Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21784 articles
Browse latest View live

Vir Jan oor linguistiek en grammatika

$
0
0

Beste Jan,

Linguistiek is maar net ʼn ander naam vir taalwetenskap, en dit is die oorkoepelende naam vir alle taalondersoek wat op ʼn wetenskaplike wyse ondersoek word. Dit sluit onder andere in grammatika, stilistiek en sosiolinguistiek. Chomsky word beskou as die vader van die linguistiek, sowel as van die moderne grammatika.

Daar was ʼn tyd toe linguiste hulle toegelê het op die studie van die geskiedenis van die taal, die herkoms daarvan en hoe dit deur die tye verander het. Dit staan bekend as die diachroniese studie van taal. ʼn Fransman by name Ferdinand Montgin de Saussure het begin om taal te bestudeer soos dit nou funksioneer en dit staan bekend as ʼn sinchroniese taalstudie. Grammatika is ʼn beskrywing van taal soos dit op die huidige oomblik funksioneer, en daarom word dit deskriptiewe grammatika genoem. Dit beskryf taal soos dit is, terwyl ʼn preskriptiewe grammatika ʼn taal sal beskryf soos dit behoort te wees. (Maar nie noodwendig soos dit nou meer is nie.)

Daar bestaan talle metodes om ʼn vreemde taal aan te leer, maar die twee wat die gewildste is, is die Grammatika-vertaalmetode en die Direkte metode. Eersgenoemde is natuurlik die bekendste, veral by diegene wat Duits en Latyn op skool geneem het. Hiervolgens word die leerder die grammatika van die taal geleer as platform vir die aanleer van die taal. Wat Duits (of ook Engels, Afrikaans, Spaans, Portugees, ens) betref is hierdie metode ʼn mislukking, en word nog net deur tweedetaalonderwysers gebruik wat nie bygehou het met die metodiek van hulle vak nie.

Die direkte metode is die suksesvolste, want dit is so na aan die aanleer van die moedertaal as dêmmit aan ʼn vloekwoord. Slegs uiters knap onderwysers kan dit toepas, want dit verg moeilike en slim voorbereiding. Onnodig natuurlik vir my om te sê, nie ʼn woord oor grammatika in so ʼn klas nie.

Jou bewering dat ʼn mens grammatika kennis moet hê om ʼn taal te kan praat, is direk in stryd met moderne taalonderrig, en heeltemal foutief.

Volgens jou moet die klein Engelsmantjie wat “I am” sê, die volgende grammatikale kennis hê: Hy moet weet dat ‘I’ ʼn persoonlike voornaamwoord is; hy moet weet dat ‘I’ die vorm van die eerstepersoonsvoornaamwoord as dit in die onderwerpsposisie staan; miskien het hy ook al Latynse grammatika onder die knie, en weet hy van die nominatiewe naamvalsposisie; hy moet weet dat ‘am’ die eerstepersoonsvorm is van die infinitief ‘to be’, dat dit ʼn koppelwerkwoord is, en dat dit oorganklik gebruik word. En nog is het einde niet. Daar is nog heelwat grammatika verbonde aan “I am” wat die outjie moet weet voordat hy, volgens jou, kan sê: “I am”, maar ek wil jou nie daarmee verveel nie.

Nee, Jan, dis nie hoe taal werk nie. Hierdie klein Engelsmantjie het ʼn taalvermoë omdat hy ʼn mens is. Hierdie taalvermoë stel hom in staat om ʼn ingewikkelde taalsisteem baas te raak deur net blootgestel te wees aan die taal van sy ouers, en ander mense wat miskien ook geen snars kennis het van grammatika nie.

Jy verwar taalvermoë met grammatikale kennis. Eersgenoemde is aangebore by die mens, terwyl laasgenoemde ʼn studie is van daardie taalvermoë. Chomsky trek ʼn verband tussen hierdie sogenaamde taalvermoë en die taal wat die mens praat met sy deep en surface structures.

 Oor jy insig van feite en teorieë kan ek maar net sê dat jy dit in hulle populêre betekenisse gebruik. Vir my is ʼn teorie die grondplan wat opgestel is nadat heelwat navorsing en studie gedoen is van een of ander natuurverskynsel of begrip. As jy beweer dat dit jou teorie is dat RSG Afrikaans ondermyn, is dit sommer net praatjies. So nie moet jy my jou studie wys in dié verband, en jy moet dit bekend stel, sodat ander deskundiges die juistheid daarvan kan bepaal. Wat feite betref: hulle raak verouderd, en verander. Feite wat vinnig verander, soos die prys van ruolie, sien die mens raak, maar feite wat uiters stadig verander, merk hy nie op nie, soos dat ʼn jaar bestaan uit 365¼ dae. Jy kan hierdie feite-inersie by die mens gaan toets. Kyk na ʼn horlosie, en jy sal die beweging van die sekondewyser maklik kan raaksien. Jy mag jou nog verbeel jy sien die minuutwyser beweeg, maar die uurwyser staan vir jou doodstil.

Geradbraakte Afrikaans is Afrikaans wat amper onverstaanbaar is. As Afrikaans se woordeskat verryk word deur Engelse woorde, word dit nie onverstaanbaar nie, inteendeel, ʼn mens verstaan dit beter. Niemand sal sê: “ you noemed that we don’t have a toekoms together” nie. Sou iemand so praat, sal sy hoorders hom deeglik verstaan, want hulle sal dan dieselfde taal praat, maar ek betwyfel dit ten sterkste. Jy moet verstaan dat Engels ʼn wêreldtaal is, en het eintlik niks nodig van Afrikaans nie. South African English het nou wel so ʼn paar honderd Afrikaanse woorde opgetel, maar dit is beperk tot Suid-Afrika. Australiese Engels gebruik dit nie en so ook nie Amerikaanse Engels nie. Afrikaans, daarenteen, is baie afhanklik van Engels. Op alle gebiede moet Afrikaans bars om by te hou met vertalings, nuutskeppinge, verafrikaansings. Neem maar enige sport (behalwe jukskei) en kyk hoe wemel dit van die Engels. Kyk maar na ons regeringstelsel, die regstelsel, die polisie, die weermag, al die dissiplines van die wetenskap, ens. Haal Engels uit Afrikaans en dan sal net ʼn geradbraakte taal oorbly, en dan sal jy verstaan wat geradbraak beteken.

Nog verstaan jy nie dat ek nie iets verdedig nie, allermins dat ek dan sou polities korrek wil wees. Ek hou self nie van Engelse woorde wat in Afrikaans gebruik word nie. Ek beskryf maar net wat werklik aan die gebeure is. Dis net ʼn blinde (of is dit ʼn dowe?) wat nie kan insien dat nuwe woordeskat by ʼn taal die taal se uitdrukkingskrag verryk nie. As jy so twee eeue gelede geleef het, sou jy darem lekker die herrie kon opskop oor jou geliefde Nederlands wat ʼn geradbraakte taal word met al die vreemde woorde en die verwoesting van die Nederlandse grammatika.

Groete,

Angus

 

The post Vir Jan oor linguistiek en grammatika appeared first on LitNet.


Huis, woning, tuiste: Paula Kruger se inskrywing

$
0
0

vlak in my pen, diep in word
woning van kronologiese bestaan
die ink getem,
my voortvlugtige gedagtes wat
vas lê in ankerdrade oor
daaglikse boustene

sonder sorge woon ek klein
weggebêre in ’n soliede kamer,
geen rook en geen standvastigheid
op aarde. lyn vir lyn,
tap my huis leeg van
onaangename gedagtes wat
vas geslaan word op wit vloer

ek wou graag jou innooi,
sonder een bestemming
tot in my slaapkamer
waar die swart vloei en
deurdring tot sinne van niks beteken
dag na nag en nag na dag
ek het die sonopkoms
gesing teen jou vel

tuis in veiligheid en
sekerheid begrawe
vaagweg tot my balpuntpen
omsluit my deure toe
delf taalskatte uit en steek
dit weg in my huis omvou in sy hande.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Paula Kruger se inskrywing appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Ons rooidakhuisie

$
0
0

Ons rooidakhuisie

Elke kleur roos
sal soggens opstaan uit die beddings
onder elke vensterbank se ken
en die houtgekruiste vensters oop
sal hul welriekendheid innooi.

Op die rooi en wit blokkieskombers
wat oorhang oor die bank se leuning
sal fotorame staan
drup van herinneringe se
ewig soete heuning.

Die horlosie sal daar staan en tel
aan al ons saamblyjare
en ’n opgaarlaaikas sal vol staan
met geskenkpapiere, linte, gare.

Op die stoep kan ons present potplante pak
en ons kan boksies kardoesies stowwerige goedjies
in rye laat bokant die kaggel op die rak.

Ons kan saamleef in ons sonskynhuisie
met die toring van boeke en Spoegwolf se
altydsingende wysie.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Ons rooidakhuisie appeared first on LitNet.

Huis, woning, tuiste: Stephan Lategan se inskrywings

$
0
0

Strandhuisvreugdes

In luie lomerigheid uitgestrek,
maag vol, boek in die hand,
onder sagte seegeruis.
Die hele familie tuis.

Rustig indommel.
Die boek wat uitglip; gou weer opgeraap
vir vergeefse leesgenot.
Maar weer oë toemaak,
stil-stil wegraak … … .

Skielik ’n gepomp en gedruis
uit die kombuis.
Dis die primus se vuur
wat spuit,
presies om vieruur.
Koffietyd!

 

Tuiskoms

Geure en geluide bring herinnering:
’n tikkie Keulse water en katjiepiering van die tuin,
die aroma van ou wyn en vate vol asyn
in die oop kelder onder die huis
waar vars blommekranse geurig gestapel lê:
wit Josefslelies in die koelte.
Swartgeklede mense probeer desperaat
die ergste somerhitte ontsnap.
Die Klein Karoo se bossiereuk walm op
as die stoet voortknars oor die klippe
tussen spekboom en aalwyn,
verby klokkiesbos en kapokbos in bloei,
teen die heuwel uit.
Onwillige berggrond is moeisaam uitgedolwe
om die nuwe bewoner te bevat;
die weg versper deur soetgeel wag-’n-bietjies
wat gryp en vasklou.
As die kis knakkend neersak
word ’n laaste treurlied gesing.
Langsaan wag die ouma al lank
op die nuwe aankomeling.

 

Tafeltafereel

Op ’n stil oggend, met springgety
hoor ek soms die geplof van tuimelende branders
in ’n eindelose bulderende waterval
wat oor die duineveld dreun.

Dan gooi ek deure en vensters oop,
snuif ’n spoortjie seewier,
versteek in pekellug
en aanskou verwonderd opnuut die tafereel:

Magtige rotsblokke, hoog gestapel;
die blou plato wat ’n wolk deurpriem,
soos ’n reuse-aansitplek, asof woedend oopgekraak,
’n duiwel en ’n leeu wat weerskant waak.

Hoe subliem as agtergrond
om die baai mee af te rond!


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

The post Huis, woning, tuiste: Stephan Lategan se inskrywings appeared first on LitNet.

Marat/Sade, a theatre review

$
0
0

As a ticket-holder, you know from the outset this is going to be a very different theatre experience, in large part because Jaco Bouwer’s name is attached. Also, here, the setting is distinctly clinical: white-covered chairs, a white-washed stage. The amphitheatre style of the Baxter’s Flipside, in this context, recalls the oil paintings of gawkish, 19th century medical halls, where hundreds of disbelieving eyeballs pour out their stare on a body, often – thankfully – dead. Add to the scene, seemingly not yet started, a stage curtain – backlit plastic sheeting behind which human shapes move silently, curiously – and the sentiment is more than a mere tone of unease. It’s decidedly ghoulish.

Bouwer’s interpretation of the Peter Weiss play, Marat/Sade, is, however, anything but a chaotic, raving period piece. It is scalpel-sharp commentary on power, action, classism, liberalism and ideology at the core of our society, and especially in the South African context. It was relevant as one of the plays to open the Market Theatre in Johannesburg in 1976 and, as we know, remains especially relevant now. Early on, already, you realise this deserves an audience far, far wider than the title is likely to achieve.

The play was written in 1963, and titled The persecution and assassination of Jean-Paul Marat as performed by the inmates of the asylum of Charenton under the direction of the Marquis de SadeMarat/Sade for short.

Weiss, who died in 1982, experienced the traumas of Europe – the machinations of power and the results of its abuse – up close. His formative years were spent in Germany, London and Czechoslovakia, before he finally settled in Stockholm. They shaped his political views on crises in places like Cuba and Vietnam, and inhabited every work he produced.

In the context of Marat/Sade, it matters little who Sade and Marat were, but, as always, it makes for a sumptuously textured experience with a little extra reading. For starters, the Marquis de Sade was the 18th century writer and intellectual with an obsession with sex, violence and pain, and who spent most of his life in prisons and a lunatic asylum.

Sade’s peer in France at the time of the revolution, Jean-Paul Marat, was a vocal politician and writer who was later assassinated in his bath by one Charlotte Corday.

The characters of Sade, Marat and Corday all feature in Weiss’s tale, set in an asylum in 1808. Mncedisi Shabangu’s Sade is a cold and chilling foil for the zealous, but deluded, Marat of Charlton George. Between them lies destiny, in the shape of hapless Charlotte Corday, stark in her crimson dress and played by the truly magnetic Tinarie van Wyk Loots.

Add to this a cast with a mesmerising performance, and that alone is reason to buy a ticket.

The tale unfolds with the showing of a play being directed by Sade, who wears a black coat and is seated on the stage, his back to the audience. It is therapy, nothing to be afraid of, the audience is told in a brief introduction. By degrees, however, the reins on the lunatics fall slack. Occasionally, guards storm in to regain control, but Sade will have no interference of his merciless puppetry.

This isn’t an easy watch. One is intensely aware of one’s own imperfect complicity, and constantly reminded of it jarringly as the occasional performer tears through that imaginary wall at the edge of the stage, and bounds – wild-eyed and tongue flailing – over the aisles.

But it’s impossible to look away. The lunatics are those people over there, we think to ourselves; we tolerate their blasphemies and are reassured by the suit-and-tied asylum director who sits among us in the amphitheatre. In the end, we are completely absorbed, lost between the lines of our world and theirs, the French revolution and the one happening in our minds. Our faith in order and protection is finally shattered, and we are faced with the truth that clings long after the theatre has fallen dark.

Marat/Sade

With: Mncedisi Shabangu, Charlton George and Tinarie van Wyk Loots
By: Peter Weiss 
Directed by: Jaco Bouwer
Original music composed by: Pierre-Henri Wicomb
Costume design: Birrie le Roux
Lighting design: Patrick Curtis
Choreography: Grant van Ster

Baxter Flipside
Opened 28 February and running until 25 March
Tickets at Computicket
Age restriction: 16 years (nudity)

The post Marat/Sade, a theatre review appeared first on LitNet.

Teef

$
0
0

Rita sukkel om haar swart suede-baadjie toe te knoop. Sy trek haar maag dieper in en bekyk haarself in die spieël.

Die baadjie het sy met haar spaargeld by ’n tweedehandse winkel gekoop na sy jare gelede standerd 8 deurgekom het. Sy’t gedink sy verdien dit met haar twee B’s vir Afrikaans en Geskiedenis. Die sagte fur om die kraag voel nog net so lekker snoesig soos destyds. Kielierig, as sy haar neus daarin druk.

Sy leun nader spieël toe. Haar groen oë het sy mooi gemakeup en die blush gee haar ronde wange bietjie definisie. Anet het gister haar hare geperm, en alhoewel die krulle nog ’n klein bietjie styf is, en die perm-mix dit blonder gebleik het as gewoonlik, lyk dit nog steeds vir haar mooi.

“Nie sleg vir ’n girl van 29 nie,” het Anet gesê terwyl sy Rita se hare drooggeblaas het. “Hy gaan vrek oor jou, jy sal sien.”

Rita werk al jare by Anet se salon. Anet het die plek met haar erfgeld gekoop na haar man dood is aan kanker. Rita self is twee jaar terug van Rudi geskei. Mense het gesê hulle klink net te reg om verkeerd vir mekaar te wees. “Rita en Rudi. A match made in heaven” het destyds op hulle blou troukoek gestaan. Sy het dit geglo. Tot hy haar gelos het vir sy groot liefde – ’n vaal meisietjie met wie hy op skool gekys was – wat uit die bloute weer haar verskyning gemaak het, glo sy soulmate, so het hy verleë verskoning probeer maak.

Rita pas nog baie vir Paultjie op, Rudi se seuntjie uit sy eerste huwelik. En sy doen dit met liefde. Sy het hom grootgemaak na sy ma met sy geboorte dood is en Rudi kort daarna by haar begin kuier het.

So het Rudi het haar laas week weer gevra om te help, en Paultjie by haar aangebring, tas in die hand.

“Die outjie hoes sleg,” het hy gesê. “Hy moet die week maar liewer nie skool toe nie.” Sy kon sien Rudi was haastig.

Soos altyd het sy ingestem, maar nie genoem dat sy die kind by tannie Elsie, haar buurvrou wat ’n strawwe roker is, sal moet los vir ’n dag of twee nie. Sy kon nie die hele week afvat nie, want Maandae en Woensdae krioel die salon van die ouetehuis-tannies wat toustaan vir die pers washes en rinses wat dan op special is.

“Moenie skaam wees nie, Paultjie,” het sy die volgende oggend vir die kind voor haar buurvrou se deur gesê, “sê vir tannie Elsie om jou elke nou en dan bietjie op die balkon met ’n kombers te laat sit as sy te erg rook en jy dalk kortasem raak, oukei?”

“Oukei, Tannie.” Sy kon aan sy stemmetjie hoor en aan die kringe onder sy oë sien die kind was regtig nie lekker nie.

Maar Rita was nie te bekommerd nie. Tannie Elsie is dalk oud, maar sy is op en wakker. Sy help graag. En gelukkig is die woonstelblok naby die salon, as daar ’n probleem met die kind sou kom.

Dit gaan maar broekskeur sedert sy en Rudi geskei is. En hy dra ook niks by wanneer hy Paultjie by haar aflaai nie. Sy gee nie om oor kos nie, die mannetjie eet in elk geval soos ’n voëltjie. Dis net asof Rudi vergeet het sy moet werk, dat sy niks verdien as sy na die kind moet kyk nie. Maar wat doen ’n mens nou? Sy is nie een vir kla nie, sy’t al vroeg in die lewe geleer dit help nie.

“Kry tog vir jou ’n bleddie boyfriend, Rita,” het Rudi gesê toe hy ’n paar weke gelede vir Paultjie kom haal en haar op die bank sien sit en blokkiesraaisels invul. Hy het sy girlfriend uitgevat vir haar verjaardag. Rita was net klaar om die kind se kuif met haar lekker skerp skêr te sny, die een wat sy altyd leen by die salon, óf vir Paultjie se hare, óf die bedlêende tannies in die ouetehuis. Sy maak bietjie ekstra geld so. Anet maak haar dood as sy uitvind.

“Jy lyk al klaar soos ’n oujongnooi met jou gown aan dié tyd van die aand,” het Rudi gesê. “Dis nog vroeg. Kry bietjie lewe.”

En sy’t dit nie gesê nie, maar Rudi se woorde het seergemaak.

“Gaan op die damn date, Rita,” het Anet weer gister gesê. “Ek moes behoorlik agteroor buig om die storie vir jou gereël te kry. Buks is ’n nice man, ouskool, een van die min gentlemanne op die dorp. Hy’t langs ons gebly toe ek ’n kind was. Vir jare in die stad gewerk, in eiendomme. Nou’s hy weer terug op die dorp. Geskei, met sakke vol geld, sê ek jou. Never mind daai sexy silwer Merc van hom.”

Rita het niks gesê nie. Vir Anet gaan dit oor geld. As ’n man geld het, is hy ordentlik. Geen wonder sy het haar rieme al so styf geloop na haar man se dood nie. Sy dink daar moet iets fout wees met Buks dat Anet nie self vir die man gaan nie. Maar dit sal sy ook nie vir Anet sê nie, sy wil haar nie in die gesig vat nie. Rita weet sy bedoel net goed.

Nou gaan sy op ’n date met Buks. Vir die eerste keer na Rudi. Dalk maak dit hom bietjie jaloers. En wie weet, dalk is Buks regtig so nice soos Anet sê.

Rita smeer nog bietjie lipstiffie op, staan terug en bekyk haarself weer in die spieël. Sy lyk mooi, al moet sy dit nou self sê. Reg vir haar date.

Kwart voor agt stop Buks se Mercedes langs haar voor die woonstelgebou.

“Sorry ek’s laat,” sê hy toe sy inklim. “Die bleddie teef van ’n hond. Loop reg voor my kar in. Daar’s een moerse duik.” Hy loer vinnig in sy truspieëltjie en trek weg.

Sy kyk vir hom. Hy is vetter as wat Anet gesê het. Daar’s twee rooi kolle op sy wange. Dit lyk asof sy pienk gesig gloei.

“Daai lyf van haar was groot, man. Tiete vol melk.” Hy vee oor sy voorkop, trek sy vingers deur sy yl wit hare. “Gelukkig het ek die string kleintjies gemis. Die spulletjie sou omtrent my bumper goed opgedonner het. Gaan my ’n bleddie fortuin kos.”

Hy rev die enjin hard voor hy hom in vierde rat druk, nes haar pa in sy ou Chrysler gemaak het wanneer hy kwaad geraak het vir haar of haar ma. As hulle iets gedoen of gesê het waarvan hy nie hou nie. Hy’t hardhandig geraak wanneer hy te lank in die kroeg was, en dan’t hy moeilikheid met hulle by die huis kom soek. Sy en haar ma moes alewig by mense verskoning maak vir die blou kolle. Lieg vir sy onthalwe.

Hy is skielik dood net voor haar standerd 8-eksamen, aan ’n nekwond, van ’n mes of iets. Kort na haar ma aan bloeding op die brein beswyk het na ’n slegte val vroeg een oggend. Almal was jammer vir haar, sy wat skielik twee ouers so kort na mekaar verloor het.

Rita probeer nie, maar partykeer kan sy nie help nie, sy dink daaroor – hoe lank dit haar pa moes gevat het om dood te bloei. Hy’s eers die volgende dag in sy kar langs die dam gekry. Yskoud. Waarskynlik ’n botched hijacking, so het hulle gesê.

Haar vingers raak seer van aan die sitplek vasklou. Buks ry vinnig. Hy vat die draaie kort.

“Teef,” sê hy weer, half ingedagte. Hy loer vir haar. Dié keer glimlag hy. “Eintlik is dit ’n sexy woord vir ’n vrou.” Sy skrik toe sy hand skielik hard op haar bobeen klap. Dit brand. “Jy’s mooi. Nes Anet gesê het.”

Hy leun nader. “Hei. Ek sê ons skip die Spur en ek vat jou bietjie dam toe.”

Hy swaai skielik links. Sy ken die pad. Aan die begin het Rudi haar elke Vrydagaand soontoe gevat.

Hy stop onder die verste plaat bloekombome.

“Het jy geweet, mens kan ruik as ’n teef op hitte is?” sê hy. “Dis glo nes ’n vrou. Mens ruik dit.”

Hy leun oor en draai haar sitplek se rugleuning af tot onder. Sy bly regop sit, staar stip voor haar uit. Tussen die bome deur lyk die dam vir haar soos ’n oopgespalkte swart vel wat met spykers teen die oewers vasgeslaan is.

“Hei! Relax, girl. Relax,” sê hy. “Ek gaan jou niks maak nie.”

Hy druk haar skouers tot teenaan die afgeslaande rugleuning. Sy maak haar oë toe. Die fur kielie haar ore van sy warm asem oor haar gesig, haar neus jeuk.

Hy vroetel met die knope aan haar baadjie, pluk ’n paar keer daaraan. “Nee hel, dis erger as ’n bleddie bra.” Die kar wieg heen en weer toe hy die handrem losmaak en haar romp met sy een hand probeer optrek. “Dis beter. Nou kan ’n man mos bykom.”

Sy kyk weg toe hy haar probeer soen.

“Jy’s vol sports, nè?” Hy draai haar gesig na hom toe, druk haar lippe op ’n tuit en soen haar vol op die mond. Sy asem ruik soos ou vleis.

Sy druk haar knieë styf teen mekaar toe hy haar romp verder probeer optrek, voel hoe sy vingernaels vashaak, hoe hulle lere in haar nuwe swart sykouse trek, in haar sagte vel.

“Ag asseblief tog, vroumens. Stop jou nonsens, ek weet jy wil.”

Sy maak haar oë oop en kyk vir hom.

“Dis beter.” Hy glimlag.

Toe hy oopmond nader kom, spoeg sy hom in die gesig.

Hy verstik amper. “Wat de fok.”

Hy val terug in sy sitplek, vee die speeksel oor sy neus en mond teen sy broek af.

Sy kom regop, voel vir haar handsak langs haar linkerbeen, by die deur. Haar hand hou op met bewe toe haar vingers om die skêr se koue handvatsel vou.

“Jou fokken teef,” sê hy. “Nou gaan jy kak.”

Dié keer, toe hy weer vir haar kom, is sy reg vir hom.

The post Teef appeared first on LitNet.

Breytenbach wen top internasionale toekenning

$
0
0

Breyten Breytenbach (Foto: Tessa Louw)

Breyten Breytenbach is aangewys as die wenner van die 2017 Zbigniew Herbert Internasionale Literêre Toekenning. Breytenbach, ’n Suid-Afrikaanse digter, skrywer en kunstenaar, was vir etlike jare ’n politieke gevangene tydens die apartheidsera en het deur middel van sy skryfwerk verset getoon teen die regering van die dag. Die prys sal tydens ’n formele seremonie in Warskou op 25 Mei aan Breytenbach oorhandig word.

Die Zbigniew Herbert Internasionale Literêre Toekenning is ’n internasionale literêre eer, vernaam op die gebied van die poësie. Dit word sedert 2013 jaarliks toegeken vir uitstaande kunswerk en intellektuele prestasies gekoppel aan die Poolse skrywer, digter en moralis Zbigniew Herbert.

Volgens die beoordelaars, ’n paneel wat bestaan uit internasionale digters, skrywers en essayiste, herroep Breytenbach se oeuvre Herbert se woorde: “Let the anger of the powerless be like the sea / whenever you hear the voice of the humiliated and beaten.”

Breytenbach het die toekenning as ’n besonderse voorreg beskryf. “Dis inderdaad ’n besonderse voorreg om ’n toekenning te kry wat die naam dra van so ’n groot Europese gees en intellek – digters se 'digtershart' (so sou die meeste digters Zbigniew Herbert as denker en kreatiewe mens koester) – en soveel te meer so omdat dit toegeken is deur ’n jurie van heel uitsonderlike woordmense. As brak uit die buiteveld sal ek maar tjoepstil bly in sulke luisterryke geselskap. ‘Groot honde’ het lang skaduwees oor daardie werf gegooi. Ek verwys nou na vorige pryswenners soos, oa, William Merwin, Charles Simic en Lars Gustafson ... So ek sal maar wye draaie draf en hoop hulle kom nie agter hulle het per ongeluk die verkeerde ou nader genooi nie. Ek is dankbaar en bly namens almal wat in Afrikaans skrywe.

Want dis tog insiggewend dat een van die jurielede, Joeri Androekhowietsj van Oekraïne, met die bekendmaking van die toekenning daarop gewys het dat Afrikaans tans met uitwissing bedreig word. Ek sou kon byvoeg dat hierdie totaal sinnelose taalmoord gerasionaliseer word deur die heldhaftige Afrikaansveragtende Stalinistiese pragmatiste aan bewind by die Joenewersitie van Kakiebosch.”

Eloise Wessels, besturende direkteur van NB-Uitgewers, het beklemtoon dat dit ’n merkwaardige prestasie is: “Dié prys bevestig weer Breyten Breytenbach se internasionale statuur en die verweefdheid van sy oeuvre in ’n internasionale netwerk van poësie en verset. Dit bevestig ook die aansien van Afrikaans as literêre taal op die wêreldverhoog. Ons is saam met ons skrywer trots op hierdie welverdiende en betekenisvolle erkenning!”

The post Breytenbach wen top internasionale toekenning appeared first on LitNet.

Die vlammende fez: 'n teaterresensie

$
0
0

Chris van Niekerk en Loukman Adams (foto verskaf)

Op die planke by US Woordfees 2017: Die vlammende fez

Die vlammende fez is nie net een produksie nie, dit is baie. Dit bestaan uit 'n veelheid van mense se stories, musiek, gesels en geskiedenisse.

Mens sou kon sê die oorkoepelende verteller is ID du Plessis, 'n digter wat in 1900 gebore is. Die toneelstuk open waar hy by 'n tafel sit en sy laaste dae oordink. Dit sluit op dieselfde manier af.

Hoewel ID du Plessis se gedigte lewend word in die stuk deurdat dit deur verskillende akteurs opgevoer of gesing word, word sy wit en manlike stem ook bevraagteken. "Daar is net een ding wat hy van die bruin mens weet," sê hy op 'n stadium self. "Die bruin man se lot en gang en lewensloop word bepaal deur wat die wit man sê."

Die produksie bestaan uit verskillende sketse. Uiteenlopende kommentaar word gelewer op die Kaapse Klopse, op Afrikaans, op die verskillende plekke waarvandaan almal in die land kom.

Nee, almal kom nie van Nederland af nie. Daar is liedere en kostuums uit Arabië, bont en eksoties en heeltemal anders.

Die geskiedenisse wat uitgebeeld word, is nie net arm en ellendig nie. Dit is trots en dapper en mooi.

Daar is ook armoede en daar is prostitute (soos Katrina – "Katrina haat die lewe, Katrina vrees die dood, Katrina gaan haar slentergang, verdien haar bitter brood").

Die hoogtepunt van die produksie was vir my die 13-stuk-Maleierkoor se sang. Dit was so goed dat ek werklik gehoop het hulle keer weer en weer terug na die verhoog. Te oordeel aan die applous was ek nie die enigste een wat so gedink het nie.

Die stuk ontroer. Dit verlei met sy helder kleure en kostuums. Die sang en musiek is wonderlik. Die stuk vermaak!

Gaan kyk hierdie stuk by enige van die feeste waar dit speel. Stel jou oop om te besef: hier, in hierdie land, is daar baie geskiedenisse. En nie net wit mense as een homogene groep se geskiedenis en ook bruin mense of swart mense as 'n massa of 'n skare wat net saamsmelt as gevolg van hul velkleur nie.

Elke mens in hierdie land is 'n individu. Hy of sy het 'n eie storie om te vertel. Laat ons nie waag om mekaar se stories te vertel nie. Laat ons eerder na mekaar se stories luister.

Waar speel hierdie produksie orals?

US Woordfees (Stadsaal, Stellenbosch)

  • 11 Maart 2017 | 18:00–19:00 

KKNK (Gimsaal, Oudtshoorn)

  • 12 April 2017 |19:30–20:30
  • 13 April 2017 |20:00–21:00
  • 14 April 2017 |21:00–22:00
  • 15 April 2017 |12:30–13:30

Suidoosterfees (Kunstekaap, kykNET Teater)

  • 29 April 2017 | 10:00–11:00
  • 30 April 2017 | 11:00–12:00
  • 30 April 2017 | 18:00–19:00

 

The post Die vlammende fez: 'n teaterresensie appeared first on LitNet.


Regsalmanak: Sandverkope – inkomste of kapitaalwins?

$
0
0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ’n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Oorlogspraatjies, terwyl vredeliewendes net wou stem
Regsalmanak: Die “Vuurrooi Draak” se swanesang – toe nié
Regskoste: die sleutel tot ’n einde aan speletjies in die howe
• Regsalmanak: Padwoede is nie die "nuwe normaal" nie 
 • Regsalmanak: Konstitusionele hof – die howe is nie die beste plek om kerklike geskille te besleg nie
• Regsalmanak: Caveat subscriptor
• Regsalmanak: Shangri-la – Onrus op ’n laaste rusplaas
Pandemonium in die parlement se besoekersgalery: multis cum lacrimis (overgeset synde: “met die vloei van baie trane”)

’n Sekere mnr Van Blerk was (is dalk nog) die eienaar van ’n plaas in Malmesbury se geweste. Op die plaas is daar ’n baie groot hoeveelheid bousand wat gesog is in die boubedryf. Dit spreek vanself dat as die sand eenmaal van die plaas af verwyder is, dit op geen manier aangevul kan word nie en dat die voortdurende verwydering van sand van die plaas af klaarblyklik die waarde daarvan verminder.

Aanvanklik het mnr Van Blerk nie veel inkomste uit die sand verdien nie, maar met prysverhogings en ’n stelselmatige toename in die volume sand wat verkoop is, het hy tussen die jare 1990 en 1993 meer as R670 000 uit sy sandverkope verdien. 

Ek gee jou één raaiskoot wie se aandag hierdie winsgewende besigheid getrek het: ons goeie vriend, die Ontvanger van Inkomste (soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nog maar steeds in die volksmond bekend staan). Mnr Van Blerk het ’n stewige inkomstebelastingaanslag ontvang, maar omdat hy nie met die basis waarop hy belas is, saamgestem het nie, het hy appèl aangeteken na die spesiale inkomstebelastinghof.

Dié hof het in sy guns bevind en beslis dat die inkomste wat hy uit die sandverkope verkry het, afkomstig was van die corpus – die Latyn vir “liggaam” – van die plaas, wat beteken het dat die inkomste van ’n kapitaal-aard was en gevolglik (toe nog) nie belasbaar was nie. (Dit was in die goeie dae toe kapitaalwinsbelasting nog net ’n glinstering in die minister van finansies se oë was.)

Kapitaalwins verskil van inkomste wat uit vrugte van ’n plaas verdien word – “vrugte” in die breë sin van die woord, soos die opbrengs uit ’n skaapboerdery, ’n saaiboerdery, ’n vrugteboerdery en so meer.

Die Ontvanger was egter nie gediend met die uitspraak van die spesiale inkomstebelastinghof nie en het geappelleer na ’n volbank van die Kaapse Provinsiale Afdeling van die hooggeregshof. 

Drie ervare regters – Selikowitz, Blignault en Davis – het die saak verhoor. Regter Davis – ’n voormalige professor in die regte – was indertyd die gewilde aanbieder van ’n televisieprogram Future imperfect. Deesdae (2017) is hy die aanbieder van ’n ander gewilde TV-program, Judge for yourself. Hy is ook, by die skryf hiervan, die voorsitter van ’n komitee wat die land se belastingstelsel hersien.  

Die einste regter Davis het op 9 Maart 2000 die hof se uitspraak gelewer in mnr Van Blerk se geskil met die Ontvanger.1

Die hof het besondere aandag geskenk aan die bevinding van die spesiale inkomstebelastinghof dat die verwydering van sand van Van Blerk se plaas tot gevolg gehad het dat die waarde daarvan verminder het in verhouding tot die markwaarde van die sand wat verwyder is. Die hof het ook aandag geskenk aan die feit dat Van Blerk nooit self betrokke was by die ontginning van die sand en die verwydering daarvan nie, maar dat hy oor al die jare heen slegs met twee kontrakteurs ooreengekom het om sand van sy plaas te verwyder.

In sy besonder interessante uitspraak beslis regter Davis dat die toets wat die hof moes aanlê om te besluit of die verkope van die sand van ’n kapitaal-aard – dan wel van ’n inkomste-aard – was, nie opgesluit is in die regsaard van die betrokke kommoditeit nie.

Die hof moes dus nie soseer ondersoek instel of die sand wat verkoop is, beskou moes word as vrugte van die plaas nie – in welke geval die inkomste belasbaar sou wees. Ook nie of die sand deel van die corpus van die plaas was nie (in welke geval die opbrengs van die verkope van ’n kapitaal-aard sou wees en toe nog nie belasbaar sou wees nie).

Nee, het regter Davis beslis, die hof moet eerder kyk na die aard van die transaksies wat plaasgevind het en die bedoeling wat mnr Van Blerk gekoester het toe hy die sand begin verkoop het. Met dié toets was dit vir die hof nie moeilik om te beslis nie dat as hy gekyk het na die geskiedenis van die sandverkope oor ’n aantal jare, hy net tot een gevolgtrekking kon kom, en dit is dat sand oor dié tydperk deurlopend op ’n maandelikse basis verkoop is en ’n gereelde inkomste aan die boer verskaf het. 

Hierdie transaksie het ál die eienskappe gehad van ’n gewone handelstransaksie. Regter Davis het ook beslis dat toe Van Blerk die plaas aanvanklik gekoop het, hy twee oogmerke daarmee gehad het: om sand te verkoop en om daarop te boer. Hierdie twee aktiwiteite het hy hand aan hand bedryf en daar was dus by die hof geen twyfel nie dat hy sy sand as sy handelsvoorraad beskou het, welke voorraad hy oor ’n lang tydperk – en gereeld teen ’n wins – van die hand gesit het.

Vir almal wat in die belastingreg belangstel en wat soms moeite het om te onderskei tussen wins van ’n kapitaal-aard en ’n gewone handelswins, is hierdie uitspraak van regter Davis van 9 Maart 2000 van besondere betekenis.

1 Commissioner South African Revenue Service v Van Blerk 2000 (2) SA1016 CPD

The post Regsalmanak: Sandverkope – inkomste of kapitaalwins? appeared first on LitNet.

Idiome in die klaskamer: visuele woordsmede/woordmeesters in wording

$
0
0

Te laat vir die kat se afval kom; wie sal die kat die bel aanbind?; kat se blad; die kat uit die boom kyk; kerm soos ’n kat oor ’n derm; die kat in die donker knyp; daar is meer as een manier om ’n kat dood te maak; ’n kat in die duiwehok gooi; snags is alle katte grou; dis nie ’n kat om sonder handskoene aan te pak nie; soos kat en hond leef; vir die kat kwaad wees en die hond skop; g’n kat se kans nie; ’n kat in die kelder toemessel; ’n kat kan ook na ’n koning kyk; ’n kat in die kelder toemessel; lyk asof die katte jou kos afgeneem het; so welkom soos ’n kat in die melkkamer en om iets draai soos ’n kat om warm pap is enkele van die idiomatiese uitdrukkings met die woord kat wat in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom van Anton F Prinsloo gelys word. Die vraag is of leerders op skool, asook studente op universiteit, se idiomatiese woordeskat deel van hulle taalgebruik uitmaak.

Idiomatiese taal en woordgebruik vorm deel van taalkundeonderrig en kan doelmatig op skool (en universiteit) onderrig word. In hierdie artikel word ’n eksperiment in idiome-onderrig met behulp van tegnologie met taalonderwysstudente beskryf.

As eksperiment het ek studente uitgestuur om foto’s van idiome op kampus te neem. Dit is voorafgegaan deur ’n lesing oor idiome, die aard van idiome, idiome in die klaskamer met verwysing na onderrigstrategieë, en die gebruik van woordeboeke in idiome-onderrig.

Idiome kan volgens Swanepoel (1997:128) beskryf word as enige vaste uitdrukking waarvan die idiomatiese (figuurlike) gebruik nie geheel en al uit die letterlike betekenis van die samestellende dele afgelei kan word nie. Dikwels kom woorde in ’n idioom nie andersins vrylik in die taal voor nie en is hul betekenis buite die idioom ook onduidelik. Idiome is vaste uitdrukkings en segswyses eie aan ’n taal. Idiome word dikwels as die speserye van taal beskryf, aangesien dit taal kleurryk, geurig en lewendig maak. Verskillende idioomvorme kan onderskei word, naamlik metafore, metonimia, ironie, allegorie, argaïsmes en neologismes.

Chené Moggee

Kennis van idiomatiese taalgebruik verruim taalgebruikers se woordeskat aansienlik. Estetiese teksproduksie en -waardering kan plaasvind wanneer vaardige taalgebruikers idiomatiese uitdrukkings op allerlei wyses manipuleer om die kommunikatiewe potensiaal daarvan te verhoog. Swanepoel (1997:130) wys daarop dat idiomatiese taalgebruik denkvaardighede ontwikkel. ’n Kognitiewe model kan steun op perseptuele, fisieke, sosiale en kulturele (linguisties ook) ervaringe van die werklikheid.

Marzanne Möller

Die funksie van idioomkuns kan as volg saamgevat word: dit kan die argument versterk; dit het oortuigingskrag; dit kan dien as waarskuwing; en dit kan bydra tot die diepere betekenisse van gebeurtenisse.

My doel as dosent van taalonderwysstudente (en spesifiek Afrikaanses) is om vakkennis, asook pedagogiese vakinhoud binne ’n konstruktivistiese raamwerk te vestig. Richardson (2003: 1626) beskou konstruktivistiese onderwys as leerdergesentreerd, aangesien aandag aan die individu geskenk word en respek getoon word vir die leerder se agtergrond en ontwikkelende begrip van kennis en waardes. Tydens onderrig word gedeelde begrip van die onderwerp geskep deur interaktiewe betrokkenheid met take wat gestruktureer is vir die ontwikkeling van leerders (en studente) se metabewussyn van hul eie denk- en leerprosesse. Met die uitvoer van die idiometaak word die model van ervaringsleer ook toegepas, aangesien kennis verwerf word deur konkrete ervarings wat tot begrip lei. Studente is aktief betrokke by die konstruksie van hul eie idees en interpretasie van idiome. Ervaringsleer pas binne die konstruktivisties-interpretatiewe paradigma.

Talana Cilliers

Taalgebruikers verstaan, verwerf en onthou idiome beter as hulle weet hoe idiome gemotiveer word en hoe dit binne die woordeskat in sy geheel gesitueer is. Beter begrip kan dus bewerkstellig word indien gebruikers presies weet hoe die idiomatiese betekenis daarvan ’n funksie is van die motiverende beeld. Dit gaan dus oor betekenisstruktuur en interpretasie van idiome. Verklarende woordeboeke, asook woordeboeke soos die bogenoemde Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, het ’n groot rol te speel in die onderrig van idiome. Tydens die onderrig van idiome word taalgebruikers se analitiese vermoëns geslyp, veral om kontekstuele inligting te ontgin om betekenis af te lei en om idiomatiese uitdrukkings te rekonstrueer.

Studente vorm deel van die sogenaamde MALL-generasie (waar MALL staan vir Mobile Assisted Language Learning) – die generasie wat met behulp van draagbare toestelle leer. Hulle gebruik draagbare tegnologie, byvoorbeeld slimfone of tablette, in die leerproses. Sodoende vind demokratisering van die leerproses ook plaas waar die verantwoordelikheid vir die leerproses na die student verskuif en ek my rol as fasiliteerder van leer vervul.

Michelle Cooper

Die leerdoelwitte van die lesing oor idiome was naamlik:

  • Gebruik idiomatiese uitdrukkings gepas.
  • Gebruik ’n woordeboek om woordeskat uit te brei.
  • Stel idiomatiese woordgebruik visueel voor deur middel van draagbare tegnologie.
  • Lei betekenis af en verduidelik die skrywer se bedoeling.

Die taakopdrag was as volg:

  • Gebruik draagbare tegnologie om een of twee idiome of uitdrukkings op kampus of in jou leefwêreld af te neem. Dit kan ook nuwe idiome of tipiese studente-uitdrukkings wees. Skryf die idioom op die foto neer, asook jou naam. Stuur dit per e-pos aan die dosent.

Onderrigstrategieë wat met die lesing en verskafte taak gevolg is, is die volgende:

  • Speel met woorde
  • Visuele voorstellings.

Ek het onderrigstrategieë demonstreer wat hulle ook in die toekomstige klaskamer kan toepas.

Na inlewering van die taak kon studente ook reflekteer op die taak en sodoende is meer betekenis aan die taak verleen. Refleksie help om ervarings te organiseer en te veralgemeen. Refleksies kan opgeteken word in joernale of multisimboliese vorme en besprekings.

De Beer (1986:105) het dit teen die metode waar die idioom langs die verklaring geplaas word en leerders dit moet memoriseer, aangesien dit doods en oneffektief is. Dit sal beslis nie ’n taalliefde aanwakker nie, wat staan nog die ontwikkeling van die vermoë om taalskeppers te word. En is dit nie uiteindelik die doelwit van menige Afrikaanse taalonderwyser om taalskeppers te vorm nie? Met dié onderrigstrategie, waar studente idiomatiese woordgebruik visueel met behulp van tegnologie moes voorstel, is die saadjie vir kreatiewe taalonderwysers hopelik gesaai.

Bronnelys

De Beer, JA. 1986. Ons verwaarloos ons idioomskat. Klasgids, 21(1):99–108.

Prinsloo, AF. 2009. Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom. Kaapstad: Pharos.

Richardson, V. 2003. Constructivist pedagogy. Teachers College Record, 105(9):1623–40.

Swanepoel, P. 1997. Idiomatiese taalgebruik en die afstand tussen Afrikaans en Nederlands. Tydskrif vir Afrikaans en Nederlands, 4(1):128–62.

The post Idiome in die klaskamer: visuele woordsmede/woordmeesters in wording appeared first on LitNet.

Book launch: Business Writing for South Africans

Ons kom van vêr, noordelike boekbekendstelling

$
0
0

Praatjie gelewer by die boekbekendstelling by Graffiti Boekhandel, Pretoria.

Ons kom van vêr – Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans
Redakteurs: WAM Carstens en Michael le Cordeur
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316674

Ons kom van vêr is ’n boek van stemme, hoofsaaklik stemme uit die bruin gemeenskap, stemme van ’n wye verskeidenheid: van ’n skoonheidskoningin tot ’n politikus, van digters en skrywers en burgemeesters en joernaliste, akademici, onderwysers, sportlui en sakelui. (Ek wens ons kon Mercy Kannemeyer, ’n bruin Matie-drama-honneursstudent wie se kort video gister en vandag opspraak maak op LitNet, as stem toevoeg. Gaan neem gerus kennis.)

Die stemme klink nie eners nie – die variasie is net so groot soos die getal sprekers. Daar is 36 van hulle en soveel hoofde, soveel sinne. En dit maak die boek aantreklik: sommige stemme wroeg, ander debatteer en argumenteer; die politiek praat naas die kultuur. Daar is bydraes oor krisante kweek, oor ’n afkop blom en oor Klopse en kerrievis.

Daar is opgekropte woede oor en soms stille aanvaarding van wat ’n swart kol in die geskiedenis van die land is – ’n swart kol wat nog steeds nie uitgewis is nie en wat dalk onuitwisbaar is? Verhale van revolusie, moord, teregstellings, polisiebrutaliteite. Lees maar wat Cornelius Thomas (164) en Cecil Esau (171) daarvan vertel. En daarnaas die skandes en dwaasheid rondom ’n Adam Small wat aansoek moes doen om die première van sy eie meesterstuk, Kanna hy kö hystoe, in die Nico Malan-teater te kom bywoon – hy het die uitnodiging toe beleefd van die hand gewys (286). Hoe anders!

Daar is die verhale oor sportlui wat hulle potensiaal nie in hulle eie land kon ontplooi nie, wat in sommige gevalle tou opgegooi het en/of hulle heil elders gaan soek het. Daar is die storie van Basil d’Olivieira en die verhale van ander sterre in tennis, atletiek, fietsry, rugby en krieket.

Charles Beukes skryf: “Vir enige sportman/-vrou is die grootste uitdaging sekerlik om te weet hoe goed hy/sy werklik is. Ons het ons atletiek-, rugby-, krieket- en fietsryhelde gehad. Die politieke beperkings wat hulle verhoed het om te weet hoe goed hulle werklik was, het die talentvolles seker laat slange vang … uit pure frustrasie. Baie van hulle het saam met wit vriende geoefen en hulle dan geklop, maar hulle is nooit toegelaat om formeel teen hulle mee te ding nie” (345). Die gevolg was dat “talle … eenvoudig net hul sportstewels opgehang” het. “Ander het oorsee uitgewyk en vir ander lande gaan deelneem” (345).

Teenoor die swart kol – en daar is talle manifestasies van die swart kol – is daar tog ’n goue draad wat byna in al die sketse manifesteer: die storie van Afrikaans. En daarmee bedoel ek alle vorme van Afrikaans. Die man aan wie die boek opgedra is, Adam Small, het onteenseglik bewys hoe soepel en lenig Afrikaans is en dat die taal in alle omgewings en kringe kan tuis wees.

Hier verwys ek na die verhaal van Basil Kivedo, voormalige intelligensie-offisier in die ANC se gewapende vleuel Umkhonto we sizwe, van 2011 af burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit en sedert 2014 lid van die Wes-Kaapse parlement.

Sy verhaal begin so: “Ek het as baba Afrikaans uit my moeder se bors gesuig en hierna fisies, psigies, spiritueel, polities en sosiaal op die akker van Afrikaans ontwikkel. Afrikaans het my totale bestaan en lewe gedefinieer, gedomineer en bepaal.” En verder: “[Afrikaans] was reeds van … vroeë ouderdom my lantern in die donker. ’n Pragtige tapisserie van woorde, klanke, idiome, metafore en uitdrukkings” (477).

En dan sê hy: “Ek het die protes in suiwer Afrikaans gelei; ek is deur die Veiligheidspolisie gearresteer in Afrikaans, ek is aangehou in Afrikaans, ek is gemartel in Afrikaans, maar ek het terugbaklei in Afrikaans” (481). Hy het in Afrikaans ’n kleefmyn gemonteer en gedetoneer (485). Maar nog steeds kry Afrikaans daardie die etiket van taal van die onderdrukker – en die vyande van Afrikaans sal dit graag oor en oor beklemtoon en dit so wil hou. Vir Basil Kivedo is Afrikaans egter ook die taal van die verdrukte, protestaal, strydtaal (72), moedertaal, liefdestaal, gebedstaal.

Lees ook wat Reggie Nel, professor in missiologie aan Unisa, hiervan te sê het (70). Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel beskryf die besondere rol wat die NG Sendingkerk speel en gespeel het in die “preservering” van Afrikaans. Terselfdertyd word ’n mens by die lees van die boek bewus van die deurlopende belangrike rol van die kerk in die bruin samelewing: “… altyd [as] ’n gemeenskap van geestelike voeding, materiële opheffing en burgerlike geregtigheid” (151).

Wat laasgenoemde betref, kom die Belydenis van Belhar aan die orde, onder meer in die hoofstuk van Cornelius Thomas. In hierdie verband is ook Llewellyn MacMaster se relaas onder die opskrif “Die bydrae van teologiese studente van die destydse NG Sendingkerk in die stryd om bevryding – Tokkelok, teologie en toi-toi in die tagtigerjare by die UWK” (237) openbarend, maar eweneens onthutsend.

En hoe lekker lees ’n mens tog aan Willa Boezak se bydrae, “Die Khoi-San as Afrikaanse gemeenskap – Gister, vandag en more”. Hy sluit af met ’n sitaat van Cloete-Saal:

Hier in Namakwaland praat ons die Afrikaans dat dit grens aan lekkerkry. Ons kraak hom, ons druk hom, ons tokkel hom. Ons trap hom. Hy laat jou voet jeuk … Dit stuur so ’n tinteling deur jou lyf. Hy moet vloei soos water uit jou hart se binneste uit. Los my taal. Hy hinder niemand nie. Moedertaal, O MOOISTE TAAL. (124)

Lees gerus die verhale oor die Kaapse Klopse van Michael le Cordeur, en neem kennis van die internasionale sukses van die rieldanse soos beskryf deur die baasverteller Elias Nel (318 ev). Proe anders bietjie aan die Oosterse speserye van Fatima Allie (506 ev): die kombuis word beskryf as “die hartklop in die lewens van die Kaapse Maleiers” (506).

Daar is te veel aspekte om op te noem. Miskien verdien Basil May se hoofstuk oor die sluiting van Suid-Afrika se onderwyskolleges nog besondere vermelding. Dit het nie geskied binne die apartheidsbedeling nie, maar “kortsigtigheid, eiewysheid en ’n gebrek aan respek vir die insigte van benadeeldes” (425) het ernstige gevolge vir die hedendaagse krisis in die onderwys. “Met die sluiting van die onderwyskolleges is onderwysstudente gedwing om na universiteite te gaan. Die afgestudeerde universiteitstudente het dalk ’n goeie akademiese agtergrond gehad, maar weens die eenjarige onderwysdiploma wat op die graad gevolg het, was daar duidelik leemtes” (422).

Kortom: dis die moeite werd, ja seker belangrik, om in hierdie tydsgewrig van taalontwrigting kennis te neem van die kaleidoskoop menings wat in die boek voorkom. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Geskiedeniskommissie oorweeg dit om ’n geskiedenis van die bruin Suid-Afrikaners te skryf. Ek dink die redakteurs, Wannie Carstens en Michael le Cordeur, het reeds daarin geslaag om met so baie skrywers ’n omvattende veld te dek.

Ons kom van vêr is ’n noodsaaklike boek wat vir seker ’n “opvolg” verdien waar dalk ook meer “noordelike” stemme aan die woord kan kom.

The post Ons kom van vêr, noordelike boekbekendstelling appeared first on LitNet.

Taal, toegang en transformasie

$
0
0

Die koeël is reeds deur die kerk vir Afrikaans op tersiêre vlak. Afrikaans het onherroeplik veld verloor op dié gebied en geen hofsake sal die verval kan keer nie. Nietemin is daar ’n belangrike aspek van die taalstryd van die afgelope dekade of so wat uitgelig moet word. Dit is die valse teenstelling van moedertaalonderrig teenoor inklusiwiteit en transformasie. Die tema, soos onlangs herhaal deur Wim de Villiers op die US Konvokasie se vergadering, loop so: Afrikaans kan as onderrigmedium gebruik word, solank dit nie toegang versper (op grond van taal) nie. Hierdeur word die implementering van moedertaalonderrig teenoor toegang gestel. Moedertaalonderrig word gesien as ’n manier om ander uit te sluit en transformasie teen te staan.

Hierdie teenstelling klink dalk vir sommige redelik, maar die implikasie daarvan is gevaarlik. ’n Verstaan van “toegang” en “uitsluiting” wat hierdie begrippe slegs in terme van ras sien, lei tot ewe gevaarlike ongelykhede en kan, ironies genoeg, juis ook rasse-ongelykheid verder ingrawe.

Net so is dit gevaarlik om transformasie slegs in terme van demografiese verteenwoordigendheid te sien. Hierdie beskouing lei sodanig tot die bevoordeling van Engels dat daar in wese maar net weer ’n strukturele ongelykheid geskep word, presies wat die doel van transformasie nie behoort te wees nie. Is dit nie baie meer sinvol om transformasie te beskou as ’n proses om die ongelykhede (beide ekonomies en met betrekking tot menswaardigheid) van kolonialisme en apartheid om te keer nie? Die einddoel van transformasie moet tog wees dat geen Suid-Afrikaanse burger soos ’n tweedeklas burger voel nie.

Dit laat my onwillekeurig dink aan die ander verweer teen Afrikaans as onderrigtaal, naamlik dat pro-Afrikaanses die morele konteks van die taalstryd miskyk. Hierdie verweer is geldig slegs as mens transformasie eng in terme van demografiese verteenwoordiging definieer. Suid-Afrikaanse instellings moet hulle verbind tot regstelling van die skade van die verlede, maar hoef nie kulturele selfmoord te pleeg in boetedoening nie, want die gevolg van so ’n selfmoord lei eweneens tot nuwe strukturele ongelykhede.

As ’n valse teenstelling tussen taal en toegang aanvaar word in die konteks van tersiêre onderrig, wat keer dat dit ook in die konteks van basiese onderwys toegepas word? In dié verband was daar alreeds oproepe deur sommige teen moedertaalonderrig. Om moedertaalonderrig teenoor toegang en transformasie te stel, sluit van meet af die moontlikheid van enkelmedium instellings uit. Alle instellings sou moet kies: parallelmedium, dubbelmedium of tolkdienste. Waar hierdie drie opsies te duur of onprakties raak, raak Engels onvermydelik die enkele taal van onderrig, en word die ruimte vir ander tale in die openbare sfeer drasties minder.

Ons weet verder dat ’n taal wat uit die openbare sfeer verdwyn, ook mettertyd in getalle kwyn en uiteindelik uitsterf. Kan dit wees wat die skrywers van die Grondwet in gedagte gehad het toe hulle taalregte ingeskryf het? Dat beleid wat ’n taal aktief ondermyn aanvaarbaar is? Die implikasie van eng beskouings van toegang en transformasie is naamlik iets soos die volgende: “Jou taal is amptelik, maar as jy weet wat goed is vir jou, laat vaar dit maar.” Dit is niks anders as gedwonge taalverskuiwing nie, iets wat internasionaal as ’n skending van menseregte beskou word.

Die ironie is dat die gewaande voordeel van ’n “English only” openbare sfeer, naamlik toegang en rasse-integrasie, juis tot ander uitsluitings lei, wat dikwels ook volgens rasselyne verloop. As dit byvoorbeeld pla dat ’n arm seun uit Kayamandi nie klasse in Engels kan bywoon nie, pla dit nie ewe veel dat die arm seun van ’n plaaswerker in Malmesbury, wat nog matriek in sy moedertaal sou kon geslaag het, nou nooit matrikuleer nie, omdat hy nie die skoolwerk kon baasraak in sy tweede taal nie? Sou dit nie beter wees as beide in hul moedertaal onderrig kon ontvang nie? ’n Eng beskouing van demografiese verteenwoordiging lei ons om slegs op eersgenoemde scenario te fokus, terwyl die breër prentjie ons ontglip.

Die absurditeit daarvan om taal teenoor toegang te plaas, verdiep wanneer ook nie-konkrete, meer simboliese, tipes uitsluiting in ag geneem word. In gevalle waar parallelmedium suksesvol geïmplementeer word, is daar geen konkrete uitsluiting nie. Niemand word op grond van taal toegang tot die instelling of ’n module geweier nie; leerders/studente deel alle ander spasies, behalwe die klaskamer. Dit is egter hierdie skeiding waarteen die Universiteit van die Vrystaat tans in die hof argumenteer. Die implikasie is dat integrasie nie volledig is as alle spasies nie ten volle die rassedemografie van die land weerspieël nie. Soortgelyke klagtes is al geopper oor tolkdienste, waar diegene wat van tolkdienste gebruik maak, voel hulle word ge-“other” deur die blote gebruik daarvan.

Let wel, ek beweer nie hier dat simboliese uitsluiting onbelangrik is nie. Inteendeel, mens moet baie sensitief daarvoor wees in ’n multikulturele samelewing. Daarmee saam moet egter die besef kom dat mens dit nie altyd kan vermy nie, dat daar noodwendig spasies gaan wees waar ons minder tuis voel, juis omdat ander ook spasies nodig het waar hulle volledig tuis voel. As ons by taalkwessies hierdie simboliese, niekonkrete uitsluitings in ag moet neem, is daar letterlik geen plek vir moedertaalonderrig nie.

Kortom, die opeis van taalregte gaan noodwendig gepaard met ’n mate van uitsluiting, terwyl om taalregte te ignoreer ook lei tot uitsluiting, myns insiens van ’n erger graad. Dit maak dus nie regtig sin om die opeis van taalregte teenoor toegang te stel nie.

Die keuse is dus nie tussen taalregte en toegang nie, maar eerder tussen verskillende gevalle van uitsluiting. Dit dui dan sterk daarop dat gevalspesifiek na taalkwessies gekyk moet word en dat kompromieë aan die orde van die dag is. So moet mens die uitsluiting wat die landwye “English only” openbare sfeer opweeg teen die niekonkrete, simboliese marginalisering van sommige studente wat met parallelmedium onderrig en tolkdienste gepaard gaan. Die landwye voortbestaan van tale moet in sulke gevalle swaarder weeg en griewe oor simboliese uitsluiting eerder met terapeutiese dialoog aangepak word. In gevalle waar skole enkele kilometer uitmekaar is, is die uitsluiting eweneens slegs simbolies, tensy die een skool se kwaliteit noemenswaardig swakker as die ander s’n is. In laasgenoemde geval is die verbetering van die swakker skool tog sekerlik die mees voor die hand liggende oplossing, eerder as torring aan die beter skool se taalbeleid.

Gelykheid

Maar waarom is dit dan so tragies as ’n taal kwyn en mettertyd uitsterf? Hoekom is die gedwonge taalverskuiwing wat die regering dryf, so verkeerd?

Dit is ’n gelykheidskwessie.

Navorsing wys dat moedertaalonderrig verkieslik is. Dit lei tot beter kognitiewe ontwikkeling en uiteindelik ook daartoe dat die dominante taal (hier Engels) makliker aangeleer word. Die aanbeveling is dus baie duidelik: hoe later mens kan aanhou met moedertaalonderrig, hoe beter. Daarmee saam word die dominante taal dan mettertyd ingefaseer. So gesien is dit eenvoudig ’n gelykheidskwessie dat ’n klein minderheid in die land moedertaalonderrig kan ontvang, terwyl die groot meerderheid nie kan nie. Moedertaalonderrig is ’n voordeel wat ongelyk verdeel word. Die antwoord lê egter tog nie daarin om die getal moedertaalstudente te verminder nie – dit vergroot net die ongelykheid.

Maar hoekom dan nie maar net almal verengels nie? Oor ’n generasie of wat is die gelykheidskwessie mos dan opgelos?

Wel, dit is nie so eenvoudig nie. Eerstens is daar inherent ’n generasie wat hierdeur verlore gaan, terwyl dit vermy kon gewees het.

Selfs al aanvaar ons hierdie verlies, is daar ander kwessies. As ’n taal uit die openbare sfeer verdring word, verarm dit die spreker van die taal se kultuurlewe. Hoewel Afrikaanse boeke en films tans floreer, is dit te betwyfel hoe lank hierdie opbloei sal voortduur as die taal sy hoër funksies verloor. Wie gaan byvoorbeeld ’n roman in Afrikaans skryf as sy omgang, nie net met die letterkunde nie, maar haas elke ander interaksie buite die huis, amper uitsluitlik in Engels was? Engels word kwytgeskeld van hierdie verarming.

Verder, omdat Engels voorrang geniet, skep dit ’n “Try for English”-situasie net soos daar in die apartheidsjare “Try for white” was. Navorsing dui daarop dat subtiele merkers van taal (byvoorbeeld ’n mens se aksent) beïnvloed hoe geloofwaardig mense jou vind. ’n Nie-Engelse aksent maak dat jy harder moet werk vir dieselfde respek as wat jou Engelse kollega geniet. Daarom sal mense mik, nie net om Engels magtig te wees nie, maar om Engels te wees en sodoende hul herkoms en agtergrond te verdoesel. Dit is juis hierdie gedwonge internalisering van die minderwaardigheid van jou agtergrond wat die bron van die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-bewegings se woede is. Onthou, hierdie studente het reeds toegang tot onderrig by daardie instellings! Dit spreek ook teen die ander verweer teen Afrikaans, naamlik dat rasse-integrasie sal ly onder eentalige instellings of selfs parallelmedium klasse. Natuurlik is daar groot waarde daarin om kontak tussen mense van verskillende rasse te bevorder en dit is iets wat ons as samelewing behoort na te streef. Hierdie kontak moet egter op ’n gelyke voet plaasvind, en die “Try for white” wat ons deur ’n “English only” openbare sfeer skep, werk juis hierdie gelykheid teen.

Die ironie is dus dat die “English only” openbare sfeer, met die pretensie van inklusiwiteit, eintlik maar net vir Engels-moedertaalsprekers voordele inhou. Gegewe dat die meeste swart mense in Suid-Afrika nie Engels-moedertaalsprekers is nie, sal hierdie voordele ook de facto langs rasselyne verdeel word.

Boonop moet mens daarop wys dat die dwang om herkoms en agtergrond te verdoesel, gif is vir ’n multikulturele, demokratiese samelewing. In so ’n samelewing wil ons juis nie hê dat burgers op grond van hul groeplidmaatskappe (byvoorbeeld hul moedertaal) soos tweederangse burgers voel nie. Om pro-Afrikaans te wees behels dus nie ’n terugverlang na die verlede nie, maar juis ’n gemoeidheid met die toekoms en ’n gees van eenheid en diversiteit.

Beskou verder die geval van ouers en hul kinders se taal van onderrig. Om ’n taal te deel behels ’n gedeelde agtergrond; ouers kan nie alleen die hele raamwerk skep en aan hul kinders oordra nie. Hiervoor is hulle van die strukture en instellings in die openbare sfeer afhanklik. As die strukture tot hul beskikking nou slegs in Engels beskikbaar is, kom dit neer op die verskraling van die gedeelde agtergrond (of jy nou gekies het om jou kind Engels groot te maak of nie). As taal heeltemal tot die private sfeer uitgeskuif word, lei dit daartoe dat, selfs in die privaatheid van jou huis, enige gesprekke buiten die mees alledaagse en huishoudelike in wese in die dominante taal van die land moet geskied. Hiermee beweer ek nie dat ouer-kind-verhoudings hierdeur totaal skipbreuk ly nie, wel dat dit ’n negatiewe verskynsel is wat Engelssprekendes nooit hoef te konfronteer as hulle nie wil nie.

Markkragte

Daar is dikwels die verweer, as mens oor taalregte praat, dat Engels de facto die enigste taal van die openbare sfeer is, en dat mense nou maar eenmaal bloot moet aanpas daarby.

Hierdie verweer is net deels juis. Eerstens is Engels se dominansie glad nie so natuurlik as wat sommiges voorgee nie. Sonder beleide gemik op eng demografiese verteenwoordigendheid, sou Afrikaans in baie gebiede (byvoorbeeld die noordelike voorstede van Kaapstad, die Wes-Kaapse platteland en groot dele van die Noord-Kaap) op grond van die Afrikaanse bevolking in daardie gebiede ’n sterk teenwoordigheid in die openbare sfeer gehad het. Howe en regeringskantore sou, ten einde die gebied se bevolking te bedien, mense moes aanstel wat tweetalig Afrikaans en Engels was. Dieselfde geld winkels en diensleweraars. As dit suiwer oor markkragte gegaan het, sou daar oorgenoeg aanvraag wees vir twee Afrikaanstalige universiteite in Suid-Afrika. Verder is Engels se internasionale dominansie grootliks die gevolg daarvan dat die Britse Ryk omtrent die helfte van die wêreld met militêre geweld gekoloniseer het.

Laastens moet mens dan ook daarop wys dat “aanpas” hier bepaalde nadele het, soos ek hierbo uitgestippel het. Hopelik lei die besef (a) dat Engels se dominansie nie so natuurlik is nie, en (b) dat ’n aandrang op moedertaalonderrig nie antitoegang is nie, daartoe dat Afrikaanssprekendes nog ’n plek vir die taal in die openbare sfeer opeis, vir die voordele wat dit bring en die nadele wat dit vermy.

Ek het ook simpatie met universiteite se dilemmas rondom taal. Ek kan insien dat buigsaamheid nodig is om top internasionale navorsers te lok, en dat die huidige generasie studente reeds teen hul moedertaal begin kies. Ek glo egter dat, losgemaak van die valse teenstelling tussen taalregte en kwessies van uitsluiting, die universiteite se hande vryer sou wees om taalkwessies effektief aan te pak.

Daardie koeël is egter nou al lankal deur die kerk. Die nuwe loopgrawe sal lê voor die kwessie van moedertaalonderrig in skole. As ons nog, soveel ons nog kan, ’n plek wil uitkerf vir Afrikaans en ander inheemse tale in ons samelewing, moet ons hierdie valse teenstelling die rug keer.

Hanru Niemand is ’n sielkundige, musikant en liedjieskrywer. Hy was voorheen verbonde aan die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

The post Taal, toegang en transformasie appeared first on LitNet.

US Woordfees 2017: Wat moet ons met ons kerk doen?

$
0
0

Jurie van den Heever en Chris Jones

Die mens het nie godsdiens nodig om ’n morele lewe te lei nie. So het die bekende paleontoloog Jurie van den Heever, tydens die Woordfees gesê met die bekendstelling van sy boek Wat moet ons met ons kerk doen?.

Van den Heever maak verskeie omstrede stellings in sy boek wat volgens Chris Jones van die kantoor vir morele leierskap aardskuddend mag wees vir tradisionele gelowiges.

Jones was die gesprekvoerder tydens die bespreking.

Van den Heever voer onder meer aan dat die kerk ’n ander belydenis sal moet kry as hy nog wil relevant bly in ’n moderne wêreld.

Hy sê sy benadering met die skryf van die boek was om met ’n historiese narratief te werk en te probeer vasstel wat die Bybel regtig vir ons wil sê, met inagneming van al die nuwe kennis waaroor die mens vandag danksy die wetenskap beskik.

“Te veel mense lees die Bybel op ’n letterlike fundamentalistiese manier en nie as literatuur wat in ’n bepaalde konteks vir ’n bepaalde gehoor geskryf is nie.”

Sy stelling dat die Christelike geloof nie noodwendig ’n opgestane Jesus nodig het nie, sal ongetwyfeld baie gelowiges se wenkbroue laat lig.

Woordfeesgangers het twee agtereenvolgende dae die Drostdy-teater volgepak om te gaan luister na boekbesprekings rakende geloof. Vroeër die week het die filosoof Willie Esterhuyse en die emeritus dominee Frits Gaum met mekaar in gesprek getree oor nóg twee boeke wat deur Naledi uitgegee is, naamlik Gaum se God op soek? en Esterhuyse se Geagte Jahwe.

Gaum en Esterhuyse het diep teologiese verskille oor verskeie sake. Gaum se boek was ’n reaksie op Esterhuyse se boek omdat verskeie dinge daarin hom “moerig” gemaak het.

In Wat moet ons met ons kerk doen? skaar Van den Heever hom by ’n stem wat al hoe harder onder Afrikaanse mense gehoor word en wat afstand gedoen het van die tradisionele geloof.

Hy sê gereformeerde kerke in Suid-Afrika is aan die kwyn weens ’n verknogtheid aan Middeleeuse dogma. “Deur bewese navorsingsbevindings in die teologie, argeologie en biologie te ignoreer word die kerk toenemend irrelevant.”

Van den Heever, wat steeds ’n lidmaat van die NG Kerk is maar nie meer gereeld kerk toe gaan nie, meen die kerk behoort die weg vir lidmate oop te maak om uiteindelik self te bepaal hoe die kerk moet lyk en funksioneer.

Minstens drie swaargewigteoloë, naamlik Wentzel van Huyssteen, Ben du Toit en Louis Jonker, het die gesprek met Van den Heever bygewoon. Nie een van hulle het tydens vraetyd van hom verskil nie.

“Ek stem so met jou saam,” het Wentzel tydens die gesprek gesê.

Volgens Van den Heever is die kerk soos die Titanic wat op ’n ysberg afstuur terwyl die orkes speel.

“Die kerk loop leeg en hy gaan nog meer lidmate verloor namate hulle verby die kerklike dogma kyk.”

Op ’n vraag van Jones waarom hy as wetenskaplike oor die kerk skryf, het Van den Heever gesê: “Hoe kan ’n Afrikaner nie oor die kerk skryf nie, want feitlik alle Afrikaners kom uit ’n agtergrond waar die kerk geweldig voorskriftelik was en bepaalde vrae in mense se gemoed gelaat het.”

Verskillende mense het hom met die skryf van die boek beïnvloed, onder andere twee teoloë wat bereid was om die teks te keur. Omdat sommige lesers die boek as té omstrede mag ervaar, kan dit volgens Van den Heever negatiewe gevolge inhou vir enigiemand wat enigiets daarmee te doen het, daarom het hy besluit om hulle liewer anoniem te bedank.

Die voorblad simboliseer die historiese verhouding tussen kerk en wetenskap in Suid-Afrika. Die kerktoring, as plattelandse ikoon, vergestalt die dominante posisie wat die kerk in die groter samelewing, en spesifiek in die leefwêreld van die Afrikaner, beklee het, terwyl die ry individue wat deur die veld aanstryk, die bewese evolusionêre ontstaan van die mens illustreer. Terselfdertyd is dit sprekend van die populêre wanvoorstelling dat die evolusieproses doelgerig een verbeterde produk na die ander lewer. Laastens is die wandelende figure simbolies van die verandering en intellektuele vooruitgang wat die wetenskap meebring, in teenstelling met die kerktoring, wat ’n statiese leefwêreld verteenwoordig.

The post US Woordfees 2017: Wat moet ons met ons kerk doen? appeared first on LitNet.

US Woordfees 2017: Fotoalbum 1

$
0
0

Die US Woordfees op Stellenbosch is in volle swang.  Hier is 'n keuse van Naomi Bruwer se eerste feesfoto's en -video's.

Helen Zille: Not without a fight

Presented by Penguin Random House

Max du Preez chats to Helen Zille about her long-awaited autobiography – one of the most fascinating political stories of our time.

Helen Zille

Max du Preez

Vertalingstameletjie – van hier tot daar en terug

Moontlik gemaak deur Protea Boekhuis, SASNEV en die Vlaamse Regering

Stefan Hertmans, Peter Verhelst, Tom Lanoye en Antjie Krog gesels met Zandra Bezuidenhout oor hulle ervaring om hulle werk te laat vertaal.

Antjie Krog, Tom Lanoye, Zandra Bezuidenhout, Stefan Hertmans en Peter Verhelst.

Peter Verhelst wys prente uit sy bekroonde kinderboek.

Tom Lanoye

Antjie Krog

Stefan Hertmans

Zandra Bezuidenhout

Sonja Loots

HemelBesem: God praat Afrikaans

Aangebied deur LAPA Uitgewers. Lees Jean Oosthuizen se verslag oor die gesprek.

Om te toor met taal van Gansbaai tot Elsiesrivier

Aangebied deur Modjaji Books

Bibi Slippers gesels met Jolyn Phillips oor haar kortverhale in Tjieng-Tjang Tjerries; en Shirmoney Rhode oor haar Kaapse digkuns  in Nomme 20 Delphi Straat.

Shirmoney Rhode, Bibi Slippers en Jolyn Phillips

Jolyn Phillips het verduidelik dat taal 'n belangrike karakter is in haar skryfwerk.

Bibi Slippers

Volgens Shirmoney Rhode het haar gedigte gevra om in Kaaps te wees. Dit sou nie in enige ander variant van Afrikaans gewerk het nie.

Karel Schoeman: 'n Stem, 'n stemming - tussen tradisie en moderniteit

Filosoof Johann Rossouw bied 'n lesingsreeks aan oor Karel Schoeman se latere romans.

Heinrich Matthee: Kultuurvryheid en selfbestuur

Aangebied deur Kraal Uitgewers

Heinrich Matthee en sy pa, Johan

Ons kom van vêr

Aangebied deur Naledi

Ons kom van vêr, saamgestel deur Michael le Cordeur en Wannie Carstens, bevat lank versweë stories van meer as 40 skrywers, akademici en gemeenskapsleiers. Rian Cloete gesels met van die persoonlikhede.

Johan Coetzee van Naledi stel die paneel bekend.

Wannie Carstens het vertel dat dié boek vir hom as akademikus belangrik is, aangesien hierdie stories oor die Afrikaanse bruin gemeenskap nie voorheen gedokumenteer is nie.

Michael le Cordeur

Fatima Allie

Elias P Nel

Rian Cloete

Danie van Wyk

Edwena Goff

Oom Jassie vertel ...

Op die feesterrein

Michèle Meyer, wenner van Wys-kortverhaalkompetisie. Lees hier meer oor die kortverhaalbundel.

Carolyn Meads

Hermann Giliomee, Dorothea van Zyl en Daniel Hugo

Ena Jansen en Pamela Pattynama

Jan Donner

Laerskool Pieter Langeveldt se leerders het Peter Pan gaan kyk.

Ilse Salzwedel

Riku Lätti

HemelBesem en YOMA

Wilken Calitz op viool.

The post US Woordfees 2017: Fotoalbum 1 appeared first on LitNet.


US Woordfees 2017: Fotoalbum 2

$
0
0

En so rol die fees van woorde voort. Nog kiekies vir die kyk, gekiek deur Gerrit Rautenbach.

Klanke in die Bloekomhoek

"Suikerbos, ek wil jou hê," sing Refentse Morake.

Bacchus Nel

Riku Lätti bou nog 'n Wasgoedlyn met Refentse Morake, HemelBesem en band.

Riku Lätti op sy beste

Op pad ATKV-boeketent toe

Wie, WAT, waar, woorde ...

Nita Cronjé sterk op pad Mecca toe.

In die ATKV-boeketent

Karin Brynard praat met Marita van der Vyver oor Misverstand. Nee, nie tussen hulle nie, Marita se jongste boek.

Daar's niks beter in die lewe nie, as passie.

Die toorsjef

Karen Hart praat hoendergeheime.

Terug in die Bloekomhoek

Alexa Strachan, Sandra Prinsloo en Margit Meyer-Rödenbeck praat Koöperasiestories.


Margit verduidelik mooi.

Immergroen Sandra teen 'n blou agtergrond.

The post US Woordfees 2017: Fotoalbum 2 appeared first on LitNet.

Oh wide and sad land: Adam Small vertaal NP Van Wyk Louw

$
0
0

Daniel Hugo, foto verskaf deur Darryl David.

(Praatjie gehou by die Adam Small-fees op Pniël, 24 Februarie 2017)

In 1975 verskyn Adam Small se vertalings van ’n keur uit NP Van Wyk Louw se gedigte as Oh wide and sad land. Dit is nog steeds die omvattendste versameling gepubliseerde vertalings uit Louw se oeuvre. In 1962 het Afrikaans poems with English translations, saamgestel deur AP Grové en CJD Harvey, die lig gesien. Daarin is 15 gedigte van NP Van Wyk Louw opgeneem, vertaal deur vier vertalers. In Small se bloemlesing staan 47 verse, met 12 gedigte uit Tristia, Louw se laaste bundel wat nie in Grové en Harvey se bloemlesing kon figureer nie, aangesien dit in dieselfde jaar – 1962 – verskyn het.

In sy voorwoord tot dié tweetalige bundel verklaar Small dat sy doel met die vertalings is om egte kulturele kommunikasie tussen die Afrikaanse en Engelse mense van die land te bevorder: “This book is intended to be more than merely a book of Afrikaans verse in translation. It wishes more than anything else to be a contribution towards alleviating what I consider to be one of the outstanding maladies of our South African condition: a lack of truly cultural – I stress truly cultural – communication between English and Afrikaans in the country.”

Hy wil dus die “breuk” wat daar tussen dié twee taalgroepe bestaan, probeer heel. Verder moet sy vertalings ook getuig van sy groot bewondering vir die digter-filosoof Louw: “[A]n introduction to Van Wyk Louw is an introduction to the noblest spirit of Afrikaans.”

In ’n kolofon agterin die boek word hierdie doelstelling deur die finansiële borg van die bundel bevestig: “As huldeblyk aan die Afrikaanse Kultuur en een van haar grootste seuns NP van Wyk Louw en om agting en toegeneentheid tussen Die Engelse en Afrikaanse Erfenisse te versterk, word hierdie boek opgedra deur sy borg Mobil-Olie Suidelike Afrika (Edms) Bpk.”

Dit is insiggewend dat die klem sowel deur Small as die borg gelê word op die erkenning van Afrikaans as ’n taal met hoë kulturele funksies. Die graad van gesofistikeerdheid wat die Afrikaanse digkuns bereik het, skryf Small uitsluitlik en ongenuanseerd toe aan Louw se teenwoordigheid in die Afrikaanse kultuurlewe sedert die 1930’s: “This probing mind fashioned Afrikaans into a language of expression so fine, that its poetry can now stand with the highest achievements of the human spirit in Time.” Dan beweer hy nogal stellig dat as Louw in ’n groter wêreldtaal geskryf het, hy ongetwyfeld die Nobelprys sou ontvang het.

Small erken verder in sy voorwoord dat Louw ’n Afrikaner-nasionalis was, hoewel ’n verdraagsame en liberale een sonder vooropgestelde, vaste idees – ’n filosofiese nasionalis wat probeer om “met ’n skoon oog” na die wêreld en die menslike bestaan te kyk.

Agterin die bundel staan daar as ’n nawoord Small se essay “Towards cultural understanding”. Hy begin deur te sê daar bestaan ’n groot misverstand in die veelrassige en multikulturele Suid-Afrika dat kultuur ’n beperkende faktor is wat mense binne die vaste grense van ’n bepaalde volk vaskeer. Hierdie siening van kultuur skei mense van mekaar, in plaas daarvan dat dit as ’n kommunikasiemiddel tussen groepe dien. Dit bevorder nie begrip nie, maar misverstand.

Dit was die jaar 1975. Die volgende jaar sou skoliere Soweto en die res van die land aan die brand steek uit verset teen Afrikaans as taal van onderrig in swart en bruin skole. Dit lyk asof Small ’n voorgevoel daaroor gehad het, want hy sê: “[T]he future of human relations in our country culturally lies with our youth, and it is therefore necessary that the concept of culture be brought home to them as one oriented towards the understanding of men by men, rather than towards human misunderstanding.” Daar moet begrip, verdraagsaamheid en meegevoel tussen mense wees, “so that the country will not explode in our faces”. Dit was toe ongelukkig presies wat gebeur het.

En, gaan Small voort, vir die eerste keer word daar buite intellektuele en literêre kringe aandag gegee aan Van Wyk Louw se kultuurfilosofiese denke. Die verligte Afrikaners begin naamlik kennis neem van hom: “[T]his taking to Van Wyk Louw, this hesitating acknowledgement of the man, implies the promise of an opening up of the attitudes of the Afrikaner, a promise of accommodation, in this world, of things he could not accommodate before, of things he irrationally feared.”

Die essensie van Louw se kulturele denke is dat dit verskillende mense en volke bind eerder as verdeel, omdat die hoër uitings daarvan – soos in die kunste – soveel bevat wat ons onderling kan verryk. ’n Haastige toeris stel net belang in die tipiese, onderskeidende kenmerke van ’n ander kultuur; die ware kultuurmens sien raak wat algemeen-menslik is. Nie die tulpe nie, maar Rembrandt verteenwoordig vir Louw die Nederlandse kultuur. Rembrandt, wat in ’n spesifieke tyd en plek geleef en gewerk het, spreek universeel tot mense van ander tye en plekke.

Small voeg hieraan toe dat hoewel ’n mens in ’n kultuur gebore word, jy nie met kultuur in die wêreld kom nie. Dit is iets wat verwerf moet word: “Becoming cultured is a matter of communication all the time, with the past, with the present, with what is near, with what is far away. The idea that one’s culture is exclusive is being denied all the time in the process of one’s becoming cultured … There is nothing quite so ‘mixed’ as one’s culture, so ‘coloured’, so ‘inter-racial’ or ‘multi-racial’!”

Een van die slagbome om ’n ander kultuur te leer ken, is uiteraard die taal waarin daardie kultuur uitgeleef word. En met die vertaling van Louw se gedigte bied Small aan almal wat Engels magtig is toegang tot die hoogste literêre uiting van die Afrikaner en tot die denke van een van sy grootste intellektuele.

Ek gebruik met opset die woord “Afrikaner” en nie “Afrikaanssprekende” nie, omdat Small hom in 1975 klaarblyklik nog met die Afrikaner geïdentifiseer het. Hy sluit sy opstel af deur te sê dat Van Wyk Louw se “vyande” in die Afrikanerdom die denkfout maak dat hulle hul identiteit deur middel van isolasie moet bewaar. Daarmee het hy sekerlik ook bedoel: deur die uitsluiting van die bruin Afrikaanssprekende.

Small het sy identifisering met die Afrikaner reeds in 1961 uitgespel in sy bundel politieke opstelle Die eerste steen?. Dié essays is opgedra “aan my mense, die Afrikaners”, en daarin maak hy beswaar teen die sosiale, politieke en kerklike verwerping van bruin mense deur wit Afrikaners. In die opstelle spreek hy sy liefdelose “Afrikanerbroer” aan.

Hy haal NP Van Wyk Louw se opstel “Volkskritiek” (uit Lojale verset, 1939) volledig aan en wys op die relevansie daarvan vir 1961, hoewel dit reeds in 1938 geskryf is. Hy beskou Louw as “die beste deel van ons gewete”, en tog wil die politici en kerkleiers nie na hom luister nie.

Van Wyk Louw het reeds in 1960 in sy voorwoord tot DP Botha se opspraakwekkende boek oor die sosiopolitieke posisie van die bruin mense in Suid-Afrika, Die opkoms van ons derde stand, gepraat van “my volk, Blank en Bruin”. Die benaming “bruin Afrikaners” is ook daardie tyd in ’n wyer kring gebruik, hoewel die Afrikaner-politici nie daarvan gehou het nie.

Small het later, uit frustrasie en verbittering, nie meer na homself as ’n Afrikaner verwys nie, maar die neutrale term “Afrikaanses” geskep vir alle Afrikaanssprekendes. Sy bewondering vir Van Wyk Louw het tot aan die einde van sy lewe voortgeduur. Die titelgedig van sy laaste digbundel – Klawerjas van 2013 – is aan Louw opgedra.

In 1975 het hy egter nog die hoop gekoester dat die Afrikaanse bruin mens deur die Afrikaner aanvaar en omarm sal word. Dit verklaar sy idiosinkratiese vertaling van ‘n vroeë Louw-volksversie. Ek bedoel “Rooidag” uit sy debuutbundel Alleenspraak van 1935:

Rooidag, rooidag,
wat bring jy?
Ek weet nie waarom
voel ek so bly;

my hart die klop,
en dit voel vir my,
sowaar, sowaar,
vandag kom hy.

Dit is die naïef-optimistiese liedjie van ’n verliefde meisie wat graag glo dat haar minnaar daardie dag gaan opdaag. Small herskryf die slotreël egter om ’n politieke betekenis daaraan te gee. Hierdie interpretasie het ek uit Small se eie mond gehoor toe hy die studente van die Afrikaanse Studiekring (ASK) in 1975 by die Universiteit Stellenbosch oor Oh wide and sad land toegespreek het. Hier is sy vertaling:

What do you bring
oh dawn light red
I don’t know why
I am so glad

My heart is throbbing
as if to say
truly, oh truly
it comes today.

“(I)t comes today” dui op die koms van die bevryding, die dagbreek van die nuwe demokratiese bedeling in Suid-Afrika. En daarmee saam uiteraard die aanvaarding deur wit Afrikaners van hul bruin taalgenote. (Gun my ’n terloopse, oneerbiedige opmerking oor die rymwoorde “red” en “glad” in die eerste strofe. Dit rym slegs wanneer “glad” op sy Kaaps uitgespreek word as “gled”.)

Van Wyk Louw publiseer byna 30 jaar later, in Tristia, ’n kwatryn as teenhanger van hierdie hoopvolle liedjie. Daarin is ’n radelose man aan die woord oor sy geliefde wat nooit weer haar verskyning sal maak nie:

Sy sal nooit kom nie. Moenie luister.
Moenie wag. Moet niks verwag nie.
Leer die verwagting af. Leer die wág af.
Leer áf om te luister. Leer af.

En weer verander Adam Small die persoonlike voornaamwoord na “it”.

It will never come. Don’t listen
Don’t wait. Expect nothing
Unlearn expectation. Unlearn to wait
Unlearn to listen. Unlearn.

Beteken dit dat Small reeds in 1975 gewanhoop het – ondanks sy optimisme in “Rooidag” – oor die aanbreek van ’n nuwe politieke bestel in Suid-Afrika? Dit lyk so.

Ten slotte het dit tyd geword dat ek iets sê oor die aard van Small se vertalings. Dit kan die maklikste gedoen word aan die hand van ’n vergelyking tussen Small se weergawe van “O wye en droewe land” (die titelgedig van sy bloemlesing) en dié van Guy Butler uit Afrikaans poems with English translations. Ek haal aanvanklik net die eerste strofe aan van hierdie manjifieke klaagsang uit Louw se koorspel oor die Voortrekkers, Die dieper reg van 1938:

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit ’n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?
Jy ken die pyn en eensaam lye
van onbewuste enkelinge,
die verre sterwe op die veld,
die klein begrafenis.

Small se vertaling klink so:

Oh wide and sad land, alone
under the mighty southern stars
will never a happiness break through
your silent sadness
You know the pain and lonesome suffering
of ordinary men each on his own
the unreported dying on the veld
the small man’s burial.

En hier is Butler:

O wide and woeful land, alone
under the great southern stars,
will never an intense joy disturb
your calm unmoving grief?
You know the lone souls, unaware
of their own suffering and pain,
the far-off death upon the veld,
the burial small and brief.

Wat onmiddellik opval, is die meer ontspanne, alledaagse taalgebruik by Small: “sad” ipv “woeful”; “happiness” ipv “intense joy”; “silent sadness” ipv “calm unmoving grief”; “ordinary men” ipv “lone souls”. Butler se vertaling is getrouer aan die gedrae en hoë literêre register van Louw se taalgebruik: “droewe”, “hoë blydskap”, “stil droefenis”, “eensaam lye”, “onbewuste enkelinge”.

“O wide and woeful land” verskaf ook ’n beter ekwivalent vir Louw se welluidende eerste reël, “O wye en droewe land”, deurdat die w-alliterasie gehandhaaf word. Verder behou Butler die rym in die slotreël – iets wat Small ignoreer. Stilisties beweeg Butler dus veel nader aan die oorspronklike teks, maar Small slaag wel daarin om met sy eenvoudiger taalgebruik die gees en die emosie van Louw se gedig oor te dra. Dit gaan immers oor onbenullige mensies wat wegraak in ’n uitgestrekte, leë landskap.

Ek verkies Small se ingetoënheid bo Butler se soms bombastiese verwoording. Die derde strofe illustreer wat ek bedoel:

Sal nooit ’n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerwolk
wat uitbloei oor jou donker berge,
en nooit in jou ’n daad geskied
wat opklink oor die aarde en
die jare in hul onmag terge.

Ek haal Butler eerste aan:

Will never a mighty beauty come
like hail-white thunderheads that bloom
above your mountain’s darkest stance,
and never a deed occur in you
to echo over earth, and taunt
Time with its impotence?

En om die kroon te span op daardie “mountain’s darkest stance” en “Time with its impotence” word “Time” sowaar met ’n hoofletter geskryf! Dan luister ek veel liewer na Small se soberder Engels:

Will never a great beauty
come upon you like the hail-white summer-cloud
that flowers forth from your dark mountains
and never a deed occur in you
to reach across the world
taunting time’s helplessness.

Die volledige opdrag by die titelgedig in Small se Klawerjas lui so: “Opgedra, postuum, aan NP van Wyk Louw, skrywer van ‘Die beiteltjie’, een van die grootste verse wat ek nog gelees het.” Small het inderdaad ook “Die beiteltjie” in Oh wide and sad land vertaal. Hy slaag daarin om die bedrieglike eenvoud van Louw se diepsinnige vers oortuigend weer te gee. Ek haal net die eerste strofe aan en laat Small se vertaling daarop volg:

Ek kry ’n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

I take a tiny chisel
I try it for its ring
I whet it and I whet it
for it to ring and sing.

In vergelyking met Small se tikkende klanke en trippelende versgang val CJD Harvey se vertaling in Afrikaans poems with English translations nogal swaar op die oor – selfs al gebruik Small en Harvey dieselfde werkwoorde in rymposisie:

I take a chisel, very small,
I tap it and it rings;
I sharpen it and sharpen it
until it shines and sings.

Adam Small se vertaling van NP Van Wyk Louw se verse het tot dusver heeltemal te min aandag gekry. Ek hoop dat hierdie praatjie nuwe belangstelling sal wek vir ’n projek waarvan Small in sy voorwoord tot Oh wide and sad land gesê het: “I consider (it) to be outstandingly important in my own literary career.”

Daniel Hugo saam met Adam en Rosalie Small
Foto: Marlene Malan

Bronne

Botha, DP. 1960. Die opkoms van ons derde stand. Met ’n voorwoord deur NP van Wyk Louw. Kaapstad: Human & Rousseau.

Grové, AP en CJD Harvey (reds). 1962. Afrikaans poems with English translations. Kaapstad: Oxford University Press.

Louw, NP van Wyk. 1975. Oh wide and sad land. Afrikaans poetry of NP van Wyk Louw in English translation by Adam Small. Kaapstad: Maskew Miller.

Olivier, Fanie. 2016. Adam Small (1936–). In Van Coller (red) 2016.

Small, Adam. 1961. Die eerste steen? Kaapstad: HAUM.

—. 2013. Klawerjas. Kaapstad: Tafelberg.

Van Coller, HP (red). 2016. Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Tweede uitgawe. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

 

The post Oh wide and sad land: Adam Small vertaal NP Van Wyk Louw appeared first on LitNet.

Filmresensie: Tess

$
0
0

Tess
Regie: Meg Rickards
Draaiboek: Tracey Farren, gegrond op haar roman Whiplash
Spelers: Christia Visser, Brendon Daniels, Dann-Jacques Mouton, Lee-Ann van Rooi, Tashanay Daniels, Quanita Adams

Ek het laas met Black swan (2010) só gebomskok uit ’n fliekteater gestap. Tess, wat laas jaar drie pryse by die Durban International Film Festival ontvang het, is die soort film wat elke byvoeglike naamwoord wat ’n resensent kan kies, banaal laat voel. Laat ek volstaan deur te sê dis een van die beste flieks wat ek al ooit gesien het. As enigiemand nog bewyse soek dat ons plaaslike filmbedryf werk van wêreldgehalte kan lewer – hier is dit.

Tess (Christia Visser) is ’n jong prostituut wat die Kaapse strande Muizenberg en Strandfontein “doen”. Soos die dwelmhandelaar Merrick (Brendon Daniels) dit stel: “Jy’s ’n wit, Afrikaanse meisie wat ordentlik grootgeword het, hoekom is jy dan ’n hoer?” Deur terugflitse na Tess se kinderdae kom die kyker mettertyd agter die hoekom.

Die verhaal word vertel met min dialoog, ’n treffende klankbaan en uitstaande kinematografie (grinterige beelde, beligting wat feitlik wit uitgeblaas word). Moet vir geen oomblik selfs net ’n sweem van die skoonste Kaap in Tess se wêreld van verlate treinspore, afgeleefde woonstelblokke en windverwaaide strande verwag nie. Moet ook nie ’n verromantisering van prostitusie as beroep verwag nie – dit is nie Pretty woman nie, dis harde, skokkende realiteit.

In ’n onlangse onderhoud sê Christia dat sy nie gerig is op ’n Hollywood-loopbaan en Oscar-beeldjie à la Charlize Theron nie. Met die gehalte spel wat sy hiér lewer, kan sy egter maar gerus daardie soort ambisie hê. Ek wil dit waag om te sê dat Tess nie moontlik sou gewees het sonder haar in die naamrol nie. Bygesê: die hele span in en agter hierdie film verdien net die hoogste lof.

As jy ernstig is oor film as ’n kunsvorm, móét jy Tess gaan kyk. Wees egter voorbereid op grafiese geweld en ’n uiters ontstellende verkragtingstoneel. Tog eindig die verhaal met ’n hoopvolle wending wat die ongenadige kykervaring draaglik maak, en dis des te meer oortuigend omdat die redding nie van buite kom nie, maar vanuit die karakter self groei.

Sterre: 5

The post Filmresensie: Tess appeared first on LitNet.

In die laksman se skoot deur Chris Marnewick, ’n resensie

$
0
0

In die laksman se skoot
Chris Marnewick
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485302650

Ek was aanvanklik skepties om In die laksman se skoot te resenseer – moontlik omdat die verhaal grotendeels in ’n Suid-Afrikaanse hof afspeel. En ook moontlik ure se vervelige stories om braaivleisvure deur vriende in die regsberoep, want benewens medici, maak hulle hulself seker die skuldigste aan shop talk. Die Engelse rolprent Shepherds and Butchers, wat op dié boek gegrond is, het egter baie goeie resensies ontvang, en daarom het ek besluit om die boek ’n kans te gee.

Die hofdrama is gegrond op werklike gebeure in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis waar daar in 1987 alleen 164 mense in Pretoria tereggestel is.

Johann Weber, ’n senior advokaat van Durban, kry opdrag om ’n moordverhoor in Pretoria pro bono te behartig – dié van Leon Labuschagne, ’n eskort (iemand wat terdoodveroordeeldes na die galg neem) en bewaarder by “Maksimum” in Pretoria, soos Labuschagne self daarna verwys. Een laatmiddag skiet Labuschagne sewe insittendes van ’n minibus dood ná ’n onderonsie in spitsverkeer. Dit is Weber en sy junior pro deo-prokureur Pedrie Wierda wat Labuschagne se onskuld moet probeer bewys. Wat eers gelyk het na ’n hulpelose saak vir die verdediging, neem ’n ander wending namate Labuschagne se werksomstandighede blootgelê word en die trauma en emosionele druk waaronder hy gebuk moes gaan, onder die loep geneem word.

Die hoofstukke is in die dae opgedeel waarin die hofsaak afspeel. Tussendeur gebruik die skrywer verwante doodstrafsake om te probeer bepaal wat hierdie moordenaars dryf en of daar iets relevant is wat hy ter verdediging kan gebruik. Sommige van hierdie gevalle is skrikwekkend, en die moordenaars se weergawes van die misdade uit die dossiere tref die leser hard, hoewel ek dink dat die skrywer dit beter met die storie kon verweef het. Tussendeur word Pretoria en die argitektuur rondom die howe deur Pedrie Wierda ingekleur om ’n bietjie afwisseling van die hofgebeure te verskaf.

Marnewick se kennis van sy beroep word met deernis aangewend en dit kan byvoorbeeld op bl 401 gesien word: “Dit is moeilik om te begryp waarom enigiemand die advokaatsberoep sal kies met die wete dat elke dag ’n nuwe stryd gaan oplewer. Ons veg soos outydse ridders altyd iemand anders se geveg, en wanneer ons wen of verloor is dit iemand anders wat die vreugde of pyn ervaar. Die idee dat ons nie omgee oor die uitslag nie, is ’n versinsel. Natuurlik gee ons om. Wen of verloor, die uitkoms sal altyd by ons bly, net soos elke kliënt ’n permanente plek in ons geheue inneem.”

Hy wend die andersins saai en kliniese atmosfeer van die hof ook telkemale poëties aan (bl 187): “In die boonste galery heel agter begin iemand hoes. Almal kyk op. ’n Ry bleek gesigte kyk af na ons. Ek bespiegel oor wat die toeskouers van ons dink. Sien hulle ons as vegters in ’n Romeinse arena, of dalk as monnike in ons swart togas met ons rituele en oppervlakkige beleefdheid terwyl ons letterlik gewikkel is ’n stryd tot lewe en dood?” Ook oor die kruisverhoor in ’n hofsaak: “Kruisverhoor is die swaard waarmee die waarheid ontbloot kan word. In die hande van ’n ervare advokaat word die swaard nie gebruik om te probeer om met een hou ’n kop af te kap nie. Dit word eerder as ’n rapier gebruik om talle klein maar geniepsige wonde toe te dien, waarvan die slagoffer dan stadig doodbloei.”

Ek het nie verveeld met die hofgebeure geraak nie en dit eintlik baie interessant gevind om te sien hoe die proses werk. Marnewick se karakterontwikkeling skiet soms ’n bietjie te kort terwyl die verhaal op die hofgebeure fokus. Ek sou graag ’n bietjie meer wou geweet het oor die adjudantoffisier wat Labuschagne se senior was by die gevangenis. Asook oor Pierre de Villiers, Weber se swaer, wat hy inspan as speurder om te help met die saak. Dit is egter ’n goeddeurdagte verhaal deur ’n skrywer wat meer as genoeg kennis het oor sy veld. Daar is selfs ’n bevredigende kinkel in die kabel wat die leser onkant sal betrap as hy nie oplet nie.

In die laksman se skoot laat baie stof tot nadenke. Die mense wat gereeld vra dat die regering die doodstraf moet terugbring, sal twee keer dink ná die lees van die verhaal. ’n Mens besef nie altyd wie almal deur die doodstraf geraak word nie, en dis inderdaad nie net die persoon wat tereggestel word, sy familie, of die familie van die slagoffers nie. Regters, bewaarders, balju’s, advokate en prokureurs, om net ’n paar te noem – niemand spring die trauma vry wat die galg bring nie.

The post In die laksman se skoot deur Chris Marnewick, ’n resensie appeared first on LitNet.

Die Herero-opstand 1904–1907 deur Gerhardus Pool, ’n resensie

$
0
0

Die Herero-opstand 1904–1907
Gerhardus Pool
Uitgewer: Protea Boekhuis

ISBN: 9781485305941

Die optrede van die Duitse koloniale owerhede in Namibië tydens die Herero-opstand van 1904 kan met ’n aardskudding vergelyk word waarvan die naskokke vandag, meer as ’n eeu later, steeds gevoel kan word. Die gedeeltelike uitwissing van die Hererovolk, die vernietiging van hulle stamkultuur en die vervreemding van hulle tradisionele grondgebied was ’n nasionale trauma waarvan die nagedagtenis van een geslag na die volgende oorgedra is. Veral sedert onafhanklikheidswording in 1990 het ongelukkigheid in Namibië met opeenvolgende Duitse regerings se skynbare onverskillige houding jeens koloniale vergrype aan Duitse kant sterk na vore getree en al hoe meer toegeneem.

Tesame met sekere individue en groepe in Duitsland word daar van Namibiese kant al hoe meer druk uitgeoefen om Duitse verantwoordelikheid vir dié grootste ramp in die geskiedenis van die Herero van staatsweë erken te kry. By die eeufeesvierings in 2004 in Namibië het die Duitse Minister van Ontwikkelingsake vir die eerste keer van gruweldade gepraat “wat vandag as volksmoord beskryf sou kan word”. Maar eers in 2015 het die president van die Duitse Bundestag (parlement) aan die kern van die eise toegegee deur die optrede van die Duitse magte, veral die genadelose verdrywing van feitlik die hele Hererovolk tot diep in die onherbergsame Omaheke-woestyn wat tot die grudood van etlike duisende mans, vrouens en kinders gelei het, onomwonde as ’n volksmoord te bestempel. (Daar word geraam dat ongeveer 65 000, dws omtrent 75%, van die 80 000 Herero’s  in die opstand omgekom het.) En vanaf Julie 2016 is dit amptelik: die Duitse regering teken verskoning aan vir die volksmoord op die Herero’s. Vir reparasies is die Duitse regering egter steeds nie te vinde nie.

Die gebeure van 1904 was só dramaties en ingrypend in die lewens van die inheemse bevolking, die Duitse setlaars en die soldate, asook vir die sosiale, ekonomiese en politieke omstandighede van die gebied, dat dit uit die staanspoor skriftelike verslae, historiese relase, outobiografieë en ’n groot aantal romans (hoofsaaklik in Duits, maar ook in Afrikaans) tot gevolg gehad het. Ook historici het nie op hulle laat wag nie. Tot om en by die jare sestig van die vorige eeu is die betreklik groot aantal historiese studies feitlik sonder uitsondering deur Duitsers en vanuit ’n Duitse perspektief geskryf.

Daarna, van die laat 1960’s af, het ’n aantal “linkse” en marxistiese navorsers meer krities gefundeerd en ideologies gerig na die geskiedenis van Duits-Suidwes-Afrika begin kyk. Akademici uit die kommunistiese Oos-Duitsland het argiefmateriaal begin ontgin waartoe hulle Wes-Duitse kollegas nie toegang gehad het nie. ’n Mens dink hier aan name soos Helmut Bley en Horst Drechsler. (Ook Ruth First het oor Suidwes-Afrika geskryf, met haar visier skerp op apartheid gerig.) Daardeur het ’n nuwe blik op die Duitse koloniale geskiedenis moontlik geword, en verbindingslyne is getrek na temas soos die Eerste Wêreldoorlog, die opkoms van die Nazi’s en die moord op die Europese Jode. Ook opvattings oor ras, die behandeling van die inheemse bevolking en die rol van die sending en vele meer is daarby betrek. En nog is het einde niet. Een van die onderwerpe wat skynbaar oneindige aandag geniet, is die verband tussen die koloniale situasie en die latere Nazi-ideologie en -praktyk.1

Teen hierdie agtergrond kom die herdruk van Gerhardus Pool se studie oor die Herero-opstand blykbaar op ’n baie gepaste oomblik. Pool se publikasie is op ’n doktorale proefskrif gebaseer en in die kader van militêre geskiedenis, en is ’n uitstekende stuk werk. Die navorsing is kennelik baie noukeurig gedoen, en bykans elke stelling word deur ’n verwysing na een van die menigvuldige argivale bronne geboekstaaf. Dit is vlot en in puik Afrikaans geskryf en die indeling in hoofstukke volg die gang van die militêre aksies op so ’n wyse dat die leser die soms ingewikkelde gebeure goed kan volg. Altesaam 23 kaarte gee ’n oorsigtelike beeld van troepebewegings en die ligging van die gevegsterrein, die strategiese plasing en bewegings van die opponerende groepe waardeur baie van die skermutselings en veldslae goed toegelig word.2

Die boek lees ten dele byna soos ’n aksieroman met die heen en weer van strydende magte, verkennings, vergissings, blapse en taktiese skuiwe, maar ook die probleme waarmee veral die Duitsers te kampe gehad het, soos die groot afstande, die digte bosruigtes wat beweging van mens en dier, die gebruik van byvoorbeeld masjiengewere, asook gewoon sig erg belemmer het, die chroniese watertekort, uitputting van die troepe en hulle perde en trekosse en, les bes, siektes soos tifus en malaria – wat alles tesame onbeskryflike eise aan die strydmagte gestel het. Maar alles beweeg dan tog meedoënloos en skynbaar onafwendbaar voort na die groot konfrontasie, die deurslaggewende slag by die Waterberg op 11 Augustus 1904, met die genadelose agtervolging in die woestyn tot in Oktober as ’n grusame epiloog. ’n Mens is byna geneig om hier in terme van die bou en onvermydelike konflik van ’n Griekse tragedie te dink. Tog was dit mense en menslike beweegredes en besluite, en nie die gode of die blinde noodlot nie, wat hier beslissend was.

Die narratief volg die gebeure uiteraard vanuit ’n Duitse invalshoek, aangesien daar haas geen geskrewe verslae van Herero-kant bestaan nie. Nietemin verkry die leser tog hier en daar inligting wat ’n mens laat besef dat jy versigtig moet wees met voorafingenome opvattings en stereotipes wat deur die bril van die Duitse betrokkenes en beriggewers van meer as ’n eeu gelede dikwels die alte subjektiewe en ideologies verwronge voorstelling van die teenstrydige groepe as objektiewe waarheid laat verskyn.

So is daar in die Duitse weergawe ’n duidelike swart-wit tekening waarvolgens die Duitse troepe dikwels groot heldedade verrig en groot moed en uithouvermoë aan die dag gelê het, terwyl die Herero’s as verraderlik, slinks, onbetroubaar, primitief, dikwels barbaars bestempel word. Pool is hier egter versigtig en poog om eensydige oordele te vermy. Uit sy studie word dit duidelik dat die opperhoof Samuel Maharero voor die uitbreek van die opstand ondubbelsinnig opdrag gegee het dat slegs Duitse mans omgebring moes word: vroue en kinders, Boere, Engelse en sendelinge se lewens moes gespaar bly. Dit was ’n bevel wat deur die oorgrote meerderheid van die Herero’s gehoorsaam is. (Kyk bv ble 91, 92, 106 en 112.) In teenstelling met hierdie (as ’n mens wil) beskaafde oorlogvoering is dit juis die Duitse bevelhebber, genl Lothar von Trotha, wat in sy berugte Vernichtungsbefehl (uitdelgingsproklamasie) van 2 Oktober 1904 geen genade of toegewings aan weerlose lede van die reeds gedemoraliseerde Hererovolk toon nie, soos waar hy onder meer verklaar:

Alle Herero’s  moet die land (Suidwes-Afrika) verlaat. As hulle dit nie doen nie, sal ek hulle met kanonne daartoe dwing. Binne die Duitse grense sal elke Herero met of sonder geweer, met of sonder vee, doodgeskiet word . Ek herberg nie meer vrouens en kinders nie. Hulle moet óf na hul volksgenote terugkeer óf daar word op hulle geskiet. (Pool, bl 246)

Verder is dit duidelik dat die inheemse volk met oorgawe, groot vasberadenheid en moed vir hulle vryheid geveg het en die Duitse magte telkens met verrassende hinderlae, strategies slim bewegings, groot kundigheid van die terrein en blitsvinnige bewegings beïndruk het. Tog was hulle – meesters van die guerrillategniek van hoë beweeglikheid, lae sigbaarheid en skielike, verrassende aanvalle – ten slotte nie opgewasse teen hul vyand se tegnies superieure wapens en ander hulpmiddels van die moderne oorlogvoering nie, wat ’n skamele tien jaar later op Europa se slagvelde op groot skaal aangewend sou word en soveel bloedvergieting sou veroorsaak: telegrafie, heliografie, die spoorweg (al was dit beperk), masjiengewere en artillerie.

Boonop kon die Duitsers op periodieke troepeversterkings en aanvulling van materiaal staatmaak, terwyl die Herero, afgesien van die aanvanklike verrassingsaanvalle, meestal op die vlug was en maar min opsies tot hul beskikking gehad het. Boonop is hulle bewegings dikwels belemmer deur die beestroppe, en later ook deur die vroue en kinders, wat hulle vergesel het. Uit die staanspoor was die stryd dus in werklikheid eensydig, en oor die uitkoms was daar seker nooit werklik enige twyfel nie. Nogtans was die bitter einde, die barbaarse “totale oorlogvoering” en die byna volslae vernietiging van die Hererovolk en sy kultuur en sy degradering tot ’n landlose proletariaat nie die noodsaaklike en onvermydelike uiteinde van die konflik nie.

Die meeste van bogenoemde feite is wyd bekend en ’n mens moet jou afvra waarin die waarde van Pool se boek geleë is, afgesien van die nougesette uiteensetting van die gegewens van (hoofsaaklik) 1904. Die Herero-opstand het immers in 1979 reeds vir die eerste keer verskyn en blykbaar is die heruitgawe van 2016 ’n onveranderde oorname van die oorspronklike. Dit was weliswaar, soos reeds vermeld, ’n deeglike stuk navorsing wat nog tien jaar ná sy publikasie deur ’n Duitse studie oor dieselfde onderwerp vir sy bruikbaarheid as ’n onpartydige weergawe geloof is.3

By sy eerste verskyning was die Suid-Afrikaanse regering onder PW Botha nog by die “grensoorlog” teen Swapo betrokke en Namibië sou eers heelwat later onafhanklik word. Só baie het intussen gebeur, en die geskiedskrywing het ook nie stilgestaan nie. ’n Gesprek of beskrywing van ’n geskiedkundige gebeurtenis verwys tog steeds, hoe implisiet ook al, na ’n groter konteks en is dus altyd ook gerig op die hede. Pool is deurgaans uiters versigtig met stellings wat na waardeoordele mag klink, maar selfs ’n militêre veldtog hang kennelik nie maar net in die lug nie, veral nie wanneer dit so fundamenteel ingryp in die hele maatskaplike en politieke stelsel van ’n land soos in die geval van die Herero-opstand nie.

Pool sluit sy studie af met ’n hoofstuk oor die ekonomiese gevolge van die opstand vir die blanke gemeenskap wat met ’n lakoniese opmerking eindig (ble 281 ev):

Die opstand het egter nie net ekonomiese nadele gehad nie; dit het ook ekonomiese voordele opgelewer. Seker die vernaamste was dat die Herero nou verplig was om tot die algemene arbeidsmark toe te tree. Hy moes nou ook ander werk doen as bees oppas en hy moes gewillig wees om oral in Suidwes-Afrika te gaan werk. Dit het mettertyd die arbeidsposisie in die land as geheel aansienlik verbeter.

Hierdie slotsom spreek boekdele oor die ideologiese blindheid van hierdie benadering tot geskiedskrywing en sy onwilligheid, of dan onvermoë, om gegewens krities te beskou en standpunt in te neem. Maar dit was 1979. ’n Behoorlik inleidende voorwoord wat die groter konteks verhelder en veranderde standpunte en ontwikkelings rondom die gebeure van 1904 krities toelig, sou van baie groot waarde (of dan: noodsaaklik) vir ’n relevante heruitgawe gewees het.

Eindnotas

1 Om een voorbeeld van vele te noem: David Olusoga en Casper W Erichsen, The Kaiser’s Holocaust: Germany’s Forgotten Genocide and the Colonial Roots of Nazism. Londen: Faber, 2011.

2 Daar is een taalprobleem wat hinder: die Duitse woord Truppe is ’n versamelwoord en beteken min of meer “troepemag”; dit word nie soos die Afrikaanse troep in die sin van “soldaat” gebruik nie.

3 Walter Nuhn, Sturm über Südwest. Der Hereroaufstand von 1904. Ein düsteres Kapitel der deutschen kolonialen Vergangenheit Namibias. Koblenz: Bernard & Graefe, 1989.

Gunther Pakendorf is medeprofessor emeritus aan die Skool vir Tale en Letterkundes van die Universiteit Kaapstad en buitengewone medeprofessor in die Departement Vreemde Tale aan die Universiteit Stellenbosch

The post Die Herero-opstand 1904–1907 deur Gerhardus Pool, ’n resensie appeared first on LitNet.

Viewing all 21784 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>