Iemand wat ek ken stel die ander dag voor dat ek iets positiefs moet skryf.
Deur die klompie jare wat ek die lus en leef van die griffel van gedagtes en gevoelens en ervarings as perdjie sonder stok beoefen, kon ek nog nooit my gedagtes regtig so ver kry om so-by-so “op bestelling” te skryf nie. Die hele konsep van vooraf onderwerpe, soos ’n “propperse” joernalis of skrywer, is eintlik nog ver van my korf van talente verwyder.
Alhoewel dit met oefening seker makliker sal kan raak ...
Ek het wel die persoon se ongesteldheid weens die oënskynlike tekort aan goeie dae en vertellings met empatie raakgelees, maar die werklikheid daarvan so half op die boonste rak uit sig gelaat. Maar, haar woorde het tog die afgelope week kort-kort by my gedagtes kom kuier en so die storie aan die werk gesit.
Elke môre land daar op my rekenaarskerm brokkies sake en ander soortgelyke nuus. Dit vertel van die strooi wat die goewerment se mense aanjaag en die kostes van die en daai en die korrupte lot wat doer en daar geld steel en verspil.
Van die SAL wat hul vliegtuie binnekort sal moet rondstoot omdat die brandstofgeld op is en Eskom wat meer diesel gebruik as wat daar water in die Vaaldam is. Kundiges voorspel onweer met die belastingkoerse wat die nuwe minister mee speel om sy begrotingsrede oor ’n paar weke te laat sin maak; die wyn wat gaan duurder word en die groentepryse gaan blykbaar verdubbel.
(Ai wat sal ons drink as daar niks te ete is nie?)
Gelukkig gaan ons ekonomie steeds met 1% groei, of so sê dieselfde slimmetjies vir ons!
En daar, êrens tussen die weerberigte oor goeie reën en droogte elders, die gepolitiekery van ’n verkiesingsjaar en rassespanning in ons skole, skuil daar ’n goedvoelstorie of raad vir beter hoop.
Of so sê hulle...
Vroeër hierdie week laat sak ’n mater sy ken in sy hande, want hy het nie meer antwoorde nie. Die sake-idees wil nie werk nie en vir hom voel dit of die hele wêreld ’n spil geword het wat baie ver van hom af gaan draai het.
Ek het geluister en probeer bemoedig en terwyl ek dink en hy praat, wou ek voorstel dat ons saam daaroor bid.
Maar, ons het nie....
....of was my denke daaraan ten tye van die gesprek moontlik wel ’n gebed?
Ek is nie seker nie.
Voor ek die geleentheid weer laat verbygaan, moet ek met hom en ’n ander net nog ’n keer die volgende deel:
Vir jou my vriend
Kom sit hier by my, my goeie vriend
ek kan jou seer en hulploosheid sien.
So wens ek, ek kon dit by jou wegneem
so wens ek, jy was hiervan gespaar
maar, dis hier en nou en vir ander vreemd -
ek ken jou desperaatheid en dit wat jy voel
maar, weet gewis, daar is jy nie alleen.
My gees, gedagtes en wense is daar by jou
so ook my gebede vir Godsbesturing en uitkoms.
Om jou gawes oop te grawe en nuwes te ontdek
om die wolwe kos te gee en die swarthond te laat vrek.
Die son sal skyn, al is dit bewolk – dit is net so.
Jy moet die twyfel beveg en jou gees versterk
bly moedig, bly staan en bly glo.
Wanneer dit voel die eise raak te veel
kom sit hier by my, my goeie vriend,
ek wil jou seer met jou deel.
In ’n vorige skryfding het ek vertel van Oom Stefanus wat op die parkeerterrein agter Parow Poskantoor diens doen en my as “vriend” aangeneem het.
Oom Stefanus Kleinsmit is ’n 89-jarige motorwag in ’n munisipale parkeergebied.
Hy werk nie vir ’n onderneming met kleredragreëls en protokol nie; uit respek vir die mense wie se karre hy bedags oppas, trek hy sommer so self sonder voorsegging netjies aan. Hy kom elke dag werk toe; nie omdat hy die kaart moet laat “klok” om sy minimumloon aan die einde van die week te verdien nie, nee, maar wel omdat hierdie deel van die parkeergebied “sy verantwoordelikheid is”.
Dis sý mense en hul karre.
Hierdie man se grootste bydrae tot die samelewing is egter nie die respek en toewyding waaroor hy beskik nie, maar wel sy geloof. Daardie geloof wat hom met sy stywe rumatiekbeen en al, die hoop gee dat hy vandag genoeg sal “verdien” om hom en sy vrou aan die lewe te hou.
Al wat hy moet doen, is om op te daag!
Dieselfde oortuigende onterughoudende geloof wat hy die ander dag gebruik om my hand te vat, en daar by die kar se oop deur vir my en my gesin te bid.
Vir my ... ’n vreemdeling soos ek.
Uit my eie pen se vrug en gedagtegang lol dit maar om ’n goue rant aan elke donker wolk te verf. Maar, hoe nutteloos sal ’n mens se bestaan wees en hoe stukkend sal jou menswees grond toe krummel indien jy jouself nie tog so dan-en-wan die vraag afvra nie... “Wat maak ek hier?” en die antwoorde wat uit jou eie Herobberg-se-grot gemompel word iets is van: Ek eet, slaap en “worry” net ... of ek leef met my kommer bo-op die maatemmer vir almal om te sien hoe verontreg ek is ...
“Wat maak ek hier?”
Ek hoor, luister, dink en doen
om te soek na niks, te besin,
om gister se dinge vandag te versoen
en betekenis te vind,
in wat ek nooit verloor het nie.
Om binne myself,
saam met my God te leef,
sonder somber slimmighede,
te wees en te sterf, eenvoudig.
Vasbyt my vriend.
The post Skryf vir ons iets positief appeared first on LitNet.