A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th - 19th Centuries
Jerzy Koch
Uitgewer: Van Schaik
ISBN: 9780627032738
Jerzy Koch is die hoof van Departement Nederlands en Suid-Afrikaanse Studies by die Adam Mickiewicz Universiteit in Poznań, Pole.
Tertius Kapp wat ook in Pole klasgegee en onlangs die Hertzogprys verower het, vra vir Jerzy Koch oor sy boek A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th–19th Centuries.
Lees ook: |
---|
• Video en foto's: Bekendstelling van Jerzy Koch se omvattende geskiedenis van Afrikaanse letterkunde |
• Resensie: Oorsee deur Tertius Kapp |
Die boek was oorspronklik getitel Historia Literatury Południowoafrykańskiej – Literatura Afrikaans (XVII–XIX Wiek), en in Engelse vertaling A History of South African Literature – Afrikaans Literature. Part One: From the 17th to the 19th Century. Ons sien alreeds een belangrike verskil tussen die titels – Pools gebruik naamlik nie lidwoorde nie en daar is gekies vir die onbepaalde "a" in plaas van "the", soos mens sou verwag. Wat was die groot uitdagings by die vertaling uit Pools na Engels?
Ja-nee, daar is talle verskille tussen Pools as Slawiese en Afrikaans as Germaanse taal. Party is struktureel van aard. Maar ek dink nie dit het ’n rol gespeel by die vertaling van die titel nie. Baie van die (literatuur)geskiedenisse word ingelei deur die onbepaalde lidwoord, soos in “A History ...” en ook hier is gekies vir hierdie oplossing. Hierdie onbepaalde lidwoord laat ruimte toe vir ander sienings en sê eintlik: “Dis een van baie ander moontlikhede.” Maar moenie vir my vra nie, vra vir my kollega-vertaler. Ek was gelukkig om ʼn baie goeie vertaler te kry. Dominka Ferens het as kind jare in Afrika (Nigerië) gewoon, waar haar Poolse ouers aan die universiteit gewerk het. Sy het in Groot-Brittanje skoolgegaan, toe later aan die Universiteit van Kalifornië gepromoveer en lesings gegee in die VSA, Duitsland en Rusland. Sy is tans professor in die Amerikaanse letterkunde, met fokus op etniese minderhede. Wat dink jy – ’n geskikte kandidaat om my boek te vertaal?! ʼn Kenner van beide tale, Pools en Engels, ʼn kenner van die literêr-historiese idioom en geskiedkundige aspekte. ’n Droomvertaler.
Ander geskiedenisse van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse literatuur word bespreek, en daar word ook sinvol gewys op die unieke aard van hierdie studie, onder andere omdat dit op ʼn ander lesersmark gemik is. Hoe beïnvloed dit in die praktyk die skryfproses? Om dit duideliker te stel: die eerste hoofstuk bied reeds 'n verfrissende nuwe perspektief op die Afrikaanse literatuur, maar hoe onderskei die buitestandersperspektief van 'n Poolse leser jou van ander perspektiewe van literêre geskiedenisse wat in hierdie hoofstuk bespreek word? (Dis dalk 'n onregverdige vraag.)
Ek sou eintlik vir jou moet vra óf, en indien já, dan eventueel hóé my boek verskil van ander literatuurgeskiedenisse se benaderings. Jy is hier gebore en getoë en het in Afrikaans grootgeword. Maar goed, dis dalk in hierdie stadium van ons gesprek ook ’n onregverdige vraag, of hoe? Indien jy dit self “’n verfrissende nuwe perspektief” noem, wil dit sê jy het iets raakgesien. Ek dink ek het probeer om in die inleiding my benadering te verduidelik, maar dis die Suid-Afrikaanse lesers wat moet beoordeel of die verskil wat ek probeer maak, het die moeite van lees en van refleksie werd is.
Kom ons sê daar is grosso modo twee basiese perspektiewe op die literatuur in Suid-Afrika: die eksklusiewe siening en die inklusiewe. Al twee het voor- en nadele, bring nuwe insigte, maar verberg iets op ander plekke. As illustrasie van eksklusiwiteit kan Afrikaners se benadering dien, naamlik die uitsny van Afrikaanse tekste uit die skryfkultuur tot op die Nederlandse of Engelse bod. 'n Voorbeeld van meer inklusiewe benaderings is geskiedenisse wat probeer om alle tale en kulture in Suid-Afrika bymekaar te versamel in een narratief. Sulke benaderings gooi oor die literatuur se “liggaam” allerhande karosse, jasse en baadjies.
Die eerste benadering hou rekening met die ontwikkeling van die Afrikaanse taal en kultuurlewe van veral blanke Afrikaanssprekendes en is basis teleologies, want die meeste outeurs veronderstel altyd die oorgang van minder ontwikkelde stadia na hoëre ontwikkelingsfases wat parallel loop met die ontwikkeling van die Afrikaners as volk. Die ander is ook ideologies gekleur, want die betrek van meerdere literêre tradisies by die literêr-historiese verhaal veronderstel die bestaan van ’n groter geheel, waar daar verskillende tale en kulture inpas. Beide het interessante en vernuwende sienings gebring, byvoorbeeld Kannemeyer aan die een kant en Chapman aan die ander kant. Maar beide het op eie beperkings gestuit.
Ek het probeer om ’n les daaruit te haal. Ek het die literêr-historiese driehoek baie duidelik omskryf: ten eerste skryf ek die boek baie bewustelik as Poolse navorser en dosent; ten tweede is my doelgroep Poolse, en by uitbreiding Sentraal-Europese of nie-Suid-Afrikaanse, lesers, veral op tersiêre vlak, en hul moontlike verwysingskaders; derdens is my objek van belangstelling die Suid-Afrikaanse literatuur in verskillende vorme van Nederlands tot by Afrikaanse tekste. By elk van die punte kan jy jou vraag weer vra, want by elk speel die buitestandersperspektief ’n rol.
Ek merk ook dat daar telkens vergelykings getref word met Poolse teksverskynsels en literêre geskiedenis. Die Suid-Afrikaanse leser is al daaraan gewoond dat vergelykings eerder met die Nederlandse of Engelse literatuur getref word, en hierdie nuwe perspektief is verfrissend. Kan jy dalk vir ons iets vertel oor die mees insiggewende vergelykings wat met die Poolse konteks getref kon word?
Ek het nie getel hoeveel vergelykings of parallelle daar in die boek staan nie. Daar is sekerlik vir die periode tot 1900 minstens twee baie treffende vergelykings wat ek maak.
Die eerste is die silva rerum (letterlik vertaal as “die bos van sake”): tekste wat hulle tussen genres en style se klassifikasies bevind. Hierdie tradisie reik terug na die antieke tyd. Daar is talle voorbeelde van hierdie soort literatuur, dikwels gebruiksliteratuur of “commonplace books”, in die ou Poolse letterkunde van die 16de tot die 18de eeu, maar ook in Suid-Afrika sien ’n mens hierdie verskynsel. Die Voortrekkergeskrifte is die beste voorbeeld daarvan. Hulle is moeilik om in genrekategorieë te plaas, omdat hulle intern uiteenlopend is wat vorme van inskrywings en behandelde onderwerpe betref.
Die ander punt is die Afrikaans-Arabiese literatuur wat vroeg, aan die begin van my belangstellingstydperk, ’n ontdekking was van die baie komplekse struktuur van invloede aan die Kaap. In die Poolse literatuur het ek ontdek dat ons ook ʼn vergelykbare tradisie ken: in die Ooste van die land, waar daar sedert etlike eeue gelede Poolse Moslems van Tataarse oorsprong woon, het tekste ontstaan wat in ’n soort Poolse dialek uit die Ooste geskryf is, maar in die Arabiese alfabet. My eerste gedagte was dat die parallelle juis sou lê in ander kontinente se tradisies, soos die Jawi-alfabet in Asië en die Ajami-tradisie in Afrika, maar nee, ook in Pole het mense Arabiese karakters gebruik om ’n ander nie-Arabiese taal op te teken (trouens, die tussengangersrol wat Maleis tussen Afrikaans en Arabies aan die Kaap gespeel het, het Turks in Pole tussen Pools en Arabies gespeel. Is dit nie wonderlik dat jy as navorser via Suid-Afrika verskynsels in jou eie land ondek nie?!
Uit my eie ervaring as dosent in Pole weet ek dat daar vir die dosent 'n verrassende waarde lê in die intellektuele proses om die Suid-Afrikaanse werklikheid te “verduidelik” aan studente wat min voorkennis daarvan het, 'n soort objektiverende blik wat versterk word. Het jy dieselfde gevoel? En indien wel, spreek dit tot jou benadering tot die universum van die Suid-Afrikaanse lettere?
Dis reg. Ek het selfs die PJ Nienaber-Gedenklesing (2005) daaraan gewy en later in 2007 in Tydskrif vir Letterkunde ’n artikel daaroor gepubliseer. Die titel sê dit alreeds: “Oor literêre geskiedskrywing en Suid-Afrikaanse Studies in Europa: hoe om die eksotiese vertroud te maak”.
In die onderrigsituasie aan die universiteit is ons nie net met opleiding besig nie, maar ook met opvoeding. Wie dit nie verstaan nie, moet hierdie beroep maar eerder los. Kennisoordrag is nie genoeg nie. Veral waar daar sprake is van geesteswetenskappe, of “humanities” – kyk net na die etimologie en die betekenis van die terme! Dit verwys na die ontmoeting van mense en hul koppe! Jy staan daar as mens voor die klas, en dit wil sê voor ander mense, en jy vertel vir hulle goeters waarvan hulle geen flou benul het nie, maar hulle vra vir jou vrae wat jou ook oopmond laat staan, omdat hulle algemene waarhede bevraagteken. En van eenvoudige ouderwetse kennisoordrag bly daar niks oor nie. Kennis staan in boeke en deesdae is dit ook via die internet beskikbaar.
Die dosent wat studente begelei, moet ’n soort coach wees. Die publieke geheim is dat ons as dosente jongmense begelei op hul pad om denkende wesens te word. En die doel van die proses is dat hulle nie meer naïewe lesers sal wees nie, maar sal weet hoe die werk ontstaan het en hoekom dit op ’n sekere manier op my 'n uitwerking het. Verder, sodat hulle ook nie onkritiese burgers is nie, maar verstaan hoe ingewikkelde kulturele, sosiale en politieke prosesse verloop, sodat hulle in staat is om selfbewus op te tree en refleksief oor die wêreld se gebeure te kan nadink.
Dit lyk miskien na groot woorde, maar dit is maar so. Die een gebruik daarvoor psigologie, die ander moderne of klassieke tale – dit hang van die fakulteit se profiel of studie se kurrikulum af, maar die patroon is dieselfde. Met Suid-Afrikaanse Studies beland ons in ’n ruimte waar alles vergroot word deur die komplekse talige, etniese, kulturele konteks. Wat jy ook al vat, blyk die goed anders te wees as wat jy aanvanklik gedink het. Die rowwe klippie kan ‘n diamant wees, of anders: die blinkgoed blyk maar niks te wees nie.
Dit skep vir die dosent ’n groot uitdaging, maar eintlik vergemaklik dit sy taak. Neem as voorbeeld Afrikaans. Die eerste verrassing is dat die meeste sprekers van hierdie taal, wat buite Suid-Afrika veral as Afrikaners se taal gesien word, nie wit is nie. En jy kan maar aangaan met die reeks verrassings waardeur studente elke keer hulle ou of nuutverworwe kennis moet wysig en ’n korrektief daarop toepas. Neem die eenvoudige geskiedkundige feit dat die meeste slawe uit Indië gekom het en nie, soos hulle gedink het, uit ander dele van Afrika nie. Ek beperk my tot die eenvoudigste voorbeelde, maar hierdie patroon werk ook in die geval van meer ingewikkelde sake.
Die student word elke keer gekonfronteer met die situasie van afstand doen van wat hy tot nou toe geweet het. Hy moet intellektueel en emosioneel gereed wees om sy opinies aan te vul en/of te verander. En hier skuil daardie opvoedkundige perspektief waarvan ek aan die begin gepraat het.
Sommige mense vind dit vreemd dat daar juis Afrikaans in Pole aangebied word (teenoor byvoorbeeld Zoeloe, wat 'n groter aantal sprekers het). Na my ervaringe in Pole het ek egter sterk onder die indruk gekom dat die Afrikaanse lettere juis 'n besonder goeie “lens” is waardeur die Suid-Afrikaanse geskiedenis en werklikheid beskou kan word. Tot watter mate is jy bewus van hierdie “lens” en hoe dink jy kleur dit jou perspektief?
Rêrig, ek weet nie ... Sou ek ’n spesialis op die gebied van swart tale wees, sou ek ’n ander profiel aan die studie gegee het? Wie weet? Ons doen ons bes om die bestaande kennis in die departement aan te vul en mense te laat kom wat oor alle aspekte van Suid-Afrikaanse kultuur kan praat. Daar het mense in my departement gewerk wat kenners van swart tale is, soos Annekie Joubert (1999–2001) of later Karien Brits (2006–2010); tans is daar Fanie Olivier, wat ook 'n breë blik op Suid-Afrikaanse kultuur gooi, en op die oomblik het ons as gasprofessor ook vir Lionel Posthumus (UJ) wat 'n kenner van onder andere Zoeloe is.
Maar jy raak ook met jou vraag ’n ander element aan. Ja, na jare lange ervaring dink ek dat Afrikaans – en daarmee saam dus Afrikaanssprekende mense, hulle geskiedenis, die ontstaan van die taal en die emansipasie daarvan en so aan – ’n besondere geleentheid gee om die land se probleme in die verlede en hede te illustreer. Die literatuur verskaf daartoe sekerlik baie goeie toegang. Nie net die tekste self nie, maar ook die kontekste. Dis hoekom die kulturele geskiedenis van die literatuur die mees aangewese benadering is. Maar daar is nog ’n ander aspek, wat nie minder belangrik is nie – dis my idée fixe waaroor ek iets in 2007 in Tydskrif vir Letterkunde geskryf het. Dit gaan daarom om die studente aan die vreemde bloot te stel ten einde hulle oor die eie te laat nadink. Wat op die eerste gesig anders of selfs eksoties was, blyk by nadere beskouing in wese vertroude kenmerke te dra. Ek het byvoorbeeld hier bo genoem die idee van die Kaapse Moslems om Arabies te gebruik by die opteken van ’n nie-Arabiese taal. Ek kan jou verseker dat die omweg wat die studente maak om via die Suid-Afrikaanse kultuur hul eie Poolse kultuur te ontdek, die mees aangrypende taak van die dosent kan wees. Die eksotiese word skielik nader getrek en vertoon herkenbare trekke; die eie wys ongekende eienskappe.
Die impak van iemand soos Krotoa se verhale oor die binneland van Afrika word ook hier bespreek, met verwysing na die Daghregister wat aan die Kaap gehou is. Hoe klassifiseer mens die genre van hierdie soort vertellings?
Presies – vertellings! Ook literatuurgeskiedenis is ’n vertelling, ’n verhaal. Jy bereik jou doel as historikus nie net deur klassifikasies toe te pas nie, maar ook deur die storie wat jy vir jou lesers oor ander mense se stories vertel; jy neem die lesers aan die hand en wys vir hulle nie net klassifikasies en tipologieë nie, maar ook teenstellings en gebreke, gate en hiate, paradokse en aporias. Dis die konfrontasie van die materiaal met die manier van vertel. Jy verken en verduidelik al vertellende.
Die situasie van literatuur- en taalondersoekers is eksistensieel gesien baie kompleks. Jy verduidelik in ’n taal iets omtrent taalprodukte. Jy maak jou eie verhaal oor ander mense se verhale. Jy is tegelyk op die vlak van die taal én metataal, verhaal én metaverhaal. Pleks om veilig in die sentrum van die park te wandel, kan jy op hierdie wyse die randgebiede verken. Die gevaar is dat jy dwaal, maar ook dit is ’n deel van jou werk, en die moeite werd.
Die Daghregister staan daar aan die begin van die tekstuele universum in Suid-Afrika. Dit is ’n historiese bron, maar ook ’n teks. Een van die diskoersiewe lyne in my boek is die ontmoeting met die Ander. Geïnspireer deur ander ondersoekers het ek na die diskoers oor die vrou gaan kyk. Wat my opgeval het, was die fokus op die kritiek van koloniste (blanke mans) wat die gesprek oor inheemse vroue bepaal het. Aan die een kant is die kritiek geregverdig, aan die ander kant is dit vervelig, want hoe lank kan jy dieselfde bewys wat reeds bewese is?
Ek het na die elemente gaan kyk wat téén die hooflyne van die toenmalige koloniale diskoers gerig is, bewus en onbewus, partykeer klein, maar soos ’n klein klippie in die skoen duidelik tasbaar. Soos ʼn mens uit die Daghregister kan aflees, was Eva/Krotoa die eerste vrou wat in die diskoers ingestoot is en wat dit terselfdertyd ondermyn het. Die ander Khoivroue op dieselfde lyn was Saartjie en Kaatjie, Magdalena en Benigna. Hulle was ʼn uitdaging vir my as skrywer van ʼn literatuurgeskiedenis.
Die titel skep die verwagting dat daar ook ander uitgawes verwag kan word: oor ander tale, ander eras. Is dit so, en indien wel, hoe sal die volgende uitgawe lyk?
Deel twee is reeds in 2012 in Pools gepubliseer, en ek het aansoek gedoen vir fondse om dit in Engels te vertaal en te publiseer. Daardie deel beskryf verskillende kontekste wat vir die hele 20ste eeu van belang is (omtrent die helfte van die boek). Dit is byvoorbeeld die ruimte van die Afrikaanse literatuur (waar ek in besonderhede probleme met die literêre geskiedskrywing uiteensit), teorieë oor die ontstaan van Afrikaans en die ontwikkeling van die Afrikaanse kritiek en literatuurgeskiedenis. In die tweede afdeling gaan ek dieper in op die literatuur van die eerste dekades ná die ABO. Die tydsgrens is moeilik om te trek, maar ek laat daar die Dertigers nog buite beskouing, hoewel ek by party skrywers (soos Leipoldt) ook verder in die 20ste eeu in trek. Deel drie moet geskryf word; ek is nog in ’n vroeë stadium van materiaal versamel, lees en herlees en so meer.
The post Skrywersonderhoud: Jerzy Koch gesels oor A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th - 19th Centuries appeared first on LitNet.