Die uiters veelsydige en ervare musikant Riaan Nieuwenhuis het pas sy derde instrumentele album, Collaborator, uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Riaan. Hoe's dinge?
Alles goed, dankie, Henry. Hoop daardie kant ook.
Baie geluk met die vrystelling van jou nuwe album, Collaborator. Hoe het jy hierdie album anders benader as jou vorige twee instrumental albums, Instigator en Mediator? Was daar spesifiek ander of nuwe elemente wat jy wou verken op Collaborator wat jy nog nie voorheen betree het nie? Enige spesifieke mikpunte of doelwitte wat jy wou bereik met die album, en in hoe ’n mate dink jy het jy dit wel bereik, noudat die album vrygestel is?
Dankie baie. Mediator is ’n klavieraangedrewe dubbelabum, waarvan die eerste CD soloklavier en die tweede CD klavier en ander instrumente bevat. Instigator is ’n hoogs eksperimentele en hoofsaaklik kitaaraangedrewe hard rock instrumental album, wat die eerste van sy soort in Suid-Afrika was in 2012.
Collaborator, daarenteen, is ’n band-driven rock instrumental. Hier wil ek onmiddellik die name noem van die ander Collaborators, Heinrich Wesson (ook op lead en rhythm guitar), Jaco Goosen (bass guitar) en Jean Marais (drums).
In teenstelling met die vorige albums, waar ek eers alles volledig klaar geskryf het, het ons met Collaborator die aanvanklike tracks eers baie gespeel nadat ek dit rofweg geskryf het. Dit het dan ’n platform gebied vir insette deur die ander ouens. Ek het gemik vir ’n rou en swaar klank, met meer uitgebreide komposisies as op Instigator. Die kombinasie van klavier en meer prominente Hammond-orrel saam met hard rock riffs is ook ’n nuwe eksperiment vir my. Ons het die tromme in Die Ou Meulteater (Paarl), met ’n houtverhoog, opgeneem om ’n groot en vol drum sound te kry. Dis iets wat ek nog nie vantevore probeer het nie. Ek glo dit het die gewenste uitwerking gehad.
In retrospek sal mens natuurlik altyd wil verbeter op sommige aspekte, maar in die geheel is ek heel gelukkig met wat ons bereik het.
Collaborator is kliphard, rou, en tog gedryf deur melodiese instrumentwerk wat ’n mens plek-plek laat wonder hoekom enigiemand nog bother met sangers, ha. Vir baie mense is die konsep van vocalist-lose ruk en rol egter nog vreemd. Wat het jou in die eerste plek aangetrek tot die skep van musiek sonder lirieke en sang, en wat het jou laat besluit dit is die rigting wat jy voorts onder jou eie naam wil inslaan? Wat ervaar jy as die grootste voordele en die grootste nadele van hierdie benadering met ’n projek?
Die kombinasie van ’n kwaliteit-vocalist, goeie lirieke en goeie instrumentasie is altyd spesiaal. In rock, natuurlik, staan die lirieke primêr teenoor die musiek. Oftewel, dit is die algemene siening en toepassing. Die stem is natuurlik ook ’n instrument, maar met woorde as alledaagse kommunikasie val die musiek vir my grotendeels in ’n ander kategorie. Ek het nog altyd meer gehou van die uitsonderings, waar musiek as ’n onafhanklike entiteit staan sonder lirieke. Ek is ook baie mal oor die kunskombinasie van goeie beeldmateriaal en musiek. Suicide and redemption van Metallica is ’n uitstekende voorbeeld van die mag van ’n instrumental, wat my óók laat wonder hoekom sommiges nog bother met sangers.
Ek deel nie altyd die uitgangspunt dat die mens se stem, en dus persona, die fokuspunt moet wees nie. Dit blyk nie noodwendig die algehele kwaliteit van die musiek te verbeter nie. Bygesê, ek sluit nie die moontlikheid uit van ’n album skryf met lirieke vorentoe nie.
Een voordeel van instrumentele musiek is dat dit nie in ’n taal is nie en dus universeel is. Daar is uitdagings, soos die skryf van die musiek, met ander woorde ’n suiwer, nielirieke-benadering tot arrangements en instrumentasie, asook die finansiële uitdagings van ’n kontrapopulistiese produk.
Collaborator het ’n goue draad van grunge-agtige metal (ek's nie altyd so goed met die genre-benamings nie, so stel gerus ’n beter een voor!) wat daardeur loop. Ek – en ek's seker baie ander musiekaanhangers – het jou egter aanvanklik leer ken as uit-en-uit ’n blues-man. Waar kom die liefde vir die "grunge-metal" vandaan, en wat is die elemente daarin wat maak dat jy dit wil aanhou verken en jouself uitdaag daarmee? Hoe dink jy het hierdie dieper-grawe-ding gemanifesteer op Collaborator, of was dit meer ’n geval van rustig jol en kyk wat gebeur?
"Grunge-metal" is ’n interessante beskrywing. Van die groeperings te vinde in instrumentele rock is oa post rock en desert rock. En een van my grootste inspirasies hier is die desert rock-styl van die groep Karma to Burn, afkomstig van West Virginia. Die manier waarop hulle onder meer die signature riffs aanwend in afwisseling met melodiese gedeeltes is besonders.
Ek sou reken dat die styl van die album uit ’n kombinasie van rockvariasies bestaan, so ek laat dit oop vir interpretasie. Daar is daar ook tracks soos "Burnside", ’n blues-rock track vernoem na die blues-legende RL Burnside, "Slipstream", wat wissel tussen ’n blues-rock en ’n swaarder riff, asook die slide-guitar track "Solitude", waar die garage-blues-rock beslis manifesteer.
Die blues en blues-rock is een van daardie genres wat my ’n gevoel gee van euforie. As ek ’n kitaar optel, of agter ’n klavier inskuif, dan gebeur die blues gewoonlik eerste. Dis seker maar “the key to the highway”.
Van daar gebeur eksperimente, en ’n signature riff word gebore en uitgebou. En die liefde vir ’n swaarder kitaarklank stuur hom verder in ’n gang af. Die proses is redelik omvattend. Maar in wese manifesteer daardie aanvanklike idees as temas in die snitte op die album.
Ek moet bieg, ek is versot op die werk met die Hammond-orrel op die album – dit voel soms heeltemal uit plek uit, maar ook so gepas en verrassend, amper soos ’n kaalnaeler op ’n rugbyveld tydens ’n hoëdruk-wedstryd. Hoe lank kom jou verhouding met dié instrument al aan, en hoe voel julle deesdae oor mekaar? Sal julle altyd in mekaar se lewens wees, of hoe sien jy die saak?
Ek hou van jou beskrywing. Ek het op ’n ou orrel geleer speel, wat steeds in werkende toestand in my huis staan. Die orrelklank maak steeds ’n groot deel van my optredes en skryf van liedjies uit. Ek glo dit sal altyd so wees.
Ek sou raai om te gaan sit en ’n "liedjie te skryf" werk effe anders as jy van die begin af weet dit gaan liriekloos wees. Hoe werk jou proses van snitte uitwerk en aanmekaarsit? Sou jy sê daar's ’n standaard vers-brug-refrein-ding aan die gang wanneer jy skep, of wat is vir jou die groot uitdagings om aanloklike hooks en flows te skryf vir instrumentele musiek? Is daar ’n spesifieke filosofie of mantra wat jy volg in terme van hoe al die songs wat jy vir ’n album skryf, ’n storie van een of ander aard moet vertel, of hoe benader jy dit gewoonlik?
Ek het vroeër verwys na die signature riff, wat ontwikkel uit eksperimentering. Dit is waar ’n liedjie begin. Ek kan daardie riff nie uitlos nie, en hou hom aan speel, totdat daaropvolgende en uiteenlopende idees ontwikkel wat voortvloei uit – en aansluit by – die aanvanklike idee. Wanneer daar ’n mate van vorm is, sal ek opnames maak, terugluister, sekere gedeeltes uithaal en nuwes uitwerk. Dan sal ek plekke identifiseer waar lead guitar of ander instrumente sal werk, totdat ek ’n punt bereik waar ek min of meer voel hier is rofweg ’n snit.
Tydens die skryf van Collaborator het ek die opnames van onverwerkte snitte aan die ander ouens gestuur. Dan het ons bymekaargekom en dit gespeel en verder vorm en variasie gegee. Dit is natuurlik ook belangrik om ’n sterk intro, asook spesifieke gepaste outro, te skryf. En elke snit ontwikkel ’n unieke persoonlikheid. Met betrekking tot metodologie is daar dan ’n aanvanklike riff, asook lead en melodic breaks. Maar vir die res van die strukturering is daar nie ’n standaardmetode nie.
Wat die volgorde van die snitte betref was daar op Collaborator lank besin tussen ons voordat daar op ’n finale een besluit is. Die oorwegings was onder meer gebaseer op kwessies soos variasie, groeperings, tempo, styl, en key.
Benewens die band wat saam met jou aan die album gewerk het, het jy ook twee gasmusikante gekry om op van die snitte te speel – Basson Laubscher en Rob Nagel. Waarom het jy spesifiek hierdie twee gekies? Met watter musikante – of dit nou persoonlike kennisse, helde of bloot interessante kreatiewes is – sal jy nog graag wil werk in die toekoms?
Ek het al ’n hele paar keer saam met Basson Laubscher in sy Violent Free Peace-band gespeel. Ek het ook op sy debuutalbum gespeel en hy op my Mediator-album. Dit was dus vir my net logies dat ek hom ook sou wou hoor op Collaborator. Hy doen die outro-solo op "Burnside".
Rob Nagel is ’n bekwame musikant en uitstekende mondfluitjie-man. Ons wou graag harmonica hoor op die album. Hy is te hoor op "Burnside" en "Solitude". Niel Smit is my vennoot in The Parlor Vinyls, waar ek dromme speel. Sy unieke styl is ook te hoor op die track "Solitude". Ek gaan vorentoe werk met Nico Erwee, en hopelik eendag met Karma to Burn.
Jy is nou al dekades lank aan't woeker en doenig op die plaaslike musiektoneel – op verhoë oor die land heen en ook in die buiteland. Wat is jou mening oor die (Suid-) Afrikaanse musiekbedryf en musiektoneel soos dit deesdae lyk? Wat suig, en wat is kief? Wat is die mees noemenswaardige veranderinge wat jy oor die jare opgemerk het, en hoe sal jy dit graag nog wil sien verander in die toekoms?
Ek verkies om vir uitgebreide tye nie deel te wees van die plaaslike toneel nie, maar my mening is dat daar baie goeie plaaslike musikante is. Miskien meer as wat daar ’n gehoor is om hulle bestaan te waardeer. Ongelukkig is daar heelwat van hulle wat sukkel om te vernuwe, omdat hul in ’n “rut” van toere en optredes verval om aan die lewe te bly en aandag te behou. Dit kan nogals uitputtend en tydrowend wees.
Backtracks en bouncing backstage-ego’s suig. Fisiese albums en old school is kief.
Die mees noemenswaardige veranderinge blyk die toename in getalle van musikante te wees (hulle vermeerder skynbaar teen ’n hoër tempo relatief tot populasiegroei), ook reeds op skool. Ook is daar ’n toename in aanlyn teenwoordigheid, en gevolglik minder fisiese albums.
Wat ek sou wou sien verander, is dat musiekmaak meer geredelik as ’n professie beskou word deur beide die betalers en die musikante.
Soos in die vraag hier bo genoem, is jy ’n waarlik gesoute musikant wat gigs, toere en dies meer betref. Enige gebeure wat vir jou as hoogtepunte uitstaan tot dusver, as jy vinnig dink? Enige mal agter-die-skerms-stories wat mense nie glo wanneer jy hulle vertel nie? Enige oomblikke wat jy eerder sal wil vergeet?
Oppikoppi main stage staan nogal uit. Om AC/DC live te sien in die tydperk wat ons in Londen was met ’n band was heel spesiaal.
My drie pilare van musiek het mooi gestaan een aand in Stellenbosch toe ek ’n guitar gig gedoen het en daarna gaan dromme speel het by ’n ander venue, en die aand toe afsluit met ’n klavieropname.
Maar die malste agter-die-skerms stories sal ek liewer nie oorvertel nie ...
Om te vergeet … Lang tye wat jy sonder keuse in mense se geselskap moes deurbring.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Riaan Nieuwenhuis, in soverre jy dit kan beheer?
Om deur die opnames van die nuwe guitar riffs en klavieridees te werk.
Om tussen die twee opsies vir ’n volgende album te besluit.
Om weer iets blues-based te doen.
Om soveel tyd moontlik met ’n instrument deur te bring.
Om soveel as moontlik tyd met die drie girls in my lewe deur te bring.
Wat is die sin van die lewe?
Geniet soveel moontlik.
The post Riaan Nieuwenhuis: "Ek het gemik vir ’n rou en swaar klank" appeared first on LitNet.