In die gees van die tyd van die jaar hou ek maar by myself, pla en ontstig niemand nie. Ek raak effens bedroef en keer tot myself in. Raak nie uitspattig of oordadig nie. Ek is egter tot die wrede werklikheid van die landjie van ons se onderliggende probleem geruk, soos Jaco Fourie ook al van hierdie land geskryf het. Die grootse vloek in die land is die Blankes/wittes.
Ek luister Dinsdagoggend na die befaamde me Lynette Francis op die draadloos (RSG). Haar "gesprek" handel toe oor die holrug, uitgemergelde onderwerp van as ek reg onthou, om wit te wees. Sy het twee gaste wat aan die gesprek deelneem. Die dame se naam kan ek nie onthou nie maar die man wat daaraan deelgeneem het is 'n ene Albert Nothnagel. Die heer Nothnagel is 'n ambassadeur uit die vorige bedeling. Die dame is 'n akademikus met ellelange geskrifte en kwalifikasies agter haar naam.
Ek respekteer die mense se menings en sienswyses want elkeen het 'n reg om dit uit te spreek.
Wat my dronkslaan is die ontgogeldes wat baie gou ander mense wat nie dieselfde menings het nie veroordeel. Die "arme" Solidariteit en AfriForum moes onder die toorn van een van die gaste op die program deurloop. Selfs Media24 het pak gekry. Ek het in die trant van die dame se gesprek agtergekom dat sy ook selfs vir neef Jan, soos in Van Riebeeck die skuld wou gee omdat hy sy pote hier kom neersit het.
Ek weet wragtig waar nie van een menslike ras wat vir 'n ander om verskoning moes vra omdat hy anders gepigmenteerd is nie. Help my reg as ek verkeerd is. Ek is altyd oop vir oortuiging.
Die menere wat in die vorige bedeling lede van die staatsmasjinerie was en nou ewe skielik gemoedsbekakkings of berouensdiarree het, waarom het julle nie in die dae toe julle lekker knus in die kussings gesit het reeds met die bekering vorendag gekom nie? Ek weet hoekom, daar word vandag nog vir julle gesorg. Julle moet net die regte geluide maak en die trotse Blanke Afrikaner wat oor is, verkleineer en verguis. Ek wil net graag weet, wat moet ek 'n Europeër antwoord as hy my vra wat ek is. Is ek 'n Afrikaan, African, South African of "member of the human race". Ek is 'n trotse Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner. Ek is beslis nie 'n African nie.
Ek is boonop nog 'n vervloekte wit Afrikaner ook, leef daarmee saam. Ons kan askies vra tot die wederkoms, ons sal nie deur mense vergewe word dat ons wit is en in Afrika bly nie.
Ek het gewoonlik nie Nuwejaarsvoornemens nie. Hierdie jaar sal ek 'n uitsondering maak. Mag elke persoon net 'n gesindheidsverandering ondergaan en leef en laat leef in vrede, respek en liefde vir mekaar en ander rasse.
Reusedwerg
The post Om te wees of nie ... appeared first on LitNet.