Naòmi Morgan gesels met Naomi Meyer oor vertaling, identiteit, teater, boeke. En 'n toneelstuk by vanjaar se KKNK.
Naòmi, jy is op pad KKNK toe vanjaar omdat jy en een van jou MA-studente die Franse dramaturg Florian Zeller se Le Père vertaal het. Was hierdie vertaling in opdrag - of wat het jou (of jou student) geroer om spesifiek hierdie teks te vertaal en aan die KKNK voor te lê?
Elouise du Toit het self die teks en die dramaturg gekies waarmee sy die volgende twee jaar van haar lewe wil deurbring. As ek namens haar mag praat: sy het dit gelees en begin vertaal toe haar oupa in dieselfde situasie was as die hoofkarakter in die toneelstuk, André. Dit was dus ʼn katarsis vir haar, soos wat dit vir die publiek ook sal wees.
Wat het jou van hierdie teks opgeval, of bygebly?
Hoe belangrik ons verlede is, en die band tussen kind en ouer. Hoe belangrik kronologie is: daar moet ʼn tydstruktuur wees, om tussen verbeelding en werklikheid te kan onderskei.
Die Afrikaanse drama se titel is Pa en die hoofrol word deur Chris van Niekerk vertolk. Wil jy dalk iets van hierdie drama se storie verklap?
Ek dink nie ek moet nie, want die verhaal boei die kyker tot heel aan die einde. Ek kan sê dat dit gaan oor oudword, oor onthou en vergeet, oor die verhouding tussen pa en dogter(s), oor selfsug en onbaatsugtigheid, en oor ʼn kardinale vraag waaroor baie min mense dink, naamlik die las wat op kinders se skouers gelê word wanneer hul eie lewe en drome onderwerp word aan dié van ʼn bejaarde ouer wat versorging of net geselskap nodig het.
Is hierdie stuk ‘n storie wat vir Afrikaanse gehore Frans sal voel, of is die tema sodanig universeel dat dit nie juis saak maak waar die stuk afspeel nie? Indien laasgenoemde dan die geval is, waarom dan die storie vir Afrikaanse gehore vertaal?
Uitstekende vraag. Ek dink nie dit sal Frans voel nie. ʼn Mens kan jouself ook afvra hoe lank kontemporêre Franse dramas nog Frans sal voel. Miskien sal net die Amish uiteindelik hul identiteit behou? Die storie moet vertaal word oor die manier waarop die tema ontwikkel word. Daar is baie dramas (en films) oor die onderwerp deesdae, maar die manier waarop die storie hier vertel word, is ongelooflik vernuwend: dit gaan gehore verras, en ook ʼn leerskool wees vir plaaslike dramaturge. En indien jy sou wonder, dit is ook in Engels vertaal (dit speel nou in Londen en is vir drie Lawrence Olivier-toekennings benoem: beste akteur, beste nuwe stuk en beste klank), maar die Afrikaanse vertaling werk pragtig, dis soos musiek, en Chris van Niekerk se stem gaan daardie teks laat lewe kry soos op geen ander verhoog in die wêreld nie.
Jy is bekroon vir Oskar en die pienk tannie, wat in boekvorm verskyn en as teaterproduksie wyd en ver gereis het. Wanneer jy ‘n stuk vertaal, probeer jy om so getrou moontlik aan die oorspronklike teks te hou, of probeer jy die teks aanpas sodat dit vir ‘n Afrikaanse gehoor van toepassing voel op die Suid-Afrikaanse omstandighede? Wat is die meriete van albei die maniere van vertaling?
Ek probeer baie getrou wees. Daar is ʼn vreemde verhouding tussen dramaturg en vertaler – hy of sy moet die vertaler vertrou met iets wat baie kosbaar is, iets wat voor die val van die Toring van Babel onveranderd gekommunikeer sou kon word, maar nou noodwendig nie ongedeerd deur die vertaalproses gaan kom nie. Die meeste kontrakte is ook baie streng: die vertaler het baie min beweegruimte. Die enigste goed wat ek soms verander, is name (dit help nie akteurs struikel oor ʼn moeilik uitspreekbare naam nie) en kulturele verwysings (soos die titel van ʼn liedjie, ʼn dis, ʼn aanhaling). Hoe vryer jy vertaal, hoe verder beweeg jy weg van die essensie van ʼn werk. Waarom dan nie liewer jou eie teks skryf nie? As vertaler is ek in diens van iemand anders, en ek wíl dit graag wees.
Jy het verlede jaar die SAVI-prys vir Voortreflike Vertaling van Kinderliteratuur ontvang vir vertalings uit Frans van twee boeke deur Eric-Emmanuel Schmitt, Oskar en die pienk tannie en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran (Human & Rousseau). Baie geluk! Waarom kinderboeke vertaal, en benader jy hierdie vertalings verskillend van verplasings na ‘n verhoog?
Kinderboeke bied groot uitdagings, dink ek. Min skrywers kry dit myns insiens reg om dialoog te skryf vir kinders, of wat deur kinders gepraat word. Twee van my gunstelinge in die Franse literatuur is Cosette in Les Misérables (Victor Hugo) en natuurlik die prinsie se onvergeetlike woorde (Le petit prince – Antoine de Saint-Exupéry). Dit is byna net so moeilik om kinderboeke te vertaal as te skryf, want jy moet waak teen sentiment en paternalisme. Ek hoop ook altyd dat dit hardop voorgelees sal word, so ek lees die eindproduk vir myself voor en luister na die musiek daarvan. Vir beide bogenoemde novelles het die dramaturg, Eric-Emmanuel Schmitt, ‘n verhoogweergawe geskryf. Ek volg dus net sy leiding; mense wat Oskar gelees het en die verhoogproduksie gesien het, sal van die dialoog herken, maar dit is nie heeltemal dieselfde nie. Ek hoop ons sal nog die verhoogweergawe van Monsieur Ibrahim ook sien – ek weet watter Afrikaanse akteur reg daaraan sal laat geskied, en omdat dit ‘n verhaal van versoening tussen mense van verskillende gelowe en nasionaliteite is, dink ek dit is ‘n belangrike stuk om te sien. Die teater is die mees realistiese van die genres – daar is mense van vlees en bloed wat voor jou optree – ‘n opvoering het baie meer impak as om net die stuk te lees.
Suid-Afrikaanse gehore kry wat teateraanbod betref, blootstelling aan tekste van ander lande (soos by die pas afgelope US Woordfees – Buite blaf die honde swart, ‘n verplasing van Bernard Koltès se Combat de nègre et de chiens deur Tertius Kapp). Dink jy, as kenner van die Franse letterkunde en teateraanbod, dat daar genoeg vertalings plaasvind?
Weer eens ʼn uitstekende vraag. Ek het gesien dat daar ook baie nuwe, plaaslike skeppings op die Woordfees was (en op die komende KKNK gaan wees), wat goeie nuus is – dikwels word daar baie vertaal wanneer daar nie genoeg van ʼn plaaslike aanbod is nie. Die ideaal is natuurlik dat daar ʼn keuse van beide sal wees, dat teatergangers in voeling bly met wat op die res van die wêreld se verhoë aangaan. Al is dit belangrik om ons eie stories te vertel, moet ons die moeite doen om na ander lande se stories ook te luister. Ek verwys jou weer na die Lawrence Olivier-toekennings – daar is ʼn hele paar vertalings op die lys van genomineerdes. Ek dink daar kan nog baie meer vertalings gedoen word, maar die vertaal- en opvoerregte is duur, en teen die huidige wisselkoers byna onbetaalbaar. Dit sou beteken dat ʼn mens moet kyk na ouer tekste, wat goedkoper of gratis is, maar dit sal jammer wees as ons nie meer kontemporêre vertalings kan doen as gevolg van finansiële oorwegings nie. Daar is ʼn oplewing wat dramavertalings betref, en ek hoop dit is volhoubaar, want goeie studente moet opgelei word om die leisels by die huidige generasie te kan oorneem.
Terug in Suid-Afrika: Vertaal ons genoeg in die algemeen, vir mekaar? Ons almal, sprekers van verskillende tale: het ons nie nodig om veel meer moeite te doen om vir mekaar kuns te vertaal in al die Suid-Afrikaanse tale wat daar bestaan nie? Noudat Pansat ontbind is, hoe lyk die pad vorentoe?
Nee, ons vertaal nie genoeg nie, en die pad lyk maar klipperig vorentoe. Iewers langs die pad het ons die visie van ʼn veeltalige nasie verloor. As die mense nie na Breyten luister nie, na ons eie Lorca, watter kans het ons?
En dan: vertalings versus oorspronklike inhoud. Wat is die duurste, wat is die belangrikste, wat is die meriete van elk?
Moeilike vraag. Vertalings is duur, as gevolg van die wisselkoers, en dis regtig moeilik om vertalings gepubliseer te kry, want dit verkoop nie goed in Suid-Afrika nie. Dit maak dit nóg duurder. Albei is belangrik, daar is ʼn wisselwerking (kyk maar na Bybelvertaling). Die meriete van ʼn oorspronklike teks is die manier waarop iets gesê word, vir die eerste keer; die meriete van ʼn vertaling is dat daar ʼn ekwivalent gevind moet word om ʼn nuutskepping te herhaal op ʼn manier wat ook nuut en vernuwend in die leser en of kyker se oor moet klink.
Waaraan skryf of vertaal jy op die oomblik?
ʼn Lieflike, ligte komedie oor ʼn vrou wat probeer vrede maak met 50 word, van Frans na Afrikaans. Dis deurspek met kulturele verwysings, dus bitter moeilik, maar ook ʼn lekker uitdaging.
The post Onderhoud: Om vir Pa te vertaal appeared first on LitNet.