Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21535 articles
Browse latest View live

Penis-aanbidding (Phallic worship)

$
0
0

So oud soos godsdiens is, so oud is penis-aanbidding.  Vrugbaarheidseremonies was sentraal tot omtrent al die paganistiese godsdienste, met die stywe penis verteenwoordig in die vorm van houtpale, steenpilare, regop rotse en selfs rotse in die vorm van ’n penis uitgekerf.  Voor Islam, was penis-aanbidding algemeen in Arabië.  Die penis is in kerktorings, veral in Oos-Europese kerktoringkoepels en moskees se minaret-koepels tot vandag duidelik sigbaar. Tesame met penis-aanbidding was die dildo deel van primitiewe seksuele gebruike. ’n 28000 jaar oue dildo is onlangs in Hohle Fels-grot in Duitsland gevind.  Die penis was algemeen in Pompei, met selfs straat-aanwysers in die vorm van ’n ereksie.

In die OT was penis-aanbidding deel van die afvallige aanbidding van die Jode, welke aanbidding Salomo goedgesind was, tot sodanige mate dat hy twee losstaande pilare (wat andersins geen doel gedien het nie) voor die temple opgerig het asook vele ander in verskeie dele van sy land.  Daar was selfs kamers in die tempel beskikbaar gestel waar vrugbaarheidsprostitusie deur manlike en vroulike hoere in die tempel gepleeg was.  Dit was op ’n stadium so erg dat die Bybelse God gesê het dat Jerusalem erger was as Sodom (Esegiël 16:46 – 52).  Hierdie God het selfs gekla dat van die tempel se goud en silwer gesmelt was om dildo’s te vervaardig vir gebruik (Esegiël 16:17,18).

Hoekom was die stywe penis van soveel belang vir ons voorouers?  Sonder ’n stywe penis was penetrasie en bevrugting van die vagina onmoontlik.  Bevrugting was van primêre belang vir die primitiewe mens.  Daar was ’n gevoel van veiligheid in getalle.  Hoe vrugbaarder ’n man was, soveel te meer is hy bewonder.  Die steriele eunuch is met afsku en minagting bejeën en kon nie koning word nie, juis omrede hy nie ’n volgende geslag kon wek nie.  Hoe groter ’n ereksie, hoe groter die bewondering van die primitiewe mens vir sodanige man wêreldwyd.  Die antieke Grieke het Pan en Priapus as voorbeelde gehad.  Vandag is die mens nie anders nie.  Manlike pornsterre word gekies onder diegene wat besonders groot bedeeld is, en ’n ereksie vir ’n lang periode ononderbroke kon handhaaf.

Omrede die antieke mens geen antwoord vir erektiele disfunksie (impotensie) gehad het nie, die dat hy ‘n ereksie as goddelik aanbid het in sy bevrugtingseremonies. Vandag is daar medikasie wat sodanige probleem oorbrug, en op sy ergste, ’n inwendige penis-prosthesis om ’n ereksie te verskaf.  Met die oorbevolking het die drang na vrugbaarheid afgeneem tot sodanige mate dat die mensdom nie skroom om gesteriliseer te word nie.  Die dildo bly steeds ’n plaasvervanger van die stywe penis tot vandag toe.  Bewondering van die penis het ook nie afgeneem nie.

 

The post Penis-aanbidding (Phallic worship) appeared first on LitNet.


Los die mier

NB-Uitgewers-huldeblyk: In memoriam, Johan Smit (1943-2016)

$
0
0

Die bekende Christelike skrywer Johan Smit is op Vrydagoggend die 11de November 2016 in die ouderdom van 73 ná ’n stryd met kanker oorlede.

Johan Smit was van 1976 tot 1983 predikant by die NGK Belville-Oos en van 1983 tot 2001 by die Helderberg-gemeente in Somerset-Wes, waar hy tot met sy dood gewoon het.

Sedert sy aftrede was hy voltyds besig met skryfwerk. Hy het al tientalle boeke oor ’n verskeidenheid onderwerpe gepubliseer.

Volgens Danny Fourie, ’n vriend van Johan en voormalige uitgewer, sal Johan ook onthou word vir die talle Bybelstudiekursusse wat hy vir Bybelkor geskryf het.

"Johan was vir baie jare ’n aktiewe medewerker van Kerkbode en LiG. Ná sy aftrede het hy sy skryfwerk by verskeie uitgewers voltyds voortgesit. Oor die jare heen het tientalle van sy publikasies gelowiges in hul geloofsgroei en Christelike lewe help ontwikkel.

"Die vriendelike en nederige geaardheid van Johan Smit sal allerweë in kerklike kringe maar ook in die skrywerswêreld gemis word," aldus Fourie.

Susan Jordaan, uitgewer van Lux Verbi, betreur sy heengaan en het namens Lux Verbi en NB-Uitgewers meegevoel met sy naasbestaandes uitgespreek.

Johan word oorleef deur sy vrou, die bekende Christelike skrywer Nina Smit, en hul drie kinders, skoonkinders en kleinkinders.

The post NB-Uitgewers-huldeblyk: In memoriam, Johan Smit (1943-2016) appeared first on LitNet.

RSG Kunstefees 2016: Volledige program

$
0
0

Die RSG Kustefees 2016 het reeds afgeskop! Hier is nog inligting.

RSG Kunstefees 2016 spog vanjaar met 18 debuutwerke, waaronder dramas oor geskiedkundige figure soos Sarah Baartman en Beyers Naudé.  Dit is die vierde radiokunstefees op RSG.

Onder andere deel twee van Suid-Afrika se Grammy-wenners, Wouter Kellerman en die Soweto Gospel Choir, die verhoog in ’n spesiale feeskonsert, en drie kort komiese radiodramas uit die pen van die bobaas-storieverteller Jan Spies gaan die luisteraars se lagspiere prikkel.

Die bekroonde radiokunstefees sal duur tot Vrydag 18 November en is dus weer ses dae lank.

Hier is die volledige program van vanjaar se fees, wat op die 13de November 2016 afgeskop het.

 

The post RSG Kunstefees 2016: Volledige program appeared first on LitNet.

Death of a ladiesman

$
0
0

Death of a ladiesman

Poetry is a verdict, not an occupation.
– Leonard Cohen

My troebel liefdesverhoudings
sinkopeer met jou droomvervloeide songs.
Eers swart langspeelplate wat dralend
'n vaarwel toeroep aan Marianne
en versug na daardie Suzanne;
dan later grys tapes wat frommel
en breek van te veel rewind tot CD's met helder klankopnames
waarop ons dans tot aan die einde, die einde ...
Jou walse word my walse
in die Toring van Sang.
Daar was 'n kraak in alles,
maar dis hoe die lig
kon deurbreek,
word die kuur, 'n devies.
Vele vasalle hang jou aan,
my gedig net 'n calque
van woorde tydloos.
Lui die klokke wat steeds kan lui;
vergeet van die offergawe perfek.
Ek groet jou, meneer Cohen,
haal my fedora af vir jou:
eenmalige digtersanger
van die mankolieke woord
met jou wonderskone, subsoniese stem.

The post Death of a ladiesman appeared first on LitNet.

Jitsvinger, die argitekbek, by die WAT

$
0
0

Jitsvinger (foto: kykNET en YouTube)

Quintin Goliath is 'n rymkletser, skrywer en musikant wat in die bedryf as Jitsvinger bekend staan.  Hy is op 18 November die gas by die volgende Woordpret van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Die Burger (15 September 2016) skryf soos volg oor hom:  Woorde is sy kos. Hy rits woorde af teen 'n tempo wat jou kop laat swymel. Sy tong is los en hy noem homself 'n argitekbek. Die beelde wat hy gebruik is vars en oorspronklik.  Jitsvinger sê: "Ek is verbaas as mense sê Afrikaans is dood. Eintlik gaan dit oor die mense self en nie oor die taal nie."

Ook op die program is die bekendstelling van die nuwe platform vir die Aanlyn WAT.

Koelenhofkelder (die tuiste van die WAT se Sluk jou woorde-wynreeks) sal van hul uitsoekwyne kom bekendstel.  Wyn, sap en ligte verversings is vanaf 12:30 beskikbaar en Jitsvinger kom om 13:00 aan die beurt. Die program duur ongeveer 45 min. en sal dus voor 13:45 ten einde loop. 

Kaartjies kos R30.  Skakel Cecile of Tanja voor of op 16 November om teleurstelling te voorkom by 021 887 3113 of kontak die WAT by wat@sun.ac.za om u sitplek te bespreek.  Daar is sitplek vir slegs 50 persone. Die Buro van die WAT is geleë in Banghoekweg 115, Stellenbosch. 

The post Jitsvinger, die argitekbek, by die WAT appeared first on LitNet.

Oor Jans Rautenbach se Jannie Totsiens

$
0
0

Erkenning aan kykNET vir die foto uit die film Jannie Totsiens

"Waarom het Afrikaners in 1970 nie die betekenis van Jannie Totsiens verstaan nie?" Dis 'n vraag wat aan Jans Rautenbach gestel is.

Sy antwoord was: "Afrikaners verstaan vandag nog nie die betekenis van Jannie Totsiens nie."

Die antwoord is eintlik akademies. Want Afrikaners het dit nog nooit gesien nie, wat nog te sê dit verstaan - nie in 1970 of in 2016 nie. Dis 'n legendariese fliek, maar ek sal verbaas wees as daar as vyfhonderd mense vandag nog lewe wat Jannie Totsiens gesien het – een van die grootste Afrikaanse flieks wat ooit gemaak is.

Die basiese storie is 'n fantasie: Iewers êrens is 'n inrigting vir sielsiekes. Almal in die inrigting, die versorgers en die versorgdes, is Afrikaans. Daar is 'n string onwerklike karakters: 'n Afrikaanse Hitler (Don Leonard), 'n heks met voorspellings en Bybelverse (Hermien Dommisse) en 'n jong nimf wat met poppe speel en oë uitsteek (Katinka Heyns).

Foto van toneel uit Jannie Totsiens: verskaf

Die fliek begin met die woorde: "Daar's 'n vreemdeling in ons midde" - en wys dan hoedat almal se koppe terselfdertyd draai na dieselfde ingang. Ná wat voel soos 'n ewigheid van afwagting stap Jannie (Kobus Rossouw) by die deur in, 'n nuwe inname in hierdie wêreld. Wat hom skort bly 'n raaisel, hy is skynbaar stom en praat nie.

Hul reaksie teenoor hom is suspisie wat fassinasie word; 'n liefdesdriehoek, ‘n drang vir sy aandag; tragedie en uiteindelik 'n komplot om hom te vermoor.

Sensories is dit ongetwyfeld een van die rykste flieks in Afrikaans - die visie van Jans Rautenbach op sy kruin saam met die kuns van 'n jong Wendy Malan en Hans Potgieter teenoor 'n klankbaan van ou Afrikaanse volksliedjies:

"...bobbejaan klim die berg om die boere te vererg ..."

"... met 'n mooi ryperd, 'n blinkvosperd met 'n spliternuwe saal ..."

So wat op aarde beteken dit alles?

Foto van toneel uit Jannie Totsiens: verskaf

Dis 'n fliek van vermoëns - 'n kunstenaar verbete om te wys wat hy in sy taal kan vermag - maar 'n verhaal van onvermoëns. 

Jannie Totsiens het gevolg op die hakke van twee groot landmerke in Afrikaanse flieks: Die Kandidaat (1968) en Katrina (1969). Jans het later van Jannie Totsiens gepraat as die derde van 'n trilogie oor Afrikaanse introspeksie.

In hierdie konteks was dit 'n metafoor vir 'n afgeslote gemeenskap (die Afrikaners) wat 'n kranksinnige klankbord vir mekaar geword het, en die intellektuele onder hulle wat stom gebly het.

Maar Jannie Totsiens was in sekere opsigte anders as sy die twee voorlopers. Die fliek het 'n universele gevoel en bruis van arrogansie, van die gevoel dat die kat weg is en die muis baas is. Vir een maal op aarde is daar geen kommersiële oorwegings nie. 

En daar is 'n baie private Jannie Totsiens.

Foto van toneel uit Jannie Totsiens: verskaf

Jans se oudste broer was 'n erg gestremde kind - fisies en verstandelik - met die naam Uysie - en het gesterf  terwyl Jans nog 'n kind was. Ná sy dood het dit Jans se taak geword om een maal 'n week, op Woensdae, na Uysie se graf te stap met 'n emmer, vars blomme en 'n waslap om sy broer se graf skoon te maak.

Hierdie weeklikse stap van etlike kilometers sou 'n enorme invloed op sy vorming hê. 

"Ek het 'n palmstok opgetel. Daardie stok was my motor, of my vliegtuig, of my skip. In die gang van my reis met my stok het ek mense ontmoet en heldedade verrig; ek het kinders gered wat in die moeilikheid was; ek het wêrelde ontdek waar goud en juwele opgestapel was; ek was 'n seerower op die oseaan; met my palmstok het ek vooruit gevlug en niemand kon my vang nie.

"By die begraafplaas het ek die stok gebêre en Uysie se graf skoongemaak en water ingegooi en tussen die ander grafte deurgedwaal. Daar was pragtige grafstene met marmerkopstukke, engele wat staan, afgekapte boomstompe wat simbool was van 'n lewe wat vroeg geëindig het. Daar was ornate grafte wat kluise en huise was. Hierdie grafte het vir my stede geword, en strate en dorpe waarin ek mense besoek het en ontvang is.

"Later het ek besef dat hierdie wêreld eie aan myself was. Ek het nooit vir die ander kinders daarvan vertel nie. Ek het gedink hulle sou dink dat ek mal of kinderagtig was."

Jans het hierdie droomgeboorte van hom bo alles gekoester en lewenslank sy lang motorreise tussen Johannesburg en die Klein-Karoo met my palmstok vergelyk.

Foto van toneel uit Jannie Totsiens: verskaf

Wat het dit alles met Jannie Totsiens te doen?

Jannie Totsiens, die geheime Jannie Totsiens, was die droomwêreld van Uysie se begraafplaas wat uiteindelik, soos 'n teaterstel van onder opgereis het vir die wêreld om te sien. 

Maak nie saak of die ander kinders dink dat ek mal of kinderagtig was nie.

Ek noem dit 'n storie van onvermoë, omdat dit wys dat droomwerelde vergestalt kan word, maar ook dat dit moet eindig. Die "Totsiens" van Jannie Totsiens is daardie erkenning. 

Ons lewe tussen ons drome en ons werklikheid.

*

My pa is voorverlede week oorlede. Hy was nog vol planne vir sy volgende fliek. Ek het deur sy laaste notas gekyk en op een plek het hy geskryf:

"Ek is weer kind wat die winterwasem op die treinkompartement se ruit wegvee om te kyk na die kou van 'n vroegoggend wat verbyvliet."

"'n Ouman met slepende bene, skietende pyne, verstopte are, verkalkte verstand."

"Kan jy ooit iets sê wat nog nooit gesê is nie?"

Jans Rautenbach, 1936 - 2016 

The post Oor Jans Rautenbach se Jannie Totsiens appeared first on LitNet.

In the flesh

$
0
0

Helder oornag het hy aan haar verskyn in die spreilig wat hoër op blou word voor dit poeierwit in ’n verblindende stralekrans oorgaan. In die helder naglig, in die skerp spreilig soos ’n projektor in haar tuin. Hy het na haar aangestap gekom, die man van dekades gelede, presies soos sy hom onthou.

Om oor hom te praat, sou na al die jare heiligskennis wees. Dit was genoeg, die wete dat hy nooit weg of dood was nie en maar altyd daar was. Woorde verloor waarde en energie. Woorde gee af; woorde raak moeg, langsamerhand, en beroof van eie handeling. Heelwat later het sy hom liefgehad soos ’n vrou haar vader wat met die verslaentheid van die noodlot self bly staan en nie wankel nie, eensaam soos ’n rots as laagwater daaraan lek.

As jong kind het sy hom probeer skets. In haar hand het die potlood lewend geword en sy het hom gevorm: die sidies, die sywortels aan die slape. Sy wou hom vertolk, ja, sy wou hom vertaal; sy wou hom toonset en hom beeld en omvorm – sy wou hom volkome besit. Soms was hy ’n mot, ’n ou man gegewe háár jeug. ’n Mot as die lig skokwit daarop skyn, sluimerend voor die gordyn oopgaan en die soeklig van die dag soos ’n oomblikfloute val. In haar verbeelding was hy stekelrig met opslaghare in die gesig en ore en nek. Haar pa: die blinde, bejaarde mot. Dan het die beelde begin verdring en het sy ’n ou hond in ’n skut gesien.

Al die ander kinders in die skool behalwe sý het ’n pa gehad. En sy het begin fabriseer. Haar pa het in die korporatiewe sektor gewerk. Hy was nie in die weermag of staatsdiens nie, haar pa was anders. Dit was die onstuimige ‘80's met sy politieke onrus, diensplig en skoolkadette. Die kinders het grootoog geluister, want sulke eksotiese woorde het hulle nog nie voorheen gehoor nie. Telkens, en so vinnig as wat ’n vader uit haar drome vertrek het, het sy hom vervang en opgedis soos ’n vernuftige verteller of verkoopsdame.

Later het sy nie meer geweet waar waarheid of leuen of fantasie versny nie; ook het sy nie rekening gehou met die vele kopskuiwe van spontane dissosiasie nie. Dalk was haar pa die Jood, die skraal, stil man met die skerpsinnige gesig soos dié van ’n valk. Die ontspoorde wetenskaplike. Sy eie lewe en geliefdes het sy eksperimente geword. Sy sou leer om blitsvinnig die Soda Stream se silinder los te skroef en die gasbuis tussen die plante in te slinger.

Terug in die donker huis was die meubels skemer en stroef, want die fel lig het die Rhodopsin-plaatjies in haar oë gebleik terwyl hy gryns oor sy gemodifiseerde huishoudelike bom en die wrede poets op sy gesin. In die verbygaan het sy bottel Coke gestaan en sy onthou die siddering van die koolsuurgas, die sjuuuuut in die bruin skuim – en die Grand-Pa wat korsies om sy mondhoeke gebrand het.

Hierdie pa is volgens sekere rekords in die negentigerjare dood in ’n operasie waartydens die regering fisici afgevaardig het om kernafvalstowwe op te ruim. Heelwat later kon sy onthou dat haar oë met tyd buitengewoon ligsensitief geraak het en dat dit die pa was wat sy eerstehands doodgeskryf het in sy laboratorium in 1982, waar hy met ’n sadistiese grinnik in sy wit jas in haar kamera kyk – sý fokaliseer en hy speel in haar fiksie, die versteurde alchemis met sy wanaangepaste gipsglimlag op foto's. Wie was hy? Sy oë altyd rooi van die wynsteensuur, en dieper, onsigbaar vir die lens: die chroniese erosie van die maagwand. Op die laaste foto was hy weer hoog, sy plofstowwe en drade en wekkers soos speelgoed verstrooi in die garage.

Die Jood se pa, op sy beurt, het ’n tatoe op sy linkervoorarm gehad, die yk van ’n Messiaanse uitverkorene wat die res van sy lang lewe gewroeg het met survivor's guilt. My father moved through dooms of love.

Hy was die filosoof met die weerbarstige stap en vinnige fleks van spiere en trane. Die blonde pa met die Nazi-affiliasies en vreemde goue oë, uit dieselfde palet as sy haarkleur. Unheilig. Vir dekades lank sou hy sy kop verskans in kennis en grade en ander drome om van die lewe te ontvlug. In Pretoria-Oos-begraafplaas lui die eenreëlige epitaaf onder sy naam: “Wie kennis versamel, versamel smart – die Prediker.” Die reën se krale het bly ryg, die blink rygstringe oor die dooies se niemandsland, maar grafgrond genees nie. Die marmer spoel skoon en glim in die son wat opnuut die nuwe onkruid voed.

Dan was daar ook ’n derde pa, ’n onwaarskynlik keuse. Hierdie pa het sy versin een leë vakansiedag in ’n blou verekleed van rook en neerslagtigheid met Pink Floyd in die speler. Wat sy naam was, sou haar ontgaan, maar hy was ’n offisier. Want daar was die militêre begrafnis met soldate se bene wat snip soos skêre op die maat van die musiek, die choreografie van die dood. Sy kis toegedraai in ’n landsvlag – uiteindelik offer genóég – voor dit in die grond afgesak het. Maar hier bleik die Rhodopsin-plaatjies in haar oë die memorie aan die oorsaak van sy dood donker. Die skietvoorval. Sy was klein en min mense het die waarheid geweet. Haar vingers het sweterig gegly oor die Magnum se greep en sy het op die man met die belt in sy hand bly vuur. Haar binne-oog sou uitzoem na die spieël en die skerwende spinnerak wat geheimsinnig en vlymdun aan sy eie gewig gehang het – dit het 'n volle vyf sekondes geduur – voor dit bloedstollend neergekletter het op die teëls. Die kleiner, gebarste sterre in die ruite en spieëls het nie verbrokkel nie. Nee, die kleiner webbe was sterker. Sy sou swaar haar bene uit haar heupe voortforseer en struikel tot by die patriarg, waar hy in haar arms gesterf het, sy oë die kleur van leiklip, sy laaste asem ’n bloedborrel op die onderlip. Dan het die vergeet weer gekom soos ’n kamera se uitdoof oor ’n toneel, maar sy het die bloed en spieëls onthou. Die sikloop in haar, die derde oog, kon nog nie onverskrokke genoeg fokus nie, en sy wou skryf, sy wou fokaliseer ...? Nou het haar kussingslope haar biegvaders geword snags, en slaap die ontvlugting. Tanatos en Hipnos is tog tweelingbroers, Hipnos is net die saggeaarde een.

As die nag sy kwesplekke blootlê, het sy opgestaan en vir ure op genealogiewebwerwe rondgeswerf, aandagtig gestaar na die trotse stambome en -vaders, die befoeterde, arrogante gesigte met die lang baarde. Sy het die families beny, soos die klein en redelik homogene Labuschagne-familie wat nasate van die Dorslandtrekkers is. Van die familievaders was kartograwe, juweliers, krygsgevangenes, matrasmakers (die Moll-familie), of bloot wandelende Jode en matrose wat die land opportunisties binnegesluip en -gesmokkel het. Haar vriende het al meer begin belang stel in hulle stamgeskiedenis – weliswaar meer mans as vroue – en sy het geweet: ’n man raak oud wanneer hy bewus raak van sy stamboom. Die moederboom wieg en sterf van bo na onder toe af, want die wortelstelsel se hart wroet nederig en na aan die aarde. By tye het die blonde pa met die selfopgelegde Weltschmerz en die obskure Jood kataklismies versny in ’n moedermik hóóg op getak, en sy het gelag oor die paradoks wat niks meer as ’n kontradiksie kon wees nie. Hoe graag sou sy nie haar oorlede skoonvader wou ontmoet het nie, maar tyd verskiet in jaarringe soos konsentriese sirkels.

Vir jare aaneen, die scrapbooking wat sy beoefen het, ’n klandestiene aktiwiteit, want wie sou kon droom dat sý met die voorgee van ’n hardgebakte sinikus prente en kuriogoetertjies knip en plak? Soos ’n skooldogter wat die opstel van haar lewe verfraai. Tog was dit bisar – sy het haarself betrap dat sy foto's van onbekende vaders van die internet sou aflaai en redigeer tot oënskynlike pa-en-dogter-foto's. Soms het sy gelag, die wrang lag van selfironisering oor die identiteitsdiefstal waarmee sy besig was. Sentimentaliteit was nooit deel van haar mondering nie.

Tussen al die fiksies het sy wel reële dokumente gelas. Die inlas se afwesigheid het gestalte kry. Van die brief wat haar blonde pa vir haar geskryf het toe sy sewe jaar oud was, het sy ’n kleurkopie gemaak. Sy kon haar opnuut verwonder aan sy Victoriaanse skrif, die dubbelkrul by die “liewe” ... o, die verleiding van skrif! Die naskrif wat bly talm en haar terugroep … die rankerige voetnote en asteriske.

Sy het dikwels sy briewe herlees. Was daar nie méér agter sy woorde nie? Was sy verdwyning, wat later permanent geword het, dalk te wyte aan ’n fatale uiteinde, soos selfdood? Het hy nie lank gelede reeds sy eie dood getermineer nie?

Die ambivalensie het verdiep en sy kon sy stem hoor roep uit die argiewe van ou dokumente, en sy het geweet dat sy nooit sou versadig aan die melankolie om hom lief te hê nie. Sy het sy ongepubliseerde gedigte versigtig versteek met die troos dat die verlore kanon nie noodwendig apokrief is nie. Die los velle het gebrand in haar keel. Die sellulose in die papier het begin disintegreer soos ou drome, die lewende waak oor ’n geliefde in die buitewyke van ruimte en tyd. Dit was die wetenskaplike-pa vir wie sy bang was. Hy het sy stilte om hom gedra soos ’n ou, muwwe jas – of ’n kaal ysigheid, afhangend van in watter toonkleur sy swye sou sing. En hy was behoedsaam; het geplot en nie beplan nie, en in sy vrye tyd sy vyande getakseer vir swak skakels voor hy met ’n kil geduld sou wag. Hy het in die onderwêreld van die internet hacking-sagteware afgelaai en nagte aaneen rugwaarts versink in sy swart, magnetiese stilte, sy pynpoeier ’n helder vlam in die gees.

Tyd het gekom in al sy glorie, en sy het in haar kinders begin glo soos in ’n skepper. Bedags het sy vir lang wandelinge gegaan en die blare van eikebome opgetel. Dit was rooi en goud en koninklik, ook in vorm, en as sy fyn geluister het, kon sy die wind se draalgang hoor, of die geskarrel van skor blare, of die sweefgang van ander poeierklanke – sy het vermoed dat ook die wind ’n pedaal van sy eie had. Hoër op die botone van ver voëls. Sy het begin glo, noudat alles agter haar was, want oorgawe is lig, niks by te voeg of weg te laat nie. Die bagasie van ’n bejaarde is weerloos. Sonder besit is daar geen afskeid of skeiding of herinnering nie. Die begin en einde ontmoet, herrangskik die telraam van atome tot die binding van molekules. En die stof neem die vorm aan van ’n mens.

Helder oornag was hy daar. Sonder herkoms of identiteit – hy wás net. So dikwels het sy gedroom oor die herontmoeting, hoe sy met ’n ouwêreldse vroulike tirade vorentoe storm, ’n gilletjie los en met ’n Victoriaanse vloermoer hom klap met reguit, gepeitste vingers, maar reeds weet hoe sy gesig sou verstrak met ’n effense swik van die kakebeen, en hy sou sy oë stadig knip, die pupille ’n aks donkerder. Waar was jy al die jare? kon sy hom toesnou, maar die nawoord swyg. Dit word sterfkennis. Hy het nader gestap tot in haar gesigsveld, en ligweg gesê: “Kom, ek het kaartjies vir ’n middernagvlug vir twee teen halfprys gekry.” Of, sy kon die slot deurhaal en ’n ander uitgang bewerk. Want na alles het sy getreur asof dit reeds verby was, ’n glimp van ’n eie persoonlike apokalips. Maar niks van belang nie, soos die sagte knettervuur van die toetsbord onder haar vingers: Pappa slaap uit vir werk vanaand.

The post In the flesh appeared first on LitNet.


Boekresensie: Vergete leuens deur Lien Roux-de Jager

$
0
0

vergete_leuensVergete leuens
Lien Roux-de Jager
Uitgewer: LAPA Uitgewers, 2016
ISBN: 9780799381092

Lien Roux-de Jager het al al die genres as skrywer ontgin: kinder-, jeug- en liefdesverhale, voor sy by misdaadromans beland het. Sy het ’n wenner beet met haar gewilde karakter, Kalli Krynauw, ’n forensiese psigofisioloog en een van Secret Intelligence Services se staatmakers. Dis die vyfde in die reeks met Donker leuens, Gekoopte leuens, Slim leuens en Onverwagse leuens die vorige vier, waarin lesers dié karakter en haar persoonlike lewe baie goed leer ken het.

Daar is ’n lekker leesritme, wat spruit uit die feit dat die voetwerk om Kalli as karakters by lesers te vestig, gedoen is en dit ’n selfvertroue in die skryfwerk na vore bring.

In haar nuutste saak word sy weer betrek by moorde, ná ’n rapse meer as vier jaar by die huis as ma. Sy wou juis weer iets aanpak om haar brein aan die gang te kry, toe die oproep van SIS kom.

Saam met die span, probeer sy drie moorde in ’n luukse gesellinklub ontrafel. In hierdie proses leer sy wel veel meer van prostitute, van die ingewikkelde en tragiese lewe wat hulle tot prostitusie aanspoor, maar niks wat vir die moordondersoek van waarde kan wees nie. Telkens laat ’n leidraad haar weer in ’n doodloopstraat beland.

Die dringendste vraag is hoe die moordenaar – indien dit dieselfde persoon is – toegang tot dié streng bewaakte klub gekry en weer sy pad na buite gevind het. Dan is daar ook die kwessie van die modus operandi in die eerste en tweede moorde wat soortgelyk is, maar in die derde anders is. Ook die tydsverloop tussen die drie moorde bring sy eie vrae.

Kalli voel ook effe van stryk gebring in haar spesialisveld omdat sy hierdie keer eerder met slagoffers as misdadigers werk en dit moeilik is om hulle klein detail te laat onthou as hulle eintlik net die gesigte en maniertjies van hul kliënte ná elke besoek wil vergeet. Sy word keer op keer genoodsaak om haar taktiek te verander en die vroue as brose slagoffers van hul verlede te benader.

Uiteindelik moet Kalli haar instink volg en aanvaar die raaisel van hierdie moorde lê by die gesellinne, maar om deur hul vrees, woede en angs te breek omdat hulle in die klub soos gevangenes moet bly ná ’n dreigbrief hulle almal se lewens bedreig, is geen maklike taak nie.

Haar geselsies lei haar uiteindelik na ’n wêreld van kindermolestering en die afskuwelike gevolge daarvan.

Hierdie keer besef sy ook dat nie net haar veiligheid is wat op die spel is nie. Haar klein dogtertjie is weerloos; sy moet beskerm word en Kalli moet na haar eie veiligheid ook omsien. Sy wil nie haar kind sonder ’n ma laat grootword nie.

Agter in die boek verwys die skrywer na haar bronne en bedank ook die forensiese psigofisioloog Mariana en speurder André vir hul hulp en raad tydens die skryfproses. Die hoeveelheid navorsing wat hierdie boeke verg, is duidelik in die deeglike dokumentering van die leidrade en hoe die span by hulle uitkom. Dis logies en vloei gemaklik en laat voel die leser asof hy of sy die proses in beelde kan sien, eerder as die paragrawe lees. Dis ’n talent wat met ondervinding geslyp word.

Die storie begin goed en haak die leser gou, maar sowat ’n derde in blyk dit asof die skrywer effe verdwaal het tussen die vele afdraaipaaie wat die storie met oortuiging kon neem. Dit trap bietjie water voor dit weer momentum kry, maar daarna sit jy in een sitting en maak die boek klaar.

Daar is hier en daar hinderlike herhalings regdeur die boek wat amper die indruk skep dat die leser onderskat word. Dit kon met ’n laaste redigering uitgestryk gewees het, maar die verhaal is steeds boeiend, insiggewend en openbaar ’n diep begrip van seer, veral soos wat die prostitute se hartseer verledes en menslikheid ontgin word.

Die boek staan goed op sy eie voete en bring genoeg inligting na vore sodat die leser nie hoef te voel dat hy iets misgeloop het indien hy nie eerste vier boeke in die reeks gelees het nie.

The post Boekresensie: Vergete leuens deur Lien Roux-de Jager appeared first on LitNet.

Alcatraz

$
0
0

Op ’n verlate eiland
het ek na jou gedelf
maar al wat ek kon kry 
was versteende ghwano
op die vensterbanke
van ’n gepantserde
Alcatraz.

Swart tralies het
jubelklanke toegespin
terwyl die kras van die seemeeue
die bleek uit my irisse steel
en verdwaalde krappe
het sku onder die gruis
van my voete kom teel.

© Anzé Bezuidenhout

The post Alcatraz appeared first on LitNet.

ietermago in verkyker

$
0
0

ie-ie-ie klein oerter
taaiklong
so sonder adam se hulp benoem
enigmaties én erd- en krimpvarkie
(à la die bietjie Derrida)
én skilpadversigtig vir ore én ratel
ystermagou van die boere
noodrooi ter-
term terma nog net-net nie
terminaal   derms so aan eie derma    ma 
gô ja steeds die gô darem
met die droё gorrel –
onmiskenbare afrikaanse
amper verlore géé

Foto: Scott Hurd

The post ietermago in verkyker appeared first on LitNet.

’n droom uit die onderstebo rakke

$
0
0

so opgewonde niks bedaard
sy laat haar een bors plat
soos ’n afrikaanse naguiltjie
’n rukkie in die holte van my hand rus

die administrasienommer van hierdie droom
kom gereeld teen die agtergrond
wat ook die voorgrond is
in chemiese lig pols
dis heel kort ek kan dit met ’n amper halwe kyk onthou
bloot twee romeinse en twee arabiese tekens: LM 14

opgewonde niks bedaard
dit moet ’n item wees
uit die tyd van die ou geslag

The post ’n droom uit die onderstebo rakke appeared first on LitNet.

Die feesmaal

$
0
0

“Ag Here, bring my kind huis toe vir Kersfees,” prewel Lina terwyl sy die hoenderpastei uit die AGA-oond haal. Sy kan nie dadelik agterkom of dit die stoom of trane is wat alles om haar vervaag nie. Versigtig plaas sy die pastei op die tafel neer en vee oor haar oë. “’n Mengsel van albei,” dink sy wrang voor sy haar gesig met die voorskoot afvee. “Geen kos soos ’n ma se kos,” lees sy onderstebo op die voorskoot. Uitgeput soek sy rusplek op die stoel langs die kombuistafel. Die voorskoot was nog ’n laaste geskenk van Herkie voor sy vertrek na die vreemde.

Dis nou reeds ’n jaar gelede dat sy die oproep ontvang het. Hoe goed onthou sy nie daardie dag, drie dae voor Kersfees nie?

“Hallo, Ma! Ek sien Ma Kersfees,” het hy opgewonde gebabbel; nie soos gewoonlik eers na haar welstand verneem nie. “Hoenderpastei en skaapboud vir die Kersete, asseblief Ma,” het hy gesmeek. “Ek is uitgehonger daarvoor!” Die lyn was swak en die oproep gou verby.

Hy het nooit opgedaag nie. Na die oproep was daar net stilte.

En toe kom die lang wag, dink sy en skud haar kop. Moeisaam staan sy op om solank die bestanddele vir die nagereg bymekaar te sit. Die spyskaart word herhaal net soos sy dit vir die vorige Kersmaal beplan het. Al Herkie se gunsteling geregte word met liefde gemaak. Dalk kom haar kind haar die Kersfees verras. Sy glo met haar hele hart hy sal huis toe kom. Herkie het nog altyd sy woord gehou.

Sy weet die familie is vies vir haar. Party dink selfs haar kop het haar verlaat, maar hulle verstaan nie. Hoe kan sy saamgaan see toe? Net dalkies daag haar enigste kind op en dan is daar niemand om hom te ontvang nie. So iets mag nie gebeur nie.

Na haar man se afsterwe was Herkie, skaars uit matriek, haar steunpilaar. Hy wou niks daarvan hoor om die plaas te verkoop nie.

“Net twee jaar, Ma. Gee my net twee jaar om ekstra geld te gaan verdien. Hier is betroubare werkers en bure wat Ma kan bystaan. As ek terugkom sal ons ’n goeie neseier hê om aan te gaan met die boerdery.” So het hy haar omgepraat met die mal idee om in ’n vreemde land sekuriteitswerk te gaan doen.

Ek moes nie ingegee het nie, snik sy.  Diep binne weet sy egter dat sy Herkie nie sou kon  keer nie.  Sy vasberadenheid is iets wat hy van sy pa geërf het. Vies skrik sy uit haar mymering. Hierdie dinkery sal nie deug nie. Daar is nog baie wat gedoen moet word. Haastig begin sy die bestanddele afmeet. Haar kop en hande moet besig bly.

Tog loop haar gedagtes hul eie pad. Die onthou wil nie ophou nie. ’n Paar dae na Kersfees kon sy die weghol gedagtes nie meer verduur nie en het die sekuriteitsmaatskappy probeer kontak. Die gelui van die foon in haar ore het nie opgehou nie. Almal was skynbaar nog met vakansie tot in die nuwe jaar.

2.

Na baie gesukkel kon sy tog daarin slaag om kontak te maak. Met haar Karoo-Engels moes sy vir die mannetjie aan die anderkant verduidelik dat haar kind nie huis toe gekom het nie. Hy was duidelik baie versigtig om te veel te sê. Al wat sy uit hom kon kry, is dat hulle aandag aan die saak sou gee. Empatie met ’n moederhart het hy nie gehad nie. In sulke tye leer ’n ma om van hoop, eerder as kos, te lewe.

Die gedreun van ’n bakkie laat haar gedagtes skiet gee. “Dagsê, Buurman,” groet sy vir Fred van der Merwe toe sy hom op die stoep tegemoet stap. Die buurmanskap strek al oor jare. Herkie en die Van der Merwe kinders het saam-saam groot geword.

“Dag Lina,” groet hy terug, maar wys haar uitnodiging om in te kom van die hand.

“Ek en Lettie wil net hoor of jy nie Kersdag maar wil oorkom nie. Dis nie goed om so alleen te sit nie,” val hy met die deur in die huis.

Moedeloos skud Lina haar kop. “Ek weet julle bedoel goed, maar ek kan nie, Fred. Wat as my Herkie-kind dalk tog hier opdaag?”

“Genade Lina, dis al ’n jaar. ’n Mens kan nie so sit en wag nie. Hy ken die omgewing. Hy sal wel die bure kontak om uit te vind of ons iets weet ...,” begin Fred ergerlik.

Vinnig hou Lina haar hand omhoog. “Ek gaan nie baklei nie, Fred. Ek vra net dat julle probeer verstaan,” smeek sy.

Kopskuddend draai Fred om en stap na sy bakkie toe. “Dan groet ek maar, Lina” roep hy toe hy inklim en met ’n vaart wegtrek.

Hartseer gaan sit Lina op die bankie wat oor die werf uitkyk. Uit gewoonte kyk sy in die pad af.  Sy wens die familie en vriende wil probeer verstaan. Hulle is tog ook ouers. Kan hulle nie besef dat ’n mens se hoop nooit opraak nie?

Kersoggend is Lina voor die hoenders wakker. Vir ’n rukkie luister sy net na die stilte. Dan staan sy haastig op om koffie te maak en aan te trek. Dis asof iets haar vanoggend jaag; amper ’n soort opgewondenheid. “Ek wonder of Maria ook so opgewonde was oor Jesus se geboorte soos ek oor Herkie s’n?” gesels sy met haarself. Sy kan elke oomblik van haar kind se geboorte herroep. “En nou is hy weg.” Dis wat daai Engelse mannetjie vir haar sê. Haar Herkie-kind word vermis. Meer kry sy uit niemand nie. Sy het die oproepe maar later gestaak. Stilte is soms beter as niksseggende woorde. Tog vertel haar verstand vir haar dat iets nie pluis is nie, maar haar hart bly hoop.

Heelwat later gaan sit sy met ’n koppie tee op die stoepbankie. Alles is reg vir haar kind se koms. Sy kan nou maar net wag …

Sy moes ’n rukkie ingesluimer het. Toe sy haar oë oopmaak, is sy vir ’n oomblik verward. Dan fokus haar oë op ’n figuur by die plaashek. Versigtig staan sy op. “Kan dit wees?” prewel sy. Die afstand na die hek is ’n hele paar meter en sy kan nie mooi sien wie dit is nie.

3.

Al hinkend beweeg die persoon nader. Dis duidelik dat hy moeisaam stap. Die afwagting wil uit Lina bars. Sy roer nie.

Na wat soos ’n ewigheid voel, kan Lina die jongman se gelaatstrekke uitmaak. Sy voel hoe teleurstelling in haar hart wil kom nesmaak. Tog bly sy staan.

“Middag tannie,” groet hy uitasem en sy merk dat hy definitief in pyn verkeer.

“Kom sit jongman,” neem haar gasvryheid oor. “Laat ek vir jou bietjie water bring.”

Met haar terugkeer sit-lê hy op die bankie. Hy sluk gulsig aan die water wat sy aanbied en skuif hom effens regop. Langs hom lê ’n bruin kardoes op die bank.

“Is tannie se naam Lina?” vra hy met sy bruin oë angstig op haar gerig. Om een of ander rede kry sy nie geantwoord nie en knik net haar kop. “Ek is Hannes,” sê hy en steek sy hand uit. Sy voel die sweet aan sy hand. Haar eie hand is yskoud, nes haar hart.

“Ek en Herkie het saam gewerk in Irak,” begin hy vertel.

“My kind; waar is my kind?” fluister Lina angstig.

Dis lank stil.

“Vertel,” smeek sy.

“Daar was ’n bom …” begin hy. “ …nie lank nadat hy tannie gebel het nie. Ek het my bewussyn verloor en was vir maande in ’n hospitaal. Ek kon eers heelwat later na Herkie begin soek.”

“Die Engelse mannetjie sê hy word vermis. Hy het niks van ’n bom genoem nie,” fluister sy.

“Dit het buite die basis gebeur. Alles was baie deurmekaar. Hulle weet nou.” Hy bly lank stil.

“Herkie het so baie oor tannie en die plaas gepraat. Ek moes self kom.”

Hy praat nie verder nie; laat net sy oë oor die plaas beweeg. Toe hou hy die bruin kardoes na haar toe uit. Lina se hande bewe toe sy dit neem. Haar moederhart weet. Die houtkissie bevestig haar vermoede.

Sy word eers bewus van haar eie trane toe sy die klammigheid in Hannes se oë opmerk. Lank sit hulle so. Woorde sal nou onvanpas wees. Sy kan later die besonderhede hoor.

Heelwat later staan sy op. “Kom ons gaan eet,” nooi sy hom. Moeisaam kom Hannes regop. Sy been is die stille getuienis van die bom wat haar Herkie geneem het. In stilte stap hulle die eetkamer binne. Versigtig plaas sy die kissie op die kaggelrak. “Dankie dat U hom terug gebring het, Here,” prewel sy voor sy die netjie oor die gedekte tafel afhaal. Haar feesmaal is gereed.

The post Die feesmaal appeared first on LitNet.

A Tribe Called Quest’s first studio album since 1998 and the potency of conscious hip hop

$
0
0

A Tribe called Quest (source: YouTube)

The most important hip hop album of 2016 – and one of the biggest releases of the year – dropped in the same week Republican Donald Trump stunned the world with a surprise presidential victory over Democratic rival Hilary Clinton. This release is significant, because it is taking hip hop back to its roots: a cultural form that addresses the issues of the historically disenfranchised, with the ability to chisel out a space of belonging in a world where many people are made to feel the opposite.

We got it from here … Thank you 4 your service is the first studio album release by legendary hip hop crew A Tribe Called Quest (ATCQ) in 18 years, which in itself is noteworthy. MC’s Q-Tip and Phife Dawg put their apparent ongoing personal rift aside to rejoin DJ and producer Ali Shaheed Muhammad for this recording of the group who originally formed in 1985. Phife passed away in March this year at the age of 45, after recording some of the tracks for the album, with many fans feeling his passing went largely unnoticed in the mainstream media. We got it from here … Thank you 4 your service will thus definitely highlight the talented Phife’s untimely death as well as being the original crew’s last release.

But whether you’re a hip hop-head or not, there are reasons to take note of this album, and its being released in the same week as Trump’s victory, in a year that also gave us separatist, divisive movements like Brexit, makes it all the more relevant.

During this past weekend’s episode of Saturday Night Live (SNL), hosted by veteran comedian Dave Chapelle, ATCQ were the musical guests for the evening. Being the first post-election episode of a show that, in the run-up to the election, had been mocking Donald Trump in the form of Alec Baldwin’s apt impersonation of the billionaire, the show had a subdued tone, even more so with Kate McKinnon (in her now famous Hilary Clinton garb) opening the show with a beautiful rendition of the poetic “Hallelujah” by Leonard Cohen, who passed away at the age of 82 this week.

Although SNL is known for paying homage to departed icons, this was more than a tribute to the talented legendary poet-singer that was Cohen. McKinnon signed off her cold opening with the words: “I’m not giving up, neither should you.” Watching this one might interpret McKinnon’s teary-eyed message not only as the words of her Hillary character, echoing Clinton’s concession speech, but as a sincere message of hope amidst a time of global division and confusion.

Chapelle then launched into a monologue longer than the show’s weekly hosts normally deliver, addressing Trump’s victory and with it the divisions this election exposed within the American society (and one might add the world at large). Said Chapelle: “America’s done it, we’ve actually elected an internet troll as our president.”

But Chapelle was quick to point out that this is not the only problem facing American society, candidly speaking also about this past year’s shootings in the States. The first skit of the episode, “Election Night”, further addressed the disillusionment of many liberal Americans upon realising that many of their fellows might not be as forward-thinking as was possibly their optimistically held belief during the administration of their first African American president.

Enter ATCQ as musical guests with “We the people”, a powerful track reminiscent of old-school, conscious hip hop, and MC Q-Tip addressing the crowd with the words “We are all one” before masterfully spitting rhymes. And then comes the hard-hitting chorus candidly commenting on the intolerance which not only characterised Trump’s campaign marked by inflammatory rhetoric, but in his election as president is consequentially exposed as not being limited to the sentiments of one man alone: “All you black folks you must go/ All you Mexicans you must go/ And all a’ ya’ poor folks you must go/ Muslims and gays, boy we hate your ways/ So all you bad folks you must go.”

This is conscious hip hop at its core.

The ground-breaking scholar on hip hop, Tricia Rose, who was the first to do a major academic assessment of hip hop in her 1994 book Black Noise, observed: “Hip hop is a cultural form that attempts to negotiate the experiences of marginalization, brutally truncated opportunity, and oppression within the cultural imperatives of African-American and Caribbean history, identity, and community.” Ten years later Patrick Neate echoed Rose’s sentiment in the book Where You're At: Notes From the Frontline of a Hip Hop Planet, asking: “In an era of ‘post-democratic’ Western governments, aren’t marginalisation, truncated opportunity and oppression pretty much the essence of issue politics?”

The answer to Neate’s question is today unfortunately still a resounding yes. And whether it may be true that many rappers are merely using the symbolic capital of hip hop for its commercial potential (with the debate on cultural appropriation in this regard ongoing), or youths feeling disenfranchised are looking to this symbolic capital as a tool in the expression of their identity (a sentiment I share with Neate), at the heart of hip hop lies the experience of alienation from the establishment.

Apart from boasting smooth old-school bass beats and the scratchy texture of hip hop at its inception, a line in “Whateva will be” on We got it from here … simply and clearly echoes these woes: “Fuck you and who you think I should be.”

However badly we want to believe that the world has changed in the last four decades since hip hop’s early days, however hopefully we want to look to the future and not give up hope as Hillary Clinton pleaded during her concession speech, the truth is far more unfortunate than we want to know. The disenfranchised everywhere are still stuck on the same desperate threshold where rap pioneers found themselves when Grandmaster Flash* and the Furious Five released what is widely accepted as the first ever conscious hip hop track, “The Message”, in 1982, with the famous line: “Don’t push me, ’cause I’m close to the edge”. And MC Melle Mel rapping:

A child is born with no state of mind
Blind to the ways of mankind
God is smilin’ on you but he’s frownin’ too
Because only God knows what you’ll go through
You’ll grow in the ghetto livin’ second-rate
And your eyes will sing a song called deep hate.

It could just as well have been Melle Mel on the stage this past weekend resounding the song’s famous chorus: “It’s like a jungle sometimes/ it makes me wonder how I keep from goin’ under.”

But it should be noted that even academics like Tricia Rose agree that hip hop plays a role in expressing pleasures as much as problems. And while We got it from here … manages to aptly highlight the continuing marginalisation of minorities, it showcases how hip hop can create a space of not only agency amidst adversity but also enjoyment, as the late Phife Dawg aptly rhymed back in 1993 in “We can get down”:

We rap about what we see, meaning reality
From people bustin’ caps and like Mandela being free
Not every MC be with the negativity
We have a slew of rappers pushin’ positivity.

We got it from here … Thank you 4 your service boasts contributions by industry greats like André 3000, Kendrick Lamar, Jack White, Elton John, Kanye West, Anderson Paak, Talib Kweli, Consequence and Busta Rhymes.

Watch the lyrical video of “We the people” here:

* One should note that although credited, Flash himself did not take part in the original recording of this track.

annieklopper_profielfoto

 

 

 

  • Annie Klopper is an author and poet, and is currently researching identity configurations in white Afrikaans rap music.

The post A Tribe Called Quest’s first studio album since 1998 and the potency of conscious hip hop appeared first on LitNet.

Referaat: Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika: die geval Afrikaans

$
0
0

Foto van Wannie Carstens: Naomi Bruwer

Die Universiteit Gent se 3de Colloquium Afrikaans het op 28 Oktober 2016 plaasgevind.

Hierdie internasionale kongres word deur die Gent Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika gereël. Innoverende navorsing op dié studiegebiede word by die kongres voorgelê.

Wannie Carstens was vanjaar een van die sprekers en sy referaat kan hier (as Word-dokument) afgelaai word.

"[E]nige mens wat in SA woon, is bewus dat politiek en taal nie juis van mekaar geskei kan word nie, veral as jy Afrikaans praat."

The post Referaat: Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika: die geval Afrikaans appeared first on LitNet.


Verorber deur fiksie en snert

New Atheism

$
0
0

Wat my teen die bors stuit is die militantheid van die sogenaamde "New Atheism" soos dit te siene is in die kommentare op LitNet. Die New Atheism is soos die filosoof en groen-konserwatis John Gray dit beskryf maar net ’n hangover van die Christelike era. Net soos die Christelike geloof ’n sendinggeloof (missionary faith) is, so ook is die New Atheism ’n sekulêre weergawe van die Christelike sendinggeloof (missionary faith). Dit is nie goed genoeg vir die proponente van die New Atheism om die vryheid te hê om hulle geloof te beoefen – soos hulle inderdaad ook kan in Westerse lande en ook hier ter plaatse – dit is hulle doel om ander mense ook te ‘bekeer’ daartoe.

Daar is niks so vervelig soos om die apologete van New Atheism se argumente te lees nie. Soos die Christelike apologete is dit so voorspelbaar en verbeeldingloos. Ons het nou almal gehoor jy is ’n ateïs en hoekom jy een is, dankie. Kan ons dalk nou aanbeweeg en iets anders soos die korrupsie in ons land bespreek?

The post New Atheism appeared first on LitNet.

Toe-eiening

$
0
0
Die heelal en lewe is nie in sonde ontvang en gebore nie. Die mens het maar onlangs ewe hoogdrawend begin om homself met woorde neer te haal.
 
CM

The post Toe-eiening appeared first on LitNet.

Teaterresensie: My fat friend by Theatre on the Bay

$
0
0

poster400My Fat Friend is ’n skreeusnaakse komedie deur Charles Laurence (1931-2013) en was ’n treffer in Londen en Broadway. Dit vertel die storie van ’n oorgewig meisie, Vicky (Michelle Botha), wat ’n baie suksesvolle boekwinkel in Hampstead in Londen besit.

Sy vergryp haar aan te veel kos, drank en sjokolade om haar saai lewe effe op te kikker, maar haar huurder en vriend, die nie-so-jonk Henry (Tobie Cronjé) laat haar nie met rus met sy fyn beledigings soos dat sy nie soos ’n tent lyk nie, maar eerder soos ’n markiestent, of dat sy nooit iemand sal ontmoet nie, want sy is te groot.

Haar ander huurder, James (Jeremy Richard), verafgod haar in die stilligheid en kook wonderlike maaltye, sodat hulle drie saam kan kuier en hy dus meer van Vicky se geselskap kan geniet.

Toe die onderwerp van haar oorgewig weer ter sprake kom, probeer James haar gerusstel deur te vertel dat die slagter op die hoek dink sy is “goed opgestop”. Hieroor wil sy natuurlik die piep kry, want sy is nie ’n sofa nie. Hierop reageer Henry natuurlik met: “Kom ons hou by 'vet'. Dis so ’n lekker Anglo-Saksiese woord,” wat haar in trane na haar kamer laat storm.

’n Man, Tom (Charlie Bouguenon), kom een dag per ongeluk van die boekwinkel deur haar huis gestap en begin met haar gesels. Vicky kan nie verstaan hoekom die aantreklike man van 30 skynbaar min gepla is oor haar gewig nie en toe hy haar boonop uitvra vir ete voor hy die volgende dag op ’n viermaandekontrak na Iran vertrek, is sy nog meer verbaas.

Hul aand uit is ’n yslike sukses en hulle besluit om kontak te behou terwyl hy weg is en hul vriendskap te hervat wanneer hy vir Kersfees terugkeer na Londen.

Dis hier waar dinge erg begin skeefloop, want die bemoeisieke Henry kan nie sy neus uit Vicky se sake hou nie: Sy moet gewig verloor. Sodoende sal sy Tom se asem met sy terugkeer wegslaan.

Haar reis na ’n maerder weergawe van haarself begin met ’n streng dieet, oefeninge en weerhouding van alkohol. James protesteer hewig, want hy was dol oor Vicky soos sy was: rondborstig en uitgesproke, maar lieflik in sy oë.

Sy stap uiteindelik baie kilogramme later uit haar kamer, reg vir Tom se besoek. Henry en James word uitgestuur vir die aand, sodat sy en Tom op Oukersaand alleen kan wees.

Wat veronderstel is om haar droomaand te wees, word ’n ontnugtering toe sy moet hoor dat Tom eintlik van die voller Vicky gehou het. En terselfdertyd besef sy dat sy meer gemaklik voel in haar nuwe vel. Die aand bring haar egter tot groot insigte oor haar lewe en haar pad vorentoe met haar twee huurders.

Tobie Cronjé se briljante vertolking van die gay Henry is skreeusnaaks. Sy skewe pruik is die versinnebeelding van sy ydelheid en voorwaar iemand wat self agter die deur staan, terwyl hy vinger wys na Vicky en James.

Aan die einde van die eerste bedryf, loop heelwat teatergangers giggelend uit na die kroeg.

Die regisseursaanslag is só knap dat jy spyt is as die gordyn sak. Die akteurs word só vindingryk gelei dat jy soms lag, al voel jy eerder hartseer. En die waarheid van die sêgoed bly jou nog lank by.

Die komedie wat jou aanvanklik laat skaterlag, bied heelwat insigte in ons soeke na die “ander ek”, daardie spreekwoordelike gras wat groener is aan die ander kant van die heining en mense se neiging om jou te slaan terwyl jy reeds lê.

Met: Tobie Cronjé, Michelle Botha, Jeremy Richard en Charlie Bouguenon.
Deur: Charles Laurence
Regie: André Odendaal
Aangebied deur: Pieter Toerien en Kosie Smit
Theatre on the Bay, Kampsbaai
9-26 November 2016

Kaartjies deur Computicket.

Foto's: http://www.pietertoerien.co.za/portfolio-items/my-fat-friend/

The post Teaterresensie: My fat friend by Theatre on the Bay appeared first on LitNet.

LitNet Akademies-resensie-essay: In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers

$
0
0

fotostaatmasjien300Titel: Fotostaatmasjien
Outeur: Bibi Slippers

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624080732

 

“It is to write as if the mirrors were not solid but permeable, as if the tain could move, as if the glass and silver were melting, as if there was an elsewhere. As if heroes were vampires … It is to write as if the mirrors had bled, bled their violence, bled their ancestry, as if blood could be beautiful, as if an elsewhere was possible.” (Rose 1996:72)

1. Inleiding

 ’n Fotostaat of fotokopie is ’n afdruk, gewoonlik op papier, wat gemaak word met behulp van lig – of, meer spesifiek, met behulp van beligting. As sodanig, kan dit verstaan word as die spieëlbeeld van ’n oorspronklike. Die etimologie van die woord fotokopie is ’n samestelling van die Grieks photo – wat “lig” en ook “om te skyn” beteken – en die Frans copie, wat op ’n geskrewe of andersins gedokumenteerde weergawe dui. Die Middeleeuse Latynse ekwivalent – copia – is nader aan die hedendaagse assosiasies van fotokopie, of dan fotostaat, omdat dit verwys na ’n transkripsie of afdruk (Harper 2016). Hoe dit ook al sy, die samevoeging van “lig” en “afdruk” dui daarop dat die fotostaat in noue verband staan met die idee van ’n spieëlbeeld: ’n afdruk op ’n eksterne oppervlak wat immers ook nie sonder lig voortgebring kan word nie.

In Bibi Slippers se debuutbundel, Fotostaatmasjien (waarna alle bladsynommers verwys, tensy anders vermeld), word die veelvuldige betekenisse van die fotostaat – sowel as die meganika en tegniek waardeur fototstate aan die lig kom en in die geskiedenis aan die lig gekom het – breedvoerig verken. Die indrukwekkende estetika van die bundel ewenaar die inhoud.

In hierdie artikel fokus ek egter meestal op ’n psigoanalitiese verkenning van Fotostaatmasjien. Sodanige ondersoek geskied by wyse van ’n ontginning van die verband tussen die fotostaat en die spieëlbeeld. Laasgenoemde aktiveer Lacan se spieëlfase en kan gevolglik as ’n analitiese sleutel dien waardeur verskeie belangrike betekenisse en temas in die bundel ontsluit word. Daar is egter ook belangrike raakvlakke tussen die meer voor die hand liggende tematiek van mimesis wat in die bundel aan bod kom enersyds en die idees wat Lacan (as ’n leser van Plato) in sy teorie oor die spieëlfase uitlê andersyds. Ek begin dus met ’n bespreking van mimesis (of nabootsing) in die konteks van die bundel.

2. Mimesis

In die aanhalings waarmee die eerste afdeling open, wys die digter dat sy met ’n wye toepassing van die fotostaatbegrip werk. Sy verwys na die bekende siening dat taal en skrif die oudste vorme van kopiëring is. (In sy vroeë werk, het Jacques Derrida natuurlik juis hierdie gegewe gebruik om die metafisiese onderskeid en hiërargie tussen gesproke en geskrewe taal te dekonstrueer.) Die programgedig is ’n biografie van die uitvinder van die fotostaatmasjien, Chester Carlson. Feite oor Carlson se lewe word op behendige tegniese wyse in die gedig opgeneem om vormgewys ’n soort kopie-effek deur die ryme te verkry: “hulle noem hom Chester/ na sy tante Ester” (12) en “aan sy hart gesterf. Doris het sy fortuin geërf” (13). Reeds in hierdie gedig kom die veelvlakkigheid van die verkenning van die fotostaatgegewe dus sterk aan bod: dit is nie net die inhoud van die gedig wat met die fotostaat-idee werk nie; ook die vorm val daarmee saam. Mens sou selfs kon sê dat die gedig ’n voorbeeld is van hoe vorm en inhoud mekaar as’t ware kopieer, naboots, of dan weerspieël. Die gedig as foutiewe fotostaat / mimetiese nabootsing bestaan ook sonder twyfel in die intertekstuele gesprek wat in verskeie gedigte (meestal by wyse van vaardige pastiche) met digters soos Carson, Stockenström, Breytenbach, CM van den Heever, Krog en Jonker gevoer word.

fotostaatmasjien-bemarking-3-600

Die fotostaat en fotostaatmakery staan dus prominent as die sentrale tematiek, metaforiese kompleks en vormgewing in die bundel. In hierdie verband sluit Slippers haar aan by die lang, oorbekende epistemologie in die geskiedenis van die digkuns waarin poësie verstaan word as mimesis of nabootsing. Die oorsprong van hierdie beskouing van die digkuns is natuurlik Plato se Republiek, waarin gedigte sonder meer beskou word as swak namaaksels van die werklikheid, omdat dit as’t ware twee maal van die realiteit en die egte ding verwyder is. Dit is belangrik vir doeleindes van die volgende afdeling om daarop te wys dat Sokrates hierdie verwydering wat hy met die digkuns verbind, met spesifieke verwysing na die spieël verwoord:

"[D]o you admit the possibility that a person could – in one sense, at least – create all these things? […] The quickest method, I suppose, is to get hold of a mirror and carry it around with you everywhere. You’ll soon be creating everything I mentioned a moment ago – the sun and the heavenly bodies, the earth, yourself, and all other creatures, plants, and so on.” “Yes, but I’d be creating appearances, not actual real things." (Plato 1993:346)

Digters en skilders maak, aldus Sokrates, beelde wat afbeeldings is van afbeeldings van die Ewige Vorme wat die enigste Werklikheid en Waarheid is. Reeds in Plato het ons dus te make met die skepping as ’n fotostaat, met die mens en die natuur as een groot fotostaatmasjien en, oplaas dan, met die kunstenaar as die maker van ’n fotostaat van hierdie fotostate.

’n Logiese uitvloeisel van hierdie mimetiese sienswyse is dat God-as-skepper die groot Fotostaatmaker is – ’n aspek wat treffend verwoord word in die gedig “Die eerste afskrif” (in die tweede afdeling): “god het sy hande/ op die glasplaat/ van die niks gelê/ en hy het gebulder:/ ‘laat daar lig wees!’” (21).

In die volgende gedig, “Die eerste afbeelding”, dra Slippers die Bybelse boodskap oor dat die mens ’n afbeelding van die Skepper is wanneer sy verklaar: “gelukkig het hy die masjien gehad om sy gelaat op alles af te druk.”

Trouens, die hele tweede afdeling is ’n weergawe van die skeppingsverhaal as ’n eindelose fotostaatmakery met die hemel as ’n soort maatskappykantoor waarin fotostaatmaak-sake skeefloop namate die eerste week einde se kant toe staan en God, wel, beheer verloor (en Lucifer die skuld kry).

Tog neem Slippers in ander gedeeltes van die bundel ’n meer gekompliseerde posisie teenoor die tradisionele Platonistiese siening van mimesis in: in vandag se digitale leefwyse waarin beelde en skerms oorheers, is groot gedeeltes van die menslike belewenis self twee maal verwyder van die werklikheid. In die “15 instagram-gedigte" (67–71) staan hierdie idee van kunsmatige, afgeleide, “tweedehandse” (69) ervaring/belewing van die internetgenerasie voorop – miljoene mense beleef gebeurtenisse op ’n daaglikse basis by wyse van beter of swakker namaaksels/fotostate/mediasies. Die digter neem dus stelling in teen die geykte Platonistiese siening van die Ewige Vorme of van Oorspronklikheid. In twee van die gedigte in die eerste afdeling, “Die reïnkarnasie van Chester Carlson”, gebruik die digter outobiografiese materiaal om bogenoemde problematisering te konkretiseer. Hier werk Slippers meer spesifiek met die soeke na die eie / haar oorsprong. Die gedigte kom telkens tot die insig dat selfs die eie lewe/identiteit ’n soort namaaksel van ’n ewig ontwykende oorspronklike is – mens begin eenvoudig “by ’n fotostaat/ van ’n geboortesertifikaat” (14). Die toespeling hier is dat selfs beliggaamde bestaan aan dieselfde soort “swakheid” ly as wat Sokrates by die digkuns diagnoseer: die lewe is, soos die gedig, eindelik ook maar slegs ’n namaaksel van ’n namaaksel.

fotostaatmasjien-bemarking-9-400Derrida verwoord hierdie posisie as die dekonstruksie van teenwoordigheid teenoor afwesigheid (in Slippers se terme oorspronklikheid teenoor fotostaat) en verwys na die prostese van die oorsprong (“the prosthesis of origin”) (Derrida 1998). In die latere gedig “stempel” (30) reken Slippers (by wyse van ’n aartappel, van alle dinge!) onomwonde af met die eindelose beheptheid van die metafisika met oorspronklikheid. Dieselfde sentiment word in ’n heel ander toonaard belig in “Ons” (76), waarin die digter verwys na “baie beginne,/ maar ’n mens kon nooit seker wees wat iets sou afskop nie.” (Die ironie hier is natuurlik dat Slippers se digterstem deur ’n uitsonderlike oorspronklikheid gekenmerk word.) Ook die beeldgedigte in die bundel word aangedryf deur ’n variasie op hierdie tema wat Paul Auster (2006:3) so goed verwoord het in ’n aforisme uit Travels in the scriptorium: “pictures do not lie, but neither do they tell the whole story.”

Die gedigte i en ii onder die titel “Tweede lewe: Outobiografie” is vormgewys doelbewuste swak nabootsings van mekaar – ’n tegniek waarmee Slippers deur vormgewing haar oorkoepelende siening afdruk dat iets soos die juiste oorsprong / oorspronklike / suiwere of egte bestaan ’n illusie is: “ek is ernstig en geïrriteerd met die mite oor my oorsprong” (119). Selfs die ikoniese Moonwalk (wat natuurlik die beweging van die ligbuis van ’n fotostaatmasjien na-aap) is by Bill Bailey afgekyk (16). In gedig iv van hierdie siklus kom die ooreenkomste tussen aspekte van die digter se lewe en dié van niemand anders nie as Michael Jackson (die nabootser par excellence) aan die lig en dit is dan ook die gedig waarin daar die sterkste gesinspeel word op die idee van reïnkarnasie as ’n soort fotostaat. In hierdie, asook in die volgende gedig, dra Slippers ook laastens op vindingryke wyse die filosofiese idee oor dat mense – ten spyte van diepgaande uiteenlopendhede oor tyd-, ruimte- en eksistensiële grense heen – dikwels eendershede, of dan ’n soort fotostatiese kwaliteit, met hulle saamdra en deel.

3. “I’m starting with the man in the mirror”

Jacques Lacan beskryf die spieëlfase as vormend van die funksie van die Ek (Lacan 2001:1):

The child, at an age when he is for a time, however short, outdone by the chimpanzee in instrumental intelligence, can nevertheless already recognize as such his own image in a mirror. This recognition is indicated in the illuminative mimicry of the Aha-Erlebnis, which Köhler sees as the expression of situational apperception, an essential stage of the act of intelligence.

Deur ’n reeks gebare voor die spieël kom die kleuter aan ’n erkenning en ervaring van die verhouding tussen sy spieëlbeeld en die werklikheid. Hierdie aktiwiteit, meen Lacan, gee aanleiding tot wat hy ’n libidinale intensiteit noem – die kleuter identifiseer met die beeld van haarself in die spieël en hierdie identifikasie veroorsaak ’n psigiese transformasie waarvan die eksterne teken die kleuter se triomfantelike blydskap by erkenning van haar spieëlbeeld is. Anders gestel, die kleuter voel aangetrokke tot haar beeld in die spieël.

Op hierdie oomblik, wanneer die menslike subjek die beeld (imago) van haarself eien en as haar eie aanneem, ontstaan die Ek in primordiale vorm. Verder dring Lacan daarop aan dat hierdie Ek-beeld as die “ideale Ek” beskryf moet word: eerstens omdat dit die basis sal vorm van alle verdere identifikasies, en tweedens omdat dit die agentskap van die ego in ’n fiktiewe rigting dwing, omdat dit ’n (vals) eenheidsbeeld verskaf – die subjek sal vir die res van sy bestaan die gaping tussen die ver-beelde “ideale Ek” en sy simboliese of sosiale (gefragmenteerde) Ek beleef:

This gestalt is also replete with the correspondences that unite the I with the statue onto which man projects himself, the phantoms that dominate him, and the automaton with which the world of his own making tends to achieve fruition in an ambiguous relation. (Lacan 2006:67–77)

Dit is egter kritiek vir Lacan dat die psigoanalis in gedagte hou dat die geheelbeeld van haarself alleenlik in die vorm van ’n gestalt aan die subjek weergegee word, dit wil sê in ’n uiterlikheid (die spieël waarin die beeld verskyn is onteenseglik ’n objek buite die subjek). Om hierdie rede sê Lacan dat die identifikasie met die spieëlbeeld ’n vervreemdende (“alienating”) identifikasie is wat boonop op ’n wanerkenning (méconnaissance) berus, aangesien die spieëlbeeld uiteindelik nié ’n volmaakte of volledige kopie van die “oorspronklike” subjek is of kan wees nie.

Vir Lacan is die spieëlfase ’n vormende fase, omdat die identifikasie met die eksterne spieëlbeeld ’n voorwaarde is vir die oorgang van onvolhoubare afsondering na die realistiese gemeensaamheid van sosiale bestaan. Hier gebruik Lacan ’n voorbeeld uit die diereryk:

[I]n the case of the migratory locust, the shift within a family line from the solitary to the gregarious form can be brought about by exposing an individual, at a certain stage of its development, to the exclusively visual action of an image akin to its own. (Lacan 2006:77)

Die kontak met en ervaring van ons spieëlbeeld ontketen dus as’t ware ons kontak met en ons erkenning en ervaring van die res van ons eksterne wêreld:

The function of the mirror stage thus turns out, in my view, to be a particular case of the function of imagos, which is to establish a relationship between an organism and its reality – or, as they say, between the Innenwelt and the Umwelt. (Lacan 2006:78)

Mens moet hier in gedagte hou dat Hegel ’n sterk invloed op Lacan uitgeoefen het en dat Hegel se dialektiek van wedersydse erkenning hier prominent in die agtergrond staan. Soos Burger (2006:187) dit stel: “Die ervaring van die ego in die spieël verskaf die model vir die ervaring van die ego in die ander en daarom ook vir die ervaring van die ander as ander.”

fotostaatmasjien-bemarking-12-400Die spieëlfase is gevolglik ’n fase in die ontwikkeling van ons psigiese agentskap en subjektiwiteit waardeur ons almal noodwendig moet gaan – in hierdie opsig is ons almal, soos Freud gesê het, primêre narsiste. Maar so noodsaaklik as wat die spieëlfase in die totstandkoming van psigiese volwassenheid is, is dit ’n fase wat getransendeer moet word: subjekte wat om een of ander rede in die spieëlfase vasgevang bly, toon antisosiale, patologiese afwykings waarvan narsisme die algemeenste vorm is. En almal wat al in ’n verhouding met so ’n subjek probeer staan het, kan bevestig dat narsiste se verhoudings nóg gesond, nóg blywend is. Die spieëlfase word oorkom deur die subjek se oorgang na die Simboliese Orde van taal (Burger 2006:188), omdat dit in en deur taal is dat die beginsel van verskil en andersheid gekommunikeer word: “Uiteindelik is taal die ‘derde element’ wat ’n einde maak aan die stagnerende beheer van die narcissistiese verhouding.”

Talige verhoudinge bemiddel die potensiële solipsisme van die register van die Verbeelde, hoewel dit natuurlik so is dat diegene wat in die Verbeelde vasgevang is, ook taal gebruik, maar hier as ’n soort spieël waardeur die wêreld slegs as ’n uitvloeisel en afdruk van die Ek verstaan word. Om die kompleks samevattend te stel kan mens sê dat in die spieëlfase die beginsel van ooreenkoms/identiteit dominant is in die dialektiek tussen ooreenkoms en verskil – die Lacaniaanse Verbeelde word oorheers deur die sogenaamde trait unaire – een(ders)heid. Wanneer die subjek tot taal kom, ondergaan die dialek ’n klemverskuiwing, omdat taal (soos De Saussure en Jakobson geleer het) deur die beginsel van verskil gekenmerk word. Gevolglik bring taal die balans tussen identiteit en verskil wat in die spieëlfase ontbreek.

Slippers se poësie van die fotostaatmasjien is allermins in die spieëlfase vasgekeer, maar die bundel verstaan op diepgaande wyse dat die spieëlfase "’n deurslaggewende moment in die totstandkoming van die subjek" (Burger 2006:186) is. In gedig iv van die siklus "Tweede lewe: Outobiografie" verklaar die digter by wyse van Michael Jackson se lirieke in die liedjie "Man in the mirror" dat "I’m starting with the man in the mirror" (17) – ’n eksistensiële sowel as ontologiese stelling. Die liedjie gaan oor ’n man wat besluit dat as jy die wêreld wil verander, "Take a look at yourself,/ And then make a change" (Jackson sj). Hierdeur gee die digter te kenne dat die verhouding tussen die Self en die Ander in die spieël ontstaan, dat die spieëlbeeld as’t ware die oorspronklike afdruk is waaruit alle verdere afdrukke/verhoudinge/identifikasies voortspruit. Gevolglik is subjektiwiteit "’n video waarin jy/ ’n weergawe van jouself speel" (87). (Let op die dubbele mimesis hier.) Etiek, politiek, verbondenheid en uiteindelik ook verantwoordelikheid dus, begin noodwendig by die beeld in die spieël. Slippers (met Jackson): "This wind is blowin” my mind/ I see the kids in the street/ with not enough to eat/ who am I, to be blind?" (Jackson sj).

Maar hoewel die menslike toestand van veelheid (Arendt 1998:7) by die selfbeeld begin, kan dit nie daar eindig nie. Om na die "hoër orde van herkenning te beweeg" (Burger 2006:188), om die Ander as Ander na waarde te kan skat, benodig die subjek taal as bemiddelaar tussen haarself en die Ander. In die gedig oor Adam Small, "15 fotostate", belig Slippers die etiese insig dat dit deur taal is dat ons die andersheid van die Ander kan bewoord en kan benader – selfs wanneer ons woorde opraak, ’n "hele gedig" ontwyk en ons met "steeds net ’n blank vel en, wel, 15 fotostate van jou gesig" vorendag kan kom. Die gedig maak ook ’n subtiele argument daarvoor uit dat die afbeelding van die Ander in kuns ’n etiese daad par excellence kan wees.

Die voorgaande bespreking van die spieëlfase as die mens se oorspronklike identifikasie en fotostaat sou die indruk kon skep dat die emosionele verhouding met die spieëlbeeld eenvoudig ’n konsekwente aangetrokkenheid – ’n erotiese cathexis – daarstel. Maar lesers van Lacan (met Hegel) weet dat Lacan ’n dialektiese denker is, ’n denker in wie se werk oënskynlike teenstrydighede saam bestaan. So is dit ook, soos hier bo aangedui, met die spieëlfase. In ’n latere lesing oor aggressiwiteit in die psigoanalise bespreek Lacan ’n verdere aspek van die dialektiek van die spieëlfase (2006:82–101). Hier dring hy herhaaldelik daarop aan dat nie een nie, maar twéé vorme van libidinale energie die verhouding met die spieëlbeeld karakteriseer. Ja, die subjek is, soos Narcissus, aangetrokke tot en eindeloos gefassineer met sy eksterne verskyning in die spieël (en met Ander wat soos hy lyk en maak), maar die spieëlbeeld kan – soos in die Narcissus-mite – terselfdertyd as ’n bedreigende, oorweldigende entiteit ervaar word, veral omdat die ideale kwaliteit van die (verbeelde) eenheidsbeeld so sterk in kontras staan teenoor die sosiaal-simboliese subjek se menslike, werklike tekortkominge. Gevolglik argumenteer Lacan dat bogenoemde aspek van die spieëlbeeld ’n aggressiewe vernietigingsdrang (thanatos) by die subjek ontketen – dit is óf ek óf sy.

Die spieëlbeeld kan dus ook as ’n bron van gevaar / ’n bedreiging ervaar word – en dit kan jou na kranksinnigheid lei. Hierdie omineuse aspek van die spieëlbeeld word treffend verwoord in "Thamsanqa tweet en breek die internet", waarin ’n psigiatriese ineenstorting die tema is en die spreker vra: "[w]ie kyk terug uit die skerm/ en die spieël en wat stort uit die krake in albei se glas?" (112). En in "Twee-tyd" (92) staar die "jy" insgelyks na haar "stapelmal gedagtes in die spieël".

Die subjek se emosionele verhouding met die spieëlbeeld word dus gekenmerk deur libidinale ambivalensie, en volgens Lacan sal hierdie ambivalensie met betrekking tot die beeld van die Ander die subjek lewenslank na sy verhoudinge met ander vergesel. Weer eens is dit deur die gebruik van taal dat die subjek hierdie ambivalensie sal bemiddel. Weens hierdie sentrale rol van taal noem Lacan dit die Groot Ander, en in die spieëlfase word die Groot Ander verteenwoordig deur die moeder wat die kind voor die spieël hou en met ’n knik of ander gebare (of selfs woorde) aan die subjek bevestig dat die beeld in die spieël inderdaad aan die kind behoort.

Die klem moet egter ook val op die feit dat Lacan uit bogenoemde argumente aflei dat alle aggressie teenoor die Ander terselfdertyd op ’n aggressie teenoor die Self neerkom. In die wonderlike "What would Jesus do" (39) kom hierdie element aan bod wanneer fotostate van "’n vreemde vrou se tiete" op die "boyfriend se selfoon" konflik veroorsaak en die digter haar tot taal wend om te vra of "jesus ook sou kots/ as hy aan homself moes erken/ hoe naby hy aan doodmaak sou kon kom". Taal word dus die meganisme waardeur die impuls tot fisieke (teen)geweld teenoor die Ander oorkom word. Die gedig kan ook gelees word as ’n weerspieëling van die enorme pyn wat die verraad van ’n betekenisvolle Ander wat in die spieëlfase vasgevang is, kan veroorsaak.

Konfrontasie en die geweld van die beeld van die Ander, fotostaatmasjien-bemarking-13-400asook die versoeking om terug vuis te slaan, kom weer na vore in "terugpraat" (48–9) – een van die beste
gedigte in die bundel. Die epigraaf van die gedig is ’n Lacaniaanse motto wat in ’n sekere sin die hele problematiek van die spieëlfase saamvat: "as long as there is desire, we will not be safe." Nogmaals wys die "ek" wederkerige geweld/ontgelding van die hand: "terwyl ek met my linkerwysvinger die bloed/ van my onderlip afgevee/ en dit toe met die voorspel van ’n glimlag in my mond gedruk en skoongelek het/ met die volle teerheid van my tong". ’n Byna bomenslike etiese reaksie wat alleen deur die woord moontlik gemaak word. Uit die aard van die saak spreek hierdie gedig tot die maatskaplike tema van huishoudelike geweld en Slippers dink definitief nié dat vroue die gewelddadige mishandeling wat narsistiese mans so denkloos teenoor hulle pleeg, maar stil moet verdra nie. Wat saak maak, is hoe jy daarop reageer, en Slippers se boodskap is duidelik: vroue moet uitpraat, protes aanteken, ontbloot, weier, aankla, skryf, die trauma verwoord, gedigte maak – "mens mors nie met ’n meisie/ wat ’n ding kan laat rym [...] nie [...] want sy sál [...] jou onderbroeke ophang/ aan die publieke wasgoedlyn/ van ’n catchy refrein" (86).

Terselfdertyd is die digter deeglik bewus van die maniere waarop taal as simboliese orde kan faal ("woorde is wegwysers/ maar kan mens lees/ terwyl jy ry?" (116)) – veral in hierdie nuwe millennium, wat gekenmerk word deur die oorheersing van skerms, beelde en die Verbeelde as die domein van die narsis. In die inligtingsera werk die kubernetiese funksie van taal oortyd en word taal as outentieke kommunikasie, as diskoers, al hoe meer op die agtergrond geskuif. Binne dieselfde taal praat ons nie dieselfde taal nie, misverstande gedy, woorde maak nie sin nie.

Maar Slippers ontken ten sterkste dat die gereelde kommunikatiewe onvermoë van taal gelykgestel kan word aan betekenisloosheid. Van hierdie standpunt is die gedigte oor die omstrede Mandela-begrafnis-tolk, Tamsanqa Jantjie, ’n toonbeeld (105–14). In "The great fake" (114) waarmee die siklus afsluit, verklaar die digter: "gebaretaal en egtheid, Thamsanqa, want onder die vals wimpers en die praal/ is die keisers en die kiesers ewe kaal." Dit is ’n pragtige digterlike samevatting van Slavoj Žižek se opmerking dat Jantjie se vreemde optrede nié betekenisloos was nie: "[P]recisely because it delivered no particular meaning, it directly rendered meaning as such, the pretence of meaning" (Žižek 2014:118). Vir die gewone, sinlose, patetiese blah blah van die politici kon geen vertaling beter wees as Jantjies se onsamehangende gebare nie.

4. Gevolgtrekking: deur ’n spieël ...

In Lewis Carrol se Through the looking-glass; and What Alice found there klim Alice deur ’n spieël na die wonderlike wêreld aan die anderkant. In die geheel is Bibi Slippers se boodskap in Fotostaatmasjien dat ons ons reeds in daardie wonderland bevind – as ons maar bereid is om op te hou om ons blind te staar teen die beheptheid met die eie, die self, die identiese, die Ek en dieselfde; as ons maar bereid is om te waardeer dat ons in soveel opsigte fotostate van mekaar is – eenders, dog verskillend in ons veelheid. As ons maar bereid is om die raaisels in die spieël te bewonder en te vier ... Slippers skryf inderdaad "as if the mirrors were not solid but permeable, as if the tain could move, as if the glass and silver were melting, as if there was an elsewhere" (Rose 1996:72), behalwe dat Slippers se "elders" hier ter plaatse is.

Slippers is by uitstek ’n digter van veelheid, ’n digter van die meer-as-een, of, soos Johan van der Walt (2014:251) dit in ’n ander konteks stel, van pluraliteit as "two together when it matters" (byvoorbeeld ’n reier en ’n resiesfiets (55–9)). Hier het ons die digkuns van ’n fyn waarnemer en optekenaar van ons wonderbaarlike, dikwels skrikwekkende, eietydse menslike toestand op ’n planeet wat ons met soveel ander, menslik en dierlik, deel. ’n Mens kan Slippers se poësie slegs deur ’n beroep op meervoude beskryf: sy is ’n natuurdigter met ’n diep ingesteldheid en respek vir die nie-antropomorfiese ander (gedigte oor diere en ander skepsels gedy); ’n postmodernistiese digter (die gedig as dekonstruksie/ontrafeling en as parodie en pastiche is volop); ’n beelddigter (van Lucien Freud se windhond en David Tieties se donkie); ’n popdigter beslis. Maar by uitstek is Bibi Slippers ’n digter van medemenslikheid. Die beste versreël waaraan ek kan dink om hierdie uitsonderlike nuwe stem in ons digkuns te fotostateer, is uit Walt Whitman (2007:67) se “Song of Myself”: "I am large ... I contain multitudes." 

Bibliografie

Arendt, H. 1998. The human condition. Ingelei deur M. Canovan. The University of Chicago Press: Chicago.

Auster, P. 2006. Travels in the scriptorium. Henry Holt and Company: New York.

Burger, W. 2006. Deur ’n spieël in ’n raaisel: kennis van die self en die ander in Agaat deur Marlene van Niekerk. Tydskrif vir taalonderrig, 40(1):178–93.

Carroll, L. 1998. Alice’s adventures in Wonderland; and Through the looking-glass and what Alice found there. Geredigeer en ingelei deur RL Green. Oxford University Press: Oxford.

Derrida, J. 1998. Monolingualism of the other, or The prosthesis of origin. Vertaal deur P Mensah. Stanford University Press: Stanford.

Duncan, N (red). 1996. BodySpace: destabilizing geographies of gender and sexuality. Routledge: Londen.

Harper, D. 2016. Online etymology dictionary. http://www.etymonline.com/index.php?allowed_in_frame=0&search=photocopy (11 November 2016 geraadpleeg).

Jackson, M. sj. Michael Jackson lyrics: Man in the mirror. http://www.azlyrics.com/lyrics/michaeljackson/maninthemirror.html (11 November 2016 geraadpleeg).

Lacan, J. 2001. Écrits: a selection. Vertaal deur A Sheridan met ’n voorwoord deur M Bowie. Routledge: Londen.

—. 2006. Écrits: the first complete edition in English. Vertaal deur B Fink in samewerking met H Fink en R Grigg. WW Norton and Company: New York.

Plato. 1993. Republic. Vertaal deur R Waterfield. Oxford: Oxford University Press.

Rose, G. 1996. As if the mirrors had bled: Masculine dwelling, masculinist theory and feminist masquerade. In Duncan (2006).

Van der Walt, JWG. 2014. Law and sacrifice: towards a post-apartheid theory of law. Routledge: New York.

Whitman, W. 2007. Leaves of grass: the original 1855 edition. Dover Publications Inc: Mineola.

Žižek, S. 2014. Trouble in paradise: from the end of history to the end of capitalism. Penguin Books: Londen.

 

Foto's: Sven Kristian

The post LitNet Akademies-resensie-essay: In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers appeared first on LitNet.

Viewing all 21535 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>