Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Twintig-sestien

$
0
0

Die plek waar ek my dagtaak volvoer se deure het Vrydag reeds vir die vakansie gesluit. Vandag is dit Maandag en ek sit alleen in die koel kalmte van ’n stil kantoor om ’n laaste paar goeters en geite af te handel.

Een van hierdie lastige goeters is ’n voertuig se lisensie-hernuwing. Blykbaar het die mense met die hogere ampte êrens besluit dat die hernuwingskennisgewings vir November en Desember vanjaar nie gepos sal word nie.
Nee, as jou lisensie se hernuwingsdatum in hierdie twee maande val, dan moet jy en jou ID en bewys van adres by ’n toonbank by die munisipaliteit aanmeld om die hernuwing te doen. Of so hoor ek. Hulle sê ook nie vooraf hoeveel die affêre gaan kos nie; jy sal dit by die toonbank hoor!

En, dit geld nie net vir my nie; nee, dit geld vir honderde duisende ander mense ook. Vir my het dit egter gevoel en gelyk of hulle álmal by dieselfde kantoor as ek vanoggend aangemeld het!

So-by-so, nadat ek my kalmword-oefeninge bedink het, sit ek ook in die ry op die metaalstoele voor toonbanke een tot vyf en wag. Die ry is so lank, dit lyk asof die mislikepaliteit gratis Lotery-kaartjies uitdeel. Ons skuifel-skuifel ons agterstewes ’n stoel op ’n slag nader na die voorpunt van die ry en na slegs veertig minute, is dit my beurt. Die seun agter die toonbankglas maak nie meer oogkontak nie; hy neem die papiere wat ek saamgebring het en tik ’n slag op die rekenaar voor hom. Toe, steeds sonder om op te kyk, help hy my bloeddruk verby die kalmte-drempel tot op die rand van die helse gloed met die woorde: “ We need the company documents.”

Ek praat en beduie en vertel van die kantoor wat reeds op vakansie is, maar hy verseg daarmee dat die dokumente onvolledig is. Ek probeer ’n wyer en pragmatiese oorredingshoek en gryp selfs na die onbekwaamheid van die regering ... maar niks help nie.

Toe kyk hy eindelik op en sê: “ Sir, I’m just doing my job ... next please.”

Met die uitstap verby die ander toonbanke sien ek ’n duidelike inligtingsblad teen die muur wat al die vereistes vir hierdie hernuwing bevat. Inligting en dokumente wat ek sou kon saambring en die storie afhandel, indien ek dit eers gelees het.

Gister was kerkdag.

’n Oom en tante wat ek van sien ken en hulle seker vir my, wil verby my skuif om ook ’n sitplek op die bank te kry. Ek staan op en terwyl hy my groet, stel die oom hom sommer ook aan my voor.
Ek sê “dankie, maar ek weet wie oom is.”

“O,” sê hy terwyl hy met sy grys pak klere verby my skuif. Hy gaan sit hier neffens my en asof hy dringend ’n verskoning vir hierdie oorsig van êrens af moet uitgrawe, kon hy net met “dis maar die ouderdom wat mens laat vergeet” na vore. “Jy sal eendag sien wat ek bedoel; jy’s vinniger daar as wat jy dink.”

Terwyl die gemeente met die voorsang begin en ek sing sonder om aan die woorde van die lied te dink, draf daar ’n paar aweregse gedagtes deur my gemoed.

Die oom in sy ou Trustbank-pak en staatsdienskuif kon darem beter as dit gedoen het; verwens hy my omdat ek as middeljarige moontlik nog my volle denke tot my beskikking het, of waarsku hy my dat ek ook binnekort op sy deel van die kerkbank sal sit en wonder vanwaar ek die jongman langs my ken?

’n Kollega sê altyd dat ’n lukrake aanname nie kwansuis die regte opsomming van ’n gebeurtenis of situasie is nie. Dat ons aannames soms so deurspek is met die vooroordeel, dat dít wat ons sien en dít wat is, twee vreemde leeus se welpies is. ’n Resep vir kwaadaardigheid as jy my nou vra.

Twintig-vyftien skuur nou soos ’n pasgelande valskermspringer tot sy einde. Wanneer die kalenderjaar tot stilstand kom en die seil oor die nuwe jaar weggetrek word, dan sal sommige van ons die volgende dag betree asof ons onder ’n koma ontwaak het en nou die ganse wêreld in ’n nuwe lig wil sien en met ’n vars lus die sogenaamde nuwe jaar wil aanpak ...

Net om die sooibrand en ongesteldheid van die werklikheid van ons bestaan na die eerste week te ervaar ...

As ek behoorlik wou lees en luister, dan sou hierdie dag en gister vir my soveel meer aangenaam gewees het. Dan sou ek met die eerste probeerslag ’n lisensie gekry het en sou ek nie met die tweede wagslag (2-ure later) die einste toonbankklerk om verskoning vir my optrede moes vra nie. Sou my dag meer produktief gewees het en syne minder traumaties.

Dan sou ek die woorde van die voorsang kon inneem en sou ek Sy lofprysing en aanbidding werklik kon meeleef, in pleks daarvan om met ’n gemoedsbekakking te stoei.
“Skuus oom, jou hare lyk nie staatsdiensagtig nie, alhoewel die grys pak dit steeds nie vir my doen nie!”

Dit bring my by die wense vir myself vir twintig-sestien en die res van vandag ...

“myself, maak skoon jou kop,
maak oop jou oë,
luister vir jou hart
en vergeet van die datums in jou ID-boek.”

The post Twintig-sestien appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>