Loop maak 'n draai vandag by ons local slagpale. Die varke en beeste word letterlik soos in 'n worsstopper deur daardie deure gevoer. Lorrievragte vol en die krale is reg langsaan so die arme diere kan aanskou en luister hoe hul medeburgers, wel, in burgers omvorm word.
Buite sit 'n lelike vrou 'n polistireenbord vol gisteraand se vleis en pasta of dit kan ertappels ook wees en afwurg want dis haar teetyd en die ander wil dalk nie by haar sit nie so sy sit oppie muur alleen en kyk my snaaks aan toe ek vra waar die mense is. Wel, dit is dalk 'n dom vraag gewees, nè? Haar lelike groen-blou pantie steek by haar uitgewaste denim uit en ek vra myself wat de moer soek ek hier.
Ek het issues nie net met vuil panties nie maar met die slag van diere maar ek is self 'n al groter protesterende vleisvreter so ek is sekerlik nie by regte om te kritiseer nie.
Doen my navrae want die bloedreuk hang redelik swaar innie lug en ek hou sedert my poliesdae nie van enige bloed en nog minder van hoe dit ruik. Hier moet ek weg. Al is alles binne skoner as die deursnee huisvrou se skottelgoed en koud en klinies met die reuk van bloed.
Buite gekom sien ek die groot Rooipitjies en ek droom hoe ek met my kettingsaag sal invaar want dis kwaliteit hout hierdie en die donnerse Akasias is besig om ons hele land oor te neem.
En toe tref die stilte my.
Geen voel nie. Geen klank buiten die af-en-toe geluid van 'n motor ver-af op die grootpad nie. Dis asof selfs die geveerdes ver weg bly van hierdie doodsplek.
Verder af innie pad hoor ek later die klank van varke wat ek hoop, besig is om te vreet of te probeer vermeerder. Al vermoed ek dit was 'n laaste wanhoopskreet om hulp.
Ek ry selfverondskuldigend (is ons nie maar almal so nie?) weg met die vaste ideaal om steeds nooit ooit in my lewe varkvleis te vreet nie ... of te eet nie.
oester
The post Moordplaas appeared first on LitNet.