Sweeney Todd, the demon barber of Fleet Street ... Daar was genoeg waarskuwing voor jy jou sitplek inneem: dis ’n musikale riller, deur dieselfde span wat vir onder meer Little shop of horrors verantwoordelik was; en die film – deur die meester van donker, gotiese fantasiefilms, Tim Burton – het Johnny Depp, Helena Bonham-Carter, Alan Rickman en Sacha Baron Cohen in die rolverdeling gehad. Alles leidrade dat hierdie nie jou gewone hoogskop- en voete-saamtik-musiekblyspel met ’n gelukkige einde gaan wees nie. En veral nie iets is waarheen jy jou jong kinders – of vriende met sensitiewe mae – neem nie.
Dan lees jy boonop meer oor die storie. Dis 19de-eeuse Engeland. Geld is so skaars soos hoendertande. Die legendariese Benjamin Barker, ’n barbier, ontsnap ná 15 jaar gevangenskap in Australië en kom terug na sy ou woonbuurt in Londen. Maar sy vrou, Lucy, en dogter, Johanna, wag hom nie in soos hy gedroom het nie. Hy gebruik die naam Sweeney Todd en sy hart is vol haat vir die jaloerse regter wat die oorsaak was dat hy onskuldig tronkstraf opgelê is en boonop sy vrou laat gif drink en sy dogter weggeneem het.
Sy pad kruis met dié van ’n effens donker mev Lovett, eienaar van ’n pasteiwinkel, wat erken dat vleis so skaars is dat sy al wyer vir straatkatte moet gaan soek. Saam begin hul bloedstollende plan: Sweeney se barbierkliënte verdwyn een na die ander en mev Lovett se pasteiwinkel kan nie voorbly met die lekker “beesvleis”-pasteie wat sy bak nie.
Makaber? Beslis.
Maar dit ontgin ook die verterende haat wat iemand tot sulke uiterse obsessies kan dryf. Jy snak gereeld na jou asem as nóg een van die kliënte se hemp rooi gevlek word en Sweeney die enkellem-skeermes aan die spierwit handdoek afvee.
Die musiekblyspel is geskryf deur die Amerikaner, Stephen Sondheim en is gebaseer op die oorspronklike boek, The string of pearls, wat in 1973 die inspirasie was van Christopher Bond se toneelstuk Sweeney Todd, the demon barber of Fleet Street.
Die musiek, wat klassieke treffers soos “Pretty woman”, “Johanna”, “Not while I’m around”, “By the sea”, “A little priest” en “The ballad of Sweeney Todd” insluit, saam met Tina le Roux se meesterlike, effe onheilspellende beligting, in ’n klassieke Engelse woonbuurt van 200 jaar gelede geplaas, gee mens onwillekeurig hoendervleis. Sondheim is al beskryf as “moontlik die grootste liriekskrywer van alle tye” en hier ervaar jy dit eerstehands.
Sweeney Todd het in 1979 die Tony Award én Olivier Award vir beste musiekblyspel gewen en die Burton-film het groot lof by die loket ontlok.
Dis ’n trots-Suid-Afrikaanse rolverdeling. Jonathan Roxmouth vertolk die rol van Sweeney Todd; Charon Williams-Ros is mev Lovett; Michael Richard is die gehate regter Turpin; Cameron Botha is die jong man wat verlief raak op Johanna (Sanli Jooste); en mev Lovett se handlanger, Tobias, word deur Jaco van Rensburg gespeel. Verskeie ander akteurs speel die ander naamlose dansers, sangers en toeskouers.
Die staande ovasie wat Roxmouth en Williams-Ros op die openingsaand ontvang het, was ’n riem onder die hart, veral nadat ’n paar mense teen pouse al kopskuddend huis toe verdwyn het. Ek is onseker oor hoe jy verwag dat dit wat op die verhoog sou ontvou, anders sou wees as die storielyn. Jy kon bloot die moeite gedoen het om voor die tyd die sinopsis te lees.
Die toneelspel, die sang, die kostuums, beligting en Greg King se stel is uit die boonste rakke. Jy leef jou só in, jy voel amper asof jy daar op die vuil strate van Londen sit en inkyk in ’n klein woonbuurt. Hoewel die stel nie ná die openingstonele regtig afgewissel word afgesien van die verskuiwing van enkele stukke nie, word die atmosfeer deur slimgefokuste ligte verskerp, wat die karakters soms ’n spookagtige voorkoms gee en jou nekhare laat regop staan.
Ek het wel gevind dat die musiek soms te oordonderend hard was en dit moeilik was om die akteurs se sang te hoor. En dalk sou dit meer doeltreffend wees as dit so ’n kwartier of wat korter was. Maar miskien is dit net my sensitiewe siel wat oorversadig was vir al die bloederige tonele.
Maar dat jy ver gaan soek vir sulke goeie toneelspel en sang soos dié wat die twee hoofkarakters – en ander – lewer, is gewis. Mens kan net dink watter impak Roxmouth en Williams-Ros nog vorentoe op Suid-Afrikaanse teater gaan hê.
En ten slotte: mens kan nie anders as om jou hoed in die rigting van Pieter Toerien en KickstArt te kantel nie. Dit sit nie in almal se broek om hierdie produksie suksesvol aan te bied nie.
Sweeney Todd, the demon barber of Fleet Steet
Met: Jonathan Roxmouth, Charon Williams-Ros, Michael Richard, Jaco van Rensburg, Anne-Marie Clulow, Adam Pelkowitz, Germandt Geldenhuys, Sanli Jooste, Cameron Botha en ander.
Deur: Stephen Sondheim
Regie: Steven Stead
Kostuums: Neil Stuart Harris
Musiek en lirieke: Stephen Sondheim
Boek: Hugh Wheeler
Tydsduur: 2 uur 30 min, met ’n 20-min-pouse
Theatre on the Bay
19 Februarie tot 9 April. Kaartjies by Computicket, www.computicket.com, of van die teater, 021 438 3100. Vertonings is om 20:00 Maandag tot Donderdag en om 20:15 Vrydag en Saterdag.
The post Teaterresensie: Sweeney Todd, the demon barber of Fleet Street appeared first on LitNet.