Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Lesersindrukke: Errol Tobias: Suiwer goud deur Errol Tobias

$
0
0

Errol Tobias: Suiwer goud
Errol Tobias
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN:  9780624071891

Dit gebeur toe so dat ek The Good Story – Exchanges on Truth, Fiction and Psychotherapy koop enkele dae voordat ’n vriend my ’n eksemplaar geskenk gee van Suiwer goud, die outobiografie van die eerste bruin (of swart) Springbokrugbyspeler, Errol Tobias.

Die temas van die twee boeke had op die oog af niks met mekaar te make nie; dat ek hulle dae uit mekaar bekom het, was dan blote toeval, sonder enige diepe betekenis daarin versteek.

Maar toe ek The Good Story – skrywes tussen die psigoterapeut Arabella Kurtz en die wenner van Suid-Afrika (of Australië?) se Nobelprys vir letterkunde, JM Coetzee – begin lees, het ek tog ’n raakpunt bespeur. Dit is in die eerste paragraaf van die eerste hoofstuk op bladsy 1 opgeteken.

Hier word (in my eie vertaling en beklemtoning) skrywer wees van jou lewensverhaal opgestel teenoor verteller wees daarvan; en ook word die skep van ’n goedgevormde storie opgeweeg teen die oordra van die ware verhaal.

Coetzee skryf aan Kurtz: “When I tell other people the story of my life – and more importantly when I tell myself the story of my life – should I try to make it into a well-formed artefact [...] or on the contrary should I be neutral, objective, striving to tell a kind of truth that would meet the criteria of the courtroom: the truth, the whole truth, and nothing but the truth?”

’n Maklike taak is dit beslis nie, kán dit nie wees nie: die besluit oor wat om weg te laat en wat om te behou wanneer ’n mens jou lewensverhaal te boek staaf, soos wat dit uiteraard vir Tobias ook moes gewees het met Suiwer goud, in Engels beskikbaar as Pure gold.

Dit is egter ook Coetzee wat dan die leser herinner aan Freud se waarskuwing dat wat jy weglaat sonder om daaroor na te dink dikwels die sleutel mag wees na die diepste waarheid oor jouself.

*

Maar laat ek eers my belange verklaar voordat ek voortgaan met hierdie bespreking van Suiwer goud:

  • Ek is sedert 2011 besig met ’n biografie oor Errol Tobias. Hieroor het hy sy afkeer in ’n brief aan Die Burger duidelik gemaak – en terselfdertyd, verkeerdelik, die lesers meegedeel dat ek hom by geleentheid sou genader het om sy boek te skryf en dat hy toe geweier het.
  • Ek het dieselfde uitgewersgroep wat nou Tobias se boek uitgegee het, reeds in 2011 rond genader oor of hulle sou belangstel in ’n boek oor hom, en die terugvoer destyds was “dat die storie dalk al bietjie oud is”.

Maar omdat ek aanhou glo het, en steeds glo, dat Tobias se verhaal so volledig moontlik – en binne die konteks van sy tyd – vertel moet word, het ek deurgedruk en aanhou navorsing doen en skryf.

Dit is immers al byna 25 jaar nadat ek die eerste keer, daar in my matriekjaar rond, oor hom begin skryf het toe ek my joernalistieke loopbaan as ’n dorpskorrespondent in ons gedeelde tuisdorp, Caledon, begin het. Tobias het op daardie stadium sy laaste seisoene as klubspeler beleef.

En ek hoor hom nog so onlangs as 2010 sê – na aanleiding van die goeie terugvoer wat hy ontvang het op ’n kort profielonderhoud wat ek oor hom vir Die Burger geskryf het: “Jy weet jou kanse om my boek te skryf, is nou natuurlik nóg beter.”

Dit was voordat ek in 2011 in ’n rubriek en ’n brief in Die Burger melding gemaak het van my Tobias-boekprojek en hy geantwoord het dat enigiemand wat hoop om ’n boek oor hom te skryf dit net met die waarheid uit sy eie mond sou kon doen.

Dit is tóé dat hy sý weergawe van ons gesprek – waartydens ek hom kwansuis sou gevra het om sy boek te skryf – weergegee het. My eie weergawe moet nog, en sal ook nog, opgeteken word.

En toe, in Augustus 2014, terwyl sy kleinseun Curtley en my seun Benedict vir dieselfde span van die plaaslike voormalige Model C-skool op Caledon uitdraf, deel Tobias my mee: “Luister, partner, ek wil nie hê jy moet deur die grapevine hoor nie, maar my boek is klaar, hoor.”

Die uitgewers, maklik drie of vier van hulle, sou tou gestaan het vir die manuskrip, en daar was reeds sprake van ’n fliek. Hy sou hom hiervoor “semifiks” moes hou sodat hy homself in die fliek kan speel.

Heel betekenisvol het die gesprek ook hierdie olyfblaar opgelewer: “Sien, ek het vir my vrou, Sandra, ook gesê dit sal niks gewees het om jou my boek te laat skryf nie, maar ek moet dink aan jou loopbaan ook – veral daar waar jy nou is [in diens van die Universiteit Stellenbosch].”

Dit het hierdie rugbyheld van my bekommer dat ek dalk aan die verkeerde kant van die “wit man” sou beland, sê hy dié dag, indien ek sou saamwerk aan ’n boek “waarin Tobias die wit man te na kom”.

Ek het respekvol my kop geknik en gevra dat “oom Errol” my asseblief moes verskoon, maar my seun sal ná die wedstryd wou weet hoe ek dink hy gespeel het. Nét daar, op daardie oomblik, het my seun ’n ondersteuner langs die veld bygekry: “Kom, Dickie!” het Tobias luidkeels geskreeu. “Wys hulle!”

Dit is ook hoe hy my aangemoedig het, destyds toe ons saam vir die plaaslike klub geoefen het – hy die eerstespan-losskakel aan die einde van ’n roemryke loopbaan, en ek die tweedespan-skrumskakel aan die begin van ’n belowende een, op die drumpel om my eerste wedstryd saam met die dorp en die land se eerste bruin (of dan swart) Springbok te speel.

Helaas was dit my nie beskore nie, want Tobias het sy plek in die eerste span vir daardie bepaalde wedstryd verloor en dit as benede hom beskou om vir die tweede span uit te draf, sonder inagneming dat sy besluit ’n lewenslange aanhanger van ’n groot geleentheid ontneem het.

“Kom, Dickie,” het hy my seun nou hier langs die veld aangemoedig. “Wys hulle!”

*

My afwagting was derhalwe groot toe ek te hore kom dat Tobias se outobiografie by Bargain Books op Caledon bekend gestel sou word, omtrent ’n week voor die nasionale vrystelling geskied het.

’n Paar dae later het ek my geskenk-eksemplaar bekom – en die boek in een sit deurgelees. Dit was om twee redes: omdat ek, as ’n aspirantbiograaf, wou sien wat Tobias in die boek deel, hóé hy dit vertel, en waaroor hy stilbly; en ook omdat die boek nie juis baie tyd vereis het om deur te lees nie.

Dit is ‘n bietjie dun in die broek, soos ons sê, as jy dit vergelyk met ander rugbybiografieë of -outobiografieë uit Tobias se era en die onlangse verlede. Om enkeles te noem: Nick Mallet (180 bladsye), Naas Botha (260), Wynand Claassen (320), Peter de Villiers (240), Jake White (340), Chester Williams (225), Hennie Gerber se Craven (280) en Paul Dobson se Doc – The Life of Danie Craven (300).

Wat Tobias se Suiwer goud betref – die storie van een van Suid-Afrikaanse sport se belangrikste historiese figure – is die totale aantal bladsye tussen die voor- en agterblad slegs 144. Hierby ingesluit is die kopieregbladsy, ’n tweebladsy-inhoudsopgawe, drie bladsye met twee voorwoorde deur oudrugbyadministrateur Dougie Dyers en oud-Springbok Rob Louw; ’n 16 bladsy lange, dog goeie, oorsig oor “Sport en ras in Suid-Afrika” deur Beeld se sportredakteur, Gert van der Westhuizen; ’n vierbladsy-inleiding deur Tobias; twee bladsye met aanhalings van mense wat hom oor die jare bemoedig het, onder wie Tobias se vader, oudrugbybaas Danie Craven en oudpresident Nelson Mandela.

Die Tobias-verhaal, in sy eie woorde, word dan van bl 34 tot bl 115 weergegee, ’n volle (skamele?) 81 bladsye, gevolg deur ’n opsomming van sy lewe ná dié as rugbyspeler: eers afrigter, toe burgemeester, oupa, SuperRugby-kommentator, 2010- Wêreldbekersokker-ambassadeur, RSG-omroeper en nou lekeprediker.

Op bl 127 begin Tobias se indrukke oor hoe dinge vandag met Suid-Afrikaanse rugby staan, sy menings oor hoe spanne gekies behoort te word – nie op grond van (kleur)kwotas nie, maar meriete (soos wat hy glo hy en Avril Williams drie dekades gelede as die eerste twee Springbokke van kleur gekies is), balans in die span en besluitneming op die veld.

Tussen ble 132 en 139 kies hy sy beste spanne, word hy gepols oor onder meer die Bokke se kanse in die 2015-Wêreldrugbybeker, die (nou voormalige) Bok-breier Heyneke Meyer en sy raad vir jong spelers, “spesifiek swart spelers wat erkenning soek maar dekades later steeds dieselfde probleme as jy destyds die hoof moes bied”.

Dan volg sy lys van eerste-prestasies (139) en beantwoord hy ’n paar vrae van die Proust-vraelys (140–1). Sy antwoorde verklap sy onvoorwaardelike liefde vir sy vrou, Sandra; dat hy sy betrokkenheid by die kerk as sy grootste prestasie beskou; dat hy graag tennis sou wou speel; dat sy bankbalans die een ding is wat hy omtrent homself sou wou verander.

En as wat sou hy wou terugkeer – ’n mens/dier/ding – wanneer hy die dag sterf? “Omdat ons so lief is om wit mense te kritiseer,” antwoord hy, “sou ek nogal graag na die aarde wou terugkeer as ’n wit mens om te sien of dit regtig anders is.”

Tussen ble 142 en 144 volg ’n lys van bedankings – onder andere sy Skepper, familie, die media, sportmense wat by sy loopbaan betrokke was, en dan spelers van plaaslike klub- en streekspanne. “Baie van hulle was goed genoeg om ook Springbokke te word,” oordeel Tobias, “maar die landswette was teen hulle.”

Hierin lê dan die groot waarde van Tobias se boek: dat dit ’n allerbelangrike bydrae lewer tot die skamele versameling van boeke oor die land se “niewit” rugbyhelde van weleer. Soos die rugbyhistorikus Hendrik Snyders ons in sy akademiese artikel “Between the Springbok and the Ikhamanga” herinner, was dit tot ’n paar jaar gelede net Chester Williams wat ’n biografie gepubliseer het; sedertdien het daar ook boeke oor Bill Jardine, Peter de Villiers en Ashwin Willemse verskyn.

Maar helaas skiet Suiwer goud tekort onder meer omdat dit systap verby sleutelmomente in die evolusie van swart sportmanne se stryd om nasionale én internasionale erkenning.

Die boek is, ten beste, ’n kortbegrip van Tobias se verhaal, kompleet asof dit deur ’n pa of ’n oupa vir sy kinders en kleinkinders opgeteken is.

Miskien is die moeilikheid dat daar duidelik op een persoon se geheue staatgemaak word – 30 jaar ná die gebeure, té lank nadat Craven hom aangemoedig het, soos Tobias op bl 30 vertel, om aantekeninge te maak vir ’n toekomstige boek.

Ongelukkig is daar ook geen aanduiding dat mense wat goed vertroud is met daardie geskiedenis, die enkeles wat nog lewe, onder andere familielede, oudspanmaats, die historikus Snyders of oudkoerantmanne soos Conrad Sidego, Lappe Laubscher en Bokkie Gerber, gevra is om die manuskrip vooraf te lees nie.

Dit sou kon gehelp het om bepaalde name en sekere verwysings reg te stel: De Posselstraat, waar Tobias grootgeword het, word Apostelstraat; oudspanmaat Glen Aploon word Applon; Peter Hain se boikotbeweging Halt All Racist Tours word Stop All Racist Tours; die Caledon-klubs Progress en Vlei Standards het Caledonians gevorm en nie Caledon Rugby Voetbalklub nie; SuperRugby, waar Tobias as kommentator gewerk het, word op kykNET en nie op SuperSport nie uitgesaai.

En dan wil ’n mens nie eens verwys na al die spelfoute wat die duikslae van die redigeringsproses ontglip het nie ...

*

Tobias het met Suiwer goud ’n geleentheid verspeel om reg aan sy verhaal te laat geskied. Ter versagting wys Snyders dié skrywer daarop dat Suiwer goud nogtans “Tobias se eie outentieke stem is met al die leemtes wat saamgaan met die afwesigheid van ’n spookskrywer wat sou kon sorg vir meer volledigheid”. Niks het hom egter gekeer om die boeke van sy tydgenote (soos Wynand Claassen, Naas Botha, Rob Louw en Danie Gerber, of dié van Dok Craven) te raadpleeg as naslaanbronne nie, sê Snyders, “want dit sou die vlak van akkuraatheid en volledigheid kon verhoog en kontekstualisering aanhelp”.

Wat hy wel gedoen het, is om ’n “goedgevormde” weergawe te vertel; ’n weergawe waarin hy skielik ontpop as ’n polities-bewuste persoon, iemand wat hom teen onreg verset het deur te weier om saam met sy spanmaats te bid.

En tog “vereer” hy die twee persone wat hom doelbewus op die 1981-Springboktoer na Nieu-Seeland gemarginaliseer het: oudafrigter Nelie Smith word deur hom as bestuurder van sy Beste Bokspan aangewys, en oudspanbestuurder Johan Claassen word as slot in sy internasionale “Droomspan” ingesluit.

Maar enigeen wat al ‘n bietjie wyer gelees het, sal weet dat hy uiteindelik nie dapper genoeg was om, as ek JM Coetzee mag byhaal, ’n soort waarheid te vertel “that would meet the criteria of the courtroom: the truth, the whole truth, and nothing but the truth” nie.

Of het Tobias einde ten laas besef wie die kooppubliek van rugbyboeke is en daarom besluit het om versigtig te werk te gaan om nie aanstoot te gee nie?

Dit verklaar steeds nie waarom jy nie eens ’n beskrywing raak lees van die oomblik wat hy destyds teenoor Rapport as sy grootste ooit op die rugbyveld beskryf het nie: dié het op ’n Saterdag in Junie 1984 plaasgevind, toe hy ’n Engelsman met ’n magtige afstoot uit die pad gevee het om sy eerste en enigste toetsdrie vir die Bokke te druk.

In Carmichael Shelley (red) se 1891 to 2003: 112 years of Springbok Rugby – Tests and Heroes word die oomblik soos volg herleef: “As he raced ahead, the crowd on the East Stand rose with him, cheering and throwing their arms about as if in a Mexican Wave. He dived, he scored and he arose a conqueror with his arms flung aloft, as if to symbolise all that he had conquered – racial barriers on one side and accusations of tokenism on the other.”

Hierin is die volle – die goeie en die ware – verhaal van Errol George Tobias opgesluit.

 

Heindrich Wyngaard is medeskrywer van Rugby changed my world – The Ashwin Willemse Story. Hy bied Sondagaande die nuusbesprekingsprogram Kommentaar op RSG aan.

The post Lesersindrukke: Errol Tobias: Suiwer goud deur Errol Tobias appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>