Clik here to view.

Stoomtrein (foto: wikipedia)
Die simfonie van die treinwiele se klikke-klak, klikke-klak en die vinnige aanhoudende paf-paf-paf van die stoomlokomotief het ʼn kalmerende uitwerking op klein Chrisjan se onstuimige gemoed. Die trane is nie ver nie, maar ’n man van nege mag nie huil nie.
Pa het hulle op die stasie afgesien. Hy het Ouboet gehelp om die groot tas bo-op die bagasierak te kry. Met ’n onleesbare strak gesig het hy die drie seunskinders plegtig met die hand gegroet en die tweeling, Marie en Tinka, met ʼn piksoentjie. Toe die trein die stasie uittrek, het hulle by die venster uitgehang en vir hom gewaai tot hulle hom nie meer kon sien nie. ʼn Eensame figuur op die byna leë perron van Kimberley se stasie.
Die rol komberse is onder die sitplek ingeskuif en die kosmandjie met padkos staan op die uitvoutafeltjie. Almal is nou stil. Die tweeling sit by die vensters en uitkyk. Tinka se arm is beskermend om die vierjarige Gertjie wat sy duim sit en suig.
Na ’n ruk staan Ouboet op. “Ek gaan net gou kyk waar’s alles,” sê hy.
Chrisjan is effe verwonderd. Wat wil hy kyk? Toe hulle met die trein van Johannesburg af diggings toe gegaan het, het hulle elke hoekie en draaitjie van die trein deurgesnuffel. En treine lyk mos maar dieselfde. Maar hy vra nie vrae nie. Ouboet Bertus is al dertien en is die groot een noudat pa nie hier is nie.
Na ’n hele ruk kom Ouboet haastig die kompartement binne. Sy oë is groot. Sy asem jaag. “Die kondukteur is nog net twee waens ver,” sê hy vervaard.
“Nou? Haal solank die kaartjies uit,” sê Chrisjan skouerophalend. Hoekom sou Ouboet so ontsteld lyk?
“Ons het nie kaartjies nie,” kom dit stomp en sonder omhaal. “Ek het net Oupa se telefoonnommer.” Hy haal ’n verkreukelde briefie uit sy hemp se sak.
Hulle kyk hom stom aan. “Nou wat nou?” stamel Chrisjan verdwaas.
“Ek sal kywie hou,” sê Ouboet. “As die kondukteur in die wa net voor ons s’n begin kaartjies knip sal ek vir julle wink. Tinka, dan vat jy vir Gertjie en Marie en gaan wag in die lewwetrie. Chrisjan, ek en jy wag hier. Daar is twee vol kompartemente voor ons s’n. As hy daar ingaan sluip ons gou verby na die vorige wa. As hy met hierdie wa klaar is, kom ons terug. Ek dink nie hy sal weer hierlangs kom nie. Sy koepee is daar voor op die punt.”
Die klompie stem woordeloos in. Dit voel soos ure voor Ouboet wink. Met Gertjie swaar op haar heup strompel Tinka na die punt van die wa toe. Marie is kort op haar hakke. Gelukkig is daar niemand in die lewwetrie nie. Uitasem trek hulle die deur toe.
Terug by Chrisjan in die kompartement loer Bertus versigtig om die deur. Hy hou sy asem op. Sê nou die kondukteur bly in die deur staan as hy die mense se kaartjies knip? Met verligting sien hy hom ingaan en die twee kruip geluidloos verby. Die heel laaste kompartement in hulle wa is leeg en Bertus pluk sommer vir Chrisjan daar in.
Uiteindelik sluk die volgende wa die kondukteur in. Die seuns wag nog ʼn bietjie om seker te maak die kondukteur kom nie terug nie. Toe dit veilig is, gaan verlos hulle die ander drie uit die klein spasie.
Terug in hul eie kompartement begin die dogtertjies giggel. “Daar’t ʼn tannie aan die deur kom klop. Sjoe, ons het geskrik!” proes hulle.
Noudat die spanning gebreek is, is hulle skielik rasend honger. Die kosmandjie word nader getrek en die karige inhoud verdeel. Daarna word slaapplek uitgedeel, want dit is al byna donker buite. Ouboet slaap bo, Chrisjan en Marie in die middel en Tinka en Gertjie onder. Die kondukteur maak nie weer sy verskyning nie en die moegheid oorval hulle. Hulle maak die rol komberse oop en elkeen skrop sy plekkie. Tinka lê by Gertjie tot hy aan die slaap raak.
Chrisjan lê gespanne wakker. Sê nou die kondukteur kom tóg terug? Hy hoor Tinka terugglip na haar slaapbank. Die ander kinders begin een vir een dieper asemhaal. Net hy lê grootoog die donker en instaar.
Hy wil net insluimer toe hy voetstappe in die gang hoor afkom. Dit kom voor hulle kompartement tot stilstand. Sy keel trek toe van benoudheid.
Hy hoor die kondukteur se sleutel in die deur draai.
Die deur gaan effens oop.
Chrisjan trek die kombers oor sy kop. Deur ʼn skrefie sien hy ʼn flitsliggie oor die kinders speel. Dan trek die kondukteur weer die deur toe.
Dit neem nog ʼn hele tyd voor Chrisjan se kloppende hartjie tot ruste kom. Van uitputting raak hy naderhand aan die slaap, maar hy rol onrustig rond. Die telegram wat laas Vrydag gekom het, teister hom. In sy drome staan hy weer met die telegram in sy hand. Hy hoor sy pa se voetstappe aankom. Pa mag nie weet hy het dit gelees nie. Paniekerig probeer hy die telegram wegsteek, maar sy broek het onverklaarbaar nie sakke nie.
Gertjie begin in sy slaap kerm. Hy snik saggies. Chrisjan skrik natgesweet wakker met die narigheid oor die telegram ʼn knop op sy maag. Hy hoor hoe Tinka weer by Gertjie inklim. Gertjie het seker oor Mammie gedroom, dink hy.
Skielik oorweldig die hartseer hom. Die verlange na sy ma pyn in hom. Hy mis ook vir Sussa so baie. Sy was altyd aan sy kant as Alet of Ouboet hom boelie. Nou is hy die oudste na Ouboet en hy moet help om na die kleineres te kyk. Trane loop stil oor sy wange. Van daardie vreeslike dag af toe Mammie en Sussa en Alet in die vleidam verdrink het, is die lewe baie deurmekaar. Hy wil nie eers daaroor dink nie. Sy hart is ʼn klont binne-in hom.
Chrisjan probeer die gedagtes wegskuif, maar die beelde van daardie dag bly in sy kop opkom. Hy sit regop. Hy wil nie meer op die slaapbank bly lê nie. Hy wil uit. Gaan rondloop. Dis al wat help om die dink te keer. Tog waag hy dit nie, en hy gaan lê maar weer.
Die gedagtes bly hulle aan hom opdring.
Pa is so legerig sonder Mammie. Mens kan nie juis met hom praat nie. Dit voel amper asof hy ook weg is. Niks meer gesittery van Gertjie op sy skoot nie. Niks stories van toe hy klein was nie. Toe die perskes begin blom het, het hulle verniet gewag dat hy hulle roep om perskebloeisels te kom pluk vir die huis. Seker oor hy nie meer vir Mammie ʼn verrassing kon maak nie. Hulle het net later ʼn paar takkies bloeisels in botteltjies op die grafte gesien. Pa’t nie eers vir hulle gesê om saam te kom nie.
Toe pa se kop diggings toe begin staan het, het dinge ‘n bietjie beter geword. Pa het weer begin gesels. Hy was vol planne en drome. Pa was nooit baie lief vir boer nie. Daar was te veel droogte en gesukkel. Maar die gedagte aan die diamante het sy oë laat vonkel. Die avontuur van diggings toe gaan het hulle almal opgewonde gemaak.
Vir ʼn rukkie het dit goed gegaan. Alles was nuut en interessant. Hulle het lekker gebly in die losieshuis. Die tannie was goed vir hulle. Maar dag vir dag het Pa niks gekry nie. Dae het maande geword. Hy het weer stil en onbereikbaar geword.
Die plaas se geld het begin opraak en hulle moes uit die losieshuis trek. Die blyery in die twee tente en die selfkosmakery het nie gewerk nie.
Nou sit hulle op die trein na Oupa-hulle toe. So sonder kaartjies. En die ander weet nie van die telegram nie. Hy’t vir niemand gesê nie. Nie eers vir ouboet nie.
Chrisjan se keel trek toe. Hy wil nie oor die telegram dink nie. Angs dryf hom en hy seil van die bank af en sluip stilletjies by die deur uit. Dis darem al lig.
Daar in die gangetjie kry die kondukteur hom.
Gespanne wag hy vir die kondukteur om te praat.
“Boetman, ek het nog nie julle kaartjies geknip nie,” sê die kondukteur, nie onvriendelik nie.
Chrisjan probeer praat, maar kry eers niks uit nie. Dan kom sy stemmetjie sag en benoud: “Ons het nie kaartjies nie, Oom.”
“Ek het so iets vermoed,” sê die kondukteur en hy loer by die kompartement in. “Waar is julle ouers?” vra hy.
Ouboet sit nou regop op die boonste slaapbank en antwoord: “My pa is by die diggings, Oom. Ons gaan na my oupa toe in Johannesburg.”
“Wat is jou naam, ou seun?” vra die kondukteur.
“Bertus, Oom,” antwoord hy en haal die verkreukelde briefie uit sy bosak. Dis vuil van baie uithaal om te kyk.
“Dis my oupa se telefoonnommer, Oom,” sê hy heserig.
Die kosbare briefie is amper soos ʼn offer in die plek van die kaartjies.
Die kondukteur ry op en af op sy tone en tik-tik met sy knipper op die briefie.
“Ek is regtig jammer, maar ek sal julle op die volgende stasie moet afsit,” kom die beslissing. “Dis Wolmaransstad. Die inspekteur klim gewoonlik op Klerksdorp of Potchefstroom op en as hy agterkom dat ek julle verniet laat ry het, kan ek my werk verloor. Ek sal die stasiemeester vra om jou oupa te bel om julle te kom haal.”
Die kinders kyk hom verslae aan. Vir ʼn oomblik lyk dit of hy weifel. Sy skouers word krom asof hy iets swaars dra. Dan draai hy om en stap weg.
Die vyf kinders bly verlate met hulle groot tas, bondel komberse en kosmandjie op die perron agter, terwyl die ander passasiers wat afgeklim het, in die duikweg verdwyn. Niemand het opgeklim nie. Hulle sien hoe die kondukteur kopskuddend met ʼn man met ʼn vlag gesels en vir hom die briefie gee.
Die skril geluid van die kondukteur se fluitjie klink waarskuwend op. Hy spring in die trein. Met ʼn langgerekte, hartseer fluit stoom die trein die stasie uit. Vir oulaas lig die kondukteur sy hand simpatiek in ʼn groet terwyl hy nog halflyf by die trein uithang.
Die ouerige stasiemeester maak die kinders in die wagkamer tuis. Hulle hoor hoe hy in die kantoortjie langsaan die telefoon se slinger draai. Toe die sentrale optel, vra hy vir Johannesburg. Die verdere gesprek is te sag vir hulle om te hoor.
Tinka haal die laaste beskuit uit en verdeel die melk wat oor is, tussen hulle. Sy bêre net ʼn bietjie vir Gertjie vir later. Niemand praat nie.
Uiteindelik kom die stasiemeester weer die wagkamer binne. “Ek het julle oupa gekry,” sê hy. “Hy sal julle kom haal. Maar dit is ver; dit sal lank vat voor hy hier is.”
“Baie dankie, Oom,” sê Ouboet bly.
“Kom ons gaan speel hop-skots,” stel Marie voor en die drie kleinstes hardloop na buite. Chrisjan voel nie lus om saam te speel nie. Die nuus het vir hom geen verligting gebring nie. Hy stap weg en gaan sit op ʼn klip onder ʼn doringboompie daar naby. Ingedagte trek hy patrone in die stowwerige grond.
Bertus kom sit by hom. “Toemaar Chrisjan,” probeer hy troos, “as ons eers by Oupa-hulle is, sal alles beter wees.”
Vir ʼn oomblik kyk Chrisjan hom byna vyandig aan. Dan laat sak hy sy kop. Dis nie Ouboet se skuld nie. Hy wéét nie eers nie. Tog voel dit vir hom asof Ouboet hulle verraai het. Hy kan nie met hom praat nie. Dis asof hy nie meer een van hulle is nie.
Bertus sug, vryf Chrisjan se hare deurmekaar en stap dan terug na waar die ander op die perron speel.
Die dag draal lank. Die stasiemeester se vrou stuur ʼn mandjie met kos vir die kinders. Gertjie raak aan die slaap op ʼn kombers wat Ouboet vir hom op ʼn bank oopgegooi het.
Toe die Chev voor die stasie stilhou, hardloop die ander kinders hulle oupa opgewonde tegemoet. Chrisjan tel die leë kosmandjie op en kom loodvoet agterna. Die andersins streng, effe ontoeganklike man groet hulle bewoë.
Chrisjan sink in ʼn hoekie agter in die motor weg. Ouboet sit voor. Dis ʼn lang rit. Chrisjan se hart word al swaarder. Hy sluk aan ʼn knop in sy keel. Hy wonder wanneer sal Oupa vir hulle sê ...
Hy hoor hoe Marie vir Tinka fluister: “Ouma sal seker vetkoek bak.”
ʼn Traan biggel oor Chrisjan se wangetjie. Vetkoek help niks. Al waaraan hy kan dink, is die telegram van sy oupa af.
In groot letters staan dit in sy kop geskryf: SAL BERTUS INNEEM Stop PLEK VIR ANDER IN LANGLAAGTE WEESHUIS Stop GROETE Stop.
The post Die treinreis appeared first on LitNet.