Lees ook: |
---|
• Nuusberig 1: Studentesimposium 2015, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein |
Ons verkeer in 'n tydvak waar al Afrikaans se gebruiksdomeine, ook in wetenskapsbeoefening, onder geweldige druk verkeer weens die voortdurende poging tot verskraling en inkorting van Afrikaans se funksionele status op verskeie hoëfunksieterreine. Daarom is 'n inisiatief soos hierdie Afrikaanse studentesimposium in die natuurwetenskappe wat by die Universiteit van die Vrystaat olv van Ernie Langner van die departement chemie, die SAAWK en kollegas van ander universiteite aangebied is, so belangrik, omdat wetenskaplikes en studente in die natuurwetenskappe bewus van Afrikaanse terminologie in hulle onderskeie vakgebiede en gesensiteer word vir die onus wat op hulle as toekomstige gebruikers van Afrikaanse terminologie rus om vakterme (dis nou woorde, woordgroepe en afkortings binne 'n bepaalde vak, wetenskap, of kuns) te ontwikkel. Dis was vir my as geesteswetenskaplike (taalkundige en leksikograaf) verrykend om 'n uitnodiging na 'n natuurwetenskaplike simposium te ontvang en ek was verras met die raakpunte, veral op terminologievlak, en multidissiplinêre samewerkingsmoontlikhede. Volgens Ernie Langner is dit verblydend om die groeiende getal anderstalige studente waar te neem wat vanjaar onderhoudende referate gelewer en hulle voordragplakkate bekendgestel het, alles in suiwer Afrikaans. Die studente was oorwegend afkomstig van die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van Pretoria, die Noordwes-Universiteit en UNISA, met verteenwoordigers van die SAAWK. Dit is egter belangrik dat die sprekers van 'n spesifieke moedertaal, wat aktief in sekere vakgebiede of op sekere terreine navorsing doen, terminologieskeppers by uitstek word. Daar bestaan 'n behoefte aan terminologie van die alledaagse (soos naaldwerkterminologielyste) tot op hoëfunksievlak (bv juridiese, mediese en natuurwetenskaplike vlak). Alleenlik dán sal 'n taal homself kan handhaaf en kan aanspraak maak op 'n volhoubare plek as onderrigmedium in onder andere sektore soos die hoër onderwys. Afrikaans en Engels is die twee landstale wat op die oomblik nog voldoen aan hierdie onderrigmediumvereistes, maar dit verg daaglikse taalbeplanningsaktiwiteite en arbeid op die dinamiese taalakker om Afrikaanse terminologie te skep vir nuwe uitvindsels, verouderde terme te snoei, of verandering van betekenisse te verreken. Dit is lofwaardige inisiatiewe soos hierdie Afrikaanse Natuurwetenskappesimposium wat Afrikaanse terminoloë en leksikograwe se oë laat blink.
Corlietha Swart
Dosent: Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans
Universiteit van die Vrystaat
The post Nuusberig 2: Studentesimposium in die Natuurwetenskappe by die Universiteit van die Vrystaat appeared first on LitNet.