André Pretorius gesels met Naomi Meyer oor sy boek Italiaanse intermezzi wat onlangs by Naledi verskyn het.
Hallo André, geluk met die boek Italiaanse intermezzi – Reissketse. Watse soort boek is dit hierdie?
'n Boek van reisbeskrywings oor Italië – 'n land wat na 'n kwarteeu se reise nog nie sy greep op my wil laat los nie. Die eerste keer toe ek daar geland het, was ek 17 en op pad terug van die Olimpiese Spele in Barcelona. Daarna was ek 'n armlastige rugsakreisiger – daardie maand lange reis in 1996 vorm die ruggraat van die boek – 'n verliefde, 'n enkeling, 'n pelgrim, 'n pa met 'n kleuter aan die hand, 'n ontdekker, 'n strandlêer. Dit is my indrukke in elkeen van daardie gedaantes – en heelwat ander! – wat ek in die boek probeer opteken, want elke keer gryp Italië my op 'n ander manier aan. Een reis, dus, met ander reise daarin verweef, en een boek waarin ek die baie Italiës wat ek oor die jare teëgekom het, probeer vasvang deur sy mense, plekke, kuns, kos en musiek.
Jy het al in baie dele van die wêreld gewoon. Wat bring jou terug na Italië?
Soveel van die vrugte van die menslike gees op sy mees verhewe is ontvang en gebore in Italië en is steeds daar te vind – ons is per slot van rekening die erfgename van 'n kultuur wat tot 'n beduidende mate sy beslag in die Italiaanse stadstaatjies van die Renaissance gekry het. Dus kan jy op die onbenulligste plekkie die mees onverwagse juweeltjies raakloop, soos die argitektuur van Palladio in Vicenza, of die Scrovegni-kapel in Padova of 'n meesleurende skildery van Caravaggio in Siracusa. En die agterdoek vir daardie klein ontdekkings is 'n land waarin die skoonheid van die oomblik verweef is in die alledaagse, waar die ontmoeting met 'n volslae vreemdeling soms 'n lewensbevestigende ervaring kan wees.
Wat is vir jou die persoonlike hoogtepunte van Italië: die kos, die wyn, die landskap, die kuns, die taal, die son (jy woon immers in Engeland) ... iets anders?
Al daardie dinge! Maar veral die mense: jy kan die Italianers probeer weergee in beskrywings soos “warmte”, “passie” of “warmbloedigheid”, maar uiteindelik is daar nie woorde vir die omarming wat jy voel van 'n Siciliaanse gesin se drie geslagte rondom hulle etenstafel nie – met oorgeërfde geregte uit die ouma se geheue. Of van 'n ou wat in Reggio in 'n koskroeg met sy skoothond sit en wag vir skaakopponente. Of van 'n kêrel wat vir jou 'n druppel van sy tuisgemaakte balsemiekasyn op 'n teelepeltjie skenk vir proe. Of van 'n antiekhandelaar op 'n Toskaanse trein wat vir twee skurwe vente met 'n tweemantent onderdak bied in haar Renaissance-villa buite Lucca. Italianers kan jou beide die harnas in jaag of verkwik – soms in dieselfde asem – maar hulle laat jou selde koud. En dit is wat reis in Italië vervolmaak, net soveel as die landskappe of die kuns of die kos.
Italië kan maklik gereduseer word tot pizza, pasta, Venesië se waterstrate en die Dawidstandbeeld. Watter gedeeltes van Italië bekoor jou wat nie so bekend is nie?
Daar is min dele van Italië wat werklik nog onbekend is – dit is die implikasie van die Evelyn Waugh-aanhaling voor in my boek – maar onder die minder bekende dele wat my oor die jare bekoor het, is die Gargano-skiereiland aan die ooskus en die Barok-dorpies in die suidooste van Sicilië. Die Gargano is daardie "spoor" in die Adriatiese See boaan die "hakskeen" van Italië. Dit is 'n landstreek van heiligheid: van hier het Kruisvaarders 'n millennium gelede vertrek na die Heilige Land (en hul bouvallige kastele staan steeds teen die hemel afgeteken); hier het Italië se beroemdste heilige van die 20ste eeu – Padre Pio – sy lewe geslyt, en pelgrims stroom na sy heiligdom; en hier skryf plattelandse dokters godsdienstige amulette voor saam met antibiotika wanneer 'n driejarige mangelontsteking kry ... Die dorpies van Sicilië se suidooste – Ragusa, Modica, Scicli, Noto – is almal van die grond af herbou nadat 'n aardbewing hulle in 1693 vernietig het. Hulle styl is dus eenvormig – 'n soort hemelvaart van die Barok as verhoog vir die alledaagse wat bloei in 'n harde, ongenaakbare landskap. Op sy manier is hierdie dalk die mees intens Italiaanse deel van Italië (al was dit tot in die 1860’s nie eens deel van Italië nie).
Deesdae kan Google mens help om baie omtrent ‘n land uit te vind. Hoe sien jy jou boek – vir iemand wat raad nodig het om die land te verken: op watter aspekte van die boek moet hulle fokus om reisinligting te kry?
Ek dink nie die boek bied veel in die aard van reisinligting nie – feitlik elke ander bron sal beter wees daarvoor! As die boek die voornemende reisiger enigiets bied, is dit dalk 'n insig in 'n plek of ding waarvan hy of sy nie geweet het nie, of 'n invalshoek waaraan hy of sy nie gedink het nie. Miskien noop dit iemand om te dink dit sal goed wees om 'n opera by te woon. Of om seker te maak dat waar hulle hul ook al in Italië bevind, hulle nie die gemetaboliseerde Katolieke heiligheid van Italiaanse alledaagse miskyk nie.
Die Italiaanse musiekterm “intermezzi” (meervoud van “intermezzo”) dui daarop dat mens nie iewers vertoef nie. Dis ‘n tussenwerpsel, dis musikale gom tussen die bewegings van sê maar ‘n opera. Waarom het jy hierdie titel gekies?
Dit is hoe my Italiaanse reise was: tussenspele, grepe van verkwikking, oomblikke waarin die groter temas van die lewe hulle in alle puurheid kon uitspeel. Ek kan nie in Italië woon nie en die langste wat ek op een slag daar was, was op daardie rugsak-en-tent-toer in 1996. Daarna het ek 'n langnaweek hier en 'n week of twee daar gegryp waar ek kon. Een van daardie grepe was een najaar op die spoor van Uys Krige se ontsnapping uit krygsgevangeskap in 1943; die subtitel van die boek wat hy destyds daaroor geskryf het (The Way Out, 1946) was "Italian intermezzo". Die titel is deels daardeur ingegee. Maar jou verwysing na opera is ook raak: opera, veral melodramatiese 19de-eeuse Italiaanse opera, is vir my een van die waarmerke van die Italiaanse wese – dit is nie dat opera noodwendig so gewild is nie, eerder dat lewe in Italië elemente van die opera het. Daar is opera in die boek – in die opelug van Verona se Romeinse arena, by La Scala in Milaan – en die melodrama van die opera is oral te vind in die Italiaanse alledaagse. Dus ja, ek het gehou van die musikale ondertoon van die titel.
Wat is jou gunsteling Italiaanse kos of resep?
Soos 'n gunstelingwyn, is daar geen enkele antwoord op nie: die antwoord is 'n funksie van tyd en plek en konteks en geselskap. Daar is fynkossies – soos die beste van al die Parmahamma, culatello di zibello, of die varsste van vars buffelsmozarella in die platteland rondom Napels, of die ongoddelik duur wit truffels van Piëmont – maar daar is ook die kos waarvan dit juis die eenvoud is wat bekoor. Dit sal verregaande klink, maar van die genotlikste etes wat ek in Italië geëet het, was pasta by "strandklubs" in die snikhete somer: miskien met klein seekatjies en 'n tamatiesous, of sommer net met tamaties, knoffel, vars kruie en olyfolie van die heuwel agter die strand. Of pizza langs die swembad van ons Napolitaanse kinderoppasser, waar haar oom heelmiddag die deeg knie voor hy vroegaand die pizzas een vir een in die houtoond druk.
Vir iemand wat op reis na Italië wil gaan: noem jou gunstelingdorpe of stede en hoe mense prakties daar kan uitkom? (Kom ons sê mense het ‘n week tyd.)
Ek weet nie hoe 'n goeie reisgids ek (of die boek!) sal wees nie. My beste raad is om meer plekke te verruil vir minder plekke in groter diepte. Moet dit nie alles probeer inprop nie: kies 'n streek en belééf sy dorpies, sy landskappe, sy kos (want kos, soos alles in Italië, is streeksgebonde), sy onverwagse juweeltjies. En lees, lees, lees voor jy gaan.
Foto's verskaf deur die skrywer
Naledi nooi jou om te kom luister na Johan Rademan in gesprek met André Pretorius by die bekendstelling van sy boek Italiaanse Intermezzi: Reissketse.
Die geleentheid vind plaas op Donderdag, 18 Februarie 2016 om 18:00 vir 18:30. Wyn en ‘n ligte vingerete sal bedien word.
Sien jou daar!
Besonderhede
- Datum: Donderdag, 18 Februarie 2016
- Tyd: 18:00 vir 18:30
- Plek: Morgenster Wynlandgoed
Vergelegenlaan (uit Lourensfordweg)
Somerset Wes - Gespreksgenoot: Johan Rademan
- Verversings: Wyn en vingerete
- RSVP: Johan Coetzee, 0834543516, chantal@naledibooks.co.za
The post Onderhoud met André Pretorius oor Italiaanse intermezzi appeared first on LitNet.