Grusaam
De Wet Potgieter
Zebra Press
EAN: 9781770229112
Geweldsmisdade het al sinoniem met Suid-Afrika geword, maar dit is nie ʼn nuwe verskynsel in die land nie. In Grusaam neem die ondersoekende joernalis De Wet Potgieter die leser terug op die spoor van ʼn klomp geweldenaars in Suid-Afrika se geskiedenis sedert die laat tagtigerjare wat mens behoorlik laat ril. Dit wissel van fanatiese verregses, hoëprofiel-staatsmoorde tot doodgewone misdaad. Jean Oosthuizen wou by die skrywer weet waar kom die grusaamheid vandaan en waarom mense daaroor wil lees.
Jou jongste boek, Grusaam, is inderdaad vol grusame verhale wat die land geruk het. Die geweldsmisdade waaroor jy skryf, dateer terug tot in die tagtigerjare. Het hierdie stories nie al baard nie, of is daar nuwe inligting waarvan die breë publiek nie weet nie?
Nee glad nie. Jy sê tereg dat dit tot in die tagtigerjare dateer, maar juis daarom het ek elke karakter in my boek volledig behandel vir die nageslagte wat sedert daardie tyd gebore is. Die geskiedenis moet vir ons nageslagte gedokumenteer word. Daar is inderdaad ook nuwe inligting, of ’n interessante nuwe perspektief wat ander lig op die sake werp, sowel as intriges agter die skerm waarvan beslis nie almal weet nie.
Mense is al keelvol vir moord en doodslag. Hoekom sal hulle nóg ʼn boek vol gruwels wil lees as almal al so vuisvoos is vir geweld?
Moord en doodslag bly altyd nuus. In die geval van Grusaam bied dit die leser meer as net geweld en smart, en ek vat die leser saam op my tog deur elkeen van die hoofstukke. Met elkeen van daardie geweldenaars het ek in my loopbaan as ondersoekende joernalis op een of ander manier ʼn persoonlike pad gestap. Ek wou dit graag met die lesers deel.
Die stories waaroor jy skryf, wissel van politieke misdade tot gewone geweldsmisdaad. Watter van hierdie stories het jou as hardebaard koerantman en mens die meeste geraak?
Baie beslis die geval van die vermiste meisies wat deur die pedofiel Gert van Rooyen ontvoer is. Ek het daardie smartlike tog om die meisies op te spoor van meet af beleef. Die desperate pogings om die weerlose kinders betyds op te spoor is onbeskryflik. Met Gert van Rooyen en Joey Haarhoff se dood daar op die laagwaterbruggie het die koorsagtige soektog werklik eers begin. Lewe die meisies nog? Waar is hulle? Dit was daardie vrese dat hulle iewers toegesluit is en doodgaan van honger en dors wat bly spook het, want die uitvaagsels het die geheim saam met hulle graf toe gevat.
Joernalistiek het baie verander sedert die dae toe ons nog sonder rekenaars, selfone of die internet ons werk moes doen. Hoe sou jy vandag se joernalistiek met dié van destyds vergelyk?
Jean, jy kan self ook daarvan getuig. Ons het op die harde manier geleer. Tussen die traangas, klippe en rubberkoeëls van die townships, en die mortiere, en RPG-vuurpyle van Suidwes en Angola het ons met notaboeke, penne en ʼn kamera om die nek verslag gedoen.
Dikwels nie eers tyd om die storie op papier uit te skryf nie (newwermaaind dat daar geen tikmasjien in sig is onder operasionele toestande nie). Net daar tussen niks en nêrens met, genadiglik, soms ʼn telefoon darem binne bereik, het ons berigte so uit die kop uit en met die hulp van die vinnig gekrabbelde notas telefonies na die nuuskantoor deurgebel.
Met spertyd was daar nie die luukse van fensie skootrekenaars, internetstokkies of e-pos beskikbaar nie.
En vandag?
Vandag is dit leunstoeljoernalistiek voor die rekenaar. Ondersoekende joernaliste is uiters dun gesaai en dis duidelik dat die mediabaronne nie juis daarin belangstel om ʼn nuwe generasie van ondersoekende joernaliste te laat herrys nie. Die nuus is halfgebak, die taalkennis vrot en subredakteurs wat die verslaggewers se kopie taalkundig moet regtimmer, is skaars.
Te veel van die jongetjies het geen benul wat die verskil is tussen verslag doen oor ʼn aangeleentheid en ʼn meningstuk is nie. Verslaggewers is daardie mense wat op die kantlyn staan en verslag doen oor die spel op die veld. Hy móét, as onafhanklike waarnemer, vir die leser presies vertel wat hy daar op die veld sien. Hy moenie deel van die spel wees nie en self die opponente wil plattrek nie.
Al die stories waaroor jy skryf, het ʼn element van sensasie in. Die media word dikwels daarvan beskuldig dat hulle net agter sensasie aan is. Is die beskuldiging geregverdig of gaan dit oor meer as sensasie en die verkoop van koerante? En waar lê die grens tussen sensasie en verantwoordelike joernalistiek?
Verantwoordelikheid in beriggewing is noodsaaklik, maar tog moet jy jou leser volledig inlig. ’n Mens kan nie wegkom van sensasionele berigte nie en hanteer hulle so, maar moenie sensasie gaan soek waar dit nie is nie. Moenie onskuldige studentepret in ʼn Nazi-saluut verander nie, of aan ʼn klein dogtertjie wie se pa vir jare tronk toe gaan, ʼn denkbeeldige ope brief skryf nie. Dis sensasiesoek waar dit nie is nie.
As joernalis het jy noue kontak gehad met die polisie, die weermag en die veiligheidsgemeenskap in die breë. In die proses raak mens dikwels ook persoonlik bevriend met van jou kontakte. Hoe beïnvloed dit jou skryfwerk en hoe verhoed ʼn joernalis dat daardie vriendskappe nie sy objektiwiteit en onpartydigheid beïnvloed nie?
Dit is belangrik en ek moet sê dat my kontakte, wat in die meeste gevalle deur die jare goeie vriende geword het, weet daar is geen heilige koeie nie. Die middag toe ek op pad is na my Grusaam-bekendstelling kry ek ʼn oproep van ʼn goeie (baie omstrede) kontak van my wat sê hy hoor ek het ʼn nuwe boek uit. Ja, sê ek, kom maak ʼn draai by die bekendstelling. Hy kan nie, hy is in die buiteland, maar wil net weet of sy naam in die boek is ... Hulle wéét ek weet ... en om te skryf is my werk.
Jy het ook in die loop van jou loopbaan as ondersoekende joernalis bevriend geraak met geharde misdadigers. Elkeen se verhaal is seker verskillend, maar wat is dit wat van iemand ʼn misdadiger maak?
Party word maar skelm en gevoelloos gebore, maar ander se persoonlike omstandighede maak later van hulle misdadigers. Ek dink die politieke omstandighede van die verlede het vir te veel verkeerde mense ’n vrye hand gebied om te maak wat hulle wil. Dit het hande uitgeruk en hulle pluk die vrugte van hul onbesonnenheid. Ander het geglo dit is vir volk en vaderland.
Van politieke omstandighede gepraat: die verhaal wat my die meeste raak in jou boek is die storie van Stefaans Coetzee, die Worcester-bomplanter. As daardie ou soos handomkeer kon verander het van ʼn rassis en koelbloedige moordenaar tot versoener en vredemaker móét daar mos hoop wees vir ons land?
Ja, as mens na Stefaans se geval kyk, is daar beslis hoop vir ons ... mits jou kop reg ingestel is om so ʼn kopskuif te maak. Onthou hulle was vier gewees. Die ander drie, Koper Myburgh, Cliffie Barnard en Jan Voetbôl van der Westhuizen sit nog in die tronk en is steeds onversetlik in hul uitkyk en hang steeds die fanatiese Israel-Visie se doktrine aan.
Wat my veral tref van Stefaans Coetzee se verhaal is die rol wat Eugène de Kock in die tronk gespeel het om hom anders te laat dink en te leer om haat met liefde te vervang.
Ek was bevoorreg om daardie proses van Stefaans se ommekeer te beleef. Die kere wat ek vir Eugène in die tronk besoek het, het hy altyd oor sy stryd gepraat om Stefaans uit die kloue van die fanatici te kry. Daar was ook ʼn stadium in dié stryd waar Stefaans behoorlik ʼn speelbal was terwyl die Israel-Visie se mense aan die een kant alles in hul vermoë gedoen het om met sy kop te smokkel, hom te intimideer en sielkundig geboelie het. Aan die ander kant het Eugène geweier om bes te gee en aanhou veg vir Stefaans se behoud. Dit het veroorsaak dat die regses ʼn toestand van absolute hel vir Eugène in die tronk geskep het. Hulle het almal in dieselfde afdeling in selle langs mekaar gebly en dit was onafwendbaar dat die groep gedurig in mekaar se hare sou wees.
Hoe het Eugène de Kock dit hanteer?
In ʼn stadium het Eugène my uit die tronk gebel en gevra ek moet help dat die spanning ontlont kon word. Ek het amptelike navrae na die hoof van die gevangenis gestuur en in die daaropvolgende geskarrel is die skuldiges ingeroep en gewaarsku om hulle nonsens te staak. Ek het net die hoogste agting vir Eugène wat vir Stefaans onder sy beskerming geneem en dae en nagte met hom sit en gesels het totdat hy hom kon oortuig om sy fanatiese weë te laat vaar.
Dit is die wonderlikste ervaring om deesdae met Stefaans te gesels en sy borrelende entoesiasme waar te neem in sy kruistog om vrede en versoening te bewerkstellig. Vir ʼn mens wat nooit ʼn matriekafskeid kon geniet nie en sy mondigwording agter tralies moes beleef, is hy die verpersoonliking van die weë waar ons almal ons behoort te begeef om stabiliteit in ons land te bring.
Een van die bomslagoffers, Olga Macingwane, se onvoorwaardelike vergifnis teenoor Stefaans Coetzee het ook ʼn groot rol gespeel om hom anders te laat dink, nie waar nie?
Sy het die baanbrekerswerk gedoen en daardie klein vroutjie se liefdevolle omarming van hom met hul eerste ontmoeting het die pad oopgemaak.
Die meeste van die verhale waaroor jy skryf, speel af teen die politieke agtergrond van apartheid. Wanneer mens die verhale herlees, kry mens opnuut die indruk dat die werklike skuldiges eintlik sommige van die generaals en politici is wat met spreekwoordelike moord weggekom het en hul hande soos Pontius Pilatus in onskuld was terwyl die ouens op die grond die vuil werk moes doen en vir die gelag moet betaal. Is dit ʼn billike afleiding?
Jy is reg. Die voetsoldate, apartheid se kanonvoer, moes die prys betaal namens die mense in die ivoortorings.
Het die politici van die destydse NP-regering ooit genoeg verantwoordelikheid aanvaar vir die gruweldade wat onder hulle bewind gepleeg is?
Nee, daar kom nog daagliks nuwe feite na vore oor die vuil spel wat soveel se lewens gekos het. Die jongste is Wynand du Toit se boek Judasbok, waar daar heelwat interessante feite en vrae opduik – meer vrae as antwoorde, maar wie gaan daardie antwoorde bied?
Maar hulle sê dan hulle het nie gewéét wat op grondvlak aangaan nie. Kan mens iemand verantwoordelik hou vir iets waarvan hulle nie kennis gedra het nie?
Ons het daardie jare in ʼn uiters gedissiplineerde omgewing geleef waar die gang van die lewe van bo af beheer was. Die gerieflike geheueverlies, en was van hande in onskuld, hou nie steek nie.
Was ons nie maar in ʼn oorlogsituasie betrokke waar sulke dinge onvermydelik is nie, en kan die politici regtig verantwoordelik gehou word as sommige lede van die veiligheidsmagte soos cowboys opgetree het?
In die gevalle waar elemente buite beheer opgetree het, moes die mense in beheer daar bo tog verantwoordelikheid aanvaar het vir die beleid en siening wat hulle afgewentel het. Persepsies en innuendo’s het baie kere die rol gespeel om die voetsoldate te “inspireer” tot grudade in diens van die saak.
Dan is daar die onopgeloste sake en die raaisels wat altyd in lug sal bly hang. Een daarvan is die moord op die oudmoderator van die NG Kerk, Johan Heyns. Daar is destyds wyd bespiegel dat dit ʼn politieke moord was wat deur regses beplan is. Maar dit lyk nie vir my jy deel daardie mening nie. Dit lyk uit jou boek of die moordenaar iemand was wat hom persoonlik goed geken het?
Dis vir my duidelik dat dit nie ʼn politieke moord was nie. In die gelaaide politieke atmosfeer van daardie tyd het ek ook aanvanklik vas geglo dat dit ʼn verregse komplot was, maar met die nuwe inligting wat beskikbaar geraak het, het dit anders geblyk.
Van die misdadigers in jou boek met wie ek die minste simpatie het, is die verkragters van Alison, wie se verhaal die wêreld se verbeelding 17 jaar gelede aangeryp het. Sy het ʼn besondere indruk op jou gemaak. Waarom?
Sy moes eintlik dood gewees het. Die manier waarop daardie twee haar daardie nag probeer verwoes het, kon geen mens eintlik oorleef nie. Sy is ’n lewende wonderwerk en bewys van God se genade. Afgesien van haar wonderbaarlike herstel is dit ook vir my die pragtige ommeswaai, soos in die geval met Stefaans, wat sy gemaak het en haar swaarkry, pyn en sielewroeging eenvoudig omgedraai en tot haar positiewe menswees aangewend het.
En dan was daar natuurlik Gert van Rooyen na wie jy vroeër verwys het. ʼn Man wat jong meisies ontvoer het en bekendstaan as Gruwel-Gert van Malherbestraat. ’n Mens kan nie anders as om met weersin en afgryse vervul te word as mens van dié vent lees nie. Dit lyk nie of ons ooit sal weet wat van die meisies geword het wat hy ontvoer het nie?
Ek is tans met onderhandelings besig vir ʼn buitelandse televisiereeks oor ons land se opspraakwekkendste onopgeloste misdade. Ek wil nie baie uitbrei nie, maar daar is nuwe inligting wat dalk nuwe lig op die vermiste meisies kan werp. Ek is huiwerig om valse hoop te skep, maar glo tog elke greintjie geloofwaardige inligting moet opgevolg word.
Daar het die afgelope tyd verskeie boeke van jou as “afgetrede” joernalis verskyn. Jy moet seker nog ʼn magdom stories in jou kop hê om te vertel. Kan ons nog boeke van jou verwag?
Ja, ek het so pas met ʼn baie omstrede figuur uit ons verlede die knoop deurgehaak om sy lewensverhaal te skryf. Dan is ek ook al geruime tyd besig om aan ʼn spioenasieriller te werk wat gebaseer is op die waarheid, maar waarin die name van die karakters verander word. Dit sal dus faksie wees. Dit is te sensitief om feitelik te skryf, maar ek glo tog die storie moet vertel word. Indien dié boek se resep werk, is daar nog drie wat gepleeg kan word.
The post Boekonderhoud: Grusame leesstof wat boei appeared first on LitNet.