Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Teaterresensie: The Kingmakers by die Fugardteater

$
0
0

The Kingmakers - foto deur Louis Viljoen en beskikbaar op die Fugardteater se webwerf

Dié toneelstuk het aan Louis Viljoen die 2014 Fleur du Cap-toekenning vir beste nuwe teks en ook nuwe regisseur besorg. Diegene wat sy vorige werke, Champ (2013) en The Pervert Laura (2015), gesien het, sal weet dat hy geen doekies omdraai nie en vlymskerp waarneem.

The Kingmakers speel in ’n raadsaal af. Die snippermandjie lê tot oorlopens vol wegneemkoffiehouers, en daardie kafeïen wat in hul are vloei, loop by hul monde uit, oor na jou ore.

Drie karakters, Arlow (Pierre Malherbe), Daniel (Brent Palmer) en Amy (Rebecca Makin-Taylor) is die strategiebeplanners vir die land se amptelike opposisieparty. Hul kandidaat faal jammerlik in ’n openbare debat en daar moet vinnig planne beraam word hoe om die kandidaat te verwyder met die minste skade, maar ook hoe om ’n nuwe, geskikte kandidaat in sy plek te werf.

Hoewel daar geen verwysing na Suid-Afrika is nie, is dit duidelik ’n blik in Suid-Afrika se “demokrasie” en die skrywer se gevoel jeens daardie bestel. Die Marikana-tragedie, die politieke slagveld waar die Zumas en die Malemas en Maimanes en die unies en die mynbase speel, kry skerp kritiek.

Die debat is vinnig, oortuigend en só eerlik en op die man af dat dit jou kop laat tol. Die openingstonele tussen Arlow en Daniel gee ’n kykie in hoe dit daagliks in ons land se politieke kringe moet gaan: hoe die boodskap onbelangrik word, maar die oortuiging waarmee en hogere woorde waarin dit gelewer word, soms die deurslaggewende faktor is. Iewers probeer Daniel nog wal gooi, ’n stuiwer in die armbeurs gooi oor etiese en morele waardes, maar Arlow het ’n teenargument vir elke standpunt.

Die rolle verskuif effens wanneer Daniel op sy beurt vir Amy aan boord moet kry. Sy gladdebek praatjies moet haar oortuig dat hulle nie aan die verloorkant staan nie; dat die amptelike opposisieparty nie hul greep op die situasie verloor het nie. Dat die afwesigheid van ’n geskikte opvolger nie regtig ’n krisis is nie.

Soos die knelpunte een na die ander uitkom – die dreigemente van die nasionalisering van die myne, die oordrag van mag aan die menigtes – besef jy hoe diep die stuk in Suid-Afrikaanse politieke kwessies gewortel lê.

Viljoen se teks laat jou eie emosies wipplank ry: soms laat jy jou ompraat deur die bog wat Arlow en Daniel uitdeel as hulle dinge regverdig soos: “Mag aan die mense; ek is mense, jy is mense.” Jy sien oor dat hul verdraaiing van die waarheid eintlik net hul eie basse red en die belang van die kiesers nie regtig ’n faktor is nie. Soms verag jy die hele bedrogspul en wil jou van niks laat oortuig nie.

Amy se woedende monoloog oor mense se gebrek aan belangstelling in plaaslike politiek omdat dit nie “sexy genoeg is nie” laat jou armhare regop staan. Sy sê onder meer dat Amerikaanse politiek die beste skouspel in die wêreld is. “Dis sexy; dis seks. Die kandidate is mooi, hul lewens iets om na te strewe. Dit lok belangstelling regoor die wêreld uit.

“Ons word só meegevoer, dat ons nie omgee om vir die vier jaar van die kandidate se termyne die slagoffers van hul slegte besluite te wees nie, want die hele kompetisie was goed genoeg vermaak. Almal voel goed, almal lyk goed.”

Hier by ons is daar nie een aantreklike, goedversorgde kandidaat nie, mymer sy.

En om haar te oortuig om verby die reusagtige probleemolifant in die vertrek te kyk, kom Arlow en Daniel met hul troefkaart: “Ons word regeer deur burokrate en barbare. Dit kan net sowel ons burokrate en barbare wees.”

Dinge ruk handuit toe ’n “vreedsame” mynstaking 44 dooie mynwerkers tot gevolg het. Daniel kan dit nie verwerk nie, maar Arlow en Amy is vol bravade: soms moet mense sterf vir die groter goed.

Lank nadat die ligte gedoof het, klop jou hart nog vinniger; die bloed bruis deur jou slape. Dis asof jy ’n kykie in ’n regte Suid-Afrikaanse politiekebesluitnemingsessie gekry het. Die indringde kyk na politiek laat die lyne tussen realiteit en teater verdof.

Niemand wen nie, die omvang van die skade word net behendig bestuur. En die magteloosheid van die situasie laat jou arms lam op jou armleunings bly lê.


 

The Kingmakers

Met: Pierre Malherbe, Brent Palmer en Rebecca Makin-Taylor

Deur: Louis Viljoen

Regie: Louis Viljoen en Eric Abraham

Kostuums: Lamees Albertus

Die Fugard-teater, Kaapstad

23 Februarie – 19 Maart 2016

LW: Stroboskopiese ligte word gebruik. Die teks bevat uiters kru taal en daarom word daar geen onder 16’s toegelaat nie.

Kaartjies deur Computicket of die Fugard-kaartjiekantoor by 021 461 4554.

The post Teaterresensie: The Kingmakers by die Fugardteater appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>