Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Neem 'n boek aan vir Kersfees en word 'n "Vriend van NALN" in 2016

$
0
0

 

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein (foto: wikimedia)

Êrens in Bloemfontein in 'n ketelkelder onder in 'n historiese gebou met 'n kloktoring, in die historiese President Brandstraat agter Brand se standbeeld, is 'n boek met jóú naam op. Veral as jou beursie 'n bietjie plat is en jou Kersinkopielys so lank is soos 'n toiletrol.

Ek praat van die tydige heropening van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein se gewilde Boekemark so kort voor die Kersseisoen! Dis deesdae nie meer onder die NALN-toring geleë soos toe die boekverkoping nog as Die Toringmark bekendgestaan het nie, maar dit het verskuif na die ketelkelder van die gebou. Hier staan deesdae rye tweedehandse boeke trots in gelid, waar vrywilligerhande in Novembermaand genooi is om weeksdae te kom help om die boeke uit ongeveer 'n honderd kartondose se benouenis op te diep, te help sorteer en rakstaanplek te gee.

Mikro, Van Wyk Louw, Langenhoven ... al die meesters is dáár. Hulle het spesiaal vir die Kerskous en lang (lees)vakansie hulle beste stofomslae "aangetrek" en wag geduldig dat 'n bibliofiel met takserende kennersoë 'n hand sal uitsteek en hul vir die Kersseisoen sal aanneem teen die minimale prys van 'n koeldrank of twee op die prysetiket. As jy dalk wonder wat 'n "bibliofiel" is (veral aangesien alle woorde wat normaalweg op "-fiel" eindig, gewoonlik niks goeds voorspel nie): dis "iemand wat met boeke lol" – by wyse van spreke, natuurlik. Mense wat hulle hande letterlik nie van boeke kan afhou nie. Ou boeke, nuwe boeke, hardebandboeke, slapbandboeke, strokiesprentboeke, kinderboeke, tydskrifte en woordeboeke, noem maar op!

So, boekemens, haas jou onverwyld vir jou Kers- en Nuwejaarsinkopies na die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein om die beste tweedehandse boeke voor ander bibliofiele se neuse weg te raap. Draai jou nuwe boekevonds mooi in Kerspapier toe, besluit watter gelukkige familielid met 'n boekevriend gaan spog, en siedaar! 'n Besonderse kado'tjie wag vanjaar vir iemand onder die groen naaldboom. 'n Hartsgeskenk wat met jou siel praat en waaraan die geur van perkament nog kleef (anders as met e-boeke, wat met beurtkrag rekening moet hou). Ook 'n geskenk wat langer gaan hou as hedendaagse speelgoed, of elektronika ...

As jou vakansierit 'n uitgebreide Rosestaddraai insluit, wandel sommer hierdie Kersvakansie ook deur NALN self. In die hartjie van Suid-Afrika huisves Bloemfontein immers die omvangrykste Afrikaanse letterkundemuseum ter wêreld, kompleet met uitstallings van skrywers se herskepte werksruimtes en boekrakke met hul memorabilia. Die museum is die bewaarplek van 'n geraamde driekwartmiljoen items van die Afrikaanse letterkunde, musiek en toneel, kompleet met 'n navorsingsentrum en knipselversameling vir ernstige navorsers! Die Sesothomuseum word in dieselfde gebou gehuisves.

'n Verdere goeie Nuwejaarsvoorneme is om jouself op die letterkundefront te bemagtig deur sommer dadelik aan te sluit by die Vriende van NALN-vereniging deur 'n e-pos met jou besonderhede te stuur na Vriendevannaln@gmail.com. Jy sal dan via Facebook op hoogte bly van al NALN se nuwe programme, aanwinste en uitstallings in 2016!

The post Neem 'n boek aan vir Kersfees en word 'n "Vriend van NALN" in 2016 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>