Hierdie bydrae vorm deel van LitNet se skrywersberaad "Briewe deur die lug" (2000)
Dit raak ’n bietjie vervelig om aanhoudend te moet sê Afrikaans wees het niks met Afrikaner wees te make nie. Dis hoeka tyd dat almal dit vir eens en vir altyd as ’n voorveronderstelling aanvaar.
Ons het ’n woord vir Afrikaner wees. Ons noem dit Afrikanerskap.
Vreemde woord. Soos in “lidmaatskap” — maar eintlik meer soos in “ballingskap”.
En vanweë ons vreemde geskiedenis het Afrikaans wees en Afrikanerskap, wat veronderstel was om twee benamings vir dieselfde verskynsel te wees, mettertyd deur ’n pynlike proses van mitose en onnodige prekludering vals identiteite op mekaar begin afdwing. ’n Mens vra jou af: hoe sou jy byvoorbeeld die eerste twee paragrawe hier bo vir ’n Duitser, ’n Deen, ’n Fin, ’n Fransman verduidelik? Om mee te begin, sukkel ek byvoorbeeld om ’n ekwivalent vir “Afrikanerskap” in ander tale te vind.
Oorspronklik was die uitroep “Ik ben een Afrikander” ’n baie ondubbelsinnige stelling wat veronderstel was om te beteken “ek is van Afrika”, maar beslis ook beteken het “ek is nie meer ’n Europeër nie”.
Hoekom dan nie “Ik ben een Afrikaan” nie? Seker omdat daar tóé al twyfel was of iemand van Europese afkoms ooit ’n Afrikaan kan wees. Dié onsekerheid het mettertyd toegeneem eerder as afgeneem. Dis glad nie ongewoon om selfs in hierdie delikate tyd swart meningsvormers te hoor praat van “whites, coloureds and Africans” nie. Wat sê dit alles? Dit sê onder meer dat coloureds óók nie Africans is nie. Dit sê verder dat politieke korrektheid, daardie noodsaaklike nuwe paspoort na nêrens, soos die dompas van ouds, net in sekere kringe ’n voorwaarde is.
Ons blekeres, word daar skynbaar geglo, sal ons moet intéél in hierdie toestand-van-Afrikaan-wees in. Wat mettertyd in elk geval sal gebeur. Maar inmiddels sal niemand namens my besluit oor die meriete van my status as Afrikaan nie.
Afrikaans wees is ’n ander storie. Dit het niks met gene of geografie te make nie. Dis iets wat hier gekom maak is. Maar nie gelaat staan is nie. Hei baba riebab se ding is wim, het ons altyd krom en skeef in ons geel skoolbus gesing en nie naastenby geweet wat dit beteken of hoe dit gespel word nie, en nogtans gedink ons verstaan elke woord van wat ons sing. Want dis mos Afrikaans.
Hoe dit begin het, weet ons so min of meer; waar dit gaan eindig, weet niemand en dit maak ook nie saak nie — maar iewers in die middel het Afrikaans wees ’n slag sleg bloedarmoedig geraak. Nee, bloedarmoedig is die verkeerde woord. Want die bloed was daar en die bloed was gesond, maar die are was afgebind. Swaar afgebind soos mens maak as ’n pofadder jou gepik het en jy is bang die gif versprei.
Voor die Tyd van die Toerniket het die taal sy omgewing soos ’n spons ingesuig. Daar waar hulle hom begin praat het, in die kombuis en op die agterplaas en later agter die donkiekar aan en tussen die klowe in, die vlaktes oor, die land vol het hy die wel en wee van ’n bestaan in Afrika in sy vesels ingekry. Soms eerstehands. Dikwels tweedehands uit ander inheemse tale uit. In so ’n mate dat sprekers van die oorspronklike stamtaal al hoe meer moeite ondervind het om gewone Afrikaanse spreektaal te verstaan.
Die heen en weer vloei van woorde uit die een inheemse taal na ’n ander het in Suid-Afrika ’n algemene verskynsel geword. Dit was alles behalwe eenrigtingverkeer. ’n Vergelykende lys van algemene gebruikswoorde in Afrikaans, Engels, Zoeloe, Xhosa en Tswana wys hoeveel Afrikaanse woorde in die ander inheemse tale oorgeneem en tot eiegoed vervorm is. Kyk maar na die Zoeloewoord vir “venster”, “mes”, “sinkplate”, “knyptang”, “koppie”, “tafel” , “hek”, “draad”, “plaas”, “hemp”, “broek”, “baadjie” — om maar net enkeles te noem van ’n lys van ’n paar honderd wat tot dusver opgeteken is. Hoofsaaklik woorde vir die voorheen onbekende dinge wat Afrikaanssprekendes saam met hulle uit die suide uit saamgebring het.
Dit het die Zoeloewoordeskat verryk sonder om isiZulu op enige wyse aan te tas. Dieselfde geld Xhosa en Tswana.
Dis opvallend (en miskien beteken dit iets) dat nie een van hierdie Afrikaanse woorde net so oorgeneem is nie. Dis elke keer vervorm om ’n “eie” klank daaraan te gee. So word “hempsknoop” nou “ inkinobho yehembe”, “baadjie” word “ibhantshi”, “mes” word “umese”.
Daar is net soveel uit Engels oorgeneem. Maar anders as Afrikaans het Engels, met die uitsondering van ’n klompie woorde soos “donga”, “indaba”, “koppie”, “kraal”, “braai” en deesdae “lekker” min by die res van die inheemse tale gaan leen. Hy had hoeka al van als meer as genoeg.
Ek het nog nêrens in al die woedende gebral oor taalsuiwerheid, in al die pleidooie vir die behoud en bevordering van sogenaamde Standaardafrikaans of in die eindelose waarskuwings teen “easy” Afrikaans gehoor iemand maak beswaar teen die gebruik van leenwoorde uit ander inheemse tale nie. Enersyds omdat baie van hierdie woorde reeds so ingeburger is dat hulle inderdaad “Afrikaans” geword het; andersyds omdat die verskynsel te min voorkom om ooit vir Afrikaans ’n bedreiging te word.
Flaai-, Tsotsi-, Griekwa-, Bende-, Soweto-, Kaapse Afrikaans — elkeen van hierdie sosiale variante is belangrike boustene in die uitbreiding van die Afrikaanse woordeskat. Die hoed-in-die-hand se geloop bedel by Engels is nié.
Naas Hollands, Portugees, Frans, Maleis was Engels ook ’n ryk bron wanneer daar na leenwoorde gesoek is. Hoofsaaklik omdat Engels heeltyd so half opdringerig beskikbaar was met woorde waarvoor ons nie Afrikaanse ekwivalente had nie. Soms ook omdat die Engelse woord darem baie geleerd en beskaafd en deftig geklink het. Sommige van die leenwoorde is in die proses heeltemal verafrikaans — woorde soos trippens, sikspens, kar, diekens, brekfis, verplie. Ander het Afrikaanse besit geword ten spyte daarvan dat daar beter Afrikaanse ekwivalente bestaan. Die simpel grappie van die man wat by sy vriend wou weet wat is die Engels vir “taaiers” en toe mos hoor dis “bands” illustreer die verwarring wat onkunde meebring.
Maar anders as al die ander tale was Engels terselfdertyd ook vanweë sosio-politieke redes, taalimperialisme en sy mag as wêreldtaal reg van die begin af vir Afrikaans ’n struikelblok.
Om Afrikaans te wees in Afrika en die wêreld en dít nie (nóú juis meer as ooit tevore) in gedagte te hou nie, is kortsigtig en ’n bietjie domastrant. En dis nie net Afrikaans wat in hierdie penarie sit nie. Die regering en heelwat magte naby die regering beskou om verstaanbare redes Engels as ’n meer as voldoende plaasvervanger vir die tien ander amptelike (inheemse) tale. Die gevoel wat ’n mens kry, is dat die ANC heeltemal bereid sou wees om Engels as die enigste onderrigtaal en uiteindelik as enigste amptelike taal te aanvaar. Engels is per slot van rekening ’n wêreldtaal en een amptelike taal sou die huidige elf-tale-tameletjie met ’n enkele wonderbaarlike veeg onmiddellik en vir altyd onder die mat laat wegraak.
Dit is bepaald so dat ’n hele paar nuwe faktore deesdae ’n rol speel om die ander tien tale na die periferieë van ons daaglikse taalpraktyk uit te stoot.
Nie die belangrikste nie, maar die voor die hand liggendste is dat elf amptelike tale ’n siniese politieke foefie is om gemoedere te sus. En almal weet dit. Dis ’n tussentydse maatreël en almal kan raai wat sal gebeur die dag as hierdie tussentyd verby is.
’n Veel belangriker faktor is globalisering. Want in die wêreld as dorp moet jy ’n wêreldtaal magtig wees om jouself te help, en Suid-Afrika het nie ’n buitengewoon wye keuse nie. Dis óf Engels óf Engels. Dit mag toevallig wees, maar ek ken nie een enkele jong Afrikaanssprekende sakeman wie se onderneming nie ’n Engelse naam en ’n eentalig-Engelse briefhoof het nie. ’n Hele boel jong sakemanne en entrepreneurs sal dit nie hardop sê nie, maar hulle sal liewer dood as om as Afrikaners geëien te word.
’n Derde faktor is die baie verstaanbare renons wat opgebou is teen die eindelose gesanik oor Afrikaans. Daar is ongelukkig te lank “vir Afrikaans baklei” met geheime politieke agendas in die baadjiebinnesak. Dis boonop dikwels op ’n bullebakkerige en lomp manier gedoen. Niemand moet jong mense verkwalik wat die taalgedoe assosieer met middeljarigheid en benepenheid en stink voete nie. Die stigma wat daar rondom die saak bestaan, het nie uit die lug geval nie. En dit is maar eenmaal so dat sulke assosiasies die vinnigste moontlike manier is om enige ideaal nek om te draai.
’n Vierde belangrike faktor wat hand om die blaas hiermee saamloop, is Afrikaanssprekendes se oornag verworwe skuldkompleks oor ’n bedenklike politieke verlede. (Dit was, ironies, ses jaar gelede nog vér ónderontwikkel). Hierdie skuldkompleks neem allerlei vreemde gedaantes aan en trek dikwels skelkleurige onderrokke aan wat die meeste van die tyd net-net uithang. In die proses vind ’n mens jong (en minder jong) akademici, skrywers en meningsvormers wat voel dis oukei, dis selfs nice en nódig (want dis politiek korrek!) om jou Afrikaans ’n bietjie kleur te gee deur middel van allerlei Engelse woorde en uitdrukkings. En omdat hulle rolmodelle is vir baie, begin al hoe meer mense hulle voorbeeld volg.
Dis nie net jammer nie, dis misplaas. En ’n bietjie pateties. Want dit val in by die wanopvatting dat Afrikaans aan die tradisioneel wit Afrikaner, die twee keer gestorwe Nasionale Party en al sy regse afsplinterings behoort het. En oor dié dwaling word die baba dus veiligheidshalwe (as ’n soort voorsorgmaatreël) met die badwater uitgegooi.
Miskien gaan ons nog eendag ’n stinkerige voetnootjie vind by die stink van ons muishondjare: dat ons, nadat ons met soveel hoogheiligheid gesondig het, en ons sonde met soveel bravade en selfvertroue gerasionaliseer het, toe uiteindelik in ’n oogwink gatkruipers geword het. Nie eens in die sirkustent-herlewingsdienste van die groot Amerikaanse sektepredikers was daar al ooit sulke massale blitsbekerings soos ons sedert 1994 hier gesien het nie.
Jan Celliers se man wat sy man so kon staan dat hy deel geword het van die retoriek van Stryddae en NP-kongresse was toe maar net nóg een van die baie mites. Daardie wil wat so sterk soos ’n klipsteen staan, het oornag vermurwe. Voor sonop het die manne met die wangbaarde en die bandoliere wat in 1993 nog so bekkig en vol sonore bravade was soetjies hulle roers agter die naaste taaibos weggegooi en in die vuil môreskemer weggesluip na nuwe oortuigings toe.
Baie van dié wat nie gatkruip nie, kruip weg of slaan ’n flinke voet in die wind Elders toe. Op soek, vermoed ’n mens, na daardie Eldorado wat Afrika toe nie wou oplewer nie.
En daarmee is ons klaar by die vyfde en finale faktor. Die een wat maklik die skrif aan die muur kan word vir ons klompie wat agterbly: die gesindheid wat hand oor hand begin veld wen dat hierdie Afrikaans van ons in elk geval in sy kanon is en almal dus by voorbaat hulle kinders na Engelse skole toe moet stuur. Want emigreer hierdie geslag nie Kanada of Australië toe nie, sal die volgende geslag dit wel doen. Net ’n enkele geslag moet só grootgemaak word om Afrikaans sy finale nekslag te gee.
Ek is nie ’n waffers goeie Afrikaner nie. Ek kon te lank nie heeltemal met sy ideale identifiseer nie. Nie net oor apartheid nie. Ook oor die wangbaarde en die kruithorings. Ons was tot nou die dag toe nog soos ’n skare afgestorwe ooms en tantes wat af en toe almal gelyk tussen die droëperskes van ons solderkiste uitklim, Bloedrivier en die Boereoorlog oorbaklei en mekaar dan weer bewerig teen die trapleer op help die muwwe en veilige donkerte in.
Maar ’n mens hoef nie een van dáárdie Afrikaners te wees om die gevoel van geantisipeerde verlies soos pyn te ervaar nie. Afrikanerskap was vir baie van ons ’n ongemaklike baadjie om te dra, maar nie Afrikaans nie. Afrikaans was nooit net ’n uniform nie – dit was en bly ’n onderdak.
Ek kon miskien nooit tuis voel teen die hange van Monumentkoppie nie, maar ek het diep medelye met groot gedeeltes van die Afrikaner se geskiedenis. Dit was immers my mense met wie al die dinge gebeur het. Tot op ’n punt was nie alles wat met hulle gebeur het heeltemal mooi verplie nie. Daar moet ’n manier wees waarop ek en ander soos ek in Afrika kan voortbestaan en nog steeds een belangrike reg behou — nie ’n eie identiteit nie, want dit het ons nooit gehad nie. Net die reg om onbevange en sonder verbeelde bagasie en onverdiende stigmas Afrikaans te wees en Afrikaans te praat.
Die geluk by al die ongeluk is dat my taal nie meer in die hande is van die boelies van gister nie. Afrikaans is oplaas bevry en het dalk nou, ten spyte van al die moenies en miskiene, ’n beter kans op oorlewing as in 1948. Sy lot is uiteindelik byna uitsluitlik in die hande van sy sprekers.
Eerste publikasie: 2000
Bronadres: http://www.oulitnet.co.za/seminaar/22barnard.asp
The post Uit die LitNet-argief: Ik ben een Afrikaan appeared first on LitNet.