Anna De Beer is die huismoeder van Aandblom tehuis vir bejaardes. Al staan sy nie terug vir uitdagings nie, voel sy maar by tye soos ’n man van 12 ambagte en 13 ongelukke. Veral nou met die afgelope week se debakel oor die TV-remote.
Gladys Hanelia Gelderblom is een van Aandblom se inwonerse. Oud, maar nog glad nie koud, vind sy voortdurig maniere om haarself te vermaak.
Die Mpumalanga sonopkoms was die inspirasie vir tuisbly-ma en entrepeneur, Jeanet Dreyer, se plaaslike skoonheidsreeks, "Jeanet Se Quoi".
Dis 30 jaar later en Tania is steeds ongetroud, maar elke Vrydagaand trek sy haar mooiste rok aan en ry met Mammie se karretjie van Kraaifontein af deur na haar ou studentedorp, Stellenbosch, met die hoop om ’n man te vang.
Michellé is die ma van 13-jarige sangsensasie, Caché. Die nuwe album Net Caché is pas vrygestel en Mamma Michellé verkondig die woord via sosiale media.
Amanda is ’n aktrise en ’n ewige optimis. Sy droom van sepiester en TV-aanbieder wees, maar sodra die kamera begin rol, raak haar senuwees op hol.
Ses vroue. Afrikaans. Elk op haar eie manier uniek verteenwoordigend van die Afrikaner-vrou. In haar eerste eenvroukomedie blaas Esther Von Waltsleben lewe in ’n rits rustelose karakters wat jou hardop sal laat lag. Marion Holm het die regie behartig.
O my goeie volk met Esther von Waltsleben by Die Boer-restaurantteater in Durbanville op Woensdag 6 September om 20:30.
Kaartjies kos R110 en is beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com.
The post O my goeie volk by Die Boer appeared first on LitNet.