Die gangsters
’n US Woordfees- en US Drama Departement-koproduksie
DEBUUT
Drama
Afrikaans
Geen o/13
Teks: Benoni Dehaeck
Met: June van Merch, Basil Appollis, Stian Bam, Keanen Engel, Dean Smith, Jurgen McEwan, Jodecee Solomons, Melanie Scholtz, Vashti Prins, Dean Olivier, Destiney Reed, Adeline Lamohr en Arlin Bantam
Die gangsters is in Cloetesville.
As die gangsters nie na die US Woordfees wil of kan gaan nie, gaan die US Woordfees na die gangsters.
Op 9 Maart 2016 is die Brueghelteater in Cloetesville stampvol. Die US Woordfees-gehoor lyk soos 'n ware reënboognasie. Almal is daar: Mostertsdrif, Kayamandi. En hoofsaaklik Cloetesville.
In Die gangsters glo hulle egter nie meer in die Reënboognasie nie. By die begrafnis van Joe Jesus – dit is die kernverhaal van hierdie drama – is Desmond Tutu 'n prominente teenwoordigheid. Sy sêgoed en kenmerkende aksent word voortdurend uitgelag en bevraagteken. Dit kan ook gesê word van die polisiekommissaris, die Moslem en die minister van welsyn. Maar Desmond Tutu se bespotting dra die meeste gewig hier – hy, synde die vader van die Reënboognasie. Dis pynlik om te aanskou hoe ontnugter die gangsters in Die gangsters met Desmond Tutu is en hoe hulle hom uitlag. Die gehoor kan nie anders as om met die wegstap, die strate van Cloetesville in, daaroor na te dink nie.
Hierdie gangsters ken hulle Bybel. En hierdie gangsters is nie net ontnugter met Tutu nie, maar natuurlik ook met dit wat hy verteenwoordig: die kerk en die Bybel. Hulle ken die retoriek van teksverse wat sonder krag is as die maatskaplike en sosiale probleme van die omgewing dit oorweldig. Die gangsters herskryf in hierdie toneelstuk die Heilige Boek en hulle verplaas die heilige tekste na hulle omgewing. Elke gangster – drag queen, macho bendeleier, prostituut, moederfiguur – ken vir Joe Jesus persoonlik. Hy het hulle lewens aangeraak. Maar hulle lewens was reeds voorheen aangeraak deur ander dinge: hulle is deur ouers weggegooi; hulle is deur 'n ouma grootgemaak (as hulle gelukkig was); hulle het snags gehoor hoe klap die geweerskote buite hulle deure in die straat. Die gangsters ken ook nie net hulle Bybel nie; hulle ken ook hulle Koran. En vir hierdie geestelike boek is hulle ewe kwaad.
Die gangsters is kwáád. Die lewe het niemand van hulle al ooit goed behandel nie. Tog het die gangsters 'n sin vir humor. En die gangsters kan baie mooi sing, die laaste een van hulle!
Die gangsters weet the show must go on. Hulle ken die teaterwêreld. Die stuk se tekstuur herinner – dalk die meeste terwyl die fopdosser sy/haar monoloog voer – aan 'n Moulin Rouge-teaterstuk: hier is blink kostuums en baie grimering, maar agter elke masker is daar 'n traan.
Die gangsters wil van geweet wees. Hier is geen verwysing na PG du Plessis in die teks nie, maar hierdie tema is van groot belang. Op die verhoog, maar veral af van die verhoog.
Die gangsters het uiters entoesiastiese applous gekry: almal was op hulle voete, daar was voortgesette handeklap en ook ululering en jeugkrete. Hierdie gangsters ís van geweet, al was dit net vanaand op die verhoog.
Die gangsters was op die feesprogram van US Woordfees 2016 en op 5, 6 en 9 Maart in die Brueghelteater in Cloetesville. Die oorspronklike teks is in 1993 deur Benoni Dehaeck geskryf en die stuk is vanjaar by die US Woordfees opgevoer in die Brueghelteater, wat in 1983 gestig is.
The post US Woordfees 2016: Die Evangelie volgens Die gangsters appeared first on LitNet.