Buite blaf die honde swart is Tertius Kapp se vertaling-verplasing van Fransman Bernard-Marie Koltès se 1979-drama Combat de nègre et de chiens (in Engels aangebied as Black battles with dogs).
Die drama speel af op 'n bouperseel iewers in Afrika. Daar is vier karakters in die toneelstuk: drie uit Europa en een uit Afrika. Daar is inderwaarheid drie honde in hierdie toneelstuk, hoewel die Afrikaanse titel sinspeel op hoe sekere wit mense swart mense beskou – en hul vrees vir die swart mens uitlig. Hooftema, in een woord opgesom: #BlackLivesMatter.
Die stuk kon net sowel vir 'n Suid-Afrikaanse gehoor geskryf gewees het. Die temas is aktueel en relevant: swart en wit se ongemaklike verhouding met mekaar. En: die vrou as objek. Die swart man is in hierdie drama tot beskikking van die wit man, soos ook die vrou.
Albert Pretorius is met rede vir 'n Fiësta vir hierdie stuk benoem. Sy karakter is een van die drie honde in hierdie stuk. Dis voor die hand liggend: hy is barbaars en gebruik deurlopend die een afbrekende woord ná die ander as hy van swart mense praat. Die gehoor se reaksie op sy krenkende grappies (kon net sowel langs die braaivleisvuur plaasgevind het) val ook op. Niemand lag as hy naboots hoe 'n swart persoon karikatuuragtig Afrikaans praat nie. Albert Pretorius is uitstekend: hy is tegelykertyd weersinwekkend én wek 'n soort teësinnige (jy wil jou tog nie met hom vereenselwig nie) simpatie. Die monoloog waarin hy vertel hoe 'n swart man na sy skoen spoeg, verdien vermelding. Deurlopend is dit duidelik: sy karakter gee baie meer om vir sy hond se lewe – dit dryf hom telkens tot trane – as vir die lewe van die swart man.
Owen Manamela-Mogane verpersoonlik waarvoor die wit man bang is. Hy is aantreklik – gaan hierdie man my vrou afvry? Hy is onverstaanbaar, ook die taal wat hy praat. Hy is onbekend. Hy verteenwoordig vir die wit gehoor 'n skare swart mense, honde wat buite met vreemde en vreesaanjaende klanke blaf.
Dawid Minnaar is die mees verbloemde hond van almal. Hy is die niestereotiepe man: hy maak nie net staat op aggressie nie, maar op sy denke en redenasies. Hy is ook die man wat Albert Pretorius se karakter verkwalik, nie omdat hy 'n swart mens doodgemaak het nie, maar omdat hy die lyk aangeraak het. ("Jou imbesiel! As jy nie die lyk aangeraak het nie, was dit asof daar niks gebeur het nie!") Hy is die man wat vir die swart persoon omkoopgeld aanbied om stil te bly oor die dood van 'n swart persoon wat veroorsaak is deur 'n wit persoon. Een van sy gesprekke met Owen Manamela-Mogane lig 'n belangrike tema uit: swart mense word as een homogene groep gesien deur wit mense en omgekeerd ("But you have the same blood, you are one tribe").
Tinarie van Wyk Loots is ook vir 'n Fiësta benoem en skitter in haar spel as ‘n emosioneel onstabiele Nederlander wat Afrika begeer, oorromantiseer en glad nie ken of verstaan nie. (Hoe Van Wyk Loots haar lyf in 'n winkelsak pas en telkens weer doodluiters daaruit klim asof sy gewoon by 'n deur in- en uitgestap het, is werklik ook verstommend akrobaties.)
Dis maklik om jou te verbeel dat hierdie toneelstuk vir 'n Suid-Afrikaanse gehoor geskryf kon gewees het. Die Franse deel immers iets van 'n kolonialistiese raakpunt waarvan Suid-Afrikaners met ons dieet van Amerikaanse en Britse popkultuur kan vergeet, behalwe as ons soms 'n Franssprekende karwag uit Afrika in Kaapstad se middestad teëkom.
Buite blaf die honde swart hou 'n spieël voor die Suid-Afrikaanse gehoor se gesig. Dit is ongemaklik om daarin te kyk. Dit is wel baie nodig.
- Buite blaf die honde swart het by die US Woordfees 2016 gespeel
'n KKNK- en US Woordfees-koproduksie
Drama
Afrikaans/Nederlands/Engels/Dakota
Geen o/16 (T) (N)
Teks: Bernard-Marie Loltès
Vertaling: Tertius Kapp
Musiek: Pierre-Henri Wicomb
Regie: Jaco Bouwer
Met: Dawid Minnaar, Tinarie van Wyk Loots, Albert Pretorius,
Owen Manamela-Mogane
The post US Woordfees 2016-teaterresensie: Buite blaf die honde swart appeared first on LitNet.