Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Groete vir Kersfees

$
0
0

Deur die verloop van tyd en die verwerking van gedagtes, het my gemoed sy eie lewenswyse vir die behandeling van ’n steurnis in die binneste ontwikkel. Wanneer daar ’n beklemming op die bors en gedagtes druk, dan sing my onderbewussyn. Musiek kom lukraak en ongesiens uit die niet te voorskyn en speel in melodie en woorde of soms net melodieë in my gedagtes. Sodra my mond en my hande stil raak, dan speel die musiek in my kop.

Die eerste week van ons jaarlikse vakansie is gewoonlik die moeilikste van die jaar. My hart wil rus, maar my verstand wil werk. My siel wil ontspan, maar my gemoed voel skuldig. Aangesien ek nie die geleerdste van mense is wat ek ken nie, mag hierdie verduideliking loodreg teen die kenners van die gene se bevindinge bots, maar ongeag daarvan; ek voel wat ek voel en weet dat dit moeilikheid meebring.
Die musiek speel juis die afgelope week in ’n kakofonie van klanke met liedere uit Kersfeesmusiek, Jan Blohm, Chris de Burgh en selfs Worsie Visser! Die stemme en klanke vloei soos ’n “tribute medley” op ’n Theuns-CD in mekaar…

Dis net vakansietyd, hier by my ouers, dat ek soggens koerant lees. Ma-hulle kry nog die braaipapier met droogte-, politiekesport-, roof- en moordstories op hul voorstoep afgelewer. Die koerant word selfs in ’n sakkie toegebind. Ek het altyd gedink dat dit is om die ding van die vroegoggend Weskusmis te beskerm, tot ek die inhoud van die papiermonster lees en besef dat dit eintlik is om niksvermoedende oningeligdes en klein kindertjies van daardie swaarmoedige inhoud te beskerm! En dit was juis daai inhoud, of dan ten minste gedeeltes daarvan, wat die beswaardheid in my gemoed gevoed en die musiek en lirieke laat toeneem het. Die gedagtes aan hierdie tyd van die jaar en die veronderstelde goeie gevoelens en wense van seën vir almal en elkeen wat dit nodig het, kom kuier net so dan en wan en die afwesigheid daaraan, laat my skuldig voel.

Dan sing Jan se “Sewejaar” in een oomblik, gevolg sommer deur “God Van Jakob “ wat daarna in my oor weerklink!

Terwyl ek vir die soveelste vroegoggend die son aan die oorkant van die pad, duskant die palmbome in Langebaan sien opkom, is dit die soveelste oggend wat daar trane agter my droë oë wil-wil opdam. Sonder oënskynlike rede en te midde van die rykdom van hier-wees.
Tot vanoggend…

Dis Kersfees en wat gee ’n mens vir hierdie mens/e as geskenk?
Wat kan enige iemand vir hierdie mens/e as geskenk gee, maar meer nog, geskenke wat vir hulle van waarde sal wees?

(Moeder sê altyd sy weet nie wát om vir my en die seuns te gee nie; ons het dan als.)

Laat ek verduidelik; moontlik meer vir myself as iemand anders …

Wat sal ’n gepaste geskenk vir die Peens-familie hierdie Kersfees wees? Hul boetie, jong seun en kleinkind was per ongeluk aan die verkeerde kant van ’n windbuks se patroontjie. Nou is hy dood. Hoe troos iemand sy jonger boetie wat die sneller getrek het met ‘n Kersgeskenk? Hoe vertel jy vir hom van die Koningskind se geboorte by sy boetie se oop graf?

Ek weet nie.

Wat sal die gepaste geskenk vir ’n landbouer wees wat oor ’n verdorde land dooie mieliestopsels sy seun se erfplaas in die soveelste stofstorms sien wegwaai? Die boer wat sy knieë in geloof vol eelte bid en sukkel om sy geswelde growwe hande saam te hou in die hoop op reën …

Ek weet nie.

Wat sal hierdie Kersfees die gepaste geskenk vir oom Frik van Heerden en Riaan Louw se mense wees? Die seders in hul gesinne is hier vars voor Kersfees tot hogere diens opgeroep; ’n roos is vir die Tuin gepluk ensovoort en so skryf die mense in hul simpatie-betuiging. Maar die werklikheid is: hoe vier ’n gesin Kersfees met ’n oop stoel? Hoe kyk hulle na sy plek aan die tafel, terwyl die boud gesny en geskep word?

Ek weet nie.

Wat sal sy ouers en skoonouers hierdie Kersfees vir die man en pa gee wat sy vrou en kinders onlangs koelbloedig doodgeskiet het? Kan hulle, en selfs ons, vir hom goeie wense vir Kersfees toewens? Of ook net die dood?

Ek weet nie.

“There are more questions than answers,” begin Johnny Nash se lied in my boonste musiekfabriek te speel … “and the more I find out the less I know …”

Ek sug, sit terug op die kombuisstoeltjie en terwyl Moeder kaalvoet met ’n wasgoedding verbystap en ons jong hond hier by my voete met haar eie sug neerplons, sing daar ’n Adam-lied op RSG wat vertel van … “vandag is dit weer Kersfees, daar’s hoop en vrede, al is dit net vandag …” en asof Hy tóg saamdink, -lees en -skryf begin ’n ander Jan vir my te sing …

“Maar te midde van al hierdie chaos wat ons glad nie meer kan keer
Weet my hart verseker: Hierdie Kind kom weer
En o ek glo. Ek glo dit gewis dat hierdie Kind die Redder is
En o ek glo. Ek glo dit gewis dat hierdie Kind ons hoop en redding is …”

The post Groete vir Kersfees appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>