Image may be NSFW.
Clik here to view.
How long will South African survive?
RW Johnson
Jonathan Ball
ISBN: 9781868426348
Daar is lank gewonder wat die uiteinde van Suid-Afrika onder apartheid sou wees. En hoe Suid-Afrika ná apartheid sou lyk.
Die antwoord is, vier verkiesings later, alombekend. Die vrae staan steeds belangstellendes in die politiek se boekrakke vol. ’n Goeie voorbeeld is How long will South Africa survive? deur RW Johnson, politieke ontleder en skrywer. Dié boek is in 1977 uitgegee. Wat dit weer relevant maak, is dat daar pas ’n boek met dieselfde titel en deur dieselfde skrywer verskyn het.
In die nuwe boek neem die skrywer 20 jaar ná apartheid bestek op en skep hy ’n toekomsblik. Ons sal eers na báie jare weet hoe akkuraat Johnson die antwoord op die vraag op sy boek se omslag geformuleer het. Maar dalk is die éérste boek ’n goeie rigtingwyser: as dié voorspellings akkuraat was, is Johnson se reputasie as politieke voorspeller veilig en gee dit miskien groter geloofwaardigheid aan boek twee.
Suid-Afrika, sê Johnson, sal altyd hier wees, omdat sy inwoners nêrens anders het om heen te gaan nie. ’n Meer akkurate vraag op die omslag sou dus wees: Hoe lank kan Suid-Afrika in sy huidige vorm oorleef? En op die eerste boek se omslag: Hoe lank sal Suid-Afrika onder apartheid oorleef?
In die 2015-boek word daar na die huidige Suid-Afrika gekyk en veral na Suid-Afrika onder Jacob Zuma. Johnson ontleed ekonomiese faktore, die nuwe klassestruktuur en die invloed wat Malema se EFF op Suid-Afrika se toekoms kan hê. Sy voorspellings leun swaar op finansiële faktore om onder meer te staaf hoekom Suid-Afrika nooit dieselfde pad as Zimbabwe kan loop nie: ons finansiële bestel, wat hoofsaaklik om en in Suid-Afrika se stede gesentreer is, maak dit onmoontlik. Ons ekonomie is daarby aan internasionale faktore uitgelewer.
Suid-Afrika se geldsake kan egter nogtans só versleg dat daar na die Internasionale Monetêre Fonds as reddingsboei gegryp moet word. Dié hulp sal gekoppel wees aan streng voorwaardes. ’n Faksie in die ANC kan in protes teen dié voorwaardes by die EFF aansluit. Dit kan uitloop op die Mugabe-opsie – en ’n donker toekoms. As teenreaksie kan die ANC met die DA saamwerk om die IMF se voorwaardes af te dwing.
Anders as met die eerste boek voorsien Johnson ’n amper hopelose toekoms vir Suid-Afrika: miskien gaan dit beter, maar nie voor dit veel slegter gegaan het nie.
Die antwoord wat Johnson in die laaste sowat 40 bladsye van die eerste boek op die titelvraag probeer gee, word voorafgegaan deur ’n reeks hoofstukke wat dié slotsom moet staaf. In die eerste hoofstuk, “The Sharpeville Crisis and the Defeat of the Revolution”, word Sharpeville en (veral) die Soweto-opstande, nié as oorwinnings beskou nie: Sharpeville en die 1976-opstande was spontane uitbarstings wat swak deur die revolusionêre leiers-in-ballingskap hanteer is.
Dit wou lyk of die ekonomie en wit kieserskorps se selfvertroue ná Sharpeville geknou is, maar die ekonomie was sterker as ooit en die weermag en polisie goed bewapen. ’n Gewelddadige oorwinning deur die ANC of ’n oorwinning te danke aan ekonomiese sanksies het onmoontlik gelyk.
Volgens Johnson was die antwoord op hoe lank die minderheidsregering sou oorleef, wat die regering betref eenvoudig: “The whites will survive as long as they have to.” Met Vorster aan bewind is geglo dit was ’n kwessie van tyd voor die tuislande gevestig sou wees, maar enkele stemme binne die wit minderheid het gewaarsku dat dit feitlik te laat is vir ’n Suid-Afrika waarin almal welkom en veilig is. Maar, skryf Johnson, “The clock is stuck on five minutes to midnight.”
Volgens Johnson is daar geskiedkundige bewyse dat ’n minderheid ’n oormag langer kan onderdruk as wat ’n mens sou dink. Afrikaners sou die mag behou omdat hulle, anders as die minderhede in voormalige Europese kolonies, nêrens heen kon vlug nie. Daar was ook geen “moederland” wat demokrasie kon afdwing nie. Die apartheidsregering kon tot diep in die negentigs regeer, mits die regime brutaal teenoor sy binnelandse teenstanders optree.
Maar hoe akkuraat was Johnson se 1977-voorspellings?
Die aftakeling van apartheid sou inderdaad moes wag tot die negentigerjare. Apartheid sou ook slegs beëindig word deur die party wat dit geïmplementeer het, al het buitelandse en binnelandse druk hulle nie met veel van ’n keuse gelaat nie.
Johnson se voorspelling dat struggle-bewegings nie op die tuislande se ondersteuning kon staatmaak vir hul gewapende stryd nie, is ook reg bewys. Die Nasionale Party onder De Klerk se verbintenis tot volle demokrasie sou gekniehalter word deur die tuislande wat hy self geskep het. Die oplossing was vir die minderheidsregering om eenvoudig sy rug op sy eertydse bondgenote te draai.
Johnson het egter uit die bus geval wat sy voorspellings met betrekking tot die internasionale politiek betref. Johnson het voorspel dat die kommunistiese lande konstant sou groei en die Weste op ekonomiese gebied sou oorskadu. Drukgroepe in veral die VSA sou wou hê dat hulle regerings in (onder meer) Suid-Afrika ’n “last stand” maak om te keer dat die kommunistiese invloed versprei: Suid-Afrika se minderheidsregering sou kon staatmaak op sterk steun vanuit die Weste. Ironies genoeg sou dit meebring dat die VSA volle demokrasie op Suid-Afrika kon afdwing deur te dreig om alle steun op te skort. Helaas: die teenoorgestelde het gebeur.
Maar die een uitlating in Johnson se boek wat ’n leser ná soveel jare steeds laat frons, is: “If one is looking for a white civilian politician who is sufficiently tough to force through majority rule and sufficiently right-wing to retain conservative confidence (...) perhaps Andries Treurnicht is the man.”
’n Mens waardeer die skrywer se waagmoed met bostaande stelling, maar dié en sommige ander van Johnson se voorspellings was ver van die kol. Dalk, net dalk, beteken dit dat die voorspellings in sy tweede boek ook nie akkuraat gaan wees nie. Waarop ’n mens net sal kan sê: dank die hemel!
The post Lesersindruk: How long will South Africa survive? deur RW Johnson appeared first on LitNet.