Dis nooit te laat om verter te studeer nie. In hierdie gesprek lees 'n mens van 'n volwasse student wat te midde van moeilike omstandighede die leer van verdere studie moes klim - en uiteindelik bo uitgekom het.
Faith Langeveldt is ’n grondslagfase-onderwyseres by Beverley Park Primêr in Eersterivier. In 2009 voltooi sy haar honneurs in opvoedkunde (met spesialisasie in gemeenskapsonderwys en leerondersteuning) met lof aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie kursus stel haar in staat om haar eie leerders wat leeragterstande het, met opvoedkundige programme te ondersteun om sodoende die leerders se gapings in leer te probeer verklein. Van 2010 tot op hede raak sy betrokke by volwasse basiese onderwys by die Forest Heights-volwasseneleersentrum in Eersterivier. By hierdie leersentrum kry sy blootstelling in die onderrig van vlak 1–3. In 2013 voltooi sy ’n magistergraad in wysbegeerte (opvoedkunde in lewenslange leer) aan die Universiteit Stellenbosch. Hieronder gesels sy met Estelle Kruger, die redakteur van LitNet Akademies (Opvoedkunde) en met Liezel Frick, wat vir Faith nagraadse studieleiding gegee het.
Gesprek van Estelle Kruger met Faith Langeveldt (FL) en Liezel Frick (LF) oor hul LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel:
- As jy ’n mentor/tutor was, wat sou jou raad aan ’n voornemende ouer volwasse student wees wat wil aanspraak maak op die erkenning van sy/haar voorafleer?
FL: Ek sal hulle aanraai om die portefeulje-ontwikkelingskursus of -toets te voltooi om te kan sien of hulle oor die potensiaal beskik vir die vlak van akademiese skryfvaardighede, geletterdheid en syfervaardigheid wat benodig word vir die spesifieke program(me) wat hulle wil volg.
LF: Studente moet ook aangemoedig word om van hul bestaande netwerke en beskikbare hulpbronne gebruik te maak sodat hul voorafleer op ‘n sinvolle en konstruktiewe wyse ontsluit kan word. Sonder dat ons dit altyd besef, is vele van die kundigheid en praktyke binne hoëronderwysinstellings nie maklik toeganklik en verteerbaar vir ‘n persoon wat nie ervaring binne hierdie omgewing het nie. Ander kennisse wat reeds hoër onderwys betree het (op welke wyse ook al) is potensieel waardevolle hulpbronne.
- EVL staan vir "erkenning van voorafleer". As jy koördineerder was van die EVL-program by jou hoëronderwysinstelling, wat sou jou prioriteite vir hierdie program wees?
FL: Ek sal eerstens dat al die akademiese personeel sowel as ander personeellede, soos die administratiewe klerke, inkoop in hierdie program sodat die voornemende EVL-studente die korrekte advies en ondersteuning ten opsigte van inligting aangaande die instansie se program kan ontvang. Tweedens sal ek mentors beskikbaar stel wat die voornemende EVL-studente ondersteuning en leiding in hul huistaal kan bied om die student se akademiese skryfvaardighede te verbeter. Op hierdie wyse word akademiese terme ook vergemaklik en verstaanbaar aan hulle oorgedra. Gereelde vergaderings moet ook met die mentors gehou word om enige probleemareas te bespreek, asook maniere om die program elke jaar te verbeter. Derdens sal almal betrokke by die program ‘n konfidensiële vorm teken, aangesien die inligting van die ouer volwasse student konfidensieel is. Studente wat om een of ander rede nie die program voltooi nie, is welkom om dit die volgende jaar verder te vat van waar hulle opgehou het, maar dit is die koördineerder se plig om eers navraag te doen. Gereelde monitering van hoe die ouer volwassene vorder, is tydens die program noodsaaklik.
LF: Ek sou ook voorstel dat instellings gereeld hul beleid en praktyke rondom EVL in heroënskou neem – sodat ons kan verseker dat ons instellings en programme inklusief en verwelkomend is, veral dan ook vir ouer volwasse studente.
- Het die getal ouer volwasse studente na 2000 toegeneem of afgeneem? Is daar ’n bekende kurwe? Wat dink julle is die redes hiervoor?
FL: Dit het toegeneem. Die snelveranderde ekonomie vereis dat volwassenes hul vaardighede opskerp om sodoende in die mark te kan bly.
LF: Daar is ook internasionale neigings wat aandui dat al hoe meer studente verkies om eers te gaan werk alvorens hulle formele hoër onderwys betree. Dus gaan ons toenemend met meer volwasse studente gekonfronteer word in die toekoms wat ander behoeftes het in terme van toegang, onderrig en leer as die tradisionele skoolverlater.
- Hoe word die EVL-program deur die Universiteit van die Wes-Kaap bemark? En by ander universiteite?
FL: Die Afdeling vir Lewenslange Leer het verskeie gidse beskikbaar aangaande die EVL-progam vir diegene wat daar inkom en navraag doen. Studente wat die program voltooi het, versprei ook die program deur aansoekvorms vir vriende en familielede te neem. Die program word ook in verskeie plaaslike koerante geadverteer wat op ‘n weeklikse basis vrylik beskikbaar is. Persone kan ook inbel of op die webwerf gaan kyk.
LF: Universiteite verskil in hul benaderings in terme van EVL, en daar is selfs verskille binne universiteite in terme van hoe EVL binne verskillende fakulteite verwoord en geïmplementeer word. Ons het binne Stellenbosch-universiteit al hieroor rapporteer in die artikels soos wat dit in die eindnota[1] vertoon.
- Faith, in watter mate het jou subjektiewe betrokkenheid by die deelnemers aan die navorsing jou beïnvloed? Kan dit as ‘n stuk etnografiese navorsing gesien word? Hoekom (nie)?
FL: Ek het empatie met hulle gehad dat ek selfs raad aan die ouer volwassenes verskaf het hoe om te studeer, die skryfsentrum en die biblioteek tot hul voordeel te kon gebruik, wat my legitimiteit gegee het as navorser en bygedra het tot die bou van ‘n vertrouensverhouding met my respondente. Alhoewel dit dus etnografiese elemente sou kon bevat, is dit nie ‘n suiwer etnografiese studie nie, en die data is nie van so ‘n aard dat dit sou voldoen aan die vereistes van ‘n suiwer etnografiese studie nie.
- Dra hierdie soort navorsingsgetuienis daartoe by om weerstand van akademici oor EVL-programme – soos aangetoon deur Motaung (2009)[2] – te verminder?
FL: Definitief.
LF: Ek dink dit is juis hoekom dit belangrik is om op ‘n wetenskaplike wyse EVL as verskynsel te bestudeer, en dan op hierdie wyse op die prosesse en uitkomste kommentaar te lewer. Dit gaan dus verder as bloot anekdotiese getuienis, wat ooglopend meer oortuigingswaarde en outoriteit binne die akademie sal hê.
- Hoe het die vorme van assessering van voornemende ouer volwasse studente ontwikkel?
LF: Ek dink universiteite is genoodsaak om beleid in dié verband te formuleer, wat hoëronderwysinstellings genoop het om ook meer deurdagte praktyke te vestig in terme van assessering van diesulke studente. Aan die een kant is daar dus meer koherensie en nadenke, maar aan die ander kant is die toepassing steeds gefragmenteerd en individueel gedrewe binne hoëronderwysinstellings. Binne die Suid-Afrikaanse konteks het die diskoerse rondom sosiale geregtigheid en gelykheid ook die fokus op EVL binne hoër onderwys laat val en die ontwikkeling daarvan gedryf.
- Liezel, sou jy sê dat EVL bydra tot ’n pedagogie van hoop? Of is daar ’n moontlikheid dat dit vals drome kan skep? Ek verwys na die verbeeldingryke vraag in ’n artikel deur Frick en Albertyn (2011)[3] hier onder gemeld? Verduidelik asseblief ...?
LF: Ja, EVL kan beslis bydra tot ‘n pedagogie van hoop. Maar hoop is ‘n brose konsep, en dus kan beleide en praktyke wat uitsluitend en eksklusief is, ouer volwasse studente kniehalter en hul hoop en drome aan skerwe laat lê. Maar terselfdertyd moet voornemende studente (van enige ouderdom) besef dat verdere studie (veral deeltydse studie) hoë eise stel en toewyding verg. So terwyl EVL inklusiwiteit en toegang behoort te bevorder (en dus hoop gee), is dit beslis nie gemik op die erodering van akademiese integriteit en standaarde nie.
- Dink julle dat hierdie soort programme bydra tot transformasie van die ouer volwasse studente? Brei asseblief uit ...
LF: Ja. Sosiale geregtigheid en gelykheid het beslis die EVL-agenda in Suid-Afrika gedryf en verbreed, en kan dus voortdurend bydra tot transformasie (en nie net transformasie in terme van ras nie, maar ook in terme van geslag, ouderdom en sosio-ekonomiese status, wat steeds bepalend is wat toegang tot hoër onderwys betref).
- Is daar ’n deurvloeikoers wat daarop dui dat hierdie programme tot lewenslange leer en akademiese sukses lei? Met ander woorde, hoeveel van hierdie ouer volwasse studente voltooi wel akademiese grade of sertifikate?
LF: Dit is moeilik om te sê, en daar is min studies, selfs internasionaal, wat sulke studente oor tyd heen volg na toelating. Een van die moontlike redes hiervoor is dat wanneer EVL-studente toegang verkry tot ‘n program, hul as volwaardige studente bestempel word in administratiewe stelsels en in klasverband. Hulle word dus nie voortdurend geoormerk as “anders” nie, wat dit moeilik maak om hul uiteindelik te onderskei vanaf saamgestelde institusionele data.
- Liezel, is daar spesifieke ontwikkelingsprogramme by universiteite om akademiese personeel toe te rus om hierdie ouer volwasse studente toenemend te akkommodeer?
LF: Ongelukkig nie sover ek weet nie. Meestal is die getalle van EVL-studente relatief laag en wisselend oor tyd, wat die lewensvatbaarheid van so ‘n poging sou benadeel.
- Osman en Castle (2002)[4] wonder krities of hierdie soort programme ’n “soft option in higher education in South Africa” is. Wat is julle mening? Motiveer?
LF: Na my mening, nee. Studente moet steeds uiteindelik bewys lewer van hul kundigheid binne ‘n program. Selfs in gevalle waar krediet verleen word – dus nie net toegang nie – mag ‘n student nie meer as 50% krediet van ‘n program op dié wyse verkry nie.
- Wat het julle van julself geleer tydens hierdie navorsing?
FL: Ek wil betrokke raak en deel vorm van die EVL-program om hierdie volwassenes ‘n tweede kans op die lewe te bied deur middel van opvoeding.
LF: Ek bewonder beslis Faith se deursettingsvermoë, asook die manier waarop sy die studie gevat en haar eie gemaak het. Sy is merkwaardig in die vordering wat sy gemaak het oor die tydperk van haar studie, en ek hou haar altyd as voorbeeld voor vir ander studente as iemand wie “against all odds” geslaag het in haar doelwit. Om in Afrikaans te skryf terwyl al die beskikbare literatuur in Engels is, is ook nie die maklikste ding op aarde nie (ook nie vir die studieleier nie!).
Wat ek van myself geleer het, is dat ek energie put uit passievolle en selfgedrewe studente soos Faith. Dit is vir húlle dat ek hierdie werk doen, en ook vir die mense wie ek hoop hulle werk uiteindelik kan help (bo en behalwe die uiteindelike akademiese publikasie van die werk). Dit vra egter dat jy soms moet kan terugstaan en die student die geleentheid gee om hom- of haarself en die studie te laat ontwikkel. Dit is ’n fyn kuns om te bemeester – om te weet wanneer om in te tree met raad en daad, en wanneer om terug te staan.
[1] Frick, BL, EM Bitzer en BL Leibowitz. 2007a. Implications of variance in ARPL policy: A South African case study. South African Journal of Higher Education, 21(4):640–53.
—. 2007b. Integrating assessment and recognition of prior learning in South African higher education: A university case study. Education as Change, 11(2):131–55.
[2] Motaung, J. 2009. The “nuts and bolts” of Prior Learning Assessment in the Faculty of Education at the University of Pretoria, South Africa. Perspectives in Education, 27(1):78–84.
[3] Frick, L en R Albertyn. 2011. Recognition of prior learning in promoting lifelong learning: A pedagogy of hope or a shattering of dreams? South African Journal of Higher Education, 25(1):145–56.
[4] Osman, R en J Castle. 2002. Recognition of prior learning: A soft option in higher education in South Africa? South African Journal of Higher Education, 16(2):63–8.
The post Onderhoud: 'n Tweede kans in die lewe appeared first on LitNet.