Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke |
---|
• Dink twee keer voor jy appèl aanteken |
• Ceres se akkerbome |
• Die "kousale ketting" in strafsake |
• Diefstal van eie goed |
Onafdwingbare kontrakte: die contra bonos mores-reël
Dit is 'n algemene reël van ons reg dat ooreenkomste of kontrakte wat met die nodige erns gesluit is, afgedwing behoort te word. Hierdie reël word egter in 'n belangrike opsig gekwalifiseer: as 'n ooreenkoms die staat of die openbare belang skade kan aandoen, sal dit nie deur 'n hof afgedwing word nie.
Dit is nie moontlik om presies te sê waar die grense van sogenaamde "openbare beleid" lê nie, maar ons howe het deur die jare heen al geweier om sekere soorte kontrakte af te dwing – soos 'n ooreenkoms om 'n misdryf te pleeg; 'n bepaling in 'n kontrak wat een van die partye by voorbaat verbied om hof toe te gaan as iets met die uitvoering daarvan sou skeefloop; wanneer 'n skuldenaar 'n ooreenkoms met sy skuldeisers sluit om hulle byvoorbeeld vyftig sent in die rand te betaal, maar met een van hulle sluit hy stilletjies 'n ander ooreenkoms dat hy hom méér sal betaal. Nog 'n goeie voorbeeld van 'n onafdwingbare ooreenkoms is waar 'n erflater teenoor iemand – gewoonlik ‘n erfgenaam – onderneem dat hy nie voor sy dood sy testament sal wysig nie.
Gedurende 1926 het ene Harris van die Kaap aan sy jong minnares 'n bedrag van 'n duisend pond (R2 000) betaal as genoegdoening of vergoeding vir die feit dat hy haar verlei het. Harris was 'n getroude man en hy het die valse indruk by sy minnares gewek dat hy besig was om van sy vrou te skei. Hy het beloof om met haar te trou so gou die egskeiding agter die rug was, mits sy die duisend pond dadelik aan hom sou terugbetaal. Hy het ook onderneem dat as hy op die ou einde tog wel sou besluit om nie van sy vrou te skei nie, sy minnares haar duisend pond sou kry.
Harris het sy agterdeur gebruik en nie sy belofte om van sy vrou te skei, nagekom nie. Die digter William Congreve (1670–1729) het 'n onsterflike spreuk geskryf: "Heav’n has no rage, like love to hatred turn’d, nor hell a fury, like a woman scorn’d."[i]
Die twee koerduifies het in grommende katte verander: Die meisie het Harris gedagvaar vir die geld wat hy haar geskuld het. Hy, weer, het eksepsie aangeteken teen haar eis aangesien dit na sy oordeel nie 'n skuldoorsaak geopenbaar het nie. Sy verweer was dat die ooreenkoms tussen hulle sogenaamd contra bonos mores was, dit wil sê teen die openbare sedes en beleid.
Die saak het laat in 1927 voor regter Benjamin en Louwrens van die Hooggeregshof in Kaapstad gedien.[ii] Die hof het beslis dat die huwelik 'n heilige instelling is en as een van die partye 'n ooreenkoms met 'n buitestaander sou sluit wat die heiligheid van die huwelik sou skend, so 'n ooreenkoms sonder twyfel teen die openbare beleid – en dus ongeldig – sou wees.
Nou wat moes met die geld gebeur? Op daardie stadium was die reël nog dat waar geld betaal is ter uitvoering van 'n ongeldige kontrak, die skade sogenaamd gerus het waar dit val. Die masjinerie van ons howe was nie tot die beskikking van die verontregte party, die minnares, om haar geld terug te kry nie. Hierdie streng reël is later deur die Appèlhof verslap in gevalle waar gewone geregtigheid tussen mens en medemens dit vereis.[iii] Dit net terloops.
Oor mnr Harris se gedrag het die hof erg onvleiende opmerkings gemaak. Die regters het klaarblyklik simpatie met die jong, onervare dametjie gehad, maar die reg was duidelik: die kontrak wat sy met Harris gesluit het, was ongeldig en daarom onafdwingbaar, en aangesien hy die suksesvolle party was, moes sy boonop sy regskoste betaal.
Sy het seker te laat onthou wat die spreekwoord sê: as jy hout wil kap, moet jy weet dat die splinters gaan waai.
[i] The mourning bride (1697) – bedryf III, toneel VIII
[ii] Friedman v Harris 1928 CPD 43
[iii] Jajbhay v Cassim 1939 AD 537
The post Regsalmanak: Hy sou met haar trou, mits ... appeared first on LitNet.