Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Vandeesweek die verhaal van 'n kêrel met die naam Masithela wat in die landdroshof te Bloemfontein aan handeldryf in dagga skuldig bevind is en tog later op 'n vreemde manier losgekom het.
Dit het só gebeur. By aanvang van Masithela se verhoor het sy werkgewer – 'n man met die adellike naam Mendelsohn – die landdros versoek om hom toe te laat om die beskuldigde in die verhoor by te staan. Mnr Mendelsohn het die landdros meegedeel dat Masithela nie geld het om vir 'n prokureur te betaal nie. Mendelsohn het daarna ewe beskeie vir die hof gesê dat hy 'n speursersant in die polisie was vir ongeveer sewe jaar en dat hy die eerste en tweede jare van 'n BA-graadkursus in die regte voltooi het.
Die landdros het tot sy versoek ingestem, waarna die saak voortgegaan het en mnr Mendelsohn die getuies kruisverhoor en ook die beskuldigde se getuienis aangebied het. Aan die einde van die saak het hy tot selfs die hof toegespreek. Dit is duidelik dat hy Masithela se verdediging waargeneem het soos wat dit deur 'n regsverteenwoordiger – met ander woorde 'n prokureur of advokaat – gedoen sou gewees het.
As gevolg van die stywe vonnis wat Masithela opgelê is – hy is gevonnis tot vier maande gevangenisstraf en daarby 'n verdere 18 maande wat voorwaardelik vir drie jaar opgeskort is – het die saak op hersiening voor regter Van Coller van die Vrystaatse hooggeregshof beland.[i] Die regter het bedenkinge gehad oor die feit dat die landdros mnr Mendelsohn toegelaat het om vir Masithela by te staan en hy het toe die landdros se redes in dié verband aangevra. Die landdros het verduidelik dat hy mnr Mendelsohn toegelaat het ingevolge die bepalings van artikel 73(3) van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977.) Dié artikel bepaal dat iemand wat in hegtenis geneem is, van daardie oomblik af geregtig is op die bystand van 'n regsadviseur. 'n Regsadviseur mag hom ook in die hof verteenwoordig. 'n Beskuldigde wat onder die ouderdom van 18 jaar is, kan deur sy ouer of voog in die hof bygestaan word. Die artikel bepaal ook dat 'n beskuldigde wat na die oordeel van die hof die bystand van iemand anders nodig het, met die toestemming van die hof deur so iemand bygestaan mag word.
Regter Van Coller het beslis dat daar 'n verskil is tussen die woorde "verteenwoordig" aan die een kant en "bystaan" aan die ander. Die verskil is daarin geleë dat 'n regsadviseur wat in 'n hof verskyn en 'n beskuldigde verteenwoordig, 'n veel meer beslissende rol tydens die verrigtinge speel as die persoon wat die beskuldigde bloot net bystaan. Die regsadviseur neem al die belangrike besluite en as die beskuldigde nie daarmee saamstem nie, kan hy natuurlik sy regsadviseur in die pad steek. Maar solank as wat iemand deur 'n regsverteenwoordiger verteenwoordig word, mag hy nie self getuies kruisverhoor nie en mag hy ook nie argumente aan die hof voorlê nie. Dit is sy regsverteenwoordiger se verantwoordelikheid.
Indien die beskuldigde egter gewoon deur iemand bygestaan word, is hy nie gebonde aan die advies van die persoon wat hom bystaan nie. Alhoewel daardie persoon moontlik ook vrae aan die getuies mag stel en selfs die beskuldigde se saak voor die hof mag beargumenteer, speel die beskuldigde self die beslissende rol: hy stel self die vrae en neem aktief aan die vertoë aan die einde van die verhoor deel.
Regter Van Coller was van mening dat in mnr Masithela se saak mnr Mendelsohn veel meer gedoen het as om bystand te verleen en dat hy inderdaad opgetree het as mnr Masithela se regsverteenwoordiger. Aangesien hy nie 'n gekwalifiseerde regsverteenwoordiger was nie, het die feit dat hy mnr Masithela verteenwoordig het, neergekom op 'n onreëlmatigheid in die verrigtinge. Dié onreëlmatigheid was só ernstig dat die beskuldigde, Masithela, nie behoorlik verhoor is nie en dat dit op 'n regskending neergekom het. Sy skuldigbevinding en vonnis is derhalwe tersyde gestel.
Dis 'n nogal vreemde resultaat, want aan die een kant het die hof beslis dat Masithela se werkgewer nie daarop geregtig was om hom te help nie. En juis omdat hy nie daarop geregtig was om hom te help nie, het hy hom uiteindelik gehelp om los te kom! Of praat ek nou nonsens?
[i] S v Masithela 1986(3) 402 (OPA)
The post Regsalmanak: Hoe Mendelsohn 'n aaptwakhandelaar laat loskom het appeared first on LitNet.