Mense wat dink hulle kan lasterlike sms-boodskappe of haatspraak op sosiale media onder vals profiele die wêreld instuur en daarmee wegkom, kan hulle lelik misgis en hulle rieme in die hof styfloop. Internettrolle en vals outeurs laat spore wat deesdae met nuwe navorsing op die gebied van outeursidentifikasie maklik opgevolg kan word. Jean Oosthuizen het met ’n kenner, die linguis Ernst Kotzé, gesels oor hierdie studieveld en sy ervaring daarvan in Suid-Afrikaanse hofsake.
Lees ook op LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) meer oor outeuridentifikasie en ’n Forensies-taalkundige ondersoek na Afrikaanse SMS-taal
Ons leef in ’n elektroniese era van aanlyn forums, blogs, tekste op sosiale netwerke soos Facebook waar wagwoorde en gebruikersname dikwels misbruik word om namens iemand anders lasterlike of vals boodskappe die wêreld in te stuur. Met behoorlike outeursidentifikasie deur kenners is dit nie meer so maklik om daarmee weg te kom nie. Hoe gaan julle te werk om die ware outeur van geskrewe boodskappe te identifiseer?
Gewoonlik word misbruik van identiteit in sulke media mettertyd aan die lig gebring sonder dat ’n hofsaak noodwendig daaruit voortspruit, ook deur die gebruik van elektroniese opsporingsmetodes.
Om ’n outeur egter met behulp van ’n taalkundige ontleding te identifiseer, is dit nodig dat so ’n teks aan ’n verdagte (of meer as een) gekoppel word, en dat ’n vergelyking getref word tussen tekste wat positief met sulke verdagtes verbind kan word aan die een kant, en die betwiste teks aan die ander.
Is daar ’n lang teks nodig om trolle of vals outeurs te identifiseer of kan taalwetenskaplikes korter tekste soos SMS-boodskappe ook ontleed om te bepaal wie die skrywer daarvan is?
Die aard van ’n teks eerder as die lengte daarvan bepaal grotendeels die ontginningswaarde met die oog op identifisering. Anders as wat ’n mens moontlik sou verwag, is korter tekste wat informele taalgebruik bevat, dikwels van meer waarde as veel langer, formele tekste. Daar is twee redes: Die woordeskat en struktuur van formele tekste word meestal deur konvensie vasgelê en bied min moontlikhede om ’n eie stempel daarop af te druk.
Voorts is die verskil tussen inhoudswoorde (of leksikale woorde, om ’n taalkundige term te gebruik) en funksiewoorde (grammatikale woorde) belangrik by die identifisering van moontlike outeurs. Inhoudswoorde is veel prominenter en opsigteliker en kan ook gemanipuleer word. Daarby word die keuse van sulke woorde natuurlik deur die onderwerp onder bespreking bepaal.
Aan die ander kant lê grammatikale woorde onder die bewussynsvlak van die gebruiker en word daar ’n besliste, maar dan ook onbewuste voorkeur uitgeoefen by die keuse van hoe om bepaalde inhoude te formuleer.
Kan jy ’n voorbeeld noem?
Een voorbeeld is die geneigdheid by skrywers (en natuurlik ook sprekers) om bepaalde woorde in ’n teks saam te groepeer, as kollokasies, of wyer uit mekaar verspreid in ’n sin. Deur middel van ’n konkordansieprogram kan sulke groeperings maklik geïdentifiseer word, en dikwels blyk dit dat sulke groepe woorde uniek, of feitlik uniek, in tekste gebruik word. Dit kan byvoorbeeld vasgestel word deur gebruik te maak van groot taalgebruikskorpusse.
So mens kan nie sommer ’n anonieme SMS die wêreld instuur en dink niemand gaan ooit uitvind wie die outeur is nie?
SMS-taal kom redelik spontaan tot stand, soos byvoorbeeld met behulp van afkortings en die saamvoeging van letters en syfers, en ook hier kan voorkeure deur spesifieke gebruikers bepaal word. Getuienis uit SMS-taal word dikwels in samehang met ander leidrade gebruik. Dit was al deurslaggewend in ’n moordsaak in Brittanje waartydens die moordenaar sy slagoffer, ’n neëntienjarige meisie, se selfoon gebruik en teksboodskappe aan vriende van haar gestuur het.
Taalkenmerke in hierdie boodskappe het daartoe gelei dat ’n profiel van die sender saamgestel kon word wat geklop het met die taaleienskappe wat van een van die verdagtes bekend was. Saam met ander getuienis was die oorwig van getuienis so eenduidig dat die moordenaar vasgetrek kon word.
Wanneer mens iets skryf word daar dus spore gelaat wat die skrywer daarvan met die nodige kundigheid maklik kan ontmasker, selfs al word ’n skuilnaam of vals identiteit gebruik. Hoe gereeld gebeur dit in howe dat sulke vals identiteite deur taalwetenskaplikes ontmasker word om misdadigers vas te trek?
In die buiteland, en veral in Amerika, kom sulke gevalle meermale voor die hof. In Suid-Afrika is dit minder algemeen – waarskynlik omdat daar nie altyd besef word wat die waarde van ’n deskundige ontleding van tekste vir die identifisering van verdagtes is nie.
Is daar ook ander redes waarom dit minder gereeld hier voorkom en hoekom lees ons so min daarvan in die nuus?
Vermoedelik is ondersoekbeamptes en die vervolgingsgesag nie altyd bewus daarvan dat tekskenmerke belangrike leidrade kan bied om geskrifte aan die outeur te koppel nie.
Nog ’n rede waarom vals identiteite, of dan die identiteit van ’n onbekende outeur, nie so gereeld in die nuus is nie, is die feit dat, indien die getuienis verdoemend is, die saak nie in die hof beland nie en daar eerder ’n pleitooreenkoms bereik word.
Maar hoe waterdig is sulke getuienis?
Natuurlik bestaan die moontlikheid altyd dat die getuienis onvoldoende is om tot ’n geldige gevolgtrekking oor outeurskap te kom, of dat net ’n sekere waarskynlikheidsgraad aangetoon kan word. In laasgenoemde geval word linguistiese getuienis aanvullend tot (en tot versterking van) omstandigheids- en fisiese getuienis gebruik.
Forensiese wetenskap word reeds jare lank gebruik om die verdagtes van misdade vas te trek en skuldig of onskuldig te bewys. Dit sluit onder andere DNS-ontledings, vingerafdrukke en bloedvlekontledings in. Tot watter mate word handskrifontleding en outeursidentifikasie as deel van forensiese wetenskap beskou?
Omdat regspleging oor soveel lewensterreine strek, sal die aard van getuienis wat deur die hof oorweeg kan word, bepaal word deur die aard van die misdaad wat ondersoek word.
Ek reken nie dat daar streng gesproke van “forensiese wetenskap” as ’n omvattende vakgebied gepraat kan word nie, omdat die gemene deler die nut en funksie van getuienis voor die hof is, en ons eerder te doen het met forensiese toepassings van kundigheid uit verskillende vakgebiede.
’n Biochemikus wat ’n bloedontleding doen, pas sy of haar kundigheid in die biochemie toe op ’n probleem met forensiese implikasies. So kan ’n handskrifdeskundige met ’n deeglike opleiding (en daar is ook kwaksalwers op hierdie gebied) die grafiese neerslag van individue se skryfpatrone ontleed en op dié wyse die hof in staat stel om tot ’n bevinding te kom oor wie se hand die pen hanteer het.
En die linguistiek, wat ’n omvattende wetenskap in eie reg is, kan oor verskillende aspekte van taalgebruik forensies waardevolle getuienis lewer. As ons dus praat van forensiese linguistiek, is dit nie ’n dissipline in eie reg nie, maar ’n toepassingsgebied van die linguistiek deur die gebruikmaking van taalkundige insigte vir forensiese doeleindes.
Watter gewig dra taalwetenskaplikes se getuienis in ’n hof wanneer sulke sake ter sprake kom?
Daar is baie faktore wat die belangrikheid van taalkundige getuienis in die hof bepaal: As daar bo alle redelike twyfel bewys kan word, op grond van ’n geldige metodologie, dat ’n bevinding gemaak kan word, word sulke getuienis geredelik aanvaar.
Mens moet ook besef dat taalkundige faktore wat die resultaat van ’n geregtelike ondersoek kan bepaal, nie beperk is tot die identifisering van anonieme outeurs nie, maar ’n wye spektrum van forensiese toepassings bestryk: Handelsmerkdispute, die interpretasie van kontrakte, dubbelsinnigheid van wetstekste, haatspraak, die vasstelling van die talige herkoms van sprekers, foutiewe tolking in die hof, intimidasie van ondervraagdes deur taalgebruik, en dies meer.
Die gebruikmaking van die insigte van taalwetenskaplikes om uitsluitsel te kry oor sulke kwessies, en vele ander, kan daartoe lei dat uitsprake in baie gevalle deur sulke getuienis ondersteun kan word om ’n regverdige uitspraak te verseker.
In watter situasies sal dit nodig wees om ’n onbekende of anonieme outeur se identiteit aan die lig te bring? Ek neem aan dit sal seker van toepassing wees in die geval van dreigbriewe, afpersnotas en haatpos wat anoniem of onder skuilname of vals name gestuur word. Is daar nog voorbeelde?
Jy het aan die begin reeds die gebruik van ’n skuilnaam genoem, byvoorbeeld waar daar lasterlike bewerings gemaak word en die outeur agter ’n denkbeeldige of valse identiteit skuil – dikwels om ’n onskuldige geteikende te na te kom. Dit kan egter ook gebeur dat daar gepeuter word aan ’n testament, waar die teks byvoorbeeld beduidend afwyk van die styl van die werklike testateur. En ja, die ander gevalle verteenwoordig almal moontlike toepassings.
Net ’n bykomende opmerking oor die identiteit van anonieme outeurs: Aan die een kant kan insigte uit verskillende vakgebiede of dissiplines vir forensiese doeleindes ingespan word en is forensiese studies dus multidissiplinêr. Aan die ander kant kan een van die toepassings van die linguistiek vir forensiese doeleindes, naamlik outeursidentifikasie, op ’n verskeidenheid ander terreine gebruik word, terreine soos die letterkunde, waar daar sprake kan wees van die onregmatige toe-eiening van outeurskap (bv. nadoods) en plagiaat, of by die studie van die herkoms van Bybelse tekste. Ons het dus inderdaad met ’n veelfasettige saak te doen.
En seker ook by goed soos selfmoordbriewe en tekste wat moontlike plagiaat bevat waarvan daar onsekerheid is oor wie die werklike outeur is?
Ja.
Wat is die belangrikste faktore wat in ag geneem word om die outeur van sulke boodskappe te identifiseer?
’n Belangrike faktor by outeursidentifikasie is dat dit in die eerste plek nie gaan om die vasstel van ’n sogenaamde idiolek van die gebruiker nie, sodat een persoon uit ’n totale bevolking deur ’n hele stel gebruikspatrone geïdentifiseer kan word nie, maar dat daar gewoonlik ’n vergelyking tussen die taalkenmerke van een persoon in vergelyking met ’n ander getref word, of selfs net ter bevestiging van enkele kenmerke. Dit kan ’n uitsonderlik hoë frekwensie van bepaalde grammatikale woorde wees in vergelyking met ’n totale korpus, sekere kenmerkende afwykings van taalnorme, of, soos vroeër gesê, die voorkeur van bepaalde woorde in samehang met mekaar.
Dit is ’n baie gespesialiseerde studieveld. Hoe gevorderd is hierdie studieveld wat betref Afrikaanse tekste?
Studies wat oorsee en ook hier te lande gedoen word, is dikwels teoreties van aard, deurdat data kunsmatig uit bepaalde gebruikskontekste onttrek word, en daar dan gevolgtrekkings gemaak word oor outeurskap.
Hoewel sulke studies bydra tot metodologiese verfyning, is die uitdagings wat werklike hofsake bied en die oorweging van linguistiese data in samehang met ander getuieniskategorieë die waardevolste ontwikkelingsbasis vir die forensiese linguistiek as studieveld.
En hoe ver is daar op die studieveld gevorder wat Afrikaans betref?
Ongelukkig het die meeste hofsake waarby linguiste ingespan word in Suid-Afrika betrekking op Engelse gebruiksituasies en is studies oor Afrikaanse tekste nog hoofsaaklik teoreties van aard. Daar was onlangs wel ’n geval van beweerde taalafknouery deur ’n polisieoffisier wat ’n Zulusprekende fluitjieblaser, wat ’n basiese kennis van Gespreksafrikaans het, in hoogs formele Afrikaans blykbaar gedurende ’n dissiplinêre ondervraging tot oneffektiewe getuienislewering geïntimideer het en die aangeklaagde dus skotvry daarvan laat afkom het; maar die geleentheid om van sulke empiriese data gebruik te maak, is skaars.
Die kundigheid van linguiste is onafhanklik van taal, en ’n mens kan in enige taal wat jy magtig is, afhangende van jou insigte en vaardigheid in die betrokke taal, ’n beduidende bydrae lewer om agter die kap van die byl te kom.
Forensiese taalwetenskaplikes werk nie net met geskrewe teks nie maar ook met gesproke taal. Waarom is dit soms nodig om gesproke taal vir regsdoeleindes te analiseer?
In die geval wat ek so pas genoem het, was dit onder andere die taak van die forensiese linguis om die vaardigheidspeil in Afrikaans van die Zulu-getuie vas te stel, asook sy begripsvermoë om tegniese en formele regsterme te verstaan. Daarvoor was daar ’n klankopname met transkripsie beskikbaar en kon die gesproke taalgebruik dus deeglik ontleed word.
Dit is ook soms nodig om ’n ontleding te doen van die taalgebruik van ’n niemoedertalige ten einde vas te stel wat so ’n persoon se eerste taal is – dit kan gedoen word deur op te let na taalversteuringskenmerke soos aksent (taalkundig beskryf as fonologiese oordrag). Verder kan daar ook in gevalle van haatspraak in toesprake gewys word op retoriese kenmerke en liggaamstaal wat die pragmatiese interpretasie en ongeformuleerde emotiewe kommunikasie van die inhoud versterk.
Beteken dit dat forensiese taalwetenskaplikes ook ’n rol kan speel wanneer daar byvoorbeeld van tolke gebruik gemaak word om die regter of landdros presies te laat verstaan wat ’n getuie bedoel wanneer hy of sy in ’n hof getuig?
Inderdaad. Gebrekkige begrip van getolkte kommunikasie kan lei tot regsverydeling, intimidasie en ’n wanvoorstelling van die werklikheid. Die situasie word in Suid-Afika vererger deurdat daar dikwels nie tolke beskikbaar is (laat staan nog linguiste) wat die vereiste vaardigheidvlakke het in die taal waarin getuienis gelewer word nie.
Hoewel dit waarskynlik nie moontlik is om ’n omvattende oplossing vir hierdie probleem in die nabye toekoms te vind nie, sou daar myns insiens ’n begin gemaak kon word met kundiges in die tale wat die hoogste sprekersgetalle het (bv. Zulu, Afrikaans, Xhosa, Engels, Suid-Sotho, Tswana en Noord-Sotho).
Outeursidentifikasie gaan dus oor meer as ontleding van handskrif, nie waar nie? Dit gaan ook oor ander eienskappe rakende die linguistiese inhoud van tekste wat juridies van belang is. Kan jy ’n bietjie hierop uitbrei?
Hoewel ’n handskrifdeskundige dikwels ook die identifikasie van ’n outeur ten doel het, is die benadering van forensiese linguiste nie afgestem op die skrifbeeld van ’n teks nie, maar op die taalinhoud.
Die fisiese vorm van ’n dokument speel egter soms wel ’n rol, deurdat ’n bepaalde font in ’n betwiste dokument gebruik word wat ooreenstem met dié van ’n dokument wat gekoppel kan word aan die verdagte, en daar byvoorbeeld soortgelyke eienaardighede voorkom in beide tekste, soos konsekwente spasies voor ’n punt aan die einde van ’n sin.
Maar dit is inderdaad so dat die hooffokus van ’n linguis by outeursidentifikasie val op ’n stilometriese, of statistiese, ontleding van byvoorbeeld die frekwensie van veral grammatikale woorde in tekste wat vergelyk word, asook ’n stilistiese ontleding, waar ook ooreenkomste op leksikale vlak tussen sulke dokumente onder die loep kom.
Soos byvoorbeeld selfmoordbriewe, tekste wat moontlik plagiaat bevat, afpersingsbriewe en skuldbekentenisse?
Dit is alles voorbeelde van moontlike forensiese tekste, ja.
Hoe verskil forensiese linguistiek dan in kort van gewone handskrifontleding?
Handskrifdeskundiges, wat kom uit ’n lang tradisie van forensiese ontleding, ontleed die fisiese skrifbeeld van tekste wat met die hand geskryf is, en kan, soos ook ballistiese deskundiges, die voorgelegde getuienis aan ’n sistematiese ondersoek onderwerp en gevolgtrekkings maak oor die identiteit en profiel (soms ook gemoedstemming) van die outeur.
Die forensiese linguistiek, soos ek reeds vroeër in meer besonderhede gemeld het, het die visier op die taalaanbod van ’n teks, vorm sowel as inhoud, en onafhanklik daarvan of die teks met die hand of elektronies tot stand gekom het.
In dié opsig is daar wel ’n verskil in vertrekpunt, maar tog ook die moontlikheid van aanvullende bevindings, byvoorbeeld indien daar in die geval van geskrewe tekste, sê maar by die vervalsing van ’n testament, verskillende aanduidings is dat daar aan die oorspronklike formulering gepeuter is en ’n handtekening in bepaalde opsigte by twee weergawes verskil.
Outeuridentifikasie: ’n Forensies-taalkundige ondersoek na Afrikaanse SMS-taal
Lezandra Grundlingh "Die doel van die huidige navorsing was om te bepaal tot watter mate dit moontlik is om vas te stel of ’n spesifieke individu die outeur van ’n spesifieke, beperkte stel (Afrikaanse) SMS’e is." |
The post Tel jou woorde voor jy skryf appeared first on LitNet.