Dit is nou die tyd om jou plek by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) te verseker. Kaartjies word reeds opgeraap en verblyf op Oudtshoorn in gastehuise, koshuise, buitekamers, kampterreine en hotelle raak by die dag minder.
Beskikbare verblyf is geneig om net duurder te word soos die tyd tot die fees minder raak, so jy sal gou moet spring om van die goedkoper verblyf op te raap.
Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van die KKNK, sê die feeskantoor is ’n miernes van bedrywigheid met feesgangers wat hul kaartjies wil verseker en die verblyfkantoor gons met feesgangers wat op soek is na verblyf. Verseker ’n gemaklike verblyfsopsie voor dit te laat is. Opsies word by die dag minder so moenie jou opening mis nie.
“By die KKNK se 22ste bestaansjaar is daar hope vermaak vir oud en jonk, met hoogtepunte soos Heidi, die musiekblyspel met onder andere Tobie Cronjé en die Zoid Afrika Afskopkonsert. Hierdie jaar se fees vind van 24 tot 30 Maart plaas. Die datums sluit die volledige Paasnaweek in en val binne die nasionale skoolvakansie.”
“Ons bou voort op die wenresep van die afgelope twee dekades, om aan besoekers ’n egte KKNK-ervaring te bied. Soos tye verander, pas die fees ook aan. Feesgangers kan dus verskeie nuwighede by die KKNK verwag.”
Volgens Snyman is Uitkampteater een van die nuwe konsepte wat aangebied word. “Dit is ’n lekker projek, waar kortkuns soos nog nooit vantevore ervaar kan word nie.”
Die KKNK bied ’n wye spektrum vermaak, van klassieke teater en komedies, tot optredes deur van die land se grootste musieksterre. Die Rivierbuurt, met sy familie-vriendelike atmosfeer, beloof om hope pret vir almal te wees wat deur die hekke stap.
Produksies soos Die Huis van Bernarda Alba, met oa Antoinette Kellermann en Die Afrikaansvatter, met oa HemelBesem en Coenie de Villiers, mag nie misgeloop word nie. Wees op die uitkyk vir vertonings en uitstallings deur vanjaar se Onbeperk Vereerdes en die feeskunstenaars en maak seker jy koop jou kaartjies betyds.
Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan ook aanlyn gedoen word, of bel 044 203 8600.
The post Verseker jou plek by die KKNK 2016: Verblyfopsies raak min appeared first on LitNet.