Bertie Coetzee, voorheen hoofsanger van Zinkplaat en deesdae "bio-boer", maak 'n terugkeer tot die verhoog by 2016 se US Woordfees. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Bertie. Hoe's dinge?
Jis Henry, dinge is lekker warm, maar baie groen hier na die reën laasmaand.
Man, dis lekker om weer ’n slag jou naam op ’n feesprogram te sien – spesifiek twee optredes by vanjaar se Woordfees. Kom ons begin by jou deelname aan die Rock Lunches-program by die Vette Mossel. Ná Zinkplaat die snare opgehang het, tree jy selde op, en hier het ons te doen met ’n intieme solovertoning. Is daar nerwe wat knaag, of hoe voel jy oor die vooruitsig? Verwag ons meestal Zinkplaat-liedere, of is daar ’n klomp nuwes wat daar op die plaas by Prieska geskryf is? Het jy moontlik intussen ’n nuwe persona of styl geskep, à la die ontslape David Bowie, waarop ons bedag moet wees?
Ek is baie opgewonde oor die vertonings, en moet dankie se aan Dirkie “Porra” van der Merwe wat my nie eintlik kans gegee het om twee keer te dink nie. Ek is seker die senuwees sal erg knaag so ’n ruk voor die show, maar vir nou sien ek net uit daarna. Ek sal nog baie voorbereidings moet tref, veral wat die lirieke onthou aanbetref. As mens lanklaas gespeel het, is lirieke soos daai koedoe in die skemer agter ’n haakbos – as jy hom uit die hoek van jou oog kyk, dan sien jy hom, maar sodra jy vir hom kyk, verdwyn hy. Ek kry deesdae baie min kans vir tokkel, en as ek wel die kitaar optel, probeer ek vir ure lank blues rifs speel. My plan is dus eintlik om as ek 60 is my musiekloopbaan te hervat as ’n blues-man uit die Oranjerivier-delta.
By dieselfde venue het jy ook ’n optrede saam met die legendariese Piet Botha. Hoe lyk die beplanning vir dié vertoning? Gaan dit Piet-en-Bertie saam op die verhoog wees deurentyd, of vul julle mekaar bloot so nou en dan aan? Op watter van Piet se liedere sal jy die graagste wil saamspeel, en watter van sy liedere wens jy jy het self geskryf? Hoe ervaar jy die uitdaging van ’n verhoog deel met ’n liedskrywer en sanger met so ’n roemryke reputasie?
Ek is en was nog altyd ’n baie groot aanhanger van Piet en Jack Hammer. “Liberty” is een van my gunsteling-songs van alle tye. Een van ons eerste vertonings was ’n informele en intieme “unplugged” show saam met Piet en Jonathan Martin op ’n wynplaas buite Stellenbosch in 2002, en die foto van my en Basson saam met hulle twee is nog steeds een van my braggerige memorabilia, so dit voel heel vanpas om nou weer saam met hom op te tree. Die show by die Woordfees word, soos gewoonlik by De Vette Mossel, deur die legendariese en baie presiese Dale Collins bymekaargesit, en dit sal ’n goeie balans wees tussen saamspeel en alleen speel en hard en sag. Die house band bestaan uit gesoute blues-swaargewigte – Dale Collins, Rob Stemmet en Simon Orange – en ek sien baie daarna uit om die verhoog met legendes soos hulle en Piet te deel.
Dis nou al so net oor die drie jaar sedert Zinkplaat halt geroep het. Benewens ’n reünie-show of twee (hoe was dit?!) het jy jou aandag sedertdien voltyds gevestig op die mielieboerdery. Wat mis jy die meeste omtrent (1) Zinkplaat en (2) die musiektoneel? Wat mis jy nié? Oorweeg jy dit soms om weer ’n toer aan te pak, of hoe verloop jou gedagtegange in daardie opsig?
Die reünie-show (daar was nog net een as ek dit nou reg het) in Bohemia was een van gemengde gevoelens. Ons eerste oefensessie het ontaard in ’n braai waar ons nie een noot gespeel het nie, maar net gelag het oor die ou dae. Vir die tweede sessie het ons vir die eerste keer ooit ’n professionele oefenlokaal gehuur. Ons het dadelik die songs basies onthou (Basson het so ’n bietjie gesukkel, want hy het toe actually vir twee jaar ander musiek gespeel), maar ons kon nie die “endings” en die “breaks” onthou nie. Bohemia was nog altyd een van ons gunstelingplekke om te speel en die atmosfeer was energiek en melancholies. Die gesigte was meestal bekend, maar daar was tog heelwat nuwes ook. Ek kon nie een noot op noot gesing kry nie, maar gelukkig het die mense nog nie die woorde vergeet nie (anders as ons – ek het spesifiek “Karoo poison” se woorde vergeet) en het hulle die meeste van die songs oorgevat net na ons weggetrek het. Dit was vir my bevredigend om te voel dat ons musiek iets beteken het en tot ’n mate ’n gat gelos het, al is dit dalk ’n kleine en dalk net vir ’n paar mense. Terselfdertyd het ek besef dat ons tydsberekening perfek was toe ons opgehou het. Beer het een keer gesê “ons het opgehou net voordat ons die donkie in die grond in gery het”. Als wat ek beleef het by die reünie-show is wat ek die meeste mis van Zinkplaat – die kameraderie, die toere, die mense, die koue biere voor die show, en meestal daai oomblikke op die verhoog wanneer die song ewe skielik groter as die som van ons vier se dele is. Ek mis egter nie die rondsittery van ’n toer nie en ook nie die sound checks nie, so dit sal ’n ruk wees voor ek weer ’n toer sal aanpak, maar mens weet nooit. Ek voel tans daardie verandering wat mens in die lug voel voordat die reën kom, so ek dink ’n album is dalk naby.
Ons het voorheen vlugtig gepraat oor jou ervaringe van Zinkplaat se hoogtepunte en laagtepunte. Noudat jy ’n paar jaar gehad het om terug te staan, waarop voel jy die trotsste wat betref die Zinkplaat-loopbaan, asook die DPK-werk? Na watter musiek, video's en dies meer keer jy nog gereeld terug vir daai tog in die herinneringbaan? Watter vreemd-onaangename herinneringe (indien enige) spook nog soms by jou?
Ek is trots op al die albums wat ons opgeneem het, en dat ons deurgedruk het om dit self te kon finansier terwyl ons geswot het. Musiek uit die geraas is vir my ons beste werk en dit is dalk omdat ons al vier op daardie album ewe veel kreatief bygedra het. Ons Miskruier-CD-launch in 2005 is ook ’n aand wat ek altyd aan dink, en ons laaste toer, veral die Atterbury Teater-show. Ons keer baie spesifiek altyd terug na die Hangklip Hotel (Plankies Bar) shows as ons saam is en terugdink aan die ou dae. Niemand kan meer onthou watter gebeure was watter spesifieke show s’n nie, maar dit maak nie eintlik saak nie, daar het net altyd belaglike goed gebeur. Met die DPK-werk is daar die Avontoer, Ubuntoere en seker mees onlangs die werk saam met die Woordfees. Ek onthou nog hoe hard ons probeer het om vir Neil du Bois te oortuig dat blues die ding is vir De Vette Mossel in die laataand. Ek vermoed hy is nou bly dat hy ingestem het.
Mens vergeet mos onaangename ervarings maklik, maar een wat my nou byval was in Mosselbaai met die vyfde (of was dit nou sesde?) Avontoer. ’n Storm het ons venue weggewaai in Diaz en Porra het op last minute die venue geskuif na die Mosselbaai-stadsaal. Als het glad verloop tot die polisie blatant geweier het om ons dranklisensie vir die aand oor te skuif van een “gebied” na die ander. Hulle wou na geen sin luister nie en die uiteinde was dat ons (en die Bohemia-span) vir die feesgangers met ’n snoepie moes bedien (terwyl onder andere Jack Parow optree). As ’n kersie op die koek moes Porra heeltyd ’n oom met ’n desibelmeter op sy stoep gaan paai. Ek is daai oggend om 03:00 ook amper in die tronk gestop omdat ’n spietkop agtergekom het dat my lisensie en nommerplaat se nommers verskil (ek het vir ses jaar so gery sonder om te weet).
Omdat Zinkplaat en DPK in Stellenbosch gesetel was, het julle natuurlik ’n nabye verhouding met die Woordfees gehad oor die jare heen. Watter groei of verandering het jy by die fees gesien waarvan jy hou, en waar dink jy haak dit nog vas? Waar en hoe dink jy kan daar nog vernuwing wees, veral wat betref die musiekprogram?
Dit was definitief een van my hoogtepunte in my tyd as aktiewe lid van DPK om deel te kon wees van die Woordfees en die groei wat in daardie tyd begin het. Jana Hattingh het die visie gehad om die Woordfees uit te brei, veral aan die musiekkant. Sy het ons genader vir idees en die Beyerskloof Musiekmarathon was die eerste probeerslag. Van daar af het dit vinnig eksponensieel uitgebrei. Ek het gehou van die uitdaging om verskillende partye bymekaar te bring – kunstenaars, venues, wyne, borge. My gunsteling-shows was Koos (Kombuis) en (Hunter) Kennedy by Beyerskloof en Karen Zoid en Zolani Mahola se vertoning by Spier daardie volgende jaar. Sanlam se ondersteuning het baie gehelp (en lyk my dit help nog steeds) om die punte bymekaar te bring. Die Woordfees se groot voordeel is natuurlik die ongelooflike venues, goeie wyne en ’n wye verskeidenheid mense om voor te reël. Tans lyk dit nie vir my of daar iets is wat vashaak nie en ek haal my hoed af vir die span vir wat hulle telkens regkry. Die diverse en kreatief saamgestelde produksies is waaroor almal praat en is ’n groot kenmerk van die fees.
Zinkplaat se leeftydperk van ongeveer tien jaar het byna presies saamgeval met die dekade van oplewing in Afrikaanse rock- en alternatiewe musiek, in ’n groot mate te danke aan die geboorte en bestaan van die MK-kanaal. Wat was/is vir jou die mees noemenswaardige groei wat jy gesien het op die toneel en ook die bedryfkant van dinge, en watter geleenthede is gemis? Hoe sou jy, as ’n sedert-onlangs-buitestander, die toestand van die Afrikaanse musiektoneel beskryf, en veral wat betref (jou forté) die gehalte van liedere wat geskep word? Hoe kan/moet dit beter raak, en wat is reeds heel lekker?
Sjoe, moeilike vraag, Henry. Daar sal seker altyd geleenthede gemis wees, maar ek dink almal het probeer om elke druppel uit die suurlemoen uit te druk terwyl hy daar was. Ek dink dit is jammer dat die poel steeds klein was in terme van luisteraars, en dat ouens soos byvoorbeeld Simon Swerwer nie meer bekend was nie. Ek is baie bly dat ons in daardie tyd kon musiek maak, want dit lyk vir my van buite af of almal nou goed vir hulself moet laat gebeur. Is daar nou nuwe bands wat deurkom?
’n Mens is noodwendig nuuskierig oor die nuwe lewe op die plaas. Hoe lyk ’n gewone dag deesdae vir Bertie Coetzee? Na verneem word, begeef jy jou ook sterk in die veld van volhoubare of natuurvriendelike boerdery (sorrie, ek ken nie al die korrekte terme nie). Waaruit is hierdie passie van jou gebore en hoe wil jy dit nog verder dryf?
Wel, ek staan natuurlik voor die son op en dan drink ek ’n moerkoffie met een oog toe … Ek is baie bevoorreg om betrokke te kan wees by ons diverse boerdery in hierdie besonderse area. Ons het diep, vrugbare grond, water uit die Oranjerivier, baie son, relatief min siektedruk (agv droë lug) en diverse grasveld en bossies (dis waar die Bo-Karoo hom disnis loop teen die duine duskant Niekerkshoop). Ek is meestal verantwoordelik vir ons wyndruiwe, pekanneute en die vertikale uitbreidings van die bedryfstakke, maw al die lekker goed – wyn, brandewyn, biltong, rosyntjies, uitgedopte pekans, ens. Ons kyk ook nou na meel, veldvleis, bier en nog baie ander dinge. Die passie vir die volhoubare/natuurlike/biologiese/organiese/bewaringsboerdery (noem maar enige cliché wat tans die rondte doen) is stadig maar seker gebore. Toe ons Retrospekulasie begin opneem het in 2012 het ek terloops vir Jurgen von Wechmar van Sunset Studios gevra wat al die komposhope buite die studio beteken. Hy het my toe voorgestel aan sy tannie, Barbara von Wechmar, ’n groot gees in die wingerdkunde, en ek het toe haar komposkursus gedoen. My vrou, Alette, het in dieselfde tyd ’n natuurlike bou- en permaculture-kursus gedoen by Berg-en-Dal buite Ladismith. My broer, Nolte, het toe net teruggekeer ná ses jaar in Atlanta. Hy het gekwalifiseer as ’n chiropraktisyn en joga-instrukteur en tussen my en hom en Alette en almal wat sedertdien ons paaie gekruis het, het die passie en die honger vir meer inligting net aanhou groei. Ek het my hande op Joel Salatin se boeke gekry en hy en ouens soos Gabe Brown, Wendell Berry en Dave Brandt (almal van Amerika), en James Moffet en Angus McIntosh (in Suid-Afrika) het my inspireer om heel anders na boerdery en die rol van boerdery in die volhoubare toekoms te kyk. Die filosofie en natuurlike “minimum intervention”-wyne van oa Eben Sadie, Johan Reyneke en Jasper Raaths (via Albert le Roux) het die res gedoen. Boerdery is kuns, die ritmes van die natuur is die ruggraat en ons moet saamspeel. Dit is die basics. Jy kan vasgestrengel raak in synthesisers, kitaar layers en allerhande mumbo jumbo as jy nie inskakel by die ruggraat nie, of as die song nie goed is nie. Met musiek is dit nie so ernstig nie, jy kan net kies om nie te luister nie, maar met boerdery is die gevolge of die verbroude geleenthede bietjie groter as dit.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Bertie – wat betref musiek en boerdery – in soverre jy dit kan beheer?
Wat boerdery betref hou die nabye toekoms hopelik die amptelike vrystelling van ons Lowerland-wynreeks in. Ek is veral opgewonde oor ons Herd Sire Reserve-versnit wat Johnnie Calitz vir ons gemaak het en die Tolbos Tannat wat Lukas van Loggerenberg gemaak het. Ons wingerde het nou vir drie jaar geen insette behalwe water en beesmis gekry nie, en die Tannat is natuurlik gefermenteer met heel trosse en dit is ’n besonderse wyn (ek mag dit seker sê omdat Lukas dit gemaak het) uit die hart van die wye Noordweste. Verder eksperimenteer ons met grane vir Moffet Milling & Malting Co asook mielies vir Farmer Angus en vir Santa Annas. Ons begin ook dié week werk aan ons eerste permaculture design op 7 ha, wat ons natuurlike kleihuis en wynkelder insluit. Die langtermyntoekoms hou dus baie groot vure, interessante wyne, gesonde produkte, langtermynboerderystelsels, goeie vleis en baie musiek in. Ek hoop om dié jaar te werk aan ’n album en om my kitaarvaardighede op te skerp vir die langtermynplan van die blues-man van die Oranjervier-delta.
Wat is die sin van die lewe?
“You don’t need a weatherman to know which way the wind blows.”
SANLAM MUSIEKFEES
The post Bertie Coetzee by US Woordfees 2016: "Die senuwees sal erg knaag so ’n ruk voor die show" appeared first on LitNet.