Dirk Rigter
Dankie vir jou lesing oor NUSAS en die ASB se geskiedenis; baie interessant en nuut vir my. Ek het maar net eendag met misnoeë gehoor die Maties het nou by NUSAS aangesluit (en ek glo nie ek sou minder misnoeg gewees het as as ek geweet het NUSAS was in 1924 gestig, of dat dit net ’n tak was wat NUSAS daar oopgemaak het nie [maar dankie vir die inligting in elk geval]).
Jy’s wel reg dat dit ’n oorsig aan my kant was om Maties uit te sonder. My een dogter, hier ‘96-‘97 rond op Kovsies, se vriendin wat regte geswot het moes aandklas loop want die dagklasse was Engels. My ander dogter was baie stief behandel deur ’n sekere lektrise op Tukkies (ca 2001) omdat my dogter voorkeur aan Afrikaans gegee het. My een seun was hier van ’97 af op Tukkies en daar het hulle behoorlik agteroor gebuig om die ‘Engelse’ studente te akkommodeer. So, jammer daaroor, jy’s reg; die ander universiteite vry net so hard (in die geval van Kovsies méér) na die ‘Engelse’.
Jy’s verkeerd met jou bewering dat ek nou nie van Kapenaars sou hou nie. My pa-hulle het in Vredenburg gebly en na my pa se oorlye het my ma in Malmesbury gaan bly. My een suster (in Vredenburg skoolgegaan) bly in Muizenberg en my twee dogters is albei in die Kaap, die een in Observatory en die ander in Table View. My een oom het in Piketberg gebly toe in Houtbaai maar my tannie het vreeslik oor die wind gekla en toe is hulle vir ‘n ruk in Valmary Park Durbanville en uiteindelik gaan aftree in Constantia. My een varsityvriend het in Stellenbosch gebly en toe later daar teen Tafelberg uit en ‘n ander een bly in Belville. My skoonpa was van Albertinia. Ek noem al hierdie plekke want ek het al by meeste hiervan gekuier en van húlle vriende en vriendinne ontmoet, almal gawe, hartlike, gasvrye mense. So, ek hou van die Kapenaars net so veel as van die Vrystaters, Natallers, Transvalers en Suid-Westers.
Maar dit alles net op ’n punt van orde; dis glad nie die kwessie nie, jy bou strooipoppies. Dit ís so dat NUSAS op Maties, en nie byvoorbeeld Tukkies nie, ‘n tak gestig het. Dit ís so dat vanuit die Kaap ’n goed-georkestreerde ‘verlig’-sending in die Transvaal (en res van die land) geloods is, of dit nou vanuit Harvard via die Kaap of direk uit die Kaap is maak nie saak nie (die Kaap is meer vatbaar vir hierdie soort van ding).
Dit ís so dat afgekondig is (uitgelek het) dat van 2016 af Engels die administrasie- en onderrigtaal op Maties gaan wees of daar nou intussen tydelik daarvan afgesien is of nie; die skrif is teen die muur. ’n Vriend van my het sy B-graad aan Tukkies verwerf en sy M op Stellenbosch gaan doen hier in die 70’s en hy sê vir my hy’t omtrent net Engels op die kampus gehoor (hy’t darem die weer geniet; sê jy kry sommer 4 seisoene op een dag).
Dit is ook so dat in die Kaap hulle hewig Engelse woorde in Afrikaans ingooi en dan noem hulle dit ‘n variëteit van Afrikaans. Dit is so dat Kapenaars vreeslik erg is oor Engels; vandat die Kapenaars byvoorbeeld RSG beheer is die hele storie half Engels; hulle doen MOEITE om Engels te propageer, as die verstektaal te vestig ten koste van Afrikaans.
Wat jou storie oor die koerante betref. Ek praat oor die verengelsing by Stellenbosch, noem die invloed van die media (koerante) om ’n paradigmaveskuiwing te bewerkstellig en in antwoord gee jy ‘n stukkie geskiedenis van NUSAS wat jou tot die gevolgtrekking lei dat ek “...géén, maar hoegenaamd géén snars verstaan van die politieke kragte wat in hierdie land aan die werk is nie ...” en beskuldig my dat ek alles reduseer tot mense wat agter die koerante aanhol. Ek sê vir jou die kar vuur net op twee silinders en jou antwoord daarop die kar is nie geel nie maar oranje wat vir jou daarop wys dat ek die enjin glad nie verstaan nie.
Maar so van ‘die werking van politieke kragte wat aan die werk is in die land’ gepraat – hierdie politieke kragte werk sodanig dat dit die land tot ‘n sirkus van misdaad en korrupsie reduseer het. Verstaan jy ooit iets van die politieke kragte in die land as jy jou vir hierdie toestand beywer het (en, soos dit vir my lyk, nog goedpraat ook)?
Jan Rap
The post Antwoord op Dirk Rigter se kommentaar onderaan my brief van 17 deser appeared first on LitNet.