Lees ook: University Seminar 2016: Achille Mbembe on the new politics of the South African student
Die gebeure teen die einde van verlede jaar rondom die #...MustFall-oproepe van studente op universiteitskampusse het baie aandag getrek. Behalwe die fokus op standbeelde en finansies vir studies, het dit ook ander kritiese gesprekke aan die gang gesit oor onderrig en navorsing aan universiteite, en hoe kennis gedekoloniseer kan word.
Sommige waarnemers sien die oproepe en gepaardgaande gesprekke as ‘n belowende begin van verandering wat nie alleen regeringsbeleide betref nie, maar ook van landsburgers se sienings oor die belangrikheid van onderwys in die land, wat bekostigbaarheid beteken, die uitsluiting van belowende arm studente, hoe skole se voorbereiding van studente vir tersiêre studie onvoldoende is, ens.
Die gesprek oor dekolonisering van kennis is ‘n gesprek oor aktualiteit, gepastheid en relevansie van kennis in die onderrig- en navorsingswerk van universiteite.
‘n Google-soektog met die term “decolonizing knowledge” (met z of s) bring die name op van Achille Mbembe wat by Wits en op YouTube hieroor gepraat het, mense soos Linda Tuhiwai Smith van Nieu-Seeland wat oor die dekolonisering van navorsing skryf, en vele ander. Daar is ook verwysings na lesings by Unisa, boeke, konferensie-aanbiedings oor die onderwerp op onder meer die gebiede van die kunste, onderwys, tegnologie, musiekkurrikula, die politiek, en meer.
Die Google-soektog sluit ook variasies op die tema in, soos dekolonisering van kennis, van kennisproduksie, van kennisstelsels, en frases waar “dekoloniseer” as werkwoord in verband gebring word met navorsingsaktiwiteite, en ook onderwys-/pedagogiese praktyke.
Die oproepe om die dekolonisering van kennis is ‘n herinnering aan die wêreldwye verskynsel van kolonisering van die vorige eeu, waar regerings, magshebbers, rykaards en ander doelbewus daarop uit was om ander mense te onderwerp en uit te buit, en hulle lewensruimtes oorgeneem het. Kolonisering in al sy vorme word geassosieer met die miskennings van menswaardigheid, van inheemse kennis, en neem vorme aan van kulturele dominansie, oorheersing van sosiale lewe, en onderwys en opvoeding wat alles inheems uitsluit onder die voorwendsels van markkragte. Dit vind dwarsoor die wêreld plaas.
Kolonisering in tradisionele kru vorme het oorheersing meegebring van mense se huislike, gemeenskaps-, geloofs-, taal- en politieke lewens. Voorbeelde hiervan staan in die geskiedenisboeke van al die voormalige kolonies in die wêreld geskryf. Kolonisering word egter steeds voortgesit, ook in die historiese postkoloniale era, in so baie nuwe/modern vorme in die 21ste eeu, terwyl die historiese diskriminasie/onderwerping steeds gevolge het wat in mense se daaglikse lewens sigbaar is.
Mbembe is een van die sterk stemme in Afrika wat die onderwerp van baie kante belig, soos dit duidelik is in die LitNet-gepubliseerde onderhoud met hom, YouTube-opnames, en op webblaaie soos hierdie. In sy skrywes is daar ‘n oproep dat ons in Suid-Afrika opnuut kan ontdek wat dit beteken om swart te wees, om wit te wees, en hoe die geskiedenis benadeling aan die een identiteit gekoppel het, en bevoorregting aan die ander. Dekolonisering het vir hom te doen met die wegbeweeg van hierdie identiteite, na gedeelde, herstelde identiteite wat spreek van menswees, burgerskap en ‘n genormaliseerde demokratiese samelewing.
Mbembe se uitsprake noop mens om hierdie vraag verder te ondersoek: Wat behels die dekolonisering van kennis in die onderwys? Hoe kan gesprekke hieroor bydra tot verandering in die land, en in die besonder, tot die transformasie van kurrikula op skool en universiteit?
Ter wille van verdere gesprek oor hierdie vrae kan minstens twee van Mbembe se argumente verder ondersoek word, wat sekerlik aandag verdien van alle landsburgers wat Suid-Afrika ‘n meer leefbare land wil help maak.
Universiteitsklaskamers is die plek waar kennisdekolonisering moet plaasvind, volgens Mbembe – kennis sowel as maniere van onderrig is uitgedien, en onderrig-leer-verhoudings kan verander om plek te maak vir “toekomskennis”, kennis in klaskamers sonder mure, waar almal medeleerders is en waar nuwe vorme van byeenkoms die saamtrekking van en platforms vir die verspreiding van ‘n verskeidenheid kennisse verseker kan word. Laasgenoemde sluit volgens Catherine Odora-Hoppers van Unisa die kennis in van al die landsburgers, stedelik en plattelands, inheems en tradisioneel; die kennis op grond waarvan mense ‘n lewe maak.
Hierdie is ‘n oproep vir die oopmaak van kennis, verby die bestaande, beperkte, gekodifiseerde kennis in kurrikula wat Euro-Amerikaanse tradisies voortsit. Laasgenoemde is baie duidelik in die handboeke op skole en universiteite waar die handboeke self, sowel as die bronne waarop hulle gebaseer is, in enigeen se skatting, meer as 95% Europees is. Dekolonisering van kennis beteken dan om die volle diversiteit van kennis in ons samelewing in die kurrikula, dit is die inhoud van onderwys soos in handboeke vervat, te weerspieël.
Die werk van universiteite is steeds Eurosentries, is die twee punt wat mens uit Mbembe se skrywe “Decolonising Knowledge – the Question of the Archive” kan haal. Suid-Afrikaanse universiteite is “etnoprovinsiaal” en probeer Oxford/Cambridge namaak. Hy stel die punt dat kursusse op universiteit die doeleindes van kolonialisme en apartheid gedien het, en dit steeds in die na-apartheid era doen. Die navorsing en kennisproduksie volg steeds Westerse tradisies na, en sluit alternatiewe plaaslike Afrikaïese epistemiese tradisies uit. Die Westerse kanon maak filosofiese aannames oor die aard van die mens, van werklikheid, van kennis en so meer wat ander uitsluit – dis die beherende kanon. Dis so sterk dat dit baie moeilik is om daarbuite te werk.
Hierdie siening van die wyses waarop wetenskapsbeoefening aan universiteite plaasvind, as onderwerpende en miskennende praktyk, is al deur ‘n verskeidenheid intellektuele leiers in Afrika en Suid-Afrika gestel. Uitgesproke skrywers sluit in Catherine Odora-Hoppers, wat praat van die kognitiewe krisis in die land; Andre Keet, wat skryf oor die wyses waarop kennis gebruik word om sosiale afstand te bewerkstellig; Salim Vally oor die onderwys en sosiale verandering; Aslam Fataar oor die probleme met Westerse kurrikula; Brenda Leibowitz oor sosiale geregtigheid in die onderwys; en vele ander. Toegang tot hierdie bydraes is te vind op www.reseachgate.net, en op professionele webblaaie.
Die begrip van wat die dekolonisering van kennis behels, kan uitgebrei word met kritiese gesprekke oor wat die dominante kennis in die onderwys is, en wat uitgesluit word. Dit het nie soseer te doen met die uithaal van Westerse kennis nie, maar ‘n integrering met die volle diversiteit van kennis van almal in die land.
Hopelik gaan die oproepe om dekolonisering in openbare ruimtes verder geproblematiseer word. Mbembe stel hierdie oproep sterk – ook aan wittes, historiese bevoorregtes om in al die “kreoolse vorme” van tale (self Engels en Afrikaans) nie in “enklawes” nie, maar in openbare demokratiese prosesse, rigtings vir die toekomstige Suid Afrika te ondersoek.
The post Die dekolonisering van kennis appeared first on LitNet.