Die bekende basman Schalk van der Merwe behartig die regie van die Woordfees-produksie Kitaarkonings en het ook ’n swetterjoel ander ysters in die vuur. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Schalk. Hoe's dinge?
Rooskleurig, neef!*
Man, dis ’n eer om uiteindelik met jou op hierdie platform te praat. Kom ons begin by die mees nabye onderwerp op die horison – jou musiekprojek Kitaarkonings, wat binnekort by die Woordfees debuteer. Jy behartig die musikale regie hiervoor – hoe presies is die projek gebore en hoe het die groei daarvan verloop tot hoe die produksie op die ou end sal lyk? Byvoorbeeld, hoe is daar besluit op die viertal Albert Frost, Madala Kunene, Tony Cox en James Grace as die konings, en was dit maklik om hulle te oortuig en te direct?
Die Woordfees het my genader met die idee en gevra dat ek die musikale regie behartig – so dit het nie regtig by my ontstaan nie! Daar was ’n paar moontlike name genoem en uiteindelik het ons besluit op hierdie vier kunstenaars. Ek dink elkeen van hulle verteenwoordig nie net verskillende genres nie, maar ook inheemse elemente wat dien as ’n wonderlike vertoonstuk van Suid-Afrikaanse kitaarspel. Tony Cox is ’n meesterlike skrywer en speler wat al baie diep spore getrap het en hy is fantasties live. Ek is besonder opgewonde oor Madala Kunene – hy was die eerste naam wat by my opgekom het vir hierdie projek. Hy is dalk nie so bekend onder Bolandse gehore nie, maar is ’n fantastiese talent en koning van Zulu-blues. So gepraat van blues, Albert Frost is ook ’n no-brainer vir die program. Alhoewel die meeste mense hom assosieer met blues, is hy baie veelsydig, en speel enigiets van Vivaldi tot Maskandi. En hy het al saam met Ali Farka Touré opgetree … (Gaan google hom!) James Grace is weer ’n bekroonde klassiekekitaarspeler wat ’n ander, en baie nodige, element na die vertoning bring. Dit gaan minder oor “direct” en meer oor hoe om hulle te fasiliteer op ’n manier wat hulle spel en improvisasie optimaal ten toon stel. Ek het ook die baie talentvolle perkussiespeler Ronan Skillen (wat oa vir Rodriguez gespeel het) ingeroep om saam te speel.
Die Woordfeesprogram verklap nie veel oor die produksie self (buiten vir die deelnemers) nie ... Kan jy moontlik aandui wat feesgangers kan verwag, of is die verrassingselement juis belangrik hier? As jy sou moes terugstaan en as ’n gehoorlid dink wat omtrent die produksie jou die mees opgewonde maak, wat sou dit wees?
Hierdie kunstenaars is almal op ’n meesterlike vlak en ek verwag ’n mengsel van individuele werk en ook musikale dialoog en interpretasie van mekaar se werke. So ’n produksie is ’n rare ding, en dit maak my as kitaarliefhebber vreeslik opgewonde – hierdie gaan baie goed op die oor wees!
Oor na ander dinge: Jy het onlangs ’n doktorsgraad aan die US behaal, met die tema (as ek dit reg het): "Negotiations of identity in post-apartheid popular Afrikaans music". Dit is ’n ontsettend interessante tema, en ek's seker jy's al moeg gepraat daaroor, maar vertel ons net gou: Wat het jou laat besluit om dié tema aan te pak? Is daar ’n kans dat ons dit in ’n soort boekformaat sal kan sien binnekort? Voel jy meer of minder hoopvol oor die vlak van identiteitsuitdrukking of -verkenning in Afrikaanse populêre musiek as voor jy begin het, en hoekom?
Sjoe! OK, kom ons begin by die begin. Die tema het verander om die hele geskiedenis van opgeneemde populêre Afrikaanse musiek in te sluit, nie net die postapartheid era nie. Ek is oorspronklik daartoe aangetrek deur jare se waarneming vanaf die verhoog en ek het al hoe meer begin wonder oor die konneksie tussen musiek en mense se selfidentifiseringsprosesse. Dit het vir my duidelik geword dat Afrikaanse mense, veral by kunstefeeste/popkonserte, Afrikaanse popmusiek ervaar as iets meer as net musiek. Ek vermoed mense ervaar selfs die oppervlakkigste liedjies as kultureel belangrik net omdat dit in Afrikaans gesing word. Of so iets ... En ja, ek dink aan ’n boek! Hoe hoopvol voel ek oor die vlak van identiteitsuitdrukking of -verkenning in Afrikaanse populêre musiek? Ek dink nie regtig meer in terme van “goed/diep” of “sleg/oppervlakkig” nie – soos ek partykeer spot, is selfs doef-doef musiek interessant vanuit ’n antropologiese perspektief! As mens egter praat oor die kunselement, met al die subjektiwiteit wat daarmee saamgaan, dink ek nie daar is rede tot kommer nie. Afrikaanse musiek is meer divers as ooit.
Jy is deesdae ook te siene as die basman in die geweldig suksesvolle kykNET-program Die republiek van Zoid-Afrika. As ’n lid van die band, hoe werk die voorbereiding vir die musiekitems saam met die verskeie gaste op die program? Wat is vir jou die mees uitdagende element daarvan, en wat is die lekkerste? Waaraan skryf jy die sukses van die program toe in terme van die iTunes-aflaairekords wat week na week gebreek word?
Die band kom voor die tyd bymekaar en werk aan interessante vertolkings van liedjies van die musikale gaste wat op die program gaan wees. Karen het normaalweg ’n goeie idee van watter liedjie om te doen en hoe sy dit wil aanpak. Ons sal partykeer die verwerkte song opneem en aan die betrokke kunstenaar stuur om te hoor of hulle gelukkig is daarmee. Hulle is gewoonlik! Verder het ons vir Melissa van der Spuy (op klavier) as musikale regisseur wat al die insetsels, walk-ons en ad breaks bestuur en beplan. Die grootste uitdaging is om stil te sit terwyl hulle skiet (ons is in die agtergrond, so moet nie te veel beweeg nie). Dit is ’n baie lekker ervaring om deel te wees van so iets. Die ure is baie lank en mens moet deurgaans op jou tone dink, maar die span is regtig ’n klomp topmense en elke liewe een is uiters professioneel en positief. Die iTunes-sukses weerspieël die gewildheid van Afrikaanse musiek daar buite, die gewildheid van die program self en natuurlik ook die liedjies self. Daar word baie, baie moeite gedoen om die kwaliteit van die liedjies (verwerking, speel, opname en mix) so hoog as moontlik te hou.
Jou geskiedenis as lid van verskeie bands en projekte (en ook session work) is indrukwekkend en ook divers – van Billygoat deur tot Delta Blue, Bed on Bricks, Karen Zoid ... die lys gaan aan. Hoe besluit ’n mens wanneer ’n band sy raktydperk bereik het en daar halt geroep moet word, en hoe beleef jy daardie soort ervaring? Is dit soos ’n break-up, of is dit meer ’n geval van professionele en sakeredes wat oorweeg word vir so ’n besluit? Wat is die eerste ding waarna ’n mens soek in ’n nuwe projek nadat mens moes snare ophang met die vorige (en is dit ook soos ná ’n break-up)?
Die meeste van die bands waarin ek gespeel het wat nie meer gereeld optree nie, het maar op natuurlike maniere (trek oorsee, sielkundige ineenstortings, Damaskus-ervarings, korporatiewe werk – jy weet, the usual) minder aktief geraak. Daar was nooit epiese break-ups of eksistensiële angs nie. Miskien omdat ek nooit in emo-bands gespeel het nie … Nuwe projekte hang vir my af van wie die betrokke musikante is. Jy moet die regte partners hê wat dieselfde idees het oor musiek.
Soos gemeld is jy al ’n ou kalant op die plaaslike musiektoneel en in die gepaardgaande bedryf. Wat is die mees noemenswaardige groei of veranderinge wat jy oor die jare sien gebeur het wat betref die Suid-Afrikaanse scene? Hoe sou jy die huidige toestand van die Afrikaanse en breër Suid-Afrikaanse toneel kortliks beskryf? Wat suig, en wat is kief? Watter veranderinge sal jy graag in die nabye toekoms wil sien?
Hmmm, ek sien baie jong spelers wat uiters professioneel is. Dit is ’n baie goeie ding – hulle is career-minded en is nie so primêr aangetrokke tot die tipe “self-aggrandisement” wat ek al so baie in die verlede gesien het nie! Wat die huidige Afrikaanse musiektoneel betref, sou ek graag meer grensverskuiwende werk wou sien wat nuwe goed sê oor ras, taal, seksualiteit ens. Maar miskien is dit te veel gevra.
Met die talle gigs en toere wat jy al meegemaak het, is daar seker ook ’n magdom stories om te vertel. Watter ongewone of vreemde hoogtepunte staan vir jou uit as jy nou so ’n oomblik terugkyk oor die skouer? Enige gebeure wat jy eerder sal wil vergeet? Agter-die-skerms staaltjies wat mense nie glo as jy dit vir hulle vertel nie?
What happens on tour, stays on tour.
Benewens dit wat ons reeds bespreek het, wat hou die nabye en verre toekoms in vir Schalk van der Merwe?
Dit is ’n lekker besige jaar wat voorlê. Benewens die Woordfees en die KKNK is daar shows in Amsterdam saam met Karen en Francois, klasgee by die Geskiedenisdepartement by die Universiteit Stellenbsoch en ’n paar navorsingsartikels waaraan ek werk. Ek beplan ook om Rwanda toe te gaan om te gaan kyk hoe die traumatiese geheue van die volksmoord in 1994 manifesteer in populêre musiek en die rol wat dit speel in die skep van hegter sosiale netwerke en nasiebou. En heelwat gigs natuurlik!
Wat is die sin van die lewe?
Vind jou stem, weet wie/wat vir jou belangrik is en wat nie, and stick to it!
* Schalk en Henry is kleinneefs.
The post Schalk van der Merwe by US Woordfees 2016: "So ’n produksie is ’n rare ding" appeared first on LitNet.