) “Paul Kruger vestig hom as staatspresident, 1881–1889”; (2) “SJP Kruger se toesprake en korrespondensie, 1890–1895”; (3) “Staatspresident Kruger, die Jameson-inval en nagevolge, 1895–1899”; (4) Kruger en die aanloopjare tot die oorlog, 1896-1899; en (5) “Kruger en die Anglo-Boereoorlog, 1899–1900”.

Reeds in die inleiding word verskillende prominente tydgenote se menings oor Kruger aangehaal wat as motivering dien waarom sy grootheid dié omvangryke versameling dokumente regverdig. Onder meer word verwys na die staatsekretaris WJ Leyds wat hom beskryf as “’n ontwikkelde man, in politiek sowel as in sake wat godsdiens betref”, en na die Transvaalse hoofregter, JG Kotzé, wat hom beskryf as “a man of strength, courage, resource, shrewdness, decision, religious feeling, fervid patriotism, ambition and leadership”.

WJ Leyds, staatsekretaris, "Kruger se regterhand"

Met betrekking tot die laaste gedeelte van Leyds se uitspraak, naamlik as ’n ontwikkelde man in sake wat godsdiens betref, moet egter daarop gewys word dat Kruger ’n ietwat misplaaste en verwronge siening omtrent die oorspronklike Transvaalse burgers as “Volk van God” en “uitverkore volk” gehad het, soos hy dit graag in sy Paardekraaltoesprake gestel het. Daar was immers volgens die Bybel, wat Kruger graag aangehaal het, net een uitverkore volk, naamlik die ou Israel. Wat Kotzé se aangehaalde beskrywing van Kruger betref, moet dus dalk erken word dat hy bygevoeg het: “He was obstinate and impatient of contradiction, abrupt and at times uncouth in manner … He was narrow-minded and his religion was apt to assume the form of bigotry.” Kruger se dweepsugtige godsdiensbeskouing blyk onder meer baie duidelik uit sy telegramme om sy bevelvoerders en burgers in die veld aan te spoor wat in hoofstuk 5 weergegee word.

Sommige teoloë sal dalk vraagtekens plaas agter Kruger se godsdienssienings soos in hoofstuk 5 uitgedruk en bevraagteken of dit as ’n positiewe eienskap beskou moet word. Voorbeelde is die volgende: “Die wettige stryd, sê die Heer, sal die Kroon behaal en die Heer sal hom beskerm (bl 506); “Die Heer sal ons bystaan in ons regverdige saak op sy tyd, soos die Heer besluit het” (513); “... ek het gesien dat dit is volgens Psalm 83, dat ons teenparty ook hulle plan het, en hulle plan is teen die Here en sy Kerk” (535); ens.

Maar om terug te keer na die seleksie en aanbieding van die verskillende dokumente: die toesprake edm is uit ’n geweldig groot verskeidenheid bronne verkry en moes ’n groot soektog vereis het. Reeds in die eerste hoofstuk sluit dit in bande in die Transvaalse Argief soos ZAR 173, Aansprake en toesprake deur Kruger, 1881–1900; amptelike Volksraadsnotules; verslae in De Volksstem van Volksraadsdebatte en toesprake by verskillende geleenthede; die PJ Joubert-versameling; die WJ Leyds-versameling; Byvoegsels tot die Staatskoerant; die argief van die NZAV in Amsterdam; die Nieuwe Rotterdamsche Courant; boeke soos SJ du Toit se Alweer op reis, Di slag as lid van di Transvaalse Deputasi; De Bazuin; die Sir John Kotzé-versameling; die JH Hofmeyr-versameling; boeke soos WJ Leyds se Het insluiten van de Boererepublieken, II; JF van Oordt se Paul Kruger en de opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek; en dokumente in die Historisch Documentatie Centrum van die Universiteit van Amsterdam.

Sommige van die stukke is reeds redelik goed bekend, soos die geval is met Kruger se toespraak by die inwyding van Eerste Fabrieke in Junie 1893. Dit was die eerste ware nywerheidsonderneming in die ZAR. Dié toespraak illustreer ’n neiging van Kruger om, ook voor Uitlandergehore, uitvoerig uit te wei oor die Groot Trek-ervarings in die voorgeskiedenis van die Republiek.

Toneel by die opening van Nellmapius se fabriek by Eerste Fabrieken

Ander stukke beveel hulself aan, soos die toespraak ná Kruger se eerste beëdiging as staatspresident in Mei 1883 en sy mening omtrent die omstrede kwessie van konsessies in die Volksraad in Julie 1883, asook die brief van Kruger en SJ du Toit aan die Anti-slavery Genootskap in November 1883. Kruger se toespraak voor mynwerkers in Johannesburg in Februarie 1887 is waarskynlik gebruik omdat dit die eerste keer was dat hy Johannesburg besoek het, maar dit sou beter gewees het om die een van September 1887 te gebruik het, omdat hy hom toe die eerste keer voor ’n Uitlandergehoor oor hulle versoek vir deelname in die landsbestuur, en dus stemreg, uitgespreek het. By dié geleentheid het hy die term eersgeboortereg aangewend om die oorspronklike inwoners se voorkeurreg op stemreg te verduidelik. Tipies van Kruger was dit ’n begrip wat uit die Bybel afkomstig is na aanleiding van die verhaal van Jakob en Esau en die pot lensiesop. Dit illustreer treffend Kruger se toepassing van Bybelse begrippe op politieke vraagstukke. Streng gesproke was die term eersgeboortereg nie op die stemreg van toepassing nie en het sy toehoorders moontlik ook nie goed verstaan wat hy daarmee bedoel het nie.

Van besondere belang in die lig van die rol wat ras later in die Suid-Afrikaanse politiek sou speel, is die uitsprake van Kruger en ander Volksraadslede oor wie as “kleurlinge” beskou moet word (40–1). Kruger se menings in die Volksraad op 30 Junie 1887 oor “valsche leugenachtige en bedrieglijke” beriggewing in die pers is insiggewend, maar sy gelykstelling daarvan met “skending van die staat, van die volk en van die Volksraad” wat “oproer kon verwek”, was ’n aanduiding van sy gevoeligheid vir kritiek – ten spyte daarvan dat hy by dié geleentheid verklaar het dit sou verkeerd wees om die vryheid van die pers te strem. Dié gevoeligheid sou later tot die aanneming van die streng Perswet van 1893 lei.

In hoofstuk 2 is die insluiting van drie verskillende toesprake in verband met die instelling van ’n Tweede Volksraad belangrik, omdat Kruger telkens sy opvattings daaroor motiveer. In al drie gevalle (181–2, 194–5 en 211) beklemtoon Kruger die feit dat daar nêrens anders ter wêreld al so vinnig so baie vreemdelinge ’n land binnegestroom het nie en dat dit nodig was om so ’n tweede kamer in te stel ten einde die onafhanklikheid van die staat te beskerm. In Julie 1891 se toespraak vermeld hy egter ’n belangrike swakheid van die plan, naamlik dat alle finansiële besluite in die hande van die Eerste Volksraad bly. Dit het die Tweede Volksraad ’n skyf van die Engelstalige koerante se kritiek gemaak wat beswaarlik weerlê kon word, afgesien daarvan dat alle besluite van die Tweede Raad deur die Eerste Volksraad bekragtig moes word. Die beperkte magte van die Tweede Volksraad het tot groot frustrasie onder die Uitlanders gelei, omdat dié liggaam hulle nie betekenisvolle inspraak in besluitneming gegee het nie.

Die insluiting van Kruger se uitlatings by twee geleenthede in Maart 1891 (196–7 en 198–9) op openbare vergaderings tydens sy jaarlikse rondreis waar hy ontken het dat daar omkopery van Volksraadslede in verband met die sogenaamde spaaiderskandaal was, lyk ietwat verdag, asof dit bedoel is om Kruger te verontskuldig en hom as altyd vlekkeloos eerlik voor te stel. Verklarings van hierdie aard deur staatsmanne is deur die loop van die geskiedenis al dikwels oor aantygings van omkopery en ander kwessies gemaak, maar is daarna as vals bewys. Die twee uitlatings van Kruger dat Volksraadslede nie omgekoop is nie, bewys dus hoegenaamd nie dat omkopery nie plaasgevind het nie. Oorgenoeg bewyse is immers later in Land en Volk gepubliseer wat klinkklaar toon dat BJ Vorster, die lid vir Soutpansberg en een van drie oorspronklike konsessionarisse vir die bou van die Selati-spoorweg, in Augustus 1890 eers nege en later nog 15 spaaiders gekoop het, met vermelding van die handelaars van wie dit gekoop is en die pryse wat betaal is. Dit was haas onmoontlik dat ’n Volksraadslid die uitgawes hiervoor uit sy eie sak sou kon betaal. Hoewel daar geen bewyse is dat Kruger self by die omkopery betrokke was of dit aangestig het nie, dui omstandigheidsgetuienis daarop dat hy sterk ten gunste van die bou van die Selati-spoorlyn was, terwyl hy ook baron Eugene Oppenheim, wat met die oog op konsessies in hierdie tyd in Pretoria was, gul onthaal het en ’n olieverfskildery van Kruger ter waarde van £300 deur Oppenheim laat maak is wat later in die Volksraadsaal gehang is. Kruger het hom wel op die genoemde vergaderings oor die geskenke uitgelaat, maar nie persoonlik formeel oor die beskuldigings van omkopery met die publiek gekommunikeer nie. Hy het dit slegs deur middel van ’n redelik kort brief deur sy privaatsekretaris, Frikkie Eloff, in De Volksstem in Januarie 1891 gedoen waarin gesê is die President glo nie dat die Volksraadslede omgekoop is nie. Kruger was in elk geval nie heeltemal eerlik toe hy in dieselfde jaar nepotisties ’n konsessie ten gunste van sy skoonseun en privaatsekretaris Eloff in die Volksraad bepleit het nie.

Belangrike lig word gewerp op Kruger se houding teenoor swart kapteins deur die onderhoude met swart kapteins op ble 215–8 en die daaropvolgende stuk wat handel oor sy ontmoeting met kapteins te Pietersburg in Oktober 1891 (219). Saam daarmee moet ook die toespraak gelees word op ble 274–5 waarin Kruger hom ten gunste daarvan uitgespreek het dat aan “getroue” swart stamme lokasies toegestaan behoort te word, asook die een in Junie 1891 in verband met lokasies (208–10) en die toespraak in die Eerste Volksraad in September 1893 (274–5).

Kruger in sy fleur as president

Sommige toesprake wat opgeneem is, is ongelukkig redelik niksseggend. In verband met die opening van die Natalse spoorweg tot by Charlestown in April 1891 word twee toesprake weergegee: die eerste by Charlestown op 7 April en die tweede in Pietermaritzburg die dag daarna. Die eerste een bevat slegs sy dank vir die ontvangs in vier reëls en kon weggelaat gewees het. Die tweede sou voldoende gewees het, aangesien Kruger daarin verwys na die groter samewerking tussen die Republiek en die Natalse regering oor spoorwegsake. Nog ’n dokument wat dalk nie insluiting regverdig het nie, is dié op ble 244–5, naamlik ’n brief van Kruger en Leyds aan Lilinokalani, koningin van die Hawaise eilande, waarin leedwese oor die dood van haar broer uitgespreek word. ’n Mens sou ook kon vra of die preek van Kruger op 10 April 1892 (245–9), regtig sinvol was om op te neem. Dis alreeds bekend dat hy dikwels as lekeprediker in die Gereformeerde Kerk oorkant sy woning opgetree het. Die vraag is of die geestelike gedagtes in dié preek werklik iets oor sy staatsmanskap sê. Die kort briefie waarin Frikkie Eloff ontvangs erken van hoofregter Kotzé se skrywe aan Kruger in verband met sy besluit om as kandidaat aan die presidentsverkiesing van 1893 deel te neem kon ook maar weggelaat gewees het. Die voorafgaande brief van Kotzé sê alles hieroor wat nodig is om te weet.

Twee uiters belangrike dokumente wat wel opgeneem is, is Kruger se toespraak by Paardekraal in Desember 1891 en die een by die aandfunksie in Johannesburg ná die inwyding van die Joodse sinagoge in 1892. In die eerste geval verwys Kruger na sy toehoorders as “Gods volk” en na die oorspronklike wit inwoners as mense “vir wie God uitgelei het”. Die vergelyking wat hier met die ou Israel getref word wat uit Egipte uitgelei is, is onhoudbaar uit ’n Christelike oogpunt en ’n godsdienstige dwaling van Kruger. Die verwysing in die Paardekraaltoespraak na “u ou inwoners van die land, vreemdelinge, nuwe inkomelinge, ja selfs u, moordenaars en diewe” was baie omstrede en is, regtens of onregtens, deur die Engelstalige pers as ’n belediging vir die Uitlanders vertolk. Die woorde “moordenaars en diewe” kom ook ’n tweede keer in ’n ander verband in die toespraak voor. Na aanleiding van die Voortrekkers se botsings met swart inwoners op pad na die gebied noord van die Vaalrivier verklaar Kruger ook: “Dit was dus God wat aan hulle (die Voortrekkers se nasate) die land gegee het” (226). Later het hy ook in die toespraak gesê dat nadat goud aanvanklik gevind is, dit in hoeveelhede was wat te klein was om winsgewend te ontgin en bygevoeg: “Kyk, so is dit deur God verborge gehou totdat die vryheid eers teruggekry was” (228). Hierdie soort persoonlike Christelik-godsdienstige interpretasie van die geskiedenis het ’n agterlike beeld van Kruger in die oë van Uitlanders laat posvat as dié van ’n godsdienstige fundamentalis wat in die 17de of 18de eeu tuisgehoort het.

Die toespraak van Kruger die aand ná die opening van die Joodse sinagoge in Parkstraat, Johannesburg (255–60) is belangrik omdat Kruger daar uitsprake oor die Uitlanders se stemregaansprake gemaak het. Die verslag wat hier gebruik is, is dié van De Volksstem, en dit meld tereg dat hy gesê het die ou burgers moet weet of hulle die nuwe inkomelinge kan vertrou, en dat daarvoor tyd nodig is. Dit verswyg egter die opmerking wat hy in samehang daarmee grappenderwys gemaak het dat hy nie weet of die nuweling more sal begin steel nie. Dit word wel in die Standard and Diggers’ News se verslag genoem en is met gelag begroet, maar dit was ’n onvanpaste kwinkslag wat ’n onderliggende wantroue teenoor Uitlanders verraai het. Dit is seker nie moontlik om telkens van ander koerante as De Volksstem se verslae in vertaalde vorm gebruik te maak nie, maar die veelvuldige gebruik van De Volksstem se beriggewing skep die gevaar van ’n eensydige blik op Kruger as staatsman.

Verskeie toesprake waarin Kruger hom oor die allerbelangrike kwessie van die stemreg uitgespreek het, is opgeneem, onder meer by sy beëdigingsplegtigheid in Mei 1893 toe hy ’n beroep op sy burgers gedoen het “om geen voorregte prys te gee waardeur ons onafhanklikheid benadeel kan word nie” (266), en die geleentheid op Rustenburg in Februarie 1894 toe hy verwys het na “het heilig stemrecht” en vreemdelinge verwelkom het, maar gevra het: “maar laat ons slechts ons eigendomsrecht, ons transport behouden” (278). Hierby kom ook sy pleidooi in die Volksraad einde Mei 1895 dat stemreg verleen word aan diegene wat getrou aan die staat was en militêre diensplig verrig het (295–7).

Hoofstuk 2 sluit af met Kruger se mening in die Eerste Volksraad omtrent kritiek in die pers (307). Hy het die toekenning van regeringsadvertensies aan sekere koerante verdedig en sy standpunt gestel dat advertensies nie eweredig tussen koerante verdeel moet word nie. Hy het wel gesê waar daar gepraat word van ondersteuning van die regering daar net bedoel word “om die onafhanklikheid van die staat te ondersteun”, maar of hy altyd hierdie onderskeid tussen regering en staat getref het, is ’n ope vraag.

’n Belangrike toespraak wat in hierdie hoofstuk opgeneem moes gewees het, is Kruger se toespraak in die debat in die Eerste Volksraad wat tot die aanneming van Wet Nr 3 van 1894, die gewysigde Kieswet, gelei het. Tydens dié debat het hy die argument opgehaal dat die stemreg ’n “erfreg” is en dat slegs die kinders van ’n vader wat alreeds ’n burger of genaturaliseer was, op die stemreg geregtig is. In dié proses het hy die beginsel in artikel 29 van die gewysigde Grondwet van 1889, dat geboorte binne die staat die vereiste vir die verwerwing van stemreg is, verwerp, en die gewysigde Kieswet soos goedgekeur het uiteindelik bepaal dat seuns van ongenaturaliseerde Uitlandervaders nie op stemreg geregtig is nie, selfs al is hulle in die Republiek gebore. Hierdie debat en Kruger se aandeel daarin is geredelik te vinde in die notule van die Eerste Volksraad van 1894. Daar is immers elders uitlatings van Kruger in die Volksrade opgeneem en die weglating van hierdie mening van hom bring mee dat sy gebrekkige begrip omtrent hierdie kwessie glad nie ter sprake kom nie. Die streng nuwe Kieswet van 1894 wat uit hierdie debat voortgevloei het, het immers grootliks daartoe bygedra dat die Uitlanders ontnugter geraak het oor die moontlikheid om die stemreg te verkry en dat die National Union wat namens hulle daarvoor geagiteer het, radikaal geword het.

Ook Kruger se kort toespraak in die Eerste Volksraad in Mei 1893 in verband met die betwiste uitslag van die presidentsverkiesing van 1893 behoort opgeneem te gewees het. Hy het by hierdie geleentheid voorgestel dat ’n kommissie van die Volksraad bestaande uit lede van sowel sy ondersteuners as dié van Piet Joubert ’n hertelling van die stemme doen ten einde klaarheid oor die uitslag te verkry. Die Grondwet het nie vir so ’n kommissie voorsiening gemaak nie en die Uitvoerende Raad het toe alreeds ’n hertelling van die stemme gedoen. Dit is in elk geval ongehoord in ’n demokrasie dat ’n kommissie van die wetgewende liggaam so ’n belangrike funksie in verband met ’n verkiesing vervul. Kruger se dwaling in hierdie geval sou duidelik uit sy voorstel in die amptelike notule geblyk het.

In hoofstuk 3 word ’n hele aantal items weergegee wat met die aanloop tot die Jameson-inval van einde 1895, begin 1896 saamhang. Hier is veral van telegramme oor die naderende gevaar van ’n inval, onder meer tussen die President en die hoë kommissaris, gebruik gemaak, asook van die bekende telegram van die Duitse Keiser aan Kruger op 3 Januarie 1896 om hom geluk te wens met die fnuiking van die inval (320) en die telegram van die Britse Minister van Kolonies wat Kruger bedank dat hy die gevange leiers van die inval aan die Britse regering oorhandig het. Dit is die kortste hoofstuk in die boek, maar ook die een wat van die mees dramatiese gebeure in die geskiedenis van die Republiek illustreer. Dit bevat ook korrespondensie oor ’n moontlike besoek van Kruger aan Engeland wat nooit plaasgevind het nie.

Hoofstuk 4, “Kruger en die aanloopjare tot die oorlog, 1896–1899”, bevat onder meer die voorstel van president MT Steyn van die Vrystaat dat Kruger en sir Alfred Milner, die Britse hoë kommissaris, mekaar in Bloemfontein ontmoet ten einde samesprekings te voer wat daartoe kon lei dat vrede tussen Brittanje en die ZAR bewaar word, en Kruger se aanvaarding daarvan. Ook Kruger se uitsprake en voorstelle daarna in die Volksraad op 7 en 18 Julie 1899, laasgenoemde ter vermindering van die stemregvereistes, is opgeneem. Dié hoofstuk eindig met die dramatiese draadgesprekke van 4 tot 7 Oktober 1899 tussen Kruger en president Steyn wat die uitbreek van die oorlog voorafgegaan het.

Die slothoofstuk, hoofstuk 5, bevat hoofsaaklik die telegramme tussen Kruger en president Steyn en dié aan Kruger se krygsoffisiere in die veld tydens die oorlog vanaf 9 November 1899 tot die proklamasie van 8 September 1900 in verband met Kruger se voorgenome verblyf in die buiteland. Kruger se telegramme bevat dikwels taktiese advies en word deurgaans gekenmerk deur die godsdienstige karakter daarvan. Ná die gevoelige terugslag van die oorgawe van generaal Piet Cronjé by Modderrivier op 27 Februarie 1900 skryf Kruger aan generaals Lukas Meyer en Louis Botha by Colenso (521–3) en regverdig die hele stryd van die Republiek in godsdienstige terme: “Dit is nou die tydsgewrig waarin ons leef. Soos Openbaring sê, en die bees het mag gekry om die kerk van Christus te vervolg om die kerk sodoende te louter, want dit duur tot die tyd van die heerlike Kerkstaat … Ek is op grond van Gods Woord … oortuig daarvan dat die Here sal opstaan tot die stryd en Hy sal sê tot hiertoe en nie verder nie.” Dit is ’n ope vraag of teoloë sou saamstem of dit geregverdig was om die Transvalers se militêre stryd op hierdie manier in terme van die Bybelboek Openbaring te interpreteer, maar dit illustreer ten minste hoe vas oortuig Kruger was dat die Republiek ’n regverdige stryd gestry het. Dit is opvallend dat in die amptelike communiqué van die Republiek in reaksie op lord Salisbury se telegram van 11 Maart 1899 (530–1) geen sulke godsdienstige sentimente voorkom nie, omdat dit nie deur Kruger self opgestel is nie. Ná die val van Bloemfontein skryf Kruger op 14 Maart 1900 egter in dieselfde trant as tevore: “[Ek] het gesien dat dit is volgens Psalm 83 dat ons teenparty óók hulle plan het, en hul plan is teen die Here en sy kerk.” En op 16 Maart skryf hy aan alle offisiere: “Ek glo dat ons eers ons Getsemane en Golgota moet deurgaan voordat die dag van ons bevryding kan aanbreek” (538). Die feit dat Kruger teen hierdie tyd die militêre vyand beskryf as stryders teen “die Here en sy kerk” skep die indruk dat hy toe reeds in ’n toestand van geestesvervoering verkeer het.

Vanaf April 1900 word al hoe meer in telegramme verwys na burgers wat verlof wil neem om hul tuistes te besoek, ander wat alreeds tuis met verlof was en drosters. As gevolg van hierdie probleem gee Kruger op 21 Mei 1900 opdrag aan die landdros van Wolmaransstad om burgers uit sy distrik wat by die huis sit, almal op te kommandeer en as hulle weier om terug slagveld toe te gaan, te arresteer (522–3). Hy dring ook op 28 Mei by Steyn (toe te Heilbron) aan om tot die einde te veg, selfs al “moet ons ook Johannesburg en Pretoria afstaan” (555). Al hierdie telegramme verskaf insig in die probleme te velde waarmee bevelvoerders in hierdie stadium te kampe gehad het en Kruger se standvastigheid oor die voortsetting van die stryd.

Vanaf 31 Mei kom Kruger se telegramme van Machadodorp af waarheen hy intussen vertrek het en skryf hy aan Steyn dat baie min burgers bereid is om die stryd voort te sit. Steyn antwoord met verwysing na ’n krygsraad wat deur Transvaalse offisiere in verband met die moontlikheid van oorgawe gehou is, dat die Vrystaters almal van mening is dat die stryd voortgesit moet word.

Die vraag ontstaan nou of die toesprake en korrespondensie wat in hierdie boek ingesluit is, die leser ’n goeie insig in die staatsmanskap en karakter van Paul Kruger bied. Afgesien van uitsprake van belangrike tydgenote in die inleiding wat reeds genoem is oor positiewe eienskappe van Kruger, was hy egter ’n leier met skerp teenstrydighede. Selfs die bekende 19de-eeuse historikus Thomas Carlyle, wat geglo het dat groot figure in die geskiedenis geëer moet word, het immers erken dat hulle nie sonder gebreke was nie. Daarom verwys sommige skrywers onder meer na Kruger se ontsettende koppigheid, en beskryf William Plomer hom in sy werk oor Cecil John Rhodes as “a diehard, and a stranger to the useful art of compromise”.

Die dokumente wat in Paul Kruger. Toesprake en korrespondensie van 1881–1900 opgeneem is, oordeel nie oor Kruger se presidentskap nie en laat dit aan die leser oor om sy eie indruk te vorm. Sommige dokumente, soos die twee toesprake waarin hy ontken dat daar tydens die spaaiderskandaal omkopery was, is alreeds genoem as voorbeelde wat moontlik bedoel was om Kruger se tekortkominge te verberg of hom te verontskuldig. Hieroor sal die leser self moet oordeel. Kruger hét tekortkominge as staatsman gehad en ander uitsprake van hom in die Volksraad en elders is alreeds genoem wat opgeneem kon gewees het wat hom dalk in ’n minder gunstige lig sou voorgestel het, terwyl die voorkeur wat gegee is aan verslae van sy toesprake in De Volksstem ook daartoe kon bygedra het dat sommige uitlatings in dié toesprake verswyg is wat wel in die Engelstalige koerante vermeld word.

Onder die negatiewe eienskappe van Kruger as staatsman kan die volgende kortliks vermeld word.

Ten spyte van Kruger se toeganklikheid vir sy burgers, soos die oggendgesprekke op die stoep van die presidentswoning getuig, waar lede van die Volksraad en ander persone welkom was om by hom aan te sluit, kon hy ook uiters onverdraagsaam wees teenoor enige van sy burgers wat in die Volksrade of elders met hom verskil en was hy soms hipergevoelig vir kritiek op of bevraagtekening van die regering se optrede. Gevolglik het sy humeur dikwels die oorhand gekry. In sulke gevalle het hy soms ontstoke uit die raadsaal gestorm en moes ’n kort verdaging van die Raad volg om vrede te maak voordat die debat kon voortgaan.

Kleingeestigheid en oorgevoeligheid vir kritiek het dikwels Kruger se optrede gekenmerk. Dit het onder meer in Mei 1890 geblyk toe Volksraadslede ernstige beswaar aangeteken het teen kontrakte vir die oprigting van markgeboue wat gedurende die reses sonder raadpleging van die Raad deur die regering aangegaan is. Kruger was so gegrief oor die kritiek dat gerugte die ronde begin doen het dat hy ’n brief van bedanking as staatspresident aangebied het, maar dit die volgende dag teruggetrek het. Die voorval het Kruger se ongeduld gedemonstreer met die beperkings wat die demokrasie op sy optrede as staatshoof gestel het.

Kleingeestigheid en onverdraagsaamheid blyk ook uit Kruger se ernstige konfrontasies met Volksraadslede, onder meer in Julie 1892 en Mei 1894 met onderskeidelik Ewald Esselen en Jan F Celliers in die Tweede Volksraad. In die geval van Esselen was dit ’n blote vraag op ’n punt van orde terwyl Kruger gepraat het wat sy toorn laat ontvlam het. Uiteindelik het Esselen hom ’n dag lank aan die debat onttrek, maar Kruger het volgehou dat hy beledig is. Eintlik was dit Esselen wat beledig is en nie Kruger nie. In die geval van Celliers het Kruger op ’n onskuldige “Hoor! Hoor!” van eersgenoemde in reaksie op ’n ander spreker se toespraak gereageer en hom die beledigende opmerking toegevoeg: “Boo-hoo jouself. Ek laat my nie beledig van enigeen nie”. Dit was uiters onpresidensiële optrede van Kruger wat hom nie tot eer gestrek het nie.

’n Onvermoë om te onderskei tussen algemene kritiek in byvoorbeeld die pers en dié in die Volksrade was ’n ander swakheid van Kruger. Dit het tydens die sogenaamde Loveday-voorval van 1894 duidelik geblyk. Toe Loveday in ’n koerantbrief ietwat kras verwys na Volksraadslede en amptenare wat “schelm genoeg of dom genoeg” was om die publiek wys te maak dat die regering geen groot skuld vir spoorwegkonstruksie aangegaan en die land in skuld gedompel het nie, was Kruger ten gunste van ’n besluit om Loveday te straf deur hom vir een dag uit die Raad te skors. Dít alles ten spyte van die staatsprokureur se mening dat Loveday se woorde in die koerant nie die Raad as liggaam beledig het nie.

Kruger se stompsinnige optrede in reaksie op kritiek het sy verhouding met sowel sy eie burgers as die Uitlanders geraak. Wat die Uitlanders betref, het hierdie gebrek in Kruger se mondering duidelik geblyk uit onder meer sy uitbarsting tydens ’n onderhoud met ’n afvaardiging van die National Union in September 1892 toe hulle op meer as sy vae beloftes van uitbreiding van die stemreg na die Uitlanders aangedring het. Hy het uitgeroep: “Dan is ik een leugenaar.” Toe die leier van die afvaardiging hom in die gesprek verseker dat die Uitlanders nie die politieke mag wil oorneem nie en dat hulle slegs drie of vier verteenwoordigers in die Eerste Volksraad verlang, was sy kortaf reaksie: “Als jullie mij niet vertrouwen willen, laat het dan mar barst!” Sy afskeidswoorde aan die afvaardiging was: “Sê aan julle mense ek sien julle wil Paul Kruger nie meer as president hê nie. Maak maar oproer soos julle wil.”

Die President se gevoeligheid vir kritiek het ook sy sienings ten opsigte van die pers in die Republiek beïnvloed. Hy het vas geglo dat persorgane wat sy regering kritiseer, dislojaal teenoor die Republiek is. Daarom het hy toegesien dat geldelike ondersteuning deur middel van die toewysing van regeringsadvertensies aan goedgesinde koerante verleen word en is jaarliks ’n bedrag daarvoor begroot. Sy misnoeë met kritiek in die pers het in 1893 ’n hoogtepunt bereik toe ’n streng perswet aangeneem is.

Die nyweraar AH Nellmapius (Pentekening deur die kunstenaar WH Schröder)

Kruger se onkunde oor grondwetlike sake en sy onvermoë om die skeiding van magte tussen die wetgewende en die regterlike gesag te erken en handhaaf was ’n ander gebrek van hom. Dit het onder meer gebeur toe hy in 1886 probeer inmeng het in ’n hofbevinding teen ’n vertroueling van hom, AH Nellmapius. Dit het ook gebeur toe hy in verband met die voorlopige uitslag van 1893 se presidentsverkiesing, soos vroeër gesê, voorgestel het dat ’n kommissie van die Volksraad die onenigheid omtrent die uitslag oplos in stede daarvan om ’n regsmening daaroor aan te vra. Dit het neergekom op miskenning van die rol van die regspraak in landsake.

Disrespek teenoor die Uitlanders in toesprake van Kruger het ook voorgekom. In die toespraak by Paardekraal in Desember 1891 wat op ble 221–2 weergegee word, het Kruger die woorde “moordenaars en diewe” gebruik toe hy ter aanvang gesê het sy woorde is gerig tot sy eie volk, maar bygevoeg ook tot “u vreemdelingen, nieuwe inkomelingen, ja, zelfs gij moordenaars en dieven”. Hoewel daar verskil van mening bestaan het of die gewraakte woorde noodwendig op die Uitlanders van toepassing was, is soortgelyke uitdrukkings later tydens die Volksraadsdebatte omtrent die konsepkieswet van 1894 deur raadslede ten opsigte van die Uitlanders gebruik. Kruger het hom nooit teen die gebruik van sulke uitdrukkings uitgespreek of hom daarvan gedistansieer nie. Dié versuim van hom is deur sommige waarnemers as ’n belediging vir die Uitlanders geïnterpreteer.

Kruger se neiging om vertrouelinge te geredelik na aan hom toe te laat en te maklik te vertrou was ’n ander eienskap van sy presidentskap wat hom blootgestel het aan kritiek. Dit het daartoe gelei dat sy gesonde oordeel soms aangetas is, soos blyk uit sy poging tot inmenging in die regspraak in die geval van AH Nellmapius. Hy het soms soveel vertroue in mense na aan hom gestel dat dit vir hulle moontlik was om hom te mislei. Dit het byvoorbeeld in 1894 gebeur in verband met die toestaan van ’n kontrak aan die Natalse spoorwegadministrasie vir die konstruksie van die Natalse spoorverlenging van Charlestown naby die Transvaalse grens na Pretoria toe Leo Weinthal hom op sluwe wyse met ’n vervalste telegram om die bos gelei het.

Egotisme is deur hoofregter Kotzé as nog ’n eienskap van Kruger genoem. Hy was naamlik teen die middel van die negentigerjare al ’n skatryk man, onder meer nadat sy plaas Geduld op die oostelike goudveld vir £107 700 gekoop is deur ’n sindikaat waarvan Sammy Marks lid was nadat dit hom oorspronklik £3 700 gekos het. Teen laat 1894 was daar al 20 plase in sy naam geregistreer, waarvan bewyse afkomstig uit die Registrateur van Aktes se kantoor in die koerant Land en Volk gepubliseer is. Kruger het ook geen beswaar daarteen geopper dat ’n dam op staatskoste op sy plaas Geduld deur die Departement van Openbare Werke onder Sytze Wierda se leiding gebou word nie en ook nie teen die bou van ’n pad oor die plaas teen meer as drie keer die oorspronklik beraamde koste nie.

Haatdraendheid was nog ’n eienskap wat Kruger se staatsmanskap gekenmerk het. Hy het dit moeilik gevind om persone wat hom of sy regering gekritiseer of teengestaan het, te vergewe. Ewald Esselen het byvoorbeeld nie met Kruger se streng stemregbeleid saamgestem nie en het voor en tydens die presidentsverkiesing van 1893 as voorsitter van generaal Piet Joubert se verkiesingskomitee opgetree. Kruger het Esselen egter in Mei 1894 as staatsprokureur aangestel met die opdrag om die sukkelende Johannesburgse polisiediens grondig te hervorm. Hy het die polisiediens reggeruk deur met die toestemming van die Kaapkolonie se owerheid ’n bekwame Iersgebore speurder van Kimberley, Andrew Trimble, tydelik as hoofspeurder aan te stel. Toe Esselen egter in Oktober 1895 versoek dat Trimble genaturaliseer word sodat hy permanent aangestel kan word, het Kruger in die Uitvoerende Raad, waar net twee ander lede teenwoordig was, saam met hulle gestem om die versoek af te keur. Die uitvloeisel hiervan was dat die bekwame Esselen die volgende maand as staatsprokureur bedank het, waarskynlik uit frustrasie. Kruger het dit skynbaar teen Esselen gehou dat hy in 1893 sy teenstander, Joubert, se kandidatuur bevorder het en dat hy boonop tydens die sogenaamde Loveday-voorval van 1894 ’n regsmening gegee wat die President nie aangestaan het nie.

Haatdraendheid het ook in Kruger se optrede teenoor Jan F Celliers voorgekom. In 1890 het hy in verband met die reeds genoemde sogenaamde Eloff-waterkonsessie ’n mening gepubliseer wat aangetoon het dat daar onreëlmatighede in verband daarmee voorgekom het wat ’n refleksie op Kruger gewerp het. In 1893 was Celliers ook die voorsitter van ’n kommissie van die Tweede Volksraad wat ongerymdhede in die Departement van Mynwese in verband met die standplaasskandaal ondersoek het wat getoon het dat standplase onregmatig vir spekulatiewe doeleindes aan onder meer Volksraadslede toegewys is. Toe Celliers in Maart 1895 sterf, het Kruger nie sy begrafnisdiens bygewoon nie, hoewel hy jare lank in sowel die Eerste as die Tweede Volksraad waardevolle diens as lid gelewer het. Tog is dit opvallend dat Kruger wel in Julie 1893 die begrafnisdiens van sy groot vertroueling AH Nellmapius bygewoon het. Dit wil dus voorkom asof Kruger nie Celliers se kritiek op sy regering en persoon ooit kon vergewe of verwerk nie.

’n Neiging om in die Volksrade te beweer dat hy beledig is wanneer kritiek teen die regering uitgespreek is, het ook Kruger se optrede gekenmerk. Hy het dié kritiek dikwels persoonlik opgeneem en het by een geleentheid in ’n Volksraadsdebat gesê dat ’n blote verwysing in ’n departementshoof se jaarverslag na ’n amptenaar wat weens finansiële ongerymdhede ontslaan is, ’n beskuldiging teen die Uitvoerende Raad en dus ’n belediging vir die regering is. Selfs wanneer hy versoek is om inligting oor sekere aangeleenthede te verskaf en lig op regeringsoptrede te werp, het hy soms verklaar dat die versoek om inligting ’n belediging is omdat dit ’n gebrek aan vertroue in die regering impliseer. En toe ’n kritiese kommissieverslag ná twyfelagtige grondtransaksies voor die Raad gedien het, was sy kleinlike antwoord dat dit hom verwonder dat die Raad hom toelaat om tydens die bespreking van die verslag daar teenwoordig te wees.

’n Hooghartige houding in gesprekke met gewone burgers buite die Volksrade en tydens vergaderings het ook soms Kruger se optrede gekenmerk. Toe hy tydens ’n vergadering op Klerksdorp gevra is waarom koerantredakteurs nie gestraf word nie, aangesien die President beweer het dat hulle hom belaster, en versoek is om te verklaar dat hy onskuldig is aan die aantygings wat teen hom gemaak word, was Kruger se kortaf antwoord dat hy beledig is en nie sal toelaat dat op so ’n wyse vrae aan hom gestel word nie. ’n Eerlike en beleefde antwoord sou in so ’n geval veel meer vir Kruger se reputasie as staatsman beteken het.

Kruger se gebrek aan begrip vir parlementêre etiket was nog ’n kenmerk van sy presidentskap. Dit het duidelik geblyk toe sy salaris in 1892 in die Eerste Volksraad tydens die begrotingsdebat onder bespreking gekom het. By dié geleentheid het hy nie die raadsaal verlaat soos hy behoort te gedoen het nie en hom deur die menings van lede laat lei. Hy sou respek afgedwing het indien hy die eerbare weg gevolg het en die raadsaal verlaat het.

Kruger op ’n gevorderde ouderdom, waarskynlik by Waterval-Onder

Kruger se administratiewe gebreke het geblyk uit die soms power funksionering van die staatsdiens. Sy behoud van Christiaan Joubert as hoof van die Departement van Mynwese ten spyte van Joubert se onbekwaamheid vir die pos het dié departement se reputasie groot skade berokken. In die algemeen was Kruger geneig om van “landzoons”, dit wil sê Transvaalsgebore mense, in die landsadministrasie gebruik te maak, selfs al was hulle nie bekwaam vir die poste wat hulle moes beklee nie. Hy het ook gefouteer deur die foute wat deur amptenare begaan is, goed te praat. Dit het gebeur in die geval van die standplaasskandaal van 1892–1893 en ook toe die mynkommissaris van Krugersdorp in 1894 twee en ’n half maande langer as sy verloftyd van sy kantoor afwesig was. Kruger het getalm om teen hom op te tree en selfs redes aangevoer hoekom daar nie te streng opgetree moet word nie.

Bogenoemde voorbeelde van swakhede in Kruger se staatsmanskap is nie genoem om hom te diskrediteer nie, maar om te kenne te gee dat hy bloot menslik was. Die leser sal self moet oordeel of sommige van die genoemde gebreke van Kruger aan die hand van die dokumente en toesprake belig word.

In die finale instansie sal die versameling toesprake en korrespondensie in JS Bergh se boek vir navorsers van groot hulp wees omdat hulle nie meer in ’n groot verskeidenheid van bewaarplekke en publikasies daarvoor hoef te gaan soek nie, en daardeur is ’n ontsaglike groot diens aan die geskiedeniswetenskap bewys.

Die boek is keurig versorg en van talle toepaslike foto’s en ander illustrasies voorsien. As ’n naslaanwerk behoort dit dus groot inslag te vind.

The post <i>Paul Kruger. Toesprake en Korrespondensie van 1881–1900</i> deur Johan Bergh: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die Boendoesbaai-ding deur Rudi Venter: ’n resensie

$
0
0

Die Boendoesbaai-ding
Rudi Venter

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175951

Die Boendoesbaai-ding (2017) is die ideale speurverhaal om jong lesers se liefde vir lees te stimuleer en hul nuuskierigheid vir speurverhale te prikkel.

Hierdie boek is ’n relevante voorbeeld van ’n speurverhaal wat op so ’n wyse geskryf is dat ’n jong leser dit interessant sal vind. Dit kan as ’n kleuter in die speurverhaalgenre beskryf word, omdat dit al die bestanddele vir ’n speurverhaal bevat, maar nie op dieselfde vlak van ’n Deon Meyer-titel soos 7 Dae (2011) is nie. Daarom is dit belangrik om te verstaan waaruit ’n goeie speurverhaal bestaan.

Berendina Volschenk verskaf ’n eenvoudige definisie:

In die tradisionele speurverhaal is die oplossing van ’n geheim – ’n moord of ’n misdaad – sentraal. Daar is ’n speurder, dikwels bygestaan deur ’n helper, ’n ondergeskikte medespeurder, wat die geheim ontrafel. (2010:8)

Hierdie definisie beklemtoon die hoofelement van ’n speurverhaal: die funksie van die raaisel is om die spanning tot op breekpunt op te bou en dan ’n onverwagse antwoord op die raaisel te verskaf. Dit is spesifiek die uitstel van die antwoord op die raaisel wat die leser laat aanhou lees. Die Boendoesbaai-ding ontgin hierdie aspek op ’n verteerbare dog steeds ingewikkelde manier deurdat daar meer as een raaisel betrokke is.

Hierdie tipe verhale, waar raaisels gaandeweg ontrafel word, kan teruggevoer word na die Oedipus Rex-verhaal van Sophokles (Hambidge 2008). In hierdie verhaal is daar ook die sfinks, ’n mitologiese dier, wat lief is om in raaisels te praat. In Sophokles se verhaal bewaak die sfinks die stad van Tebes. Oedipus moet die raaisel wat die sfinks aan hom stel, korrek beantwoord voordat hy die stad mag binnegaan. Omdat hy die sfinks verslaan, word hy koning van Tebes en trou met die koningin Jokaste, onwetend dat dit sy ma is.

Die speurverhaal het in die laaste eeu toegeneem in gewildheid onder lesers. “Die speurverhaal het ’n hoogtepunt bereik met skrywers soos Wilkie Collins, Arthur Conan Doyle en Agatha Christie” (Head 2013:12). Hier kan Die Boendesbaai-ding vergelyk word met tradisionele speurverhale soos The woman in white (1859) en die bekende karakters van Sherlock Holmes en Dr Watson, asook Agatha Christie se The mysterious affair at Styles (1920). Alhoewel hierdie tekste almal op ’n meer volwasse gehoor gemik is, stel dit al die kenmerke van goeie speurverhale ten toon.

Die Boendoesbaai-ding is meer gepas vir ’n lesersgehoor van ongeveer 12 tot 16 jaar, alhoewel ek self die boek geniet het.

Boendoesbaai se raaisel begin met die stank van die plaaslike rivier en ’n bankroof van ongeveer 20 jaar tevore. Die skuldiges is destyds nooit opgespoor nie. Die ontknoping is onverwags en wie ten einde die skuldige is, betrap die leser onkant. Dit is ’n lekkerlees-speurverhaal wat die leser laat aanhou wonder wat werklik met die Boendoesbaai Derby van 1993 gebeur het. Dit is die groot raaisel waarom nog ander kleiner raaisels draai. Die ander raaisels sluit in: die rede vir die stank wat rivierlangs van Stofbergdam, by die ou wapenfabriek, afkom. En wat voer die slinkse Eloff-broers in die mou? Daar is ook die raaisel van die posbode wat jare gelede op dieselfde dag as die Boendoesbaai Derby spoorloos verdwyn het.

Die hoofkarakter, Eddie, tree tot ’n mate as speurder op, omdat hy aanvanklik die leidrade begin volg. Sy skoolvriendin, Maryna, maak vriende met twee neefs wat vakansie kom hou op Boendoesbaai en saam maak hulle ’n wonderlike avontuur mee en ontrafel die raaisel van die bankroof, waarvan die geld nooit gevind is nie – tot nou.

Anders as die tradisionele speurverhaal is hier nie ’n moord in die ware sin van die woord betrokke nie en kan hierdie speurverhaal die grondslag lê vir die jong leser om speurverhale te geniet. Dit het ’n goeie verteltrant en is verteerbaar vir die jonger leser, en daar is boonop genoeg intrige om die leser aan die raai te hou.

Bibliografie

Hambidge, J. 2008. Die onopgeloste raaisel met spesifieke verwysing na Die Jakkalssomer van Dirk Jordaan. LitNet Akademies, 5(1).

Head, P. 2013. Tyd as struktuurelement in speur- en misdaadfiksie met spesifieke verwysing na drie tekste deur Deon Meyer. MA-verhandeling. Universiteit van Kaapstad.

Volschenk, B. 2010. ’n Vergelykende studie van die tradisionele speurverhaal en die literêre speurverhaal met spesifieke verwysing na vier Afrikaanse speurverhale. MA-verhandeling. Universiteit van Pretoria.

The post <i>Die Boendoesbaai-ding</i> deur Rudi Venter: ’n resensie appeared first on LitNet.

Gister is verby deur Juanita Aggenbach: ’n resensie

$
0
0

Gister is verby
Juanita Aggenbach

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176323

Die roman bied nie net ’n blik op die lewe van Nadine, ’n jong en fikse twee-en-dertigjarige vrou wat met borskanker gediagnoseer word nie, maar vertel ook die verhaal van haar man, Pierre, wat haar moet versorg en self magteloos voel oor die skoknuus. Dit vertel verder van Nadine en Pierre se familie en vriende se reaksies op die nuus, wat die volle spektrum van reaksies uitbeeld: van ondersteunend tot totale ignorering en geen ondersteuning nie. Maar dit is ook die verhaal van Nadine se onkologiedokter, Althea Loubscher, wat haar eie stryd voer teen haar seun se dwelmhel.

Gister is verby vertel die verhale van veral die twee vrouekarakters, Nadine en Althea, en die twee mans in hulle lewens, Pierre en Roelof. Die twee vroue is verskillend maar albei is besig met ’n groot stryd. Nadine is broos en tranerig en kom voor as nie sterk genoeg vir hierdie stryd nie. Sy is amper willoos en tree nie op nie. Althea beskryf Nadine met die eerste besoek: “Nadine Duvenhage is ’n huilertjie. Ja, pasiënte is oor die algemeen ietwat tranerig wanneer hulle vir die eerste keer voor haar kom sit, maar sy kan van ’n myl af sien hierdie een se kop is nie reg nie.” Tog skram Nadine nie weg van die uitdagings wat oor haar pad kom nie: sy hou aan met haar werk terwyl sy chemoterapie en bestraling ontvang; sy draf die Twee Oseane-halfmarathon. Pierre neem die versorgingsrol oor as gevolg van Nadine se siekte: hy moet haar dreineringspype skoonmaak, hy ry haar rond, hy maak die kos, maar altyd bly hy die ondersteuner. Soos Althea dit stel: “Maar al is die ondersteuning deur die eggenoot hoe goed, neem dit niks weg van die feit dat hy slegs ’n omstander bly nie.” Teenoor Nadine, kom Althea as sterker persoon voor: sy tree dadelik op en gaan oor tot aksie; sy bel die rehabilitasiesentrums om plek vir haar seun te kry; sy soek haar seun in die strate as sy vermoed hy gebruik weer dwelms, reël ’n wegbreeknaweek. Tog ondergaan sy ook verandering wanneer sy aan die einde van die roman besef dat sy nie haar werk eerste moes gestel het nie. Roelof bly op die agtergrond (“Selfs met die stilstuipe wat hy soms kry, is hy darem altyd daar. Eers nou in sy afwesigheid voel sy die leemte.”)

Die roman is ’n verhaal wat veral vertel wat tussen ’n man en ’n vrou gebeur as sy die skoknuus van borskanker kry. Nadine moet die onmenslike gevolge daarvan op haar liggaam en vrouwees dra: die fisieke letsels en pyn, die uitwerking van chemoterapie op haar liggaam maar veral ook haar eie vroulikheid. Wat vernuwend in die roman is, is dat ons waarskynlik vir die eerste keer in ’n populêre roman iets lees vanuit die man se perspektief as sy vrou met borskanker gediagnoseer word. Daarom is Pierre se reaksie op die skoknuus net so belangrik: hy weet nie hoe om Nadine te help nie; of hy kans sien vir Nadine se behandeling of nie; en hy bevraagteken hulle verhouding: “Hy weet nie hoe hy haar moet help nie. Sy oë begin weer brand. Hoé help jy iemand wat hierdeur moet gaan?” Nadine en Pierre se storie word realisties maar tog met deernis en geloofwaardigheid uitgebeeld. Lesers wat hierdie pad al gestap het, sal met die karakters en die boek identifiseer. Diegene wat nog nie die pad gestap het nie, sal van die storielyn hou en veral van die menslike en empatiese wyse waarop Nadine se storie vertel word. Hulle sal iets nuuts leer en as ingeligte lesers na borskanker kyk en weet wat agter die verdoemende nuus vir beide man en vrou aangaan.

Gister is verby handel oor borskanker en beeld dit realisties en aangrypend uit. Aggenbach skram nie daarvan weg om besonderhede oor ’n mastektomie, chemobehandeling en bestraling te verskaf nie. Ook is daar nie die tipiese “mooi” slot nie, al is Nadine aan die einde van die verhaal “skoon” – daar is nog die vooruitsig van hormoonterapie, nog ’n mastektomie, ’n moontlike histerektomie. Dit is ’n wêreld waarvan ons daagliks lees en hoor; en moontlik al self beleef het. Die uitbeelding van kanker en kankerbehandeling wys daarop dat dit jou hele lewe oorneem en dat daar ’n fisieke en ’n psigiese dimensie daaraan verbonde is. Dit is veral ’n verhaal van oorwinning oor borskanker. Dis ’n verhaal van hoop – soos wat Nadine se naam beteken. Lesers kan gerus die roman lees, want dit verwoord nie net die verhaal van vroue se stryd teen borskanker nie, maar verwoord veral ’n verhaal van oorlewing en aanpassing in ’n wêreld waar “gister verby is”.

The post <i>Gister is verby</i> deur Juanita Aggenbach: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die kwesbares

$
0
0

Agtien jaar gelede word my dogter, Anneke, opgeneem in die Rooi Kruis-hospitaal in Rondebosch, Kaapstad. Sy is nie enig of uniek nie. Die feit dat haar negejarige lyfie elke paar sekondes deur ’n epileptiese toeval heen en weer geruk word, is van neutrale belang in ’n omgewing waar ’n ambulans of helikopter elke uur ’n siek kind aflaai. Van orals kom die kinders aan: Suid-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat en orals in Afrika. Klein lyfies met groot-naam-siektes. Vigs, tering, meningitis, diabetes, epilepsie.

Wanneer Anneke uitgeput teen haar pa se bors slaap, patrolleer ek die sale. Dis kínders wat so swaar kry, hyg ek. Kinders wat in baie gevalle sonder ouers daar aankom. Ouers wat nie kan bekostig om uit Botswana, Khayelitsha of Upington pad te gee nie.

“Die ouers het nie die geld om hier te kom rondsit nie,” troos ’n suster my omdat die alleenheid van die kinders vir my te swaar is om te aanskou.

“Gaan hulle hier dood?”

“Ja, baie van hulle,” sê sy.

“Alleen?”

“Nee, hier is ’n maatskaplike werker wat ons laat kom as ons sien ’n kind is sterwend.”

“Wat doen sy?”

“Sy klim by die kind in die cot of bed. Sy laat g’n kind alleen doodgaan nie.”

Dit is al waaraan ek die heelweek dink terwyl ek luister na die families wat getuig oor die 141 psigiatriese pasiënte wat in die “sorg” van verskeie nieregeringsorganisasies gesterf het: húlle het alleen doodgegaan.

’n Mens wat nie kan dink nie, is kwesbaar. Iemand wat nie sy eie keuses kan maak nie, vir homself veg of besluite bevraagteken nie, is uitgelewer aan die sterker een. Dit geld vir alle groepe in die samelewing, maar soveel te meer vir mense wat as sogenaamde psigiatriese pasiënte geklassifiseer word. Die definisie is kort en kragtig: die persoon se vermoë om te dink is aangetas.

Natuurlik is dit ook op ’n kontinuum. Van beperkte denke tot ’n algehele onvermoë. Ek sal my verstout om te sê die meeste van die pasiënte wat gesterf het, het ’n algehele onvermoë gehad om vir hulself te dink of hulleself te verdedig.

Ongeveer vyf jaar gelede besluit ons dit is dalk tyd dat Anneke in ’n tehuis vir gestremdes geplaas word. Dit is ’n moeilike besluit, maar ons neem ons voor om op geen plek ja te sê tensy ons heeltemal seker is sy sal daar gelukkig wees nie. Ons ry van die een na die ander tehuis, maar nêrens kan ons verseker word dat sy as verstandelik gestremde sal kan aanpas nie. Vir fisiek gestremde mense is daar heelwat meer voorsiening.

Die plekke wat wel vir haar kans sien, sien óns nie voor kans nie.

“Hulle sal haar met medisyne onderdruk en op ’n bed laat lê,” sê my man met ’n verbete trek om die mond.

Ek bel ’n tehuis in Cullinan.

“Mevrou, ek sal nie my kind hierheen bring as ek jy is nie,” sê ’n personeellid saggies in die gehoorbuis. Die einste tehuis is nou onder verdenking nadat van die Life Esidimeni-pasiënte ook daar gesterf het. Die familie is nooit laat weet nie.

Uiteindelik besluit ons om ons kind tuis te versorg met die hulp van mense wat omgee. Maar nie almal is in die posisie om dit te doen nie. Families wat veg om oorlewing, is swaar genoeg gelaai sonder die ekstra aanspraak wat gemaak word deur iemand met spesiale behoeftes. Sulke tye hoop jy die een wat jou arm langer maak, gee om. Want as jy omgee, gee jy water en kos en pille. Dit is die elementêre verwagting, meer is ’n bonus.

Dit blyk die pasiënte is dood aan ontwatering en verhongering, en ander het nie hul medikasie gekry nie, wat weens ’n gebrek aan fondse nie aangekoop kon word nie. Wanneer ’n epileptiese pasiënt nie sy medikasie kry nie, kan hy in status-epilepsie gaan. Die een aanval is uit die ander en die persoon se liggaam hou aan ruk met tussenposes van drie sekondes. Dit kan vir ure aanhou, met die dood as onvermydelike gevolg. Vir my is dit ondenkbaar dat personeel net daarna kon staan en kyk.

’n Familielid getuig in die verhoor wat tans gehou word dat sy die polisie se hulp moes inroep nadat sy gehoor het haar broer is al vier dae tevore oorlede en sy geen samewerking van die tehuis met die naam Precious Angels kon kry nie. Uiteindelik het sy haar broer en die ander lyke opgespoor in ’n stoor; kaal het hulle opmekaar gelê. Op ’n hoop gegooi.

Ek weet nie wie verkwalik moet word nie. Ek weet nie eens of iemand uitgesonder moet word nie, want is dit wat in hierdie onwettige nieregeringstehuise gebeur het, nie net ’n simptoom van die samelewing nie? Mense gee net eenvoudig nie om nie.

Ek loop in my gang op en af en tel: een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege, tien, elf, twaalf, dertien, veertien, vyftien, sestien, sewentien, agtien, negentien, twintig, ... honderd sewe en dertig, honderd agt en dertig, honderd nege en dertig, honderd en veertig, honderd een en veertig mense dood. Van die kwesbaarstes onder die kwesbares. En niemand was daar om by hulle in die bed te klim en te sê: “Ek laat g’n kind alleen doodgaan nie.”

The post Die kwesbares appeared first on LitNet.


My storie van hoop deur Hykie Berg: ’n resensie

$
0
0

My storie van hoop
Hykie Berg

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320551

Hykie moes ’n boek skryf. En ek moes die boek klaar lees, want ek was so bang dit het nie ’n gelukkige einde nie. Eintlik wil ek die hasepad kies as ek ’n hoop-storieboek moet lees, want dis gewoonlik ’n bietjie grillerig. Hykie het nie teleurgestel met die einde nie, hoewel ek hier in die middel rond getwyfel het: my ore en oë het omtrént getuit, want ek het nog nooit in my lewe so ’n stoutgat teëgekom of van een gehoor nie: hy doen dinge rêrig in die oortreffende trap. Tog het hy so ’n vars manier om dinge te stel dat ek soms wou hardloop om ’n potlood en papier te gaan haal om my eie notas te maak, boekblaaihoekies om te vou om die bladsy te onthou en hier en daar ’n traan weg te pink.

Glo jy in duisendste kanse? Van opstaan en voortbeur, liefde vind en ’n God soek wat wag en langs jou loop? Dit is Hykie se storie. ’n Ware inspirasie. Ek was saam met hom in die hole van Hillbrow en het saamgesoek na die volgende rand vir sy heroin fix. Dit was ’n hand-na-die-mond-ervaring: ’n rotwieletjie waar die lig nie kom nie en die liefde nie is nie. Dan verstaan ek beter hoe dit is om so vasgevang te wees in ’n tonnel waar die enigste hoop is: iemand wat jou teen alle gesonde verstand en denke in kan liefhê en ’n hand na jou toe kan uitreik: in jou sien wat waaragtig nie op daardie stadium in jou lewe manifesteer nie.

Dit het my laat dink aan die probleme van ons land in Suid-Afrika: hoë werkloosheidsyfers, mense wat hoop soek in bottels en hole met tik en dagga, mense sonder rigting. En ek wens ek kan in elkeen se hand ’n Hykie-hoopboek stop sodat hulle kan lees van die ander kant en dat dit 12 baie presiese nuanses van stappe kos om die lig te sien. Vir ouers en mense wat in staat is om liefde te gee (al is dit al wat dit is) om gemeenskappe weer heel te maak sodat die stukkend weer heel kan raak, mense hulle passies en roeping op die aarde kan vervul.

Nou verstaan ek beter van tieners wat beur, skop en skree met uitdagende gedrag en vir aandag vra. Dis baie moeilik om die rebelle lief te hê, en tog, as hulle omdraai, raak hulle die leiers en fondamente waarop ’n hele gemeenskap en volk hulle toekoms kan bou. Louwarm is nie goed genoeg nie, halfpad is nie ’n opsie nie. Dit is mense met passie en ’n behoefte om voluit te gaan: of dit nou is vir dwelms of ’n doelgerigte lewe saam met God.

Jy het jou Oscar, Hykie: dis mense wat jou op die hande dra en weer in jou glo, dis verhoudings wat herstel is en jy wat as ’n leier, briljante skrywer en spreker die wêreld om jou gaan heel maak juis omdat jy die ander kant gesien het en verstaan wat dit is om bewustelik die lewe te kies.

The post <em>My storie van hoop</em> deur Hykie Berg: ’n resensie appeared first on LitNet.

Jaarvergadering van die internasionale vereniging vir Afrikaans: ’n verslag

$
0
0

Die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) se Algemene Jaarvergadering het op Saterdag 28 Oktober by die Universiteit van Pretoria plaasgevind. Verteenwoordigers van Afrikaansdepartemente regoor Suid-Afrika het die vergadering bygewoon om die IVA se doelwitte te bespreek, amptelike verteenwoordigers te verkies en die pad vorentoe uit te stippel.

Die volgende lede is tot die bestuur verkies: Amanda Lourens (Universiteit Stellenbosch) as voorsitter, met Bibi Burger (Universiteit van Pretoria) as ondervoorsitter en Dewald Koen (Universiteit van Fort Hare) as bestuurder. Adean van Dyk (Sol Plaatje-Universiteit), Lynette Bester (Nelson Mandela-Universiteit) en Giselle Botha (Universiteit Stellenbosch) dien in die ondersteuningskomitee.

Agter: Alwyn Roux, Hendrik Theys, Dewald Koen, Adean van Dyk, Conrad Steenkamp (ATR) Voor: Amanda Lourens, Ria Olivier (ATR), Lynette Bester, Bibi Burger en Giselle Botha (Afwesig: Anne-Marie Beukes, Ilse de Korte, Andries Visagie)

Die IVA, in samewerking met die Afrikaanse Taalraad, stel hom ten doel om Afrikaans op nasionale sowel as internasionale vlak te bevorder deur nouer samewerking tussen Afrikaansdepartemente by universiteite (asook universiteite van tegnologie en opvoedkundedepartemente). Die IVA-webblad is herontwerp en bygewerk en dien as platform waar dosente en studente belangrike inligting oor Afrikaans kan bekom. Die webblad bevat ’n volledige databasis van dosente wat Afrikaanse taal- en/of letterkunde (ook binne opvoedkundefakulteite) nasionaal sowel as internasionaal onderrig. Studente wat Afrikaans as vak neem, kan die webblad raadpleeg vir beurse waarvoor hul kan aansoek doen. Dit sal ook belangrike skakels bevat na webblaaie wat vir die Afrikaansstudent nuttig kan wees. Die webblad gaan voortdurend uitgebrei word om die studie van Afrikaans op tersiêre vlak te bevorder.

Agter: Neil van Heerden, Hendrik Theys, Amanda Lourens, Dewald Koen, Adean van Dyk, Conrad Steenkamp (ATR), Ria Olivier (ATR) Voor: Lynette Bester, Bibi Burger, Giselle Botha (Afwesig: Anne-Marie Beukes, Ilse de Korte, Andries Visagie)

Tydens die vergadering is besluit dat almal wat Afrikaans nasionaal sowel as internasionaal onderrig, outomaties lede van die IVA word. Dosente kan egter ook as amptelike lede registreer om tydens die jaarvergadering vir bestuurslede te kan stem.

Amptelike lidmaatskapsvorms sal binnekort aan alle departemente gestuur word.

Die IVA-webblad kan by die volgende skakel besoek word: www.iva.org.za. Enige navrae kan gerig word aan Dewald Koen by dkoen@ufh.ac.za.

The post Jaarvergadering van die internasionale vereniging vir Afrikaans: ’n verslag appeared first on LitNet.

Die dood en die sin van die lewe deur Anton van Niekerk: ’n resensie

$
0
0

Die dood en die sin van die lewe
Anton van Niekerk
Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624075332

Die titel van Anton van Niekerk se boek, Die dood en die sin van die lewe, dui daarop dat die twee temas wat in die titel opgeneem is, in hierdie boek met mekaar in verband gebring word. Nadenke oor die een onderwerp veronderstel nadenke oor die ander. Dink ons oor die dood, dan kom die vraag na die sin van die lewe ook by ons op en ook andersom. Saam met die titel op die voorblad word Chris Jones aangehaal volgens wie hierdie boek “ongetwyfeld die invloedrykste denke ooit in Afrikaans” oor die onderwerp bied. Ek glo Jones is reg: hierdie is ’n belangrike teks wat tydig verskyn het in ’n jaar waarin sterwe en dood inderdaad ’n groter tema is onder die Afrikaanse leserspubliek. Hierdie toedrag van sake is natuurlik veral toe te skryf aan die invloedryke werke van Karel Schoeman, soos Slot van die dag, en uiteraard ook sy selfdood op 1 Mei 2017 en die gesprek wat dit in die media gestimuleer het. Van Niekerk verwys self ook hierna, en sy boek is deel van ’n hele paar tekste wat tans verskyn, soos Schoeman se werk, wat tereg ’n taboe uitdaag.

Reeds in sy outobiografie het Schoeman opgemerk dat hy in die 1980’s tot die besef gekom het “hoe bang die meeste mense vir die dood is en hoe panies beangs hulle raak by die blote gedagte aan ouderdom, aan veroudering, agteruitgang, sterfte en verval”. Van Niekerk se eerste hoofstuk is dan ook tereg getitel “Om sin te probeer van maak ’n taboe” en hy noem die dood die taboe van ons tyd. Hy is reg, alhoewel sommige denkers dit sal kwalifiseer of dalk sal uitbrei, aangesien taboe nie belangstelling in die tema uitsluit of neerkom op sogenaamde doodsontkenning nie. Thomas Long se waarnemings laat hom opmerk dat die samelewing veel eerder gefassineerd is met die dood, net soos die samelewing gefassineerd is deur pornografie. Dit is volgens Long eerder die geval dat beide onderwerpe taboe is en dus juis nie so dat die dood ontken word nie, maar inteendeel vir mense fassinerend is as onderwerp. Miskien het ons te make met ’n fassinerende taboe, of dalk is die meeste taboes fassinerend.

Met die lees van die boek word dit ook duidelik dat denkers deur die eeue gefassineerd gebly het deur hierdie onderwerp. In die taal van Van Niekerk bly die dood tereg ’n misterie. Die pragtige gedigte en verwysings na prosa wat geïnspireer is deur die tema wat Van Niekerk in sy boek aanhaal, dui ook op hierdie fassinasie en ook die kreatiwiteit wat hierdie misterie stimuleer (om nie eers te praat van Karel Schoeman se hele kreatiewe oeuvre nie). Daar is tans ’n besonder groot aanbod boeke en ook televisieprogramme wat die dood as tema aansny, byvoorbeeld misdaadfiksie en televisiereekse met moorde en speurders. In hierdie boeke en programme bly die dood egter op ’n afstand en word die leser en kyker nie diepgaande by die tema betrek en gedwing om self ook te besin oor die dood, en ook die leser of kyker se eie dood nie. Die dood is daar iets wat met ander mense gebeur en bly sodoende op ’n veilige afstand. Van Niekerk se boek is nie bedoel vir diegene wat deur die CNA loop en op ’n nuuskierige afstand na die Scope se buiteblad loer nie. Die boek is nie vir sulke agies nie, want dit is ’n boek wat die leser nie op ’n objektiewe afstand laat bly ten opsigte van die tema van die dood en die sin van die lewe nie, maar intrek en dwing om te besin oor die dood en spesifiek ook jou eie sterflikheid en dood. Dit kry die skrywer goed reg deur in hoofstuk 2 redelik breedvoerig te skryf oor sy eie belewenisse van familie en vriende wat gesterwe het en spesifiek ook hoe hulle met daardie realiteit elk op ’n idiosinkratiese wyse omgegaan het. Afgesien van die insig dat verskillende mense op verskillende wyses sterf, help dit die leser ook om daardie verhale eie invullings te gee. Dus, vanaf die taboe beweeg die skrywer so ’n treetjie nader aan die leser se eie lyf met hierdie tema. En gegewe hierdie onderwerp, toon hy oortuigend aan, is die mens se hele lyf as interpreteerder baie belangrik.

Die filosoof Van Niekerk is ook die proponent Van Niekerk en dit blyk duidelik uit hoofstuk 3, waarin die mens se vrees vir en opstand teen die dood aan bod kom. Aangrypend is Tolstoi se Die dood van Ivan Ilyich wat hy in hierdie hoofstuk inbring. Skokkend waar is sy opmerking oor terminale lyding: “die besef dat, al kan jy dit nie self aanvaar nie, ander mense hulself dit aanmatig om dit namens jou te aanvaar”. Van Niekerk help ons hier, soos elders in die boek, om ’n spieël voor die leser te hou, nie alleen die spieël rakende jou eie sterflikheid nie, maar ook die spieël gegewe jou reaksies en optrede met betrekking tot ander se lyding, sterwe en dood.

Met gedagtegoed soos lewe na die dood en ’n ewige lewe speel hy in die opvolgende hoofstuk gou klaar. Hy skryf: “Ek sukkel maar taamlik om veel sin te maak van ’n lewe ná die dood” en skaar hy hom by denkers vir wie dit na ’n baie vervelige idee klink. Hier het ek, toegegee, gejeuk om baie krities in te kom, spesifiek ook rakende sy siening van die saak in die Christelike geloof, maar gelukkig het ek die boek eers heeltemal klaar gelees. Teen die einde van die boek kom hy terug op hierdie sake en laat, met die nodige nuanses, reg geskied aan die Christelik oortuigings rakende die opstanding van die liggaam. Hy toon tereg aan dat heelwat van die misverstande in die Christelike tradisie op ’n liggaam-siel-dualisme berus wat oorgespoel het van die Griekse filosofie, veel eerder as wat dit is hoe die Bybel met sy sterk Semitiese invloede en gevolglike klem op die belang van die mens se liggaam daaroor praat. Lewe wat ewig word, is vir hom eerder ’n aanduiding van lewenskwaliteit as lewenskwantiteit. Dit is mooi gestel.

Sy ontleding van die dood in die moderne wêreld is baie insiggewend, veral die wyse waarop die dood volgens hom gemedikaliseer word deurdat elke sterfgeval ’n verklaring moet kry en siekte opgedeel word in benoembare en dus beheerbare siektes. Saam hiermee hang dinge wat ons doen om die dood uit te stel, soos oefen en reg eet. Ek dink hierdie insigte kan met vrug verder verken word in ons eie dag, veral gegewe die tema van kos (en ’n duisend eetintoleransies) en hoe eet (en al die “afwykings”) bykans rituele van ’n nuwe soort godsdiens geword het waarin daar na onsterflikheid gestreef word.

Teenoor hierdie sterk moderne reaksie op die dood word die tema van misterie in die opvolgende hoofstuk aangesny. Hy toon aan dat moderniteit ons ’n onguns aangedoen het en “mense verhinder om denkend om te gaan met die paradoksaliteit van die misterie-ervaring, waarvan dood-interpretasie ’n sleutelaspek is”. ’n Aanvoeling vir misterie help ons weer om bewus te word van grense. Met hierdie gedagtes beweeg hy na hoofstuk 7 en die dood in ’n postmoderne wêreld.

Die kenmerke van postmoderniteit word in hoofstuk 7 bespreek en ’n heelparty van die belangrikste denkers se werk kom aan bod, maar die skrywer maak dit werklik bevatlik vir bykans enige leser. Van Niekerk is ’n filosoof en bring met hierdie boek inderdaad ’n “oorbrugging tussen die intellektuele wêreld en die alledaagse gesprek” (Chris Jones) oor die dood en die sin van die lewe, maar ook oor die insigte van die filosofie. Hy beskou filosofie as “denke oor denke”. Plek-plek verwys hy na werk van teoloë (soms met instemming, maar ook met ’n skeptiese pen wanneer hulle met gesag oor die minute na die dood skryf); desnieteenstaande is hierdie boek deur en deur ’n filosofiese werk en die gespreksgenote is merendeels filosowe en sosioloë. Twee stemme wat hy baie sterk laat deurkom in die teks is dié van die Poolse sosioloog Zygmunt Baumann en die Duitse filosoof Martin Heidegger. Van Niekerk beskryf die verskil tussen die moderne en postmoderne benadering tot die tema soos volg: “Terwyl die moderne strategie om met die dood in die reine te kom, neerkom op die ‘dekonstruksie’ van sterflikheid deur die oorsake van die dood te onderskei in ’n fragmenterende proses om hulle beheer- of bestuurbaar te maak, is die postmoderne manier van die hantering van die dood die dekonstruksie van die strewe na onsterflikheid.” Postmoderniteit speel klaar met die gedagte dat ons iewers heen op pad is. Ons is nie meer pelgrims met ’n vaste roetekaart nie, maar swerwers, nomades. In ’n postmoderne klimaat is hierdie oomblik, nóú, belangrik en onsterflikheid word van alles en almal weerhou met ’n aandrang op dit wat nuut is. Van Niekerk praat van die drang op “ewigdurende vernuwing” wat vir lesers baie herkenbaar is in ons eie dag.

In die hoofstuk waarin hy onder andere Nietzsche se werk oor tragedie gebruik, kom hy by die hart van sy boek uit. Die begrip tragedie word benut om nader te beweeg aan ’n lewenstrategie waarin die dood help om perspektiewe op die sin van die lewe te bekom. Dit is van hier af dat ek minder eerder as meer oor die boek sal sê, alhoewel ek kan noem dat hy die begrip tragedie op ’n sinvolle wyse vir sy argument toe-eien as ’n genre wat vol Dionysiese energie is wat, eerder as ’n pessimistiese lewensingesteldheid, ons uitnooi tot ’n viering van die lewe.

In die voorlaaste hoofstuk sit die skrywer sy hoed as etikus op en verken belangrike vraagstukke soos selfdood. En in die slothoofstuk werk hy sy gedagtes wat hy reeds aan die orde gestel het met die begrip tragedie, nog verder uit aan die hand van twee metafore, te wete horison en reis.

So, wat is die sin van die lewe?

Aan die einde van die Monty Python-film The meaning of life wanneer ’n tamaai koevert gebring word wat die antwoord op hierdie tergende geheim bevat, lui die antwoord: “Be nice to all people, avoid eating fat, read a good book every now and then, get some walking in and try to live in peace and harmony with people from all creeds and nations.” En Van Niekerk die filosoof, vir die wie die vrae belangriker as die antwoorde is – wat antwoord hy? Wel, ek gaan nie die aap volledig uit die mou laat nie, want lesers moet self saam met hom deur sy hoofstukke reis sodat hulle bewus kan word van die belang van die dood gegewe hulle eie verstaanshorisonne en dat die dood en die sin van die lewe inderdaad tematies lepellê. Neem dus Monty Python se raad oor die lees van ’n goeie boek so af en toe ernstig op en begin sommer met Die dood en die sin van die lewe.

Ek sal tog net vir ’n oomblik my teologiese hoedjie gou opsit en sê dat Van Niekerk ’n heel Bybelse antwoord bied, ’n antwoord wat sterk resoneer met Prediker van die Ou Testament (na wie hy self ook verwys): die sin van die lewe is om te lewe, maar om dit op ’n oorwoë wyse te doen. En sonder die werklikheid van die dood is hierdie moontlikheid skraal.

Van Niekerk se boek is geskryf vanuit ’n Westerse perspektief, met gebruikmaking van bronne uit veral die Westerse filosofiese tradisie, en is duidelik afgestem op ’n meer Westerse leserspubliek. Dit is duidelik, en die boek moet as sodanig waardeer word. Tog, toegegee, sou ek ’n paar stemme vanuit ons eie kontinent wou gehoor het. My eie gedagtes oor hierdie tema is al verstrengel met sekere gedagtegoed wat uit Afrika kom wat vir my besonder baie sin maak.

Terwyl ek in ’n koffiewinkel sit en tik aan die resensie met die boek wat langs my skootrekenaar lê, hoor ek vlak langs my linkeroor: “My jinne, kyk net, is dit ’n lekker boek om te lees? Sal jy dit aanbeveel?” Nou ja, daar is dit, die groot toets na al my paragrafies. Ek moet antwoord, in die oomblik – sy het alreeds haar rekening betaal, die motorsleutels hang aan haar vinger en die lyf draai al in die rigting van die deur. Ek probeer: “Lekker? Nee, maar ...”, en toe ek klaar gepraat het, antwoord sy terwyl sy terugdraai en die selfoon uithaal: “Wag, laat ek ’n foto neem van die omslag, gaan sommer nou reguit na Exclusives.”

The post <i>Die dood en die sin van die lewe</i> deur Anton van Niekerk: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die kat

$
0
0

Hoe dit gebeur het dat Kat my verantwoordelikheid geword het, weet ek nou nog nie. Dit was een van daardie vinnige transaksies tussen ma en kind en voor jy jou kon kry, besef jy dat jy ingeloop is. Die ratsheid van drukkies, redenasies en komplimente wat jy eers agterna as kulkuns herken. My kinders is goed daarmee …

So gebeur dit dan dat Kat na die Desembervakansie nie deel is van die bagasie terug universiteit toe nie. Die swart, benerige en uiters verbale kat, maak haar tuis in my kothuis om te bly. Ek verstaan die kat nie en die kat verstaan my nie, maar dit dompel my nie in ’n eksistensiële krisis nie. Ek verstaan mý ook nie en in hierdie stadium van my lewe, verstaan ek nog minder wat mense dryf om te wees soos wat hulle is. Daaroor wonder ek soms wél as insomnia sy swart mantel oor my kop trek. Of ek luister na my eie asemhaling en verwonder myself teensinnig aan die feit dat geen kognitiewe denke of besluit, die liggaam se drang om te wil leef kan uitkanselleer nie. Ten tye wat die siel kies om nie meer te wil wéés nie, bly die hart getrou suurstofryke bloed pomp. Bly asemhaal ’n onwillekeurige reaksie van ’n liggaam wat tot oorlewing geprogrammeer is.

Kat praat in tale en sy leer my ook in tale praat. Wat de hel soek jy? Kos? Water … of het jy nou bloot jou gat gewip oor ek jou alleen by die huis gelos het? Mettertyd begin ons mekaar se tale tog ontsyfer. Kat het haar eie fiemies. Kat eet nét as sy sien dat ek ’n vars skeppie kos in haar bak gooi. Kat drink water in die bad, en dan ook net as die water nóú getap word. En net ’n kleinerige dammetjie want Kat hou nie van nat voete nie.

Ek het ook my eie fiemies … Ek hou nie van ’n skuurdery nie en as Kat saam met my wil nuus kyk, moet sy uit my spasie uit bly. En ek verdra nie ’n saamslapery op een bed met ’n dier nie. Daai een verstaan Kat egter nie en net soos die kinders, kry sy later tog haar sin. Sy hou haar darem by die voetenent.

Synde die slapery op een bed, mag Kat nie buite speel nie, want by vlooie in die bed trek ek ’n besliste streep in die sand. Die buitehonde help om Kat binne te hou. Die verste wat sy dit waag, is om op die stoep se reëling te sit en die wêreld vanuit haar superieure hoogte te bekyk. Jy verbeel jou verniet, daag die honde haar uit! ’n Keer of wat is daar ’n onderonsie by die voordeur as Kat wil inkom, maar andersins bly hulle uit mekaar se pad.

Op ’n dag is daar fout met Kat. Sy kerm die aakligste geluide op ’n desibelhoogte wat my nerwe stukkend vreet. Sus Google … Kat is op hitte, Ma! Ek vererg my terstond. Hoe op hierdie aarde hou ek nou ’n hitsige kat in die huis opgesluit? Vir klein katte sien ek beslis ook nie kans nie en ek visualiseer die verdrinkingsproses in die swembad. Na ’n week van ween en tande kners, is Kat se origheid verby en dit vat my nog ’n dag of wat om haar te vergewe.

Dit blyk egter ’n herhalende probleem te wees … Kat is weer hitsig belus en ek is beneuk oor die kleinkinders wat die stoepdeur oop los as hulle kom kuier. Kat glip soos blits uit en selfs die honde kry haar hierdie keer nie gestop nie. Drie uur die nag kom krap sy aan die venster om in te kom. Ek skel haar vir al wat sleg is, maar sy trek net haar oë op vermakerige skrefies en maak haar salig tuis by my voete. Die klein slet!

Die natuur laat hom nie voorskryf deur wensdenkery nie, en ek gooi ’n blinde oog vir Kat se dikker wordende middellyf. Jy kry te veel kos, raas ek, maar Kat vreet en slaap haar dae salig om. Kat gaan babatjies kry, roep Sus kloekend uit tydens ’n af naweek. Nie in mý huis nie, swets ek brommend. Ek laai haar so gou soos nou by die DBV af! Of by die buurvrou wie se gemmer mannetjieskat breëbors en uitdagend heen en weer op die grensmuur tussen ons erwe pronk.

Ek tel nie kalenderdae af nie en die verhouding tussen my en Kat raak strammer by die dag. Hoe dikker sy raak, hoe meer vervies ek my vir haar heiliger-as-jy houding. En ek mis happy hour … Kat se uitspattige spelery saans om nege wat retrospektief tóg die saaiheid van lang aande opgekikker het. Sy stel ook nie meer belang in die nuus van die dag nie en haar dragtige lyf word warm op die bed, dus kry sy nie meer haar lê in die waai van my bene nie. Ek mis die ekstra asem as ek snags wakker lê en na die drogbeelde teen die mure staar. En daaroor is ek ook die vieste in. Ek het immers kognitiewe besluite geneem om nooit weer afhanklik te raak van ’n tweede asem in my kamer óf in my kleinserige naby-spasie nie.

Een nag kom klim Kat tog in. Slaapdronk voel-voel ek na die bedlamp se skakelaar en maak myself gereed om haar goed die leviete voor te lees. Dis immers ’n ongeskrewe reël wat nog altyd strafregtelik afgedwing word. Sy hou haarself bó die beddegoed! Dis haar plek …

Ek pluk die kombers oop en my skrikvlakke spring in een asemteug hemelhoog. Die kombers val uit my dom hand om die gedoente te bedek. Wat doen ek nóú, pluk paniek aggressief aan verflenterde binnesnare. Bel ek vir Sus? Nee, dis twee uur in die nag, sien ek.

Ek bly versteen sit en paniek en woede los mekaar oorhands af. Ek dóén nie bloed en beserings nie! Vra enige iemand wat my ken. Deur die genade van Bo was daar nog altyd ’n buurvrou of vriendin byderhand om my kinders se kleintyd-beserings met salf en pleister te behandel. Nou sit ek met ’n kat wat besluit het dat my bed ’n kraamsaal is en ek het geen begeerte of behoefte om vroedvrou te speel nie.

Diere kry hulle kleintjies sommer in die veld, kalmeer ek myself. Hulle weet van nature hoe om te maak ... Die beste wat ek nou kan doen, is om in Sus se leë bed te gaan inkruip. Tog kry ek dit net nie oor my gewete om weg te stap nie. Daar is nie iemand anders om te help of raad te gee nie en dit is nie sommer net ’n verdwaalde straatkat wat op my stoep wil kleintjies kry nie. Dis Kat ... Ek byt op my tande en lig die hoek van die kombers weer stadig op.

My oë pas stadig aan by die skemer van die veilige hawe wat sy self kom kies het. Ek skuif dieper en nader onder die beddegoed in … Kat se oë glim moeg, maar dapper en triomfantlik. Sy draai op haar rug om vir my te wys … Teen haar maag lê die klein rotagtige dingetjie, mooi skoon gelek en reeds aan ’n tepel geheg. Kat druk haar kop liefderyk teen my vinger wat oor die ragfyne rugstring van die kleintjie vryf.

Daar is ’n vreemde gorrel-geluid agter in haar keel. ’n Primitiewe taal wat ek dadelik eien as barensnood. Oeroue woorde van sus en aanmoediging glip deur my droë keel soos ek deel word van hierdie magiese klein tafereel van lewe gee. Ek onthou opeens ook elkeen van my eie kinders se geboortes. Die pyn en doodsbenouing, maar ook die liefde met eerste oogopslag. Ek onthou die reuk van melkasempies en babapoeier … Die melk wat inskiet as ’n roosknop mondjie snuffelend soek.

Ek huil … oor ek moeg is en nog nie klaar geslaap het nie. Ek huil oor die volmaakte beplanning in dag een tot ses van die Skeppingsverhaal en dat ek deel kan wees van die gestalte daarvan. En ek ween onbeheersd oor my eie kinders se pa wat na agt en dertig jaar gekies het om soos ’n jagse mannetjieskat die pad te vat …

Uitgehuil vee ek my trane met die laken af en ek weet dat ek lankal só moes gehuil het. So totaal aards en in die oomblik. Sonder om voorgeskiedenis te probeer herskryf en sonder om angstig te beplan aan die toekoms. Gestroop van dogmatiek en ’n eksegetiese uitleg van voorafbestemming en dat daar iets beters wag vir dié wat glo, want soms is die lewe net pleinweg nie fair nie!

Ek krom my lyf om Kat en die nuwe lewe wat soos ’n naelstring tussen ons lê en vir die eerste keer in ’n lang tyd, voel ek deel van die onmiddellikheid van ’n geheel vol diepte en ruimte wat verby my eie kleinserige grense strek. Ontspan my vel onder die aanraking van beddegoed en ek verbeel my dat ek en Kat tóg eenselwige tale sal kan praat, noudat sy ook ma is.

Al ek hou nie eers van katte nie …

The post Die kat appeared first on LitNet.

Die akkuraatheid van weervoorspellings

$
0
0

The reliability of long-range forecasts, like that of short- and medium-range projections, has improved substantially in recent years. Yet, many significant problems remain unsolved, posing interesting challenges for all those engaged in the field. (Cahir 2017:2)

Reënmeter op Bergriviernek-roete, Stellenbosch (Foto: die skrywer)

1. Inleiding

Hoe akkuraat is wetenskaplike weervoorspellings? Wat behels die betroubaarheid of akkuraatheid van meteorologiese waarneming, ontleding en voorspelling? Hoe word weervoorspellings geverifieer? Watter soort probleme rakende weevoorspelling is tans nog onopgelos waarna Cahir (2017) hier bo na verwys?

Wanneer gepraat word oor die akkuraatheid van weervoorspellings, word ’n moeilike perd opgesaal. Idiomatiese uitdrukkings soos “Hou jou neus uit die weer uit” (maw moenie onnodig ’n mening oor ’n moeilike onderwerp waag nie); “Bly uit die weer en die rand uit my kind” (Wessels 2017); “Met iets in die weer wees” (gedurig daaroor praat, (Hoogenhout en Schoeman sj) suggereer reeds iets oor die kompleksiteit van die onderwerp. Veral die niestatiese aard van die atmosfeer is problematies, soos die volgende aanhaling van Leo Rosten illustreer: “Some things are so unexpected that no one is prepared for them” (Rosten). Weer- en klimaatverskynsels kan onverwags toeslaan en nadelige gevolge vir lewe op die aarde inhou, maar terselfdertyd is dit moeilik om die toekomstige weerpatrone wat verwag word, akkuraat te voorspel. Weerkundiges verkeer dus in ’n moeilike situasie.

Hoekom word weervoorspellings geverifieer? Volgens Mittermaier (2008) word van voorspellingsentra verwag om deurlopend te bevestig en te monitor dat die numeriese modelle wat hulle gebruik om voorspellings uit te voer, wel nuttigheidswaarde lewer. Dit is veral belangrik om te weet hoe voorspellings dmv wiskundige modelle vaar in vergelyking met die werklikheid; in watter mate die gebruik van wiskundige modelle die weerkundiges se voorspellingsvaardighede kan verbeter; en hoe die akkuraatheidsvlak van verskillende modelle soos deur verskillende voorspellingsentra gebruik word, met mekaar vergelyk (maw op watter wyse en in watter mate instansie X se voorspellings deur dié van Y oortref word).

Die verifiëring van weervoorspellings is ’n belangrike spesialisasiegebied en word deur die volgende eenvoudige waarneming (’n voorbeeld van veldverifikasie) bevestig:

Volgens die reënvalverslag vir Stellenbosch soos voorsien deur die La Colline Weerstasie was die totale waargenome neerslag vir die 24-uur-periode van Dinsdag 22 Augustus 11h00 tot Woensdag 23 Augustus 11h00, 2017 6,5 mm.

Oor dieselfde periode is die reënvalvoorspellings vir Stellenbosch soos beskikbaar gestel deur Yr (’n diens van die Noorweegse Meteorologiese Instituut) en die interaktiewe webtuiste Windy.com met mekaar vergelyk. Hiervolgens het Yr ’n totale neerslag voorspel van 9,5 mm vanaf 11h00 Dinsdag 22 Augustus tot 02h00 Woensdagoggend, terwyl Windy.com ’n totale neerslag van 5,9 mm voorspel het vanaf 15h00 Dinsdag 22 Augustus tot 06h00 Woensdagoggend.

Uit hierdie informele waarneming blyk dit dat:

  • Yr en Windy.com se voorspellings verskil het ten opsigte van die aanvangsperiode en die einde van die neerslagperiode. Yr het ’n langer tydsduur van die neerslag voorspel en Windy.com ’n korter neerslagperiode.
  • Yr en Windy.com het verskil wat die voorspelling van die totale neerslag betref (onderskeidelik 9,5 mm en 5,9 mm).
  • Beide voorspellings van die totale neerslag het afgewyk van die werklike waargenome totale neerslag (6,5 mm) soos gemeet is vir Stellenbosch deur die La Colline weerstasie. Yr het die totale neerslag oorvoorspel, en Windy.com het dit ondervoorspel.

Hierdie voorbeeld toon duidelik die belangrikheid van verifikasie, alhoewel geen substansiële afleidings natuurlik op grond van ’n enkele weerwaarneming gemaak kan word nie. ’n Enkele waarneming kan op die identifisering van ’n uitsonderlike gebeurtenis neerkom en illustreer dus die beginsel van foutiewe steekproefneming. Gevolgtrekkings oor neerslagakkuraatheid vereis meer data as bloot ’n enkele waarneming. Afleidings kan slegs gemaak word waar ’n reeks waarnemings oor ’n langer tydsverloop beskikbaar is en ondersteun word deur toepaslike statistiese ontleding van die data en veral die gebruik van vertrouensintervalle (Zietsman 2017).

Die waarneming dat reën wel by ’n spesifieke verwysingspunt (Stellenbosch/La Colline) geval het (afgesien van die aanvang, tydsduur en hoeveelheid) soos deur die twee voorspellinginstansies Yr en Windy.com voorspel is, is die enigste geldige gevolgtrekking wat in terme van die akkuraatheid van hierdie spesifieke voorspellings gemaak kan word. Die neerslag in Jonkershoek, wat ook binne die Stellenbosch-distrik geleë is, kon egter totaal ander syfers vir dieselfde periode opgelewer het.

Die metode soos beskryf kom dus neer op visuele verifiëring van ’n voorspelling wat op ’n absolute digotomie berus (maw twee kategorieë, nl het gereën / het nie gereën nie). Dit is egter nie korrek om te beweer dat Windy.com se voorspelling meer akkuraat was as Yr se voorspelling nie. Om die mate van korrektheid te bepaal moet beide Yr en Windy.com se syfers oor byvoorbeeld ’n 60-dae-waarnemingstydperk grafies voorgestel word teenoor die werklik waargenome reënvalsyfers vir die periode, en op grond van die data gemiddelde absolute fouttellings vir die tydperk bereken en statisties vergelyk word.

Om die aard van moderne weervoorspellings behoorlik te begryp, asook waarom wetenskaplike voorspellings van tyd tot tyd neig om te misluk, of, sagter gestel, minder akkuraat is, is basiese kennis nodig van die wyse waarop die eienskappe van die atmosfeer en oseane wiskundig gekwantifiseer word.

By weervoorspellings word die heersende eienskappe van die atmosfeer, sowel as die verandering daarvan deur middel van toepaslike wiskundige modelle beskryf sodat die gegewens rekenaarmatig verwerk kan word. Verbetering van die akkuraatheid van die voorspellingsmetodes en betroubaarheid van weerkundige waarnemings vind deurlopend plaas, sowel as die ontwikkeling van beter sagteware en rekenaars met steeds groter wordende kapasiteit (Roulstone en Norbury 2013).

Mwagha en Masinde (2017) wys daarop dat die meerderheid kleinskaalse boere in Afrika steeds van informele kennis en visuele waarnemingsmetodes (sg waterlore) gebruik maak om die weer te voorspel. Dit is metodes wat gebaseer is op volkstradisies en oordrag van kennis en ervaring oor geslagte heen. Hierdie gebruike is meer holisties van aard en gelokaliseer tot die boere se konteks. Okonya en Kroschel (2013) het onderhoude gevoer met 192 huisgesinne in Uganda oor spesifieke aanduidings wat die plaaslike inwoners gebruik om die begin van die droë seisoen te voorspel. Die aanwysers sluit in: verskyning van boskrieke (foto 1); wind waai vanaf die ooste na die weste; beweging van trekvoëls; geroep van die bateleurarend. Aanduidings vir die naderende reënseisoen sluit in: winde wat vanuit ’n westelike rigting na die ooste waai; die geroep van koekoekvoëls; Afrika-termiete verlaat hul neste; asook die aanwesigheid van rooi wolke teen dagbreek. Hierdie gebruike, veral indien dit saam met wetenskaplike weervoorspellings gebruik word, word nuttig aangewend by besluitneming oor oes- en plantpraktyke in hierdie lande.

Foto 1: Ugandese Boskriek (Bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Nsenene)

 

2. Doel en metode van hierdie artikel

Die doel van hierdie artikel is om inligting vir die belangstellende leser beskikbaar te stel oor die aard van hedendaagse wetenskaplike weervoorspellingmetodes veral wat die akkuraatheid en verifiëring van voorspellings betref. Ter wille van afbakening is die fokus hoofsaaklik op (a) die voordele van akkurate voorspellings, (b) invloede op die gehalte van voorspellings, en (c) metodes van verifiëring van weervoorspellings.

Die metode wat gevolg is, is ’n doelgerigte seleksie van literatuur volgens Cooper (1988) se taksonomie van literatuuroorsigte. Die fokus van die oorsig is gerig op navorsingsuitkomste en -metodes, teorie, toepassings en praktyke. Die doel asook die dekking van literatuur handel oor die identifisering van kwessies wat sentraal staan binne die konteks van weervoorspelling as ’n vakgebied. Die perspektief van die oorsig is om ’n neutrale standpunt in te neem, en die organisasie van die teks is hoofsaaklik konseptueel van aard. Die artikel is op die algemene leserspubliek gerig.

 

3. Enkele konsepte, begrippe en teoretiese beginsels

3.1 Weervoorspelling

Die begrip weervoorspelling verwys na die versameling van kwantitatiewe inligting oor die huidige eienskappe (of stand) van die atmosfeer op ’n gegewe plek in die atmosfeer en die wetenskaplike vertolking van die atmosferiese prosesse met die doel om toekomsprojeksies oor die verandering van die atmosferiese eienskappe te doen (Venkatesh en Chandrakala 2017).

3.2 Retrospektiewe voorspelling

Hervoorspelling of retrospektiewe weervoorspellings vind plaas wanneer hedendaagse numeriese weervoorspellingsmodelle toegepas word op aanvangs- en voorspellingsdata wat in die verlede verkry is (Gneiting 2014).

3.3 Verifiëring

Met verifiëring word bedoel die proses op grond waarvan die gehalte van ’n weervoorspelling geassesseer word (World Climate Research Programme 2017); maw, word dit wat gedoen word, reg gedoen? Voorspellingsvalidasie, daarenteen, handel oor die vraag of die regte ding gedoen word.

3.4 Atmosferiese wetenskappe

Subdissiplines van die studiegebied atmosferiese wetenskappe sluit onder andere die volgende vakrigtings in: meteorologie, klimatologie (oseaandinamika), atmosferiese fisika, atmosferiese chemie en hidrometeorologie. Niedzielkski en Krzysztof (2017) sluit hierby die vakgebied geoïnformatika in, waarin voorsiening gemaak word vir geografiese-inligtingstelsels, afstandswaarneming (remote sensing), rekenaarwetenskap, asook fisiese en empiriese modelleringsmetodes.

3.5 Chaosteorie

Op grond van die baanbrekerswerk deur Edward Lorenz (1993) is die chaosteorie as ’n basis vir die verklaring van weersomstandighede gevestig. Hiervolgens blyk dit dat weerkundiges selfs met behulp van hedendaagse toonaangewende nieliniêre wiskundige voorspellingsmodelle en waarnemingsmetodes veranderinge in weerpatrone vir nie langer periodes as twee weke akkuraat vooruit kan voorspel nie. Die chaosteorie stel ’n vereiste as vertrekpunt, naamlik dat alle toepaslike veranderlikes in die atmosfeer en oseane aanvanklik presies bekend moet wees ten einde die beweging daarvan in die toekoms te kan voorspel. Selfs al sou alle molekules in die atmosfeer se interaksie op ’n nietoevallige basis funksioneer (maw volgens ’n deterministiese oorsaak-en-gevolg-stelsel) kan steeds nie met sekerheid voorspel word hoe die molekules oor tyd sal reageer en wat die toekomstige weerpatrone gaan wees nie. Die mate van onsekerheid van weerprojeksies neem ook met tydsverloop eksponensieel toe. Die weer en die oseane is dus volgens hierdie teorie ’n chaotiese sisteem.

In sy wese vorm die rol wat onsekerheid in die meteorologie speel, die basis van die chaosteorie (Slingo en Palmer 2011). Na verloop van ’n gegewe voorspellingsperiode (lead time) bestaan daar nie meer ’n enkelvoudige deterministiese oplossing nie, gevolglik moet alle voorspellings in terme van waarskynlikhede hanteer word. Die atmosfeer is ’n nieliniêre struktuur wat (alhoewel dit ten volle deterministies is) skielike en skynbare toevallige veranderinge kan toon. Verder is die voorspelbaarheid van ’n chaotiese stelsel vloei-afhanklik, wat beteken dat sekere weerpatrone uiters onvoorspelbaar, en ander spesifieke patrone hierteenoor meer akkuraat voorspelbaar is.

Volgens Van den Berg (2017)  bepaal die tydskale van voorspelling watter tipe modelle gebruik word: (a) sogenaamde nowcasting, soos wat nou aan die gebeur is of die volgende paar minute gaan gebeur; dit is baie akkurate voorspellings met behulp van radar en satelliete soos byvoorbeeld haelstormbeweging en intensiteit; (b) korttermynvoorspellings (een tot twee dae): suiwer deterministies of meganisties; (c) mediumtermyn (volgende twee weke): dit is ook nog deterministies, maar redelik onakkuraat; (d) maandvoorspellings, wat begin oorgaan na statistiese voorspellings; (e) seisoenale en volgende paar jaar voorspellings, wat hoofsaaklik statisties is; (f) voorspellings oor klimaatsverandering en op lang termyn – dit is suiwer statistiese voorspellings.

3.6 Numeriese weervoorspelling

Die numerieseweervoorspellingsgemeenskap het Lorenz se “skoenlappereffek” (te doen met die siening dat ’n betreklik klein mate van aanvanklike onsekerheid met tydsverloop tot groot en dramatiese onsekerhede aanleiding kan gee) hanteer deur nuwe tegnologie, soos om minimale veranderinge in die atmosfeer, byvoorbeeld temperatuur, windrigting, humiditeit en lugdruk op ’n gegewe tydstip te meet. Omdat die atmosfeer nieliniêr van aard is, kan hierdie aanvanklike minuskule metings deur middel van chaotiese prosesse vergroot word. Die proses is bekend as ensemblevoorspelling. Binne die konteks van numeriese weervoorspelling is dus wegbeweeg van enkelwaardevoorspellings (Gneiting 2014) na die metodologie van ensemblevoorspellings. By ensemblevoorspellings word met ’n versameling van metings gewerk. Elke geprojekteerde voorspellingspunt het sy eie trajek met tydsverloop en wyk af van die ander geprojekteerde trajekte in die ensemble en sodoende word ’n voorspellingsonsekerheidsdiagram vir die voorspelling met tydsverloop verkry (figuur 1).

Figuur 1. Voorspellingsonsekerheidsdiagram verkry deur ensemble voorspelling

Dit kan natuurlik gebeur dat ensemblevoorspellings verspreidings oplewer waarvan die wydte beperk is, en gevolglik val die ware weerpatroon buite die spektrum van die voorspelling – ’n verskynsel wat met kalibrering (kyk punt 5 hier onder) aangespreek kan word.

 

4. Voordele van akkurate en betroubare voorspellingsmetodes

Weervoorspelling is ongetwyfeld ’n uiters belangrike rolspeler in die sosio-ekonomiese welsyn van die wêreld. Dus word die behoefte aan betroubare weervoorspellingstelsels as ’n belangrike prioriteit beskou (Park, Kim en Park 2012)

Volgens Shukla (2009) is die voordele van akkurate weervoorspelling ingrypend omdat akkurate voorspelling van streeksklimaatsveranderinge gesien word as betroubare maatstawwe waarvolgens koste-effektiewe aanpassings ontwikkel word om die negatiewe impak van klimaatsverandering te versag. Wêreldwyd kan nasies sodoende hul onderskeie nasionale aanpassingstrategieë op grond van betroubare data beplan.

Akkurate weervoorspelling maak ook vroeë besluitneming moontlik om die publiek teen moontlike risiko’s van uiterste weersomstandighede te beskerm (Guan en Zhu, 2017)

Akkurate roetegebaseerde weervoorspelling (foto’s 2 en 3 hier onder) is volgens Hammond, Chapman en Thornes (2010) van kardinale belang vir besluitneming oor wanneer dit die aangewese tyd is om die oppervlaktes van die Britse padnetwerk in vriestoestande met sout te bestrooi.

Foto 2. Roetegebaseerde temperatuuropnames (Bron: SUAS News)

Die voordele van akkurate voorspelling blyk dus vanselfsprekend te wees. Ten einde die praktyk te bevorder behoort vernuwende lande hul globale voorspellingsvermoë uit te bou en ’n goedopgeleide en professionele werkgemeenskap van weervoorspellers te ontwikkel. Voldoende rekenaarkapasiteit wat nie op nasionale vlak beskikbaar is nie, behoort aan wetenskaplikes wêreldwyd beskikbaar gestel te word. Sodanige praktyk kan wêreldwyd ’n revolusie in die weer- en klimaatvoorspellingprofessie en in die gehaltevan voorspellings meebring (Shukla 2009).

 

5. Gehalte van weervoorspellings

Die gehalte van weervoorspellings word beïnvloed deur verskeie faktore, waarvan ’n seleksie hier onder genoem word (Murphy 1993; World Climate Research Programme 2017):

  • Sydigheid: die neiging van ’n voorspelling om met tydsverloop te hoë of te lae waarskynlikhede (bv reënval in mm) te voorspel in vergelyking met die werklik waargenome syfers.
  • Assosiasie: die onderlinge samehang of ooreenstemming tussen die voorspelling en waarneming van die werklikheid, wat deur ’n korrelasiekoëffisiënt gekwantifiseer kan word.
  • Voorspellingsakkuraatheid: is die mate van ooreenkoms tussen ’n voorspelling en die werklike waarnemings, en die afwykings of verskille tussen hierdie twee reekse veranderlikes word as standaardmetingsfoute gekwantifiseer. Hoe groter die foutfaktor in die voorspelling, hoe groter is die standaardmetingsfout.
  • Voorspellingsvaardigheid (skill): verwys na die werklike prestasie van ’n voorspelling (actual forecast performance) in verhouding met ’n spesifieke voorspellingsverwysingspunt (Mittermaier 2008). Die verwysingspunt kan byvoorbeeld die huidige weerpatroon wees en weens die blote voortduring (persistence) van die betrokke weerpatroon is die weervoorspelling gevolglik korrek of akkuraat. ’n Voorspelling kan ook akkuraat wees omdat dit bloot toevallig korrek is. Blote toeval is dus in hierdie geval die verwysingspunt.
  • Resolusie beskryf die getal roosterselle (grid cells) in ’n bepaalde voorspellingsmodel, of doodeenvoudig die hoeveelheid detail van ’n beeld wat op die rekenaarskerm gesien kan word (https://content.meteoblue.com/en/research-development/data-sources/nmm-modelling/resolution). By hoëresolusiemodelle is dit moontlik om in groot besonderhede waarnemings te maak wat die lugstrome, topografie en die grondbedekking betref en sodoende die akkuraatheid van die voorspelling te verhoog. Met behulp van hoëresolusievoorspellings kan onderskei word tussen die temperature in valleie, teen hellings en op spitse in bergagtige omgewings. Resolusie maak dit dus moontlik om ’n reeks waarnemings (bv mbt temperatuur) in subreekse te onderverdeel, elkeen met ’n eie datastel.
  • Skerpheid: die neiging vir voorspellings om uiterste/ekstreme waardes te voorspel.
  • Diskriminasie: die vermoë van voorspellings om tussen verskillende waarnemings te onderskei.
  • Onsekerheid: wat verwys na die variabiliteit van die veranderlikes. Hoe meer onsekerheid bestaan, des te moeiliker is dit om ’n voorspelling te maak.
  • Kalibrering: ’n objektiewe nasienprosedure (scoring function) wat indien die prosedure geïmplementeer word, aanleiding gee tot gekalibreerde metings. Gekalibreerde weervoorspellingsalgoritmes is wel beskikbaar (Abernethy en Mannor 2011), en is dus ’n proses waarmee die akkuraatheid van voorspellings verhoog word deur tekortkominge daarvan uit te skakel of te beperk.

 

6. Klassifikasie van weervoorspellings

David Stephenson (professor in Statistiese klimatologie, Universiteit van Exeter) stel die volgende klassifikasieskema vir weervoorspellings voor. Daar is twee hoofsoorte voorspellers, naamlik óf op determinisme óf op die waarskynlikheidsleer gebaseer. Die tipe voorspelling kan binêr wees (reën of nie reën nie); kategories, maw meer as twee kategorieë (warm, koud of normaal); getalgebaseerd (bv ses stormwindwaarskuwings in Oktober); presiese-waarde (bv 33°C Vrydag) of kompleks (temperatuur en reënval word vir ’n streek of aparte provinsies voorspel).

Probleme wat met die akkuraatheid van deterministiese modelle ondervind word, is die gebrek aan voldoende oppervlak-, maar veral bolugmetings om as invoere te dien vir kontinuïteit van voorspellings. Hierdie probleem word veral in die RSA ondervind.

Statisties-gebaseerde (of langtermyn-) voorspellings lewer weer andersoortige probleme op, soos die gebrek aan invoerdata vanaf eksterne faktore, byvoorbeeld sonvlekke, die sonvleksiklus, energieverskille vanaf die son, asook die posisie van ander hemelliggame. Die interaksie tussen faktore (bekend en onbekend) is nog baie ver van identifiseerbaar (Van den Berg 2017).

 

7. Verifiëring

7.1 Oorwegings

Volgens die World Climate Research Programme (2017) behoort die volgende reeks oorwegings in ag geneem te word wanneer weervoorspellings geverifieer word:

  • Is die intensiteit van die voorspelling korrek? (Intensiteit verwys na die hoeveelheid reënval, of die maksimum en minimum temperatuur.)
  • Was die voorspelling sydig? (Het met tydsverloop ’n tendens ontstaan om werklike syfers te oorskat en/of te onderskat?)
  • Hoe dikwels word ’n groot en/of onaanvaarbare fout gemaak?
  • Stem die verspreiding van geprojekteerde weermetings ooreen met die verspreiding van werklik waargenome syfers?
  • Was die tydsberekening korrek?
  • Is die gebeurtenis op die korrekte plek of terrein voorspel?
  • Het die voorspelde gebeurtenis die korrekte grootte en duur getoon?

 7.2 Metodes van verifiëring

Daar is nie slegs een enkele metode of statistiese toets om die akkuraatheid van weervoorspellings te ondersoek nie. ’n Gedetailleerde reeks toepaslike statistiese tegnieke word deur die World Climate Research Programme (2017) bespreek. Elke tegniek het ’n eie reeks toepassingsvereistes waaraan die data moet voldoen.

’n Russiese navorsingspan (Murav’ev, Kiktev, Bundel, Dmitrieva en Smirnov 2015) het van die Pierce Skill Score en Extremal Dependence Index gebruik gemaak om die voorspelling van uiterste weerstoestande gedurende die 2015 Winter Olimpiese Spele in Sochi, Rusland te verifieer (foto 3).

Die primêre verifiëringsmeting van voorspellingsakkuraatheid wat Stern en Davidson (2015) in hul ondersoek oor weervoorspellings vir Melbourne gebruik, is die persentasie verklaarde variansie (PVV) van die waarnemings tydens die voorspelling, uitgedruk as ’n afwyking van die klimatologiese gemiddelde. Die PVV is die gekwadreerde korrelasiekoëffisiënt tussen die voorspelde weerelement en die ooreenstemmende waargenome weerelement. Indien R²=0,4, word 40% van die oorspronklike variabiliteit verklaar, terwyl 60% steeds onverklaar bly; of anders gestel, 40% van dié weerelement is korrek voorspel.

Stern en Davidson (2015) beklemtoon ook die volgende verifiëringsmetrika, naamlik Teweles en Wobus se S1 Vaardigheidstelling asook Wilks se Anomaliekorrelasiekoëffisiënt.

 7.3     Verbetering van voorspellingsakkuraatheid

Die ontstaan van multimodelensemble- (of konsensus-) voorspellingstelsels (Stern en Davidson 2015) het waarde tot weervoorspellingprosedures toegevoeg sowel as nuttige inligting voorsien oor die voorspelling van sinoptiese skaalvloei. Tans kan rekenaargebaseerde voorspellings nie ten volle die besluitnemingsprosesse van menslike voorspellers ten volle nadoen nie. Terselfdertyd is menslike voorspellers nie in staat om objektief en optimaal die leiding van rekenaargebaseerde inligting in hul voorspellings te integreer nie. Die ideaal sou wees om hierdie twee verskillende kennisbronne of kennisstelle (knowledge sets) te kombineer. ’n Algoritme wat hierdie beginsel moontlik maak, is vir die doel van hierdie studie ontwerp.

Volgens Stern en Davidson (2015) het daar met die verloop van tyd ’n besliste verbetering in die akkuraatheid van weervoorspellings plaasgevind. Die akkuraatheid van hedendaagse amptelike voorspellings met 5–7-dae-looptye vergelyk met die akkuraatheid van dieselfde-dag-voorspellings van 50 jaar gelede. Die akkuraatheid van eksperimentele 8–10-dae-voorspellings is tans vergelykbaar met 5–7 dae eksperimentele voorspellings van 15 jaar gelede.

Guan en Zhu (2017) bevind in hul navorsing oor die voorspelling van uiterste temperature vir die VSA dat die verifikasiemetodologie wat hulle ontwikkel het, ook op uiterste neerslag van toepassing is deur ’n geval te verifieer van uiterste neerslag wat in die winter van 2013/14 voorgekom het. Hul verifikasiemetodologie het dus ’n wyer toepassingsbasis.

’n Basie kernkwessie rakende die akkuraatheid van weervoorspellings is die feit dat ’n reeks metings aanvanklik op ’n gegewe punt op grondvlak op ’n bepaalde tydstip geneem word, wat dan as ’n vertrekpunt vir aannames en waarskynlikhede gebruik word om ’n akkurate voorspelling beskikbaar te stel. Dit is ’n baie moeilike doel om na te streef (Rowswell 2017).

7.4 Vergelyking van verskillende voorspellings wat dieselfde veranderlikes voorspel

Die doel van Roy, Simelton en Quinn (2016) se navorsing was om die akkuraatheid van die voorspellings van drie verskillende weervoorspellingsinstansies te vergelyk vir ’n verwysingspunt naaste aan die stedelike gebied van My Loi in Noordsentraal-Viëtnam. Die waarnemings het oor ’n periode van twee maande gestrek. Die voorspellings van Windy.com, AccuWeather.com en Viëtnam se nasionale meteorologiese diens (NHMS) is as databronne gebruik. Die aantekening van die werklike daaglikse neerslag en temperatuur het as kontroledata gedien.

Wat dieselfde-dag-voorspellings betref het Windy.com die korrekte getal droë of reëndae voorspel in ooreenstemming met die objektiewe waarnemings. Windy.com kon egter slegs 70% sukses behaal. Die maksimumreënvalsyfer vir een betrokke dag is onderskat. AccuWeather het die totale reënval en die aantal reëndae oorvoorspel, alhoewel die maksimumreënval vir ’n bepaalde dag (32 mm) met 25% ondervoorspel is.

NHMS het die getal reëndae (28) oorvoorspel, vergeleke met die werklike waarnemings, maar het die hoogste aantal korrekte voorspellings gehad of die volgende dag ’n reëndag of droog sou wees. Die NHMS het 62% korrekte voorspellings vir dieselfde dag en 50% korrekte voorspellings vir ’n drie-dae-voorspellingsperiode (lead time) gehad. Beide AccuWeather en Windy.com het meer as 60% korrekte voorspellings vir dieselfde dag gehad, maar die aantal korrekte voorspellings het na onder 50% gedaal vir ’n voorspellingstyd van meer as twee dae. Vir al die verskillende voorspellingstye van die projeksies het Windy.com laer totale reënvalsyfers en minder reëndae as AccuWeather voorspel.

Die navorsers noem dat ’n beperkende faktor van die studie die kort duur (twee maande) van die opnames was, asook dat dit slegs vir een verwysingspunt gedoen is. Dit word aanbeveel dat die beperkings en onsekerhede van die voorspellings duidelik aan gebruikers soos landbouadviseurs en boere gekommunikeer word, veral wat die drastiese afnames in akkuraatheid ná twee dae voorspellingstyd betref.

Siddique, Mejia ea (2015) verifieer die Global Ensemble Forecast System Reforecast en die Short Range Ensemble Forecast. Beide voorspellingsmetodes is akkuraat vir voorspellingstye van tot ses dae en beide metodes toon dieselfde gehalte en akkuraatheid vir korttermynvoorspellings. Beide voorspellings is meer betroubaar vir die koue as die warm seisoene.

Duc, Hole ea (2016) verifieer die nasionale weervoorspelling in Viëtnam. Die stelsel is gebaseer op drie modelle, nl die Japannese Globale Spektrale Model, die Amerikaanse Globale Voorspellingstelsel en die Amerikaanse Weernavorsing- en Voorspellingsmodel. Die eerste twee modelle se data is ontvang teen onderskeidelik 0,25 en 0,5 horisontale resolusie en laasgenoemde teen ’n 16 km horisontale resolusie. Die akkuraatheid van die metodes word geëvalueer deur die voorspellingsdata te vergelyk met direkte waarnemings van daaglikse neerslag, windspoed en temperatuur by 168 weerstasies van 2010 tot 2014. In die algemeen het die globale modelle meer akkurate voorspellings as die streeksmodel gelewer, waarskynlik as gevolg van die lae horisontale resolusie van die streeksmodel. Alle modelle het lae akkuraatheid getoon vir neerslagvoorspellings van meer as 16 mm per dag. Neerslag van 0–16 mm is met 90% akkuraatheid voorspel en swaar neerslag met 30% akkuraatheid. Die neerslagvoorspellings was ook meer akkuraat in die winter (30–50%) as in die somer (10–30%).

 

8. Die toekoms

Wat die toekoms betref is ’n gedeeltelike antwoord op Cahir (2017) se vraag in die eerste paragraaf van hierdie artikel waarskynlik die ontwikkeling van metodes om die onsekerheidsfaktor in klimaatveranderingprojeksies te verminder (Slingo en Palmer 2011).

Enkele metodes is die volgende:

  • Toekomstige voorspellingsmodelle wat op resolusies van 20, 2 of selfs 0,2 km gebaseer is, sal die akkuraatheid van voorspellings beslis verbeter (Slingo en Palmer 2011).
  • Gebruik erkende en bewese post hoc (post-processing) statistiese tegnieke soos niehomogene regressie-ontleding en/of Bayesiaanse gemiddeldes vir elke aparte veranderlike (Gneiting 2014).
  • Meer ondersteunde navorsing oor die ideale grootte van die datastelle wat by hervoorspellings (reforecasting) gebruik word, asook die effektiewe gebruik van hervoorspellingsdatastelle (Gneiting 2014).
  • Om die gaping tussen die akademie en akademiese navorsing aan die een kant en die weerkundige praktyk aan die ander kant te vernou, kan die inisiatief van die Amerikaanse Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie, die Nasionale Weerdiens Stormvoorspellingsentrum en die Universiteit van Oklahoma se Skool vir Meteorologie as ’n voorbeeld vir die toekoms voorgehou word. ’n Suksesvolle kursus is van stapel gestuur (toeganklik vir beide voor- en nagraadse studente) met die fokus op integrasie van teorie met operasionele meteorologie om sodoende die spreekwoordelike doodsvallei sinvol te probeer oorbrug (Cohen, Thompson ea 2017).

 

9. Opsomming

Die doel van hierdie artikel is om inligting vir die belangstellende leser beskikbaar te stel oor die aard van hedendaagse wetenskaplike weervoorspellingmetodes, veral wat die akkuraatheid en verifiëring van voorspellings betref. Die metode wat in hierdie artikel gevolg is, is ’n doelgerigte seleksie van literatuur. Weervoorspelling is ongetwyfeld ’n uiters belangrike rolspeler in die sosio-ekonomiese welsyn van die wêreld. Dus word die behoefte aan betroubare weervoorspellingstelsels as ’n belangrike prioriteit beskou. Daar is nie slegs een metode of statistiese toets om die akkuraatheid van weervoorspellings te ondersoek nie. ’n Gedetailleerde reeks toepaslike statistiese tegnieke is beskikbaar en elke tegniek het ’n eie reeks toepassingsvereistes waaraan die data moet voldoen. Die ontstaan van multimodel-ensemble- (of konsensus-) voorspellingstelsels het waarde tot weervoorspellingprosedures toegevoeg sowel as nuttige inligting voorsien oor die voorspelling van sinoptiese skaalvloei. Wat die toekoms betref, is die ontwikkeling van metodes om die onsekerheidsfaktor in klimaatveranderingprojeksies te verminder van kardinale belang.

 

10. Kritiese evaluering

  • Die kommentaar deur verskeie deskundiges oor die geldigheid en betroubaarheid van die inhoud van die artikel is vooraf aangevra en die kommentaar is in die teks bygewerk.
  • ’n Moontlike argument dat hersirkulering van reeds bestaande inligting in die teks voorkom, kan deels verklaar word deur die aard van die studie, wat ’n literatuuroorsig is en dus hoofsaaklik op die weergee van reeds gepubliseerde navorsing oor die onderwerp fokus.
  • Die artikel kan moontlik ’n eensydige beeld van weervoorspellingpraktyk en -teorie oordra. Die doel van die artikel was nie om ’n omvattende literatuuroorsig oor weervoorspelling beskikbaar te stel nie, maar hoogstens om ’n seleksie uit literatuur op ’n gebalanseerde wyse saam te stel om die kompleksiteit van weervoorspelling as ’n deskundige en professionele vakgebied te beklemtoon.

 

Eindnotas

  • Die volgende lesers word bedank vir hul kritiese kommentaar en wenke oor die teksinhoud: Johan van den Berg (landbouweerkundige), Dudley Rowswell (landbouweerkundige), Cas Lötter (geofisikus) en Larry Zietsman (geograaf met spesialiseringsrigting geografiese-inligtingstelsels).
  • Die skrywer het respek vir alle rolspelers in die atmosferiese wetenskappe vir die hoë mate van professionaliteit en geesdrif waarmee hulle hul vakgebied voortdurend met gehaltenavorsing ontwikkel.

 

Bibliografie

Abernethy, J en S Mannor. 2001. JMLR: Workshop and Conference Proceedings, 19:809–11. http://proceedings.mlr.press/v19/abernethy11a/abernethy11a.pdf (4 Oktober 2017 geraadpleeg).

Cahir, JJ. 2017. Weather forecasting. Encyclopaedia Britannica. https://www.britannica.com/science/weather-forecasting/Principles-and-methodology-of-weather-forecasting (11 September 2017 geraadpleeg).

Cohen, A, R Thompson, S Cavallo, R Edwards, S Weiss, J Hart, I Jirak, W Bunting, J Rogers, S Piltz, A Gerard, A Moore, D Cornish, A Boothe en J Cohen. 2017. Bridging operational meteorology and academia through experiential education: The Storm Prediction Center in the University of Oklahoma Classroom. Bulletin of the American Meteorological Society. doi:10.1175/BAMS-D-16-0307.1 (6 Oktober 2017 geraadpleeg).

Cooper, HM. 1988. Organizing knowledge synthesis: A taxonomy of literature reviews. Knowledge in Society, 1:104–26. doi: 10.1007/FBF03177550 (4 Oktober 2017 geraadpleeg).

Duc, TD, LR Hole, TA Duc, HD Cuong en T Nguyen 2016. Verification of forecast weather surface variables over Vietnam using the National Numerical Weather Prediction System. Advances in Meteorologyhttps://search-proquest-com.ez.sun.ac.za/docview/1795825703?accountid=14049 (13 September 2017 geraadpleeg).

Gneiting, T. 2014. Calibration of medium-ranged weather forecasts. European Centre for Medium-Range Weather Forecasts Technical Memoranda 719. https://www.ecmwf.int/sites/default/files/elibrary/2014/9607-calibration-medium-range-weather-forecasts.pdf (13 Oktober geraadpleeg).

Guan, H en Y Zhu. 2017. Development of verification methodology for extreme weather forecasts. American Meteorological Society, 32:479–91. http://web.b.ebscohost.com.ez.sun.ac.za/ehost/pdfviewer/pdfviewer?vid=4&sid=dacd3f9f-f4ff-4f3d-b9e6-ef530f9bdb05%40sessionmgr103 (13 September 2017 geraadpleeg).

Hammond, DS, L Chapman en JE Thornes. 2010. Verification of route-based road weather forecasts. Theoretical and Applied Climatology, 100:371–84. doi 10.1007/s00704-009-0189-7 (13 September 2017 geraadpleeg).

Hoogenhout, PI en JJA Schoeman. sj. Afrikaanse idiome, spreekwoorde en segswyses. Kaapstad: Maskew Miller.

Lorenz, EN. 1993. The essence of chaos. Hoofstuk 3: Our chaotic weather, ble 77-110. Seattle: University of Washington Press. https://pdfs.semanticscholar.org/4c6a/b7e329a7b6d4524bf5d553cbecd2bb2ce223.pdf (7 September 2017 geraadpleeg).

Mittermaier, MP. 2008. The potential impact of using persistence as a reference forecast on perceived forecast skill. American Meteorological Society. https://doi.org/10.1175/2008WAF2007037.1 (31 Augustus 2017 geraadpleeg).

Murav'ev, AV, DB Kiktev, AY Bundel, TG Dmitrieva en AV Smirnov. 2015. Verification of high-impact weather event forecasts for the region of the Sochi-2014 Olympic Games. Part I: Deterministic forecasts during the test period. Russian Meteorology and Hydrology, 40(9):584–97.

Murphy, AH. 1993. What is a good forecast? An essay on the nature of goodness in weather forecasting. American Meteorological Society. Junie, ble 281–93. http://pierrepinson.com/31761/Literature/murphy1993.pdf (7 September 2017 geraadpleeg).

Mwagha, SM en M Masinde. 2017. Cognitive mapping, drought forecasting, fuzzy logic, indigenous knowledge and water lore. Indilinga African Journal of Indigenous Knowledge Systems, 16(1):1–30.

Niedzielkski, T en M Krzysztof. 2017. Geoinformatics and atmospheric science: Introduction. Pure Applied Geophysics, 174:459–62.

Okonya, JS en J Kroschel. 2013. Indigenous knowledge of seasonal weather forecasting: A case study in six regions of Uganda. Agricultural Sciences, 4(12):641–8.

Park, H, D-J Kim en HS Park. 2012. Computational considerations for high resolution global weather forecasts at KMA. ESRC-WP01-0712.pdf. http://www.cray.com/sites/default/files/ESRC-WP01-0712.pdf (4 Oktober 2017 geraadpleeg)

Roulstone, I en J Norbury. 2013. The invisible storm. The role of mathematics in understanding weather. Princeton, NJ: Princeton University Press.

Rowswell, D. Persoonlike kommunikasie, 4 Oktober 2017.

Roy, A, E Simelton en C Quinn. 2016. Which forecast predicts the local weather best? Info Note, November 2016. Research Programme on Climate Change, Agriculture and Food Security. https://cgspace.cgiar.org/rest/bitstreams/92427/retrieve (25 Augustus 2017 geraadpleeg).

Shri Venkatesh, S en D Chandrakala. 2017. A survey of predictive analysis of weather forecast. International Journal of Engineering Technology Science and Research, 4(1). http://www.ijetsr.com/images/short_pdf/1484233570_nitttr330_ijetsr.pdf (31 Augustus 2017 geraadpleeg).

Shukla, J. 2009. Seamless prediction of weather and climate: A new paradigm for modelling and prediction research. Climate Test Bed Joint Seminar Series, 10 Februarie. http://www.nws.noaa.gov/ost/climate/STIP/FY09CTBSeminars/shukla_021009.htm (4 Oktober 2017 geraadpleeg).

Siddique, R, A Mejia, J Brown, S Reed en P Ahnert. 2015. Verification of precipitation forecasts from two numerical weather prediction models in the Middle Atlantic Region of the USA: A precursory analysis to hydrologic forecasting. Journal of Hydrology, 529(3):1390–406.

Slingo, J en T Palmer. 2011. Uncertainty in weather and climate prediction. Philosophical Transactions of the Royal Society A. Mathematical, Physical and Engineering Sciences, 369(1956):4751–67. doi: 10.1098/rsta.2011.0161.

Stern, H en NE Davidson. 2015. Trends in the skill of weather prediction at lead times of 1–14 days. Quarterly Journal of the Royal Meteorological Society, 141(692):2726–36. http://onlinelibrary.wiley.com/doi/10.1002/qj.2559/full (31 Augustus geraadpleeg).

Van den Berg, J. Persoonlike kommunikasie, 6 Oktober 2017.

Wessels, T. 2017. Koringbedryf is aan die kwyn. Landbou Bylae tot Die Burger, 25 Augustus.

World Climate Research Programme. 2017. Joint working group on forecast verification research. http://www.cawcr.gov.au/projects/verification/#Introduction (7 September 2017 geraadpleeg).

Zietsman, HL.  Persoonlike kommunikasie, 28 Augustus 2017.

The post Die akkuraatheid van weervoorspellings appeared first on LitNet.

As die naaimasjien die fan tref

$
0
0

Hesmarie Jordaan is nie ’n mak mens nie. Puntenerig soos ’n ou wiskunde-onderwyser, vind fout met alles. So trots, dit grens amper aan hoogmoed.

Miskien het sy rede, want haar man is een van die vernaamste boere in die Middelburg-distrik en sy self kom van ’n baie welaf familie. Vir haar man is Hesmarie die perfekte trofeevrou. Sy dra klere van grênd boetieks, laat doen haar hare en naels twee keer ’n week en verlaat nooit die slaapkamer sonder ’n gegrimeerde gesig nie. Hulle wine ’n dine saam met die elite in die kontrei, meestal met Hesmarie aan die stuur van sake. Die foutlose gasvrou met haar gourmetdisse en oordadige oorsese wyne.

Hesmarie Jordaan is my skoonma. Ek het haar altyd op haar naam genoem. Nie tannie Hesmarie of Ma nie, net Hesmarie. Want agter al die fasade van rykdom, roem en boetiekuitrustings is sy vir my ’n doodeenvoudige pyn in die gat.  Omdat ek van Pick n Pay Clothing se rakke af aantrek, verkies om te werk eerder as heeldag by die huis te sit en teepartytjies hou en nie genoeg guts het om my man se kredietkaart my slaaf te maak nie, is ek nie haar idee van ’n perfekte skoondogter nie. Ek is getroud met een van haar twee seuns. Die oudste boer saam met sy pa op die familie se spogplase. My man het, goddank, besluit om in Swellendam te kom boer. Ver genoeg van Heksmarie Jordaan en haar gemanikuurde vingertjies wat gedurig krap waar dit nie jeuk nie.

Oukei, ek gee toe, Hesmarie het darem een goeie eienskap ook: sy is baie erg oor haar kinders. Versmoor hulle met liefde en beskerm hulle soos ’n regte mammabeer. Die mammabeer is nie skaam om vir haar bababeertjies se vroue te grom nie. Die kos wat ek maak is nie voedsaam nie, die vriende (wat ek kastig gekies het) is nie geskik vir ons nie en my huis is nie netjies genoeg na haar sin nie. Weet nie juis hoekom sy my daarop moet wys nie, want sy self lig nie ’n hand in haar eie woning nie. Los alles vir die dosyn bediendes. Miskien is dit wat sy dink ek vir my man moet wees. ’n Bediende wat sý kan hiet en gebied om om te sien na die behoeftes van haar klein kroonprins.

So tussendeur al haar streke en dinge was Hesmarie darem al een keer in haar lewe nice met my ook. Twee jaar terug, met ons troue. Die laaste maand voor die troue was chaos. Daar was baie los drade en ek het gespartel om alles klaar te kry. My ouers en bruidsmeisies is in Brackenfell waar ek grootgeword het. Al was hulle baie gretig om te help, was die afstand tussen Swellendam en die Kaap net te groot en het dit gevoel of ek in elk geval alles alleen doen. Vir Hesmarie het ek niks hulp gevra nie. Al het sy heeltyd gesnoep en gevra of sy hand moet bysit. Ek het haar so ver moontlik van die reëlings en beplannings probeer hou. Sy het haar oudste seun se troue so bekruip en oorgeneem. Sy spog (of kla) vandag nog oor al die baie werk wat sy moes doen vir die troue van die jaar. Ek het nie kans gesien vir Hesmarie se oorywerige “behulpsaamheid” nie. Veral nie toe die naaimasjien die fan tref drie weke voor die troue nie. Ja, gewoonlik is dit die pôpô wat die fan ingeslinger word, maar my krisis het niks met vrugte te doen gehad nie.

Al die reëlings was so te sê klaar, dit was nog net die drie bruidsmeisies se rokke wat moes afgehandel word. Infinity-rokke was toe baie gewild. Deur aanbeveling van ’n goeie vriendin het ek gebruik gemaak van ’n rokkemaker in Bloemfontein. Sy het pas haar besigheid begin, maar sy was so vriendelik en gaaf oor die foon en die prys was verby billik. Die deposito is betaal en die rokke was goed op dreef. Maar toe laat weet sy my op ’n dag dat een van haar werknemers oornag die pad gevat het en dié is vort met van die kliënte se bestellings. Ek is toe wraggies een van die unfortunate kliënte. Daar was ’n paar slapies oor voor my troue en ek was minus my bruidsmeisierokke! My moed was in my skoene. Asof troue reël nie genoeg stres veroorsaak nie! Ek het die vrou se storie geglo en haar amper meer jammer gekry as vir myself. Sy het belowe hulle sal hul bes doen en deurnag werk om binne vyf dae my bestelling oor te doen en gereed te hê vir pos.

Vyf dae het gekom en gegaan. Ek het nie geweet watter kant toe nie. Dit was twee weke voor die troue. Vir die bruidsmeisies en my ma het ek niks gesê nie, gehoop ek kon die dilemma uitsorteer op my eie. Na dae se stilbly en broei oor die ding pak ek een aand na werk snot en trane by my verloofde af. Sy voorstel was dat ons sy ma moet vra vir hulp. Sy ken mos ’n paar ontwerpers wat vinnig ’n plan sal maak. Ek wou nie. Het hardegat vasgesteek by die  rokkemaker van Bloem. My verskoning was dat ek nie die deposito wou verloor nie. Al moes my bruidsmeisies in swartsakke by die paadjie afstap, sou ek steeds nie Hesmarie Jordaan se hulp vra nie. Ek het die trane vinnig weggevee en met nagemaakte kwaaigeid my aanstaande man verseker dat ek wel die rokke by die vrou sal kry. Kom wat wil.

Ek het gebel, ge-epos, op Facebook en WhatsApp boodskappe gelos, maar ek kon net sowel probeer kontak maak het met ’n dooie mens. Die rokkemaker van Bloemfontein was so stil soos ’n Sondagskoollokaal op ’n Maandagmôre.

Die drama met die rokke het my kop seergemaak. So seer ek moes een oggend afvat by die werk en tuisbly met ’n helske migraine. Dit was twaalf dae voor die troue. Ek was nog in my pajamas en voor die rekenaar. Spree en Takealot moes my help met die nuwe soektog vir bruidsmeisierokke.

’n Klop aan ons voordeur het my aanlyn soektog onderbreek. Die hand wat geklop het, behoort toe aan ’n afleweringspersoon van die een of ander koeriermaatskappy. In sy ander hand was ’n groot boks. Ek het vir die pakkie geteken, die man bedank, gegroet en die deur toegemaak. In die kombuis het ek gesien die pakkie is van Hesmarie af. En dit was aan my geadresseer. Vreemd, want sy stuur gewoonlik net pakkies vir haar seuntjie. Bederfies met biltong of duur aftershave. Maar hierdie boks was van haar aan my. Ek het die naaste groentemes gegryp en die boks getakel. Pleks dat ek sit voor ek die boks oopmaak, want toe ek die inhoud sien, val ek byna agteroor.

Dit was my bruidsmeisies se rokke. Al drie van hulle, presies soos ek hulle bestel het by die rokkemaker van Bloem. Saam met die rokke was ook ’n jammersêbriefie van die rokkemaker. Sy het om verskoning gevra vir die oponthoud. Vir die ongerief van die situasie het sy my verseker dat ek nie die balans hoef te betaal nie.

My mond het oopgehang, die migraine was vergete. Ek wou nie, maar ek moes. Ek het dadelik vir Hesmarie gebel. Hoe, wat, wat, waar en wanneer?

Ek weet: sy het ’n luisterapparaat in ons huis laat inplant, so sy weet presies wat alles gedoen en gesê word. Dis hoe sy toe weet dat die rokke nog nie klaar was nie. Toe klim sy op haar besem, vlieg Bloemfontein toe, wurg die rokke uit die rokkemaker uit en toor die arme vrou in ’n veldrot.

Nee, dit is darem nie heeltemal waar nie. Ek neem aan haar seuntjie moes haar, agter my rug, van die rokke vertel het. Hy was tog die enigste persoon wat daarvan geweet het. Hesmarie het deurgery Bloemfontein toe en die rokkemaker gaan aanvat. Die rokke was nooit gesteel nie, sy het net van die bestelling vergeet en toe sy daarmee moes begin, het sy nie geld vir die materiaal gehad nie. Vra ek jou, waarvoor betaal mens dan deposito’s? Wat Hesmarie als vir die vrou gesê (of toegesnou) het, sal niemand weet nie, maar ek het my rokke betyds gekry en hulle was foutloos.

“Niemand hoef hiervan te weet nie,” het Hesmarie oor die foon gesê, “daar is net een voorwaarde.”

“En dit is?” wou ek versigtig weet.

“Van nou af noem jy my Ma.”

Ek het nie gestry nie, was maar net te dankbaar.

Die troue was pragtig perfek. Geen verdere dramas het opgeduik nie. Niemand het geweet van die marakkas met die rokke nie. Die geheim was myne en Hesmarie s’n. Die wenkbroue het wel vreeslik gelig toe ek dadelik die woordjie “Ma” vir Hesmarie gebruik. Ek self was verbaas oor hoe maklik ek dit kon regkry.

Hesmarie is steeds haar ou self. Niks het verander nie en as ek vandag aan die troue en die bruidsmeisierokke terugdink, kan ek skaars glo dat Hesmarie tot die redding gekom het. Die woordjie “Ma” het nie veel aan haar verander nie. Vind steeds fout en soek skoor vir die eerste span. Ek verduur haar. Maar in my hart voel ek tog dat sy wel tot ’n moederfiguur in staat is vir haar onperfekte skoondogter. Sy het immers al een keer haar mammabeerkostuum ook vir my aangetrek, die dag toe die naaimasjien die fan getref het.

The post As die naaimasjien die fan tref appeared first on LitNet.

Wat was eerste, die hoender of die eier?

$
0
0

Dit is  ʼn vraag wat metafories bedoel word, en raak ʼn dieper filosofiese saak aan, nl dié van oorsaak en gevolg. Standerd sessies weet egter niks van filosofie nie, en gryp dit letterlik aan. Hulle weet mos wat ʼn eier en ʼn hoender is, en soos vir die st sessies, het dit nou maar 'n saak vir die biologie geraak. 

Vir die Christen is dit nie ʼn probleem nie. Sonder om te dink, sal hy sê dis die hoender. In Genesis 1 vers 24 beveel God mos: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy eie aard: mak diere, diere wat kruip, elkeen na sy aard.” Ja-nee, dis beslis die hoender.

Vir die wetenskaplike is dit nie so ʼn maklike vraag om te beantwoord nie. Na jarelange studie van die evolusieleer, kom hy tot die gevolgtrekking dat, as dit by hoenders kom, moet dit beslis die eier wees. Lank voor daar hoenders was, was daar alreeds eierlêende dinosourusse waaruit voëls en hoenders geëvolueer het deur middel van DNS-mutasies. 

Soos Richard Dawkins dit so mooi gestel het: “Die hoender is maar net die eier se manier om nog ʼn eier te maak.”

Angus

 

The post Wat was eerste, die hoender of die eier? appeared first on LitNet.


Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017

$
0
0

Twee weke, vyf Suid-Afrikaanse studente, sewe ure se aanlyn voorbereidingsoefeninge, ’n 16-uur-internskap, 17 ure wat aan uitstappies en ’n besoek aan ’n gasheergesin gewy is, 33 ure van intensiewe werkswinkelbywoning en 120 medestudente van 28 lande regoor die wêreld met een gemene faktor: Nederlands. Van 30 Julie tot 12 Augustus het die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) vir die 62ste keer in Gent, België, plaasgevind. Hierdie somerkursus word jaarliks deur die Nederlandse Taalunie en die Universitair Centrum voor Taalonderwijs aan die Universiteit Gent aangebied. Die doel van die kursus is om niemoedertaalsprekende Neerlandistiekstudente buite die Nederlandse taalgebied die geleentheid te bied om in ’n Nederlandstalige konteks hulle kommunikatiewe Nederlandse taalvaardighede te verbeter en om met die Nederlandse en Vlaamse samelewing kennis te maak.

Die kursus berus op drie bene: taal, kultuur en beroep. Die doel van die kursus is daarom nie net om studente se Nederlandse taalkennis te verbreed en te verdiep of om die studente aan die Nederlandse en Vlaamse kultuur bloot te stel nie, maar ook om die vraag te beantwoord oor watter beroepsmoontlikhede Nederlandse taalkennis en taalbeheersing bied. Elkeen van die deelnemers het daarom ’n twee dae lange internskap, “stage lopen”, aan ’n Nederlandse of Vlaamse instelling aan die einde van die tweede week van die somerkursus gevolg. Die internskappe word in groepe van twee tot vier studente per instelling gevolg. Na die internskap word hierdie ervaring in ’n plakkaat verwerk wat tydens die laaste aand van die kursus ten toon gestel word. Die laaste aand van die kursus dien as ’n netwerkgeleentheid waar lede van die Nederlandse en Vlaamse publiek, sowel as die instellings waar die internskappe gevolg is, na die plakkaattentoonstelling kom kyk en pryse aan die mees aanskoulike plakkate toeken.

Ter voorbereiding van die internskap woon die studente werkswinkels in verskillende professionele sektore by, naamlik media en politiek, literatuur en kultuur, saaklike en literêre vertaling en taalkunde en didaktiek. Die werkswinkels word aangevul deur uitstappies in die eerste week van die kursus na onder andere die Literatuurmuseum in Den Haag, ’n besoek aan die Europese Parlement en ’n begeleidingstoer deur die Museum voor Schone Kunsten in Gent en die Stedelijk Museum voor Actuele Kunst in Gent. Hierbenewens besoek gassprekers ook die werkswinkels en volg alle kursusdeelnemers ’n aktiewe werkswinkel oor interkulturele kommunikasie omdat die deelnemers juis van so ’n diverse agtergrond kom.

Vanjaar het vyf Suid-Afrikaanse studente die TZN in Gent bygewoon: SZ Minnaar en Giselle Botha van die Universiteit Stellenbosch, Yolanda Botha van die Universiteit Pretoria en Janet du Toit en Anja van der Merwe van die Universiteit van die Vrystaat. Hierdie studente is eers aan ’n keuringsproses onderwerp voordat hulle gekies is om die TZN 2017 by te woon. Hulle moes ook ’n aantal voorbereidingsoefeninge aanlyn voltooi wat taaloefeninge, die skryf van ’n resensie en die maak van ’n CV-video ingesluit het.

Van links: Janet du Toit, Anja van der Merwe, SZ Minnaar, Yolanda Botha en Giselle Botha

Tydens die kursus volg SZ ’n internskap aan die Cinema Bioscoop in Rotterdam, waar hy in ’n groep van vier drie vertonings van Nederlandse kortfilms organiseer en bemark. Yolanda volg haar internskap by die Instituut voor de Nederlandse Taal, waar sy bekendgestel word aan die geskiedenis van woordeboeke en hoe woordeboekinskrywings vir gedrukte sowel as aanlyn woordeboeke gemaak word. Janet besoek die Stedelijk Museum Aalst in Aalst, waar sy haar verdiep in die werk van die Vlaamse skrywer Louis Paul Boon. Anja was deel van die “jobstudenten” by die Kunstenfestival Watou, waar sy besoekers aan die fees rondgelei het en meer vertel het oor die kuns wat by die fees uitgestal is, en sy was ook verantwoordelik vir die bemanning van die feeswinkel en toegangbeheer tot die fees. Giselle volg ’n internskap by die Poëziecentrum in Gent, waar sy vir die multimediaplatform Paukeslag ondersoek instel na die aanwesigheid van die digter-sanger Gert Vlok Nel in die Lae Lande. Vir al vyf was die TZN ’n onvergeetlike ervaring en die internskappe ’n belangrike komponent van die somerkursus om hulleself in ’n Nederlandstalige professionele omgewing te laat geld.

Saam met die jaarlikse Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) Winterschool is die TZN een van die min geleenthede wat Suid-Afrikaanse Neerlandistiekstudente kry om nie net met moedertaalsprekers van Nederlanders nie, maar ook met studente van ander universiteite wat die Neerlandistiek bestudeer, in aanraking te kom. SZ, Anja, Yolanda, Janet en Giselle wil daarom die Taalunie, die Universitair Centrum voor Taalonderwijs, die kursusleier Els Verschuere en die onderskeie dosente van die TZN 2017 wat die somerkursus moontlik gemaak het, hartlik bedank dat hulle hierdie geleentheid kon meemaak en ook die Suid-Afrikaanse band met die Lae Lande kon help versterk. Dankie ook aan al die ander rolspelers wat betrokke was by die borg en organisering van die TZN 2017.

Hier onder deel die Suid-Afrikaanse deelnemers aan die TZN 2017 graag hulle indrukke en foto’s van hulle TZN 2017-ervaring.

SZ Minnaar, Universiteit Stellenbosch

Gent is ’n beeldskone stad en dit was ’n groot voorreg om die kursus aan die Universiteit Gent te kon volg. Die belangrikste was om my gesproke Nederlands te verbeter, want ek wil Nederlands so vlot moontlik kan praat en nie ’n tipe Nederkaans nie. Maar naas Nederlands praat, was dit ook geweldig lekker om Neerlandistiekstudente van regoor die wêreld te ontmoet, nuwe dinge te leer en saam die Vlaamse en Nederlandse kulture te beleef. Ek was ook aangenaam verras om te sien waar Neerlandistiek (en in sommige gevalle met Afrikaans as onderdeel) bestudeer word: van Suid-Korea tot Argentinië tot Letland; noem maar op.

Anja van der Merwe, Universiteit van die Vrystaat

Die 62ste Taalunie Zomercursus Nederlands taal, cultuur en beroep was ’n ervaring wat sterk aan enige student aangeraai kan word. Twee mooi en boeiende weke in die stad van Gent, waar drie van die belangrikste komponente van jou hedendaagse bestaan bymekaar gebring word: taal, kultuur en beroep. Taal en kultuur vorm egter deel van jou identiteit en hoe jy jouself as mens kan uitstraal. Die Zomercursus bied die geleentheid om jou stukkie identiteit met 120 ander studente van regoor die wêreld te kan deel, kennisse op te bou of selfs nuwe vriendskappe te vorm. ‘n Besonderse ervaring van twee weke wat deel van jou lewensreis vorm – waar jy besef hoedat mense van regoor die wêreld tog iets gemeen kan hê – taal! Die besondersheid van hierdie multikulturele kursus is hoe elke student die geleentheid gekry het om sy of haar rol as Nederlandse ambassadeur te kon versterk en ook sy of haar kennis te kon verbreed en verdiep in terme van die Nederlandse taal, literatuur en kultuur. Die kursus vorm ’n netwerk van Nederlandse ambassadeurs wat ook jou professionele netwerk as geleerde versterk. ’n Merkwaardige geleentheid wat ek aan enigiemand aanbeveel.

Yolanda Botha, Universiteit Pretoria

Die Nederlandse Somerskool in Gent was vir my een die beste ervarings en geleenthede. Ek het baie geleer van my traject Taal en Didactiek, omdat ek net tale by die Universiteit van Pretoria studeer en nie didaktiek as deel van my kursus doen nie. Ons het soveel geleer van die kultuur en die mense. Twee van die hoogtepunte vir my was die besoek aan die gastgezinnen en die dag wat ons in Den Haag spandeer het. Ek sal graag weer eendag die kursus wil bywoon.

Janet du Toit, Universiteit van die Vrystaat

Die Zomercursus was 'n ongelooflike ervaring vir enige Nederlands-as-vreemde-taal-student. Jy leer nie net die Vlaamse taal en kultuur ken nie, maar ook ander studente van regoor die wêreld se kulture. Dit was besonders om die taal in die praktyk toe te pas en om met moedertaalsprekers te kan omgaan. Die kursus verryk jou lewe en verbreed jou kennis oor Vlaandere en Nederland. Ek sal hierdie kursus vir enigiemand aanbeveel wat 'n passie het vir die Nederlandse taal.

Giselle Botha, Universiteit Stellenbosch

Die TZN 2017 bestaan vir my uit ’n reeks hoogtepunte. Een daarvan was vir seker die besoek aan ’n Vlaamse gastgezin waar Vlaamse gasvryheid eerstehands ervaar kon word. Dit was ook wonderlik om vir twee dae “stage” te loop by die Poëziecentrum in Gent waar my Nederlandse skryfvaardighede op die proef gestel is. Die konfrontasie met ’n uitbeelding van ’n vlugtelingskamp in die SMAK is ook nie iets wat ek gou sal vergeet nie. Die mees betekenisvolle deel van die TZN 2017 is om nou aan ’n internasionale netwerk van Neerlandistiekstudente te behoort wat danksy die sosiale media maklik kontak kan behou en ’n liefde vir Nederlands daagliks met mekaar kan deel!

120 studente van 28 verskillende lande

Die Suid-Afrikaners op café met studente uit Duitsland, Pole en België

SZ en sy mede-“stage”-lopers aan die werk by die Cinema Bioscoop in Rotterdam

Giselle en haar gasgesin in ligte luim

Janet en haar mede-“stage”-loper, Weronika Depka Prodzinska van Pole, by hulle plakkaat van die Stedelijk Museum Aalst tydens die slotaand

Giselle en haar Poolse kollega, Michał Hynas, by hul plakkaat van die Poëziecentrum wat ’n prys gewen het

Eet smaaklijk! Anja, Janet en Yolanda geniet regte Belgiese wafels

Die Blandijn waar die werkswinkels aangebied is

Vanjaar is dit die Universiteit Gent se 200ste bestaansjaar

Die Dulle Griet is ’n kroeg waar 500 verskillende Belgiese biere beproef kan word

Een van die talle mooi Gentse tonele

Weer op café!

Gentse neuzen is ’n eg Gentse lekkerny

The post Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017 appeared first on LitNet.

geskoei deur Johan Rabie Murray: ’n FMR-resensie

$
0
0

geskoei
Johan Rabie Murray

Uitgewer: Johan Rabie Murray
ISBN: 9781928405399

Johan Rabie Murray debuteer in sy 73ste jaar met ’n selfpublikasie. Die digbundel van 78 gedigte heet geskoei. Die kleurryke bandontwerp sluit ’n kunswerk van Spies Venter in. Die boekontwerp is deur Jane en Mike Ehrman.

Die bundeltitel geskoei verwys na almal en alles wat Johan in sy lewe tot dusver beïnvloed het. Dis ervarings waarop hy sy eie lewe kon skoei.

Hy is nou duidelik, soos hy dit noem, ’n ou toppie, uncle. Maar hier is nie juis selfbejammering nie. Nee, daar’s kort besinnings en ook kort-kort humor en ’n geesdriftige lewensblyheid. Hy is bly dat sy lewe nog “’n bietjie kan duur”. In die gedig “aardse sondag” sê hy ten slotte: “Dank sy God, deur Sy genade/ bly ons ingestem op vreugde!”

 Nog ’n sterk gedig oor ’n lewe na aan God is “stil kerk”:

ek bevind my in ’n kerk stil van samesyn
waar ek god se stem van bínne hoor
baie genade in die klein lokaal
en nagmaal wat die son laat skyn
genoeg ruimte vir seer se skryn
hier in ’n plek
waar ek my vind as god se kind
sonder hard gepreek vir vergifnis afsmeek
hier gewoon net mens
saam met ander wat ook sondig is
’n nederige kerk, sonder voorgestoeltes
’n klein woestyn bevolk
met naastes sonder naam
wat vol liefde, in stilte
mekaar se menswees beaam.

Nou ’n kontras. Kyk hoe akkuraat teken hy ou manne wat op ’n bustoer al slim geraak het met kleedkamerbesoek. Onthou die woordspeling in die titel:

opskud

twee ouballies klim strammerig uit hul bus
gedagtig g’n genade word gegee
vir ongeskeduleerde blaaskanse
berekend loop hulle eers ’n draai
vir wegneemhappies, maar vermy water
met of sonder borreltjies
gaan neem realisties gedwee dan
hul plek in, agter in die ry
vir hul beurt om in die krip te drup
en darem nog betyds af te skud
voor die bus vir ringkoppe wegry
en waar is hulle dán?

’n Mens kan jouself ook moontlik herken in die volgende situasie in “boekery”: Jy gaan verhuis na ’n aftreeplek. Hoe nou gemaak met al jou boeke? Jy vra jou af: “hoeveel gelees, ten diepste begryp,/ my eie gemaak, verinnerlik?/ kan nie onthou, die dat ek klou.” Verderaan in die gedig vind jy uit van die genietinge wat op jou wag.

In “erfporsies” kry jy kommentaar op verhoudings, hoe ander so baie vir jou doen en beteken, maar jy ... “pak jý nou ’n slag ’n koffer/ vir ander se koue seisoene”.

In ’n aantal gedigte word fisieke intimiteit binne verhoudings weergegee.

Johan Rabie Murray is in die Paarl gebore “in die tyd van pennies”. Toe was hy soos een van die kinders in “kinderversie”: “maan glimlag met ’n sagte skyn/ oor die kindertjies wat duimpie in die mond/ tot met hanekraai/ wegwêreld droom/ terwyl ou moeder aarde/ rustig deur die ruimte draai.”

Aan die Universiteit Stellenbosch behaal hy die graad BA (Hons) in Afrikaans-Nederlands. Daarna dien hy in die redaksies van Die Burger, Tafelberg Uitgewers, Beeld, Rapport en Insig. Hy is ’n Afrikaans-onderwyser in privaatskole. Met ’n MA in kliniese sielkunde van RAU gee hy klas aan die Sebokeng-kampus van Vista Universiteit. Tans woon hy op Grootbrakrivier en bied hy kunsterapie aan by klinieke op George.

Hy stel ’n heildronk op sy oud-Naspers-kollegas in:

ubuntu in die rondte;
ja, vir al die siele in die omte
drink ons hierdie ronde:
op ons gesondheid!
maar miskien, o wee
doen party van ons dit deserdae
met rooibostee
eerder as met KWV ...

Die digter Daniel Hugo het al dikwels digters bewonder wat woorde ongewoon laat rym. Hier’s ’n bundel wat hy gerus kan deurkyk: rooibostee/KWV; RSG/mee; lippe/klippe; die uncle wankel.

Murray ontgin woordbetekenisse: Sorgsaam, hartlik en behartigend. Of byvoorbeeld: g’n hondelewe / g’n katools / g’n kat-en-hond.

Ek moet tog beswaar maak teen die gebruik van enkelaanhalingstekens waar dit dubbeles moet wees.

In die bundel word aangedui dat Murray per e-pos bereik kan word: johanmurray@telkomsa.net.

Ek haal ten slotte iets stemmingsvol aan:

met sonsak
verdiep die dag
tot nag
en mens verstil tot rus
en op hierdie oomblik
is alles
goed soos dit is.

Die boek kan by http://groep7-selfpublish-books.co.za bestel word.

Foto van Johan Rabie Murray by die boekbekendstelling op 18 Oktober 2017 is deur Annelize Mouton. Lees ook hier Amanda Botha se indrukke van die bundel en bekendstelling, en kyk na nog foto's.

Hierdie resensie is oorspronklik in Boekkeuse onder leiding van Amanda Botha op 18 Oktober 2017 op Fine Music Radio uitgesaai.

The post <i>geskoei</i> deur Johan Rabie Murray: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.

geskoei deur Johan Rabie Murray: bekendstelling by Stanford Valley

$
0
0

Hoewel Johan Murray al lank woorde in hom dra en hy as student destyds op Stellenbosch deur DJ Opperman en ander geskool is (BA Hons in Afrikaans-Nederlands in 1966), verskyn sy debuutbundel, geskoei, eers in sy 73ste jaar.

Sy paaie het wyd geloop: hy het in die redaksies gedien van Die Burger, Tafelberg-Uitgewers, Beeld, Rapport en Insig. Tussendeur was hy onderwyser in Afrikaans aan privaatskole en in 1991 behaal hy ’n MA in kliniese sielkunde aan die destydse RAU (nou JU) en gee daarna klas aan Vista Universiteit (Sebokeng-kampus). Die laaste jare woon hy op Groot-Brakrivier en fasiliteer hy groepsessies in kunsterapie by klinieke op George.

Interessant is dat hy vas oortuig is dat “daar uiteindelik woorde losgekom het” toe hy vir die eerste keer in 2012 die Woordfees op Stellenbosch bywoon. Sy gedig “geloop met woorde” (Woordfees, 5–7 Maart 2012) is barstens toe vol van die blye verlossing:

... word ek woorddronk afgetrek
en sluit hulle my op vir salig mal
dan, agter tralies, verlos en feestelik vry
sal ek smeek, groot ’seblief:
bind my vas, stop koerant in my mond,
 druk in my strot
of dis ikabod met my
wat onbeheers loslip uithaak is moerak soek
dié vertraagde wáág aan woorde
van ’n laatblommer...

Murray se gedigte getuig van ’n geleefde lewe met sy insigte wat telkens die innerlike verken. Vriendskap en ’n besinnende omgang met ouer word is sterk temas van die bundel, soos die bundeltitel getuig.

geskoei
Ϯ Werner, Dieter, Dave & Duard

om mee te begin
   volg ons
met uitstappies
  heel seker
in mekaar se spoor
 eerste pieke oor
haal dan algaande nog
die kronkelende kontoerpaadjies
    en staar mettertyd
    oor verre afstande
   vanaf heuwelkruine
gelykstap voorts tevrede
    oor veld en vlakte
       en nou
   langsamerhand
so ryklik ingeoefen
 gaan ons een-een
     veilig
  ewige berge oor
   sekuur geskoei
in die sag gebreide stewels
   van vriendskap.

Laat wel, kom die bundel, maar feesvierend welkom!

By die bekendstelling van geskoei in die ruim voorkamer van die Manor House op die gasteplaas Stanford Valley was Johan omring deur familie en vriende wat plesierig en dankbaar sy bundel kom vier het.

Die Stanford-fotograaf Annelize Mouton, wat veral bekend is om haar pragfoto’s in die eerstydse tydskrif Village Life, het die geleentheid gedokumenteer. Hier is ’n paar foto’s van gaste by die geleentheid.

Die buite-aansig van Manor House op die gasteplaas Stanford Valley waar Johan Muray se bundel op 18 Oktober bekendgestel is.

Erika Murray-Theron, bekende skrywer, (links) saam met Riana de Villiers en die digter Johan Murray

Johan Murray

Jarelange vriende, Theoniel Potgieter en Johan Murray

Johan Murray lees voor uit sy bundel.

Reinder Nauta, die gasheer, Amanda Botha, wat die bekendstelling behartig het, en die digter Johan Murray

Johan Murray omring deur familie wat sy bekendstelling bygewoon het. Vlnr: Elsabe en Reinder Nauta (op wie se plaas die funksie aangebied is), Andries de Villiers, Riana de Villiers en Cornelia de Villiers

Lees ook Danie Botha se FMR-resensie van die bundel.

The post <i>geskoei</i> deur Johan Rabie Murray: bekendstelling by Stanford Valley appeared first on LitNet.

Anna

$
0
0

Anna van die Noord-Kaap doen dinge met oorgawe. As sy die Here soggens prys daar in die sitkamer oorkant die straat, dan prys die voëls en die honde en die posbode van die hele buurt saam. As sy ’n skollie bespied vanuit haar uitkykpunt, is versterkings binne sekondes op die toneel. As sy aan jou dink, doen sy dit elke dag en word jy getrou daaraan herinner deur ’n mooi versie of bossie blomme op WhatsApp.

Dié aand kon Anna ’n konsert met skoolkore en -orkeste bywoon, nadat bouwerk die oorspronklike kaartjiehouer iewers in die Moordenaarskaroo vasgepen het. En ’n groot deel van die genot van die aand was om Anna se onbevange en opregte waardering daarvan op die stoel langs my te beleef. Sy sit amper op die punt van haar stoel en bekyk en beluister die kunstenaars en lewer so nou en dan entoesiasties kommentaar of vra ’n vraag. Niks ergers as die mense wat kug, hoes of snuif, of die klein kindjie wat kriewel of die fotograaf wat sy toerusting verskuif of mense wat foto’s op hul selfone neem van die wonderlikhede wat daar op die verhoog afspeel nie.

Maar sal die ou suurknol wat voor ons sit, skielik omdraai en sis omdat hy dit net nie meer kon verduur nie. Dis asof Anna skielik die helfte kleiner geword het langs my en die seuntjie op my skoot met ’n naald geprik is en ’n vulkaan in my opborrel. Daar is maniere, en daar is maniere om dinge wat jou nie aanstaan nie, aan te spreek. Maar vir Anna van die Noord-Kaap wat die Here prys met blye galme, gaan jy nie so in my teenwoordigheid afjak nie. For that matter, al is jy die hoofhaan oor honderd, gaan jy niémand so in my teenwoordigheid toesnou nie. Toe die koor asem skep is ek reg in sy oor: dis mý gas en sy geniet en waardeer die musiek met oorgawe.

Toe die koor drie nommers later met “Ukuthula” wegval, het Anna weer uitgerys soos ’n baksel mosbeskuit na die tweede knieslag, en dis net-net of sy uit volle bors wil inval saam met die koor. Want, soos Anna later in die kar vir my seuntjie sê wat verontwaardig die voorval met die suurpruim weer ophaal en sê die oom was darem regtig lelik met haar: die een wat die seerste gekry het, was die een wat lelik opgetree het.

The post Anna appeared first on LitNet.

Die leser

$
0
0

Philip, die bestuurder, sit ’n hoenderburger voor hom neer. Die borde is dieselfde as altyd en die burger lyk presies soos hoe Franci se ma dit gemaak het.

“Wanneer jy klaar is, kom asseblief na die toonbank. Ek het iets baie belangrik vir jou.”

Louis knik. Sou die hospitaal vir hom vorms wou stuur om in te vul?

Die burger is lekker. Vroeër kon hy dit gewoonlik net die aand voor chemo geniet. Die aand ná die tyd kon hy dikwels skaars na kos kyk.

Die roketblare kraak en daar is ’n soeterigheid in die sous, presies soos Franci se ma dit gemaak het. Die slaptjips smaak ook dieselfde. Hy moet baklei teen die trane. Laas toe hy dié burger geëet het, was Franci langs hom. Haar knie het die hele tyd teen syne gedruk.

Agter hom praat die vrou van die prostaatman nog eenstryk met die vlekkiesman. Dit word welkome agtergrondgeraas vir die gedruis in sy eie kop.

Sy is dood. Dood. Dood.

Net toe hy besig is om die laaste bietjie sous met ’n tjip op te skep, kom ’n donkerkopmeisie ingestap. Sy is lank en skraal en haar hare hang tot onder ’n toppie wat net-net iets van haar maag wys.

Die bestuurder in sy plakkies trek galant ’n stoel vir haar uit en toe hy sien Louis se bord is leeg, neem hy dit en beduie, met ’n baie effens kopknik, in die rigting van die toonbank.

Louis stap agter Philip aan.

“My partner was weg met die kluis se sleutel, anders het ek dit al vir jou gegee toe jy gekom het. Dit kom met liefde van Franci se pa en ma.”

Genugtig. Franci se leertas, die een waarin sy altyd haar boeke gedra het.

“Binne-in is hulle nommer. Hulle wil vreeslik graag met jou praat. Bel op die landlyn. As jy in jou kamer kom, buzz 9. Dan kontak ek hulle. It’s on the house. Jy hoef nie te betaal nie.”

Louis is verstom.

Die trane begin nou loop. Philip haal ’n boks papiersakdoekies te voorskyn. “Hulle praat nog baie oor jou. Asseblief. Bel. Vir hulle. Bel sodra jy in die kamer kom. As jy dan verder daaroor moet gesels, buzz my. Ek is heelnag beskikbaar.”

Wanneer laas het hy gehuil? Gelukkig lyk Philip gemaklik met ’n ander se trane.

Louis tel die sak op. Dit ruik na leer, maar daar is tog iets van Franci. Iets wat so vaag is hy kan dit nie vasvang nie. Sy moes seker ’n deodorant gebruik het, maar hy kan nie meer haar reuk onthou nie.

Hy knik na Philip en stap na kamer 5.

Die oomblik oorweldig hom.

Eers sy asem skep, dan bel.

Versigtig maak hy die gespe los. Binne-in is ’n skryfblok, met haar pa en ma se nommer op. Bel ons asseblief. Baie liefde, oom Jans en tannie Retha.

Daar is ook ’n CD in. Hy lig dit uit die sak. Nat King Cole’s Greatest Songs.

Die pakkie is sag en in rooi papier toegedraai. Dit voel soos ’n T-hemp.

Louis sluk sy trane en bel 9.

Die bestuurder sê: “Sit gou neer, ek sit jou deur.”

Oomblikke later lui sy foon. Hy tel op. Dit lui nog ’n klompie kere voor Franci se ma optel en begin huil toe sy hoor wie dit is wat praat. Sy roep haar man. “Ek sit jou op luidspreker, Louis.”

Die oom se stem is nog formeel, maar hy klink baie ouer. Franci was hulle enigste kind.

“Sy was vreeslik lief vir jou, Louis. Dalk besef jy dit nie, maar ons het elke liewe dag in Frankryk gehoor hoe sy jou mis,” vertel haar pa.

Nou tjank Louis ook.

Uiteindelik beloof hy om by hulle te gaan kuier op Bronkhorstspruit sodra hy later vanjaar op Tuks se kampus kom studeer.

“Het jy al die pakkie oopgemaak?” vra haar ma.

“Nee, Tannie. Nog nie. Ek wou eers bel.”

Die tannie sug, trek haar asem in en sê: “Sy het een vir jou en een vir haar gekoop. Sy het ... hoe sal ek sê ... sy wou regtig romanties raak met jou.”

Die tannie bly stil en sê dan skielik, asof dit moeilik is: “Ek en oom Jans het toe besluit ons gee albei vir jou. Eendag gaan daar ’n ander meisie in jou lewe instap. Dan mag julle twee dit dra.”

“Dankie, Tannie.”

Hulle lui af en Louis trek die pakkie nader. Eers ruik hy daaraan, maar dit ruik na winkel.

Versigtig trek hy die plakkertjies los. Hulle kom maklik af.

Dit is twee T-hemde.

Albei is swart. Versigtig vou hy een oop. Daarop is ’n grys buitelyn van ’n man en ’n meisie wat soen. Ordentlik soen. Onderaan staan Fais le maintenant.

Louis vou die volgende een oop. Die hemde is identies.

Die kleintjie sou mooi styf om Franci gepas het, maar die grote is nou te klein vir hom. Franci het hom geken toe sy lyf maer en uitgeteer was. Tog trek hy dit oor sy kop, maar dit lyk verspot op hom.

Deksels.

Hy trek die hemp weer uit en google die woorde. Franci kon Frans praat, hy nie.

*

Ná ’n slegte nag eet Louis vroeg ontbyt en stap om hospitaal toe. Dit gaan ’n dag vol naalde wees, maar as alles vandág reg is, sal hy nooit weer hoef terug te kom nie.

*

Teen halftwaalf stap hy na die onkoloog se spreekkamer. Hy het ’n afspraak met haar om 11:45. Die laaste toetse se uitslae sal beslissend wees.

Toe hy by die wagkamer instap, sit die meisie met die lang hare daar. Sy het haar neus diep in ’n boek. Versigtig gaan sit hy. Sy is nog mooi. Haar lyf is skraal en lank. Sy is waarskynlik amper so lank soos hy.

Saggies haal hy sy boek uit en probeer lees, maar hy kan nie help om haar uit die hoek van sy oog te sien nie. Hoe sal sy lyk wanneer haar hare begin uitval? Lesende meisies was nog altyd sexy, dink hy wrang. Franci kon ook so sit en lees; sy kon heeltemal wegraak in die ander wêreld.

Louis se oë raak weer vol trane en nou kruip hy agter sy boek weg.

Hoekom is Franci dood? Hoekom? Hoekom?

*

“Louis?”

Hy skrik, sy gedagtes is ’n warboel.

Die onkoloog met haar rooi hare staan ’n entjie van hom af. Sy lag.

Toe hy opstaan, kyk sy hom op en af en sê: “Jy lyk fantasties. Kyk daardie spiere. Wow, ek is trots op jou.” Sy tree vorentoe en gee hom spontaan ’n druk.

“Het jy langer geword ook?” Haar hande rus vir ’n oomblik op sy skouers. “Wow, Louis. Voel net.”

Dis wat Franci moes gesê het.

Die onkoloog tree terug. “Ek wil net sê: ek is besig met ’n baie moeilike geval en ek gaan laat wees vir ons afspraak. Ek is baie jammer. Kan ek jou ’n SMS stuur? Dan loop jy rond tot ek reg is vir jou?”

Hy knik en sy verdwyn.

“Is jy Lóúis?”

Dis die beeldskone meisie met die boek.

Hy knik. “Ja, ek is.”

Die meisie spring op. Laat val haar boek, tel dit op, vat aan haar hare, trek die toppie wat haar maag wys effens af en ... steek vas.

“Wow, ek sou jou nie herken het nie, maar nou sien ek wel. Jissie ou, wat het jy gedoen? Jy lyk stunning. Waar het jy vakansie gehou?”

Effe oorbluf sê hy: “Die Karoo.”

Sy slaan haarself teen die voorkop. “Natuurlik. Franci het gesê!”

“Franci?”

“Ja, Franci. Sy het nie een oomblik ophou praat oor jou nie. Hy nice jy is, hoe vriendelik. Hoe sterk, hoe ’n groot leser jy is. Jinne, sy was mal oor jou. Ek was later heeltemal jaloers. Ek wou ook so ’n boyfriend hê.”

Sy bloos gloedrooi, maar kyk nie weg nie.

“Ek mis haar,” gaan die meisie voort, “maar ek erken ek was jaloers. Nie een van die seuns wat ek ken kon by Franci se beeld van jou pas nie.”

Louis is oorbluf.

“Maar,” begin die meisie en bloos weer. Dié keer kyk sy weg, sy kyk grond toe, trek weer die kort toppie onder toe en kyk hom dan eers in die oë: “Jy lyk nou baie anders as op haar foto’s.”

Sy probeer hom in die oë kyk, maar kyk dan af.

“Is ek te vinnig op jou?” vra sy.

Louis weet hy moet gevlei voel, maar hy weet steeds nie wat om te sê nie.

“Dis net ...” Die meisie waai met haar hande. “Dis net, hierdie plek laat my dink ek wil nie eendag sê: ‘Ek wens’ nie.”

Sy gaan sit, vat haar boek en hou dit soos ’n skild voor haar, maar sy kyk weer na hom. Haar oë is donker, soos haar hare.

“Hoe ken jy vir Franci?”

Die meisie lag. Sy beduie om haar heen. “Ek het hier matriek geskryf. Haar pa het gereël dat ek by haar skool skryf. Ek en sy het saam geswot. Ons was mal oor mekaar, al was ek jaloers op haar. Dis nou oor jou.”

“Wat is jou naam? Sy het my nie van jou vertel nie.”

“Erentia. Onthou, ek het opgedaag ná jy al klaar was met jou behandeling.”

Erentia. Die naam klink bekend. Franci hét hom vertel dat sy ’n lekker vriendin het om mee saam te swot, maar ...

“Sy het my tog van jou vertel,” sê Louis.

“Ek was mal oor Franci,” sê die meisie en kyk grond toe.

“Ek ook,” sê Louis.

“Ek weet,” sê Erentia. “En sy oor jou. Louis dit, Louis dat. Kom jy nog Tuks toe volgende jaar?”

Louis knik.

“Ek mag dalk ook kan, afhangende van die behandeling ...”

Dit moet ’n pruik wees, maar hoe behou sy haar lyf so?

Die stilte draal. Dan sê sy: “Ek is jammer. Ek is nou pushy, ek is jammer. Dis net ...” Haar oë raak vol trane. “Dis dié plek. Ek kom nie weg nie. Ek is hier, die hele blerrie vakansie deur. My vriende is in Margate. Hulle het boyfriends. Al mens met wie ek kon gesels was Franci. Aan die begin. Ek was mal oor haar, maar al waaroor sy kon praat was jy. Later begin ek ook dink aan jou. Ek is ’n leser en ek maak my eie stories in my kop en hier staan jy, maar nie die vaal jy op Franci se foto’s nie. Jy is baie meer sexy as wat ek gedroom het.”

Louis se kop spin.

“Toe is die eksamen klaar,” gaan Erentia voort. “Franci gaan Frankryk toe en jy sit iewers sonder ontvangs. Daarom stuur sy vir my al die foto’s en vertel my hoe sy jou op elke straathoek wou soen.”

Die meisie kyk op deur haar hare. Die trane drup nou uit haar oë. “Ek sit hier, sien heeldag sterwende mense om my en al waaraan ek kan dink is jy.”

Hy gaan sit. “Toe kom Franci terug, wys my die T-hemde wat sy gekoop het vir julle twee en ... Toe is sy dood, twee dae na hulle teruggekom het. Philip gaan aan, neem die plek oor. En ek sit steeds hier.”

Sy snik, snuif effens en sê: “Jammer. Ek ken jou al so goed in my kop. Ek lees seker te veel.”

“Nee,” sê Louis. “Nee, ek is ook ’n leser. Ek is mal oor lees.”

“Ek weet,” sê Erentia. “Ek weet amper alles van jou.”

Die stilte draal. Toe sê Louis: “Ek weet niks van jou nie.”

“Wat wil jy weet?”

Hy is op die punt om te vra wat sy makeer, toe dink hy en vra: “Vertel my van jou beste boeke ooit.”

Sy glimlag en begin praat.

*

Die deur gaan oop en die onkoloog kom uit.

“Erentia?”

Die meisie skrik, asof sy weer weggeruk word uit ’n ander wêreld.

“Is jy oukei?” vra die onkoloog.

“Dis Louis,” sê Erentia en wys na hom.

“Ek weet,” sê die onkoloog. “Ek ken hom al langer as jy.”

“Het jy my nodig?” vra die meisie.

Die onkoloog knik.

“Goed,” sê Erentia. “Hy mag my net nie so sien nie.”

Sy pluk ’n grimeerstelletjie uit en tjoef-tjaf verdwyn alle tekens van trane. Met ’n swaai van haar bos hare kyk sy eers na die onkoloog, toe na Louis, glimlag skitterwit en sê: “Game face on, kom ons gaan.”

Die deur gaan agter hulle toe.

*

Louis probeer lees. Die minute tik verby, maar hy kan nie sy kop om hierdie situasie kry nie. Franci was mal oor hom, al het sy alles gedoen om hom teen haar te waarsku.

Die boek help nie vandag nie. Sy kop raas.

Uiteindelik gaan die deur oop. Erentia verskyn, dan die onkoloog en toe, veel stadiger, ’n ou mannetjie van ongeveer twaalf. Louis skrik. Hy ken daardie gesig. Tot onlangs het dit hom begroet ná elke erge chemosessie.

“Kyk wie’s hier,” sê Erentia vir die jong seun.

Die knaap kyk en dan glimlag hy. “Dis mos Louis!”

Genade. Ken almal hom?

Die seun beweeg pynlik, steek sy hand uit en sê taamlik saaklik: “Ek gaan binnekort ophou met chemo. Dan gaan ek weer oukei wees vir ’n ruk en dan gaan ek dood. Maar ek gaan vir my ook ’n girlfriend kry, een soos Franci.”

Louis vat die hand versigtig, wel wetend hoe seer ’n lyf is ná ’n intense sessie.

“Doen dit,” sê hy. “Soen haar longe uit.”

Al drie lag.

Die onkoloog wys hy moet inkom en Erentia-hulle vertrek.

“Dis nou finaal,” sê onkoloog toe sy die deur toemaak. “Ons gaan hom nog een geweldige dosis gee. Hy sal tydelik in remissie gaan, maar daarna ...” Sy skud haar kop. “Ek het nou vir hom verduidelik dat ons hom net palliatief sal behandel.”

Sy sukkel vir ’n oomblik om te praat, maar dan draai sy na hom. “Maar jý, Meneer. Jy is so gesond soos ek. Terwyl ons gewag het vir die oproep na sy ma-hulle kon ek deur alles gaan. Jy is skoon. Skoon, Louis. Skoon. Geluk.”

“Vir hoe lank?” vra hy.

“Jou soort kanker hoef nie terug te kom nie. Gaan heen en lééf.”

’n Oomblik staan hulle so, toe vra die onkoloog: “Mag ek jou weer ’n drukkie gee? Dis min dat ek sulke goeie nuus kan oordra in my werk.”

Hy knik en sy druk hom styf vas, stoot hom weg en knie weer sy skouerspiere. “Ek kan nie glo hoe goed jy lyk nie.”

Hy glimlag verleë.

Sy beduie na die deur. “Jy het my nie meer nodig nie. Gaan gryp die lewe, Louis.”

Net voor hy die deur toetrek, roep sy: “Louis! As jy kan, staan vir Erentia by!”

*

Kamer 5 maak hom mal.

In die verlede sou hy simpel voel ná ’n besoek aan die hospitaal, maar Franci sou hier wees.

Vandag voel hy so sterk en fris soos lank laas in sy lewe, maar Franci is dood. Franci, wat toe nooit sy meisie was nie, Franci op wie hy totaal verlief was.

Hy voel soos ’n dier in ’n hok en stap na ontvangs.

Philip, steeds in sy plakkies, kyk op. Vir ’n oomblik sien Louis ’n dominee se kyk in daardie gesig. Franci se pa het ook só gekyk as hy bekommerd was oor ’n gas.

“Ek het Erentia ontmoet,” sê Louis. “Die onkoloog het gesê ek moet dalk ... vir haar ... bystaan.”

Die dominee se gesig verdwyn voor ’n groot glimlag. “Asseblief. Ek is so bly. Wat ’n ongelooflike meisie. Ná Franci se dood het sy geweldig baie gedoen vir die oom en tannie. Ek kan nie glo dat sy nog aangaan nie. Kom, ek neem jou.”

Hulle stap om die gebou na die groter eenhede.

By nommer 12 stop hulle. Aan die binnekant gooi iemand op. Louis ken dit. Phillip skynbaar ook.

Philip klop saggies en die deur gaan kort daarna oop. Erentia lyk opgewonde om hom te sien.

Philip beduie hy moet ingaan en maak die deur saggies agter hom toe.

Louis buk langs die seun en begin om sy mond af te vee. O, hoe goed ken hy dit nie?

Erentia gryp na ’n lap, maar Louis druk haar in ’n stoel en begin die klein stukkies braaksel van die vloer af opvee.

“Dankie,” sê die seun.

“Ek was ook daar,” sê Louis.

“Wat was jou roetine in die gym?” vra die knaap.

Louis begin vertel. Erentia volg aanvanklik hulle gesprek, maar haar kop knik.

Toe sy saggies begin snork, glimlag die seun. “Dis ’n kompliment vir jou. Sy het laas aan die slaap geraak in daardie stoel toe Franci kom help het.”

Na ’n hele tyd van stilte sê die knaap: “Soms dink ek dit sal beter wees as ek gou vrek. Dan hoef sy nie meer na my te kyk nie en my pa en ma hoef nie meer heeldag en aldag te werk om te betaal hiervoor nie.”

Ek is nie ’n dominee nie, dink Louis. Ek weet nie wat om te sê nie.

Die seun begin weer uitvra oor gymroetines. Louis praat tot daar sagte snorkgeluidjies uit albei se monde kom.

Toe Erentia wakker word, sê hy: “Gaan fliek. Ek bly by jou boetie tot jy terugkom.”

Sy lyk onseker, maar toe hy haar met sy hand wegwaai, glimlag sy. Nie ’n game face-glimlag nie. Dit is ’n hartseer glimlag.

*

Philip bel die volgende oggend van ontvangs af om te sê die bussie het opgedaag. Louis is reg.

Sy boeke is in Franci se sak en hy gooi dit oor sy regterskouer, neem die tas in sy linkerhand en met sy regterhand tel hy die pakkie met die twee T-Hemde op.

Hy oorhandig die pakkie aan Philip en sê: “Gee asseblief vir Erentia wanneer jy haar sien.”

Philip glimlag. “Jy kan maar lees,” sê Louis.

Hy het lank getob oor wat my moet skryf.

Toe, uiteindelik, was dit maklik.

Hier is al my kontakbesonderhede. Philip het dit ook.

Jy ken dié hemde. Myne is te klein, maar dit sal jou pas. Franci s’n sal jou boetie pas.

Sê jou boetie moet op Google kyk wat dit beteken, dan moet hy die hemp dra en dit doen.

Ek het nog ’n klein bietjie spaargeld. Ek sal kom kuier waar jy ook in die land is. Of jy kom Polokwane toe. Ek sal betaal. Daar is min om te doen, maar ons het ’n biblioteek vol boeke.

Louis


Hierdie verhaal is een van ’n tweeluik.

Die eerste verhaal verskyn in die bloemlesing, Die perfekte brander, saamgestel deur Adinda Vermaak en Marieta Nel wat in November 2017  by LAPA Uitgewers verskyn.

Klik hier vir meer inligting.

The post Die leser appeared first on LitNet.

Viewing all 21534 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>