Al word die engel Gabriël Suid-Afrika se volgende president sal dit nog sewe jaar duur om die gemors in die land reg te maak.
So het die oudrektor van Noordwes-Universiteit en tans die nie-uitvoerende voorsitter van die FW de Klerk Stigting, Theuns Eloff, tydens die bespreking van sy nuwe boek, Wat nou, Suid-Afrika?, by die Woordfees gesê.
Eloff het sy gedagtes in ’n volgepakte ATKV-Boektent gedeel oor daardie dinge waaroor alle Suid-Afrikaners om braaivleisvure wonder en praat: Is ons ’n mislukte staat?
In sy gesprek met die politieke joernalis Jan-Jan Joubert het Eloff geen doekies omgedraai nie. Die land is in groot moeilikheid, maar dit is nie nodig om in sak en as te gaan sit nie.
Wat hom betref, is die land nie ’n mislukte staat nie, maar wel ’n gekweste staat.
Die wonde wat die land toegedien is, sny diep. Eloff het geen rooskleurige prentjie geskep van die huidige Suid-Afrika nie. Die bedreigings wat op almal se lippe is, rammel hy die een na die ander af: werkloosheid en verlammende armoede, die impak van regstellende aksie, die bedreigings vir die oppergesag van die Grondwet, die probleme in ons onderwys, misdaad ... noem maar op.
Eloff se kommer en hoop vir die land word nie uit die duim gesuig nie. Hy steun op die jongste navorsing en op sy ervaring in die politieke en sakewêreld om nuwe perspektief op al hierdie kwelvrae te gee.
Eloff het Woordfeesgangers vinger op die pols vertel hoe hy die land tans beleef en waarom hy ondanks alles steeds passievol is om nie net by braaivleisvure te sit en mor nie, maar om die bul by die horings te pak. Hy glo dit kan gedoen word sonder om altyd polities korrek te wees.
Met dieselfde passie waarmee hy hom destyds as studenteleier beywer het vir ’n beter en regverdiger Suid-Afrika, doen hy dit nou nog. Almal wat die geskiedenis ken, sal onthou hoe PW Botha sy en die ander jong “rebelle” van destyds se paspoorte wou terugtrek toe hulle in die tagtigerjare deel was van ’n groep Afrikaners wat Dakar toe is om met die ANC te praat oor die land se toekoms.
Eloff praat uit ondervinding van die donker verlede van destyds wanneer hy oor vandag se troebel stand van sake gesels.
Dit is nie net die staat wat die wonde dra van dit wat tans in die land gebeur nie. Eloff is self diep gewond as rektor by die Universiteit van die Noorde. Wonde waarvan die letsels duidelik nog sigbaar rou is.
“Ek het bewustelik nie in hierdie boek oor hoër onderwys geskryf nie,” sê Eloff. “En ek sal dalk net te kwaad raak as ek vandag daaroor praat.” Maar hieroor is die laaste woord duidelik nog nie gespreek nie. Hy het aangedui dat dit waarskynlik die volgende boek is wat besig is om in sy kop te broei.
Eloff gee toe dat die land nie in ’n japtrap in ’n paradys sal verander nie. Enige nuwe president wat ná Zuma kom, sal van voor af moet begin en ’n nuwe kultuur van etiek in veral die staatsdiens moet invoer.
Terwyl regerings regoor die wêreld kaderontplooiing suksesvol gebruik het om hulle onderskeie lande reg te ruk deur die regte mense in sleutelposisies te plaas, gebruik Zuma dit om diegene naaste aan hom in daardie posisies aan te stel om homself te bevoordeel, sê Eloff.
Ook die manier waarop regstellende aksie toegepas word, het ’n verwoestende uitwerking op die land. Die gevolg daarvan is dat die minderheid van die bevolking ontuis voel in hulle eie land en onbevoegde mense soms aangestel word in poste wat hulle nie kan bemeester nie.
Dit is veral die chaos in die onderwys wat hom kwel. Die grootse sondebok hier is volgens hom die ANC-geaffilieerde onderwysvakbond Sadou. Hy glo dié vakbond het ’n verwoestende greep op die land se skole wat die opvoeding van kinders duur te staan kom.
Die ander vrot appel in die onderwys is die taalprobleem. Nie Afrikaans nie, maar Engels. Leerders met inheemse tale as moedertaal ontvang van graad 3 af onderrig in Engels in plaas van in hulle eie moedertaal. Dit terwyl die meeste van die onderwysers nie eers self behoorlik Engels kan praat nie!
Om hierdie probleem reg te stel sal volgens Eloff minstens 12 jaar – die lengte van ’n kind se skoolloopbaan – duur.
Die woelinge op voorheen Afrikaanse universiteitskampusse en die optrede van organisasies soos Solidariteit en AfriForum se jeug om Afrikaans as onderrigtaal te verdedig is een van die sake waaroor Jan-Jan Joubert Eloff gepols het. Wat doen Solidariteit en AfriForum reg om die onrus op kampusse aan te spreek en wat doen hulle verkeerd, wou Joubert weet.
Met sommige se goedkeuring en tot ander se ontsteltenis was Eloff besonder sag en tegemoetkomend oor die jeug van AfriForum en Solidariteit se optrede op die kampusse, al stem hy nie altyd saam met hulle strategie nie.
Sy verduideliking is dat baie Afrikaanse studente nie polities geskool is nie. AfriForum se jeug is volgens hom die enigste organisasie wat studente weer meer betrokke gemaak het en hy verwelkom dit.
As voorbeeld van hulle sukses het hy die onlangse ooreenkoms genoem wat tussen Solidariteit, AfriForum, die ANC en die SAKP bereik is om gemoedere op die kampusse te kalmeer. Hy gee toe dat dit net ’n tydelike alliansie is en dat die ANC en SAKP dit gebruik om die EFF voor die plaaslike verkiesing te isoleer. Die belangrikheid van so ’n ooreenkoms moet egter nie onderskat word nie.
In die algemeen gaan dit nie so sleg in die land ten opsigte van rasseverhoudings as wat mens altyd in die media lees nie, sê Eloff. Veral onder die gemiddelde inkomstegroepe van Suid-Afrikaners is daar ’n groter saambestaan tussen die verskillende rasse.
Hy waarsku egter dat die land groot moeilikheid in die gesig staar as daar nie daadwerklike pogings aangewend word om hierdie saambestaan deel te maak van ons kultuur nie. As die land nie daarmee slaag nie, kan Suid-Afrika maklik ’n twee Rwanda word, waar etniese konflik gedy en een groep deur ’n ander groep geteiken word.
Oppas vir oordrewe politieke korrektheid, het Eloff gewaarsku. Dit is ewe destruktief. Daar is ’n fyn balans tussen buffelagtige optrede soos dié van sommige verregses en politieke korrektheid.
Die gesprek is afgesluit met ’n vraag van Joubert of Eloff hoop het vir die land se toekoms. Sy antwoord was ’n onomwonde ja, maar dit sal harde werk kos. Hy glo die geskiedenis het bewys dat Suid-Afrikaners al telkens tot baie naby aan die afgrond beweeg het, maar elke keer as hulle voor die afgrond te staan kom, besef hulle dit is beter om daarvan weg te beweeg as om oor die afgrond te tuimel.
Dit is nie net die regering wat moet verhoed die land na benede stort nie. Daar is genoeg Suid-Afrikaners van alle rasse met gemeenskaplike waardes om te keer dat die afgrond ons voorland is.
Dit gaan tans sleg op baie terreine, maar wat is tien jaar in ’n land se leeftyd? het Eloff gevra. As studenteleier, predikant, voorsitter van ’n skoolbeheerliggaam, Dakar-ganger, administrateur by die vredesonderhandelinge en Kodesa, sakefasiliteerder, voorsitter van die Aardklop-kunstefees, president van ’n nasionale sakeorganisasie en rektor van Noordwes-Universiteit het Eloff al talle afgronde in die gesig gestaar.
Mens kan net hoop en glo hy is reg dat ook die huidige afgrond waarvoor die land hom bevind, tydelik is.
Foto's Naomi Bruwer
The post US Woordfees: Wat nou, Suid-Afrika? appeared first on LitNet.