DEURnis is ’n een-tot-een-, plekspesifieke teaterproduksie met ’n intieme en eksperimentele benadering. Hierdie teaterervaring is besonders en grensverskuiwend, omdat dit met slegs een akteur en een gehoorlid opgevoer word. Liné Enslin gesels met Henque Heymans oor die drie tekste wat hy geskryf het as deel van hierdie reeks, elk vir ’n spesifieke kamer in ’n huis.
Hallo, Henque. Wat behels DEURnis en wat maak dit anders as ander teaterervarings?
Dag Liné. Ons is seker dat mense sal aflei dat die titel DEURnis ’n amalgamasie van “deur” en “deernis” is. As sulks behels DEURnis as ’n teaterstuk beide van hierdie konsepte deurdat een persoon ’n deur binnegaan en dan ’n ervaring beleef waar ’n enkele akteur ’n stuk met deernis vertolk. So ver ons navorsing strek, is DEURnis die eerste van sy soort in ons land en so ook in Afrikaans. En anders as ander teaterervarings, waar jy gemaklik verlore raak in die gehoor en absolute anonimiteit geniet, word jy hier ’n karakter. Sonder om ’n woord te uiter besef jy wie jy as gehoor “speel” en bevind jy jou in iemand anders se skoene. Jy beleef dus die storie (gedeeltelik) sonder jou eie vooroordeel, maar eerder as die tweede karakter waarvan wie jy deur die loop van die spel meer uitvind.
Hoekom het jy besluit om by DEURnis betrokke te raak? Was daar iets omtrent die aard van hierdie teatervorm wat jou aangegryp het?
Ek was in 2016 besig om ’n een-vrou-stuk te skryf vir ’n vriendin toe ons vir Johan van der Merwe nader vir idees. Hy en Johann Smith was toe al ’n ruk op soek na ’n manier om een-tot-een-teater in Suid-Afrika te begin. Ons stig toe DEURnis. Ek moet bieg dat die realiteit van befondsing my eers laat huiwer het, maar begin toe skryf aan NAT. Ek was skaars halfpad met die teks toe ek besef wat ’n wonderlike krag in een-tot-een-teater lê. In geen ander medium is die gehoor so pletbaar nie. Sonder om iets van die kyker te verwag kan ek as skrywer vir hom ’n verlede gee, vir hom dade gee waarvoor hy moet jammer wees, of op trots kan wees. Dit, meer as enigiets anders, is die gogga wat my gebyt het ... en ek’s nie seker ek wil hê hy moet los nie.
Vertel asseblief bietjie meer van die drie tekste wat jy geskryf het.
Ek het altesaam reeds vyf tekste vir DEURnis geskryf, hoewel in hierdie speelvak daar drie van my tekste gekeur is: Koud, Rou en Anders.
Koud handel oor die babas wat ons as samelewing met die badwater uitgooi. Dis ’n kyk na liefde wat sterf, nie omdat daar probleme is, of omdat die liefde verdwyn het nie, maar uit vrees vir wat die samelewing daaraan sou doen sou dit openbaar word, want in hierdie geval is dit verbode liefde, volgens wet altans.
Rou, effe donker, kyk na die mensehandelbedryf. Ons ontmoet ’n jong seksslaaf wat al lankal hoop verloor het, sy trots gesluk het en sy lot aanvaar het. Sonder om iets te verklap, kan ek slegs sê dat die gehoor nie onskuldig is in die karakter se leed nie.
Anders is ... wel, anders. Geïnspireer deur ’n Franse film, La Fée, het ek probeer kyk na hoe en wat een persoon anders maak as enige ander persoon. Ek’t toe my kop verloor en daar is Fanie gebore. Fanie is ’n feetjie. Of hy dink hy is ... of verbeel hom hy is, of dalk is hy regtig? Dis vir die gehoor om finaal oor te besluit, maar hy’s daar om vir jou drie wense te bring, en hoop om sodoende ook net tyd saam iemand te spandeer, en te voel hy behoort iewers.
Wat wil jy graag met jou teks bereik? Waarmee moet die kyker na die tyd wegstap?
My doel was nog altyd dat die gehoor wegstap met ’n ander perspektief. Ek is nie daar om te preek oor dinge waaroor ek sterk voel nie en wil niks in enigiemand se keelgat af druk nie. DEURnis leen hom daartoe om ’n kyker te verwyder van dit wat hy gedink het oor ’n sekere kwessie, en net sy perspektief te verskuif, vir ’n oomblik. As hy uitstap en nog steeds dieselfde voel oor ’n saak, is dit nou ’n beter-ingeligte siening. Sou hy uitstap en anders voel, great, maar dis nie my doel nie. Al wat ek wil hê, is dat kykers albei kante van ’n betrokke muntstuk objektief moet bestudeer, en natuurlik hulself geniet ook. ’n Traan of twee het niemand nog ooit skade aangerig nie.
Is die emosionele lading van die verskillende stukke min of meer gelyk? Hoe skakel die dele wat jy geskryf het met die ander skrywers s’n? Is die verskillende pakkette wat beskikbaar is op ’n spesifieke wyse saamgestel dat dit met mekaar skakel of om die kyker bloot te stel aan uiteenlopende temas?
Emosionele lading verskil nie noodwendig in intensiteit nie, maar definitief in die tipe emosie. Ons het probeer om die pakkette so te struktureer dat ons die kyker nie galg toe jaag na een pakket en malhuis toe na ’n ander nie. So daar’s iets van alles in elke pakket, ’n bietjie lag, ’n bietjie traan en ’n bietjie dink. Ons as skrywers praat gewoonlik vooraf oor die konsepte waaraan ons werk, die rigting van die stukke en trant wat ons beoog, so dit help baie met die balans as dit kom by tekste kies vir ’n speelvak. Die stukke het niks met mekaar te doen in die sin van karakters of storie nie, so mens het nie nodig om een stuk te sien om ’n ander te waardeer nie. Die temas is wel saam gegroepeer in pakkette om mekaar en die balans van die pakket te ondersteun. Ons is per slot van rekening teatermense, en wil die kyker so veel as moontlik bied in ruil vir sy kaartjiegeld.
Verteenwoordig die vertrekke in ’n huis vir jou verskillende gevoelswaardes? En dink jy die gebruik van ’n ruimte wat vir die meeste mense ’n mate van intimiteit het, dra by tot die trefkrag van die toneel?
Definitief, on both counts. Dis die voordeel van plekspesifieke teater. Enigiemand wat al per ongeluk (of dalk aspris) in ’n badkamer saam met ’n vreemdeling was, sal vir jou kan verduidelik dat daar dadelik ’n ongemaklikheid is. So ook iemand wat genooi word om op ’n vreemdeling se bed te kom sit, agter ’n toe deur. Dis juis dít wat plekspesifieke teater so opwindend maak, en as skrywers probeer ons om daardie gevoel te gebruik. Die akteurs speel ook heerlik daarmee, veral as mens in gedagte hou dat elke persoon se ongemak op ’n ander manier manifesteer. Die ruimte raak (insluitend die gehoor) ’n derde karakter, en op geen manier kan mens dit beter ontgin as in een-tot-een-teater nie. Ons het in ’n vorige speelvak ’n stuk gehad waar die kyker by ’n vertrek instap en besef hy’s daarheen genooi deur ’n “hook-up” webtuiste. Die ongemak wat mens sou beleef in so ’n situasie is dus reeds daar, nog voor die akteur ’n woord kon sê, wat die hele belewenis net soveel meer werklik maak. Geen tradisionele teaterproduksie kan jou instinktiewe gevoelens so uitlok soos een-tot-een plekspesifieke teater nie en ons is trots om daardie belewenis aan Suid-Afrikaanse gehore te bied.
Klik hier vir meer inligting oor die pakkette wat beskikbaar is en om kaartjies te koop.
The post Aardklop 2017: ’n onderhoud met Henque Heymans oor DEURnis appeared first on LitNet.