Ek lees vanoggend Maretta Bellingan se klitsgras-rubriek van 13 Augustus in Rapport (http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/klitsgras-brenda-sithole-se-storie-sal-vir-ewig-by-my-spook-20170813) waar sy aangrypend skryf oor die tragiese selfdood van Brenda Sithole, wat haar eie lewe geneem het omdat sy nie ’n identiteitskaart kon kry nie en dus nie eksamen kon skryf nie.
Brenda het ’n briefie gelos wat jou aan die hart gryp: Sy het drome vir haarself gehad, maar kon dit nie verwesenlik nie en het nutteloos gevoel.
Ná die lees van die rubriek val my oog op die kommentaarkolom onderaan, iets wat ek gewoonlik nie lees nie agv die sinnelose nonsens wat sommige mense daar kwytraak. En toe val my oog op die kommentaar van ene Marietjie le Roux: Sy verwys eers na Maretta as die “geeerdce rubriekskrywer” … wat haar skuldig maak …”aan growwe verfalgemening”… (sic).
Sy gaan voort wanneer sy verwys na die selfdood van Brenda as “’n storm-in-’n-teekoppie-insident” en beskuldig Maretta as “polities korrek en ruggraatloos” en vra aan haar: “By wie verdien jy punte?”
Is die ironie van dit alles nie miskien dat Marietjie nie insien dat Brenda deur haar eie mense versaak is nie? Dis juis die punt van die rubriek. En omdat Brenda swart was en Marietjie heel moontlik wit, maak dit dan Brenda se tragiese selfdood noodwendig ’n storm-in-'n-teekoppie-insident?
En toe lees ek weer die rubriek se laaste sin en ek besef dis waarskynlik ook van toepassing op die kommentaar: “Tussen al die slegte nuus, loshande die laagtepunt.” En dis waar dié tipe kommentators van hierdie wêreld hul naam vasspyker vir almal om te sien: Heel onder teen die paal binne in die modder waar dit net-net uitsteek.
The post Maretta Bellingan se rubriek oor Brenda Sithole appeared first on LitNet.