Marise Oberholzer gesels met Naomi Meyer oor praktiese wiskundewenke vir ouers en kinders van alle ouderdomme aan die begin van die jaar.
Hallo Marise, LitNet se lesers het jou naam teëgekom by onlangse vraestelle en Wiskundehulp wat op LitNet verskyn het. Vertel asseblief kortliks van jou wiskundige agtergrond.
Ek het BEd aan die Universiteit Stellenbosch studeer met wiskunde as hoofvak. My onderwysloopbaan het by Laerskool Eikestad afgeskop. Wiskunde was altyd my en my klas se gunstelingtyd van die dag. Na ‘n honneursjaar in opvoedkundige sielkunde (2004) het ek begin om kinders ná skool met wiskunde te help. Vir die afgelope 11 jaar stap ek die wiskundepad met graad 4–10-kinders, iets waaroor ek mal is en waaruit ek baie bevrediging put. Verder is ek betrokke by allerlei wiskunde-inisiatiewe.
Ons kry baie dikwels navrae omtrent wiskundehulp van desperate leerders by LitNet – wanneer is dit die beste tyd vir kinders om wiskunde te leer verstaan?
Konsepte in wiskunde ontwikkel van die konkrete na die abstrakte. Dit beteken dat kinders se eerste formele blootstelling aan wiskunde as leerarea met baie praktiese blootstelling gepaard gaan. Hulle sal byvoorbeeld in graad 1 vuurhoutjies (die konkrete) gebruik om vierkante te vorm en in graad 4 ‘n formule (die abstrakte) skryf waarmee jy kan uitwerk hoeveel vuurhoutjies jy nodig sal hê om ‘n sekere aantal vierkante te bou. Die konsepte volg dus jaar na jaar op mekaar. Daarom is dit belangrik dat kinders reeds van graad 1 af wiskunde sal verstaan. En die beste wyse om dit te bewerkstellig, is om soveel as moontlik werklike voorwerpe in te span vir wiskundehuiswerk.
Jou boek Wiskunde - klein begin, groot gewin is toegespits op die heel kleintjies, kinders wat nog nie eens in die skool is nie. Maar is dit nie ‘n tyd vir kinders om nog te speel nie? Hoekom hulle dan al bemoei met wiskunde?
Ja, hulle moet beslis nog speel! Kinders ontdek baie aspekte van wiskunde toevallig juis wanneer hulle speel. Wanneer hulle byvoorbeeld in die sandput speel, sien hulle dat hulle vyf koppies sand nodig het om die emmertjie vol te maak. Deur torings met blokkies te bou, leer hulle konsepte soos lank en kort, langste en kortste. Ons gaan dus beslis nie klein kindertjies by ‘n tafel laat sit en somme met hulle doen nie. Ons gaan bloot geleenthede skep en bewus wees van geleenthede om hulle bloot te stel aan wiskundebegrippe.
My vorige vraag was aspris, want natuurlik vorm wiskunde deel van ons almal se alledaagse lewe - al koop jy net ‘n brood. Wat is van die heel eerste wiskundige begrippe wat ‘n klein kindjie nodig het om moeiliker wiskundige begrippe te verstaan?
Die ontwikkeling van begrippe gebeur nie in ‘n spesifieke volgorde nie, en elke kind se ontwikkeling is uniek. Dit is dus goed om net bewus te wees van begrippe wat ‘n mens in die alledaagse met jou kind kan gebruik. Ek noem ‘n paar. Daar is begrippe ten opsigte van hoeveelheid: baie, min, meeste, minste, meer as, minder as. Ook begrippe ten opsigte van grootte: groot, klein, groter as, kleiner as, grootste, kleinste. Dan ook begrippe ten opsigte van posisie: onder, bo, tussen, regs, links, voor, na. As ons aan lengte dink, is daar begrippe soos lank, kort, langer as, korter as, langste, kortste. Massa: lig, swaar, ligter as, swaarder as, swaarste, ligste.
Vertel asseblief van hierdie boek: vir wie is dit geskryf, op watter ouderdomme is dit toegespits en wie sal daarby baat vind?
Wiskunde – klein begin, groot gewin is geskryf vir ouers, versorgers, onderwysers, oumas, oupas en enige persoon wat met jong kinders werk. Dit is ook bedoel vir lesers wat belangstel in wiskunde en hoe dit by jong kinders ontwikkel. Die boek verduidelik hoe wiskundevaardighede by kinders ontwikkel vanaf ‘n kind se geboorte tot ongeveer sesjarige ouderdom. Dit is ‘n boek met praktiese wenke wat ouers en versorgers in staat stel om van vroeg af en te midde van ’n druk lewe alledaagse geleenthede te gebruik om jong kinders gemaklik in die wêreld van wiskunde in te lei.
Jy het ‘n ander produk ook, genaamd ‘n Box ‘n Dice-boks. Wil jy dalk vertel wat hierin is en waarom?
Box ‘n Dice ( en Box 'n Dice in Afrikaans) bestaan uit ‘n boksie propvol wiskundehulpmiddels, soos ‘n telraam, domino’s, getalblokkies, vorme, ‘n tangram, getalkaarte en ‘n dobbelsteen. Daar is DVD’s wat saam met die boks gebruik word. Op die DVD’s word aktiwiteite aangebied waar die hulpmiddels aangewend word om belangrike begrippe te verduidelik. Kinders kan dan voor die televisie of rekenaar sit en hul eie hulpmiddels gebruik om die aktiwiteite te doen. Daar is verskillende vlakke DVD’s beskikbaar, elk gemik op ‘n spesifieke ouderdomsgroep. Die program fokus dus op die konkrete, om wiskunde prakties te maak vir kinders en terselfdertyd ook sommer ‘n liefde daarvoor te kweek.
Jy het self ook (jong) kinders en bied ook wiskundehulp vir ouer kinders. Wat merk jy op – watter vrae en leemtes ontstaan by die kinders van verskillende ouderdomme?
Wanneer kinders nie oor goeie getalbegrip beskik nie, ontwikkel daar dikwels probleme. Getalbegrip verwys na ‘n persoon se vermoë om getalle te verstaan en met gemak te kan gebruik. ‘n Kind wat oor goeie getalbegrip beskik, sal byvoorbeeld die “grootte” van ‘n getal verstaan, ook die verhouding van die getal ten opsigte van ander getalle. So ‘n kind sal ook oor goeie hoofrekenvaardighede beskik en strategieë gebruik om probleme op te los.
Dink jy daar is mense wat ‘n meer natuurlike aanleg het vir wiskunde as ander, of kan alle mense daarmee regkom?
Mense se aanleg ten opsigte van wiskunde verskil beslis. Daar is mense wat begrippe in wiskunde maklik onder die knie kry en ander wat langer neem om dieselfde begrippe te bemeester. Ek sien egter gereeld met my klasse hoe kinders skielik lief raak vir wiskunde en dan begin presteer. Die kinders vir wie wiskunde nie so natuurlik kom nie, kan met baie herhaling en baie oefen ook goed presteer.
Is dit regtig so dat almal wiskunde as vak moet kies om te kan vorder in die lewe en om verder te kan studeer?
Om ‘n matrieksertifikaat te behaal, moet leerders tans wiskunde of wiskundige geletterdheid neem. Vir toelating tot sekere loopbaanrigtings is wiskunde egter ‘n vereiste. Baie graad 10-leerders weet nog nie watter loopbaanrigtings hulle gaan volg nie, of verander van keuse. Daarom word aanbeveel dat leerders wiskunde eerder as wiskundige geletterdheid neem. Of jy gaan vorder in die lewe en ‘n sukses van jou loopbaan maak, is egter onafhanklik van of jy wiskunde of wiskundige geletterdheid op skool gehad het.
Gestel my kind is nou al in die hoërskool en sukkel met wiskunde, wat is jou beste praktiese raad? Is dit ooit te laat?
Dit is nooit te laat nie. Die belangrikste is net om so gou as moontlik hulp te kry. Skole het gewoonlik die kontakbesonderhede van persone wat na skool vir kinders met wiskunde kan help. Enige hoërskoolleerder moet net weet dat wiskunde ‘n leerarea is waaraan jy baie aandag sal moet skenk. Soveel te meer as jy reeds agterstande het.
The post Onderhoud: Marise Oberholzer vertel hoe jou kind wiskunde onder die knie kan kry appeared first on LitNet.