Regie: Roberta Durrant
Draaiboek: Margaret Goldsmid en Kaye Ann Williams
Met: Crystal-Donna Roberts, Armand Aucamp, Ernest St Clair, Jacques Bessenger, Deon Lotz, Brendon Daniels, Roeline Daneel, Marcel van Heerden
Dit is vir my ’n reuse-uitdaging om ’n resensie oor hierdie rolprent te skryf. Die rede is dat ek bitter graag meer rolprente wil sien oor Suid-Afrikaanse historiese figure en gebeurtenisse (al moet dit oor apartheid gaan), maar hierdie rolprent was so vol gepak met polities-gelaaide uitsprake en temas dat dit die idee skep dat ’n mens skuldig moet voel in plaas van om van Krotoa en haar besonderse lewe kennis te neem.
Kortliks oor Krotoa (± 1643–1674): Krotoa was ’n Khoi-meisie (van die Goringhaikona of Strandloper-gemeenskap) wat in Jan van Riebeeck, kommandeur (en later goewerneur van die Kaap de Goede Hoop) van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), se huishouding in die Fort van de Goede Hoop gewerk het. Sy het beide Nederlands en Portugees onder die knie gekry en het gedurende haar verblyf in die fort as Eva bekend gestaan. Sy het ook die kultuur en godsdiens van haar VOC-werkgewers aangeleer en sodoende ’n ware staatmaker vir Van Riebeeck geword wanneer hy namens die VOC goeie verhoudinge met die Khoi-gemeenskappe moes onderhou. Haar veeltaligheid het baie gehelp met die bedinging en die aanvaarding van die beëindiging van die Eerste Khoi-Nederlandse Oorlog in 1659. Sy het later, op 26 April 1664, met dr Pieter van Meerhof getrou nadat sy in 1662 gedoop is. Krotoa is dus gesien as ’n Christen.
Dit moet gestel word dat die VOC nie teen totale kultuurassimilasie met die Khoi-gemeenskappe gekant was nie, maar dit het natuurlik nie beteken dat elke werknemer van die VOC assimilasie met die Khoi ondersteun het nie.
Toe haar man die bevelvoerder geword het van Robbeneiland, wat gebruik is om gevangenes aan te hou (onder andere Krotoa se oom, Autshumato, beter bekend as Harry die Strandloper), het Krotoa haar man saam met hul drie kinders na die eiland vergesel. Van Meerhof sneuwel by Antogilbaai in Madagaskar in 1668 en los Krotoa as weduwee alleen om na hul kinders om te sien. Sy verlaat toe Robbeneiland en vaar terug na die VOC-nedersetting in Tafelbaai, waar sy weer dieselfde behandeling geniet het as enige Nederlandse dame, maar sy het gesukkel om kop bo water te hou. Haar verslaafheid aan alkohol en haar dienste as prostituut het haar later in die tronk of op Robbeneiland laat beland. Sy is op 29 Julie 1674 op die ouderdom van 32 oorlede. ’n Merkwaardige lewe wat so tragies geëindig het. ’n Lewe wat rolprentvervaardigers geïnspireer het om haar lewe aan oud en jonk te vertoon.
Maar vertoon hierdie rolprent die reine waarheid oor Krotoa?
Kritici uit verskillende oorde het al hul gevoelens en indrukke oor hierdie rolprent duidelik gemaak en die rolprent het waaragtig verskillende pynlike debatte na hoër vlakke van intensie geneem. Kritici het al genoem hoe die kostuums, die storielyn en die akteurs en aktrises hul goedkeuring wegdra of nie.
Kom ons kyk na enkele uitbeeldings en bepaal of dit regtig as histories korrek gesien kan word.
Autshumato en Krotoa beklemtoon beide prontuit in opeenvolgende gedeeltes dat die VOC “land gesteel” het. Krotoa sê selfs, terwyl sy vertoon word as sou sy onder die invloed van sterk drank wees, dat die Nederlanders die land “verkrag het”. Die feit dat Krotoa erg gesukkel het met haar verslaafheid betwyfel ek glad nie. Dat sy in die geselskap van senior VOC amptenare begin skel en skree het oor die “verkragting en steel van land” laat my wenkbrou lig. Ek hoef seker nie te veel te skryf oor die brandpunt van grondeienaarskap in ons teenswoordige nasionale debatte nie, en dit is waarom ek regtig wonder of dit nodig was vir die draaiboekskrywers om hierdie punt in te sluit. Maar hulle het, en dit was vir die doel, soos Kaye Ann Williams in ’n vorige onderhoud verduidelik het, om debat aan te spoor.
Williams stel dit duidelik, in dieselfde onderhoud, dat hulle (die vervaardiger en draaiboekskrywers) ’n negatiewe reaksie van plaaslike gehore verwag het ten opsigte van hoe Jan van Riebeeck uitgebeeld word. Dit kan nie wees omdat Armand Aucamp die rol vertolk nie. Mijnheer Aucamp pas mooi in die rol van Jan van Riebeeck – ek hoop die kêrel kan ’n tweede keer die rol vertolk in ’n biografiese film oor die lewe van Jan van Riebeeck. In ’n akkurate weergawe natuurlik. Akkuraat veral omdat ek nie oortuig is dat van Riebeeck Krotoa verkrag het nie. Nog minder dat hy kamstig verlief was op haar. Ek dink die negatiewe reaksie wat die draaiboekskrywers verwag het, spruit dalk uit die uitbeelding van hoe van Riebeeck Krotoa in laasgenoemde se kamertjie in die fort teen ’n muur forseer en haar dan verkrag. Haar swangerskap en latere miskraam bou aan die misnoeë wat ek het oor hierdie uitbeelding wat vir my maar baie na ’n onwerklikheid lyk. Arme Van Riebeeck. As dit nie die Staatshoof is wat hom blameer vir teenswoordige dilemmas nie, kryt spesifieke filmmakers hom as ’n verkragter en lafaard uit. Dit sou heelwat beter gewees het om Van Riebeeck uit te beeld as ’n obsessiewe werker van die VOC wat net sy reputasie in die maatskappy wou verbeter nadat hy in Nederland verbrou het. Dit word beweer dat Van Riebeeck aan korrupsie skuldig bevind was en dat die VOC hom daarom na die Kaap gestuur het nadat hulle die bemanning van die gestrande Haerlem se verslag oor ’n handelstasie by Tafelbaai ernstig oorweeg het. As Van Riebeeck uitgebeeld was as ’n “geen-nonsens”-amptenaar wat glad nie enige regulasie sou wou oortree nie, dan sou ek goedkeuring oor sy uitbeelding uitgespreek het.
Ek doen dit wel met die uitbeelding van Krotoa en haar huwelik met Van Meerhof, ’n Deense dokter en avontuurlustige wat vir die VOC gewerk het. Aan die einde van die rolprent word dit genoem dat die Van Meerhofs die eerste paartjie was wat oor die rasskeidslyn “getrap” het en toe in die eg verbind was. Nou as ek ’n lid van die Nasionale Party was, veral in 1948, sou ek seker my fliek kaartjie opgeskeur het en ’n vloermoer iewers gaan gooi het! Maar dit is nie 1948 nie en ek is nie deel van die oud-NP wat ’n probleem gehad het met rassevermenging nie – veral nie in die 17de eeu toe die VOC die enigste blankegemeenskap was wat met die Khoi-gemeenskappe kon handel, trou en oor kultuursake kon gesels nie. Nou maar goed, die vervaardigers lê nie te veel klem daarop nie, benewens die epiloog aan die einde van die rolprent waar dit vertoon word dat Krotoa se afstammelinge Jan Smuts, Paul Kruger en FW de Klerk insluit. Ek sal bitter graag die bewyse wil sien om hierdie stelling te kan maak. Nie dat dit my pla as dit wel so is nie, maar hoekom spesifiek Krotoa en nie ’n ander dame uit die Khoi-gemeenskappe met wie VOC-amptenare en enige ander Vryburger ’n verhouding, en selfs ’n huwelik, gevorm het nie? Het ons die DNS van sowel Krotoa as die drie staatsmanne soos hier bo gelys sodat die publiek ten volle kan weet dat Krotoa ’n grootmoeder van Slim Jannie, oom Paul en FW is? Ek brand om te weet.
Mens wil ook nie net hamer op wat onakkuraat lyk nie. Alhoewel ander kritici hul kwessies al geuiter het oor die Khoi se matjieshuise en hoe die fort lyk, wil ek glad nie ’n negatiewe punt daaroor lug nie. Inteendeel, ek was weer gelukkig met hoe die Khoi-nedersetting gelyk het met die verskillende matjieshuise so naby aan die strand en hoe dit mooi die punt van geselligheid tussen die mense van Krotoa se gemeenskap uitgebeeld het. Ek wil natuurlik ook glo dat die Fort van de Goede Hoop se ontwerp behoorlik nagevors was en volgens historiese sketse vir die vervaardiging van hierdie rolprent gebou was. Ek voel soos ’n vis buite die water met hierdie punt, maar ek was onder die indruk dat die beeskrale binne-in die fort was sodat die VOC se trop vee snags beskerm sou wees. Dit beteken dat enige vee wel gesteel kon word gedurende die dag wanneer die trop beeste buite die fort gaan wei het. Ek was ook onder die indruk dat die fort se mure nie uit steen gebou was nie, maar dat dit bestaan het uit mure van lae vasgedrukte grond, met houtplanke, wat die wonings en ander strukture binne-in moes beskerm. Die hele rede waarom die Kasteel van de Goede Hoop uit klip gebou was, was dat die fort se grond-en-plank-mure so baie frustrasie opgelewer het. Met elke reënbui – en die Kaap is mos bekend daarvoor gedurende die wintermaande – het die fort se mure weggespoel. Die eerste tien jaar van VOC-beheer in Tafelbaai was om te bepaal of Nederlanders vir die lang termyn hul stasie daar kon onderhou. ’n Struktuur wat moes dien vir die kort termyn, was alleenlik nodig totdat die besluit verander is om permanent in die Kaap van de Goede Hoop aan te bly, vandaar die bou van die kasteel wat in 1666 voltooi is.
Maar dit is klein dingetjies wat pla, of muggiesiftery soos wat ek nou die dag geleer het. Maak dit nou regtig saak dat die VOC-vlag dalk nie korrek was soos uitgebeeld met Van Riebeeck se beleerde besoek aan Autshumato by laasgenoemde se tuiste nie? Presisie, lees ek, en was aan my verduidelik, is nodig, en mens moet daarna streef. Indien so, sou ek nie ’n VOC-vlag gebaseer op die Prinse-vlag laat maak het vir die film nie, maar liewer een gebaseer op die Nederlandse rooi, wit en blou vlag met die VOC-monogram op die wit streep. Ek sou ook die 1659 Khoi-Nederlandse oorlog ingebring het as ’n draaipunt in die rolprent sodat Krotoa se belangrikheid as tolk onder die mense met wie sy gepraat het (hetsy die VOC of die Khoi-gemeenskappe) behoorlik kon uitstaan. Die uitbeelding van die oorlog sou die spanningslyn sterker onderhou het as die moord op twee VOC-nagwagte.
Krotoa as film lewer wel bewys dat Suid-Afrika verdere geld aan biografiese en historiese films kan, en moet, bestee, net soos wat die Nederlanders gemaak het met Michiel de Ruyter en die Duitsers met die films wat uit die Constantin-produksiehuis kom. Daar is hope stories om van te kies, maar draaiboekskrywers en filmvervaardigers moet nie skuil agter die woorde “geïnspireer deur historiese gebeurtenisse” nie. Ek is oortuig dat dit moontlik is om ’n hoë vlak van akkuraatheid van historiese gebeurtenisse uit te beeld binne die kunsgenre van drama. Die argument dat ’n historiese drama nie ’n dokumentêr is nie en die vervaardigers dus ’n bepaalde vryheid gee om vir dramatiese doeleindes die verlede effens te verdraai is ’n gevaarlike en, mag ek sê, waansinnige argument. Dink mooi voordat jy daardie argument aanvaar. Met die moontlikheid dat al hoe minder mense historiese werke sal lees, gaan die uitbeeldings in ’n rolprent die historiese indrukke en algemene kennis van ’n gehoor skep. Indien daar onakkurate feite aangebied word as die waarheid, kan dit lei tot aantygings van kondisionering en selfs indoktrinering. Dink net oor die moontlikhede van die teenoorgestelde uitkoms, waar vervaardigers en draaiboekskrywers gemik het vir ’n hoë akkuraatheidsvlak in die drama wat geskep is deur middel van hulp wat verkry is deur die kennis van historici wat in die ruimtes van universiteite en erfenisinstansies skuil. Rolprente het reeds die mag om histories korrekte feite, stellings en vertolkings aan die publiek te lewer, ’n mag wat in die toekoms gaan vergroot, wat die publiek kan gebruik vir hul eie algemene kennis en belangstellings. As die televisiefilms uit die 1980’s oor Afrikaner-nasionalistiese figure soos Jopie Fourie, Koos de la Rey en Danie Theron dit kon doen, dan vir seker kan die filmbedryf dit nou ook doen. Dieselfde argument geld vir die historiese minireekse wat Amerikaanse en Britse vervaardigers gemaak het oor historiese figure soos John Adams (gebaseer op David McCullough se Pulitzer-prys-bekroonde biografie) en Ancient Rome: The rise and fall of an empire (soos vervaardig deur die BBC met die hulp van deskundiges oor Antieke Rome).
Krotoa se draaiboekskrywers en vervaardigers het wel die hulp van historici ingeroep. Krotoa se historiese inligting kom uit ’n dokumentêr wat oor haar gemaak was deur Roberta Durrant wat ook hierdie rolprent se regie behartig het. In die krediete van Krotoa word daar egter net verwys na ’n geskiedenisnavorsingsassistent en ’n enkele museum wat oor Khoi-geskiedenis handel (of oor Suid-Afrikaanse “eerste mense” soos wat daar in die naam pryk). Goed. Die historiese invloed was daar om die storielyn aan te help en om die wêreld waarin Krotoa probeer oorleef het, so akkuraat as moontlik uit te beeld. Ek kon die vrugte van daardie invloed sien en is innig dankbaar daarvoor. Maar die enkele punte wat wel pla, soos hier bo na verwys, laat my nie toe om die prys van historiese korrektheid aan die film toe te ken nie. Dit sou dalk kon gewees het as die oogpunt van die rolprent nie sterk deur die waarskynlike agenda van die draaiboekskrywers beïnvloed was nie: bedoelende die ignorering van vroulike verskilmakers in die Suid-Afrikaanse verlede deur historici (omdat historici meestal mans was wat vrouens om selfsugtige redes uit die geskiedenis probeer skryf of net geïgnoreer het – ’n aanname wat nie op goeie grond staan nie, veral as ek die werke van teenswoordige “gender”-historici moet oorweeg) en dat die storie van Krotoa belangrike debatte verder moet ontketen oor grondregte en rassevermenging. As dit die werklike oogpunte is – soos wat mens van die film en gepubliseerde onderhoude kan aflei – dan is dit moontlik dat die ware essensie van Krotoa se lewe in die Kaap met die VOC en die Khoi-gemeenskappe nie deur elke kyker waardeer sal word nie. Krotoa was meer as net ’n diensmeisie in die fort wat vinnig die kultuur, geloof en taal van haar VOC-werkgewers moes snap. Sy was ’n staatmaker op wie die VOC kon reken om behoorlik die bepaling van vreedsame naasbestaan met die bevolkingsgroepe aan die Kaap te bewerkstellig, soos wat die Heeren XVII amptelik aan van Riebeeck aangedui het hy moes doen. Krotoa was ’n tussenganger wat seker die verstandigste mens in die Kaap was gedurende die middel-17de eeu. As vrou van dr Van Meerhof wat haar man se Wes-Europese kultuur nagevolg het, kon sy bo ander Khoi- en Batawiese diensknegte uitstyg en deel word van ’n binnekring van mag wat konflik of samewerking tot gevolg kon hê. Hierdie punt word kortliks uitgebeeld soos wat Autshumato en Jan van Riebeeck met mekaar onderhandel en Krotoa advies aan beide moet gee.
Die film wys ook dat alles tot ’n einde moet kom. Toe die nuwe goewerneur, Zacharias Wagenaar, wat by Van Riebeeck oorgeneem het omdat Van Riebeeck aan die VOC bewys het dat hy ’n handelstasie kan bestuur en wins vir hulle kan lewer, het die rassespanning vermeerder. Wagenaar word steeds gesien as ’n strawwe en dissiplinerende goewerneur wat geen waansinnige gedrag geduld het nie. Sy reaksie op Krotoa se gedrag tydens sy dinee maak dus sin.
Die hoofvraag is: Is hierdie film histories korrek? My antwoord sal wees: “Nee, nie alles wat uitgebeeld of gesê word in hierdie rolprent is histories korrek nie.” As dit ’n geskiedenisopstel was wat ek moes modereer, sou ek vir die student so 60% gegee het en aangeraai het om sy Van Jaarsveld-, Godée Molsbergen- en Bloem-kopieë af te stof wat nuwe insigte kan gee oor hoe die VOC aan die Kaap hul besigheid gedurende Van Riebeeck en Wagenaar se tydperke hanteer het; en natuurlik met wie hulle verhoudinge opgebou het.
Dit beteken glad nie dat hierdie rolprent nie die moeite werd is om te kyk nie. Inteendeel, ek hoop dat hierdie rolprent gesien sal word as ’n stap in die regte rigting om meer historiese temas vir die silwerskerm, en selfs vir televisie, te vervaardig. Ek hoop dat hierdie rolprent oor Krotoa wel ’n aansporing sal wees vir vervaardigers en maatskappye wat produksies kan befonds om te erken dat gehore nie histories-gebaseerde rolprente sommer sal verafsku nie – veral nie as dit ’n hoë vlak van akkuraatheid het nie! Krotoa is hopelik die klippie wat die rimpeleffek vir ander komende histories-gebaseerde rolprente sal bied.
The post Krotoa: uit ’n historiese oogpunt appeared first on LitNet.