Die Bakkesse gaan eerder na ’n begrafnis as na ’n troue toe, want troues is tog so finaal, het die avontuurskrywer Johan C Bakkes verlede Saterdag vertel tydens ’n huldigingsdiens om sy pa, die bekende historikus Cas Bakkes, wat verlede maand oorlede is se lewe te vier.
Die Bakkes-familie is bekend vir die ink wat in hulle are vloei. Verskeie boeke is deur pa, ma en twee van hulle seuns geskryf. Margaret Bakkes is die bekende skrywer van tientalle boeke, waarvan ’n paar romans ook oor die radio voorgelees is.
Die twee Bakkes-broers Johannes en Christiaan is albei avontuurskrywers en die middelste seun, Marius, is ’n joernalis. Hulle pa, Cas Bakkes, was die skrywer van die boek Boskroniek (April–Junie 1977): Dagverhaal van ’n grenssoldaat. Hy was bekend as dosent, akademikus, navorser en krygskundige.
Tydens die viering van Cas Bakkes se lewe die afgelope naweek in die Paarl het sy oudste seun, Johan, verskeie anekdotes uit die Bakkes-familie se geskiedenis vertel.
Hy het gesê daar is nie traktaatjies by die deure van die kerk nie, “want ’n traktaatjie is een ou se onthou. Elkeen van ons het ’n traktaatjie in sy eie kop. Gaan lees hom weer as jy vanaand by die huis kom as jy wil – ten minste kan jy hom nie weggooi nie.”
Johan het onder meer vertel van sy ouma wat laat was vir haar eie begrafnis. Die diens was in Pretoria en die teraardebestelling in Braamfontein, Johannesburg. Maar die lykswa het verdwaal.
“Daar staan haar hele nageslag toe voor ’n oop leë graf. Tot sy oom Jack Theron ’n knerts te voorskyn bring. Die Bakkesse en Theronne het van daar glad nie teruggekyk nie.”
Die einste oom Jack se begrafnis was net so 'n feestelikheid. Die rand van die graf het ingegee en sy seun Jacques en die dominee was onder in die gat voor die kis kon sak. Sy tannie Retha, weer, is amper verkeerdelik in Marjorie Wallace of Jan Rabie se gat laat sak.
Pleks van traktaatjies het Johan vir die mense wat daar was, elkeen een van sy pa se boeke gegee.
Na die diens sê Johan daar is twee goed wat hy sy pa voor sy dood beloof het. Een: dat hulle almal in die Hervormde Kerk sal bymekaar kom.
En tweedens dat hy vir hom die volgende Duitse liedjie as bedevaartslied sal speel. Cas was ’n soldaat. Dis ’n liedjie geskryf in 1809 deur die Duitse digter Ludwig Uhland gedurende die Trioolse rebellie van Andreas Hofer: "Ich hatt’ einen Kameraden".
In Afrikaans vry vertaal klink die lied se woorde so:
Ek het eendag ’n kameraad gehad
’n betere sou jy nie vind nie.
Die dromme kondig die oorlog aan
En met hom aan my sy
het ons saam gemarsjeer.
’n Koeël kom aangevlieg
Is dit vir my of jou bedoel?
Maar dit was jy wat weggeruk is
Jy lê aan my voete
’n Stuk van my.
Jy reik jou hand uit na my
Maar ek is besig om te herlaai
Ek kan my hand nie uitsteek nie
Bly jy in die ewige lewe
My goeie kameraad.
Terwyl die lied se klanke in Duits deur die kerk weergalm het, staan vier van Cas Bakkes se oudkamerade penorent op aandag. Toe die lied se laaste klanke wegsterf, het oudgeneraal Chris Thirion tot voor die kansel gestap en sy kameraad gesalueer.
Johan vertel sy ma het eendag gesê: “Niks en niemand verdwyn werklik uit jou lewe nie, want daar is altyd die onthou.”
Een van Cas Bakkes se skrywes is tydens die diens deur sy oudste seun voorgelees:
... En dan, om vyfuur, hoor ek God deur die bos kom. Die geruis van die blare word harder en ek hoor hoe hy verbygaan. Sy beroering vee koel oor my gesig en boomtak vir boomtak groet hom en hy kuier oor die krale en dan begin die hane kraai ... en soos ’n man eens in ’n binneplaas, staan ook ek langs die gloed van die vuur van ’n kraal en die vroue sê: “Was dit nie God wat pas gegroet het nie?”
En ek bly stil. Ek sê nie “ja” nie, ek sê nie “nee” nie. Ek bly net stil.
– Kmdt Cas Bakkes, 18 Julie 1977, iewers op die grens
Foto's
The post Liewer begrafnis as troue appeared first on LitNet.