Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Olga Kirsch (1924–1997)

$
0
0

Foto: Versindaba

Sêgoed van Olga Kirsch

“Troos vervlieg uit woorde soos parfuum uit ’n flessie.”

In 1979: “Om te skryf, is ’n noodwendigheid, maar dit kos my al hoe meer moeite om in Afrikaans te skryf. Ek lees byvoorbeeld uitsluitlik Afrikaanse artikels, koerante, letterkunde. Dit word net te veel moeite, versteur my rus.” (Beeld, 11 Augustus 1979)

Na haar besoek aan Suid-Afrika in 1975: “My twee weke in Suid-Afrika was vir my ’n wonderlike belewenis. Ek dink met die grootste genot terug aan die pragtige Kaap met sy blomme en wilde kuslyn, aan die gulle kontakte wat ek orals met mense geskep het en aan hulle hartlikheid teenoor my, en aan die groot vreugde wat dit my verskaf het om weer Afrikaans te hoor en – tot my verbasing – te kon praat.”

“’n Taal is baie belangrik, maar dis nie ’n God nie.”

“Die skilder is gelukkig omdat sy kuns meer maakwerk is as dié van die digter. Die digter moet die geduld hê om te wag vir die ervaring wat poësie kan word. Dit beteken opnuut die stryd met die taal. En die stryd was vir my nog altyd buitengewoon taai. Maar mens kan mos nie stilbly nie.”

"Afrikaans is die taal van my kinderjare en jeug, van vriende en ’n plattelandse skool. Dis sterker as die Engels van my ouerhuis. Maar aan die ander kant sou ek graag in Hebreeus wil skryf. Ek het al geprobeer, maar die kritici het gesê dit lees soos vertalings." (Die Burger, 24 September 1994)

In 'n brief aan Daniel Hugo (gedateer 24 Januarie 1994) staan daar: "Ek skryf nie meer in Afrikaans nie dit het met die loop van jare vir my onmoontlik geword. Nou skryf ek in Engels." (Die Burger, 24 September 1994)

Gebore en getoë

Olga Kirsch is op 23 Desember 1924 op Koppies in die Vrystaat gebore. Haar vader het vanaf Litaue na Suid-Afrika geëmigreer en hoewel hy Jiddisjsprekend was, het hy sy kinders in Engels grootgemaak. Haar moeder, Eva, was van Britse herkoms en het op Volksrust grootgeword. Olga was die middelste van vyf kinders – drie dogters en twee seuns. Al drie die dogters was in ’n stadium in Israel, terwyl hulle oudste broer, Henry, in Johannesburg gewoon het. Die ander broer was ’n chirurg in Amerika.

Olga se pa was die algemene handelaar Gordon en Kirsch in die dorp. Middae na skool het sy by die winkel ingeloop, ’n paar lekkers in haar hempsak gesteek en dan verder huis toe geloop. Sy was ’n meisie van twaalf jaar oud toe haar pa op 35-jarige ouderdom oorlede is. Hy is op Koppies begrawe.

Olga het, soos haar ouer broer en suster, haar laerskoolopleiding in Afrikaans op Koppies voltooi en haar speelmaats was almal Afrikaans. In 1931, toe sy in standerd 5 was, het die onderwyser van die standerd 9-klas op Koppies haar geroep om aan die ouer kinders te wys hoe die gedig “Vergewe en vergeet” voorgedra moet word.

Sy vertel hoe hulle met hulle fietse na die Renosterrivier gery het. Die rivier was hulle swembad. “In die vakansies het ons hier uitgekamp. Sommer dae lank en dit só geniet.”

Haar ouer broer en suster het op Koppies gematrikuleer, maar sy is na Bloemfontein, waar sy aan die Engelse Eunice Girls’ High School gematrikuleer het. Die gesin het later na Johannesburg verhuis.

Verdere studie en werk

Na skool is Olga na die Universiteit van die Witwatersrand, waar sy as ’n mediese student begin het. Sy het egter gou oorgeslaan na BA met geskiedenis en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Nadat sy haar BA Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands behaal het, met CM van den Heever as een van haar professore, het sy onder meer by die Joodse Raad van Afgevaardigdes gewerk. Sy het ook onderwys gegee en joernalistieke werk gedoen.

In Johannesburg het sy ’n lewenslange vriendskap met Elisabeth Eybers gesluit. Eybers het na die verskyning van Olga se eerste bundel, Die soeklig, met Olga kontak gemaak. In later jare het Olga en haar man by Elisabeth in Amsterdam gekuier en Elisabeth by hulle op Rehovot.

Die verskyning van Die soeklig in 1944 het Olga Kirsch slegs die tweede vroulike digter naas Elisabeth Eybers in Afrikaans gemaak.

In hierdie bundel lewer Kirsch belydenis van haar emosies, nie net van geluk nie, maar ook van hartseer, die verganklikheid van die mens, en ook van pyn veral dié wat verband hou met die afskeid van ’n geliefde.

Hans Ester skryf as volg in Zuid-Afrika: "Sy projekteer haar gevoelens op die wisselende seisoene en word deur die veranderinge in die natuur tot bepaalde emosies geïnspireer. Die natuur is vir haar troos, sowel as ontreddering. Ook gebruik sy hier motiewe uit die Ou Testament."

Vir IL de Villiers is die verse in Die soeklig "sensitiewe verse oor die pyn en verlange van die liefde, die belewenis van die natuur, maar veelal 'Schwärmerei' uit die té intense ervaringswêreld van ’n twintigjarige. Die groot invloed van Elisabeth Eybers is in al hierdie verse duidelik merkbaar."

Olga se poëtiese vaardigheid het reeds in 1948 opgeval toe sy medevertaler was van Elisabeth Eybers se bundel Engelse poësie The quiet adventure.

Een van die eienskappe van Olga Kirsch se tweede bundel, Mure van die hart (1948), is dat haar Sionisme baie sterk na vore tree en so ook haar verlange na Palestina as velore vaderland. Dit slaan ook terug op haar diepe betrokkenheid by die bestaan van Israel. In gedigte soos "Geloofsbelydenis" spreek sy haar afkeer uit teen die gevoel van meerderwaardigheid wat baie blankes in Suid-Afrika toon en wat hulle deur hulle godsdiens verdedig.

Toe Mure van die hart in 1948 vir die eerste keer verskyn het, het dit onmiddellik die aandag getrek – miskien veral om die tematiese aspekte daarvan – aldus M Nienaber-Luitingh (Beeld, 24 November 1980). “Vir die eerste keer het in dié gedigte die stem van ’n Joodse Afrikaner opgeklink en het die problematiek en die lyding van die Joodse volk, saam met ’n hartstogtelike geloof in Sionistiese ideale, in Afrikaanse verse gestalte gekry. [...] By die herlees word dit duidelik dat die gedigte tematies nou gebonde is aan die tyd van hulle ontstaan: die jare tydens en onmiddellik na die Tweede Wêreldoorlog. Maar Olga Kirsch se poësie bly nie vassteek in die aktualiteit van een bepaalde historiese periode nie. Haar gedigte besit ’n sterk mate van algemene geldigheid sodat ook die leser van vandag (1980) hulle opnuut as aktueel vir die eie tyd en situasie kan ervaar. [...] Dit is opvallende ‘oop’ poësie en sal daardeur ook toeganklik wees vir dié lesers vir wie talle moderne Afrikaanse gedigte te verwikkeld en daardeur dikwels moeilik verstaanbaar geraak het.”

Mure van die hart is in 1980 en 1982 deur Perskor heruitgee. PH Swanepoel skryf (Transvaler, 26 Januarie 1981): "Hoewel Olga Kirsch nie as een van ons grootste digteresse beskou kan word nie, daar sonder haar beskeie bydrae ’n leemte in ons poësie sou gewees het. Hierdie heruitgawes stem mens opnuut tot dankbaarheid vir die feit dat hierdie Jodin haar tuiste in Afrikaans gevind het."

Volgens PD van der Walt het Olga met hierdie twee bundels ons poësie verryk met ’n eie tematiek en segging.

Olga vertel aan Daniel Hugo: “Ek het baie sterk gevoelens daaroor [die Sionisme] gehad. Ons familie was Sionisties, maar ons het nie tot die Sionistiese bewegings behoort nie. Ons huis was altyd die plek waar sprekers wat Koppies toe gekom het, gebly het. Maar ek dink die basis van my Sionistiese gevoelens het uit die Bybel en uit Sidoer – die gebedeboek – gekom. Ek moet sê dat ek het nooit geloof het dat ons ’n staat sou kry nie. Dit was vir my ’n wonderlike ding toe dit gebeur.”

In 1948 het sy besluit om na die pasgestigte staat Israel te emigreer. Sy het aan Kittie Vermaak (Vaderland, 24 Junie 1976) vertel dat sy na Israel gegaan het met die gedagte om ’n paar jaar daar te gaan werk en háár mense te gaan help. Met haar aankoms daar het sy haar midde-in die Eerste Onafhanklikheidsoorlog bevind. Sy het daar haar toekomstige eggenoot, Joseph Gillis, ontmoet. Hy het in Mei 1948 uit Brittanje geëmigreer en in Julie 1949 is hulle getroud. Olga het besef dat sy van haar liefde vir Suid-Afrika sal moet afsterf en alles aan haar nuwe vaderland moet gee.

Sy het verder aan Kittie Vermaak vertel hoe lief sy vir mooi klere in haar jongmeisiedae was; dat sy elke maand haar volle salaris in Johannesburg net op klere uitgegee het. Sy het in Israel aangekom met die deftigste en mooiste rokke en aandklere: “Ek het so uit my pad gevoel en dit byna nooit eens aangetrek nie,” het sy half skaam vertel.

Van haar aankoms in Israel vertel sy: “Dit was ’n wonderlike tyd in Israel. Baie van my ou vriende in Suid-Afrika het gekom om in die leër te veg. Dit was ook ’n baie triestige tyd, want daar was skaars ’n gesin waarvan iemand nie gewond is of omgekom het nie. Maar dit was tog ’n tyd vol hoop.”

Haar man was met haar aankoms in Israel in die Israeliese Weermag. Na hulle troue het die egpaar hulle op die dorpie Rehovot gevestig, waar Joseph aan die Weizmann Instituut as wiskundige werksaam was. Hulle dogters is in 1950 en 1953 gebore. Met haar man moes Olga Engels praat en met haar dogters Iwriet (moderne Hebreeus). Olga het intussen haar meestersgraad in Engelse letterkunde aan die Universiteit van Jerusalem verwerf en het Engels gedoseer, eers vir vyf jaar as onderwyser en later as universiteitsdosent. Joseph is in November 1993 oorlede.

Sedert haar vertrek het sy Suid-Afrika net drie keer besoek: in 1975 met die Taalfees, in 1979 by geleentheid van die Afrikaanse Radiodiens se boekeveiling, en in 1981 om haar siek moeder ’n laaste keer te sien.

Olga het in ’n onderhoud met Sheila Stevens (Rand Daily Mail, 19 Augustus 1979)vertel: "Ná ek geëmigreer het en getroud is, het die drang om te skryf verdwyn. Ek het probeer, maar kon net nie skryf nie. Om te emigreer was ’n eienaardige en kragtige ondervinding. En ek het ook probeer om my plek in ’n nuwe gemeenskap te vind."

In 1970 het in die tydskrif Buurman Olga se Afrikaanse vertalings uit Iwriet van die Israeliese digteres Leah Goldberg verskyn. Leah Goldberg is in 1970 oorlede. In Junie 1971 het in dieselfde tydskrif twee verse, “Sesdaagse oorlog” en “By die lees van Solzhenitsyn”, verskyn. Hierdie verse, wat nie in Negentien gedigte opgeneem is nie, was klaarblyklik vingeroefeninge vir haar “tweede debuut”, soos Daniel Hugo Negentien gedigte noem. Buurman was die kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes.

Hans Ester skryf in Zuid-Afrika­ van Oktober 1982 dat Olga in Israel sonder haar versameling Afrikaanse boeke afgesny was van blywende kontak met Afrikaans. Tydens een vakansie in 1971 het sy weer al haar Afrikaanse boeke opgeneem en CJ Langenhoven se Versamelde werke gelees. Sy het self weer gedigte in Afrikaans begin skryf en so het Negentien gedigte ontstaan wat in 1972, na ’n stilswye van 24 jaar, deur Human & Rousseau gepubliseer is. Ester skryf: “Deze gedichten documenteerde de enorme winst aan authenticiteit en zeggenzkracht van de jaren sinds de emigratie in 1948. Vooral de ‘Vyf sonnette aan my vader’ vormen ontroerende getuienissen.”

Vir PD van der Walt (Transvaler, 9 Oktober 1972) bring Olga met Negentien gedigte ’n "welkome individuele nuanse in die digkuns van daardie dekade. Dit is geen groot wêreld wat in hierdie negentien verse opgeroep word nie, maar die ervaringe, waarnemings, herinneringe en beskouinge word so innig en deurleefd verwoord dat die gedigte ’n ontroerende en treffende diepte van lewensgevoel en menslikheid ontwikkel. Verse in hierdie toonaard, hoofsaaklik beskrywend en beskoulik, is nie sterk afhanklik van beeldspraak nie. Beeldvondste is dan ook nie ’n opvallende eienskap in hierdie bundel nie, maar ’n skerp sintuiglikheid kenmerk tog die woordkeuse. Ook is die gedigte geensins eksperimenteel wat die vormgewing betref nie, eerder konvensioneel want sy beoefen hoofsaaklik die gebonde vers wat sterk steun op ritme en rym en strofeskematisering. [...] Nog sensitiewer en geslaagder is haar versritmiese variasies op basiese patrone, wat eweneens die gedig ’n eenheidsbasis gee, maar daarby ook ’n eie strukturele struktuur.”

Lina Spies meen dat Negentien gedigte verse bevat wat ’n mens nooit in Afrikaans sou wou mis nie. “Vir die digter, soos vir enige mens, kom daar die dag van afrekening met sy jeug. In hierdie afrekening het Olga Kirsch die ‘Vyf sonnette aan my vader’ geskryf – van die allermooiste van die soort herinneringspoësie wat ons in die Afrikaanse digkuns besit. Sy spreek die gestorwe vader aan met verlange, met skuldbesef, met ’n indringende behoefte tot begrip.”

Spies het in Die Burger oor hierdie bundel geskryf: “Olga Kirsch se nuwe bundel is nie groot of buitengewoon nie, maar iets wat ’n mens bly maak, omdat die Afrikaanse taal nog so veel kan registreer van iemand wat so lank reeds buite sy gebruiksfeer leef. En ek het die gevoel: dit kan nog meer, baie vollediger, as die digteres die Afrikaanse woord verder wil ontgin op ’n gebied wat so uniek – en ek sou wil sê: eenmalig – hare is.”

In Augustus 1975 het Olga in ’n onderhoud aan Shaul Benhaim (Star, 20 Augustus 1975) vertel dat sy begin het om verse in Hebreeus te skryf. “Die drang om te skryf was altyd voorop en na so baie jare in Israel het ek gedink dat ek kan probeer. My dogters het die verse sjarmant gevind, maar hulle is nie objektief nie. Kenners het aan my gesê dat die Hebreeuse gedigte soos vertalings klink. So ek mag dalk afsien van hierdie idee. Maar om weer in Afrikaans te skryf, is ook buite die kwessie.” Vir Benhaim is die vraag voor die hand liggend: as ’n mens voel dat jy móét skryf, en verse in Hebreeus is nie die antwoord nie, hoekom gaan sy nie terug na die taal waarvoor sy lief is nie? “Geen Afrikaans word in ons huis gepraat nie,” was Olga se verweer. “As ek moes teruggaan na Afrikaans, sal dit ’n groot poging moet wees. Ek sal net in Afrikaans moet lees en nie in ander tale nie. Dit sal nodig wees om terug te kom in die taal wat so ryk is in sy krag van uitdrukking en al sy nuanses.”

Vertalings van twee van Olga se gedigte, “Word-spinning” en “Blockhouse” is in The Penguin Book of South African verse opgeneem. Op ’n vraag van Caryl Blanckenberg (The Star, 8 Oktober 1975) of sy van haar Afrikaanse verse in Engels en Hebreeus sal vertaal, het Olga geantwoord: “No. A poem can retain its authenticity in any language. But I want to leave my work as it is. It is enough to have spoken to the Afrikaans people.”

Olga het vir die eerste keer in 27 jaar weer na Suid-Afrika teruggekeer om in 1975 die Afrikaanse Taalfees in die Paarl by te woon. In ’n onderhoud met George Boshoff (Die Burger, 7 Oktober 1975) sê sy dat dit vir haar onlogies sou wees om nog in Afrikaanse te probeer dig. “Ek lewe so afgesonderd van die lewende taal in ’n heeltemal ander kulturele situasie.” Sy het ook besoek gebring aan Koppies, haar geboortedorp, en het vertel dat sy op een dag soveel uitnodigings ontvang het dat sy vir die volgende drie jaar elke aand daar saam met ander mense kan gaan eet. “Of so voel dit vir my.” Tussen die ou vriende wat haar as kind geken het, het sy weer Afrikaans gepraat: “Dit was net daar, die Afrikaans meen ek. Dit het sommer net uitgeborrel.”

Lina Spies (Vaderland, 18 Oktober 1975) skryf dat daar baie opwinding en vreugde rondom Olga Kirsch se besoek aan Suid-Afrika in 1975 tydens die Taalfees was. "Dit was asof haar teenwoordigheid by die fees bewys geword het van die lewenskragtigheid van Afrikaans, juis omdat sy die draagwydte daarvan kon simboliseer – dié taal wat sy as Joodse meisie, van huis uit Engelssprekend, gekies het vir poëtiese vormgewing aan haar besondere ervaringswêreld. Ná 27 jaar was sy weer terug binne die natuurlike gebruiksfeer van Afrikaans – het dit weer hoor-baar en praat-baar geword, en onwillekeurig is daar bespiegel oor nog ’n bundel uit haar hand."

En so het dit ook gebeur – net agt maande na haar besoek word haar vierde digbundel, Die geil gebied (1976), gepubliseer. En die besoek aan Suid-Afrika in 1975 het duidelik neerslag in hierdie gedigte gevind. In een van die eerste gedigte kry haar kuier in Koppies en spesifiek aan hulle huis daar, gestalte in haar eie woorde:

Die tuin is kaal, swart 
grond, die huis
staan bontgeverf, die ou 
stofpad 
loop anders, onverskillig-
glad
geteer ...

Volgens Lina Spies (Die Burger, 7 Julie 1976) is tuiskoms nie toevallig en lokaal nie, maar universeel-menslik in die aangrypende aanvangsvers, “Nou spreek ek weer bekendes aan”. “Hierdie vers is romanties in die essensiële betekenis van die woord en dit is die romantiese lewensvisie wat Olga Kirsch van die begin af aan gerig het. [...] Vrees wat deur die liefde besweer word, is in hierdie bundel ’n universele belewenis ... En oor die dood staan in hierdie bundel een van die aangrypendste, grootste gedigte wat ek in Afrikaans ken – die enigste vers met ’n tipies-Joodse verwysing, naamlik na die gebruik om op die sterfdag van ’n gestorwene vir hom/haar ’n kers tot nagedagtenis te brand: ‘Op die blank marmerblad in die kombuis’. Wat ’n ontwikkeling het hom nie voltrek vanaf ‘Gestorwene’ in Die soeklig tot en met hierdie gedig nie!”

In sy bespreking van Olga se oeuvre sê Hans Ester (Zuid-Afrika, 31 Oktober 1982): “In Geil gebied toont de spreekster in al haar kwetsbaarheid tegenover de geliefde, in haar toorn over het onrecht tussen rassen en in haar verbondenheid met de geschapene. Ook over die waarde van het dichten zelf wordt hier gesproken. Uiteindelijk domineert de twijfel aan de troostende kracht van het per definitie broze gedicht.”

Net voor haar tweede besoek in 1979 aan Suid-Afrika vir die Afrika Radiodiens se boekeveiling, is Oorwinteraars in die vreemde (1978) gepubliseer. En weer eens het sy gesê dat sy klaar geskryf is in Afrikaans. Op ’n vraag van Jeanne Coetzer (Beeld, 11 Augustus 1979) of daar ooit rustigheid kan wees as ’n mens deel word van ’n nuwe taal en kultuur terwyl jy nog steeds die wortels van ’n ander land in jou dra, is Olga se antwoord: “Ja, ek sal seker altyd gesplete bly. Afrikaans is die taal van my kinderjare en jeug, van vriende en ’n plattelandse skool. Dis sterker, weet jy, as die Engels van my ouerhuis. Maar aan die ander kant sou ek graag Hebreeus wil skryf. [...] Afrikaans is die taal van stille kommunikasie met niemand aan die ander kant nie.”

Johann Johl (Volksblad, 23 Desember 1978) beskryf die verse in Oorwinteraars in die vreemde as "nugtere en trefsekere momentopnames van ’n vrou in die vreemde, maar ook van die mens in die algemeen in ’n wêreld wat vreemd bly. Vanuit die bundel is dit duidelik dat die draad deur die bundel gaan wees: tydelik bewoners, gedurig op weg êrens heen, moontlik na die vaste blyplek van die ewigheid, maar hier en nou bly die wêreld vreemd. [...] In die geheel is dit ’n bundel wat ’n heel bewuste eenheid wil opbou, daarom val dit onmiddellik op wanneer verse of gedeeltes daarvan nie mooi wil inpas nie (bv pp 13, 15 en die tog gawe ‘Ateljee’). Dalk is hier ook effens te min reliëf in die sentrale tema as geheel, maar die byna sagtheid en subtiliteit van die poësie vergoed daarvoor. Oorwinteraars in die vreemde is ’n bundeltjie suiwer poësie wat tref weens die soberheid en deurwinterdheid daarvan, veral in die hantering van die ‘distracted vision’ – en is ’n gawe aanvulling tot ons literatuur.”

Vir Hilda Grobler (Hoofstad, 4 Januarie 1979) was daar in hierdie bundel nie veel tekens van groei nie en dat baie van die versreëls, die beelde en ook gedigte ’n sterk terugblik gee aan ’n vroeër tydsgees en aan die soort digkuns wat die onmiskenbare stempel van die 1940's dra.

Hans Ester (Zuid-Afrika, 31 Oktober 1982) meen dat Olga hier haar verbondenheid met haar tuisland Israel op gevoelige wyse uitspreek. "Een deel van hierdie gedigte konsentreer sterk op persoonlike emosies soos eensaamheid, vervreemding van die geliefde en die veroudering van die vrou."

André P Brink (Rapport, 10 Oktober 1982) meen dat Olga se volgende bundel, Afskeide, wat in 1982 verskyn het, sekerlik haar swakste bundel is sedert sy in die sewentigerjare weer begin publiseer het. “Die bundel staan in die teken van ’n soeke na deursuiwering in die lig (en ook die duisternis) van die dood, veral dié van die moeder. Die elegiese deurtrek gevolglik die hele bundel – maar ongelukkig nie altyd oortuigend nie. Dikwels – veral in Kirsch se mees ambisieuse gedig tot op hede, die uitgesponne ‘Begrafnisdiens’ – breek die ervaring glad nie deur die woordgrens nie. In hedendaagse jargon uitgedruk: die betekenaar is nie omvattend, of gewigtig, of dig genoeg om die betekende sinvol te beteken nie. Dit bly die spreker se privaat ervaring: dit word nie by die grasie van die gedig die leser s’n gemaak nie: die beweging loop nie déúr nie. [...] Winterse poësie daarom; en met enkele heel fyn momente daarin. Maar as bundel nogal teleurstellend skraal. Reeds Totius het al gedemonstreer dat ’n ‘pyngedagte’ op sigself nog nie ’n versekering is vangeslaagde poësie nie.”

Ook M Nienaber-Luitingh (Beeld, 23 Augustus 1982) dink dat Kirsch in hierdie bundel dit nie reggekry het om haar diepste emosies tot werklike poësie om te sit nie. En Luitingh meen ook dat dit jammer is dat hierdie bundel van Kirsch in hierdie vorm gepubliseer moes word. Haar getroue lesers in Suid-Afrika sou haar eerder wou onthou deur haar vroeëre poësie waarin die geloof en swaarkry van die Joodse volk op so ’n onvergeetlike manier in Afrikaans neergepen is.

Hans Ester (Zuid-Afrika, 31 Oktober 1982) skryf dat Afskeide ’n "waardevolle siklus is van klaagsange van ’n digteres wie se kreatiewe bande met Afrikaans de laatste jaren zeer nauw heeft aangehaald”.

Ruie tuin (1983) is Olga se laaste bundel wat in Afrikaans gepubliseer is. En hoewel André P Brink (Rapport, 4 November 1984) meen dat baie van die verse nie merkwaardig genoeg is om onthou te word nie, het hy tog in Kirsch se beste verse ’n "soberheid en ’n suiwer sintuig van erbarming wat mens bybly. By geleentheid is daar iets so ekstaties in die ontginning van die skamelste, dat die ruie paradyslike tuin momenteel hervind word – soos in die beskouing van die kind wat, lomp maar opreg, ’n gedig met taai besmeerde hande tot stand bring: 'Jy wortel in my hart soos ’n tuin.' [...] Mens se uiteindelike indruk van die bundel as geheel is ylheid. Maar daar is gedigte in wat die lees en herlees oor en oor waardig is.” En dan sonder Brink twee gedigte uit: “Alleen” en “Voordat ons inslaap”;  veral laasgenoemde, waaroor hy hom as volg uitlaat: “Maar die manier waarop [...] die uitwisseling tussen man en vrou, dag en nag, samesyn en vroeëre afsonderlikheid, droom en werklikheid plaasvind, maak dit iets besonders: gedra deur die enjambemente adem dit voort van reël tot reël – met die enkele stilstand by ‘vertolk’, ’n sleutelwoord vir die hele gedig.”

Ruie tuin wek by Sheila Cussons (Vaderland, 5 Maart 1984) die indruk dat Olga Kirsch met hierdie bundel afskeid neem van Afrikaans as medium vir haar poësie. “Daar is ’n eienaardige soort afwesigheid in dié bundel, die afwesigheid van Olga Kirsch. Dis asof die digteres weinig betrokke is by die skrywe van die vier-en-dertig gedigte. Ná haar vorige bundel, die sterk Afskeide, klink die nuwe bundel drifloos, spanningloos, selfs onverskillig, asof sy net gesit en doodle het, ingedagte. Daar is uitsonderings, ’n klein aantal égte gedigte, en twee, ten minste, wat van Kirsch se heel beste verse is. Vir die res is Ruie tuin ’n gemoedelike naskrif tot Afskeide wat net so wel kon uitgebly het. Met die meeste verse kon sy veel meer gedoen het, sóú sy gedoen het, wil ek waag om te sê, as die komponeer van Ruie tuin vir haar ’n noodsaak was. Dikwels is die strukture slap, en die slotte nie werklik slotte nie, sommer net eindiginge. Plek-plek toon die taal tekens van aftakeling, of as dit te sterk gestel is, dan van verarming, van ’n verstadigde bloedverlies.”

Dit was Olga se swanesang in Afrikaans. In 1994, by geleentheid van haar sewentigste verjaardag, stel Daniel Hugo Nou spreek ek weer bekendes aan: ’n keur saam en word dit deur Human & Rousseau uitgegee. Vir AP Grové (Beeld, 7 November 1994) het Hugo verse gekies wat die balangrikste aspekte van Kirsch se digterskap omvat: haar sosiale gewete, haar werk van elegiese aard, haar bewustheid van haar nasionale roeping en haar verse oor haar persoonlike lief en leed: “Ook is haar beste gedigte wel hier aanwesig, en die bloemleser het, soos mens sou verwag, die meeste gedigte uit die drie belangrikste bundels getrek, nl Mure van die hart (1948),Geil gebied (1976) en Ruie tuin (1983).”

In 1990 is haar eerste bundel gedigte in Engels gepubliseer, The book of Sitrya. Sitrya was haar kleindogter wat op tienjarige ouderdom aan ’n aangebore ongeneeslike siekte oorlede is.

Olga was aktief betrokke by die Israel Association of Writers in English. En hoewel sy baie bekend as digter in Suid-Afrika was, het sy nooit dieselfde status bereik in Israel of in die Engelssprekende wêreld nie.

AP Grové skryf: "Dit is uit haar poësie oorduidelik dat sy as’t ware in twee wêrelde leef: aan die een kant Israel as die verwesenliking van ’n Joodse droom, aan die ander kant Suid-Afrika met sy eiesoortige sosiale en politieke probleme – iets wat duidelik na vore kom in Mure van die hart, waar die Joodse ideale stem kry onder meer in die afdeling 'By die riviere van Babel', terwyl dit in ’n ander afdeling, 'Die Blokhuis', weer die Suid-Afrikaanse situasie is wat die lig vang. Maar selfs waar dit later oor persoonlike sake handel, haar huwelik en getroude lewe, die oorlog, die dood van geliefdes, is die vers in medium en gees Afrikaans en is dit op baie plekke duidelik dat die herinnering aan haar jeugwêreld nooit heeltemal uit haar poësie sou verdwyn nie. Al dié omstandighede het meegebring dat sy nie maklik literêr-histories ‘geplaas’ kan word nie. Daar is wel sekere dertigertrekkies in haar werk aanwesig. Maar sy is nie ’n Dertiger nie. Die verfynde woordkuns en die biegtoon, die idee van profeetskap, wat so kenmerkend is van dertigerpoësie, is by haar afwesig. In meer as een opsig staan sy ook ver van die veertigers af. Daar is by haar wel ’n sterk sin vir die aktuele, die werklikhede van uur en feit, maar die konkreetheid van Pretorius, die metaforiese beelding van Opperman en Van Heerden is by haar nie so sterk aanwesig nie. Miskien staan sy met haar versbou en die bespieëlende aard van haar poësie die naaste aan Elisabeth Eybers.”

Daniel Hugo skryf: "As lid van ’n volk wat deur die eeue heen verdruk en vervolg is, het Olga Kirsch ’n groter gevoeligheid as haar tydgenote gehad het vir die rasse-onreg in Suid-Afrika. Vandaar die 'Blokhuis'-gedigte in Mure van die hart. Haar politieke aandag word in die later bundels hoofsaaklik deur die probleme van haar nuwe tuisland in beslag geneem. Die belangrikste biografiese feit vir Kirsch se poësie is dat sy ’n Jodin is. Dit verklaar eerstens haar belangstelling in en haar betrokkenheid by – deur die vegtende geliefde – die Tweede Wêreldoorlog. Volgens ’n gedig in haar eerste bundel, Die soeklig, is sy een van dié wat gedurende die veertigerjare ‘daagliks in koerante tuur’. Die verskriklike gevolge wat die oorlog vir die Jode gehad het, is welbekend. Dit verklaar ook haar Sionistiese verlange in haar tweede bundel na Palestina as verlore vaderland. In Die Huisgenoot van 21 Junie 1946 het saam met ‘Twee Paassange’ ook twee ‘Palestynse sange’ (‘Lied van die terroriste’ en ‘Voor die vuurpeloton’) verskyn.” (Die Burger, 24 September 1994)

Henning Snyman beskou Olga, saam met Elisabeth Eybers, as een van die “banneling”-digters. "En sy kry met haar verblyf in die vreemde iets reg waarmee sommige van die ander digters in hierdie kategorie nie vereenselwig kan word nie. Hierdie twee digters bly ‘Afrikaans’ in die manier waarop hulle dig. Europa en Israel oorheers nie hul werk nie, nóg in ’n fisieke sin, nóg stilisties. Hulle bly ook onaangetas deur digterlike modegiere en truuks. Hulle deel ’n sin vir eenvoud sonder pretensie en verkies ’n vorm waarin die konvensie van poësie sterker praat as ’n vertoon van byderwetsheid. Hul verbintenis met die vreemde dien as ’n skakelpunt tussen Afrikaans en ’n buite-wêreld. Die ‘Afrikaansheid’ van hul poësie bly ’n dominante faktor. Met Afrikaner-wees het dit niks te make nie.

"Olga se digkuns mag nog nie reg na waarde geskat is nie en dat haar digkuns, volgens literêre kritici, soms effe yl mag aandoen en dat dit aan grootse temas dalk ontbreek. Haar bundels sou gekritiseer kon word vir die feit dat dit nie noodwendig ’n sterk interne eenheid vertoon nie en dat die gehalte dikwels aan die ongelyke kant is. Hierdie dinge maak minder saak as ’n mens kyk na wat Kirsch se gedigte te sê het, ook en veral vir die mindere leser. By Kirsch leef die sentrale emosies van menswees: liefde, dood, seksualiteit, eensaamheid, religie, deernis met die mens, die gevoeligheid vir die natuur, die alledaagse ervarings. [...] Hierdie hartstog in ’n verskeidenheid van gedaantes vorm die kern van Olga Kirsch se digwerk. En soos die liggaam hierdie seine interpreteer, so doen ook haar gedigte.”

In Junie 1998 het die Port Elizabethse Afrikaanse Amateurtoneelvereniging ’n huldeblyk aan Olga Kirsch in die Joodse Pioniersmuseum aangebied. Nie net is Olga Kirsch se universele gedigte in ’n soepel, ekspressiewe, verbeeldingryke en veral liriese Afrikaans oorgedra nie, maar uittreksels uit ’n hoorbeeld van Daniel Hugo waarin Olga Kirsch self gepraat het, is ook gehoor. Roline Norval (Die Burger, 9 Junie 1998) skryf: "Die gedigte is so gekies dat jy ’n beeld kon vorm van haar geloof en sienswyses, soos haar Sionisme, hoe sy as immigrant moes aanpas in Israel, haar huwelik en kinders, haar heimwee na Suid-Afrika, hoe sy oor Afrikaans voel en hoe sy oor die dood voel. Deur haar gedigte word haar individuele ervarings ’n universele een, wat ’n mens weer met nuwe oë na byvoorbeeld Sionisme laat kyk."

Op 5 Junie 1997 is Olga Kirsch na ’n lang siekte in Israel oorlede. Sy het breinkanker gehad. Chaim Beneven-Botha vertel in ’n brief aan Elisabeth Eybers van Olga se laaste paar weke. Sy was toe al bedlêend na die breingewas verwyder is en kon slegs met haar oë en hande kommunikeer. Hy skryf: “Onverrigter sake keer ek terug om die volgende dag weer te gaan. Nou is sy wakker. Haar oë volg my. Vraend, smekend. Klankloos word gepraat, geprotesteer, gepleit, gehuil, gelag, uitgevra en geantwoord. En ek lees gedigte. [...] Toe ek ’n anderhalfuur later wil vertrek en met ’n soengroet totsiens sê, sprei ’n warme oneindigheid oor Olga se gesig. ’n Glimlag en geneentheid wat alles ophef. Haar oë vonkel en dans bokant haar bed. Sy lag en praat moeiteloos woordeloos. [...] Die daaropvolgende dae en weke bring ietwat roetine en afstand met sig. Nog steeds lees ek Afrikaanse gedigte voor. In die biblioteek van die Suid-Afrikaanse ambassade in Tel Aviv vind ek ’n aantal digbundels. Paul Lewin bring ’n gesette en omvangryke slapbanduitgawe van Groot verseboek mee uit Kaapstad. En so word Groot verseboek ons Tereisias op die gemeenskaplike verkenningsvlug deur die Afrikaanse digtershemel."

Chaim het opgemerk dat ’n kopie van Elisabeth Eybers se The quiet adventure op die tafel voor Olga se bed lê. “Met eerbied slaan ek die bundel oop en begin Eybers lees. Olga maak haar oë oop en die water van erkenning lê vlak voor my eie blik. Na enkele gedigte wend ek my tot ’n ander digter. Probeer ’n ander toonaard vind. En tog speur ek dat dit slegs Eybers is wat haar die grootse vreugde gee. Rus, aanvaarding, herinnering, Hoop ...? Eybers word ’n soort annunsiasie, ’n besoek aan die engel. Omdat ek dit registreer, weet ek dat ek versigtig met my orkestrasie en kontrapunt moet omgaan. Al was haar blik nog so afgewend en ingekeer, reageer sy soos klokslag. Die stiptelikheid van die vreugdevolle herkenning en erkenning vul my met ’n groot versigtigheid en respek. In sulke momente word Olga se gedagtes en gevoelens vlees. Helder diep en dankbaar. Maar ook onmoontlik om te verwoord. En so begelei Elisabeth Eybers ons beide. ’n Vriendin neem haar plek in en neem deel aan die waak.”

Huldeblyke

  •  Daniel Hugo: "Kirsch is meer as net ’n 'oorwinteraar in die vreemde'. Sy is ’n digter vir alle seisoene." (Die Burger, 24 September 1994)
  •  Henning Snyman: "Hierin sit die essensie van Olga Kirsch se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde: die opteken van ’n gewone lewe, in ’n eenvoudige maar stylvolle Afrikaans. Olga Kirsch se poësie gee aan die leser genoeg rede om hierdie digteres met liefde en teerheid te onthou. Haar poësie is 'gedigte vir gebruik', ’n eenvoudige demonstrasie van die woord waarin ek my kan red 'met hierdie vrag van aardse sekerheid en pyn' (NP Van Wyk Louw)."
  •  Hans Ester: "In haar gedigte spreek Olga Kirsch haar persoonlike emosies soos eensaamheid, vervreemding van die geliefde en die veroudering as vrou op indrukwekkende wyse aan."
  •  Joan Hambidge: "Die Afrikaanse digkuns is enorm verryk deur Olga Kirsch met haar beskeie dog beduidende oeuvre."
  •  Lina Spies: "In haar poësie het Olga Kirsch die tyd en afstand oorwin tussen haar en Suid-Afrika en die lesers van haar poësie. Solank Afrikaans gelees en liefgehê word; solank dit bestaan as ’n lewende skeppende taal, sal die vreemde, vertroude stem van Olga Kirsch bly ontroer."
  •  FIJ van Rensburg (in 1975): "’n Mens sou [Olga] kon tipeer as die digteres van die lente. Telkens en telkens keer hierdie gety in haar werk terug. ’n Mens sou die woord van haar vereerde Elisabeth Eybers op haar kon toepas: 'Sy bly draer van die lente'. Miskien sou ’n mens kon sê dat Olga Kirsch se hegting aan die lente as die uitnemendste van die getye een van die uitinge van haar Joodsheid is. Sou dit vergesog wees om dit as sentiment in verband te bring met haar Sionistiese heilsverwagtinge? [...] Sy het die Jood op ’n besondere manier in die Afrikaanse letterkunde laat intree. Olga Kirsch was die eerste wat die Jood as Jood die Afrikaanse letterkunde laat binnetree het, dit wil sê én as subjek én as objek." (Transvaler, 18 Oktober 1975)

Joan Hambidge dig só oor Olga Kirsch:

In Jiddisj blykbaar geen woord of begrip
vir teleurstelling, verydeling, verspeel.
Desondanks moes jy in ’n vreemde taal
’n tweede, ongenaakbare ballingskap binnegaan.
’n Digter kan nooit haar erfenis verloën:
“By die riviere van Babel, daar het ons gesit, 
ook geween en aan Sion gedink ...”
Met jou verse oor die diaspora, vervolging
die verdriet van jou mense naam gegee.
Hoeveel woorde is daar vir pyn?
Eensaamheid, illusie, verdriet, angs, kommer ...
Dié kon jy opvang, stulp en bowenal vertaal
in hunkerende, ylende melodieë.

Publikasies:

Publikasie

Die soeklig: gedigte

Publikasiedatum

  • 1944
  • 1945
  • 1946

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mure van die hart

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1980
  • 1982

ISBN

0628017618 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Negentien gedigte

Publikasiedatum

1972

ISBN

0798102055 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Geil gebied

Publikasiedatum

1976

ISBN

0798196883 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oorwinteraars in die vreemde

Publikasiedatum

1978

ISBN

0798108835 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afskeide

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798113081 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Afskeide - Olga Kirsch

 

Publikasie

Ruie tuin

Publikasiedatum

1983

ISBN

0798116404 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The book of Sitrya

Publikasiedatum

1990

ISBN

0866890297 (hb)

Uitgewer

Rehovot, Israel: O Kirsch

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nou spreek ek weer bekendes aan: ’n keur 1944–1983. Saamgestel deur Daniel Hugo

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132965 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Grové, AP: Digterskap genoegsaam belig

Artikels oor Olga Kirsch beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Olga Kirsch (1924–1997) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>