Margit Meyer-Rödenbeck is Levinia, Liewe Heksie, in die produksie Liewe Heksie Flower Power by US Woordfees 2016. Sy resenseer die boek Liewe Heksie - Leesboek 5, deur Verna Vels.
Liewe Heksie - Leesboek 5
Verna Vels
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798168984
Om ‘n resensie te skryf oor Liewe Heksie: Leesboek 5 is ‘n vreugdevolle versoek wat Ma en dogter met groot geesdrif aanpak, want ons eet, drink slaap die afgelope jaar en ‘n half: Heksie, Heksie, Heksie.
Verna Vels se Liewe Heksie-stories is vir seker nie net op die kleingoed gerig nie, dis stories wat oud en jonk bekoor. In ‘n moeilike ekonomiese en sosiopolitiese omgewing kom die herdruk en uitgee van die reeks boeke net betyds, op die regte tyd. In Blommeland het die tyd die afgelope 55 jaar stilgestaan sedert Liewe Heksie (in 1961) geskep is. Dink net hoe ver was Verna Vels haar tyd vooruit om volronde humoristiese karakters te skep wat die tyd deurstaan het en volksbesit is.
Verna se wenresep lê in die karakters wat vol “lag” is, maar steeds met groot deernis na die lewe kyk. Die stories is altyd eenvoudig; die leser weet vooraf dat liewe Levinia vanweë haar naïwiteit (ek verkies dit bo die woord “dom”, want eintlik is die heksie baie slim) in die moeilikheid gaan beland en dat die situasie dan met die hulp van haar goeie vriende Blommie, Karel Kat en liewe ou Griet gered word. Teen alle verwagtinge in tree Levinia altyd as wenner uit die stryd.
‘n Goeie voorbeeld hiervan is die derde storie in Liewe Heksie: Leesboek 5: “Heksie gaan skool toe”. Heksie het die Hekse-kompetisie gewen en as prys kies sy om skool toe te gaan, wat natuurlik tot groot konsternasie lei (haai oe, watse groot woord is dit vir ‘n undercover heks …), want sy kan glad nie lees of skryf nie en is boonop nie op haar bek geval nie. So jaag Slimkop, die onderwyser, haar weg en dit lei daartoe dat Heksie op presies die regte tyd op die regte plek is om ‘n gifappeltjie te vang wat die Silwerroos wil steel. Heksie is die heldin in die verhaal, maar eintlik moet Matewis, haar slim babakatjie, baie van die eer kry.
“Liewe Heksie kry ‘n kat” is beslis my sesjarige, Luca Human, se gunstelingstorie in die boek. Dit mag dalk daarmee te make hê dat sy die rol van Matewis in die pantomime Liewe Heksie: Flower Power vertolk. Boonop is sy werklik versot op katte en wie kan dan nou nie saamspin as Karel Kat sy nefie, die babakatjie Matewis, in Heksie se arms neerlê nie. Matewis raak tot ‘n mate Heksie se beskermengel met sy “Miau, miau, miau”.
“Liewe Heksie en die Mini” is my gunsteling van die drie stories in die bundel, as ek dan nou een moet kies. Heksie moet deelneem aan die Hekse-talentkompetisie en moet verkieslik iets toor soos die ander hekse. Sy weet dat toorwoorde nie haar sterkpunt is nie en soos altyd wend sy haar tot haar groot liefde: sang. (Tog jammer dat Verna Vels nooit ‘n storie kon skryf oor Liewe Heksie en The Voice nie – ek glo Levinia sou Bobby van Jaarsveld tot trane kon dryf.) Liewe Heksie sing en hoewel koning Rosekrans glad nie beïndruk is nie, kom die Heks van die Berge tot haar redding en sê dat Heksie moet wen, want sy is die oorspronklikste heks. So tree Levinia as oorwinnaar uit, ten spyte daarvan dat sy weer eens nie by die reëls hou nie. Levinia is ‘n goeie leermeester: jy hoef nie in ‘n boksie te pas nie, maar as jy in jouself glo en met die beste intensie lewe, sal jy die stryd wen.
Voeg by Verna Vels se vertellings Vian Oelofsen se illustrasies wat die komiese besonder knap vasvang. Die kleurryke tekeninge maak dat jy langer op die bladsy talm. Oelofsen slaag daarin om die Liewe Heksie-karakter te moderniseer, sonder om die tydloosheid van die verhale in te boet.
“Haai oe, Blommie. Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek bly ‘n lewenslange fan. Levinia, you go girl!”
Bespreek vir Liewe Heksie Flower Power:
US Woordfees 2016: Stellenbosch Stadsaal - 5 Maart om 09:00; 12:00, 12 Maart om 09:00; 12:00, 13 Maart om 11:00 - Computicket
Pretoria: Brooklyn Teater- 19 April- 1 Mei - (012) 460 6033 & aanlyn by www.brooklyntheatre.co.za
The post Resensie: Liewe Heksie - Leesboek 5 deur Verna Vels appeared first on LitNet.