Die Ontwaking het ʼn ongelooflik goeie rolverdeling (Gys de Villiers, Gerard Rudolf, Paul Eillers, Morne Visser, ens). Die bronmateriaal is ook ʼn bekroonde boek (Abel se ontwaking deur Chris Karsten).
Wat het dan met die film skeefgeloop?
Die stokkerige draaiboek en die regie.
As daar een akteur is aan wie ek die vertolking van Abel Lotz sou toevertrou het, is dit Gys de Villiers. Ek blameer dit dus op die regie dat sý Abel ʼn oortreffende-trap-freakshow is met ʼn neonteken bo sy kop wat flits: “Reeksmoordenaar!” Enige vreemdeling wat so naby my staan (uitgesluit die Woolies-betaalpunt-tou) sal my nekhare laat rys en die polisie laat bel.
Juanita de Villiers se Ella frons baie en draf rond in noupassende vessies. Daar is nie veel meer aan haar karakter nie.
Gerhard Rudolf is koel en kalm. Eilers rook, of probeer rook. Visser se glibberigheid is oordadig.
Van die dialoog bevat sulke korrekte Afrikaans dat ek die Engelse onderskrifte moes lees. Ek twyfel of ʼn polisie-adjudant sulke taal sal gebruik. Dit dra by tot die stokkerigheid van die toneelspel en die film as ʼn geheel.
Die kans om Abel se komplekse persoonlikheid bloot te lê word nie gebruik nie. Sy motivering en modus operandi is onduidelik. Ek moes in die amptelike sinopsis lees wat gelei het tot sy “ontwaking” - sy 50ste verjaarsdag. Eers “oes” hy tatoes? Dan gesigte? Wat wil hy by Ella “oes”? Wat het sterrekunde met die storie uit te waai? Waar kry hy sy geld vandaan? Hoe kan ʼn bumbling idiot ʼn galery en suksesvolle besigheid bestuur?
Die einde van die film raak veral laf. Waar Ella vir Abel op sy plot konfronteer, weet sy voor haar siel hy is ʼn bietjie af. Tog stap sy kombuis toe, drink sy saam met hom koffie en gee sy hom die geleentheid om haar te oorrompel?
Hoekom volg Bam vir Ella? Hy is die een wat haar verneuk het. En hoekom glo Bam dit wanneer Abel sê die sleutels is in sy baadjiesak? Daar is skalpels wat rondlê, idioot!
Die lafste is Abel se ontsnappingsplan. As jy iemand se gesigvelle afsny en minute later oor jou eie gesig “drapeer”, gaan ʼn polisieman wat ʼn flits in jou oë skyn, dit sekerlik sien?
Ek het die skrywer-musikant Johan Jack Smith, ʼn groot aanhanger van die boeke, gevra hoe die film met die boek vergelyk. "Die regisseur het gefaal om die komplekste karakter van Abel Lotz effektief uit te beeld. Die sukses van die boek het gelê in Karstens se oog vir besonderhede. 'n Gulde kans is verspeel om 'n uitstekende boek op die grootskerm te laat skitter, en as gevolg van 'n powere draaiboek wat afgerammel is, is dit nou net nog 'n film wat in die bargain bin gaan beland."
Sjoe. Ek sien glad nie uit na die opvolg nie.
The post Die filmweergawe van Die Ontwaking stel teleur appeared first on LitNet.