Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Teaterresensie: Santa Gamka - in die Baxterteater en by die US Woordfees 2016

$
0
0

 

Santa Gamka: Dis ’n Dinsdagaand, dis ’n Afrikaanse stuk in ’n tradisioneel Engelse teater en dit gaan oor die stryd van ’n jong bruin man wat uit armoede gebore is om ’n pad vir homself in die lewe te maak.

Ek het voor die tyd die besprekings buite gehoor. Mense is skepties en voos oor die gedurige “terugneuk na die verlede”, die verontregting tussen baas en klaas op die plaas; die swaarkry. Ek is dus nie verbaas dat ons net 19 mense is toe die ligte doof nie.

Maar genadiglik kan jy nie alles op sy baadjie takseer nie. Hoe maklik laat kyk ’n stuk jou nie op jou neus nie.

Gelukkig is die mens mos maar nuuskierig; en dan is daar boonop die feit dat die stuk gegrond is op Eben Venter se bekroonde roman en ’n 2015-Kanna-pryswenner vir beste debuutwerk is; ook bekroon vir beste regie en met die Herrie-prys vir kopverskuiwende werk. Dis ook benoem vir drie kykNET Fiëstas, 2016 vir beste regie, beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie én beste solovertoning.

Dit snoer die skeptici se monde só vir ’n wyle.

Minnaar, wat ook die teks verwerk en vervaardig het, is ook geen liggewig nie: hy was te sien in produksies soos Blood Brothers, Balbesit en Die Kortstondige Raklewe van Anastasia W. En met Jaco Bouwer as regisseur, onder wie se regie stukke soos Samsa-masjien, Rooiland (wat albei speelvakke by die Baxter Teater gehad het), Balbesit en Na-aap, ander dimensies betree het, kan jy nie negatief wees nie.

Die musiek, spesiaal geskep deur die Namakwalandse kunstenaar Ulrich Roberts, wat ons ingelei het, lui nog in jou ore toe Lucky Marais (Minnaar) op die verhoog verskyn. Dit maak jou gedurende die stuk deel van die ongenaakbaarheid van die Karoo-landskap waarin Lucky hom bevind.

Santa Gamka is die storie van Lucky, ’n jong bruin man wat vry gebore is in die nuwe Suid-Afrika. Hy woon op ’n plaas buite Santa Gamka, waar die wiele van verandering maar stadig draai.

Die verhoog het twee tafels met rooi sand op. Klein vragmotortjies en motortjies staan teen die heuweltjies en wanneer hy van sy geboorte vertel, boor sy hand deur die sand. Die stofdampe draai langsaam voor die ligte op en verdwyn in die niet.

Hy vertel in die 70-minuut-toneelstuk van sy sewe grootste avonture. (Eintlik sewe lyflike kliënte waar hy meer geld verdien as sy pa op sy plaaswerker-salaris.) Hy mymer: “My bruin vel was ’n pas, ek was kordaat.”

Hy leer reeds as jong tiener dat hy ’n “sterkte in my het, wat ander by my wil hê” en dis hierdie sterkte wat hom in beheer laat voel. Want, soos hy noem, “gelyk sal ek nooit wees nie, daarvoor is ek te arm.”

Lucky erken dat hy nie liefde op die gewone manier ervaar nie; dat dit hom altyd buite bereik bly in sy ouerhuis. “Ek probeer liefde sien in ’n vol maag op ’n Saterdagmiddag, die papperasie van riviermodder tussen my tone.”

Hy vertel van sy pa se baas, die volkslaner, en hoe dit vyf geslagte vat om die naam “volkslaner” af te skud. Maar soos hy tussen karakters en milieus wissel, kom jy agter dis juis hierdie kordaatheid wat hom in die pekel laat beland.

Hy word in ’n pottebakkersoond gestop om dood te brand. Want sy slimgeid het van hom ’n teiken gemaak, veral nadat ’n vrou op die dorp verkrag word.

Sy ma het hom mos gewaarsku dat hy moet ligloop: Mense weet wat hy doen en dat hy moet ophou om na beter te soek. “Kyk na my en jou pa, ons is brandarm, maar tevrede.”

Maar tevrede is nie iets wat Lucky wou wees nie. Hy droom van New York toe gaan, om die stof van die Karoo van sy voete te skud. Maar hy leer en erken dat alle paaie na trots en geld lei en dat sy einde minute ver is.

Dis ’n stuk waarin versugting swaar weeg. Dit suggereer ons almal se verpletterde drome; die illusie van waarlike vryheid en die glo dat dinge beter sal word.

Marlo Minnaar se spel is uitstekend. Sy Afrikaans met ’n Karoo-egtheid dra by tot die oortuiging waarmee hy die rol speel. Hy ken die gevoel van werkloosheid en die verwarring wat dit bring, wat aan die deur klop. Hy ken die versugtinge. Hy het immers in ’n tyd tussen werksoek, uitstel en droom op Venter se boek afgekom en gevoel asof die boek vir hom geskryf is.

Dit het hom meer as ’n jaar geneem om die toneelstuk te verwerk.

Dis een van die stukke wat jou nog lank sal bybly, want dit smeek om inkeer; om retrospeksie en herevaluering van jou eie vooropgestelde idees oor vryheid, armoede en hoop.


 

Santa Gamka

Met: Marlo Minnaar

Verwerk en vervaardig deur: Marlo Minnaar

Regie: Jaco Bouwer

Ouderdomsbeperking van 16 vir naaktheid, taal en vooroordeel

4–19 Februarie by die Baxter Golden Arrow Studio

Kaartjies R80 tot R120

Kaartjies deur Computicket by 0861 900 800, aanlyn by www.computicket.com of by enige Shoprite Checkers-tak

The post Teaterresensie: Santa Gamka - in die Baxterteater en by die US Woordfees 2016 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!